SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Reviews índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I1.XX 

HULDEBLYK

 

T. T. Cloete (1924-2015)

 

 

Willie Burger

Willie Burger is die hoof van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: willie.burger@up.acza

 

 

 

Ek was in een van die laaste groepie honneursstudente wat nog by prof. T.T. Cloete klas gekry het. Hy het teen daardie tyd reeds moeisaam beweeg en ons het sommer elke week na sy huis gegaan vir die lesings. Van daardie honneursontmoetings om sy eetkamertafel het drie dinge 'n blywende indruk op my gelaat: die eerste was sy vermoë om lang dele uit die wêreldletterkunde aan te haal en te verwys na skrywers en boeke waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Dikwels het my klasaantekeninge hoofsaaklik be- staan uit lyste van skrywers en digters waarmee ek dan in die daaropvolgende dae biblioteek toe is. Sy indrukwekkende kennis van letterkunde-van die Egiptiese, Hebreeuse, Griekse en Latynse letterkunde, deur die Middeleeuse, die Renaissance, die Romantiek, tot die moderne literatuur was eenvoudig verstommend. Die rustige gemak waarmee hy met al hierdie tekste omgegaan het en veral sy vermoë om raakpunte te vind, sodat die een teks wat mens lees nooit net daardie en teks is nie maar 'n magdom van ander tekste, het my geïnspireer om te lees en te lees. Maar aan die ander kant was hierdie verbysterende verwysingsraamwerk vir my ook so intimiderend dat ek selde my mond in die klas oopgemaak het.

Die tweede aspek van daardie lesings in die rustige woonbuurt wat 'n blywende indruk gemaak het, was Cloete se vermoë om fyn te lees. Hy het geleidelik al meer opgewonde geraak soos wat hy meer en meer aspekte van die die gedig aandui en uitlig wat geeneen van ons naastenby raakgesien het nie. Oënskynlik eenvoudige verse en die mees verwikkelde gedigte het, onder sy groeiende entoesiasme, al meer geheime prysgegee. Dit was soos 'n ontdekkingstog wanneer hy begin met 'n klank of met een woord se betekenis totdat hy uiteindelik op meesterlike wyse alles saamknoop en terugsit op sy stoel met die glinstering van die ontdekker van Monomotapa in sy oë. Dan het hy ons herinner aan die bewondering wat ons vir die gedig en vir taal moet hê.

Teen daardie tyd wás ek in verwondering oor die gedig, maar nóg meer ver-wonderd oor sy ontrafeling van die gedig. Een van die heel eerste lesings was oor Louw se "Klipwerk". Die twee, vir my heeltemal raaiselagtige reels, "dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek", het onder Cloete se leiding die ontdekking geword van 'n katastrofale botsing tussen natuur en kultuur.

Die derde ding wat 'n blywende indruk gelaat het was die verskyning, so halfpad deur die lesing, van tannie Anna. Tannie Anna het dan vir ons in Royal Albert-koppies tee bedien saam met Turkstra Bakkery se "hoefies", sulke lekker soet, bros koekies. Daarna het sy sommer in die klas bly sit en net soos ons aan professor Cloete se lippe gehang. En as hy so triomfantlik al harder praat wanneer sy analise 'n klimaks bereik, kyk sy na ons met 'n gesig wat van trots straal. Op my vraag (gretig om iets te hoor van resepsieteorie en poststrukturalisme) oor wanneer ons by al die "nuwe" teorieë in die klas gaan uitkom (ons was besig om sy Hoe om 'n gedig te ontleed te behandel), was sy antwoord: "Teorie kan julle in boeke gaan lees. Ek gee vir julle wat julle net by my kan kry."

Getrou aan die tradisie van die New Critics, van aandag aan elke klein onder-afdeling van 'n gedig en die soeke na hoe alles saamwerk-"ko-kommunikeer"-om een betekenis te kommunikeer, is ook sy eie gedigte slim gekonstrueer met verskeie bindmiddels.

Maar poësie was nie vir hom bloot 'n beroep of 'n praktyk waaraan hy met 'n bepaalde talent deelgeneem het nie. Hy het gelééf in die poësie. Woorde, ingespan op 'n baie spesifieke manier, was vir hom die vernaamste manier om te ontsnap van 'n mens se eie beperkings. Telkens, in bundel na bundel, kom hierdie tema weer voor: dat 'n mens deur woorde kan uitreik verby die self, verby die beperkings van die eie liggaam, verby liggaamlike pyn en lyding (waarvan hy so intens bewus was sedert hy as student polio opgedoen het). Hierdie transendering van die eie liggaam- "oorlywing"-sien 'n mens in die talle gedigte waarin liggaamlike genot gevier word, maar die transendering strek verder, verby die beperkings die self se ervaring van menswees tot 'n ervaring van klip en plant en dier en die ganse kosmos.

Hoewel hierdie strewe na transendering van liggaamlike beperkings, van die beperkings van die eie denke, uitgroei tot 'n ekstatiese ervaring van die kosmos, is daar ook in Cloete se lewe 'n waarskuwing dat hierdie soort poëtiese ervaring nie vanselfsprekend lei tot die transendering van alle groepsdenke nie-soos Cloete se deelname aan die sensuurstelsel en sy teenkanting teen die betrokke literatuur van Brink en Breytenbach getuig.

Nietemin het Cloete se bydraes as digter, as psalmberymer, as dosent, as kritikus steeds meer mense geraak. En hoewel sy poësie deur sommige as baie "intellektueel" beskou word, dat hy as 'n "poet's poet" beskryf word, is daar weinig gewone poësielesers wat nie diep geroer word deur byvoorbeeld sy gedigte oor sy vrou se dood nie.

Met dieselfde borrelende genot waarmee hy gedigte kon bespreek, kon hy ook 'n lesing onderbreek om die suikerbekkies deur venster vir ons te wys en te vertel watter plante aangeplant word om verskillende voëls te lok.

Saam met die dood van André P Brink en Johan Degenaar hierdie jaar, is Cloete se dood nóg 'n brug na die verlede wat weg is. Hulle sterwe herinner ons aan die verbygaan van 'n era en aan ons almal se weerloosheid teen die verbygaan van dinge.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons