SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.17 

HULDEBLYK

 

Johan Degenaar (1926-2015)

 

 

Johan Snyman

Johan Snyman is emeritus-professor verbonde aan die Departement Filosofie, Universiteit van Johannesburg. E-pos: jsnyman@uj.ac.za

 

 

 

As ek aan Johan Degenaar (7 Maart 1926-22Julie 2015) dink, sien ek 'n man, nie rysig van gestalte nie, onopvallend maar tog keurig geklee, 'n gesig met 'n hoë voorkop, die hare na agter gekam, vriendelike gelaat, en as hy praat, is daar die beduidenis van 'n aksent (van Hollands of van 'n streek?), en woorde wat met 'n besondere intonasie uitgespreek word, amper soos wat gedigte voorgedra of alleensprake in 'n drama gelewer word. Daar is 'n beduidenis van 'n glimlag om die lippe, die hande praat saam. Die gewigtigheid van die saak waaroor gepraat word, kom oor as 'n uitnodiging om deel te neem aan die fassinering van die spel van woorde en begrippe.

Marthinus Versfeld (4) se huldiging in die eerste feesbundel opgedra aan Degenaar kom by my op:

In 'n wêreld wat met grootte besete is, is ons geneig om te vergeet dat small is beautiful, dat dit Dawid se klippie is wat tref, en dat God nie met 'n luidspreker vir Moses aangeroep het nie. Miskien kan ons hierdie feit ook oorweeg, dat in sekere chemiese reaksies dit een deeltjie in 'n miljoen is wat die pot aan die kook hou, net soos 'n stad op 'n onsigbare manier ter wille van een regverdige persoon behou sal word.

Voeg hierby Nietzsche (168) se woorde uit Also sprach Zarathustra (vry vertaal): "Gedagtes wat op duifvoete loop lei die wêreld."

Johan Degenaar het konsekwent en oor baie jare met die oënskynlik niks-beduidende krag van woorde geduldig, bietjie vir bietjie, die "seile van die bewind" (Versfeld weer eens) 'n ander koers laat inslaan. Kommissies, partye, hulle koerante en hulle sinodes-op-sleeptou het stoom afgeblaas, in gemaak heilige verontwaardiging gewaarsku teen die gevaar wat in die skaduwee van Degenaar se uitnodigings en provokasie tot oop gesprek sit. En Degenaar het sonder die beskerming van die status van voorsitter van kommissies, komitees of lid van hierdie en daardie belangrike instelling ligvoets bly loop deur die mynvelde wat wagters op die mure van die beleerde apartheidsamelewing gelê of gedink het hulle sien, en as skrapnel hom dalk getref het, het ons net altyd die effense glimlag bly sien saam met die nooit vermoeide Sokratiese vraag: "Wat bedoel jy as jy sê ...?"

Op die kampusse van sommige voormalige Afrikaanse universiteite word daar deesdae selfs seremonies gehou om die gedenkplakette wat die apartheidsbewind vir homself aangebring het, te verwyder. Hoe vining het hierdie gewaande almagtigheid tot niks verkrummel nie! Stellenbosch hoef nie 'n spesiale gedenkplaket vir Degenaar êrens aan te bring nie. Die naam van Johan Degenaar is een van enkeles uit die jongste verlede wat sinoniem met Stellenbosch geword het. Dit is nie iets waarmee 'n mens kan smous in advertensiebiljette nie. Johan Degenaar se woordwerk is iets wat on-uitwisbaar sal bly herinner aan die moed van die wil tot onbevange denkspel, die gawe van kreatiewe uitbreek uit starheid en die altyd kollegiale samewerking vir groter helderheid oor waarheen ons almal op pad is. Mag dit sy grootse en sy verdiende nalatenskap-sy monument-in hierdie ikonoklastiese tyd bly. En hierna.

 

Geraadpleegde bronne

Nietzsche, Friedrich. Thus Spoke Zarathustra. Vert. R.J. Hollngdale. Londen: Penguin, 1969.         [ Links ]

Versfeld, Marthinus. "Hoekom filosowe nog steeds teen die wind spoeg". In gesprek. Opstelle vir Johan Degenaar. André du Toit, red. Stellenbosch: Die Suid-Afrikaan, 1986. 1-5.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License