SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2Desert ethics, myths of nature and novel form in the narratives of Ibrahim al-KoniAndré Brink: In defiance of boundaries author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.7 

Historisiteit en historiese fiksie - 'n repliek

 

 

Fransjohan Pretorius

Fransjohan Pretorius is emeritus-professor in die Dept. Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria. E-pos: fransjohan.pretorius@up.ac.za

 

 

In sy respons op my artikel "Die historisiteit van resente Afrikaanse historiese fiksie oor die Anglo-Boereoorlog" in Tydskrif vir letterkunde gee Willie Burger indrukwek-kende verwysings na die teorie van historiese fiksie. Ongelukkig bied die literatore wat hy aanhaal slegs 'n letterkundige perspektief. Hulle neem nie die historikus se hoek in ag nie.

Volgens Burger (92-3) verwys Milan Kundera na twee soorte historiese fiksie. Die een ondersoek die historiese dimensie van die mens en die ander maak van 'n historiese situasie 'n romantiese verhaal. Laasgenoemde is nie vir Kundera werklik 'n roman nie, want dit bring geen verandering aan ons verstaan van die mens nie-dis fiksie wat bloot die geskiedenis op 'n romanmatige wyse weergee. Vir hom is die taak van die letterkunde nie om geskiedskrywing te wees nie, maar om die ongekaarte terrein van ons bestaan te ondersoek.

Ek stem saam met Kundera as byvoorbeeld generaal De Wet se optrede tydens die Anglo-Boereoorlog op romanmatige wyse beskryf sou word. Vir my is dit egter aanvaarbaar as die skrywer insidente uit die oorlog as deel van sy verhaal aanwend. Dit kan stééds goeie letterkunde wees. Soos Karel Schoeman in Verliesfontein vertel hoe 'n Boerekommando 'n bruin man, Adam Balie, dood martel. Dit is gebaseer op die ware verhaal van Abraham Esau in Nieuwoudtville. Maar vir my as historikus kan die skrywer steeds sy eie verhale opmaak, mits dit binne die betrokke tydsgees moontlik en billik is.

Wat betref Kundera se keuse vir die historiese roman-'n ondersoek na die historiese dimensie van die mens en sy donker psige-wonder ek: hoe dra foutiewe historiese inligting of 'n onverifieerbare uitbeelding van die verlede by tot begrip van die donker psige van die mens? Waarom 'n historiese onderwerp kies as jy nie by die histories moontlike en verifieerbare wil bly nie?

Christoffel Coetzee het in Op soek na generaal Mannetjies Mentz (1998) die donker psige van die mens ondersoek en nie noodwendig oor "die Boere" geskryf nie. Maar waarom 'n historiese roman skryf as daar geen historiese gegewens is wat die bestaan van so 'n bose kommando bewys nie? Dit sou 'n ander saak gewees het as Coetzee byvoorbeeld vertel het hoe 'n Boerekommando 'n swart nedersetting byna uitwis omdat dié hulle teen die Boere verset het-want daar was sulke voorbeelde, soos Maritz se aanval op die Basters op Leliefontein. Burger (94-6) beweer my negatiewe oordeel oor Mannetjies Mentz dui op 'n misverstaan van die doel van historiese fiksie. Ek vra nie om verskoning dat ek vanuit 'n historiese hoek beoordeel nie.

Burger se etikette om my nek is onvanpas. Hy beweer historiese fiksie is vir my 'n soort "verlenging" van geskiedskrywing wat die verlede verlewendig deur 'n verhaal wat die leser emosioneel kan aangryp (79). Hy gee my bespreking van Fado vir 'n vreemdeling as voorbeeld.

Geensins. In Fado het Margaret Bakkes één bladsy uit O.J.O. Ferreira se geskie-deniswerk oor Boere-geïnterneerdes in Portugal geneem en daarvan 'n aangrypende verhaal gemaak. Ek reken sulke gebeure kan (nie móét nie) deur historiese fiksie-skrywers gebruik word in hul verhale. Burger (79) beweer dat historiese fiksie geen ander moontlikhede vir my inhou nie. Hy verstaan my verkeerd. Ek is minder op-gewonde as die skrywer van historiese fiksie iets wat nie op kommando kon gebeur het nie, in sy verhaal opneem. Is die verskil dus dat die historikus aandring op verant-woordelike historiese fiksie, en die literator nie?

Vir Burger (91-2) lyk dit of ek die moontlikheid van fiksie om 'n estetiese illusie te bewerkstellig, slegs waardeer indien dit aansluit by my eie visie van hoe die verlede weergegee behoort te word. Geensins-nie my visie nie, maar volgens verifieerbare feite en moontlikhede.

In historiografiese metafiksie, sê Burger (88), waar die grense tussen feite en fiksie vervaag, word die "aanvaarde geskiedenis" uitgedaag. Ongemaklike vrae word ge-opper, soos in Verliesfontein en Mannetjies Mentz. Burger besluit ek het probleme daarmee. Met die "ongemaklike vrae" in Verliesfontein het ek geen probleme nie, want dit klop met verifieerbare feite. Nie in Mannetjies Mentz nie.

Nog 'n etiket om my nek: Burger (94) oordeel dat die Afrikanernasionalistiese benadering vir my "eintlik die wenslikste benadering" is. Fout. Dis nêrens in my artikel te bespeur nie. Ek stel "alternatiewe historiese fiksie" as reaksie op die vorige benadering in Afrikanernasionale historiese fiksie, waar die Boer vaderlandsliefde voorop gestel het, kuis en godsdienstig was, in beheer van sy hoof en sy hart was, en waar die Brit veroordeel is en die hendsopper en joiner verag is. Dit het tot die 1970's voortgeduur, deur skrywers soos Van Bruggen en H. S. van Blerk. Dit staan ek beslis nie voor nie.

Met die afname in Afrikanernasionalisme het demitologisering en die "alternatiewe" historiese fiksie (met die antiheld) ingetree, soos Van Wyk Louw met Die pluimsaad waai ver, Leroux met Magersfontein o Magersfontein, en Coetzee se Mannetjies Mentz in die naweë van 1994, die Waarheids- en Versoeningskommissie en die Herdenking van die Anglo-Boereoorlog (Pretorius 63-5).

My argument is dat ook Bakkes se Fado, P.G. se Fees van die ongenooides en Sonja Loots se Sirkusboere "alternatiewe" historiese fiksie is of sterk alternatiewe elemente bevat. Fado, omdat die hoofkarakter 'n antiheld is, 'n bywoner, 'n geïnterneerde sukkelaar. Sirkusboere is "alternatief " omdat die verhaal ondenkbaar sou wees binne die Afrikanernasionale paradigma-Cronjé sou vir sy "verraad" geïgnoreer word, en Viljoen vir sy flambojantheid en versaking van Afrikanernasionale waardes. In Fees van die ongenooides vertoon almal met uitsondering van Martie anti-nasionale (en dus "alternatiewe") optrede-Oupa Daniël raak godsdienstig afvallig oor die baie dooies wat hy moet begrawe; Daantjie is 'n papbroek en verkrag ook anoniem sy vrou; Soldaat, die swart agterryer, neem téén die gebruik namens Daantjie aan gevegte deel; Magrieta knoop 'n vriendskap met 'n Britse offisier aan; en Gertruida ervaar slui-merende homoseksuele gevoelens. "Alternatiewe" historiese fiksie is vir my volkome aanvaarbaar-mits die gebeure histories verantwoordbaar is. En in hierdie werke is dit so.

Kundera en Burger se historiese fiksie, waarin die gebeure nie histories moontlik hoef te wees nie, het natuurlik 'n plek. Maar die invalshoek van die historikus verseker dat hy na die verifieerbaar moontlike kyk. En dit het óók 'n plek. Moenie vergeet nie: ook die intellektuele leser wat belangstel in die menslike psige, vra die historikus: "Het dit wèrklik gebeur?"

 

Geraadpleegde bronne

Burger, Willie. "Historiese korrektheid en historiese fiksie: 'n respons." Tydskrif vir Letterkunde 52.2 (2015): 78-98.         [ Links ]

Pretorius, Fransjohan. "Historisiteit van resente historiese fiksie oor die Anglo-Boereoorlog in Afrikaans." Tydskrif vir Letterkunde 52.2 (2015): 61-77.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License