SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Historical correctness and historical fiction: A responseNegotiating growth in turbulent-scapes: Violence, secrecy and growth in Goretti Kyomuhendo's Secrets No More índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.8 

'n Alternatiewe beskouing van die natuur se andersheid in E. Kotze se kortverhaal 'Halfkrone vir die Nagmaal'

 

An alternative view of nature's otherness in E. Kotze's short story 'Halfkrone vir die Nagmaal'

 

 

Susan Meyer

Susan Meyer is 'n senior lektor ver-bonde aan die Fakulteit Opvoedings-wetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: meyer.susan@nwu.ac.za

 

 


ABSTRACT

Diepsee: 'n Keur uit die verhale van E. Kotze(2014) refocuses our attention on Kotze's short story collections which immortalised the sea and the littoral spaces of the West Coast in Afrikaans literature. This study comprises an ecocriticial investigation of the title story in Halfkrone vir die Nagmaal (1982), with attention to the manner in which distancing takes place from the conventional Western way of thinking by which is presumed that human-nature differences may serve to vindicate human domination of, or misconstrue the relationship with, the natural world. Differences between human and nonhuman nature in this narrative is integrated with details which clearly bring the human-nature relationship to light, as well as ideas of connectedness with nature. This leads me to an exploration of the representation of the sea and the natural sea environment as a literary demonstration of an alternative view of nature as the Other. The investigation centres on the discovery of characteristics of anotherness-characteristics in contrast to those of the Other in the dualistic human-nature view in which the key concepts of alienation and objectification still function to defend Western hierarchical power relationships. The alternative model of otherness, with anothernessas key concept, has its origins in Mikhail Bakhtin's theory concerning the term "relational otherness". This model has been applied to the field of ecocriticism by Patrick Murphy who describes anothernessas a perception of otherness that respects difference without using it to justify domination or prohibit connection. Murphy emphasises that anotherness proceeds from a heterarchichal-that is, a non-hierarchical-sense of difference. The application of this alternative model of otherness, in the ecocritical context, to "Halfkrone vir die Nagmaal" leads to the discovery of a respectful approach to human-nature differences, where principles of domination or distancing do not apply, but rather those of relations and human-nature interaction. In voicing another nature, Kotze's acts as "I-for-another" (Bakhtin's expression) for the earth; her narrative becomes an act of responsibility towards a coastal strip that nowhere else in Afrikaans literature is captured so expansively and poignantly as in her work.

Keywords: alternative model of otherness, anotherness, E. Kotze, "Halfkrone vir die Nagmaal", human-nature relationship, Mikhail Bakhtin, nature as another, Patrick Murphy


 

 

Inleidend

Met Diepsee: 'n Keur uit die verhale van E. Kotze (2014) bring die samesteller, Suzette Kotzé-Myburgh, verhale uit vyf van Kotzé se bundels byeen: uit Halfkrone vir die Nagmaal (1982), Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie en ander woestynverhale (1997) en Die wind staan oos (2007). Die titel en voorbladfoto- meeue wat 'n visskuit voortuitvlieg-vestig dadelik die aandag op die vervloë Weskusruimte waarin Kotze se verhale meestal afspeel, die strook land aangrensend aan die see noord van Kaapstad tot aan die Oranjerivier. In die voorwoord van Diepsee neem die leser kennis dat Kotze se skryfwerk toegespits is op 'n spesifieke deel van die Weskus: die omgewing van Velddrif en Laaiplek, ook noordwaarts verby Lambertsbaai tot by Doringbaai en Strandfontein.

"Haar seeverhale is Sussie (Kotze) se belangrikste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde", sê Kotzé-Myburgh in die voorwoord van die versamelbundel. Die leser word herinner aan Kotze se debuutroman, Halfkrone vir die Nagmaal, wat in 1983 bekroon is met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys. Die Weskus-wêreld, waarmee sy 'n unieke plek oopgeskryf het in die Afrikaanse letterkunde, volgens die oordeel van Abrham H. de Vries (13) en Fanie Olivier (24), is ook te vind in albei haar romans, Toring se baai (2009) en Hoogty (2011). In haar outobiografiese vertelling, Die slag van die breekbrander (2000), staan die lewe saam met Willie Kotze, haar skipper van Lambertsbaai, en hulle verblyf op verskeie Weskusdorpe weer sentraal.

Kotzé-Myburgh stem saam met Petra Muller dat Kotze "omtrent eiehandig gesorg het dat 'n seewoordeskat in Afrikaans behoue bly"-'n belangrike bydrae, in ag genome dat ons taal uit dié van 'n seevarende nasie stam (Kotzé-Myburg se voorwoord in Kotze, "Diepsee" 8). Hennie Aucamp (11) beaam in sy bespreking van Halfkrone vir die Nagmaal 'n waardering vir dieselfde saak, hy verwys na "die prosesbeskrywings, met al die gereedskap daarby", in verband met die seun wat hom in die titelverhaal gereed kry om 'n paar dae op die see uit te vaar, en na hoe meesterlik die "feitelikheid" omtrent die ekspedisie vasgevang word in seemanstaal. André IP Brink vind dieselfde aspek van hierdie verhaal treffend: "Dis 'n gewone vistog, ja-maar Afrikaans, oer-Afrikaans." ("Kotze se boek" 12)

"Die Weskus is nie voor of nâ die verskyning van Kotze se debuutbundel al weer so akkuraat en aangrypend weergegee nie", oordeel J. B. Roux (7) wanneer hy, met die verskyning van Diepsee, terugkyk oor die Afrikaanse letterkunde van die afgelope dekades. Hiermee word verwys na die uitbeelding van die spesifieke stuk see-omgewing "tussen die bek van die Berg- en Grootrivier", soos in die voorwoord van Waterwyfie en ander woestynverhale gesê word, sowel as na die bewoners daarvan. Dit gaan oor "die souterigheid van menswees en van die seelug en soutpanne", sê Olivier (24); wat Kotze uitbeeld, is "die simbiose van taai mense in 'n veeleisende, bar land-skap" (Brink, "Verhale" 13).

Die see, waarop vele karakters in Kotze se verhale 'n verdienste vind, skep die konteks vir hulle lewe. Die see en natuuromgewing vind dikwels in hierdie verhale literêre gestalte as 'n ruimtelike karakter of mag waarteen die karakters hulle vasloop, veral in die verhale waarin vis-ekspedisies op die diepsee skeefloop, soos in "Half-krone vir die Nagmaal" (uit die gelyknamige bundel) en "Mantel" (uit Waterwyfie en ander woestynverhale)-verhale waarin die vissers "flaiings" en ontnugter uit die stryd tree (Kotze, "Waterwyfie" 83).

Uit die gegewe van konflik tussen die mens en die see sou assosiasies van ver-wydering en vervreemding ten opsigte van die natuur kon ontstaan, asook die idee van die natuur as die Ander volgens die Westerse dualistiese beskouing van objek-tivering en distansiëring. In hierdie ondersoek word egter 'n indringende ver-haalanalise onderneem om nuwe insigte te probeer vind ten opsigte van die self/ Ander-verhouding in 'n verhaal waar die natuur in die rol van die Ander staan as gevolg van die basis van onderliggende verskille. Die motivering vir hierdie be-nadering is die ooglopende teenstrydighede in hierdie verhaal waarvan die leser bewus word. Mens-natuurverskille en gebeure van konflik, as gevolg waarvan die assosiasie met die historiese self/Ander-dualisme ontstaan, word verhaalmatig ge-ïntegreer met besonderhede omtrent mens-natuurverbintenisse asook met idees van samehang en skakeling met die omringende natuurruimte, waardeur die aard van die konvensionele self/Ander-verhouding uitgedaag word.

Die wyse waarop magsverhoudings deur Kotze uitgebeeld word, bied verdere motivering om haar werk krities te beskou ten opsigte van die mens-natuuraspekte daarin. Uit die gebeure van die duidelike beïnvloeding van die visserkarakters deur die see en die groter natuuromgewing spruit indringende vrae oor die Westerse beskouing van die self/Ander-konsep waarin idees oor die objektivering van en die dominansie oor die Ander oorheers. Die kwessie van beïnvloeding deur die natuur en die opvatting dat die natuuromgewing wesentlik bydra tot aspekte van die mens se identiteit, sy leefwyse en lewensomstandighede word wyd erken.1 Reinhardt Fourie meen dat dit ook toenemend die fokus is van die ekokritiek binne die Suid-Afrikaanse literatuurstudies.

Ekokritiek is, kortliks gestel, "an earth-centred approach to literary studies" (Glotfelty xix). Die term word in The Routledge Dictionary of Literary Terms in breër besonderhede deur Childs en Fowler (65) omskryf as "[t]he study of literary texts with reference to the interaction between human activity and the vast range of 'natural' or non-human phenomena which bears upon human experience-encompassing (among many things) issues concerning fauna, flora, landscape, environment and weather". Glotfelty (xix) verduidelik dat, ondanks die verskeidenheid van teorieë en uitgangspunte wat ingesluit word in die ekokritiek, "all ecological criticism shares the fundamental premise that human culture is connected to the physical world, affecting it and affected by it. Ecocriticism takes as its subject the interconnections between nature and culture, specifically the cultural artefacts of language and literature."

Ten opsigte van my ekokritiese benadering in hierdie studie is pas gemotiveer dat daar 'n teoretiese raamwerk benodig word met behulp waarvan wegbeweeg kan word van die tweeledigheid tradisioneel geassosieer met die konsep van die Ander- ten einde die mens-natuurverhouding in die geselekteerde teks krities te kan anali-seer en volledig te kan begryp.

My doelstelling is 'n ondersoek na die wyse waarop die natuur en die natuurlike see-omgewing uitgebeeld word as literêre demonstrasie van 'n alternatiewe beskouing van die natuur as die Ander. Die ondersoek is toegespits op die ontdekking van eienskappe van anotherness-eienskappe in teenstelling met dié van die Ander in die digotomiese mens-natuurbeskouing wat tradisioneel uitdrukking vind in sienswyses soos dié van onversoenbare vervreemding tussen die mens en die natuur as die Ander, of dié van totale ontkenning van verskille (in effek die verswelging van die "Ander" en die absorpsie van enige onderskeidende kenmerke).

Vir die konsepte another en anotherness, asook die problematiek rondom die vertaling daarvan, word in die volgende afdeling die nodige teoretiese begronding gebied. Vervolgens word 'n spesifieke verhaal dan bestudeer om die uitbeelding van die natuur binne die konteks van anotherness te analiseer. Die aandag sal gerig wees op die literêre vergestalting van 'n mens-natuurverhouding waarbinne verskille gerespekteer word, sonder dat hierdie verskille gebruik word om enige vorm van dominansie te regverdig en sonder om kontak of verbintenis met die Ander te misken.

Aspekte van die konsep van anotherness word, soms prominent en soms minder duidelik, in verskeie verhale in Kotze se oeuvre aangetref. 'n Enkele verhaal waarin vele aspekte daarvan saamgetrek word en waarin die idee van die natuur as another kragtig gedemonstreer word, is "Halfkrone vir die Nagmaal" uit haar eerste bundel. Die literêre verdienstelikheid van hierdie verhaal is wyd erken: binne die geheel van die bekroonde bundel het dit beïndruk as "verrassend goed" (Aucamp 11), selfs as die beste verhaal in die bundel (Venter 8; Brink, "Kotze se boek" 12). Waardering is uitgespreek vir die tegniese vernuf daarvan, die "instinktiewe begrip vir die kort-verhaal as vorm en die vermoë om lewe en swaarkry met min woorde omvattend weer te gee" (Roux 7), ook vir die feit dat met eenvoudige maar suiwer epiese middele gewerk word (Brink, "Kotze se boek" 12). E. C. Britz (7) sê: "Kotze kyk nugter en geensins nostalgies-verheerlikend nie na haar tuiswêreld. Daarbenewens is haar skryfstyl voortreflik: sober, eenvoudig, volmaak aangepas by haar stof." Louise Vil-joen (6) beskou Kotze as "een van die geseëndes wat die vermoë het om die eenheid van die streek op onsentimentele wyse te deurskou en 'n sintuig het vir die buiten-gewone en die wonderbaarlike wat deel is van die alledaagse."

In die volgende afdeling word daar 'n teoretiese konteks vir die studie verskaf deur 'n bondige bespreking van die konsep van die Ander, en spesifiek ook die natuur as die Ander, naas dié van another.

 

Die Ander en 'n alternatiewe beskouing daarvan

Die konsep van die Ander, gebaseer op idees van permanente onvolledigheid en onvolwassenheid, dien steeds ter beskerming van Westerse hiërargiese magsverhou-dings (Murpy, "Anotherness" 40). Histories word die self/Ander-beskouing verwoord in die binêre konstruksiereeks gees/liggaam, man/vrou, mens/natuur, met die vrou en die natuur albei as beliggaming van die teengesteldes van gees, intellek en kultuur. Al hierdie digotomiese vergestaltings dra die kernelement van vervreemding van die Absolute Ander, die objektivering en distansiëring van die Ander in diens van een of ander vorm van dominansie (Ortner 69). In hierdie verband kan byvoorbeeld gedink word aan die wyse waarop Foucault die Ander verbind met die magsverhoudings tussen oorheersers en onderdruktes in 'n gemeenskap (sien McNay 6-7), of die ko-loniale interpretasie van die konsep van die Ander (sien Boehmer 21).

In ekokritiese besinnings word reeds vir die afgelope sowat drie dekades vrae gevra oor die idee van absolute vervreemding tussen die mens en die res van die natuur, waar sodanige vervreemding impliseer dat laasgenoemde beskou word as identiteitlose entiteit, gereduseer tot objekstatus. Vroeg in die 1990's vra Patrick D. Murphy: "What if instead of alienation we posit relation as the primary mode of human-human and human-nature interaction without conflating difference, particularity, and other specificities? What if we worked from a concept of relational difference and anotherness rather that Otherness?" ("Voicing" 63) Murphy se vertrekpunt word duidelik geformuleer: "Anotherness proceeds from a hierarchical- that is, a nonhierarchical-sense of difference." (63)

Die term anotherness is moeilik vertaalbaar. "Another" dui op "nog een/iets" (Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek 772), dus iets of iemand wat bykomend geag moet word, sonder dat daar sprake van assimilasie of van die negering van verskille is. Murphy doen geensins weg met die realiteit van andersheid en die kwessie van verskille in sy mens-natuurbeskouing nie, maar bied 'n alternatiewe, relasionele model van an-dersheid. Die relasionele aard van die model, die idee van verwantskappe en die wedersydse beïnvloeding wat binne verwantskappe geïmpliseer word, is duidelik wanneer Murphy motiveer dat, "if [...] the notion of 'anotherness', being another for others, is not recognized, then the ecological processes of interanimation-the ways in which humans and other entities develop, change, and learn through mutually influencing each other day to day, age by age-will go unacknowledged" ("Voicing" 63). Dit ontbreek dus voorlopig aan 'n term waarmee another vertaal kan word sonder om iets van die betekenisinhoud daarvan prys te gee. Voortaan sal na die konsep van anotherness verwys word as deel van die alternatiewe model van andersheid.

Murphy se gedagtes oor anotherness het ontwikkel uit Mikhail Bakhtin se idees omtrent die drie basiese argitektoniese momente van menslike bestaan: "I-for-myself, the other-for-me, and I-for-the-other" (Bakhtin, "Philosophy of Act" 54). Bakhtin onderskei tussen twee tipes ander op grond van die aspekte van onderskeidelik relasionaliteit en vervreemding wat die onderskeie tipes kenmerk. Om te demonstreer wat hy met "relational otherness", oftewel "anotherness", bedoel, verwys Bakhtin na Russies, waarin op duidelike wyse onderskeid getref word tussen twee terme: drugoi ("another, other person") en chuzhoi ("alien"; "strange"; also, the other") ("Problems" 302). Die Engelse woordpaar "I/other", met die konnotasies van vervreemding en opposisie, word spesifiek vermy. Die "another" wat Bakhtin in gedagte het, is nie vyandig teenoor die self nie, maar 'n noodsaaklike komponent daarvan-another is "a friendly other, al living factor in the attempts of the I toward self-definition" ("Problems" 302).

Laasgenoemde gedagte word beaam deur verskillende navorsers. Stuart Hall (5) steun op die sienswyse van Jacques Derrida dat "it is only through the relation to the Other [...] that identity can be constructed". Ook D. C. Martin (7) volg die uitgangs-punt dat die self juis die Ander nodig het om bewus te word van sy eie, unieke bestaan. Martin steun op die teorie van Mannoni en Landowski, waarvolgens die Ander die self openbaar asook die werklikheid van die vele fasette van die self. Volgens Martin (7) vereis die lewe van enige individu die teenwoordigheid van die Ander, "that is, the perception of someone different and the establishment of a relationship with him/her/them".

In my vorige poging om 'n teoretiese raamwerk vir die kwessie van die natuur as die Ander te skep (Meyer 328), word verwys na die filosofiese gebied waar hierdie kwessie gereeld ter sprake kom, naamlik waar gedebatteer word oor die vraag watter moreel-filosofiese raamwerk(e) die grondslag kan vorm vir die normatiewe aandrang om die natuur te bewaar. Die konsep van geregtigheid is, in die meeste van die tradisionele Westerse morele filosofieë, gebaseer op idees van eendersheid en op die kwaliteite wat ons as mens en in die hoedanigheid van ons menswees deel (Meyer 328). Hier word gedink aan die begeerte na lewensgehalte, die kwaliteit van die rede uitgedruk in die vermoë om te besin en te beplan, die vermoë om lief te hê-alles eienskappe wat na bewering juis die mens skei van die lewende en nielewende natuur, wat ons "anders" maak as die natuur of wat van die natuur ons "Ander" maak.2 In hierdie betoog (Meyer 328) word erkenning gegee aan verskeie benaderings binne die ekokritiek wat erns maak met denkpogings om die grense en gapings tussen die mens en die niemenslike "Ander" te verklein of uit die weg te ruim-'n aandrang gegrond op beskouings van relasionaliteit, wedersydse afhanklikheid, wisselwerking en die gedeelde eienskappe van bewussyn en lyding-en wat as doel het om gemeenskaplike terrein te vind om die voorskrif van bewaring op te baseer. Daar word gesteun op die oordeel van kenners van die omgewingsetiek dat dit weinig sin het om hierdie andersheid te probeer wegredeneer, aangesien die pogings om 'n etiek aangaande die niemenslike te bedink, gekoppel is aan die dilemma: "Hoe kan ons 'n vorm van etiek uitbrei na die natuur as 'n gebied waar die waardes en norme wat so 'n etiek begrond, nie bestaan nie; waar geen konsep van menslike reg of enige ander etiese konsepte hoegenaamd bestaan nie?" (Meyer 328)

Ter aanvulling van bogenoemde teoretisering oor die niemenslike Ander in die omgewingsetiekdebat behoort ook van Emmanuel Levinas se "Ethics of Otherness" kennis geneem te word. Sy etiek is gebaseer op die veronderstelling dat ons, in die toepassing van ons eie, beperkte en subjektiewe kategorieë van kennis of ondervinding op die Ander, 'n daad van geweld teenoor die Ander pleeg, "an imperialism of the same" (Levinas 87). Levinas ontwikkel 'n besonder verwikkelde en hoogs ge-kompliseerde argument hier rondom in sy boeke Totality and Infinity (1969) en Otherwise Than Being (1981). Thomas Claviez doen egter 'n deeglike samevatting van die kern-aspekte van hierdie "Ethics of Otherness" in Gersdorf en Mayer se Nature in Literary and Cultural Studies. Claviez (441) beklemtoon Levinas se standpunt dat, wanneer ons die "andersheid" wat ten opsigte van die Ander bestaan, reduseer tot dit wat ons aanneem die Ander met ons mag deel, ons die Ander onderwerp aan ons eie orga-nisasie van kategorieë. By implikasie word die Ander gereduseer tot versoenbaarheid en verenigbaarheid met die self, en in die proses word die uniekheid, onvergelykbaarheid en die uitsonderlikheid van die Ander vernietig. Dus bied Levinas se etiek van Andersheid die omgewingsetiekdebat die moontlikheid om aan die dilemma van die oënskynlik onlosmaaklike verband van etiek met eendersheid te ontkom. Dit bied ons die keuse om etiese verhoudings te bedink wat nie steun op kennis of idees van gelyk(waardig)heid nie.3

David Barnhill beskou die alternatiewe model van andersheid, soos dit ontwikkel het uit Bakhtin se gedagtes en toegepas word in die veld van die ekokritiek deur Patrick Murphy, as 'n sinvolle hanteringswyse van die onontkombaarheid aan mens-natuurverskille wat tradisioneel uitdrukking vind in twee ekstreme hanteringswyses: die uitgangspunt van onversoenbare vervreemding en opposisie tussen mens en natuur, of die totale ontkenning van verskille wat neerkom op die verswelging van die Ander en van enige onderskeidende kenmerke. Bakhtin motiveer die denkskuif wat die alternatiewe model van andersheid van ons vereis deur te verklaar: "An indifference or hostile reaction is always a reaction that impoverishes its object: it seeks to pass over the object in all its manifoldness, to ignore it or to overcome it." ("Philosophy of Act" 64)

Barnhill voorsien besondere moontlikhede vir die bestudering van mens-natuurverhoudings aan die hand van hierdie alternatiewe model waarbinne verskille gerespekteer word, sonder dat die verskille gebruik word om enige vorm van domi-nansie te regverdig en sonder om kontak of verbintenis met die Ander te misken. Hy skep 'n praktiese gebruiksraamwerk vir die alternatiewe model, wat anotherness as kernkonsep het, deur 'n lys eienskappe daarvan te bied. Die eienskappe van anotherness word belig deur dit teenoor die eienskappe van "otherness" te plaas. Barnhill se raamwerk vorm 'n nuttige vertrekpunt wanneer "Halfkrone vir die Nagmaal" be-studeer word om die uitbeelding van die natuur binne die konteks van anotherness te analiseer.

Vervolgens word die hand gewaag aan 'n eerste en eksperimentele toepassing van die ekokritiese teorie gekoppel aan die alternatiewe model van andersheid op 'n Afrikaanse literêre teks. Wat hiermee beoog word, is om vanuit 'n ruimer denk-raamwerk die betekenismoontlikhede in die unieke uitbeelding van die mens-natuur-verbintenis in Kotze se Weskusverhaal te ontgin.

 

'Halfkrone vir die Nagmaal': die uitbeelding van aspekte van anotherness

Volgens die konvensionele beskouing van die Ander word die kwessie van skeiding as gevolg van verskille sentraal gestel; Barnhill verwys na 'n onvermoë of weiering om enige vorm van ooreenkoms of samehang te herken. Terwyl die alternatiewe model van andersheid ruimte bied vir verskille, geld die siening dat daar geen absolute skeiding of wesentlike vervreemding met another bestaan nie; eerder samehang en skakeling, "some kind of continuity with Another" wat impliseer dat "Another is in some way like us even while it is different" (Barnhill).

Toegepas op die mens-natuurbeskouing bring die alternatiewe model van andersheid dus die perspektief dat die mens nie in essensiële opsig vervreem is van die natuur as die Ander nie. Murphy verwys na "an interaction between people's inner and outer realities" en sê: "Our physical make-up and the nature of our psyche are formed in direct ways by the distinct climate, soil, geography, and living things of a place." ("Anotherness" 42) Hy gebruik die term "geopsyche" om die idee van die skakeling van die mens met die natuuromgewing, op geestelike en liggaamlike vlakke, tuis te bring. Ter verheldering van hierdie idee sê hy: "Kept in its environmental context, our humanity is not absolutely 'in' us, but is rather 'in' our world dialogue. That is to say, in order to be fully human, we need to have a healthy geopsyche." (Murphy, "Anotherness" 42)

In "Halfkrone vir die Nagmaal" is die geïntegreerde aard van menslike bedry-wighede in die vissermansomgewing met die natuurruimte en -elemente reeds vroeg opvallend. Daar is 'n aardegerigtheid, die ingesteldheid wat Murphy met die konsep van die geopsige assosieer, in die aanpak van daaglikse aktiwiteite. Die jong hoof-karakter, Frits, wat met 'n verdienste op die see sy gesin help onderhou, beskou die interaktiewe samehang van sy lewe met verskeie natuuraspekte binne 'n breë ver-band:

Die volgende oggend is hy af strand toe waar hy die lyn 'n paar maal deur die nat seesand sleep om die wollerigheid wat 'n nuwe lyn aan hom het, af te maak. [...]

Die lyn gaan span hy tussen die pale van die bokkamp. Toe druk hy 'n stuk ou lap in die dik dooiebloed en met die bloedlap bewerk hy die lyn, smeer hy die bloed goed in totdat die vesels deurtrek is daarvan. (1)

Die sand van die see en die bloed van die bok word wesentlik deel van die menslike werktuig, die sterk lyn waarmee sy taak verrig moet word. Die besonderhede omtrent dié lyn, dat dit 'n besondere kwaliteit kry as die sand die wollerigheid daarvan verwyder het en die bloed die vesels daarvan versterk het, bevestig vir die leser Frits se intuïtiewe bewustheid van die aard van die samehang wat tussen die mens, sy lewensaktiwiteite en die groter natuurgeheel bestaan.

Dit gaan in hierdie vissersverhaal oor veel meer as die benutting van die natuur vir eie gewin of die devaluering daarvan tot blote objek. 'n Belangrike kenmerk van anotherness is afsonderlikheid, 'n eienskap waarmee nie vervreemding of verwyderd-heid geïmpliseer word nie, maar op grond waarvan die Ander beskou word as subjek wat oor 'n eie integriteit en afsonderlike aard beskik in die interaktiewe prosesse daarmee (Barnhill). Deurgaans, in die interaktiewe betrokkenheid by die see en die seelewe waaruit die vissermanne hulle bestaan put, verraai die karakters in "Halfkrone vir die Nagmaal" 'n bewustheid dat die see 'n onaantasbare entiteit is, eiesoortig in aard, onregeerbaar deur menslike aansprake.

Gelok deur die tyding van goeie vangste in die "Suidweswaters", en nâ twee dae noordwaarts per boot, begin vang die manne bokant die Oranje, in waters wat wemel van die kreef. Skaars 'n halfdag later, op die middag, "slaan" die see "om" in 'n "kwaaisee" wat, saam met die suidwestewind, hulle dwarsdeur die nag laat spartel met die dekpomp wat die water uit die ruim en masjienkamer moet hou (9-10). Alles is deurnat, die skimmel "staan blou" op die stukkies brood wat hulle nog te ete het en die vangs vrot totaal. Uit die krewe waarvan hulle sakke vol kon uittrek-"sterte so lank soos sy voorarm en knypers dié dikte" (9)-trek die "rook" teen die tyd dat hulle weer in die baai aankom (11). Wat hier bevestig word, is dat die see- en weerpatrone nie reduseerbaar is tot menslik voorspelbare toestande nie en nie die mens ter wille is nie. Dit beskik oor 'n afsonderlikheid, 'n volledigheid in sigself wat die mens uitsluit en met 'n belewenis van irrelevansie laat, soos wat die vissers ervaar met die wegry van die "yslike dekvrag kreef " na buite die dorp, "waar die brommers daarop pak" (11).

Dit gaan weliswaar nie hier oor 'n rasionele uitpluis van bogenoemde kwessie nie, maar oor die waarnemings en ervarings van die visserkarakters wat op die inhoudelike vlak in die verhaal blootgelê word. Hoewel 'n rasionele bewustheid ten opsigte van die see se onaantasbare en afsonderlike aard nie noodwendig uit die verhaalgegewens bevestig kan word nie, word die aanvoeling en intuïtiewe bewust-heid van hierdie saak duidelik gereflekteer deur die waarnemings en belewings in die interaktiewe prosesse tussen die karakters en die oseaan.

'n Verdere aspek van die alternatiewe model van andersheid wat aandag afdwing, is die eienskap van aktiewe optrede en die mag van beïnvloeding ("agency") waaroor another beskik. Volgens konvensionele beskouings word aan die Ander passiwiteit toegeken en beskik slegs die dominante groep oor die eienskap van aktiewe werksaamheid. Binne ekokritiese konteks word die mens dus beskou as die bewerker van impak op die passiewe natuur en kan beïnvloeding slegs in een rigting plaasvind (Barnhill). Murphy meen egter: "If the possibility of the condition of 'anotherness', being another for others, is recognized, then the ecological processes of interanimation-the ways in which humans and other entities develop, change and learn through mutually influencing each other day to day-can be emphasized in constructing models of viable human/ rest-of-nature interaction." ("Anotherness" 42)

In "Halfkrone vir die Nagmaal" word die rol van aktiewe handeling en be-ïnvloeding, ook ten opsigte van menslike lewe, deurgaans en op duidelike wyse aan die see toegeken. Vroeg in die verhaal, as die skuite moet uitgaan om aas te vang voor die vertrek na die noordelike kreefwaters, word hulle planne omvergewerp deur stormweer. Met die bamboes wat hoog teen die strand opgespoel lê, besef Frits dat hulle 'n ander plan sal moet maak om aas in die hande te kry. Hierdie krisis lei daartoe dat Frits hom teësinnig wend tot die "ongeregtigheid" van voëls te gaan doodslaan op die eiland, aangesien dit al is wat nou as aas gebruik kan word. Dis die eerste maal dat Frits hom skuldig maak aan 'n magsvergryp van hierdie aard teen die natuur, dit strook nie met die norm van respek waarvolgens hy leef nie en bring ambivalente emosies mee: "Hy is bang. Maar hy moet ook lewe." (7)

Die handelingskrag van die natuur strek dus verder as die beïnvloeding van uiterlike omstandighede en die verydeling van die manne se hoop op dringend nodige vangste in die waters noord van die Grootrivier. Die natuur kry gestalte as vitale krag deur die omstandighede wat reeds vroeër in die verhaal geskep word en die geestelike uitdagings daaraan verbonde. Vir die jong seun behels dit die uitdaag van sy waardesisteem, maar ook die ontnugtering wat aan die einde van die verhaal oorbly. Daar is by Frits 'n gevoel van naarheid, geassosieer met gedwonge en verkeerde gewetensbesluite, die "seesiekknop waarteen hy heelweek gesluk het", asook die moegheid wat "pyn deur sy lyf" (13).

Barnhill verduidelik dat anotherness gekenmerk word deur sigbare herkenbaar-heid, konkrete en spesifieke besonderhede en deur kompleksiteit in aard en samestelling. Word die alternatiewe model van andersheid die lens waardeur die natuur waargeneem word, sien ons nie meer slegs die paaie en staatsgrense wat op 'n gebied gekarteer nie, maar die tipografiese detail van 'n natuurstreek met sy plantegroei en watervloei. So beskou is die natuur nie meer die blote agtergrond, ontneem van 'n eie aard wat in die besonderhede en diversiteit daarvan geopenbaar word nie. Dit word ook nie verder tot abstraksie gemaak deur die ontkenning van enige vorm van verwantskap met die mens as dominante groep nie.

"Halfkrone vir die Nagmaal" beeld die mens uit as noulettend en sintuiglik skerp ingestel teenoor die natuur as another. Frits word geboei deur die geografiese detail van die natuuromgewing: "'n Gebroke rotsrif loop 'n ent weg die see in en dan weer binnetoe. Dit lyk of 'n groot hand die rif gevat het soos 'n mens 'n stuk deeg sal vat en afknyp en eenkant toe stoot." (6) Hy neem spesifieke besonderhede waar omtrent die wit gousblomme langs die voetpad wat hom na die see toe neem; hoe die blare begin toevou in fassinerende samehang met temperatuursverandering en die gang van die dag: "As die son eers loop draai het, kom daar 'n klimaat oor die duine wat die blomme laat toetrek." (4) Uit sy waarneming blyk ook 'n fyn ingesteldheid op die effek van seisoene en op die mens se bestaansverbintenis met die natuur: "'n Mens proe dié tyd van die jaar die bittergousblom in die melk, in die botter op jou brood." (4)

Die verhaal bied oortuigende bewyse van die erkenning van die diversiteit wat natuurlewe kenmerk, veral in Frits se waarneming van die voëls. Daar is dié wat met sononder uit alle rigtings eiland toe kom, "die malgasse en pikkewyne, swartvoëls en seeduikers" (6), en dié wat vir die vissers die teenwoordigheid van snoek in die diepsee aandui: die malmokkies wat saam met die malbare en sterlinkies op die water sit om te aas, die malgasse wat uit die lugruim bokant die skool snoek "val" (8). Frits is ook daagliks bewus van die uniekheid van verskillende seespesies: "Kreef byt nie aan enigiets nie. Hy byt aan hotnosvis en snoek en aan masbanker." (5) Hy weet om die verskille in die sintuiglike vermoëns van visspesies te respekteer en om vir die vang van snoek eerder 'n lyn te gebruik wat ge-"bloed" is, omdat hierdie vis in staat is om 'n wit lyn in die water te onderskei en die aas daaraan te vermy (1).

'n Skerp bewustheid van die kompleksiteit en moeilik begrypbare aard van natuurverskynsels vind in die verhaal uitdrukking wanneer die vissermanne 'n dras-tiese en onvoorsiene weerverandering begin vermoed uit tekens van verandering by die kreef. Dampies waarsku: "As 'n kreef se bek so skuim, gaan dit kwaaisee word." (9) Dieselfde ontsag wat Frits het vir die komplekse en onverklaarbare skakels van beïnvloeding tussen natuurelemente onderling, soos wanneer seeveranderinge voorafgegaan word deur intuïtiewe gedrag by krewe, vorm deel van sy beskouings van die skakels tussen menslike en niemenslike natuur. Hy toon groot respek vir die belangrike biologiese veranderinge wat die seisoene se kringloop in die natuur ken-merk, wetend dat die mens se bestaan met dié van die natuur verknoop is. Daarom let hy op wanneer die snoek se kuite bebroeid raak en die wyfiekreef eiers het; daarom word sy aktiwiteite aangepas in erkenning van die kwesbaarheid van die ekosisteem: "In dié tyd het hy geleer om kreefnetsakke te brei en om nette te bas, hy het geleer om 'n netsak hoepel om te sit [...] en die skuit help regmaak." (10)

Die Ander het, konvensioneel beskou, geen stem nie. Hierdie stemloosheid impliseer die afwesigheid van mag, maar ook die onvermoë om aan kwessies rakende eie regte en welstand uitdrukking te gee (Barnhill). Die alternatiewe model van andersheid bied aan another egter 'n stem en 'n geleentheid om gehoor te word. "If it does not have a human voice (in the case of nonhuman nature), somehow its voice is given representation; somehow we 'hear' the voice of animals, plants and ecosystems," sê Barnhill. In "Halfkrone vir die Nagmaal" word 'n voëlkolonie op 'n nabygeleë eiland bedreig, omdat die vissers dit in noodtoestande as aas gebruik. Die verhaal demonstreer die unieke wyse waarop daar juis stem gegee word aan hierdie niemenslike stemloses en bedreigdes.

Die kompleksiteit van die situasie van bedreiging word duidelik soos wat die spanningslyn, geskep deur die toenemende visskaarste en dringender wordende nood, na 'n hoogtepunt gevoer word. Die tog na die waters "bokant die Grootrivier", wat twee dae en twee nagte se bootvaart noord lê, is van oorlewingsbelang vir die vissers wat geen ander bron van inkomste het nie (8). Aangesien stormweer hulle verhoed om vis as kreefaas in die hande te kry, word twee manne na die voëleiland gedwing: Dampies, wat die eiland ken, en Frits, wat "knaphandig" met die kierie kan gooi.

Frits deins terug van dié "ongeregtigheid" waarmee hy nog nooit gemoeid was nie, maar: "Hy moet geld verdien [...] halfkrone wat hy in sy pa se hand kan gee ..." (7) Die "wreedaardigheid" van praktyke soos die uitroei van voëls of robbe in sy omgewing skep weersin by Frits. Op die eiland reageer hy blindweg op Dampies se bevele: "Voor die hele kaboedel opvlieg. Slat!" Sy arm lig, maar hy slaan sonder plan of oortuiging, "wild in die bondel". In sy belewing lê daar duidelike afkeer en die besef van die erbarmlike lot van die voëls wat vasgekeer word deur die onverwagte aanval: "[...] 'n swartvoël skreeu, spartel. [...] Dis soos 'n hoenderkamp waarin die muishonde gekom het." (7)

Die karakters sien egter geen ander oplossing vir hulle probleem nie. By "die Twins" kan hulle probeer vang vir aas, maar "dan lê daar nog 'n dag en 'n half se loop oor voordat hulle by die Wes se kreef uitkom. Dis 'n vraag of die vis so lank goed sal hou." (8)

Met Frits se terugkeer, nâ 'n week van ontbering in "die Wes", sien hy uit na die Nagmaalnaweek en die sosiale interaksie op die dorp. Sy pa gee hom egter 'n enkele sjieling, skaars genoeg vir iets te eet en te drink, daarom saal hy weer sy perd af met die gedagte: "Dis nie reg nie." (13). Op sy bed kry swaarmoedigheid en die skuldgevoel hom beet "soos 'n toemis wat oor hom rol" (14). Aan sy "boerseep-hande" ruik hy meteens weer die swartvoëls wat met sy kierie afgemaai is, hy hoor hulle skreeu. Ook die snoek wat hulle gevang het, "by die driehonderd, [...] maar oneetbaar maer" (9), spook by hom, omdat die vissers eintlik net die koppe wou hê met die bloederigheid daaraan wat die kreef moes lok. Met afkeer in sy gedagtes beleef hy "die meeue wat op die weggooisnoek toesak, hy sien hulle ruk en pluk aan dieselfde tros derms" (14). Wanneer sy gedagtes ook by die kreef uitkom, by die "dekvrag mannetjiekrewe" wat "skuim en stink' (14), is die skuldgevoel oorweldigend. "Dit was nie reg nie, dink hy. Ek moes geweet het dis verkeerd. Dis nie soos my pa my geleer het nie." (14)

Hierdie introspektiewe proses, geïnisieer deur die pa se daad wat Frits as "nie reg" teenoor hom-as seun-beleef nie, bring Frits te staan voor die etiese aspek van sy eie optrede. Deur die erkenning van die magsvergrype teenoor die see- en dierelewe word stem gegee aan die stemloses. Die bedreiging wat die mens vir hierdie vorms van lewe inhou, word onder woorde gebring. Dat die verhaal die laaste woord aan Frits se pa gee, is betekenisvol. Wanneer sy pa teenoor sy ma te kenne gee dat hy doelbewus vir Frits verhinder het om na die dorp te gaan omdat hy gedink het "hy (Frits) het die rus nodiger" as die opwinding van die gebeure op die dorp (14), kan dit geïnterpreteer word as 'n daad van oormeestering, soortgelyk aan die oormeestering van die natuur waarvan Frits bewus raak deur sy pa se optrede.

"Halfkrone vir die nagmaal" vestig die aandag op die konsep van ekologies volhoubare bewoning, 'n beginsel wat Murphy in sy ekokritiese toepassing van die teorie van anotherness betrek en wat hy koppel aan die gedagte dat verhale wesentlik 'n daad van verantwoording is, 'n aksie wat aan die idee van "I-for-another" uiting gee ("Anotherness" 46). In hierdie "I-for-another"-konsep word Bakhtin se fokus op verantwoordbaarheid herken: "To live from within oneself does not mean to live for oneself, but means to be an answerable participant from within oneself, to affirm one's non-alibi in Being." (Bakhtin, "Philosophy of Act" 49) Wanneer Murphy die kwessie van ekologies volhoubare bewoning met narratiewe uitdrukkings in verband bring, praat hy van "a way of living that requires knowing intimately the place one calls home and then inviting others to hear the stories in order to find their own ways towards answerable inhabitation" ("Anotherness" 45).

Met "Halfkrone vir die Nagmaal", eerste geplaas in Kotze se debuutbundel, vestig sy haarself as "I-for-another" vir 'n strook Weskusaarde wat sy self beskryf as "baie lank swak bekend en grootliks misprese", terwyl dit uitgelewer is aan menslike ontginning op verskeie vlakke (Kotze, "Waterwyfie" voorwoord).

 

Ten slotte

Deur die toepassing van die alternatiewe model van andersheid in ekokritiese ver-band op die verhaal waarmee Kotze haarself aan die Afrikaanse literêre gehoor bekend gestel het, is daarin geslaag om ruimer betekenismoontlikhede ten opsigte van die mens-natuurverbintenis in die verhaal te ontsluit. Die nuut ontdekte betekenispo-tensiaal, gevind in die soektog na aspekte van anotherness in die uitbeelding van die natuurruimte en -elemente van die Weskus, dui op 'n respekvolle benadering tot die verskille tussen mens en natuur waarin beginsels van hiërargie of vervreemding nie geld nie, maar gefokus word op verwantskapsbeginsels en op menslike-niemenslike-interaksie.

"Halfkrone vir die Nagmaal" demonstreer op oortuigende wyse dat, en ook op watter wyse, afstand gedoen word van die konvensionele siening dat mens-na-tuurverskille mag dien ter regverdiging van menslike dominansie of om die verbintenis met die natuurwêreld te misken of gering te ag.

In die ekokritiese besinning oor "Halfkrone vir die nagmaal" is verrykende per-spektief gevind by Murphy se idee van anotherness as "a position of recognition and responsibility" ("Anotherness" 51), waaruit die gedagte voortvloei dat narratiewe uitdrukkings 'n vorm van verantwoording teenoor die omgewing kan wees. "Through encouraging the voicing of another nature, and learning the means by which to generate the literary criticism and analysis of such voicing, we can help to [...] develop another mode of human behavior, one founded on relational anotherness rather than alienational otherness." (Murphy, "Voicing" 79)

Met die herlees van Kotze se debuutwerk verras dit opnuut-en hierdie keer is nie slegs die gehalte daarvan ter sprake nie, maar ook die relevansie wat die verhaal steeds vir ons tyd het. "Halfkrone vir die Nagmaal" beliggaam op 'n uitnemende literêre wyse die boodskap dat ons, synde deel van die aarde, nie langer kan vermy om die wyses waarop ons uitdrukking aan die aarde gee, op watter skeppende gebied ook al, deel te maak van ons pogings van sorg en beskerming nie.

 

Aantekeninge

1 Donelle Dreese (1) spreek die oortuiging uit dat, "whether we are cognizant of their influences or not, environmental factors play a crucial role in the physical, emotional, and even spiritual configurations that determine our ideas of who we are." Nicole Boivin (75) ondersteun hierdie sienswyse deur te verduidelik dat die menslike gees en sy funksionering nie begryp kan word onafhanklik van die natuurlike omgewing nie, want die feit dat ons liggame in voortdurende fisieke wisselwerking met die omgewing verkeer, beïnvloed hoe ons waarneem en dink. Christopher Tilley (22) formuleer dieselfde oortuiging so: "Identities have their basis in the multiple ways in which we perceive and receive the world through all our senses. Embodiment is thus an existential precondition for any sense of identity. How we relate to other humans, the more-than-human world, and not least to ourselves, is thus to a large degree dependent on our embodied experiences of the world."

2 In hierdie redenasie word daarop gewys dat die aandrang ten opsigte van die andersheid van die mens in teenstelling met die natuur geensins algemeen vanselfsprekend of histories universeel is nie (Meyer 340). Sekere kulture, vroeër en hedendaags, ondersteun of verkondig nie so ywerig hierdie tweedeling tussen mens en natuur nie. Thomas Claviez (437) wys op sogenaamde "primitiewe" gemeenskappe, geïnspireer deur mitiese of mitevormende wêreldbeskouings, wat eerder aspekte beklemtoon wat die menslike en niemenslike verbind in 'n holistiese, hoewel hiërargies georganiseerde kosmologie. Die mitologieë van Boeddhisme en die Amerikaanse Indiaan-stamme word as 'n voorbeeld gebruik.

3 Die idee van "andersheid", op hierdie manier beskou, word deur Claviez (443) erken as 'n lastige of problematiese konsep, aangesien "andersheid" juis dit is wat nie net die morele filosofie nie, maar ook die wetenskap streef om te oorkom en uit te skakel in die proses van dinge tot verstaanbaarheid te bring of kennis te verwerf.

4 Claviez (444) beskou Levinas se etiek as 'n "eerste filosofie" aangesien Levinas argumenteer dat die etiese moment noodwendig alle aspekte en sisteme van kennis en wetenskaplike waarneming en berekening vooraf moet gaan.

 

Geraadpleegde bronne

Aucamp, H. "Halfkrone vir die Nagmaal: E. Kotze is 'n wonderlike en geseënde skryfster." Die Vaderland 28 Jan 1983. 11.         [ Links ]

Bakhtin, M. M. Problems of Dostoevsky's Poetics. Vert en red. C. Emerson. Minneapolis: U of Minnesota P, 1984.         [ Links ]

____. Toward a Philosophy of the Act. Vert. V Liapunov. Reds. V Liapunov en M. Holquist. Austin: U of Texas P, 1993.         [ Links ]

Barnhill, D. L. "Otherness and Anotherness." 20 Sept 2010. 25 Jan 2015. <http://www.uwosh.edu/facstaff/barnhilV490-docs/thinking/other.         [ Links ]>

Boehmer, E. Colonial and Postcolonial Literature: Migrant metaphors. Oxford: OUP 1995.         [ Links ]

Boivin, N. Material Cultures, Material Minds: The Impact of Things on Human Thought, Society and Evolution. Cambridge en New York: CUP, 2008.         [ Links ]

Brink, A. P "E. Kotze se mooi boek vol diep genot." Rapport 19 Des. 1982. 12.         [ Links ]

____. "Verhale vir louter plesier". Rapport 14 Des. 1986. 13.         [ Links ]

Britz, E. C. "Kortverhale oor lewe aan Weskus." Beeld 27 Apr. 1983. 7.         [ Links ]

Childs, P en R. Fowler, The Routledge Dictionary of Literary Terms. Londen, New York: Routledge, 2009.         [ Links ]

Claviez, C. "Ecology as Moral Stand(s): Environmental Ethics, Western Moral Philosophy, and the Problem of the Other". Nature in Literary and Cultural Studies: Transatlantic Conversations on Ecocriticism. Reds. C. Gersdorf en S. Mayer. Amsterdam, New York: Rodopi, 2006. 435-54.         [ Links ]

De Vries, A. H. "E. Kotze se Silt van die aarde. Jy kry gn niks beters vir dié prys nie." Die Burger 10 Des. 1986. 13.         [ Links ]

Dreese, D. N. Ecocriticism: Creating Self and Place in American Indian Literatures. New York: Peter Lang, 2002.         [ Links ]

Fourie, R. "Is ekokritiek die moeite werd?" LitNet Webseminare. 22 Feb. 2013. 10 Feb. 2014.<http://www.iïtnet.co.za/Article/is-ekokritiek-die-moeite-werd>         [ Links ].

Glotfelty, C. "Introduction: Literary Studies in an Age of Environmental Crisis." The Ecocriticism Reader: Landmarks in Literary Ecology. Reds. C. Glotfelty en H. Fromm. Athene: U of Georgia P, 1996. i-xxi.         [ Links ]

Hall, S. 1996. "Introduction: Who needs 'Identity'?" Questions of Cultural Identity. Reds. S Hall en P du Gay. Londen: SAGE Publications, 1996. 1-13.         [ Links ]

Kotze, E. Halfkrone vir die Nagmaal. Kaapstad: Tafelberg, 1982.         [ Links ]

____. Waterwyfie en ander woestynverhale. Kaapstad: Tafelberg, 1997.         [ Links ]

____. Diepsee: 'n Keur uit die verhale van E. Kotze. Kaapstad: Tafelberg, 2014.         [ Links ]

Levinas, E. Totality and Infinity. Pittsburgh: Duquesne UP, 1969.         [ Links ]

Martin, D. C. "The Choices of Identity". Social Identities 1.1(1995): 5-21.         [ Links ]

McNay, L. Foucault: A Critical Introduction. Cambridge: Polity Press, 1994.         [ Links ]

Meyer, S. "Wat oor is, is die Self: verblyf in 'n boomholte in Wilma Stockenstrôm se Die kremetartekspedisie." Litnet Akademies 10.1 (2013): 310-40.         [ Links ]

Murphy, P D. "Voicing another Nature." A Dialogue of Voices: Feminist Literary Theory and Bakhtin. Reds. K Hohne en H. Wussow. Minneapolis: U of Minnesota P, 1994. 59-82.         [ Links ]

____. "Anotherness and Inhabitation in Recent Multicultural American Literature." Writing the Environment: Ecocriticism and Literature. Reds. R. Kerridge en N. Sammels. Londen, New York: Zed Books, 1998. 40-52.         [ Links ]

Olivier, F. "Fyn deernis roer in nege verhale". Die Transvaler 9 Des. 1986. 24.         [ Links ]

Ortner, S. B. "Is Female to Male as Nature is to Culture?" Woman, Culture and Society. Reds. M. Rosaldo en L. Lamphere. Stanford: Stanford UP, 1974. 67-87.         [ Links ]

Pharos Afrikaans-Engels Woordeboek. Red. M. Du Plessis. Kaapstad: NB Uitgewers, 2005.         [ Links ]

Roux, J. B. "Huldebundel vir Kotze slaag pragtig". Die Volksblad 1 Sept. 2014: 7.         [ Links ]

Tilley, C. "Introduction: Identity, Place, Landscape and Heritage." Journal of Material Culture 11.1-2 (2006): 7-32.         [ Links ]

Venter, L. "Kotze se Halfkrone is koningskos." Die Volksblad 21 Mei 2013. 8.         [ Links ]

Viljoen, L. "Besonderse Waterwyfie is subtiel en nie sentimenteel." Die Volksblad 1 Jun. 1998. 6.         [ Links ]