SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Two Fischers, two plays: Die geheime Bloemfontein-konferensie (The secret Bloemfontein conference) (1938) and Die Bram Fischer waltz (2011)Historical correctness and historical fiction: A response índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.5 

Die historisiteit van resente Afrikaanse historiese fiksie oor die Anglo-Boereoorlog

 

The historicity of recent Afrikaans historical fiction on the Anglo-Boer War

 

 

Fransjohan Pretorius

Fransjohan Pretorius is emeritus-professor in die Dept. Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria. E-pos: fransjohan.pretorius@up.ac.za

 

 


ABSTRACT

Authors of creative writing in the Afrikaans language find a rich source of dramatic material in the Anglo-Boer War of 1 899 to 1902. Themes from this war that lend themselves superbly to be woven into historical novels and short stories, are the concentration camps (where 28 000 Boer civilians died); the bitterness that plagued Afrikaners in the aftermath of the war; the pride in Boer heroism on the battlefield; important historical figures; treason that lurked in Boer ranks; the relations, usually fraught, with the British, with black people, with fellow-burghers and those with Boer women, often at an individual level. Then there were the experiences of prisoners of war; and the Boers' heartfelt religiosity-on the one hand the deepening of the spiritual experience and on the other the incidence of apostasy; the disillusionment of defeat; and the challenge of reconstruction after the war. In this paper recent historical fiction that has appeared since 1998 from distinguished Afrikaans writers on the Anglo-Boer War is assessed to establish its historical authenticity. The author determines whether what is portrayed is historically correct; what was possible but verges on the improbable, and what is factually incorrect. The works of Christoffel Coetzee, Ingrid Winterbach, Sonja Loots, P.G. du Plessis, Karel Schoeman, Zirk van den Berg, Margaret Bakkes, Jeanette Ferreira, Engela van Rooyen and Eleanor Baker are assessed. Finally, an attempt is made to indicate the fruits of co-operation between the writer of historical fiction, the publisher and the historian.

Keywords: Afrikaans historical fiction, Anglo-Boer War, historical authenticity


 

 

Inleiding

In hierdie studie word resente historiese fiksie van vooraanstaande Afrikaanse skrywers oor die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 beoordeel ten einde die historiese korrektheid van voorstellings in die werke vas te stel. Met historiese fiksie word in hierdie geval bedoel romans en kortverhale wat die Anglo-Boereoorlog as milieu het, en met historiese korrektheid word in die eerste plek bedoel dat die skrywer sy of haar verhaal teen 'n histories korrekte agtergrond laat afspeel. So byvoorbeeld sal die bestaan van 'n konsentrasiekamp vóór September 1900 of blokhuislinies teen Januarie 1900 histories foutief wees. In die tweede plek word bedoel dat die skrywer histories herkenbare figure in die verhaal na hul histories bekende aard laat optree. Om generaal Piet Cronjé as 'n inskiklike en aarselende man uit te beeld, strook nie met die historiese dokumente nie. In die derde plek word bedoel dat gebeure binne konteks moontlik moet wees, want anders kan bloot gevra word waarom dan die moeite doen om 'n tema uit die geskiedenis te neem. Uitspraak word oor die algemeen nie gelewer oor die letterkundige gehalte van die tekste nie, maar waar dit wel gebeur, is dit om aan te toon dat 'n teks wat aan historiese korrektheid inboet, nogtans 'n goeie verhaal mag wees.

Hierdie studie is ten slotte ook 'n poging om die wenslikheid en moontlikheid van samewerking tussen die skrywer, die uitgewer en die historikus aan te dui. Voor-beelde van sodanige samewerking word gegee. In die proses word gekyk na Afrikaanse historiese fiksie in die tydperk 1998 tot 2014. 'n Tiental werke word onder die loep geneem.

Die vernietigende Anglo-Boereoorlog wat tussen 1899 en 1902 op Suid-Afrikaanse bodem gewoed het, verskaf 'n ryk bron vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans. Temas uit hierdie oorlog wat ideaal geskik is om vir historiese romans en kortverhale geëksploïteer te word, is die konsentrasiekampe (waar 28 000 Boere-burgerlikes gesterf het); die gevolglike Afrikaner-bitterheid in die twintigste eeu; Boere-heldhaftigheid op die slagveld; belangrike historiese figure; verraad in eie geledere; die verhouding met die Britte op individuele vlak; die verhouding met swart mense, met medeburgers op kommando en met Boerevroue; die ervaring van krygsgevangenes; godsdiens- aan die een kant die verdieping van die geestelike ervaring en aan die ander die verskynsel van afvalligheid; die ontnugtering van nederlaag; en die heropbouproses ná die oorlog.

 

Afrikaanse skrywers se nasionale benadering tot die Anglo-Boereoorlog

Afrikaanse skrywers van historiese romans en dramas en veral volksdigters het in die eerste helfte van die twintigste eeu die Anglo-Boereoorlog as tema geneem om die heldedade van die slagveld te besing of die lyding en sterftes van die Boerevroue en -kinders te betreur. Hulle het in Afrikaans geskryf, al was dit in die eerste kwarteeu nog nie 'n amptelike taal van die staat nie.

Die gedigte van Jan F. E. Celliers, C. Louis Leipoldt en Totius (J. D. du Toit) het die Afrikaanse poësie laat uitstyg bo blote rymelary. Gedigte soos Celliers se "Dis al" en "Generaal de Wet", Leipoldt se "Oom Gert vertel" en "Aan 'n seepkissie" en Totius se "Vergewe en vergeet" het vir minstens drie geslagte in die boesem van die Afrikaner gaan lê.

D. F. Malherbe se historiese roman Vergeet nie: Histories-romantiese verhaal uit die Anglo-Boereoorlog het in 1913 verskyn. Gustav Preller, wat hom veral in die twintig- en dertigerjare as volkshistorikus sou vestig, het in 1923 met Oorlogsoormag en ander sketse en verhale die oorlog in herinnering gebring.

Die oplewing van Afrikanernasionalisme in die dertigerjare het vir 'n goeie oes aan historiese romans oor en 'n mitologisering van die Anglo-Boereoorlog gesorg, onder meer J. R. L. van Bruggen se Bittereinders in 1935, en T. C. Pienaar se 'n Merk vir die eeue in 1938. In 1941 het Ewald Esselen met Helkampe ontplof, wat 'n twintigtal hoofstukkies van lydingsverhale uit die oorlog bevat, gebaseer op werklike gebeure (Wessels 194-7).

 

Demitologisering van die Anglo-Boereoorlog in die Afrikaanse letterkunde

In die nagloed van die triomf van Afrikanernasionalisme het die demitologisering van die Afrikaner se heroïese rol in die Anglo-Boereoorlog in die letterkunde egter begin. N. P! van Wyk Louw, bekend vir sy lojaal-kritiese werke soos Die dieper reg en Lojale verset, het vir die vyfjarige herdenking van die Republiek in 1966 'n drama in opdrag van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste geskryf, getiteld Die pluimsaad waai ver of bitter begin. Dit het hewige kritiek van die eerste minister, dr. H. F. Verwoerd, ontlok vir sy empatieke skildering van 'n weifelende Transvaalse generaal as deel van die verhaal. Dit het uiteindelik eers in 1972 by Human & Rousseau verskyn.

Sestigers soos André IP Brink en Jan Rabie het verkies om nie te skryf oor die era van die Anglo-Boereoorlog nie wat vroeër gebruik is om Afrikanernasionalisme te bevorder. Heldefigure of konsentrasiekampsmarte was nie deel van hulle verwysingsraamwerk nie.

Die demitologisering het 'n inspuiting ontvang met Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! in 1976, 'n satiriese skets oor die Afrikaner se "heilige geskiedenis", aangesien die Slag van Magersfontein 'n skitterende Boereoorwinning in Desember 1899 was. Die boek het opslae gemaak, want stoere Afrikanernasionaliste het nie die satire in die teks waardeer nie. Dit het nogtans aan Leroux die gesogte Hertzogprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns besorg. In dieselfde jaar het die dramaturg Pieter Fourie met Die joiner op die gebied van die polities-betrokke teater beweeg-'n burger wat die Britte na die Boere se posisies lei ten einde 'n aantal vroue van verkragting te red (Kannemeyer 314).

Só het 'n tydperk van demitologisering begin. Dit sou veral reflekteer in 'n aantal belangrike historiese romans en kortverhale wat in 1998 rondom die herdenking van die Anglo-Boereoorlog 'n aanvang geneem het, en tot die huidige voortduur.

Die eeuwending was 'n belangrike tydperk in die geskiedenis van Suid-Afrika en van die Afrikaner. Met die koms van die demokratiese Suid-Afrika in 1994 het die Afrikaner die politieke beheer verloor wat hy bykans vyftig jaar lank geniet het. Saam daarmee het sy ontnugtering gekom met die openbaringe voor die Waarheids- en Versoeningskommissie van sekere regeringsvergrype teen teenstanders van apartheid. Dit is bowendien opgevolg deur die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902. Aan die een kant het dit gelei tot 'n hernieude belangstelling onder Afrikaners. Sowel die ouer garde as die nuwe generasie was nuuskierig om te verneem van 'n oorlog en sy lyding wat menige van hulle slegs van gehoor het en min van geweet het. Hulle het met trots gevoel hulle kon bewys lewer dat swart mense nie die enigste oorlogslagoffers in die geskiedenis van Suid-Afrika was nie-die Afrikaner het óók in die proses gely. Maar aan die ander kant het dit die weg gebaan dat Afrikaners meer ontvanklik was vir 'n meer gebalanseerde skildering van die Anglo-Boereoorlog-om die Afrikaner te sien met beide sy deugde en sy vratte, en om selfs verder te gaan en 'n "alternatiewe" perspektief van die oorlog te omhels. Daarmee word bedoel dat die rol van die antiheld belig word en dat die Boere regtens of ten onregte en gedeeltelik of volkome in 'n negatiewe lig geteken word (vgl. "Antiheld" in Cloete 13-4).

Wat veral treffend is, is die deeglike navorsing van die skrywers van historiese fiksie in hierdie tydperk. Hulle maak gebruik van die beskikbare literêre bronne- gepubliseerde dagboeke en herinneringe van die oorlog, en akademiese werke. Een van die klassieke werke van die Anglo-Boereoorlog, Deneys Reitz se Commando: A Boer Journal of the Boer War (1929), is veral benut in onlangse historiese romans. 'n Akademiese bron wat geblyk het baie nuttig te wees vir agtergrondinligting oor die ervaringswêreld van die burger op kommando, is Fransjohan Pretorius se Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 (1991). Verskeie skrywers van historiese fiksie het stof hieruit getap. Pretorius het ook ervaar dat skrywers teenoor hom erken het dat hulle die boek nuttig gevind het in die skryf van hul historiese fiksie.

Hier is dus 'n besonder bruikbare verhouding-noem dit 'n hartlike same-werking-tussen die historikus en die skrywer van historiese fiksie. Soos die historikus André Wessels tereg verduidelik:

Aan die een kant is geskiedenis so 'n ernstige (belangrike) saak dat dit nie aan historiei alleen oorgelaat kan word nie, en skrywers, digters en dramaturge het dus ook 'n rol te speel in die ontwikkeling van begrip van ons verlede. Aan die ander kant is die letterkunde so 'n ernstige (belangrike) saak dat dit nie aan literatore alleen oorgelaat kan word nie, en gevolglik het historiei ook 'n rol te speel in die kontekstualisering en verklaring van 'n bepaalde teks (Wessels 188).

Die historikus behoort dus nie met slimmighede oor historiese feitefoute te kom om die skrywer van historiese fiksie oor sy verhaal te kritiseer nie, maar kan 'n nuttige rol speel om die skrywer van historiese fiksie vóór publikasie op histories inkorrekte inkleding van die geskiedenis te wys.

 

'Alternatiewe' historiese romans

'n Aantal belangrike "alternatiewe" historiese romans het in die laaste sestien jaar oor die Anglo-Boereoorlog verskyn. Daarmee word bedoel tekste wat nie die standpunte van Afrikanernasionaliste verteenwoordig nie-'n demitologisering van die geskiedenis of die Afrikaner se nasionalistiese geskiedbeskouing dus, waarna vroeër verwys is. Anders gestel: 'n donker sy in die Afrikaner se geskiedenis, wat dikwels 'n meer genuanseerde blik op die verlede bied.

Die eerste was Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz in 1998, 'n soeke na die donker in die Afrikaner se geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. Vir die hoë letterkundige waarde daarvan het dit minstens drie belangrike toekennings ontvang-die M-Net-, Eugène Marais- en De Kat/Sanlampryse. André P Brink het die werk aangeprys: "What [Coetzee's] novel reveals, not just about the Afrikaner soul' or the underbelly of the Anglo-Boer War but about the darknesses and excesses of the human psyche, makes it a milestone and a must-read in our post-apartheid literature" (Brink).

Dit is die verhaal van 'n Boerekommando onder ene Generaal Mannetjies Mentz, wat Boerekrygsgevangenes onder Britse bewaking weer gevange geneem het en hulle gedwing het om weer by die Boerekommando's aan te sluit. Indien hulle geweier het, het hulle 'n aaklige dood tegemoet gegaan aan die hande van Mentz en sy manskappe.

In 'n onderhoud het Coetzee self verklaar: "Ek het grootgeword met een waarheid oor die Anglo-Boereoorlog. Ek probeer nie om die geskiedenis te herskryf nie, maar om 'n alternatiewe waarheid te skets, want elke oorlog het sy skadukant" (Nieuwoudt). Die vraag is nou: hoe waar is hierdie alternatiewe waarheid wat Coetzee bied?

Sommige aksies en voorstellings in die boek was waar. Ten eerste het die oorgawe van generaal Marthinus Prinsloo met 4 400 Vrystaters werklik plaasgevind. Dit was in die Brandwaterkom, suid van Bethlehem, en het sedert 29 Julie 1900 oor 'n paar dae gestrek. Korrek is ook die belangrike verskynsel dat Boerevroue en hul kinders in groepe in die talle spelonke wat die Witte- en Roodeberge van die Brandwaterkom gebied het, vir die res van die oorlog weggekruip het om nie deur die Britse magte na konsentrasiekampe weggevoer te word nie. Derdens: ofskoon die meeste swart mense op 'n Britse oorwinning gehoop het omdat hulle gereken het dat hulle politieke en sosiale posisie daardeur bevoordeel sou word, strook die beskerming en hulp wat die swart man Jan Witzie en sy mense aan Ma-hulle gebied het, tog ook met die werk-likheid. Sommige swart mense het om verskeie redes hulp aan Boerefamilies verleen. Onderdanigheid of skyn-onderdanigheid van getroue plaasarbeiders was een rede daarvoor.

Sekere belangrike feitefoute of foutiewe voorstellings in die verhaal (dit wil sê romanmateriaal wat nie deur historiese dokumente gerugsteun word nie) moet egter aangedui word, omdat dit die geloofwaardigheid van die historiese gegewe in die verhaal en sy konteks in die gedrang bring. In die eerste plek vervroeg Coetzee die afbrandings van plase in die Oos-Vrystaat met 'n hele paar maande om by sy verhaal in te pas. Hy plaas dit in Mei 1900, terwyl afbrandings van Boerewonings in hierdie geweste eers teen Julie 1900 begin is. Tweedens plaas Coetzee die bestaan van die refugee-laers in die Oos-Vrystaat te vroeg, naamlik Julie 1900. Die korrekte datum is einde-1900. Derdens word daar vertel hoe die Boere teen Julie 1900 hul Britse krygsgevangenes van hul klere beroof het, terwyl dit eers in Mei 1901 'n aanvang geneem het.

Coetzee het met hierdie roman "alternatiewe waarhede" probeer aanbied, maar in die proses sekere uitsonderings in Boere-optrede as die norm voorgestel. Dit is miskien die verskil tussen die werk van die historikus en die romanskrywer: die historikus skryf oor die algemene (hy veralgemeen) en wys op die uitsonderlike wat nie by sy skema inpas nie; die romanskrywer skryf oor die uitsonderlike, want elke mens het 'n verhaal, en stel dit voor asof die uitsonderlike die norm is.

Wat is dan hierdie alternatiewe waarhede wat Coetzee opdis? In die eerste plek was daar nie so 'n persoon of generaal soos Mannetjies Mentz nie. Die ironiese name "man" en "mens" waarmee hierdie offisier met sy onmenslike optrede gestempel is, val op. En, tweedens, daar was nie so 'n kommando wat Boerekrygsgevangenes/wapenneerlêers onderskep het, hulle 'n keuse gegee het om weer by die kommando's aan te sluit en diegene wat geweier het, dan wreed om die lewe gebring het nie. Coetzee het die skepping van Mannetjies Mentz se kommando te danke (Coetzee 4-5) aan die ervaring van die jong Deneys Reitz wat in die winter van 1901 op verskeie klein vrybuiter-korpse-"small private bands"-in die suidwes-Vrystaat afgekom het, "remnants of larger forces that had dwindled away under the misfortunes of war". Hulle was verflenterde groepies wat die bietjie ammunisie tot hul beskikking op wild uitgeskiet het en gelukkig was solank hulle uit die hande van die Britte kon bly. Aan die Sandrivier het ene veldkornet Botha oor twee korporaals en ses manskappe bevel gevoer. 'n Groepie in Fauresmith het rondom Deneys Reitz en sy makkers saamgedrom met die oproep: "Maak dood die verdomde spioene". Hierdie uitvaagsels is deur een van die vroulike inwoners van die dorp beskryf as "riff-raff ejected from the fighting commandos, existing on what they eould rob and loot" (Reitz 181-4 en 195; Pretorius 231).

Hierdie vrybuiterkorpse wat rondgeswerf het, kan volgens beskikbare gegewens nie met patriotisme aan die Boeresaak vereenselwig word nie en het nie die gemiddelde Boer van 1900 verteenwoordig nie (Pretorius passim). Daar is 'n diskrepans tussen gedokumenteerde historiese gegewe en Coetzee se romangegewe.

'n Tweede "alternatiewe" historiese roman is Ingrid Winterbaeh se werk Niggie in 2002, wat in 2004 die gesogte Hertzogprys verower het. Dit is nie in die Afrikaner nasionale paradigma geskryf nie, waar die held in volkome beheer van sy lot en sy hart sou wees.

Dit is 'n buitengewone verhaal. Twee Boere, Reitz Steyn en Ben Maritz (vir die historikus irriterende samevoegings van historiese figure), wat as natuurweten-skaplikes op kommando diens doen, word deur 'n vrybuiter Boerekommando gevange geneem. Hulle word van spioenasie beskuldig. Wanneer hulle 'n opdrag vir die Boere-offisier uitvoer, word hulle gewond en deur simpatieke Boerevroue versorg. Dit is nie 'n besonder sterk verhaal nie, maar dit beeld die ervarings van twee antihelde uit wat in 'n oorlog opgevang word.

Winterbach het 'n beperkte hoeveelheid maar goeie bronne geraadpleeg om haar verhaal geloofbaar te maak. Soos gebruiklik, word hierdie bronne nie in haar werk erken nie. En soos met Christoffel Coetzee se Mannetjies Mentz vorm Deneys Reitz se vertelling van 'n vrybuiterkorps wat hy in die Vrystaat teëgekom het, 'n belangrike agtergrond tot die verhaal. 'n Tweede belangrike bron vir Winterbach is die oor-logsdagboek van die later bekende digter, Jan F. E. Celliers, wat in 1978 gepubliseer is. Die drome op kommando van die karakter Japie Stilgemoed in Winterbach se boek is onbeskaamd Jan Celliers se voortdurende filosofering oor die oorlog. Vir die onin-geligte leser is dit indrukwekkend, want drome is 'n belangrike tema in Winterbach se werk, maar vir die historikus is dit ongemaklik dat Celliers so sonder erkenning oorgeneem word.

In 'n gesprek by Aardklop op 30 September 2004 het Winterbach teenoor Pretorius bevestig dat sy goed gebruik gemaak het van sy werk oor die kommandolewe. Trouens, in sy resensie van Niggie in Die Burger van 25 November 2002, het Gunther Pakendorf opgemerk:

Niggie gee 'n realistiese naby-opname van die onbestendige lewe van die Boeremagte teen die einde van die oorlog, "die nuttelose slingertogte ... die verveling en ongerief van hul daaglikse bestaan, die reën, die koue, die min kos" (bl. 221). Die karakters, aktiwiteite en gesprekke kom plek-plek voor soos 'n fiksionele weergawe van Fransjohan Pretorius se Kommandolewe, ruwe gewoontes, gekruide taal, boerse humor, growwe vooroordele en al (Pakendorf ).

Ten spyte van Winterbach se goeie navorsing, vind ons in Niggie 'n hele aantal minder belangrike historiese feitefoute en uitbeeldings wat nie met die historiese gegewe klop nie. Enkele voorbeelde: op geen manier kon kommandant Senekal teen Februarie 1902 nog 'n walaer gehad het nie-want daar was nie meer genoeg waens op kommando nie; daar word verkeerdelik voorgestel dat generaal Jan Smuts meer as een maal die Kaapkolonie binnegeval het; daar was nie in die latere fase van die oorlog vuurhoutjies beskikbaar vir Gert Smal om te kou nie; lord Milner was nie 'n "Cambridge boy " niehy was op Oxford; die Britse nagtelike aanvalle het nie eers in November 1901 begin nie, maar reeds in Mei 1901. Belangrik is egter dat daar by Winterbach sekere optredes was wat kon gebeur het maar wat hoogs uitsonderlik sou wees. Die bestaan of nie van so 'n wilde Boerekommando waarin Reitz Steyn en Ben Maritz hulle vasloop, is reeds gemeld. Dit is moontlik dat die twee wetenskaplikes hulle in so 'n korps kon vasloop.

Gert Smal se swart assistent op kommando, Esegiël, is 'n verdere voorbeeld van iemand wat kon bestaan het maar 'n uitsondering sou wees. Oor die algemeen het die Boere hul Bybel goed geken, maar hier word Esegiël afgeskilder as iemand wat 'n beter kennis van die Bybel het en 'n man wat die Boere reghelp as hulle daarmee fouteer. Maar hy is ook Gert Smal se geheue, en wanneer hy gevra word, ken hy al die datums en gebeure van die oorlog en die Afrikaner se geskiedenis paraat. So iets was moontlik, maar sou hoogs uitsonderlik wees. 'n Duitse vrywilliger by die Vrystaatse magte, Oskar Hintrager, het juis in sy dagboek melding gemaak van die gewone Boere se verstommende kennis van die Bybel ([Hintrager] 87, 117-8).

'n Derde "alternatiewe" historiese roman met die Anglo-Boereoorlog as tema is Sonja Loots se Sirkusboere in 2011. Dit vertel die ware verhaal van die sirkusbaas, Frank Fillis, wat 'n aantal Boere, swart mense en voormalige Britse soldate gekry het om by die Wêreldtentoonstelling in St. Louis, VSA, in 1904 belangrike momente uit die Anglo-Boereoorlog op te voer.

Prominent in die verhaal is die sirkusbaas Frank Fillis en die oud-Boeregeneraals, Piet Cronjé, wat oneervol met 4 000 Boere by Paardeberg oorgegee het, en Ben Viljoen, wat ook gedurende die oorlog krygsgevange geneem is en hoë aspirasies gehad het om ná die oorlog 'n nuwe lewe in Meksiko te lei. Die karakterisering van hierdie drie manne is besonder briljant-en histories verantwoordbaar. Kenmerkend is die skry-wer se uitstekende empatieke benadering. Vir Frank Fillis het die lewe 'n sirkus gebly. Cronjé was toegewy aan sy skanddaad-gedurende en ná die oorlog tot met sy een-same dood in 1911 is hy verwerp deur sy mede-Afrikaners wat sy oorgawe in die oorlog met woede en minagting bejeën het. Hy is by uitstek die antiheld. Viljoen weer, het sy verlede met gemak van hom afgeskud. Ofskoon hy naam vir homself gemaak het met die veldslae van Vaalkrans en Helvetia, het sy optrede ná die oorlog om 'n Afrikaner-nedersetting in Meksiko te vestig en sy ondersteuning om die dik-tatorskap van Porfirio Diaz van Meksiko omver te werp, hom nie geliefd gemaak nie en hom inderdaad vervreem van die nasionale Afrikaners van die twintigste eeu. Hy het nooit deel geword van die Afrikaner se nasionale paradigma nie.

Buitengewoon is die indrukwekkende sewe bladsye-diskussie deur Sonja Loots van die bronne wat sy geraadpleeg het. Die belangrikste werke was Floris van der Merwe se Die Boeresirkus van St Louis (1904) in 1998, Floris van der Merwe se Frank Fillis: Die verhaal van 'n sirkuslegende in 2002, en J.W. Meijer se biografie, Generaal Ben Viljoen 1868-1917 in 2000.

Vanweë die uitstekende navorsing is daar dus nie historiese feitefoute wat die historikus pla nie. Konteks en feite en die skrywer se artistieke vermoë werk gevolglik in harmonie saam om 'n besonder leesbare historiese roman aan te bied. Dit wek geen verbasing nie dat dit verskeie toekennings ontvang het, soos die Eugène Marais-, die M-Net- en die K. Sello Duikerpryse.

Besonder populêr is P. G. du Plessis se Fees van die ongenooides in 2008. Dit is 'n historiese roman wat oorspronklik in Engels vir 'n televisiereeks geskryf is. Dit is 'n briljante verhaal van die familie Van Wyk in die Anglo-Boereoorlog. Die slagveld en die konsentrasiekamp speel 'n belangrike rol. Dit het die ATKV-, die Helgaard Steyn en die Universiteit van Johannesburgpryse verower.

Wat kan in breë trekke aanvaar word as histories korrek? Die navorsing is deeglik gedoen. Militêre feite is korrek. Alle veldslae en militêre gebeure wat in die loop van die verhaal vermeld word, kom in die korrekte volgorde voor. Oupa Daniël se oorgang van 'n godvresende man na onverskilligheid was ongewoon, maar hierdie soort ge-drag het tog voorgekom. Danie-hulle se ervarings op kommando in die guerrillafase strook met die werklikheid (vgl. Pretorius passim). Hulle skud die Britse krygsge-vangenes uit en vat hulle skoene, gewere en perde; hulle drink wortelkoffie en rook blare; skiet ook nou almal met Engelse gewere; hulle word met dryfjagte teen die goedbewaakte blokhuislinies vasgedruk; en baie burgers is (soos Deneys Reitz) geklee in goiingsak en enige ander bedekking waarop hulle hul hande kan lê.

Die verhoudinge in die konsentrasiekamp tussen die vroue wie se mans nog op kommando was en die families van burgers wat die wapen neergelê het, word met empatie uitgebeeld. Die Boerevroue se ervaring van die kamphospitale word waar-heidsgetrou weerspieël deur Martie "en al die vroue" se denke: "Die hospitaal is die dood self. Waar kom die storie van die kampowerhede vandaan dat elke sieke moet hospitaal toe? Om wat te gaan maak? Ek sal jou sê: om te gaan sterf. Want daar kan hulle hulle moordplanne van naby af uitvoer en van enige olike kind 'n lyk maak' (Du Plessis 294). Toe Driena siek word, het Martie, omdat sy bang was die kind kry 'n trek, soos die Boerevroue destyds in die kampe, die tent diggemaak en die siekte stil gehou uit vrees vir die hospitaal. Die verbeteringe wat teen die einde van 1901 in die konsentrasiekampe aangebring is-die werk van die Dameskomitee na aanleiding van Emily Hobhouse se onthullings in Brittanje en die feit dat lord Milner die kamp-administrasie by Kitchener oorgeneem het-word korrek deur Du Plessis deurgegee.

Wat is feitelik verdraaid om by die verhaal in te pas? Daar kon slegs een geval gevind word waar Du Plessis die historiese feite verdraai het om sy storie te laat klop. Dit is by die aankoms van die Van Wykvroue by die konsentrasiekamp êrens in die Vrystaat teen einde Maart 1901: die rye grafte, die té groot begraafplaas, die lykswa wat verbykom met drie kiste, terwyl daar reeds twee begrafnisse aan die gang is. Daarmee saam: "Uit die sloot onder die hoenderstellasies [= toilette] het die bedwelmende stank van 'n pes, van maagkoors se skittery, van verdierliking en vernedering opgewalm" (Du Plessis 241).

Nee, die groot sterftes en maagkoors het nog nie einde Maart 1901 plaasgevind nie. Volgens die amptelike syfers van Goldman in 1913 was daar in Maart 1901 in ál die Vrystaatse kampe maar 119 sterfgevalle, en dit in vyftien kampe. Vir Maart 1901 is dit vier sterftes per dag in vyftien kampe (d.w.s. nie eens een per kamp per dag nie). Die groot sterftes was tussen Augustus en Desember 1901, toe daar in die Vrystaatse kampe per maand tussen 1 164 en 1 514 gesterf het. Wanneer die sterftes gedy, vra die predikant vir oupa Daniël om te help met begrafnisse, want "daar was toe soms byna veertig begrafnisse op 'n dag"-in één kamp?! Dit is 1 200 per maand in één kamp. Daar was wel soveel in al die kampe sáám in die tyd (Hobhouse 407-26). Hierdie verdraaiing van die historiese feite kan moontlik as skrywersvryheid aanvaar word, maar dit gee ongetwyfeld 'n skewe beeld van die werklike situasie.

Wat kan as moontlik waar maar as hoogs uitsonderlik beskou word? Die skrywer maak sekere voorstellings wat as moontlik waar aanvaar kan word, maar hoogs uitsonderlik vir die tyd sou wees. Dit is sy metode om 'n goeie verhaal te vertel.

In die eerste plek is daar Magrieta se buitengewone verhouding met die Britse kaptein Brooks wat sentraal in die verhaal staan. Dwarsdeur die teks smeul hierdie verhouding sonder om werklik vlam te vat. Die Anglo-Boereoorlog het hom tot sulke uitsonderlike verhoudings geleen, en daarom kan dit volkome as 'n gegewe aanvaar word.

Tweedens, aangesien Daantjie hom as 'n bangerd openbaar, neem die Van Wyks se getroue swart agterryer, Soldaat, sy rol as vegter oor. Telkens wanneer Daantjie met 'n geveg kleinkoppie getrek het, het Soldaat ingespring en geskiet. Inderdaad is enkele agterryers deur hul meesters in die Anglo-Boereoorlog toegelaat om met gewere aan gevegte deel te neem. Soms was dit 'n eenmalige gebeurtenis, ander kere het so 'n agterryer vir 'n geruime tyd aan Boerekant geveg (Pretorius 319-21).

Verliesfontein van Karel Sehoeman (1998) is 'n werk wat nie in die kader van bogenoemde historiese romans inpas nie. Die verteller is 'n historikus wat in geselskap van 'n fotograaf deur die Karoo reis om inligting in te samel vir 'n boek oor die Anglo-Boereoorlog. Dit het te make met die Vrystaatse magte se inval in die Kaapkolonie in die guerrillafase van die oorlog. Die historikus in die verhaal het vooraf uitgebreide navorsing oor die betrokke dorp, Fouriesfontein, gedoen. Die dorp is meestal Verliesfontein genoem as gevolg van veediefstalle en botsings tussen die vroeë blanke setlaars en die Boesmans.

Die historikus in die verhaal raak op 'n vreemde wyse betrokke by die gebeure in die dorp, ofskoon die inwoners volkome onbewus van sy teenwoordigheid is. Weinig opspraakwekkends gebeur. In die verloop van die verhaal verneem hy die ervarings van drie inwoners oor die kort beleg deur die Vrystaatse kommando's. Aan die einde tob hy oor die betekenis van hierdie drie stemme en sy eie ervaring van die verlede.

Willie Burger wys daarop dat die historiese "feite" soos dit in die roman aangebied word en die drie stemme wat drie verskillende weergawes van gebeure gedurende die Anglo-Boereoorlog vertel, bloot fiksie is. Verliesfontein of Fouriesfontein het nooit bestaan nie. Die Slag van Vaalbergpas het nooit plaasgevind nie, geen rebel met die naam Gideon Fourie het gesneuwel nie, en die Vrystaatse magte het nie 'n bruin gemeenskapsleier met die naam Adam Balie tereggestel nie. Dit is waarom die historikus en die fotograaf nie die dorp kan vind nie. Die historikus ervaar die dorp slegs in sy verbeelding. Sy ervaring is egter nie bloot fiksie nie, sê Burger. Dit verskaf 'n moontlike geskiedenis van 'n dorp, soortgelyk aan soveel ander dorpe waaroor die historikus navorsing gedoen het. En, soos Burger daarop wys, dit is die soort gebeure wat hulle in talle ander dorpe van die Noord-Kaap in die Anglo-Boereoorlog afgespeel het. Die lot van Adam Balie verwys kennelik na die ervaring van Abraham Esau, 'n bruin gemeenskapsleier van Calvinia, wat die Boere-inval openlik weerstaan het en uiteindelik deur hulle tereggestel is (Burger 107). Sehoeman het trouens reeds in 1985 'n artikel oor die lot van Abraham Esau geskryf (Sehoeman, "Abraham Esau" 56-66).

In Verliesfontein is daar geen opsigtelike historiese feitefoute nie, enersyds omdat Sehoeman in verskeie historiese werke oor die Anglo-Boereoorlog bewys gelewer het van sy deeglike navorsing en kennis van die oorlog, en andersyds omdat daar slegs vae verwysings na die militêre gebeure voorkom. Die belangrikste is egter dat die skrywer daarin slaag om, soos in sy debuutnovelle, Veldslag (1965), die lotgevalle en atmosfeer in 'n dorp tydens hierdie oorlog uitmuntend en geloofbaar te belig.

Die jongste historiese fiksie oor die Anglo-Boereoorlog is Zirk van den Berg se Halfpad een ding, wat in 2014 verskyn het. Dit is die verhaal van 'n Nieu-Seelander, Gideon Laneaster, wat met 'n kontingent uit Kiwiland aan Britse kant veg, maar deur 'n offisier van die Britse Intelligensiediens, majoor Bryee, gevra word om met sy vermoë om Nederlands te praat 'n Boerekommando te infiltreer en die Britte van inligting te voorsien wat tot generaal Christiaan de Wet se gevangeneming sal lei. Daar word geglo dat die oorlog dan verby sal wees.

Die histories korrekte uitbeelding getuig feitlik deurgaans van die skrywer se goeie navorsing en kennis van die Anglo-Boereoorlog-soos byvoorbeeld dat dit die eerste groot oorlog was wat deur beide partye met rooklose ammunisie geveg is; en dat daar lang tye van niksdoen in die guerrillafase was waartydens daar weinig militêre kontak voorgekom het. Soms strook die vertelling selfs tot in die kleinste besonderheid met die feite, soos dat 1 September 1901 inderdaad 'n Sondag was.

Aan Britse kant is dit byvoorbeeld korrek dat hul Intelligensiediens (naas die inwin van inligting oor die vyand) te doen gehad het met die opstel van kaarte; dat 'n paar Maori's in die Nieu-Seelandse eenhede ingeglip het; dat die Britse Mediese Korps X-straalmasjiene gehad het (" 'n masjien wat binne-in jou lyf kan kyk"); dat die Britse burgerlike owerhede die konsentrasiekampe by die leër oorgeneem het ná die hoë dodetal vroeër; en dat generaal De Wet die 11th Battalion Imperial Yeomanry by Groenkop op Kersdag 1901 verslaan het.

Aangesien die verhaal hoofsaaklik oor Gideon se ervaring tussen die Boere op kommando gaan, is dit belangrik om te kyk wat die skrywer van hierdie erva-ringswêreld maak. Ook hier is hy kundig. Dit is byvoorbeeld korrek dat De Wet nie sy burgers ingelig het oor waarheen 'n trek gaan voordat dit omtrent tyd was om te vertrek nie, en dat hy soms sy sambok op 'n onwillige burger gebruik het; dat daar Jode (soos Matzdorff) saam met die Boere op kommando was; dat beesvelry as straf en vernedering korrek uitgebeeld word; dat baie Boere in die guerrillafase Britse gewere gebruik het omdat die ammunisie vir hul Mausers op was; dat mieliepap belangrik was as voedsel in die guerrillafase, veral in die Oos-Vrystaat; dat die Boere teen Oktober 1901 al meer Britse uniforms gedra het en dat 'n Boer in Britse uniform volgens proklamasie van lord Kitehener geskiet sou word; dat 'n fiets oor ruwe terrein vinniger bewys is as 'n perd; en dat die Boere nêrens gehad het om krygsgevangenes te hou nie, en hulle hul gewoonlik sonder klere of wapens vrygelaat het. Dit is ook korrek dat kolonel Rimington (egter nie Remington soos die skrywer dit spel nie) in November 1901 in bevel was van die 3rd New South Wales Mounted Rifles wat vir De Wet in die noordoos-Vrystaat probeer vastrek het.

Daar is enkele situasies wat hoogs uitsonderlik maar moontlik was. Een so 'n geval is die sentrale gebeurtenis-Gideon se infiltrasie as Nieu-Seelander van die Boeremagte. Hy het hom as 'n Nederlander, afkomstig van Nederlands Oos-Indië, voorgedoen, en só sy kennis van Nederlands wat hy aan moedersknie geleer het, ingespan om te kommunikeer. Dalk word hy te geredelik deur die Boere aanvaar. 'n Ander uitsonderlike verskynsel is Esther se aansluiting by Eksteen se kommando, al gebeur dit teen die einde van die verhaal wanneer daar slegs die een militêre kontak voorkom. In die lig van byvoorbeeld Sarah Raal se werklike aansluiting op kommando tydens die Anglo-Boereoorlog (Pretorius 350) is hierdie uitsondering aanvaarbaar.

Daar het egter 'n klompie feitefoute en onhistoriese uitbeeldings deurgeglip. Dit was byvoorbeeld nie Kitchener wat eerste besluit het om Boerevroue in konsentra-siekampe te plaas nie, maar lord Roberts; die Vrystaatse joiners was nie die Orange River Volunteers nie, maar die Orange River Colony Volunteers; mens sit nie 'n koeël in 'n loop nie, maar 'n patroon; die Britse lansiers het nie aan die Tugela geveg nie (Elandslaagte, waar hulle wel beroemdheid/berugtheid verwerf het, is nie aan die Tugela nie); Boere-wapenneerlêers het nie 'n eed van getrouheid aan die Britse monarg onderteken nie, maar 'n eed van neutraliteit; die Vrystaters het nie by Majuba (in die Eerste Anglo-Boereoorlog) geveg nie; Eksteen as een van De Wet se voortreflikste kommandante sou teen einde November 1901 al geweet het dat koningin Victoria in Januarie 1901 oorlede is; daar sou nie teen Oktober en November 1901 nog beskuit, koffie, suiker en vuurhoutjies beskikbaar gewees het nie; en Kitchener het nie die rang van veldmaarskalk gehad nie.

 

Samewerking tussen skrywer, uitgewer en historikus

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat indien die skrywers en uitgewers met 'n historikus gekonsulteer het, talle historiese foute en onjuiste uitbeeldings vermy kon gewees het sonder om aan die verhaal afbreuk te doen. Die vraag is eenvoudig: waarom sou 'n skrywer 'n historiese onderwerp neem en dan nie 'n histories korrekte milieu, karakters of gebeure skep nie? Skrywer hiervan pleit dus vir noue samewerking tussen die skrywer van historiese fiksie, die uitgewer en die historikus.

'n Uitstekende voorbeeld van sodanige samewerking word gevind in Margaret Bakkes se Fado vir 'n vreemdeling (2011). Hierdie verhaal het die Boere-geïnterneerdes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog as realistiese agtergrond. Maar die verhaal van die hoofkarakter, Cornelis Homan, is verbysterend-tragies-en ontstellend waar.

By die historikus O. J. O. Ferreira het Margaret Bakkes verneem van die lotgevalle van Homan, wat saam met 'n duisend Boere in Portugal geïnterneer is-'n bywonerseun wat vanaf die platteland in Johannesburg teregkom, op kommando tydelik sy selfvertroue vind, in Portugal geïnterneer word, ná die oorlog na sy in prostitusie vervalle eggenote terugkeer, van haar skei en dan met 'n verwagtende Portugese meisie trou deur die gemene spel van die bruid se vader uit 'n vooraanstaande gesin wat hy in Portugal leer ken het. Die afloop is onvermydelik tragies.

Bakkes maak uiteindelik 'n aangrypende verhaal daarvan, met uitgebreide ge-bruikmaking van en erkenning aan Ferreira se navorsing, soos dit gestalte gevind het in sy boek Viva os Boers! Sy gee aan Homan vlees en bloed en gees. Sy kloof on-voorstelbare smart en lyding oop. Jy vra die vraag: kon al hierdie dinge met één mens gebeur het? Maar dan besef jy: ja, dit hét inderdaad. Die broosheid van verhoudings lê weerloos oop. Dit is 'n werk wat lesers aan die hart sal gryp.

Skrywer hiervan wil 'n laaste aspek aanroer oor tekste waarby hy persoonlik betrokke was. Dit is 'n aanwyser van die moontlikhede van die samewerking tussen die skrywer van historiese fiksie, die uitgewer en die historikus.

Jeanette Ferreira, 'n vooraanstaande Afrikaanse skrywer van historiese fiksie, wat tussen 1995 en 1999 'n trilogie aan historiese romans oor die Anglo-Boereoorlog geskryf het, en wat bekend is vir die deeglike navorsing in haar werk, was in 1998 die redakteur van 'n bundel met 34 verhale oor die Anglo-Boereoorlog. Die titel daarvan is Boereoorlogstories. Die uitgewer is Tafelberg, en 31 outeurs het tot die bundel bygedra. Dit het soveel sukses behaal dat Tafelberg onlangs op 'n tweede uitgawe besluit het. Deur bemiddeling van Ferreira, het Riana Barnard van Tafelberg skrywer hiervan versoek om die historiese korrektheid van elke verhaal na te gaan. Vervolgens het hy die verhale noukeurig deurgegaan, terwyl hy feitefoute wat die verhale of enige iets in die verhale ongeloofbaar gemaak het, uitgewys het. Die daaruitspruitende tweede uitgawe in 2011 was 'n uitmuntende sukses, wat sowel populariteit as verkope betref. Dit kan verklaar word aan die hand van die reuse-belangstelling wat daar sedert die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog by die Afrikaanse leser aangetref word.

Aangevuur deur hierdie sukses het Barnard Ferreira versoek om 'n tweede bundel verhale oor die Anglo-Boereoorlog saam te stel. Weer eens is skrywer hiervan versoek om die historiese korrektheid te ondersoek. Hierdie keer is hy ook gevra om 'n Voorwoord te skryf waarin hy oor die vrugbare samewerking tussen die skrywer van historiese fiksie en die historikus kommentaar lewer. Boereoorlogstories 2 met 32 verhale deur 31 outeurs het in 2012 opgedaag, en dit geniet steeds groot sukses.

Watter soort historiese feitefoute is aan die uitgewer deurgegee? 'n Aantal voorbeelde uit die manuskripte vir Boereoorlogstories 2 sal voldoende wees. In een van die verhale stel die skrywer dit in sy manuskrip voor asof 'n Boere-dialoog in Nederlands plaasvind. Die waarheid is egter dat die Boere Afrikaans gepraat het. In 'n ander verhaal word voorgestel asof generaal Michael Prinsloo met 3 000 burgers oorgegee het. In werklikheid was dit Michael se broer, generaal Marthinus Prinsloo, wat met 4 400 man oorgegee het-trouens generaal De Wet het by geleentheid droogweg opgemerk dat as hy 'n honderd Michael Prinsloo's gehad het, hy Londen sou kon inneem. En dan het een van die outeurs die bestaan gemeld van 'n konsentrasiekamp in Februarie 1900. In werklikheid het die eerste konsentrasiekampe eers teen September 1900 verskyn.

Die samewerking het ook daartoe gelei dat Barnard skrywer hiervan genader het om die historiese akkuraatheid van die epiese Vuur op die horison deur Engela van Rooyen (Engela Linde) na te gaan met die oog op 'n tweede uitgawe. Die eerste uitgawe het in 2000 verskyn en die tweede, waar die korreksies of veranderinge volgens sy rapport aangebring is, in 2012. Die verhaal, wat empatie vir sowel Boer as Brit en swart man toon, strek oor generasies en kontinente, en begin in 1846. Weer eens kenskets deeglike navorsing die teks, maar die oog van die historikus het inderdaad 'n aantal feitefoute en onwaarskynlike voorstellings raakgesien, wat die skrywer kon korrigeer. Dit het die gehalte van die teks verhoog en groter geloofbaarheid aan die verhaal gegee. Enkele voorbeelde: teen 1846 het Pretoria en die twee Boererepublieke nog nie bestaan nie; 'n Mauser het nie rook gemaak wanneer dit afgevuur word nie; teen Februarie 1900 was daar nog nie sprake van krygsgevangenekampe in Bermuda, Ceylon en Indië nie; dit was nie regerings van Europa wat ambulanse na die Boere gestuur het nie, maar private instansies; teen September 1900 was dit nie Kitchener se verskroeideaardebeleid nie, maar Roberts s 'n; en 'n onjuiste voorstelling van die vredesproses is gegee.

Skrywer hiervan het Riana Barnard, Jeanette Ferreira en Engela Linde versoek om kommentaar te lewer op die positiewe samewerking met 'n historikus.

Barnard reken 'n skrywer en 'n historikus is elk 'n vakman met spesifieke vaar-dighede:

Natuurlik word daar van 'n skrywer verwag om goeie navorsing te doen, maar dit beteken nie dat hy genoegsaam akademies "geskool" is om dit op 'n professionele vlak te doen nie. [...] Net so het 'n historikus nie noodwendig die literêre agtergrond en (taal)vaardighede om byvoorbeeld karakterontwikkeling, die skep van intrige of tyds- en ruimtehantering met dieselfde gemak as 'n egte skrywer te hanteer nie.

Sy is van mening dat 'n goeie skrywer weet wat hy nie weet nie, en dat dit dikwels gebeur dat pryswennende skrywers (soos P G. du Plessis of Alexander Strachan) hulp koõpteer, soos Dalene Matthee vir Dan Sleigh betaal het vir sy navorsing toe sy Pieternella van die Kaap aangedurf het. Barnard voeg by: "Daarby dink ek dat die historikus en skrywer mekaar op 'n natuurlike wyse aanvul omdat hulle toegang het tot verskillende bronne"-die historikus is afhanklik van formele dokumente wat in argiewe bewaar word, terwyl die skrywer blootgestel is aan persoonlike verhale en familiegeskiedenisse wat direk uit die lewe kom. Sy gee die mooi voorbeeld van Klaas Steytler wat vir sy Ons oorlog (2001) die vertelling van familielid Klasie Havenga gebruik het as die impetus van verraaier S. G. Vilonel se verhaal-Havenga het dit persoonlik belewe. Sy vervolg:

Daarom sou ek raai dat die skrywer 'n breër perspektief, 'n wyer hoek kan hê as die historikus. En dat hy 'n stem kan gee wat ander perspektiewe en nuanses bied op die geskiedenis as dit wat formeel opgeteken staan. Daarby beskik historiese fiksie ook oor die vermoë om die geskiedenis aan 'n wyer leserspubliek bekend te stel, lekker verpak in intrige. Mits dit natuurlik goeie historiese fiksie is (Barnard).

Ferreira stem saam: "Al is die skrywer se navorsing hoe deeglik, het sy die professionele historikus se perspektief op die algemeen aanvaarde opvattings van die era waaroor sy skryf, nodig." Ferreira glo dat historiese korrektheid vir die skrywer van kardinale belang is-die teks verloor geloofwaardigheid indien dit nie met die werklikheid versoenbaar is nie. 'n Mens kan byvoorbeeld nie Nelson Mandela se vrylating in 1994 set in plaas van 1990 nie. "Enige teks staan soos 'n wilgeboom met sy wortels in die water van historiese feite." Op die vraag waar die balans tussen verbeelding en historiese feite lê, het sy opgemerk dat die skrywer jag maak op daardie sake wat NIE opgeteken is nie: "Dit staan nêrens dat Louis Tregardt nie blou oë gehad het nie." So, omdat sy wou, kon sy vir hom blou oë gee (Ferreira).

Engela Linde noem die samewerking tussen die skrywer en die historikus "'n soort tapisserie-affêre". Sy verklaar: "Ek het my nie die vryheid veroorloof om die fiksie van 'n Anglo-Boereoorlog-roman te weef alvorens ek die historiese gegewe as stramien gevestig het nie. Sonder vrees vir teenspraak wil ek die stelling maak dat ek kwalik 'n sin geskryf het sonder navorsing daaragter (of sê dan maar 'n bladsy...)." Sy verduidelik dat sy die Slag van Modderrivier (28 November 1899) so korrek moontlik weergegee het, deur kruis-en-dwars navorsing. "Ja, De la Rey was daar en ja, sy seun Adriaan is daar dodelik gewond. MAAR, en hier kom die artist's prerogative aan die man: my fiktiewe karakter Frans Viljoen gesels met De la Rey, tree op as 'n mede-offisier, verloor ook sy eie seuntjie daar. Historie en storie sou hier nie sonder mekaar kon bestaan nie."

Linde erken dat, ofskoon sy nie 'n bronnelys aangegee het nie vanweë die geforseerdheid daarvan in 'n fiktiewe "storie", sy diep dankbaar is teenoor historiei soos Pieter Cloete, Fransjohan Pretorius (veral sy Kommandolewe), Thomas Pakenham, J. H. Breytenbaeh en Jan Ploeger. "Laaste maar nie die minste nie", sluit sy af, "die fyn vak-oog van die historikus was van onskatbare waarde tydens redigering en heruitgawe." Sy het spesifiek verwys na die historikus se "kosbare werk" met die heruitgee van Vuur op die horison. Al was die meeste van haar karakters fiktief, was dit vir haar tog belangrik dat Wynand op Spioenkop die regte tipe kanonne ervaar, soos Frans by Modderrivier, of Klint by Stormberg. Die kanonne is volgens haar maar een voorbeeld van die historikus se deeglike en hoogs gewaardeerde redigering.

Oor die samewerking tussen historikus en skrywers van historiese fiksie verklaar Linde:

Ek wil die stelling maak dat die fiksieskrywer die historikus veel, veel nodiger het as omgekeerd. Die skrywer sou sy verhaal nie kon daarstel sonder die historiese gegewe nie. Die historikus, daarenteen, is hom dalk kwalik bewus van die lekkerlees verhale wat verskyn en waartoe sy werk miskien bygedra het. Die fiksie raak sy koue klere nie, as ek dit respekvol so kan stel. Hy het dit nie nodig ten einde sy taak as historikus voort te sit nie (Linde).

Vir Ferreira is die samewerking kosbaar. Sy reken die manier waarop sy en die histo-rikus aan Boereoorlogstories 2 saamgewerk het, is 'n uitstekende voorbeeld van hoe dit gedoen kan word (Ferreira).

Daar is natuurlik die gevaar dat die skrywer oorboord kan gaan, en te veel feite-materiaal kan invoeg oor klein of minder belangrike insidente en situasies. Die teks kan dan pedanties word, en die leser sal gou besef dat hy/sy besig is om opgevoed te word en onnodige detail gevoer word. Dit is die geval met Eleanor Baker se historiese roman Groot duiwels dood (1998), waar sy byvoorbeeld generaal De Wet se gepubliseerde herinneringe en Pretorius se Kommandolewe buitensporig in briewe van Johannes aan sy vrou, Cornelia, aanwend (149-52, 292-96).

 

Ten slotte

Skrywers van historiese fiksie speel 'n belangrike rol om 'n kreatiewe en histories realistiese verlede vir hul lesers uit te beeld. Andersins maak dit geen sin om 'n historiese tema te neem nie. Hulle het 'n groot verantwoordelikheid om versigtig met historiese feite om te gaan. Hul navorsing behoort van die hoogste gehalte te wees, trouens nie veel swakker as wat van historici verwag word nie. Waar moontlik en toepaslik kan hulle van oorspronklike dokumente (primêre dokumente) gebruik maak-dalk familiebriewe op die solder-maar die geleentheid bestaan vir hulle om op akademiese werke van historici staat te maak, dit wil sê van sekondêre bronne. Daarby is die historikus maar al te gewillig om te help met die verskaffing van stof, en ook om manuskripte deur te gaan vir historiese feitefoute. Daarom word kragtiger bande tussen die skrywer van historiese fiksie, die uitgewer en die historikus in die Afrikaanse letterkunde bepleit en in die toekoms voorsien.

 

Erkenning

Dank aan die Nasionale Navorsingstigting vir ondersteuning. Menings uitgespreek is dié van die skrywer. Ook dank aan Jeanette Ferreira wat die finale teks voor publikasie deurgegaan het.

 

Geraadpleegde bronne

Baker, Eleanor. Groot duiwels dood. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998.         [ Links ]

Bakkes, Margaret. Fado vir 'n vreemdeling. Pretoria: Lapa, 2011.         [ Links ]

Barnard, Riana. "Re: Samewerking". Boodskap aan skrywer, 20 Sept. 2013. E-pos.         [ Links ]

Brink, André. "Anglo-Boer War Spawns Milestone in New Fietion." The Sunday Independent. 2 Aug. 1998.         [ Links ]

Burger, Willie. "Karel Sehoeman's Voiees from the Past: Narrating the Anglo-Boer War". 105-6. Referaat by 'n konferensie van die Poetry and Linguisties Assoeiation, Potehefstroom, April 1999.

Cloete, T. T. Red. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr, 1992.         [ Links ]

Coetzee, Christoffel. Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad: Queillerie, 1998.         [ Links ]

Du Plessis, P. G. Fees van die ongenooides. Kaapstad: Tafelberg, 2008.         [ Links ]

Ferreira, Jeanette, red. Boereoorlogstories. Pretoria: J. L. van Sehaik, 1998.

____. Boereoorlogstories. Tweede uitgawe. Kaapstad: Tafelberg, 2011.         [ Links ]

____. Boereoorlogstories 2. Kaapstad: Tafelberg, 2012.         [ Links ]

Ferreira, Jeanette. "Re: Samewerking". Boodskap aan skrywer, 21 Sept. 2013. E-pos.         [ Links ]

Ferreira, O. J. O. Viva os Boers! Boeregeïnterneerdes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902. Pretoria: O. J. O. Ferreira, 1994.         [ Links ]

[Hintrager, Oskar]. Met Steijn en De Wet op kommando. Rotterdam: Nijgh & Van Ditmar, 1902.         [ Links ]

Hobhouse, Emily. Die smarte van die oorlog en wie dit gely het. Tweede druk. Kaapstad: Nasionale Pers, 1941.         [ Links ]

Kannemeyer, John. Die Afrikaanse literatuur 1652-1987. Pretoria: Aeademiea, 1988.

Linde, Engela. "Re: Samewerking". Boodskap aan skrywer, 22 Sept. 2013. E-pos.         [ Links ]

Loots, Sonja. Sirkusboere. Kaapstad: Tafelberg, 2011.         [ Links ]

Nieuwoudt, Stephanie. "Roman beweeg na aan werklikheid". Die Burger 20 Mei 1998.         [ Links ]

Pakendorf, Gunther. "Hede word verlede. Winterbaeh wys weer sy is formidabel." Die Burger 25 Nov. 2002.

Pretorius, Fransjohan. Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Kaapstad: Human & Rousseau, 1991.         [ Links ]

Reitz, Deneys. Commando: A Boer Journal of the Boer War. London: Faber & Faber, 1929.         [ Links ]

Sehoeman, Karel. "Die dood van Abraham Esau: ooggetuie berigte uit die besette Calvinia, 1901". Quarterly Bulletin of the South African Library 40.2 (1985): 56-66.

Sehoeman, Karel. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998.

Van den Berg, Zirk. Halfpad een ding. Johannesburg: Penguin, 2014.         [ Links ]

Van Rooyen, Engela. Vuur op die horison. Kaapstad: Tafelberg, 2000.         [ Links ]

____. Vuur op die horison. Tweede uitgawe. Kaapstad: Tafelberg, 2012.         [ Links ]

Wessels, André. "Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die Afrikaanse letterkunde: 'n geheelperspektief". Die Joernaal vir Transdissiplinêre Navorsing in Suider-Afrika 7.2. (Des. 2011): 185-204.         [ Links ]

Winterbaeh, Ingrid. Niggie. Kaapstad: Human & Rousseau, 2002.         [ Links ]