SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Bodily disintegration and successful ageing in Body Bereft by Antjie KrogTwo Fischers, two plays: Die geheime Bloemfontein-konferensie (The secret Bloemfontein conference) (1938) and Die Bram Fischer waltz (2011) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/TVL.V52I2.3 

Wai Nengre: 'n Verdere ondersoek na tendense in die letterkundes van drie voormalige Nederlandse kolonies

 

Wai Nengre: Further research on tendencies in the literatures of three former Dutch colonies

 

 

Steward van Wyk

Steward van Wyk is 'n professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. E-pos: svanwyk@uwc.ac.za

 

 


ABSTRACT

This article expands on research that explores similar tendencies in the literatures of three former Dutch colonies: the literature from the Dutch Antilles and Surinam and black Afrikaans writing emanating from South Africa. It commences with an overview of slavery in the Dutch colonial empire and its legacy which resulted in the establishment of a population that shares elements of Dutch language and culture. It proceeds with an analysis of similar tendencies in the development of those literatures, in particular the influence of Negritude and Black Consciousness and the representation of creole and hybrid identities. It concludes with an analysis of creolization as a further development in these literatures and possibilities for future research.

Keywords: Black Consciousness, creole, creolization, hybridity, Negritude


 

 

Inleiding

Vanaf die 15de eeu het Nederland 'n koloniale ryk opgebou wat oor etlike wêrelddele gestrek het en 'n erfenis in daardie gebiede nagelaat lank na dekolonisasie. Hierdie gebiede sluit in Suid-Afrika, Suriname, die Antille, Brasilië, Indonesia en ook die staat New York in die VSA.

Die kolonies sou 'n groot bydrae lewer tot die welvaart van die Nederlandse ryk; die maritieme en handelsbedrywighede van Nederlanders in die metropolitaanse gebiede en die kolonies het die onderbou gevorm van wat vandag bekend staan as die Hollandse Goue Eeu.

Die Nederlandse koloniale ryk was aanvanklik onder beheer van twee maat-skappye; die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) wat na die Kaap en die Ooste moes omsien en die Westindische Compagnie (WIC) vir belange in die Nuwe Wêreld. Terwyl die Oosterse handelsroete grotendeels toegespits was op speserye het die handel met die Wes-Indiese Eilande hoofsaaklik gesentreer rondom tabak, suiker en koffie (Smeulders 49).

Slawerny kan teruggevoer word na die antieke en Romeinse tyd toe wydverspreide praktyke van gedwonge en onvrye arbeid plaasgevind het (Blakely 4, Boos 11^). Die Hollanders was reeds sedert die einde van die 16de eeu betrokke by slawehandel en 'n belangrike deel van die VOC en WIC se handelsbedrywighede en hul winste was uit die slawehandel. Tydens die Nederlandse koloniale ryk was dit daarop toegespits om groot getalle slawe aan die kolonies te lewer ten einde in die groeiende behoeftes aan arbeidsmag te voorsien.

In die Wes-Indiese Eilande is slawe ingevoer vanaf die Weskus van Afrika en plekke soos Angola, die Kongo en Guinee was 'n belangrike bron vir slawe na Brasilië en die Antille. Allison Blakely (7) voer aan dat met die vestiging van Curaçao as 'n slawedepot in 1654, slawehandel die belangrikste aktiwiteit van die WIC geword het, in so 'n mate dat slawe aan ander koloniale moondhede soos Spanje en Frankryk voorsien kon word.

Die slawehandel onder die VOC het 'n ander trajek gevolg. Die VOC het in beperkter mate aan die slawe-handel meegewerk en alhoewel slawe tydens die VOC-bewind sporadies vanuit Afrika na die Ooste verskeep is en omgekeerd, is die behoefte aan slawe-arbeid in die Ooste grotendeels gevul deur inheemse slawepraktyke in Indië en Suidoos-Asië. Met betrekking tot die Kaap is daar die opmerklike anomalie dat slawe uit die Ooste, hoofsaaklik Maleisië, ingevoer is na die suidpunt van Afrika. Later is slawe ook uit Mosambiek en Madagaskar gebring. Die rede hiervoor is dat die plaaslike Khoekhoen-stamme nie erg gehad het aan die gereguleerde arbeidspraktyke nie en dus nie beskikbaar was as 'n goedkoop bron van arbeid nie: "The Khoikhoi, for as long as they retained access to their independent means of subsistence, would prove a reluctant and inadequate labour force. Moreover, as so many Europeans settlers discovered in other parts of the world, indigenous populations were notoriously difficult to enslave" (Dooling 21). Hulle is ook fisiek ongeskik gevind vir akkerbou en handearbeid (De Villiers 44).

'n Aspek van die nalatenskap van die Nederlandse koloniale ryk en slawehandel as 'n belangrike eksponent daarvan, is die vestiging van 'n swart bevolking wat aspekte van die Nederlandse taal en kultuur met die metropool en mekaar deel. Terwyl daar heelwat aandag gegee word aan die bande tussen die voormalige kolonies en die metropool, word daar minder gefokus op die bande tussen die kolonies onderling met mekaar. Onder andere sou mens verwag dat met Nederlands as die gemene deler, daar ooreenkomste en soortgelyke verskynsels met betrekking tot taal en kultuur in die onderskeie kolonies sou wees.

Sodanige ondersoek kan raakpunte vertoon met die konsep van die "Black Atlantic" soos deur die Brit Paul Gilroy (29) gepostuleer. Die idee van 'n Nederlandse "Black Atlantic" is iets wat met vrug ondersoek kan word. Dit sou ook uitgebrei kan word na gebiede in Suidoos-Asië, soos Indonesië.

Hierdie artikel is 'n uitbreiding op die navorsing wat ek onderneem het in die artikel "Wan true puëma: tendense in die letterkundes van drie voormalige Nederlandse kolonies" (2014). Die vergelykende perspektief wat hierdie werk onderlê, sluit aan by 'n aspek van die terrein van diasporastudies. Daarin val die fokus op soortgelyke ervarings van swart mense tydens en na afloop van kolonialisme, veral as gevolg van slawerny en word verbande gelê tussen die ervaringe van gekoloniseerdes.

Die letterkunde is 'n gepaste terrein om sodanige ondersoek te doen en twee studies is hier van belang. In A History of Literature in the Caribbean (2001, drie dele) word vergelykend gekyk na die konstruk Karibiese Letterkunde en word letterkundes in die koloniale tale Engels, Frans, Spaans, Portugees en Nederlands asook die inheemse en kreoolse tale ondersoek.

'n Belangrike aspek van hierdie literatuurgeskiedenis is die verrekening van die voormalige Nederlandse kolonies as deel van die konstruk Karibiese letterkunde en die aandag wat aan kreoolse letterkundes gegee word. Die gebiede waarna hier verwys word, sluit Suriname, geleë aan die noordoostelike punt van Latyns-Amerika en die eilande in die Antille-gebied in. Hierna word soms ook verwys as die ABC-eilande (Aruba, Bonaire en Curaçao) oftewel die Benedenwindse eilande en die Bowenwindse eilande (St. Maarten, St. Eustasius en Saba).

In The Cambridge History of African and Caribbean Literature (2004) word slegs gefokus op Engels, Frans en Spaans en word boonop ook die kreoolse letterkundes buite rekening gelaat. Laasgenoemde voeg egter iets nuuts toe met die saamvoeging van Afrika- en Karibiese letterkundes. Die redaksie stel dat hierdie literatuurgeskiedenis 'n perspektief bied op die "Euro-African intertextuality" waardeur die uitdruk-kingsmoontlikhede van die Europese tale en die teoretiese omvang van post-kolonialisme uitgebrei word. Hierdie uitgangspunt is belangrik vir my eie ondersoek omdat dit die moontlikheid open om 'n vergelykende ondersoek te doen na aspekte van die Afrikaanse, Afrika- en Karibiese Letterkundes en raakvlakke ten opsigte van temas en vormlike konvensies uit te wys.

'n Vergelykende ondersoek na die transatlantiese letterkundes (waarby die letterkunde van die Lae Lande en ook die kolonies ingesluit word) in die Nederlandse taalgebied kan 'n belangrike toevoeging tot die genoemde literatuurgeskiedenisse wees. Dergelike ondersoeke wat die letterkundes van die Antille, Suriname en Suid-Afrika bymekaar bring, vind aansluiting by Vernie February se voorstel vir 'n verruiming in die wyse waarop Nederlands in Suid-Afrika bestudeer word; 'n benadering wat verskil van dié in studies oor die verhouding tussen die Afrikaanse letterkunde en dié van die Lae Lande waarin terme soos "bloedverwantskap" en "moederland" 'n sentrale plek inneem (Ons ernst 8-9). Hy betoog dat "die studie van Nederlands [...] nie los gekoppel moet word van die studie van Afrikaans nie, maar anders benader moet word op grond van die feit dat in Suriname, die Nederlandse Antille en in Indonesië, daar 'swart' skrywers, digters en wetenskappers is wat deur hulle literêre corpus die Nederlandse taal en letterkunde op 'n opwindende wyse 'maatschappelijk relevant' kan maak aan die Kaap" (Ons ernst 10).

Hierdie artikel wil enkele aspekte in geselekteerde gedigte van Antilliaanse, Surinaamse en swart Afrikaanse skrywers ondersoek en die fokus op vergelykbare verskynsels laat val. Een van die vergelykbare aspekte is dat die drie letterkundes as minderheidsletterkundes of klein letterkundes (Coetzee 162) binne 'n groter letterkunde funksioneer en ooreenstemmende kenmerke soos kontestasie en appropriëring van dominante kodes, ontginning van die eie en hibridisering van uiteenlopende tradisies en invloede, vertoon.1

Hierdie temas toon 'n noue verband met die ontwikkeling van letterkundes in die postkoloniale wêreld. Homi Bhabha se konsep van nabootsing (mimicry) tipeer die eerste fase waarin die koloniale tradisie nageboots word. Hy toon ook aan dat die proses van nabootsing onwillekeurig tot meervoudige gevolge lei: "the discourse of mimicry is constructed around an ambivalence; in order to be effective mimicry must continually produce its slippage, its excess, its difference" (Bhabha 85).

Die tweede fase sluit aan by die kulturele politiek van negritude. Dié beweging wat deur Aimé Césaire, Leopold Sédar Senghor en Léon Damas gedurende die 1930's in Frankryk aangevoer is, lê klem op die ontwikkeling van trotsheid onder swart mense met waardetoevoeging aan swart kulture en swart geskiedenisse asook solidariteit onder swart mense in die afwerping van die koloniale juk. Negritude berei die weg voor vir die ontdekking van dit wat eie is aan die inheemse kultuur; later sou dit lei tot die besef dat 'n oorspronklike, outentieke kultuur 'n romantiese droom is. Dit sou later neerslag vind in die idee dat die kulturele landskap na kolonialisme een van meervoudigheid, verskeidenheid, vermenging en hibriditeit is.

Césaire se student, Édouard Glissant, gee vorm aan die idee van créolité waarin die vermenging van kulture beskryf word. Lorna Burns (101) lig die verskil as volg uit: "In the face of négritude's attempt to revive Africa as the unique and reified origin of an essentialised black consciousness, Glissant [...] promotes creolization as a mixed identity that refuses to solidify into a specified and fixed model". Kreolisering is dus 'n oop en voortdurende proses van kulturele transformasie waarin ou, statiese essensialismes ondermyn word (Willemse, "Kreolisering" 32).

Die kwessies wat in hierdie strominge na vore kom, vind mens ook terug in die postkolonialisme en sluit aspekte in soos die soeke na oorspronge, die aanklag teen diskriminasie en ander koloniale praktyke, die soeke na 'n eie stem en identiteit, die geding met en ontginning van taal en die aanwending van verskeie kulturele uitings, veral dié wat ontstaan uit inheemse en werkersklasgroepe.

'n Opvallende tendens wat op gegewe momente in al die letterkundes voorkom, is (a) die aanvanklike modellering op die Europese tradisie, gevolg deur (b) 'n afwysing daarvan en 'n verheerliking van Afrika en swartwees en daarna (c) die skepping van 'n eie tradisie wat 'n hibridisering/kreolisering van diverse invloede en tradisies is. Negritude, Black Power en swartbewustheid is 'n belangrike tussenfase in hierdie ontvoogdingsproses waardeur gegroei word tot die vind van 'n eie stem. Dat dit egter kortstondig was, nie wyd inslag gevind het nie, maar wel 'n vormende invloed op leidende figure gehad het, is opvallend in die letterkundes.

 

Modellering op die Europese tradisie

Trefossa (die pseudoniem van Frans Henri de Ziel, 1916-75) word gereken as die persoon wat die Surinaamse digkuns gemoderniseer het: "een baanbreker onder de 'moderne' dichters in het Sranan", aldus Albert Helman (149). Michiel van Kempen (Geschiedenis 765) merk op dat Trefossa met sy debuutbundel Trotji (1957) die ondergeskikte posisie van sy land in verhouding tot Nederland as 'n kulturele problematiek gesien het en sy bundel was 'n bydrae tot die geestelike onafhanklik-wording van Suriname. Bykans al die gedigte in die bundel het beroemd geword en word as amper volmaak beskou.

Trefossa se gedigte is op die oppervlak eenvoudig, maar het 'n komplekse betekenislading wat in die Surinaamse geskiedenis geanker is. Die derde gedig in die bundel, "Bro", is hiervan 'n mooi voorbeeld. Hierdie Italiaanse sonnet handel oor die spreker wat vasgevang is in 'n skrikwekkende hede, ver van die stille stroom waarna sy hart verlang.

Die woorde van die oktaaf roep die slawegeskiedenis op. Die sestet verbeeld die droomland waarin die spreker 'n beter mens kan word, maar wat nie werklik die realiteit kan verdryf nie. Die eerste tersine is verhelderend:

daar bij de kreek zal ik't droomland zien,

waar alles zoeter is dan hier

en waar geen schrikverhaal mij hind'ren zal.

(vertaling van Michel Bergen in Van Kempen Geschiedenis 765).

Hierdie gedagtes toon ooreenkomste met S. V Petersen se gedigte "Aand op Riversdal", "By Seweweekspoort" en "By die vlei" uit die bundel Die enkeling (1944) waarin daar die versugting is na rus wat in die natuur gevind kan word:

Hoog in die bome,

hoog in die vlei:

Waar die voëltjies woon, ja daar

is die wêreld vry;

en die lug, so skoon

dat ek altoos daar wil bly:

onder die bome,

net langs die vlei.

G. J. Gerwel ("Petersen" 12) koppel Petersen se drang na vryheid aan 'n begeerte na rus en kalmte wat in die natuur of in vergange kinderdae gesoek word.

Volgens Van Kempen (Geschiedenis 767) is Trefossa se poësie beïnvloed deur die Wes-Europese estetiek wat hy met sy opvoeding in die tradisie van die Hernhutters ingekry het; sy voorkeur vir die sonnet kom van die plegstatige, koraalagtige ritme. Trefossa het 'n klein oeuvre gehad omdat hy deurgaans op soek was na 'n nuwe vorm wat minder abstrak, minder hermeties en meer toeganklik vir 'n groter publiek was en wat hy in latere gedigte sou vind.

In die ontwikkeling van die Antilliaanse literatuur het tydskrifte soos Antilliaanse Cahiers, De Stoep, Simadán en Watapana 'n belangrike rol gespeel; Wim Rutgers beskryf dit as katalisator van die literatuur (Beneden 234-48). Die bekendste skrywers, waaronder Cola Debrot, Tipp Marugg en Frank Martinus Arion, het hul eerste werk hierin gepubliseer. Een van hul voorgangers, René de Rooy, wat ook die pseudonieme Marcel de Bruin en Andrés Grimar gebruik, beywer hom vir die ontvoogding van die Antilliaanse letterkunde. Oor sy digkuns word die volgende geskryf: "Zijn Ne-derlandstalige Stoep-bijdragen waren romantisch van inhoud. Ze beschreven in traditioneel dichterlijk jargon gevoelens van vriendschap, liefde, verdriet, ver-getelheid, rust en verlangen dat onvervuld blijft" (Rutgers Beneden 242). Die gedig "Het landhuis" uit 1940 getuig hiervan en toon raakpunte met die gedigte van Trefos-sa en Petersen hierbo.

Heb ik hier lang geleden niet gewoond

Toen alles nog niet zo vervallen was?

Rondom het huis tierde geen woek'rend gras

Of heb ik alles maar gedroomd?

Ik weet nog hoe de jongens o hun forse paarden

Over de velden renden, het zonlicht tegemoet

En hoe ze vruchten in de oogst vergaarden

En bij hun terugkeer schalde luid hun groet.

En als de heuvels bruinden in het avondrood

-De schemer had zich reeds genesteld in de dalen-

Braken bij't zwakke lamplicht wij het brood

En de oude neger deed ons boeiende verhalen.

Vleermuizen fladderen nu weg onder 't gebint

Vergeten in een kast wat porseleinen borden

Het huis biedt nog een laatste weerstand aan de wind

Wat vroeger was zal niet meer kunnen worden.

Soos Trefossa soek De Rooy in sy latere gedigte na 'n vorm en medium wat uitdrukking gee aan sy liefde vir die eiland en sy mense en dit vind hy in sy Papiamentstalige gedigte. Alvorens by hierdie ontwikkeling uitgekom word, word eers gefokus op négritude en swartbewustheid as radikale breuk met die tradisie.

 

Negritude, swartbewustheid

In Stemmen uit Afrika (1957), gepubliseer as heel eerste uitgawe van die tydskrif Antilliaanse Cahiers, vier Frank Martinus Arion van Curaçao Afrika as kulturele voedingsbron en beeld hy 'n trots in swartwees en Afrika uit. In die gedig "XXIX" uit hierdie bundel word Afrika verhef tot simbool waardeur trots in die onderdruktes herstel kan word. Die digter suggereer dat sy mense trots daarop moet wees om hulself nasate van die mense van Afrika te noem van die Nubiërs wat die piramides gebou het.2 Die raakvlakke met die négritude-sentimente van Césaire en Sénghor is onmiskenbaar in die trotsheid op die Afrikageskiedenis en die verheerliking van Afrika en die vroeë Afrikaryke as bakermat van latere samelewings.

De Roo beskou hierdie verse as eksemplare van "Caribisch Pan-Afrikanisme". Aan die hand van Kenneth Ramchand se The West Indian Novel and its Background meld hy die volgende tipologie: die verheerliking van Afrika as kulturele voedingsbron, die gunstige interpretasie van Afrika se verlede, trots in swart-wees en "de verheerlijking van de geïntegreerde sensuele persoonlijkheid van de neger" (De Roo 73). 'n Versreël soos "hun negerzijn met trots te dragen" toon hierdie ooreenkoms aan.

Arion se gedigreeks "Oorlog aan Edelstenen" wat geskryf is om mynwerkers wat in 1973 in die mynongeluk by Carletonville gesterf het, te gedenk, sal vir die Suid-Afrikaanse leser interessant wees. Die gedigte loods 'n aanval op die kapitaliste vir hul onversadigbare honger na goud en diamante en die wrede wyse waarop die lewens van volke, soos die Inkas, Asteke en Afrikane, geoffer is (February, And Bid Him Sing 166; Rutgers "Arion" 159). Dit toon dat Arion vroeg in sy skrywersloopbaan 'n belangstelling in Suid-Afrika gekry het en hom beywer het vir die antikoloniale stryd in die land.

Die Surinaamse digter Michael Slory gebruik beelde uit Afrika en dra sy bundel Wakadron op aan die Kongolese vryheidsvegter, Patrice Lumumba. Die titel van hierdie bundel verwys na die trom van die inheemse stam, die Aukaners. In 'n ander bundel, Sarka/Bittere Stryd (1961), skryf hy onder die skuilnaam Asjantenoe Sangodare gedigte oor legendariese figure in die antikoloniale stryd, onder andere oor Kwame Nkrumah en Jomo Kenyatta.3 Hierdie gedigte is deurgaans in die teken van négritude. Wat uitstaan, is die solidariteitsverklaring met die mense van Afrika. In die gedig "Wai Nengre", geskryf in Sranan, betreur hy die feit dat swart mense wegdraai van hul pynlike geskiedenis. Sy gevolgtrekking bied geen toeverlaat wanneer hy daarop aandring dat daardie geskiedenisse in die oë gekyk moet word:

O, negers!

Hoe moeten wij kijken

in de spiegel

van de geschiedenis, die zwart, zwart is?4

Ook in die Afrikaanse letterkunde het swartbewustheid neerslag gevind, hetsy op 'n beperkte wyse. Die skrywer wat die nouste daarmee geassosieer was, is Adam Small.

Small het in die 1970's aanklank gevind by Biko en die swartbewustheidsbeweging; Gerwel ("Language" 17) sien die aantrekkingskrag daarvan in "die beklemtoning van eenheid onder onderdrukte groepe en die morele en menslike klank wat Biko daaraan gegee het (kyk ook Willemse, "Outobiografie" 73). Dié beweging wou die politieke vakuum vul wat ontstaan het na die verbanning van die ANC en PAC wat een van die gevolge van die bloedige Sharpville-slagting van 1960 was. Dit wou aan swart mense weer stem gee. Swart mense moes hulle trots terugvind en bevry word van die mentaliteit van gekoloniseerdes en hul onderwerping aan die neerbuigende houding van wit liberale. Hulle moes trots op hulle geskiedenis en afkoms wees.

Small se bemoeienis met die swartbewustheidsbeweging volg nadat hy aanvanklik in die vyftig- en sestigerjare aansluiting by die Afrikaner gesoek het en al meer ontgogel geraak het as gevolg van 'n verskeidenheid persoonlike en politieke gebeure. Hieronder tel die strenger toepassing van apartheidswette en gepaardgaande onderdrukking en sy persoonlike teenspoed om behoorlike huisvesting en 'n goeie werksomgewing in Johannesburg te vind.

Sy aanklank by die beweging vind neerslag in sy digbundel Black Bronze Beautiful. Sy keuse om in Engels te skryf, is betekenisvol. Willemse ("Outobiografie" 71) beskou dit as "deel van 'n teendiskoers waarmee ontgogeling en politieke afstand bedui word". Hierdie bundel met vyftig kwatryne is volledig geïnspireer deur die denkrigting van swartbewustheid; dit is 'n viering van Afrika en swartwees en die beeldvorming is geskoei op die Afrika-wêreld, soos in die vyf-en-twintigste kwatryn:

My mind, pulsating black, throbs-hold my hand

The black drums of my soul beat-hold by waist

The music grows, beauteous and black now

like a black child grows into a tall black man

Soos die ander digters ontgin Small die tematiek van swartwees as 'n vorm van protes teen die koloniale identiteit wat op hulle afgedwing is.

Die oorgang na 'n volgende fase in die ontwikkeling van die letterkundes volg omdat négritude en swartbewustheid van korte duur is. Dit is klaarblyklik 'n tydelike fase in die intellektuele lewe en skrywersloopbaan van hierdie digters en die denkrigting het nooit 'n sterk vastrapplek in die letterkunde gevind nie. Bernabe et al. (82) voer aan "Negritude replaced the illusion of Europe by an African illusion. It manifested itself in many kinds of exteriority: the exteriority of aspirations (to mother Africa, mythical Africa) and the exteriority of self-assertion (we are Africans)" (kursief oorspronklik). Hulle bevestig nogtans: "it was a necessary dialectical moment, an indispensable development".

Martinus Arion laat blyk sy ontnugtering met négritude en neem finaal daarvan afskeid in sy ander werk, waaronder romans soos Afscheid van de koningin (1975) en Nobele Wilden (1979). Vir Adam Small was swartbewustheid kreatief 'n onproduktiewe fase. Hy kon slegs een digbundel in hierdie fase publiseer. Michaël Slory het weg-gedraai van Afrika en van sy beste gedigte hierna was die liriese en liefdesverse in Sranan, die inheemse, kreoolse taal wat in Suriname ontstaan het. Négritude/ swartbewustheid is 'n belangrike tussenfase in die soeke na 'n eie stem. Ten spyte van die kortstondigheid daarvan het dit 'n vormende invloed op figure in die literêre en intellektuele lewe uitgeoefen.

Die volgende fase wat op négritude/swartbewustheid volg, is die ontwaking van 'n breë Pan-Afrika-bewustheid. Figure soos Kamau Braithwaite en Édouard Glissant registreer in hierdie tyd ook die ontdekking van die self en die eie lokaliteit. Die ondersoek van kreoolse en hibriede identiteite en tematiek blyk vir hulle meer kreatief en vrugbaar te wees.

Teoretisering oor kreolisering en hibridisering is 'n ontwikkeling in die post-koloniale teorie in die afgelope twee dekades en kan ondersoek word as model om die unieke aard van die transatlantiese Nederlandse letterkundes te beskryf en dit te posisioneer. Aangesien die konsep kreolisering in die Karibiese konteks ontstaan het, kan dit met vrug gebruik word in studies van die Anglo- en Frankofone Karibiese letterkundes (kyk Arnold 2001).

Kreolisering behoort egter nie beperk te word tot daardie geopolititieke ruimte nie. Glissant het benadruk dat kreolisering nie opgesluit moet word in die Karibiese gebied nie, maar dat dit 'n universele toepaslikheid het, aldus Denis-Constant Martin (173). In situasies waarin mense van verskillende oorspronge soms in gewelddadige kontak met ander kom en dinamiese nuwe kulture en uitwisseling tot gevolg het, kan die konsep van toepassing wees en breër betekenis kry. In sy studies oor die Kaapse Klopse merk Martin (173) op Suid-Afrika "is the momentary outcome of protracted processes of conflicting and creative blending and mixing; its achievements [...] are largely due to the fact that it has been creolising for several centuries".

Kreolisering en verwante konsepte soos hibriditeit/vermenging/verbastering het as konseptuele instrumente in Suid-Afrika weinig inslag gevind, omdat dit gely het onder die apartheidsdenke waarin rassuiwerheid en etniese mobilisering gepropageer is.

 

Kreoolse/hibriede identiteite

Jean Bernabé, Patrick Chamoiseau en Raphael Confiant begin hul welbekende essay Eloge de la créolité (Tot lof van kreoolsheid) met die verklaring: "Neither Europeans, nor Africans, nor Asians, we proclaim ourselves Creoles" (75).

Beverley Ormerod (2) voer aan dat hierdie essay is "the most explicit attempt to redefine Caribbean culture through the language and folkways that are the common denominators of this diverse population".

Die stelling oor kreoolsheid is egter kontensieus en kritiek is veral gelewer op die essensialistiese terme waarin hulle dit definieer: "The title of the manifesto probably encapsulates the limitations of Jean Bernabé et al's text: it praises creoleness, not creolisation. Although they hint at the potentialities of creolisation as a transformative force, they dwell much more on creoleness, as an identity, as a condition, and as a background for the stories they write." (Martin 170)

Nogtans word hulle sentimente deur heelwat skrywers in soorgelyke taal herhaal. Confiant nuanseer die omskrywing wanneer hy die volgende sê: "The Creole does not possess a new identity [...] but new identities. The phenomenon of creolization has invented from all these fragments a multiple identity" (aangehaal in Knepper 72). Een van die resultate van die créolité-denkrigting was dat dit 'n herwaardering van die karakter van die metis, die persoon van gemengde afkoms, tot gevolg gehad het, aldus Ormerod (4).

Soortgelyke sentimente oor kreoolsheid vind uitdrukking in die Surinaamse digter Corly Verlooghen (skrywersnaam van Rudy Bedacht) se gedig "Thuisvaart van een creool" (Van Kempen Geschiedenis 802-3):

Nu gooien zij mij niet meer overboord

omdat ik in mijn hut kan lezen over Afrika:

Westindische Compagnie

John Hawkins

Verwoerd en Sharpeville

Want ik ben Afrika en Amerika!"

In hierdie gedig is dit interessant hoe uiteenlopende geskiedenisse saamgelees word om uitdrukking te gee aan die posisie van die kreool wat gevorm is deur uiteenlopende geskiedenisse. Die verbintenisse tussen verskillende geskiedenisse word beklemtoon om diversiteit van die kreool te belig.

Walter Palm van die eiland Curaçao beskryf in sy gedig 'Avondmuziek' (1997) hoe die liedere van die Katolieke nonne nog voortdraal en omskep word in 'n Antilliaanse wals wanneer die nag toesak. Die melodie dryf uit die klooster na die agterplase en word voortgedra op die ritmes van tromme en tumbas. Hy sluit af met die volgende reëls:

En Rome, Roosendal,

Ghana, Guinee en

Curaçao

zijn takken

van één boom,

woorden

op één pagina,

vijf vingers

van één hand,

de fluwelen

handschoen van

de nacht.

Ook Martinus Arion publiseer 'n aantal lriese verse in die tydskrif Ruku waarin hy sy liefde vir die eiland Curacao uitdruk (Phaf 414-5).5 Onder redakteurskap van Arion word in die tydskrif sterk standpunt ingeneem teen die Nederlandse kolonialisme en 'n Antilliaanse identiteit en kulturele lewe word gepropageer. Die inleiding by die eerste uitgawe is betekenisvol: "Het maken van een tijdschrift is dan gewoon een daad van vrijmaking, vrijmaking van het nederlandse, steriele, onproductieve, oncreatiewe barbarisme. Het is aansluiting zoeken bij de slavenhutten daar beneden in het dal" (aangehaal in Rutgers Beneden 337, Broek Eiland geschiedschrijving 211). Arion verwys hier na die afstammelinge van slawe wat, ondanks die feit dat hulle in armoedige omstandighede bly, 'n lewenskragtige kulturele lewe bedryf wat gevoed word deur die kulture van hul plekke van afkoms.

In Afrikaans het Patrick J. Petersen 'n soortgelyke sentiment uitgedruk in sy strydvaardige gedig "Ons kom van ver af" in die gelyknamige bundel (79). In hierdie gedig wat gerig is aan "my Xhosa broers en susters", verklaar hy dat hy en sy mense nie halfnaaitjies (sic) is nie, dus nie van 'n mindere afkoms nie. Hulle is Kaaps, gebore en getoë deur die gewelddadige konflikte in die streek en bring met hulle 'n lang tradisie saam. Hy bevestig die "mestico [.] moulatto" (80) bloed van sy mense en hulle uiteenlopende agtergronde. Soos Arion wil Petersen hier 'n trots kweek in die kreoolse afkoms van die groep met wie hy identifiseer.

In "Komvandaan" in die bundel amandla ngwethu (1) vier die spreker die kulturele uniekheid van die inheemse Khoi-mense en voer aan dat dit 'n deel van sy/haar Afrikaansheid is. Hiermee gee die digter 'n positiewe bevestiging van 'n verwaarloosde aspek van die geskiedenis van Afrikaans. Dit is in die kreolisering/hibridisering van taal dat die skrywers hul letterkundige tradisies verder verdiep.

 

Kreolisering/hibridisering-die digter en sy/haar medium

Die kenmerke van 'n kreoolse letterkunde is volgens Bernabé et al. (1989) 'n fundamentele oraliteit, inbedding van herinnering, die tematiek van bestaan, invloede van moderniteit en taalkeuse. Baie hiervan oorvleuel met 'n postkoloniale tematiek soos afgelei kan word uit hul programmatiese stellings. Hulle sê byvoorbeeld "we shall create a literature, which will obey all the demands of modern writing while taking roots in the traditional configurations of our orality" (Bernabé et al. 97-8; kursief oorspronklik).

Ten opsigte van taal besing hulle die multitalige, polifoniese aard van kreoolse taal, die valorisering van orale vorms en die skep van neologismes wat die verstarde koloniale taal sal verryk. In die drie letterkundes onder bespreking is daar 'n aantal tekste wat die spreektaal en die kreoolse vorm besing. Dit is die medium wat hulle nader aan die onderwerp van hulle digkuns bring: die massas en gewone mens.

Daar is reeds melding gemaak van gedigte wat die kwaliteite van Papiamentoe en Sranan in onderskeidelik die Antille en Suriname besing. Kaaps sluit hierby aan. Dit is by voorkeur die medium van swart Afrikaanse skrywers waardeur hulle hul identifisering met die lotgevalle van die gewone werkersklasmense op die Kaapse Vlakte wil uitdruk. Die kwaliteite van Kaaps word ook deur die digters besing, onder andere deur Adam Small en Peter Snyders. Eersgenoemde vergelyk dit met die liriese kwaliteit van 'n kitaar. Kaaps word dikwels ook beskou as 'n voortsetting van die kreolisering van Afrikaans.

Die kort gedig "Moedertaal" van Peter Snyders uit die bundel 'n Ordinary mens (3) satiriseer subtiel die opgevoede elite se neerbuigende houding teenoor die taal van die laer klasse. In die gedig "Of hoe?" sê die spreker:

Moetie rai gammattaal gebrykie:

dit issie mooi nie:

dit dieghreid die coloured mense-

of hoe?

Wat traai djy

Om 'n coloured culture te create?

of dink djy is snaaks

Om soe te skryf?

of hoe?

Traai om ôs lieweste op te lig;

ôs praat mossie soe nie ...?

of hoe?

Die Antilliaanse digter Pierre A. Lauffer (1920-81) word geloof vir sy werk om Papiamentoe te erken; hy is onder andere die samesteller van 'n bloemlesing gedigte met die titel Di nos en publiseer lesmateriaal vir skole in hierdie taal (Broek Eiland geschiedschrijving 243). "Mi lenga", Lauffer se ode aan Papiamentoe, word gereken as "the most memorable verse eulogizing his mother tongue" (Broek, Colour 39).6 Die aanvangstrofe van die gedig herlei die ontstaan van die taal na die slawegeskiedenis. Vervolgens word die liriese kwaliteite besing en word uitgewys hoe dit selfgenoegsaam in alle sfere is, byvoorbeeld in die reëls "In mijn creoolse taal, / Met heel haar klankenweelde, / Is geen vreugde of verdriet voor mij onzegbaar" (Broek, Colour 39; Broek, Eiland anthologie 309).

Sranan is die onderwerp van menige Surinamese digter wat die taal prys vir sy uitdrukkingsmoontlikhede. Een van die vroeë voorstanders van Sranan, Papa Koenders, soos hy eervol in die Surinaamse literatuur vernoem word, sê die volgende oor Sranan se opvoedkundige en kulturele waarde "our language is not that elevated, not that old [...] but it is still capable of doing what other languages are capable of" (in Voorhoeve en Lichtveld 145).

Die gevierde digter Trefossa besing die liriese kwaliteite van Sranan in meta-kommentaar op die kuns van poësie in sy gedig "Wan tru puëma" ('n Ware gedig) (Voorhoeve en Lichtveld 198-9).7

 

Slot

In hierdie artikel is die raakvlakke tussen die Antilliaanse, Surinaamse en swart Afrikaanse letterkundes ondersoek aan die hand van enkele gedigte. Alhoewel die konkrete historiese omstandighede van hierdie voormalige Nederlandse koloniale gebiede verskil, is daar ooreenstemmende tendense in die ontwikkeling van hierdie letterkundes. Die letterkundes begin aanvanklik as 'n modellering op die koloniale tradisie, daarna ontwikkel 'n trots en bewuswording van die eie onder invloed van négritude/swartbewustheid en later volg 'n ontdekking van die verskeidenheid en veelvoud van oorspronge en omstandighede wat kenmerkend van hibriditeit of kreolisering is.

Dergelike transnasionale, postkoloniale perspektief op die Nederlandse letter-kunde kan met vrug verder ondersoek word in ander genres en kultuuruitings en is 'n aanvulling tot ander studies waarin die literêre grensverkeer (kyk T'Sjoen en Foster) tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes in die Lae Lande ondersoek word.

 

Aantekeninge

1 Ampie Coetzee (162) ontleen die term aan die werk van Deleuze en Guattari om die verskynsel Swart Afrikaanse skryfwerk binne die Afrikaanse literere sisteem te situeer. Sy opmerking dat hulle dié letterkunde "binne 'n postkoloniale strewe geplaas (het), en dit dan revolusionêre potensiaal sou hê", is insiggewend en ter sake vir my ondersoek.

2 "Misschien zullen de kinderen / van dit volk eens hun hoofden / buigen over de legendes van hun stam, / zoals de Amerikaanse kinderen doen // om zo als gij Kaukasiscch heet / en Uw afkomst fier gedenkt, / hun Neger-zijn met trots te dragen // Hun verwantschap aan de Nubiërs, / van wie Egypte de kunst van / tempelbouw en pyramiden erfde, / zal Amerika doen blozen. // En ook de landen zullen blozen / die op alles wat een druppel / gloed van Afrika bezit, / in minachting etikettes plakken. //Dan zullen negers niet meer / Verslagen honden zijn, / Wentelend in witte straten. //geen 'underdog', geen 'steamy side', / maar de herauten van het bloed / dat dupplet in hun aders."

3 Van Kempen (Geschiedenis 779) verklaar die oorsprong van die naam as volg: "Het eerste deel van die naam verwijst naar de Ashanti koningin-moeder Yaa Ashantewa die in 1900 in opstand kwam tegen de Britten, 'Sangodare' is de naam van een Shango priester; Shango vernoemd naar de Yoruba god van de donder, is een Afrikaans gebaseerde religie-vergelijkbaar met winti-die op Trinidad gepraktiseerd wordt."

4 "Wai nengre / Fa wi musu luku / na ini a spikri / fu istorya, di blaka, blaka."

5 "Eiland, kom dichterbij / waar is mijn hart? Kom, / dat ik het bloed in je ader zie, / het witte bloed van zeeschuim, / veel dunkorrelrige, zoute zeeschuim / als bier zich morsend over heelje klein lichaam. // Eiland, jou bloed is mijn bloed, / kom dichterbij opdat ik nog even leve, / Curacao, kom dichterbij, eiland / spat je vies geschuim in mijn ogen, / opdat ik nog eenmaal blind worde / aan deze verre schrijftafel."

6 "Mi lenga, / Den nesesidat Sali / Fo'alma di aventurero / Kultivá na boka di katibu A baj drecha su pará / Den kwentanan di jaj. / Su kurashi sin keber / -E marka brutu di su nasementu- / A butele rementá busá / I fórsa di su gan 'i biba / A lant'e di swela Den un warwarú di pusta-boka. / Su kantika tin kandela / Su simplesa tin koló. / Ku su wega di palabra / Mi por 'nabo bo sojá / Ku su ritmo í su stansha / Mi por sinta namorá. // Na mi lenga di kriojo, / Kus u zjèitu di zonidu / No tin dwele ni legría pa herami, / Ni tin sorfi sintimentu / Ku mi n'tribi machiká. (Mijn taal, / Uit pure nood ontsprongen / Aan de harten van avonturiers, / Verder ontwikkeld in de mond van slaven, / Heeft haar vorm gevonden /In de verhalen van de baboe. / Haar grenzeloze moed / -Het brute teken van haar oorsprong- / Heeft haar de muilkorf doen verbreken / En haar kracht van levensdrift / Heeft haar zich doen verheffen / In een wervelwind van woordenwisselingen. // Haar muziek heeft vuur, / Haar eenvoud is vol kleur. / En met haar woordenspel / Kan ik je levend villen, / Met haar rijkdom en haar ritme / Kan ik zitten minnekozen. / In mijn creoolse taal, / Met heel haar klankenweelde, / Is geen vreugde of verdriet voor mij onzegbaar, / Noch is er ook maar één gevoel / Dat ik daarin niet heb gedurfd te uiten.)"

7 "A true poem is a thing of awe ... / a true poem is made of words that linger on / when all the others in one's life are washed away: / one single kernel, / but one from which can sprout / life all anew."

 

Geraadpleegde bronne

Arnold, A. James, red. A History of Literature in the Caribbean. Amsterdam, Philadelphia: John Benjamins, 2001.         [ Links ]

Bernabé, Jean, Patrick Chamoiseau en Raphael Confiant. In Praise of Creoleness. Vert. M. B. Taleb-Khyar. Parys: Gallimard, 1989.         [ Links ]

Bhabha, Homi K. The Location of Culture. New York: Routledge, 1994.         [ Links ]

Blakely, Allison. Blacks in the Dutch World: The Evolution of Racial Imagery in a Modern Society. Bloomington: Indiana UP, 1993.         [ Links ]

Boos, Carla, red. De slavernij: mensenhandel van de koloniale tijd tot nu. Amsterdam: Uitgeverij Balans, 2011.         [ Links ]

Broek, Aart. De kleur van mijn eiland: Aruba, Bonaire, Curaçao. Ideologie en schrijven in het Papiamentu sinds 1863. I Geschiedschrijving. Leiden: KITLV Uitgeverij, 2006.         [ Links ]

_____. De kleur van mijn eiland: Aruba, Bonaire, Curaçao. Ideologie en schrijven in het Papiamentu sinds 1863. II Anthologie. Leiden: KITLV Uitgeverij, 2006.         [ Links ]

_____. The Colour of my Island. Ideology and Writing in Papiamentu (Aruba, Bondaire & Curaçao: A Bird's-Eye View. Haarlem: In de Knipscheer, 2009.         [ Links ]

Burns, Lorna. "Becoming-postcolonial, becoming-Caribbean: Édouard Glissant and the Poetics of Creolization". Textual Practice 23.1 (2009): 99-117.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. "Swart Afrikaanse Skrywers: 'n diskursiewe praktyk van die verlede". Stilet 14.1 (2002): 149-66.         [ Links ]

De Villiers, Johan. "Die Nederlandse era aan die Kaap, 1652-1806". Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag. Red. Fransjohan Pretorius. Kaapstad: Tafelberg, 2012. 39-62.         [ Links ]

De Roo, Jos. Antilliaans literair logboek. Zutphen: De Walbrug Pers, 1980.         [ Links ]

Dooling, Wayne. Slavery, Emancipation and Colonial Rule in South Africa. Scottsville: U of Kwazulu-Natal P, 2007.         [ Links ]

February, Vernon. And Bid Him Sing: Essays in Literature and Cultural Domination. Londen, New York: Kegan Paul International, 1988.         [ Links ]

_____. Laat het ons ernst wezen: die verhouding Afrikaans-Nederlands. Intreerede by die aanvaarding van die amp van buitengewone hoogleraar in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland op Woensdag 25 September 1991.         [ Links ]

Gerwel, G.J. "Van Petersen tot die hede: 'n kritiese bestekopname". Swart Afrikaanse Skrywers: verslag van 'n simposium gehou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville. Reds. Julian F. Smith, Alwyn van Gensen en Hein Willemse. Bellville: UWK Drukkery, 1985: 11-21.         [ Links ]

_____. "Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel". Tydskrif vir Letterkunde 49.1 (2012): 15-8.         [ Links ]

Gilroy, Paul. The Black Atlantic: Modernity and Double Consciousness. Londen, New York: Verso, 1993.         [ Links ]

Helman, Albert. "Bij Trefossa's laatste (?) gedicht". Ala poewema foe Trefossa. Samest. Jan Voorhoeve. Paramaribo: Bureau Volkslectuur, 1977. 148-55.         [ Links ]

Irele, F. Abiola en Simon Gikandi, reds. The Cambridge History of African and Caribbean Literature Volume 1 en 2. Cambridge: CUP, 2004.         [ Links ]

Knepper, Wendy. "Colonization, Creolization, and Globalization: The Art and Ruses of Bricolage". Small Axe 21 (2006): 70-89.         [ Links ]

Martin, Denis-Constant. "A creolising South Africa? Mixing, hybridity, and creolisation: (re)imagingthe South African experience". Unesco Open Forum (2006): 165-76.         [ Links ]

Ormerod, Beverley. "The Martinican concept of 'creoleness': A Multiracial Redefinition of Culture". 1998. 15 Feb. 2010. <http://www.arts.uwa.edu.au/MotsPluriels/MP798bo.html>         [ Links ]

Palm. Walter. Avondmuziek. 1997. 2 Feb. 2010. <http://www.walterpalm.comavondmuziek.htm>         [ Links ].

Phaf, Ineke. "Frank Martinus Arion: een inleiding". 1991. 17 Feb. 2015. <http://www.dbnl.org/tekst/rutg014drie01_01/rutg014drie01_01_0044.phpLinks ] Arial, Helvetica, sans-serif" size="2">>

Petersen, J. Patrick. Amandla ngawethu. Genadendal: Morawiese Boekhandel, 1995.         [ Links ]

_____. "Ons kom van ver af". Ons om van ver af. Abrahams, P William, Eugène Beukes, André Boezak, Patrick Petersen en Isak Theunissen. St. Helenabaai: Prog, 1995: 79-98.         [ Links ]

Petersen, S. V. Die enkeling. [1944]. Kaapstad: Maskew Miller, 1959.         [ Links ]

Rutgers, Wim. Benedenen, boven de wind: Literatuur van de Nederlandse Antillen en Aruba. Amsterdam: De Bezige Bij, 1996.         [ Links ]

_____. Frank Martinus Arion "Over het schijnbare overwicht der westersche beschaving". De geest van Multatuli. Reds. Theo D'Haen en Gerard Termorshuizen. Leiden: Vakgroep Talen en Culturen van Zuidoost Azië en Oceanië, 1998. 151-65.         [ Links ]

Small, Adam. Black Bronze Beautiful. Johannesburg: Ad. Donker, 1975.         [ Links ]

Smeulders, Valika. "Slavernij in perspectief: Monidalisering en erfgoed in Suriname, Ghana, Zuid-Afrika en Curaçao." PhD-proefskrif, Erasmus Universiteit Rotterdam, 2012.         [ Links ]

Snyders, Peter. 'n Ordinary mens. Kaapstad: Tafelberg, 1982.         [ Links ]

T'Sjoen, Yves en Foster, Ronel, reds. Toenadering: Literaire grensverkeer tussen Afrikaans en Nederlands. Literêre grensverkeer tussen Afrikaans en Nederlands. Acco: Leuven en Den Haag, 2012.         [ Links ]

Van Kempen, Michiel. Surinaamse schrijvers en dichters. Amsterdam: Uitgeverij De Arbeiderspers, 1989.         [ Links ]

_____. Een Geschiedenis van de Surinaamse Literatuur Band I en II. Breda: Uitgeverij De Geus, 2003.         [ Links ]

Van Wyk, Steward. "Wan true puëma: tendense in die letterkundes van drie voormalige Nederlandse kolonies". Enig onder Professoren. 'n Huldigingsbundel aangebied aan Wium van Zyl by sy aftrede as professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Samest. Steward van Wyk en Abraham H. de Vries. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 2014. 106-20.         [ Links ]

Voorhoeve, Jan & Lichtveld, Ursy. Creole Drum: An Anthology of Creole Literature in Surinam (with English translations by Vernie A. February). New Haven: Yale UP, 1975.         [ Links ]

Willemse, Hein et al., reds. Die reis na Paternoster. UWK: Bellville, 1995.         [ Links ]

_____. "Kreolisering en identiteit in die musiekblyspel, Ghoema". Stilet 21.1 (2010): 30-42.         [ Links ]

_____. "Outobiografie en herinnering as verset in Adam Small se The Orange Earth". Tydskrif vir Letterkunde 49.1 (2012): 70-81.         [ Links ]