SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.17 

HULDEBLYK

 

Marthinus Beukes

 

 

Tom Gouws

 

 

 

Marthinus P Beukes was 'n merkwaardige, enigmatiese persoon.

Hy word groot op die myndorp Orkney, blink op skool uit as atleet en leier en toon vroeg reeds sy akademiese kapasiteit. Veral sy liefde vir taal en letterkunde wys reeds op dié stadium. Die traumatiese dood van sy ma op 'n vroeë ouderdom sou lewenslank 'n ontsaglike invloed op hom hê.

Marthinus studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, en onderskei hom as 'n uitsonderlike student in die letterkunde en die filosofie. Sy passie vir onderrig laat hom 'n onderwyser word by die Hoërskool Jeugland, die Hoërskool Wonderboom en later die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria. Hy inisieer by elke skool uiters suksesvolle skryfskole vir leerders, ook tienertoneelkompetisies, waarmee hy groot welslae behaal.

In hierdie tyd voltooi hy met onderskeiding sy meestersgraad, en sy doktorsgraad- albei lewer 'n groot bydrae tot die wetenskaplike diskoers. Hy begin sy stempel afdruk in die akademiese wêreld en publiseer wyd in akademiese joernale, veral in Tydskrif vir Letterkunde, asook ander publikasies.

Hy word aangestel as lektor by die Universiteit van Bophuthatswana en daarna as senior lektor by die indertydse Randse Afrikaanse Universiteit. Sy invloed op studente in hierdie tyd is legendaries. Benewens sy formele akademiese bydrae, het hy veel gedoen om die letterkunde te ontsluit vir die gewone boekliefhebber, soos baie leeskringe dwarsoor die land sal kan getuig. Hy word later aangestel as professor en navorsingsgenoot aan die Potchefstroomse Universiteit se Mahikeng-kampus.

Dit is veral vir sy insigryke resensies wat Marthinus onthou sal word-in literêre tydskrifte, koerante, joernale, oor die radio en op televisie. Sy insig ten opsigte van nuut gepubliseerde tekste was deeglik en altyd billik, dikwels 'n stemvurk vir latere kritiek.

Marthinus het 'n besondere voorliefde vir die poësie as genre gehad, en het sy leerlinge, en andere, ingelei in die geheimenisse daarvan. Sy groot insig, aansteeklike entoesiasme en onverdrote ywer oor die wonder van die woord, het mense, plaaslik en internasionaal, diep geraak.

Hy skryf uiteraard ook deurgaans poësie, van sy skooldae af-komplekse, gedronge verse, wat dikwels moeilik is om te lees, altyd opvallend klankryk, woordgevoelig, uiters diepsinnig, maar menigmaal duister. Sy gedigte is aftastinge in die psige van 'n uiters komplekse, oorgevoelige en denkende mens. Hy het helaas nooit 'n bundel tot publikasie gebring nie, miskien veral oor sy dwingende perfeksionisme. Dis so ironies, want hy het as keurder van manuskripe en skryfmentor verskeie ander mense tot publikasie begelei. In die pas gepubliseerde Poort 2014, uitgegee deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns, het nie minder nie as vyf lede van sy Pennetrant-skryfskool gepubliseer.

Op 15 September 2014 het Marthinus Beukes sy eie lewe geneem. Hy laat 'n absoluut ryk nalatenskap. Hy het, gepas, ook dié gedig nagelaat, waarin die dood 'n genadige antidoot is:

kruisstasie van opstanding

aan die einde van blinde herinnering

is die verbeel van jou verinneweerde lyf

die blinde sien

en die draende geur van verval

 

'n hand vat

aan die weggestroopte linne

wateiewillig

'n sameswering van grot en graf

en die wonder van dood

aan my die hoop van lewe gee

Van Marthinus Beukes is dit ook gewis waar gewees - die rym neem 'n hele lewe in beslag.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License