SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1Art and healing: Ethical imperatives in Julien Kilanga Musinde's Jardin secretMarthinus Beukes author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.52 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.19 

HULDEBLYK

 

Hennie Aucamp (1934-2014)

 

 

Andries Visagie

Professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Pretoria; hy is ook die resensieredakteur van Tydskrif vir letterkunde. E-pos: andries.visagie@up.ac.za

 

 

 

In die laaste jare van sy lewe het Hennie Aucamp met 'n soort gedrewenheid die een publikasie ná die ander die lig laat sien asof hy duidelik daarvan bewus was dat sy dae min geword het vir die afhandeling van sy laaste paar skryfprojekte. Die digbundel Skulp, voorlopig laaste boek uit sy pen, word juis elders in hierdie uitgawe van Tydskrif vir letterkunde geresenseer, maar dit is goed moontlik dat daar in sy nalatenskap nog talle manuskripte is wat met-tertyd die lig kan sien. Hoewel Aucamp enkele van sy dagboeke waaronder Gekaapte tyd (1996) vir publikasie beskikbaar gestel het, is dit bekend dat hy sedert sy jeug getrou dagboek gehou het. Aucamp het sy dokumente noukeurig laat bewaar in die J. S. Gerickebiblioteek van die Universiteit van Stellenbosch en daar is ongetwyfeld nog baie stof wat wag op die ondernemende redakteur en navorser.

Dit is veral as kortverhaalskrywer dat Aucamp onthou sal word-saam met Abraham H. de Vries het Aucamp die Afrikaanse kortverhaal tot nuwe hoogtes gevoer. In sy verhale was dit vir hom kennelik belangrik om die volle spektrum van die menslike kondisie te verken. In sy debuut Een somermiddag (1963) is dit sy Stormbergse jeug wat die basis van sy literêre inspirasie vorm en in sy later werk sou sy herinneringe aan sy plattelandse jeug steeds deel bly van 'n groeiende kosmopolitiese blik op die bestaan. Die Stormbergse jeugjare sou nooit in botsing staan met sy literêre verkenning van lande soos Brittanje, Duitsland, die VSA, China en Tibet nie. In sy werk sou die Stormberge, Suid-Afrika en Afrika die toetssteen bly vir elke nuwe indruk oor menslike vergrype én vernuf. In sy werk het Aucamp sy Oos-Kaapse herkoms naatloos ingeweef by sy dekadentistiese poëtika-byna honderd jaar ná die hoogbloei van die deka-dentisme word Aucamp (net soos Eugêne N. Marais dekades vantevore) 'n laat beoefenaar van die dekadentistiese literatuur. Sy kortverhaalbundel Volmink (1981), sekerlik 'n hoogtepunt in sy oeuvre, is dan ook 'n manjifieke voorbeeld van 'n boek wat lokale waarnemings saambring met 'n wyer blik op die wêreld. Sy verhaal "Vir vier stemme" uit Volmink geld vandag steeds as een van die indrukwekkendste kortverhale in Afrikaans.

Die openhartige manier waarop Afrikaanse skrywers vandag oor gay en queer seksualiteite kan skryf, is deels te danke aan die waagmoedige tekste wat Hennie Aucamp oor die liefde tussen mense van dieselfde geslag geskryf het. In Wisselstroom (1990), sy belangrike bloemlesing van gay kortverhale uit die Afrikaanse verhaalkuns, het hy gekies om 'n viertal van sy eie verhale soos "La Divina en die cowboy", "Vir vier stemme", "Tussen bedrywe" en "Teen die Valsbaaikus" te bloemlees. Soos 'n later verhaal soos "Aletta van die oewererwe" uit Die huis van die digter (2009) aantoon, het Aucamp meestal daarna gestrewe om gay seksualiteit (hier die suggestie van seksuele kontak tussen 'n prokureur en 'n hawelose man) met die groter problematiek van menslike seksualiteit te skakel. Sodoende wou hy klaarblyklik die gevaar van gay uitsonderlikheid en 'n gepaardgaande isolasie teenwerk.

In die laaste twee dekades van sy lang loopbaan as skrywer het Aucamp toenemend begin om hom op die skryf van (outo)biografiese tekste (oftewel egoliteratuur) en poësie toe te spits. Benewens sy gepubliseerde dagboeke is Aucamp se briewebundel Mits dese wil ek vir jou sê (2013) en Bly te kenne (2001), sy besonder mooi bundel biografiese portrette van vriende, mentors en familielede wat 'n belangrike rol in sy lewe gespeel het, verteenwoordig hoogtepunte in sy werksaamheid op die gebied van die ego-literatuur.

Die gedigte van Hennie Aucamp wat in Groot verseboek (2008) opgeneem is, laat waarskynlik nie reg geskied aan Aucamp se werksaamheid op digterlike gebied nie. Sy bundel "wulpse sonnette", Hittegolf (2002), is maar een voorbeeld van sy veelsydigheid as digter wat nou verbonde is aan sy belangstelling in die kabaretlied. Aucamp se produktiewe loopbaan as beoefenaar van nagenoeg elke literêre genre, met die uitsondering van die roman, is by nabetragting 'n verstommende prestasie wat moeilik na waarde geskat kan word.

Diegene wat bevoorreg was om hom persoonlik te ken, sal hom onthou as iemand wat graag gedeel en gegee het. Hy het altyd oplettend na die belangstellings van sy vriende en kennisse geluister en hulle gereeld met 'n boek, 'n musiekopname of 'n brief verras waarmee hy opreg probeer het om by hul belangstellings aan te sluit. Sy haas ensiklopediese kennis van die literatuur en die kunste was vir talle 'n onmisbare bron van inspirasie en verryking.

As dosent in die opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch maar ook as mentor vir skrywers soos M. C. Botha, Louis Krüger en Koos Prinsloo het Hennie Aucamp geslagte jonger mense gelei om 'n skeppende of intellektuele lewensinstelling aan te kweek. Iets skort deesdae aan die stadsbeeld van Kaapstad: sedert die dood van Hennie Aucamp wag 'n mens tevergeefs op 'n toevallige ontmoeting met die skrywer op een van sy gereelde wandeltogte deur die strate van Kaapstad. Dit is voortaan net met die oopslaan van sy talle kortverhaalbundels, kabarettekste, digbundels, bloemlesings en essaybundels dat sy stem steeds sal opklink.