SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1Ambivalence in the relationship between slave and master in Philida by André BrinkTo a dubious critical salvation: Etienne Leroux and the canons of South African English criticism author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.5 

ARTICLES

 

André P. Brink se posisie in die Afrikaanse literêre sisteem van die 1960's

 

André P. Brink 's position in the Afrikaans literary system of the 1960s

 

 

Burgert A. Senekal

Verbonde aan die Eenheid vir Taalfasilitering en Bemagtiging, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: senekalba@ufs.ac.za

 

 


ABSTRAKTE

This article investigates Andre P. Brink's role and position in the Afrikaans literary system of the 1960s. It is found that Brïnk was a very active role player in drama and prose, both as a writer and as a critic, and his activity is compared with every other role player in these subsystems. The paper examines which texts were studied by the largest number of persons in the whole literary system as well as in the subsystems of the drama and prose, and it is indicated that Brink's texts played an important role in this respect by garnering the attention of a large number of critics and literary historians. Finally, Brink's texts are positioned in the entire Afrikaans literary system of the decade, and it is found that his works occupy a central position.

Keywords: Afrikaans literature, André P. Brink, literary system, polysystem, Sestigers, social network analysis (SNA)


 

 

Inleiding

Die sestigs is alombekend as 'n tydperk in die Afrikaanse literatuur wat gepaard gegaan het met vernuwing en verset. Roos (55) merk byvoorbeeld op die "verset, konflik en stryd" wat deel uitmaak van hierdie periode in die Afrikaanse letterkunde. In tematiek, ideologie en styl het die Sestigers deur die literêre teks 'n aanval op die establishment geloots, wat voortgesit is in die daaropvolgende dekades. Een van die leiers van dié beweging was André P Brink, wat Roos (56) trouens ook "spreekbuis, vertolker en prototipe van die Sestigers" noem, asook die "byna konkrete verpersoonliking van Sestig" (60).

Die Afrikaanse literatuur is sedert die middel tagtigerjare van die vorige eeu as 'n sisteem benader, 'n siening waarvolgens "Die literêre werk [...] nie as 'n outonome eenheid gesien [word] nie, maar as die produk van die literatuursisteem" (Senekal, Literatuuropvattings 34). Viljoen ("Die literêre sisteem van Dertig", "Die Suid-Afrikaanse romansisteem") en Senekal (Literatuuropvattings) baseer hul navorsing op dié van onder andere Even-Zohar ("Polysystem Theory"), wat aanvoer dat dit deur die interaksies tussen rolspelers binne die sisteem is dat 'n werk as literatuur gesien word. As sulks fokus die sisteemteorie nie bloot op intrinsieke kenmerke van die literêre werk nie, maar ook op die verhouding tussen die werk en entiteite buite die werk, byvoorbeeld die handelinge van kritici, uitgewerye, literêre pryse, akademici en dergelike, asook op die verhouding tussen die werk en sy omliggende konteks buite die literêre sisteem. Binne 'n sisteemteoretiese benadering val die klem dus op verhoudinge, hetsy tussen entiteite binne die werk self, tussen entiteite binne die sisteem, of tussen entiteite binne die sisteem en die omgewing wat die sisteem omring (Viljoen, "Romansisteem" 12).

In navolging van Senekal ("Die Afrikaanse literêre sisteem", "Die gebruik van die netwerkteorie binne 'n sisteemteoretiese benadering tot die Afrikaanse letterkunde", "'n Ontleding van Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele in terme van die Afrikaanse literêre netwerk en met behulp van sosiale-netwerk-analise (SNA)") word die Afrikaanse literêre sisteem hier as 'n sosiale netwerk benader,1 en vir hierdie studie is Senekal en Van Aswegen (Bronne by die studie van Afrikaanse dramas 1900-1978, Bronne by die studie van die Afrikaanse digbundels 1900-1978) en Senekal en Engelbrecht (Bronne by die studie van Afrikaanse prosawerke 1900-1978) as bronne gebruik. Dié bronnelyste verskaf saam 'n omvattende opgawe van werke wat in Afrikaans verskyn het, sowel as wat oor dié werke verskyn het; die outeurs (Senekal en van Aswegen, Afrikaanse digbundels 1900-1978 5; Senekal en van Aswegen, Afrikaanse prosawerke 1900-1978 5; Senekal and Engelbrecht 5) skryf: "Feitlik alle literatuur oor die Afrikaanse [drama/ digkuns/prosa] is geëkserpeer." Geen pretensie van volledigheid word egter gemaak nie, en dit is betwyfelbaar of enige datastel ooit heeltemal volledig kan wees. Ongelukkig sluit hulle nie uitgewerye in nie, en aangesien uitgewerye ook 'n belangrike rol in die skepping en instandhouding van die literêre sisteem speel, is dié gevolglik bygevoeg. Alhoewel die data waarop hierdie studie gegrond is oorwegend uit Senekal en van Aswegen en Senekal en Engelbrecht saamgestel is, is dit dus tot 'n groot mate aangevul.

Die rolspelers wat in hierdie studie aan bod kom, sluit in skrywers, werke self, uitgewerye, kritici, letterkundiges, vaktydskrifte, populêre tydskrifte, koerante, en, waar verhandelings en proefskrifte ter sake is, universiteite. Die data is só geskakel dat daar aangedui word dat skrywer a boek b by uitgewer c gepubliseer het, wat geresenseer of bestudeer is deur persoon d, en dat die resensie of studie by die populêre tydskrif, koerant of vaktydskrif e verskyn het.

Die vraag wat in hierdie studie gestel word, is: Watter entiteite was die aktiefste in die Afrikaanse literêre sisteem van Sestig, en hoe vergelyk André P Brink en sy werke met dié van ander entiteite? Verder word die posisie van Brink se werke binne die hele literêre sisteem van dié tydperk nagespeur, ten einde aan te toon dat sy bydrae as sentraal tot die Afrikaanse literêre sisteem van die dekade geag kan word. Die artikel behandel egter nie die inhoud, tematiek en dergelike van Brink se werke nie, aangesien dié reeds breedvoerig in vorige publikasies bespreek is (kyk byvoorbeeld Senekal, Donker weerlig).

Omdat die literêre sisteem van die 1960's hier ter sprake is, en nie noodwendig slegs dié van die Sestigers (met 'n hoofletter) nie, word deurgaans slegs na die dekade, eerder as die generasie skrywers verwys.

 

Die literêre sisteem van die 1960's: 'n netwerkbenadering

Die aktiefste rolspelers

Aktiwiteit word in netwerke deur graadsentraliteit gemeet wat 'n aanduiding is van die aantal direkte skakels waaroor 'n entiteit beskik (Freeman 238). In die geval van skrywers beteken 'n hoë graadsentraliteit hier dat hulle 'n groot aantal werke ge-publiseer het, terwyl dit in die geval van kritici, letterkundiges en literatuurhistorici beteken dat hulle werke oor 'n groot aantal skrywers gepubliseer het. In die geval van werke beteken 'n hoë graadsentraliteit dat 'n groot aantal letterkundiges, kritici en literatuurhistorici oor dié werke geskryf het.

In die eerste plek lyk die graadsentraliteite van skrywers soos volg vir al drie genres in hierdie dekade. Slegs skrywers met 'n graadsentraliteit van vier en meer is ingesluit (sien tabel 1).

 

 

Dit beteken dat André P. Brink die derde mees produktiewe skrywer van die dekade was, met in agneming van die drama, poësie én prosa, terwyl Mikro en F. A. Venter die produktiefste was. Produktiwiteit is natuurlik nie 'n aanduiding van 'kwaliteit' (hoe dit ook al gemeet word) nie, en ook nie van invloed nie, en dus moet daar deurgaans gewaak word teen kwalitatiewe interpretasies van graadsentraliteit.

Natuurlik is dit ook belangrik om dié skrywers se produktiwiteit in terme van genre te ondersoek, en in die volgende tabel is die graadsentraliteite van skrywers van dramas weergegee. Slegs skrywers met 'n graadsen-traliteit van twee en meer word aangedui (sien tabel 2).

 

 

Dit beteken dat Louis de Villiers die produktiefste dramaturg van dié dekade was, en Van Wyk Louw tesame met Susie Mey Viljoen die tweede produktiefste, maar let daarop dat Brink in die vierde plek is (tesame met Dirk de Villiers, B. Kock, Mikro en Mariechen Naudé). In hierdie subsisteem het Brink dus 'n relatiewe groot kwantitatiewe bydrae gelewer.

Die volgende tabel verskaf die graadsentraliteite van die aktiefste digters in dié dekade. Slegs digters met 'n graadsentraliteit van twee en meer word aangedui (sien tabel 3).

 

 

Die mees produktiewe digters in dié dekade is dus Uys Krige en T. C. C. Lombard, terwyl Breyten Breytenbach en D. J. Opperman byvoorbeeld drie bundels elk publiseer, maar Brink self het nie 'n digbundel gepubliseer nie en het dus nie 'n bydrae tot dié subsisteem as skrywer gelewer nie.

Die volgende tabel verskaf die graadsentraliteite van die aktiefste prosaskrywers van dié dekade. Slegs skrywers met 'n graadsentraliteit van twee en meer word aangedui (sien tabel 4).

 

 

In terme van die prosa is Mikro dus die aktiefste (soos ook vir die hele literêre sisteem), en 24 van sy 27 totale publikasies is prosawerke (die oorblywende 3 is dramas). Hierteenoor is Brink die derde aktiefste skrywer van prosawerke, en die vierde produktiefste skrywer van dramatekste, en dus moet sy totale bydrae as skrywer ook gesien word teen die agtergrond van sy veelsydigheid. Brink is dus nie die mees produktiewe skrywer van die dekade nie, maar wel een van die produktiefste skrywers en ook een van die veelsydigste skrywers.

Skrywers is egter slegs een kategorie van rolspelers wat bedrywig is binne die literêre sisteem, en ander persone wat 'n daadwerklike impak het, is kritici, literatuurhistorici, en letterkundiges, wat met hul publikasies werke toelig en aan die breër publiek bekendstel. Die kritici wat in dié dekade oor die grootste aantal werke gepubliseer het, word in tabel 5 weergegee (10 en meer).

 

 

Rob Antonissen skryf dus by verre oor die grootste getal werke, gevolg deur P J. Nienaber en P D. van der Walt. Let egter op Brink se vierde posisie (saam met Louise Behrens): hy is nie alleen een van die mees produktiewe skrywers nie, maar ook een van die mees aktiewe skrywers oor die letterkunde.

Soos in die geval hierbo, is dit ook belangrik om te let op die bydraes wat kritici, literatuurhistorici en letterkundiges tot die onderskeie subsisteme van die drama, poësie en prosa gelewer het.

In tabel 6 is die graadsentraliteite van dié rolspelers met betrekking tot die drama weergegee (7 en meer).

 

 

Hier kan gesien word dat Brink die elfde produktiefste skrywer oor die drama was in dié dekade, terwyl hy die vierde produktiefste skrywer van dramas was. P J. Nienaber en Rob Antonissen domineer dié subsisteem as kritici en literatuurhistorici, maar het natuurlik nie self dramas in dié dekade geskryf nie. Louis de Villiers en N. P. van Wyk Louw, wat die produktiefste dramaturge in dié dekade was, figureer ook nie op hierdie lys nie, en dus moet Brink se bydrae tot die dramasisteem in berekening bring dat hy aktief was as beide skrywer én kritikus.

In tabel 7 is die kritici, letterkundiges en literatuurhistorici voorgestel wat die meeste oor die poësie geskryf het (10 en meer).

 

 

Rob Antonissen is dus met 'n beduidende voorsprong die produktiefste skrywer oor die poësie, gevolg deur Ernst Lindenberg. Let op Brink se posisie in die vyftiende plek: al het hy self geen poësie in dié dekade tot die sisteem bygedra nie, lewer hy wel 'n bydrae tot die poësiesisteem as kritikus (alhoewel hy oor aansienlik minder bundels publiseer as die ander persone op dié lys).

Tabel 8 stel die persone voor wat oor die meeste prosawerke geskryf het (10 en meer).

 

 

In die prosa is Brink dus die vierde aktiefste kritikus, terwyl hy die derde aktiefste prosaskrywer was. Brink is dus 'n uitsonderlik aktiewe rolspeler in die prosasisteem as kritikus, maar soos in die vorige afdeling aangedui is, ook as skrywer.

'n Belangrike verdere toepassing van graadsentraliteit is om te bepaal oor watter werke die meeste persone skryf, aangesien dit natuurlik 'n aanduiding is van die werke wat die wydste aandag van kritici, letterkundiges en literatuurhistorici ontvang het. Tabel 9 verskaf die graadsentraliteite van werke wat deur 10 en meer persone bestudeer is (insluitend die drama, poësie en prosa).

 

 

Brink se Caesar en Lobola vir die lewe figureer dus onder die 5 werke waaroor die meeste kritici, literatuurhistorici en letterkundiges in dié dekade geskryf het, terwyl Die ambassadeur ook op hierdie lys voorkom. Soos die graadsentraliteite van persone hierbo verskil in terme van watter subsisteem in ag geneem word, verskil die aandag wat tekste gekry het natuurlik ook op grond van genre.

In tabel 10 is die graadsentraliteite van dramas weergegee (5 en meer).

 

 

Ceasar is dus die drama waaroor die meeste persone in dié dekade geskryf het, tesame met Dagboek van 'n soldaat en Putsonderwater. Dit is egter eers wanneer dié dramas se skrywers nagespeur word dat 'n patroon uit die verf kom (sien figuur 1).

Van Wyk Louw dra dus verreweg die meeste werke by tot bogenoemde lys (7), terwyl Brink, De Klerk, en Smit elk drie bydra, en Opperman twee bydra. Hieruit kan gesien word dat, bo en behalwe die getal mense wat elke drama bestudeer het, Van Wyk Louw se dramas die meeste bestudeer is, gevolg deur De Klerk, Smit en Brink. Terwyl Brink vroeër uitgewys is as 'n aktiewe rolspeler in die subsisteem van die drama, beide in sy rol as skrywer en as kritikus, is dit ook duidelik dat sy werke aandag van 'n groot hoeveelheid kritici, letterkundiges en literatuurhistorici ontvang het.

Tabel 11 gee die graadsentraliteite van prosawerke (5 en meer).

 

 

In die eerste plek is dit interessant om daarop te let dat die lys van prosawerke waaroor 5 en meer persone geskryf het aansienlik langer is as wat die geval is met die drama-iets wat laasgenoemde weer eens tipeer as die 'stiefkind' van die Afrikaanse letterkunde (kyk byvoorbeeld Hough 32 en Hambidge 3). Tweedens kan gesien word dat Brink se werke soos Lobola vir die lewe en Die ambassaeur sterk op dié lys figureer, en wanneer al dié werke aan hul skrywers geskakel word, domineer Brink duidelik die netwerk (5 tekste). Figuur 2 verteenwoordig skrywers van die meesbestudeerde prosawerke. Dié grafiek en bogenoemde lys verskil natuurlik op 'n belangrike wyse: Die aantal persone wat oor 'n teks geskryf het, word nie in die grafiek in ag geneem nie, maar wel die aantal tekste wat 'n skrywer geskryf het wat op die lys van meesbestudeerde werke van die dekade is. Dít maak 'n groot verskil in terme van kanonisering: Selfs wanneer 'n skrywer se teks heel bo aan bostaande lys is, is dit onwaarskynlik dat daardie skrywer gekanoniseer sal word as hy nie verdere werke produseer wat óók wyd bestudeer word nie. Met ander woorde: 'n Enkele teks lei selde tot 'n sentrale posisie in die literêre netwerk; dit is deur die publikasie van 'n aantal tekste wat elk 'n belangrike posisie in die netwerk inneem dat 'n skrywer gekanoniseer word. Dit is daarom juis betekenisvol dat Brink, Leroux, Barnard en De Vries só baie tekste tot die lys van meesbestudeerde prosawerke bydra, omdat dit 'n blik gee op hul kanonisering. Skrywers wat hier minder tekste bygedra het, funksioneer ook in ander subsisteme en in ander periodes; wanneer dit nie die geval is nie, word hulle nie gekanoniseer nie, byvoorbeeld Holleman (onder op figuur 2), wat min bestudeer is.

Uit bostaande ontleding is dit duidelik dat Brink 'n uiters aktiewe rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem van die 1960's was, in terme van hoeveel hy gepubliseer het, sowel as oor hoeveel skrywers hy gepubliseer het, asook hoeveel van sy werke onder die lys is van werke wat deur die grootste aantal persone bestudeer is.

Al bogenoemde is egter slegs 'n kwantitatiewe meting, en soos in Senekal ('n Bespreking van die Afrikaanse poësienetwerk sedert 2000) aangedui is, beteken graadsentraliteit op sigself nie dat 'n entiteit oor die algemeen in die sentrum van 'n sisteem funksioneer nie, en daarom word Brink se algehele sentraliteit in die volgende afdeling bespreek.

 

Sentraliteit

Om 'n entiteit se algehele posisie binne die literêre sisteem te kan bepaal, kan twee metodes gebruik word: nabyheidsentraliteit, en 'n kraggebaseerde uitleg. Eersgenoemde meet hoe naby 'n entiteit aan elke ander entiteit in die netwerk is, en aangesien 'n entiteit in die sentrum altyd gemiddeld elke ander entiteit in die netwerk met 'n korter pad kan bereik as een op die periferie, is nabyheidsentraliteit 'n aanduiding van algemene sentraliteit. Indien Suid-Afrika se padnetwerk byvoorbeeld as 'n netwerk voorgestel word, sal Bloemfontein die stad wees met die hoogste nabyheidsentraliteit, aangesien die res van die land gemiddeld nader is aan Bloemfontein as aan enige ander stad. Johannesburg is byvoorbeeld naby aan Pretoria, maar verder as Bloemfontein van Kaapstad en Oos-Londen. Dieselfde beginsel geld in 'n netwerk, en daarom kan gesê word dat die entiteite met die hoogste nabyheidsentraliteit ook oor die algemeen tot die sentrum van die netwerk behoort.

'n Ander manier om sentraliteit te bepaal, is deur die gebruik van 'n kraggebaseerde uitlegalgoritme, wat entiteite posisioneer op grond van hul skakels. Kraggebaseerde uitlegalgoritmes benader die sisteem as 'n fisiese sisteem, en sien entiteite se skakels as kragte wat op entiteite inwerk. Suderman en Hallett (2654) skryf dat kraggebaseerde uitlegte "are also known as spring embeddings since edges [ties] are modeled as springs that pull linked nodes [entities] together, or push unlinked nodes apart, until the layout reaches a state of equilibrium." Soos die netwerkteorie self is kraggebaseerde uitlegte veral sedert die 1960's ontwikkel, onder andere deur Eades, Kamada en Kawai, en Fruchterman en Reingold, en het dit multidissiplinêre toepassings (Kobourov 403). In 'n bespreking van die hedendaagse poësie is byvoorbeeld uitgewys hoe 'n kraggebaseerde uitleg sentraliteit en marginaliteit in 'n literêre sisteem kan bepaal (Senekal, Bespreking).

Brink het die volgende werke tydens die 1960's gepubliseer:

1. Bagasie: tripiek vir die toneel (1965)

2. Caesar (1961)

3. Die ambassadeur (1963)

4. Elders mooiweer en warm (1965)

5. Lobola vir die lewe (1962)

6. Midi: op reis deur Suid-Frankryk (1969)

7. Miskien nooit: 'n somerspel (1967)

8. Olé: Reisboek oor Spanje (1969)

9. Orgie (1965)

10. Parys-Parys: Retoer (1969)

11. Pot-Pourri (1962)

12. Sempre, diritto: Italiaanse reisjoernaal (1963)

In die volgende grafiek (figuur 3) is dié werke se posisies in die hele Afrikaanse literêre netwerk van die dekade aangedui (insluitend die drama, poësie en prosa), en die nommers stem ooreen met dié op bostaande lys.

Dit kan dus duidelik gesien word dat die meerderheid van Brink se werke binne die sentrum van die sisteem funksioneer, en daar is nie een werk wat 'n mens as 'marginaal' sou kon bestempel nie, alhoewel Midi, Parys-Parys en Miskien nooit nie geheel en al binne die sentrum geposisioneer word nie. Die sentraliteit van sy werke is te danke daaraan dat die regte kritici aandag aan sy werke geskenk het, en dat hy by belangrike uitgewerye gepubliseer het. Die uitleg in figuur 3 posisioneer entiteite op grond van al die skakels in die netwerk, en dit is dus in die hele literêre sisteem van die dekade dat Brink se werke 'n sentrale rol inneem. Soos die polisisteemteorie voorstel dat die sentrum die literêre sisteem domineer (Even-Zohar, "Polysystem Studies" 89, 17), so stel die netwerkteorie ook dat die sentrum-soos visueel aangedui deur 'n kraggebaseerde uitleg-die belangrikste rolspelers bevat: "there is an implicit assumption that nodes in the center are important, while nodes on the periphery are less important" (Kobourov 397). Brink was dus self een van die aktiefste rolspelers binne die literêre sisteem van die 1960's, as kritikus, literatuurhistorikus, dramaturg én skrywer, en boonop tel sy werke onder dié waaroor die meeste ander persone geskryf het. Sy werke self neem ook bykans almal 'n sentrale posisie in dié sisteem in, en op grond van sy werke se posisie kan hy as 'n sentrale skrywer van dié dekade geag word. Dít is natuurlik geensins nuus nie; soos die reeds genoemde stellings van Henriette Roos aandui word Brink wyd geag as 'n sentrale rolspeler in dié tydperk. Wat egter hier van besondere belang is, is dat hierdie posisie van sentraliteit geensins beïnvloed kan word deur subjektiewe waardeoordele en literatuuropvattings nie: "Networks are welldefined mathematical objects. Thus, analysis patterns can be implemented computationally, enabling automated and unbiased hypothesis generation" (Merico, Gfeller and Bader 923). Terwyl Brink hoog aangeslaan word in die gesaghebbende opinies van letterkundiges, verskaf bogenoemde 'n wiskundig-gefundeerde bewys dat hy sentraal binne hierdie dekade gefunksioneer het.

Dit is ook opvallend dat hier geen sprake is van 'n afsonderlike drama-, poësie- en prosasisteem nie, juis omdat dieselfde rolspelers-soos Brink self-in al drie subsisteme funksioneer. Wanneer daar na dié subsisteme verwys word, is dit dus op grond van genre en nie omdat die sisteem van verhoudings op sigself 'n onderskeid tref nie. Wat dié grafiek duidelik uitwys, is dat Brink nie uniek is in sy funksionering binne verskillende genresisteme nie; wat hom uniek maak in terme van netwerkstruktuur is dat hy so 'n aktiewe rolspeler in verskeie subsisteme is, asook in verskeie rolle (byvoorbeeld skrywer én kritikus).

 

Slot

Dié artikel het ondersoek ingestel na Brink se strukturele posisie in die Afrikaanse literêre sisteem van die jare sestig, ten einde sy rol kwantitatief te vergelyk met dié van ander rolspelers in die sisteem. Daar is aangedui dat hy 'n besonderse produktiewe skrywer en kritikus was, beide oor die algemeen as ten opsigte van die subsisteme van die drama en die prosa. Alhoewel hy nie self 'n digbundel tot die poësiesisteem bygedra het nie, het hy wel ook hier 'n rol gespeel as kritikus. Daar is ook aangedui dat hy die meeste werke gepubliseer het uit dié werke waaroor die grootste getal persone geskryf het, wat beteken dat meer van sy werke aandag getrek het as wat die geval is met ander skrywers. Laastens is ook met 'n kraggebaseerde uitleg aangedui dat die werke wat hy in dié dekade gepubliseer het, ook tot die sentrum van die netwerk behoort.

Viljoen skryf dat "suiwer sinchronisme 'n illusie is, omdat elke sisteem sy verlede en sy toekoms het wat 'inseparable elements' van die sisteem is" (Viljoen, "Romansisteem" 23). Van Wyk Louw se belangrike rol in die dramasisteem kan juis die gevolg wees daarvan dat hy teen die 1960's reeds vir drie dekades 'n belangrike rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem was, terwyl hier onthou moet word dat Brink eers in 1958 debuteer met Die meul teen die hang. Brink was dus teen die 1960's 'n relatiewe nuweling, maar soos dié artikel aangetoon het, het hy homself vinnig binne die sentrum van die sisteem geposisioneer. Wat sy toekoms aanbetref, het Brink hierna 'n nóg meer produktiewe rolspeler in die Afrikaanse literêre sisteem gespeel, sy werk is ook meer gereeld bestudeer, en natuurlik het hy in 2000 die Hertzogprys ontvang. Hy het ook sedert die 1970's 'n aktiewer rol in die poësie begin speel, alhoewel slegs as kritikus, en uiteindelik het hy ook 'n belangrike posisie in die poësiesisteem ingeneem deur die samestelling van die Groot Verseboek. Dié artikel het dus 'n tydsnit gebied op 'n belangrike periode in die Afrikaanse literêre sisteem en ook in Brink se loopbaan, maar die 1960's was as't ware die kiem van wat later die volwaardige Brink-loopbaan sou word.

 

Aantekening

1. Om herhaling te voorkom, word hier nie 'n uiteensetting van die netwerkteorie gegee nie. 'n Meer volledige uiteensetting is opgeneem in Senekal ("Die gebruik van die netwerkteorie binne 'n sisteemteoretiese benadering tot die Afrikaanse letterkunde: 'n Teorie-oorsig.").

 

Geraadpleegde bronne

Eades, P "A heuristic for graph drawing". Congressus Numerantium 42 (1984): 149-60.         [ Links ]

Even-Zohar, I. 1979. "Polysystem Theory". Poetics Today 1.1/2 (1979): 287-310.         [ Links ]

_____. "Polysystem Studies". Poetics Today 11.1 (1990): 1-94.         [ Links ]

Freeman, L. C. "Centrality in social networks conceptual clarification". Social Networks 1.3 (1979): 215-39.         [ Links ]

Fruchterman, T. M. J. & E. M. Reingold. "Graph drawing by force-directed placement". Software: Practice and Experience 21.11 (1991): 1129-64.         [ Links ]

Hambidge, J. "Charles Fourie verdien al die gejuig". Beeld, 8 Jun. 1995. 3.         [ Links ]

Hough, B. "Dramaturg word hengelaar en die gehoor 'n skool vis". Rapport, 30 Sept. 2001. 32.         [ Links ]

Kamada, T. & S. Kawai. 1989. "An algorithm for drawing general undirected graphs". Information Processing Letters 31 (1989): 7-15.         [ Links ]

Kobourov, S. G. "Force-directed drawing algorithms". Handbook of Graph Drawing and Visualization. Red. R. Tamassia. Boca Raton, Florida: CRC Press, 2013. 383-408.         [ Links ]

Merico, D., D. Gfeller & G. D. Bader. "How to visually interpret biological data using networks". Nature biotechnology 27.10 (2009): 921-24.         [ Links ]

Roos, H. "Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu". Perspektief en profiel. Red. H. P van Coller. Pretoria: Van Schaik, 1998. 43-104.         [ Links ]

Senekal, B. A. "Die Afrikaanse literêre sisteem: 'n Eksperimentele benadering met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA)". LitNet Akademies 9.3 (2012): 614-38.         [ Links ]

_____. "'n Bespreking van die Afrikaanse poësienetwerk sedert 2000". 10 Mei 2013. <http://www.litnet.co.za/Article/n-bespreking-van-die-afrikaanse-posienetwerk-sedert-2000>         [ Links ].

_____. "Die gebruik van die netwerkteorie binne 'n sisteemteoretiese benadering tot die Afrikaanse letterkunde: 'n Teorie-oorsig". Tydskrif vir Geesteswetenskappe 53.4 (2013): 668-82.         [ Links ]

_____. "'n Ontleding van Hertzogpryswenners se uitgeweryprofiele in terme van die Afrikaanse literêre netwerk en met behulp van Sosiale-netwerk-analise (SNA)". LitNet Akademies 10.3 (2013).<http://www.litnet.co.za/Article/n-ontleding-van-hertzogpryswenners-se-uitgeweryprofiele-in-terme-van-die-afrikaanse-literr>         [ Links ]

Senekal, J. H. Donker weerlig. Literêre opstelle oor die werk van André P. Brink. Kenwyn: Juta & Kie, 1988.         [ Links ]

_____. Literatuuropvattings: 'wese' en 'waarhede' van 'n nuwe literêre teorie. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat, 1987.         [ Links ]

_____ en E. Engelbrecht. Bronne by die studie van Afrikaanse prosawerke 1900-1978. Johannesburg: Perskor, 1984.         [ Links ]

_____ en K. van Aswegen. Bronne by die studie van die Afrikaanse digbundels 1900-1978. Johannesburg: Perskor, 1981.         [ Links ]

_____ en K. van Aswegen. Bronne by die studie van Afrikaanse dramas 1900-1978. Johannesburg: Perskor, 1980.         [ Links ]

Suderman, M. & M. Hallett. "Tools for visually exploring biological networks". Bioinformatics 23.20 (2007): 2651-9.         [ Links ]

Viljoen, H. "Die literêre sisteem van Dertig". Literator 5.1 (1984): 65-74.         [ Links ]

_____. "Die Suid-Afrikaanse romansisteem. 'n Vergelykende studie". PhD-proefskrif, Potchefstroomse U vir CHO, 1986.         [ Links ]