SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue1Breyten Breytenbach's representation of the prisonAndré P. Brink 's position in the Afrikaans literary system of the 1960s author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i1.4 

ARTICLES

 

Ambivalensie in die verhouding tussen slaaf en meester in Philida deur André P. Brink

 

Ambivalence in the relationship between slave and master in Philida by André Brink

 

 

Mathilda Bothma

DLitt et Phil; Unisa vakadviseur in die Onderwysdepartement van die Limpopo-provinsie. E-pos: mathilda.bothma@gmail.com

 

 


ABSTRACT

This article appropriates the views of critics in an effort to come closer to an understanding of the sensations, experiences and the general plight of slaves in a (post)-colonial context, in particular the farm Zandvliet, as well as the broader South-African society as represented in Philida. In this regard, for instance, the critical enunciations of Bill Ashcroft concerning place and displacement and the bearing thereof on the lives of the colonised is considered, as well as the views of Homi Bhabha on ambivalence related to colonial discourse. According to Bhabha the "other" is the coloniser's construct and his relationship with the "other" is characterised by ambivalence and inconsistency. The article refers to the intertextual relations of Philida to earlier Brink novels, to the paratextual relations of the cover to the text, and to the text's relations to South African history.

Keywords: André Brink, ambivalence, identity, slave-master relationships, Philida (novel).


 

 

Inleidend

In André P Brink se oeuvre kom rassekwessies en die verhouding tussen koloniseer-der en gekoloniseerde dikwels voor, en die outeur laat slaweromans soos 'n Oomblik in die wind (1975) Houd-den-Bek (1982) en Philida (2012) die lig sien. Hierdie romans demonstreer die betekenis en implikasies van slawerny en vryheid.

Die slavin Philida bevind haar in 'n koloniale bestel waarbinne uiteenlopende ideologieë en oortuigings geld. Sy is in die "Caab" gebore as die kind van Farieda, wie se ma van Malabar afkomstig is, terwyl Ouma Petronella, wat haar grootmaak, van Bengale af kom. Philida se eienaar, Cornelis Brink, en sy gesin trek met slawe van die "Caab" na die Drakenstein-gebied en lê die plaas Zandvliet aan. Philida se situasie kan in aansluiting by Ashcroft (9) se beskouing aangaande die verbrokkelende uitwerking van plek en verplasing op slawe en ander gemarginaliseerdes oorweeg word.

Verder kan Bhabha se kritiek op die ambivalensie in koloniale diskoers en die verhouding tussen koloniseerder en die "ander" ook op Philida se omstandighede betrekking hê. Die toepaslikheid van hierdie beskouings en kritiek word in die artikel ondersoek.

 

Kolonisering, postkolonialiteit, sosiale omstandighede en identiteit

Aschcroft wys op verskeie eienskappe van koloniale en postkoloniale situasies, onder andere die uitwerking van plek en verplasing (place and displacement):

It is here that the special post-colonial crisis of identity comes into being: the concern with the development of recovery of an effective identifying relationship between self and place. [...] A valid and active sense of self may have been eroded by dislocation, resulting from migration, the experience of enslavement, transportation, or 'voluntary' removal for indentured labour. Or it may have been destroyed by cultural denigration, the conscious and unconscious oppression of the indigenous personality and culture [or of the slave's personality and culture] by a supposedly superior racial or cultural model. The dialectic of place and displacement is always a feature of post-colonial societies whether these have been created by a process of settlement, intervention, or a mixture of the two. Beyond their historical and cultural differences, place, displacement, and a pervasive concern with the myths of identity and authenticity are features common to all post-colonial literatures [...](9).

Slawe is na 'n koloniale opset verplaas en moes, soos Philida, te midde van 'n krisis omtrent self, selfbeeld en eksistensiële wortels en vastigheid verbete veg om hulle identiteit en menswaardigheid. Slawe word deur die koloniale en patriargale sisteem gebind tot 'n posisie van benadeling, frustrasie en magteloosheid, terwyl pogings tot die ontwikkeling van hulle identiteit aan bande gelê word. Benewens die werk wat hulle verrig, word slawevroue geforseer om vir die baas en meester minnaresse te wees of die rol van prostitute-sonder enige vergoeding-te vervul, wat daarop neerkom dat hulle herhaaldelik aan verkragting onderwerp word.

Wat die suidpunt van Afrika betref, het Van Riebeeck gedurende die eerste maand van sy verblyf aan die Kaap al gereël vir die koms van "bouwlieden" of boere, en in 'n brief van 28 April 1655 skryf hy dat hy reeds die moontlikheid van kolonisasie oorweeg het. Een van die grootste probleme was 'n arbeidstekort. Reeds voor sy koms na die Kaap was Van Riebeeck oortuig dat die inboorlinge nie vir gereelde arbeid gebruik sou kon word nie. 'n Paar weke ná sy aankoms versoek hy dat slawe gestuur word; die eerstes het op 28 Maart en 6 Mei 1658 aangekom. (Böeseken 44-7). Ross (1) wys daarop dat, afwisselend onder Hollandse en Britse bewind, "the Cape Colony was a brutal place [...] the ruling class of the Cape owned slaves, the economy being organized around slave labour [...] Slavery is a form of social oppression that is based on the use of force, which is always available to, and frequently employed by, the slave owning class to impress its will on the slaves."

Die eerste slawe het onder toesig van die Vryburgers gewerk en mettertyd het die blanke heersersklas aan die Kaap hul eie slawe besit. Daar was baie boere wat met behulp van slawe-arbeid 'n bestaan uit boerdery gemaak het. Volgens Ashcroft speel ruimte en plek 'n belangrike rol by sowel slawe as hulle eienaars se identiteitsvorming en ontwikkeling. Slawe soos Philida was gebonde aan die plaas, die plek waar hulle gewerk en gewoon het. Gegewe die unieke geskiedenis en die uiteenlopende betekenisse wat daaraan gekoppel word, verteenwoordig die konsep 'n plaas in Suid-Afrika 'n geografiese, sosiale en kulturele konstruksie: as sodanig is dit 'n geskikte plek waarbinne die interaksie tussen individu en konteks as proses van identiteitsvorming ontgin kan word.

Tradisioneel het die plaas in Suid-Afrika as 'n mikro-samelewing bestaan wat in 'n groot mate selfvoorsienend was in terme van die opbrengs wat gelewer is en dit het beide as ekologiese en sosiale eenheid gefunksioneer. Volgens Ampie Coetzee, (133) was die plaas in die Suid-Afrikaanse konteks onlosmaaklik gekoppel aan die diskoers oor grond en eienaarheerskappy. Outoriteit was in wit hegemonie gewortel. Grondbesit is steeds 'n kwessie wat onder verdenking is weens hiërargie en mag wat sedert die koloniale verlede daarmee geassosieer word.

 

Geskiedenis en teks

Die geskiedenis kom alreeds in die vorige paragrawe ter sprake. Die harde werklikheid van Suid-Afrika se koloniale verlede word deur Philida, wat in 'n groot mate op historiese inligting gebaseer is, in herinnering geroep. Die sosiale omstandighede van slawe word aan die lig gebring en daar word verwys na gegewens oor die lewe van slawe en die probleme en uitdagings waarmee hulle te kampe het.

In die tyd dat die verhaal afspeel, is die Kaap onder Britse bewind en 'n sleutelgebeurtenis is die afskaffing van slawerny op 1 Desember 1834. Deur Philida se verwagtinge omtrent 'n nuwe bestaansmoontlikheid en haar hunkering na vry-wording van onderdrukking verteenwoordig sy nog een van Brink se "chain of voices" van slawe wat nie stilgemaak kan word nie. Philida sluit intertekstueel by Houd-den-Bek aan wat tema en die temporaliteit van die verhaal betref. Gerwel (7) meen Philida is 'n kragtige herinnering aan die verlede waaruit ons kom en Jansen (11) beskou die roman as noodsaaklik om daardeur Philida se geskiedenis binne die Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse) letterkundige milieu te plaas. Die roman is ook belangrik om verwronge feite van die verlede reg te stel en om die beeld wat Philida aan ander vroue gestel het, om self iets te doen om haar vryheid te bekom, wetenswaardig te maak (sien Jansen).

Philida dien as 'n soort Waarheid- en Versoeningsbekentenis. Brink beweer in die "Erkennings" dat Cornelis Brink 'n broer van een van sy voorsate was. Jansen bevestig die geloofwaardigheid van Brink se verhaal deur daarop te wys dat H. F. Heese en J. L. Hattingh veertig jaar gelede al bewys het "dat sogenaamde wit Afrikaners 'n behoorlike persentasie slawebloed het". Die vroeë geskiedenis van die Kaap getuig van die transkulturele ontmoeting tussen blankes en slawe. Hoewel intieme verkeer tussen hierdie groepe as taboe afgemaak is, was dit beslis nie heeltemal ongewoon dat dit in die geheim plaasgevind het nie. Philida kan beskou word as die mite wat die outeur opteken oor die ontwikkeling van die Afrikaner se genealogiese verwantskappe wat die gevolg is van kontak met slawe.

In aansluiting by die romanteks dien die omslag, as parateks, as rigtingwyser en as visuele interteks wat alreeds assosiasies bewerkstellig en betekenis genereer. Die voorstelling van Philida deur Anton Brink op die omslag van die Afrikaanse weergawe van die roman is-volgens die "Erkennings"-geïnspireer deur Sleeping Madonna and Child, 'n waterverftekening van Lady Anne Barnard, die invloedryke vrou wat prominent met koloniale bestuur geassosieer word; verder is Madonna en kind 'n eeue-oue tema in die Westerse skilderkuns. Op die oorspronklike Barnard-tekening is daar 'n hondjie, en nie 'n kat nie, by die vroulike figuur. Die voorstelling van Philida op die omslag is deerniswekkend en getuig van teerheid, gelatenheid en oorgawe. Sy is alleen met haar kind, behalwe vir die kat se teenwoordigheid, die diertjie waarvan Philida later oortuig raak dat sy "anderkant" (25) kan sien. Die madonna-en-kindtoneel is gepas om Philida se band met haar kind (kinders) uit te beeld. Tradisioneel is die madonna alleen by haar kind wat sy versorg. In so 'n toneel is die vader afwesig, soos Francois Brink, die vader van Philida se kinders, ook deurgaans vir sy kinders afwesig is en by wie daar nie aanduiding van emosionele verbintenis met hulle is nie. Philida is geplaas teen die agtergrond van dowwe geskrewe inligting-waarskynlik die transkripsie van haar besware wat ter sprake kom by die aanklag wat sy in November 1832 teen Francois lê. In hierdie verband is dit ironies dat die "duusvolk' se danigheid oor skryf (12) nie noodwendig verseker dat die volle waarheid opgeteken word nie. Benewens die aanklag, is ander beskikbare historiese inligting omtrent Philida haar persoonlike gegewens wat in die slawerolle opgeteken is. Aangesien Philida aan-vanklik oënskynlik die beste van haar omstandighede probeer maak, lei dit daartoe dat sy in 'n mate vereenselwig kan word met die klaarblyklik berustende figuur soos op die omslag uitgebeeld. Volgens die romanteks is sy egter nie 'n passiewe slagoffer nie. Haar ervaring lei daartoe dat sy sekere sosiale stereotipes, outoriteitsfigure en -instansies soos die regstelsel uitdaag en hul duplisiteit en ambivalensie aan die kaak wil stel. Met haar klag by die slawebeskermer registreer sy haar protes teen die situasie waarin sy haar bevind. Die omslag, as drempel van interpretasie, met die representasie van Philida, eerstens as madonna en tweedens met die kat by haar, "wat die vermoë het om te sien wat mense nie kan sien nie", dra daartoe by dat die romanteks wat volg iets van die verhewe aard van die religie of mite verwerf en dat Philida 'n soort mitologiese figuur word.

Die omslae van die Afrikaanse en Engelse weergawes is verskillend, maar beide het wedersyds intertekstuele invloed op die Philida-teks in die onderskeie tale. Die omslag van die Engelse weergawe bied 'n buitelugtoneel met Philida as tinger maar vasberade vrouefiguur wat uit die bamboesbos stap met die voorneme om in simboliese terme "nee" sê vir onderwerping, 'n beter bestaansmoontlikheid vir haarself te probeer bekom en haar te beywer om haarself te bevry. Die pad wat voor haar in die rigting van die berge strek, suggereer dat sy op die punt staan om 'n staptog te onderneem om geregtigheid te eis. Bokant die titel is daar 'n verkleurmannetjie wat, soos Visagie dit stel, prominent in die Afrika-mitologie figureer. Die verkleurmannetjie verbind Philida aan Afrika en dit simboliseer transformasie en vryheid. Die omslae van die Afrikaanse en Engelse weergawes verbind Philida respektiewelik aan die Westerse tradisies en aan Afrika-mitologie.

Die amptelike koloniale heerskappy in Suid-Afrika en die historiese verlede van slawerny aan die Kaap is die milieu vir die broos en kwesbare liefdesverhouding wat in die eerste deel van die roman, "Klagte", uitgebeeld word. Daar word prominent gefokus op die intimiteit wat op 'n natuurlike wyse tussen die hoofkarakters Philida en Francois ontstaan. Maar die koloniale ideologie in die tyd wanneer die gebeure van die verhaal afspeel, gee daartoe aanleiding dat 'n verwronge verhouding tussen dié twee karakters ontwikkel. Gerwel verwys na die "[i]ntieme wreedheid of wrede intimiteit" in die verhaal. Volgens die romangegewe regeer Francois se pa, Cornelis, die plaas en sy gesin op patriargale wyse. Binne die patriargale en koloniale konteks is Francois nie die geleentheid gegun vir 'n egtelike verbintenis met Philida, die slavin wat hy lief het nie, en hy het nie die moed om sy belofte om haar vry te koop gestand te doen nie. Philida en Francois se verhouding is 'n algemene patroon van die verhaal van slawerny aan die Kaap. Die saamleef met slawe is onlosmaaklik deel van die Afrikaner se geskiedenis.

Volgens Bhabha (18) is 'n belangrike aspek van koloniale opvattings en die koloniale diskoers die strakheid of rigiditeit wat daar bestaan by die ideologiese konstruksie van andersheid. Dit is met 'n strakheid dat kulturele/historiese/rasgefundeerde verskille gerepresenteer word. In aansluiting hierby word stereotipering, wat onder andere 'n effek van voorspelbaarheid vertoon, as 'n strategie en 'n vorm van kennis aangewend. Koloniseerders is, aldus Bhabha, geneig tot stereotipe benaderings en opvattings aangaande die "ander"' en hulle optrede en gedrag word gekenmerk deur ambivalensie. Bhabha verlang dat die ander as subjek met 'n unieke identiteit erken word. Philida se ervaring kan in 'n groot mate in terme van Bhabha se besware beskryf word.

 

Ambivalensie

Plek is waar die individu hom oriënteer vir die ontwikkeling van sy/haar identiteit, en Philida moet 'n sinvolle verhouding bewerkstellig tussen (haar)self en die plek waar sy haar bevind. Sy vertel: "Dis op Zandvliet, sal ek kan sê, wat alles begin het. So ver ek kan onthou, of amper, was die plaas nog altyd die begin en end van alles." (23)

Van Wyk Smith (20) beskou die plaas as "an icon of White South Africa's fragile domicility and haunting complicit" and "a nexus of promise and menace, eden and demon" (25). Hierdie ambivalente ikonisering van die plaas kan 'n soort postkoloniale onbewuste suggereer wat gepaard gaan met verleentheid en skuldgevoelens (Viljoen 108) by die koloniseerder teenoor die oorspronklike inwoners en die slawe wat hy uitbuit en misbruik. Grond word volgens die wette van die koloniste toegeken terwyl die land volgens die konvensionele opvatting van oorspronklike inwoners, soos die Khoikhoi en ander groepe, deel is van die natuur wat aan almal behoort (Coetzee 131). Die Khoikhoi se wantroue, hul negatiewe gesindheid teenoor die koloniste en hul ongeneentheid om arbeid te verrig, het juis daartoe gelei dat slawe ingevoer moes word.

Die kontinuïteit van die roman hou verband met Philida se psigologiese ervaring en ontwikkeling. Philida se gevoelens aangaande die plaas is ambivalent. Dit is vir haar nie veel van 'n lewe wat sy op Zandvliet het nie, met dag en nag werk en slae kry en doen wat ander sê, maar sy vind tog in 'n mate berusting en sy word betower deur die natuur-die berge en die voëls met hulle besondere skreeue en roepe. "Amman van hulle wat sê Zandvliet, Zandvliet [...] dat jy gou leer agterkom waar jy hoort" en laat besef: "dis mos nou jou plek dié [...]" (24); Zandvliet is sand; klip; diep grond vol "gras en hartseer en kwaad wees en bly wees en koring en rog en wingerd" (24); Zandvliet is ook "die bosbokkies, dis die slange se sleepsel en die meerkaaie, dis die ystervark en erdvark, dis die jakkals in die donker, dis die son deur die vlakhaas se ore, dis die koggelhoes van die luiperd op sy sagte voete" (27).

Die belangrikste is Kleinkat, die wesentjie wat Philida laat dink dat sy een van die Vaalvoete moet wees wat kan "sien wat niemand anders kan sien nie [...] anderkant alles" (35). Kleinkat ontsnap die dood, bevry haarself uit die haar gevangenskap in die bamboeshokkie en is uiteindelik vry. Daar is ook Ouma Petronella se stories, mites uit die verlede, en Philida se eie verbeelding en hoop wat haar gelukkig en tevrede maak. Ouma Petronella leer vir Philida om haar eie stories op te maak (63). Die stories wat Philida brei (65) herinner aan Marlowe se "yarns" in Heart of Darkness. Deur haar stories kan Philida die kontinuïteit van haar bestaan bevestig.

Hoewel Philida aanvanklik betower is deur Zandvliet waar sy in eksistensiële sin die lewensdrif ervaar om die beste van haar omstandighede te probeer maak, is sy egter gekant teen die patriargale manier waarop sy deur haar base behandel word. Sy is gedetermineerd om met oortuiging "inteendeel" of "nee" te sê vir onderdrukking en magsmisbruik. Sy wil 'n vry mens wees. Maar dit is met ambivalente gevoelens dat sy die tog na Stellenbosch onderneem om haar klag in te dien. In die roman speel die kwessies rondom identiteit 'n belangrike rol en op pad na die Drosdy peins Philida opnuut oor haarself en oor die mens wat leer "om saam te leef met sy gedagtes, met sy wil en sy wense en sy lus en sy swaarkry, dalk saam met die krag wat in hom is, sy bietjie krag, hoe swak ook al, oor die wêreld en wat daarin gebeur" (37). Philida is gewoond aan loop. Met elke tree verder van Zandvliet af, is dit vir haar soos 'n steekpyn in haar bors (38).

Philida se aanklag teen haar eienaars kulmineer in verset teen ongenaakbaarheid, 'n verset teen wat Homi Bhabha (18) as 'n strakheid bestempel betreffende verskille tussen koloniseerder en gekoloniseerde (die "ander"). Bhabha veroordeel die koloniseerder se stereotipering van die gekoloniseerde en hy opper die beswaar dat die koloniseerder die psigiese aspekte aangaande die identiteit van die "ander" verontagsaam. In sy ondersoek na die leemtes binne koloniale diskoers en verhoudings binne die koloniale opset, redeneer Bhabha onder meer as volg:

In order to understand the productivity of colonial power it is crucial to construct its regime of 'truth' [...] Only then does it become possible to understand the productive ambivalence of the object of colonial discourse-that 'otherness' which is at once an object of desire and derision, an articulation of difference contained within the fantasy of origin and identity. [This reveals] the boundaries of colonial discourse and it enables a transgression of these limits from the space of that otherness.

The construction of the colonial subject in discourse and the exercise of colonial power [...] demands an articulation of forms of difference-racial and sexual. Such an articulation becomes crucial if it is held that the body is always simultaneously inscribed in both the economy of pleasure and desire and the economy of discourse, domination and power [...] I want to suggest [...] that there is a theoretical space and political place for such an articulation-in the sense in which that word itself denies an 'original' identity or a 'singularity' to objects of difference-sexual or racial. There [...] is [...] a will to power and knowledge that [...] proceeds to individualise otherness as the discovery of [the colonisers'] own assumptions.

[Colonial discourse] turns on the recognition and disavowal of racial/cultural/ historical differences [...] The objective of colonial discourse is to construe the colonised as a population of degenerate types on the basis of racial origin, in order to justify conquest and to establish systems of administration and instruction. (Bhabha 19-23)

Francois se optrede teenoor Philida getuig van ambivalensie-begeerte teenoor minagting, die bevrediging van behoeftes deur die beskikbaarheid van plesier teenoor dominasie en die uitoefening van mag-aspekte wat ook die koloniale verhoudings kenmerk waarvan Bhabha melding maak. Die hoofkarakters se verhouding ontwikkel tot seksuele omgang, waartydens Francois beloftes maak wat hy nie nakom nie. Francois se ontkenning aan die slawebeskermer dat enige intimiteit tussen hom en Philida bestaan, en die slawebeskermer se aanvaarding van Francois se woord bo dié van Philida bevestig dat rasse/kulturele/historiese verskille ten opsigte van mag vir die twee individue geld. Philida verwag van Francois besinning oor die sielkundige aspek van hulle verhouding. Francois erken herhaaldelik dat hy haar lief het en bewonder. Hy sê altyd hoe mooi bruin sy is. "Die mooiste kleur in die hele wêreld" (309). Sy verwag dat hy haar nie misbruik, onderdruk en teen haar diskrimineer nie, en dat hy morele verpligting teenoor haar aanvaar. In 'n koloniale opset word verpligting en aanspreeklikheid egter maklik deur die maghebber teenoor sy ondergeskikte oor die hoof gesien, selfs binne die liefdesverhoudings van sodanige individue, soos in die geval van Francois en Philida. Wat in Stellenbosch gebeur, bring Philida tot die besef van die verskil tussen haar en Francois se posisie:

Ek is 'n slaaf. Hy is nie [...] Om slaaf te wees [...] is om altyd te moet terugkom na die plek wat vir my uitgewys is. Nie oor ek hier wil wees nie, maar oor ek hier móét wees [...] Al wat daar in my oor is, is so 'n dowwerige hartseer, soos 'n pyn wat besig is om oor te gaan [...] Behalwe dat ek vandag [...] vir die eerste keer goed weet: selfs dié plek wat my huis is, is nie meer myne soos ek gedink het nie. Ek hoort nie hier nie. Ek hoort nêrens meer nie. (70-73)

Aangesien plek 'n bepalende rol by 'n persoon se identiteitsontwikkeling speel, is Philida se ontnugtering en verwarring skrynend. Hoewel sy aanvanklik betower is deur die natuur, ervaar sy die plaas toenemend as 'n plek waar sy geen geborgenheid meer vind nie. Wanneer Cornelis óók vir Philida in die bamboesbos probeer verkrag, lê sy egter haar durf en oortuiging aan die dag om dit te verhoed deur vir hom "nee" te sê (103) en sodoende vir haar 'n mate van vryheid toe te eien.

Benewens (en ten spyte van) ambivalensie is hibriditeit ook kenmerkend van die postkoloniale samelewing.

 

Hibriditeit

In die kerkhof op Zandvliet besef Cornelis dat sy geslag skaars daar "geplant" is. "Ik ben een vreemde geworden in een vreemd land (91)". Hy weet dat hoewel slegs een van sy dogtertjies nog daar begrawe is, hy "ook eendag daar gaan kom lê" (92). Daar is ironie in sy woorde: "Ek raak stadigaan ingeburger (92)". Petronella wys Cornelis daarop dat daar ook grafte van haar mense, "Khoemense en Boesmanmense" (92) in die kerkhof is (hoewel sy ook vertel dat sy van Bengale afkomstig is [122]). "Al daardie mense wat hier lê, is lankal in jou ingeteel sonder dat jy dit wil erken [...] En eendag loop staan almal op en kom vra wat hulle toekom" (93). Hoewel Cornelis erken dat hy soos 'n vreemdeling in die land geword het, laat hy nie toe dat Philida se kinders KleinFrans en Mamie (149) in die kerkhof op die plaas begrawe word nie.

Cornelis raak onseker en vrees dat sy magsposisie in die toekoms moontlik in die gedrang mag kom: "[a]l wat sal oorbly is hierdie land self" (99). Miskien moes die Brinks en ander blankes nie hier gewees het nie (100). Sy onsekerheid is die gevolg van gerugte oor die vrystelling van slawe, maar dit gaan waarskynlik gepaard met sy onbewuste en sy gevoelens van verleentheid en skuld. Op metahistoriese vlak bestaan daar deesdae by blankes opnuut onsekerheid oor die toekoms.

Petronella op haar beurt, is deeglik bewus van die versteurde identiteite, die verwarrende geslagslyne en die hibriditeit wat manifesteer ten opsigte van haar eie en ander families. Cornelis se pa het by Petronella kinders verwek, maar al sy kinders is deur sy vrou Susanna soos haar eie grootgemaak (97-98). Cornelis self is die kind van Petronella. Hy koop haar later vry en laat haar toe om 'n intieme en beskermde posisie in die huishouding te beklee. Petronella is bewus van die lewensloop van baie mense: ook van Philida se herkoms en verlede. Philida se ma, Farieda, is aan Daniel Fredrik verkoop, wie se broer Philida se vader is (124). Ouma Petronella wonder en vra haarself af:

As ons so lyk soos ons lyk, wat gaan vorentoe in dié land van ons word? Die moeilikheid kom nie by die pa's en ma's nie. Die moeilikheid kom by die kjenners, by dies wat nie wil weet hulle is wat hulle is nie. Elkeen bly eintlik sy hele lewe lank op soek na sy skaduwee wat iewers in die stof losgetrap is en bly lê het. Daar's genoeg verdwaalde skaduwees om ons (127).

Die land en die geskiedenis eis sy tol. Cornelis raak mettertyd bankrot (204). Sy gedagtes word geprojekteer na die toekoms. Dis asof hy elke dingetjie dubbel sien: nie net sy eie huis wat opgeruim word nie, maar op 'n soort apokaliptiese manier 'n hele land en al die mense daarin. Die slawe kyk en dis asof hulle hoor wat hy dink: Ons beurt kom Duusmanne. Alles wat van julle is, gaan nog weggekarwei word. Niemand sal eers weet julle was hier gewees nie. (205-6)

 

Liefde en verraad

Sentrale elemente in Brink se roman is menslikheid, liefde, mite en geskiedenis. Die verhouding tussen Francois en Philida is gekompliseerd. Hoewel Francois vir Philida op 'n kritieke stadium verraai wanneer sy verwag dat hy die liefde wat tussen hulle bestaan amptelik moet erken, is hy sedert sy kinderjare tot haar aangetrokke. Hy laat haar toe om Kleinkat te behou: die kat word hulle geheim (29) en benewens hulle kinders word sy in 'n mate verteenwoordigend van die band tussen hulle. Hulle liefdesverhouding is vervleg in 'n samelewing wat bepaal word deur die ongelykhede van kolonialisme en slawerny.

Die verhaal se eerste deel, "Klagte" het duidelik 'n gevoelvolle en romantiese inslag. Francois se ontkenning van hulle verhouding voor die slawebeskermer bring egter die keerpunt wat Philida se vertroue in hom skend. Verder is daar 'n donker skadu wat oor die gebeure hang weens die herhaaldelike verwysing na KleinFrans wat by Philida spook (40, 101, 103, 285, 286,305, 310). Aan die einde verduidelik sy dat sy haar en Francois se eersteling, die pasgebore KleinFrans in haar twee hande moes "stilmaak" (305). Sy doen dit om te keer dat Frans dit doen. "Ek doen dit liewer self, dan vat ek hom uit hulle hande uit. Sodat hy nie hoef slaaf te word soos wat sy ma slaaf was nie" (285). Deur KleinFrans om die lewe te bring, dien Philida haar vryheid 'n knou toe, want voortaan dra sy die herinnering aan hierdie desperate insident voortdurend met haar saam. Soos Gerwel dit stel is dit 'n duurgekoopte begin van Philida se pad na vryheid van binne.

In die tweede deel van die verhaal "Vandisie" word Philida deur Cornelis aan Bernabé de la Bat verkoop om van haar ontslae te raak. Cornelis sien 'n uitkoms in 'n huwelik tussen Francois en Maria Berrangé uit 'n ryk Kaapse familie as 'n oplossing om Zandvliet van ondergang te red, en hy oorreed Francois om haar te besoek.

Die problematiek van die samelewing en die ambivalensie in die koloniale opset en diskoers waarna Homi Bhabha verwys, word tydens Francois se besoek geïllustreer wanneer hy na die bamboesbos verwys, waarop Maria beskuldigend beweer dat sy bewus is van sy vroeëre verhouding met Philida en Francois homself vervolgens verweer met die woorde: "Dit is tog die Caab dié Maria [...] Jy maak of dit iets uitsonderliks is!" (254). Francois kan haar op sy beurt beskuldig dat hy gesien het hoe sy na die slafie kyk (255). Maria beklemtoon dat sy by 'n toekomstige huweliksmaat geen omgang met slawevroue sal duld nie en nie soos haar my ma 'n ander vrou se kinders wil grootmaak nie (256).

Aan die einde van sy besoek is daar vir Francois, sonder dat hy dit kan verklaar, in Maria se oë en afskeidsgebaar 'n groot hartseer. Wanneer hy sy terugtog aanpak, is dit nie Maria Berrangé wat in sy kop bly draai nie.

Philida se afwesigheid laat Francois met 'n onvergeetlike gemis en begeerte. Liefde en verraad, begeerte en minagting, is teenstrydig aanwesig. Daar is ambivalensie by Francois wat betref herinneringe aan die een kant en optrede aan die ander kant wanneer hy aan Maria Berangé die voorstel maak dat hy vir haar die bamboesbos wil gaan wys, want die beeld van Philida bly steeds in sy gedagtes, gevoelens, begeertes en herinneringe huiwer-onvergeetlik en teenwoordig.

Die passie, die "romanse" en die sensuele aanslag-hoewel verwronge-van die eerste deel van die roman ontbreek in die tweede en derde deel. Wanneer Philida aan Meester de la Bat verkoop word, word haar fisiese verhouding met Francois finaal beëindig. Worcester is vir haar 'n vreemde plek, maar haar algemene omstandighede is nou meer draaglik. Sy bevind haar hoofsaaklik in die gemeenskap van slawe met wie sy haar kan vereenselwig en Labyn speel voortaan 'n deurslaggewende rol in haar lewe.

Daar word nou op die slawegemeenskap gekonsentreer. Karakters uit vorige Brink-romans word intertekstueel in Philida betrek. Die gebeure in Houd-den-Bek word in herinnering geroep wanneer De la Bat Philida en Labyn na die Bokkeveld na die paal met die skedel van Galant (178) neem om die gevolge van opstand by hulle tuis te bring en hulle te laat besef dat hulle nie aan hulle lot as slawe kan ontkom nie. Om die verhaal van die slawe te konsolideer, neem Labyn Philida later na die drosdy waar sy vir Achilles en Ontong ontmoet (260). De la Bat se optrede sluit aan by Homi Bhabha (19-23) se waarneming dat gekoloniseerdes as "ondergeskikte tipes" behandel word ten einde dit te regverdig om beheer uit te oefen: "to establish systems of administration and instruction".

Philida, Labyn en Floris bring verskillende gelowe ter sprake. Deur Labyn se bekendstelling van Philida aan die Islam (183), word 'n alternatief vir die Christengeloof gebied. Verder leer Labyn haar om te skryf: Frans Brink. Sy is van mening: "soos die laaste blaai in 'n Bybel, kan jy sê, het sy nou 'n soort houvas op Frans" (188-9). Daarmee bekragtig sy die omega van hulle verhouding en maak sy die Bybel toe. Sy word deur Labyn se stories blootgestel aan die inhoud van die "Korhaan", 'n boek wat nie vir wit mense en base "praat" (233) nie, maar vir mense soos sy en Labyn. Die wegloperslaaf, Floris, wat vroeër aan De la Bat behoort het, keer terug met 'n verkleurmannetjie op sy skouer. Volgens die Afrika-mitologie is die verkleurmannetjie die simbool van sterflikheid en van die fisiese bestaan; dit is ook simbool van transformasie en vryheid (Visagie). Floris vertel stories oor die Gariep. "Daarvandaan lê die land oop, en alles is vry" (287). Philida vra van De la Bat 'n vrybrief om Gariep toe te loop, maar stel hom in kennis dat as hulle nie sy toestemming kry nie, hulle dan in elk geval gaan. Sy gee haar woord dat sy sal terugkom, waarop hy van haar wil weet:

"En jy reken ek moet jou net so glo? Jy wat slaaf is?"

Ja, sê [sy]. Hoe anders? Slaaf is mos nou mens (289).

Die implikasie is dat vryheid kan intree wanneer ambivalensie en ongelykheid tussen individue uitgeskakel word en hulle op gelyke voet met mekaar kan verkeer.

 

Ten slotte

Op 1 Desember 1834 word die slawe vrygestel maar hulle moet vir vier jaar by hulle base ingeboek bly (271). Philida besluit om 'n staptog na die Gariep, wat die simbool van vryheid word, aan te pak. Hulle "dra nou skoene" (286) en hulle morele toestand is positief. Wanneer Philida en Labyn in die verbygaan op pad na die Gariep by die opstal op Houd-den-Bek aandoen om vir Cecilia van der Merwe die tyding te bring dat Ontong dood is (295-6), word die verlede se gebeure met betrekking tot slawerny word as't ware afgesluit terwyl vryheid duidelik in die vooruitsig lê. Philida en Labyn ontmoet die hoofkarakter van Bidsprinkaan (2005), Kupido Kakkerlak, met wie hulle 'n ent op sy waentjie saamry. Soos Kupido (299), kom Philida uiteindelik tot die oortuiging dat vryheid binne haarself is en dat sy dit nie op 'n bepaalde plek hoef te gaan soek nie. Deur hierdie nuwe insig word gesuggereer dat Philida bemagtig is om van haar vroeëre vervreemding of verplasing ten opsigte van plek te herstel. Sy stel voor dat sy en Labyn kan terugkeer Worcester toe, "[w]ant nou sal ons vir die eerste keer die plek behoorlik ken. Ons plek" (308). Die aanduiding is dat sy gereed is vir die toekoms en vir die uitdaging om haar identiteit te ontwikkel en uit te leef.

"Gariep is maar die naam wat ons leer gee het aan die rivier in ons binneste [.] My Gariep [...] met die kyk is dit eintlik binne-in my dat ek hom sien" (310). Philida ervaar, soos Jansen dit stel, "die 'nader kom' aan [...] eenheid in die land" en voel, "op byna metafisiese manier uiteindelik vry: in die 'Jirregot se liefde', waarin ook die Islam en die son en die maan en die sterre vervat is: 'En dan is ek ook hier'".

Philida is oortuig dat omstandighede verander het: "Slaaf is mos nou mens" (289). Vryheid beteken dat 'n mens regte het. Die moontlikheid van saamwees in die land bring die vooruitsig dat ambivalensie in verhoudings van mense van verskillende groepe nou uitgeskakel kan word.

 

Geraadpleegde bronne

Ashcroft B., T. Griffiths & H. Tiffin. The Empire Writes Back: the Theory and Practice in Post-Colonial Literarures. Londen: Routledge, 1994.         [ Links ]

Bhabha, H. "The Other Question ... Homi K. Bhabha Reconsiders the Stereotype and Colonial Discourse." Screen 24.6 (1983): 18-36.         [ Links ]

Böeseken A. J. "Jan van Riebeeck en sy stigtingswerk 1652-1662." Geskiedenis van Suid-Afrika. Red. D. W. Kruger. Kaapstad: Nasou, 1980. 34-58.         [ Links ]

Brink, A. P Philida: 'n Slaweroman. Kaapstad: Human & Rousseau, 2012.         [ Links ]

Coetzee, A. "My Birthright gives me a Servitude on this Land: The Farm Novel within the Discourse on Land."Journal of Literary Studies12.1 (1996): 124-42.         [ Links ]

Gerwel, J. "Intieme wreedheid-of wrede intimiteit." Volksblad, 1 Sept. 2012. 7.         [ Links ]

Jansen, E. "Philida lofwaardig én noodsaaklik."Beeld, 3 Sept. 2012. 11.         [ Links ]

Ross, R. Cape of Torments. Londen: Routledge & Kegan Paul, 1983.         [ Links ]

Van Wyk Smith, M. "From 'Boereplaas' to Vlakplaas: The Farm from Thomas Pringle to J. M. Coetzee. Strangely Familiar South African Narratives in Town and Countryside. Reds. H. Viljoen & C. N. van der Merwe. Kaapstad: Content Solutions, 2001. 17-35.         [ Links ]

Viljoen, H. "Land, Space, Identity: The Literary Construction of Space in Three Afrikaans Farm Novels."Strangely Familiar South African Narratives in Town and Countryside. Reds. H. Viljoen & C. N. van der Merwe. Kaapstad: Content Solutions, 2001. 107-73.         [ Links ]

Visagie, A. "Animals and Gender in Philida by André Brink." Ongepubliseerde voordrag, On the Contrary: André Brink and his Oeuvre-konferensie, Universiteit van Pretoria, 2013.         [ Links ]