SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 número2Peter E. Clarke (2.6.1929-13.4.2014) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.51 no.2 Pretoria Set. 2014

 

HULDEBLYK

 

Nadine Gordimer (1923-2014) - 'n persoonlike herinnering

 

 

Hein Willemse

 

 

 

Ek het daardie Sondagoggend een of ander boek gesoek; by Nadine Gordimer se The Soft Voice of the Serpent and Other Stories, die bruin hardebanduitgawe van 1952, getalm en daardeur geblaai. Uit die binneblaaie het 'n dankiekaartjie gefladder met haar handskrif daarop. 'n Boodskappie gedateer 25/11/91 na my gelukwensing met haar Nobelprys: "My dear Hein, It means such a lot to me to hear that my friends have believed in my work (more than I did myself) and rejoice for me ... I hope all goes well in work and life for you, and that we may see each other again soon. Affectionately-Nadine." Tussen die twee handgeskrewe sinnetjies was daar die formele gedrukte boodskap van die pryswennende skrywer: "I should like to have written to you more personally, but that would have meant a long delay in my response. My warmest thanks for your congratulations and good wishes, which have given me much pleasure." Haar hartelike persoonlike toegif was onverdiend het ek gedink, maar dan weer ... die paar woorde sê tog iets van 'n stukkie geskiedenis wat ons gedeel het.

Was die fladderende kaartjie blote toeval? Ek weet nie, maar wat vas staan, is dat ek later die middag van 13 Julie 2014 'n radioberig gehoor het dat Nadine Gordimer vroeër die dag in haar slaap oorlede is.

Ek het Gordimer iewers op hoërskool begin lees en haar romans, anders as haar kortverhale, was vir my nie geredelik toeganklik nie. Daar was iets hards, ongenaakbaar, iets serebraals in haar skryfwerk wat ek as 'n naïewe jong leser nie kon peil nie. Maar tog was sy die eerste skrywer wat ek as 'n junior dosent neergeskryf het toe ons onder leiding van Jakes Gerwel 'n kursus in Vergelykende Suid-Afrikaanse letterkunde ontwikkel het. Sy het toe pas July's People (1981) by die alternatiewe uitgewerye Ravan en Taurus uitgegee, haar gebaar van solidariteit en verset teen die sensuurbeleid van die Nasionale Party. Ons kursus in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland wou bestaande grense deurbreek. Ons wou die etnifisering van Suid-Afrikaanse letterkundes afbreek, en ons studente kennis laat maak met romans uit uiteenlopende Suid-Afrikaanse tradisies sodat hulle in een kursus skrywers soos André PP Brink, Elsa Joubert, Jan Rabie en Karel Schoeman naas onder meer Peter Abrahams, Nadine Gordimer, A. C. Jordan, Es'kia Mphahlele, en later J. M. Coetzee en Mongane Serote kon saamlees.

 

 

Ek het haar die eerste keer in Junie 1982 tydens die Culture and Resistance-konferensie in Gaborone ontmoet waar sy 'n voordrag soos telkens voorheen en daarna oor relevansie en skrywersbetrokkenheid gelewer het. In die loop van daardie merkwaardige byeenkoms waar vir die eerste keer anti-apartheid binne- en buitelandse "kultuur-werkers" byeen was, het 'n klomp van ons een aand 'n partytjie in die beknopte woonstel van Marius Schoon en sy vrou Jenny gehou. Terwyl die gasvrou verwoed probeer het om die hordes te voed, het ek met 'n slaperige Katryn en hul baba Fritz op die arm buite op die stoepie, weg uit die rumoer, gaan sit waar Nadine ons aangetref het-ook sy was uitgedryf deur die lawaai. "Let me help you," het sy gesê en Fritz uit my arms geneem. Katryn het duim in die mond op my skoot aan die slaap geraak. Daar was nie tyd om versteend voor een van die land se bekendste skrywers te staan nie en ons het oor kinders, die konferensie en toe ons voorskrywing van July's People gepraat. Sy was beïndruk dat 'n Departement Afrikaans haar roman voorgeskryf het en verras dat ek Afrikaanse letterkunde gedoseer het. Anders as wat dikwels in die Afrikaanse akademiese pers beweer word, het ek haar nie as "anti-Afrikaans" ervaar nie.

Dit was die laaste keer dat ek Jenny en haar dogter gesien het. Byna presies twee jaar na daardie aand is hulle in Lubango, Angola opgeblaas deur 'n briefbom gestuur in opdrag van brigadier Piet Goosen van die Suid-Afrikaanse polisie. Katryn was ses jaar oud. Marius, skor van rokershoes, het ek 'n paar keer vóór en ná die politieke wending van 1994 gesien, vir Nadine meermale: soms aan huis in Parktown, Johannesburg, soms in Kaapstad en 'n keer of wat in Londen, Athene en New York.

In 1988 in Athene het ons deelgeneem aan 'n konferensie waarin die Verenigde Nasies sy streng kultuurboikot-resolusies aangepas het. Die Griekse Kuituurministerie het ons onder meer vergas op 'n teateropvoering waarvoor ons op 'n uurlange busrit deur nou straatjies afgevoer is. In die koelerige September aandlug het ons met ons vlugfloulywe na 'n drie uur lange tragedie in klassieke Grieks gaan kyk. Nadine het vir ons almal gepraat toe sy te midde van dié kulturele marteling gesê het: "I like Sophocles but this is Greek to me".

In Johannesburg het ek nader met haar kennis gemaak deur haar betrokkenheid by Colin en Dolphine Smuts se Open School en die skrywersorganisasie wat Achmat Dangor en Chris van Wyk op die been gebring het. Later was sy, soos ek, met onder meer Dangor, Njabulo Ndebele en Mike van Graan betrokke by die oprigting van die Congress of South African Writers (COSAW). By hierdie geleenthede het sy gemaklik omgegaan met die anti-establishment standpunte wat militante skrywers uit Soweto en die Rand se omringende townships dikwels gestel het. Dit was nie ongewoon om dié tenger vroutjie te midde van 'n hewige argument te sien nie. 'n Onbekookte standpunt kon nie lank staande bly teen haar priemende -soms selfs bitsige- kommentaar nie. Sy het dikwels haar ruim huis vol boeke en skilderye oopgestel vir allerlei byeenkomste en 'n mens kon 'n deursnit van die stad se politieke en kulturele gemeenskap daar ontmoet. Enkele kere het ek by haar en haar man Reinhold Cassirer oornag-telkens in 'n gastekamer waarin bokslêers met voorstudies van haar romans soos Burger's Daughter en July's People op die rakke gestaan het.

Nadine Gordimer was een van die bekendste slagoffers van apartheidsensuur, maar ook een van die welsprekendste aktiviste teen staatsensuur en vir vryheid. Eendag in antwoord op die vraag, "What do you expect from the new South Africa?" het sy geantwoord: "Freedom". Die woord het in die lug gehang maar ons het almal geweet wat sy bedoel. Vandag sou sy haar antwoord minder utopies, meer pragmaties en uitgebreider moes aanbied: "freedom from poverty and violence, freedom from Nkandlas and corruption, freedom from racism and xenophobia", maar ook soos voorheen: "freedom from censorship".

Haar persoonlike en skrywerslewe het die stempel gedra van 'n meelewende mens wat deur die loop van 'n lang lewe haar rug op haar sosiale plek en klas gedraai het en aansluiting by die uitgeslotenes gevind het. Teenoor haar vriende was sy lojaal.

Slaap sag, Nadine.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License