SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.51 issue1"Why were we crucified into car mechanics?": Masculine identity in Marlene van Niekerk's AgaatPost-apartheid transnationalism in black South African literature: a reality or a fallacy? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.51 n.1 Pretoria Jan. 2014

 

ARTICLES

 

Die boek van toeval en toeverlaat (Ingrid Winterbach): 'n Teosofies-kabbalistiese perspektief

 

The Book of Happenstance (Ingrid Winterbach): A Theosophic-Kabbalist perspective

 

 

Marie Spruyt

Is ’n Navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van Zoeloeland, Kwa-Dhlangeshwa, KwaZulu-Natal. E-pos: marie.spruyt@telkomsa.net

 

 


ABSTRACT

The main character, Helena Verbloem, goes on a journey of discovery: to find her stolen shells, and to determine what role chance and contingency plays in man's search for meaning and order. On both these journeys she is accompanied by her colleague Sof Benadé and to a certain extent her employer, Theo Verwey. Sof introduces her to a world of duality, where good and evil exist but where one has a choice, in spite of disappointments that characterize daily life. Verwey dies before she can really get to know him, but he leaves her with the knowledge of the nature of language, that it is as subject to contingency as everything else. By analysing the text from a theosophical and Kabbalistic viewpoint Helena's journeys of discovery and self-discovery are revealed. It is shown that although she still believes that one's life is not determined by a Higher Order but through small contingencies, she no longer needs to be obsessed with the many losses she suffered, including that of her treasured shells, or the intellectual struggle to understand the origin of life and the role of human cognition in the suffering of humankind. This helps her to heal her relationships with the living and the dead, and in the process also herself.

Keywords: esoterica, Ingrid Winterbach, Kabbalist, Theosophy, The Book of Happenstance.


 

 

Inleidend

Volgens Thys Human ("Verlies") speel dood en sterflikheid 'n belangrike rol in die oeuvre van Lettie Viljoen/Ingrid Winterbach, wat in Die boek van toeval en toeverlaat (2006) 'n hoogtepunt bereik. Helena Verbloem word nie net gekonfronteer met die ontydige dood van mense na aan haar nie maar ook met die soeke na aanvaarding van die mens se verganklikheid. Human ("Verlies" 302-04; 312) kom tot die slotsom dat dit tekenend is van spanning tussen pogings om die dood meer kenbaar te maak, en die insig dat al hierdie pogings uiteindelik ontoereikend is. Chris van der Merwe (24243) beskou die boek as 'n optekening van verlies wat sentraal gestel word met die dood van Helena se werkgewer, Theo Verwey, en kort daarna die verlies van haar versameling skulpe.

Die tema van verlies word verder uitgebou deur Louise Viljoen, Human ("Grondig", "Verlies", "Leeg") en Aletta J. van den Heever. Volgens Louise Viljoen is die tema van verlies reeds aanwesig in Helena se werk saam met Theo Verwey om die uitgestorwe woorde van Afrikaans op te teken, asook probleme met die berging van Afrikaanse boeke wat na haar mening behoue behoort te bly.

Benewens "verlies" beskou Viljoen ook die "toeval" as 'n belangrike tema in die roman. Helena vind dat die toeval oral in haar lewe sigbaar is, inderdaad deel is van die mens se bestaan op aarde van sy oergeskiedenis af, maar om patrone daarin te soek 'n futiele oefening is. Die "toeverlaat", volgens Viljoen, lê moontlik in die aanvaarding van die toevalligheid van bestaan en die ordelike strukture wat tot stand kom as gevolg daarvan. Helize van Vuuren bespreek die filosofiese, wetenskaplike en in-tertekstuele motiewe wat die roman onderlê met spesifisieke verwysing na aspekte van die godsdiens en geloof versus die wetenskap; God versus Darwin.

Van den Heever (127) ondersoek kontingensie as sentrale tema van haar studie. Deur die roman vanuit verskillende perspektiewe te benader: godsdiens-sosiologies, populêr-wetenskaplik, taalfilosofies en literêr-teoreties, beklemtoon sy telkens die toeval en toon aan hoe dit in die roman manifesteer. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die skrywer deur middel van die kontingensie van grense wat oorgesteek word of beperkend kan inwerk, erkenning gee aan 'n toevallige, wetenskaplike wêreldbeeld met sy onsekerhede en wisselvallighede, maar tog in 'n mate bly vashou aan die standvastige, tradisionele wêreldbeeld wat deur die toeverlaat voorsien word, dit wil sê, 'n teleologiese raamwerk met 'n Skepper wat alles vooruit bestem.

In aansluiting by die temas van Van Vuuren en Van den Heever word godsdiens en geloof vir die doeleindes van hierdie artikel as belangrike aspekte van die boek beskou. Een faset van hierdie tema wat sentraal staan is Helena se ongewone verknogtheid aan haar versameling skulpe. Sy vind sin en betekenis in die skoonheid van die skulpe; "al haar besittings sien sy as aardse goed, alles vervangbaar-maar nie die skulpe nie. Die skulpe is hemelse boodskappers!"; hulle het "'n anderwêreldse skoonheid, soos die leërskares van die heiliges, die rangordes van die heiliges"(11), hulle het haar vertroue in die skepping herstel (80). Sy was onbesonne in haar verhoudings en haar psigiese nood is hoog, maar op haar skulpe kon sy mediteer, teenoor hulle kon sy godsvrugtig en eerbiedig optree, hulle het haar gehelp om na haar geestelike welsyn om te sien. Sy kan nie help om te wonder nie-is sy veronderstel om iets te leer uit die verdwyning van haar skulpe? (10-13).

Die verlies van haar skulpe word die katalisator wat nie net haar verlede, en daarmee al die vergrype wat deels in haar onbewuste verskuil lê, blootlê nie, maar ook lei tot 'n persoonlike en religieuse herbesinning. Van der Merwe sluit die skielike dood van Theo Verwey hierby in; dit, en die verlies van die skulpe, beskryf hy as "katalisators vir 'n diepsinnige ondersoek na die mens en sy plek in die kosmos" (243). Helena vind dat haar traumatiese ervarings in Ladybrand "onlosmaaklik verbonde en verstrengel (is) met die verlies van my skulpe. Dit het één gegewe geword. Raaiselagtig, weliswaar, maar één gegewe; dit alles vorm die matriks waarin die verlies van die skulpe ingebed is" (105, my kursivering). Die Oxford Dictionaries On-line definieer 'n matriks as "the cultural, social or political environment in which something develops". Volgens die Merriam-Webster Dictionary On-line is dit "something (such as a situation or a set of conditions) in which something else develops or forms". Die skulpe, aan die hand van Helena se beskrywings en haar gevolgtrekking dat die ervarings wat op die diefstal volg moontlik 'n dieper betekenis kan hê, kan dus as 'n meervlakkige, enigmatiese en bowenal metaforiese konsep beskou word, iets bo-aards, waaruit iets anders moet ontwikkel of gevorm moet word.

Volgens Louise Viljoen (2) is dit nie noodwendig die geval nie. Sy verwys na "Helena se weiering om haar verhouding met die skulpe te sien as 'n teken van of heenwysing na iets anders", as 'n aanduiding dat die belangrikste betekenisse nie noodwendig weggesteek is agter iets anders nie, maar ook in die oppervlak of die voor die hand liggende gesetel kan wees. Hierdie artikel sal aantoon dat die stelling gedeeltelik geldig is; dat die belangrikste aspek van die roman die verlies van Helena se skulpe is en dat die innerlike konflik wat daarop volg lei tot 'n herbesinning soos deur Van der Merwe (242) aangedui, dat hierdie herbesinning buite die grense van die tradisionele godsdiensbelewing lê, dat daar 'n nou verband is tussen die skulpe en die heling wat uiteindelik moet plaasvind, en dat die implikasies van die skulpe as hemelse boodskappers verdoesel, weggesteek of verbloem lê: "Die verlies van my skulpe is 'n voorwendsel [...] 'n poging van die geslepe psige om die vroeër, pynliker verliese te verdoesel." (157)

Die artikel sal verder aantoon dat Van den Heever se teleologiese argument vir die bestaan van 'n Skepper wat alles vooruit bestem, op 'n ander vlak voortgesit kan word, naamlik deur middel van 'n nie-tradisionele, esoteriese benadering tot die konsepte van" toeval" en "toeverlaat". Een van die uitvloeisels van die esoterika wat bespreek sal word is die Kabbalisme, wat in wese gebaseer is op die metaforiese konsepsie dat fragmente, of skulpe, uit die hemel neerdaal met 'n boodskap wat verstaan moet word (Gal Einai Institute). Die Kabbalisme vorm 'n integrale deel van die Judaïsme en is 'n stel esoteriese leringe binne die dissipline van die mistieke en skriftuurlike teosofie, 'n wetenskap vir die verstaan van die heilige geskrifte wat bekend geword het as die Teosofiese Kabbalisme (Revealing the Science of God.com).

 

Die esoterika

Die esoterika verwys na esoteriese menings of gelowe, met ander woorde, idees wat in stand gehou en verstaan word deur slegs 'n klein groepie ingewydes (Merriam-Webster Dictionaries On-line). Volgens Richard Smoley is die woord esoterica vir die eerste keer in 166 n.C. gebruik as adjektief vir die beskrywing van Plato se verwysings na "die innerlike dinge" en "die uiterlike dinge", en die noodsaaklikheid vir die mens om van sy binnelewe bewus te raak deur middel van meditasie of kontemplasie. Die term, volgens Wouter Hanegraaff (99-102), kan ook verwys na akademiese studies van esoteriese godsdienstige bewegings en filosofieë, maar oor die algemeen na godsdienste of filosofieë buite die hoofstroom. Volgens Hanegraaff was hierdie soort studierigtings tot redelik onlangs beperk tot voetnote in die filosofie en teologie omdat dit nie voldoen het aan die kriteria vir kritiese navorsing nie. Die beginsels en praktyk van die esoterika was derhalwe hoofsaaklik beperk tot mondelinge tradisies of geheime organisasies, sodat dat daar weinig betroubare inligting beskikbaar was vir die navorser. Inligting kan steeds net bekom word deur self deel te word van so 'n beweging of iemand wat 'n lid is, daaroor uit te vra. Volgens Hanegraaff word wetenskaplike navorsing in die esoterika oor die algemeen steeds as "dooie materiaal" beskou, insluitend die Kabbalisme en die mistisisme, as die werk van visionêre of dromers.

Die Stanford Encyclopedia of Philosophy beskou Gersham Scholem (1897-1982) as een van die eerste en mees bekende kenners van die esoterika, wat indringend navorsing gedoen het oor veral die Kabbalisme tot voor die moderne era. Baie min navorsing is sedertdien gedoen en tans is die hoofbronne vir inligting oor die historiese ont-wikkeling van dié tradisie pamflette, artikels en webtuistes wat op die internet te vind is.

Lo Guest, 'n kenner op die gebied van die Joodse mistisisme, het tydens 'n praatjie by die Theosophical Library Centre in Altadena gewys op een van die beginsels van die Kabbala voor die moderne era, dat studies daarvan geslote moet wees vir gewone mense (ook vir vroue) en slegs toeganklik vir diegene wat deeglik daarop voorberei is, dit wil sê, na jare se studie van die Bybel en die Talmoed. Die geheime daarin vervat is as misties en okkulties geklassifiseer en kon slegs binne die Hassidiese beweging bestudeer word. 'n Student van die Zohar (wat die Joodse mistisisme omskryf) was beskou as iemand met een taak op aarde-om van die wêreld 'n beter plek te maak.

Volgens die webtuiste Revealing the Science of God.com kan die skriftelike tradisie teruggevoer word na ongeveer 2000 jaar gelede, en die mondelinge sover terug as 4000 jaar gelede. Die ortodoks-teologiese siening is steeds dat die Kabbala te subtiel en misterieus is om verstaan te word sonder ervare mentorskap. Die moderne benadering is dat die Kabbala deur enigeen wat belangstel, bestudeer moet kan word en daarom is inligting daaroor op talle toeganklike webtuistes beskikbaar. Daar is dikwels verskille in die besprekings oor die Kabbala maar oor die algemeen word dit beskou as 'n dissipline van mistiese en skriftuurlike teosofie (The Kabbalah Centre, New York; The Goldstein-Goren International Centre for Jewish Thought).

In 'n artikel oor die beginsels van die moderne Kabbala skryf Drob (The New Kabbalah) dat die bekendste en belangrikste uitvloeisel daarvan die Teosofiese Kabbala is. Volgens die Gal Einai Instituut en die Encyclopedia of Jewish History and Culture, behels dit onder andere die studie oor die aard van die Godheid, die verwantskap tussen die eindige en oneindige en hoe die wêreld ontstaan het. Die fundamentele taak van die Teosofiese Kabbala is om die struktuur van die heelal te verduidelik, veral hoe die heelal kan bestaan indien God wel oneindig en dus onkenbaar is. Joodse filosowe het antwoorde verskaf vir hierdie vrae, maar die Kabbaliste het van hulle verskil. 'n Metaforiese siening van die skepping is geformuleer waarin die Oneindige Lig beskryf word as 'n reeks prismas wat lig inkleur en so vorm gee aan die vormlose. Hierdie prismas word die Sefirot genoem, houers gevul met goddelike energie wat vir die skepping verantwoordelik is. God manifesteer homself deur middel van die Sefirot, en wat die mens sien as "God" is maar een gesig van die Ein Sof, die Oneindige. Hierdie siening word deur beide skole van die Kabbalisme aanvaar.

Die denkraamwerk van die teosofie, volgens die gesaghebbende Theosophy Library On-line verteenwoordig die wysheid onderliggend aan die wêreld se godsdienste, wetenskappe en filosofieë. Die Oxford English Dictionary beskryf teosofie as enige spekulatiewe sisteem wat sy kennis van die natuur baseer op dié van die goddelike natuur. Die HAT beskryf dit as 'n mistieke leer omtrent die wese van die bestaande wat gedeeltelik op Boeddhistiese opvattings berus (1077). Oxford Dictionaries.com definieer die teosofie as enigeen van 'n aantal filosofieë wat aanvoer dat kennis van God verkry kan word deur spirituele ekstase, direkte intuïsie, of spesiale verwantskappe.

In sy moderne vorm is teosofie 'n spirituele filosofie wat ontwikkel is deur Helena Blavatsky (1831-91), een van die min persone in die negentiende eeu wat die Kabbala verstaan het (Sender 25-31). Sy het haarself as 'n mistikus en spiritistiese medium beskou en in haar boek The Secret Doctrine beskryf sy die teosofie as 'n konsep wat deur die Alexandriese filosowe ontwikkel is en 'n term wat reeds sedert die derde eeu n.C. in gebruik is. Blavatsky se boek het gelei tot die stigting van die Theosophical Society in New York op 17 November 1875 en is in 1905 by Chennai in Madras geïnkorporeer (The Theosophical Society). Die Vereniging se aanvanklike doelstellings, volgens die inligtingswebblad, was (a) om 'n nukleus te vorm van universele broederskap sonder inagneming van ras, geslag, geloof of afkoms, (b) om studies in geloof, filosofie en die wetenskappe aan te moedig, en (c) om ondersoek in te stel na die onverklaarde natuur-wette en kragte latent in die mens.

Die Vereniging was veral in die laat 1900's en vroeg in die twintigste eeu aktief, en het bygedra tot die ontwikkeling van verskeie esoteriese, mistiese, filosofiese en godsdienstige bewegings soos alchemie, astrologie, die okkulte, Joodse Kabbalisme, Mormonisme en Spiritualisme. Die webblad TheosophyLinks.net verskaf 'n wye netwerk van skakels waarin die latere doelstellings van die Theosophical Society uiteengesit word: (a) dit is 'n staat van innerlike ontluiking of Goddelike wysheid wat 'n persoon kan bereik deur middel van intellektuele en spirituele ewolusie; (b) dit is die wysheid onderliggend aan alle godsdienste wanneer hulle gestroop is van aanpassing en bygeloof, en (c) dit is die taak van die leiers van die Teosofiese Vereniging om hierdie beginsels uit te dra.

 

Die gesteelde skulpe: meer as net 'n verlies

In hierdie artikel sal aangetoon word dat dit veral die latere doelstellings van die Vereniging is wat aan die bod kom. Daar is reeds verwys na die diefstal van Helena se skulpe as 'n tema van verlies (Human "Verlies", "Leeg"; Van den Heever; Viljoen). Vir Helena is dit egter meer as net die verlies van 'n kosbare versameling; dit dwing haar tot 'n dieper inkyk in die self om 'n rede te vind vir haar verdriet. Wat was haar skulpe vir haar werd? moet sy haarself afvra (22). In die dae wat volg op die diefstal formuleer sy haar redes: die skulpe was intiem verbonde aan haar geestelike welsyn, dit het die plek van tradisionele godsdiens ingeneem. Sy het gemediteer op haar skulpe en nie net die wonder van die skepping daarin gesien nie, maar ook innerlik versterk gevoel; dit het gehelp om haar te sentreer en haar angsvlakke te verlaag (12). Haar vertroue in die skepping is so herstel, en haar daarvan bewus gemaak dat sy 'n skakel is in die onmeetbare ketting van toeval wat alle mense verbind (22; 80). In haar desperaatheid om die verlies te verwerk verwys sy na die skulpe as haar hemelse boodskappers, as verteenwoordigers van die skepping (10-13; 80). Sy beskryf die estetiese skoonheid van haar skulpe as anderwêrelds, uit die rangorde van die engele en die leërskares van die heiliges, veral as hulle van onder só belig is dat hulle gegloei het. Sy vind dat sy nog altyd geglo het in die onverskilligheid van die heelal, maar kan terselfdertyd nie aan haar skulpe dink sonder om aan die wonder van die skepping te dink nie (308).

As gevolg van die innerlike konflik raaksy in 'n godsdiensdienstige diskoers met haarself verstrengel (Van den Heever 33-36), dit is asof haar verlede oopgevlek word sodat sy van al haar vergrype moet kennis neem. Sy raak meer bewus van die rol van die gestorwenes: haar ouers, haar broertjie en haar suster Joets. Watter rol speel hulle in haar lewe? Moes sy haar sieleheil op ander maniere probeer bewerkstellig het? (41, 222, 276).

Haar gewese man, wat hom bemoei het met welsynwerk en die opheffing van mense, het haar daarvan beskuldig dat sy onmenslik, koud en harteloos is, met 'n beperkte emosionele register, in menslike terme waardeloos (86-89). Haar minnaar, Frans, sien sy maar selde, wat stremmend op hulle albei inwerk. Moes sy meer in verhoudinge en minder in dinge belê het? Dan is daar die enigmatiese Freek van As, wat haar snags bel. Sy kan hom nie onthou nie maar hy ken haar blykbaar goed: 'n donker kêrel, stel sy haar voor, swamagtig bleek, 'n kwispelstert, met 'n lispelende stem, en 'n liggaamlike afwyking van een of ander aard-dalk 'n horrelvoet (17, 55, 127, 140-42, 226-28). In die gesprekke met Helena krap hy 'n half vergete verlede oop oor die verliese wat sy gely het aan die hand van kennisse en minnaars. Daar was tydperke van vergissing en swak oordeel in haar lewe, dit erken sy. Maar wat het dit met die verlies van haar skulpe te doen?

Haar ander verliese kom nou in drome en gedagtes na vore, soos die dood van haar familielede (222, 314). In haar werkskring het sy geleentheid om intellektuele gesprekke te voer met wetenskaplikes, maar ook hier is verlies in aantog. Fondse vir die projekte is besig om op te droog. Haar werk saam met die taalkenner Theo Verwey aan Afrikaanse woorde wat vergete kan raak sien sy ook as 'n verlies, net soos haar taak om 'n keuse te maak van Afrikaanse boeke wat behoue kan bly. Dan is daar natuurlik ook Theo se onverwagse dood (7, 41, 106-07, 132).

Dit is in hierdie omstandighede dat haar intellektuele gesprekke met Hugo Hatting, museumkollega en paleontoloog, 'n belangrike rol speel (95). Sof, haar kollega en latere vriendin en reisgenoot, sit die gesprek oor ewolusie aan die gang, en sodoende word 'n ou belangstelling weer lewendig vir Helena. Sy wil by Hugo weet wat die omstandighede was wat gelei het tot die ontstaan van lewe, op die funksionering van bewussyn, en gevolglik die mens se bestaansdilemma as 'n dier met 'n onderont-wikkelde intelligensie en bewussyn van sy eie sterflikheid-is alles wat is en nog sal wees maar die gevolg van toeval? Watter rol speel die menslike bewussyn? Hugo se uiteindelike konklusie is dat "[A]lles wat hier is, is die gevolg van toeval", van "biljoene kontingente gebeurtenisse" wat gelei het tot die ontstaan van die mens (113, 149).

Die toeval word nou vooropgestel. Die mens het ontstaan, verstaan sy nou, nes die gewerweldes-'n mond en 'n anus, verbind deur 'n rudimentêre senuwee (52). Maar Helena se vraag oor hoe die menslike bewussyn en selfkennis ontwikkel het, is nog nie beantwoord nie.

 

'n Teosofiese perspektief

Die eerste leidraad wat daarop dui dat die antwoorde waarna Helena soek moontlik in 'n andersoortige benadering as dié wat reeds genoem is (Van der Merwe; Viljoen; Human "Grondig", "Verlies", "Leeg"; Van den Heever) te vinde is, is die eiename Theo en Sof. "Theo", volgens die Collins English Dictionary, is afgelei uit die Griekse woord theos, wat verwys na God, of gode. "Sophia", en sy afleidings Sofia, Sofie, of die verkorte vorm Sof, beteken wysheid, en met "theo" saamgelees, goddelike wysheid, of teosofie. Volgens Blavatsky (vii) verskaf die teosofie allesomvattende verduidelikings vir die oorsprong, werking en uiteindelike lot van sowel die mensdom as die heelal. Hierdie verduidelikings word egter deur Blavatsky as geheim geklassifiseer, derhalwe verskans, weggesteek, verbloem (xvii). Daar kan dus aanvaar word dat Helena Verbloem se intellektuele en metafisiese soektog haar op allerlei weë sal lei, maar veral op die pad wat deur die ander Helena oopgetrap is. Haar fisiese speurtog word daarmee 'n metafoor vir die intellektuele soektog wat haar buite die grense van haar bekende omgewing en belewing neem.

Ook Theo Verwey word betrek in die tekskodes wat verband hou met die teosofie soos deur Blavatsky ontwikkel. Jiddu Krishnamurti (1895-1986) was 'n skrywer oor filosofiese kwessies en is deur die Theosophical Society in Madras, Indië "ontdek". In 'n artikel in The Theosophist beskryf Sender (25-31) hom as 'n meester, of maitreya, wat die leerstellings van die beweging verkondig het as onderliggend aan alle godsdienste. Matroos beweer Theo is deur 'n Indiër vermoor weens sy homoseksualiteit (8). Op 'n stadium wys Theo heel ingenome vir Helena 'n antieke Indiese ring, wat hy aan sy pinkie steek (175); later kom hy by die kantoor aan met 'n beeldjie van die Hindoe godin Kali en die god Sjiwa wat hy op sy lessenaar hou (225).

Die teosofie dek 'n wye spektrum van okkultiese of mistiese filosofieë en 'n beroep word dus op die leser gedoen om al hierdie aspekte te ontgin; om as't ware alternatiewe, onbekende of selfs ongewenste weë te oorweeg vir antwoorde op die vrae wat gestel word. Sof, met haar pastorieverlede, tree vorendag om Helena te vergesel op die "dwaalweë" wat sy vir haarself voorsien. Een van die moontlike alternatiewe wat hom voordoen is juis die benaming Sof, soos vergestalt word in die Ein Sof, die mistieke Kabbalistiese konsepsie van God en die totstandkoming van die heelal.

 

Die teosofiese kabbalisme en die Ein Sof

Soos reeds genoem is die Kabbala 'n uitvloeisel van die Judaïsme, 'n antieke mistiese tradisie gebaseer op 'n esoteriese interpretasie van die Ou Testament. Dit is 'n universele wysheidsleer wat die Bybel en godsdiens antedateer, en gee onder andere 'n perspektief op die skepping en die eerste wese wat tydens die skepping tevoorskyn gekom het in die vorm van Adam Kadmon (Gal Einai Institute; The Kabbalah Centre, New York).

Adam Kadmon word ook in ander godsdienstige en filosofiese tradisies beskryf, soos die Indiese Upanishads (Das), as die primordale mens wat saamgestel is uit al die elemente wat die heelal sou vorm, en as die siel of essensie van alle dinge. Hierdie siening staan in teenstelling met die beskrywings van die Bybelse Adam as primitief, ongetem, in die natuur ingebed, onderworpe aan die toevallighede van die menslike bestaan en vir altyd gedoem tot swaarkry en lyding deur struikelblokke wat oorkom moet word (Kelly 433).

Park (ii) verwys na die vervlegtheid van orde en misterie in die wysheidsliteratuur van die Bybel met temas soos die potensiaal en beperktheid van die mens. Die Gal Einai Instituut verwys na die Heilige Lig van God as misterieus, weggesteek. Die Ein Sof word metafories beskryf as die Lig waarin God hom aan die begin onttrek het en homself gekonsentreer en vasgevang het in sy eie perfeksie. Hierdie Lig is onkenbaar, verbloem, en buite die mens se begrip of kennis. Die mens kan dus met reg vra, dat indien God vir die mens voortdurend 'n misterie sal wees en hom buitendien onttrek en verbloem het sodat die mens hom nooit ten volle kan leer ken nie, wat is dan die doel van die lewe? Waarom bestaan daar hoegenaamd enigiets?

Die proses waardeur God in die mens se lewe manifesteer word beskryf deur die rol van Adam Kadmon. Aan die begin het Lig uit sy oë, neus, ore en mond gestroom. Hieruit het die tien argetipiese en metafisiese waardes, die Sefirot, ontstaan, soos wysheid, begrip, genade, skoonheid en geregtigheid, asook die 22 heilige letters wat die boublokke van die heelal gevorm het. Hierdie goddelike Lig het in materie getransformeer en houers gevorm, wat die nimmereindige uitstralings opgevang en geberg het. Op 'n sekere stadium kon die houers, of kruike, soos dit dikwels voorgestel word, nie meer die Lig absorbeer nie en uitmekaar gebars. Fragmente van die gebreekte kruike het deur die metafisiese ruimte getuimel, maar in elkeen was daar flikkeringe van die Lig behou. Die ligflonkerings was in donkerte gehul en het deurgeval tot aan die Ander Kant, die fisiese wêreld. Die 22 heilige letters wat aanvanklik betekenisvolle groeperings gevorm het, het in 'n Babelse verwarring verval, en die eens volmaakte heelal is in twee geskeur-so het daar 'n dualiteit ontstaan, en die primordale mens het nou twee fasette aangeneem, naamlik manlik en vroulik (Gal Einai Institute; The Kabbalah Centre, New York; The Goldstein-Goren International Centre for Jewish Thought).

Die eens perfekte argetipiese waardes was nou binne-in die skerwe vasgevang; die Goddelike Lig weggesteek in 'n harde omhulsel, dop, of skulp, afgesny van die Ein Sof. Die wêreld is so in twee verdeel, in goed en kwaad, en donkerte en lig, maar albei steeds konstituente van die werklikheid. In 'n dualistiese wêreld sal die mens op sy lewenspad mense teëkom en ervarings beleef waarin die goddelike ligflonkerings vasgevang is, en wat hy op een of ander manier kan gebruik om die lig in sy eie gees te voed. Hy sal dus die geleenthede kry om van die wêreld 'n beter plek te maak, of dit verder die donkerte inhelp. Hierdie ideaal, wat chaos en wanorde teëwerk, gee betekenis aan die sinlose, en konkretiseer die abstrakte, metafisiese waardes van die Sefirot. So word perfeksie nagestreef en herintegrasie met die Ein Sof bewerkstellig. Ein Sof word dus gereflekteer in die hart en gees van die mens, en werklik gemaak deur die helende dade van die mensdom.

Net soos die Sefirot nie die volle omvang van die Goddelike energie kon beheer nie, is die mens se eerste insigte of idees nie in staat om die volle omvang van sy eie kreatiewe energie te begryp of uit te druk nie. Hierdie idees versplinter, nes die Sefirot, sodat die energie of idees wat hy self bedink aanvanklik gedeeltelik verbloem lê en niks bydra tot sy vordering nie. Die individu sal dus wat oorbly van sy oorspronklike idees of insigte moet herbedink en herorganiseer, en so die proses van skepping en herskepping tydelik voltooi, want die proses herhaal homself, ad infinitum. Hierdie een mens se poging word dan deel van die algehele herskepping en herstel van die wêreld. Die vraag oor wat die doel van die lewe is, of die mens aan sy lotgevalle oorgelaat is en aan die toevallighede van bestaan onderworpe is, raak hiermee irrelevant, en die vraag oor die rol van toeval in die mens se lewe beantwoord.

 

Die toeverlaat

Die Tesourus van Afrikaans (655) beskryf "toeverlaat" binne die konteks van hulp-verlening, onder andere as "aanmoediging", "welwillendheid", "toegeneentheid", " 'n hulpmiddel of hulpdiens"-konsepte met 'n praktiese, wêreldse aanslag, in teen-stelling met toeval wat op 'n metafisiese vlak van toepassing is.

Na 'n gesprek met Frans, haar minnaar, staar Helena uiteindelik haar eie demone in die gesig en sy moet haarself afvra: waarvan wend sy haar gesig af? Wat wil sy nie onder oë sien nie, wat bly sy verbloem? Haar moeder se leed? Haar vader se onartikuleerbare berou? Joets se verydelde lewe? Die kortstondigheid van die aardse bestaan, pyn van kinders, lyding van volkere, die menslike nietigheid, sy benarde posisie in die heelal? "Toon geen genade nie", sê Freek van As vir haar in 'n laaste nagtelike oproep, uit die donkerte, sy stem nat en swamagtig, met 'n slymerige hoesbui wat hom oorval, "alvorens jy nie alles afgelê het nie" (304).

In Ladybrand moet sy oplaas toegee, haar skulpe is weg. Sy het tot by die grens gekom, verder kan sy nie. In haar omgang met die randfigure wat sy daar ontmoet, moet sy aan haarself erken dat sy meer vir die skulpe omgegee het as vir mense, dat sy haar verlies moet neerlê, miskien iets daaruit leer. Die "lady" begin "brand", by wyse van spreke; Helena se koue hart ontdooi, sy sien dat Jaykie ook sorge het, sy omhels hom, sit haar wang teen syne, "arme jongeling, arme kind", dink sy (208). Bennie Fortuin word begrawe, sy verbeel haar dat haar skulpe saam met hom ter ruste gelê word: 'n skulp op elk van sy geslote ooglede, in elk van sy okselholtes, in sy gevoude hande, in elke lies en op sy geslag, met die swaar konusse by sy voete (328). So kan dit saam met Bennie ontbind en terugkeer tot stof. Sof het trooswoorde vir Helena, dat die skulp, en nie die mens nie, die kroon van die skepping is; dat sy daaraan moet dink dat haar verlore skulpe in die hemel is, en die troon van God versier.

Soos in Niggie (Botha en Van Vuuren 120,123,131) speel drome 'n belangrike rol in die teks. Human ("Leeg" 7) verwys na Freud se teorieë oor drome as bewuste ervaring wat in die onbewuste gestoor word, en die argetipiese aard van die karakters wat so manifesteer. Die nagtelike opbeller, Freek van As, is so 'n diaboliese argetipiese figuur uit haar onbewuste, hy speel duiwelsadvokaat om dit wat nog verbloem lê, te ontbloot, sodat sy daaraan erkenning kan gee (328).

Die dualisme wat deur die Ein Sof voorsien word, word deur Sof vergestalt. Sy het kennis van albei wêrelde: as pastoriedogter het sy grootgeword binne 'n Godvresende familie- en godsdiensstruktuur, maar sy was ook bewus van die geveinsdheid van gemeentelede. Sy bel ook snags, nes Freek van As, met inligting vir Helena oor haarself: dat sy dit soms oorweeg om haar man dood te maak, met 'n vleismes in die hart te steek terwyl hy rugby kyk. Dis haar verdiende loon, sê sy, omdat sy willoos was toe sy met hom getrou het, geen ruggraat gehad het nie (101). 'n Ander keer vertel sy dat die hel waarskynlik haar voorland is weens haar afdwaling, dat sy oorweeg om 'n minnaar te vat, 'n kreupele met rooi hare, asof afwykings vir haar erotiese opwinding meebring (142,171). Soos met Freek van As, vorm Sof se ontboeseming deel van Helena se proses van herstel. Sof verteenwoordig die argetipiese en dualistiese Anima en Animus (Jung 205-06), die kreatiewe energie wat die individu se keuses ten opsigte van emosionele verbintenisse beïnvloed. Sof ken die wêreld van goed en kwaad, verstaan hoe die werklike lewe werk, het beheer oor haar lewe geneem al werk dit nie altyd uit soos sy gehoop het nie. Hiervan moet Helena kennis neem sodat sy vrede kan maak met die dualisme wat in haar eie lewe manifesteer.

 

Die herstel van orde en balans

In een van sy nagtelike oproepe herinner Freek van As Helena aan haar kennis van Plato (16, 24). Die mens is in sy liggaam vasgevang, sê Plato in sy Phaedrus, 249d-250c, soos 'n oester in sy skulp. Die skulp, met sy harde, uiterlike dop ("uiterlike dinge"), en sagte binnekern ("innerlike dinge"), kan vertolk word as 'n metafoor vir die mens wat die afskynsel van die Goddelike, kreatiewe energie in hom dra en wat daar versteek bly lê, totdat hy dit ontdek en sy lewe daarvolgens inrig. Die perfeksie van haar skulpe het Helena intuïtief nader aan die Godheid gebring, maar haar obsessie met hulle uiterlike vorm en estetiese skoonheid het haar afgesny van die binnekern, die Ein Sof, sodat sy die ligflonkerings in ander misgekyk het en sodoende ook die lig in haar eie gees (331-33). Aan die begin van haar soektog moes sy aan haarself erken: "Ek is nog nie 'n skulp nie. Ek word nog bewoon deur 'n ego, soos deur 'n weekdier ..." (155). Nes die Sefirot moes haar eerste oordele versplinter omdat dit niks bygedra het tot haar sieleheil nie. Aan die einde kan sy beken: die skulpe is 'n standvastigheid teenoor die vervlietende aard van die mens se bestaan (307-08). Haar eie idees moes opsy gestel word sodat sy haar kreatiewe energie kon begryp en sodoende die geleenthede om van die wêreld 'n beter plek te maak kon raaksien, chaos en wanorde teëwerk en herintegrasie met die Ein Sof bewerkstellig.

 

Ten slotte

Margaret Lenta vra in 'n onderhoud aan die skrywer wat die "toeval en toeverlaat" dan behels: is dit 'n geval van "chance pitted against agency, conscious direction/ consciousness?" (164-72). Die skrywer se antwoord is dat "in The Book of Happenstance chance is not pitted against agency, but against refuge or solace", dit wil sê, die wisselvallighede van die lewe teenoor skuilte of vertroosting.

Deur die Joodse Kabbala as 'n uitvloeisel van die teosofie te ontgin is 'n alternatiewe perspektief op Helena Verbloem se lewe en haar siening oor haar lotsbestemming gegee. Haar soektog na haar skulpe word uiteindelik meer as pogings om haar kosbare kleinode terug te kry. Sy moes haarself tot die uiterste beproef, al die goed en die kwaad wat sy in haar omdra, erken, en die werklikheid agter die sigbare raaksien voordat heling kon plaasvind. In haar werk vind sy konsolasie, in Sof susterlike vertroosting; haar minnaar se toenadering aanvaar sy weer, haar skulpe is ter ruste gelê, haar gemoed is rustiger as tevore. Die werk wat sy saam met Theo Verwey begin het sit sy voort, met dieselfde sin vir ordelikheid-drie reëls van agt letters elk, en 'n vierde reël met twee letters. Sy vind ook troos in die simmetrie van die driehoeks-vorm, op metaforiese vlak die driehoek van die skepper, die skepping en die misterie van die skepsel binne die skepping (307). Haar broer kom terug, soos die verlore seun, haar familiekring is herstel (331-33). Sy droom van 'n wurm wat transformeer in 'n helderkleurige salamander, simbolies van hernuwing, hergeboorte en groei (332).

Aan die einde van haar fisiese en intellektuele reise beskou Helena nie haar lotsbestemming as voorafbepaal deur 'n Voorsienigheid nie (Van den Heever 106-08), "maar as die sameloop van 'n honderd, van 'n duisend en een klein toevallighede" (328). Sy kan wel die hand van die noodlot sien in die wispelturigheid en ver-anderlikheid van die wêreld om haar, maar sy het haar obsessie daarmee verloor. Waar Van den Heever (104) geen resolusie of sluiting aan die einde van die verhaal vind nie, voorsien Louise Viljoen in haar resensie die moontlikheid dat die toeverlaat gevind kan word in die aanvaarding van die toevalligheid van bestaan en die ordelike strukture wat tot stand kom as gevolg daarvan.

 

Geraadpleegde bronne

Blavatsky, H. P The Secret Doctrine. The Synthesis of Science, Religion, and Philosophy. 1 Jun. 2011. The Theosophical University Press Online Edition, 1888. <http://www.theosociety.org/pasadena/sd/sd-hp.htm>         [ Links ]

Botha, Marisa en Helize van Vuuren, Helize. "Taal moet weerstand bied: 'n Verkenning van Niggie."Tydskrif vir Letterkunde 44.2 (2007): 119-33.         [ Links ]

Collins English Dictionary. 1 Aug. 2011. <http://www.collinsdictionary.com/dictionary/english>         [ Links ].

Dan, Joseph. Kabbalah: A Very Short Introduction. 2011. 1 Feb. 2011. <http://kickass.to/kabbalah-a-very-short-introduction-joseph-dan-non-fiction-mobi-epub-pdf-k-slender-t7791397.html>         [ Links ].

Das, Subhamoy. "The Hindu concept of 4 yugas." 2013. 19 Feb. 2014. Chinese Buddhist Encyclopedia. <Chinabuddhismensyclopedia.com>         [ Links ].

Drob, Sanford. "The New Kabbalah." 2011. 17 Feb. 2014. <http://www.newkabbalah.com/index3.html>         [ Links ].

Gal Einai Institute. 2011. "Authentic Jewish Mysticism and Thought." 2011. 5 Mei 2011. < http://www.inner.org/about/index.php>         [ Links ].

Guest, Lo. 2005. "Kabbalah and Theosophy." Theosophical Library Center, Altadena. 2005. 1 Aug. 2011. <http://www.theosociety.orgpasadena/sunrise/author/adex-e-k.htm>         [ Links ].

Hackforth, R. vert. en red. Plato's Phaedrus. Cambridge: CUP, 1972 [1952].

Hanegraaff, Wouter J. "Empirical Method in the Study of Esotericism." Method & Theory in the Study of Religion 7.2 (1995): 99-129.         [ Links ]

Human, Thys. 2006. "Grondig droef en verduiwels snaaks." Beeld 20 Nov. 2006. 13.         [ Links ]

________. "Verlies in die oeuvre van Lettie Viljoen/Ingrid Winterbach." DLitt diss., U van Johannesburg, 2007.         [ Links ]

________. "Om leeg te word soos 'n skulp: verlies en verganklikheid in Die boek van toeval en toeverlaat."LitNet Akademies 6.1 (2009): 1-17.         [ Links ]

Encyclopedia of Jewish History and Culture. 17 Feb 2014. <www.jewishvirtuallibrary.org/isource>         [ Links ].

Goldstein-Goren International Centre for Jewish thought, Ben Gurion University, Negev, Israel. 18 Feb. 2014. <www/bgu.ac.iVcjt/>         [ Links ].

Jung, C. G. red. Man and His Symbols. Londen: Aldus Books, 1964.         [ Links ]

Kelly, J. N. D. Early Christian Doctrines. San Francisco: Harper Collins, 1978.

Lenta, Margaret. "Ingrid Winterbach: Novelist (interview)." Current Writing 21.1-2 (2009): 164-72.         [ Links ]

Merriam-Webster Dictionaries On-line. 18 Feb. 2014. <http://www.merriam-webster.com>         [ Links ].

Oxford Dictionaries On-line. 18 Feb. 2014. <http://www.oxforddictionaries.com>         [ Links ].

Plato. "Notes on and excerpts from Plato's Phaedrus." 1 Sept. 2011. <http://www.hermes-press.com/phaedrus_notes.htm>         [ Links ].

Park, Byeong-Cheol. "The Search for Order and the Maintenance of Mystery in Old Testament Wisdom Literature." PhD diss., U of Stellenbosch, 2010.         [ Links ]

"One Possible History of Kabbalism." <http://www.revealingsdenceofgod.corm/> 5 Mei 2013.         [ Links ]

Sender, Pablo D. "The Roots of Theosophy." The Theosophist. 129.3 (2007): 100-06.         [ Links ]

Smoley, Richard. 2002, 2006. Inner Christianity: A Guide to the Esoteric Tradition (Audio book), 2006 [2002]. 18 Feb. 2014. <http://www.audible.co.uk/pd/Religion-Spirituality/Inner-Christianity-Audiobook/B004FTHBRW/ref=a_search_c4_1_1_srTtl?qid=1392923437&sr=1-1>         [ Links ].

Stadler L. G. & A. de Stadler. Tesourus van Afrikaans. Pharos, Kaapstad, 2007.         [ Links ]

Stanford Encyclopedia of Philosophy. 18 Feb. 2014. <www.plato.stanford.edu.         [ Links ]>.

The Kabbalah Centre, New York. "Introduction to the Kabbalah." 17 Feb. 2014. <www.newyork.kabbalah.com/>         [ Links ].

<www.Theosophylinks.net.> 17 Feb 2014.         [ Links ]

Theosophical Society in America. The Theosophical Online Research Center. 1 Sept 2011. < http://www.theosophical.org/online-resources>         [ Links ].

Theosophy Library Online. 15 Nov. 2012. <Theosophylibrary.org>         [ Links ].

Van den Heever, Aletta Jacoba. "Toevalligheid in Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat." MA tesis, U van Stellenbosch, 2010.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. "Alles vloei en niks hou stand: 'n Verkenning van Die boek van toeval en toeverlaat." Stilet 20.1 (2008): 163-76.         [ Links ]

Van der Merwe, Chris. "Die boek van toeval en toeverlaat." Tydskrif vir Letterkunde 44.1 (2007): 242-44. Resensie.         [ Links ]

Viljoen, Louise. "Die boek van toeval en toeverlaat: 'n rykdom van verbeelding, besinning en toespeling."LitNet Akademies 2007. 20 Mrt 2007. <http://www.litnet.co.za/Article/i-die-boek-van-toeval-en-toeverlaat-i-n-rykdom-van-verbeelding-b>. Resensie.         [ Links ]

Winterbach, Ingrid. Die boek van toeval en toeverlaat. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006.         [ Links ]

________. Niggie. Kaapstad: Human en Rousseau, 2002.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License