SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 número2The politics of rape: Traces of radical feminism in Disgrace by J. M. CoetzeeThe displaced Male-Image in Kaine Agary's Yellow-Yellow índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.50 no.2 Pretoria  2013

 

Van vandag af is jou naam Februarie!' Naamgewing en naam-stroping in tekste van Diana Ferrus, I. D. du Plessis en Rayda Jacobs

 

'From today onwards, your name is February!' Naming and name stripping in texts of Diana Ferrus, I. D. du Plessis and Rayda Jacobs

 

 

Shamiega Chaudhari

Shamiega Chaudhari is verbonde aan die Departement Afrikaans op die Oos-Londense kampus van die Universiteit van Fort Hare. E-pos: sisaacs@ufh.ac.za

 

 


ABSTRACT

This article examines naming as the core of identity and how the stripping of a name can lead to the loss of identity. In South African history the colonisation of the Cape Colony since 1 652 is considered the start of forced labour and slavery. Although slavery had a major impact on South African history, limited slave narratives about their personal and life experiences are available. Their identity was hardly of interest to the colonists and it is therefore not surprising that the colonists were not concerned about the effects and consequences of name stripping on the marginalized slave. Naming is an ancient practice which deserves to be explored in its relation to identity. Naming and identity are inextricably linked. Richard D. Alford found that no single society exists which does not bestow personal names on its members. A personal name leads to individualisation and once it occurs naming enters the realm of identity. The effects of name stripping still surfaces centuries later with many descendents being unable to trace their family roots. Despite extended postcolonial research on various related fields, not much emphasis has been placed on naming and/ or name stripping of personal names in South Africa. This article explores the cognition of naming and the consequences of name stripping in contemporary Afrikaans literary texts. It argues that by stripping individuals from their names, they are torn from their history, place and culture. It specifically highlights naming techniques such as pejorative, calendar, classical and biblical names used to dehumanise and disempower slaves. These techniques will be examined in texts from three literary genres, the novel, The Slove Book by Rayda Jacobs, short stories in Drie Wêreldde ["Three Worlds"] by I. D. du Plessis and the poem, "Ons komvandaan" ("My Ancestry") by Diana Ferrus.

Keywords: identity, marginality, namestripping, naming.


 

 

"When power is unequal and people are colonized
at one level or another, naming is manipulated from the outside." (Alia 1)

 

Inleiding

Die kolonisering van die Kaap in 1652 word beskou as die aanvang van dwangarbeid en slawerny (Peires 13). Volgens Karel Schoeman (50) het die eerste slaaf die Kaap in 1653 bereik, 'n jaar nadat die eerste nedersetters onder leiding van Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het . Duisende sou daarna volg. Hoewel slawerny 'n groot impak op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad het, is min slawenarratiewe beskikbaar.

Min is bekend van die slawe se persoonlike lewens, wie hulle was, hulle werklike gevoelens oor hul ondergeskikte posisies en die meesters wat hulle besit het. Die innerlike lewens van slawe is selde of nooit beskryf en indien daar wel oor hulle geskryf is, is hulle uiterlike voorkoms of hul werk beskryf. Hul identiteit as mense was beswaarlik vir die koloniste van belang omdat hulle volgens John Iliffe (128) bloot as verhandelbare goedere beskou was. Hy voer aan dat "[t]he Cape Colony was one of the most rigid and oppressive slave societies in history. [...] Slaves were treated purely as labourers [...] and was worked as hard and profitably as in the Americas. Dit is dus nie verbasend dat die stroping van 'n slaaf se oorspronklike naam geensins vir die kolonis 'n saak van erns was nie.

Hierdie artikel fokus op die naamstroping van gemarginaliseerde karakters in geselekteerde tekste. Die tekste wat ondersoek word, is The Slave Book (1998) van Rayda Jacobs, Drie Wêrelde (1970) van I.D. du Plessis en die gedig "Ons komvandaan" (2005) van Diana Ferrus. Jacobs skryf oor die koloniale era, Du Plessis se teks speel af tydens die apartheidsjare en Ferrus se teks fokus op die hede en die nostalgie na verlore identiteit. In al drie tekste tree naamgewing, naamstroping en naamloosheid sterk na vore. Voorts sal die terme "identiteit", "marginalisering", "naamgewing" en "naamstroping" kortliks beskryf word.

 

Oor terminologie

Identiteit

Stuart Hall (225) poneer dat "identity are the names we give to the different ways we are positioned by, and position ourselves within, the narratives of the past". Hierdeur verbind hy die verlede en hede van identiteitskonstruksie, 'n faset wat Charles Rotimi (152) ook aansny: "Knowing the history of our ancestors gives us a sense of belonging, identity and continuity." Hall se persepsie van identiteit vind ook weerklank in Paul Ricoeur (311) se omskrywing dat "[t]he ruling symbols of our identity derive not only from our present and our past but also from our expectations for the future [...] What we call ourselves is also what we expect and yet what we are not." Uit hierdie enkele aanhalings is dit duidelik dat identiteit nie net deur die verlede geskep word nie, maar ook deur die hede en die toekoms. Identiteit is nie staties nie, dit ondergaan voortdurende vernuwing en aanpassing. Die ontneming/stroping van 'n persoon se verlede sal dus 'n groot impak op die individu se identiteit in sowel die hede as die toekoms hê.

Marginalisering

Rose Uchem (1) omskryf marginalisering soos volg:

The term marginalization derives from the word margin, which in turn is to be on the edge, at the limit and on the fringes [...] is related, conversely, to space and freedom, in terms of scope, franchise and self-determination; in the sense of being unlimited, unconditional [...] Therefore, to be marginalized is to be limited in scope, space, freedom of operation and the right to self-determination. In the lived experience, marginalization often involves exclusion, discrimination as well as rejection, omission and isolation.

Fiona Cram (1) bring die begrip marginalisering in verband met kolonialisasie en menslike verhoudings in gekoloniseerde samelewings:

Marginalisation occurs when a group of people are pushed to the periphery of society. One key push in the marginalisation of indigenous peoples was the arrival of colonisers in our lands. Colonisation turned our worlds upside down in many ways and has made what we considered to be normal into something "different" and marginal to the mainstream of the new society.

Cram som marginalisering in drie punte op: die algehele ontmagtiging van 'n persoon, die verwydering van mense uit die hoofstroom van politieke, ekonomiese en sosiale aangeleenthede en derdens die uitstoot van 'n sekere groep tot die periferie van 'n gemeenskap of dominante groep. Binne die kader van marginaliteit kan slawe geklassifiseer word as "gemarginaliseerdes" omdat hulle aan al hierdie vereistes voldoen. So sou ook die (swart) onderdruktes tydens die apartheidsera as gemarginaliseerdes beskou kan word waar hulle ontmagtig op die periferie van die mag van die dominante (wit) groep gestaan het.

Naamgewing en naamstroping

Die vraag "Wat behels 'n naam?"-"Wat is in 'n naam?"-is al vele kere gevra. Vir Johanna Thornborrow (138) dra name belangrike inligting oor 'n individu se identiteit. Sy poneer dat 'n naam en van die individu binne 'n bepaalde tyd en ruimte vestig. Paul du Gay (302) sê in hierdie verband die volgende: "The proper name is the visible affirmation of the identity of its bearer across time and social space [...] So the proper name is the support (one would be tempted to say the substance) of social identity". Edward Deluzain (9) onderskryf hierdie aanname en verklaar die verhouding tussen naamgewing en persoonlike identiteit soos volg:

This bestowal of name and identity is a kind of symbolic contract between the society and the individual. Seen from one side of the contract, by giving a name the society confirms the individual's existence and acknowledges its responsibilities toward that person. The name differentiates the child from others; thus, the society will be able to treat and deal with the child as someone with needs and feelings different from those of other people. Through the name, the individual becomes part of the history of the society, and, because of the name, his or her deeds will exist separate from the deeds of others.

In 'n artikel vra Pieter Kapp (712): "Wat is dit wat die wesenlike kern van identiteit vorm? Wat is dit wat, as dit weggeneem word, die hele verskeidenheid verander omdat dit 'n rimpeleffek op al die ander uitdrukkinge van identiteit het?" Hoewel een van sy bevindings is dat identiteit 'n natuurlike produk van mense se daaglikse verkeer en kontak is wat tot uitdrukking kom weens instellings wat doodeenvoudig 'n natuurlike orde in die samelewing verteenwoordig, soos onder meer die gesin, sosiale verkeer, ekonomiese bedrywighede, opvoeding, skole, godsdiens en kerke, wil ek hier die gewigtigheid van naamgewing benadruk.

Die naam kan beskou word as 'n weerspieëling van 'n individu se identiteit. Belangrike inligting omtrent 'n persoon se identiteit word in 'n naam en van, die familienaam, vervat. Met betrekking tot persoonlike name in die besonder, voer Bertie Neethling (4) aan dat laasgenoemde nie net as merkers van persoonlike identiteit funksioneer nie, maar ook aanduidend van sosiologiese strukture is. Met ander woorde, persoonlike name word met sowel individuele uniekheid as 'n verskeidenheid eienskappe van die sosiale en kulturele omgewing waarin dit ingebed is, geassosieer. Derhalwe, vorm'n naam die basis waarmee een individu van 'n ander onderskei word en plaas hom of haar binne 'n bepaalde tyd en ruimte. Volgens Nathan Miller (586) verskaf dit 'n blik op die persoon se kultuur en individualiteit en verbind hom of haar ook terselfdertyd aan 'n herkoms en voorouers. Die proses van naamgewing maak dus die individu aanvaarbaar binne 'n bepaalde kultuur en gemeenskap. Die naam vorm voorts deel van 'n individu se spiritualiteit. Hierdie samevatting oor die belang van 'n naam as identiteitsmerker dien ter ondersteuning van die erkenning van 'n persoon se bestaan.

Naamgewing is sowel in die antieke as die moderne tyd as 'n belangrike seremonie beskou. In vele kulture word 'n kind slegs as 'n individu erken sodra hy of sy 'n naam het. Die naamgewing van 'n baba is 'n saak van eer en word beskou as deel van die kind se identiteit. Gewoonlik word 'n kind se naam noukeurig gekies volgens sekere karaktertrekke waaroor die ouers graag wil hê die kind moet beskik. In die World Book Encyclopedia (6) word die belang van naamgewing soos volg verklaar: "All names have meanings, though people today may not be aware of those meanings, historical documents reveal that, early peoples gave someone a name with a definite knowledge of its meaning [...] people in India, Israel and some African nations still give names with special meanings." In die Moslem huishouding aldus Cass Abrahams (27) word die kind binne die eerste sewe dae na geboorte gedoop. Die verwagting is dat die kind die betekenis van sy of haar naam met trots sal dra en uitvoer. Die doop en naamgewingsproses is dus 'n kombinasie van familiewaardes en trots. In die geval van slawe is hul individualiteit, kulturele geskiedenis en herkoms ondermyn en hul oorspronklike name verwerp ten gunste van 'n naam wat knegskap, gedienstigheid en gebondenheid beduie het. Dit kan beskou word as 'n strategie waardeur die koloniale orde aan die slaaf afgedwing is.

Naamstroping en identiteitstroping kan nie los van mekaar gesien word nie. Naamstroping het inderwaarheid die verswyging en verdoeseling van die ontnoemde se oorspronklike identiteit tot gevolg. In hierdie proses van naamstroping word die stryd tussen mag en ontmagtiging beklemtoon.

Slawerny en naamgewing

Op die skutblad van haar publikasie maak Barbara Johannessen die volgende stelling:

Our school history tells us a lot about Dutch and British settlers. We know the names of many of these people. [...] But our school history books tell us very little about slaves who came to South Africa. Thousands of slaves were brought to South Africa and by the 1720s there were more slaves at the Cape than Dutch settlers. And yet we hear very little about the lives of the slaves.

Ten spyte van hul afwesigheid in skoolgeskiedenisboeke is die huidige Suid-Afrika haas ondenkbaar sonder die teenwoordigheid van slawe. Slawearbeid is van die vroegste jare van die VOC-nedersetting aan die Kaap gebruik om as ambagsmense die infrastruktuur te bou en arbeid in onder meer die huislike sfeer, landbou- en vis-serybedrywe te verrig. Slawe is van verskeie streke ingevoer, diverse plekke soos westelike Afrika (vandag se Angola), Oos-Afrika, Madagaskar, Suidoos-Asië, die Indonesiese argipel met eilande soos Java, Celebes en Sunda. Slawerny as 'n instelling was ingebed in plaaslike ekonomieë en kolonisasie het dié praktyke wêreldwyd versprei. Volgens Achmat Davids en Yusuf Da Costa (17) is slawe ontruk aan hul bekende omgewings: ontneem van familie, kinders en vriende, verban uit hul streke van oorsprong en onderwerp as besittings van 'n eienaar. Gewelddadige uitbuiting en verontmensliking was van die onlosmaaklike gevolge van slawerny. Hierdie ervaring van ontheemdheid en onderworpenheid was meesal nie eenmalig nie. Rayda Jacobs sny in Turning Points in History (43) aan dat slawe dikwels dieselfde trauma keer op keer moes deurmaak. As mense is hulle van hul oorspronklike identiteite en geskiedenisse gestroop.

Met gevangeneming het vir die slaaf 'n totale nuwe lewe begin. Volgens Jo-hannessen (8) het slawe nuwe name ontvang; gewoonlik is hulle eers 'n nuwe eerstenaam gegee, dikwels gevolg deur die voorsetsel "van" wat hulle land van herkoms aangedui het. Sy dui met argivale bewyse aan dat sommige slawe gedurende hul lewensloop meer as een keer van naam moes verander (Johannessen 9).

Die meeste ingevoerde slawe is met hul opname in die koloniale stelsel van hulle oorspronklike name gestroop en nuwes gegee wat die waarde en oorsprong van hul ou name geïgnoreer het. Die bewuste vernietiging van die identiteit van slawe is duidelik te bespeur in hul geforseerde naamveranderings. Die verlies van slawe se oorspronklike name het hulle ontneem van identiteite wat hulle aan familie en persoonlike geskiedenisse gekoppel het. Die slawemeesters het klassieke, bybelse, byname en so meer aan hul slawe toegeken. Soms moes slawe selfs die meesters se vanne aanneem. Hulle moes ahistoriese wesens word wat hul eienaars se bevele gedienstig sonder bevraagtekening moes uitvoer. Volgens Robert Shell ("Family") was die naamgewing van slawe aan die Kaap 'n huishoudelike strategie om die menswaardigheid van die slaaf te vertrap en terselfdertyd verskille onder slawegroepe uit te buit.

Die verlies aan oorspronklike name was deel van 'n allesoorheersende stelsel waarin die slawebevolking ontneem is van talle regte en voorregte. Meesal het hulle nie die reg gehad om te trou nie, hoewel hul wel kon saambly; hulle het nie reg tot beheer oor hul eie kinders gehad nie en hulle kon nie eiendom besit nie. Selfs die ouerlike reg om 'n pasgebore baba te benoem, is hulle ontneem. Vanuit die Amerikaanse slawernygeskiedenis skryf George Nagle dat die rede hiervoor was dat sou die meester sy slawe toelaat om hul kinders te benoem, dit sou neerkom op die erkenning van die menswaardigheid van die slaaf. As verhandelbare goedere was slawe deel van 'n produksie en reproduksiebestel wat onder die volle beheer van die eienaar was.

 

Naamgewing en naamstroping in tekste van Diana Ferrus, I. D. du Plessis en Rayda Jacobs

Die historiese belang van naamgewing kom aan bod in eietydse letterkundige werke waar skrywers met insig daarmee omgaan. In die literêre tekste van Diana Ferrus, I. D. du Plessis en Rayda Jacobs speel naamgewing en naamverandering sleutelrolle in die marginalisering van die slawekarakters. Die geskiedkundiges Robert Shell en Victor de Kock belig verskeie naamgewingstegnieke wat gebruik is by die herbenoeming van slawe. Dit sluit die volgende in: pejoratiewe en grapname, kollektiewe ras-pejoratiewe as name, dae van die week en die kalendermaande, bybelse, geografiese, Portuguese en tekstielname of die name en vanne van slawemeesters. Hierdie tekste sal voorts teen die agtergrond van hierdie naamgewingstegnieke bespreek word.

Pejoratiewe en grapname

Hierdie name is aan slawe gegee om die spot met hulle te dryf. Byname met weinige betekenis soos Geduld, Harlekyn, Pasop, Dikbeen, Platvoet, Snaphaan, Scheel Adam val in hierdie kategorie. 'n Naam soos "Winter Botter" aldus Shell ("Family" 28) wat verwys na 'n slaaf se ligte vel dra 'n pejoratiewe betekenislading terwyl, ironies, die algemene slaafnaam, "Fortuin", 'n aanduiding is van waar die huishouding se rykdom lê. Die slaaf se naam is dus 'n bespotting terwyl hy juis as werker grootliks bydra tot die huishoudelike welvaart. In Jacobs se The Slave Book word verwys na die slaaf Geduld wat sy naam ontvang het omdat hy nie moed opgee nie (36-37); die karakter Siek Klaas word so genoem omdat hy gedurig siek is. In die konteks van 'n roman geld so 'n benoeming as 'n karakteriseringstrategie maar in die konteks van die historiese Kaap moes die implikasies verreikender gewees het. Hoewel die grap later afgestomp geraak het, bly die slaaf met die spotnaam opgesaal totdat 'n volgende hom herbenoem.

Kollektiewe raspejoratiewe as name

Hierdie tipe benaming is gebruik om na 'n groep te verwys. So byvoorbeeld verwys die terme "jong", "aia", "klong" of "meid" na nie-wit werkers, terwyl terme soos "halfnaatjies", "slamse" en "slamaaier" na Kaapse Maleiers verwys. In hierdie verband word die slaaf of werker gedeïndividualiseer sodat die "baas" of "nooi" in algemene geselskap selfs die herbenoemde naam laat vaar het ten gunste van 'n pejoratiewe groepsetiket.

In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word die term "jong" soos volg beskryf: "klein, minderjarig, onryp, onvolwasse, seunsagtig, meisieagtig, jeugdig, kinderlik, onvolgroeid, vars, nuwe." Voorts word die term soos volg omskryf: "In die eerste, vroeë tydperk van lewe of groei; nie oud nie; nog nie lank aan die lewe nie; nog in die eerste, vroeë tydperk van die lewe; wat nog nie rypheid of ouderdom bereik het nie; jeugdig; onbejaard: 'n Jong kind, mens, dier, ding." Selfs in sy vyfde druk in 2005 weerspieël die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) steeds die historiese betekenis van "jong": "Attributiewe vorm van jonk', "Benaming vir 'n bruin of swart man in diens by iemand-tans neerhalend aangevoel en weinig gebruiklik; kleintjie van 'n dier." Hierdie definisie vind aansluiting by G. J. Gerwel (18) wat die terminologie bestempel het as "bevestiging van die gekleurde se status as ewige kind". Die stereotipering van die nie-wit karakters as kinderlike figure "wat 'n kinderlik-roeke-lose en onverantwoordelike lewe van pret en sonde lei [met] 'n weldoener-baas wat hulle probeer ophef en op die regte pad hou" (Gerwel 174). Die onopgeleide nie-wit mense word simbolies van naïewe onskuld, terwyl die wit karakter as die opgevoede redder gesien word. Die HAT-definisie van "jong" as "die kleintjie van 'n dier" suggereer iets van die mindere intellek of nie-menslikheid wat verband hou met die stereotipering van nie-wit mense en hul terloopsheid of onbelangrikheid in die konteks van vroeëre Afrikaanse romans.

Die hersiening of herinterpretasie van opposisies is 'n postkoloniale werkswyse, wat aldus Alfred López (44) poog om die gesentraliseerde figure te desentraliseer, en bestaande politiese magsposisies te destabiliseer. So word hier nou klem geplaas op die randkarakters in die genoemde tekste en hulle posisies herwaardeer en binne 'n nuwe konteks gelees.

In Du Plessis se verhaal uit "Rooidam se reënmaker" uit "Wit wêreld" kom "jong" voor wat die gebruiksfeer van 'n vervloeë tydvak oproep waar daar nie net min aandag aan die intelligensie van nie-wit mense geskenk is nie, maar hulle ook ontmagtig is en hulle as onderdaniges aan wit oorheersing moes onderwerp. Die onderstaande twee aanhalings uit die teks is 'n illustrasie hiervan:

[...] maar toe Jakob nader staan en dit waag om te sê dat die weer mooi lyk, het die oubaas hom so verwilder dat die jong, wat saam met hom op die plaas grootgeword het, brom-brom na die struis toe gespat het om sy nood daar te gaan kla (23).

En

 "Jakob!" skreeu hy. "Toe dan, my ou jong! Saal vir Kolbooi op, oubaas wil na die veld gaan kyk" (25).

Die gebruik van die term "jong" in die bogenoemde aanhalings impliseer minderwaardigheid. Hoewel die nie-wit karakter 'n naam het word dit deur Du Plessis op 'n strategiese wyse ondermyn om die karakter se posisie op die plaas uit te beeld. Die gebruik van sowel die terme "oubaas" as "jong" is duidelike kentekens van posisionering waar eersgenoemde die bemagtigde en laasgenoemde die ontmagtigde aantoon. Met die ontstaantydperk van Drie Wêrelde in 1970 tydens die apartheidsera inaggenome, moet rekening gehou word met die ras, taal, klas en geslag van die outeur. Binne die konteks van blanke oorheersing, sou gesê kon word dat Du Plessis, 'n wit Afrikaansprekende, slegs sy tyd weerspieël.

Hierbo is aangedui dat "onvolwassenheid" (lees: kinderlikheid, onverant-woordelikheid, minderwaardigheid) ook in dié begrip en afleidings soos "jonk", "jonkheid", "jongeling" bespeur kan word. Met die gebruik van die woord word die nie-wit mens verkleineer en by wyse van spreke "op sy plek' gesit. R.-H. Shell ('Family" 28) bevestig hierdie aanname: "An examination of the ordinary language of the slave household reveals how the slave was conceived of as a child. No matter what their age-or status-all slaves were called 'boys [jongen]' or 'girls [meijden]'. This was so universal at the Cape that slaves referring to each other [...] used the master's terminology, viz. 'jongen' and 'meijden'".

In die Stellingwarfs-Nederlands Verklarend Handwoordenboek word die terme "meiden" en "jongen" respektiewelik soos volg verklaar: "meid de 1. meisje, meid 2. vrijster 3. dienstbode, dienstmeid". "Jong" word gedefinieer as "1. pasgeboren dier, nog erg jong dier 2. baby, kind 3. verkorting van jonge, vaak als aanroep of aanspreekvorm, met de functie van 'joh', bijv. Toe jong, doe es wat!" (Bloemhof 337). Dit blyk uit verdere ondersoek na 'n 1901-uitgawe van die Nederlandse tydskrif, Taal en Letteren (301), dat hierdie terme in vroeër eeue die volgende betekenis gedra het: "Meid uit maagd, jong meisje, ongehuwde vrouw, nam de betekenis aan van dienstbode. Knecht, mannelik kind, jongetje, jonge man, werd: bediende. Vergel. ook het nederl.-indiese jongen voor mannelike inlandse bediende, zelfs van hoge leeftijd."

Beduidend hieruit is dat die oorspronklike betekenis van die bogenoemde terme nie pejoratief gebruik was nie. Soos hierbo aangedui het die term "meid" letterlik "maagd, meisie, ongetroude vrou" beteken. "Jong" oftewel "jongeren" het na jeugdigheid verwys. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat hierdie begrippe aan die Kaap betekenisuitbreiding ondergaan het en hier te lande 'n negatiewe lading gekry het.

Interessant aan die gebruik van "jong" en "meid" is die oorblyfsel van die betekenisnuanse van die ouer nie-pejoratiewe Nederlandse gebruik wat steeds algemeen in alledaagse Kaapse spreektaal voorkom, byvoorbeeld in verwysing na 'n dogtertjie word die begrip "klimmeid" (van: "klein meisie of "klein meit") of in verwysing na 'n jong seun word die sinonieme "jong", "jongetjie", selfs "klong" gebruik. In die Kaapse spreektaal kan hierdie begrippe negatiewe ladings dra soos byvoorbeeld: "dié ou meid" of "dié óu jong" of positiewe en vertederende assosiasies oproep soos "Tappa se klimmeidjie" of "Hy is 'n gawe jongetjie".

Die term "ai" / "ai'a" word so in "Oom Sors en die weduwee" uit "Wit wêreld" aangewend: "Ek kry darem nog goeie beskuit-oorlede Hessie het vir ai' Mietjie geleer." Hoewel ai' Mietjie se beskuit ook as goeie beskuit geklassifiseer word, is dit hoofsaaklik omdat sy deur oorlede tant Hessie wie se beskuit as "kerngesond, goudbruin" en "van 'n ander stoffasie" beskryf word, geleer is. By implikasie word ai' Mietjie se "gebrekkige beskaafdheid" hierdeur belig, aangesien sy opgelei moes word om vir "wit mense" te kook. Dus, al het sy voorheen gekook, was sy nie behoorlik opgelei na die verwagtinge van haar meesteres nie.

Daar kan wel geargumenteer word dat die sinspeling op die wit karakter as beskaafd en die nie-wit karakter as onbeskaafd, waarskynlik 'n refleksie van Du Plessis se tyd weerspieël. Gerwel (35) verwoord hierdie werkswyse as "terloopse diensvermelding" waardeur die "milieu aangevul [word] deur die vermelding van gekleurdes in bedienderolle sonder dat dit wesenlik deel van die verhaal vorm". Dit word verder bekragtig (100) deur sy uitspraak oor die posisie van die gekleurde karakter in romans van die apartheidera wat soos volg vervat word: "Hierdie patroniserende beskouing op gekleurdes as onderhorige, te-kort-skietende aanhangsels van en deelgenote aan aspekte van die lewe van blankes, het in die landelike romans van hierdie tydperk verwoording gekry." Binne die konteks van blanke oorheersing en mag teenoor swart onderdrukking is die gebruik en omskrywing van die term "ai'a" nie 'n vreemde verskynsel nie.

In die WAT word die begrip "aia" soos volg beskryf : "Ouerige meid-veral as beleefde aanspreekvorm en betiteling: Môre, ai Mina. Waar is ai Kaaitjie? Wit kinders gesels graag m/d outas en aias" (126). Opvallend hieruit is die erkenning dat hierdie aanspreekvorm as betitelingsmiddel gedien het. Derhalwe, kan die gevolgtrekking gemaak word dat die "aia" deur die gebruik van hierdie titel haar plek binne die wit huishouding aangewys word. Die HAT in sy eerste uitgawe (1965) reflekteer die gebruik van die begrip waarin sosiale onderskeid en andersheid ingebed staan: "Ouerige kleurlingvrou-ook wel, nie-blanke vrou. Vroeër 'n beleefde vorm vir so 'n persoon teenoor outa." Let op hoe die woordeboekmakers hier die spanning "ons" teenoor "ander" verwoord. Teenoor die "persoon" is daar die begrip vir die ander (mindere?) wat nie met dieselfde term "persoon" of "mens" benoem word nie, maar met 'n ander koloniale term-al is dit die "beleefde" aanspreekvorm "outa" of "aia". Die gebruik van hierdie term is 'n merker vir sosiale andersheid; die benoemde suggereer dit is nie van wit afkoms nie, maar "anderskleurig".

Die andersheid van die "aia", onderliggend aan die werking van kolonialisme, kom duidelik in "Oom Sors en die weduwee" na vore. Nieteenstaande en met in agname van die verhaalmatige plasing van die sentrale wit figure (Oom Sors en die weduwee) teenoor die randfigure (die aia) roep die blote gebruik van "aia", soos hierbo aangedui, die diepgaande rasse-, klasse- en sosiale verskille tussen die verskillende karakters op. Dieselfde geld vir die naamloosheid van die nie-wit karakters teenoor die naamtoekenning aan die wit karakters. In hierdie konteks kan die afleiding gemaak word dat slegs die wit figuur waardig genoeg geag word om 'n naam en dus identiteit te hê terwyl die nie-wit "aia" toegelaat word om slegs die identiteit van werker en ondergeskikte te dra.

In die verhaal "Blou Jan" uit "Bruin wêreld", beeld Du Plessis die wrede kringloop uit waaraan soveel gekleurde mense onderwerp word. Die verhaal begin by Blou Jan, die "algemeen erkende [bende-]leier". Let op die benaming van die hoofkarakter as "Blou Jan" wat in hierdie geval die kleur van die hoofkarakter se oë beskryf: "Hy was veel ligter van vel as die meeste van sy maats, terwyl die grys-blou oë wat onmiskenbaar sy Europese afkoms verraai het". Onderliggend hieraan is die klassifikasie van 'n "ligte vel" met "leierskap". Dit kan beskou word as 'n strategie van die skrywer om Blou Jan as verhewe bo die ander klonkies uit te beeld weens sy "ligte vel" en "grys-blou oë", wat Europese herkoms en dus bemagtiging aandui. Hoewel Blou Jan ook as 'n "klonkie" beskryf word, word veel meer aandag aan sy slinksheid geskenk in vergelyking met die ander "klonkies" wat as gedienstige volgelinge soos deur die volgende aanhaling aangedui, uitgebeeld word:

"Djy het we' gesit en slaap, Abdol! Djy moes lankal die diener by die hoek gesien het!"

En hoewel die aangesprokene sy betroubaarheid as brandwag luidrugtig verdedig het, moes hy hom aan die gebruiklike straf op so 'n misdaad onderwerp.

Die verteller verwys na sowel Blou Jan as die ander bendelede as "klonkies" soos in die onderstaande aanhalings aangedui: "Kaal voete klap op die keistene van 'n sypaadjie soos die klonkies uitmekaarspat." (67); en "Toe die klonkie om die boonste hoek van die straat verdwyn, kyk die dieners mekaar aan. 'Dis Blou Jan!' sê die een. 'Ek wonder watter kattekwaad hy weer in hierdie buurt kom aanvang." (68)

Die blote gebruik van die begrip dui aan dat hulle uit die nie-wit wêreld kom. Let ook op hoe die woorde "klonkie" en "kattekwaad" in die bogenoemde aanhaling bymekaargebring word. Raspejoratiewe soos "klonkie", "jong", "meid", "outa" en "ai" is volgens Etienne van Heerden (63) niks nuuts in die Suid-Afrikaanse samelewing, en spesifiek vir die wit Afrikaansprekende nie. Hy haal 'n studie, "Linguistic Manifestations of Ethnic Attitudes in South Africa" van Derek Gowlett, aan waarin hy bevind het dat Afrikaans in vergelyking met ander tale in Suid-Afrika "ryker" is aan terme wat na "anderskleuriges" verwys. Hierdie stelling vind weerklank in Du Plessis (68) se beskrywing van die "klonkies" en indirek "gekleurdes" as "vreemde skepsels hierdie [...] mense wat maar 'n paar honderd tree van die helderverligte strate woon [...] bannelinge na die buitenste duisternis, wat net genoeg van die lig kan sien om te besef wat hulle moet ontbeer". Beduidend aan hierdie aanhaling is die wyse waarna daar na gekleurdes verwys word. Die gekleurde word duidelik op die periferie geplaas met die blanke in die sentrum wat die mag het om te benoem.

In "Twee lewens" uit "Bruin wêreld" beeld Du Plessis Ali se "plek" in die samelewing soos volg in die onderstaande aanhalings uit:"Vir dié wat op die grenslyn staan, is daar min poste oop; en Ali was lig, so lig dat 'n mens hom nie maklik van 'n witmens kon onderskei nie." (78) Later vestig die skrywer die aandag op Ali se ma wat sy netelige posisie soos volg omskryf: "Sy weet hoe haar seun oor sy werkloosheid voel; en al is sy trots op sy ligte kleur wens sy partydae dat hy donkerder was. Dan sou hy mos nie so by die witmense se plekke wil inkyk nie. Dan sou hy weet waar hy hoort." (78)

Hierdeur suggereer die skrywer dat alle rasse van hul plek in die samelewing bewus is. Dus, al is Ali "so lig dat mens hom nie maklik van 'n witmens kon onderskei nie", bly die feit staan dat hy gekleurd is en dus nie kwalifiseer om 'n blanke bestaan te lei nie. Ali wat uitgebeeld word as 'n karakter wat na die blanke bestaan hunker, word ook wreed ontnugter deur Miemie se woorde, "[d]ankie, my jong". Hierdie woorde is bedoel om hom op sy plek te hou en nie te laat droom oor 'n verhouding met 'n wit karakter nie. Die gekleurde figuur moet dus herinner word aan sy posisie in die samelewing, wat op 'n pynlike wyse oorgedra word. Die manier waarop die wit figure met Ali praat, roep die baas-kneg-verhouding van daardie tyd op. Hy word konstant bewus gehou van sy posisie as mindere-deur na hom as as "jong" en nie "Ali" te verwys nie, word sy minderwaardigheid teenoor die wit meisie bevestig. Postkoloniaal gesien, is hierdie verhaal aanduidend van die vernederende posisie wat die nie-wit persoon ervaar, nie net is hul gevoelens ondermyn nie, maar is hulle ook gedurig deur raspejoratiewe bewus gehou van hul mindere sosiale posisie. Homi K. Bhabha (21) beskryf dit as 'n "strategie" om "witheid" te vernatuurlik en te beskerm.

Hoewel daar telkemale in "Oorkant die muur" uit die "Bruin wêreld" verwys word na die hoofkarakter (wat regdeur die verhaal naamloos bly) se skuldgevoelens oor sy moeder en familie, is die skans van die wit wêreld waar die "muur tussen hom en die blanke paradys so laag was dat hy die verbode heerlikheid kon sien [...] So laag dat hy oorgespring het" (91), vir hom so aantreklik en gemaklik dat hy bereid is om sy herkoms te verdoesel. Die hoofkarakter spreek ook sy verligting uit dat daar "[g]elukkig geen naasbestaandes was wat hy moes krenk deur negering nie" (91). Hierdeur beeld Du Plessis 'n sekere hunkering deur die gekleurde karakter na die "verbode blanke wêreld" uit. Beduidend in "Bruin wêreld" is die opvallende wyse wat Du Plessis telkens van 'n ligte vel "jong" gebruik maak met 'n wortel van blanke "beskawing" voor die neus, maar wat wreed aan sy herkoms herinner word deur van die raspejoratief "jong" gebruik te maak. So word daar ook in die tweede paragraaf van "Oorkant die muur" na die hoofkarakter as 'n "witjong" verwys. Dit sinspeel daarop dat hy 'n ligte vel het en amper "wit" lyk, maar nog steeds van gekleurde herkoms is. Du Plessis gebruik telkens hierdie strategie op 'n uittartende wyse en behou sodoende die destydse status quo wat wit as die bemagtigde en swart as die ontmagtigde voorgehou het, in stand.

Interessant, is die naamloosheid van die hoofkarakter aanduidend van sy ingesteldheid om sy identiteit te verberg. Die kortverhaalskrywer beeld hier die moontlike verlange van die gekleurde karakter uit om tot die wit wêreld te hoort. Dit kom voor asof die wit wêreld vir die gekleurde karakter die alfa en omega is. Die gekleurde karakter se morele waardes word hierdeur ondermyn deurdat hy in hierdie verhaal uitgebeeld word as "bereid om hulle siele aan die duiwel te verkoop" net om toegang tot die wit wêreld te verkry: "En soet was daardie eerste vrugte: vrye toegang tot alles, maar veral tot mense van Europese afkoms en beskawing." (91)

Dae van die week en kalendername

Die Kaapse moppie (liedjie) "Januarie, Februarie, Maart, April, Mei..." verwys volgens Shell en De Kock heel moontlik na hierdie soort benaming. Hy substansieer dit deur die ervaring van 'n slawehandelaar aan te haal wat 'n groot lot slawe verkoop het en nadat hy sy verbeelding en klassieke kennis uitgeput het, kalendername volgens die slaaf se verskyning op die veilingblok as slaafname begin aframmel het. Hierdie gebruik het volgens Shell heelwat in die agtiende en neëntiende eeu voorgekom. Die ander alternatief was die dae van die week, beginnende met Maandag.

Jacobs in The Slave Book gebruik dié historiese gegewe wanneer 'n plaaseienaar sy Maleierslaaf soos volg benoem: "From today onwards," the farmer said harshly, "your name will be February. You understand?" (24). Die betrokke karakter heet aanvanklik Sangora Salama, 'n naam wat op die verkopersblok verander na Sangora van Java en by sy aankoms op die plaas verander word na February, 'n duidelike voorbeeld van dubbele identiteitsverandering. Hierdie herbenoeming neem nie die benoemde (die slaaf) se gevoelens, geskiedenis of familieverband in ag nie; trouens elke moment van herbenoeming vestig sy posisie as toenemende ontmagtigde besitting. Voorts deur Sangora-wat die nalatenskap van geografiese oorsprong, godsdienstige, kulturele en sosiale verbintenisse dra-met die onpersoonlike naam, February, die naam van die maand waarin hy op die plaas aangekom het, te vervang, dui op 'n oorwoë poging tot onthistorisering en "verontmensliking" om dus die laaste bietjie selftrots van die karakter af te breek. Vroeg in die roman kan die gevoel van die boer, Andries, teenoor die slaaf nagespeur word: "He studied the slave up on the block. A proud bastard, he thought. He knew the Maleier mentality. These people thought they had special avenues to God and took pride in their suffering." (15)

Jacobs ondersoek in haar roman ook godsdienstige spanninge aan die Kaapse nedersetting en meer bepaald die godsdienstige marginalisering van slawe. In die koloniale verbeelding word Islam 'n bedreiging vir die gevestigde Christelike orde. So noem aia Rachael aan Somiela, Sangora se stiefdogter, die volgende: "They'll punish us if they think we listen to the religious nonsense of the Mohammetans. They don't mind the Mohammetans working for them-we have one here called Salie van Celebes-but they don't want us listening to them. There's a house in Dorp Street where the Mohammetans teach people. Arend and Salie go there on their day off." (30-31) Arend, Rachael se seun wat tot die Islamitiese geloof bekeer is, gebruik slegs sy Moslemnaam, Ali, wanneer hy die Dropstraatse huis besoek. Arend is die naam wat hy op die plaas gebruik, waarskynlik uit vrees vir sy baas. Wanneer Sangora-February vra waarom sy stiefdogter se hare as straf afgesny word, is Andries se reaksie: "Shut your trap! You're an insolent Maleier." (35) Hier word die karakter nie net gemarginaliseer omdat hy 'n slaaf is nie, maar ook omdat hy 'n Maleier is. Herbenoeming is dus nie net 'n pragmatiese kwessie nie, want hier kom die spanning (van kulturele onverdraagsaamheid en oorheersing) tussen die koloniale sentrum en onderdrukte periferie na vore.

In Diana Ferrus se gedig "Ons komvandaan" kom kalendername ook aan bod:

Nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April,
Fortuin, Arendse, Fransman en Gabier.
Maar iewers, lank gelede,
baie ver van hier
het ons ons feeste
onder 'n ander naam gevier!

Heimweë na 'n verlore identiteit word hier uitgebeeld aan die hand van 'n slaafafstammeling se onbeantwoorde vrae. Die verwysing na die kalendername "nou is ons Januarie, Februarie, Maart en April..." in die laaste strofe kan gelees word as 'n verwyt. "Nou" suggereer dat die benoemdes vroeër anders benoem was en in die volgende versreëls word verbande met daardie "oorspronklike", maar tog vae, ander wêreld-"baie ver van hier"-gelê: "Maar iewers lank gelede / baie ver van hier / het ons ons feeste / onder 'n ander naam gevier!" Hierdie ervaring kan postkoloniaal gelees word, as 'n "terugskryf" teen 'n koloniale orde wat die slawe se identiteite en gevolglik ook dié van hul afstammelinge onderdruk het, sodat hulle in 'n staat van hunkerende en selfs onsekere identiteitsoeke vasgevang is. Ook by Ferrus, soos by Jacobs, word naamgewing gekoppel aan geografiese en demografiese herkoms en kulturele oorspronge: plek en naam word onlosmaaklik aan mekaar verbind.

Geografiese name

Soos hierbo aangedui is geografie ook as benamingstegniek ingespan. Volgens verskeie navorsers blyk dit dat die slawelosie as 'n bordeel gefunksioneer het (Ross [25]; De Kock [45].Volgens A. M van Rensburg is vele stammoeders uit hierdie losie afkomstig. Die kinders gebore uit hierdie samekoms het dikwels die van "van de Kaap" of "van de Cabo" ontvang. Shell ("Cape Slave Naming" 2) ondersteun die stelling deurdat hy aanvoer dat die slaaf se plek van oorsprong as van gefunksioneer het. So byvoorbeeld sal die slaaf Yusuf wat van Batavia afkomstig is, Joesoef/Josef van Batavia word. 'n Duidelike voorbeeld hiervan word in Jacobs se teks geïllustreer waar daar na die slawe, Sangora en Salie, as Sangora van Java en Salie van Celebes verwys word.

 

Naamloosheid

Naamloosheid is 'n ander belangrike aspek wat aandag in hierdie artikel verdien. Die naamloosheid van die diensmeisie in "Rooidam se Reënmaker" uit "Wit Wêreld" staan sentraal teenoor die "blanke" karakters wat wel name het. Dit kan geïnterpreteer word as die identiteitloosheid van die nie-blanke karakters wat tipies koloniaal van aard is. Dit beteken dus dat die diensmeisie se bestaansreg misken word, dat werkers nie as mense beskou was nie, maar as besittings. Die koloniale diskoers is skuldig daaraan dat die gekoloniseerdes tot koloniale stomheid gedwing en hulle subjek-tiwiteit aangetas is. Dus was die gekoloniseerdes oorreed om hulle minderwaardige samestelling te aanvaar, wat van hulle 'n stemlose nie-identiteit gemaak het. Hierdie verswyging aan die kant van die gekoloniseerde het die magsposisie wat die sentrum "blanke" opgeëis het, verwesenlik. A. S. P. van der Merwe (29) meen dat hierdie ver-swyging van die nie-wit karakters in Afrikaanse tekste daartoe aanleiding gegee het "dat die koloniale diskoers uitsluitlik vanuit die wit koloniseerder se perspektief, vanuit 'n Europese, estetiese tradisie, gekonstrueer is".

In "Ons komvandaan" van Diana Ferrus word daar gepraat van "ma se ma se ma se ma se ma" en "pa se pa se pa se pa se pa". Beduidend hieraan is dat daar na vyf naamlose generasies verwys word. Die herhaling van die woorde "ma se ma" en "pa se pa" verkry 'n liriese gevoel wat soos 'n hartseer melodie klink want dit aksentueer ook naamloosheid en naamstroping.

 

Gevolgtrekking

Vir volledigheidsonthalwe word die volgende tegnieke ook bygevoeg hoewel voorbeelde daarvan nie in die geselekteerde tekste verskyn nie, naamlik Bybelse name, Portugese name, tekstielname en eienaar-name. Slawe het hoofsaaklik Christenname ontvang en die Ou Testament is as bron vir Bybelse name gebruik. Sekere name soos Moses, Simson, Goliat, Jafta ensovoorts is slegs vir slawe gebruik. Duidelike marginalisering kom hierin voor deurdat die onmiddellike konnotasie van hierdie tipe benaming met die slaaf geassosieer word. Shell en De Kock noem dat hierdie spesifieke name nooit aan die koloniste se kinders gegee is nie. Sommige slawe het Portuguese name gehad wat aanduidend daarvan is dat hulle dit iewers op Portugese terrein ontvang het. Voorbeelde van hierdie tipe name is Fatima, Domingo ensovoorts. Soos reeds voorheen genoem was dit heel moontlik dat hierdie slawe later deur hul nuwe meesters herbenoem was.

Name van 'n groot verskeidenheid eksotiese en ander tekstiele is ook as slaafname gebruik. Voorbeelde van hierdie tipe benaming is Armosyn ('n eksotiese Oosterse tekstielstof) en Boelang ('n soort indigo-blou materiaalsoort wat hoofsaaklik vir slaweklere gebruik is). 'n Goeie voorbeeld hiervan is Karel Schoeman se teks, Armosyn van die Kaap waar die slavin na 'n Oosterse tekstielstof benoem is. Sommige slawe het die naam van die eienaar ontvang. Hierdie benaming was nie baie gewild nie aangesien die minderheid eienaars hiervan gebruik gemaak het. Tog was dit volgens Shell ("Cape Slave Naming") as 'n eer onder die slawe beskou.

Slawe is dikwels na misterieuse figure of gode vernoem. Klassieke name wat gewoonlik gebruik word om na liefde, skoonheid en die bonatuurlike te verwys is ook as slawe name gebruik. Die redenasie sou wees dat hierdie soort benaming 'n spesiale eer dra, maar in die geval van die slawe is dit ook as private grap gebruik. Die slaaf sou dikwels vind dat die huishoudelike diere, byvoorbeeld die hond, dieselfde naam dra, 'n duidelike voorbeeld van demoralisering (Shell, "Cape Slave Naming"). Voorbeelde van hierdie name is: Cupido, Mentor, Hector, Narciss, Jason, Titus, Adonis, Apollos, Alexander, Hannibal ensovoorts.

Naam en identiteit, soos uit die bogenoemde bespreking blyk, is onlosmaaklik verbind. 'n Persoonlike naam lei tot individualisering. Sodra individualisering voorkom, betree benaming die sfeer van identiteit. Naamstroping aan die ander kant het die verskeuring van die individu (en later ook sy/haar afstammelinge) met sy/haar geskiedenis, plek en kultuur tot gevolg.

Ter afsluiting kan gesê word dat die gereelde verkoop en daarmee gepaardgaande naamveranderings van slawe, identiteitloosheid teweegbring waardeur die slaaf se nageslag later nie meer met sekerheid hulle stamboom kon nagaan nie. Mogamat Kamedien (377) bevestig hierdie aanname wanneer hy sê dat "daar nie slawe-verwante stambome op die internet en nog minder in gedrukte vorm beskikbaar is nie". Hy is van mening dat "navorsers wat slawe familie-stamboomnavorsing onderneem hulself moet verlaat op die geloofwaardigheid en wetenskaplike geldigheid van die mondelinge geskiedenis van bruin gesinne en die kollektiewe geheue van gekleurde gemeenskappe as alternatiewe bron".

Die gevolgtrekking is dat naam die kern van identiteit vorm en dat die stroping van 'n naam die uitwissing/vernietiging van herkoms en dus oorspronklike identiteit tot gevolg het. Naam- en identiteitstroping laat 'n gevoel van verlies en minder- waardigheid by die herbenoemde of ontnoemde wat geslagte later steeds voelbaar is. Naam is nie net 'n onreg wat gepleeg word nie, maar 'n voorreg/reg wat ontneem is. Die nalatenskap daarvan is geslagte later nog steeds sigbaar. 'n Naam is ook waar ons vandaan kom.

 

Geraadpleegde bronne

Abrahams, C. The Culture and Cuisine of the Cape Malays. Kaapstad: Metz Press, 1995.         [ Links ]

Alford, R. D. Naming and Identity: A Cross-Cultural Study of Personal Naming Practices. New Haven: HRAF, 1988.         [ Links ]

Alia, V Names, Numbers, and Northern Policy: Inuit, Project Surname and the Politics of Identity. Halifax: Fernwood, 1994        [ Links ]

Bhabha, Homi K. "The White Stuff." Art Forum. May 1998. 21-24.         [ Links ]

Bloemhof, H. (reds.). Stellingwarfs-Nederlands Verklarend Handwoordenboek. Halifax, Nova Scotia: Fernwood Publishing, 1994. 2005. <www.stellingplus.nl/wp-content/uploads/2010/10/woordenboek3.pdf>         [ Links ]

Chaudhari, S. "Identiteit en andersheid: 'n postkoloniale analise van die Kaapse Maleier soos uitgebeeld in literêre tekste van geselekteerde Suid-Afrikaanse skrywers." MA-tesis, U Fort Hare, 2009.         [ Links ]

Cram, F., L. Carter en Adreanne Ormond. "Researching our Relations: Reflections on Ethics and Marginalisation." Hawaiian Well-being-konferensie. 2004. Referaat.         [ Links ]

Da Costa, Y., en Davids, A. Pages from the Cape Muslim History. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter, 1994.         [ Links ]

De Kock, V Those in Bondage. Londen. 1950.         [ Links ]

Deluzain, H. E. "Names and Personal Identity." 1996. 12.08.2009. <www.behindthename.com/articles/3.php>         [ Links ].

Du Gay, P, J. Evans, en P Redman. Identity: A Reader. Londen: Sage. 2000.         [ Links ]

Du Plessis, I. D. 1944. The Cape Malays. Kaapstad: Maskew Miller, 1944. -. Drie Wêrelde. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1970.         [ Links ]

Ferrus, D. Ons komvandaan. Kaapstad: Diana Ferrus-Uitgewery, 2005.         [ Links ]

Gerwel, G. J. Literatuur en apartheid. Kasselsvlei: Kampen Uitgewers, 1983.         [ Links ]

Iliffe, J. Africans: The History of a Continent. 1995. Cambridge: CUP, 2007.         [ Links ]

Jacobs, R. The Slave Book. Kaapstad: Kwela Boeke, 1998.         [ Links ]

Johannessen, B. The Cape of Slaves: Slavery in the Cape Colony 1658-1838. Johannesburg: Heinemann, 1995.         [ Links ]

Harteveld, P, L.G. de Stadler, en D.C. Hauptfleisch. Woordkeusegids: 'n Kerntesourus van Afrikaans. 1992.         [ Links ]

Kamedien, M. "Inleidende opmerkings m.b.t. genealogiese navorsing oor slawe." Red. D. Jacobs. Kursus in Familienavorsing. Bellville, 2004. Kapp, P. "Die VOC-tydperk en die ontwikkeling van identiteitsbewussyne aan die Kaap." Historia 47.2 (2002): 709-38.         [ Links ]

Keats-Rohan, K. S. B. "Biography, Identity and Names: Understanding the Pursuit of the Individual in Prosopography." Prosopography Approaches and Applications: A Handbook. Oxford: Unit for Prosopographical Research, Linacre College, U Oxford, 2007.         [ Links ]

López, A. Posts and Pasts: A Theory of Postcolonialism. NY: State University of New York. 2001.         [ Links ]

Miller, Nathan. "Some Aspects of the Name in Culture-History." The American Journal of Sociology 32.4 (1927): 585-600.         [ Links ]

Nagle, G. F. "Names Used for Enslaved People in Pennsylvania." 6.2.2012. <www.afrolumens.org/slavery/names.html>         [ Links ].

Nadvi, S. S. "Names in Islam." Al-IIM 27.5 (1985): 85-93.         [ Links ]

Neethling, B. "A Minibus Taxi by any other Name, Would it run as Sweet?" Names 53.1&2 (2005): 3-19.         [ Links ]

Odendal, F. F., P. C. Schoonees, e.a. (reds.). HAT Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 1ste uitg. Johannesburg: Perskor-Boekdrukkery, 1965.         [ Links ]

Odendal, F. F. en R. H. Gouws (reds.). HAT Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 5de uitg. Kaapstad: Maskew Miller Longman (Edms.) Bpk, 2005.         [ Links ]

Peires, J. Turning Points in History, Book 2. Johannesburg: STE Uitgewers, 2004.         [ Links ]

Ricoeur, P Lectures on Ideology and Utopia. New York: Columbia UP, 1986.         [ Links ]

Ross, R. Sexuality and Slavery at the Cape in the Eighteenth Century. Historical Reflections 2.6 (1979) 421-33.         [ Links ]

Rotimi, C. N. "Genetic Ancestry Tracing and the African Identity: A Double-Edged Sword." Developing World Bioethics 3.2 (2003): 151-58.         [ Links ]

SACP "The South African Road to Socialism." The Marxist XXIII.2 (2007): 1-25.         [ Links ]

Said, E. Orientalism. New York: Vintage Books, 1978.         [ Links ]

Schoeman, K. Early Slavery at the Cape of Good Hope, 1652-1717. Pretoria: Protea Boekhuis, 2007.         [ Links ]

Schoonees, P. C. (reds). Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Pretoria: Die staatsdrukker. 1970.         [ Links ]

Shell, R. en V de Kock. "Cape Slave Naming Patterns." 2008. 10.6.2010. <www.ancestry24.co.za/Content/.../CapeSlaveNaming.aspx>         [ Links ].

Shell, R. "The Family and Slavery at the Cape, 1680-1808." Reds. W James en M. Simons. Class, Caste and Color: A Social and Economic History of the South African Western Cape. New Jersey: Transaction, (2009): 20-30.         [ Links ]

Thornborrow, J. "Language and Identity." Reds. L. Thomas & S. Wareing, S. Language, Society and Power. London: Routledge. 1999.         [ Links ]

Turning Points in History. Book 2. The Impact and Limitations of Colonialism. Johannesburg: STE Uitgewers. 2004.         [ Links ]

Taal en Letteren. Jaargang 11. Den Haag: Haagsche Boekhandel- en Uitgevers-maatschappij. 1901.         [ Links ]

Uchem, R. "The Challenge of Marginalization: The Experience of Africans in Europe and in the United States." Jenda: A Journal of Culture and African Women Studies 1.1(2001): 1-23.         [ Links ]

Van der Merwe, A.S.P. "Postkolonialiteit in die twintigste en een-en-twintigste eeuse Afrikaanse Drama met klem op die na-Sestigers. D.Litt-proefskrif. U Suid Afrika. 2003.         [ Links ]

Van der Merwe, C. N. en H. Viljoen, H. Alkant Olifant. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, 1998.

Van Rensburg, A. M. "Let them Speak-Slave Stamouers of South Africa." 14.3.2010. <http://www.stamouers.com>         [ Links ].

Van Zyl, C. E. "'Swartsmeer': 'n Studie oor die stereotipering van Afrika en Afrikane in die populêre media." MA-tesis, U Stellenbosch, 2008.         [ Links ]

World Book Encyclopedia 14 (1983): 5-8.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License