SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.50 número1Enclosed views in the Low Countries: The Critical Response in the Twenty First Century to Afrikaans poetry in Dutch Translation índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.50 no.1 Pretoria ene. 2013

 

'As ek dáárdie nektar wil eet, dan moet ek steke verdra': Stereo-tipering en vervreemding in die uitbeelding van lesbiese verhoudings in twee Afrikaanse romans

 

 

Jessica Murray

Jessica Murray is 'n medeprofessor in die Departement Engelse Studies aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy het al wyd gepubliseer oor queer studies en feminisme in die Suid-Afrikaanse letterkunde. E-pos: murraj@unisa.ac.za

 

 


ABSTRACT

This article offers a literary analysis of two neglected Afrikaans texts, namely Klipkus ("Stone Kiss", 1978) by Marlise Joubert and Requiem op ys ("Requiem on Ice", 1992) by Emma Huismans in order to explore how stereotypical understandings of lesbian sexuality structure the experiences of lesbian characters. Even as the article exposes common homophobic stereotypes, it emerges that the lesbian characters' experiences are complex and multi-faceted. The exposure to stereotypes results in a profound sense of alienation, which the characters attempt to overcome by undertaking journeys. As they struggle to deal with pain and alienation, the article demonstrates the joy that they manage to find in their relationships with one another. This joy turns out to be fleeting and compromised by social homophobic pressures. By means of a close reading of the representation of these lesbian relationships, the article both reveals and challenges common stereotypes about lesbian relationships. Keywords: alienation, Emma Huismans, homophobia, lesbian sexuality, Marlise Joubert, stereotyping.


 

 

'If I want to eat that nectar, I must endure the stings': Stereotyping and alienation in the representation of lesbian relationships in two

Afrikaans novels

 

Inleiding

In Breaking barriers: Stereotypes and the Changing of Values in Afrikaans Writing 18751990 verduidelik Van der Merwe (2) dat stereotiepe karakters in Afrikaanse fiksie die stereotiepe houdings van 'n samelewing weerspieël. Lesbiese seksualiteit het 'n uitgebreide geskiedenis van marginalisering en stigmatisering wat nou verband hou met die stereotipes wat met lesbiërs vereenselwig word. Hierdie letterkundige analise van Klipkus (1978) van Marlise Joubert en Requiem op ys (1992) van Emma Huismans wil vasstel hoe lesbiërs in twee Afrikaanse romans uitgebeeld word. In Klipkus noem een van die hoofkarakters, Adri, dat "[d]ie pyn drup en vloei in [haar]" (Joubert 85) en die verteller, Brigitta, hoor hoe "antwoord die reën altyd met sy trane wat nooit ophou nie" (22). In die romans blyk dit dat lesbiërs se ervarings net so kompleks soos hulle identiteite is, en dat "[s]uiwer vreugde" (Huismans 16) soveel deel is van hierdie karakters se lewenservarings as die pyn en trane. Om vas te stel hoe die romans omgaan met die "nektar" sowel as die "steke" wat in die titel aangehaal word uit Klipkus (87), fokus hierdie artikel op die stereotiepe wyses waarop lesbiese seksualiteit gekonstrueer word, sowel as die metaforiese en letterlike reise wat die karakters

In Reclaiming the L-word: Sappho's Daughters out in Africa meld die samesteller van dié bundel lewensverhale van lesbiërs van Afrika, dat lesbiërs se lewens reeds sedert die tyd van Sappho grotendeels agter sluiers van onsigbaarheid versteek is (Diesel xi). Dit is noemenswaardig dat Joubert ook haar teks begin met twee aanhalings van Sappho, die digter wat in die sewende eeu v.g.j. op die antieke Griekse eiland Lesbos geleef het en vandag beskryf word as "woman-identified" (Diesel xi).1 Joubert se eerste motto lui: "Love: a bringer of pain, a weaver of fictions". Deur haar roman op hierdie wyse in te lei, waarsku Joubert dus onmiddellik haar lesers dat die roman gaan handel oor lesbiese ervarings, liefde, smart, sowel as die rol van stories. In haar voorwoord tot Reclaiming the L-word besing Govinden (viii) ook die dwingende en verlossende mag wat gepaard gaan met die vertel van stories. Dit is tyd dat lesbiërs se stories, sowel in die vorm van fiksie as nie-fiksie, waardeer word vir hulle kompleksitieit en ryk nuanses. Volgens Du Plessis en Steenberg (30) verdien Klipkus "groter lof as wat dit tot dusver te beurt geval het". Botes en Cochrane (101) meen daar is "nog min we-tenskaplike navorsing oor lesbiese genderidentiteite binne die Afrikaanse letterkunde onderneem" en dit "ten spyte van belangwekkende tekste". Klipkus en Requiem opys is twee sulke "belangwekkende tekste" wat veelseggende insigte oor die stereotiepe verstaan van lesbiese seksualiteit bied en hulle verdien inderdaad meer aandag van Suid-Afrikaanse letterkundiges.

Sappho, en veral die mites wat oor die eeue heen rondom hierdie legendariese figuur gestalte gekry het, vereis verdere aandag. In die eerste plek omdat Joubert bykomende intertekstuele verwysings na hierdie mites maak deur een van haar karakters in Klipkus die naam Phaon te gee, en tweedens vanweë die simboliese mag wat Sappho as lesbiese voormoeder in die algemene verbeelding geniet. Laas-genoemde word ook beklemtoon in die titel van Diesel se bundel waar eietydse lesbiërs as Sappho se dogters beskryf word. Prettejohn (103) wys daarop dat daar een "feit" oor Sappho is waarvan almal bewus is, naamlik haar seksuele aangetrokkenheid tot ander vroue. Sy verduidelik ook dat, sedert die twintigste eeu, Sappho eerstens 'n embleem vir vroulike homoseksualiteit is en slegs tweedens onthou word as 'n skrywer van poësie en boekrolle wat behoue gebly het (Prettejohn 103). Dit is veelseggend, veral omdat sy reeds in antieke tye "bewonder [was] as een van die nege grootste liriese digters" (Henderson 5). Prettejohn (126) en DeJean waarsku dat daar steeds geen akademiese konsensus is oor hoe om Sappho se verwysings na die vroue wat sy lief het te verklaar nie. DeJean beklemtoon hierdie kritiese onsekerheid deur haar toonaangewende 1987 artikel "Fictions of Sappho" te noem. Een van hierdie fiksies wat veral belangrik is vir die analise wat later in die artikel aan bod sal kom, is gewek deur die vyftiende van Ovid se Heroides. Volgens Rosati (207) is die brief van Sappho aan Phaon die mees omstrede van al die tekste wat aan Ovid toegeskryf word. Ongeag die stryd rondom die geloofwaardigheid van en die kritiese debatte oor die teks, is dit wyd bekend. Volgens hierdie brief doen Sappho afstand van haar liefde vir vroue. Trouens sy is so verlief op die aanvallige jong man, Phaon, dat sy selfmoord pleeg wanneer hy haar verwerp (Faderman 47). DeJean (796) verduidelik dat die Sappho wat Ovid in hierdie brief herskep veral merkwaardig is vir die omvattende wyse waarop "afwykende" vroulike seksualiteit getem word en die diepgaande verbintenisse tussen vroue in Sappho se poësie eenvoudig uit gevee word. Ovid se Sappho verloën haar liefde vir vroue as 'n toonbeeld van jeugdige vergrype en sy kom tot die besef dat een man verkieslik is bo menigte vroue. Hierdeur, meen DeJean (796), sorg Ovid dat Sappho haarself verwyder van sowel 'n lesbiese seksuele oriëntasie as die gemeenskap van vroue wat sy in haar poësie verheerlik het. Kortom, Ovid "rehabiliteer" Sappho as 'n heteronormatiewe simboliese figuur wat die patriargale orde dien eerder as bedreig.2 Soos ek later in die artikel sal bewys, is dit ook hierdie soort druk waaraan die lesbiese karakters in die onderhawige romans blootgestel word.

 

Stereotipes en vervreemding

Van der Merwe (1) beskryf 'n stereotipe as die oorvereenvoudigde klassifikasie van mense in sekere kategorieë. Stereotipes bepaal dan ook die kulturele en morele verwagtinge van lede van sosiale groepe, asook die ideologiese houdings jeens sulke groepslede (Van der Merwe 1). Van Knippenberg en Dijksterhuis (107) omskryf stereotipes as denkbeeldige voorstellings van sosiale groepe of beelde van sulke groepe wat deel is van ons denkpatrone. In Klipkus word 'n algemene stereotipe verwoord deur Robin, wanneer hy in 'n brief verwys na lesbiërs as "[h]ierdie vroumense wat nog nooit reggesien is deur 'n ordentlike mansmens nie" en voeg hy by dat hulle hom "frustreer" tot so 'n mate dat hy dit moeilik vind om sy "eie vooroordele eenkant toe te skuif" (Joubert 90). In haar studie oor die verwantskap tussen stereotipes en hou-dings teenoor gay mans en lesbiërs, vind Simon (63) ook dat lesbiërs dikwels beskou word as vroue wat nog net nie die "regte" man ontmoet het nie. Joubert se karakter gee uiting aan hierdie stereotipe dekades voor die verskynsel van "korrektiewe verkragting" deel van die Suid-Afrikaanse woordeskat en realiteit geword het. Tog is die houding wat Robin uitspreek onrusbarend algemeen en dit word opgesom in Hawthorne se artikel waarvan die titel, "Ancient Hatred and its Contemporary Manifestation: The Torture of Lesbians", op sigself boekdele spreek. Hawthorne (48) is eksplisiet maar die kruheid van haar beskrywing ontbloot die geweld waarop hierdie aanname berus. Dié ingesteldheid word tot 'n mate verbloem deur Robin se siening dat lesbiërs "reggesien" moet word. Rivera-Fuentes en Birke (656) artikuleer hierdie stereotipe as die idee dat al wat lesbiërs nodig het om hulle terug onder die ou sambreel van heteroseksualiteit te bring is "a good fuck, from real men". In hulle navorsing oor die verkragting van lesbiërs in die Suid-Afrikaanse konteks, onthul Reid en Dirsuweit (117) se onderhoude dat mans vroulike homoseksualiteit dikwels beskou as iets wat hulle eie manlikheid bedreig. Ook in hierdie werk vertel lesbiërs van hul ondervindings van mans wat daarop aandring om hulle te wys hoe dit is om "reg" behandel te word deur 'n "regte man" en wat "regte seks" behels (Reid en Dirsuweit 117). Laasgenoemde frase dien as 'n versagtende uitdrukking vir "seks met 'n penis".

In Requiem op ys onthul Huismans 'n verdere vooroordeel waarmee lesbiërs gereeld moet omgaan, naamlik dat hulle aangetrokkenheid tot vroue net 'n fase is waardeur hulle sal beweeg om uiteindelik weer die "normaliteit" van heteroseksualiteit te aanvaar. Penelope (95) bevestig dat lesbiese seksualiteit binne heteropatriargale samelewings beskou word as 'n fase wat vroue sal ontgroei aangesien "normale" volwassenheid en heteroseksualiteit met mekaar geassosieer word. Chris vertel dat haar gewese minnares, Lorna, se moeder, Sandra, "glo nog steeds dat [sy] net 'n fase in Lorna se lewe is en nie 'n permanente seksuele identifikasie nie" (Huismans 59). In Klipkus is dit die lesbiese karakter, Adri, wat self sukkel om haar liefde vir Brigitta as lesbiese seksualiteit te aanvaar. Sy het 'n "klein rooi dagboekie" waarin sy haar "ervarings [...] aanteken" en sy hoop: "Dit sal miskien help om meer van myself te weet, en miskien sal ek dan mettertyd aanvaar wat ek is" (Joubert 52). Na Adri se dood wonder Brigitta ook en stel die hipotetiese vraag: "Miskien het Adri saam met hom [Phaon] weggegaan om haar heteroseksualiteit te bevestig?" (Joubert 63). Phaon beskuldig Adri daarvan dat sy hom slegs "gebruik vir die goedkeuring van die gemeenskap sodat [sy] verlos kan word van [haar] emosionele hang-ups met jou [Brigitta]" (75). Hier word die liefde tussen Adri en Brigitta dus gereduseer tot 'n blote emosionele versteuring waarvan die "slagoffer" "verlos" kan word deur haarself in heteroseksualiteit te dompel.

Die vader in Anna Blaman (27) se kortverhaal, "Vader, moeder en seun", besin oor die redes vir sy seun se homoseksualiteit maar die negatiewe stereotipes is ook van toepassing op die stigmatisering van lesbiërs, soos wanneer die vader meen "[d]it was bes moontlik 'n perversiteit of die oorerwing van voorvaderlike sonde of 'n opvoedingsfout" en hy beskryf dit as iets wat "sy lewe binnegegroei [het] soos 'n onkruid". Wilton (31) verduidelik dat lesbiese seksualiteit veral sedert die negentiende eeu as 'n patologiese "toestand" beskou word en dat dit sedertdien algemeen vereenselwig word met siekte, abnormaliteit en perversiteit. In Requiem op ys reageer Chris se familie op haar lesbiese seksuele voorkeure met onverdraagsaamheid en wreedheid. Chris se hele "lyf verstar" wanneer haar moeder as volg reageer op die onthulling van haar lesbiese seksualiteit: "Geskok bars sy in trane uit" (Huismans 59). 'n Brief van haar vader bied bykans 'n opsomming van die stereotipes van lesbiërs en hy beskuldig haar as volg: "Jy is abnormaal. Ken geen liefde nie. Siek. 'n Monster" (Huismans 59).

In Klipkus skryf Adri 'n brief aan Brigitta waarin sy vertel van 'n "afgryslike droom [wat sy] gehad [het]" (Joubert 76). Ondanks die deurmekaar beskrywings waaruit die brief bestaan, blyk dit dat die droom te make het met hoe Adri se onderbewussyn poog om sin te maak van haar liefde vir Brigitta in 'n samelewing waar lesbiese seksualiteit grotendeels met verwerping en isolasie gepaardgaan. Sy begin die brief deur te beskryf hoe sy haarself "skielik" bevind in "lang gange hulle is sag soos tonnels ek loop af in 'n tonnel dis 'n vagina weet ek skielik en dis gemaak van rooskleurige rubber daar is geen deure nie ek is alleen" (76). Die gebrek aan deure stel voor dat Adri sowel vasgevang as geïsoleerd voel en dat die droom in duidelike verband gebring word met vroulike genitalia. In die droom beweeg sy na 'n sitkamer en sy sien "die meisies in die sitkamer is almal mooi" (77). Haar eie ondervinding in die droom is egter van akute fisieke pyn wat metafories die psigiese pyn voorstel wat lesbiërs beleef in kontekste wat volgens heteronormatiewe ideale en standaarde gestruktureer is. Adri se brief artikuleer hierdie pyn as volg: "ek besef dat ek verskriklik lelik is en ek begin weer inmekaar te krul van pyn ek ruk en praat deurmekaar ek vra iemand of ek verander het sy sê ja ek het vreemd geword" (Joubert 77). In 'n hoofstuk met die titel "The ugly dyke" verduidelik Chapkis (70) die komplekse en afbrekende dinamika wat betrokke is by die stereotipe dat lesbiërs "verskriklik lelik" is. Sy meen dat, vir vroue, die beskrywing "lelik" dien as 'n sinoniem vir waardeloosheid, on-begeerlikheid en onverdienstelikheid. Dit word ook 'n wyse waarop vroue van 'n keuse ontneem word aangesien die bybetekenis is dat lesbiërs vroue is wat te onaantreklik was om 'n man se aandag en guns te wen (Chapkis 70).

Victor is ook verbaas wanneer hy sien dat Brigitta "aantreklik" (Joubert 13) is en veral omdat hy moet erken sy is "[v]ery femininine, indeed". Die insig laat hom dadelik wonder: "Hoe sou die ander een [Adri] gelyk het?" (13). Dit wil voorkom asof Victor 'n lesbiese verhouding steeds verstaan binne die raamwerk van heteroseksuele verhoudings wat georden word volgens stereotiepe genderrolle. As Brigitta vroulik voorkom, neem hy dus aan dat Adri meer tradisoneel manlik sal wees. Smith en Stillman (46) bevestig dat die stereotiepe lesbiese paartjie steeds bestaan uit een butch en een femme, waar die eersgenoemde verwys na vroue wat meer gemaklik is met manlike genderkodes, style en identiteite terwyl laasgenoemde lesbiërs meer vroulike gedragskodes verkies.

 

Reis as 'n strategie om vervreemding die hoof te bied

Telkemale probeer hierdie karakters om hulle vervreemding te verwerk deur reise te onderneem. In Kladboek artikuleer die verteller die drang om pyn te verwerk deur middel van reis en die gepaardgaande geografiese afstand as volg: "Reis as reiniging, suiwering" (Hambidge 18). Adri onderneem ook 'n reis na Holland en "[r]eeds op Jan Smuts [die lughawe]" kry sy die gevoel dat sy haar "lewe lank in transito" verkeer en sy bevind haarself "weer eens op die vooraand van 'n onbekende reis waarvan die bestemming ontwykend is en waarskynlik ontwykend sal bly" (Joubert 25). Sy onderneem hierdie reis saam met Phaon en, aangesien sy uiteraard weet dat hulle oppad Utrecht toe is, is haar verwysing na die ontwykende aard van haar bestemming 'n metaforiese aanduiding van haar innerlike gevoel van onsekerheid en vervreemding. Sy erken haar 'verwarde gevoelens" en die "angs van ontuisheid" (Joubert 27) in haar nuwe woning. Terwyl Phaon haar "skaamteloos die hof gemaak" het, hunker sy na Brigitta en dink: "Brigitta, my liefste! Ek wéns jy was saam met my!" (Joubert 26). Saam met Phaon in Holland kan Adri "weinig meer ervaar as verlatenheid en vermoeienis" en sy voel "onnatuurlik en ontuis" (26) al is hierdie nuwe plek so mooi "soos 'n sprokieland" (27). Die "duisende kilometers" wat haar nou van Brigitta skei, doen niks om die intensiteit van haar begeerte te demp nie en sy ontdek dat die "verslawing" aan haar geliefde voort duur. In hierdie opsig kan Joubert se roman dus beskou word as 'n terugskrywing teen Ovid. Sy eis die Sappho figuur op as 'n lesbiese voormoeder deurdat sy dit duidelik maak dat Adri geen vrede kan vind sonder Brigitta nie. Alhoewel Phaon haar vra om te trou en aanbied om 'n "herenhuis" vir hulle te koop, word Adri se gedagtes in beslag geneem deur die wete dat sy "verlang harts- tog-telik na [Brigitta]" (86).3

Adri beskryf die dringendheid wat haar op hierdie reis gedwing het as volg: "Ek móés saam met Phaon weggaan om die afgryslikheid van pyn af te weer" (48). Adri se verwarring is byna tasbaar wanneer sy skreeu "[w]at ek ook al is, ek wil uitkom! Uit! Uit!" (48). Brigitta en Adri se gevoel van vervreemding spruit uit die vyandigheid van 'n heteronormatiewe samelewing. Altwee het steeds seksuele verhoudings met mans en hulle is allesbehalwe gereed om hulself as lesbiërs te identifiseer. Hulle ondervind die vervreemding en vyandigheid wat gepaardgaan met hulle begeerte vir mekaar op 'n uiters akute vlak. Dit blyk duidelik uit Adri se stelling "[d]it voel of hulle my stenig" (49) asook haar pleitende vrae: "Ek het tog nie self gekies om te wees wat ek is nie? Of het ek wel? Het mens ooit 'n keuse ten opsigte van reaksies? Besef hulle nie dat dit net eenvoudig gebeur, asof ek geen beheer daaroor het nie?" (49). Adri se vrae weerspieël 'n langdurige debat in queer studies waar daar besin word of mense homoseksueel gebore word al dan nie. Hierdie idee, wat saamgevat kan word in die sogenaamde "born that way" diskoers, was lank die dominante benadering. Die tipe biologiese determinisme wat onderliggend tot so 'n seining is, word egter reeds vir 'n geruime tyd deur eietydse feministiese en queer teoretici verwerp. Hulle teoretiese vertrekpunt is eerder dat gender en seksualiteit, hetsy homoseksualiteit of heteroseksualiteit, sosiale konstruksies is en dat hulle as sulks veranderlik is (Jackson 162; Rahman en Jackson). Adri se gedagtes verklap haar ontluikende gewaarwording dat seksualiteit nou vervleg is met gender. Sy wonder of mense nie besef: "Dat ek miskien net getrou wou wees aan 'n sekere faset van my samestelling, dat ekjuis wou wegbreek van die moraliserende patroon waarin my vrouwees gegiet is?" en sy besluit "The real trouble about women is that they must always go on trying to adapt themselves to men's theories of women" (49).

Adri is ook bewus daarvan dat enige poging om hierdie "patroon" van "vrouwees" te bevraagteken ten sterkste veroordeel sal word en haar vrae aan haarself roep beelde op van uitermatig gewelddadige strawwe wat dan ook tradisioneel gebruik was om afwykende vroue te tugtig, naamlik steniging en die brandstapel waarop hekse gemartel was. Sy vra: "Waarom wil hulle hierdie vrywording verbrand? Waarom wil hulle my met klippe gooi?" (49). Ten spyte van haar reise, vind Adri dat sy en Brigitta "bly sonder ophou deel van mekaar" (54) maar hierdie wete laat haar net "verleë en moeg" en sy verduidelik dit as volg: "want hoe ek ook al dink, kan ek ons nêrens in hierdie samelewing inpas nie. ons rym met niks nie. ons is uit pas" (54). Joubert is duidelik ook bewus van die stereotipes van lesbiërs as gestigmatiseerde, siek vroue wat net die "regte" man nodig het. Brigitta trou met 'n man, Steve, en Adri reageer deur te sê "trou met steve as jy moet, as dit jou die verlossing gee uit ons verhouding wat jy nie meer kan aanvaar nie" maar sy waarsku ook "jy sal die merke nooit uitwis nie en jy sal geen genesing of suiwering ooit in jou huwelik vind nie" (72). Vir Adri is Brigitta "steeds die een ding wat stil en dinamies in die middel van [haar] bestaan sentreer" (83). Die enigste tuiste en plek van geborgenheid wat vir haar sin maak, is by Brigitta en sy smeek "kom haal my, brigitta, red my plaas my veilig terug in jou" (88). Die vervreemding kry egter die opperhand en die roman eindig waar Adri vir Brigitta laat weet dat al haar reise tevergeefs was. Sy beskryf haarself as "vervreemde, verminkte vlees" (95). In een van haar briewe aan Victor Vink, vertel Brigitta van Adri se laaste reis na "Jan Smuts se plattegrond op die elfde met KLM 591" (95) en sy verduidelik: "Adri het selfmoord gepleeg nadat sy haar toegesluit het in een van die toilette op die vliegtuig. Sy het haarself geskiet" (37).

Requiem op ys begin deur die sentrale tema van reis te beklemtoon. Die eerste hoofstuk se titel heet "Kopenhagen" en met die eerste kort, bondige sin meld die verteller, Chris, "[o]ns vlieg noord" (1). Die belangrike rol wat reis in die res van die teks sal hê word verder onder die leser se aandag gebring in die tweede paragraaf waar dit blyk dat Kopenhagen slegs een deel van 'n meer uitgebreide reis is wanneer Chris besluit "[d]ie hotel waarop die reisagent in Johannesburg besluit het, is minder oordrewe as die een in Wes-Berlyn" (1). Soos in Adri se geval hierbo, help die skoonheid van die stad nie veel om Chris se gevoel van vervreemding af te weer nie. Sy erken "Kopenhagen is 'n sjarmante stad" (1) maar haar terminologiese keuses verklap hoe ontuis sy hier voel. Wanneer sy 'n foto neem merk sy 'n "[v]reemede effek so teen die lig in". Sy is effens senuweeagtig en wanneer sy hoor hoe 'n student sy "leë bierbottel" laat val "skrik [sy] so groot dat [sy] die sluiter afdruk" (1). Die ongemaklikheid duur voort wanneer sy probeer om haar reisigerstjeks te wissel en sy verduidelik dit as volg: "Die oomblik toe ek die bank binnegaan, weet ek dis nie die regte plek nie" (1). Sy beskryf die klerke as "uitdrukkingloos en sonder die gebruiklike handswaai" (1).

In die romans wat in hierdie artikel bespreek word, is dit telkemale binne verhoudings wat lesbiërs poog om tuistes te skep. Wanneer Inger, wat in die bank werk, vir Chris nader en met haar begin gesels, verander die atmosfeer egter en Chris vind "[d]aar is geen ongemaklikheid nie" (3). Sy voel hoe haar "waaksaamheid verslap" en sy voel tuis genoeg in Inger se teenwoordigheid om, "vir die eerste keer in maande", te "praat sonder om eers deeglik na te dink" (4). Die stereotipes van lesbiese seksualiteit as onnatuurlik en abnormaal word hier die hoof gebied deur Chris se aanmerkings "[a]lles gebeur so natuurlik" (9) en "[s]elfs om saam wakker te word is maklik, vrien-delik en doodnormaal" (10). Die geluk wat Chris ervaar wanneer sy en Inger saam is, is "[s]uiwer vreugde-vreugde oor die sekerheid van die oomblik" (16) en dit verskil strak van haar verhouding met drie van haar vier broers. Chris "vind hulle bloot vreemdelinge" en sy merk "[h]ulle praat van bloed wat dikker is as water, maar nou ja, nie dikker as 'n suster se liefde vir vroue nie" (39). Chris se reise in ook 'n poging om die dood van haar vader te verwerk. Sy erken dat sy hom "mis" (45) ondanks sy reaksie toe hy uitgevind het dat sy lesbies is en haar die volgende dreigement toegesnou het: "As jyjou voete ooit weer op ons werf sit, skiet ek jou soos 'n hond" (60). Anders as in die geval van die karakters in Klipkus veroorsaak sosiale heteronormatiewe druk egter nie dat Chris haar seksualiteit bevraagteken nie. Tydens 'n afspraak met 'n sielkundige bevestig sy haar seksualiteit uitdruklik: "Dit gaan nie vir my om seksuele identifikasie nie. Ek het geen probleme daarmee nie. Ek is soos ek is. Ek wil so wees" (55).

Na haar tyd saam met Inger in Kopenhagen en hulle reis saam na Noorweë om die gletsers te gaan bekyk, besoek sy haar vriendin, Janet, in Amsterdam en dit blyk dat haar gevoel van vervreemding terug keer wanneer sy sê: "Ek weet nie waar ek regtig wil wees nie" (45). Dit klink dus asof Inger slegs 'n tydelike tipe tuiskoms gebied het om kortstondige verligting te gee teen Chris se gevoel van vervreemding. Chris keer terug na Suid-Afrika maar die "[l]ugposbriewe" van Inger wat in 'n "stapeltjie langs [haar] bed groei" (80) is nie voldoende om te keer dat haar "dae begin draai om hunkering, begeerte en verlange" (82) nie. Chris self besef "[o]ntheem duik gedurig op". Ook haar ouers, wat as immigrante van Holland na Suid-Afrika gekom het, "was ontheemde mense, hulle hele lewe lank, en hulle is so dood". As sy Inger volg, en "in Denemarke gaan woon, is die kanse groot dat [sy] ook 'n ontheemde sal word". Sy is ook deeglik bewus dat, "[s]elfs in Nederland sal [sy] 'n vreemdeling wees". Haar problematiese vervreemding sal nie opgelos word deur in Suid-Afrika te bly nie, want selfs daar kan sy "aan geen enkele groep dink waaraan [sy] werklik met wortels deel het nie" en sy besluit "[m]iskien is [sy] reeds ontheem" (114). By Inger is dinge egter anders en, wanneer sy daaroor nadink, besef sy: "Ek kan nie eens onthou dat ek al ooit vreemd of ontheem by haar gevoel het nie, maar die liefde kleur alles natuurlik anders in" (114). In die bestek van 'n enkele paragraaf, gebruik Huismans die woord "ontheem", of verbuigde vorms daarvan, vyf keer en "vreemd" en "vreemdeling" word in dieselfde paragraaf aangetref. Slegs twee uit hierdie sewe woorde wat vervreemding suggereer, verwys na ervarings waar Chris nié so gevoel het nie. Selfs wanneer sy daardie gevoel beskryf is sy skepties en voer aan dat "die liefde" waarskynlik bloot die vervreemding wat altyd alreeds deel van haar bestaan was, tydelik verbloem het. Die titseltjie hoop vir 'n tipe tuiskoms wat flikker wanneer Chris beskryf hoe sy by Inger voel, word stellig gedemp deur die sin waarmee die paragraaf eindig: "Ek skakel die lig af" (114). Alhoewel die "vreugde nog altyd groter as die angs" (115) is in haar verhouding met Inger, is die vrees beduidend en sy voel "[h]ierdie nuwe golf van liefde is besig om 'n bedreiging te word" (114).

 

Samevatting

Terwyl die karakters in Klipkus nog geworstel het om hulle eie identiteite te verstaan en te aanvaar, is Chris "bereid om buigsaam te wees" (114) maar sy weet wie sy is en sy verklaar: "Maar ek wil ek bly" (114). Sy glo eenvoudig nie dat dit moontlik sal wees in enige verhouding nie want "[i]emand moet aan iemand toegee" en vir haar "bly enige vorm van onderwerping ongesond" (114). Wanneer Inger dus vir haar 'n vlug na Europa bespreek, kanselleer Chris die kaartjie en gee sodoende hulle verhouding prys om terug te keer na haar ontheemde bestaan in Suid-Afrika. Terwyl die roman nie so tragies verloop soos Klipkus waar Adri selfmoord as die enigste uitkoms beskou nie, is daar steeds aansienlike patos aangesien dit wil voorkom of Chris so amper 'n tuiste in haar verhouding met Inger vind, maar dat so 'n tuiskoms haar tog uiteindelik ontwyk. In Klipkus verklap 'n gesprek tussen Victor en Brigitta dat sy steeds vaskleef aan 'n romantiese begrip van lesbiese verhoudings waarvolgens sulke verhoudings noodwendig 'n tipe tuiskoms en nabyheid moet bied, bloot omdat dit tussen twee vroue is. Victor vra: "Maar hoekom is dit anders as met 'n man dan?" (Joubert 18). Brigitta se antwoord dui daarop dat sy die lesbiese mite aanvaar: "Ons is albei vrouens. Dis hoekom. Die begrip is op elke vlak vollediger" (18). Chris se ervarings het haar oortuig dat die mite van totale begrip in 'n verhouding van volkome gelykheid inderdaad 'n mite is. Sy dra die "[l]ittekens" (24) van haar verhouding met Lorna en sy onthou "die talle blitsvernederings" (23). In haar verhouding met Elaine was dit slegs "[m]et verloop vanjare [dat] Elaine se outomatiese gesagsposisie afgeneem [het]" (65). Chris "aanvaar nie meer alles wat sy sê nie" en sy vermoed "[m]iskien is dít die oorsaak van die spanning" tussen hulle. Weens Chris se blootstelling aan die ongelykheid wat binne lesbiese verhoudings kan heers, is sy te bang om haar verhouding met Inger 'n kans te gee want sy staan "nou op eie bene en is nie meer bereid om toe te gee nie" (114). Caldwell en Peplau (598) se navorsing bevestig dat 'n lesbiese verhouding nie noodwendig magsongelykhede vermy nie. Alhoewel altwee die romans tot 'n mate "weerstand teen die hegemonie van heteroseksualiteit" (Du Plessis en Steenberg 16) bied, is dit duidelik dat lesbiese verhoudings nie 'n magiese roete tot gelykheid en selfverwesenliking is nie. Terselfdetyd ondermyn die romans 'n ander algemene stereotipe, naamlik dat lesbiese verhoudings noodwendig ongelukkig en skadelik is (Peplau en Fingerhut 409). Hierdie karakters se ervarings is kompleks en, ondanks die feit dat 'n gelukkige einde hulle steeds ontwyk, vind hulle ongekende vreugde in hulle tye saam ten spyte van die alomteenwoordige homofobiese stereotipes waaraan hulle blootgestel word.

 

Aantekeninge

1. Henderson (10) meen Sappho se "leeftyd lê êrens tussen 630 en 550 v.C" en hy verwys lesers na Campbell (x-xi) "wat haar geboortedatum as c.630 v.C. [v.g.j.] opgee".

2. Een van die mees gesaghebbende teoretici op die navorsingsgebied van heteronormatiwiteit, Jackson (163), verduidelik dat heteronormatiwiteit die normatiewe status van heteroseksualiteit bevestig, en dus alle ander vorms van seksualiteit afmaak as "ander" en marginaal.

3. Binne die feminisme is daar 'n sterk tradisie van terugskrywing of herskrywing wat spruit uit die feit dat vroue se stemme dikwels stilgemaak is en dat vroulike karakters telkemale die slagoffers geword het van wanvoorstellings deur manlike skrywers (sien byvoorbeeld King; Gilleir, Montoya en Van Dijk). Om hierdie diskursiewe onregverdigheid aan te spreek, bied sommige vroulike skrywers dus alternatiewe uitbeeldings van karakters soos Sappho, wat lesers voorsien van 'n ander weergawe as dié van Ovid.

 

Geraadpleegde bronne

Blaman, A. "Vader, moeder en seun." Red. J. de Lange. Soort soek soort: 'n Versameling alternatiewe ervarings. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg, 1997.         [ Links ]

Botes, N. en N. Cochrane. "Van drag king tot lipstick lesbian: 'n Voorlopinge kontinuum van lesbiese genderidentiteit met spesifieke toepassing op die Afrikaanse kortverhaal." Stilet 19.2 (2007): 100-17.         [ Links ]

Caldwell, M. A. en L. A. Peplau. "The Balance of Power in Lesbian Relationships." Sex Roles 10.7/8 (1984): 587-99.         [ Links ]

Campbell, D. A. Greek lyric 1: Sappho and Alcaeus. Cambridge: Harvard UP 1990.         [ Links ]

Chapkis, W. "The ugly dyke." Red. D. Atkins, D. Looking Queer: Body Image and Identity in Lesbian, Bisexual, Gay, and Transgender Communities. New York: The Haworth Press, 1998.         [ Links ] DeJean, J. "Fictions of Sappho." Critical Inquiry 13.4 (1987): 787-805.         [ Links ]

Diesel, A. (red.). Reclaiming the L-word: Sappho's Daughters out in Africa. Athlone: Modjaji Books, 2011.         [ Links ]

Du Plessis, J. W. en D. H. Steenberg. "Feministiese fasette in Klipkus van Marlise Joubert." Literator 10.3 (Nov. 1989): 14-30.         [ Links ]

Faderman, L. Surpassing the Love of Men: Romantic Friendship and Love between Women from the Renaissance to the Present. Londen: The Women's Press, 1985.         [ Links ]

Gilleir, A., A. Montoya en S. van Dijk. (reds.). Women Writing Back/Writing Women Back: Transnational Perspectives from the Late Middle Ages to the Dawn of the Modern Era. Leiden: Brill, 2010.         [ Links ]

Govinden, D. "Foreword." Red. A. Diesel. Reclaiming the L-word: Sappho's Daughters out in Africa. Athlone: Modjaji Books, 2011. vii-ix.         [ Links ]

Hambidge, J. Kladboek: 'n Hibridiese roman. Pretoria: Protea Boekhuis, 2008.         [ Links ]

Hawthorne, S. 'Ancient Hatred and its Contemporary Manifestation: The Torture of Lesbians." Journal of Hate Studies 4.1 (2005/6): 33-58.         [ Links ]

Henderson, W J. "'n Nuwe gedig van Sappho." Tydskrif vir Letterkunde 43.2 (2006): 5-12.         [ Links ]

Huismans, E. Requiem opys. Pretoria: HAUM, 1992.         [ Links ]

Jackson, S. Heterosexualiy in Question. Londen: Sage Publications, 1999.         [ Links ] Joubert, M. Klipkus. Kaapstad: Tafelberg, 1978.         [ Links ]

King, J. The Victorian Woman Question in Contemporary Feminist Fiction. Basingstoke: Palgrave Macmillan, 2005.         [ Links ]

Penelope, J. "The Lesbian Perspective." Red. J. Allen. Lesbian Philosophies and Cultures. New York: State U of New York P 1990.         [ Links ]

Peplau, L. A. en A. W Fingerhut. "The Close relationships of Lesbians and Gay Men." Annula Review of Psychology 58 (2007): 405-24.         [ Links ]

Prettejohn, E. "Solomon, Swinburne, Sappho." Victorian Review 34.2 (2008): 103-28.         [ Links ]

Rahman, M. en S. Jackson. "Liberty, Equality and Sexuality: Essentialism and the Discourse of Rights."Journal of Gender Studies 6.2 (1997): 117-29.         [ Links ]

Reid, G. en T. Dirsuweit. "Understanding Systemic Violence: Homophobic Attacks in Johannesburg and its Surrounds." Urban Forum 13.3 (2002): 99-126.         [ Links ]

Rivera-Fuentes, C. en L. Birke. "Talking with/in Pain: Reflections on Bodies under Torture." Women's Studies International Forum 24.6 (2001): 653-68.         [ Links ]

Rosati, G. "Sabinus, the Heroides and the Poet-Nightingale. Some Observations on the Authenticity of the Epistula Sapphus." The Classical Quarterly 46.1 (1996): 207-16.         [ Links ]

Simon, A. "The Relationship between Stereotypes of and Attitudes towards Lesbians and Gays." Red. G. M. Herek. Stigma and Sexual Orientation: Understanding Prejudice against Lesbians, Gay Men, and Bisexuals. Londen: Sage Publications, 1998.         [ Links ]

Smith, C.A. en S. Stillman. "Butch/Femme in the Personal Advertisements of Lesbians." Journal of Lesbian Studies 6.1 (2002): 45-51.         [ Links ]

Van der Merwe, C. N. Breaking Barriers: Stereotypes and the Changing of Values in Afrikaans Writing 18751990. Amsterdam: Rodopi, 1994.         [ Links ]

Van Knippenberg, A. D. en A. P. Dijksterhuis. "Social Categorization and Stereotyping: A Functional Perspective." European Review of Social Psychology 11.1 (2000): 105-44.         [ Links ]

Wilton, T. Lesbian Studies: Setting an Agenda. Londen: Routledge, 1995.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License