SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.49 no.2 Pretoria  2012

 

HULDEBLYK

 

Huldeblyk: Willie Adams (1951 - 2012)

 

 

Hein Willemse

Hein Willemse is professor inLetterkunde in die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: hein.willemse@up.ac.za

 

 

 

Get up, stand up (so we can't give up the fight)
Stand up for your right (lord lord)
Get up, stand up (people struggling on)
Don't give up the fight (yeah)
"Get up, stand up"
Bob Marley

Die laatmiddag van 24 Mei 2012 ontvang ek 'n e-posboodskap met onder meer hierdie sin: "Ek dink ek het aan die einde van die herskryf van Reënboog gekom, behalwe vir die regstellings [...] want my pen het opgedroog." Naas enkele opmerkings en vrae oor die manuskrip bevat die boodskap 'n aanhangsel met die werkstitel Toe die reënboog nog die reënboog was. Skaars drie weke later skakel die skrywer se vrou my te midde van die oggendspitsverkeer: "Ek laat jou net weet dat Willie gisteraand oorlede is."

Die voorafgaande jaar het ek en Willie Adams verskeie ontmoetings in Kaapstad gehad om oor sy manuskrip-in-wording te praat. Hy het aanvanklik net my oordeel gevra oor wat hy gedink het 'n afgeronde manuskrip was en met ons eerste sessie het ek uitgebreide aanpassings voorgestel oor styl, karakter en komposisie, oor outobiografie en versinsel. Wat 'n kort outobiografiese teks was, het ek aanbeveel kon soveel meer word en as die moontlikhede werklik ontgin is, behoort selfs 'n gevestigde uitgewer daarin belang te stel. Daarop het hy gegrinnik, maar tog met tussenposes sy hersienings aangestuur.

Sy grinnik moet verklaar word, want al sy vorige werke het sy eie uitgewery Domestica uitgegee. Ek weet nie of hy 'n "gevestigde uitgewer" sou oorweeg nie, want Domestica was vir hom 'n teken van kulturele selfstandigheid. Sedert die vroeë 1970's was hy 'n sterk aanhanger van Black Consciousness en self-reliance, en Steve Biko se uitspraak "Black man you're on your own" het hy uitgeleef. Hy was oortuig dat geen swart mens ernstig opgeneem kan word as hy voor die poorte van wit mag moes kniel nie. Hy het geglo in selfhelp en dwarsdeur sy loopbaan het hy in sy gemeenskap moue opgerol.

Hy publiseer onder meer die digbundel Riemvasmaak (1995), vier kort toneelstukke in Episodes en ander gemeenskapsdramas (1995), 'n bundel kontrei- en biografiese sketse Eureka Estate se hoë gebou (1997) en twee bundels sosiale en politieke kommentaar, onderskeidelik Townshipgesprekke uit die ou Suid-Afrika (2007) en Townshipgesprekke uit die nuwe Suid-Afrika (2007). Domestica het ook die bloemlesing Optog (1990) wat hy met Leonard Koza en Patrick Petersen saamgestel het, uitgegee. Met Willie se heengaan is al drie dié redakteurs, veels te vroeg, oorlede.

Alhoewel sy debuutbundel in 1995 gepubliseer is, het sy publikasies reeds sedert die 1970's in plaaslike tydskrifte soos Blac, Contrast, Ensovoort, Graffier, New Classic, Praat, Stet en Vakalisa verskyn. Sy werk is ook gepubliseer in oorsese publikasies soos Gar Magazine, Greenfield Review en Somehow We Survive. Van sy gedigte is opgeneem in bloemlesings soos iQabane Labantu, Poskaarte, Reënboogstemme en Gerrit Komrij se De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten.

In die Plankierama, 'n houtsaaltjie in Matroosfontein naby Elsiesrivier, het Willie sy eerste dramas met sy Township Players opgevoer. Veral sy Episodes en die latere Hypocrites was gewild omdat dit gehandel het oor sake van die dag, byvoorbeeld die opstande van 1976 of die skandale van die veragte bestuursliggame of die keuse vir politieke verset.

William Edward Adams is op Saterdag 24 Maart 1951 in Elsiesrivier gebore, en bring sy jeug deur in een van die Kaap se oudste townships, Bishop Lavis. Hy matrikuleer aan Elswood Hoërskool in Elsiesrivier en na sy BSc-studie van die Universiteit van Wes-Kaapland en 'n onderwysdiploma van Unisa onderrig hy, sedert 1974, Biologie aan verskeie skole op die Kaapse Vlakte. In 1980 word hy aangestel as 'n lektor aan die Hewat Onderwyskollege in Athlone, Kaapstad waar onder meer die Engelse skrywer Richard Rive een van sy kritiese gespreksgenote was. In 1993 behaal hy sy MEd aan die Universiteit van Kaapstad wat hy opvolg met 'n honneurs in Argeologie (2011) aan dieselfde instelling.

Vir talle ander was hy bekend as 'n sportman en 'n leidende sportadministrateur, want kultuur, sport, die onderwys en die aktiewe politiek was deel van sy vol lewe. Hy was 'n stigterslid van verskeie sportklubs en in Kaapstad se noordelike gebiede is sy naam sinoniem met die Celtic Sokkerklub en die Bishop Lavis Krieketklub. Danie Mitchell, een van sy oud-leerlinge, beskou sy rol as gemeenskapsleier as "monumentaal in Bishop Lavis" omdat hy daar menige jongmens se sosiale bewustheid gerig het.

Sedert sy studentedae was Willie 'n lid van verskeie swartbewustheidsorganisasies, onder meer SASO en later AZAPO. In die laat-neëntigerjare word hy verkies tot Wes-Kaapse voorsitter van AZAPO. Die destydse streeksorganiseerder, Mkhufeli Khokhoda, herinner hom dat Willie in die tyd vir hom soos 'n pa was: "Hy kon goed organiseer en hy het duidelike standpunte gehad. Hy was destyds sterk gekant teen die Kaapse bod vir die Olimpiese Spele, want dit sou ons net benadeel en bankrot maak."

Niemand sou Willie van manteldraaiery kon beskuldig nie; vir sy kennisse en vriende was hy 'n man uit een stuk. Selfs sy bundel Riemvasmaak het hy opgedra aan "alle persone wat nog nie gekoöpteer is deur die establishment nie". Willie was soos van die ander oorblywende lede van die laaste South African Council of Sport (SACOS)-bestuur, Basil Brown en Dallas Haynes, gekant teen die oorhaastige vereniging van Suid-Afrikaanse sport. In die vroeë jare neëntig, reken hulle dat die ANC die verenging van Suid-Afrikaanse sport as deel van hul onderhandelingstrategie gebruik het om (wit) sport internasionaal aanvaarbaar te maak, maar in hul haas die behoeftes van die meerderheid Suid-Afrikaners agterweë gelaat het. "Nie-rassige sport is opgeoffer," sê Brown, "en vandag sien ons die negatiewe gevolge daarvan. Daar is byna geen georganiseerde sport meer in ons gemeenskappe of skole nie. Mense soos ek en Willie se standpunte van destyds was geregverdig."

Ook in sy onderwysloopbaan was Willie verbind tot gemeenskapsleiding. Volgens Hennie Ulster, 'n voormalige Hewat-kollega, het hy omgegee vir die underdog en die onderwys was vir hom 'n manier om die uitgestotenes op te hef. As deel van sy persoonlike verbintenis het hy as 'n kollegedosent fabriekwerkers en verpleegsters deeltyds onderrig. Dit was veral sy oortuigde sin vir reg en geregtigheid wat sy kollegas getref het. 'n Sprekende voorbeeld was toe Hewat in 1996 moes sluit om saam te smelt met die (eertydse wit) Kaapstadse onderwyskollege. Uit protes het Willie besluit om nie oor te gaan nie en verkies om sy pos as senior lektor prys te gee. Later sluit hy as gewone onderwyser aan by die onderpresterende Luhlaza Sekondêre Skool in Khayalitsha.

Willie Adams was 'n gemeenskapskrywer wat sy wêreld breër bekend wou stel. In sy Reënboog-manuskrip skryf hy met deernis oor karakters in sy lewe soos 'n hakkelende pa wat met vullerfrases soos "hiesa da" en "why of cause" sy stameling oorkom het: "Dit was 'n hiersa da', why of cause vuil wedstryd, meneer die voorsitter, maar ek is trots op my voorspelers [...] ons het die wedstryd gewen met hiersa da', why of cause 52 - 14. Dis hiersa da', why of cause al wat ek wil sê, meneer die voorsitter."

Met sy heengaan is daar nie genoeg woorde om ons verlies te beskryf nie, selfs nie eens "hiesa da" en "why of cause" sal die leemte kan vul nie.

Na 'n mediese ondersoek in Maart 2012 het Willie sy persoonlike sake met doelgerigtheid agtermekaar gekry. Hy het sy manuskrip afgehandel, uitdruklike instruksies vir sy verassing en sekulêre gedenkdiens opgestel selfs met 'n versoek vir die reggae-klanke van Bob Marley. Hy sterf op Maandagaand 18 Junie 2012 na nierversaking aan 'n hartaanval. Hy word oorleef deur sy vrou Joan, sy kinders Robert, Wilnelia en Olivia, en kleindogter Tori.