SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número2'We who cannot speak lived there first': A new claim to land in My plaas se naam is Vergenoeg by George WeidemanWillemsdorp by Herman Charles Bosman: the small-town locale as fictional vehicle for commentary on social and moral issues in the South African historical context índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    versión impresa ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. v.49 n.2 Pretoria  2012

     

    'Oor monnemente gepraat': die Campanile in Port Elizabeth

     

    'On monuments': the Campanile in Port Elizabeth

     

     

    Wessel StoltzI; Marius CrousII

    I'n nagraadse student verbonde aan die Departement Tale en Letterkunde, Nelson Mandela Metropo-litaanse Universiteit, Port Elizabeth. E-posse:wesselstoltz@gmail.com
    IIaan dieselfde instelling as dosent verbonde. E-posse: marius.crous@nmmu.ac.za

     

     


    ABSTRACT

    In this article we undertake a semiotic reading of the Campanile Clock Tower Monument in Port Elizabeth. The monument was built in 1920 to commemorate the arrival of the British Settlers in 1820. The theoretical departure of our analysis is the five narrative codes identified by Roland Barthes in his unconventional reading of Sarrasine. The article shows the extent to which the observer (reader?) is able to encode the monument with new textual possibilities as well as reading it against the grain within a new context. The original symbolism of the monument as a symbol of colonial enterprise and white English-speaking South African identity is also deconstructed in the process.

    Keywords: Barthes, colonial monuments, readerly and writerly texts, semiotics.


     

     

    Inleiding

    In hierdie ondersoek, wat deel uitmaak van 'n nagraadse projek oor die monumente van Port Elizabeth, word gefokus op die Campanile, die toringklokmonument wat in 1920 in dié stad opgerig is om die koms van die Britse setlaars 'n eeu tevore te gedenk (kyk Stoltz). As teoretiese vertrekpunt word die monument as 'n teks gelees en wel aan die hand van Roland Barthes se uitgangspunte oor onder meer die onderskeid tussen "werk" en "teks", "leesbare en skryfbare tekste" en veral die vyf kodes wat hy identifiseer in sy ondersoek na Balzac se Sarrasine in S/Z (vgl. ook Kim).

    Vir Barthes ("Work", 73 - 81) beteken die konsep teks nie 'n definieerbare objek nie, want anders as die "werk" wat rakspasie in die biblioteek inneem, is die teks 'n metodologiese veld en moet beskou word as 'n aktiwiteit of 'n produktiwiteit. Die teks is ook grotendeels revolusionêr van aard en oop vir vertolking. Vergelyk Barthes ("Work" 76) in dié verband: "The Text is plural. This does not mean just that it has several meanings, but rather that it achieves plurality of meaning, an irreducible plurality. The Text is not coexistence of meanings but passage, traversal: thus it answers not to an interpretation, liberal though it may be, but to an explosion, a dissemination" (oorspronklike kursief).

    Deur die monumente as tekste te bestempel, word geïmpliseer dat hulle deel word van 'n intertekstuele leesproses wat losgemaak kan word van enige affiliasie. Barthes is skepties oor enige naspeur van oorsprong en beginpunte van tekste, veral aangesien hy die werk (teenoor die teks) assosieer met 'n sterk skrywersgerigte affiliasie. Sy bekende uitspraak oor die dood van die skrywer kan ook hier betrek word. Die monument as teks kan geïnterpreteer word sonder om sy historiese konteks, sy argiteksplanne en sy oorspronklike maker in ag te neem. Dit dra by tot die oneindige semiosis van interpretasie. Scott (596) sluit hierby aan:

    [A]ll gestures signify according to their present place in a web made of the existing universe of signs. The locus of meaning, then, is not an immutable, ideal structure of language that acts as a "center" for signification and thus knowledge and life. Instead, meaning inheres in the surface of an ever-changing web of signs, making all language acts essentially provisional and allusory.

    Die monument, die klaarvoltooide bouwerk, sal dus op die oog af as 'n leesmatige teks in Barthes se terminologie bestempel word, maar wanneer die leser/kyker1 die monument aan die hand van Barthes se S/Z lees, word dit 'n skryfmatige teks. Die leser/kyker lees die monument met sy of haar eie kodes en kan dit interpreteer met behulp van 'n ander sistemies-funksionele grammatika. Die leser/kyker word as't ware 'n kulturele toeris wie se blik (gaze) Frow (125) soos volg beskryf: "For the tourist gaze, things are read as signs of themselves. A place, a gesture, a use of language are understood not as given bits of the real but as suffused with ideality, giving on to the type of the beautiful, the extraordinary, or the culturally authentic. Their reality is figural rather than literal."

    Gil Abousnnouga wys daarop dat semiotiese studies van monumente gewoonlik fokus op aspekte buite die teks soos onder meer die historiese konteks. In haar bespreking fokus sy grotendeels op die visuele kodes en die argitektoniese teorie wat die grondslag vorm van die monumente onder bespreking. In hierdie ondersoek na die Campanile sal 'n goue middeweg tussenin gevind word en albei fasette betrek word. Elders wys Abousnnouga en Machin (116) dat monumente deel geword het van ons landskap en dat bepaalde leksikale inskripsies op die monumente aangebring word. Die semiotiese leser kan hierdie inskripsies anders vertolk vanuit sy of haar ideologiese raamwerk en "oorlog" byvoorbeeld lees as synde 'n teken vir waansin en aggressie eerder as 'n patriotiese verdediging van die land.

    In aansluiting by Barthes (S/Z 18 - 20) word vyf kodes geïdentifiseer, wat aangewend gaan word vir hierdie semiotiese lesing van die monument. Die monument word beskou aan die hand van die volgende: (1) 'n hermeneutiese kode, waarin vrae gestel en beantwoord word, (2) 'n seemkode, wat verband hou met betekenis, of altans die leser se begrip daarvan, (3) 'n simboliese kode, waarin data uit die teks tot groter idee- of beeldekompleks verbind word, (4) 'n proaïretiese of handelingskode wat verband hou met struktuur en die spanning wat daardeur geskep word, en laastens (5) 'n kulturele kode wat verwys na 'n korpus van kennis wat opgebou is binne 'n sekere kultuur. Hierdie vyf kodes van Barthes, tesame met ander soos historiese, argitektoniese, geografiese en politieke kodes, kan dus gebruik word in 'n semiotiese ontleding van die monumente, om sodoende die tekens te ontsluit.

    Barthes (S/Z 20) meen dat hierdie kodes "a kind of network" vorm waardeur die teks beweeg en hy verduidelik die gebruik van die begrip kode soos volg:

    The code is a perspective of quotations, a mirage of structures [...] there are so many fragments of something that has always been already read, seen, done, experienced; the code is the wake of that already [...] each code is one of the forces that can take over the text (of which the text is the network), one of the voices out of which the text is woven.

    Wittenberg (2) beoog iets soortgelyks met sy analise van die Rhodes-gedenkteken in Kaapstad wanneer hy noem dat 'n monument "is not only of a time but also, simultaneously, attempts to be outside time. The logic or strategy of the monument attacks the diachrony of time. It is, put differently, an anachronism."

    Carusi (155 - 56) meen dat Barthes se leesmodel soos vervat in S/Z illustreer tot watter mate die realistiese teks (soos die klassieke teks van Balzac) nie in staat is om weerstand te bied teen Barthes se uitgangspunt nie: dit verhoed dat die teks 'n eenheid of 'n koherente geheel kan vorm. Dit kom volgens haar ook daarop neer dat die teks nie soseer betekenis denoteer nie, maar eerder verskeie kodes aktiveer: "[I]t is the cultural, semic and symbolic codes which consitute the reversible plurality of the text, and the proairetic and hermeneutic, which force progressive and finitizing linearity upon the discourse."

    In sy opstel oor die Eiffeltoring skryf Barthes oor die daar-heid van dié landmerk in die Paryse landskap, wat beskou word as die universele simbool van die Franse hoofstad. Maar vir hom is dit ook simbool van "modernity, of communication, of science or of the nineteenth century, rocket, stem, derrick, phallus, lightning rod or insect, confronting the great itineraries of our dreams" ("Eiffel" 237). Hierdie uiteenlopende konnotasies aktiveer vir Barthes "an imagination" wat "polyphony of pleasures" oproep.

    Witttenberg (9) se analise van die Rhodes-gedenkteken is ewe van toepassing op die Campanile, want beide monumente kan met die setlaarkultuur en kolonialisme geassosieer word: "the monument is an example of imperial culture which imposes metropolitan values and praxes over an indigenous terrain, in other words [...] it reconstructs and re-writes the landscape."

    Wanneer Barthes se kodes toegepas word, moet die vryheid wat sy benadering aan die leser/kyker toeken, in gedagte gehou word. Gretchen Schmidlin skryf in die verband dat die Barthesiaanse kodes empiries gedefinieer en oop is. Die betekenis van die kodes hang grootliks af van hoe dit waargeneem word en volgens Barthes sal lesers ook nie dieselfde kodes in 'n bepaalde teks herken nie.

     

    Die Campanile in historiese konteks

    Die historiese en argitektoniese kodes moet eerstens beskou word voordat daar na die Campanile per se gekyk word. Alleenstaande kloktorings was populêr in Brittanje, veral tydens die Victoriaanse en Edwardiaanse periodes en is onder andere gebou om die beeld van mag en status voor te hou: "Some public clocks were undoubtedly spectacular and conferred prestige and status on the owners" (Corbett 268). Corbett noem verder dat die stadsgemeenskap gedurende hierdie periodes die erfgenaam van die monastiese kommune was waar die klokke die daaglikse lewe van die inwoners bepaal het. Dus was kontrole en koördinasie die doel: "In Brussels, for example, there were different bells (werckclockes), sounding at different times, to signal the beginning and end of the work day for each group of spinners, weavers, twisters, tapestry workers and whitesmiths." (Corbett 268)

    Die campanile as boustyl strek so ver terug as die 7de eeu en die bekendste voorbeeld daarvan is seker die leunende toring van Pisa. Die naam is ontleen aan campana, die Italiaanse woord vir klok.

    Die Campanile, net noord van die plek waar die 4 000 Setlaars aanvanklik in die Baai geland het, staan 51,8m hoog en die spiraaltrapstel bevat 204 trappe wat na die uitkykpunt en die klokke lei. 'n Honderd jaar na die aankoms van die Britse Setlaars, is die fondament op 9 April 1920 deur prins Arthur van Connaught gelê ter herdenking van die landing van die Setlaars. Op 28 April 1925 het die horlosie vir die eerste maal om 12:00 begin loop, en op 9 April 1936 is 'n klokkespel op die 23 klokke vir die eerste maal deur Lionel Field uitgevoer. Hierdie klokke is aanvanklik as 'n siviele dank-betoning vir die heerskappy van George V laat maak, en 'n inskripsie is aan-gebring op elke klok volgens die wense van die donateurs. Bekende name op die klokke sluit in dié van Sir Rufane en lady Elizabeth Donkin (die eertydse goewerneur na wie die bekende Donkinstraat en piramide vernoem is) asook Frederick Korsten, na wie die oorwegend werkersklasbuurt in die noordelike gebied van die stad vernoem is.

     

    Barthes se vyf kodes en die monument

    Die hermeneutiese kode

    Jonathan Culler gee in sy monografie oor Roland Barthes nuttige uiteensettings en omskrywings waaroor elke kode kortliks handel en vir die doel van die bespreking word dié in die volgende ontleding ingesluit. Hierdie kode word volgens Culler (84) geassosieer met misterie en spanning en dit help die leser om moontlike oplossings vir die enigmatiese raaisels in die teks te rekonstrueer. Die eerste hermeneutiese vraag wat by die waarnemer sal opkom, is: Waarom die Campanile? Wat is die rede vir die bou van die Campanile juis in Port Elizabeth? Die Campanile as gedenkteken vier die aankoms van die Britse setlaars en die vestiging van die metropolitaanse koloniale kultuur in die gekoloniseerde Afrika. Wat betref die narratief van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wil dié monument dus konstateer dat die mag van die koloniale setlaars uit Engeland hier gesetel is en die verwantskap met die moederland gevier word. Die Britte is 'n aanwesigheid; 'n mag om mee rekening te hou in die Ooskaapstreek. Die setlaars is trouens destyds hierheen gebring om as 'n buffer te dien tussen die Kaap-kolonie en die Xhosas aan die Oosgrens. Dit was 'n projek wat eintlik van die begin gedoem was, want dit het nie 'n einde gebring aan die politieke onstuimigheid van die streek nie. Die eerste van nege oorloë het in 1780 uitgebreek en die laaste in 1879.

     

     

    Barthes se opmerking oor die Eiffeltoring as synde 'n "paradoxical object" ("Eiffel" 248) is ook van toepassing op die Campanile. Die onmiddellike assosiasie wat mens met laasgenoemde het, is dat hierdie smal regop toring met sy klein venstertjies as 'n ivoortoring bestempel kan word. Dit suggereer 'n inklusiewe metropolitaanse kultuur wat letterlik en figuurlik aan wal gekom het.

    Die seemkode

    Vir Culler (84) hang die seemkode by Barthes ten nouste saam met die identifisering van stereotipes wat die leser in staat sal stel om die nodige inligting te kan aflei om die geheel te kan konstrueer. Wat is die betekenis van die monument? As gedenknaald simboliseer dit die Britse kultuur, die Engelse taal en die teenwoordigheid van die Britse Ryk in Afrika. Die feit dat die gedenkteken honderd jaar na die setlaars se aankoms opgerig is, simboliseer dus die viering van honderd jaar se kolonialisme in die Ooskaapstreek. Ook die feit dat die Campanile in die stad Port Elizabeth vernoem na die Britse goewerneur sir Rufane Donkin se vrou opgerig is, dien dus as 'n herbevestiging van setlaarideologie en die eiening van die gebied as 'n bastion van die Britse kultuur in Afrika. Dis hier waar die Setlaars aan wal gekom het en van hier na die binneland gemigreer het. Die belangrikste semantiese merker is die keuse van die naam en vorm.

    Die simboliese kode

    Die simboliese kode wil nie net die voorafgaande bevestig nie, maar lig ook die binêre opposisies wat met die monument geassosieer word, uit: kolonis/gekoloniseerde, metropool/kolonie, Europese boustyl/plaaslike boustyl, grondbesitter/onteiende. Die simboliese kode wil, soos Culler (84) aandui, help met die ekstrapolasie van tekstuele gegewens tot simboliese interpretasies. Die grensoorloë het juis grotendeels gehandel oor die Xhosas se ontevredenheid oor die verlies aan grondgebied. Die Campanile is ook 'n fallus, wat vanweë sy vorm simbolies is van die falliese mag van die Britse setlaars en die konnotasies wat daaraan geheg word, soos onder meer die nastreef van 'n Britse lewenstyl, taal en kultuur. Die feit dat die klokkespel wat uit die toring beier ter ere van George V gespeel het, bevestig ook die rojalistiese ingesteldheid van die koloniste.

     

     

    Die proaïeretiese kode

    Wat die proaïereties kode betref, meen Culler (84) dat hierdie kode die leser help om byvoorbeeld "a series of models of action" te kan plaas binne die sekwensies in die teks. "Om verlief te raak" gaan byvoorbeeld gepaard met 'n reeks handelinge. Die vraag wat hier gestel kan word, is hoe die Campanile in die eietydse diskoers van die Ooskaapstreek funksioneer? Engels is een van die drie amptelike tale van die Oos-Kaapprovinsie so die opperheerskappy van Engels en die Engelse kultuur wat aan die monument gekoppel word, word gedekonstrueer. Die naam Nelson Mandela Metropolitaanse gebied en Nelson Mandelabaai relativeer verder die Campanile as simboliese konstruk. Simbolies het die klok in die kloktoring gelui vir die kolonis.

    Die kulturele kode

    Hiervolgens word die kulturele kodes geïdentifiseer waarop tekste rugsteun, aldus Culler (84). Die Engelse taal, Engelse gewoontes, die latere Grahamstadse kunstefees, klokkespel en die Britse koningshuis is ingeskryf in die kultuur van die Ooskaapstreek, maar soos hierbo genoem, word dit in die postkoloniale Suid-Afrika na 1994 ge-relativeer. Nuwe kulturele kodes word nou ook geaktiveer, byvoorbeeld die nabyheid van die monument aan die minibustaxi-staanplek en die herbenoemde hoofstraat, Govan Mbeki-laan. Ironies is die feit dat die Campanile nog steeds langs Settlers Freeway geleë is; die pad wat onder meer lei na Kaapstad en Grahamstad. In hierdie nuwe konteks kan selfs van die Campanile en sy assosiasie met wit Engelssprekende Suid-Afrikaners (die nasate van die Britse setlaars) gepraat word van 'n "burned-out earlier British imperial sentiment" (Butler 94). Ballard (65) is nadruklik wanneer hy opmerk dat in postkoloniale Suid-Afrika wit mense soek na 'n gemeenskaplike aanknopingspunt met die swart meerderheid en gevolglik is stedelike gebiede nie meer "spaces of avoidance" nie, maar "spaces of engagement".

     

    Samevatting

    Grant (332) noem dat sommige monumente se treffendste eienskap is die feit dat hulle nie raakgesien word nie, terwyl Barthes weer meen dat 'n bekende landmerk soos die Eiffeltoring gereeld besoek word omdat dit die besoeker deel maak van "a dream of which it is (and this is its originality) much more the crystallizer than the true object" ("Eiffel" 241).

    Die vraag wat dus by die ondersoeker opkom, is of die Campanile met sy bruinsteenvoorkoms nog raakgesien word op letterlike en figuurlike vlak binne die eietydse konteks van die stad. Dié monument met sy direkte koppeling aan 'n wit Engelssprekende Suid-Afrikaanse kultuur funksioneer binne die postkoloniale ruimte as 'n leë teken: dit is net nog 'n gebou, soortgelyk aan al die ander vervalle geboue in die Port Elizabethse sakekern. Dit be-teken hedendaags die gebrek aan 'n kul-tuuridentiteit onder wit Engelssprekende Suid-Afrikaners en die ontneming van die falliese mag van die setlaar. Net soos die monument gerelegeer word tot die rand van die stad, so word die koloniale maghebber ook uitgeskuif na die marge en moet hy sy kulturele identiteit herbedink.

    Die doel met hierdie interpretasie was om eerstens 'n argitektoniese werk soos 'n monument as 'n teks te lees en wel aan die hand van Barthes se vyf kodes. Die ondersoek dien voorts ter illustrasie van die leesproses wat Barthes (S/Z 5) beskryf as nie soseer betekenisgewing aan die teks nie, maar eerder "to appreciate what plural constitutes it." 'n Herlees van 'n historiese monument in 'n nuwe lig sluit aan by wat Western (335) die "undoing of the colonial city" noem.

     

    Aantekening

    1. Vanweë die problematiek om 'n geskikte woord te vind word van leser/kyker gepraat. 'n Alternatief sou seker die begrip waarnemer kon wees.

     

    Geraadpleegde bronne

    Abousnnouga, Gil en David Machin. "Defence discourse 1: The visual institutionalization of discourses in war monuments." Red. Andrea Mayr. Language and Power. Londen: Continuum, 2008. 115 - 37.        [ Links ]

    Abousnnouga, Gil. "Analysing the Language of War Monuments." Visual Communication 9.2. (2010): 131 - 49.        [ Links ]

    Ballard, Richard. 2004. "Assimilation, Emigration, Semigration, and Integration: 'White' Peoples' Strategies for Finding a Comfort Zone in Post-apartheid South Africa." Reds. Natasha Distiller en Melissa Steyn. Under Construction: Race and Identity in South Africa Today. Londen: Heineman, 2004: 51 - 66.        [ Links ]

    Barthes, R. "From work to text." Red. J. V. Harari. Textual Strategies: Perspectives in Post structuralist Criticism. Londen: Methuen, 1979: 73 - 81.        [ Links ]

    __. "The Eiffel Tower."Red. Susan Sontag. Barthes: Selected writings. Londen: Fontana Collins, 1983: 236 - 250.        [ Links ]

    __. S/Z. Londen: Jonathan Cape, 1975.        [ Links ]

    Carusi, Annamaria. "Écriture as Political Practice: An Analysis of the Journal Tel Quel with Particular Reference to the Work of Julia Kristeva and Roland Barthes." MA-tesis. U Witwatersrand, 1986.        [ Links ]

    Culler, Jonathan. Barthes. Londen: Fontana Paperbacks, 1983. Fontana Modern Masters Series.        [ Links ]

    Frow, John. "Tourism and the Semiotics of Nostalgia." October 57 (1991): 123 - 51.        [ Links ]

    Grant, B. "New Moscow monuments, or, states of innocence." American Ethnologist 28.2. (2001): 332 - 62.        [ Links ]

    Herradine, M. The Donkin Heritage Trial. Port Elizabeth: The Historical Society of Port Elizabeth, 1993.        [ Links ]

    Kim, Jung-Jin. "A Barthesian Analysis of Britten's The Holy Sonnets of Donne, Opus 35." Ph.D. diss. U Wisconsin-Madison. 29 Apr. 2010 <http://www.mtosmt.org/mto-dissertations.php?id=77>        [ Links ]

    Kruger, D.W. Geskiedenis van Suid-Afrika. Elsiesrivier: Nasou Beperk, 1977.        [ Links ]

    Salusbury, Theresa and Don Foster. "Rewriting WESSA identity. Reds. Natasha Distiller en Melissa Steyn". Under Construction: Race and Identity in South Africa Today. Londen: Heineman, 2004: 93 - 109.        [ Links ]

    Schmidlin, Gretchen. "Images Revealed: An Application of Barthesean Codes to Film." Tesis. Western Connec-ticut State U. 2000. 29 Apr. 2010. <http://people.wcsu.edu/mccarneyh/acad/SchmidlinThesis.html>.        [ Links ]

    Scott, Linda. "Playing with Pictures: Postmodernism, Poststructuralism and Advertising Visuals." Advances in Consumer Research 19 (1992): 596 - 612.        [ Links ]

    Stoltz, W. "'n Semiotiese ontleding van sommige Setlaars- en ander monumente in Port Elizabeth." Honneursskripsie. Nelson Mandela Metropolitaanse U. 2010.        [ Links ]

    The "Historic Eastern Cape and 1820 Settler Country". Icon. 29 Apr. 2010. <http://www.icon.co.za/~dup42/toer08.htm>.        [ Links ]

    Western, John. "Undoing the Colonial City?" Geographical Review 75.3 (Jul. 1985): 335 - 57.        [ Links ]

    Wittenberg, H. Rhodes Memorial: Imperial Aesthetics and the Politics of Prospect. Kaapstad: Centre for African Studies, U Cape Town, 1996.        [ Links ]