SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Tydskrif vir Letterkunde

    versión impresa ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. v.49 n.1 Pretoria  2012

     

    HULDEBLYK

     

    J. C. Kannemeyer (1939-2011)

     

     

    Wium van Zyl

     

     

     

    "Dit sou lesers van my biografieë van die afgelope twee dekades opgeval het dat my belangstelling in die besonder uitgaan na daardie figure in ons letterkunde wat teenoor die koloniaal denkende bewindhebbers 'n ander, humaner gesig van die Afrikaner toon."

    So het Kannemeyer hom uitgespreek in sy repliek op die ontvangs van 'n ere-doktorsgraad by die Universiteit van Stellenbosch in 2009. Hy wys op twee voorgangers in die verband C. J. Langenhoven en N. P. van Wyk Louw. Langenhoven bely in dieselfde jaar van sy eregraad (1931) 'n persoonlike liefde vir sy taal: "In ons wonderlike Afrikaans, gebore uit die nederige behoeftes en die ongekunstelde siel van die onbevoorregte plattelander, die boer en die bywoner, die veewagter en die dagloner, [...] het ek gevind my pêrel van grote waarde" en lê "die fondament [...] vir latere skrywers".

    Van Wyk Louw verwoord vervolgens "die ideale van sy geslag as die strewe om bo die beperkinge van 'n kolonie uit te styg en 'n literatuur van 'n 'grootsheid' en 'n 'suiwer glans' tot stand te bring". Hierop voeg Kannemeyer oor sy eie situasie toe: "En nou is dit ongelukkig so dat Afrikaans dikwels in die tweede helfte van die twintigste eeu die draer was van 'n beleid wat, as 'n kontinuering van 'n koloniale mentaliteit, medemense in 'n durende staat van verknegting wou hou en daardeur van hul menswaardigheid wou ontneem. Die bewindhebbers ná 1948 wou 'n Wester-se beskawing in Suid-Afrika handhaaf met maatreëls en middele wat wesensvreemd en strydig was met die hoogste beginsels van daardie beskawing."

    Ek sou nie 'n huldeblyk aan my noue vriend en vennoot John Kannemeyer (31 Maart 1939-25 Desember 2011) wou lewer sonder hierdie etiese konteks nie. Hy was 'n onselfsugtige, uiters eerlike persoon wat haarskerp kon onderskei tussen die groot waarde van 'n taal vir al sy gebruikers aan die een kant en die misbruikers en roofbouers aan die ander kant. Die polemieke waarby hy betrokke geraak het, het deurgaans te make gehad met laasgenoemde.

    Hy het 'n meesleurende entoesiasme gehad vir die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes. Pas in sy tans nog ongepubliseerde J. M. Coetzee-biografie sou sy kennis van die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde na vore kom.

    Vir sy studente was hy 'n bron van inspirasie. Dit geld ook die buitelandse Afrikanistiek en figure soos prof. Jerzy Koch (Pole) en drs. Ingrid Glorie (Nederland). Prof. Wilfred Jonckheere, wat uit Vlaandere hier uiteindelik professsor in Afrikaans en Nederlands kom word het, het nog onlangs gewys op sy Kannemeyer se groot rol om die Afrikaanse literatuur vir hom te ontsluit.

    As literêre kritikus is sy produktiwiteit deur niemand in ons land geëwenaar nie. Hoewel bewus van menslike feilbaarheid, was die grootste moontlike feitelike akkuraatheid en 'n helder, toeganklike skryfstyl vir hom ononderhandelbaar. Ten opsigte van nuwe literêre ontwikkelinge as benaderings het hy deurgaans 'n openheid gehandhaaf. Sy belangstelling in die agtergronde van skrywers, insluitend die anekdotiese, in 'n tyd toe die Afrikaanse literatuurstudie oorheers is deur die outonomie-gedagte, is hom soms ten laste gelê. Dat hy hiermee onderweg was na sy groot skrywersbiografieë, is indertyd nie raakgesien nie.

    Desondanks was hy van die begin af 'n deeglike close reader. Dit blyk al met die publikasie van sy proefskrif Stem in die literêre kunswerk in 1965 en later sy Op weg na Welgevonden oor Etienne Leroux se roman Sewe dae by die Silbersteins in 1970.

    In 'n tyd dat die literêre geskiedskrywing deur baie kritici as uit die bose beskou is, pak hy juis dit aan beginnende met die tweedelige, uiters deeglike Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur (1978, 1983). Vir die noodsaaklike derde deel oor die latere dekades was daar ongelukkig nooit navorsingsgeld beskikbaar nie, maar hy het tog nog- danksy die Nelson Mandela-fonds van die Universiteit van Wes-Kaapland-in 2005 gesorg vir 'n verkorte Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur 1652-2004. Hy het werklik die geheel in sy handpalm gehou.

    Met enkele belangrike vergelykende studies op die gebied van die poetika sluit hy hom aan by die werk van die Nederlanders A. L. Sötemann en Wiljan van den Akker. Dit lei tot publikasies oor D. J. Opperman (Figuur en fluit, 1992) en Elisabeth Eybers (Die gespitste binneblik, 1995).

    Hy was die enigste werklike deskundige in Afrikaans ten opsigte van die edisietegniek. Dit begin met sy publikasie van D. J. Opperman, die galeie van Jorik (1979). Juis ten opsigte hiervan het die Universiteit van Stellenbosch hom die afgelope jare as buitengewone professor ingespan. Saam met sy studente het hy pas nog gesorg vir die publikasie van die Briewe van W. E. G. Louw en N. P .van Wyk Louw 1941- 1970 (2011).

    Sy grootste monumente is waarskynlik sy skrywersbiografieë oor van die belangrikste en kleurvolste figure in die Afrikaanse letterkunde: D. J. Opperman, C. J. Langenhoven, C. Louis Leipoldt, Uys Krige, Jan Rabie, Etienne Leroux. Hy het pas 'n biografie oor die Nobelpryswenner J. M. Coetzee voltooi, 'n internasionale publikasie wat nog moet verskyn.

    Hy is deur die jare bekroon met die die vernaamste pryse op sy terrein in Afrikaans soos die Recht Malan-prys (1979, 1996, 2000), die Helgaard Steyn-prys (2000), die Ou Mutual-prys vir nie-fiksie (1987), die Gustav Preller-prys (1988). Hy ontvang 'n C. Louis Leipoldt-prys van die Maatschappij der Nederlandse letterkunde en in 2003 die N. P. van Wyk Louw-medalje.

    Die vakverbintenis van Afrikaans met Nederlands was vir hom 'n vanselfsprekendheid. Hy was 'n groot kenner van die historiese Nederlandse Letterkunde, maar het ook moderne ontwikkelinge bly volg. Baie studente het die 17de-eeuse poësie leer ken deur sy Nederduitse Digkuns (1973).

    Hy was een van diegene wat ingesien dat in die nuwe tydperk met enersyds die koms van elektroniese media en andersyds die pogings om vanaf 1994 Afrikaans te marginaliseer, uitgereik sal moet word na 'n breë publiek. Daarom het hy as literêre toergids aktief geraak, iets wat inderdaad 'n wyd uitkringende effek gehad. Honderde toergangers is betrek en aan die lees gesit het: ingenieurs, medici, tuisteskeppers, kantoormense. Hy was dus allermins 'n ivoortoring-akademikus.

    Sy vakgenote sal nog vir baie jare van sy werk gebruik maak, iets wat selde 'n kritikus te beurt val.