SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.49 no.1 Pretoria  2012

 

HULDEBLYK

 

Melvin Whitebooi (1956-2011)

 

 

Peter Braaf

 

 

 

Op Ou Krismis 2011, 24 Desember, besoek ek en my vrou Sandy drie grafte. Vir ons drie belangrike grafte, almal afgestorwe lede van die Cape Flats Players: Boccaccio Braaf, my seun; Melvin Whitebooi, my vriend en Ivan Sylvester, my skoonbroer. By elkeen se graf besef ek die kortstondigheid van die lewe en my gedagtes gaan terug na die spesiale momente wat ons gedeel het. By Melly se graf in Stikland-begraafplaas sien ek die blomme en die kranse en ek dink: "Dié familie kyk goed na jou graf en jy leef voort in hul gedagtes." En dit is reg so, want hy het hulle respek verdien.

Dit is met groot hartseer dat die Cape Flats Players vaarwel sê aan ons jarelange vriend. Ons het mekaar vir meer as 30 jaar geken. Hy het in die tagtigerjare lid van die groep geword en 'n sleutelrol gespeel in ons toneelgroep, veral met die skryf en opvoer van sy bekende toneelstukke Dit sal die blêrrie dag wies! (1982), Dié kant dáái kant (1984), Koffie en kondensmelk (1986) en Die Goodbye People (1991).

Dit sal die blêrrie dag wies! was Melvin (15 April 1956-10 November 2011) se debuut wat hy spesiaal vir die Cape Flats Players geskryf het en die gedwonge Distrik Sesverskuiwings as tema gehad het. Dit het 'n aanduiding gegee van sy skryftalent en sy vermoë om relevant te wees en om mense na sy opvoerings te trek. Vader Basil van Rensburg, 'n kampvegter vir die oorspronklike Distriksessers, het dit beskou as 'n stuk wat "herinneringe terugbring" en andere het dit as 'n pleidooi vir menslikheid en verandering ervaar. Dié gewilde stuk is in die middel-tagtigerjare selfs tot in Johannesburg opgevoer en hieroor het The Star-resensent Ian Gray op 19 Junie 1984 veel lof gehad: "It would take a remarkable politician indeed to explain away forced removals, whether convinced or coerced to any audience after a performance of this new play by Cape Town journalist Melvin Whitebooi."

Die stuk is veral op die Kaapse Vlakte voor entoesiastiese gehore opgevoer soos The District Mail van Somerset-Wes op 8 Junie 1984 getuig: "Dit sal die blêrrie dag wies! The successful drama production which was presented in Somerset West and Macassar at the end of April, is being brought back by public demand." Ook Kerneels Breytenbach skryf in Die Burger van 10 Maart 1984 dat te midde van gerugte oor die ondergang van Afrikaans hierdie toneelstuk die teendeel bewys het: "Die De Langekommissie vertel in sy verslag hoe die gebruik van Afrikaans op die Kaapse Vlakte styg, en Melvin Whitebooi se Dit sal die blêrrie dag wies! het die vitaliteit van daardie groeipunt bewys. Min mense besef dat dit die enigste Afrikaanse opvoering in Kaapstad is wat die afgelope twintig jaar 'n ten volle uitverkoopte speelvlak had." In 1982 het die stuk die Kellerprinz-dramafees gewen en as deel van die wenprys is dit oor die hele land opgevoer. Dit het meer as 800 vertonings beleef en met na raming 1000 toneelgangers per opvoering moes meer as 800 000 mense dit gesien het.

Al was Melvin 'n rustige man met 'n sagte stem wat selde opgewonde of oorstuur geraak het, het hy 'n duidelike idee gehad van wat hy met sy toneelstukke wou bereik. Hy was nie 'n onbetrokke skrywer nie, hy was verteenwoordigend van 'n stem wat gehoor moes word en wat anders gepraat het as waaraan mense gewoond was. In die gepubliseerde verslag van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium van 1985, Swart Afrikaanse Skrywers, stel hy dit onomwonde: "Ek dra gewoonlik 'n sosiopolitieke boodskap oor, en my stukke pas by die Cape Flats Players wat probeer om die mense op die platteland bewus te maak van die sosio-politieke situasie en om hulle op te hef." Elders in 'n Rapport-artikel op 17 Junie 1984 skryf hy:

Bruin drama sorg self dat hy gehoor word. Die bruin stem is 'n stem wat gehoor moet word. En al word hy gestil omdat uitgewers en die televisie nie daarin belang stel nie, sal hy voortleef tussen sy mense. Nou is daar dalk diegene wat vra wat die bruin dramaturg aan sy mense vertel. Alles. Ons vertel hulle van die Groeps gebiedewet, dié wet, dáái wet, maar ons weet ook hulle is nie engeltjies nie, en betig hulle omdat hulle byvoorbeeld apartheid onder mekaar toepas, omdat hulle so verdeeld is.

Sy stukke getuig van sy betrokkenheid: Dié kant dáái kant het gehandel oor verdeeldheid in die swart sportgemeenskap met die uitgesproke anti-apartheidsliggaam SACOS aan die een kant teenoor die meer toeskietlike en gematigde SA Federasie aan die ander kant; Koffie en kondensmelk het die ongemaklikheid van apartheid in die skoonheidsbedryf onder die loep geneem, waar die belaglikheid van 'n wit Miss South Africa en 'n swart Miss Africa South aan die kaak gestel is. In Die Goodbye People het hy die probleem van die verwaarlosing van mense in inrigtings vir sielsiekes en ouetehuise aangepak, en in dié stuk hy het nie omgegee om sy gehore te betig nie, want "hulle is nie engeltjies nie".

Melvin was 'n joernalis wat in Rapport, Die Burger en Die Son gewys het wat dit is om oor ons mense en gebeure in ons gemeenskap te skryf. Hy het oor plaaslike bands en sport geskryf en onbekende skrywers en jonger kunstenaars aan die woord gestel. Hy het verby status gekyk en vir derduisende lesers van Die Burger-Ekstra was hy Melly die gewilde, plat-op-die-aarde-skrywer van veertien koerantvervolgverhale: Smeltkroes van die liefde (1977), Miranda is haar naam (1978), Meisie van die see (1978), Angela se verhaal (1980), Jou dag sal jy kry (1980), Met bloed sal jy betaal (1982), Siener van die dood (1983), Nag van die Swart Arend (1983), Siener van die dood: die jare daarna (1984), Vrou agter die masker (1985), Rykmanshoogte (1985), Dogter van die duiwel (1985), Jy soek jou dood (1986) en Blou Bloed (1988).

Sy kortverhale is in 'n aantal verhaalbundels opgeneem; hy het ook die toneelstukke Die draadsitter (1991), 'n Woensdag in April (1995) en die radiodrama Die reënmaker (1986) geskryf; hy was die draaiboekskrywer van die televisiereeks Die Allemans (1991) en die enkel televisiedrama Tot jy dood is (1994). By sy graf op Ou Krismisdag het ek onthou dat hy soveel tyd gemaak het vir sy gemeenskap en daarvoor eer ons hom.

Ons by die Cape Flats Players sal Melvin Whitebooi onthou as 'n talentvolle skrywer wat 'n onblusbare kreatiwiteit gehad het; hy was nederig en 'n allemansvriend; hy het onbaatsugtige diens aan sy gemeenskap gelewer en hy was lojaal teenoor sy vriende en familie, en sy werksetiek was onberispelik. Hy is gebore in die township Schauderville in Port Elizabeth en het sy matriek aan die sekondêre skool op Uitenhage voltooi. Hy laat sy vrou Roseline en sy kinders Siobhan en Aarika agter.

Ek onthou hom met deernis en mag sy nalatenskap nie verlore gaan nie.

 

 

Peter Braaf is 'n stigterslid van die Cape Flats Players en sedert 1972 betrokke by Afrikaanse amateurtoneel.