SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Letterkunde

    versão impressa ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.49 no.1 Pretoria Jan. 2012

     

    HULDEBLYK

     

    Charles Wynand Malan (1945-2011)

     

     

    P. H. Roodt

     

     

     

    Charles Malan (22 Mei 1945-24 Augustus 2011) was in sy lewe betrokke op verskeie terreine in die Afrikaanse letterkunde: aanvanklik as dosent aan die destydse Universiteit van die Oranje Vrystaat vanaf die vroeg 1970s tot 1981; daarna verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing as hoof van die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL). In hierdie hoedanigheid het hy verskeie navorsingsprojekte geïnisieer en self talle navorsingsartikels en boeke gepubliseer. Tot en met sy aftrede in 2000 was hy ook ereprofessor in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria waar hy veral op nagraadse vlak 'n belangrike bydrae gelewer het. So byvoorbeeld het hy 'n module in Eietydse Kultuurstudie, 'n vakrigting wat hier te lande destyds grootliks onbekend, ingestel. Meesternarratiewe en magsverhoudings in verskillende sosiale verbande het hom intens geïnteresseer.

    Hy het onder meer opgetree as redakteur en mederedakteur van publikasies soos Die oog van die son (1982), Letterkunde en leser (1983), Sensuur, literatuur en die leser (1983), Spel en spiëel (1984), Skrywer en gemeenskap (1985), Kortgesprek (1986), Ras en literatuur (1987), Vanweë die onbewuste (1987), Gids by die literatuurstudie (1989), Onder andere (1990), Viool en voorlaaier: Kultuurstudie in 'n Rome wat brand (1990) en Kleinbegin in die prosa (1991) Ook nog netjiese blokboeke en skrywerstudies: Die ambassadeur (1980), Die keiser (1981) en Bartho Smit: 'n kritiese waardering (1984). Hy was 'n kenner van die werk van Etienne Leroux. Sekerlik een van sy belangrikste boeke is die Misterie van die alchemis (1978) met skerpsinnige ontledings van die romans van Leroux.

    Verder het hy Pan se pretboek (1996), 'n kortverhaalbundel, geskryf. Hierin ontpop hy as 'n baie bedrewe en vernuftige kortverhaalskywer. 'n Rukkie voor sy dood het hy 'n roman, Boerebloed, voltooi. 'n Mens hoop dat die spanning-cum-literêre teks nog gepubliseer sal word.

    Charles was onbeskaamd 'n intellektueel. Hy was wyd belese in die Afrikaanse, die Nederlandse en die Engels-Amerikaanse letterkunde. Van byvoorbeeld die modernisme wêreldwyd (en vanaf die tagtigs ook die postmodernisme) kon jy hom min vertel. Hy het die grotes gelees en geken: Vanaf Joyce, deur Thomas Mann, Hemingway tot by ons eie Etienne Leroux. Hy was ook 'n kenner van die mitologie en van al die groot godsdienste van die wêreld. Dan moet ek nog die geskiedenis noem, en klassieke musiek, die omgewing (hy was groen sonder om 'n mens 'n pyn in die nek te gee). Hy was eweneens goed op hoogte met die nuus van die dag. O, ja, en sy geliefde Jung wat hy amper op die peil van die Bybel geplaas het.

    Hy het deur die jare graag deur middel van briewe en artikels in koerante en tydskrifte deelgeneem aan die debat rondom aktuele kwessies hier te lande. Byvoorbeeld, in die ou bedeling was hy een van die vurigste vegters teen sensuur. Hy was ook 'n paar termyne voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde wat sy hoof bestaansrede gevestig het in die stryd om die afskaffing van sensuur. Hy het in 1989 die Victoria Watervalleberaad tussen die African National Congress en Suid-Afrikaanse skrywers in Zimbabwe bygewoon en hom later beywer vir 'n oorkoepelende skrywersorganisasie. In die vroeë 1990s het hy met hierdie doel voor oë onder meer samesprekings met die Congress of South African Writers (COSAW) gevoer en konferensiebydraes by die tweede Swart Afrikaanse Skrywersimposium op Paternoster gelewer.

    Charles se irritasie met die beleidsrigtings van die ou regering het hy in die nuwe bedeling net so op laasgenoemde begin rig, veral toe dit toenemend duidelik geword het dat die huidige regime sy mislukkings, korrupsie, skandes en onbeholpenheid met die nuwe mondsnoerwet in die kiem wil snoer. In die kuberruim was hy 'n voorste aktivis teen dié monster wat om die draai vir ons almal loer.

    Hy was nie net buitengewoon begaafd en belese nie, maar ook ingewikkeld bedraad. Onkunde en oningeligtheid (om nie te praat van domheid nie), kon hy nie verdra nie. As jy met hom in 'n argument beland het (wat tussen ons in die 1970s en 80s dikwels gebeur het), moes jy jou storie ken: Hy kon sy argument vlymskerp helder stel en joune ewe kragtig vernietig. Hy het immers vroeg reeds die handboek Redevoering en debattering (1975) saamgestel. Daarom het baie mense hom verkeerdelik as aggressief en selfs ongeskik ervaar. Ek het gou agtergekom hy sit al sy kaarte op die tafel en het nie geheime agendas nie. Sy eerlike en reguit manier van doen (miskien nie altyd taktvol nie!) was vir my een van sy beste eienskappe. Hierby kan ek noem dat hy nie 'n suinige haar op sy kop gehad het nie, en 'n voortreflike gasheer was; en boonop 'n uithaler kok. 'n Aand by hom aan huis was altyd opwindend: Nie net om die gesels en musiek en eet nie, maar veral die baie lag. Hy het 'n fyn oog gehad vir die bisarre, die komieklike en die ironiese wat oral skuilhou.

    Charles het empatie gehad met die vertrapte, en magsmisbruik en in alle vorme verafsku en hy kon hom effektief en elegant daarteen verset. Dit verklaar miskien sy intense liefde vir honde, veral die Duitse herdershond, wat hy geglo het die intelligentste en sensitiefste van alle honderasse is. Deur die jare het hy dan ook rits gehad met name soos Faust en Bismarck wat hy met groot sorg tot hul oudag versorg het. Min mense kon neutraal teenoor Charles staan. Omdat hy 'n sterk persoonlikheid gehad het met ewe sterk oortuigings is dit onvermydelik dat hy mense die harnas in kon jaag. Maar daar was 'n ander kant, ek dink met 37 jaar ervaring van hom die eintlike kant: die man wat omgee vir sy vrou Marietjie, sy vriende, honde, duiwe en plante. In sy diepste kern was hy 'n empatiese mens.

    Dit was 'n voorreg om hom te kon geken het.

     

     

    P. H. Roodt is professor emeritus van die Universiteit van Pretoria en 'n voormalige redaksielid van Tydskrif vir Letterkunde.