SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 número1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Tydskrif vir Letterkunde

    versão impressa ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. v.49 n.1 Pretoria  2012

     

    Adam Small: familiegeskiedenisse, aanlope en vroeër invloede

     

    Adam Small: family histories, beginnings and earlier influences

     

    Francois Cleophas

     

     


    ABSTRACT

    This article answers the question: Where does the Afrikaans essayist, dramatist and poet, Adam Small, hail from? It proceeds to examine the genealogy of Small and the early influences of his family. The writer's recent family history is traced to his direct forebears, Adam and Siela Dampies in the early 19th century, and his grandparents Adam and Nellie Dampies. The article further explores the vagaries of name changes in the instance of the Dampies/Small family, the writer's multicultural parental background and his early years in rural and urban settings. In this respect influences on the young writer, emanating from these circumstances, are alluded to. Besides the genealogical information gained from archival research, the article relies methodologically on oral sources, informal accounts and personal recollection. It is found that the extended Small family established a relatively comfortable middle class lifestyle and they were involved at the same time in church and social relief projects. The young Adam Small grew up in a household where values such as social commitment and multi-cultural tolerance were honoured.

    Keywords: Adam Small, Afrikaans poets and dramatists, biography, Coloured people, genealogy, oral history.


     

     

    Inleiding

    Wie is Adam Small? Waar kom hy vandaan? Die eerste vraag sal 'n student van die Afrikaanse letterkunde maklik kan beantwoord, want Small is die skrywer van verskeie grondverleggende poësiebundels en dramas. Die tweede vraag is minder voor die hand liggend omdat betreklik min besonderhede van sy biografie bekend is. Hierdie artikel ontgin die genealogiese geskiedenis van die uitgebreide Small-familie, hul persoonlike ervarings en herinneringe om die leemte te vul. Sy voorsate het onder meer toegang gehad tot 19de-eeuse onderwysgeleenthede wat die Small-familie in 'n relatief bevoorregte posisie geplaas het. Die besondere agtergrond het meegehelp tot die vorming en intellektuele ontwikkeling van die skrywer. Verder het die karaktereienskappe van sy vader en oupa sy lewenshouding beïnvloed.

    Ek is 'n kleinneef van Adam Small, 'n seun van sy suster, Mona. Ons, my broers en susters, spreek hom aan as "Uncle" en ek doen dit ook in hierdie eerstepersoonsaanbieding. Metodologies berus die artikel op argivale en mondelinge bronne, persoonlike gesprekke, ongepubliseerde gedigte en oorleweringe wat dié familieverbintenis moontlik gemaak het, met my vernaamste informant Fatimah Small, Adam se ma.

    Uiteraard word hierdie oorleweringe en my herinneringe nie deurlopend met die gebruiklike bewysplase gestaaf nie.1

    Aanvanklik word my primêre informant en aspekte van haar familiegeskiedenis bekendgestel, waarna tersaaklike aspekte van die Small-genealogie, sedert die vroeër negentiende eeu ondersoek word met veral die twee manlike voorsate beide genaamd Adam Dampies wat onderskeidelik vanaf 1821 tot 1909 en 1859 tot 1944 geleef het en hul gesinne as fokuspunte. In hierdie onderafdeling word ook die verwarring met familiename ondersoek en moontlike antwoorde aangebied vir die verandering na die familie se huidige van, naamlik "Small". Adam Dampies en sy nasate het sedert die begin van die 20ste eeu hul merk op die kerklewe op Wellington en later as onderwysers gemaak, sodat die aspek ook hier bespreek sal word. In hierdie opsig sal vir die res van die artikel veral op die ouers van Adam Small en hul verblyftydperke in die Boland en Kaapstad gekonsentreer word om 'n vroeë konteks vir die ontwikkeling van die skrywer te bied.

     

    Ouma Tiema se vertellings en die Small-geskiedenis

    Fatimah Suliman (1916-93) is op 20-jarige ouderdom getroud met Jan Dampies (later Small, 1911-86), die tweede jongste seun van Adam en Petronella Dampies (Huweliksertifikaat no. 2272). Haar pa, Esop Suliman, ook bekend as Esop Malla (geb. 1863 in Karmala, Indië), het tussen 1895 en 1907 na Suid-Afrika geïmmigreer en in Kaapstad met twee seuns, Suliman en Cassiem, 'op die arm' aan land gekom. Volgens Ouma Tiema was hy ''n filosofiedosent in Indië'. Hy was die wewenaar van Amina wat in Indië gesterf het (MOOC 60985). In die Agter-Paarl het hy Mona Heswick van die plaas Mooikelder ontmoet en volgens Moslemtradisie met haar in die Paarl getrou. Mona, die eertydse Christenvrou, het Amina, die tweede Moslemvrou van Esop Suliman, geword. Uit hierdie huwelik is agt kinders gebore met Fatimah sy tweedeoudste dogter (MOOC 29304). Jan Small (vroeër: Jan Dampies) het ek as Oupa Jan geken en Fatimah was vir my Ouma Tiema.

    Uncle erken ruiterlik sy ma se sterk invloed op sy verbeelding en lewensbenadering, soos hy dit ietwat enigmaties gestel het: 'My skryfwerk lê iewers.' In sy huldeblyk, "Onaf gedig", wat hy tydens haar begrafnis in 1993 voorgelees het, verwoord hy sy skatpligtigheid so:

    Onaf gedig

    (Geskryf tussen die nag ná haar sterfte, en nou.
    Vir 'n ou vrou met jighandjies wat my
    geleer lees en skryf en dink het. Met verskoning
    dat dit alles nog onaf is. Jy sou kon glimlag
    ja, met daardie kyk: "Jy kon al weer nie tydig
    klaar kry nie!")

    Jy't my in die Boland geskenk die lewe:
    én jou bloed (ek weet dis g'n mooi woord
    in die goeie politiek nie). En geheue daarmee,
    by die skynbaar godverlate Goree, met name
    in griffie en lei en my begin verknog
    aan boeke kry, in voeling met vele
    poste en buiteposte van die siel ...

    Toe ek dus die oggend kyk hoe stroef die laken
    oor jou tenger lyf lê: klein hopie
    vaal, was van die jig wat jy die nag oplaas maar oorgemaak het
    aan die dood, het ek gefluister in die doodstilte by jou oor: Vir alles dankie: en denkend aan Goree,
    vir lees en skryf, by name ...

    Wat anders het ek jou tog ooit kon skenk as
    -tussen Niks en Alles 'n paar velle wit
    papier soekend vol woorde
    in elk geval die dinge wat nooit saak maak.
    En my verweer is maar (die lafaard s'n?): Ek kan dit
    tog nie help nie: Maar jy het my so gemaak,
    jý moeder ...
    En tog: Miskien, selfs tot die end toe, net-net miskien
    en net-net ook met rede denkend aan Goree
    het jy-humorsin wat jy had-geglimlag soms,
    ... tevrede

    22 Februarie 1993
    25 Februarie 1993

    By Ouma Tiema het ek gehoor van die Wellingtonse Smalls, Goree en hul latere stadservaring. In die 1960's het Uncle die Small-familiegeskiedenis probeer naspoor. Blykbaar moes hy om verskeie redes en beperkings die hulp van 'n dr. Jeffreys inroep en toe die soektog te veeleisend geraak het, vertel hy my, het hy alles laat staan en 'n houding van so what? ingeslaan. Maar as ek die gedig, "Gesondheid!" lees, besef ek hy moes meer geweet het:

    Old slave tree
    memories of
    great grandfather
    you bring me

    and great grandmother 's
    in the row
    of those here honoured
    by Monument for Huguenot

    one from primal Malabar2
    one from clearest France
    [...]
    (Kitaar my kruis 46)

    Ouma Tiema het haar lewensverhaal en dié van die uitgebreide familie in brokkies vertel wat ek later met genealogiese navorsing aangevul het. Drie jaar na haar sterfte het ek 'n genealogies-historiese verslag, "A history of the Small family from Wellington: Cape Province, South Africa" (1996), saamgestel wat hier deurgaans as primêre verwysing gebruik word. Wat hier volg, is dus in hoofsaak 'n histories-beskrywende plasing van die skrywer Adam Small in sy onmiddellike familieverband, bestaande uit vertellings, tersaaklike genealogiese navorsing en 'n voorlopige peiling van invloede uit hierdie historiese opset.

     

    Smal/Dampies/Jantjes/Small?

    Met my eerste besoek aan die Kaapse argief in 1993 het ek op die sterftekennisgewings van great grandfather en great grandmother afgekom (MOOC 6/9/628/3459, MOOC 7/1/ 868/2465). In die daaropvolgende speurtog het 'n nagmerrie van teenstellings en onverklaarbaarhede in naamgewing en datums opgeduik waarvan sommige nog steeds onopgelos is. My oupagrootjie, die skrywer Adam Small se oupa, gee byvoorbeeld sy geboortedatum op die familiestamboom aan as 1850 terwyl in die kerkregister dit opgeteken is as 7 September 1859.3 Volgens die sterftekennisgewing word my oupagrootjie se vader, Adam Dampies (1821-1909) van Terracestraat 23, Wellington, aangegee as die seun van Adam en Sella Dampies. Hierdie Adam en Sella Dampies is waarskynlik dieselfde 'baster' Adam en Siela/Sella Smal wat in diens was op 'n plaas van Petrus Hauptfleisch 'met 23 hottentotkrale' in die Stellenbosch-distrik (wat destyds Wellington ingesluit het). Hulle verbintenis met die Hauptfleisch-familie duur tot 1897, wanneer Dora Maria Petronella Dampies die familiehuis in Terracestraat van Gabriel Christoffel Hauptfleisch koop (Oordragakte 6532).

    In 1825 het Adam Smal (30) en Sella/Siela (25) twee kinders, Adam (5) en Jaantjie/ Saartjie (6 maande) (Opgaafrol vir Stellenbosch, 25 Mei 1825, J. 279). Die vyfjarige Adam is dus in 1820 gebore, wat min of meer ooreenstem met die geboortedatum van Adam Dampies wat in 1909 gesterf het. Om dinge verder deurmekaar te krap, trou Adam Dampies (geb. 1820/21) as Adam Jantjes, 'n 35-jarige ongeletterde arbeider van Wellington, met Debora Maria Petronella Janse, 'n mede-arbeider, op 29 Desember 1856. In die huwelikregister van 1856, no. 240 in die Bovlei Kerk teken die 20-jarige bruid haar van as 'Janse' onder haar man se kruisie. Dit is waarskynlik dieselfde Debora/Dora wat een-en-veertig jaar later die huis in Terracestraat op haar naam laat oordra. In die doopregister word naas Adam Dampies die vader van die kinders van Debora/Dora ook aangewys as Adam/Piet Smal en selfs Jacob Malan (kyk Doopregister no. 274, 18 Desember 1881; no. 717, 1869).

    Uit die huwelik tussen Adam Smal/Dampies/Jantjes en Debora is ses kinders gebore: vyf dogters en een seun. Die seun dra die van "Dampies" en trou op 8 April 1882 met Susanna Sara Abel September en vyf kinders word uit die verbintenis gebore. Susanna ontval hom iewers tussen 1892 en 1895. Hy trou daarna met die 25-jarige Petronella (Nellie) Fortuin van Dal Jasophat in die Paarl, op 25 Junie 1895 (Huweliksregister no. 883 van 1895). Uit die huwelik tussen Adam en Nellie word nege kinders (vyf seuns en vier dogters) gebore. Hulle tweedejongste seun, Jan, word op 7 Desember 1911 gebore en opgegee as Jan Petrus Sampson Dampies (Doopregister no. 2819 van 1911). Hy is die vader van die skrywer, Adam Small.

    Debora Janse, (vrou van Adam Dampies, geb. 1820/21) word aangegee as die moeder van Debora Margeretha Maria Malan (27 Desember 1868-23 November 1951) (Cleophas 31). My ma, Mona, en Uncle het hierdie Debora (geb. 1868) uitgewys as 'Borrie' wat in die omgang dikwels bestempel is as ''n regte boerevrou'. Haar herkoms is in misterie gehul, want haar doopseel dui aan dat sy die dogter van Jacob Malan en Deborah Janse was. Debora (Borrie) Malan trou met Frederick (Frikkie) Louw van die Paarl met een van die getuies wat 'n S. Small was (Huweliksregister no. 734, 3 Junie 1889). Borrie het 'n paar huise van Adam Dampies (geb. 1859) gewoon en volgens my ma was daar nooit enige spanning tussen sy donker-van-kleur kinders en Borrie se lig-van-kleur kinders nie. Uncle het een keer na Borrie se seun, Jim Louw, as 'die Clarke Gable van die Small-familie' verwys. Miskien is dit met Borrie en haar gesin in gedagte dat Uncle in Die eerste steen? skryf: "die bruinman staan nader aan die Afrikaner as enige ander bevolkingsgroep in Suid-Afrika" (23).

    Wat die familienaamverandering van Dampies na Small betref, het Ouma Tiema vertel dat 'n Smal op 'n plaas in die Wellingtondistrik gewerk het waar die wit voorman dieselfde van gehad het. Op aandrang van die voorman moes dié Smal sy familenaam na Dampies verander-vandaar die verwarring. Of dit waar is, kan ek nie bewys nie, nog minder of dit onwaar is, maar die storie is onlosmaaklik deel van die Smallfamiliegeskiedenis. Wat wel uit die historiese dokumente soos skoolsertifikate en kerkdokumente duidelik is, is dat daar 'n onomstootlike verband tussen die familiename Dampies en Smal/Small bestaan (kyk Cleophas 10-11). Ter illustrasie noem ek die volgende voorbeeld: In die lidmaatregister van die Wellington NG Sendingkerk (no. 598) word Adam Dampies aanvanklik aangeteken as "Adam Adams". Die predikant, ds. Jan Breedt, het later die fout gekorrigeer en aangeteken dat hy op 7 September 1859 gebore is as die seun van Adam en Debora Dampies. Hierdie Adam het in 1889 'n lid van die kerkraad onder die naam "Adam Smal" geword, maar in die loop van die daaropvolgende jaar word sy naam in die kerkraadsnotules na "Adam Dampies" verander (kyk Cleophas 9). Dit was maar net een onderdeel van die voortdurende Dampies-familienaamsage, want 'n paar jaar later word Adam Dampies se familienaam by die inskrywing van sy seun, die dopeling Goliath Ernest Small, in die doopregister geskrap en verander na "Small" (Doopregister no 2405, 1 Julie 1908).

    Uncle en sy suster, Mona, erken dat hulle van vroegaf bewus was van die familienaam 'Dampies'. Hulle niggie, Petronella (Nellie) Small (getroud Plaatjes) wat grootgeword het in die huishouding van Adam Dampies (geb. 1859) skryf: "As a child I was aware that the surname Dampies existed and seems to have been an earlier surname for the family. When I grew up however Oupa was known as Adam Small. So when the change occurred (from Dampies to Small) and how is now lost to 'antiquity'" (Plaatjes). Toe die familienaam "Dampies" omstreeks die oorgang van die 19de na die 20ste-eeu verander is, is die Engelse ekwivalent van Smal naamlik "Small" gekies, 'n familienaam wat in die algemene omgang deur Adam Dampies en sy familie gebruik is. Ouma Tiema se verklaring van die naamsverandering is besonder aanneemlik omdat "Small" duidelik 'n bewuste keuse was waarmee my voorsate nie net hulle familenaam teruggeneem het nie, maar ook 'n deel van hulle geskiedenis opgeëis het. Al die afstammelinge van Adam Dampies (geb. 1859) het vanaf die eerste dekades van die 20ste eeu die familenaam Small aangeneem.

     

    Die Small-familielede as kerkleiers en onderwysers in 19de en vroeë 20ste-eeu

    Slegs 'n klein gedeelte van die Wellingtonse gekleurde bevolking, hoofsaaklik diegene wat die skoolfooie kon bekostig, was in die 19de-eeu bevoorreg om basiese geletterdheid te ontvang. Adam Dampies (geb. 1859) soos sy ma, 'Ounooi Villiers,' en sy vrou Nellie was van die bevoorregtes wat hulle name kon teken en dus waarskynlik basiese skoling ontvang het. In 1925 was hy een van tien uit sewentien kerkraadslede van die Wellington NG Sendingkerk wat sy naam kon teken (Algemene Raadsvergadering, 30 Mei 1925). In die Bovlei-omgewing was daar 'n aantal sendingskole wat Adam kon bygewoon het met die mees waarskynlike eerw. Isaac Bisseaux se Paryse Sendingskool (kyk Van der Ross 36). Van belang hier is die waardes wat die 19de en vroeg-20ste-eeuse sendelinge en onderwysers aan hulle gemeentelede oorgedra het. Die leraars het 'n boodskap van 'Viktoriaanse moraliteit' verkondig.

    Adam Dampies, 'n arbeider op Bovlei, later 'n tuinier van ds. Andrew Murray (Plaatjes), en moontlik selfs 'n werknemer van die Kaapse Spoorwegdiens (kyk 1/Wel 3/2; 35/1901 in Kaapse Argief), was 'n bedrywige leiersfiguur wat nie van kerktradisie afgewyk het nie. Sy bejaarde kleindogter Petronella Plaatjes wat intussen na Kanada geïmmigreer het, beskou hom as "first and foremost a very religious man. He was kind and gentle. [...] He was not exactly a garrulous man" (Plaatjes). In 1906 stel Dampies suksesvol voor dat lidmate wat hul aan slegte gedrag skuldig maak onder sensuur geplaas moet word (Algemene Raadsvergadering, 24 September 1906). Die vorige jaar dien hy op 'n komitee wat die kerk se geldsake moes ondersoek (Buitengewone Raadsvergadering, 5 Augustus 1905). Dieselfde jaar is hy deel van 'n gemeenteafvaardiging wat aansoek doen om 'n vergrote katkisasieklas (Algemene Raadsvergadering, 14 Maart 1905). By twee geleenthede dien hy op kommissies wat oor gemeentelede se vermeende geloofsdwalinge moes rapporteer (Algemene Raadsvergaderings, 28 Junie 1905 en 21 Desember 1910). Ook in 1906 en weer in 1914 (sekerlik ook tussenin) verteenwoordig hy die Wellingtongemeente by die ringsinode (Algemene Raadsvergadering, 24 September 1906 en 3 April 1914). In 1915 word hy aangestel as superintendent van die nuutgestigte Sondagskool (Algemene Raadsvergadering, 4 Desember 1915). Vier jaar later bedank hy en neem sy swaer, Frikkie Louw, van sy pligte oor. Louw word later die superintendent van die Wellington NG Sendingkerk (Algemene Raadsvergadering, 1 September 1919; 4PRL 7/1/2/4). Teen 1934 is Adam Dampies weens swak gesondheid "'n rustende broer" en kan hy nie meer kerkraadsvergaderings bywoon nie (Algemene Raadsvergadering, 22 Oktober 1934 en 17 November 1934). Hy sterf op 7 September 1944.

    As 'n kerkleier wat die waarde van 'n skoolopvoeding ervaar het, het Adam Dampies gesorg dat sy kinders ook behoorlik onderrig is. In 1911 bekwaam Roslyn (Slain) haar as 'n onderwyseres (pupil-teacher) aan die Perserverance skool in Wellington; later ontvang Eliza[beth] (Totta) dieselfde soort onderrig (Kriel 218).4 Ook Jan, die skrywer Adam Small se pa, is deel van dié nuwe geslag onderwysers. Jan woon aanvanklik Pauw Gedenklaerskool in Wellington by, matrikuleer aan Trafalgar Hoërskool in Kaapstad en kwalifiseer aan Zonnebloem Training School met die Lower Primary Teachers' Certificate (LPTC Coloured). In 1929 lê hy suksesvol die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns se Afrikaanse Taaleksamen af. Hy pak later 'n BAkursus deeltyds aan, maar skop dit later op.

    As onderwyser en later skoolhoof het Jan Small hom in 'n verhewe sosiale posisie bevind. Hy was nie onbewus van sy posisie nie, want in 1948 verander hy sy naam amptelik vanaf die platteland-klinkende "Jan" na die deftiger, meer stadsklinkende "John Sylvester" (Kantoor van die Registrateur van Geboortes, Huwelike en Sterfgevalle, 19 Augustus 1948, no. N 24435).5

    Sy vriendekring het daardie sosiale posisie en multikulturaliteit weerspieël. As deeltydse graadstudent het hy byvoorbeeld die skrywer S. V. Petersen ontmoet. My ma onthou sy goeie vriend Rajoo Naidoo, 'n Hindoe-medestudent. Verskeie vooraanstaandes soos skoolhoofde, skoolinspekteurs en predikante het ook gereeld aan huis gekom. Jan en Tiema se kinders het hulle in 'n omgewing met 'n mengelmoes van tale bevind. Van hulle besoekers het naas Afrikaans en Engels ook Nederlands en Duits gepraat. Ek weet dat Uncle ook Duits, Latyn en Frans baasgeraak het. Ouma Tiema wat 'n Indiese taal magtig was, het voorts bygedra tot die multikulturele verdraagsaamheid en bewustheid wat lewenslank deel van die Small-gesin was.6

     

    Om vir liefde uit die geloof te trou: aanvaarding en teenstand

    Soos hierbo aangedui, trou Jan Petrus Sampson Dampies in die winter van 1936 met Fatimah wie se ma, Mona Heswick, Moslem gedraai het om met die Indiese immigrant Esop Suliman te trou. Na sy aankoms in Suid-Afrika het Esop mettertyd 'n besigheid op Wellington opgebou en het sy tien kinders-twee by sy eerste vrou Amina, en agt by Mona, die latere Amina-redelik goed daar uitgesien. Volgens Ouma Tiema was haar oupa aan moederskant, Frederick Heswick, 'n bemanningslid op 'n skip wat by die Kaap aangedoen het. Hier het hy 'n plaaslike vrou ontmoet en permanent anker gegooi. Oor Frederick Heswick (vermoedelik afkomstig van die eiland St. Helena) se geskiedenis is min bekend behalwe dat hy en sy vrou hulle op 'n plaas in die Agter-Paarl, Mooikelder, bevind waar hy as 'n dambouer gewerk het. Die plaas het op 'n stadium aan die Engelse magnaat Cecil John Rhodes behoort. Heswick se familie het hom 'n paar keer op die plaas kom soek, maar volgens oorlewering het die boer hom telkens 'weggesteek'.

    Uit die huwelik tussen Jan en Fatimah is twee kinders gebore: Adam (geb. 21 Desember 1936) en Mona (geb. 12 November 1938). Jan het sy vrou die keuse gegee om haar Moslemgeloof te behou, maar sy het verkies, 'soos die Bybelse Rut', om die Christelike geloof te aanvaar (om ds. Dawid Botha se verwysing tydens haar gedenkdiens in herinnering te roep). Uncle het op 'n keer aan my gesê dat dit vir 'n man die hoogste prestasie is 'om met 'n vrou te trou wat jy liefhet'. Sy ouers se liefde het 'n lang aanloop gehad. Blykbaar was Babadoes (Esop se bynaam) nie gekant teen haar keuse nie, maar Jan moes hom verseker dat hy sy dogter kon onderhou en die beste waaraan sy gewoond was, kon bied.Jan het 'n belofte afgelê dat sy Tiema nooit hoef te werk nie en sy familie het 'n redelike middelklaslewenstandaard gehandhaaf. Fatimah was nie 'n stereotiepe besadigde Moslemmeisie nie. Sy het byvoorbeeld van dans gehou, maar sy het dwarsdeur haar lewe haar afkeer teen die gebruik van alkohol behou en selfs familielede wat hulle daaraan skuldig gemaak het, die huis belet.

    Die Moslemgemeenskap in Wellington omstreeks die 1920's en 1930's was baie klein en dit was gewoon natuurlik dat hulle met die hoofsaaklik Christen-gemeenskap geïntegreer het. Dit is dan ook nie verrassend dat Fatimah se bloedfamilie geen openbare teenkanting teen haar en Jan se verhouding getoon het nie. Trouens, van Esop se ander kinders het ook 'uit die geloof' getrou: Helena (Bollie) het met Jan se broer Ernest getrou; haar suster Rasool het met Jakobus Adams uit die Wellington NG Sendingkerk getrou en Magmoet het met Rosalind getrou en 'n lidmaat van die Nuwe Apostoliese Kerk geword. Tog was daar, het Ouma Tiema vertel, van haar Gereformeerde skoonsusters wat nie gediend was met haar en Jan se verhouding nie en selfs hul teenkanting bekend gemaak het. Maar in die algemeen, volgens Uncle se niggie, Janap (Kittie), het die Wellingtonse Moslemfamilie bloed belangriker as godsdiensbande geag. Om die daad by die woord te voeg, het Kittie en haar familie die Smalls gereeld aan huis in Heathfield besoek.

    Uncle toon in sy skryfwerk 'n besondere gevoeligheid vir sosiale hibriditeit met 'n vermoë om "die uiters lokale, subjektiewe te deurgrond sodat dit universele kwaliteit kry" (Brink). Sy bewustheid van die geskiedenis van liefdesverhoudings in sy uitgebreide familie het waarskynlik ook neerslag gevind in die hantering van die tema van romantiese liefde wat gedy in die aangesig van teenstand. Kyk die volgende gedig uit Oos wes tuis bes Distrik Ses:

    Ôraait young lovers, nevermind
    Young lovers, nevermind
    Love net young lovers
    moenie care nie,
    kôs alles kô tog op 'n end
    Life?
    'Is 'n sinkplaat ma, 'it word ytgepluk
    Easy
    Deurie bulldozers of assies wind ruk
    So love young lovers
    Love ma net
    Love ma net en moenie care nie
    Love ma net en nevermind
    Love hy is mos blind.

     

    Die lotgevalle van Terracestraat 23, Wellington

    Adam Dampies (geb. 1859) het 'n deel van sy oorlede ma se erf, geleë in Terracestraat, Wellington, bekom. Sy kinders, uit sy tweede huwelik, is in die huis met die pragtige stoepvarings, "Ferndale", gebore. Sy suster, Cecilia Male, het die hoofdeel van die erf gekoop, nie ver van sy swaer, Frikkie Louw, wat Terracestraat 11 in die padslot besit het nie (Cleophas 10). Op 24 Augustus 1960 is die gedeelte wat aan Faan Sendin, Cecilia Male se skoonseun, behoort het aan die Wellingtonse munisipaliteit 'verkoop'. Ook Jan se broer Ernest se erf is op 1 November 1960 soortgelyk oorgedra, omdat hul woonbuurt onder die Groepsgebiedewetgewing 'wit' verklaar is (Oordragaktes 17016, 13274). Ernest en sy gesin trek na dié gedwonge transaksie na Retreat, 'n 'bruin' woonbuurt in Kaapstad, en daarna, vir altyd, na Kanada.

    Petronella (Nellie) Dampies (geb. 1870), sterf in 1947 voor die instelling van die Bevolkingsregistrasiewet, Wet 30 van 1950, en word uit die huis in Terracestraat begrawe. Ouma Tiema het meer as een keer gesê dat haar lig-van-kleur skoonma 'die verleentheid van apartheid' gespaar is. Maar die apartheidswetgewing het na 1948 wel deeglik 'n indruk op die Small-familie gelaat. In Die eerste steen? skryf Uncle byvoorbeeld "My geboortehuis is [...] so van my weggeneem" (25) en vra hy: "As mense wat geslagte lank 'n goeie huis in 'n goeie woonbuurt gehad het, daar ontwortel word, losgeskeur word van die aarde wat hulle liefhet [...] strook dit met Christenskap?" Tydens 'n onlangse besoek aan die eertydse Terracestraat-familiehuis het die huidige eienaars my laat verstaan dat hulle 'baie verbeterings' aangebring het. Vir van die Small-familielede wat voorheen in die huis gewoon het, is die "'improvements' to the house [...] really just changes-and not for the better either [...] in making the changes they sacrificed the intrinsic charm of the house in which Adam and his sister Mona were born" (Plaatjes).7

    Die tema van gedwonge verskuiwing en die uitwerking op die individu word verwoord in Uncle se drama Joanie Galant-hulle wat handel oor die lotgevalle van die trotse Anthonys van Woodstock, verdryf uit die vaste woning wat soos die karakter Davy dit verwoord, "al is wat ons nog altyd geken het"; "Die hys? Well, ek is in dié hys gebore, en Joanie is in dié hys gebore. En Mamma en Dêrri het toe al vir jare hier gebly, ek meen voordat ons gebore is" (Joanie Galant-hulle 17). Die intimiteit wat Uncle met die verskuiwingstema suggereer, is nie slegs dié van 'n sensitiewe waarnemer of sosiale kommentator nie, maar een wat soos sy uitgebreide familie die aanslag van apartheid aan sy eie lyf gevoel het.

     

    Adam Small se grootwordjare

    Goree: 'die wonderlikste tyd van ons lewe'

    Jan Small begin sy onderwysloopbaan in die Montagu-distrik waar, volgens my ma, Mona, 'Dêrre' soos sy en haar broer hul pa genoem het, onder 'n boom skoolgehou en daar op 'n keer 'n slang op die swartbord gekruip het. Sy broer Bokkie (Fortuin Josef Small, 1916-95) het soms oorgebly en hulle het patat vir ontbyt, middagete en aandete geëet. In 1937 sit hy sy loopbaan aan die NGK Kleurling Hugenoot Primêr te Goree, 'n sendingnedersetting, 'ses, sewe myl Kaapse kant van Robertson' in die Breëriviervallei voort. Ouma Tiema het hul verblyf op die gehuggie bestempel as 'die wonderlikste tyd van [hul] lewens'. Gedagtig daaraan was haar wens dat haar as daar gestrooi moes word. Vir 'n jong getroude egpaar was Goree 'n idille. Jan en Tiema het in die veld gewandel, soms verdwaal, en dan met die treinspoor langs hul pad huis toe teruggevind of per geleentheid slange in die bome dopgehou en hier het hul kinders op skilpaaie se rûe gery. Goree was 'n ervaring waar lewenslank 'n hegte band tussen die Small-sibbe gesmee is.

    Uncle beskryf sy Goree-ervaring as die "gelukkige huislike lewe as kind" en sy verblyf op die plattelandse gehuggie het 'n lewenslange invloed op hom gehad ("Adam Small" 104). Op Goree het die twee Small-kinders leer lees, skryf en dink. Hulle was verplig om vroeg reeds skool by te woon want, volgens my ma Mona, was 'daar niks anders om te doen nie'. Toe sy die plekkie as opgeskote dogtertjie verlaat het, kon sy reeds 'n brief skryf. Volgens Ouma Tiema het haar man dikwels stories aan die jong Adam vertel wat hy dan op sy beurt met prentjies moes vertolk. My ma vertel dat Ouma Tiema met Adam op die skoot gesit en by die onderdeur uitgekyk en verbeelde reënmannetjies geskep het (kyk ook "Adam Small" 103). Die eensaamheid en afgesonderheid van Goree het 'n uitwerking op Adam Small se lewensuitkyk van alleenwees gehad.

    Die jong Adam en Mona en hulle ma is omstreeks dieselfde tyd in die NG Sendingkerk op Robertson gedoop. Eerw. J. J. de Villiers, die leraar van die gemeente en Jan se onmiddellike hoof as 'bestuurder van Kleurlingskole,' het Fatimah Suliman verdoop tot Thelma Small, 'n naam wat sy selde gebruik het, want vir 'n ieder en 'n elk was sy altyd "Tiema". (In 1972 help 'n predikantsvriend, eerw. J. Prinz, voormalig van Wellington, Tiema met haar aansoek aan die Bevolkingsregistrateur om haar oorspronklike naam te herstel.) Adam is op 13 Maart 1938, twee jaar na sy geboorte, gedoop. My ma het die familienaam Mona gekry met die redelik ongebruikte maar betekenisvolle Bybelnaam, Sippora, die Kusitiese vrou van Moses, as tweede naam. Veel later in 1963, tydens hul Kaapse verblyf, het lede van die Small-gesin (Uncle en my ma) van geloofsoortuiging verander en Jehova se Getuies geword.

    Met sy verblyf op die nedersetting het Jan Small blykbaar berigte vir die Kaapse koerant The Sun geskryf, maar sy grootste verpligtinge was die alledaagse. Die skoolmeester by sulke eenmanskole was ook die algemene en finansiële raadgewer, regsadviseur, sieketrooster, skriba en ouderling. Oupa Jan het begrafnisse waargeneem en dikwels alleen huisbesoek aan die armes gebring omdat, volgens Ouma Tiema en Mona, 'ds. de Villiers nie die vuil arbeiderhuisies wou binnegaan nie'. (Nie alle wit predikante het egter Ouma Tiema se toorn op die hals gehaal nie. Sy het baie respek gehad vir Dawid Botha, die skrywer van Die opkoms van ons derde stand, wat op haar man se versoek dienste vir sy kudde en die gemeente op Montagu gelewer het. Sy het later selfs aangedring dat ds. Botha haar man moes begrawe.) Ouma Tiema het haar man dikwels bygestaan. Dit was nie ongewoon vir skoolhoofde aan eenmanskole om die hulp van hulle eggenotes in te roep nie. Sulke "skool-ajas", soos hierdie persone genoem is, was gewoonlik nie opgeleide onderwyseresse nie (Krüger 13). Ouma Tiema het soos baie van haar vroulike tydgenote 'boerematriek', standerd ses (graad agt), voltooi. Sy het ook gehelp met kosvoorbereiding vir die plaaskinders as deel van die Onderwysdepartement se voedingskema wat met die boer se vleisbydrae aangevul is. Die kinders het elke dag 'n bord gekookte kos bestaande uit boontjiekerrie of bredie gekry. In die oorlogsjare is die rys met stampmielies vervang.

    Uncle het sy pa beskryf as 'n diepsinninge mens, gedissiplineerd maar liberaal van uitkyk, eintlik 'n humanis ("Adam Small" 104). Alhoewel Oupa Jan (in die openbaar) ernstig van geaardheid was, het die familie hulle nooit as verhewe bo die plaaslike gemeenskap geag nie. Jare later het oud-inwoners van Goree of Robertson soms onverwags by hulle huis, "Moria", in Heathfield opgedaag waar hulle sonder uitsondering gul ontvang is. Wit rassisme was egter in Robertson alomteenwoordig en dit het die Smalls nie verbygegaan nie. Die vorige onderwyser op Goree het juis die pos opgegee omdat hy glo geweier het om 'baas' te sê. Ouma Tiema vertel dat 'n paar dronk wit mans op 'n keer Oupa uitgetart het as ''n smart hotnot'. Die sielkundige letsels van hierdie en soortgelyke voorvalle het neerslag gevind in Uncle se ongepubliseerde semi-outobiografiese drama, The Orange Earth. Die uittreksel wat my bybly, is waar die hoofkarakter se ma gedwing word om agterom na die kombuisdeur van die 'wit nôi en baas' te gaan. Ouma Tiema vertel dat hulle inderdaad gedwing was om die aanspreekvorme te gebruik, want om 'baas te sê' het hulle oorlewing beteken: 'ons het goed daar uitgesien, as die boer slag, kry ons vleis; as die boer oes, kry ons vars groente en vrugte'.

    Die Smalls verlaat die Montagu-Robertsonstreek na 'n verblyf van agt jaar aan die einde van 1944. My ma onthou dat haar oom, Ernest (1908-82), van Wellington gekom het om hulle met sy motor, 'n spoggerige Graham Paige, te kom haal. In 1945 aanvaar Oupa Jan 'n onderwyspos aan Blouvlei NGK Primêr in Retreat waar die algemene toestande glo veel te wense oorgelaat het. Die Smalls het 'n nalatenskap op Goree agtergelaat wat vandag nog in herinnering geroep word en dan nie net die bloekomlaning wat Oupa Jan aangeplant het nie, maar die gehuggie het ook 'n lewenslange verwysing vir Uncle geword soos sy "Onaf gedig" en sy drama The Orange Earth getuig. Na sy aftrede as professor by die Universiteit van Wes-Kaapland het hy ter herinnering aan sy jeug 'n bykomende klaskamer by Hugenoot Primêr laat aanbou waar 'n gedenksteen in 'n muur gebou is om hom te vereer.

    Heathfield: sosiale werksaamheid te midde van stedelike armoede

    Die gesin trek na die buurt Retreat waar Jan se broer, Piet, vir hulle verblyf in 'n huurhuis van 'n mnr. Philander in Sewende Laan reël. Die Smalls was nie gelukkig hier nie want hulle het die huis met 'n gesin gedeel waarvan die pa ''n drinker' was en dus sterk drank misbruik het. Na ses maande trek hulle na 'n sink-en-yster huurhuis van 'n mnr. Baron, "Levendale", in die nabygeleë Chathamweg, Heathfield en in 1947 betrek hulle 'n steenhuis, "Moria", in Stasieweg 45, Heathfield ('n huis wat steeds in die uitgebreide familie se besit is). Na 1948 het "Moria" 'n aandoenplek vir familie en vriende geword. Eerw. Prins het volgens Uncle hom dikwels op die rusbank uitgestrek en gesê: 'Dit is die soort huis waaroor stories en romans geskryf word.'

    Blouvlei NG Sendingskool Primêr waar Adam Small skoolgegaan het en waar sy pa die skoolhoof was, is geleë in Sesde Laan, Retreat. In 1945 was dit deel van 'n krotbuurt met 'n groeiende bruin- en swartbevolking te midde van sandduine en staande poele water in die winter. Die Small-familie was sigbaar in die kerklewe maar was nie stoere lidmate nie. Soos hul pa, Adam Dampies, dien ook Jan (skriba) en Ernest (diaken) in die kerkraad en stel laasgenoemde in 1959 onder meer voor dat gemeentelede wat hulle aan ontug skuldig gemaak het vir ses maande onder sensuur geplaas word. Sy ander broer Piet (Petrus Frederick Small, 1897-1969) en sy vrou Maria was lidmate van die Calvyn Protestante Kerk, 'n denominasie wat in 1950 onder leiding van dr. Izak D. Morkel, in opposisie tot die NG Kerk se regverdiging en implementering van apartheid, opgerig is (Venter 385-86). Die tweespalt het nie Jan en sy broer se verhouding nadelig beïnvloed nie. Uncle het my meer as een keer vertel 'hoe lekker Uncle Piet was'.

    Die Small-familie het hul sosiale werksaamheid te midde van landelike armoede verruil vir dié te midde van stedelike armoede. Die bewustheid van die omringende armoede was konstant deel van die Small-familie. Ouma Tiema het dikwels vertel dat sy selde haar man se 'dertiende tjek', sy jaarlikse bonusbetaling, gesien het. Hy het dit gewoonlik gebruik om sy skoolkinders se boeke aan te koop. Ook in sy optrede as 'meester' was daar 'n geneentheid teenoor diegene wat bepaalde hindernisse ondervind het, byvoorbeeld gekwalifiseerde onderwyseresse wat ongetroude enkelmoeders was en nie maklik poste kon kry nie, het hy voor voorspraak gedoen en op sy personeel laat aanstel (Bailey, Joseph). Ook sy seun, Adam, het 'n soortgelyke bekommernis oor die wel en wee van sosiale randfigure soos sy latere betrokkenheid as gemeenskaps- en maatskaplike werker getuig. Uncle het byvoorbeeld die veroordeelde moordenaar, Marthinus Choegoe, in 1975 in die dodesel in Pretoria besoek, 'n voorste advokaat vir sy appél teen die doodstraf gekry en 'n gedig vir hom geskryf. Volgens Tina Choegoe het hy hom van raad bedien oor sy gedrag en getuienis en dat dit meegehelp het om "my man die tou te laat vryspring".

    Alhoewel Jan homself nie as 'n stoere Calvinis beskou het nie, het sy kollegas en leerlinge hom bestempel as godsdienstig, nederig, vriendelik, sag, stil en ordentlik teenoor almal (kyk Bailey, Henderson, Jonathan, Joseph).8 In dieselfde trant lees 'n gedeelte van die oorkonde, wat die Blouvlei-personeel aan hom skenk met sy oorplasing in 1966 as stigter-skoolhoof na Lourier Primêr: "U beleefdheid teenoor almal, is 'n eienskap wat ons almal baie waardeer het en vir ewig in ons harte as 'n kosbare herinnering sal bewaar." Dieselfde eienskappe was blykbaar ook aanwesig in Adam Dampies (geb. 1859) (Plaatjes). Hierdie draad van saggeaardheid en wellewendheid loop deur die Small-geslag en dit is nie verrassend dat die skrywer André P. Brink van Adam Small sê dat "Niks wat kru en luidrugtig was, het ooit sy goedkeuring weggedra nie [...] in die sin van N. P. van Wyk Louw was hy 'n beskaafde mens." 'n Voormalige kollega van hom, Frans Kotze, sê: "Adam was altyd die leermeester, gesels baie intelligent op 'n sagte en bedeesde manier en raak nooit kwaad nie [...] eerder op papier". En weer eens Brink: "Adam Small het nooit probeer om 'n gesprek te oorheers nie [...] hy sou met 'n effense glimlaggie kyk hoe ander praat en wanneer hy wel iets gesê het, was dit sonder uitsondering iets wat 'n mens sou kon na luister [...] intensiewer as na ander."

    Heathfield: Adam Small se skoolloopbaan

    Adam was skrander op skool, maar dit het, volgens my ma, 'n volle twee weke geduur om hom te oortuig om skool by te woon. Op Goree het hy 'n 'oppasser-vriend' gehad, genaamd Adoons Pekeur met wie hy alles gedoen het. In die stad was daar geen Adoons nie en Adam was aanvanklik verlore.9 Hy slaag standerd drie (graad vyf) byvoorbeeld met 'n slaagsyfer van 83%. Reeds vroeg toon hy 'n aanleg vir kultuuraktiwiteite. Dit was tydens sy laerskooljare dat hy sy eerste 'drama' geskryf en opgevoer het en soos sy niggie Gertie (Gertrude) lewer hy tydens Sondagskoolkonserte klaviersolo's en sangstukke. (Die kinders, insluitende Mona, het musieklesse by 'n mej. Biehl (later Davids) en die nonne van die St. Mary's Catholic Primary School in Retreat ontvang.) Hierdie vroeë kennismaking met ernstige musiek sou later heelwaarskynlik ook 'n invloed op die musikaliteit van Uncle se drama- en poësietekste hê. 'n Familievriendin, Anne McArthur (née Britow) vertel dat die jong Adam net vir kort rukkies met hulle gespeel het voordat hy as leesliefhebber terug is na sy boeke. Sam Louw, 'n skoolvriend tydens sy matriekjaar, onthou dat Adam nooit luidrugtig op die heen- en terugtreinreise was nie. Alhoewel hy in homself gekeer was, het hy tog hegte vriendskappe gesmee met seuns van wie Louw vandag slegs hul vanne onthou: Biehl, Biggs, Parker en Scott.

    Alhoewel die Small-gesin Gereformeerd was, het Jan en Tiema besluit om Adam na verskeie Engelse Katolieke hoërskole in Kaapstad te stuur. Elk van die skole het reputasies vir gehalte-onderrig gehad, alhoewel hulle in vergelyking met soortgelyke wit Engelse skole 'stiefskole' was. Aanvanklik het nie net St. Augustine's Roman Catholic School se goeie naam en die vooruitsig van 'n goeie Engelse skoolopvoeding tot Adam se ouers se besluit aanleiding gegee nie, maar hulle is ook aangemoedig deur George (G. L.) Abrahams, 'n bekende in TLSA-kringe.10 Adam voltooi tussen 1949 en 1951 standerds ses tot agt aan St. Augustine's, standerd nege aan Immaculata High School in Wittebome en sy matriek aan die seunskool, St. Columba Roman Catholic High School in Crawford, in 1953.

    Aan die Universiteit van Kaapstad het Adam ook baie goed gevaar. Hy registreer aanvanklik as 'n mediese student maar toon geen aanleg vir dié beroepsrigting nie. Ouma Tiema vertel my: 'jou Uncle het kom siek word by die huis na hy die kadawers moes aanskou'. In 1955 het hy van kursus verander en is hy daardie jaar aangewys as die beste student in Afrikaans-Nederlands. In 1956 voltooi hy sy BA-graad eerste klas met twee onderskeidings in Etiek en Logika en Metafisika. Daarna voltooi hy sowel sy honneurs- as MPhil-grade met onderskeiding. Sy suster Mona was ook 'n skrander leerling en sportpresteerder aan die Suid-Skiereiland Hoërskool in Dieprivier. In 1953, gedurende haar standerd negejaar, doen sy 'n ernstige velsiekte op wat haar vir meer as twee maande in die hospitaal laat deurbring. Na haar siekte laat vaar sy haar verdere hoërskoolopleiding en skryf later in as 'n laerskoolonderwysstudent aan die Battswood Opleidingskool. Anders as Adam het sy nooit universiteitsopleiding ontvang nie, omdat soos die tradisie dit wou hê, ouers meer in hul oudste seuns belê het.

     

    Tekens van positiewe lewenskragtigheid: om van posisie te verskuif

    In 'n onderhoud oor die aard van die politiek verdedig Uncle sy dikwels verskuiwende politieke uitsprake soos volg: "Om van posisie te verskuif [...] is 'n teken van 'n positiewe lewenskragtigheid wat te waardeer is. As 'n filosoof het ek groot waardering vir hierdie waarheid" (Hugo 336). Hierdie lewensingesteldheid wat een van sy gespreksgenote, Jakes Gerwel, per geleentheid as die 'filosofie van twyfel' bestempel het, manifesteer ook in sy belewing van 'n persoonlike godsdiensoortuiging. Dit was in "Moria" dat die Small-gesin met die Jehova se Getuies kennisgemaak het. Uncle, sy eerste vrou Julia Engelbrecht, en sy suster Mona is op 13 April 1963 in dié geloofstradisie gedoop en opgeneem. Hy was aangetrek deur die volgelinge se diepe studie van die Bybel, die bare text. Prof. Merlyn Mehl, 'n natuurwetenskaplike wat later met Julia (na haar egskeiding in 1968) getroud is, rapporteer soos volg oor 'n gesprek tussen hom en Uncle:

    Looking at the stars on a clear night in Cape Town is a moving experience. Once, while doing so, I recall saying to a friend (Adam Small): "What's the point of all of this? Surely it must mean something; yet, down here things are so pointless. How can people discriminate so much against others? Why are things so unfair? What is the purpose of it all?" (Mehl 10).

    Teen 1986 het Uncle 'n volle ommeswaai van siening en een dag in sy motor op pad na sy werk by die Universiteit van Wes-Kaapland , sê hy vir my dat die Jehova se Getuies nie een van 'die groot, diep-denkende gelowe' is nie. Vir 'n ander gespreksgenoot sê hy dat hy ongemaklik is met die deur-tot-deur-bediening van dié geloofstradisie (Gerwel). Alhoewel hy later aangetrokke tot die Katolisisme voel, voer hy die aanvoeling nooit verder nie, veral nie nadat die Kerk weier om hom as geskeide man te trou wanneer hy met Rosalie Daniels in die huwelik wil tree nie.11 Hulle trou op 22 Desember 1971 in die Metodiste Kerk, Bellville-Suid. Nadat Uncle die Jehova se Getuies verlaat het, het hy nooit weer 'n belydende lidmaat van enige geloofsoortuiging geword nie.12

    Oor die loop van vyf dekades word Uncle se politieke belewing gekenmerk deur soortgelyke intellektuele worsteling. Die jong Adam het (in 'n sekere mate) sy politieke opvoeding van sy ouers ontvang. Hulle was deel van 'n gekleurde geslag wat politieke aksie beskou het as steun vir óf die Nasionale Party óf die Suid-Afrikaanse Party (later die Verenigde Party). Sy ouers was Smuts-ondersteuners. Uncle vertel hoe hy "as 'n groot seun, saam met (sy) ouers ingeluister het na die uitsending van Smuts se begrafnis" (Small in Botha 102). Gedurende die oorlogsjare het 'n portret van Jan Smuts in hul voorkamer op Goree gehang en volgens Ouma Tiema was die Nasionale Party-gesinde eerw. De Villiers erg omgekrap daaroor, maar 'dit het daar bly hang', waarskynlik meer as bevestiging van eiewaarde as 'n subtiele uitdaging van dié skoolbestuurder se gesag.

     

     

    Alhoewel Jan 'n lid van die Teachers' League of South Africa (TLSA) was, was hy nooit uitgesproke soos die meer bekende Allie Fataar, Ben Kies of William van Schoor nie. Waar sy politieke simpatieë presies gelê het, kon ek nooit uitmaak nie, maar Uncle het gesê dat Ouma Tiema, wat meer behoudend was, hom 'teruggehou' het. Die TLSA en sy oorkoepelende liggaam, die Non-European Unity Movement (NEUM), het sterk op die werk van Lenin en Trotsky gesteun vir ideologiese leiding, 'n ingesteldheid waarmee Jan Small waarskynlik minder gediend was. Die Jehova se Getuies waartoe hy hom bekeer het, het byvoorbeeld in hul lyfblad aangedui dat Lenin en Trotsky die bloedvergieting en die hebsug in die Christendom beklemtoon het ("Convert" 1). Oupa Jan was 'n saggeaarde en vredeliewende mens; hy het Christelike liefde beklemtoon en nie die bloedvergieting en die hebsug van die Christendom nie. Alhoewel hy die Gereformeerde tradisie verlaat het, kon die voormalige moderator van die Sendingkerk, ds. Dawid Botha, by sy begrafnis opmerk dat 'al was Jan Small nie 'n kerkmens nie, was hy 'n Christen'.

    Uncle het van hierdie karaktertrekke van sy pa oorgeneem en die idee van die 'liefde oorwin alles' 'n saak van intellektuele moraliteit gemaak. Te midde van sy politieke worsteling was die een konstante politieke oortuiging sy afkeer van geweld. Dit was ook 'n faktor in sy persoonlike lewe. Hy word aangehaal dat hy "jare lank 'n vegetariër is, weens sy filosofie teen geweld" (Small in Gouws 75). Die invloede is terug te speur na sy pa wat die skoolkinders onder sy toesig selde pak gegee het en dit "soms met 'n glimlag gedoen het op 'n speel-speel manier" (Jonathan). 'n Voorval by Uncle se huis in 1987, pas nadat sy pa gesterf het, getuig van 'n soortgelyke invloed. Sy seun, Peter, het met 'n rugbybal gespeel en na herhaalde waarskuwings 'n slaapkamervenster van sy skoonma, Anna Daniels, gebreek. Almal het verwag dat Uncle 'n uitbarsting sou kry en sy seun die loesing sou gee wat hulle gereken hy verdien het, maar hy het gesê: 'Peter, it must be Oupa's hand keeping me from hitting you.'

    Om die draai van "Moria", het die TLSA-man, GL Abrahams, in Vierde Straat gebly. My ma en Ouma Tiema het vertel hoe Uncle Vrydae-aande 'langbroek aangetrek het om discussion groups by GL se huis by te woon'. Maar sy verbintenis met hierdie radikale gespreksgenote sou nie lank duur nie en later het hy uitgesproke antikommunisties geword. Reeds aan die Universiteit van Kaapstad het hy hom onttrek aan hierdie besprekingsgroepe of dié van die Student Socialist Society (kyk Wieder 47). Aan my het hy meer as een keer gesê dat hy nie deel van ''n kliek' was nie en dat hy 'nooit op universiteit met hulle gelol het nie' (kyk ook Small, 'Krisis' 147). Teen 1961 was hy openlik gekant teen die TLSA en soortgelyke organisasies:

    Ek dink veral aan daardie onaangename mense wat die hele wêreld met hulle slagspreuke volskreeu in diens van 'n sogenaamde demokrasie wat tirades lewer oor vrye spraak en vrye uitdrukking en handeling van die mens, terwyl hulle self nie een enkele oomblik een enkele demokratiese beginsel uitleef nie. In ons gemeenskap is ons almal baie bekend met die tirannie wat hoogty vier in die bewegings en organisasies van hierdie soort mense, mense wat moord en doodslag skreeu op enigiemand wat nie een honderd persent met hulle kan saamstem nie, mense wat moord en doodslag skreeu op nazistiese verdrukking, maar in wie se eie bewegings en organisasies 'n byna perfekte weergawe gevind word van die tegniek van die uitroeiing van die individu se elementêre vryheid om te verskil. Soos hierdie mense te werk gaan, sal ons uiteindelik "vry" wees-vry sonder enige wil tot verantwoordelikheid; ons sal "vry" wees, ja, ons sal bandeloos wees. Want hulle predik die soort vryheid wat vernietig is van alle menslikheid. Ook hulle sal ons verkneg (Small, Eerste steen? 20).

    As uitgesproke individualis en iemand, wat soos dit uit hierdie aanhaling blyk, "elementêre vryheid" belangrik ag, wou hy hom intellektueel nie laat inbind nie. Hy het nie net in die openbaar verskil met die NEUM nie, maar ook met lede van die African National Congress. So vertel Ouma Tiema dat die rektor van Fort Hare Universiteitskollege, prof. Z. K. Matthews, waar Uncle begin klasgee het, die studente teen hom 'opgestook' het sodat hy onder minder gewenste omstandighede sy eerste universiteitspos verlaat het.

    Tog het politieke heroorweging nie daadloosheid beteken nie. Een so 'n geleentheid was die implementering van treinapartheid na die noodlottige verkiesing van 1948. Ouma Tiema het dit in haar vertellings as 'n deurmekaarsituasie beskryf: 'Almal was deurmekaar, mense was uitgehaal uit kompartemente. Ons was nie daaraan gewoond nie, alles was deurmekaar.' Ek weet nie of Uncle ooit aktief by die Train Action Resistance Campaign (TARC) van 1948-50 betrokke was nie, maar ek onthou wel dat hy op 'n keer gesê het dat 'ons Whites Only-bordjies van die treine afgehaal het'. Sy bekendste politieke daad was waarskynlik sy besluit om in 1973 sy lektorspos aan die Universiteit van Wes-Kaapland te bedank in solidariteit met die stakende studente wat die kampus belet was. Voorts het sy deurlopende stryd teen die kultuursensuur en magsbeheptheid van die Nasionale Party hom in die openbaar as 'n aktivistiese skrywer gevestig.

    As kritiese individualis wat nie die geweldsopsie voorgestaan het nie, het Uncle hom voortdurend vir dialoog beywer: tussen Afrikaanssprekendes en in die 1970's en 1980's met bruin politici soos Sonny Leon, Allan Hendrickse en Jac Rabie wat aan die politiek van die ongewilde Verteenwoordigende Kleurlingraad deelgeneem het. Per geleentheid, in 1974, het hy selfs gesê: "Ek het groot simpatie met John Vorster [...] ondanks die feit dat ek dit tong in die kies sê" (Hugo 334). Ook in hierdie geval het versoening, menslikheid en Christelike meelewing vir hom vooropgestaan. Al sou hierdie ervarings oor die jare intellektueel en moreel geregverdig word, is die aanname van hierdie artikel dat die grondslae vir Uncle se verdere ontwikkeling in sy familiegeskiedenisse geleë is.

     

    Slotbeskouing

    Hierdie oorsig van die Small-familie wou 'n bydrae lewer tot die persoonlike en geskiedkundige agtergrond van die skrywer Adam Small. Hier is hoofsaaklik staatgemaak op die persoonlike gesprekke met en herinneringe van familielede van die uitgebreide Small-gesin, veral dié van Fatimah Small wat as hoofinformant geïdentifiseer is. Dié basiese inligting is aangevul met kontroleerbare genealogiese navorsing, alhoewel hier uitsluitlik op die vertakking wat op Adam Small en sy onmiddellike voorsate betrekking het, gekonsentreer is. Die uitgebreide DampiesSmall-familie het in die laat-negentiende en begin-twintigste eeu die beskikbare onderwysmiddele gebruik om 'n betreklik gemaklike middelklaslewe te skep en derhalwe kon van hul kinders hul as onderwysers bekwaam, terwyl hul kerklike en sosiale betrokkenheid 'n atmosfeer van streng lewenswaardes, omgee en naastediens geskep het. Hier is aangetoon dat waardes soos medemenslikheid, uitgesproke antikommunisme, individuele vryheid en anti-geweld asook verdraagsaamheid vir multikulturaliteit vir die skrywer, Adam Small, belangrik geword het, net soos sy tekste getuig van 'n historiese bewustheid. Ten opsigte van verdere navorsing sou die studie as grondslag kon dien vir 'n voller begrip van 'n skrywer wie se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde betekenisvol is, of soos André P. Brink dit gestel het, dat "niemand dinge op Afrikaans [kon] sê wat hy gesê het nie".

     

    Erkennings

    Benewens die persone wat direk in hierdie stuk navorsing aangehaal is en onder "Onderhoude en korrespondensie"hieronder vermeld word, bedank ek ook die volgende informante wat bereid was om tyd en aandag aan my af te staan: Cecilia Abrahams, Jamiela Ahmed, Nasser Ahmed, Mona Cleophas (née Small), June Engeldoe, M. Lipari, Conrad Sidego, Vigan Small, Dawn Titus en R. E. van der Ross. Ek bedank ook die hoofredakteur van Tydskrif vir Letterkunde, Hein Willemse, wat my onbaatsugtig bygestaan het met die voorbereiding van hierdie artikel.

     

    Aantekeninge

    1. Waar informante se oorleweringe woordeliks in herinnering geroep word, maar geen bewysplaas toegeken word nie, word enkel aanhalingstekens gebruik. 'n Videoproduksie waarin van die informate optree is beskikbaar op die webwerf www.letterkunde.up.ac.za as aanhangsel tot hierdie artikel.

    2. Die moontlikheid bestaan dat hierdie Adam die voorsaat is van die Smalls en kan 'n verwysing wees na Adam van Malabaar wat in 1788 met Tabitha Geertruida Maria van Amboid in die Groote Kerk getroud is (NG Kerk Huweliksregister Groote Kerk, 8 Junie 1788: 115; kyk Cleophas 4).

    3. Ds. Jan Breedt (1922-46) se dogter, vertel dat gemeentelede wat nie hul geboortedatum geken het nie dikwels gevra is hoe 'groot' hulle was toe die spoorlyn geopen was. Ds. Breedt het dan daarvolgens hul ouderdom geskat. Die spoorlyn was in 1863 geopen (Van der Ross 36).

    4. Daar bestaan 'n foto van Totta wat langs haar suster Molla (Petronella Elizabeth Francina, getroud Nicholls) poseer: twee jong dames geklee in 'beskaafde' na-Viktoriaanse middelklaskleredrag, 'n aanduiding van die sosiale posisie wat die Smalls van Wellington in die vroeë 20ste-eeu beklee het.

    5. Benewens die algemene geneigdheid tot Engels as verhewe status kon Jan Small se omringende werksomgewing 'n invloed op sy naamsverandering gehad het. Die meerderheid van sy personeellede het Engelse name gehad of hulle vanne op Engels uitgespreek sodat hy met sy plattelandse naam en van uitgestaan het. Hierdie aanname dra gewig omdat van sy kollegas na hom as 'die plaasjong' verwys het. Jan het ook 'n neef gehad met die naam, Sylvester en die bynaam Westie. Die moontlikheid bestaan dat die naam 'n vernoeming van Sylvester Samson is wat met Adam Dampies (geb. 1859) op die Wellington NG Sendingkerk Sondagskoolkommissie gedien het en drie keer die gemeente by die sinode verteenwoordig het (Kriel 96, 251).

    6. Informante meld dat haar taal Gujerati was, maar dit kon ook Marathi gewees het, wat die hooftaal van die streek is waaruit haar pa, Esop Suliman, gekom het.

    7. Vir 'n foto van die huis, kyk Wellington Museum.

    8. In 'n getuigskrif gedateer 22 Maart 1943 bestempel eerw. J. J. de Villiers, die 'bestuurder van Kleurlingskole', Jan as 'nederig, beskeie en hulpvaardig' (De Villiers). My ma onthou dat haar pa die skoolinspekteurs se tasse ingedra het wanneer dié vir skoolinspeksie aangemeld het.

    9. Adoons Pekeur het later 'n ambulansbestuurder in Kaapstad geword en per geleentheid sy gesin aan die Smalls in Heathfield kom voorstel.

    10. GL se dogter, Doni, vertel dat haar pa baie ingenome met Adam was. Op 'n keer het 'n skoolinspekteur gesê dat Adam se werkboek van so 'n hoë standard was dat GL dit as 'n memorandum vir sy eksamenvraestel kon gebruik. Later het hy Adam genooi om aan die discussion groups van sy politiek-linkse onderwysliggaam, die Teachers' League of South Africa, deel te neem.

    11. My ma vertel dat hy 'n Katolieke priester laat kom het toe hy per geleentheid gehospitaliseer is. Sy kinders, Peter John en Zaidee Sophia Fatimah, uit sy huwelik met Rosalie, voltooi hulle hoërskoolloopbane aan onderskeidelik St. Columba en Immaculata Katolieke skole. Daarenteen het sy seuns by Julia, John Sylvester en Leopoldt Johannes (Leon), onderskeidelik die staatskole Heathfield Primêr en Portia Primêr, en later Spes Bona en Suid-Skiereiland Hoërskole bygewoon.

    12. Dit is 'n algemene verskynsel van Jehova se Getuies-lidmate wat die geloof verlaat, dat hulle nooit weer aan enige godsdiens gekoppel word nie.

     

    Geraadpleegde bronne

    Argivale, kerklike en munisipale bronne

    Calvyn Protestante Kerk (CPK), Retreat lidmaatregister.

    Kaapstadse argief:

    MOOC 60985

    MOOC 29304

    MOOC 6/9/628/3459

    MOOC 7/1/868/2465

    4PRL 7/1/2/4

    1/Wel 3/2; 35/1901

    Opgaafrol vir Stellenbosch, 25 Mei 1825. J. 279

    Registrateur van Geboortes, Huwelike en Sterfgevalle, 19 Aug. 1948.

    NG Kerk Groote Kerk, Kaapstad, huweliksregister.

    NG Kerk, Wellington, doopregister.

    NG Sendingkerk, Wellington, Algemene Raadsvergaderings.

    NG Sendingkerk, Wellington, doopregister.

    NG Sendingkerk, Wellington, huweliksregister.

    NG Sendingkerk, Wellington, lidmaatregister.

    Wellington Munisipaliteit. Oordragaktes (6532, 13274, 17016).

    Onderhoude en korrespondensie

    Bailey, P. Voormalige onderwyseres, Lourier Primêr. Telefoniese onderhoud. 20 Okt 2010.

    Brink , A. P. Skrywer, Rosebank, Kaapstad. Onderhoud. 16 Nov. 2010.

    Choegoe, T. Telefoniese onderhoud. 6 Nov. 2010.

    Gerwel, G. J. Voormalige rektor, U van Wes-Kaapland; Belhar, Bellville. Onderhoud. 4 Nov. 2010.

    Henderson, M. Voormalige onderwyseres, Lourier Primer; Dieprivier, Kaapstad. Onderhoud. 20 Okt. 2010.

    Jonathan, R. Oud-leerling en onderwyseres, Blouvlei en Lourier Primêreskole. Telefoniese onderhoud. 19 Okt. 2010.

    Joseph, E. Voormalige onderwyseres, Lourier Primêr; Heathfield, Kaapstad. Onderhoud. 20 Okt. 2010.

    Kotze, F. Voormalige UWK dosent; Glenhaven, Bellville. Onderhoud. 1 November 2010.

    Plaatjes, A. Boodskap aan skrywer. 27 Aug. 2010. E-pos.

    Ongepubliseerde dokumente, verslae en verhandelings

    Blouvlei Primêre Skool. "Oorkonde: J. S. Small." 1965.         [ Links ]

    Cleophas, F. "A history of the Small family from Wellington: Cape Province, South Africa." Staatsargief, 1996.         [ Links ]

    De Villiers, J. J. "[Getuigskrif: J. Small]." 1943.        [ Links ]

    Kriel, C. J. "Die Nederduitse Gereformeerde Sendinggemeente Wellington Kaapprovinsie (1820-1946). 'n Histories-kritiese studie." MTh tesis. U van Stellenbosch, 1952.         [ Links ]

    Primêre letterkundige bronne

    Jansen, Chris en Adam Small. Oos wes tuis bes Distrik Ses. Kaapstad: Human & Rosseau, 1973.         [ Links ]

    Small, Adam. Die eerste steen? Kaapstad: HAUM, 1961.         [ Links ]

    ______. "Adam Small in gesprek met Ronnie Belcher." Gesprekke met skrywers 2. Kaapstad: Tafelberg, 1972. 93-105.         [ Links ]

    ______. Heidesee. Kaapstad: Perskor, 1979.         [ Links ]

    ______. Joanie Galant-hulle. Kaapstad: Perskor, 1978.         [ Links ]

    ______. Kanna hy kô hystoe. 'n Drama. Kaapstad: Tafelberg, 1980.         [ Links ]

    ______. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM, 1974.         [ Links ]

    ______. "Krisis van 'n swart Sestiger." Die Sestigers. Verslag van die simposium oor die sestigers gehou deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, 12-16 Februarie 1973. Red. Polley, J. Kaapstad: Human & Rousseau. 1973. 140-48.         [ Links ]

    ______. Onaf gedig. 1993. Manuskrip.         [ Links ]

    Sekondêre bronne

    Botha, A. My Paarl. Paarl: A. Botha, 1987.         [ Links ]

    "Convert the Christians." Watchtower 15 Jun. 1958.         [ Links ]

    Gouws, R.; M. Peacock en J. Pienaar. Kaperjol. Afrikaans vir vandag. Graad 12. Kaapstad: Maskew Miller, 1997.         [ Links ]

    Hugo, P. Quislings or Realists? A Documentary Study of 'Coloured' Politics in South Africa. Johannesburg: Ravan, 1978.         [ Links ]

    Krüger, B. The Pear Tree Bears Fruit. The History of the Moravian Church in South Africa Western Cape Province, 1869-1960, with an epilogue, 1960-1980. Genadendal: Moravian Boekdepot, 1984.         [ Links ]

    Mehl, M. "Finding Racial Harmony in Troubled South Africa." Watchtower 1 Jul. 1989: 10-14.         [ Links ]

    Van der Ross, R. E. The Black Countess. A Biography. Kaapstad: Ampersand, 2007.         [ Links ]

    Venter, Al. A Profile of Two Million South Africans. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974.         [ Links ]

    Weider, A. Teacher and Comrade. Richard Dudley and the Fight for Democracy in South Africa. Albany: State U of New York, 2008.         [ Links ]

    Wellington Museum. "Landmarks in literature." 1 Nov. 2010. <http://media1.mweb.co.za/wellington museum/literaturelandmarks.html>.         [ Links ]

    Francois Cleophas is verbonde aan die Departement Sportgeskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy ook ’n doktorsgraad in hierdie dissipline verwerf het. E-pos: fjcleophas@telkomsa.net