SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue1'Jy is die vertolker': die lewensloop van Adam SmallAdam Small: family histories, beginnings and earlier influences author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.49 no.1 Pretoria  2012

     

    Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel

     

     

    G. J. Gerwel

     

     

    'n Algemene publiek, of ten minste 'n Afrikaanse algemene publiek-en in soverre hulle van die wêreld van die lettere kennis neem-sal Adam Small waarskynlik eerstens herken en onthou as digter en dramaturg, en waarskynlik meer spesifiek as die skrywer van Kitaar my kruis en Kanna hy kô hystoe. Dit is met hierdie werke dat hy sy stempel op die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde afgedruk en naam gemaak het-as daardie uitdrukking nie onvanpas is nie vir iemand wat vir 'n lang tyd so ondererkend en onderwaardeerd was. Wat dikwels nie deur so 'n publiek onthou of besef word nie is dat Small van opleiding en beroep 'n filosoof was; 'n praktiserende filosoof, dosent in die Wysbegeerte. Maar Small was meer as net akademiese filosoof en dosent. Ek dink dis Charles van Onselen wat op 'n slag opgemerk het dat daar aan ons inrigtings te veel "akademici" en te min "universiteitsgebaseerde intellektuele" is.

    Laasgenoemde was Small beslis-grondig intellektueel en een wat toevallig op tye daardie lewe van die intellek aan 'n universiteit gelei het. Om denkend te lewe, was sy credo. En aan sy samelewing en sy tyd het Small as denker deurgaans en deurlopend sy aandag gewy. Hy het behalwe sy akademiese werk onvermoeid aan die openbare gesprek deelgeneem, onder andere deur artikels en briewe in koerante en tydskrifte. Dit is aan daardie aspek van die lewe van die mens wat in hierdie simposium gehuldig word dat ek gevra is om kortliks aandag te gee in hierdie inleidende voordrag.

    Ek beoog nie om 'n akademiese voorlegging-'n kritiese ontleding van sy filosofiese skrywes met voetnote en uitgebreide bronnelyste-te doen nie. Eerder om verslag te doen oor my ervaring van en herinnering aan dié denker en digter.

    Small was my dosent, mentor, kollega, gespreksgenoot en vriend. Daar was 'n tydperk in ons lewens toe ons vir mekaar naaste vriende was, baie tyd saam deurgebring, ook met ons gesinne saam. Aan die basis van die verhouding was die gesprek, die denkende gesprek. Ek sien nou die dag weer die kopie van die boek Gesprekke met skrywers waarin Ronnie Belcher met hom 'n onderhoud voer. Voorin die boek wat hy vir my as geskenk gegee het, skryf hy: "in begrypende vriendskap". Om te begryp was deurgaans die bemoeienis van Adam Small in al die fasette van sy lewe. (Ook om begryp te word, moet ek byvoeg; maar daaroor later.)

    Suid-Afrika en sy rasgebaseerdheid en rasse-obsessie was die fokus van sy werk, sowel skeppend as besinnend. Hy, die wysgeër, die denker, die passievolle liefhebber van Sokrates, kon nie begryp hoe 'n samelewing homself op grond van iets so banaal soos ras en kleur so wreed kon verdeel nie. "Ek kan nie verstaan hoe mense so onnosel kan wees nie," het hy dikwels radeloos gesê. En dis om daardie onbegrip te verwerk, om te probeer verstaan, wat soveel van sy skrywe gerig en gedryf het. Small se verbondenheid tot en verhouding met Afrikaans het hom baie intens laat voel oor hierdie verdeling en uitsluiting, "die vervreemding" soos hy dit op 'n slag genoem het.

    In die vroeë jare van sy lewe as openbare intellektueel het sy verwoording van sy verhouding tot Afrikaans dikwels tot misverstand aanleiding gegee. Daar is soms, dikwels, uit sekere kringe polities-neerhalend na hom verwys as "bruin Afrikaner", een wat Afrikaner wou wees-iets wat dan nie in lyn sou wees met die antiapartheidstrewe nie. Hoe seer dit hom sou gemaak het-hy oor wie se stilte ons ook hier peins-kan ons nie eers begin raai nie.

    'n Tema wat mens deurlopend in Small se sosiale en politieke denke kan naspeur is dié van die verhouding tot gemeenskap. Alhoewel hy 'n intens private mens is, iemand wat sy enkelingskap hoog ag, was hierdie bemoeienis met gemeenskap belangrik in sy denke-oeuvre.

    Die verhouding met Afrikaners, Afrikanerskap, as die dominante deel van Afrikaanssprekendheid in 'n periode toe hy 'n redelik eensame bruin of swart aanwesigheid in die Afrikaanse letterkunde was, moes dus uiteraard vir hom 'n kwelling gewees het. Hy sou in later jare, by die gevierde Sestiger-simposium in 1973, met verwysing na Breyten se "Blik van buite'-lesing sy eie lesing noem "'n Blik van buite van binne". En dis tekened van hoe hy homself binne die Afrikaanse gemeenskap ervaar en gesien het-binne maar buite.

    Een van Small se belangstellingsgebiede was Morele Filosofie en Etiek. Sy volgehoue bevraagtekening van, en kritiek op, die rasgebaseerdheid van sy samelewing, en dus op Afrikaners, het onder andere daaruit gevloei. Hy het egter ook die uitsluiting en verwerping persoonlik ervaar as iemand wat skeppend en intellektueel tot die Afrikaanse leefwêreld wou bydra en tog nie (volledig) as gelyke erken en geag is nie. Small het op 'n slag met die begrip "geskiedenis as biografie" omgegaan; sy eie biografie, sy plek "aan die gatkant" van die samelewing en die Afrikaanse wêreld het in die kritiek op Afrikaners neerslag gevind.

    Die houding teenoor die uitsluitende groep het mettertyd verhard. Wat aanvanklik soos 'n liefdevolle vermaning en pleidooi vir aanvaarding kon geklink het, het later tot 'n amperse verwerping van sy kant gegroei. Dis weer in daardie 1973-voordrag dat hy praat van hoe eienaardig dit is hoe mense wat verantwoordelik is vir die vervreemding skielik 'n gevoel daaroor ontwikkel as dit vir hulle begin lyk asof die ander mens in daardie rigting weg van hulle af beweeg.

    Small het inderdaad op 'n tydstip van sy skeppende werk in Engels begin doen. Dit was onder meer ook 'n stelling van sy gevoel teenoor die Afrikaanssprekende wêreld. Die een figuur in die Afrikaanse geesteswêreld vir wie Small deurgaans 'n affiniteit behou het, was N. P. van Wyk Louw. Hy het hom, nes Van Wyk Louw, met die konsep van die digter as intellektueel geïdentifiseer. In die werk van Van Wyk Louw het hy die ruimheid aangevoel wat hy gemeen het te dikwels in Afrikaans ontbreek. Small het dan ook 'n keur uit Van Wyk Louw se poësie in Engels vertaal. Dit het hy gedoen onder andere ook om Engelssprekende Suid-Afrikaners bewus te maak dat daar 'n rykdom in Afrikaans is waarvan hulle hulself in hooghartige selfvoldaanheid afsluit.

    Dit was veral in sy gedigte en sy dramas dat Small bruin gemeenskappe aan die orde en aan die woord gestel het. Dis te betwyfel of daar 'n egter uitbeelding of voorstelling van die toestande van arm mense op die Kaapse Vlakte bestaan as dié in daardie bundels en dramas. Die gebruik van die dialek of patois is een van sy treffendste middele om daardie effek te bekom. Soos die reënboognasie-begrip in Suid-Afrika Desmond Tutu se skepping is, glo ek die benaming "Kaaps" vir daardie dialek Adam Small s'n is. Hy het, byvoorbeeld, in die voorwoord tot die 1973-herdruk van Kitaar my kruis heelwat ruimte daaraan afgestaan om te argumenteer vir die erkenning van Kaaps as 'n taal waarin mense lewe, en nie 'n eienaardige koddigheid nie.

    Met hierdie benadering tot die taalvorm raak Small weer betrokke by die kwessie van gemeenskap en gemeenskapsvorming of gemeenskapsverbeelding (imagining community). Net dié aanhaling uit sy "woord vooraf": "Kaaps is 'n taal, 'n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra; die volle lot, hulle volle lewe met alles wat daarin is; 'n taal in die sin dat die mense wat dit praat, die eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal."

    Dis interessant hoedat die basis vir hierdie gemeenskapsvorming, hierdie mensegroep, die taal is wat hulle praat. Dit was vir my altyd 'n interessante vraag of hierdie taalgemeenskap 'n klasseformasie eerder as 'n kleur- of etniese formasie uitmaak. Small se kommer en bemoeidheid in sy poësie en dramas is met die armes; nêrens kan ek onthou dat hy etniese bruinheid tot kategorie maak nie. Ewe interessant is dat in gedigte waar die armes aan die woord is, Kaaps gebruik word terwyl waar die digter (persona practica) as die spreker (persona poetica) geïdentifiseer kan word, die sogenaamde standaardvorm van Afrikaans (en Engels) aangewend word.

    Die Swartbewussynsbeweging, onder leiding van Steve Biko, het Small besonderlik aangetrek vanweë die beklemtoning van eenheid onder onderdrukte groepe en die morele en menslike klank wat Biko daaraan gegee het. Small het dan ook skerp intellektuele bydrae tot daardie gesprek gemaak, weer eens as deel van sy bemoeienis met die begrip van gemeenskap. twyfel-twyfel aan selfs dit waaraan jy die vasste glo. Ek het dit al voorheen vertel: ek het voorgraads by Adam 'n kursus geloop oor die wetenskaplike waarde van twyfel en het die effek daarvan op my eie denkwyse nog nooit oorkom nie. Small self, in sy lewe en sy denke, was 'n uitstaande beoefenaar van daardie wetenskaplike en filosofiese twyfel.

    'n Stylgreep waarvan sy skrywes-en self sy praat-deurspek was, is die parentese. Hakies tussen hakies en aandagstrepe tussenin. Dit was die uitdrukking van 'n oorwoë tentatiwiteit, 'n korrigerende gesprek met homself terwyl hy gesprek voer. Hy was lief vir die ou grappie dat "humans are not animals-let us not be CATegorical or DOGmatic". En hy was self nooit kategories of dogmaties in sy denke of uitsprake nie.

    Die titel van my voordrag is "Language and silence: persoonlike herinneringe aan 'n digter-intellektueel". Dis Adam wat my as student voorgestel het aan George Steiner se "Language and Silence: Essays on Language, Literature and the Inhumane." Die verwording van taal onder 'n totalitêre regime het hom diep getref met verwysing na hoe Afrikaans gaan verword het onder die apartheidregime. En as ek vandag daardie bundel lees, soos ek dikwels doen, is dit die essays oor stilte, silence, wat my tref want ek dink aan Adam en sy stilte.

    Adam het met ons sy liefde vir die vroeë Griekse wysbegeerte gedeel. En hierdie aanhaling uit Steiner se essay, "Language and Silence" laat my weer daaraan dink, en aan hom en sy stilte, en daaroor wonder:

    The poet enters into silence [...] This election of silence by the most articulate [...] The strategic myth of the philosopher who chooses silence because of the ineffable purity of his vision or because of the unreadiness of his audience has antique precedent. It contributes to the motif of Empedocles on Aetna and to the gnomic aloofness of Heraclitus. But the poet's choice of silence, the writer relinquishing his articulate enactment of identity in mid-course is something new [...] as in Rimbaud [...] (66).

    Ons mis Adam se stem in die openbare gesprek die laaste dekade of wat. Maar die stem van 'n digter raak nooit stil nie. Sy woorde bly klink: "soes moet kerse!"

     

    Erkenning

    Hierdie openingstoespraak is op 7 Oktober 2011 gelewer tydens die Adam Small-simposium aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville.

     

    Geraadpleegde bronne

    Small, Adam. Kitaar my kruis. 1963. 2de hersiene uitg. Kaapstad, Pretoria: Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij. 1973.

    -. "Krisis van 'n swart Sestiger." Die Sestigers. Verslag van die simposium oor die Sestigers gehou deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, 12-16 Februarie 1973. Red. James Polley. Kaapstad: Human & Rousseau. 1973. 140-48.

    Steiner, George. Language and Silence. Essays on Language, Literature and the Inhumane. Londen: Faber. 1967.

     

     

    G. J. Gerwel is die sesde rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en die eerste direkteur-generaal van die Staatspresidentskantoor in die na1994-Suid-Afrikaanse regering. Hy is ook skrywer van Literatuur en apartheid (Kampen, 1983).