SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue1Wopko Jensma and his quest for a new (South) African identityNature and (writing) being: Petra Müller's narrative art within the model of literature as cultural ecology author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.49 n.1 Pretoria Jan. 2012

 

'Jy is die vertolker': die lewensloop van Adam Small

 

 

Adam Small met Helize van Vuuren

 

 

"Ek het altyd grootgeword tussen die kulture. Ek het nooit kon verstaan dat mense met mekaar kulturele hang-ups kon hê nie"

- Adam Small

 

Imaginative autobiography in The Orange Earth en my kinderdae

The Orange Earth is baie relevant nou met die Waarheids- en Versoeningskommissie. Ek het my jare gelede voorgeneem dat die stuk in Afrikaans oorgesit moet word. Dit mag net wees dat Daniël Hugo nou aan die ding sal werk, want sy siel is 'n digterlike siel. Ek hoop dit kan gepubliseer word, aangesien dit 'n outobiografiese werk is, oor dinge wat my baie seer gemaak het.

Wat vir my baie belangrik is, is die Kaapse Vlakte-spelers wat ons hier in 1972 begin het. Hul het op hierdie kampus Kanna opgeroep. Ek het dit afgerig met destydse dramastudente, en die groep het toe begin en bestaan nou nog. Van die oorspronklike mense is nog een of twee oor. Peter Braaf-hy het destyds Kanna gespeel. Dis een van die mooi dinge wat ek in daardie moeilike jare reggekry het.

Ek is op Wellington gebore soos Piet Retief en Breyten Breytenbach. Op Goree, net buite Robertson aan die Kaapse kant. Die nedersettinkie, oorspronklik 'n sendingpos genaamd Goree het iets te doen met water. Die Breërivier kom daar deur. My vroegste herinneringe is seker toe ek vyf jaar oud was ... die Orange Earth vertel daarvan. Dit was nie net 'n kwessie van armoede nie, dit was 'n kwessie van kleur. Die titel, The Orange Earth, verwys na die rooibruin kleur van die grond. Tot 'n mate die kleur van die ou vlag: oranje, dan die pragtige blou van daardie lug wat heeltemal anders is as die lug van die Kaap, en die wit strook van die ou vlag-ek speel 'n bietjie met daardie kleure in die stuk.

Goree het my gemaak. Toe ek my sinne kom kry, was my pa die een enkele meester van daardie mense. Van Wellington, waar my ma ook vandaan gekom het-'n Moslemvrou. Vakansies het ek daar in twee huise tuisgekom, die baie formele soort Calvinistiese NG Sendingkerk huis van my pa, en my oupa Adam. Ek was baie klein toe hy dood is. Hy was 'n tuinier, 'n baie indrukwekkende man, en my ouma Nellie. Dié was my geboortehuis, Terracestraat 12 (vandag 23). Die huis het eintlik behoort aan my oom Ernest-sy hele gesin het in die sestigerjare na Kanada geëmigreer. Hulle het die huis daar moes prysgee, het vir 'n ruk lank Kaapse Vlakte toe gekom, en is toe weg Kanada toe. Hulle Afrikaans het behoue gebly-twee of drie keer teruggekom vir vakansie-net buite Toronto gewoon, sneeu. Ek het hulle gaan ontmoet by die Niagaravalle. Hy kon nie oor die grens kom nie, en ek moes oor die grens. Hy was 'n NGdominee, maar hy het net oorsee gegaan, want hy het teen apartheid gepraat. Ek het in daardie jare daaraan gedink om weg te gaan.

Onder Opperman studeer. Hy't maar altyd so 'n bietjie gemompel, maar hy kon lees soos niemand kon lees nie.

Ek het in daardie twee huise dan tuisgekom in die vakansie. My ma se van was Suliman ... My oupa van ma se kant het ek nooit geken nie. Hy was 'n Indiër van Bombaai, eerste generasie hier ... en met 'n wit, half-bruin vrou getroud-klomp Ierse bloed aan daardie kant. Die oupa was 'n denker. Hy't hier 'n besigheid begin, en het op 'n tyd elke kafeetjie en winkeltjie in Wellington besit, maar hy't agteruit geboer. Alles was later onder hulle uit. My ma was die geliefde dogter, want sy het boeke gelees. My suster is so twee jaar jonger as ek.

Op Goree-dis vrek eensame wêreld, ons het nie vervoer gehad nie, die Kaap was destyds ver weg-het my ma vir ons boeke ingekry en vir ons stories gelees. Sy het vir ons gelees Die Arabiese nagte. Dit spook nog altyd by my. In my ma-hulle se huis was daar die reuk van miang, wierook en kerrie ook, die djirrah (die spesery-deel van kerrie, 'n byvoegsel, met 'n baie spesiale soort van geur en smaak). Die huis het altyd daardie geur gedra. Baie spesiaal. Ek het altyd grootgeword tussen die kulture. Ek het nooit kon verstaan dat mense met mekaar kulturele hang-ups kon hê nie.

My pa het sy mense baie lief gehad, so 'n soort onderwyser-dokter wanneer hulle siek was. Vertrooster, raadgewer, en wanneer hulle doodgegaan het-meestal van die tering, omdat hulle baie gedrink het-het hy my saam gevat na die begrafnisse, en hulle teruggesit in die grond waaruit hulle gekom het. Dit was nog voor apartheid amptelik gekom het, maar apartheid was al 'n werklikheid. Miskien was 'n mens nog werklik te jonk, maar ek het altyd die vraag gevra, "Wat beteken die lewe vir mens wat uit daardie grond gekom het, en weer in daardie grond terug gesit word?" Die ou ballades is, soos Lewin Muir sê, beyond opinion-jy vra nie is dit 'n goeie gedig nie. Dit vertel jou van 'n lewe tragically accepted.

My pa was daardie soort mens wat dit tragies aanvaar het, ek is nie die soort mens wat tragies aanvaar nie. My ma het dinge sinies aanvaar. Ons het baie vasgesit, maar ons was baie naby aanmekaar. 'n Paar minute voor sy sterf, het ek oor haar gebuig, en toe het sy drie keer vir my gefluister: "Ek is nog wakker, ek slaap nog nie." Dit het my heeltemal gegooi. Ver oor die sewentig. Na aan tagtig.

Ek het daardie soort half-landelike armoede daar leer ken: die meeste mense was plaasarbeiders en het in die kombuise gewerk. G'n beskerming nie-mense onder God se blou lug. In een klaskamer kon jy van sub A af kry tot by minstens standerd 4 ... het my pa klasgegee. Jare daarna het ek die skooltjie besoek, met 'n ou register in my pa se handskrif-en toe het hulle dit vir my gegee. Baie keer as ouens so kla oor gebrek aan fasiliteite, dink ek daaraan wat gedoen kon word. Daar was tye wat hy onder die ou doringboom moes klasgee. Dis nie die fasiliteite as sodanig wat die verskil maak nie, dis die mense wat die les gee. Dis belangrik vir my werk dat ek die gevoel vir die underdog daar ontwikkel het.

Ek was standerd 2 klaar toe ons daar weg is, nege jaar oud, My ma het nooit formeel gewerk nie, sy het "aan ons gewerk" ... Toe is ons Kaap toe, hier in Retreat het my pa 'n groter skool kom behartig, en ook betrokke geraak by die dinge van die kerk. Huisbesoek was 'n groot ding oor naweke, en ek het die nuwe grond, die nuwe duinegrond leer ken, wat bly skuif en verskuif ... Anders as daai vaste grond. Daar roer iets baie spesiaals in my wanneer ek die duinegrond hier van die Kaapse Vlakte, wat bly verskuif, ervaar.

 

Kaaps en die Kaapse Vlaktsatiries. Die gees van die satiree

Hier het ek Kaaps leer ken. Dis nie "Capey" nie en dis nie Gammattaal nie. Wanneer mense in daai taal gebore word en al die transaksies van hul lewe in daai taal bedryf, kan jy nie meer die ding as 'n grappigheid sien nie. Natuurlik is daar ook grappigheid daarby. Dis een van die variante van Afrikaans-praat: dis so pittig en satiries. Miskien meer as enige ander variante. Die mense van die Kaapse Vlakte is seker die satiriste van die land, dis hoekom die politiek nie hier op gang kan kom nie-"Laat ons hoor!" Dan sê hulle: "Nee ... " Dis in die aard van die mense dat die politiek nie aan die gang kan kom nie, en dis nie net rassisme nie, daar sit seker 'n groot lot rassisme in, maar dis sinies, satiries. Die gees van die satire.

Die storie wat my werklik ry: ek het die wonderlikste waardering gekry vir die manier waarop die mense die taal bedryf. Op Goree het ons in 'n ander Afrikaans gepraat. Kaaps is 'n definitiewe variant van Afrikaans: Just listen to the lilts of the language. Dit is waar die protespoësie beslag gekry het-alreeds by Goree, maar dit het gevorm geraak op die Kaapse Vlakte. Naby die see.

Dis waar my siel beslag gekry het.

 

Die kollektiewe bewussyn: 'ons'

Dat mens jou vereenselwig met die kollektief, die bruin groep-veral wanneer 'n mens politieke stryd voer ... dis maar die ou priester- of-profeetstorie: jy moet vertolk. Jy is die vertolker, jy moet stemgee aan wat jy daar verneem. Tot baie groot mate. Kaaps is met ander woorde [...]; ek het dit as protestaal aangewend. Sterk satire ook. James Sutherland het 'n boek hieroor geskryf. In Suid-Afrika het ons nog nie eers begin om satire te ontdek nie, daar is dikwels selfs geïmpliseer dat satire nie poësie is nie. Dan maar liewers teruggaan op Uys Krige wat sang is, liries. Satire ... net soos die soort drama wat ek skryf. Met die soort mense-wanneer jy rou is.

Ek skryf nou weer poësie, meestal Kaaps. Ook in pragtige beskaafde Afrikaans.

 

Hoërskool, universitêre opvoeding en UWK

Ek het in 'n Gereformeerde huis grootgeword, tussen die kulture-ook in 'n Moslemhuis grootgeword (hulle het nog 'n vorm van Arabies kon hanteer). Toe het my pa my hier na 'n Katolieke skool gestuur. Van standerd 6 af. Eers by die Dominikanernonne, en van daar af standerd 7 by die Immaculata-skool. Toe is ons seuns na die Christian Brothers. My pa was 'n baie liberale soort mens. Ek het vrae gevra: sy motief was, vind maar uit vir jouself, gaan leef saam met die mense. Dit was 'n wonderlike opvoeding saam met die Katolieke. O'Farrell was my prinsipaal, volgende week 85 jaar, een van die grootste onderwysers wat ek ooit gehad het: St. Columba Christian Brothers in Athlone. Kleinerige skooltjie, maar hy was 'n wonderlike mens. Ek was in 1953 in matriek. Totale toegewyde onderwysers was daardie onderwysers. Dit was hulle taak-om as onderwysers op te tree, daardie orde. Die Katolieke Aartsbiskop van Kaapstad, Roberts Henry, was saam met my in matriek. Hy was altyd die ou wat die vensters met 'n stok oopgemaak het: hy maak vandag nog die vensters vir God oop. Daar het ek ook vir S.V. Petersen ontmoet: ek het altyd die grootste waardering vir hom gehad. Ons het later vriende geword (hy was toe 'n skoolhoof daar naby). Hy was baie verbitter. Sidney was 'n groot voorloper en baie onderskat. Ons letterkunde word nog maar altyd uit 'n wit hoek bedryf, veral ook die kritiek. Hy is 'n onderskatte, onderwaardeerde digter. Sy bydrae was eenvoudig enorm. Die impak wat dit behoort te gehad het, het dit nie gehad nie.

By die Universiteit van Kaapstad het ek gedink ek gaan medisyne bestudeer. Dit het baie gou op 'n flop uitgeloop. As ek moes prakties doen, het ek die filosofieë en briewe van Pous Pius die XIIde gelees en my kop daaroor gebreek. Voor ek universiteit toe is, het ek Barkley se Theory of Vision gelees, wat 'n ou onderwyser vir my gegee het. Toe het ek agtergekom dat ons sieninge ook maar twyfelagtig kan wees as ons nie ons oog of oor daarop het nie. Toe is ek filosofie toe: een van die groot onderwysers wat ek gehad het, was S. I. M. du Plessis. Opperman en Boerneef in Afrikaans, Canis Scholtz was ook daar in Afrikaans. Einde van die eerste jaar het ek fisika geslaag-tot vandag toe hou ek daarvan om daardie goed te lees. Toe kom ek by 'n tafel uit, en dis toe die filosofiedosent wat daar sit: toe seg hy vir my: "Small jy's 'n filosoof!"

In die eerste jaar het ek al die boertjies geklop en die klasprys gekry vir Afrikaans. Ou mev. Bax was 'n dosent, toe gebruik ek 'n doodgewone Afrikaanse woord, "tob", wat haar verbaas het. Effens patroniserend. Filosofie en Afrikaans. Ek het die eerste jaar verloor, toe moes ek my filosofie-kursusse so kies, so stapel, dat ek die derdejaar saam met die ander klaarkry. Ek het honneurs en MA gedoen-oor Nietzsche: "Nicolai Hartmann's appreciation for Nietzsche's axiology". Ek het destyds ook Duits gehad. En my tesis in Engels geskryf.

Na my honneurs is ek toe na die Universiteit van Londen (London School of Economics)-onder Karel Popper ... en sy side-kick [Joseph] Agassi. Wetenskapsfilosofie. Sy denke was van die liberaalste wat jy kon kry, maar hy was een van die arrogantste mense wat jy kon kry. Oostenryker. 'n Kort bonkige mannetjie. Ek het baie van hom geleer, maar eers daarna. 1957 tot 1958. Daarna is ek in 1959 vir een jaar na Fort Hare, my eerste universiteitspos. Daar in politieke filosofie klasgegee. Die Oos-Kaapse landskap tussen Alice en Grahamstad is waar my "Swart landskap"-vers in Sê sjibbolet vandaan kom.

Ek het hier by die Universiteit van Wes-Kaapland begin in 1960. Die dag toe hulle hierdie plek oopmaak, toe staan daar 'n klomp bruin politieke mense by die hek met plakkate: "Down with Small Education". Mense wat intellektueel hulle self verhef het bo die massas van die mense, ek weet nie watter soort kommunismes hulle aangehang het nie, maar hulle het nooit by die mense uitgekom nie. Die wit liberales van destyds het hul mantels gedraai na die wind [...] In 1963 word ek toe 'n senior student in Morele Filosofie in Oxford. Richard Hare was in Bailliol College, ek het ook Gilbert Ryle se klasse bygewoon. Hy had 'n besondere sin vir geskiedenis en was 'n baie populêre dosent.

Die grootste gros mense wat akademies kapabel was, was nie finansieel kapabel nie. Daar was nie destyds affirmative action nie. [J. G.] Meiring was hier die rektor. In die middel van sestig was my posisie heeltemal duidelik: ek sou nie vir ewig hier kon aanbly nie. Ek en Jakes Gerwel ... 1973: bedank na politieke blow-up: toe tien jaar weg uit die akademie; 1973: Maskew Miller; 1977-1983: Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk. Ook verder gestudeer deur Unisa in Maatskaplike Werk. 1984: terug na UWK, dié keer as hoof van Maatskaplike Werk.

 

Erkenning

Die artikel is 'n verwerking van 'n onderhoud wat Helize van Vuuren op Vrydag, 17 Mei 1996 met Adam Small in sy kantoor in die Departement Maatskaplike Werk op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville gevoer het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License