SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.49 issue1'Jy is die vertolker': die lewensloop van Adam Small author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.49 no.1 Pretoria  2012

     

    INLEIDING

     

    Hein Willemse en Steward van Wyk

     

     

    Adam Small

     

     

    Adam Small het op 21 Desember 2011 sy vyf-en-sewentigste verjaardag gevier. Ter afwagting van hierdie geleentheid het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in samewerking met Tydskrif vir Letterkunde 'n simposium met die titel "Adam Small: sy lewe en werk" op Vrydag, 7 Oktober 2011 aangebied. In die loop van sy lewe as 'n skrywer en akademikus was Small aan beide die UWK en Tydskrif vir Letterkunde verbonde. Die universiteit is in 1960 te midde van groot politieke omstredenheid opgerig en Small was aanvanklik die enigste swart lektor. In 1973 bedank hy sy pos as senior lektor in Wysbegeerte in simpatie met studente-eise vir 'n aanneemliker onderrigbedeling op die UWK-kampus. In 1984 keer hy terug as professor en hoof van die Departement Maatskaplike Werk. Twaalf jaar later tree hy uit die diens. Sy verbondenheid aan Tydskrif vir Letterkunde in die vroeë 1960s was van korte duur. Saam met 'n aantal jonger Afrikaanse skrywers wat later as die Sestigers bekend sou staan, was hy deel van 'n nuwe redaksie wat 'n vars benadering in die oudste Afrikaanse literêre tydskrif wou blaas. Persoonlikheidsgeskille met die ouer garde van Tydskrif het egter daarvoor gesorg dat die voorgenome samewerking slegs een uitgawe sou duur. Met hierdie historiese verbintenisse is dit gepas dat die Small-simposium op die kampus van die UWK plaasgevind het en dat die voordragte in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer word.

    Ons verneem Small se stem regstreeks in Helize van Vuuren se verwerking van haar onderhoud wat in Mei 1996 op die UWK-kampus opgeneem is. Die onderhoud is een van die laastes voordat hy hom na sy aftrede aan openbare deelname en optrede onttrek het. Hy konsentreer in hierdie onderhoud waarin sy kenmerkende spraakritme deurslaan op sy ongepubliseerde Engelse toneelstuk The Orange Earth, sy grootworddae op Goree, 'n nedersetting aan die "Kaapse kant" van Robertson, sy veelbewoë lewensloop met sy Moslem- en gereformeerde-kultuuragtergronde en sy loopbaan as 'n aspirant mediese dokter, filosoof en maatskaplike werker. Terwyl die Boland hom as sy bakermat bybly, is dit op die Kaapse Vlakte waar sy "siel beslag gekry" het en soos met sy aanvanklike publikasie van Kitaar my kruis,Sê sjibbolet en Kanna hy kô hystoe lewer hy weer in die onderhoud 'n pleidooi vir die aanvaarding van Kaaps as 'n "definitiewe variant van Afrikaans".

    Small het Kaaps ontruk aan die stereotiepe en negatiewe identiteit wat daaraan as taalvariëteit van die Kaapse skiereiland en die onmiddellike omstreke gekleef het. Die meeste sprekers wat aan die simposium deelgeneem het, het in die loop van hul voordragte na die rol van dié taalvorm in sy skryfwerk en die uitkringende uitwerking op die beeldvorming van sy sprekers en waarnemers gelewer. G. J. Gerwel in sy openingstoespraak konstateer dat dit is "te betwyfel of daar 'n egter uitbeelding of voorstelling van die toestande van arm mense op die Kaapse Vlakte bestaan" as dié wat in Small se bundels en dramas voorkom. Kaaps is een van die "treffendste middele" om dié besondere sosiale wêreld te beskryf. Veral Frank Hendricks as taalkundige konsentreer vanuit 'n "gelykevlakbenadering tot taalverskeidenheid" op die vormlike aanbieding daarvan in die Small-oeuvre, terwyl die filosoof Michael Cloete die belang van Kaaps as identiteitskonstruk en Small se aanwending daarvan as draer van volle menslikheid bespreek.

    Vanuit 'n dialektologiese en sosiolinguistiese perspektief stel Hendricks vas hoe Small hierdie grootliks mondelinge variant in sy oeuvre verreken het. Alhoewel verskeie skrywers voorheen elemente van die taalvariant in hul tekste opgeneem het-dikwels ter wille van maklike humor-is sy slotsom dat Kaaps "geskakeerd en empiries-kontroleerbaar" neerslag vind in die skrywer se poësie, verhale en toneelstukke. In sy aanwending en verdediging van Kaaps as 'n taal wat die "volle lot en noodlot van die mense" (in Kitaar my kruis) omvat, het hy bygedra tot die destigmatisering daarvan. Met die herbedingingsprosesse wat rondom Afrikaans onder weg is, is die taalkundige waarde van die Small-oeuvre vir Hendricks dat dit "as voedingsbron vir Standaardafrikaans" benut kan word. Dit reken hy tot "een van die groot historiese bydraes van Adam Small".

    Cloete se invalshoek is filosofies en hy verwys na die westerse invloede in Small se denke met "die bereidwilligheid tot dialoog" as die sentrale moreel-ontologiese hipotese van sy intellektuele werksaamheid. Vanuit hierdie perspektief word Kaaps bespreek wat deur sowel "progressiewe" of "politiek-korrekte" denkers as "rasgebaseerde" navorsers as agterlik, belaglik of as afwykend voorgehou is. Met "linguistiese wending" (linguistic turn) as rigtende teoretiese konsep kom Cloete tot die gevolgtrekking dat die wyse waarop Small Kaaps aanwend en daarvoor agiteer dit 'n volwaardige draer van die menslike rede word. Hiermee word die navolging van "dialoog" en "geregtigheid" moontlik in teenstelling tot standpunte wat die taalvariëteit as afwykend of minder-menslik beskou. Vir Cloete word die moontlikheid vir "ware dialoog" en "menslikheid" bereik wanneer 'n brug geslaan word tussen spraak en die politieke gemeenskap.

    In sy openingstoespraak tot die simposium, "Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel", skryf Gerwel oor Small as denker en digter maar ook as dosent, mentor, gespreksgenoot en vriend. Hy herroep Small se verbondenheid tot Afrikaans en sy deurwroegde ervaring van uitgeslotenheid en vervreemding maar dan ook sy bemoeienis met "ons", die gedagte van "gemeenskap", wat Small ook in sy onderhoud met Van Vuuren aangeroer het. Met sy betrokkenheid by die Swartbewustheidsbeweging van die 1970's voer Gerwel aan dat met die beklemtoning van eenheid onder onderdrukte groepe die begrip gemeenskap uitgebrei word. Vir Gerwel is Small uit aard ongebonde en krities met 'n durende ingesteldheid tot twyfel, "twyfel aan selfs dit waaraan jy die vasste glo".

    In aansluiting by die outobiografiese kwessies wat Small in sy onderhoud met Van Vuuren aanraak en die momente wat Gerwel bespreek, bied Francois Cleophas, 'n susterskind van Small, 'n genealogiese studie aan. Sy eerstepersoonsbydrae berus metodologies op argivale en mondelinge bronne met sy vernaamste informant Small se moeder, Fatimah (Tiema) Small (geb. Suliman). Dié studie strek terug tot die tweede dekade van die negentiende eeu en bied heelwat agtergrondsinligting wat nog nie voorheen in die Afrikaanse letterkunde verreken is nie soos onder meer die naamsverandering van sy voorsate van Dampies na Small, hul voorgeskiedenis as handearbeiders, grondbesitters, onderwysers en leidende kerkmense op Wellington. Die artikel skilder 'n vroeë konteks vir die wording van Adam Small as 'n lid van 'n klein opkomende gekleurde middelklas wat hoofsaaklik uit vakmanne, onderwys-, en klein sakemense bestaan het in die omgewings van die Boland, die Breëriviervallei en die suidelike woonbuurte van Kaapstad. Hierdie oorsig van die skrywer se persoonlike en geskiedkundige agtergrond bied waardevolle materiaal vir 'n vollediger begrip van sy denke en letterkundige oeuvre.

    Small se drie Afrikaanse dramas Kanna hy kô hystoe,Joanie Galant-hulle,Krismis van Map Jacobs en die Engelse toneelstuk The Orange Earth word in drie afsonderlike studies deur Wium van Zyl, J. L. Coetser en Hein Willemse bespreek. Van Zyl bied 'n oorsig van Kanna-studies wat oor die jare tot stand gekom het en lewer self 'n besondere bydrae wanneer hy drie samehangende retoriese vraagstukke in die stuk identifiseer, naamlik: Het Kanna oneties opgetree deur nooit weer huis toe te kom nie?; Het Diekie die doodstraf verdien?; en Wie het skuld daaraan dat Makiet in arm, uitgeslote omstandighede beland het? Sy oorweging van verskillende invalshoeke ten opsigte van hierdie vrae val op en hy gee telkens rekenskap van die moontlike reaksie van gehore op die dramatiese gebeure. Van Zyl bevind dat Small sy gehore konfronteer met universele kwessies waarin die gebrek aan medemenslikheid van die maghebbers en die elite-groepering in 'n gemeenskap ontbloot word.

    In sy studie stel Coetser ondersoek in na die tematiese voorstellings van "passiewe en daadwerklike verset" in Kanna hy kô hystoe, Joanie Galant-hulle en Krismis van Map Jacobs aan die hand van teoretiese vertrekpunte rondom sosiale stemloosheid, rituele ruimtes en die sigbaarheid van verset. Hy bevind dat in elk van die dramas daar sprake van passiewe of daadwerklike verset is wat verband hou met die sosiale en politieke omstandighede waaruit die werke ontspruit het en beskou kan word as "refleksies van werklike gemeenskappe se ervarings van verplasing, plekloosheid en nostalgie". In 'n verdere ontwikkeling van sy argument voer Coetser aan dat verset nie net deur die karakters in die genoemde toneelstukke vergestalt word nie, maar ook teenwoordig is in die vormlikhede wat die dramaturg aanwend onder meer die epiese teatermiddele, satire, Kaaps as taalvorm, die karakters se swye en die karnavaleske lag. In die geheel gesien, kom hy tot die klinkende slotsom dat Small as dramaturg ook as "'n onsigbare versetkarakter" in sy toneelstukke teenwoordig is.

    Hierdie beskouing sluit regstreeks aan by Willemse se bespreking van "outobiografie en herinnering as verset" in Small se ongepubliseerde outobiografiese verhoog- en radiodrama The Orange Earth. Onderliggend aan die stuk as ideespel is die tematiese subteks dat nieteenstaande die verdelende gevolge van apartheid gekleurde en wit Afrikaanssprekendes taal en godsdiens as kultuurwaardes in gemeen het en dat 'n "herverbeelde" Afrikaanse gemeenskap moontlik is ('n algemene gevolgtrekking waartoe ook Michael Cloete in sy genoemde artikel kom). The Orange Earth is Small se mees persoonlike drama waarin herinneringe aan Goree, die uiteenlopende godsdiensherkomste van sy ouers, sy universiteitstudie en sy uitgesproke ervaring van vervreemding jeens Afrikaans resoneer. As outobiografiese geskrif kan The Orange Earth beskou word as die openbare wroeging van 'n opposisionele intellektueel waarin hy alternatiewe moontlikhede tydens 'n geskiedkundige moment aanbied. In dié opsig is Willemse se standpunt dat Small se oeuvre as 'n teennarratief teen apartheid gelees kan word en dat die voorstelling van 'n geweldsdaad in The Orange Earth sy mees desperate "noodroep vir burgerskap" is.

    Steward van Wyk bring die titelgedig "Sê sjibbolet" uit Small se 1963-digbundel in verband met 'n gelyknamige gedig van Paul Celan, 'n voorlesing van Jacques Derrida en 'n installasiekunswerk van Doris Salcedo. Hy wys daarop dat die gedig meer word as bloot 'n herskrywing van 'n stukkie Bybelse geskiedenis. Soos Small se vroeëre werke, by name Verse van die liefde en Die eerste steen? (en sou 'n mens kon byvoeg talle individuele gedigte en veral 'n drama soos The Orange Earth), is die gedig deel van 'n voortgesette gesprek met sy mede-Afrikaanssprekendes, die Afrikanermaghebbers, oor die verreikende negatiewe gevolge van apartheid. Talig verteenwoordig die gedig 'n worsteling met die apartheidstaal terwyl die vormlike aanbod van Kaaps 'n verruiming van Afrikaans as taal verteenwoordig: die taalvorm word "die metafoor van 'n oop en humane tuiste wat in direkte opposisie tot apartheid staan".

    Die erkenning van die waardigheid van alle mense staan in die kern van Nico Koopman se besinning oor die "profetiese" diskoers by Small. As teoloog voer hy aan dat drie vorme van profetiese segging geïdentifiseer kan word, naamlik profetiese visualisering, profetiese kritiek en profetiese menings- en beleidsvorming. Met sy kritiese standpuntinname in sy letterkundige werk en niefiksie reken Koopman dat Small die weg gebaan het vir die opheffing van apartheid en die formulering van beleidsrigtings wat 'n "nuwe" samelewing moontlik sou maak. Sy lees en interpretasie van 'n aantal gedigte toon telkens aan hoe Small te midde van verontmensliking deurlopend die droom van "geregtigheid en vrede" lewend gehou het; hoe sy profetiese segging tot introspeksie moes lei; hoe humor seëvier bo verdrukkende omstandighede en sy aandrang op geregverdigde moraliteit.

    Die bundeling van hierdie navorsingstudies bied 'n aanduiding van die ryk moontlikhede wat die letterkundige oeuvre van Small moontlik maak. As in aanmerking geneem word dat hy die grootste deel van sy letterkundige produksie voor die ouderdom van dertig gelewer het, is dit merkwaardig dat hy steeds met 'n helder stem spreek tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap van die vroeg een-en-twintigste eeu.

    * * *

    Die organiseerders bedank graag die volgende instansies en individue:

    • die owerhede van die Universiteit van Wes-Kaapland wat op uiteenlopende wyse die Adam Small-simposium ruimskoots ondersteun het;

    • die Boekontwikkelingsfonds wie se geldelike skenking, op aanbeveling van dr. Elinor Sisulu, mnr. Ton Vosloo en me. Amanda Botha, die logistieke reëlings rondom verblyf, verversings en vervoer grootliks vergemaklik het;

    • die dr. Marie Luttig Trust wat die publikasie van hierdie uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde moontlik gemaak het;

    • Janine Pekeur wat alle reëlings rondom die geleentheid hanteer het;

    • Marni Bonthuys, Owen Mentoor, Natasha Rossouw en Annemarie Swartz vir hul afsonderlike bydraes;

    • die anonieme keurders vir hul indringende keuring, die medewerkers, redaksielede en die produksiespan van Tydskrif vir Letterkunde.