SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.48 no.2 Pretoria  2011

 

75 jaar van Tydskrif vir Letterkunde - 'n voorlopige verkenning

 

75 years of Tydskrif vir Letterkunde - a provisional exploration

 

 

Jan Stander

Nagraadse student in die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: stander@worldonline.co.za

 

 


ABSTRACT

Tydskrif vir Letterkunde was founded in 1936 as the Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring (Yearbook of the Afrikaans Writers' Circle). This article explores the history of the Skrywerskring and its journal, particularly its establishment and early history, as well as its surrounding political and literary environment. Primary research for this study was undertaken in the archives of the National Afrikaans Literary Museum and Research Centre in Bloemfontein and the documentary holdings on the Afrikaanse Skrywerskring at the Universities of Stellenbosch and South Africa. In this study, particular attention is paid to the so-called North-South divide in Afrikaans literature, the political milieu, the writers' organisation's attitude to censorship, its withdrawal from PEN International and lastly, a brief overview of the role of its six editors since 1936. In its initial years the Skrywerskring demonstrated a proximity to the political powers of the day, suggesting a lack of critical distance. With the demise of the Skrywerskring during the last decade of the 20th century the journal almost floundered. Since 2003 the journal was fundamentally repositioned to reflect not only Afrikaans Literature but also literatures from the rest of the African continent and African diaspora.

Key words: Afrikaans Literature, Afrikaans Skrywerskring (Afrikaans Writers' Circle), history of a literary journal, literary history, literary society.


 

 

Inleiding

75 jaar gelede, in 1936, is Die Afrikaanse Boek, die lyfblad van die Afrikaanse Skrywersvereniging wat in Johannesburg ontstaan het, opgerig. Later bestaan die publikasie bekend as Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring en is dit tot 1950 uitgegee. In die daaropvolgende jaar is die jaarblad getransformeer tot 'n kwartaalblad met die nuwe titel Tydskrif vir Letterkunde (hierna Tydskrif). Die verhaal van Tydskrif is ten nouste verbonde aan die verhaal van die Afrikaanse Skrywerskring, en soos die stigtersredakteur, C. M. van den Heever, volgens F. C. Fensham (1984: 1) opgemerk het, het "die Skrywerskring eintlik net reg op voortbestaan [...] omdat hy die Jaarboek uitgee". In hierdie artikel word 'n oorsig gegee van die geskiedenis van die Afrikaanse Skrywerskring en die ontstaan van die jaarblad en Tydskrif. In besonder, sal daar besin word oor die verhouding tussen die Skrywerskring en hul tydskrif, die sosiale en politieke milieu waarbinne hul bestaan het en hul houding ten opsigte van die sensuurbedeling. Die artikel word afgesluit met 'n kort oorsig van die redakteurs onder wie se leiding die Jaarboek en Tydskrif uitgegee is.

 

Die ontstaan en aktiwiteite van die Skrywerskring

Alhoewel die Afrikaanse Skrywerskring formeel op 10 September 1934 die lig aanskou het, was daar drie weke vroeër 'n voorlopige vergadering op Maandagaand, 20 Augustus 1934, gehou by die "Randse Universiteit", die Universiteit van die Witwatersrand, waar proff. T. E. Haarhoff en C. M. van den Heever, dr. P. de V. Pienaar en mnre. W. J. Erlank, Abel J. Coetzee, I. Mocke en W. H. Wilcocks teenwoordig was. Op hierdie byeenkoms is besluit om 'n organisasie te stig "om rigting te gee in die Afr. Letterkunde en positiewe kuns te bevorder" (Afrikaanse Skrywerskring 1934a). Die vergadering besluit ook dat die voorgenome organisasie geskoei moet word op die aard van die internasionale skrywersgroep, die PEN-klub (die afkorting vir "Poets", "Essayists" en "Novelists"), wat in 1921 in Londen opgerig is. Woord word dan ook by die daad gevoeg en op Maandagaand, 10 September 1934, vind die stigtingsvergadering van die Afrikaanse Skrywerskring plaas, weer eens by die "Randse Universiteit", waar Van den Heever, die professor in Afrikaanse Letterkunde was. 'n Konstitusie word goedgekeur en die eerste vaste bestuur van die Skrywerskring word verkies: Van den Heever, Haarhoff, Wilcocks (sekretaris), Mocke (penningmeester en hulpsekretaris) en Erlank (addisionele lid) (Afrikaanse Skrywerskring 1934b).

• Die ambisieuse doelstellings van die organisasie word soos volg in die notule van die stigtingsvergadering vervat:

• Die bevordering van vriendskaplike omgang tussen skrywers;

• Die bespreking van Letterkundige vraagstukke;

• Vertaling van Afr. Letterkundige werke in ander tale;

• Driemaandelikse oorsig van die Afr. letterkundige produksie en aankondiging van die boek wat die Kring as die beste bydrae tot ons letterkunde beskou;

• Aanmoediging van en hulpverlening aan jong belowende talente;

• Bestudering van buitelandse strominge in die letterkunde;

• Die aanbeveling van voorgeskrewe boeke om voorgeskryf te word vir openbare eksamens;

• Deur kritiek en andersins op te tree as middelaars tussen kunstenaars en publiek en om goeie kunstenaars te beskerm teen ondeurdagte kritiek;

• Verspreiding van goeie en goedkoop Afrikaanse lektuur;

• Die voorlees van eie werk en vriendskaplike onderlinge kritiek;

• Huldiging van gestorwe Afr. Kunstenaars;

• Reëling van boekweke en die oprigting van leeskringe (Afrikaanse Skrywerskring 1934a).

Dit is ironies dat die stigtingsvergadering van hierdie Afrikaanse organisasie in Johannesburg gehou is, die stad wat Hermann Giliomee (2003: 400) beskryf het as die plek waar Afrikaners mees gemarginaliseerd gevoel het. In 1936, toe die toekomstige Afrikaanse nyweraar, Albert Wessels, in die stad aangekom het, was daar slegs drie Afrikaanse besighede van enige betekenis, naamlik 'n uitgewersmaatskappy, die Afrikaanse Pers, met sy sukkelende pro-SAP (Verenigde Party) dagblad, Die Vaderland; die bank Volkskas wat op die tweede verdieping van 'n ou gebou gehuisves was en 'n mansklerewinkel wat spoedig bankrot gespeel het, aldus Giliomee (2003: 405). Terloops, Wessels is later getroud met die Afrikaanse digter, Elisabeth Eybers, wat nie by die Skrywerskring kon aansluit nie, omdat die organisasie nie vrouelede toegelaat het nie. Sy het by geleentheid na hulle verwys as "Die Johannesburgse Vereniging vir Manlike Belangstellendes in die Letterkunde" (Kannemeyer 1990: 169).

Vanuit die staanspoor het die Skrywerskring hom beywer vir die propagering van die Afrikaanse boek. So is daar sedert 1935 relatief gereeld 'n boekefees gehou in die Johannesburgse Munisipale biblioteek waar Afrikaanse boeke uitgestal en bevorder is. Die organisasie het hom ook beywer vir die regte van Afrikaanse (en ander) skrywers, onder andere die moontlikheid om aan skrywers tantième te betaal elke keer wanneer een van hul boeke by 'n openbare biblioteek uitgeneem word. Heelwaarskynlik, as gevolg van die onuitvoerbaarheid hiervan, het daar nie veel van gekom nie. Die organisasie het ook aktief betrokke geraak by die voorskryf van Afrikaanse boeke vir skole. In 'n ongedateerde en ongetekende memorandum word onder andere die voorskryf van meer moderne romans bepleit en versoek dat leerlinge toegelaat moet word om 'n boek aan die einde van hul skoolloopbaan te hou, om sodoende die opbou van persoonlike boekerye aan te moedig. Hulle lewer ook 'n pleidooi om die praktyk te ontmoedig waar van kandidate verwag word om "uit hulle geheues te skryf oor vier voorgeskrewe boeke in Standerd 10", wat volgens die memorandumskrywer(s) die doelstellings van letterkunde-onderrig verydel. 'n Pleidooi word ook gelewer dat kandidate toegang behoort te hê tot hul voorgeskrewe boek terwyl hulle eksamen skryf. Die onderliggende onderrigbenadering wat hier gepropageer word, was inderdaad sy tyd vooruit in 'n periode toe papagaaileer op skool dikwels die praktyk was.

 

Die oprigting van Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring

Daar kon geen verwysing in notules of korrespondensie in enige van die argiewe (NALN in Bloemfontein en die Universiteite van Stellenbosch en Suid-Afrika) wat geraadpleeg is, gevind word in verband met die stigting van Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring nie. Nietemin, verskyn die eerste uitgawe van die Jaarboek in 1936 onder die titel Die Afrikaanse Boek met daaronder 'n kennisgewing dat die publikasie uitgegee word deur die Afrikaanse Skrywerskring. Die eerste Jaarboek word vergesel van 'n boodskap van goeie wense van die Vlaamse Vereniging van Letterkundiges en die Vlaamse PEN-klub. In 'n redelik niksseggende voorwoord skryf die voorsitter van die Skrywerskring, Van den Heever (1936), oor die "hartlike samewerking tussen letterkundiges van Vlaandere en ons eie land" en spreek hy die wens uit dat die Jaarboek sal dien om te wys "hoe verskillend die werkplan en uitdrukkingswyse van ons skrywers is, oor watter wye vlak van motiewe hulle beweeg, maar ook hoe eensgesind hulle is in die verdiepte besef dat hulle al hul geestelike vermoëns moet inspan om die Afrikaanse letterkunde in suiwerheid en in skoonheid te laat toeneem".

Die eerste uitgawe is ambisieus en bestaan uit 201 bladsye waarvan 188 redaksionele inhoud bevat, hoofsaaklik artikels gewy aan gesprekke, persoonlike herinneringe aan Afrikaanse skrywers soos Eugéne N. Marais, Gustav Preller, Jan F. E. Cilliers, C. Louis Leipoldt, en poësiebydraes van D. F. Malherbe, N. P. van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. Die oorblywende bladsye word beset deur advertensies wat op sigself interessant is en heelwaarskynlik die onderwerp kan wees van 'n aparte studie insoverre dit 'n panorama vorm van die sosio-ekonomiese lewe in die Unie van Suid-Afrika omstreeks die middel-1930's. Bloot by wyse van interessantheid, is daar bekendes soos die Potchefstroomse Universiteitskollege (Universiteit van Suid-Afrika), Hoër-Jongenskool, Stellenbosch (vandag Paul Roos Gimnasium), Woolworths en Sentrale Hoërskool in Bloemfontein, benewens die Hanekoms en André Huguenét se toneelgeselskappe en Poehlsen se Koffiekamer waar "die vooraanstaande Afrikaners van Johannesburg elke middag die lekkerste koppie koffie in die stad (drink)". In sy latere literatuurgeskiedenis oordeel G. Dekker (1980: 185) dat die kaliber van die bydraes tot die Jaarboek "sonder die dieper samehang of aktualiteitsverband (is) wat voorgegee word". Dit ten spyte daarvan dat 'n verskeidenheid prominente skrywers bygedra het, onder andere Van Wyk Louw, Uys Krige, D. J. Opperman en S. J. Pretorius. Die teenwoordigheid van Louw as 'n medewerker is interessant, gesien die antagonisme wat hy en sy broer, W. E. G. Louw, later jeens die Skrywerskring en die Jaarboek en Tydskrif getoon het. Die Jaarboek het tot 1950 in dié formaat voortbestaan waarna dit 'n metamorfose ondergaan het en omvorm is tot Tydskrif vir Letterkunde.

 

Tydskrif vir Letterkunde en die Noord-Suid-stryd

Geen notules kon in die genoemde argiewe gevind word in verband met die omvorming van die Jaarboek na Tydskrif vir Letterkunde nie. Volgens Fensham (1984: 4) is die besluit om Tydskrif uit te gee in 1949 geneem. Die eerste uitgawe van Tydskrif het in 1951 verskyn en anders as die Jaarboek sou dit kwartaalliks uitgegee word. In sy redaksionele kommentaar in hierdie eerste uitgawe van Tydskrif skryf Van den Heever, wat ook as die eerste redakteur van die kwartaalblad dien, onder andere as volg: "Ons het alreeds soveel water in ons wyn gedoen dat die egte kunsverhaal sterk op die agtergrond geraak het. Die eenvoudige, realistiese uitbeelding van die lewe kom daarom vir baie as oninteressant voor. Die sensasie, die sterk kruie het die smaak aangestem op wat oordrewe, romanties en in krasse skoktonele voorgestel word." 'n Enigsins interessante maar terselfdertyd enigmatiese kommentaar op die Afrikaanse prosa van die tyd.

Finansies was 'n voortdurende bekommernis. Rob Antonissen (1954) skryf byvoorbeeld 'n brief aan D. J. Opperman waarin hy die kwessie soos volg aanroer: "Ek het gehoor dat die Tydskrif vir Letterkunde op die punt staan om te verdwyn weens finansiële moelikhede." Die Skrywerskring kon finansiering bekom van die sentrale regering, asook van die Afrikaanse Persfonds, 'n trust wat deur die voormalige Uniale Eerste Minister, generaal J. B. M. Hertzog, uit persoonlike fondse opgerig is (Botha 1998: 8). Hierdie geldelike bydrae het vir etlike jare voortgeduur en is in 1976 beëindig nadat die Persfondstrustees Elize Botha (1998: 8-9), wat toe die redakteur was, meegedeel het dat daar 'n "klemverskuiwing" in hul ondersteuningstrategieë plaasgevind het. Uiteraard was dit 'n gevoelige slag maar kon die redaksie met die hulp van Marcel Janssens, 'n Belg, oorbruggingsfinansiering reël uit 'n fonds ter bevordering van Neerlandistiek in Suid-Afrika aan die Katolieke Universiteit van Leuven in België (Botha 1998: 9). Dit was 'n interessante reddingsboei, veral gesien die antagonisme wat toendertyd in Europa geheers het jeens die Suid-Afrikaanse regering en sy rassebeleid. Mettertyd het Botha 'n nuwe borg, by name, Nasionale Pers Bpk, bekom wat Tydskrif tot 2001 geborg het. Sedertdien word die tydskrif deur advertensies, maar in hoofsaak deur outeursbladgelde befonds.

Veel gewag is in literatuurgeskiedenisse gemaak van die sogenaamde verdeling tussen die Noorde, die voormalige Transvaal, en die Suide, die huidige Wes-Kaap, met betrekking tot letterkundige beskouings (Dekker 1980: 186; Kannemeyer 2005: 122). In die verband sou die noordelike groep hoofsaaklik deur Van den Heever en sy medewerker, Abel Coetzee, die Skrywerskring-leiersfigure aan die een kant en die Louw-broers, Van Wyk en Gladstone, twee van die leiersfigure van die latere Standpunte aan die ander kant, verteenwoordig word. Dat so 'n verskil gebaseer op geografiese lokaliteite in een land, en tussen mense wat dieselfde taal besig en dieselfde kultuur handhaaf het, is onverstaanbaar, maar nietemin daar was 'n persepsie dat so 'n verdeling bestaan het. In hierdie opsig kan verwys word na 'n insiggewende bespreking deur Elize Botha:

Vir baie jare het die persepsie bestaan dat Standpunte 'n "suidelike" literêre beskouing onderhou, en die Tydskrif 'n "noordelike" - wat dit presies beteken het, wil ek hier nie probeer uitlê nie; daar was in elk geval in die vroeë dekades van die tydskrifte se geskiedenis aanvoelbare spanning tussen die groepering rondom die Louws, en dié rondom C. M. van den Heever en sy vriend en kollega Abel Coetzee. Later het die spanning Noord-Suid een van die gemeenplase in literêre gesprekke geword. (Botha en Roodt 2006: 60).

Die bestaan van die tweespalt is des te meer vreemd, gesien die feit dat Van Wyk Louw gepubliseer het in vroeër uitgawes van die Jaarboek. In die Universiteit van Stellenbosch-argief is daar 'n drietal briewe van Uys Krige aan Louw wat spreek van alles behalwe 'n Noord-Suidverdeling. Inteendeel die briewe spreek van 'n gemoedelike, inderdaad vriendskaplike verhouding tussen die twee digters, soos blyk onder andere uit die volgende brief, gedateer September 1936, in verband met 'n nuwe digbundel (ongeïdentifiseerd, maar waarskynlik Rooidag) van Krige: "Ek het geen twyfel omtrent die finansiële sukses daarvan nie. Binne 11 maande het van Schaik byna 300 eksemplare van my eerste bundeltjie "Kentering" verkoop - en my naam het (die here weet waarom, miskien om daardie heeltemal valse romantieke rookskerm wat ek om my het en wat ek van harte laak) werklike verkoop-krag." Die briewe is al drie geskryf terwyl Krige as joernalis by Die Vaderland in Johannesburg gewerk het. Hy was op daardie stadium pas aangestel op die redaksie van die Jaarboek en die doel van die skrywes was om te vra dat Van Wyk Louw en sy broer Gladstone, bydraes lewer vir die nuwe publikasie. (Krige se handskrif is alles behalwe duidelik, en die aanhalings uit sy briewe is onderhewig aan hierdie caveat). In sy brief, gedateer September 1936, skryf Krige onder andere as volg:

Ek reken op jou en Gladstone se steun. Stuur my tog asb. so gou as moontlik 'n gedig - een van jou allerbestes - asook een van Gladstone. Skrywe hom desnoods per lugpos. Daar is haas by die saak. Ons moet November maand na die pers.
Dan, wat omtrent 'n strydbare (sic) baie indringende opstel omtrent enige onderwerp wat jy goed dink? So bv. daardie tema in verband met wat die jong afr. digter sy voorgangers verskuldig is - waaroor ons onlangs gepraat het en wat van 'n heeltemal nuwe en oorspronklike gesigspunt behandel kan word.

Krige sluit hierdie brief af met die versoek: "Hoe lyk dit, van Wyk, jy gaan help nè? en laat ons hierdie provinsialisme hier geen vatplek gee nie." Daar word op hierdie trant voortgegaan en op 22 Oktober 1936 skryf Krige onder andere as volg aan Louw: "Ek het by die Skrywerskring aangesluit met die één doel om die gees van provinsialisme te beveg. Ek glo natuurlik nie vir een oomblik in so 'n kring nie." In 'n verdere poging om Louw te oorreed, skryf Krige as volg: "As julle nou net almal skrywe [onleesbaar - JS] sal hierdie Jaarboek die laaste ou oorblyfseltjie van die sg. provinsialisme vir goed tot niet maak." Daar is geen antwoord van Louw op rekord in die Universiteit van Stellenbosch se argief of enige van die ander twee versamelings nie, en ons weet dus nie wat sy mening was van Krige se versoeke en opinies oor die sogenaamde provinsialisme nie.

Dit kom eerder voor asof die verskille tussen die lede van die Skrywerskring aan die een kant, en die Louws en hulle vriende aan die ander kant, te wyte was aan persoonlike antagonisme, veral ten opsigte van Van den Heever en Coetzee. Daar is in die dokumentasieversameling van die Universiteit van Stellenbosch 'n brief van Gladstone, gedateer 23 November 1941, aan sy broer waarin die volgende rapport oor 'n dinee voorkom:

Veertien dae gelede - of dit is glo al drie weke - het ek een Saterdag-aand 'n dinee van die Skrywerskring bygewoon, ter geleentheid van die "feestelike inhuldiging van die Jaarboek." Dit was - wat my betref - 'n tragiese mislukking gewees. Al die kultuur-ollannas was daar: C. M., Abel Coetzee, Haarhoff ens. Ook die uitgevrete speenvark P. J. Nienaber, wat deur blote literêre diarree vir hom ingewerk het in die skrywersgeledere. Hy is werklik vir my 'n onuitstaanbare arme van gees, daarby dom en half ongemanierd in sy omgang. Sonder enige snobisme gesê: 'n armblanke wat ontuis is onder beskaafde mense. Daar is dié aand baie geëet en baie gedrink, soveel dat C. M. in 'n toestand van rustige beskonkenheid sy toespraak na ete afgelees het en 'n paar keer vreemd gestruikel het met sy eie teks. Éénkeer, dit was iets oor invloed, was hy nie seker of dit "van binne" of "van buite" was nie, en het albei woorde 'n paar keer herhaal. Haarhoff was so salwend en sagsinnig soos ek gehoor het dat hy was, en het reeds voor die ete oor 'n glasie sjerrie vir my begin vertel van 'n nuwe klassieke drama wat hy besig is om in Afrikaans "te vertolk". En tog is ek bly dat ek die here eenmaal gesien het. Ek sal seker nie gou weer na so 'n geleentheid gaan nie, veral nie na 'n dinee nie.

In dieselfde trant is daar in die Stellenbosch-versameling 'n brief aan"Dirk" (vermoedelik D. J. Opperman) van "Alewyn en Hettie" (A. P. en Henriette Grové) van die Universiteit van Natal, gedateer 22 Junie 1953, waarin onder andere die volgende voorkom: "Van die tydskrif gepraat. Dit wil my voorkom of dit nou lesers uit die 'agterbuurt' wil trek en min of meer dieselfde pad as Helikon wil opgaan. Die onwil, die onkunde! Niks konstruktiefs word gelewer nie. Mens kry die indruk van 'n klomp struikrowers, sluipskutters wat op die loer lê." Die skrywer gaan dan voort om te kla dat in die mees onlangse uitgawe van Tydskrif "daar uit die ongeveer 100 bladsye, ongeveer 45 bladsye "daaraan bestee word om werk van Standpunte se redakteure en medewerkers of "simpatiseerders" af te kraak. "Watter beter bewys as dit wil mens hê om aan te toon dat die Tydskrif inderdaad in Standpunte se nawaters ploeter?"

Hierdie antagonisme jeens Tydskrif blyk ook uit 'n brief van Van Wyk Louw aan Opperman, gedateer 29 April 1954: "Die nuwe Tydskrif vir Lett. het toe hier aangekom! en kort tevore 'n brief van C. M. om 'n bydrae te vra. Ek het hoflik geantwoord maar wragtig, as so 'n blad steun van die staat kry, en STPE nié, dan moet ons 'n nuwe soort opposisie gaan vorm. Waarom sou die Huisgenoot dan nie ook steun vra nie?" Dit is ironies dat Standpunte kort hierna, op 25 September 1954, 'n brief ontvang het van die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap waarin die redaksie meegedeel word dat daar 'n jaarlikse toelaag van £360.00 aan die suidelike tydskrif toegeken is (Viviers 1954).

Wat Standpunte betref, het die eerste uitgawe in Desember 1945 verskyn onder redaksie van die Louws en H. A. Mulder. In hul eerste uitgawe skryf die redaksie:

Dit is die eerste keer dat die sogenaamde "jongere literatuur" in Suid-Afrika 'n eie orgaan het waarin hy hom volkome vry kan uitspreek, waarin hy deur geen druk wat op redakteurs en persdireksies uitgeoefen word, gemuilband kan word nie.
Om dit te verseker, word die reeks op eie onkoste en volkome onafhanklik uitgegee - onafhanklik sowel van die politieke partye as van die groot uitgewers firmas.

Daarbenewens spreek die redaksie ook die voorneme uit om verset teen elke vernuwing van die geestelike lewe in Suid-Afrika te oorkom. Literatore soos Dekker (1980: 183) beskou Standpunte as die eerste tydskrif op "Europese peil" en wys daarop dat dit ook bydraes in Nederlands en Engels sou plaas. 41 jaar later, in 1986, beleef Standpunte sy laaste uitgawe.

 

Die Skrywerskring en die politieke milieu

Die Skrywerskring, sedert 1934, het tot stand gekom tydens 'n kritieke tydvak van groot sosiale, tegniese maar ook politieke en dikwels gewelddadige omwentelinge, in die Suid-Afrikaanse en inderdaad ook die wêreldgeskiedenis. In die Unie van Suid-Afrika het daar pas tevore, in 1933, 'n koalisieregering aan bewind gekom bestaande uit die Suid-Afrikaanse Party onder leiding van generaal Jan Smuts en die Nasionale Party, gelei deur generaal J. B. M. Hertzog. Adolf Hitler het in dieselfde jaar, 1933, in Duitsland aan bewind gekom en daarmee 'n reeks gebeure aan die gang gesit wat onafwendbaar op die Tweede Wêreldoorlog afgestuur het. In die toekoms lê die sluipmoord op Mohandas Gandhi; die atoombomme op Hiroshima en Nagasaki; die eerste bestyging van Berg Everest; die eerste ruimteomwenteling van 'n lewende wese, Laika, die Russiese hond; die bou van die Berlynse muur, die sluipmoorde op John F. Kennedy, Martin Luther King jr. en John Lennon; die maanlanding; die val van die Berlynse muur en die koms van die internet. In Suid-Afrika lê die Nasionale Party se oorwinning met die verkiesing van 1948 voor net soos die implementering en streng toepassing van apartheidswetgewing, republiekwording, die gevangesetting van Nelson Mandela, die sluipmoord op Hendrik Verwoerd, die Sharpeville- en Soweto-opstande, die eerste hartoorplanting, die moord op Steve Biko, die grensoorlog en min of meer volgehoue weerstandsaksies in die townships, die vrystelling van Mandela, die oorgang na volle demokrasie en daarna die vorming van die "nuwe" Suid-Afrika. Inderdaad 'n lang en veelbesproke pad wat oorleef is deur Tydskrif, alhoewel nie deur die Skrywerskring nie. Hoe het die Skrywerskring en Tydskrif gereageer op al hierdie verwikkelinge? Die antwoord, in 'n neutedop is, omtrent glad nie, of ten beste, neutraal.

Dit is duidelik dat die Skrywerskring hom na 1948 na aan die regerende establishment geskaar het. Daar kom in hulle notules, en inderdaad in Tydskrif van daardie tydvak, geen kritiese opmerkings of kommentaar voor wat die beleid van die destydse regering betref nie. Daar is wel tekens van ietwat meer weerstand teen die Nasionale Party-regering se verskerpte sensuurbeleid in die laat-1970's (meer hieroor later).

Die Skrywerskring was geaffilieer aan die Internasionale PEN-klub, A World Association of Writers, waarvan daar ook 'n Engelse tak in Suid-Afrika bestaan het. In die lig van latere gebeure is dit is ter sake om hier te noem dat PEN sedert sy oprigting die reg tot vryheid van spraak, denke en uitdrukking voorgestaan het, terwyl hulle die inperking van 'n vrye pers of sensuur teengestaan het. In hul handves bevestig hulle onder meer dat letterkunde geen grense ken nie; en dat lede die ideaal van die gemeenskaplikheid van mense wat in vrede saamleef, sal koester en onderneem om haatdraendheid gebaseer op grond van ras, klas of nasionale afkoms te bestry (PEN International). In ooreenkoms met 'n toenemende gevoeligheid oor diskriminasie het internasionale afgevaardigdes tydens PEN se 20ste jaarkongres in 1948 in Kopenhagen, Denemarke, kritiek teen die beleid van die Suid-Afrikaanse regering uitgespreek. In die Jaarboek van 1948 kla Skrywerskringlede (Sowden 1948: 21) oor wat klaarblyklik as ongeregverdigde kritiek beskou is:

Die politieke kleur was orals in verband met die beraadslaagings merkbaar, maar dit het openlik aan die lig gekom met die bespreking van die beskrywingspunt van die Afrikaanse Skrywerskring [, naamlik dat:] "PEN moet alles in sy vermoë doen om besprekings van politieke aard te vermy [...] die kongres moet hom toespits op letterkundige besprekings [...] en dit moet sy bes doen om aandag te wy aan die letterkunde van alle lande, maar veral aan die letterkunde van klein lande."

Op die uitvoerende komiteevergadering van PEN International gehou in Boedapest op 15 Oktober 1964 word 'n beskrywingspunt aanvaar waarin die kwessie van vryheid van spraak weer geopper word ten opsigte van "a constant fight for freedom of expression in the face of certain repressive legislation" in Suid-Afrika (aangehaal in Brits 1967). Die spanning met PEN International en die kritiek aldaar, het tot so 'n mate toegeneem dat die voorsitter van die Skrywerskring, J. J. Brits, op 20 April 1967 in 'n brief aan PEN International geskryf het, waarin hy die Afrikaanse Skrywerskring se lidmaatskap onttrek. In sy bedankingsbrief herhaal hy die klagte oor politieke inmenging op letterkundige gebied: "Furthermore, it has later appeared to us that what is happening in South Africa in the political field has been drawn into the platform where language, literature and common cause should be the only valid topics of discussion and comment." Bogemelde is uiteraard 'n onrealistiese siening, omdat letterkunde nie in 'n politieke vakuum bestaan nie. Dit is klaarblyklik ook soos PEN International dit gesien het, as hulle in hul antwoord van 1 Mei 1967 verwys na die verbanning van Mary Benson asook die terugtrekking van die paspoort van die skrywer Alan Paton (Carver 1967). Hierdie versigtige benadering van die Skrywerskring, in terme waarvan alles moontlik gedoen word om niemand in regerings- of ander gesagskringe te antagoniseer nie, word bevestig in die Dagbestuursvergadering van die Skrywerskring op 14 Oktober 1966 met verwysing na die Tydskrif vir Letterkunde dat geen "polemiese skrywery" geplaas en geen groepsbelange in die tydskrif bevorder moet word nie en dat "die hoofklem ten alle tye (moet) val op Letterkunde" (Afrikaanse Skrywerskring 1966). Dit was dalk 'n verwysing na 'n groep skrywers - waaronder 'n aantal Afrikaanse skrywers - wat openlik en in geen onduidelike terme nie teen die 1963-sensuurwetgewing geprotesteer het? (Kyk McDonald [A] vir die lys van skrywers).

Die Skrywerskring se kritieklose aanvaarding van die status quo blyk onder andere uit die feit dat hulle in 1965 die Staatspresident uitgenooi het om beskermheer van die Afrikaanse Skrywerskring te word (Afrikaanse Skrywerskring 1965) en die vorige jaar afgevaardigdes na die Nasionale Volkskongres oor Kommunisme gestuur het. Hierdie geleentheid, om dit bondig uit te druk, was georganiseer deur 'n groep regsgesindes wat die Kongres gebruik het om aanvalle te loods op wat hulle as liberale elemente beskou het. Die dagbestuur van die Nasionale Volkskongres het bestaan uit onder andere bekende regsgesindes soos Ivor Benson, S. E. D. Brown, J. A. Marais LV, A. D. Pont en G. H. Beetge. Opsommenderwyse dus was die Skrywerskring 'n "behoudende" groep en hierdie benadering het ook neerslag gevind in Tydskrif.

Ter verdediging van Tydskrif moet egter gewys word op die Skrywerskring se besluit om hul lyfblad beskikbaar te stel as 'n forum vir jong Afrikaanse skrywers. In 'n poging om aansluiting te vind by die avant garde skrywers, is in 1963 besluit dat Tydskrif vir Letterkunde voortaan onder 'n nuwe naam sou bestaan, naamlik 60 met Tydskrif vir Letterkunde as subtitel (Dekker 1980: 239). Abel J. Coetzee sou aanbly as hoofredakteur met Bartho Smit as hulpredakteur en Abraham de Vries, Adam Small, André P. Brink, Etienne Leroux, Hennie Aucamp, Jan Rabie, Koos Meij en Pieter Venter op die redaksie. Dit was op die oog af 'n ongemaklike verbintenis omdat die twee groeperings uiteenlopende ouderdoms-, sosiale en politieke sfere verteenwoordig het (kyk ook Afrikaanse Skrywerskring 1963b).

Dit is nie verbasend dat hierdie reëling slegs vir een uitgawe gegeld het nie, hoofsaaklik as gevolg van die heftige reaksie uit sommige kringe teen die opname van die jongere skrywers asook die vrees dat staatsteun vir Tydskrif gestaak kon word (Dekker 1980: 239). Hierdie poging tot toenadering het misluk, omdat volgens Coetzee die groep jongeres "nie in goedertrou gekom (het) nie [en] [h]ulle die Voorsitter en Mej. Victor (wou) uitwerk" (Afrikaanse Skrywerskring 1963a). Bartho Smit is gevolglik gevra om as hulpredakteur uit te tree. Die res van die jonger skrywers het hulle ook onttrek en hul eie publikasie, Sestiger onder die redakteurskap van Brink, gestig (Dekker 1980: 239).

 

Die Skrywerskring en sensuur

Dit is met hul benadering tot sensuur dat die Skrywerskring en bygevolg ook Tydskrif terselfdertyd 'n laagtepunt, en daarna, min of meer 'n hoogtepunt bereik het insoverre hul verhoudings met die owerhede en die beskerming van die regte van skrywers betref.

Toe die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het hul beleid onder andere die beheer oor publikasies (uitgesluit nuusblaaie) ingesluit om sogenaamde onwenslike en obsene materiaal te verbied. 'n Kommissie van Ondersoek is aangestel onder voorsitterskap van Geoff Cronje, 'n professor in Sosiologie aan die Universiteit van Pretoria. Die aanbevelings van hierdie kommissie, gepubliseer in 1957, was so drakonies van aard dat die regering dit nie aanvaar het nie. Daar is wel voortgegaan met die formulering van konsepwetgewing wat uiteindelik gematerialiseer het in die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede, Wet 26 van 1963. Die regering het konsekwent geweier om te verwys na "sensuur" en het altyd die term "publikasiebeheer" in hul amptelike stukke gebruik. Die gedetailleerde bepalings van die wetgewing word nie hier bespreek nie, behalwe om te vermeld dat die Beheerraad wat ingestel is die bevoegdheid gehad het om enige publikasie ongewens te verklaar. Die effek hiervan was die verbanning van sodanige publikasie, maar die beslissings van die Raad kon wel geappélleer word.

Die benadering van die Skrywerskring was, om die minste te sê, versigtig, en het 'n angstigheid weerspieël om nie die owerhede te irriteer nie. Trouens, lede van die Skrywerskring het aanvanklik toonaangewende rolle in die publikasiebeheeromgewing gespeel. Coenraad (Coenie) Rudolph, 'n leidende figuur in die organisasie en toekomstige redakteur van Tydskrif, was byvoorbeeld 'n lid van die Cronjekommissie en hy het later in die 1970's op die Publikasiebeheerraad gedien (McDonald [A]). Reeds in 1953 het Opperman by Van den Heever navraag gedoen oor sy benadering tot die voorgenome wetgewing. Opperman se brief is nie op rekord nie, maar in die bewaarplek van die Universiteit van Stellenbosch is daar 'n skrywe van Van den Heever gedateer 23 September 1953 aan Opperman, waarin hy antwoord dat hy nie kommentaar het om te lewer nie, aangesien die Skrywerskring eers op hul volgende hoofbestuursvergadering hul standpunt sou bepaal. Volgens Van den Heever wou hy nie hulle taak bemoeilik "deur moontlik my eie standpunt aan hulle op te dwing nie". Die aangeleentheid is inderdaad, byna tien jaar later, bespreek op 'n hoofbestuursvergadering van 17 Mei 1963, maar geen pertinente dokumentasie vóór hierdie datum kon gevind word nie, ten spyte van Van den Heever se suggestie dat die aangeleentheid kort na sy skrywe bespreek sou word. In die notule van die vergadering van 17 Mei 1963 kom die volgende voor in verband met die voorgenome wetgewing:

Die Skrywerskring het nie stilgesit soos uit verskillende oorde beweer word nie. Voorsitter het persoonlik die aangeleentheid met Min de Klerk bespreek. Na hierdie gesprek was hy oortuig dat inkortings nodig is. Ons moet die Minister vertrou. Hy beskik oor meer besonderhede as ons. Voorsitter het ook 'n onderhoud gehad met Abraham Jonker [die moontlike voorsitter van die Beheerraad op Publikasies - JS] en hier is dit duidelik gestel dat die skrywer self toegang het tot die hof indien hy verontreg is. Die Skrywerskring is nie 'n homogene liggaam nie, en Voorsitter het dus besluit dat die Skrywerskring nie moet optree as 'n liggaam nie. (Afrikaanse Skrywerskring 1963a).

Intussen het verskeie jonger skrywers reeds 'n manifes aan die minister voorgelê, 'n stap wat allermins deur die organisasie goedgekeur is aangesien dit, so redeneer die Skrywerskring, die geledere van Afrikaanse skrywers verdeel het, volgens die toendertydse voorsitter, Abel J. Coetzee, in 'n omsendbrief gedateer 21 Augustus 1963. In die Augustus 1963-uitgawe van Tydskrif word Coetzee se voorsittersrede gelewer op 17 Mei 1963 tydens die hoofbestuursvergadering gepubliseer. Hierin steun hy sensuur en, alhoewel hy erken dat dit riskant is vir 'n owerheid om hom te begewe op "die wêreld van geestelike dinge" (Coetzee 1963: 8) daar tog situasies bestaan waar die regering sy plig sal versuim teenoor die gemeenskap indien hy nie inperkend sou ingryp in situasies waar daar 'n "dreigende gevaar van [...] verval heers nie". Hy gaan selfs verder:

Waar dit nou in ons volksgemeenskap gebeur dat die uiterste vryheid van bepaalde kunstenaars in bepaalde rigtings in beslag gelê is moet ons as verantwoordelike volksgenote aanvaar dat die staatsbestuurlike funksionele groep dreigende gevare vir die gemeenskap sien groei, wat net op die manier bekamp kan word. Ons moet aanneem dat die optrede in goeie trou geskied en dat inperkinge óf net tydelik sal wees, óf net in die allernoodsaaklikste gevalle toegepas sal word. (Coetzee 1963: 9-10).

In dieselfde uitgawe skryf W. J. Badenhorst 'n artikel getiteld "Kuns en kontrole" in selfs sterker terme, naamlik dat die Westerse wêreld en Suid-Afrika voor 'n krisis staan met die "roekelose uitdaging van die Ooste, die kommunisme en die heidendom" en kom hy tot die gevolgtrekking dat "[i]n hierdie omstandighede en gesien die krisis waarin ons verkeer, verwelkom ek die Raad van Beheer oor Publikasies. Dit is 'n noodsaaklike en positiewe poging van ons Regering om ons kuns te beskerm teen verwildering" (Badenhorst 1963: 12, 14). Brits (1967), in sy onttrekkingsbrief aan PEN International, skryf 'n paragraaf wat duidelik as vergoeiliking van die sensuurbestel in Suid-Afrika gelees kan word: "There is no censorship of the press in South Africa and views against the Government are freely expressed. No action has been taken against any writer on account of his views or his books. The limited control there is, is purely in respect of the yellow press, usually imported, and literature which could cause racial strife." Oor die "beperkte beheer" waarvan Brits skryf, is dit nuttig om in herinnering te roep dat teen 1967 onder meer Harry Bloom se Transvaal Episode, Peter Abrahams se Tell Freedom en Wreath of Udomo, Alf Hutchinson se Road to Ghana, Todd Matshikiza se Chocolates for my Wife, Nadine Gordimer se World of Strangers en Late Bourgeois World, Alex la Guma se A Walk in the Night en A Threefold Cord, Richard Rive se African Songs en Emergency en Wilbur Smith se When the Lions Feed verban is (kyk McDonald [A]). Alhoewel die Skrywerskring en met verlenging, Tydskrif, boedel oorgegee het wat betref die stryd teen sensuur, het Van Wyk Louw konstant daarteen beswaar gemaak. Toe die Raad aangestel moes word, het hy sy invloed gebruik om te verseker dat die gerespekteerde Potchefstroomse literator, Gerrit Dekker, as die eerste voorsitter aangestel word in stede van die potensieel verdelende Abraham Jonker. In hierdie verband het hy homself onderskei van die Skrywerskring (McDonald 2008: 163).

Louw het ook gesorg dat in Standpunte 'n debat oor sensuur gepubliseer is, waarin leidende Afrikaanse en Engelse skrywers, uitgewers en kritici hul uitgespreek het teen die Verwoerdregering se plan om 'n statutêre sensuurregime in te stel (McDonald 2008: 165). Gedurende Dekker se voorsitterskap is verskeie Afrikaanse boeke voorgelê (vermoedelik na besware deur die publiek) naamlik drie romans van André P. Brink, Lobola vir die lewe, Die ambassadeur en Miskien nooit en twee romans van Etienne Leroux naamlik Sewe dae by die Silbersteins en Die derde oog. Al vyf hierdie romans is goedgekeur (McDonald 2008: 170).

Toe Jannie Kruger as nuwe voorsitter oorgeneem het, het dinge spoedig agteruit begin gaan. Kruger en sy komitee se besluite was dikwels, om die minste te sê, onverstaanbaar en gewoonweg verkeerd. Dit is dus geen wonder dat verskeie van hierdie besluite deur die howe omvergewerp is nie. As gevolg hiervan het die regering, by monde van die destydse Minister van Binnelandse sake, C. P. Mulder, in die laat sewentigs, 'n Wysigingswet op Publikasiebeheer voorgestel wat die gevolg sou hê dat appél na die howe uitgeskakel sou word en dat daar slegs 'n reg van appél sou wees na 'n appélraad met 'n voorsitter en lede wat deur die minister aangestel sou word. Hierteen het die Skrywerskring 'n goedgeargumenteerde memorandum ingedien waarin daarop gewys word "dat die geregshof etlike kere reeds die beslissings van die Raad nietig verklaar het"; die skrywers spreek die "diepe oortuiging uit dat die afskaffing van 'n beroep op 'n onpartydige instansie soos die geregshowe 'n fatale flater sou wees" (Afrikaanse Skrywerskring s.a.). Die regering het nietemin met sy planne voortgegaan en die gevolg was 'n appélraad met gewese regter "Lammie" Snyman as voorsitter. Die sensuurregime het 'n minder gelukkige geskiedenis onder sy voorsitterskap gehad en veral letterkundige werke van swart en Engelssprekende Suid-Afrikaanse skrywers het onder die wetgewing deurgeloop (kyk McDonald [A]). In die tyd is onder andere André P. Brink se Kennis van die aand verban, gevolg deur Leroux se Magersfontein, O! Magersfontein. So is die Afrikaanse letterkunde ook geraak deur sensuur, alhoewel daar aanvanklik geglo is dat Afrikaanse werke onaangetas gelaat sou word en meer op ingevoerde werke gekonsentreer sou word. Minstens, kan ten gunste van die Skrywerskring, en bygevolg Tydskrif, gesê word dat hulle wakker geskrik het, alhoewel ietwat laat, en eers toe die wysigingswet in die laat 1970's gepubliseer is. Die benadering van die appélraad het algaande meer realisties en minder rigied geraak, en het dit later onder die voorsitterskap van Snyman se opvolger, Kobus van Rooyen, 'n aansienlik meer liberale uitgangspunt gehandhaaf.

Die standpunt wat die Skrywerskring ingeneem het ten aansien van die nuwe beperkende wetgewing is tot hulle krediet. Inderdaad, in 'n brief gedateer 9 Julie 1975 skryf die nasionale voorsitter van die Skrywerskring, J. J. Brits, aan die Eerste Minister, B. J. Vorster om hom uit te nooi om die Kongres van die Afrikaanse Skrywerskring die volgende jaar te open en sny hy die sensuurkwessie aan:

Soos u ongetwyfeld bewus is, is daar 'n mate van onsekerheid, miskien selfs onrus by skrywers oor die Publikasieraad, en ons het gevoel dat nieteenstaande daar by ander geleenthede deur u na hierdie saak verwys is, dit tog baie noodsaaklik en menslik (sic) is dat daar vanuit die hoogste gesag, die Regering se standpunt oor sensuur en siening oor ongewenste literatuur aan skrywers en letterkundiges gestel sal word.

Betekenisvol is ook Brits se opmerking dat alhoewel Minister Connie Mulder moontlik 'n geskikte persoon sou wees om die openingsrede te voer, hy "nie vir ons die geskikste persoon sou wees om die openingsrede te voer nie". Dit spreek sekerlik van 'n mate ontevredenheid met die regering aan die kant van die Skrywerskring (iets nuuts vir hulle). Ongelukkig moes die Eerste Minister, alhoewel hy aanvanklik die uitnodiging aanvaar het, die afspraak weens parlamentêre verpligtinge kanselleer, en ons weet nie wat presies hy in sy toespraak sou gesê het nie.

 

Die redakteurs

Die leidende figure in die eerste dertig jaar van die bestaan van die Skrywerskring, Jaarboek en Tydskrif was C. M. van den Heever en daarna Abel J. Coetzee. Dit is daarom kortliks nodig om een en ander oor die verhouding van hierdie kollegas in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand te sê. Van den Heever was sedert die stigtingsjaar van Jaarboek tot met sy dood in 1957 die redakteur van die Skrywerskring se lyfblad, insluitende Tydskrif vir Letterkunde, 'n periode van 21 jaar. Na sy afsterwe op 8 Julie 1957 ontvou 'n interessante situasie wat veel lig werp op Van den Heever se dienstyd en sy verhouding met Coetzee. In die uitgawe van September 1957 lewer Coetzee 'n vier bladsy-huldiging waarin hy Van den Heever se rol as akademikus, skrywer en redakteur aanprys. Hy verwys onder andere na sy kollega as "'n [g]root hart, 'n troue vriend, 'n onvermoeide werker, 'n volksman" (Coetzee 1957: 5). In die lig van hierdie lof aan sy medewerker van baie jare, is 'n ongedateerde brief van Coetzee aan Brits, die voorsitter van die Skrywerskring, openbarend. In antwoord op 'n versoek van Brits vir 'n artikel oor Van den Heever, weier Coetzee (s.a.) en skryf hy soos volg:

As redakteur was hy gewoonweg kaalkop "lui" - miskien as gevolg van 'n aan gebore gevoel van minderwaardigheid. Bewys hiervoor: Heel selde - en dan slegs ná maande van pamperlang - kon ek iets uit hom kry vir plasing. En nooit was dit 'n weldeurdagte bydrae gewees nie.
Planne vooruit vir die Tydskrif het hy nooit gemaak of bespreek nie. Alles moes ek doen. Onthou, ek het teen hom in 'n drievoudige onderhorigheid gestaan: assistent in sy departement, sekretaris van die Skrywerskring waarvan hy die voorsitter was, en administrateur van die Tydskrif waarvan hy die Redakteur was. Ek moet, met leedwese erken: hulp het ek nooit van hom gekry nie, ook nie steun of aanmoediging nie, en hy het konsekwent geweier om maar één gunstige word te sê of te skryf oor my skeppingswerk. Wat die Tydskrif bereik het in sy tyd, is nie die vrug van sy arbeid en inspanning nie. [...] Op elke ander terrein het hy jarelank lyf weggesteek en Fanie Hattingh en ek moes sien om die mas op te kom. Dit klink alles baie lelik - maar dis waar. [...] Sonder om onbeskeie te wees: dis van A. J. C. wat gepraat word wanneer C. M. genoem word!

'n Merkwaardige uitbarsting, gesien sy lofbetuiging aan Van den Heever in 1957. Geen wonder nie dat Coetzee die brief gemerk het "Gevaarlik vertroulik. Embargo." Daar is 'n nota op die brief, vermoedelik aangebring deur Brits: "Hou terug tot die jaar 2000." Merkwaardiger, egter, is dat Tydskrif voortbestaan het en gereeld gepubliseer is in 'n situasie waar die twee hooffigure so min van mekaar gedink en gehou het. Dit sê veel vir die werk en toewyding van die ander redaksielede en administrasie van veral Coetzee wat vanaf 1957 tot 1966 formeel die redakteur van die lyfblad geword het.

In 1966 het die Pretoriase skrywer en onderwyskollegedosent, Coenie Rudolph, die redakteurskap oorgeneem en hy het nouer samewerking met jonger skrywers, beide in Suid-Afrika en in Vlaandere bevorder. Gedurende sy redakteurskap verskyn daar bekende name uit die opkomende jonger geslag soos Abraham H de Vries, Hennie Aucamp, Ingrid Jonker en Chris Barnard (Botha 1999: 5).

Rudolph beklee die redakteurskap tot 1973, toe Elize Botha aangestel word. Gedagtig aan die aanvanklike afwesigheid van vroue in Skrywerskring was haar aanstelling 'n reuse stap vooruit. Onder haar leiding het Tydskrif 'n bloeitydperk beleef, veral as gevolg van haar pogings om jongere skrywers te identifiseer en te laat publiseer. So is daar onder haar leierskap nuwe werk van Lina Spies, P. J. Haasbroek en 'n nuwe geslag "Tagtigers" gepubliseer (Botha en Roodt 2006: 62). Soos Henning Pieterse (2008: 177), wat haar as redakteur in 1992 opgevolg het, dit stel: "Ek het Die Tydskrif op 'n hoogtepunt oorgeneem; wat deur Professor Elize en natuurlik Piet Roodt geskep is oor baie jare heen."

Pieterse het as redakteur vanaf 1992 tot 2002 gedien. In hierdie tyd het die Afrikaanse Skrywerskring stil-stil van die toneel verdwyn en in 2002 het geen uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde verskyn nie. Geen materiaal kon in enige van die bewaarplekke gevind word oor die sluiting van die organisasie nie.

In die loop van 2002 het P. H. Roodt, een van die oorblywende redaksielede van Tydskrif, Hein Willemse, die hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, genader om die redakteurskap oor te neem (Willemse 2011). In sy redakteursnota in die eerste uitgawe onder sy bestuur verklaar Willemse (2003) dat Tydskrif 'n aantal aanpassings gaan beleef wat "'n veranderende redaksionele opdrag (verteenwoordig)": "Terwyl Tydskrif soos in die verlede steeds verslag oor die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkundes sal doen, gaan ons ons voortaan ook toespits op verslaggewing deur literatore en skrywers van regoor die Afrika-kontinent en die Afrika diaspora." Waar Tydskrif tot met 2002 uitsluitlik in Afrikaans gepubliseer is, word naas Afrikaans, artikels ook gereeld in Engels, Frans en Nederlands geplaas. Na die ondergang van die Skrywerskring het Tydskrif na 2002 geen houermaatskappy gehad nie en is die Tydskrif vir Letterkunde Assosiasie in die lewe geroep wat geen ander aktiwiteit het benewens die uitgee van die blad nie (Willemse 2011).

 

Samevatting

Hierdie bespreking kan op heel gepaste wyse afgesluit word deur die volgende aanhaling uit 'n toespraak van Willemse by geleentheid van die bekendstelling van 'n spesiale uitgawe van Tydskrif op 30 Mei 2007 by die Universiteit van Ouagadougou waarin die opkomende letterkunde en artistieke skepping in Burkino Faso die onderwerp was. Hy sê die volgende met betrekking tot Tydskrif, en dit is 'n perspektief wat heelwaarskynlik ook die kern van die artikel saamvat:

The journal charted the early literary development of the Afrikaans language; it chronicled the publication of increasingly confident poets and writers. In short: it served the political and social environment that spawned it well. It survived while several other similar literary journals have faltered and closed down. It strength laid in its ability to respond to changes, the unremitting commitment of its editorial committees and its independence, even if its initial editorial policies were ethno-nationalistic and inward-looking (Willemse 2007: 236).

Inderdaad Tydskrif het ver gekom sedert dit 75 jaar gelede deur 'n groepie wit Afrikaanse mans gestig is by die "Randse Universiteit" in Johannesburg. Die letterkundige geskiedskrywer, J. C. Kannemeyer (1990: 236) verwys na die "Johannesburgse groep teleurgestelde skrywers met hulle Skrywerskring aktiwiteite". Hierdie tipering is op sy beste nie regverdig teenoor iemand soos byvoorbeeld Van den Heever nie. Met sy oeuvre van gedigte en romans kan hy kwalik as 'n "teleurgestelde" skrywer beskou word. Sy werk mag uit die perspektief van vandag "outyds" en "irrelevant" geword het, maar hy bly vir sy tyd 'n populêre skrywer, en inderdaad word hy beskou as een van die vooraanstaande proponente van die plaasroman, om nie praat van sy monumentale biografie oor J. B. M. Hertzog nie. Die feit staan vas dat Van den Heever en sy medewerkers 'n tydskrif tot stand gebring het wat 'n driekwart eeu later nog steeds gepubliseer word, en bygevolg, afgesien van die skrywers en medewerkers se persoonlike of letterkundige meriete, staan Tydskrif vir Letterkunde as hul monument.

 

Erkennings

My dank aan die volgende persone sonder wie se hulp hierdie artikel nie sou realiseer nie: Hein Willemse vir die idee en sy bystand met die finalisering daarvan; Shaun de Jager vir die lang ure wat hy saam met my deurgebring het in die argiewe van NALN in Bloemfontein en die J. S. Gerickebiblioteek van die Universiteit van Stellenbosch; die hulpvaardige personeel, in besonder Nola Montgomery by NALN, Mimi Seyffert, Lynne Fourie en Marina Brink in Stellenbosch, en Marié Coetzee, Annette le Roux en Ammi Ryke by die Universiteit van Suid-Afrika; die anonieme keurders vir hul voorstelle ter aanvulling en verbetering.

 

Bronnelys

Primêre bronne

Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria

[Afrikaanse Skrywerskring, Die]. s.a. Memorandum - Prinsipiële standpunt van die Afrikaanse Skrywerskring ten opsigte van die voorskryf van Afrikaanse letterkundige werke op skool.         [ Links ]

Afrikaanse Skrywerskring, Die. 1934a. Notule van die Stigtingsvergadering gehou aan die Randse Universiteit op Maandagaand, 10 September 1934.         [ Links ]

_____. 1963a. Notule van die Hoofbestuursvergadering van die Afrikaanse Skrywerskring, gehou in die Administrasiegebou van die Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, op Vrydag 17 Mei 1963, om 3 n.m.         [ Links ]

_____. 1963b. Rondskrywe aan alle Voorsitters. 21 Augustus.         [ Links ]

_____. 1965. Notule van 'n Dagbestuursvergadering gehou te Pretoria op 11 Maart 1965.         [ Links ]

_____. 1966. Notule van 'n Dagbestuursvergadering gehou op 14 Oktober 1966 in Kamer 406, Administrasiegebou, Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Brits, J. J. 1967. Letter to Mr [D.] Carver, Secretary P. E. N. International. 20 April.         [ Links ]

_____. 1975. Brief aan die Eerste Minister, B. J. Vorster. 9 Julie. Carver, David. 1967. Letter to J. J. Brits from International P. E. N. 1 Mei.         [ Links ]

[Coetzee, Abel J.]. s.a. Brief aan J. J. Brits.         [ Links ]

Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch

Antonissen, Rob. 1954. Brief aan D. J. Opperman. 7 Augustus.         [ Links ]

[Grové, A. P. en H.] 1953. Brief aan Dirk [Opperman]. 22 Junie.         [ Links ]

Krige, U. 1936a. Brief aan Van Wyk Louw. September.         [ Links ]

_____. 1936b. Brief aan Van Wyk Louw. 9 Oktober.         [ Links ]

_____. 1936c. Brief aan Van Wyk Louw. 22 Oktober.         [ Links ]

Louw, N. P. v.W. 1954. Brief aan D. J. Opperman. 29         [ Links ]

April. Louw, W. E. G. 1941. Brief aan Van Wyk Louw. 23 November.         [ Links ]

Van den Heever, C. M. 1953. Brief aan D. J. Opperman. 23 September.         [ Links ]

Viviers, E. J. 1954. Staatsteun vir "Standpunte". [Brief van die Waarnemende Sekretaris van Onderwys, Kuns en Wetenskap aan Standpunte-redaksie]. 25 September. [X.8/6/62/41]         [ Links ].

Nasionale Afrikaanse Letterkundige en Navorsingsentrum, Bloemfontein

Afrikaanse Skrywerskring, Die. 1934b. Notule van die Stigtingsvergadering gehou aan die Randse Universiteit op Maandagaand, 20 Augustus 1934.         [ Links ]

_____. s.a. Kommentaar van die Afrikaanse Skrywerskring oor die Wysigingswetsontwerp op Publikasies en Vermaaklikhede. (AB 61-73).         [ Links ]

Sekondêre bronne

Badenhorst, W. J. 1963. Kuns en kritiek. Tydskrif vir Letterkunde (Nuwe reeks), 1(III):12-14.         [ Links ]

Botha, Elize. 1998/1999. Die Tydskrif vir Letterkunde en die Vlaamse verbintenis. Tydskrif vir Letterkunde, XXXVI/XXXVII (4):1-10.         [ Links ]

_____ en P. H. Roodt. 2006. Die Tagtigers en die Tydskrif vir Letterkunde - was daar 'n Tagtigerbeweging? Tydskrif vir Letterkunde, 43(1):57-67.         [ Links ]

Coetzee, Abel. 1957. C. M. van den Heever. Tydskrif vir Letterkunde, 7(3):1-5.         [ Links ]

Coetzee, Abel J. 1963. Die skrywer en die gemeenskap teenoor mekaar. Tydskrif vir Letterkunde, (Nuwe reeks), 1(III):6-11.         [ Links ]

Dekker, G. 1980. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasou Beperk.         [ Links ]

Fensham, F. C. 1984. Die Afrikaanse Skrywerskring vyftig jaar. Tydskrif vir Letterkunde, XXII(4):1-7.         [ Links ]

Giliomee, Hermann. 2003. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. 1990. Die dokumente van Dertig. Kaapstad: Juta.         [ Links ]

_____. 2005. Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

McDonald, Peter D. 2008. Guardians of the emergent volk avant garde: N. P. van Wyk Louw, the apartheid censors and the Sestigers, 1963-1968. Stilet, XX(2):159-75.         [ Links ]

_____. [A]. 2011. The Literature Police. Webnotes. <www.theliteraturepolice.com> Toegang: Mei 2011.         [ Links ]

PEN International. [A]. PEN International. <www.internationalpen.org.uk> Toegang: April 2011.         [ Links ]

Pieterse, Henning J. 2008. Huldeblyk aan Elize Botha. Tydskrif vir Letterkunde, 45(1):176-77.         [ Links ]

[Sowden, Louis en Dora]. 1948. Die twintigste kongres van die Internasionale P. E. N. Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, XIII:18-22.         [ Links ]

Van den Heever, C. M. 1936. Voorwoord. Die Afrikaanse Boek, 1(1):s.p.         [ Links ]

[Willemse, Hein]. 2003. Redaksionele nota. Tydskrif vir Letterkunde, 40:[i]         [ Links ].

Willemse, Hein. 2007. Tydskrif vir Letterkunde beyond the bounds. Tydskrif vir Letterkunde, 44(2):236-39.         [ Links ]

_____. 2011. Persoonlike kommunikasie, 8 Mei.         [ Links ]