SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 número275 years of Tydskrif vir Letterkunde - a provisional exploration índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    versão impressa ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. v.48 n.2 Pretoria  2011

     

    REDAKSIONEEL EDITORIAL

     

    Tydskrif vir Letterkunde: 'n aaneenlopende rekord van 75 jaar

     

    Tydskrif vir Letterkunde: a continuous record of 75 years

     

     

    Hein Willemse

     

     

    Toe die stigters van die Afrikaanse Skrywerskring hul stigtingsvergadering in September 1934 in Johannesburg byeengeroep het, was die Bybel pas die vorige jaar volledig in Afrikaans beskikbaar gestel en die Afrikaanse letterkunde was in sy kinderskoene. Die romanskrywers Jochem van Bruggen, D. F. Malherbe, die Hobsons en C. J. Langenhoven was besonder gewild. Die bekendste digters was Totius, A. G. Visser en C. M. van den Heever en 'n debutant, die 21-jarige W. E. G. Louw, het in die loop van daardie jaar met Die ryke dwaas 'n pertinent individualistiese stroming in die Afrikaanse poësie aangekondig. In 1936, die oprigtingsjaar van die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, die voorloper van Tydskrif vir Letterkunde, het Suid-Afrika soos die res van die wêreld steeds die slegte nagevolge van die groot depressie gevoel met derduisende plattelanders wat na stede gestroom het. Die Wet op die Verteenwoordiging van Inboorlinge, Wet 16 van 1936, is ook in daardie jaar gepromulgeer en die stemreg van swart mense in die Kaapprovinsie is ingekort - 'n voorspel tot 'n politieke en ekonomiese bestel wat die res van die 20ste eeu in Suid-Afrika sou oorheers.

    Uit die vroegste uitgawes van die Jaarboek is dit duidelik dat die tydskrif opgerig is om as barometer te dien vir 'n ontluikende letterkunde: die koestering van literêre voorlopers, die optekening van letterkundige wetenswaardighede, die vestiging van internasionale bande, die publikasie van jong skrywers en die ontwikkeling van 'n toepaslike kritiese diskoers. Die rol wat die Jaarboek en Tydskrif vir Letterkunde die afgelope 75 jaar in die Afrikaanse letterkunde gespeel het, kan nie oorskat word nie. Die blad bied 'n aaneenlopende rekord van ingesteldhede vanaf die vroeë Afrikaanse letterkunde en die verweefdheid van 'n veranderende sosiale omgewing met die veranderende ingesteldhede van skrywers en literatore.

    Oor die gang van 'n driekwart eeu het elkeen van die vorige vyf redakteurs - C. M. van den Heever (1936-57), Abel J. Coetzee (1957-66), Coenie Rudolph (1966-72), Elize Botha (1973-91) en Henning J. Pieterse (1992-2002) - sy of haar stempel op Tydskrif vir Letterkunde afgedruk. Wat vir een geslag van nasionale of letterkundige belang was, was vir 'n volgende een verdag; wat vir een geslag prestasie en bereiking was, was vir 'n daaropvolgende geslag onhoudbare eenselwigheid; wat ook al 'n mens se persoonlike siening Tydskrif vir Letterkunde staan as getuie van die arbeid van hierdie voorgangers. In die loop van sy bestaan het ander letterkundige tydskrifte gekom en gegaan, maar Tydskrif vir Letterkunde is deurlopend gepubliseer, dikwels met betreklik skrapse finansiële middele, maar altyd met die ywer van die onderskeie redakteurs en hul redaksies. Dit is ook die regte plek om hulde te bring aan die borge en adverteerders wat Tydskrif vir Letterkunde oor soveel dekades ondersteun het. Vandag maak hoofsaaklik outeursbladgelde die uitgee van die blad moontlik. Ons is daarom baie dank verskuldig aan elke navorser wat hierin publiseer, want dit is hulle navorsings- en geldelike bydrae wat die blad se voortbestaan verseker.

    Vandag sien Tydskrif vir Letterkunde anders daaruit as wat die oprigters in gedagte gehad het. Sedert 2003 is die blad omvorm tot 'n "Tydskrif vir Afrika-letterkunde". Hierdie visie maak dit vir ons moontlik om mee te doen aan die beskrywing, teoretisering en ontleding van Afrika-letterkundes en kulturele praktyke. In 1936, net meer as vier dekades na die Berlyn-konferensie waartydens Afrika onder verskeie Europese moondhede verdeel is, het die begrip "Afrika-letterkunde" nog nie bestaan nie. Trouens Joseph Conrad se Heart of Darkness (1902), Edgar Rice Burroughs se Tarzan's Quest (1936) en die rolprent Darkest Africa (1936), net soos S. J. du Toit se Di Koningin van Skeba (1898) het koloniale perspektiewe oor die kontinent verder verdiep en selfs meegehelp om dit te vestig en te versprei. Die oprigters van die Jaarboek was mans van hul tyd wat uitsluitlik op die onmiddellike eise en behoeftes van 'n ontluikende taal en letterkunde gekonsentreer het. Hulle sou min vanselfsprekende gemeenskaplikheid met landgenote soos Sol Plaatje en sy outobiografiese protesgeskrif, Native Life in South Africa (1914) óf sy roman Mhudi (1930) óf R. R. R. Dhlomo met sy African Tragedy (1928) óf Thomas Mofolo van die Basoetolandse protektoraat met sy Chaka (1925) gehad het. Nog minder kan 'n mens verwag dat hulle verwantskap moes betuig met die bekende pan-Afrikanis van die Britse Goue Kus (vandag: Ghana), Joseph E. Casely-Hayford, die skrywer van Ethiopians Unbound (1911), wat die ontplooiing van 'n Afrika-gerigte skoolleerplan en universiteit voorgestaan het.

    Vir die grootste deel van sy bestaan was Tydskrif vir Letterkunde 'n Afrikaanse letterkundige tydskrif gemik op plaaslike behoeftes; vandag het dit daardie visie ontgroei. Vandag word dit as akademiese tydskrif hoog aangeslaan en op van die vernaamste internasionale navorsingsindekse opgeneem. Naas Afrikaans verskyn navorsingsartikels sedert 2003 ook in Engels, Frans en Nederlands, en ons bydraers kom uit verskillende wêrelddele soos hierdie gedenkuitgawe getuig. Artikels en spesiale uitgawes bied ons sedertdien verbluffende insigte op die rykdom van ons eietydse kontinentale omgewing. Om oop te staan vir die kontinent, sy mense, tradisies, kulturele praktyke en tale verryk ons almal of soos 'n voormalige adviesraadslid van Tydskrif vir Letterkunde, Es'kia Mphahlele (2002: 10), dit gestel het: "When we know who we are as South Africans and where we are going, which we hope will lead to a clear sense of our relationship with the rest of Africa - real and ideal - we can move toward universal humanism."

    * * * * *

    Soos in die verlede staar sensuur en publikasiebeheer Suid-Afrikaanse koerante, insluitende akademiese media, joernaliste en skrywers in die gesig. Tydskrif vir Letterkunde spreek hom onomwonde uit teen enige maatreël wat ons vryheid van spraak aan bande lê. Alhoewel ons toegee dat die regering ter wille van nasionale veiligheid inligting moet kan klassifiseer of, om die eufemismes van die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting te gebruik, "sensitiewe" of "kosbare" kategorieë inligting moet kan skep, is ons grondig gekant teen enige vorm van publikasiebeheer wat die wese van ons demokrasie aantas. Die voorgestelde wetsontwerp gaan ons brose demokrasie oneindige skade berokken, omdat die rede vir die wetsontwerp eerstens onduidelik is en tweedens vermoedelik verband hou met die drukmedia se uitwys van wanpraktyke in die verlede wat die regering in die verleentheid gestel het. Die oordadige geheimhouding wat die wetsontwerp voorstaan, herinner aan die apartheidstaat, terselfdertyd is dit teen die aard van 'n oop en deursigtige demokrasie - 'n demokrasie waarvoor talle hulle lewens opgeoffer het.

    Die instel van 'n media-appéltribunaal is kennelik 'n poging van die huidige regering om toesig oor die pers, joernaliste en publikasies te verkry. In 'n demokrasie is dit 'n onding. Die uitgangspunt wat ons voorstaan, is dat vryheid van denke, spraak en inligting die verstekopsies is. Afwykings hiervan moet slegs by hoogste uitsondering toegelaat word. Hierdie voorgestelde wetgewing gaan op die lange duur skrywers en navorsers se reg van onbelemmerde toegang tot inligting en, met 'n maksimale strafmaatreël van 25 jaar gevangenisstraf, hul vryheid van spraak beïnvloed. Laat ons sonder om doekies om te draai, sê: Ons eis die reg om te weet; ons wil nie hierdie Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting of die daarstelling van 'n mediaappéltribunaal hê nie. Phantsi!

    Wanneer ons sê wat ons sê ten opsigte van voorgestelde wetgewing in Suid-Afrika kan ons ook nie nalaat om ons te beywer vir optimale inligtings- en spraakvryheid in die res van Afrika en die Diaspora nie. In byna die helfte van Afrika-lande is persvryheid beperk en ons weet, waar hierdie basiese vryheid beperk word, gedy menseregvergrype. Volgens algemene opvatting is daar in state soos Angola, Burundi, Côte d'Ivoire, Djiboeti, DRK, Ekwatoriale Guineë, Eritrea, Ethiopië, Gaboen, Gambië, Kameroen, Madagaskar, Rwanda, Sentraal-Afrika Republiek, Soedan, Somalië, Swaziland, Togo, Tsjad, Zambië en Zimbabwe nie werklik sprake van persvryheid nie. Laat ons dit luidkeels verkondig: Dié beperkings ondermyn ons potensiaal as Afrikane en ons opkomende demokrasieë. Slegs 'n handjievol lande soos Ghana, Kaap Verde, Mali, Mauritius en São Tomé en Príncipe kan enigsins daarop roem dat hul burgers spraakvryheid op vlakke hoër as gemiddeld geniet. Ons verbind ons ook tot die grootste mate van burgerlike vryheid in die res van ons kontinent, want ons fundamentele vryhede is die wese van durende demokrasieë; en dit moet ononderhandelbaar wees.

     

    16 Junie 2011

     

    Verwysing

    Mphahlele, Es'kia. 2002. Alternative Institutions for Education for Africans in South Africa - 1990. In Es'kia Mphahlele, Es'kia. Kaapstad: Kwela Boeke in medewerking met Stainbank & Associates, 3-14.         [ Links ]