SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.48 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.48 n.1 Pretoria Jan. 2011

 

RESENSIE-ARTIKEL / REVIEW ARTICLE

 

Poiesis. Oor maaksels en hul wêreld na aanleiding van Versfeld se Pots and Poetry

 

Poiesis. On creations and their world with reference to Versfeld's Pots and Poetry

 

 

Ernst Wolff

 

 


ABSTRACT

In this review article the first comprehensive interpretation of Martin Verfeld's Pots and Poetry is presented. The nature of the philosopher's discursive practice is presented with reference to his other work. It is argued that "connection" (of meaning) is the continuous theme of the nine independent essays. Connection justifies the non-analytic form of reasoning in the book and calls for comparision between philosophical and poetic writing. Analytic writing is symptomatic of the modernist instrumentalist relation to reality and the "cannibalist ego"; writing that echoes the carmen universi initiates the therapy consiting of reverberating with the original cosmic generosity. Versfeld's attempt at re-connecting the technical and artistic heritage of the Greek poiesis is examined. Poetic existence is shown to be the essence of a life that gives creative recognition to the original meaningful interconnection of the world. The cultural critical and political dimensions of such an existence are exposed and submitted to criticism.

Key words: creativity, generosity, Martin Versfeld, meaning.


 

 

Pots and Poetry and other essays.
Martin Versfeld. Pretoria: Protea Boekhuis, 2009. 172 pp. ISBN: 978-1-86919-319-5.

 

Inleiding

Dit is 'n uitsonderlike gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse intellektuele wêreld dat die werk van Martin Versfeld met 'n heruitgawe vereer word. Dat so 'n gebeurtenis as merkwaardig genoeg geag word om in 'n akademiese tydskrif met besinning te vier, is gewoon in orde. Tog is daar iets ongewoons aan die versoek wat die Tydskrif vir Letterkunde aan my gerig het om kommentaar te lewer op die heruitgawe van Versfeld se Pots and Poetry.1 Versfeld was geen letterkundige nie en het nie veel kommentaar oor letterkunde in sy filosofiese tekste geskryf nie. Die tema van lettere geniet ook 'n relatief geringe plek in sy werk. Iemand wat vinnig deur die inhoudsopgawe en selfs deur die inhoud van die boek kyk, sal ook vasstel dat Pots and Poetry nie die naam is van 'n werk in poësieteorie nie, tewens, in oënskynlike minagting vir die titel van die boek, blyk die outeur veel meer geïnteresseerd te wees in klippe en hul regte of die verband tussen Westerse en Oosterse denke of samelewingskritiek of vuil grappies, as in poësie. Hou hierby in gedagte dat die boek nie net in Engels geskryf is nie, maar dat dit geskryf is deur 'n professor - in Filosofie, nie in Letterkunde nie - aan 'n Engelse universiteit (Kaapstad) wat in Engels klasgegee het en die grootste deel van sy publikasies in Engels geskryf het (soos hy in die eerste paragraaf van die boek sê, 1/19). Met dit alles in gedagte sou mens iemand moes verskoon wat vermoed dat die Tydskrif 'n fout gemaak het om vir hierdie kommentaar op Pots and Poetry te vra en dit boonop van my, eweneens 'n filosoof, nie 'n letterkundige nie. Mens sou egter hierdie vermoede kon besweer deur ondersoek in te stel na die rede waarom Versfeld die woord poetry saam met pots in die titel van sy boek geplaas het, en aandag te gee aan die veelvuldige implikasies wat vanuit hierdie konneksie ontwikkel kan word.

Dit sal die leser opval dat Versfeld sy boek begin met 'n paar outobiografiese notas oor homself as filosoof en dit mag van hulp wees om die boek te benader deur te kyk na wat die outeur self as die aard van sy eie praktyk beskryf (vir 'n oorsig oor Versfeld se filosofie, kyk Rossouw 1996 en Wolff 1999). Twee verwysings is genoegsaam vir die huidige doeleindes. In sy intreerede by die Universiteit van Kaapstad (1971), onthul Versfeld die volgende:

I must confess at once that I do not know what philosophy is. This sometimes embarrasses me before the innocence of students, but not before those who have come to realise that the things by which we live are the things about which we know least. We do not know what life is, or what knowing is, or what truth and goodness are. Or if we do know we can't say it [...]. (Versfeld 1971: 1).

Ek dink dat ons in hierdie verklaring die hart van Versfeld se beskouing vind, maar dat dit gelyktydig ook 'n onsekere wegspringpunt verteenwoordig: as filosofie as't ware die voortdurende gepraat is oor wat uiteindelik 'n onuitspreeklike onkunde is, dan kan mens verstaan dat "filosofie" in die volksmond 'n eufemisme vir 'twakpraat' geword het. En as filosofering eintlik net hoogdrawende geklets is, dan kan mens al wonder of so 'n filosofiese diskoers meer sal kan doen as om poësie voor te stel as die voortbring van verdigsels.

'n Tweede verklaring van Versfeld oor die werk van die filosoof, stuur ons egter op 'n ander pad en help boonop om die eerste beter te verstaan: "the philosopher shares with the poet an absorption in the articulation of existence, expressing itself in the unique voice by which a tree and stone and blade of grass proclaims itself to be this and to be lovable." (Versfeld 1960: 13; my kursivering). As Versfeld se mening oor die filosoof en die digter korrek is, dan beteken dit dat filosofering en digwerk al twee spruit vanuit dieselfde ervaring van die werklikheid: 'n ervaring wat erkenning gee aan iets wat sou verdien om die stem van alledaagse dinge soos bome, klippe of gras genoem te word asook aan die liefhêbaarheid van sulke dinge. Met ander woorde, die filosoof en die digter skryf nie net nie, maar antwoord op 'n inisiatief wat daardie skryfwerk voorafgaan en provokeer. Verder bestaan filosofie, sowel as poësie, uit die uitdrukking (articulation) van dit waaraan 'n mens soms so naby is dat mens as't ware in die ervaring daarvan geabsorbeer is, dit wil sê, so naby dat die onpartydige afstand van 'n subjek teenoor 'n objek as't ware nog nie kon vorm nie en waarvan mens derhalwe in hierdie sin heel min kan weet (soos in die eerste aanhaling). Gevolglik kan dit nie van die verwoording van hierdie opname in die goed van die wêreld verwag word om sigself uitputtend te kan sê nie en as dit dus onsin is om van 'n gedig te verwag om die tema daarvan uitputtend te besing, is dit onsin vir 'n filosoof om die dinge waarvan ons leef ("the things by which we live", in die eerste aanhaling) ten volle onder woorde te bring (en in hierdie sin hul onuitspreekbaarheid behou, soos in die eerste aanhaling).

Hierdie twee aanhalings uit vroeër werke van Versfeld help om ons te oriënteer ten opsigte van die tipe filosofering wat van die outeur verwag kan word en lei ons ook tot op die drumpel van Pots and Poetry. Moet van Versfeld nie 'n traktaat in poëtologie verwag nie! Berei jou eerder daarop voor dat hy hom met die alledaagse gaan ophou ten einde die uitsonderlikheid daarin te probeer sien - soos duidelik op die eerste bladsy van Pots and Poetry verduidelik word.2 Die deurgaande motief van hierdie bundel opstelle is die poging om hierdie absorberende en liefdevolle alledaagse band met die werklikheid op te soek en aan nadenke te onderwerp.

 

Samehang

Die bundel Pots and Poetry bestaan uit nege losstaande opstelle, waarvan minstens twee ("Time and speed and the quality of life" en "Plato and Confucius") vantevore in tydskrifte verskyn het en waarby Protea Boekhuis vir die heruitgawe drie opstelle uit Sum gevoeg het (kyk Versfeld 1991a). Die oorspronklike uitgawe was in 1985 en die opstelle uit Sum (1991) is almal daarna geskryf. 'n Vinnige oorsig oor die uiteenlopende temas van die boek, lewer geen voor die hand liggende tema op nie. Hoofstuk een handel oor potte en poësie; die daaropvolgende drie opstelle sou as sosio-kulturele kritiek gekenmerk kon word;3 hoofstukke vyf, ses en sewe maak 'n bydrae tot die koördinasie van Westerse en Oosterse denkwyses en -temas en die oorspronklike bundel sluit af met 'n besinning oor die noodwendige sosio-politieke implikasie van skryfwerk en 'n pleidooi vir vuil grappies. Die nuwe hoofstukke bespreek die ekologie, die universiteit en denke van enkele vroeë lede van die Suid-Afrikaanse Bergklimklub.4 Sou dit moontlik wees om die samehang van so 'n hutspot uit te wys? My oortuiging is dat dit nie net moontlik is nie, maar dat die samehang gelyktydig die sentrale tema van die bundel is en eng verbind is met die skrywer se werkswyse. Om hierdie bewering te steun, moet ons na nog 'n verklaring van Versfeld aangaande die aard van filosofie - en spesifiek aangaande sy eie filosofiese werk - kyk, hierdie keer uit Pots and Poetry:

connecting in my thinking has a priority over analysis. I am impressed with the relation of all things to each other, that is, with the fact of communication. I have my moments when I can see the universe as a vast and divine festivity, and catch faint echoes of what St. Augustine called the carmen universitatis, that is, the singing that should accompany a fiesta. What I have to say about pots and poetry arises from this. (3-4/22-3).

Op die eerste bladsye van die bundel vind ons 'n belydenis van die outeur dat die tipe denke wat hy in sy bundel voordra - afgesien van die vorige kwalifikasies wat hierbo aangedui is - begeester is deur die samehang (connection) van dinge tot mekaar. Daarom is die aangewese werkswyse een wat die samehang tussen dinge daarstel (connecting). Maar so 'n werkswyse is net moontlik as mens ingestem het tot 'n bepaalde spel: as daar uit die staanspoor vertrek word van die prioriteit van 'n analitiese denkwyse, beteken dit dat 'n sekere genetiese defek van moderniteit de facto geheraktualiseer word en die vermoë om die lied of gedig van die heelal (die carmen universi) misgehoor word. Versfeld se regverdiging vir hierdie keuse vir samehang bo analise - wat op verskillende wyses regdeur sy werk loop5 - berus op die oortuiging dat 'n hele reeks patologieë van die moderne wêreld uitvloeisels is van die verkeerde manier van dink en dat 'n ander tipe denke 'n ander tipe lewenskwaliteit tot gevolg sal kan hê. Die alternatief wat regdeur Pots and Poetry loop is dié tussen denke as analise en beheersing en denke as oorgawe tot die lied van die heelal (wat laasgenoemde is, sal in hieropeenvolgende afdelings aan die orde kom).

Die eerste opsie word mooi opgesom in Die neukery met die appelboom: "In die 17de eeu het die Westerse gees baie analities geword. Descartes se wêreld is 'n verbrokkeling van menigvuldige substansies. Things fall apart" (Versfeld 2009b: 19)6 en in 'n soortgelyke karakterisering van Westerse denke word die sug om beheersing van sulke analitiese denke uitgewys: "The criterion of truth becomes pragmatic: the workability of concepts and their serviceability for prediction and control." (16/39).7 En wanneer denke beheersugtig is, dan word die effektiwiteit daarvan op mense en die omgewing uitgeoefen, met uiteindelik katastrofiese gevolge. Hierdie moderniteitsdiagnose kom regdeur Pots and Poetry voor, maar is veral in die drie sosiaal-kritiese hoofstukke (twee tot vier) gekonsentreer.

Uit verset teen hierdie gewelddadigheid van die moderne Westerse kultuur, probeer Versfeld om op 'n ander manier denkend met sy wêreld om te gaan. Hy doen dit deur sy poging om aan bepaalde momente uit die Christelike en Oosterse denktradisies nuwe aktualiteit en geloofwaardigheid te gee. Twee dinge - waarvoor die "psalm van die heelal" en die "dans van Shiva" staan - moet hier uitgelig word: (1) die samehang tussen alles wat is, ons kan sê soos die samehang van losstaande note in 'n melodie (kyk 49/82, 87/130) of enkele bewegings in 'n dans en (2) die afstandname van die oorgierige en dominerende wil. Elke miskenning van die samehang van dinge is 'n vergryp teenoor hulle regmatige plek en 'n stap in die rigting van 'n betekenislose wêreld; elke toegewing aan die dominerende wil, is 'n bevestiging van individuele inhaligheid en van 'n samelewing van kannibale (al hierdie temas word by herhaling in Pots and Poetry behandel). Volgens Versfeld se sosiale diagnose is die sentrale probleem van die Westerse samelewing of van enige Westers-gevormde samelewing, die intellektuele en praktiese onttrekking van die individu uit die sinstigtende samehang waarin hy of sy opgeneem is en die doelgerigte volharding in daardie geïsoleerde bestaan. Daarteenoor bied Versfeld geen alternatiewe program vir die rehabilitasie van mense of 'n nuwe samelewingsprojek nie, maar eerder die beskrywing van die samehang (connecting) waarin mense hulself bevind.8

Met hierdie agtergrond in gedagte kan mens nou sien dat die twee vorms van denke wat Versfeld in die eerste bladsye van sy bundel kontrasteer - analisegedrewe denke en samehanggedrewe denke - nie in die eerste plek twee maniere van slim wees met verskillende institusionele inbedding nie. Dit is twee vorme van wees, wat spruit uit twee fundamentele bestaansmoontlikhede van een en dieselfde mens (40/ 70).

 

Kreatiwiteit, liefde, gulheid (generosity)

Die eerste insig van Versfeld se alternatiewe houding tot die lewe is dat 'n mens nie anders bestaan as in reaksie op 'n enorme gawe nie: "Man, then, is absolutely gratuitious, a gift to himself. His self-possession, his property in himself is relative and dependent [...]. But his most common delusion is that he has absolute property in himself." (24/49). As ons in die inleiding gesien het dat filosofie, soos digkuns, vir Versfeld uit die staanspoor 'n reaksie is op die wêreld waarin 'n mens betrokke is, dan is dit omdat die wesenlike inisiatief wat tot die feit van mens-wees aanleiding gee, van die begin af buite die mens geleë is. In die taal wat Versfeld van die Joods-Christelike tradisie ontleen is die mens "himself spoken by the creative Word through whose reverberations we can hear nature speak." (25/51). Hierdeur herinterpreteer Versfeld implisiet Aristoteles se definisie van die mens as 'n lewende wese wat taal het: die begrippepaar carmen universi-poësie en Word-reverberation, bied die draer van taal aan as 'n wese wat antwoord op en in kontinuïteit staan met die oorsprong van lewe. Daar lê 'n derde soortgelyke begrippepaar skuil in 'n derde vorm van taalgebruik: "God must find the denial of his existence every funny indeed. His laughter is the pouring forth of creatures into the Void so that they may echo his Word. Creation is funny and that is why copulation is funny, and why the best jokes are about sex. They spring form our participation in God's creativity." (92/137). Versfeld se intensie hier is to speak a true word in jest.

Menslike kreatiwiteit, waarvan samehang-duidende filosofering en poësie twee vorme is, het hulle ontstaan te danke aan die oorspronklike gulheid of vrygewigheid (generosity), waarvan daar regdeur Pots and Poetry sprake is. Soos uit die passasies wat pas aangehaal is, sou blyk, is hierdie gulheid vir Versfeld sinoniem met kreatiwiteit. Wie praat oor kreatiwiteit praat oor die begin van dinge en dus van tyd. Kreatiwiteit is vir Versfeld die moontlikheid van 'n nuwe begin en 'n nuwe verloop. Kreatiwiteit en gulheid het onverwagsheid gemeen - al twee maak oop tot 'n nuwe toekoms (40/70).

Die derde sleutelterm van Versfeld (maar wat relatief min in Pots and Poetry aan die orde kom) is liefde. Liefde is net soos gulheid die oorsprong en krag waardeur alle dinge bestaan: "Everything that is has the dignity of being loved by God, which it expresses precisely in being what it is" (21/45) en as liefde "spontaan kreatief" is (Versfeld 1991b: 92) dan kan ons verstaan waarom Versfeld liefde as "anargisties" (23/48) beskou.9

Die ambisieuse projek van Versfeld in hoofstukke vyf tot sewe van Pots and Poetry is om aan te toon dat hierdie oorspronklike oriëntasie van die mens in 'n harmonieuse resonansie tussen Christelike en Oosterse wysheid aangehoor kan word. Hierin behels Pots and Poetry 'n verlenging van 'n projek waarvan hoofstukke 1 en 2 van Our Selves (Versfeld 1979) waarskynlik meer gesofistikeerde weergawes is, en waarvan die wortels tot in Oor gode en afgode strek (kyk Versfeld 1948: 25f).

 

Poiesis

Omdat Versfeld in Pots and Poetry begaan is oor die komplekse en verbasende samehang tussen dinge en op toepaslike wyse daaraan wil laat reggeskied, is die bundel ryk aan temas. Uit hierdie veelvoud van temas, wil ek stilstaan by die twee wat in die titel van die boek aangekondig is, meer spesifiek om die tweede een - poësie - te belig, aangesien die konteks waarin ek skryf dit implisiet vereis. Deur hierdie fokus, wil ek ook my antwoord gee op die vraag: wat het Versfeld se boek met letterkundiges te maak?

Dit is wel bekend dat die Griekse werkwoord poien - om te maak - in die Westerse kultuur- en intellektuele geskiedenis op twee heel verskillende perspektiewe op die poiemata - die maaksels - en die proses van hulle produksie - poiesis - uitgeloop het. Dit is myns insiens een van die groot meriete van Versfeld se werk dat hy hierdie gewelddadige skeiding tussen artefakte en kuns (hier, poësie) probeer oorbrug en die produkte van die mens se kulturele lewe saam probeer beskou en bedink. Die and in Pots and Poetry, staan vir hierdie poging en pots en poetry respektiewelik vir die twee vorme van poiemata.

Soos in die afdeling "Kreatiwiteit, liefde, gulheid" aangevoer, is die bron van waaruit 'n mens waarlik leef - dit waaraan mens moet erkenning gee om jou ware self te kan wees - die buite- en voor-menslike gulheid, waarvan die kosmiese lied die sleutelmetafoor is. Hierdie oorspronklike oriëntasie kan ook in terme van poësie uitgedruk word: "the world is the poiesis of God, chanted with every sunrise and echoed by poets who perform the rites of wonder at the rising of the sun." (152). Iemand wat nie hierdie oorsprong erken nie (of dit nou in 'n Christelike of Oosterse of watter diskoers ook al verwoord word), met ander woorde iemand wat volhard in die idee dat hy of sy 'n self-made man is en dus vir die verworde self kies, kan volgens Versfeld nie skep nie (58/94, 152). Dit moet onmiddellik bygevoeg word dat hierdie skeppende of poëtiese oorsprong van die ware self, sowel as die kritiek teen die ego wat hierdie oorsprong misken, nie net die beginsel agter poetry is nie, maar op parallelle wyse ook die beginsel agter pots is. As ons 'n lekker bredie kan kook, is dit omdat daar reeds aan ons 'n smaaklike wêreld voorgesit is. Vanaf die pot, waarmee die oudste en gelyktydig ook die mees algemene en duursame aspek van menslike kultuur voorgestel word, waaier die skepping van 'n menslike wêreld uit, sodat kuns en wetenskap, sosiale interaksie en landskapsvorming, industrie en politiek op mekaar betrek word (sien veral Pots and Poetry hoofstuk 1). En so wyd as wat die samehang van menslike skeppende optrede vanuit die kookpot uitkring, so wyd kan die vergrype van die inhalige ego uit menslike optrede afgelees word: van die formule-agtige resepte van glanstydskrifte waarmee die poëtiese van die kookkuns versmoor word (3/22), tot die drukkoker (10/31) wat simptomaties is van 'n samelewing waarin "tyd spaar" (om meer dinge te doen) belangriker is as "tyd maak" (vir ander mense), tot die "kannibalisme" (kyk 30/56) wat hoogty vier in 'n samelewing waar die stryd om oorlewing die hoogste wet is (temas wat Versfeld in groter besonderhede in Food for Thought uitgewerk het). In dit alles word die wêreld geantropomorfiseer volgens die funksionalistiese en dominerende voorskrifte van die inhalige ego. Dat dit wel moontlik is om vanuit die oorspronklike gulheid te dig en te kook, en sodoende die oorspronklike kreatiwiteit te eggo, dít beweer Versfeld het C. Louis Leipoldt aan ons getoon:

the poetry of Leipoldt celebrates this [Cape agricultural] landscape and these people, and is by no means to be separated from his interest in food. His books on cooking celebrate the poetry of the kitchen. Poiesis means "making", and we make pies as well as poems. Thus his poem "Oktobermaand" and his Cape Cookery fulfil each other, and his poetry enables you to taste the landscape. (7/27).

Om 'n poëet te wees - of dit nou as digter òf kok òf filosoof òf wat ook al is - beteken dus vir Versfeld in die eerste plek om 'n sekere tipe mens te wees (87/130). Dit is die tipe mens wat aan alle dinge, in hulle onderlinge samehang, erkenning kan gee en die uniekheid daarvan kan waardeer of liefhê: "A poet is a man [sic] who can take off his hat to a brick in honour of the original Poiesis" (25/51) en "all poems are love poems, since poetry is about real things and whatever is real is related to other things" (50/83). Die digter se liefde vir die dinge kom tot uitdrukking in mooi, akkurate en eksakte taal (93/138). En die werklike dinge waaroor die digter liries is, is die alledaagsuitsonderlike (vergelyk 1/19 en 88/132) - en hierin is die digter die sielsgenoot van die filosoof.

Daar is in hierdie begrip van die digter niks van die romantiese verheerliking van die kunstenaar as sekulêre boodskapper van die gode nie; wat Versfeld ook al as kenmerkend van digters beskou, is in beginsel ewe kenmerkend van enige ander mens. Net soos alle skryfwerk 'n sosiale dimensie en uiteindelik politieke implikasies het, so het enige menslike optrede dit (85f/128f). Versfeld kom wel naby aan die idee van die waansin van die kunstenaar, met sy oortuiging dat die digter 'n bepaalde unsoundness of mind (93/138) het, maar laasgenoemde het heel min met 'n gesekulariseerde inspirasie-idee te maak en alles met die verset teen 'n dominante vorm van redelikheid. Dit is hierdie alternatiewe vorm van redelikheid wat Versfeld sedert sy vroeë neo-Thomistiese dae opsoek. Reeds in Oor gode en afgode (Versfeld 1948: 14f) dien die digkuns as 'n voorbeeld van 'n alternatiewe vorm van redelikheid: die digkuns is 'n aktiwiteit wat nie as rasioneel beskou kan word nie, maar dit kan maklik erken word dat dit nie 'n intelligente lewenshouding weerspreek nie, maar eerder ondersteun. As sodanig is die digkuns 'n uitdrukkingsvorm van die praktiese rede. Dit lyk vir my na die onderliggende gedagtegang wat Versfeld se aansprake op die politieke implikasie van die poëtiese werksaamheid van die mens ondersteun: digters is spesialiste daarin om aan elke ding sy regmatige plek toe te ken, op so 'n manier dat elke element, hoe gering ook al, bydra tot die konsonansie van die geheel (85/129). In die sin kan die digters beskou word as die ware wetgewers (88/130): hulle beheers (ten minste hulle invalshoek op) die praktiese rede waardeur 'n plek aan elke lid gegee word op 'n manier wat aan elkeen reg laat geskied. Hoeveel te meer lyk hierdie idee aanneemlik as die breë betekenis van poësie - die praktiese rede wat vanaf die pot uitkring - in aanmerking geneem word. Daarom dat Pots and Poetry voortdurend weer terugkom na kultuur-kritiese en politieke temas.

Op hierdie temas sal ek nie nou ingaan nie, maar dit is wel belangrik om uit te wys dat sulke sosio-politieke euwels die donker agtergrond vorm waarteen die vrolikheid van Pots and Poetry uitstaan; tot 'n sekere mate is Pots and Poetry ook 'n antwoord hierop. Dit lyk, tewens, vir my ook een van die groot leemtes van Pots and Poetry en waarskynlik van al Versfeld se werk, om 'n werklik geloofwaardige en respekvolle plek aan menslike lyding te gee. Hoe dit moontlik is dat die carmen universi deur kakofoniese akkoorde van militêre orkeste verdring kan word, is 'n vraag waaraan Versfeld nie baie aandag skenk nie; hoe dit moontlik is om die psalm van die heelal te eggo of saam met Shiva te dans as jou lewensritme deur geweldadige arbeidspraktyke of politieke onreg aan jou opgelê word, is grensgevalle wat nie te maklik in Versfeld se blik val nie. In sekere gevalle moet Versfeld se geskiedsfilosofie eenvoudig as onaanvaarbaar bestempel word, soos as mens aan die gruweldade van die afgelope eeu se politieke geskiedenis dink en dan lees: "History is the time that cooks created men and women until they are ripe an fully leavened." (9/30). Wat op 'n persoonlikesielkunde vlak nog sin kan hê, kan op 'n groter skaal 'n onaanvaarbare politieke teodisee wees.

 

Stilte

As die betekenis van poësie uiteindelik daarin lê om deur woorde waardering vir die samehang van dinge uit te druk, dan moet mens nogtans nie vergeet nie dat 'n vuil grappie soms beter vaar as 'n gedig - vuil grappies kan poëties wees (93/138). Die gekompliseerde sang van die gedig kan verstil in die alledaagse kwinkslag wat soms beter reg laat geskied aan die dinge. Meer nog, die gelag wat deur 'n goeie grap uitgelok word verdoof alle taal en wys op die lagwekkendheid van die dapperste poging om taal sinvol te gebruik.

Maar het die filosoof dan uiteindelik die digter met taal uitpresteer? Nee, want - so het ek aangedui in die eerste aanhaling van Versfeld oor die filosofie - jarelange bedrywigheid met die denke lei uiteindelik op die verstommende erkenning uit dat ons daarin ook nie heeltemal weet waarmee ons besig is nie. Daarom dat Versfeld minstens probeer om 'n sekere filosofiese taalgebruik te laat vaar en te verruil vir 'n speelser en gemakliker geselstrant.10

En die teoloog? Uiteindelik nie; oor God skryf Versfeld: "The only 'proof' of his presence is his absence. He is too near to be seen and too real to be credible. No propositional truth can attain to him because he is its source. If it is true, it is because it is sufficiently true to Him to obliterate itself." (58/93-4).

In hierdie stilte wil Versfeld dat 'n mens tuiskom. Dit is nie 'n stilte van verslae oorgawe of fatalisme nie; dis ewemin 'n stilte wat die digter, die filosoof of die teoloog finaal tot swye hoef te bring. Dis 'n stilte van waaruit die wêreld weer aangehoor kan word - "being still and keeping quiet are not the same." (53/87). Miskien is die grootste lewensvaardigheid van 'n digter en van 'n filosoof om al swygende te kan skryf.

 

Aantekeninge

1. Waar twee bladsynommers deur 'n skuinsstreep geskei word, verwys dit na die eerste en tweede uitgawes van Pots and Poetry onderskeidelik. Om redes wat ek nie kan raai nie, bestaan daar klein teksverskille tussen die twee uitgawes - sien byvoorbeeld 30f/56f. Die verskille wat ek opgetel het, het egter geen wesenlike invloed op die inhoud nie.

2. Die verband tussen filosofie en poësie word van vroeg af deur Versfeld ontgin. In hoofstuk 1 van Oor gode en afgode dien die digkuns reeds as figuur aan die hand waarvan die nie-rasionele, nieirrasionele redelikheid van die praktiese rede bedink word. Hierna kom ons hieronder weer terug.

3. 'n Effens later publikasie van een van hierdie opstelle, "Our rapist society" (29-40/55-70) is deur Neil Viljoen (1988) bespreek.

4. Die nuwe uitgawe van Pots and Poetry is ook voorsien van 'n voorwoord deur André Brink, wat in wese neerkom op 'n Engelse weergawe van die voorwoord wat hy vir die heruitgawe van Die neukery met die appelboom geskryf het. Die kritiese evaluasie wat ek van die voorwoord gegee het, geld dus hier ook en ek hoef dit nie te herhaal nie (kyk Wolff 2009).

5. Dit moet as vreemd opval dat die analogiebegrip wat sentraal in Versfeld se denke staan en wat in Pots and Poetry nie net in die hart staan van die samehangbegrip nie, maar selfs prakties tot uitvoering gebring word (kyk byvoorbeeld die analogie tussen die Goddelike poiesis en menslike poësie, hieronder) nie eksplisiet in Pots and Poetry genoem word nie.

6. Die verbrokkeling van (die Middeleeuse) eenheid, is van vroeg af en tot in sy laaste werk vir Versfeld die rigtinggewende diagnostiese kategorie vir sosiale en politieke patologieë. (Kyk Versfeld 2009b: 19; Wolff 2010).

7. Kyk ook: "We seldom question this assumption, nor ask ourselves how many of the ills that we wish to control have been caused by the desire to control." (41/72).

8. Marlene van Niekerk (2008) het hierdie punt sekerlik reg ingesien toe sy haar kultuur- en literêrkritiese opstel oor "Die etende Afrikaner" as't ware in herinnering aan die "verbandleggende gees van Martin Versfeld" geskryf het. Sy maak met instemming van Pots and Poetry en in die besonder die eerste hoofstuk daarvan gebruik.

9. Vandaar die titel van Marlene van Niekerk (1992) se resensie van Sum: "Martin Versfeld. Anargis van die liefde". Die onderlinge verband tussen die drie sleutelterme word duidelik daargestel in die volgende gedagtegang: "God is sheer generosity, and there is no reason for creating nor compulsion to generate in God. Creation is a joyous outburst of sheer generosity. The universe has no being but the love of God. If the being of creatures is time, it is also love. [Love] is the being of things: the hardness and weight of stones, the greening tree, the rising sun, the breaking wave: whatever makes things relevant to each other." (50/82-3).

10. Mens hoef hom egter nie te glo as hy daarop aanspraak maak dat hy die higher unintelligibilities (soos hy neerhalend na sy vorige filosofering verwys) agtergelaat het nie. Om jouself hiervan te vergewis is dit net nodig om te kyk na die hoeveelheid tegniese terme wat hy deur die boek in Frans, Duits of Latyn aanhaal sonder om dit te vertaal, of om die verwysings na filosowe te tel waarin hy aanneem dat sy leser 'n bepaalde vertroudheid met hulle werk het.

 

Bronnelys

Rossouw, Hennie. 1996. Die kuns van die lewe is om tuis te kom. Gedagtes oor die filosofie van Martin Versfeld. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 36(1): 11-20.         [ Links ]

Van Niekerk, Marlene. 1992. Martin Versfeld. Anargis van die liefde. [Resensie: Sum]. Die Suid-Afrikaan, April/Mei 1992, 70.         [ Links ]

______. 2008. Die etende Afrikaner. Aantekeninge vir 'n klein tipologie. In Albert Grundligh & Siegfried Huigen (reds.). Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar. Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: SUN Press, 75-92.         [ Links ]

Versfeld, M. 1948. Oor gode en afgode. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

______. 1960. The Mirror of Philosophers. London: Sheed & Ward.         [ Links ]

______. 1971. Persons. Kaapstad: Buren.         [ Links ]

______. 1985. Pots and Poetry. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1979. Our selves. Kaapstad: David Philip.         [ Links ]

______. 1991a. Sum. Selected works / 'n Keur uit sy werke. Kaapstad: The Carrefour Press.         [ Links ]

______. 1991b. [1983] Food for Thought. A Philosopher's Cookbook. Kaapstad: Carrefour Press.         [ Links ]

______. 2009a. Pots and Poetry. Pretoria: Protea.         [ Links ]

______. 2009b. [1985]. Die neukery met die appelboom. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Viljoen, Neil. 1988. Shakespeare's The Tempest and Martin Versfeld's "Comments on the rapist society". The English Acadamy Review 5(5): 116-37.         [ Links ]

Wolff, Ernst. 1999. Sanctus Marthinus laudator philosophicus. Fragmente, 4: 87-101.         [ Links ]

______. 2009. Die neukery met verval en herstel in Versfeld se storie van die appelboom. Koers, 74(3): 539-42.         [ Links ]

______. 2010. Selfkennis, verstandigheid en inkarnasie. Interpretasie van Versfeld se Oor gode en afgode. LitNet Akademies, 7(2): 257-79.         [ Links ]

 

 

Ernst Wolff is 'n medeprofessor in die Departement Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die outeur van De l'éthique à la justice (Springer, 2007) en sy Political Responsibility for a Globalised World, verskyn in 2011. E-pos: ernst.wolff@up.ac.za