SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.47 n.2 Pretoria Jan. 2010

 

HULDEBLYK

 

Leonard Koza 20 September 1941 - 20 Februarie 2010

 

 

Willie Adams

 

 

Ek het Leonard Koza vir meer as 40 jaar geken. Hy en my oudste broer, Sidney, was maats gedurende die sestigerjare op Hoërskool Elsiesrivier. Hulle was ook lede van die Elsiesrivier Kultuurvereniging. Leonard was soos 'n kind in ons huis. Wie sal die uitstappies, die skooldebatte en die vasvrawedstryde vergeet? Of die politieke vergaderings en die 'Platters-paarties' waar op die rhythm and blues van The Platters geldinsamelings vir gemeenskapsprojekte gehou is? In die woorde van een van Leonard se gunstelingliedjies, Bob Marley se No Woman No Cry: "In this bright future, you can't forget your past. / So dry your tears I say."

Dit is as jong skrywer dat ek Leonard van nader leer ken het. Ons het groot vriende geword. Leonard was meer as 'n vriend. Hy was my comrade. Leonard was meer as 'n comrade. Hy was my mentor. Ek onthou soos gister die dag dat ek my eerste gedigte met hom gaan bespreek het. Dit was in die vroeër sewentigerjare. Daarna was ons twee diep betrokke by elke gemeenskapsvergadering waar poësie, stories, dramas en sketse voorgedra is. Ons het selfs ons gedigte by politieke begrafnisse gelees. Omdat daar min publikasiegeleenthede vir die townshipdigter was, het Leonard die voorlees van gedigte as 'n manier van publikasie beskou. Ons het ons sketse en dramas opgevoer in byna al die townships op die Kaapse Vlakte. Ons het selfs daarin opgetree.

Die optredes het begin in 'n planksaaltjie, die Plankierama, in Elsiesrivier. Daar het ons Donderdagaande coffee bars gehou. Plaaslike musikante, pretmakers, sangers en skrywers het items gelewer; besoekende dramagroepe soos Stablexpense uit Durban het daar opgetree. Ons het selfs bekende kunstenaars soos James Matthews en Dollar Brand genooi om op te tree. Toegang was gratis, maar elkeen moes 'n koppie koffie en 'n boereworsrolletjie tydens pouse koop, sodat ons die huurgeld en die elektrisiteit van die saaltjie kon betaal. Wanneer 'n plaaslike item opgevoer is, is geïmproviseer en die gehoor aangemoedig om deel te neem omdat dit oor hul daaglikse lewe gehandel het en hulle daarmee kon identifiseer. Al wat die spelers dan moes doen, is om iewers in die loop van die stuk weer na die teks terug te keer. Daar was interaksie met die gehoor en almal het tevrede huis toe gegaan, insluitende die ou roekers, die bendelede.

Leonard het by sulke aangeleenthede gewoonlik die voortou geneem. Hy het die voorbereiding en organisering vrywillig gedoen sonder enige vergoeding, want dit het nie om persoonlike of geldelike gewin gegaan nie; ook nie om prestige of selfverheerliking nie. Ons het in diens van ons gemeenskap opgetree - iets wat hedendaags ongehoord is.

Hy was medestigter van die dramagroep Township Life wat later tot Township Players herdoop is. Leonard se dramas Distrik Ses, Township-worries en Townshipkleingoed is toe alreeds opgevoer. Die Township Players het ook my dramas opgevoer, waarvan Episodes (1976) die bekendste is. In hierdie drama wat oor die 1976-opstande handel, is die name van die spelers en Leonard verewig in dié van die karakters.

Sy werk is in Engels en Afrikaans gepubliseer, waarvan Poke (Creative Publications), In and out the Townships (Outrigger, Nieu-Seeland, 1985), From the Heart of Apartheid (Outrigger, 1985) en From the Womb to the Tomb (New World Foundation, Lavender Hill, 1986) bekend is. Van sy gedigte het in die tydskrifte Blac, Contrast, New Classic, Praat, Staffrider, Stet en die volgende bloemlesings verskyn: Skryf asseblief terug (België), SA in Poësie, Ten Years of Staffrider '78-'88, The Return of the Amazi Bird, Hot Pot, iQabane Labantu, Optog, Reënboogstemme, Poskaarte en De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Van sy gedigte is ook vir hoërskole voorgeskryf.

Leonard se kortverhale is ook in verskillende versamelbundels opgeneem, soos byvoorbeeld Taxi - staanplek-stories (1996), Mense is mense (2002), Uit die kontreie vandaan (2000) en Die Afrikaanse kortverhaalboek (2004). Sy ander stories en kortverhale verskyn in sy debuutbundel Die gazoem van die townships (2005). Hy het ook kinderverhale geskryf. Alhoewel sy werk in Kuba, Rusland, Spanje en die VSA gepubliseer is, het plaaslike establishment-uitgewers nie sy werk gepubliseer nie. Tog het 'n sonderlinge eer Leonard te beurt geval toe hy in 1986 'n fellow van die International Writers Program (IWP) aan die Universiteit van Iowa in Amerika geword het. Op 28 April 2010 is die Kaapstadse burgemeestersmedalje postuum aan hom toegeken.

In die tagtigerjare, het ek, Leonard, Peter Kaleb, Chris Prince en Melvin Whitebooi die Skrywers- en uitvoerende kunstebeweging (SUB) gestig wat hom vir die publikasie van gemarginaliseerde tekste beywer het. Ongelukkig het ons tydskrif Praat slegs een uitgawe beleef.

Leonard is ook een van die min skrywers wat al drie die Swart Afrikaanse Skrywerssimposia bygewoon het: die eerste een by Universiteit van Wes-Kaapland in 1985, die tweede op Paternoster in 1995 en die derde weer by die Universiteit van Wes-Kaapland in 2005. Hy het nooit die kans gekry om 'n referaat te lewer of as paneellid by hierdie geleenthede op te tree nie. Dit noem ek 'marginalisering-in-eie-kring', want Leonard was 'n leidende figuur. Hy was ook saam met Patrick Petersen en andere 'n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Hy was gewoond aan marginalisering soos skrywers van politieke manuskripte sal kan getuig. Toe hy redelik onlangs 'n gedig oor die township Manenberg voorgelees het, het 'n verteenwoordiger van 'n establishment-uitgewery kapsie gemaak en verklaar dat hy die ou Suid-Afrika moet vergeet en oor die nuwe Suid-Afrika moet skryf, het Leonard doodluiters geantwoord: "Manenberg is nog daar in die nuwe Suid-Afrika". Hy het het nie veel erg gehad aan "die manne wat in BMW's rondry maar steeds met 'n ossewa-mentaliteit" nie.

Ek, Leonard en Patrick Petersen het in die laat-tagtigerjare Domestica-uitgewery opgerig wat die bloemlesing Optog in 1990 uitgegee het.Leonard het 'n kardinale rol in die oprigting van die uitgewery gespeel het en selfs die bundeltitel bedink. Optog is enig in sy soort want uit die neëntien digters is vyf swart vrouedigters se werk opgeneem. Dit het een van die bundels geword waaruit talle gedigte vir ander bloemlesings gekies is. ('Onpubliseerbaar' se voet!).

Leonard het aan talle woordfeeste deelgeneem, byvoorbeeld die eerste Klein-Karoo Nasionale Kunstefees, saam met my en Freddie du Pokoy en dié op Stellenbosch. Hy het aan verskeie radiopraatjies deelgeneem en ten tye van sy dood was hy een van die koördineerders van 'n leesprogram vir hoërskoolleerders by die Elsiesrivier-biblioteek.

Naas sy skryfwerk was Leonard ook 'n gemeenskapsaktivis en saam het ons diep politieke spore in die Kaapse townships van Matroosfontein, Bishop Lavis en Ravensmead getrap. Tot met sy uittrede was hy 'n bekwame vakbondman.

Te oordeel aan alles wat Leonard Koza gedoen het, het hy sy plek volgestaan. Sy stem is nou stil, sy pen het opgehou skryf en sy bydrae tot die gemeenskap het geëindig, maar as ons terugkyk dan sien ons nog sy voetspore.

 

 

Willie Adams is die skrywer van Episodes en ander gemeenskapsdramas (Domestica, 1995), Riemvasmaak (Domestica, 1995), Eureka Estate se hoë gebou (Domestica, 1997). E-pos: williamandjoan@gmail.com