SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2Mirage of us: a reflection on the role of the web in widening access to references on Southern African arts, culture and heritageLeonard Koza: 20 September 1941 - 20 Februarie 2010 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.47 no.2 Pretoria  2010

     

    HULDEBLYK

     

    Henriette Grové 26 September 1922 - 15 Desember 2009

     

     

    Heilna du Plooy

     

     

    Almal wat skryf, kan skrywers genoem word. Daar is egter skrywers wat lewenslank intens skryf en bly skryf, wat ook verskillende soorte werke skryf soos wat die gees hulle lei en hierdie mense behoort tot 'n spesifieke kategorie skrywers. Hulle is skrywers omdat skryf by uitstek die manier is waarop en waardeur hulle die lewe benader en ervaar. Deur te skryf probeer hulle helderheid kry, probeer hulle insig verwerf. Ook is dit deur te skryf wat hulle die beperkinge van die menslike bestaan en die werklikheid verwoord en ondersoek en uiteindelik (miskien) aanvaar.

    So 'n skrywer was Henriette Grové. Sy is op 26 September 1922 gebore as Hester Henriette Venter in die distrik Potchefstroom en in hierdie dorp gaan sy skool en studeer sy. Sy tree na 'n kort loopbaan as onderwyseres in die huwelik met A.P. Grové wat later 'n bekende letterkundige en kritikus sou word asook professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Pretoria.

    Henriette Grové het aanvanklik, vanaf 1947, ontspanningsverhale geskryf, kortverhale wat in populêre tydskrifte verskyn het asook enkele romans en wel onder die skuilnaam Linda Joubert. Van hierdie verhale sê sy self later dat hulle die skrywer daartoe bring om verraad te pleeg teenoor die verhaal en die karakters omdat hulle volgens die vereistes van die genre die leser moet plesier en dus nie deur die skrywer tot 'n noodwendige afloop gevoer kan word nie. Desnieteenstaande het hierdie skryfwerk, wat ook twee kinderboeke insluit, haar geoefen in die ambag van skryf.

    Henriette Grové sal onthou word vir sowel haar dramatiese werk as haar ernstige prosawerk. Sy het 'n besondere voorliefde gehad vir die radio en het verskeie baie suksesvolle radiodramas geskryf, waaronder Ontmoeting by Dwaaldrif (1980) waarvoor sy in 1981 die Hertzogprys kry. Sy is inderdaad herhaaldelik bekroon vir haar dramatiese werk én haar prosa. Haar prosawerke word allerweë beskou as besondere fynsinnige ontledings van die kompleksiteite onderliggend aan basiese menslike situasies. Haar bydraes in die kortverhaalbundel Kwartet (1957) het reeds getoon dat sy as 'n ernstige en toegewyde skrywer gereken kan word, en dit is bevestig met die bundels Jaarringe (1966) en Winterreis (1971). Die manier waarop sy in die langer prosatekste Die kêrel van die Pêrel of Anatomie van 'n leuenaar (1983) en In die kamer was 'n kas (1989) moeilike en komplekse temas aanpak en probeer deurgrond in prosa wat metafories ryk en dig is sonder om ooit aan die menslikheid van die tematiek afbreuk te doen, is vir my egter waarop haar hele oeuvre afgestem is.

    In hierdie twee prosatekste gebruik sy al haar tegniese vermoëns om die groot vraagstukke van die menslike bestaan te vra en te bly vra, met volle begrip daarvoor dat antwoorde en oplossings waarskynlik uitbly. Vir Grové was niks eenvoudig nie. Sy het self by geleentheid gesê sy is nuuskierig, dat sy dinge wil weet en wil ken en wil probeer begryp. Haar karakters het dieselfde strewe maar vind dan, soos Elwiena (in Die kêrel van die Pêrel) en al die vrouekarakters in In die kamer was 'n kas, dat lewenswerklikhede meestal onbegryplik is en skynbaar onbeheerbaar voortstu. Om hierdie kompleksiteit nie te vertel nie, maar uit te beeld gebruik Grové dan uitgebreide metafore en metatekstuele verteltegnieke. 'n Besondere geslaagde vertelstrategie is dat sy 'n insident vertel en die insident verderaan as metafoor gebruik in terme waarvan verder vertel word. So hou Elwiena in Die kêrel van die Pêrel haar vinger oor 'n kers om te bewys dat sy die waarheid praat. Die vinger verbrand egter erg en vandaar af assosieer sy die waarheid met pyn en ongemak. Pyn en brand en waarheid vorm dan 'n metaforiese kluster in die novelle wat in al die verhaallyne gebruik word. Elwiena wil aanvanklik die naarheid en troosteloosheid van die waarheid wegdink en besweer, maar dit slaag nie en haar lewe word bepaal deur haar wisselende ingesteldhede ten opsigte van die waarheid. Die bedrieglike "skoonheid" van die leuen lok 'n mens met sy valsheid, maar nogtans het 'n mens dit soms nodig om te skuil teen die intensiteit van die onaangename aspekte van die werklikheid. Die storie self is 'n leuen wat skuiling bied teen die waarheid, wat ontvlugting kan verskaf want in die verhaal kan ervaar word wat in die werklikheid onuitstaanbaar wou wees.

    In hierdie teks word daar ook op postmodernistiese wyse gesprekke gevoer met lesers en raadgewers oor sowel die verhaalstof as die vertelwyse, tegnieke wat beskryf sou kon word en onderskei sou kon word as metanarratief en metatekstueel. In In die kamer was 'n kas gebruik Grové ook postmodernistiese metaforiek soos die eggo en die spieëlbeeld om die labirintiese aard van betekenis en betekenisgewing uit te beeld, maar sowel die eggo as die spieël is belangrike elemente in die verhale as sodanig. Daar is dus altyd en deurgaans 'n buitengewone sterk organiese verband tussen verhaal en vertelstyl. Dit is hierdie kompleksiteit wat Henriette Grové se werk 'n boeiende speurtog na betekenis maak vir lesers en ondersoekers: hierdie tekste het iets om te bied en beloon die moeite van die noukeurige analise wat dit verg.

    Henriette Grové was 'n waardige mens, 'n besonder intelligente en belese vrou. Sy was ook 'n ernstige mens wat haar nie wou besighou met voor die hand liggende antwoorde in haar verhale nie. Sy was 'n soeker na die sin en die betekenis van dinge en hierdie soektog is met toegewyde erns in haar tekste uitgevoer. Ek het die profiel oor haar in Perspektief en Profiel (deel I, 1998: 487) afgesluit met die volgende woorde en ek staan steeds daarby:

    Hierdie literatuur is gemoeid met die is van lyding en dood - dit is nie met eskatologie besig nie, maar met die syn. Die werk spreek dan ook van 'n geestelike volwassenheid wat anderkant oppervlakkige bespiegelinge en geykte troosformules lê. Dis 'n lament oor die menslike kondisie wat tot in sy diepste verborgenhede aangetas is. Tog is dit nie net 'n klaaglied oor menslike lyding en dood, oor onvermoë en gebrek aan insig nie, dis ook en veral 'n eerbetoon aan menslike uithouvermoë.

    31 Maart 2010

     

     

    Heilna du Plooy is professor en vakhoof van Afrikaans en Nederlands in die Skool vir Tale aan die Potchefstroom- kampus van die Noordwes-Universiteit. E-pos: Heilna.duPlooy@nwu.ac.za