SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.47 n.2 Pretoria Jan. 2010

 

Globalisering, modernisme en postmodernisme: In stede van die liefde (2005) van Etienne van Heerden

 

Globalisation, modernism and postmodernism in Etienne van Heerden's In stede van die liefde (2005)

 

 

Andries Visagie

 

 


ABSTRACT

In the 1990s postmodernism as a literary phenomenon led to the development of a lively literary discourse in Afrikaans. However, in contemporary narrative criticism postmodernism rarely features as a theoretical framework for studies of new Afrikaans writing. In poetry criticism postmodernism still enjoys some currency, whereas some critics hold the position that there should be stronger acknowledgement of modernist elements in the development of Afrikaans poetry. In an effort to grasp the manifestation of postmodernism in contemporary Afrikaans prose, this article focuses on globalisation and modernism as two unique challenges to thinking about postmodernism that prevail in Etienne van Heerden's novel In stede van die liefde (In Cities of Love, 2005). The article identifies three problems in theoretical reflections about postmodernism, namely a too narrowly conceived view of postmodernism, a lack of recognition of the continuities between modernism and postmodernism, and the resulting neglect of modernism. Furthermore, the article offers a critical interrogation of globalisation in its guise as a new master narrative in the light of recent developments in the postmodern era. Through a reading of Van Heerden's novel, the interrogation focuses on the motifs of slippage and substitution in In stede van die liefde. The representation of space in the novel includes both the urban and the rural and points to 'glocalisation', a term that refers to the interconnection between the local and the global. The author proposes that globalisation in the guise of a diffuse and multidimensional master narrative, produces a yearning for older master narratives leading to the reaffirmed presence of modernist elements in a manifestly postmodernist novel such as In stede van die liefde. The challenge is to acknowledge modernist elements in contemporary literature using a theoretical approach that exhaustively accounts for the link between postmodernism and globalisation - new manifestations of modernism can no longer be examined with outdated theories about modernist literature.

Key words: Afrikaans narrative fiction, globalisation, local versus global, modernism and postmodernism.


 

 

Sedert die einde van die 1990's is daar in die Afrikaanse literatuurwetenskap tekens van 'n teoretiese vermoeidheid met die postmodernisme. In die vroeë 1990's is die postmodernisme allerweë aangegryp as 'n internasionale fenomeen wat op 'n bevredigende manier nuwe ontwikkelings in die Afrikaanse literatuur in kaart kon bring. In die prosakritiek gebeur dit egter deesdae selde dat die postmodernisme die teoretiese raamwerk vorm vir studies van die eietydse Afrikaanse prosa. In die poësiekritiek is daar wel steeds belangstelling in die postmodernisme, veral danksy die werk van Ronel Foster (2000, 2002) wat aansluiting vind by die invloedryke navorsing van Thomas Vaessens en Jos Joosten (2003) oor die postmodernistiese poësie in Nederland en Vlaandere.

Uit J. C. Kannemeyer1 (1998: 14) en Helize van Vuuren (1999: 250-1) se kritiese reaksies op Ronel Foster en Louise Viljoen se bloemlesing van Afrikaanse postmodernistiese poësie, Poskaarte (1997), blyk dit egter dat daar by sommige literatore twyfel bestaan of die postmodernisme wel kan geld as die belangrikste oorkoepelende noemer van die Afrikaanse poësie sedert 1960.2 Van Vuuren vind die modernisme wel 'n bruikbare periodiseringskonsep in haar historiese oorsig van die Afrikaanse poësie van 1960 tot 1997 en beskou Tristia (1962) van N. P. van Wyk Louw as 'n voorbeeld van 'n modernistiese digbundel in Afrikaans (Van Vuuren 1999: 263). Vanuit 'n meer filosofiese hoek ondersoek Johan Snyman (2006) die verband tussen Louw se essays en die modernititeit. Sy studie is egter nie 'n sistematiese ondersoek na die aansluiting wat Louw by die modernisme as literêre stroming gevind het nie.

In 'n terugblik op die prominensie van die postmodernisme in die Afrikaanse prosakritiek bevestig Philip John (2000a: 11-9) die bevinding van Willie Burger en andere dat daar in die postmodernistiese Afrikaanse literatuur tekens is van 'n eiesoortige eks-sentriese weerbarstigheid wat nie altyd netjies saamval met die gangbare postmodernistiese teorieë uit die Anglo-Amerikaanse akademie nie. Die meer onlangse resepsie van Koos Kombuis se roman Raka die roman (2005) bied waarskynlik die duidelikste voorbeeld van Afrikaanse kritici se vermoeidheid met die postmodernisme. In teenstelling tot Henriette Roos (2005: 4) wat Kombuis se roman as 'n tipiese voorbeeld van 'n postmodernistiese teks resenseer, meen Andries Bezuidenhout dat die postmoderne era verby is. Hy merk op: "Met hierdie boek wys Koos vir ons dat daar 'n diep verskuiwing plaasgevind het. Waar modernisme aan vooruitgang geglo het, en postmodernisme dit bevraagteken het, wonder mense al hoe meer of ons nie dalk nou omgedraai het nie. Is ons as 't ware op pad terug?" (Bezuidenhout 2005: 4). Hy vermoed dat die kunste en die intellektuele wêreld reeds 'n nuwe tydvak betree het wat nog nie 'n naam besit nie, maar gekenmerk word deur 'n diep sinisme oor 'n samelewing wat besig is om van binne af te "vrot".

In hierdie artikel wil ek die stand van die postmodernisme ondersoek met verwysing na twee konsepte wat die postmodernisme op unieke maniere uitdaag, naamlik die modernisme, wat as periodiseringskonsep onder meer dui op die fase voor die postmodernisme, en globalisering wat tans die bron is van intensiewe teoretisering in die geesteswetenskappe. My opmerkings wil ek daarna toelig aan die hand van Etienne van Heerden se roman In stede van die liefde (2005).

 

Modernisme en postmodernisme: breuklyne of kontinuïteit?

Om enige begripsverwarring te voorkom, is dit wenslik dat ook hierdie bespreking begin met 'n kort verklaring van die betekenis van die begrippe moderniteit en postmoderniteit teenoor modernisme en postmoderniteit. Moderniteit verwys na 'n tydperk wat in die sewentiende eeu in Europa begin het met die oorgang van 'n feudale sisteem na die kapitalisme. Hierdie periode is gekenmerk deur onder meer toenemende verstedeliking, vinnige bevolkingsgroei, die industriële rewolusie, die Franse rewolusie en die begin van massakommunikasie. Hierteenoor verwys modernisme na 'n aantal estetiese bewegings wat aanvanklik tussen 1840 en 1850 in Europa ontwikkel het na die verskyning van Charles Baudelaire se invloedryke bundel Les fleurs du mal. In die Weste het die modernisme tot enkele jare na die einde van die Tweede Wêreldoorlog voortgeduur (Friedman 2006: 426-7).

Postmoderniteit is die sambreelterm wat in die 1960's gebruiklik geword het vir 'n stel verwante sosio-ekonomiese verskynsels, naamlik postindustrialisasie (verbruikersgoedere wat die swaar industrieë begin verdring het), die toenemende burokratisering van arbeid en die 'laat kapitalisme', dit wil sê die indringing van besigheidsmodelle na gebiede soos die kunste, onderwys en die media. Postmodernisme verwys na die estetiese ontwikkelinge in hierdie selfde tydperk wat 'n breuk met modernistiese houdings en tegnieke maar ook 'n uitbreiding en aanpassing van die modernistiese estetika ingelui het (Nicol 2006: 565).

Daar is aanduidings dat die huidige ongewildheid van die postmodernistiese teorievorming gedeeltelik te wyte is aan 'n te eng gekonsipieerde siening van die postmodernisme in die Afrikaanse literatuurwetenskap. Die behoefte aan 'n duidelike afbakening van die studieterrein van die postmodernisme3 het daartoe gelei dat dit netjies verpak is as 'n afgeronde geheel en daarom nie meer ontvanklik was vir hersiening en aksentverskuiwings nie. Die breuk van die postmodernisme met die modernisme word byvoorbeeld dikwels gehanteer as 'n vaste, hermetiese grens. Hierdie finaliteit wat aan die grens tussen modern en postmodern toegeken word, gaan dikwels gepaard met die opvatting dat ons tans in die postmoderne tyd leef en dat daar daarom nie meer enige modernistiese tekste sal verskyn nie maar uitsluitlik postmodernistiese tekste. Daar word selde erkenning gegee aan die kontinuïteite tussen die twee verwante stromings. Die modernisme is immers nie in die geheel vervang deur die postmodernisme nie: sedert 1996 bou die jonger skrywer Jaco Fouché met romans soos Die ryk van die rawe (1996) en Die avonture van Pieter Francken (2005) byvoorbeeld aan 'n oeuvre wat sterk ooreenkomste met die modernistiese literatuur vertoon al is hierdie rigting nie meer dominant in die heersende literêre bestel nie. Die modernisme het steeds uitlopers in die eietydse literatuur en selfs ook binne individuele postmodernistiese werke soos Raka die roman van Koos Kombuis.

In die Afrikaanse literatuurwetenskap is uitvoerige navorsing gedoen oor die bewegings van Dertig en Sestig, maar daar bestaan nog geen omvattende studie wat die artikulasie van hierdie bewegings met die modernisme ondersoek nie. Die modernisme is myns insiens 'n konsep wat onderbenut is in die Afrikaanse literatuur-geskiedenis ondanks die feit dat die postmodernisme, wat wel oorvloediglik aandag in die literatuurwetenskap geniet het, in ander wêrelddele dikwels beskou word as 'n blote onderdeel van die moderniteit. Jürgen Habermas bestempel die moderniteit as 'n onvoltooide projek terwyl Anthony Giddens selfs ontken dat daar iets soos 'n postmoderniteit bestaan. Volgens Giddens is dit juister om te konstateer dat die konsekwensies van die moderniteit vandag meer as vantevore geradikaliseer en geüniversaliseer word (aangehaal deur Jameson 2002: 11).

In Suid-Afrika beskou David Attwell (2005: 6) in sy boek Rewriting Modernity die moderniteit as 'n stroming wat steeds tot in die hede deurwerk. Hy konstateer dat moderniteit in Suid-Afrika tans gekenmerk word deur die ideaal om aansluiting te vind by 'n globale moderniteit met liberale of transnasionale kapitalisme as die heersende paradigma. Hy is dit terselfdertyd eens met Charles Taylor wat beweer dat die hede gekenmerk word deur die ontstaan van 'n verskeidenheid alternatiewe moderniteite in verskillende dele van die wêreld. Attwell (2005: 22) pleit daarvoor dat daar in Suid-Afrika groter erkenning moet wees vir die plaaslike verskyningsvorms van die moderniteit. Ook Michael Chapman (2006: 4) maak voorstelle vir die verdere ontwikkeling van 'n eties-bewuste modernisme binne die Afrikakonteks.

Die navorsing van Attwell en Chapman sluit aan by die voorstelle van Susan Stanford Friedman (2006) dat die modernisme nie dood verklaar moet word nie, maar dat daar erkenning moet wees vir die ontstaan van veelvuldige modernismes in die postkoloniale literatuur van nie-Westerse lande sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Volgens Friedman (2006: 431) het die kolonialisme die ontwikkeling van Westerse modernismes moontlik gemaak deur die invoer en absorpsie van kulturele praktyke uit die gekoloniseerde gebiede (vergelyk die invloed van Afrikakuns op die ontwikkeling van Picasso se kubisme). So ook het gekoloniseerde gemeenskappe Westerse moderniteit en modernisme ingevoer en geabsorbeer binne die ongelyke raamwerk van koloniale mag en weerstand teen kolonialisme. Hierdie uiteenlopende modernismes in nie-Westerse lande is nie bloot nabootsings van Westerse modernisme nie, maar vertoon 'n eiesoortige hibriditeit wat voortspruit uit die unieke historiese omstandighede van hierdie ontwikkelende lande. Friedman (2006: 432) en ook Melba Cuddy-Keane (2006: 562-3) verkies daarom om nie na 'n enkele modernistiese periode (dit wil sê die Westerse modernisme van ongeveer 1840 tot 1950) te verwys nie, maar stel voor dat 'n meervoud van modernistiese periodes geïdentifiseer moet word. Sommige van hierdie modernismes sal wat periodisering betref met mekaar oorvleuel en ander sal weer 'n heel ander ontwikkelingsgang vertoon.

Marjorie Perloff (2002: 5; 2006: 570) voeg by dat daar ook in die eietydse literatuur van Westerse lande 'n oplewing van die modernisme waarneembaar is. Perloff (2006: 571) is van mening dat die twee wêreldoorloë en die Koue Oorlog die momentum van die modernisme bloot uitgestel het en dat baie van die beginsels van die modernisme nou met die aanbreek van die nuwe millenium tot volle bloei kom. Haar navorsing oor die werk van eietydse digters uit die Engelssprekende wêreld soos Susan Howe, Charles Bernstein, Lyn Hejinian en Steve McCaffery bevraagteken die geldigheid van die digotomie tussen modernisme en postmodernisme in die een en twintigste eeu (Perloff 2002: 164; 2006: 577).

Daar is ten minste een belangrike rede waarom 'n vooraanstaande teoretikus soos Fredric Jameson (2002: 151) van mening is dat die breuk tussen modern en postmodern nie heeltemal so beslissend was as wat voorheen geglo is nie (kyk ook Malpas 2005: 40- 1). Jean-François Lyotard se verklaring dat die postmoderne era gekenmerk word deur die einde van die meesternarratiewe, die sogenaamde metaverhale wat die moderniteit gekondisioneer het, word vir kritiek uitgesonder. Met sy gebruiklike retoriese oordaad beweer Jameson (2002: 4) dat Lyotard se bewering omtrent net so deurslaggewend was as die eerste Golfoorlog. Jameson (2002: 3) neem waar dat daar tans 'n oplewing is in 'n modernistiese belangstelling in skoonheid wat die kern vorm van burgerlike ideologieë oor die estetika.4 Hierdie estetiese ideaal gaan gepaard met die trivialisering van alle kunsvorms met 'n dekoratiewe en vermaaklikheidsfunksie.

Jameson argumenteer verder dat 'n verskynsel wat tans veral met die postmodernisme geassosieer word, naamlik die depersonalisering van die subjek, in werklikheid reeds met die modernisme 'n aanvang geneem het. Wat in die verlede by die moderniste beskou is as 'n strewe na 'n nuwe en dieper, ryker subjektiwiteit is volgens Jameson (2002: 136) eerder 'n verlange na 'n ontsnapping van die self. 'n Vergelyking tussen Gerrit Achterberg se gedig "Depersonalisatie" (in Komrij 2004: 995) en Stefan Hertmans se sonnet "Stalker" uit 2003 (in Warren en Molegraaf 2005: 518) met die slotreël: "Die man is gek, hij noemt zich ik", lei inderdaad tot die bevinding dat daar 'n besliste kontinuïteit bestaan in die problematisering van subjektiwiteit by die modernistiese Achterberg en by die postmodernistiese Hertmans. Die uitroep van waansin by Hertmans blyk wel 'n hoër graad van verbrokkeling te veronderstel as die relatiewe beheer waaroor die spreker in die slotreël van "Depersonalisatie" beskik as die afsender van 'n ontvangsbewys: "Ik stuur u vanavond nog het reçu".

Net soos die Franse filosoof Alain Finkielkraut (2005: 53-8) meen die Duitse denker Peter Sloterdijk dat dit nog lank nie afgelope is met die meesternarratiewe nie. Sloterdijk (2006: 10) glo dat die afwysing van "groot narratiewe" self uitgegroei het tot 'n gerieflike "meta-groot-verhaal" (kyk ook Jameson 2002: 5) met as gevolg 'n "venijnige traagheid" in die hedendaagse denke: hy stel naamlik die vraag of die poststrukturalistiese skeptisisme van die afgelope dekades nie tot 'n gedeeltelike verlamming van die denke gelei het nie. Hy lewer 'n pleidooi vir 'n waagmoedige filosofiese praktyk wat daarvoor kans sien om die buitensporige en die chaos aan te durf en te begryp. Hy meen dat die swak punt van die "groot verhale" in die verlede was dat hulle nie groot genoeg was nie en onderneem om in Het kristalpaleis. Een filosofie van de globalisering 'n omvattende meesternarratief te skep rondom globalisering wat hy beskou as 'n eeue-oue fenomeen (vergelyk Van der Vorst 2006).

 

Globalisering, die nuwe meesternarratief?

Ek wil vervolgens graag besin oor die moontlikheid dat globalisering tans geld as die heersende meesternarratief waarna ek die implikasies vir die postmodernistiese literatuur wil ondersoek.

Myns insiens kan 'n mens nie met stelligheid beweer dat globalisering 'n onbetwiste meesternarratief in die hede is nie. Globalisering besit nie dieselfde sekerhede en waarheidsaansprake van vorige meesternarratiewe soos die kommunisme, die liberaalprogressiewe ideologie of die fascisme nie. Sedert die einde van die Koue Oorlog lyk die wêreld nie meer na 'n totaliteit nie. Dit lyk eerder na 'n konglomerasie van verspreide en losse kragte wat op onverwagse plekke 'n neerslag vorm en 'n momentum opbou wat onmoontlik is om te stop (Bauman 2001: 299). Zygmunt Bauman beskryf die klaarblyklike wanordelikheid en onbepaaldheid van globalisering soos volg:

To put it in a nutshell: no one seems to be now in control [...] The deepest meaning conveyed by the idea of globalization is that of the indeterminate, unruly and self propelled character of world affairs: the absence of a centre, of a controlling desk, of a board of directors, a managerial office. Globalization is Jowitt's new world disorder under another name. (Bauman 2001: 299).

Wat wel opvallend is, is dat die waardes van die welvarende lande in die ontwikkelde wêreld in die Noorde toenemend op die armer ontwikkelende lande in die Suide afgedwing word (vergelyk Giddens 2002: 15). Daar is nietemin 'n reaksie teen globalisering en daar word gereeld verwys na die interaksie tussen die globale en die lokale. Volgens Anthony Giddens (2002: 13) is globalisering die rede vir die oplewing van lokale kulturele identiteite in verskillende dele van die wêreld. Die groeiende behoefte by die Skotte om groter onafhanklikheid in die Verenigde Koninkryk te geniet en die sterk separatistiese beweging in Quebec kan nie net aan hulle onderskeie kulturele geskiedenisse toegeskryf word nie. Lokale nasionalismes ontwikkel tans in reaksie op globaliserende tendense namate die greep van die ouer nasiestate verswak. Die kleiner narratiewe van lokale nasionalismes word dus geaktiveer deur globalisering wat in sommige opsigte ooreenkomste met die meesternarratiewe van die moderniteit vertoon.

Etienne van Heerden (1997: 44) se versigtige formulering van die spanningsverhouding tussen die postmodernistiese teks en die meesternarratiewe in sy boek Postmodernisme en prosa is myns insiens steeds geldig maar is dit wel nodig om dit verder te nuanseer in die lig van die veranderende omstandighede rondom die postmodernisme en globalisering. Volgens Van Heerden wil die postmodernistiese teks inskryf téén die wyse waarop politici of kultuurleiers meesterverhale aan die gewone mens wil opdwing ten einde politieke of kulturele opposisie uit te wis. In die gesiglose globaliserende wêreld is dit alleenlik nie meer so eenvoudig om die "politici of kultuurleiers" as inisieerders van meesterverhale te identifiseer nie. In Van Heerden se Casspirs en Campari's (1991) tree die apartheidspresident, oftewel die "Groot Krokodil", nog op as die bron van 'n onderdrukkende politieke sisteem wat dus wel met 'n gesig verbind kan word. Die antagoniste van die karakter Christian in In stede van die liefde, dit wil sê sy kollegas met hul aandrang op kommersialisering van hul kunsbedryf en die Kaapse bendes wat hom viktimiseer, is egter net soos Christian self vasgevang is in 'n onbepaalde netwerk van moeilik vaspenbare magstrominge wat deel vorm van globalisering. Soos dikwels die geval is in Van Heerden se prosa bied In stede van die liefde 'n beeld van weerstand teen die meesternarratiewe vanuit 'n medepligtige posisie. Christian is weliswaar deel van die globaliseringsgolf as die direkteur van 'n kunsbedryf op die internet, maar terselfdertyd probeer hy juis weerstand bied teen die vervlakking wat intree met die kommodifisering van Afrikakuns.

Simon Malpas (2005: 1-2) begin sy boek oor postmoderniteit met 'n vraag na die aard van postmoderniteit en beantwoord dan sy eie vraag deur 'n beskrywing te gee van die verstrooiende effek van die multinasionale, multimedia en interafhanklike wêreldmark. Globalisering blyk vir hom by uitstek 'n simptoom van die postmoderne era te wees, maar hy gee toe dat die terugkeer van grand narrative politics, byvoorbeeld George Bush en Tony Blair se oorlog teen terrorisme wat nie losgedink kan word van die globale politiek nie, ten minste op retoriese vlak dui op die volhardende teenwoordigheid van die moderne. Hy stel voor dat 'n meer genuanseerde opvatting van postmoderniteit ontwikkel moet word erkenning gee aan die spanningsverhouding met die moderne (Malpas 2005: 41).

Hierteenoor dring die Marxistiese filosoof Antonio Negri (2008: 47-8) om strategiese redes aan op 'n besliste breuk tussen modern en postmodern en hy maak dit duidelik dat hy globalisering beskou as onlosmaaklik verknoop aan die postmoderniteit en die uitbreiding van die kapitalisme na elke aspek van die bestaan: "There is no outside to our world of real subsumption of society under capital. We live within it, but it has no exterior; we are engulfed in commodity fetishism - without recourse to something that might represent its transcendence. Nature and humanity have been transformed by capital." (Negri 2008: 25).

Alhoewel Negri (2008: 23) doelbewus versigtig is om die alles oorwoekerende kapitalisme en globalisering as metaverhale te beskryf, suggereer die omvattende aard van hierdie verskynsels in sy werk dat globalisering binne die postmoderne tydvak vir hom wel as 'n metaverhaal funksioneer. Anders as by Lyotard is daar vir Negri egter nie meer opponerende metaverhale nie, aangesien die biopolitieke werking van globalisering alle weerstand na die kantlyn uitgeskuif het. Ook in sy voorstelle vir opposionele optrede beweeg Negri (2008: 62-3) weg van klas en klassewrywing en verkies hy om te fokus op die menigte ("multitude"), en spesifiek dit wat die menigte gemeen het ("the common"), as die moontlike bron van antagonistiese optrede.5

Die werk van denkers soos Bauman, Giddens, Malpas, Sloterdijk en Negri plaas dus wel deeglik die verband tussen globalisering, kapitalisme, moderniteit en postmoderniteit in die soeklig. Die groeiende gewaarwording van globalisering as 'n soort meesterverhaal sonder 'n duidelik aantoonbare swaartepunt en sonder enige aanwysbare teenspeler lei tot die vraag of dit slegs met die postmoderne - wat immers skepties staan teenoor meesterverhale - geassosieer moet word en of dit heenwys na die hardnekkige voortbestaan van die moderniteit in 'n kontinuüm met die postmoderniteit. Soortgelyke vrae word ook opgewerp in die literêre debat oor die periodisering van die modernisme en postmodernisme. Die resepsie van In stede van die liefde bied boeiende insigte wat met hierdie debat verband hou.

 

In stede van die liefde: globalisering, modernisme en postmodernisme

Met romans soos In stede van die liefde en Raka die roman staan die literatuurwetenskap voor die moeilike uitdaging om die artikulasie tussen globalisering, postmodernisme en die uitlopers van die modernisme met omsigtigheid na te vors. Met spesifieke verwysing na die artikels van Ronél Johl (2006a; 2006b), H. P. Grebe (2006) en Heilna du Plooy (2007) en wil ek kortliks ingaan op hierdie drie kritici se boeiende pogings om lig te werp op Van Heerden se omgang met globalisering, postmodernisme en modernisme in sy roman. Aan die hand van die motief van verglyding en plaasvervangerskap in In stede van die liefde wil ek dan 'n eie bydrae lewer om die implikasies van die spanningsverhouding tussen modernisme, postmodernisme en globalisering in die roman uiteen te sit.

 

Kritici oor In stede van die liefde

Beide die kritici Heilna du Plooy en Ronél Johl interpreteer In stede van die liefde as 'n postmodernistiese roman. Du Plooy (2007: 88-9) merk byvoorbeeld op dat die karakter Christian in die roman "as postmoderne, geglobaliseerde mens 'n voorbeeld is van iemand wat nie 'n vaste identiteit het nie, wat identiteite ontwikkel en skep of konstrueer soos wat omstandighede dit vereis. As postmoderne mens is hy hiertoe in staat met 'verwaande argeloosheid (18)'.6 Johl (2006a: 219) verbind haar tot 'n niereduksionistiese lesing van die roman "binne 'n postmodernistiese raamwerk".

'n Interessante aspek van Du Plooy en Johl se bevindings is dat albei deeglik kennis neem van die modernistiese elemente in Van Heerden se roman. In haar artikel vermeld Johl (2006a: 217) Van Heerden se mening in Postmodernisme en prosa dat dit ook waardevol is om erkenning te gee aan die modernisme in 'n postmodernistiese teks aangesien daar geen ondeurdringbare grens tussen modernisme en postmodernisme bestaan nie. Sy identifiseer dan die volgende modernistiese diskoerse in In stede van die liefde: die speurverhaalelement soos verteenwoordig deur Stanley Syster, wat baie gemeen het "met die moreel ambivalente en semikriminele private speurders uit die modernistiese era" (Johl 2006b: 141); die argeologiese rekonstruksie in die stedelike verhaallyn; en die dieptepsigologiese problematiek oor Christine wat as kind gemolesteer is (Johl 2006a: 219). Die speurder, die argeoloog en die dieptesielkundige se soektogte na oorspronge en sluiting word egter gekortwiek wat Johl (2006a: 222; 2006b: 143) tot die gevolgtrekking bring dat Van Heerden se roman uiteindelik 'n postmoderne parodie van singewende metaverhale uit die literêre moderniteit is.

Dit is ook moontlik dat H. P. Grebe (2006) se kritiek op die taalgebruik in In stede van die liefde heenwys na 'n modernistiese uitdaging deur Van Heerden van die uitdrukkingsmedium waarin hy In stede van die liefde aangepak het. Sowel vernuwing as 'n selfbewuste omgang met die estetiese medium waarin 'n betrokke kunswerk aangebied word, is immers tipies modernistiese verskynsels. Jameson (2007: 8) het dit byvoorbeeld oor die impuls by alle moderniste om 'n spekulatiewe sprong na 'n utopiese en radikaal andersoortige soort taalgebruik te maak. Grebe (2006: 97) identifiseer "registerbotsings" en "bevreemdende woordgebruik" in Van Heerden se roman en kritiseer ook die beeldgebruik wat vir hom vreemd aandoen hoewel hy toegee dat die skrywer se "struktureel vreemde sinne" moontlik verband hou met 'n poging om sy roman in 'n soepel Stadsafrikaans te skryf (Grebe 2006: 103).

Die vreemdheid wat Grebe herhaaldelik uitlig, word selfs verder gevoer in Van Heerden se roman 30 nagte in Amsterdam van 2008. Willie Burger (2008: 22) skryf oor Van Heerden se "verbysterende taalvermoë" in 30 nagte in Amsterdam waarmee "die leser se aandag op die uitdrukkingsvermoë van die taal self gevestig" word. Die taalgebruik in die roman is volgens Burger 'n "verset teen die taal van die markplein, die politiek en die burokrasie". Vanuit uit twee verskillende benaderings en oor twee verskillende romans deur Van Heerden registreer Grebe en Burger albei iets van 'n modernistiese vooropstelling van die estetiese medium waarmee die kunstenaar vernuwing wil bring.

Dit wil selfs voorkom asof die soort kritiek wat Jameson oor die postmoderniste se omgang met taal uitspreek, ook by Van Heerden aanklank vind. Volgens Jameson (2007: 8) het die moderniste se utopiese idee om die taal te suiwer met die herskepping van 'n dieper kommunale of kollektiewe funksie, om dit te reinig van alles wat instrumenteel of kommersieel is, met die aanbreek van die postmodernisme uit die blikveld verdwyn. In 'n gemeenskap wat deur die skouspel en die elektroniese media gekondisioneer word, wil dit voorkom asof die taal self oor 'n eindelose kapasiteit beskik om reïfikasie en kommodifisering te ondergaan. Jameson (2007: 8) praat verder van "the utterly unanticipated fact that, far from offering a power that can resist cliché and doxa, language itself turns out to be the very source of such degradation in the first place". In In stede van die liefde en in 30 nagte in Amsterdam dramatiseer Van Heerden hierdie druk wat op die taal uitgeoefen word en veral in laasgenoemde roman gaan hy oor tot 'n soort modernistiese versetspoging in die taalgebruik van sy karakter, die vryheidstryder Xan de Melker.

Anders as Johl volstaan Du Plooy (2007: 96-7) nie met die vasstelling dat In stede van die liefde 'n voorbeeld van 'n tipiese postmodernistiese parodie is nie. Sy neem waar dat daar by die postmodernistiese karakters wat nonchalant stede en liefdes deurkruis uiteindelik 'n bewustheid van limiete, "van onoorskrybare grense", is: "Op ironiese wyse het 'n mens dus hier te make met 'n postmodernistiese teks wat die postmodernistiese aannames uitdaag en verbreek. Die roman deurbreek juis lineêr en esteties die aanvaarbare norme van die dag. Die postmodernistiese werkwyse word gebruik teen en nie in instemming nie met die postmodernistiese mites." Meer nog as Johl neem Du Plooy dus kennis van die postmodernistiese uitputting in Van Heerden se roman, 'n vasstelling wat ek deur 'n studie van die motiewe van verglyding en plaasvervangerskap in die roman verder wil koppel aan die aanwesigheid van globalisering as 'n onstabiele meesternarratief.

Verglyding en plaasvervangerskap

Die vorm waarin globalisering as 'n diffuse meesternarratief gestalte kry in In stede van die liefde, is onder meer deur Christian se voortdurende gewaarwording van "verglyding". Hy beskryf dit soos volg: "Die woord verglyding kom so dikwels by my op. Dis wat hierdie tyd is. 'n Tyd waarin dinge gewoon aan die beweeg gegaan het [...]. Later is daar net enkele eilande in die molm. Holtes vir ons voete. Ons vergly. Vir my 'n situasie nie sonder opwinding nie" (100). Met hierdie opmerking verwys Christian na die klaarblyklike onvermoë van enige individu of selfs groeperings om doelgerigte veranderinge in die geglobaliseerde wêreld teweeg te bring met die gevolg dat individue voel dat hulle uitgelewer is aan die vinnige momentum van die voortdurend veranderende wêreld. In hierdie konteks is die enigste konstante vir veral die jonger generasie "die sekerheid van voortdurende verandering" (45).

Die woord globalisering verwys vernaamlik na "globale gevolge", wat onbedoeld en onverwags is, en nie soseer na "globale optrede" nie. Ons optrede mag globale gevolge hê, maar ons beskik nie oor die vermoë om aksies te beplan en uit te voer wat doelbewuste globale veranderinge tot gevolg sal hê nie. Soos Zygmunt Bauman (2001: 299-300) opmerk, gaan globalisering nie soseer oor dit wat ons hoop om deur ons eie toedoen uitgerig te kry nie, maar wel dit wat met ons almal besig is om te gebeur.7 Die indiwidu word dus oorweldig deur 'n gevoel dat hy of sy sonder veel inisiatief uitgelewer is aan 'n permanente verglyding, 'n woord wat dui op verandering en 'n gebrek aan vastigheid. In sy resensie van In stede van die liefde verwys Desmond Painter (2006) ook na Bauman wat hierdie soort meedoënlose vloeibaarheid en ad hoc-aard van verhoudings en identiteite as liquid modernity omskryf.

Christian besef dat alhoewel hy die verglyding soms opwindend vind (100), hy ook sukkel om die verglyding wat rondom hom 'n werklikheid is, te verwerk. Hy voel dat daar niks egs in sy lewe is "onder die nuwe regime van haas en verglyding" nie. Die Afrikakuns waaraan hy hom in sy internetbedryf toegewy het, het plek gemaak vir kurio's - nabootsings van die werk wat deur kunstenaars voortgebring is. Hy ervaar dus 'n gebrek aan outentisiteit in sy lewe (kyk ook Van der Merwe 2007: 111). Soos die motto uit die werk van Evelyn Waugh voorin In stede van die liefde te kenne gee, is dit onmoontlik om die essensie van die self vas te vang: "I am not I: thou art not he or she: they are not they". Christian word ontstel deur die vasstelling dat hy nie sy ware self, of die waarheid omtrent enigiets in sy wêreld, kan terugvind nie.

Charles Guignon (2004: 119) merk op dat postmodernistiese denkers die oorspronklike konsep van outentisiteit laat vaar het wat outentisiteit gelykgestel het aan trouwees aan 'n substansiële Ware Self. Die postmodernis glo moedig daaraan dat daar geen "Ware Self " is nie en dat daar waar ons voorheen na 'n "Ware Self" gesoek het daar net 'n leë ruimte, 'n gaping of 'n leemte is. Die postmoderne ideaal is om juis daardie leemte wat die subjek konstitueer op 'n speelse en ironies-geamuseerde manier uit te leef.

Soos vantevore in sy werk (byvoorbeeld in Casspirs en Campari's) repudieer Van Heerden egter hierdie postmoderne ideaal. Daar is in sy roman 'n hunkering na die transendente wat korrespondeer met en legitimiteit gee aan essensies soos die ware liefde en die ware self (vergelyk Rossouw, 2006: 13). Christian is ten spyte van homself "'n troue burger van die republiek van verglyding" (420); sy wese is verweef met die verglyding en parodie wat so bepalend is in die postmoderne geglobaliseerde wêreld. In die slot van die roman maak hy egter die voorneme om in sy verhouding met Christine die verglyding hok te slaan en om die liefde op 'n suiwer manier tussen hulle te herstel. Wanneer hy hierdie nuwe begin maak deur vir Christine te sê, "My naam is Christian" (538), weerklink Evelyn Waugh se woorde weliswaar steeds dat "ek" nie werklik "ek" is nie, maar die slotmotto van Leonard Cohen suggereer dat die liefde ("a love so vast and shattered / It will reach you everywhere") postmodernistiese ironie en vervalsing sal kan oorkom of ten minste sal kan strem.

Hierdie behoefte aan outentisiteit verbind die motief van verglyding in die roman met die motief van plaasvervangerskap. Vir Christian is die liefde, spesifiek sy "groot liefde vir sy vrou te midde van 'n rasende wêreld" (Viljoen 2005: 4), die grootste prioriteit in sy lewe. Soos die titel van die roman suggereer, word die liefde sentraal geplaas. Dit is die sentrum van egtheid en betekenisvolheid en alles wat "in stede van die liefde" kom, word geassosieer met valsheid. Christian se besige lewe as 'n pendelaar tussen Johannesburg en die Kaap, sy werk as kunshandelaar op die globale verhoog en sy kokaïengewoonte dreig om as plaasvervangende lewensinhoude verwydering tussen hom en sy gesin te veroorsaak.

Van Heerden bevestig self dat die verwysings na plaasvervangerskap in sy roman verband hou met die "tweede betekenis van 'in stede'" soos dit in die titel gestel word (Van Heerden en Dorfling 2005: 4). Die Kaapse bende wat Christian teister, beskou hom as 'n plaasvervangende teiken wat moet instaan vir hulle woede en frustrasie oor hulle armoede en gebrek aan geleenthede. As 'n welvarende wit man wat met 'n luukse motor ry, versinnebeeld hy alles wat die bruin bende blameer vir hul gebrek aan keuses. Globalisering het daartoe gelei dat welvaart gekanaliseer is na 'n baie klein elite en slegs 22% van die globale rykdom behoort aan die sogenaamde ontwikkelende wêreld alhoewel 80% van die wêreldbevolking in die ontwikkelende lande woon (Bauman 2001: 305). Die groeiende misdaadgolf in Suid-Afrika is 'n reaksie op hierdie groot gaping tussen ryk en arm. Hoewel die Kaapse bendelede dit waarskynlik nie so sou verwoord nie, verduidelik die kriminoloog Bernard Fagan vir Christian dat hy vir die bende 'n simbool, 'n plaasvervanger is (93). Christian simboliseer die elite wat bevoordeel word deur die nuwe globale orde.

Die motief van plaasvervangerskap is in In stede van die liefde nie beperk tot Christian as karakter nie. Ook Snaartjie Windvogel dien vir Miss Edelweiss as 'n plaasvervanger van haar eie dogtertjie, dit wil sê Christine Lemmer, wat sy as vierjarige vir aanneming moes weggee. Miss Edelweiss verset haar egter met rampspoedige gevolge teen hierdie plaasvervangende liefde vir Snaartjie (493-5) en moedig vir Piet Windvogel aan om vir Snaartjie saam met die Nigeriese dwelmhandelaars Kaap toe te stuur.

Op verskillende maniere is daar in die roman 'n hunkering na ware, onvervalste liefde, maar in die postmoderne wêreld waarin die simulacrum die toon aangee, is egtheid moeilik om te vind. In New York as een van die sogenaamde stede van die liefde lees Christian in 'n advertensie vir die Empire State-gebou "dat die woord love die vorige jaar meer as drie miljoen keer op die uitkykpunt geuiter is" (271). In die stede van die liefde is daar in stede van liefde eerder advertensies wat die liefde op dieselfde goedkoop en gedeïndividualiseerde manier voorstel as die "slagspreuke" en "hard sell" (270) wat die handelskultuur van New York as 'n enjinkamer van globalisering kenmerk.

Stad teenoor platteland

New York is een van 'n hele aantal wêreld- en Afrikastede (Antwerpen, Wenen, Berlyn, Harare, Johannesburg en Kaapstad) wat in Van Heerden se roman voorkom. Volgens Van Heerden stel hy in In stede van die liefde "die plattelandse teenoor stedelike ruimte" (Van Heerden en Kemp 2005: 73) en benut hy hierdie kontras as die basis van sy vertelling. Vir hom is die Karoo 'n ruimte wat hy as jeugdige verloor het toe sy moeder besluit het om die Karoo te verlaat na die dood van sy vader. Die Karoo staan dus vir Van Heerden in die teken van verlies, 'n ruimte wat hy sedertdien omskep het in "'n persoonlike mitologie". Hy erken egter dat hy weens sy gereelde reise die afgelope dekade hom tans op sy tuisste in stede begin voel. In stede van die liefde lewer blyke van sy belangstelling in gesprekke oor "plek en verplasing. Oor transaksies tussen die eie en die globale. Oor identiteit" (Van Heerden 2005b).

In die akademiese diskoers word die verhouding tussen "plek en verplasing" soms "glokalisering" genoem. Hierdie sametrekking van die woorde "globalisering" en "lokalisering" dui op die komplementariteit van die spanningsverhouding tussen die plaaslike, plekgebonde konteks en die globaliserende impuls om die beperkinge van ruimte te oorskry. Hierdie tweeledige proses gaan gepaard met die herverdeling van hulpbronne, mag en die vryheid om optrede te inisieer (Bauman 2001: 303-4). Vir diegene wat aan die ontvangkant is van hierdie herverdeling is plek en ruimte nie meer 'n belemmering nie: elke afstand kan met gemak oorbrug word danksy vrye toegang tot wêreldwye vervoernetwerke of die virtuele geriewe van die kommunikasietegnologie. Vir die massa armes is hierdie vryhede nie beskore nie: hulle besit nie dieselfde mobiliteit nie en is onderworpe aan die beperkinge wat fisieke ruimte aan hulle stel (Bauman 2001: 306-7). Trouens, die bewegingsvryheid van die armes word toenemend beperk deur die oprigting van veilige sones en ommuurde woonkomplekse en die verskerping van reisregulasies en immigrasiewetgewing (Bauman 2001: 309). Bauman (2001: 308) verwys na die globalisering wat ruimte dematerialiseer en oorskry as die postmoderne weergawe van vryheid terwyl die uitsiglose lokalisering van die armes volgens Bauman beskou kan word as die postmoderne weergawe van slawerny. In 'n artikel oor Breyten Breytenbach bestudeer Louise Viljoen (2002: 170-1) dieselfde spanning tussen die globale en die lokale na aanleiding van Manuel Castells wat verkies om na glokalisering te verwys as 'n spanning tussen 'n "space of flows" en 'n "space of places".8

In stede van die liefde bied 'n beeld van stede as ruimtes waar welvaart gesentraliseer word, maar ook as ruimtes waar die koms van die virtuele eeu gepaardgegaan het met 'n vestiging van plaasvervangerskap, 'n gebrek aan outentisiteit, 'n vervreemding van kernwaardes. In sy roman representeer Van Heerden die groeiende gaping tussen ryk en arm aan die hand van Kaapstad waar die welvarende toeriste, "(r)oerloos in hul strandstoele in die son, agter hulle sonbrille, die son aan die indrink, die see aan't fluister", hul bewegings beperk tot "die gegoede buurte wat soos koraal teen die berg koek. Min weet hulle van wat agter die groot brok rots, Tafelberg, gebeur. Aan die ander kant. Die verflenterde dele van Woodstock wat afloop in die kleinindustrieë van Epping en die uitgestrekte plate van Athlone, Grassy Park, Bishop Lavis en Elsiesrivier." (236). Van Heerden beskryf die massiewe plakkerskampe rondom Kaapstad as "'n sluitspier van sink en sand" wat begin om die ryker stadsdele in 'n wurggreep vas te vang (280). Die verdiepende kloof tussen ryk en arm skep die verwagting dat die misdaadgolf waarby die Kaapse bendes betrokke is die voorloper van meer omvattende sosiale onrus is.

Christian voel dat die plaasvervangerskap wat in die stede die karakter van 'n wetmatigheid gekry het ook op hom (en sy seun Siebert) 'n invloed uitoefen: "Hier vanuit New York kry alles 'n strokiesprentkarakter: breë, goedkoop trekke. Is dit hoe Siebert, grootgemaak op Amerikaanse televisie, die wêreld sien? Sy pa as plaasvervanger? Hoe al hierdie mense - Bush ingeslote - dinge ervaar?" (273). Christian betreur verder die feit dat al die stede van Europa vervuil is van kitsch aandenkings wat besoekers daarvan weerhou om die ware stad te kan sien. Besoekers word met hierdie aandenkings verlei om te volstaan met 'n oppervlakkige en kunsmatige kennismaking met die stad waardeur hulle blind bly vir "die verstopte rioolstelsels, die rokende fabrieke, die verslete boemelaars" (296). Binne hierdie globale kosmopolitiese omgewing waarin artifisialiteit as die motor van die geldmag optree, bied Christian weerstand teen die neiging om alles in terme van geld na waarde te skat: "Met sy geeks baklei Christian, ridder van die utopiese web, oor die groot stryd tussen inhoud en sakegerigte interaktiwiteit; kontrakultuur en die mark se eise" (47). Al besef hy dat hy self betrokke is by hierdie verglyding wat hy rondom hom raaksien, betreur hy tog die verskuiwing "van erns en aandagtigheid na videobeeld en interaktiwiteit" (86). Tydens 'n landing na 'n reis per vliegtuig ('n Boeing), die vervoermiddel wat by uitstek globalisering fasiliteer, word Christian bewus van 'n stille skreeu "in die druisende stad onder hulle, oor die glinsterende aardbol heen" (350). Die krisis in waardes klink op uit die stad, maar sprei uit oor die hele aarde aangesien globalisering vanuit die stad beslag kry.

Vir Christian is stede erotiese ruimtes (373, 384). In Berlyn beleef hy 'n erotiese ontmoeting met 'n vrou wat uiteindelik 'n Picasso-skildery, "Die soen", probeer skend omdat die belofte van erotiese kontak tussen haar en Christian nooit 'n werklikheid word nie. Die skildery word 'n uitbeelding van 'n toneel wat vir haar nie beskore is nie. Die skildery is volgens Christian se interpretasie verder geen liefdevolle kus nie, maar eerder oorlog (375). Hoewel Christian stede as "stede van die liefde" en erotiek sien (195), word die liefde konsekwent versluier, vervals of geperverteer deur die krisis in waardes wat mense in die postmoderne era van globalisering vervreem van standhoudende waardes wat kan sin gee aan hul bestaan. By die skilder Joachim Zonneveld in Antwerpen is daar 'n hunkering na die liefde, maar hy leef in 'n stad wat die liefde verraai het. In die volgende aanhaling blyk dit hoe Christian 'n verband trek tussen, aan die een kant, die belang van tyd en effektiewe kommunikasiemiddels (vervoerstelsels) in die kosmopolitiese ruimte en, aan die ander kant, die verval van die liefde: "Die meedoënlose gang van horlosies in die uitstalvensters oorkant die Antwerpse stasiegebou; die onophoudelike vertrek van treine en trems, die busse wat oor en oor hul roetes ry; die verraad van liefde en die toevlug na sado-masochisme en die verskriklike aandoen van mense aan mekaar" (348).

Die mense op die plattelandse Matjiesfontein is nie deel van die bevoorregte stadskultuur nie. Van hulle word verwag om bloot toeskouers te wees van die "kom en gaan van treine; die kom en gaan van reisigers; van dae en seisoene; van drome en lewens". Daar is "net die kom en gaan en niks anders nie" (172). Hulle sien dus die effekte van die globale wêreld en word soms daarby betrek (meestal met vernietigende gevolge), maar dit is hulle nie beskore om deel te hê aan die ekonomiese vooruitgang wat daarmee geassosieer word nie.

In Matjiesfontein is die inwoners gebonde aan eeue-oue reëls (175) en is daar 'n behoudende aandrang dat jy nie jou verbondenheid aan jou geskiedenis mag verwaarloos of vergeet nie (187, 539). Die plattelandse Karoo-omgewing is verder 'n tuiste vir werklik eksentrieke mense soos Eaglejohn Fieldhouse en Miss Edelweiss wat nie hoef te konformeer aan die eise van die gelykskakelende stadskultuur nie.

Soos Bauman (2001: 303-4) aandui, is daar 'n komplementariteit in die verskynsel van glokalisering: die lokale en die globale kan nie geskei word in die herverdeling van ekonomiese hulpbronne nie. Die lokale word in hierdie proses ontneem van invloed namate die geldmag in die stede as die enjinkamers van globalisering gesentraliseer word. Piet en Snaartjie Windvogel van Matjiesfontein word betrokke by die Nigeriese dwelmhandelaars, migrante wat weens globalisering hulle pad na Suid-Afrika gevind het. Migrasie is immers een van die opvallendste effekte van globalisering. Piet Windvogel word aangelok deur die belofte van rykdom wanneer hy betrokke raak by die dwelmsmokkelary van die Nigeriërs, maar uiteindelik beland hy in die tronk en sy dogter Snaartjie word ontvoer om waarskynlik as 'n kinderslaaf of -prostituut te gaan werk. Die Matjiesfonteinse gemeenskap word dus ontwrig deur globalisering en die inwoners se marginalisering brei uit.

 

Slot

In sy gekwelde omgang met die verglyding en plaasvervangerskap van die globale orde en deur sy verlange na groter outentisiteit reik die karakter Christian in Etienne van Heerden se In stede van die liefde terug na die bolwerk van vaste waardes en die transendente wat ook in die vorm van die Christelike godsdiens om die hoek loer in die naamgewing van Christian en Christine. Hierdie nostalgie vir die sekerhede wat met die groot narratiewe van die moderniteit geassosieer word, is nie 'n nuwe verskynsel in Van Heerden se werk of, trouens, in die Afrikaanse postmodernistiese literatuur nie. Binne die literatuurwetenskap het die gekonsentreerde belangstelling in die postmodernisme met 'n nogal rigiede uitsluiting van die gestigmatiseerde voorafgaande, die modernisme, tot 'n verskraling in die Afrikaanse teorievorming gelei.

Dit wil voorkom asof die opkoms van globalisering, wat die gedaante van 'n diffuse en multidimensionele meesternarratief aangeneem het, die modernistiese impuls in postmodernistiese romans soos In stede van die liefde en Raka die roman op herkenbaarder manier in reliëf geplaas het. Dit is asof die ervaring van globalisering as 'n meesternarratief noodwendig moes lei tot 'n sterker hunkering na ouer modernistiese ideale wat dikwels met ouer meesternarratiewe geassosieer is. Die uitdaging is om die modernistiese elemente in die eietydse literatuur te bestudeer met 'n teoretiese benadering wat die postmodernisme en globalisering deeglik verreken het sodat die nuwe verskyningsvorms van die modernisme nie met verouderde teorieë oor die modernisme bestudeer sal word nie.

 

Aantekeninge

1. Kannemeyer (1998: 14) se twyfel aan die waarde van die postmodernisme as 'n periodiseringskonsep in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie blyk uit sy opmerking dat Poskaarte "geen werklike bydrae tot die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse poësie vanaf 1960" lewer nie. Kannemeyer is in sy literatuurgeskiedskrywing besonder huiwerig om die Afrikaanse literatuur met groter strominge, spesifiek die modernisme en die postmodernisme, in die wêreldliteratuur te skakel. In sy bespreking van Alexander Strachan se postmodernistiese roman Die jakkalsjagter volstaan hy byvoorbeeld in Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 (Kannemeyer 2005: 651) met die opmerking dat Die jakkalsjagter inspeel op narratologiese teorieë en dat dit "'n verwikkelde moderne roman" is.

2. Sien ook Ronél Foster (2002) se repliek op Helize van Vuuren (1999: 251) se kritiek wat insluit dat die geskakeerdheid van die Afrikaanse poësie dit onmoontlik maak om die poësie sedert 1960 "net onder die noemer 'postmodernisties' te klassifiseer ".

3. Foster en Viljoen (1997: xxvi-xxxiii) identifiseer byvoorbeeld sonder veel moeite en kwalifiserings die volgende "tendensies" in die postmodernistiese poësie: die afwys van 'n finale, afsluitende betekenis; selfrefleksiwiteit; die rol van die leser as mede-outeur van die teks; intertekstualiteit; die ontginning van elemente uit die massakultuur; die vermenging van feit en fiksie; die verwerking van historiese materiaal; die invloed van die elektroniese kultuur; die belangstelling in randgebiede; verstegniese verskeidenheid; en speelsheid. Kyk ook Vaessens en Joosten (2003: 37-61) se identifikasie van tipiese postmodernistiese "probleme" in die Nederlandstalige poësie.

4. Philip John (2000b) se pleidooi vir 'n terugkeer na 'n literatuurbenadering wat groter prominensie verleen aan estetiese oorwegings kan moontlik in die kritiek beskou word as 'n Afrikaanse verskyningsvorm van die terugkeer na die modernisme.

5. Negri (2008: 69-70) verduidelik sy begrip van die gemene ("common") soos volg: "We could provide numerous examples of the indistinction between private and public at the heart of which the common emerges. This is particularly visible in those domains modified by die development of recent technologies. What happens on the web, and the way in which public and private rights enter into conflict with common practices, is now a daily phenomenon"; en: "As for capital, the question is neither to elucidate nor to circumvent the division between public and private, but simply to take advantage of the common - understood, as we have seen, as common activity." Uit hierdie woorde blyk die dubbelsinnigheid van hierdie begrip. Die gemene lê naamlik aan die basis van die kapitalisme, maar dit is terselfdertyd ook die materiële oorsprong van moontlike antagonistiese optrede. Daar is dus geen definitiewe skeidslyn tussen die gemene as die premis van kapitalisme en die gemene as 'n radikale uitdaging daarvan nie.

6. Waar slegs bladsynommers aangedui word, word verwys na Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005).

7. Bauman (2001: 299-300) skryf: "Globalization is not about what we all or at least the most resourceful and enterprising among us wish or hope to do. It is about what is happening to us all. It explicitly refers to the foggy and slushy 'no man's land' stretching beyond the reach of the design and action capacity of anybody in particular."

8. In die resepsie van In stede van die liefde is hierdie spanning ook op ander maniere verwoord. Etienne Britz (2005: 13) verwys na die spanning tussen die videosfeer (die geglobaliseerde stedelike omgewing) en die logosfeer (Matjiesfontein en die platteland) na aanleiding van Régis Debray se werk. Willie Burger (2005: 2) skryf kortliks oor die modernistiese en postmodernistiese elemente in Van Heerden se roman.

 

Bronnelys

Attwell, David. 2005. Rewriting Modernity. Studies in Black South African Literary History. Pietermaritzburg (Scottsville): University of KwaZulu-Natal.         [ Links ]

Bauman, Zygmunt. 2001. The Bauman Reader. Malden (Massachusetts) & Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Bezuidenhout, Andries. 2005. Postmodern - of terug in skubbe? Rapport ("Perspektief"), 13 November, 4.         [ Links ]

Britz, Etienne. 2005. Van Heerden sien met helderheid. Die Burger, 24 Oktober, 13.         [ Links ]

Burger, Willie. 2005. Tussen realisme en fantasie ontglip werklikheid. Beeld (Plus), 3 Desember, 2.         [ Links ]

______. 2008. Etienne van Heerden op ongekende noot van grasie. Rapport, 14 Desember, 22.         [ Links ]

Chapman, Michael. 2006. Arts Talk, Politics Talk. A Consideration of Categories. Pietermaritzburg (Scottsville): University of KwaZulu-Natal.         [ Links ]

Cuddy-Keane, Melba. 2006. Global Modernisms. In David Bradshaw & Kevin J.H. Dettmar (eds.). A Companion to Modernist Literature and Culture. Malden, Oxford & Victoria: Blackwell, 558-64.         [ Links ]

Du Plooy, Heilna. 2007. Weerskante van die slot: semiosfere in Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, XIX (1): 83-102.         [ Links ]

Finkielkraut, Alain. 2005. Nous autres, modernes. Quatre leçons. Paris; Palaiseau: Ellipses; École Polytechnique.         [ Links ]

Foster, P. H. 2000. Postmodernisme en poësie, met spesifieke verwysing na Wilma Stockenström se historiografiese metagedig Die heengaanrefrein. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Foster, Ronel. 2002. Postmodernisme en poësie: 'n Uitnodiging tot kritiese dialoog. Stilet, XIV (2): 186-216.         [ Links ]

Foster, Ronel & Louise Viljoen. 1997. Inleiding. In Ronel Foster & Louise Viljoen. (samest.). Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau, xxiii-xxxiii.         [ Links ]

Fouché, Jaco. 1996. Die ryk van die rawe. Kaapstad: Queillerie.         [ Links ]

______. 2005. Die avonture van Pieter Francken. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Friedman, Susan Stanford. 2006. Periodizing Modernism: Postcolonial Modernities and the Space/ Time Borders of Modernist Studies. Modernism / Modernity, 13(3): 425-43.         [ Links ]

Giddens, Anthony. 2002. Runaway World. How Globalisation is Reshaping our Lives. Hatton: Profile.         [ Links ]

Grebe, H. P. 2006. Etienne van Heerden: Mooi loop met die woorde! Tydskrif vir letterkunde, 43(2): 91-106.         [ Links ]

Guignon, Charles. 2004. On Being Authentic. London & New York: Routledge (Thinking in Action).         [ Links ]

Jameson, Fredric. 2002. A Singular Modernity. Essay on the Ontology of the Present. London & New York: Verso.         [ Links ]

______. 2007. The Modernist Papers. London & New York: Verso.         [ Links ]

Johl, Ronél. 2006a. "Onvaspenbare betekenis" in Etienne van Heerden se In stede van die liefde. Tydskrif vir taalonderrig, 40(1): 211-23.         [ Links ]

______. 2006b. Verby die plesierbeginsel in Etienne van Heerden se In stede van die liefde. Tydskrif vir taalonderrig, 40(2): 140-51.         [ Links ]

John, Philip. 2000a. Afrikaans as eks-sentriese letterkunde: Postmodernisties, hardegat en hoopvol in Suid-Afrika. Tydskrif vir letterkunde, XXXVIII(1/2): 8-20.         [ Links ]

______. 2000b. Versoening, Aufarbeitung, Renaissance, Verligting: Wat eis die Suid-Afrikaanse verlede van ons? Stilet, XII(2): 43-61.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. 1998. Uiteenlopende beelde van poësie sedert 1960. Rapport, 11 Januarie, 14.         [ Links ]

______. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Kombuis, Koos. 2005. Raka die roman. Kaapstad & Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Komrij, Gerrit. (samest.). 2004. Nederlandse poëzie van de 19de tot en met de 21ste eeuw in 2000 en enige gedichten. Deel 1. Amsterdam: Bert Bakker.         [ Links ]

Louw, N. P. van Wyk. 1962. Tristia en ander verse, voorspele en vlugte, 1950-1957. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Malpas, Simon. 2005. The Postmodern. London, New York: Routledge (The New Critical Idiom).         [ Links ]

Negri, Antonio. 2008. The Porcelain Workshop. For A New Grammar of Politics. Los Angeles: Semiotext(e).         [ Links ]

Nicol, Bran. 2006. Postmodernism. In David Bradshaw & Kevin J.H. Dettmar (eds.). A Companion to Modernist Literature and Culture. Malden, Oxford & Victoria: Blackwell, 565-70.         [ Links ]

Painter, Desmond. 2006. 'n Dieretuin van die onbewuste: Etienne van Heerden se In stede van die liefde. Die vrye Afrikaan. <www.vryeafrikaan.co.za/site/lees.php?id=452> Toegang: 26 Januarie 2010.         [ Links ]

Perloff, Marjorie. 2002. 21st-Century Modernism. The "New" Poetics. Malden & Oxford: Blackwell.         [ Links ]

______. 2006. Epilogue: Modernism Now. In David Bradshaw, David & Kevin J.H. Dettmar (eds.). A Companion to Modernist Literature and Culture. Malden, Oxford & Victoria: Blackwell, 571-8.         [ Links ]

Roos, Henriette. 2005. Kombuis sorg vir kragtoer. Rapport ("Perspektief "), 13 November, 4.         [ Links ]

Rossouw, Johann. 2006. Ekumene bo als, eerder as om transendente te pak. Beeld, 28 Januarie, 13.         [ Links ]

Sloterdijk, Peter. 2006. Het kristalpaleis. Een filosofie van de globalisering. Amsterdam: SUN.         [ Links ]

Snyman, Johan. 2006. N. P. van Wyk Louw, die projek van die moderne, en kuns. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: LAPA, 300-22.         [ Links ]

Vaessens, Thomas & Jos Joosten. 2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nijmegen: Vantilt.         [ Links ]

Van der Merwe, Chris. 2007. 'n "Terapeutiese perspektief " op Etienne van Heerden se In stede van die liefde (2005). Stilet, XIX(1): 103-14.         [ Links ]

Van der Vorst, Christophe. 2006. This is Major Tom to Ground Control. Peter Sloterdijk ontdekt de wereld. Yang, 42(2): 217-26.         [ Links ]

Van Heerden, 1991. Casspirs en Campari's. 'n Historiese entertainment. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1997. Postmodernisme en prosa. Vertelstrategieë in vyf verhale van Abraham H. de Vries. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.         [ Links ]

______. 2005a. In stede van die liefde. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 2005b. Hy bid vir ligte hand, groot ongenade. Die Burger, 31 Oktober. <http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/2005/10/31/OS/10/2.0.53982008_GBevheerdenon> Toegang: 10 Januarie 2010.         [ Links ]

______. 2008. 30 nagte in Amsterdam. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______ & Annelize Dorfling. 2005. Om te skryf in stede van praat. Beeld Plus, 16 November, 4.         [ Links ]

______ & Theo Kemp. 2005. Uit die hiernamaals van die Karoo. De Kat, 22: 73-5.         [ Links ]

Van Vuuren, Helize. 1999. Perspektief op die moderne Afrikaanse poësie (1960-1997). H. P. Van Coller (red.). Perspektief en Profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: J. L. Van Schaik, 244-304.         [ Links ]

Viljoen, Louise. 2002. Hartland en Middelwêreld: die hantering van die spanning tussen die lokale en die globale in Breyten Breytenbach se Dog Heart (1998). Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 9(2): 169-85.         [ Links ]

______. 2005. Van Heerden skryf oorrompelende roman. Rapport ("Perspektief "), 20 November, 4.         [ Links ]

Warren, Hans & Mario Molegraaf. (samest.). 2005. Spiegel van de moderne Nederlandse en Vlaamse dichtkunst. Amsterdam: Balans.         [ Links ]

 

 

Andries Visagie is medeprofessor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. E-pos: visagag@unisa.ac.za