SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue2The conception and application of justice in S. E. K. Mqhayi's Ityala LamaweleD. P. M. Botes, Marcel Duchamp, the avantgarde and a literary definition of plagiarism author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.47 n.2 Pretoria Jan. 2010

 

S. V. Petersen in dialoog met sy intellektuele en sosiale omgewing

 

S. V. Petersen in dialogue with his intellectual and social environment

 

 

Hein Willemse

 

 


ABSTRACT

This article examines the intellectual and social context of S. V. Petersen (1914-87) with respect to its dialogical tensions. Three key features of his biography are discussed, namely his position as one of only a few coloured boys in the Union of South Africa to have completed his secondary schooling; his relationship to the small but significant Cape elite and his ambivalence towards Afrikaans, his language of choice as a poet. The underlying theoretical impulse provides a reading influenced by Bakhtinian notions of dialogism and the reconstruction of the circumstances in which the initial utterings were made. It is found that Petersen's creation of the lonely aesthete is influenced by nineteenth century notions of Romantic authorship, and the social tensions between the coloured elite and the Cape or rural underclass. In spite of his Afrikaans childhood, academic training and authorship Petersen's ambivalence towards the language was fostered by his insertion into the coloured elite in Cape Town.

Key words: Afrikaans poetry, biography, dialogism, S. V. Petersen.


 

 

Inleiding

Die verkorte biografiese beskrywing van Sydney Vernon Petersen is welbekend. Uit menige koerant- of tydskrifartikel weet ons dat hy, die tweede kind en oudste seun van 'n tuiemaker Sydney en sy vrou Maria (geb. Cupido), op 22 Junie 1914 op Riversdal gebore is; dat hy sy laerskoolloopbaan aan die plaaslike Berlynse Sendingskool afgesluit het; dat hy as 17-jarige gematrikuleer en hom twee jaar later as 'n onderwyser aan die Battswood Opleidingskollege bekwaam het.1

Ons weet dat hy in 1934 op Ladismith in die Klein-Karoo sy onderwysloopbaan begin en in 1936 na Kaapstad teruggekeer het om aan die Berlynse Sendingskool, Searlestraat, Distrik Ses onderrig te gee. In 1939 het hy as wiskunde- en sielkundedosent aan Battswood Opleidingskollege begin klasgee. In 1940 voltooi hy sy buitemuurse BA ("5 jaar lank twee vakke per jaar") met Afrikaans, Engels en Wiskunde as hoofvakke aan die Universiteit van Kaapstad en agt-en-twintig jaar later verwerf hy die B.Edgraad aan dieselfde instelling (kyk Petersen in Durrant 1985). In 1945 word hy prinsipaal van die Battswood Oefenskool. Ons weet dat hy in 1947 as skoolhoof Athlone Hoërskool op die Kaapse vlakte stig, in 1975 uittree en in 1987 sterf (Anoniem 1987; Jongbloed 1984; Van Wyk 2008). In sommige biografiese beskrywings word hierdie buitelyne aangevul met verwysings na Petersen se voorliefde vir atletiek en rugby, sy beresenheid, sy belangstelling in Duits, musiek, die skilderkuns, die mistieke en antroposofie (Litnet; Toerien 1987; Van der Ross 1987).2

Petersen publiseer aanvanklik by 'n minder-bekende uitgewery, Unie-Volkspers, sodat die ontvangs van sy debuutbundel Die enkeling in 1944 gedemp was en min kritiese aandag gekry het. Alhoewel Petersen voor sy poësiedebuut kortverhale gepubliseer het, het hy hom later nie as 'n prosaskrywer geag nie (kyk Van Wyk 2008). Drie jaar voor sy dood verklaar hy in 'n koerantonderhoud: "Ek skryf g'n prosa nie. Enige swaap kan prosa skryf" (Jongbloed 1984). Dit is dus as digter dat Petersen se historiese plek in die Afrikaanse letterkunde verseker is en op grond hiervan dat veral literatuurhistorici hom tot baanbreker verklaar het.

Vir menige Afrikaanse literatuurhistorikus is Petersen se historiese plek in die Afrikaanse letterkunde kennelik daaraan toe te skryf dat hy "die lewe van die bruinmens met sy gevoelens van verset en aanvaarding" gestalte gee (Kannemeyer 1983: 169). Dekker (s.j.: 292) heg waarde aan sy skryfwerk "omdat hier vir die eerste keer in ons taal die skrynende leed tot uiting dring van hulle wat die slagoffer is van die sondes van die vaders." I. D. du Plessis (1944), Petersen se mentor en voormalige dosent, wys in 'n kort boekbespreking op die gebrekkige vormgewing van sy gedigte, alhoewel hy waardering vir sy historiese posisie het: "Petersen het 'n boodskap. Sy werk is uit die spanning gebore wat sy besondere omstandighede in ons samelewing veroorsaak. Die niemandsland waarin die kleurlinge verkeer, sal vir hul fyngevoeliges al hoe meer die kweekplek vir 'n felle aanklag word." Een van Petersen se ander mentors is van mening dat die "digter van die onterfdes" geen "prismatiese poësie met fonkelende beeld en ryke klankplastiek" skep nie, maar dat hy tog "'n dwingende ritme en beweeglikheid van siening" vertoon met 'n "bepaalde indiwidualiteit van segging" (Malherbe 1948: 339, 340). 'n Redelik verteenwoordigende mening wat deur verskeie navorsers uitgespreek word, is dat "Petersen geen grootse digter is nie", dat hy 'n beperkte tematiese spektrum - 'n belydenisvers met "'n eenvoudige sosiaalmaatskaplike poësie" - beoefen, maar dat hy "tog altyd onthou sal word as die digter wat as Bruinman self, vir die eerste keer in die Afrikaanse poësie sy kleurgenote se frustrasie, vernedering, verbittering, moeilike bestaan en armoede onder woorde gebring het" (Kok 1976: 60; kyk ook Weideman 1964). Wat in die uitsprake opval, is hoe maklik hierdie kritici die topos 'kleurlingdigter', 'bruin skrywer' of variasies op 'wêreld van die kleurling' gebruik sonder om in enige mate die verwikkeldheid van Petersen se sosiale of intellektuele omgewing te beskryf of te ondervang.

In een van die uitvoerigste besprekings van Petersen se skryfwerk voer C. J. M. Nienaber (1977: 96) aan dat "'n [g]edig ontstaan en bestaan selde in isolasie. Dit het sy plek binne 'n bepaalde tydsbestek met sy eie en besondere denk- en gevoelsklimaat." Ten spyte van hierdie bewustheid is Nienaber se hantering van die kwessie oorsigtelik eerder as indringend. In die meeste ander beskouings bly 'n volle begrip vir Petersen se intellektuele konteks agterweë.

Hierdie artikel wil die "besondere denk- en gevoelsklimaat" agterhaal deur die intellektuele en sosiale omgewing waarop Petersen gereageer het, te herkonstrueer, om by wyse van spreke agter die kap van die byl te kom en die dialogiese spanninge tussen Petersen en sy omringende omgewing te agterhaal. Hierdie aspekte behels onder meer die feit dat hy een van die min gekleurde seuns was wat destyds, omstreeks die laatjare twintig, hoërskoolopleiding ontvang het; die ontplooiing van sy onderwysloopbaan wat hom toegang tot die klein Kaapse gekleurde elite gebied het en sy ambivalensie jeens Afrikaans.

Die onderliggende teoretiese aanname is dat die digter vanuit 'n bepaalde historiese omgewing skryf, sodat die aard van daardie omgewing hier ondersoek word. Na aanleiding van Mikhail Bakhtin se opvatting van dialogie of dialogisme word die oorspronklike omstandighede van Petersen se uitings geherkonstrueer. In Bakhtinaanse terme is taal per definisie dialogies en voortdurend vasgevang in relasionaliteit. Die teks is noodwendig dus transaktioneel (kyk Bakhtin 1981: 354-55). Spraak, gedagtes en idees vind nie sonder heen- of vooruitwysing plaas nie. Dit wat gesê en bedink word, gebeur in reaksie op ander soortgelyke uitings of selfs in verwagting van ('n) reaksie(s). Om dialogies te begryp, beteken ten eerste om te weet wie geadresseer word. Dit is nie net die direk-geadresseerde wat ter sprake is nie, maar ook 'n veelvoud van derdeparty en onsigbare gespreksgenote wat in die dialoog teenwoordig is. "The actual word that gets communicated is for speaker, writer, listener, and reader a contextually embedded, socially constituted, intersubjective event that allows for unfinalized, but indeterminate, meaning." (Peterson 1995: 90-1). Om fyn te luister, beteken om daardie ander stemme in die uiting te hoor. Om dialogies te begryp, beteken om ook verby die uiting te kom met vrae soos wat was die oorspronklike omstandighede van Petersen se digterskap en in watter relasionele verhoudings het die adressant en die geadresseerde gestaan? In Bakhtinaanse terme is tekste terreine van sosiale kontestasie: "utterances come into the world showing and voicing the fact that they are sites of social contestation." (Peterson 1995: 91). Wanneer ons die terme van die sosiale kontestasie begryp, kan ons tot insig kom van Petersen as skepper van sy teks(te) en hoe hy deur sy omgewing medebepaal is.

 

Een van 600 hoërskoolseuns in die Unie

Die breë kwasstrepe van Petersen se verkorte biografie verdoesel vir die hedendaagse leser waarskynlik meer as wat dit onthul. Vir sy geslag plattelandse leerlinge was onderwysgeleenthede om verskeie beleids- en sosiale redes nie geredelik beskikbaar nie.3 Die Skoolraadwet van 1905 het die segregasie en bevoorregting van koloniale onderwys verdiep omdat slegs kinders van "Europese afkoms" - prakties slegs wit kinders - leerpligtig verklaar en hul skole op staatsubsidies geregtig was. Teen 1911 is gekleurde kinders verbied om staatskole by te woon. Onderwys vir swart kinders (in die omvattende sin van die woord) was oorhoofs aangewese op karig toegeruste, onderbefondste sendingskole (vgl. Theron en Swart 1964: 140).

Die statistieke vir die periode spreek vanself. Teen 1914 het slegs 2.4 % van gekleurde leerlinge verder as standerd 5 (graad 7) gevorder met talle wat na standerd 1 (graad 3) uitgeval het (Lewis 1987: 68). Teen 1929 het die oorgrote meerderheid "swart en bruin kinders" van skoolgaande ouderdom in die Unie van Suid-Afrika - "byna 1 miljoen" - geen formele onderwys ontvang het nie (Abdurahman in Van der Ross 1990: 71, 90). Die beleidsrigtings wat tot hierdie onverkwiklike stand van sake gelei het, is ook deur sendelinge verkondig. In 1910 was die Duitse superintendent van die Riversdalse Berlynse sendingskool, Petersen se eerste skool, oortuig dat die African People's Organisation (APO) oorhaastig was met hulle aandrang op sekondêre en hoëronderwys en dat die Kerk beter geweet het wat vir sy lidmate geskik was (Jooste 1996: 354). Vir 'n gekleurde kind om in die omstandighede van swak toegeruste, oorvol sendingskole en 'n grootliks onsimpatieke staatsbestel verder as standerd 5 te vorder, moes 'n klein wonderwerk gewees het. Dit is daarom merkwaardig dat Petersen in 1929 een van slegs 600 gekleurde seuns tussen standerd sewe en matriek in die Unie was. Inderdaad soos dr. Abdullah Abdurahman (1872-1940), die president van die APO in reaksie op hierdie syfers verklaar het: "[...] only 600 coloured boys in the whole Union who have any hope of ever being apprenticed to a trade that is if they are fortunate enough to find openings - and eventually of being able to live life 'conformable to European standards!' What a prospect of reaching a higher status!" (in Van der Ross 1990: 91).

Tot oormaat van bewys dus: die algemene toekomsverwagtings vir kinders van Petersen se portuur en agtergrond was uitermate beperk. Dit is uitsonderlik dat hy sy skoolloopbaan aan Trafalgar Hoër, die eerste van Kaapstad se twee hoërskole vir gekleurde leerlinge, kon voortsit.4 Alhoewel dié stap in 'n mate toegeskryf kon word aan die gesin se migrasie van Riversdal na Kaapstad,5 moet ten eerste Petersen se goeie skoolprestasies en persoonlike dryfkrag 'n rol gespeel het. Hierdie karaktertrek beskryf hy in verwysing na sy atletiekprestasies met 'n Engelse aanhaling: "When the tape is near and heart and nerve and sinew are all gone, then one man will rise to victory" (Petersen in Durrant 1985). Daarnaas het persone soos sy ma en eerwaarde Kohl van die Kaapstadse Lutherse kerk en die Berlynse Sendingskool in Distrik Ses, Kaapstad belangrike rolle in sy lewe gespeel.Petersen het waardering gehad vir die "aandrang van (sy) moeder" en in sy laaste skooljaar woon hy in aan huis van die gesin Kohl waar hy, "veel goeds [...] uit die karaktervastheid van hierdie man en sy gesin kon absorbeer" (Petersen 1946?).6 Sy intrek by die Kohls het hom klaarblyklik die geleentheid gebied om sy matriek onder gunstiger studie-omstandighede as sy ouerhuis te voltooi.

In die dialogiese verhouding van Petersen met sy omgewing het hy besondere waardering vir sy gesin, maar veral sy moeder gehad: "ruim van hart [...] voor uitstrewend [...] die wegwyser van ons gesin" (Petersen 1946?: 1). In "Gee my" skryf hy:

gee my
my moeder, my skild in gevaar:
Groot is my hulde
en onpeilbaar
aan haar!
(Die enkeling, 55).

In "Krag en Kruis" (Kinders van Kain, 16) betoon hy eer aan sy ma wat "haar huis met sorg (bestuur)" met vlyt, spaarsamigheid en ekstra werk

by die ryk
duusvolk verdien
met was-en-stryk

en boonop toesien dat ten spyte van hul lewensomstandighede die kinders goed daaruit sien:

Skamel soos hulle ook al woon,
gaan die kinders gelap, maar skoon.

Soortgelyke hulde aan sy moeder kom ook voor in "Sterfdag" en "In memoriam" (Kain, 18, 19). Sy pa beskryf hy as "'n mensliewende en goedgeaarde man [...] hardwerkend en pligsgetrou" (Petersen 1946?: 1). In die reeds-aangehaalde gedig lui die insig so:

Dankbaar en stil en afgestroop
trap 'n vader die spore oop:
van huis tot werk, van werk tot huis,
en dank die Heer vir krag en kruis.
(Uit: "Krag en Kruis", Kinders van Kain, 16).

Vir 'n digterlike herinnering aan die gesin se gasvrye, "oopdeur"-ouerhuis kyk "Ouerhuis" (Nag is verby, 50) en oor sy "Kindertyd" (Suiderkruis, 23) skryf hy:

Maar God se genade was by
en die swaar het ons deurgestry.

Petersen se gedigte oor sy jeug vestig die beeld van 'n eerbare gesin waar veral sy ma die beste vir haar kinders wou hê. Sy pa, die stiller ouer, het op 'n keer verklaar dat die opvoeding van hulle kinders "baie opoffering gekos (het). Elke keer moes ek die afstand Kaap toe afry met ou motors om hulle by skole en terug te kry, maar dit was nie te veel nie" (Lake 1962). Gegee die breë sosiale omstandighede wat hierbo beskryf is, bied Petersen se besondere gesinsomstandighede en die vasbeslotenheid van sy ouers hom (en die res van die gesin se kinders) die geleentheid om bo hul plattelandse omstandighede uit te styg.

As digter vestig Petersen die beeld van 'n huiwerende, dromende "stil kind" wat in die slotstrofe van die gelyknamige gedig in die bundel Die stil kind as "verleë" - inkennig, bedeesd en beskroomd - getipeer word. Ook in As die son ondergaan (6) skep hy 'n hoofkarakter, Frans, wat "van kleinsaf [...] stil en terughoudend van geaardheid (was)". Hieruit is dit duidelik dat dié geestesingesteldheid hom as skrywer aantrek of dat hy ten minste daarmee vertroud was. Wat op een vlak as 'n intrinsieke karaktertrek bestempel kan word, word in die gedig "Verleë" byvoorbeeld 'n sosiale teenstelling waarin as deel van 'n tweeledige paradigma "gemeensaamheid", "bonte tafereel", "luide lawaai", "minder-mooie straat" en "loskopklong" aan die een kant opgestel word teenoor "eenmanspel" en "eensaamheid" as die teenpool:

[...]
Plotseling het hy sy eenmanspel
Gestaak én met die trektou snel

Sy buurt verlaat om eensaamheid
Te ruil vir dié gemeensaamheid

[...]

in 'n agterbuurt het hy
Homself uiteindelik kom kry:


En in 'n minder-mooie straat
Was elke losloopklong sy maat.
(Die stil kind, 4).

Alhoewel die waarnemer-spreker in die gedig oënskynlik belangeloos verslag lewer, is dit opvallend dat die perspektief wat verneem word, uitsluitlik dié van die enkelingfiguur is. Die veelstemmige uiting - heteroglossia om met Bakhtin te praat - wat vermoed word, kom slegs in verwysing voor en word effektief verswyg. Hierdie digterlike afstandelikheid kan veral sosiaal verklaar word. "Black texts," beweer Dale E. Peterson (1995: 97) in verwysing na swart Amerikaanse skryfwerk, "like other doubly addressed utterances, are culturally produced and contextually interpreted with specific sets of social dynamics." Dit is 'n aspek wat ook in hierdie geval ter sake is: Met die vraag na dialogiese verhoudings wat die artikel onderlê, word die persoonlikheidstrek nou ook sosiaal-histories geherkonstrueer as die afstand tussen die relatief-bevoorregte kind uit 'n stabiele, ambisieuse gesin met totaal ander verwagtinge as dié van sy (plattelandse) portuurgroep. Wat in "Verleë" aangedui word, kan ook in ander gedigte oor Petersen se jeug 'gehoor' word. Die veelduidige uiting behels nie net die dromerige teenwoordigheid van die spreker-digter nie, maar ook die afwesige stemme van die lawaaierige agterblywendes of -gelatenes.

 

S.V. Petersen (BA, UCT): die weg na die Kaapse elite

Dit is opvallend dat Petersen se verkorte biografie wat hy self opgestel het soveel klem lê op skolastiese prestasies en sy eie en sy familie se betrokkenheid by die ouderwys (kyk Petersen 1946?; Durrant 1985). In 'n koerantonderhoud wat in 1962 met sy 72jarige pa gevoer is, is dit duidelik dat geletterdheid reeds van vroeg-af in sy huis 'n lewenswaarde was (Lake 1962).

As skoolopleiding vir gekleurde leerlinge moeilik bekombaar was, was gevorderde naskoolse onderwys byna onmoontlik. Dit was byvoorbeeld eers in 1910 na 'n lang stryd om universiteitstoelating dat Harold Cressy (1896-1916) die eerste gekleurde onderwyser word om sy BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te verwerf (vgl. Van der Ross 2010: 78n). In die daaropvolgende jare sou die getalle van graduandi egter nie betekenisvol toeneem nie, want in die byna twintig jaar nadat Cressy sy graad voltooi het, het teen 1929 slegs vier ander gekleurde studente aan die UK gegradueer (kyk Phillips 1993: 114). Selfs hierdie onbeduidende getalle het die UK universiteitsraad onrustig gestem: "it would not be in the interest of the university to admit native or coloured students in any numbers, if at all" (aangehaal in Phillips 1993: 114).

In 1937, ten tye van Petersen se buitemuurse studie, het 'n eerstejaarstudent verklaar dat die toelating van nie-wit studente "(indruis) teen die lewensopvatting van die Afrikaanssprekende" (Phillips 1993: 192). Hoe die nie-wit Afrikaanssprekende Petersen op so 'n stelling sou reageer, is onbekend, maar die nadruk op onderwyskwalifikasies in sy biografiese notas sinjaleer die besondere waarde wat hy, sy gesin en sy onmiddellike gemeenskap daaraan geheg het. Te midde van sulke negatiewe omstandighede moes Petersen en sy mede-gekleurde studente se graadstudies as besondere prestasies gereken word.

In die begin van die twintigste eeu was die onderwys een van die min gesalarieerde beroepe wat vir gekleurde mense die moontlikheid van 'n middelklasbestaan gebied het. Petersen was glad nie onbewus van die ekonomiese en sosiale waarde van die onderwys of onderwysers nie. Vergelyk hierdie veelseggende passasie uit sy roman waar die moeder van die hooffiguur nadink oor haar lewe en dié van haar kinders:

[W]atter ander weg kan hulle inslaan? Hulle is Bruinmense se kinders ...

In haar kindsdae het sy saam met die blanke kinders op die skoolbank gesit [...]
Toe was daar die geleentheid vir elke man se kind om die beroep of amp te kies wat hy wou, of wat sy ouers kon bekostig. Vandag is dit nie meer so nie.

Nou is daar 'n nuwe wêreld om mee klaar te kom; gister is verby, en vandag is vandag. Al wat nog oorbly is die onderwysberoep, - met min beloning vir jou moeite en baie hartbrekens oor armsalig-gevoede kinders en oorvolle klaskamers. [...] Maar tog: jou salaris is jy seker van, en ten minste kan jy berus in die wete dat jy nie uit jou pos sal verdring word omdat jy g'n blanke is nie." (As die son ondergaan, 7).

'n Onderwyskwalifikasie het onmiddellik verhoogde sosiale statuur aan 'n individu besorg - en vir die Kaapse gekleurde elite ten minste beroepsekerheid en teoretiese gelykheid met die heersende blankes. Soos uit die aanhaling blyk was daar in die dampkring waarin Petersen hom bevind het, in die eerste paar dekades van die 20ste eeu nog sterk herinneringe aan die 19de eeuse Kaapse liberale belofte, "the principle of equal civil and political rights for all persons irrespective of race, colour or previous conditions of servitude" (Abdurahman in Van der Ross 1990: 109). Maar teen die 1940s, soos dit hier duidelik gesê word, was sulke hunkeringe meesal vergeefs, want na uniewording in 1910, met die geleidelike oorname van die diskriminerende beleidsrigtings van die noordelike republieke, was die lang-gekoesterde belofte van gelykheid nie meer moontlik nie (Lewis 1987: 30-1). Volgens die outodidaktiese historikus Christian Ziervogel (1938?: 54) "Before 1910 the coloured people were far more secure and happy than they have been since that date." Die gekleurde elite, ten spyte van hul gevorderde opleiding, sou toenemend tot mindere burgers verklaar word.7

Die vernaamste formuleerder van die posisie van gekleurde mense in die vroeë twintigste eeu, die president van die gematigde APO, die geneesheer dr. Abdurahman, het in talle toesprake die verpligtinge van die elite - "the intelligent sections of the Coloured people" - omskryf in terme van selfontwikkeling en selfopoffering. "The lowliest black or Coloured man is part of us; we can never run away from him," het Abdurahman gesê, "the common farm labourer, the worst hooligans of the city slums are our people. These must be taken in hand and assisted to improve their position, so that they may become self-respecting and respectable citizens as we think we are" (in Van der Ross 1990: 55). Sou Petersen as plattelander en arm leerling wat as jong kind soggens brood afgelewer het en later as tiener met hande-arbeid sy skoolfooie moes aanvul ook as 'n lid van hierdie "lower sections" beskou word? (Kyk Lake 1962; Manuel 1980). Sou dit sy doelgerigte strewe na selfontwikkeling en onderwyskwalifikasies in sy latere lewe verklaar? Petersen se persoonlike opvattings is nie regstreeks bekend nie, maar die onderwysinrigtings wat hy as leerling en student bygewoon het of waar hy as jong onderwyser en dosent werksaam was, het sterk onder die invloed van die vroeë APO gestaan (kyk February 2004), sodat die idees van hiërargiese ordening, selfverbetering en die verpligtinge van die middelklas van vroeg deel van sy intellektuele omgewing was.

Petersen beskryf dikwels die spreekwoordelike "lower sections". In een van sy vroegste gedigte, "Die loper" (Stil kind, 15), word hierdie tematiek eksplisiet aangesny met die enkeling-spreker wat "dié / wat vinnig hom vooruitloop", wil inhaal, maar bevrees is dat die "menigte [...] / die sleeptou [hom] nog [kan] oorwin!" Wat andersins as onvergenoegdheid of sosiale verskille beskou kan word, kan in hierdie vroeë gedig slegs as 'n vrees vir verswelging bestempel word. In ander gedigte soos "My mense" en "Die arbeider" (Enkeling, 33, 35), "Armmans-kinders", "Daar's water", "Groenteverkoper" (Suiderkruis, 19, 46, 47), "Bergies" (Kain, 12) en die bekende "Die veles" (Kain, 6) kom meelewende, en by tye selfs vereenselwigende beskrywings van plattelandse en stedelike werkersklaslewe voor. Afgesien van sulke sosiale assosiasies bly die oorheersende indruk in sy oeuvre dat die spreker-digter doelbewus afstandelik wil bly.

G. J. Gerwel (1985: 12) reken dat Petersen se hantering van vryheid wat deurlopend aan "rus en kalmte" gekoppel word aanduidend is van "die verwarde bewussyn van die vervreemde intellektueel" sodat die implikasies van sosiale meelewing nooit tot sosiale aktivisme deurgevoer word nie. Soos met sy jeug- en natuurgedigte is Petersen grondig beïnvloed deur die Duitse, maar veral Engelse romantici. Vergelyk William Wordsworth se "The world is too much with us" wat 'n verteenwoordigende voorbeeld van die vroeg-19de eeuse Romantiek is (kyk Eliot):

The world is too much with us; late and soon,
Getting and spending, we lay waste our powers;
Little we see in Nature that is ours;
We have given our hearts away, a sordid boon!

This Sea that bares her bosom to the moon;
The winds that will be howling at all hours,
And are up-gathered now like sleeping flowers,
For this, for everything, we are out of tune;

It moves us not. - Great God! I'd rather be
A pagan suckled in a creed outworn;
So might I, standing on this pleasant lea,

Have glimpses that would make me less forlorn;
Have sight of Proteus rising from the sea;
Or hear old Triton blow his wreathèd horn.

Sprekend in hierdie gedig is die soeke na bevryding van sosiale bereëling, 'n voorkeur vir eensaamheid, 'n opheffing van die vervreemding van en uitreik na 'n suiwer natuur. In die algemeen is romantici bekend vir hul soeke na vryheid en individualisme met 'n gepaardgaande emosionele subjektiwiteit. Die heroïese, kritiese, estetiese enkeling wat soos in die sonnet ontvlug uit 'n geïndustraliseerde omgewing het in talle letterkundige tradisies die stereotipe beeld van 'n opofferende, geniale kunstenaarskap geword. Petersen skep 'n soortgelyke eensame esteet, 'n middelklas waarnemersfiguur wat tegelykertyd los probeer staan of selfs wil ontvlug, maar vanweë sosiale beperkings ingebed in sy lewensomstandighede bly. Terwyl hierdie gedigte 'n 19de eeuse kunsingesteldheid resoneer, verwoord dit terselfdertyd die sosiale spanning tussen gekleurde elite en gekleurde onderklas met die lank gekoesterde verwagtinge van die 19de eeuse gelykheidsbeginsel wat aanwesig bly in die dialogiese verhouding tussen die wit heersersorde en gekleurde mense.8

 

Engels sommer vir spite

Die posisie van Afrikaans in die intellektuele sfeer van Petersen se geslag leerlinge was ambivalent. Teen 1912 het die Kaapse provinsiale regering 'n ordinansie aanvaar wat moedertaalonderwys tot standerd 4 ingevoer het - 'n stap wat nie vir die APO aanvaarbaar was nie (Lewis 1987: 71). Soos so dikwels is dit weer Abdurahman wat 'n standpunt stel wat waarskynlik in die ontvanklike omgewing van die klein Kaapse elite wye nawerking moes gehad het: "Why so large a proportion of our people who to my knowledge, have facility in English fall into the habit of talking to one another in Cape Dutch, I cannot understand. Such a habit is not conducive to progressive thought, and it should be discouraged" (in Van der Ross 1990: 41). Hierdie standpunt baseer Abdurahman op die opponerende kulturele wêrelde wat die twee tale verteenwoordig het: "[...] Dutch and English [...] are hostile in social views, the one imbued with progressive views, the other steeped in old-world stagnation [...] Dutch as spoken in South Africa is but a patois without any literature" (in Van der Ross 1990: 40). In sy anglofiele bewondering is daar vir Abdurahman geen kwessie dat die "vulgar patois" nie bo "the language of Tennyson" as nasionale taal verkies kan word nie.

Teenoor dié sterk afwysende standpunt was daar uit die breë invloedsfeer van die APO ook pragmatiese taalopvattings. 'n Voormalige president van die Teachers' League of South Africa, Isaac Benno Oppelt van Malmesbury, dring byvoorbeeld in 1918 aan op moedertaalonderrig: "All the nations of the earth allow their children to learn their own language first, yet we, the coloured Afrikaners think we must start with a foreign language. How much valuable time isn't wasted trying to start off the little ones with unknown things, instead of teaching them their own language?" (in February [1983]: 229). Vir 'n ander korrespondent van The Educational Journal was 'n tweetalige taalbeleid die geskikste sodat die leerlinge Engels, die "konings taal" kon aanleer. Petersen sou as 'n toonbeeld van moedertaalonderrig voorgehou kon word en alhoewel hy met sy aankoms in Kaapstad Engels aanvanklik nie goed magtig was nie, was hy binne drie maande so vaardig dat hy 'n Engelse opstelkompetisie gewen het (Manuel 1980).

As skrywer het Petersen hom klaarblyklik min gesteur aan die skerp ontmoedigende standpunte wat in navolging van meningsvormers soos Abdurahman in sy werks- en sosiale omgewing sou opklink. Opponerende standpunte soortgelyk aan dié wat hierbo aangedui is, maar veral sy plattelandse afkoms moes tot sy keuse om in Afrikaans te skryf, bygedra het. Dié feit word onderstreep wanneer in ag geneem word dat ander plattelands-gebore gekleurde skrywers soos P. J. Philander, (1926-2006), Isaac M. Pfaff (1920-2005), en later Lionel Sheldon (geb. 1927) en Adam Small (geb. 1936) Afrikaans as skryftaal gebruik het.9 Daarteenoor bied twee stedelike gekleurde Afrikaanssprekende skrywers uit min of meer dieselfde era 'n reliëf op Petersen se keuse om in Afrikaans te publiseer. 'n Skrywer soos Alex la Guma (1925-85) wat in Distrik Ses, Kaapstad gebore is, het internasionale statuur verwerf met sy Engelse werke waarin sy vernaamste romanfigure die Kaapse stadsvariëteit van Afrikaans praat. Peter Abrahams (geb. 1919), afkomstig uit stedelike Johannesburg, was as kind slegs Afrikaanssprekend en het soos Petersen sy skoolloopbaan in Engels voltooi en toe uitsluitlik daarin gepubliseer.10 Gegee hierdie taalkeuses van sy medeskrywers maar veral die onbetwiste verhewe kultuurstatus en voorkeur vir die koningstaal in sy omgewing moet 'n mens aflei dat Petersen se keuse om in Afrikaans te skryf oorwoë was.

'n Ander sy van Petersen se kulturele lewe - sy formele skoling in Afrikaans - was gekenmerk deur letterkundige vernuwing en groter aandrang op die gebruik van Afrikaans in die openbaar. As deeltydse student het hy waarskynlik entoesiasme vir sowel die opbloei van Afrikaans as 'n nuwe geslag Afrikaanse digters, die Dertigers, in sy klasse teengekom waar die digters I.D. du Plessis en I.W. van der Merwe (Boerneef) van sy onmiddellike dosente was, met die opvoedkunde-dosent N.P. van Wyk Louw wat as digter en as voorstaander van 'n Afrikaner nasionale strewe bekendheid begin verwerf het (kyk Steyn 1998: 151 e.v.).11

As die bekendste Afrikaanse digter van gekleurde afkoms het Petersen hom dikwels die funksie van 'kleurling Afrikaanse' rolmodel laat wel geval. V.A. February (1991: 81) bestempel dié ingesteldheid as "akkommoderend", terwyl 'n tydgenoot van Petersen, Dick van der Ross (2010: 36), vanuit sy eie ervaring 'n minder negatiewe perspektief op soortgelyke situasies voorhou: "In our community, as in many similar communities world-wide where there were not many educated people, those who obtained reasonable education where called upon to fulfil many functions." Vir Petersen was een sodanige geleentheid byvoorbeeld die "Wonder van Afrikaans"- vieringe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1959. In nakoming van die apartheidsbeleid is benewens die amptelike 'slegs vir blankes'geleenthede twee afsonderlike funksies vir gekleurdes, een in die suide en een in die noorde, gehou. By die noordelike funksie in Kliptown, Johannesburg het "Ons digter S. V. Petersen" byvoorbeeld as hoofspreker voor 'n gehoor van "meer as 3,000 Kleurlinge" en "'n klein groepie blankes" opgetree (Anoniem 1959).12

In 'n Engelstalige artikel in S. A. Panorama, 'n tydskrif van die Suid-Afrikaanse Inligtingsdiens, skryf Petersen (1956?) breedvoerig oor sy taalkeuse. Afrikaans is vir hom "'n hartstaal", "'n eerste liefde" "'n geheime hunkering na 'n sorgvrye jeug", "die eerste instrument wat ter hand geneem word" terwyl die werkersklasomgewing waaroor hy skryf, "sal verseg om in enige ander taal as Afrikaans vasgevat te word." Hy deel egter die taal ook met sy "landgenoot met die ligte vel [...] oor wie (hy) wroeg" (Petersen 1956?: 85).13 Petersen verwoord hier 'n durende spanning wat hy in sy skryfwerk aangespreek het, 'n aspek wat Bakhtin soos volg aangestip het: "[A]ll our utterances [...] are filled with others' words, with varying degrees of otherness or of 'our-own-ness,'with varying degrees of familiarity and of alienation." (Bakhtin in Peterson 1995: 97).

Ten spyte van sy keuse om Afrikaans formeel te bestudeer en daarin te skryf óf sy status as "digter uit hul eie volksgroep" (Anoniem 1959) óf die taalsekerheid wat Petersen in die staatspublikasie verwoord het, was sy verhouding met die taal nie sonder teenstellings nie. As 'n kind van die Overberg was hy uit huis Afrikaanssprekend, terwyl sy sekondêre en gevorderde onderrig meesal in Engels geskied het. Later was sy eie gesin (sy vrou Mavis en seun Sydney) se huistaal Engels, en per geleentheid het hy homself "Engelssprekend vir die spite" genoem "met 'n heilige respek vir Shakespeare en sy sêdinge." (Jongbloed 1984). Hierdie ambivalensie blyk ook uit sy taalmediumkeuse by die oprigting van Athlone Hoërskool in 1947, die eerste staatshoërskool vir gekleurde werkersklasleerlinge - hoofsaaklik Afrikaanssprekende kinders - op die Kaapse vlakte. Volgens Richard van der Ross (1987), sy vriend oor meer as 50 jaar, het Petersen hom só hieroor uitgelaat: "Hulle't verwag ek gaan dit 'n Afrikaans-medium skool maak, maar toe maak ek dit Engels. En as jy vra waarom dan sê hy tipies 'Sommer vir spite.'"14

Nieteenstaande Petersen se frase "sommer vir spite" is sulke keuses nie idiosinkraties nie maar ideologiese gebare in 'n sosiaal-politieke konteks. In 'n ambivalente sin van die woord is 'n belangrike opmerking van Bakhtin hier ter sake: "Language is not a neutral medium that passes freely and easily into the private property of the speaker's intentions, it is populated - overpopulated - with the intentions of others." (Bakhtin 1981: 294). In die Kaapse onderwyskringe het die moedertaalonderwysbeleid sedert 1912 tot bitter debatte aanleiding gegee. Toonaangewende onderwysleiers was vas oortuig dat die beleid en Afrikaans - volgens Abdurahman die taal van stagnasie en nie-progressiewe denke - as Afrikaneriseringstrategieë gebruik word wat die langtermyn potensiaal van gekleurde leerlinge sou kortwiek (kyk Willemse 2007: 158-59). In die dialogiese verhouding tussen Petersen en sy omgewing was Afrikaans tekenend van minder-ontwikkelde Kaapse plaasjapies en die stedelike werkersklas.15 Sy Afrikaanse skryfwerk het hom relatiewe bekendheid laat verwerf, maar tog was dit, gegee die heersende opvattinge oor die minderwaardigheid van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde, 'n mindere status - nie te vereenselwig met die hoë verwagtinge van die Kaapse elite nie. Dit is nie verregaande dat sulke ingesteldhede, ten spyte van Petersen se eie herkoms, 'n rol in sy besluit gespeel het nie. Die omringende Afrikaanssprekende werkersklasouers sou in hoofsaak hul skoolhoof se besluit ondersteun het omdat Engels in hul sosiale omgewing 'n teken van gekultiveerdheid en maatskaplike aspirasie en sukses was.

 

Tot sintese

Die digter S. V. Petersen rig hom ten eerste op 'n klein Afrikaanse leserspubliek met gedigte wat ooreenkomste toon met die maatskaplike verse van die vroeë Afrikaanse digters, terwyl in sy natuurliriek en sy gedigte oor sy jeug die teenwoordigheid van die Europese romantici van sy universiteitstudie meepraat. Die vorming van sy "denken gevoelsklimaat" waaroor C. J. M. Nienaber dit het, word ten nouste gekoppel aan die sosiale omstandighede wat Petersen in sy tyd 'n uitsonderlike individu gemaak het - so anders as sy vroeë (agtergelate) portuurgroep. Sy opname in die Kaapse elite met hul diep bewustheid van sosiale hiërargie het eweneens bygedra tot die artistieke en kunssinnige individualis wat in sy bundels ter sprake is. En: wat op die oog af 'n teken van taalambivalensie is, sou in terme van Bakhtiniaanse dialogie as Petersen se gematigde sosiaal-politieke kritiek gelees kon word. Dit is veral 'n kniebuiging in die rigting van elitêre opvattings oor die mindere progressiwiteit van Afrikaans. Petersen dateer uit 'n tydperk van laatkolonialisme en separatisme, en inderdaad soos Adam Small in verwysing na sy digterskap gesê het: "'n Mens bevind jou in jou plek in jou tyd" (in Swanepoel 1989).

 

Bedankings

Ek bedank graag die volgende persone en instansies vir hul vriendelike diens en toesending van navorsingsmateriaal: Bertha Dikgetsi, Nola Montgomery en Lacia Viljoen van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein; Elna Karstens, die kuratrise van die Julius Gordon Africana Sentrum op Riversdal, Emsie Martin, die skrywer van die boek Riversdal en sy mense en Steward van Wyk van die Universiteit van Wes-Kaapland. My dank ook aan die keurders vir hul waardevolle kommentaar op die manuskrip.

 

Aantekeninge

1. Die oprigting in 1891 van die Battswood-instellings - die oefenskool, sekondêre skool en onderwyskollege - is moontlik gemaak deur die gravin van Stamford met haar skenking van grond en geld. Die gravin was die dogter van 'n Kaapse slavin (kyk Van der Ross 2008).

2. Petersen se belangstelling in antroposofie - 'n benadering ontwikkel deur Rudolph Steiner, die grondlegger van Waldorf-onderwys, is gerig op individuele vryheid, die bereiking van innerlike ontwikkeling deur verbeelding, intuïsie en die objektiewe ondersoek van geestelike belewing - is gesterk deur sy vriendskap met en bewondering vir 'n voormalige voorsitter van die Nederlandse Antroposofiese Vereniging, Willem Zeylmans van Emmichoven (kyk Petersen 1980).

3. Naas die beperkende beleidsrigtings het onkundige ouers, volgens 'n korrespondent van die Educational Journal ook tot die betreurenswaardige situasie bygedra met allerlei onbenullige verskonings en nietighede: "'Mijn kind het die derde Standaard gemaakt en dit is genoeg, want ik wil het niet voor 'Teacher ' laat leer!' Een ander redeneert als volgt: 'Mijn ouders het mij niet verder laat leer (dan Strd. I of II!) en dus moet mijn kind ook niet hoger gaan.' Een ander weer zegt: 'Geleerdhied maakt kwaaijongens! Dus laat liewers staan!'" (Rasmus 1909: 17-8).

4. Abdurahman en Harold Cressy was die medestigters van Trafalgar Public School wat in 1912 met 60 leerlinge opgerig is. Livingstone Hoërskool, die tweede hoërskool vir gekleurde leerlinge, het in 1926 tot stand gekom (kyk Livingstone High School; Trafalgar High School). Abdurahman word beskou as die grondlegger van onderwys vir gekleurde leerlinge: "[E]very Coloured boy and girl who has entered a secondary school from Standard VII upwards and through to University owes ALL to Dr. Abdurahman, without whose patience and persistence, combined with his great foresight, such opportunities would not have been available" (Raynard 2002: 26). Vir 'n weergawe van die persoonlike assosiasies wat Trafalgar oproep, kyk February (2004) en Van der Ross (2010: 15 -6).

5. Die presiese omstandighede van die gesin Petersen se vertrek na Kaapstad is onduidelik. Petersen dui in 'n video-opname aan dat sy gesin in 1926 "sak en pak" na Kaapstad getrek het nadat sy pa se tuiemakery met die koms van die motor ondergegaan het (Petersen in Durrant 1985), terwyl sy pa hy verklaar dat hy die kinders heen en terug Kaap toe vervoer het (Lake 1962).

6. In plaas van die gebruiklike 'sonder datum'-verwysing word hier in drie gevalle 'n vermoede datum met 'n vraagteken aangedui om die uitspraak histories nader te presiseer.

7. Die Kaapse gekleurde elite het hoofsaaklik uit onderwysers, enkele professionele mense, klein handelaars en ambagsmanne bestaan. Vgl. As die son ondergaan (84) waar Petersen deur karakterisering iets van die sosiale statusbewustheid vasvang. Appollis, die messelaar, dra aan die etenstafel 'n das en laat hom so oor 'n toekomstige partytjie uit: "Mens kan nie met almal opmieks nie; en die een met wie jy vanaand dans, wil jou môre op straat ook ken. Ek hou my ientepenit; dis die beste op die lông-ran." Vgl. Ook Van der Ross (2010: 3) se opmerking dat in die eerste helfte van die 20ste eeu die inkomste van vakmanne dié van gekleurde onderwysers oortref het.

8. Alhoewel die bevindings van die Amerikaanse sosioloë Morse en Peele (1974) nie regstreeks op Petersen en sy vroeë skryfwerk van toepassing is nie, bied hul studie tog 'n insiggewende perspektief op die sosiale afstand tussen die gekleurde elite en onderklas wat in sy werk te bespeur is. Die empiriese sosiologiese studie wat omstreeks die eerste verkiesing van die Verteenwoordigende Kleurlingraad in September 1969 in Kaapstad onderneem is, bevind dat met die gekleurde elite se sosio-ekonomiese verbetering toenemende toenadering tot wit en swart mense plaasvind, maar nie noodwendig tot verstewigde groepsolidariteit met minder-gegoede gekleurdes lei nie: "As socio-economic status increases, Coloureds feel closer toward both whites in general (although they feel less close to Afrikaners) and Africans, but there is no change in feelings of closeness toward other Coloureds." Voorts vir lede van die gekleurde elite lei die soeke vir individuele aanvaarding deur die sosiaal-dominante groep (in 1969 = die wit sosiale groep) tot 'n individualistiese apolitieke houding: "Belief in potential acceptance by the dominant group, a feeling of psychological gratification relative to some other group, and the absence of group solidarity do encourage individual apolitical striving rather than unified political efforts." (Morse en Peele 1974: 327, 333).

9. Isaac M. Pfaff (geb. Ladismith) het in 1945 'n BA-graad aan die UK voltooi en later onder die skuilnaam Paul Roubaix verskeie Afrikaanse dramas geskryf, onder meer Storm en ander eenbedrywe (1951). Histories sou hy as die eerste swart Suid-Afrikaanse dramaturg bestempel kon word (kyk Willemse 2007: 89-116).

10. Omstreeks die publikasie van Petersen se eerste twee digbundels het Abrahams reeds verskeie tekste die lig laat sien: Dark Testament (1942), Song of the City (1945), Mine Boy (1946) en The Path of Thunder (1948). Vir die Afrikaansheid van Abrahams en sy omgewing kyk sy outobiografie Tell Freedom. Vergelyk ook "[...] I bumped into an old Indian in the dark passage. He spoke to me in English. I couldn't understand and fled up the stairs." (Abrahams 1982 [1954]: 57).

11. Die ander dosente wat in die tyd daar werksaam was, was onder meer D. B. Bosman en F. C. L. Bosman (kyk Phillips 1993: 266).

12. In haar verslag van die geleentheid presiseer Elsa Joubert (2009: 112-16) die getal tot "tweeduisend skoliere en een-en-sestig onderwysers". Die generiese verwysing na "Kleurlinge" in die koerantberig verdoesel die feit dat die deelnemers en gehoor hoofsaaklik bestaan het uit 'n gevange gehoor - leerlinge - en dat daar nie sprake was van spontane openbare bywoning van die "Wonder van Afrikaans"-vieringe nie.

13. Volledigheidshalwe is dit nodig om te noem dat in die eerste paar dekades na uniewording sulke standpunte oor die taalverwantskap van gekleurde mense en Afrikaners politieke beslag gekry het in kortstondige politieke organisasies soos die Verenigde Afrikanerliga (United Afrikaner League) en die Afrika Nasionale Bond (African National Bond) met leiersfigure soos J. A. Poggenpoel, John Tobin en Nicholas Veldsman (kyk Lewis 1987: 124 e.v., 130 e.v.). Daar is geen aanduiding dat Petersen hom hoegenaamd by hierdie organisasies geskaar of hul beleidsvoorkeur vir separatisme gedeel het nie.

14. Of Petersen as skoolhoof (en dus middelvlak-staatsamptenaar) hoegenaamd die mag gehad het om sulke ingrypende beleidsbesluite te neem, kon nie onafhanklik vasgestel word nie.

15. Vgl. Van der Ross (2010: 82) vir 'n anekdote oor die gebruik van Afrikaans in gekleurde onderwyskringe: "I recall how necks were turned and gasps of surprise when a teacher from Franschhoek [...] one day addressed the [politically moderate Teachers' Educational and Professional Association] Conference in Afrikaans! Afrikaans was very generally spoken in and out of school, and in the rural areas the schools were entirely Afrikaans, but Afrikaans in Conference! This was unheard of! After all, the Conference was a prestigious occasion, and surely this prestige should be upheld by using the more prestigious language, which was English!"

 

Bronnelys

Primêre bronne

Petersen, S.V. 1944. Die enkeling. Port Elizabeth, Kaapstad: Unie-Volkspers Bpk.         [ Links ]

______. [1946?]. Lewensbesonderhede [manuskrip]. Bloemfontein: NALN.         [ Links ]

______. 1946. As die son ondergaan. Port Elizabeth, Kaapstad: Unie-Volkspers Bpk.         [ Links ]

______. 1948. Die stil kind (en ander verse). Kaapstad: Maskew Miller.         [ Links ]

______. [1956?]. Afrikaans - Language of my emotions. S.A. Panorama, [?]: 85-6.         [ Links ]

______. 1960. Die kinders van Kain. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel, Bpk.         [ Links ]

______. 1965. Suiderkruis. [Kaapstad]: Nasionale Boekhandel, Bpk.         [ Links ]

______. 1979. Alleenstryd. 'n Keur uit sy verse. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1980. Nag is verby. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1980 [1962]. Meditations on the brink. Rondebosch: [Eie publikasie]         [ Links ].

______. 1985. Laat kom dan die wind. Kaapstad, Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Sekondêre bronne: artikels en boeke

Abrahams, Peter. 1982 [1954]. Tell Freedom. Harare: Zimbabwe Publishing House.         [ Links ]

Bahktin, M. M. 1981. The Dialogic Imagination. Trans. C. Emerson & M. Holquist. M. Holquist (ed.). Austin: University of Texas Press.         [ Links ]

Bosman, J. D. 1946. Die Kleurling in die Afrikaanse letterkunde. Ongepubliseerde M.A. verhandeling. Hugenote-Universiteitskollege, Wellington.         [ Links ]

Dekker, G. s.j. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Du Plessis, I. D. 1944. Die enkeling deur S. V. Petersen [Boekbespreking]. Die Huisgenoot, 1 September, 23.         [ Links ]

February, V.A. (ed. & compl.). [1983]. From the Arsenal. Articles from the Teachers' League of South Africa (1913-1980). Research report 18/1983. Leiden: African Studies Centre.         [ Links ]

______. 1991. Mind your Colour. The "Coloured" Stereotype in South African Literature. 2nd ed. London, New York: Kegan Paul International.         [ Links ]

______. 2004. "Trafs, eie sake of algemene sake." In Erik van den Bergh & Tiny Kraan (samests.). Koekemakranke: die pad van Vernie February (1938-2002). Leiden: Afrika Studie Centrum, 45-8.         [ Links ]

Gerwel, G. J. [1985]. Van Petersen tot die hede: 'n Kritiese bestekopname. In J. F. Smith, A. van Gensen, H. Willemse (reds.). Swart Afrikaanse skrywers. Verslag van 'n simposium gebou by die Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, op 26-27 April 1985. [Bellville]: Universiteit van Wes-Kaapland, 11-21.         [ Links ]

Jooste, Gerhard. 1996. The Berlin missionaries and the African national movement 1910-1930. Van der Heyden, Ulrich & Liebau, Heike (eds.). Missionsgeschichte, Kirchengeschichte, Weltgeschichte. Christliche missionen im kontext nationaler entwicklungen in Afrika, Asien, Ozeanien. Stuttgart: Franz Steiner Verlag, 343-50.         [ Links ]

Joubert, Elsa. 2009. Reisiger. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band 2. Pretoria, Kaapstad, Johannesburg: Academica.         [ Links ]

Kok, F. J. 1976. Die stem van die bruinman in die Afrikaanse poësie. Ongepubliseerde M.A. verhandeling. Universiteit van Potchefstroom vir CHO.         [ Links ]

Lewis, Gavin. 1987. Between the Wire and the Wall. A History of "Coloured" politics. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

Malherbe, F. E. J. 1948. Wending en inkeer. 'n Beskouing oor die nuwere Afrikaanse letterkunde. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

McDonald, D. J. 1933. Die Familie-lewe van die Kleurling: met 'n noukeurige ondersoek van die Stellenbosche Kleurling familie. Ongepubliseerde M.A. verhandeling. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Morse, S. J. & Peele, S. 1974. "Coloured Power" or "Coloured Bourgeoisie"? Political Attitudes Among South African Coloureds. The Public Opinion Quarterly, 38(3): 317-34.         [ Links ]

Nienaber, C. J. M. 1977. Oor Literatuur 2. Opstelle oor Letterkunde en Kritiek. Pretoria, Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Peterson, D. E. 1995. Response and call. In Amy Mandelkar (ed.). Bakhtin in Contexts. Across the disciplines. Evanston, Ill. Northwestern University Press, 89-98.         [ Links ]

Phillips, Howard. 1993. The University of Cape Town 1916-1948. The formative years. Cape Town: UCT Press.         [ Links ]

Raynard, J. H. 2002. Dr. Abdurahman. A Biographical Memoir. Adhikari, Mohamed (ed.). Cape Town: Friends of the National Library of South Africa, District Six Museum.         [ Links ]

Steyn, J. C. 1992. Die sensuurstryd. In: Beukes, W.D. Boekwêreld. Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 351-79.         [ Links ]

______. 1998. Van Wyk Louw. 'n Lewensverhaal (2 dele). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Theron, E. & Swart, M. 1964. Die Kleurlingbevolking van Suid-Afrika. Stellenbosch, Grahamstad: Universiteitsuitgewers - en Boekhandelaars.         [ Links ]

Van der Ross, D. 2010. A Blow to the Hoop. The Story of My Life and Times. Newlands [Cape Town]: Ampersand Press.         [ Links ]

Van der Ross, R. E. (ed.). 1990. Say it out loud. The APO Presidential Addresses and other major political speeches 1906-1940 of Dr Abdullah Abdurahman. Bellville: University of the Western Cape.         [ Links ]

______. 2008. The Black Countess. A Biography. Newlands [Cape Town]: Ampersand Press.         [ Links ]

Weideman, Clemenso. 1964. Die bydrae van die Kleurlinge tot die Afrikaanse letterkunde. Ongepubliseerde M.A. verhandeling. Universiteit van Witwatersrand.         [ Links ]

Willemse, Hein. 1984. "Die wrange klag, die satire en opstandigheid van die Kleurling": Towards a critical reconstruction of the intellectual history of Black Afrikaans poets. Voordrag gelewer tydens die Economic and Development and Racial Domination-konferensie, Universiteit van Wes-Kaapland (Bellville), 8-10 Oktober 1984.         [ Links ]

______. 2007. Aan die ander kant. Swart Afrikaanse skrywers in die Afrikaanse letterkunde. Pretoria: Protea.         [ Links ]

______. 2008. Insularity and ambivalence: The case of the South African poet P. J. Philander's epic poem, Zimbabwe. Research in African Literatures 39 (1): 125-48.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse Taal. 1972, 1976. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Ziervogel, C. 1938?. Brown South Africa. Cape Town: Maskew Miller Limited.         [ Links ]

Koerantartikels, radio- en videoproduksies

[Anoniem]. 1959. 3000 Kleurlinge vier die "wonder van Afrikaans". Ongeïdentifiseerde knipsel.         [ Links ]

______. 1987. S. V. Petersen groet. Rapport, 01.11.1987, 6.         [ Links ]

Durrant, Roberta. 1985. S. V. Petersen. Johannesburg: Penguin-films [SAUK video-opname]         [ Links ].

Lake, A. S. 1962. Bekende Kleurling-digter se vader sê: "Ek is blank - my pa was 'n Sweed." Die Landstem, 8.09.1962.         [ Links ]

Manuel, George. 1980. Honours for a "quiet poet of Athlone". The Cape Times, 12.04.1980, 10.         [ Links ]

Jongbloed, Zelda. 1984. Die lewe en wêreld van S. V. Petersen. Rapport, 01.04.1984, 3.         [ Links ]

______. 1987. S. V. Petersen, vaar jou wel. Rapport, 01.11.1987, 6.         [ Links ]

Rasmus, R. D. [Brief]. 1909. The Educational Journal, 1(2): 17-8.         [ Links ]

Swanepoel, Chris. 1989. Kind van die Dal. Johannesburg: SAUK. (NALN 3017/95/28).         [ Links ]

Toerien, Barend. 1987. "Dwars moet ek wees om reguit te wees." Die Burger, 04.11.1987, 10.         [ Links ]

Van der Ross, D. 1987. Ons groet 'n vrind. Hy het Enkeling gebly. Rapport, 01.11.1987, 1.         [ Links ]

Internetbronne

Desai, Desmond. [A]. Desmond Desai's autobiography. www.eduprop.co.za/DESMOND%20DESAI%20AUTOBIOGRPAHY.htm Toegang: 25.09.2009.         [ Links ]

Eliot, C.W. (Ed.). 2001. [A]. English Poetry II: From Collins to Fitzgerald. Vol. XLI. The Harvard Classics. New York: P.F. Collier & Son, 1909-14. <www.bartleby.com/41/> Toegang: 25.09.2009.         [ Links ]

Litnet. [A]. S. V. Petersen (1914-1987). <www.litnet.co.za> Toegang: 12.08.2009.         [ Links ]

Livingstone High School. [A]. <www.livingstonehigh.co.za> Toegang: 01.08.2009.         [ Links ]

Trafalgar High School. [A]. <www.trafalgarhigh.co.za> Toegang: 01.08.2009.         [ Links ]

Van Wyk, Steward. 2008 [A]. S.V. Petersen se tydskrifverhale. Litnet-Akademies 5(1): 43-57. <www.oulitnet.co.za/newlitnet/pdf/la/LA_5_1_vanwyk.pdf> Toegang: 12.08.2009.         [ Links ]

 

 

Hein Willemse is professor in Letterkunde aan die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. E-pos: hein.willemse@up.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License