SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1Tendencies in five new poetry collectionsReviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Tydskrif vir Letterkunde

    Print version ISSN 0041-476X

    Tydskr. letterkd. vol.47 no.1 Pretoria  2010

     

    RESENSIE-ARTIKEL REVIEW ARTICLE

     

    Die paringspel van polariteite

     

    The mating game of polarities

     

     

    Marthinus Beukes

     

     


    ABSTRACT

    In Intieme afwesige ("Intimate absence", 2009), the Afrikaans poet Cas Vos gives shape to absence in quite an exceptional way. Absence as loss finds its expression through the two icons of love from the Middle Ages, Abelard and Heloise. In this, his fifth collection of poetry, Vos interprets the sadness and pain of these two exiles afresh. The voice given to their son, Astralabe, is a highlight of the volume. Intieme afwesige is an absorbing and well-structured collection in which most of the poems are oriented towards the polarities of loss and intimacy.

    Key words: Afrikaans poetry, absence, discourse, exile, irony, love.


     

     

    Intieme afwesige.

    Cas Vos. 2009. Pretoria: Protea Boekhuis. 106pp. ISBN: 978-1-86919-294-5

    Die titel van die artikel "die paringspel van polariteite" word gerig deur die titel van die bundel. 'n Titel wat in sekere opsigte as 'n mantra deur die bundel eggo. 'n Mantra, want die intieme afwesiges word soos die Sanskritoorsprong van mantra etimologies aandui, 'n "instrument of thought" wat die spreker se tas na versoening in die gedigte heg weef.

    'n Multidimensionele / heggekonstrueerde / meervlakkige bundel is 'n leeslekkerte. Vos se vyfde digbundel, Intieme afwesige, word vanaf die bundelomslag tot die laaste gedig, 'n magnum opus wat my as leser boei en geboei het. Die broosheid en breekbaarheid van verlies word met Diane Victor se "smoke drawing" ingelei en word 'n metafoor vir die spreker se terugtas in tyd na die afwesige figure wie versgestalte in die bundel kry. En hoe sag, pynlik en menslik breekbaar, is die kindgestalte nie in Victor se kersrook nie. Astralabe word in sy sagtheid as 't ware 'n kersvers wat die leser se aandag prikkel en end-uit boei.

    Van Wyk Louw, 'n literêre (voor-)vader van die Afrikaanse letterkunde se woorde "ons moet leer ironies leef en binne die ironie die liefde hou", geld ook vir die titel van die bundel. Die ironiese onder- en botone van Intieme afwesige word op die voorgrond geplaas juis deur die aanwesig-skryf van die afwesigheid / afwesighede van die intieme figure in die verse van Vos. Die intieme figuur word vanaf die eerste vers, en in besonder deur die afdeling, in reliëf geplaas. Van geboortevers tot sterfvers in die elegiese gedig, is die intimiteit van bestaan en sterfte in die gedigte verwoord. Vos is nie alleen meester van versvorme om die afwesige(s) struktuur-bestaan te gee nie, maar ook deur die betekenis van die woord. 'n Betekenisskelet van woorde wat dui op terugbring van die afwesige geliefdes word beklemtoon in woorde soos "aaneengeweef"; "geborduur", "geknoop"; "gegrif"; "omhels", maar bowenal deur die pen as versoener deur die versinhoud.

    Die twee woorde van die titel lei die spel tussen verlies en besit, lewe en sterfte, geboorte en dood, pyn en vreugde in paringspel, in. Soos met die raak beskrywende titel van Vos se vorige bundel, Die afdruk van ons hande, is die drang van die digter om verlies te bestendig of bestaan te benadruk, dominant. Die motto van Intieme afwesige, "hoe skryf 'n mens afwesigheid vas in 'n vers" deur Breytenbach, is 'n deurdagte keuse vir die inleidingskode van intieme afwesige. Geslaagd soos by Breytenbach waar die verse afwesigheid of stiltes in parenteses, hiate en woordgrafte verdwyn deur die taalaanbod van die vers benadruk word, skryf Vos afwesigheid vás juis deur die afwesigheid intiem te omhels in versbou, metafoor en beeld. Die afwesigheid van geliefdes, die diaspora van geliefdes soos Abélard en Heloïse en later Astralabe, die dood van 'n vriendin se man, word deur die gedig aanwesig geskryf soos die spreker dit sekuur in "Agtergeblewene" (77) stel:

    Ek bêre julle name soos sugte
    op perkament, my testament
    van julle afwesigheid.

    Die digter het vaslegging van die afwesigheid ook trefseker bestendig deur die woordelemente. 'n Skelet van werkwoorde waarin afwesigheid verwoord is, is byvoorbeeld "verloor" (39), "vervaag" (43), "verlies van ons liefde" (58), "afwesigheid" (64), "verlatene" (75), "verlange" (76) en "vergeet" (81).

    Die dood is seker die aller-definitiefste ruimte / toestand van verlies. Saam met die donkerte van die graf ("Vertrek" (102)) word gereedmaak vir die "skielikste en laaste aand" voor die afskeid vir vertrek aanbreek. Die villanelle "lewe en dood", wat geïnspireer is deur Marlene Dumas se skildery, measuring your own grave, gee 'n duidelike beeld van die bewustheid van die spreker se ingesteldheid op die polêrespel tussen lewe en dood. Die beklemtoning as gevolg van die villenelle se herhalingsversreëls, hou die lewe en dood as polêre toestande midde in die leser se raamwerk. Aansluitend hierby funksioneer die ander elemente van herhaling in die bundel, byvoorbeeld gediggesprekke; "Aan flarde" (44) en "Vere in die wind" (45); die tweegesprek van Abélard en Heloïse, asook die herhaling van woorde en frases met dieselfde inhoud, byvoorbeeld die donkerte in die verse "in jou slaap" (91), "Afskeid" (98) en "Vertrek" (102), lê klem op verlies.

    Die belangrikste en dominante middel in die hande van die digter om verlies te herroep, is die gedig. Die volgende tegnieke in die digter se skrywershand is: credogedigte; veral verwoord in die aangrypende afdeling "Astralabe - Gesprekke oor verlatenheid" waarin die afwesige kind van Abélard en Heloïse, die kersgestalte van die omslag, vooropgestel is; meta-poëtikaliteit: die verwondering oor die vers as konstruksie-middel; reeksgedig: Geboorte-afdeling met verse oor 'n kleinkind, en die gode en halfgode se geboortes, Abélard en Heloïse, sangers en skilders; beelde van kreatiwiteit wat die pendant, die pool van mortaliteit of verlies is: skilder, musiek, gedigte-maak.

    Die alleengeplaaste gedig in die afdeling "Troebadoer" (49) is in die bundelrubrisering 'n vooropgestelde vers. Juis deur die deurbreking van patrone is die alleengedig in die bundelkonstruksie in Vos se digtershand 'n middel om die verlies te beklemtoon. Weer eens is die krag van die gedig hier, 'n middel van Vos om aan die afwesige geliefde deur middel van poësie as liriese middel, die geliefde 'n aanwesige gestalte te maak:

    Toe loof ek net liefde en plesier
    met klanke uit my fluit ...

    Onder jou venster waar nag jou toespin
    speel ek my vedel, sing my minnesang,
    'n lied van begeerte en bedwelming,
    my sterwende eggo van verlang.

    Hierdie gedig word die skarnier van die bundel, want die vooropstelling van die spreker se kreatiewe instrumente is die metafoor vir skepping, oproep van die afwesige geliefde en beminde. Die troebadoer as minnesanger uit die Middeleeue", skakel direk met die gesprekke tussen Abélard en Heloïse met spesifieke verwysing na die Middeleeuse tyd en milieu. In hierdie geval skryf die digter verlies vas tot poësie.

    Die gedig sluit in die lig van my argument direk aan by die volgende afdeling, die tweesang, die gesprek tussen Abélard en Heloïse. Die paringspel van polariteite word in dié afdeling op die spits gedryf. Hierdie afdeling is een van die hoogtepunte van die bundel en een van die merkwaardigste gesprekke in die Afrikaanse letterkunde van die oeroue liefdesverhaal in wêreldletterkunde.

    F. I. J. van Rensburg (1990: 1) het in sy bespreking van die Afrikaanse Abélard en Heloïse, Van Wyk Louw en Sheila Cussons, soos volg geskryf:

    die beroemdste liefdesgeskiedenis van die Westerse kultuur [...] het in die loop van tyd uitgegroei tot simbool van 'n liefdesverhouding wat hom telkens in die geskiedenis afgespeel het en waarskynlik steeds sal afspeel: 'n liefde waarop daar 'n beletsel van een of ander aard rus en wat nooit die geleentheid gegun is om sy volle moontlikheid te verwesenlik nie. Deur hierdie element van herhaling het dit kulturele permanensie verkry, en bygevoeg moderniteit. Digters en ander kunstenaars is telkens weer daardeur aangegryp. Dit het geskikte simbool- of metafoormateriaal geblyk (te wees).

    Anders as die gesprek tussen Louw en Cussons of Daniel Hugo en Izak de Villiers se verse, bring Vos met hierdie tweegesprek 'n vars en verfrissende siening. Die transponering van die liefdesverhaal en die briefgesprek tussen die twee ballingfigure word in die twintig gedigte in 'n kwing-kwang van stem en teenstem roerend-pynlik verwoord.

    In die dood se "donker skoot" word die graf die oorheersende ruimte wat die afwesige figure intiem bewaar. Die rol wat die graf as metafoor vir bewaring verkry in hierdie bundel, word deur die gedig as pendantmetafoor, geëggo. Die gedig word méér as 'n grafskrif vir die geliefde beminde wat gesterf het: die gedig as graf dien as ruimte vir wederopstanding deur die leser se leeshandeling. Herinneringe word lewend gemaak wanneer die gedig of dan in hierdie geval, die grafskrif, gelees word.

    'n Dominante en durende kode in Intieme afwesige is die polariteitspel tussen donker en lig. Word donker se sinonimiese maat as afwesig / afwesige gelees, is die tot-lig-bring of aanwesig-maak die noodwendige antonimiese aspek. In Vos se bundel loop lig en donker, aanwesig en afwesig dus hand aan hand. Tóg is donker en afwesigheid die dominante elemente van die parespel. Uit die donker van die baarmoeder word Reynard tot lig verwoord (in die openingsgedig van die bundel) en eindig die bundel met die merkwaardige gedig "Vertrek" (102) waarin daar niks minder as nege-donker-verwante woorde aanwesig is met slegs een ligwoord, maar wat in die konteks van die gediginhoud ook tog as donker verstaan kan word, want:

    Die diepste donker staan en wag.
    'n Dak waar engele oornag,
    is my lyf se skuiling teen lig.

    Téén die donkerte is die kers 'n troefmiddel - 'n metafoor vir lig wat plek-plek in die gedigte opduik, maar vir die digter is dit die pen. Victor se kersvers op die voorblad wat 'n suggestie van Astralabe word - die seun uit die verhouding tussen Abélard en Héloïse, bring die afwesige bemindes tot lig. Die twee gedigte wat hier die kers en pen verwoord, is "kersrook" en "voor ek vergeet" (80-1). Byna op dubbelkragtige wyse word die afwesige gestalte tot lig / papier gebring, want in die slottersiene word die gedigbou boodskapdraer, waar die drie kernfigure in die bundel, Héloïse, Abélard en Astralabe in volmaakte drietal in versvorm ikonies vergestalt word.

    'n Verdere vooropgestelde aspek in Intieme afwesige wat deur die titel direk gestel word, is die belangrikheid van figure. Die afwesigheid van die beminde word in talle verse verwoord. Soos hierbo genoem, is donker 'n belangrike merker vir afwesigheid, so ook is die sterwe van 'n geliefde. Wanneer ruimte as digtema aanwesig is, is die plasing van figure in daardie ruimte, vir die digter belangrik. Vergelyk hier veral "see" (85) asook "Paryse winter" (90), maar veral in "Vertrek" (102) waar die spreker se liggaam ook 'n ruimte van skuiling teen verlies word.

    Die woorde van Heloïse in haar eerste (Levitan 2007: 51) brief aan Abélard waar sy die behoefte uitspreek dat hy moet aanhou skryf, bevestig die belangrikheid van die korrespondensie tussen die twee geliefdes, want voer sy aan:

    If, on the other hand, this storm abates
    even just a little, you must write to us quickly
    when your letters will bring us more joy.
    But whatever it is you write to us about
    it will be no small relief, for in this way
    at least you will show you are thinking of us.
    Seneca teaches us by his own example
    how much joy there is in letters from absent friends,
    as he writes to his friend Lucilius:

    I am grateful that you write to me often,
    for you show yourself to me in the one way you can.
    When I receive a letter from you, we are suddenly together.
    If images of absent friends bring joy,
    if they refresh our memory and soothe the ache
    of absence even with their false and empty solace,
    how much more joy is there in a letter,
    which carries the true signature of an absent friend?"

    Met Intieme afwesige het Vos daarin geslaag om afwesigheid en verlies op talle bestaansvlakke in 'n deurgekomponeerde bundel gestalte te gee. Verdriet en wroeging in die stemme van Abélard en Heloïse het my as leser aangegryp, en is voorts in die verlangeggo's van Astralabe stukrag gegee. Die digter het die vers as instrument ingespan om verlies te troef - die gedig het inderdaad 'n draer geword van die afwesige(s) se gestaltes.

     

    Nota

    Hierdie resensieartikel is aanvanklik as 'n commendatio gelewer by die bekendstelling van hierdie bundel.

     

    Bronnelys

    Levitan, W. 2007. The Letters and Other Writings. Indianapolis: Hackett Publishing Company.         [ Links ]

    Van Rensburg, F. I. J. 1990. 'n Afrikaanse Abélard en Heloïse. The South African Journal of Medieval and Renaissance Studies 1(1): 1-17.         [ Links ]

    Vos, C. 2007. Die afdruk van ons hande. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

     

     

    Marthinus Beukes is 'n senior lektor in die Departement Afrikaans, Universiteit van Johannesburg. mbeukes@uj.ac.za