SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.47 n.1 Pretoria Jan. 2010

 

RESENSIEARTIKEL REVIEW ARTICLE

 

(Trans-) grense, talighede, boek- en bloedrefleksies

 

(Trans-) Borders, tongues, book and blood reflections

 

 

Ian Liebenberg

 

 


ABSTRACT

This contribution surveys recent works on the Border War /Angolan War (1960-1990). It contrasts writings by political theorists, media analysts and literary scholars with works written by soldiers who fought in the war and recollections by embedded journalists. The article's main focus is on Gary Baines and Peter Vale's collection of essays entitled Beyond the Border War: New Perspectives on Southern Africa's Late Cold War Conflicts (Unisa Press, 2008).

Key words: Angola, border literature (grensliteratuur), bush war (bosoorlog), civil war (Southern Africa), conflict, military destabilisation, Namibia.


 

 

Beyond the Border War: New Perspectives on Southern Africa's Late Cold War Conflicts. Gary Baines & Peter Vale (reds.). 2008. Pretoria: Unisa Press. 321 pp. ISBN: 978-1-86888-456-8.

 

1

Boeke en ry op die langpad het baie met mekaar te doen. Stap en boeke ook. Nou die dag weer, 'n klein trippie deur Namibië. Dié jaar moet ek in Julie 'n konferensie bywoon en mis uit op 'n stap deur die Visrivier Canyon (aardtrog, in goeie Afrikaans) saam met pelle. Miskien dan maar 'n draaitjie ry in April as die kinners vakansie het? Nou ja, in 1990 is die PAC, ANC en die SAKP ontban en word Namibië onafhanklik. Die bakkie waarmee ek ry is nog jonk. Dit dateer uit 1991 - hard om te ry, eintlik het jy 'n bikersbelt nodig, maar betroubare oosterse tegnologie (as jy met 'n Landrover ry het jy 'n Landroverklub nodig, want tussen daar en terug is die kanse skraal dat jy dit sal haal sonder 'n breakdown). Die trippie? Om plekke duskant die Angola te herbekyk wat duisende diensplig-, burgermag en ander veterane oor jare gesien en geloop het (die Generaals het dit ook gesien, soms net op kaarte want hulle wou nie orals loop nie; ander mense het dit namens hulle gedoen).

Ses duisend en 'n bietjie meer kilometer uit en tuis van Saldanha af; nie onder dieselfde omstandighede as toe nie; meer vreugdevol en minder avontuurlik. 'n Vinnige wegkom vir refleksie. Namibië is groot. Ons besluit om die Caprivi, grootliks Etosha en Kaokoland uit te sny op die rondte. Bekyk ou wêrelde met nuwe oë, en bestaande en wordende plekke deur ander mense se oë. Plekke, nie meer plekkies nie; name wat maklik van die tong afglip: Outjo, Otavi, Okahanja, Tsumeb, Tsintsabis, Oshivelo, Ondangwa, Oshigambo, Ombalantu, Onayena, Ruacana. Sluit af so half op die westekant, klein gedeelte van Kaokoland en Damaraland, 'n vinnige drie uur stop by Brandberg en dan Swakopmund/Walvisbaai en Duin 7 en t'rug oor Solitaire hoofpad toe. By Mariental is daar iemand wat exhausts kan sweis. Die Oom sit nie budgiestront op as hy 'n pyp regmaak soos by 'n anner shop neffens die see by 'n vakansiedorp 300 kilometer vantevore nie.

Na 'n lang bevrydingstryd word Namibië onafhanklik toe die onafwendbaarheid van VN Resolusie 435 deur die apartheidsregering dikbekkig aanvaar is. In die Windhoek-stadion een aand in 1990 het die vlag van die derde besetter plek gemaak vir 'n nuwe met 'n simboliese son daarop. Op pad "boontoe" ry ons vlugtig by Windhoek aan. Daar is nou 'n vryheidsmonument so op regs teen die heuwel, net voor jy die stad binnery. Die amfiteater oorsien deur 'n brons guerrilla geharnas met AKM en uniform - die nagmerrie van die toekoms vir die heersers van toe. Die gestalte staar oor Windhoek soos 'n Voortrekkermonument óf die Uniegebou in Pretoria óf die Taalmonument op Paarl se klip. Maar daar verdwyn die ooreenkoms.

Hier lê die grafte van Namibiese vryheidstryders, manne en vroue wat hul merk gelaat het sedert die Duitse besetting wat die mense van die land met 'n volksmoord agtergelaat het. Mens dink aan die Herero- en Damara-oorloë, die Bondelswarts se vasskop en name soos Hendrik Witbooi, Christiaan en Abraham Morris. Neffens die bronsbeeld van die guerrillastryder is daar frescoes wat stories om die baklei vir vryen menswees vertel in die sondeurdrenkte land. In dié beeldinge is die skadu's van Angola en vele gevegte daar. Aan die regterkant sien mens BM-21's veelvuldige vuurpyllanseerders (daar's ook 'n regte een te sien in die oorlogsmuseum op Okahandja, nie ver van die garage, die ou koloniale stasie en die gewilde biltongwinkel af nie). Suid-Afrikaanse soldate sal die "Rooi-oog" of Stalinorrel, 'n veelvuldige vuurpyllanseerder sedert 1975-76 onthou. Miskien nie te akkuraat as wapen nie, maar die vuurspel wat met bestokings gepaard gaan, het 'n diep indruk gelaat op die Suid-Afrikaanse troepe wat in 1975-76 namens die generaals in Washington en Pretoria daar moes uithang. Ek wonder so in stilte wat Clemens Kapuoo en Jonker Afrikaner vanuit hul laaste rusplekke oor die monument sou sê ... en Thilo von Trotha begrawe in die Visrivier Canyon in 'n eensame graf, die professionele soldaat wat vrede nagestreef het eerder as uitroeiing soos sy Oom Lothar?1

By Grootfontein boer hulle op groot skaal. Die hele land tussen Ondangwa en Oshakathi is nou aaneenlopend besig met 'n bouery en ander ontwikkelings. Kleinboerderye al langs die kanaal wat van Ruacana af kom deur dorp en shona. Selfs malls en kettingwinkels en mediese sentrums. Ondangwa-lughawe het huurplekke vir Avis, Imperial, Budget, Hertz en daar is gastehuise en 'n spiekeries hotel naby die lughawe. Plekaanwysers is ook daar in Portugees. Oshakati dieselfde. By die Ruacana valle wat dié jaar boordvol geloop het na die vloede, tuur ek na die landskap en berge in die noorde. Agter die berge verdyns Angola in 'n mis. Die bomskuilings agter die huise by Ruacana se sandsakke het tot pulp verval, party nou pakkamer, ander speelplek vir kinders, selfs 'n hondehok of hoender se lêplek.

Ruacana en die brug daar het dit gesien. Willem Steenkamp, embedded joernalis vir die SA magte, rapporteer in Adieus Angola dat hy die brug daar onmiddellik herken het as die plek waar "alles (in 1975) begin" het. Deels is dit waar. Dis ook waar Suid-Afrikaanse soldate in 1976 gedwing was om terug te trek - nie vir lank nie, want die politici en generaals in Pretoria had ander idees. Die eerste les was nie genoeg nie...

Dinge was kompleks. Suid-Afrikaanse magte het reeds met die kwasi-fascis Caetano se Portugese koloniale besetters saamgewerk en in 1975 was hulle nie net in die suide van Angola betrokke nie, maar ook saam met Mobutu Sésé Seko van Zaïre se magte, die FNLA van Holden Roberto en die CIA in die noorde aktief. Saam met Ian Smith se Rhodesiese lugmag het hulle in die jare daarna aanvalle in Angola en Zambië gedoen - Brits voorsiende Canberra bomwerpers, Franse Mirage vegvliegtuie en Alouette helikopters (later Pumas ook) ingesluit. Aan die "chaos" in Angola van voor die dag van onafhanklikheid op 11 November 1975 was Suid-Afrika en die CIA en Holden Roberto se omgekoopte "vryheidsvegters" eweseer aandadig as die sogenaamde "kommunistiese-ateïstiese" MPLA en dié se ondersteuners.

Van ry tot praat tot skryf: Refleksies oor dinge wat gebeur (het). In 'n wêrelddeel soos ons s'n, kan mens byna maandeliks 'n nuwe oorlog óf vrede óf slag gedenk. Refleksies wat oor grense reik en boeke wat met die lees nie net na stof ruik nie, maar ook na sweet, rook, diesel, vlieë en per geleentheid ontsmettingsmiddels wat iets weg wou was, suksesvol of minder so ... Dis nogeens 'n voorlopige spoorsny. Omvattende reise vat baie tyd en bladsye. Hiervoor is daar nie nou geleentheid nie.

 

2

Hier word na sommige verbandhoudende publikasies verwys veral na Gary Baines en Peter Vale se geredigeerde werk, Beyond the Border War: New Perspectives on Southern Africa's Late Cold War Conflicts, maar daar is ook Granger Korff se 19 with a Bullet: A South African Paratrooper in Angola en Clive Holt se At Thy Call We did not Falter. In my agterkop is 'n boek wat plaaslik uitgegee is deur André Diedericks, 'n ontslape voormalige reccie waarin hy van sy avonture vertel saam met Koos Stadler, 'n ou skoolmaat van my uit Upington se dae. Grense, afgedwonge of verbeel en rieële gevegstellings het in die psige van Suid- en Suider-Afrika 'n diepliggende rol gespeel. Geestelike, individuele, fisiese en ingedrilde tronke van die kollektiewe bewussyn het vanaf die 1960s tot die 1990s knoopgeloop en tot uitbarsting gekom. Uiteenlopende woordwêrelde het ter aarde gekom in loopgrawe en bloedbemorste grond, van Kaapstad tot Cabinda. Bygesê: Kaapstad tot Cabinda was nie 'n reguit lyn nie. Elke dorp in Suid-Afrika sou daarvan weet en die buurlande Botswana, Lesotho, Swaziland, Zambië en Mosambiek ook. Selfs Malawi, 'n stillerige staat, moes bietjie "finansieel oortuig" word om as deurgangsbasis vir Suid-Afrikaanse sekuriteitsoperateurs en toerusting te dien (destabilisasie en frontier armies het vele gesigte). Monsters van elke soort misverstaan moes uitmond in bloed en yster.

In hierdie sin is Beyond the Border War 'n bruikbare bydrae. Die boek is in 'n ietwat ander genre as die huidige reeks publikasies rondom die grensoorlog wat verskyn - die Rhodesië-, Namibië- en Angola-teater ingesluit (vergelyk byvoorbeeld Moorcraft en McLaughlin (2008) oor die Rhodesië/Zimbabwe-oorlog). Korff s'n is weer iets anders. Die blood and guts-verhaal van 'n parabat, nogal 'n Ingelsman uit die Oos-Rand. Holt se werk deel dieselfde soort eerstehandse ervarings met die leser, die keer rondom Cuito Canavale (1987-88).2 In weerwil van wat ou veteraan-webwerwe (lees Staande Mag/ou SAW ondersteuners) dikwels sê, het gewone bats en infanterie-dienspligtiges hul deel uitgebeitel in die bosoorlog3 (ek hoor een generaal het selfs na die oorlog verwys as "een van luitenante en korporaals". Nou ja ...).

Gepubliseerde werke (bitter min daarvan saamgestelde werke) oor die afgelope jare val in die volgende katagorieë:

(a) Romantisering van die Rhodesiese en die Suidwes-grensoorlog en die "beskawingstryd" nog voor dit; dus, die beskerming van 'n Westers-Christelike Beskawing teen barbarisme en die kommunistiese meelopers daarvan; en die behendigheid van eersgenoemde teen die indringers besmet met onaanvaarbare motiewe. Die werke bevind sigself teen die agtergrond van 'n Swart Gevaar, Kommunistiese Aanslag en Terrorisme. (Die tipe geskrifte herinner mens nogal aan heenwysinge juis teen so 'n mentaliteit in The Barbarians van J. M. Coetzee en op 'n meer subtiele vlak roep dit Karel Schoeman se By fakkellig op. Nog later natuurlik Louis Krüger met sy Gevaarlike land). Rondom die grensoorlog het die romantiseringsgenre te doene met skryfwerk in Afrikaans en Engels meestal deur voorstanders van die ou orde, gebaseer op 'n Top Gun-mentaliteit eerder as die gewaarwording van 'n Apocalypse Now. Anders gestel: Die vertellinge van voormalige generaals en soms kolonelle wat volgens hulle die "ware verhaal" en "al die feite" vervat. Die werke van Magnus Malan (Magnus Malan my lewe saam met die SA Weermag, Protea Boekhuis, 2006), Jannie Geldenhuys (At the Front, A General's account of South Africa' Border War, Jonathan Ball, 2009) en Dick Lord (Vlamgat: The Story of the Mirage F1 in the South African Air Force, Covos Day Books, 2000). In die katagorie val ook werke soos Hilton Hamman, Days of the Generals: The Untold Story of South Africa's Apartheid Era Military Generals (Zebra Press, 2006)4 vol onderhoude met generaals en met bitter min van 'n kritiese aanslag en niks nuut te sê vir 'n meer ervare (leser) nie.

 

 

 

 

(b) Bydraes oor die spesiale magte en elite-eenhede: Hier dink mens aan die valskermsoldate/ of paratroopers (parabats), eenhede soos 32 Bataljon en die reccies of verkenningskommandos. By geleentheid word "unieke eenhede" in teenstelling met "spesiale magte/eenhede" ook ingesluit, byvoorbeeld 31 Bataljon. Skrywers soos Paul Els (2000), Piet Nortje (32 Battallion: The Inside Story of South Africa's Elite Fighting Unit, Zebra, 2008), Nico Van der Walt (2007), Louis Bothma (2008) en weer eens Diedericks en Korff val hier op. Baie hiervan minder oor politiek en meer oor die ervaring van die deelnemers, taktiek en hul eenhede, en meestal hiervan waardevolle bronne van eerstehandse ondervinding, veral waar argivale bronne te kort skiet of vernietig is, selfs al is die bronne nie per se deur historici geskryf nie.

(c) Publikasies wat 'n vorm van geskiedenis van onder (history from below) weerspieël. Hierdie is waarskynlik van die belangrikste bydraes onder meer deur voormalige burgermaglede en dienspligtiges. Sommige in hierdie skrywerslyn is steeds onder die indruk van die gewaande Totale Aanslag-mitologie (soos David Williams se On the Border: The White South African Experience, 1965-1990, Tafelberg, 2008); ander is meer self-reflekterend en soms uiters krities soos Clive Holt se werk. Holt en Korff is die stemme wat deur die tronke van gestolde denke in die geslote Afrikaanstalige gemeenskap breek, ingesluit die destydse sogenaamde verligtes en liberales. Dit raak aan nuwe sosiale en kulturele waardes - as't ware 'n geskiedkundige "weer kyk" en her-dink na wat toe gebeur het in die naam van 'n ideologie gebaseer op 'n sekere kennis en 'n vaste vertroue van hoe die wêreld behoort te lyk (al moet mens dit moker tot dit jou pas).

 

 

Net so op 'n sypaadjie: Gedurende die 100-jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog het 'n menigte boeke verskyn. Van hulle was 'n minderheid versamelde werke of geredigeerde bundels wat 'n breër perspektief oor die oorlog en die gevolge daarvan weergee het. Opvallend in dié katagorie is die saamgestelde werk van Ina Snyman, Gert van der Westhuizen en Mariaan Roos getiteld A Century is a Short Time. New Perspectives on the Anglo-Boer War (Nexus, 2005).

 

3

Baines en Vale se Beyond the Border War poog om 'n oorsig oor die bosoorlog te gee. Die bydraers dek 'n veel korter periode (vanaf omstreeks die 1960s tot die 1990s). Sewentien bydraers maak 'n buiging. Sommige hiervan welbekend, ander minder. Die bydraes wissel van sterk tot minder so. Hoewel meer beperk as Snyman e.a. se A Century is a Short Time, word na die bosoorlog, die kollektiewe psige van destyds, die opvattings "grens" en "grense" en "grens-(deur)breking", die ontleding van die destydse heersende taalspel (diskoersanalise), historiese (on-)bewussyn en die uitkomste van die bosoorlog gekyk. Dié wat soek na 'n gewigtige werk oor bevryding, die verglydende definisie van die begrip "terroris", insurgensie en teen-insurgensie, militêre strategie en kleingroep taktiek of generaals as draers van die ewige waarheid as sal elders moet gaan kyk. Blood and guts is daar ook nie, hoewel die bydraes gaan oor die uitvloeisels van so 'n era. Korff, Holt, Nortje en Van der Walt sou hier bruikbaar wees om sand, stof, shona (waterpanne), vlieë, vuil water, mislukking, sukses en dood in die oomblik van ontplooiing te voel. Dit is nie die doel van dié werk nie. 'n Goeie lees van Korff en Holt sal laasgenoemde aspekte beter - en hard - onthul. In dié sin vorm Korff se werk 'n belangrike agtergrond vir die leser wat nie daar was nie. Hy struktureer sy boek rondom, of ten minste bring dit na-aan die herinneringe van die gewone mens en soldaat en selfs die musiek wat (agterna) daarmee saamhang. Die dodelike verveling van die voetsoldaat, gemeganiseerde infanterie, genie-troep, kavalleris, tiffie, hondehanteerder, parabat, die gewag-en-wag en (onverwagte) aksie is dikwels versag/besweer deur musiek. Korff begin elkeen van sy 31 hoofstukke sowel as die naskrif in sy boek met verwysings na musiek. "Purple Haze" van Jimmy Hendrix loop saam met "Into the Army", Pink Floyd met toetrede tot die Valskermbataljon, Ondangwa met Marianne Faithfull, Blondie se "The Tide is High" met 'n transgrensoperasie in Angola. Credence Clearwater Revival se "Bad Moon Rising" herinner aan die eerste kontak in omgewing Oshikango. "Brothers in Arms" van Dire Straits roep die eerste kontak met die Angolese weermag en dooie FAPLA soldate op. Op sy 21ste verjaarsdag stamp hulle 'n suksesvolle kontak waar meer Angolese troepe sneuwel as SWAPO cadres. Robert Johnson's "Hellbound on my trial" bly 'n herinnering aan die dag. Sy ervaring van bloedige werklikheid en dood en die saamloop met musiek, skep die tipe agtergrond vir die bydraes tot Baines en Vale se werk. Dis deel van 'n ge-erfde - miskien liewer, diep ge-etsde - consciousness.

Nuwe perspektiewe, own concerns en 'n kritiese kyk op kultuur en ideologie, sowel as teks en intertekstualiteit en die komiese, soms waansinnige, maar meestal tragiese uitvloeisels daarvan speel 'n rol in Baines en Vale se bundel. 'n Mens lees regtens van musiek en kuns vir en teen 'n bepaalde ideologie of Weltanschaung. En natuurlik: Hoe mense hulle verset het op 'n verskeidenheid subtiele, minder subtiele, subversiewe en openlike wyses. Ook verset uit die wit Afrikaanstalige gemeenskap kom onder die loep. Ons hoor weer van die kritiese letterkunde teen die apartheidswaan soos byvoorbeeld die baanbrekende grensliteratuur van die tagtigs, boeke soos Forces Favourites, die klein maar aktiewe tydskryf Stet en die Afrikaanse struggleuitgewerytjie Taurus en meer. Ek sou nogtans meer daarvan wou sien. Mathilde Rogez se hoofstuk oor bomskok / PTSS / bosbeneweling / bosbefoktheid en stilte gebruik as gevallestudies die werk van J. M. Coetzee, Etienne van Heerden, Mark Behr en andere. Miskien omdat dit nog research in progress is of omdat sy swaar steun op Behr se werk terwyl ander werke in die 1980s en vroeë 1990s meer te sê het, is die hoofstuk - vir my altans - nie sterk genoeg nie. Henriette Roos se hoofstuk oor die "skryf van binne" ten tye van die bosoorlog spreek my aan en behoort uitgelig te word. Bruikbare insigtelike navorsing wat die tydsgees oordra, meen ek.5

 


Click to enlarge

 

Die bydraes in Beyond the Border War bied inderdaad 'n goeie balans teenoor die verhale en houdings van die generaals en hul lojale luitenante wat diegene van morele vesel wat in opstand teen apartheid en sy uitvloeisels gekom het, so verguis en beswadder het en dikwels steeds doen (ter wille van intersubjektiwiteit gebruik ek voorlopig die term balans). Die werk is eintlik 'n poging tot reflektiewe sosiale analise gebou op vorme van samelewingskritiek. Dit bied onder meer ook leesstof vir diegene wat nie in aktiewe verset politiek kon meedoen in die 1980s nie. En, dit raak aan die linguistic turn en kultuurkritiek en media-analise - nie as noodwendig beplande metastruktuur nie, maar sodanige perspektiewe (noem dit angular optics as jy wil) speel 'n rol.

Baines skryf oor grense en die riskante breekbaarheid daarvan. Oor swye en die deurbraak van opgelegde swye. Vale skryf oor die Koue Oorlog se invloed in Suider-Afrika; Monica Popesque oor die antikommunistiese fanatiek hier te lande en die taalspeletjies daaromheen; en oor kapitalisme, die Voortrekker, rasbeheptheid en ewige Protestantse werksetiek (Calvinisme ingesluit) wat uitgemond het in meerwaardige geweld teenoor die ander - beide in taalkultuur, godsdiens en optrede. Dylan Graig skryf oor die totale regverdiging van die apartheidslui vir hul stryd en natuurlik die ideologiese manipulasie wat daarmee saamhang. Dis nou die tye toe dié wat krities was teenoor apartheid nog na Die Burger verwys het as Die Buiger en die Beeld as Skewe Beeld en die Netwerk aktuele program op SAUK as Natwerk. Daar was ook 'n Sondagkoerant met die naam Ram-port. Willem van Vuuren, politieke wetenskaplike by die UWK daardie tyd het ligtelik na die Totale Aanslag as die Fatale Gatslag verwys in 'n comic onthou ek. 'n Tyd van ideologiese manipulasie wat soos een boer van Vredenburg nou een dag hier op Saldanha by 'n kickboxing-byeenkoms vir my sê: "Ons kan dit mos maar vir mekaar sê; 'die ouens het met ons koppe gesmokkel'". Hy's ouer as ek en was ver anderkant Ruacana in 1976. Daai tyd het ons Gordonia/Noordwes Kaap outjies nog kadetkampe op Riemvasmaak, Kimberley en Potchefstroom (Bloubos) meegemaak en drilkompetisies bygewoon op Oudtshoorn. Grensdiens en die kapelane met groen kaartjies en hul ewige In Hoc Signo vir ons sou eers later kom.

Die bydraers spreek ook die grens in die meer-as-fisiese sin van die word aan; grens as subteks, metafoor en transendente verskynsel/ervaring (Daniel Conway, Michael Drewett, Mathilde Rogez en Henriette Roos). Roos en Wendy Morris raak wat die taalkundiges noem representatiwiteit (representivity) aan. Morris se interpretasie rondom kuns as kritiek midde in en na afloop van 'n uitmergelende oorlog bied stof tot nadenke. Dit het tewens veel te sê vir generaals en politici hetsy uit die apartheidskamp of waar ook al.

Karen Batley se werk gebaseer op navorsing gedoen in die vroeg 1990s hanteer die poësie van jong soldate. Meestal rou, eerlike en anti-heldgedigte, in kontras met die outoritêre stemme van die apartheidsleiers, generaals en hul lojale akademiese sikofante (meestal aan "Afrikaner-" universiteite wat later - na 1990 - blitsig politieke gat omgesit het). Die versameling van haar gedigte word gelukkig gestaaf deur die werke van Korff, Holt en andere - anders sou die webwerwe van die "ons-is-altyd-reg-" veterane weer probeer voorgee het dat die gedigte uit die lug gegryp is.

Batley se A Secret Burden het eers in 2007 verskyn. In die vryheidseuforie gemeng met die gedagte dat selfs sterk weermagte en kragdadige optrede nie klein nasies soos Namibië se stryd om vryheid vir altyd kan afweer nie, was sulke werke nie die flavour of the month in die vroeë 1990s nie. Daar was seker ook 'n ideologiese voorkeurtjie: Verloorders word meestal onder een kam geskeer en volgens die stereotipe is verloorders die oorsaak van die kwaad en dienspligtiges is gesien as behorende tot die generaals en kie, sonder om sosiale nuanses in ag te neem. Buitendien digters en digteresse wat boeke vol skryf oor die tragedie so pas afgeloop, se waarderings was kommersieël meer bemarkbaar as verhale van bloed, gatvolgeit en kots. Nogal jammer, die stemme wou vroeër gehoor word; voor die huidige gepraat noudat Cuito, Lomba en Tumpo se herdenking verby is en Namibië se vrye verkiesings in 2009 in herinnering geroep word. En in 2010 as die sokkerstryd losbars, word twintig jaar gevier sedert die onafhanklikheid van Namibië en die jaar wat Pretoria se bloedige greep op die mense van Angola losgesny is. Gegee die atmosfeer van die tyd was daar nie 'n uitgewer wat by Batley se boek wou staan, val of loop nie.

Elaine Windridge maak 'n interessante analise van Suid-Afrika en die VSA se gunsteling proxy, Jonas Savimbi van Unita-faam wat van 'n ondoeltreffende guerrillamag deur die twee knoeiende state opgebou is tot een van die hoofdestabiliseerders van Angola met sosiale gevolge wat vandag nog spook. Dis nie nuus dat Suid-Afrika sy oorlog aan die gang kon hou as gevolg van die VSA nie (kyk Gervasi en Van der Westhuizen). Dis ook nie nuus dat die VSA, Suid-Afrika en Savimbi die Koue Oorlogretoriek as manna uit die hemel kon manipuleer vir hul eie magsillusies nie. Tussen constructive engagement en Suid-Afrika se pogings om die "vrede" van Pax Pretoriana te bring, het Angola en Namibië se mense bly bloei. Haar opmerkings oor instansies en individue wat hulleself as gesaghebbend voorgedoen het, maar eintlik diensmaagde van die Weste en eie tjekboeke was, is insiggewend. Ook haar navorsing oor joernaliste wat steeds hier te lande voorgehou word as kenners van die Angolakonflik, is insiggewend. Dit is nodig dat meer hieroor geskryf word. Die rol van Unita is meestal in die 1970s en 1980s deur pro-Westerse joernaliste opgehemel (kyk Fred Bridgland in Jonas Savimbi: A Key to Africa, Mainstream, 1987). Daarna het min mense krities oor die "beweging" geskryf. Elaine Windridge se bydrae hier is welkom. Die FNLA val in dieselfde katagorie. Oor die FNLA behalwe positiewe persverklarings in die Suid-Afrikaanse en Noord-Amerikaanse media in die middel 1970s, kan ek net aan een vroeëre werk van historiese waarde deur Andrei Tokarev (2006) dink. Dié is ongelukkig net in Russies verkrygbaar en vir die meerderheid van ons ontoeganklik. Hopelik sal toekomstige werke die FNLA leemte hanteer - of een of ander Afrikaanse uitgewer dalk?

Edgar Dosman skryf oor Cuito Canavale. Dit is die naaste wat militêre historici, waarnemers van strategie en taktiek sal kom aan wat hulle as ernstige leesstof beskou. Dosman kom met interessante inligting wat ou apartheidsstryders rooi onder die kraag sal maak. Sy inligting is nie noodwendig nuut nie, maar verskaf minstens goeie leesstof vir diegene wat meen dat die Kubane willose poppe van die Sowjet Unie was of net gevegte gewen het omdat daar soveel van hulle was. Dit vertel van die Angolese-Kubaanse opposisie wat 'n frontaanval op die presiese roete en wyse herhaal het as voorheen (dit was maar een van die kere). Dit sê veel van die verdedigers van Angola insluitende FAPLA wat soms meer plasties gedink het op die gevegsveld al was hul verliese veel meer. Oorloë word nie noodwendig gewen met min verliese nie. En die magte wat minder verliese ly as hul vyande, wen nie altyd nie. Die hoofstuk probeer gelukkig nie sê dat wanneer mens 'n reeks gevegte gewen het en wanneer die vyand meer verliese gely het, die resultaat onomwonde oorwinning is nie. Die hoeveelheid verliese is ook nie noodwendig die maatstaf van sukses vir die bereiking van strategiese doelwitte nie, sou mens wou byvoeg. Daarvan het ons in Suid-Afrikaanse publikasies sedert 1990 genoeg.

Humor, menswees, filmmakery en ideologie kom onder die vergrootglas in Robert Gordon se bydrae oor onder meer Oh, Shucks ... Here Comes Untag.

Sasha Gear skryf oor veterane en die effek van die oorlog op hulle en dié na-aan hulle, of liewer dié wat na aan hulle was.6 Ander navorsing daaroor is beskikbaar. Gear s'n is 'n potensieël waardevolle hoofstuk wat veel sterker geskryf kon word. Dit kort ook meer resente navorsing - verkieslik oor meer grense heen. Dis jammer.

Christopher Saunders, 'n bekende historikus, raak die kwessie van die veelbesproke Waarheid- en Versoeningskommissie aan; veral hoe die kommissie ligtelik die apartheidsvergrype deur die SAW en sy politieke leiers gerieflikheidshalwe of omrede 'n politieke perderuilery gehanteer het. Hy verwys na SWAPO se vergrype in die kampe wat ook gesystap is. 'n Bruikbare hoofstuk, maar mens vermoed dat sommige van die bydraes tot die bundel in haas geskryf is. Jammer. Dit geld byvoorbeeld ook vir die bydrae van Peter Vale. So op die pad deur Namibië dink ek: Daar is 'n skynbare gebrek aan voorafbeplanning en dit doen afbreuk aan 'n bruikbare boek.

Die post-koloniale literatuur en die vergewe-en-vergeet-, hang-hulle-op-en-bou'n-nuwe plek of betaal-en-pyn-benadering kom onder bespreking in die bydraes van Heike Becker en Justine Hunter. Namibië en Suid-Afrika, net soos Nazi-Duitsland jare na die Tweede Wêreldoorlog, betree nou eers ernstig dié diskussie. Die VSA in die opsig is ver agter. Vir 'n kort tydjie het Viëtnam die Amerikaners gehelp tot nadenke, maar die Star Spangled Banner en Top Gun-mentaliteit het daarna wydlopende vergrype meegebring wat toenemend in die toekoms onder die internasionale (regs-) aandag gaan kom. (Korff se werk gee terloops kortliks insae in die lot van 'n klompie Gung Ho's van VSA oorsprong en hoe hulle deur Suid-Afrikaanse soldate beskou is; onnodig om te sê dat dit nie alte gunstig is nie.)

Beyond the Border War (die keuse vir die titel ontglip my) word afgesluit met 'n geselekteerde bibliografie wat van waarde is vir huidige en toekomstige navorsers. Die bibliografie laat een voorlopige indruk: Om indringend te kyk na alles wat sedert 2000 oor die bosoorlog geskryf is, laat mens met nagte se leeswerk.

Dis duidelik dat die bosoorlog/grensoorlog/Angola onderwerp nog nie uitgeskryf is nie. Nie hier te lande nie en ook nie elders nie. Die een publikasie na die ander kom tans in Kuba en Rusland uit - en stadiger, maar ook in Namibië en Angola.7 En lesers is lank nog nie daaroor uitgelees of klaargepraat nie ondanks die feit dat 'n redakteur van 'n Afrikaanse glanstydskrif in die vroeg-1990s opgemerk het dat grensliteratuur "tog al passé" is. Dit is jammer dat vanweë taal- en historiese tronke hierdie publikasies uit verskillende wêrelde, nog nie met mekaar praat nie.

 

Aantekeninge

1. Kyk Van Huyssteen (1984) oor Thilo se heengaan. Wandelaars in die Visrivier stop dikwels by sy graf in die barre aarde. In 'n land van ruwe klipskeure, draakagtige rotse, stil groenwaters, mooi sonsondergange, mulle sand en swartgebrande klippe spreek dié rusplek 'n mens aan. Dit roep tot oordenking. Die appél daarvan net soos die swawelbronne 'n dag of wat vantevore op die roete, gaan nie gemis nie. Diegene wat daar stop en reflekteer op 'n warm dag, soms oor 'n schnaps, vodka, soetwyn of lou brak water, deel die een ding wat almal weet: Afrika is ons lot en geleentheid. Ons menswees, en sal dit altyd wees, net soos die Visrivier Canyon...

2. Aan die einde van die militêre stryd rondom Cuito Canavale in Angola (ook bekend as die Lombarivier- en Tumpo Driehoek-gevegte) het die Suid-Afrikaanse magte in 1988 "strategies onttrek" uit Angola waar hulle sedert 1979 byna 'n vrye hand gehad het. Met Ronald Reagan en Chester Crocker se constructive engagement-beleid in die vroeg-tagtigs, sou dinge verder versleg vir die mense van Angola en Namibië. Dertig of meer jaar later hou die Suid-Afrikaanse generaals vol dat Kuba en Angola die stryd verloor het en die Suid-Afrikaanse magte hul strategiese objektiewe bepland bereik het voor hulle in 'n relatiewe kort tydperk onttrek het na Pretoria met 'n swart gebrande aarde agter hulle.

3. Inderdaad was daar dienspligtiges nie net van die infanterie nie, maar ook die geniekorps (ingenieurskorps), artillerie, kavallerie (pantser), gemeganiseerde infanterie (mech), mediese korps, seiners en lugafweer (laasgenoemde soms budgy gunners genoem). En natuurlik ook: vele aktiewe burgermaglede, dus voormalige dienspligtiges.

4. Hoekom sy subtitel The Untold Story of South Africa's Apartheid Era Generals die woord untold in het, weet ek nie. Hoekom dit op die voorblad beskryf word as "Essential reading for history buffs and those interested in politics and the military" weet die gode alleen.

5. Vir die selfaangestelde filosowe wat postmodernisme agter elke woord wil sien of indwing, bied die werk miskien ook iets om in laatnagte te bespreek of voor sonsopkoms te lees (bygesê, mens moet nie die ui te veel afskil nie, want die oorlog was rieël en nie verbeel nie.)

6. Gear het vroeër ook navorsing oor veterane gedoen en gefokus op die gebrek aan aandag wat hulle kry vanaf owerheidsweë en soms die gemeenskap (kyk Gear 2002 en ook Liebenberg en Roefs 2001).

7. 'n Bronnelys van alle werke wat in Kuba (en dus in Spaans verskyn) het, is lank. Ek vermeld slegs twee as voorbeelde. Twee voorbeelde van werke wat die Angola-ervaring verwoord en wat in Rusland verskyn het, verskyn ook in die bronnelys. Die lys van publikasies in beide lande groei steeds.

 

Bronnelys

Baines, G. & Vale, P. (eds.). 2008. Beyond the Border War: New Perspectives on Southern Africa's Late Cold War Conflicts, Pretoria: Unisa Press.         [ Links ]

Batley, K. 2007. (ed.). A Secret Burden: The Border War - Memories by South African Soldiers Who Fought In It. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Bothma, L. J. 2008. Die buffel struikel: 'n Storie van 32 Bataljon en sy mense. (Hersiene uitgawe). Bloemfontein: Self-uitgawe.         [ Links ]

Cabrera, M. & Sanchez, R. 1989. La Guerra de Angola. Havana: Editora Politica.         [ Links ]

Diedericks, A. 2008. Journey without Boundaries. Durban: Just Done.         [ Links ]

Els, P. J. 2000. We Fear Naught But God: The Story of the South African Special Forces. Johannesburg: Covos Day Publishers.         [ Links ]

Gear, S. 2002. Wishing Us Away: Challenges Facing Ex-combatants in the 'New' South Africa. Violence and Transition Series, Vol. 8, Braamfontein: Centre for the Study of Violence and Reconciliation (CSVR).         [ Links ]

Forces Favourites. 1987. Emmerentia: Taurus.         [ Links ]

Gervasi, S. 1984. Secret Collaboration: U.S. and South Africa Forment Terrorist Wars. Covert Action Quarterly, Fall. <www.thirdworldtraveler.com/US_ThirdWorld/US_SAfrica_wars.html> Besoek: 1.07.2009.         [ Links ]

Hamman, H. 2006. Days of the Generals: The Untold Story of South Africa's Apartheid Era Military Generals. Cape Town: Zebra Press.         [ Links ]

Hernandez, H. T. 2005. Trueno Justiciero: Mis campañas en cielo angolano. Havana: Editora Politica.         [ Links ]

Holt, C. 2008. At Thy Call We Did Not Falter. Cape Town: Zebra Press.         [ Links ]

Korff, G. 2009. 19 with a Bullet: A South African Paratrooper in Angola. Johannesburg: 30º South Publishers.         [ Links ]

Krüger, L. 1990. Gevaarlike land. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.         [ Links ]

Liebenberg, I. & Roefs, M. 2001. Demobilisation and its Aftermath II: Economic Reinsertion of South Africa's Demobilized Military Personnel. ISS Monograph Series, No. 61. Pretoria.         [ Links ]

Moorcraft, P. & McLaughlin, P. 2008. The Rhodesian War: A Military History. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Nortje, P. 2008. 32 Battallion: The Inside Story of South Africa's Elite Fighting Unit. Cape Town: Zebra Press.         [ Links ]

Schoeman, K. 1977. By fakkellig. Pretoria: Human & Rousseau.         [ Links ]

Shubin, G. 2007. The Oral History of Forgotten Wars: The Memoirs of Veterans of the War in Angola. Moscow: Memories Publishers.         [ Links ]

Snyman, I., Van der Westhuizen, G. & Roos, M. 2005. A Century is a Short Time: New Perspectives on the Anglo-Boer War. Pretoria: Nexus Uitgewers.         [ Links ]

Steenkamp, W. 1976. Adeus Angola: The Seesaw War. Cape Town: Howard Timmens.         [ Links ]

Tokarev, A. A. 2006. FNLA v atikolonialnoy borbe v Angole (The FNLA in the anti-colonial struggle and civil war in Angola). Moscow: Institute for African Studies.         [ Links ]

______. & Shubin, G. 2009. Vospominaniya neposredstvennykh uchastnikov i ochevidtsev grazhdanskoy voiny v Angole (Memoirs by directly involved participants and eye-witnesses of the civil war in Angola). Moscow. Memories Publishers.         [ Links ]

Van der Walt, N. 2007. Bos Toe! 'n Storie oor die laaste fase van die Grensoorlog soos beleef deur 'n junior offisier van 32-bataljon. Swartkops: Self-uitgawe.         [ Links ]

Van der Westhuizen, G. 2002. Dan is die VSA mos die terroris? Beeld, 20 Februarie.         [ Links ]

Van Huyssteen, C. N. L. 1984. Das Einsame Grab im Fish River Canyon. Roodepoort: Cum Boeke.         [ Links ]

Williams, D. 2008. On the Border: The White South African Experience, 1965-1990. Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Zhdarkin, I. 2008. "We did not see it even in Afghanistan": Memoirs of the Angolan War (1986-1988). Moscow: Memories Publishers.         [ Links ]

 

 

Ian Liebenberg is verbonde aan die Sentrum vir Militêre Studies, Militêre Akademie, Saldanha, Fakulteit Militêre Wetenskap, Universiteit Stellenbosch. Voorheen was hy werksaam by IDASA, RGN en Unisa as navorser, politieke analis en lektor. E-pos: jcrl@ma2.sun.ac.za