SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.47 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.47 no.1 Pretoria  2010

 

Die spore van Raka: oor herskrywing en kanonisering (Deel 1)

 

The traces of Raka: on rewriting and canonization (Part 1)

 

 

H. P. van Coller; A. van Jaarsveld

 

 


ABSTRACT

Every literary system possesses a canon with the classical canon as the most stable and simultaneously the one with the most restrictive access. Writers and texts can only maintain their position within the canon through continuous rewriting: critical rewriting by literary critics (as shapers of taste and gate-keepers) and creative rewriting by fellow writers. In this study the critical rewriting (and rerealisation) of one of the most acclaimed and seminal texts in Afrikaans literature, Raka (1941), by N. P. van Wyk Louw is scrutinized. Since its publication this verse epic has been firmly entrenched in the classical Afrikaans literary canon and its continuous rewriting / rerealisation can act as a case study of how a literary "masterpiece" is dependent on institutional relationships, relevant characteristics and strategic position-taking within a literary field in order to retain this status. Against the backdrop of a theoretical framework set out in part one of this study, the specifics of Raka's rewriting / rerealisation is discussed in the second part.

Key words: canonisation, Raka, N. P. van Wyk Louw, rerealisation.


 

 

"Tradition is not only a handling-down or process of benign transmission; it is also a conflict between past genius and present aspiration, in which the prize is literary survival or canonical inclusion. [...] Poems, stories, novels, plays come into being as a response to prior poems, stories, novels, and plays, and that response depends on acts of reading and interpretation by the later writers [...]" Harold Bloom (1995: 9).

"A comparison of old and new readings will shed light on the change in the institution of literature" Jonathan Culler (1975: 123).

 

Inleidende opmerkinge: literêre status, herskrywing en kanonisering

Hierdie tweedelige artikel is die neerslag van navorsing oor een van die belangrikste boekpublikasies in Afrikaans, naamlik die versepos Raka deur N.P. van Wyk Louw. Die fokus van die studie is die lotgevalle van hierdie seminale teks en alles wat daartoe bygedra het dat dit sterk verankerd gebly het in die Afrikaanse literêre kanon. Daar word opeenvolgend gekyk na verteenwoordigende resepsies wat die eietydse resepsie van Raka insluit en die daaropvolgende herskrywings / herrealisasies daarvan in die vorm van kritiek én kreatiewe prosesse. Op hierdie wyse word na 'n balans gestrewe tussen sinchronie en die diachronie om iets van die evolusie van hierdie teks aan te toon.

Dit is miskien goed om ter aanvang van hierdie studie 'n paar hipotetiese aannames op 'n rytjie te plaas. Elke literatuursisteem beskik oor 'n kanon hoewel sodanige kanons as "selektiewe geheues" (Lauter 1991: 21) nie gegrondves is in dieselfde estetiese en ideologiese aarde nie. Wat derhalwe as waardevol en as verwysingspunt beskou word binne 'n bepaalde literêre tradisie, hou direk verband met literatuuropvattings, maar ook met die kulturele en ideologiese omgewing; kanons is nooit neutrale estetiese konstrukte nie (Van Coller 2001: 64).1 Kanons is ook nie homogeen nie en binne 'n literêre sisteem bestaan daar gelyktydig verskillende kanons met die klassieke kanon as die mees stabiele, en terselfdertyd ook die een waartoe toegang die mees beperkte is. Die rol van "hekwagters" (soos literêre kritici en literatuurhistorici) is in hierdie opsig belangrik. Kanons is nie staties nie, omdat werke daaruit verdwyn, ander daaraan toegevoeg word en die rangorde te enige tyd kan verander soos "smaakmakers"2 deur artikels, literatuurgeskiedenisse, bloemlesings, prystoekennings, ensovoorts "literêre aandele" se waarde beïnvloed.

'n Skrywer se prestige binne 'n literêre sisteem of literêre veld3 is afhanklik van hoe hy of sy deur belangrike rolspelers binne die literêre veld aangeslaan word. Verboord (2003: 262) wys daarop dat posisies (ook rangorde) binne die literêre veld afhanklik is van verhoudings, en dat die posisie van 'n skrywer dus afhanklik is van sy of haar verhouding met institusies en agente binne die literêre veld, relevante karakteristieke en (strategiese) posisionering. Laasgenoemde staan uiteraard ook nie los van die poëtika wat skrywers onderskryf of propageer nie. Verboord (2003) en Van Coller (2004) se ondersoeke na literêre prestige konsentreer op skrywers en behels 'n omvattende ondersoek na die faktore wat kan bydra tot prestige.

Waar daar nog vrae kan bestaan oor die prestige van Etienne Leroux en veral ouer skrywers, soos C. M. van den Heever, staan die status van N. P. van Wyk Louw buite kyf. Die herdenking van sy honderdjarige geboortedag in 2006 deur talle lesings, publikasies en ander vorme van herdenking, was hiervan voldoende bewys.4 Hoewel so 'n bykans uniforme waardering die indruk wek van 'n "gestabiliseerde siening" van die figuur, Louw, mag dit onwaar wees. Louw mag dalk juis steeds waardeer word deurdat aspekte van sy denke en literêre oeuvre anders bekyk word en telkens anders gerealiseer en geaktualiseer word. Iets hiervan blyk reeds uit die bundeling van byna twee dekades se N .P. van Wyk Louw-gedenklesings (Burger 2006). Waar die waardering aanvanklik grens aan heldeverering (kyk byvoorbeeld Jonker 2006) is daar 'n groeiende kritiese kyk (Van Coller 2006), wat selfs uiteindelik grens aan die afwysing van (bepaalde aspekte van) sy werk (kyk Krog 2006; Renders, 2006 en Sanders 2006). Trouens, die kritiese herwaardering van Louw het reeds 'n geruime tyd gelede in die Afrikaanse literêre sisteem begin (kyk Van Coller 2001: 65 e.v.).

In hierdie studie word gefokus op die lotgevalle van 'n teks van Van Wyk Louw, te wete Raka (1940), eerder as op dié van die skrywer. Die pad van enige teks na die status van 'n meesterwerk (vergelyk Van Rees 1983) is met dorings besaai. Van Rees (1983: 403) en Rosengren (1985 en 1987) toon ook aan dat die eerste resepsie in die vorm van dag- (en weekblad)-resensering (kyk ook Van Dijk 1999) 'n belangrike eerste stap is op hierdie moeisame pad. Van Rees (1983: 409) weer voer bewyse aan vir sy stelling dat dit nie gaan om sogenaamde objektiewe intrinsieke eienskappe van die objek wat 'n teks as meesterwerk identifiseerbaar maak nie. Veel eerder gaan dit om die gehanteerde poëtika, die strategiese wyse waarop stellings verwoord word, die argumentasiestrukture, die plek en status van die kritikus asook die status van die uitgewer (kyk ook Van Coller en Odendaal 2003a en Van Coller 2004). Tog moet so 'n seminale teks, wat sy status behou in verskillende interpretatiewe kontekste, onses insiens ook beskik oor intrinsieke kenmerke om literêr staande te bly; in die geval van Raka oor 'n tydperk van bykans sewe dekades.5

Nou is dit natuurlik nie so vreemd dat daar eerder 'n neiging is tot kanonbestendiging as die teendeel daarvan - naamlik voortdurende wysiging - nie. Wat bestendiging bevorder, is veral die optrede van bepaalde agente in die literêre veld, byvoorbeeld uitgewers, literêre historici en literêre kritici. Van Coller (2004: 5) het reeds daarop gewys dat binne die denke van Kuhn hulle dieselfde wetenskaplike / kritiese paradigma deel en dikwels met 'n passie glo aan die belang van 'n kanon as "tradisie", "verwysingspunt" en "geheue".6 Tog tree hulle almal ook dikwels op uit eie belang. 'n Bestendige kanon beteken vir uitgewers die voortdurende herdruk van boeke (selfs die moontlikheid om "klassieke reekse" die lig te laat sien). Literatuurhistorici is berug daarvoor dat hul die oordele van vorige kritici (kyk Rosengren 1985 en 1987) en literatuurhistorici bestendig en selfs bykans woordeliks oorneem (kyk ook Van Coller en Van Niekerk 2002: 270 en Verboord 2003: 264).

Skrywers én tekste kan hul plek binne die kanon slegs behou deur voortdurende "herskrywing" (kyk Lefevere 1992 en Ohlhoff 1993). Uiteraard speel literêre kritici hierin 'n rol en is hul dikwels die geleibuise (conduits) wat skrywers terugherlei tot die kanon. Maar dit is veral skeppende "herskrywing" wat belangrik is (kyk ook Van Rees en Dorleijn 1994: 109; Louw 1986: 305 en Van Coller 2001: 67), omdat dit ook 'n wyer publiek bereik.7 "Herskrywing" moet eintlik enige vorm van herrealisasie insluit. In die geval van Van Wyk Louw se epos, Raka, was daar herrealisasies in die vorm van musiek, ballet, drama en selfs in die skilderkuns.

Die realisasie van 'n teks geskied altyd binne 'n bepaalde konteks wat histories, ideologies en paradigmaties sig onderskei van ander kontekste. Foucault (1981: 48-78) se opvatting van die diskursiewe formasie is hier ter sprake, naamlik dat historici, en by uitbreiding ook kritici, selde totaal vry kan wees van kontekstuele gebondenheid (kyk Marais 2005: 59). Jy oordeel ten ene male uit 'n interpretatiewe of hermeneutiese konteks. Herlesings of herrealisasies kan dus ook boeiende materiaal verskaf op opeenvolgende diskursiewe formasies, met ander woorde die ideologiese en interpretatiewe konteks waarbinne herskrywing of herrealisasie geskied. Herrealisasie is genologies bepaald; dit is dus logies dat byvoorbeeld musiekologiese her-interpretasies gaan verskil van literêre her-interpretasies aangesien dit moet rekening hou met bepaalde aspekte binne daardie vakwetenskap. Bezuidenhout (2008: 20 e.v.) wys op die belang van narratiewe binne menselewens, maar ook binne verskeie vakgebiede. Omdat die skrywers hiervan geen kenners is van die skilderkuns of die musiek nie, verlaat hulle hul uiteraard op vakkundige resepsies van Raka-verwerkings, maar plaas ook klem op die wyse waarop die betrokke narratief 'n bepaalde interpretasie van Van Wyk Louw se epos daarstel. Die opvatting "verwagtingshorison" (soos geponeer deur H. R. Jauss 1978) veronderstel naas poëtikale én genre-kennis ook 'n historiese kennis (kyk Van Gorp e.a. 1998: 367), wat aansluiting vind by die voorafgaande. 'n Vergelyking van herlesings is dus literêr gesproke nie net interessant nie, maar bied 'n boeiende blik op die literêre sisteem in sinkrone én diakrone verband: Watter poëtikas, ideologieë of politieke paradigmas oorheers binne 'n bepaalde sinkrone tydsnit, byvoorbeeld die dertigerjare van die twintigste eeu, die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu en daarteenoor watter poëtikas, ideologieë en politieke paradigmas telkens in diakrone verband voorkom.

 

Die ontstaan en ontvangs van Raka

Binne die voorafgaande uiteengesette teoretiese werkwyse gaan ons vervolgens konsentreer op een van die bekendste Afrikaanse tekste naamlik Raka van N. P. van Wyk Louw. Dit is een van die mees gelese tekste in Afrikaans en die verkope (uiteraard ook danksy voortdurende voorskryf op sekondêre skoolvlak) het in 1987 reeds die 200 000kerf oorskry! In Steyn (1998: 322 e.v.) word presies vertel hoe en met watter plesier Van Wyk Louw Raka geskrywe het by Clifton op die stoepie van sy bungalow. Die uiteindelike finale skrywe het iets meer as twee weke geduur; die kontrak is op 26 Maart 1941 geteken.

Die resepsie van literatuurkritici en -historici

Soos later sal blyk, was die resensente byna eenstemmig in hulle lof vir hierdie epos en die woorde "groots" en "meesterwerk" kom herhaaldelik voor in die resepsie van kritici. Literatuurhistorici uit verskillende eras is byvoorbeeld gelykgestem in hul lof. Dekker beweer "Met 'Raka' het Van Wyk Louw die Dietse letterkunde verryk met 'n belangrike epiese werk, sterk en suiwer van konsepsie en verbeelding in al sy gele-dinge" (Dekker 1947: 148) en "Raka getuig van Van Wyk Louw se sterk en ryk verbeeldingskrag, sy dinamiese digterskap, sy groot meesterskap oor die vorm. Met een sprong het hy in ons digkuns nog nie beoefende kunssoort 'n hoë peil in die Dietse letterkunde bereik" (Dekker 1961: 218). D. J. Opperman (1953: 225) sê in Digters van Dertig,: "Raka is in alle opsigte die grootste gedig wat daar nog ooit in Afrikaans geskryf is" en Kannemeyer (1978: 401) weer noem dit in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur "een van die grootste prestasies van die Afrikaanse letterkunde".

Ook eietydse resensente is vol lof. W. E. G. Louw (1941) noem dit "die eerste voltooide en waardige epiese gedig in Afrikaans" en H. A. Mulder verwoord sy gevoel soos volg: "Met die bou van Raka het ons die bou van die klassieke tragedie; veral met die vyf afdelings" (Mulder 1945: 200).

Hierdie oordele met hul hooggestemde lof resoneer ook in latere besprekings. F. E. J. Malherbe (1948: 243) beweer dat Louw in Raka "afgereken het met magsverheerlikende eng-biologiese vitalisme as ideaal vir 'n vurige jeug". A. P. Grové stel in sy Blokboek dat Raka, soos tipies van epiese werke, telkens met 'n ander betekenis belas word. So sou Raka, die monster, byvoorbeeld tydens die Tweede Wêreldoorlog gelykgestel kon word aan 'n bepaalde strydende party, of as 'n allegorie op die Driejarige Oorlog, en selfs dalk nog as allegorie op die huidige situasie in meer as een Afrika-staat waar kultuurwaardes op brutale wyse onder die voet geloop word (Grové 1967: 23). 'n Ander interpretasie van Grové ken aan Raka en Koki 'n wyer abstrakte, vaagomlynde betekenis toe. Vanuit hierdie interpretasie kan Raka byvoorbeeld gesien word as "die beliggaming van 'n dom (oorlogs-) geweld wat tydens die Tweede Wêreldoorlog die beskawing binnedring, kultuurwaardes vernietig en mag tot reg verhef" (Grové 1967: 23). So blyk dat Raka in verskillende kontekste ander interpretasies uitlok wat dikwels verband hou met die bepaalde tydsgewrig en die kwessies daarvan. Geen wonder Louw se biograaf Steyn merk die volgende op nie: "Raka het een van Louw se mees gelese werke geword en 'n werk wat steeds vir die leser relevant gebly het" ( Steyn 1998: 323).

In die gees van die betrokkenheidseise van die sewentigerjare beweer Van Rensburg (1975b: 130) dat Louw met Raka die jongeres dertig jaar voor was in sy Afrikabetrokkenheid. Die siening dat die gedig die stryd van die Afrikaner of die blanke teen ander volke sou uitbeeld, is volgens Olivier nie geregverdig nie, hoewel dit volgens hom binne die konteks van die vroeë jare veertig miskien wel toespelings in die rigting bevat. In die woorde van Olivier is, onderliggend aan die beeldspraak, "die gedagte aan die groei na hoër stadia van ontwikkeling, die stryd van kultuur teen natuur, patrone van ordening en strukturering teen ongebreidelde en vernietigende instinkte. As epos is Raka 'n simboliese vergestalting van Louw se bekommernis oor die voortbestaan van 'n gemeenskap, en die rol van die geestelike aristokraat as beskermer" (Olivier 1998: 626). Van Rensburg (1971: 144) voel egter dat niemand kan beweer dat "dit nie ook 'n klemmende waarskuwing vir 'n klein kultuur-groep soos die Afrikaner-volk is nie, net soos vir die hele Westerse beskawing". "Hierdie geveg van die held teen 'n groot mag sluit aan by die tradisie van die Middeleeuse epos. Daarteenoor herinner die organisasie van die gedig in vyf afdelings, met die stelselmatige opbou tot 'n klimaks en die vernietiging van die held, aan die struktuur van die tragedie" (Olivier, 1998: 625). Van Rensburg (1971: 144) sluit hierby aan deur die oordeel dat Raka die verhaal is van 'n klein stam wat slap geword het in die handhawing van die hoë waardes waartoe hy in die loop van sy geskiedenis opgeklim het, en hoe hy dan oorweldig word deur 'n laere mag, gesimboliseer in die aapmens, Raka. 'n Verdere uitspraak is dié van Van Rensburg (1975a: 133) dat "die stam ondergegaan het, soos alle stamme wat ondergegaan het, omdat hulle ontrou geword het aan die hoogste in hulle. Enigiemand wat binne so 'n einde die moontlikheid van wederopstanding sien, begryp nie die wese van die tragiese nie" word in 1993 deur Marais geopponeer. Marais (1993: 3-9) beweer dat "'n verowerde volk meermale onder begeesterde en bekwame leiding opgestaan en homself bevry het. Wanneer die volk vertrap lê onder die tirannie, is dít die finale waarheid: '[A]lleen 'n stryd wat gewonne gegee word, is 'n verlore stryd - alleen 'n saak waarvan afstand gedoen word, is 'n verlore saak'."

Grové (1982: 398) maak die stelling in sy bespreking oor Louw in Perspektief en Profiel dat die teenstelling lig teenoor duister in vele vorme voortdurend in die werk van Louw terugkeer. In Raka word dit die suiwerheid van die gees teenoor die lompheid van die liggaam, die woord teenoor die argelose daad, kraal teenoor oerwoud, kultuur teenoor natuur wat 'n soort spanning impliseer, geprojekteer in twee volwaardige gestaltes om universele geldigheid te verkry. Rob Antonissen (1965: 246) beweer dat Raka "neerslag is van 'n smartlike kultuurpessimisme, geobjektiveerde ervaring van 'n tragies verdwaasde massawêreld wat met man en mag besig is om die edele te vermoor én selfmoord te pleeg. Maar hierdie reaksie op die aktualiteit van die Tweede Wêreldoorlog is nie slegs van etiese aard nie: dit is bowenal ontologies".

Raka is weer, in die woorde van D. J. Opperman (1959: 57-8) "'n magtige projeksie van die duistere aktiwiteit van die onbewuste in die mens en in die beskawing". In Digters van Dertig, beweer Opperman (1953: 212-3) verder dat die dood in Raka, die "ewige, wrede natuurmag waaraan die enkeling én die stam uiteindelik ondergaan, (word) [...] en Koki die leier, word die gewete van die stam". Tussen hierdie entiteite is 'n gedurige stryd:

Enersyds is die stryd teen alles buite die muur: oerwoud, dier en oermens; maar die stryd is ook binne die muur: die beskaafde mens dra nog in hom die oermens [...] Die leier het reeds die oermens in hom 'oorwin'; sy mense maar nog gedeeltelik [...] maar by almal is die stryd voortdurend [...] Vir elke volk afsonderlik en uiteindelik vir die Westerse beskawing is Raka die opkoms van die oermens wat hoofsaaklik sekse, spel en spier ken (Opperman 1953: 219).

Beukes en Lategan (1961: 77-8) handhaaf ook die siening dat die onontkombare mag van die bose oor die menslike liggaam en gees 'n belangrike tema in Raka is: "Raka is die beliggaming van die donker dierlikheid, van onbeheerste drif en sinnelikheid en [...] Koki, simbool van die onvertroebelde gewete van sy volk."

Lindenberg e.a. (1973: 50) se interpretasie impliseer dat Raka oor die stam heers na die dood van die aristokratiese leier, Koki. Die stam word as 't ware "geestelik deur Raka teruggetrap in die modder van primitiwiteit [...]". Volgens hom sou hierdie gedig dus geïnterpreteer kon word as 'n waarskuwing teen geringskatting van die magte van die onderbewuste, die driflewe, of as 'n somber siening van wat met die moderne samelewing kan gebeur wanneer massawaardes deurslaggewend word en die stem van die geestelike leier op dowe ore val; dis ook 'n voorstelling van die ewige stryd tussen goed en kwaad, tussen instink en rede, tussen die liggaam en die gees (Lindenberg e.a. 1973: 51).

Die resepsie soos dit neerslag vind in verhandelinge en proefskrifte

Die voorafgaande oordele word ook geëggo deur bykans alle MA-verhandelinge en proefskrifte. Daaruit blyk reeds dat die aanvanklike resensies en latere kritiese beskouings, studente diepgaande beïnvloed en dat in die Suid-Afrikaanse opset, met enkele opvallende uitsonderings, die oordele van studente naby staan aan dié van hul studieleiers en promotors en dat kanonisering ook hiërargies geordend is. Hoewel ons in die projek 'n omvangryke korpus versamel het, volstaan ons vir die doel van hierdie artikel met 'n klein verteenwoordigende snit. In Cloete Symington (1959) word die idee onderskryf dat Raka die troebele, onredelike, die duistere en dierlike is. Hy is die vergestalting van die begrippe 'dier', 'natuur', 'instink', 'brute krag', 'sinnelikheid', 'massa' en 'chaos' (13). Gesien in die lig hiervan, is die vatbaarheid van die primitiewe volk in Raka, vir die fassinasie met die bose sinlike en donker chaotiese, verstaanbaar (28). Die aantrekkende krag van die onbekende, wat gelaai is met mag, met grootsheid en met skrik bekoor die mens vanaf die vroegste tye (31). Die spanning tussen die Goeie en die Bose, wat in die onderbewuste en bewuste lewe van elke mens en volk op die hele aarde werksaam is, word in Raka, in twee volledige gestaltes weergegee (90). "Die Swarte" is 'n objektiewe weergawe van die bose in die mens (91) terwyl Koki die tradisie en kultuur, die edele en die skone van sy stam verteenwoordig (311). Koki is die prototipe van die eensame stryder deur die eeue, wat omkom as gevolg van sy roeping om "die Edele en die Kosbare" te bring aan die volk (312).

In Barnard (1968) word Raka en Koki duidelik as twee afsonderlike entiteite beskryf wat lynreg teenoor mekaar staan: Die massa, wat die bose verteenwoordig, word teenoor die enkeling, wat simbolies is van die goeie, gestel (24). In hierdie verhandeling sien ons duidelik hoe belangrik die enkeling vir die voortbestaan van die volk is (26). Koki is een van hierdie uitverkorenes wat tot die besef kom dat hy hom nooit volkome kan losmaak van die massa waaruit hy voortspruit nie, omdat hy deur magte buite homself aan hulle verbonde is (28). Hierdie spanning kry universele waarde, waar Koki verteenwoordigend is van die universele orde en Raka, daarenteen van algehele chaos (40).

In Steenberg (1963) word die feit dat die stryd tussen goed en boos nie saamgetrek is in een mens of entiteit nie, maar elk objektief vergestalt word in afsonderlike persone, ook ten sterkste onderskryf (37). Daar is geen balans tussen lig en donker nie, maar die gebeure loop eerder uit op 'n vernietiging van die geestelike deur die bose (74).

Uit Van der Walt (1955) kan ook die afleiding gemaak word dat alleen die aristokratiese mens kan verhoed dat Raka 'n gemeenskap kan besoedel. Sonder die leier lê die gemeenskap oop vir vervlakking (17). Dieselfde opinie word gehuldig in Lombard (1975).

In Cloete (1969), vind 'n mens weer 'n meer Jungiaanse interpretasie wanneer Raka as die bose in elke volk beskou word en Koki as die goeie (60). Die worsteling Raka-Koki is 'n projeksie van die worsteling tussen die bose en die goeie in elke mens en volk, tussen skoonheid en brutale krag (60).

 

Die interpretatiewe problematiek van Raka

Baie van die interpretasies van Raka maak dikwels gewag van die historiese tyd waarbinne hierdie epos sy beslag gekry het: Die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge van blinde geweld, die vervlakking van waardes en die gevaar wat uitgaan van die massamens wat eintlik dwars staan van kulturtele waardes en die hoë kultuurwaardes.

Hierdie kontekstualisering kom byvoorbeeld voor by die invloedryke A. P. Grové (1967: 3) wat dit benadruk dat die werk, wat verskyn in 1941 "in sy tyd geplaas kan word". Boonop verskyn dit, aldus Grové, vir die eerste keer in 'n Afrikaanse bloemlesing, Tussen die engtes (1940), 'n Afrikaanse bloemlesing wat uitgegee is ter ondersteuning van Nederlandse skrywers wat as gevolg van die oorlog in probleme verkeer het. Bloot daaruit sou die gedig nie alleen verklaar kon word volgens Grové nie, en hy suggereer 'n tweede moontlike aanpak, naamlik om die gedig te verklaar uit Van Wyk Louw se eie ervaringswerklikheid en die hele geskiedenis van die epos as sub-genre self. Volgens Opperman (1959: 63) kry ons by Louw in sy uitbeelding van sy eie stryd en dié van sy volk die algemeen menslike problematiek:

[D]ie goeie en die bose. Sy poësie is 'n grootse geveg wat ons tot die gegewe: Job, Satan, God kan terugvoer, en as agtergrond het ons die wisselende taferele van die Kaapse en tropiese natuurskoon [...] Soos alle groot kuns is sy poësie godsdienstig deur die beskeie tas tussen twee onbekendes: die grootheid van die heelal en die geslotenheid van die menslike onderbewussyn, en deur die besete wil om die slopende magte van die chaos te beheer.

Die literêre epos, as 'n bewuste skepping van die digter wat sy werk skryf met 'n duidelike politieke of kunsdoel voor oë, en waarvan die fokus grootliks op belangrike epiese elemente, naamlik die sin vir die heroïese, die sin vir die verhaal en die sin vir die werklikheid, die skerp besonderheid en val, word duidelik deur die volgende as kenmerkend van Raka onderskryf.

Volgens Grové is daar 'n derde manier waarop daar na die gedig se konteks gekyk kan word en dit is om dit te plaas binne Louw se eie skeppende en kritiese werk waarin die profetiese ideaal, die suiwer enkeling wat die beste in sy gemeenskap verteenwoordig en "die aristokratiese ideaal" dikwels beslag kry. Hierdie benaderingswyses wat Grové suggereer, kan reeds teruggevind word by bykans al die tydgenootlike kritici wat oor hierdie epos geskrywe het: Antonissen (1965: 246) praat van Koki as die siener, "eensame hoeder van die stam se hoogste waardes", kultuurpessimisme en "reaksie op die aktualiteit van die tweede wêreldoorlog"; Dekker (1961: 217) het dit oor "Koki, die idealis", oor sy vasklou aan geestelike waardes, oor die kontras massamens en massawaardes en wys op Ortega y Gasset en Aldous Huxley se werk wat belangrik is vir die verstaan van Raka.

N. P. van Wyk Louw verwys self na die twee verwante interpretasies van sy epos (kyk Steyn 1998: 323). In 'n radiogesprek in 1943 kom eers die "geestelike verwildering van 'n kultuurgroep wat hom te geredelik oopstel vir vreemde invloede" aan die bod. 'n Ander moontlikheid is "die biologiese feit dat die vergeestelikte mens wat op 'n hoër kultuurtrap staan, in die algemeen veel stadiger aanwas as die minderbevoorregte, soms minder intelligente, maar meesal sinnelike natuurmens, en dat hierdie proses op die lange duur 'n groot bedreiging vir die geestelike beskawing van die Westerse mens kan beteken" (Steyn 1998: 323). Volgens Opperman (1953: 218-9) is die tweede moontlikheid die een wat die naaste ooreenstem met dit wat in Van Wyk Louw se epos staan, soos ook blyk uit Louw se opstel "Die aristokratiese ideaal". Steyn wys verder ook daarop dat Louw in Rondom eie werk sy eie Raka 'n simboliese vers noem; baie van die talle verklarings bevat 'n element van waarheid, maar dit is verkeerd "om een daarvan tot enigste en finale verklaring te maak" (Steyn 1998: 324). In 'n radio-uitsending op 8 April 1963 herhaal Louw (1986: 629) sy eie vroeëre eksegese van Raka waar hy waarsku teen die oop gemeenskap wat opeens toe raak: "So sou 'n oop gemeenskap kon probeer wen deur die metodes van die kommunisme vir eie gebruik aan te wend. Maar dan wen die kommunisme (of ten minste die totalitêre staat tóg), deurdat hy (durf ek sê soos Raka?) eers tot in die hart van sy teenstander dring voordat hy die hek self probeer oopkry."8

In bykans enige resepsie van seminale tekste kan "klusters" onderskei word; bundels van samehangende oordele. 'n Mens sou die belangrikste interpretasies oor Raka ongeveer so kon saamvat:

• Die tradisionele interpretasie waarin Koki as die verpersoonliking van die goeie, edele en intellektuele gesien word en Raka daarteenoor as die bose, barbaarse en primitiewe. Koki versinnebeeld die eensame, profetiese enkeling wat die kultuurwaardes wil bewaar; Raka die aanslag van die aardse, primitiewe kragte wat deur geweld wil heers: woord staan teenoor daad; kultuur teenoor natuur; historiese besef teenoor onmiddellike vitaliteit. Hiervolgens is Koki en Raka onversoenbare teenoorgesteldes en is 'n botsing onvermydelik wat altyd tot nadeel van die Kokifigure sal verloop as die stam hom in die steek laat en toelaat dat die bekoring deur die bloed hul sal verlei. Die slot van Raka is binne hierdie siening volstrek negatief.9 Van Rensburg (1975a: 133) deel duidelik nie hierdie optimisme dat orde of stabiliteit herstel is of kan word nie. Dit wil voorkom (al herinner so 'n siening aan the intentional fallacy) dat Louw self hierdie interpretasie gesteun het. Coetzee (1990: 11) waarsku egter dat die noodwendige voortspruitende teenstelling uit so 'n tradisionele interpretasie wat kritici gemaak het, (vgl. Grové 1967: 27) versigtig hanteer moet word, want: "[D]ie natuur is Raka en die mense se milieu, en die mens transformeer die natuur tot kultuur, soos die kalbassie vanuit die natuur 'n kultuurobjek geword het."

• 'n Verdere interpretasie wat aansluit by die tradisionele, plaas die klem duidelik op die botsing: natuur x kultuur. Een van die belangrikste kenmerke van kultuur is die taalvermoë. In die woorde van Van Rensburg (1966: 187-200): "Raka verbeeld die botsing tussen menslikheid en nie-menslikheid, en in die grond is dit 'n botsing tussen taalbesit en nie-taalbesit." Naas die primaat van taal koppel Odendal (2006: 101) verder ook die verstandelike en die geestelike daaraan want, "sonder taal is geen denke, geen geesteslewe; sonder helder taal geen helder denke, geen helder geesteslewe". Dit kom in sy sterkste vorm na vore in Raka, "van wie stellig die vernaamste kenmerk van sy ook-dier-wees die feit is dat hy nie oor taal beskik nie, dat hy net geluide kan uiter wat egter nie sinvol ingeklee is nie, of dat hy deur gebare en liggaamshoudinge guns kan probeer verkry of afkeer uitdruk". Ampie Coetzee (1990: 11-3) laat hom ook uit oor die interpretasies van die taaltekens in die teks.

• 'n Ander (hoewel meer komplementerende) interpretasie is die dieptesielkundige siening waar Raka die onbewuste / onderbewuste verteenwoordig en Koki die bewuste, wat natuurlik ook te herlei is tot die opposisie van suiwer driflewe teenoor die gees. Opperman (1959: 57-8) beweer in Wiggelstok dat Raka "'n magtige projeksie [is] van die duistere aktiwiteit van die onbewuste in die mens". Hierdie interpretasie dra uiteraard die implikasie dat Raka en Koki weliswaar teenpole is, maar dat die een nie bloot gesien kan word as boos en die ander as goed nie; sodanige interpretasie staan haaks teenoor tradisionele dieptesielkundige sienings waar beklemtoon word dat daar gestrewe moet word na psigiese balans. Boonop word binne hierdie interpretatiewe paradigmas beklemtoon dat kennis van die on(der)bewuste noodsaaklik is vir geestelike gesondheid, by wyse van spreke, kennis van Raka. So 'n interpretasie (wat waarskynlik nooit by Opperman opgekom het nie) open die weg na interpretasies waar Raka gesien word as "anders", maar nie noodwendig "boos" nie.

• In Die Huisgenoot van 26 Mei 1944 skryf die latere regter J. F. (Kowie) Marais (1944: 37) dat Raka deur Koki gedryf is tot 'n dwase fout: "[H]y het sy heerskappy met bloedvergieting en geweld gevestig. En bloed roep sekerder en sterker om wraak as enige mensestem. Kan ons dink dat daardie gestorte bloed nie sal aanhou roep om wraak totdat die stam in sy eendragtige vergeldingsopstand sal opstaan en Raka met die kale hande uitmekaar sal skeur nie?" Marais maak hiermee 'n verrassende en optimistiese lesing van die slot van Raka waarop Grové (1967: 25-6) en Van Rensburg (1975a: 133) in Sublieme ambag afwysend reageer. Steyn (1998: 324) wys ook op Jaap Marais (1993) se lesing waar hy sy naamgenoot by implikasie gelyk gee, dit is net 'n verlore volk wat die stryd gewonne gee.

• Kowie Marais het in sy genoemde bespreking ook 'n ander stelling gemaak oor Raka wat later belangrik geblyk te gewees het in "tegendraadse" interpretasies van hierdie epos. Hy het gesê dat Raka eintlik nie sleg is nie en nie skoor soek nie. "Raka self is nie kwaadaardig nie. Hy beliggaam geen kwaad of euwel nie, ewe min as wat die afgrond, deur God geskape, inherent kwaad is [...] Raka is op sigself goed. In die oerwoud is hy 'n skepsel van die Skepper, gehoorsaam aan die wette van die oerwoud. Dis alleen wanneer sy skaduwee begin van oor die samelewing met hoër lewenswette dat hy die draer van 'n verrottende invloed word." Kyk Beeld van 'n digter (Nienaber 1966: 228) Daaruit blyk dat die vitale, die driflewe kontekstueel beoordeel moet word. Hierdie interpretasie is belangrik vir die late-re kritiek (soos dié van Ampie Coetzee uit 'n post-kolonialistiese hoek) en vir die herlesing van byvoorbeeld André Letoit (Koos Kombuis) in sy teks, Raka - die musical.

• Volledigheidshalwe moet ook die interpretasies genoem word van Michael Chapman (2003: 194-5) en Christopher Heywood (2005) wat albei Raka op hoogs idiosinkratiese wyse interpreteer. Chapman maak die volgende opmerking:

By making Koki coloured, not white, Van Wyk Louw may have wanted consciously to avoid suggesting European-African dichotomies of Apollonian light and Dionysian darkness. What skews the reader's attention away from hints about the decline of the West and the resuscitation of the dark gods, however, is the poet's obsessional, almost personal accent that tears through the objective correlative of scene embodying emotion and insists on a form of dialogue with self.

Heywood (2005: 49) sê: "In Raka (1940) (sic!) N. P. van Wyk Louw (1906-1970) rejected the Rosenberg ideology and expressed his horror over the invasion of Holland. In 'Aesop's language', this narrative poem tells how a traditional African village is ravaged by an invading demon, part animal and part human, part white and part black." Raka handel nie net oor oorlogsgeweld nie, Koki is nie gekleurd nie en Raka is ook nie gedeeltelik wit en gedeeltelik swart nie!

• W. J. de Klerk beweer dat Raka simbool word van die verset teen eensydigheid wat nie oop kan kyk na die meerkantigheid van alles wat lewe nie. Raka word bogenoemde "element in die mens, 'n gemeenskap of 'n volk wat hom laat verlei, en uiteindelik onderwerp word aan iets 'wat nie kan dink, wat swart en donker is' (Raka, bl. 5)" (De Klerk 2006: 31).

• Volgens Stanley Ridge (1982) kan die werk van Van Wyk Louw oor staat en kultuur vergelyk word met dié van die Engelse Suid-Afrikaanse historikus, W. M. Macmillan asook die werke van Albert Luthuli wat skryf oor sy mense. Die feit dat Raka geskryf is binne 'n historiese tyd wat oorweldigende opbloei van Afrikaner nasionaliteit beleef het, is volgens Ridge (1982: 7) uiters belangrik by die interpretasie van die nasionale mite. Die hooftema van hierdie tyd het sy ontstaan binne die mense se beheptheid met die bybelse soeke na die "beloofde land" waarin die lokale versie van die "volk van die land" fokus op die blanke Afrikaner. Al hierdie agtergrondgegewens is volgens Ridge die basis van die verwysings in Raka (Ridge 1982).

 

Die herlesings / herrealisasies van Raka in chronologiese volgorde

Omdat dit onder meer die doel is van hierdie studie om verskuiwings ten opsigte van interpretasie op grond van ideologiese, poëtikale en ander oorwegings aan te toon, is dit nuttig om die verskillende herlesings / herrealisasies chronologies aan te toon:

• 1941: Raka - versdrama, Van Wyk Louw (sedert sy verskyning al 40 keer herdruk).

• 1956: Raka in word and paint, Alexis Preller.

• 1966: Orchestral piece, based on Raka, Peter Klatzow.

• 1967: Ballet-variasie, Graham Newcater.

• 1968: Engelse vertaling, Antony Dawes.

• 1970: Duitse vertaling, W. A. Kellner.

• 1973: Sesdelige orkessuite-variant, Graham Newcater.

• 1977: Prins Raka ruk en rol (liedteks), Hennie Aucamp.

• 1967: Radiofoniese drama - met sprekers in plaas van dansers - "toegelig" met seleksies van die balletmusiek, Graham Newcater.

• 1982: Vertaling in Kwanyama deur Paavo Hasheela.

• 1984: Klaaglied van Koki se moeder as elegie vir strykorkes as voorloper vir die toonrealisering van Raka, Stefans Grové

• 1988: Raka - die Musical, André Letoit (ongepubliseerd)

• 1989: Radioverwerking deur Truida Pohl, daarna vertaal in Zoeloe, Suid-Sotho, Noord-Sotho en Xhosa deur swart omroepers.

• 1992: Raka, Niel le Roux (ongepubliseerd).

• 1999: Raka (Dansteater) in opdrag van die KKNK opgevoer deur Anton van Niekerk.

• 2004: Ballet tydens die KKNK deur die Kaapstadse Stadsballet opgevoer met Frank Staff as choreograaf.

• 2005: Raka die roman, Koos Kombuis.

• 2005: Raka, Gariepdam Amateur-toneelgeselskap.

Werke soos Etienne van Heerden se roman, Kikoejoe (1996) waar daar deurgaans na Raka verwys word, is weliswaar belangrike historiese barometers van literêre "smaak" en poëtikale opvattings, maar is geen koherente herlesings soos dié hierbo nie. Dit is na hierdie tipe herlesings / herrealisasies waarna gekyk gaan word in die tweede gedeelte van hierdie studie.

Ná die instuur van hierdie studie het ons 'n manuskrip onder oë gehad van Van der Berg en David (2007). Hulle noem nóg weergawes van herinterpretasies van Raka: litografieë van Harries (1966), "woordverwerkings" van Bloemhof (1999) en naamgewing van Tan (2004).

 

Aantekeninge

1. Dit is verder 'n onomstootlike feit dat kanons direk geraak word deur politieke gebeure en selfs 'n politieke instrument kan wees. Fokkema (1985: 9) wys op die kanonisering van Goethe en Schiller wat die vorming van 'n Duitse nasie ten goede moes kom en ook op die grillige wyse waarop die Russiese en Chinese literêre kanons radikaal verander het.

2. Volgens H. P. van Coller (2001: 67) tussengangers tussen vroeëre tekste en die tydgenootliker resepsie en latere lesers.

3. Hoewel daar wel historiese, kontekstuele en teoretiese verskille tussen die begrippe "literêre sisteem" en "literêre veld" bestaan, is daar ook soveel ooreenkomste dat, vir die doel van hierdie beskrywende studie, hulle goedskiks as sinonieme beskou kan word. Kyk ook Van Coller en Odendaal (2005).

4. Proff. J. C. Kannemeyer en Wium van Zyl organiseer byvoorbeeld 'n literêre Van Wyk Louw-reis, gekoppel met 'n reeks lesings oor Louw. Prof. W. D. Burger publiseer 'n twintigtal Louw-gedenklesings (Burger 2006) en enkele huldigingslesings by die Universiteit van Johannesburg. Onder redaksie van prof. J. van der Elst verskyn daar 'n Louw-herdenkingsuitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

5. Wellek en Warren se "amount and diversity of material integrated" mag gedateerd wees, maar bly 'n nuttige heuristiese hulpmiddel.

6. Fokkema en Ibsch (1987: 15) verwys met instemming na Karl Eibel wat die parallel getrek het tussen literêre evolusie en die ontwikkeling van wetenskap: "[I]n literature some 'crypto-theories', survive, while others, perhaps the majority, are discarded after some time thus causing a succession of literary systems."

7. Die wyses waarop kanonisering kan plaasvind is uitvoerig aan die hand van 'n voorgestelde tipologie behandel in Van Coller (2001: 133 e.v.). Die meeste hiervan hoort eintlik onder die noemer "skeppende herskrywing".

8. Vergelyk ook Louw se brief aan D. J. Opperman (aangehaal in Opperman 1953: 237).

9. Hierby is ook aansluitend belangrik die interpretasie van Prins (1994: 125) dat die konflik opgelos word deurdat Raka heerser oor die stam word. "Die dood is die finale 'stabiliteit' aan die einde van die gebeureketting [...] Ten slotte storm Raka self die kraal binne en bevestig sy oorwinning. Die konflik is dus in sý guns beslis en hý is nou heerser van die kraal. '(N)iemand het gewaag om met een slag / die smal hek ooit weer teen hom te sluit.' (bl. 32) So ontstaan daar 'n nuwe soort stabiliteit."

 

Bronnelys

Antonissen, Rob. 1965. Die Afrikaanse Letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad: Nasou Beperk.         [ Links ]

Barnard, C. 1968. N. P.van Wyk Louw se poësiebeskouing soos dit tot openbaring kom in sy kritiese prosa en poësie. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Beukes, Gerhard J. en Lategan, Felix V. 1961 (vierde bygewerkte druk). Skrywers en rigtings. Pretoria: J. L. van Schaik Beperk.         [ Links ]

Bezuidenhout, Suzanne-Louise. 2008. Verwonding, verwoording en verwerking: 'n Beskouing van Henning J. Pieterse se kortverhaalbundel Omdat ons alles is vanuit 'n terapeutiese perspektief. Ongepubliseerde MA verhandeling: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Bloemhof, Francois. 1999. Hostis. Kaapstad: Quellerie.         [ Links ]

Bloom, Harold. 1995 [1994]. The Western Canon. The Books and Schools of the Ages. London: Papermac.         [ Links ]

Burger, W. en Van Vuuren, H. (reds.). 2002. Sluiswagter by die dam van Stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Burger, Willie. (red.). 2006. Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa.         [ Links ]

Buursink, Marijke e.a. 1978. De wetenschap van het lezen. Tien jaar theorie der literaire receptie. Amsterdam: Van Gorkum, Assen.         [ Links ]

Chapman, M. 2003. Southern African Literatures. Pietermaritzburg: University of Natal.         [ Links ]

Cloete, P. C. 1969. Die religieuse dialektiek in die natuurpoësie van N. P. van Wyk Louw. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Cloete Symington, A. 1959. Die Gans-andere in die digkuns van N. P. van Wyk Louw. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. 1990. Raka en die massa. Karring 1, (November): 10-5.         [ Links ]

Culler, Jonathan D. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge and Kegan Paul Humanities Press.         [ Links ]

Dekker, G. 1947 (vierde bygewerkte druk). Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Bpk.         [ Links ]

______. 1961 (sesde om- en bygewerkte druk). Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Bpk.         [ Links ]

De Klerk, W. J. 2006 [1983]. N. P. van Wyk Louw: só praat die Afrikanerdenker in 1983 met sy mense. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 17-33.         [ Links ]

Dorleijn, G. J. en Van Rees, C. J. 1999. Literatuuropvattingen in het perspectief van het literaire veld. Den Haag: NWO.         [ Links ]

Grové, A. P. 1967. Raka. N. P. van Wyk Louw. (Blokboek). Pretoria: Academica.         [ Links ]

______. 1982. N. P. van Wyk Louw 1906-1970. In P. J. Nienaber (red.). Beeld van 'n digter. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 391-404.         [ Links ]

Harries, Katrine. 1966. Raka deur N. P. van Wyk Louw litografieë. Kaapstad: Michaelis kunsskool.         [ Links ]

Heywood, Christopher. 2005. A History of South African Literature. London: Cambridge University Press.         [ Links ]

Jauss, Hans Robert. 1978 [1970/1976]. Het partiële karakter van de receptie-esthetische methode. In Marijke Buursink, Karel Huppertz, Edmund Licher, Koos de Roo en Schönau (reds.). De wetenskap van het lezen. Assen, Amsterdam: Van Gorcum, 63-78.         [ Links ]

Jonker, W. D. 2006. [1991]. "Onmiddellik voor God" - Gedagtes van 'n teoloog oor 'n sentrale perspektief in die werk van N. P. van Wyk Louw". In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 193-208.         [ Links ]

Kannemeyer, J. C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur Deel 1. Kaapstad en Pretoria: Academica.         [ Links ]

Krog, Antjie. 2006. Die beautiful woorde van Van Wyk Louw. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 447-64.         [ Links ]

Lauter, Paul. 1991. Canons and Contexts. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Lefevere, A. 1992. Translation, Rewriting & the Manipulation of Literature frame. London: Routledge.         [ Links ]

Lindenberg, E., Pheiffer, R., Brink, André en Coetzee, A. J. 1973 (vierde hersiene uitgawe). Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Pretoria en Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Lombard, M. 1975. Tyd as struktuurelement in Raka van N. P. van Wyk Louw. Ongepubliseerde MAverhandeling. Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O.         [ Links ]

Louw, N. P. van Wyk. 1986. Versamelde prosa II. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Louw, W. E. G. 1941. Resensie oor Raka. In P. J. Nienaber (red.). Beeld van 'n digter. N. P. van Wyk Louw Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 219-66.         [ Links ]

Malherbe, F. E. J. 1948. Wending en inkeer. Kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

Marais, J. F. 1944. Raka: 'n treurspel van die mensheid. Die Huisgenoot, 26 Mei: 9, 37.         [ Links ]

Marais, Jaap. 1993. Raka, deur Van Wyk Louw: die agtergrond en simboliek van die gedig in eietydse samehang. Die Afrikaner. Desember: 3-9.         [ Links ]

Marais, Nina-Marie. 2005. 'n Diskursiewe ondersoek van enkele verteenwoordigende Afrikaanse en Nederlandse historiese romans. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Mulder, H. A. 1945. Raka as epos. Ons Eie Boek. Desember: 196-200.         [ Links ]

Nienaber, P. J. 1966. Beeld van 'n digter. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

______. 1982. (red.) Perspektief en Profiel. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Odendal, F. F. 2006 [1987]. 'n Kort taalkundige reis deur Van Wyk Louw. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 99-131.         [ Links ]

Ohlhoff, H. 1993. Kanon en instansies - 'n Afrikaanse perspektief. SAVAL kongresreferate 12: Waardes in die letterkunde. SAVAL: Potchefstroom.         [ Links ]

Olivier, G. 1998. "N. P. van Wyk Louw - 1906-1970". In H. P. van Coller (red.). Perspektief en Profiel. Pretoria: J. L. van Schaik, 615-35.         [ Links ]

Opperman, D. J. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

______. 1959. Wiggelstok. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Prins, M. J. 1994. "Raka (N. P. van Wyk Louw) as epiese gedig". Tydskrif vir Letterkunde. XXXII: 2 Mei: 124-32.         [ Links ]

Renders, Luc. 2006 [2002]. Die dramatiese werk van N. P. van Wyk Louw: met volk-wees as inpirasie. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 410-432.         [ Links ]

Ridge, Stanley G. M. 1982. Comparative Literature Studies: Theory and Practice. Unpublished paper presented at South African Literature Research. UNISA.         [ Links ]

Rosengren, Karl Erik. 1985. Time and literary fame. Poetics, 14: 157-72.         [ Links ]

______. 1987. Literary criticism: future invented. Poetics, 16: 295-325.         [ Links ]

Sanders, Mark. 2006. [2005]. "In die bus afgeluister": The intellectual in the city. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 465-81.         [ Links ]

Steenberg, E. 1963. Die begrip van die woord "duister" in die poësie van N. P. van Wyk Louw. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O.         [ Links ]

Steyn, J. C. 1998. Van Wyk Louw - 'n lewensverhaal (2 dele). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Tan, Jenny. 2004. Raka spliced 2003. <www.stomp.com.sg/stfoodiesclub/drinks/liquiddiet/34/index.html> Toegang: 10.09.2006.         [ Links ]

Van Coller, H. P. (red.). 1998. Perspektief en Profiel. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

______. 2001. N. P. van Wyk Louw as kanoniseerder (Deel 1). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(1) Maart: 63-72.         [ Links ]

______. 2004. Is Leroux 'n vergete skrywer? Stilet, 16(1): 1-13.         [ Links ]

______. 2006. [1994]. N.P. Van Wyk Louw as kanoniseerder. In Willie Burger (red.). Die oop gesprek. N. P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: Lapa, 243-65.         [ Links ]

______ en Odendaal B. J. 2003. Kleur kom nooit alleen nie (Antjie Krog) en Die burg van hertog Bloubaard (H. J. Pieterse): 'n poëtikale beskouing. Deel 1. Stilet, 15(1): 16-35.         [ Links ]

______ en Odendaal B. J. 2005. Die verhouding tussen die Afrikaanse en Nederlandse literêre sisteme. Deel 1: Oorwegings vir 'n beskrywende model. Stilet, XV17(3): 1-17.         [ Links ]

______ en Van Niekerk, A. 2002. Vertelstrategieë in Verliesfontein deur Karel Schoeman. In W. Burger en H. van Vuuren (reds.). 2002. Sluiswagter by die dam van Stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis, 249-70.         [ Links ]

Van der Berg, Dietlof en David, Darryll. 2007. Raka in die psige van die eietydse Afrikaner. Stilet,19(1): 49-67.         [ Links ]

Van der Walt, C. P. 1955. N. P. van Wyk Louw se uitsprake oor sy eie kuns en oor die kunstenaarskap. Ongepubliseerde MA-skripsie. Potchefstroomse Universiteit vir CHO.         [ Links ].

Van Dijk, Nel. 1999. Loopbanen binnen de literatuur. In G. J. Dorleijn en C. J. van Rees (reds.). Literatuuropvattingen in het perspectief van het literaire veld. Den Haag: NOW, 65-77.         [ Links ]

Van Gorp, H. e.a 1998. Lexicon van literaire termen. Derde, hersiene en aansienlik vermeerderde druk. Groningen: Wolkers-Noordhoff.         [ Links ]

Van Heerden, Etienne. 1996. Kikoejoe. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Rees, C. J. 1983. How a literary work becomes a masterpiece: on the threefold selection practiced by literary criticism. Poetics,12: 397-417.         [ Links ]

______ en Dorleijn, G. J. 1994. Litertuuropvattingen in het literaire veld: over de integratie van twee benaderingen. Tijdschrift voor Neerlandistiek,23 (2): 91-114.         [ Links ]

Van Rensburg, F. I. J. 1966. Smal swaard en blink. Bundel aangebied aan N. P. van Wyk Louw by geleentheid van sy 60ste verjaarsdag. Pretoria en Kaapstad: Academica.         [ Links ]

______. Die smal baan: Aspekte en figure uit die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse letterkunde. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1975a. Sublieme ambag. Beskouings oor die werk van N. P. van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1975b. Swewende ewewig. Beskouings oor die werk van N. P. van Wyk Louw II. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Verboord, Marc. 2003. Classification of authors by literary prestige. Poetics, 31: 259-81.         [ Links ]

 

 

H. P. van Coller is hoof van die Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. E-pos: vcollerh@ufs.ac.za
A. van Jaarsveld is 'n senior lektor in die Departement Afrikaans, Nederlands, Duitd en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. E-pos: vjaarsa@ufs.ac.za