SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.46 n.2 Pretoria Jan. 2009

 

Gedigte

 

 

Fanmail vir Breyten

Daardie jaar, pas na die klas,
(ons het gehoor dat jy al op die rakke was)
het ek jou Ysterkoei deur glas gewaar
jou uitgestalde woorde deur die raam betas.

Daarbinne was dit knus.
Tussen die boeke het die reuk
van sweet en ink gehang.
Die winkel was 'n lugballon,
'n lamp, 'n Niet.
Ek was getoor, ek kon dit hoor
toe ek my Koei op skuld moes koop.
Vol soos 'n uier
het ek die groot geel boek gedra
en onder eike wat van winter drup
al langs die meulstroom af geloop,
geswenk na "Sonop" om die hoek.

Simonsberg staan pril en pers
- ek was nou by die laaste vers -
terwyl die son met Breyten in my skoot
vanuit die Ooste oor my kom.

En sedertdien hoor ek die mondmusiek,
proe ek die asem in die Zen
van Breytenbundels wat verlig
deur winkelvensters wasem.

Zandra Bezuidenhout

 

Ontmoeting met b. b.

Die maan merk die dag
in 'n melk-reënboogbarokraam.
Montagu: die Prof., die Beckettbrilman, die Voëlman en sy vrou
in die byna Spaanshuis met rooiklipvloere en krom mure.
Wyn en eenvoudige fynkos
berei in die binnekring van baiepraatmense
in Afrikaans, Frans, Engels, en 'n bietjie Italiaans.

 

Hortjies

Ek sit agter jou hortjies
in die hart van jou venster
agter jou strepies in die tronk.
Ek speel nulle en kruisies
met strepies in jou venster
en wonder hoe jy dink.
Ek drink tee en jy skink lyne.

"om 'n boek sonder woorde en grammatika te skryf ".

 

Meester Metafoor

Meneer die Digter:
jy wat altyd dwarsfluit speel met elke metafoor:
voor-af, agter-af, onderstebo en bollemakiese.
Nootvas beelde bou,
skilder om elke lyn,
ritmies inkanteer:
vonk-pos, dig-pos,
slakpos, praatpos, boek
en doek. Jy láát ons verstom.

Anne-Ghrett Erasmus

 

Karmawiel

Vanoggend droom ek van die Jesus-
kind in die Lotusblom. Op ouderdom ses
in 'n kinderensiklopedie sien ek
'n wesentjie in 'n ertjiepeul. Is dit gek

om Jesus en Boeddha saam te snoer?
Hoe kom dit dat jong kinders lank voor
begrip reeds 'n roepende stem hoor
deur ou wyshede ontroer word?

Op 'n treinreis van Voorsienigheid
terug na my rusplek in Tydelikheid
sit ek neffens 'n rabbi sonder baard;
hy vertel my hoe elkeen na sy aard

die goddelike in die lotusblom sien
of mag glo aan Christus se bloed;
solank ons net weet: uit hierdie gloed
van Boeddha, Jesus, wieookal verdien

ons die wete, ek is verbind aan jou
in denke, dade en gevoel. Soos jy
geheg is aan my in denke, dade en berou:
'n draaiende karmawiel vir jou, vir my.

Joan Hambidge

 

Die onbekende ontmoeting

Alexandrië, Egipte, 2007

Alexandrië -
weeïge naam
wat so vroulik klink,
uit die hoefyster van oorlog
en sout gesmee
tot 'n flikkerende halssnoer
van wandelende strate op stelte,
ingediep in die modder
van geskiedenis en
met uitreikende arms wat sterrestelsels
pluk uit die blink branders.

Cleopatra is jy,
geberg uit 'n asemteug
terwyl gordyne vog van jou afval
soos rinkhalsvelle.

Vrou, ek ken nie
eens jou taal nie, maar op daai trappe
in jou dwarreling van lappe,
klim jy dieselfde
sporte na onbetekenis-
baarheid, as ek.

Antieke Los Angeles
van die verskroeide engele;
gedroomde, uitgeweke Olimpos
soveel mensliker as die oorspronklike;
verbasterde, lieflike, Mediterreense Wene
gesing deur die allerheiligste, die stilgemaakte
"barbare" -

dáár die planetarium vol boeke,
die juweel van herroeping,
die geverfde duifeier
in sy oogkas van die Oudheid.

Bruin wieg
van roosblaar en pêrel
is jy -

Jy kyk terug, en ek
kyk vorentoe;
hier in die skerwende
hawe vir vertrekke,

waar verlore wêreldwonders
en hangovers mekaar ontmoet
raak ons mekaar skaars
aan
in die twee skadu's
wat kruis.

Charl-Pierre Naude

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License