SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.46 no.2 Pretoria  2009

 

Platero en ek

 

 

J. M. Coetzee

 

 

Platero and ek deur Juan Ramón Jiménez, die 1956-wenner van die Nobelprys vir letterkunde, word gewoonlik gesien as 'n boek vir kinders. Dit word in elk geval as sodanig in die boekhandel bemark. In hierdie stel vignette wat deur die figuur van die donkie Platero byeen gehou word, is daar egter heelwat wat vir 'n fyngevoelige kind moeilik sal wees om te verdra, en verder ook heelwat wat buite die belangstellingsveld van kinders val. Om hierdie rede beskou ek Platero en ek eerder as die indrukke van 'n dorpslewe, en wel van Jiménez se tuisdorp Moguer in Andalusië, soos gesien deur die oë van 'n volwassene wat 'n baie sensitiewe digter is en daarom nie voeling verloor het met die intensiteit van 'n kind se ervarings nie - indrukke wat op delikate en beheersde wyse weergegee word soos wat gepas is wanneer daar aan die sy, en as metgeselle op die daaglikse rondtes, 'n gehoor saamloop met 'n ongerepte blik en die ontvanklike siel van kinders.

Afgesien van die alomteenwoordige blik van die kind is daar 'n tweede, meer vanselfsprekende blik in die boek: Platero se eie blik. Vir mense is donkies nie besonder pragtige skepsels nie - nie so mooi as (om maar net na herbivore te verwys) wildsbokke of selfs perde nie - maar hulle het wel die voordeel van lieflike oë: groot, donker, helder - sielvol, noem ons hulle soms - met lang wimpers. (Daar is ook die oë van varke, wat kleiner en rooier is, minder mooi. Is dit die rede waarom ons nie maklik lief raak vir of vriende maak met dié intelligente, vriendelike, humoristiese diere nie? En wat insekte betref: hulle het glad nie oë wat ons as sodanig kan herken nie, en daarom is hulle so totaal vreemd dat ons beswaarlik vir hulle kan plek maak in ons hart.)

Daar is 'n skrikwekkende toneel in Dostoevsky se roman Sonde en straf waarin 'n dronk kleinboer 'n uitgeputte merrie doodslaan. Hy slaan haar eers met 'n ysterstaaf, dan slaan hy haar oor die oë met 'n knuppel, asof dit bowenal sy eie beeld in haar oë is wat uitgewis moet word. In Platero en ek lees ons van 'n blinde ou merrie wat deur haar eienaars weggejaag word, maar daarop aandring om terug te kom. Dit maak hulle so kwaad dat hulle haar met stokke en klippe om die lewe bring. Platero en sy baas (laasgenoemde is die woord wat ons taal verskaf - dit is verseker nie die woord wat Jiménez gebruik nie) kom op die merrie af waar sy dood langs die pad lê; haar onsiende oë kan skynbaar oplaas sien.

"Wanneer jy doodgaan," belowe Platero se baas sy klein donkie, "sal ek jou nie langs die pad los nie, maar jou begrawe aan die voet van die groot den waarvoor jy lief was."

Dit is die wederkerige blik tussen die oë van hierdie man - 'n man wat deur die sigeunerkinders as mal uitgetart word en wat skryf van Platero en ek, eerder as van Ek en Platero - en die oë van "sy"donkie (hoewel hy nooit aan Platero dink as 'n voorwerp wat hy besit nie) wat 'n innige band tussen hulle smee op baie dieselfde manier as wat daar 'n band ontstaan tussen 'n moeder en baba op die oomblik wanneer hulle blik mekaar vir die eerste keer vind. Hierdie wederkerige blik tussen die man en die dier word telkens weer versterk. "Van tyd tot tyd hou Platero op eet om na my te kyk. Ek hou van tyd tot tyd op lees om na Platero te kyk."

Platero word tot lewe geroep as 'n indiwidu - as 'n karakter, in der waarheid - met 'n eie lewe en 'n ervaringswêreld van sy eie op dié moment wanneer die man wat ek argeloos sy baas noem, die mal man, sien dat Platero hóm sien en in die proses van sien hom as gelyke erken. Op hierdie oomblik hou "Platero" op om net 'n etiket te wees en word dit die donkie se identiteit, sy ware naam, die enigste ding in die wêreld wat aan hom behoort.

Jiménez vermenslik Platero nie. Om hom te vermenslik sou hom in sy donkiewese verraai. Platero se ervaring van die wêreld is afgesluit vir mense juis deur die donkieaard daarvan, en ondeurdringbaar. Nietemin word hierdie grens van yster keer op keer afgebreek wanneer die digter se visie, soos 'n sonstraal, Platero se ervaring binnedring en verhelder; of om dieselfde aanspraak in ander woorde te maak, wanneer die sintuie wat ons as mense met die diere deel, versterk deur die hart se liefde, ons toelaat om, deur bemiddeling van die skrywer Jiménez, daardie ervaring intuïtief aan te voel. "Platero, sy donker oë bloedrooi van die sonsondergang, loop rustig weg na die poel rooi en pienk en pers water; hy steek sy mond saggies in die spieëls wat lyk asof hulle vloeibaar raak onder sy aanraking; en deur sy groot keel vloei die swaar stroom skaduryke, water-soos-bloed."

"Ek behandel Platero asof hy 'n kind is... Ek soen hom, terg hom, maak hom vies; hy verstaan baie goed dat ek lief is vir hom en hy hou geen wrok teen my nie. Hy is so baie soos ek dat ek begin glo het dat hy my einste drome droom." Hier tril ons op die ware rand van 'n moment waarna intens verlang word in die fantasiewêreld van kinders, wanneer die grens tussen die spesies wegval en ons en die diere wat so lank van ons af verban is, byeenkom in 'n groter eenheid. (Hoe lank reeds verban? In die Judaïes-Christelike mite dateer die verbanning vanaf ons uitwerping uit die Paradys, en daar word verlang na die einde van die ballingskap op dié dag wanneer die leeu en die lam saam sal gaan lê.)

Op hierdie oomblik sien ons die mal man, die digter, so vrolik en liefdevol teenoor Platero optree soos wat klein kindertjies teenoor babahondjies en klein katjies optree; en Platero reageer soos jong diere teenoor klein kindertjies, met net soveel vrolikheid en liefde, asof hulle weet, so goed soos die kind dit weet (en die sober, prosaïese volwassene dit nie weet nie) dat ons uiteindelik almal broers en susters in hierdie wêreld is; ook dat dit nie saak maak hoe eenvoudig ons is nie, ons moet iemand hê om lief te hê of anders sal ons opdroog en vergaan.

Aan die einde gaan Platero dood. Hy gaan dood omdat hy gif ingesluk het, maar ook omdat die lewensduur van 'n donkie nie so lank soos dié van 'n mens is nie. Tensy ons olifante of skilpaaie kies en met hulle vriende maak, sal ons meer dikwels oor ons dierevriende se dood treur as hulle oor ons s'n: dit is een van die moeilike lesse wat Platero en ek nie verswyg nie. Maar in 'n sekere sin gaan Platero nie dood nie: altyd sal hierdie "lawwe klein donkie" weer na ons toe terugkom, balkend, omring deur laggende kinders, omkrans met geel blomme.

Vertaling deur Annette Jordaan
The original essay is available in the print version of Tydskrif vir letterkunde 46 (2): 228-30.

 

 

J. M. Coetzee (geb. 1940) is die skrywer van onder meer Life and Times of Michael K (1983), Foe (1986), Disgrace (1999), The Lives of Animals (1999) en Elizabeth Costello (2003). Sy jongste roman is Diary of a Bad Year (2007). Hy het die Nobelprys vir Letterkunde in 2003 ontvang. Hy woon in Adelaide, Australië.