SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.46 no.2 Pretoria  2009

 

Vlae tussen woorde as poëtikale spilpunte in nege landskappe van onstye bemaak aan 'n beminde en die windvanger van Breyten Breytenbach

 

Flags between words as poetical centre pins in Breyten Breytenbach's two volumes, nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde and die windvanger

 

 

Marthinus Beukes

 

 


ABSTRACT

Breytenbach's two volumes, nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde ("nine landscapes of our time bequeath to a lover", 1993) and die windvanger ("the wind catcher", 2007), show remarkable similarities regarding his ars poetica. In both volumes the poet plays with the number nine - nine sections referring back to the seminal first poem. Both volumes feature omissions, parentheses and silences in the different sections as well as in the poems. In "versetverse" ("resistance verse") Breytenbach invites the reader as participant to fill the gaps, to claim the landscape as an inheritance and to catch the wind. This article explores the leads, provided by the poet, to investigate explicit statements on the nature and value of the poems. A comparative reading of the two volumes indicates the poet's parallel approach and methodology.

Key words: Breyten Breytenbach, ars poetica, parentheses, hiatuses, silences.


 

 

ek wou vlae tussen die woorde hang om te wys
hoe dringend die seine is
Breytenbach (landskappe, 37)1

 

Die vlae tussen woorde

Breyten Breytenbach se bewustelike omgang met die poëtiese ambag is in versinterne en versteksterne uitsprake wyd gedokumenteer. Sy ars poetica op versinterne wyse is in die bundel nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde vanweë die talle herhalings van ooreenstemmende gedigtitels met poësie as onderwerp, 'n opvallende beklemtoning. Verder is die afwesigheid van 'n duidelike gedigonderskeid in die nege inhoudsafdelings van die bemakingsdokument, 'n verdere vooropstellingsaspek. Fluïditeit of eenheid word sodoende bewerkstellig en gemotiveer deur versreël 3: "alles is ontplooiing" in die prolooggedig van die bundel met die titel "inleiding" (landskappe, 3) asook versreëls 15 en 16: "die oog / vervaag en word deel van die land". Soos die aanhaling hierbo formuleer, word die leser deur die digter gelei om die vervagings, weglatings, leegtes, afwesighede en stiltes as vlae te sien wat vir die leser sein om betekenis te dekodeer. In die vers "gedig as poësie" (landskappe, 86) merk die spreker tereg op dat versoening in die teks tussen hom en "kont" is:

dáár is konteks nog taks die natuurlike
koesterveld van versoening
tussen kont en ek in die teks,
en afstandelik ook aan die waarheid verwant

Byna op soortgelyke wyse word Breytenbach se bundel die windvanger (2007) gekomponeer met die betekenis in-geskryf en weg-geskryf in die leegtes waar die vlag in die wind wapper as betekenissein. Hy maak gebruik van 'n enkele gedig, "daar is geen tyd" as programgedig om die bundel se nege afdelings te konstrueer om júís klem te lê op die aanwesigheid van die afwesige. Talle sintaktiese parenteses en 'n elliptiese skryfwyse vul hierdie soeke na die afwesige, die gefragmenteerde of versweë aspek aan.

Breytenbach se werkwyse in beide bundels kan in die volgende versreëls uit die gedig "inleiding" (landskappe, 3) opgesom word om die leser se rol as voltooier van die onvoltooide of as die vanger van die wind (dus betekenis) of as erfgenaam, te betrek by die betekenisgewingsproses:

Dit dan ons
gedeeltelike bemaking: ons private
gedeeltelike bemaak [...]

dat wanneer ons al te oud is om te doen
ons nog in gleuf en glooiinge op sal gaan:
op die hand is die son se taal immers bekénd,
ook die wind op te vang2 al klank die oog

In dieselfde trant het Breytenbach vroeër al in Boek (25) opgemerk dat die gedigonderwerp(e) die leser dwing om na verbande of samehange te soek tussen gedigte onderling of in bundelverband: "die eintlike onderwerp of tema van 'n gedig (is) die verhouding: verhoudings tussen gedig en anti-gedig, verhouding tussen belewing en vertaling via die skema, verhouding tussen die woord en die stilte via die sin, tussen die sê en die onsêbare via die verband, verhouding tussen die Werklikheid en 'n werklikheid."

Die innerlike verhouding / verband of samehang tussen die gedigte wat ooreenstemmende titels gemeen het, is in nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde, soos Breytenbach "Vooraf" in Boek (i) aanvoer: "fragmente of snitte [...] die pilare waarop die innerlike struktuur gaan steun en bou".3 Hierdie "as"-gedigte is dan m.i. juis die pilare of steunpunte van Breytenbach se ars poetica wat op 'n samehang berus.

Die belangrikste verhouding in hierdie bundel is dié tussen testateur en erfgenaam: dus die digter en Hoang Lien / leser.

 

Versverlies en (vers-)gebrokenheid

Die nalatenskap van die spreker se erfenis, die landskappe en verse, is nie volkome héél of voltooid nie. Die spreker is in sy droom (landskappe, 4) duidelik daaroor dat die droom, hier metafories gemerk as "gebroke geheue", nagelaat word. Die poëtiese vormgewing rondom die as-spilpunt van die bundel toon dus ook verlies / gebrokenheid. Verlies se spieëlbeeld is teen die raamwerk van my argument die herinnering aan die besit (dus 'n poging tot heelmaking deur middel van herinnering) of soos die motto van die gedig "mymering rondom bewussyn binne taal as omgewing" (landskappe, 119) dit stel: "the poem is a memory of itself".

Die vormgewing van verlies is ook waarneembaar in die aanwesigheid van die gestalte wat in naamgewing versteek / gespieël word, byvoorbeeld Kamiljoen. Soos Van Zuidam (1993: 6) verduidelik, is die "digter-spreker [...] versteek agter allerlei skuilname, onder andere Kamiljoen, Bibbelbek, Bittergek, Bruidjiebark en Babbeldors - almal afsplitsings van dieselfde ek - 'n egte kameleon of verkleurmannetjie". Die digter funksioneer dus as iemand anders: as 't ware in gestaltespieëling. Viljoen (1998: 275) praat in dié verband van die "verdubbeling, gespletenheid, gefragmenteerdheid van die self". Die spreker is self op soek om eie liggaamsverbrokkeling te besweer deur die skryf van poësie.4 Breytenbach (landskappe, 118) kondig in "die gedig as vergewissing van verlore verse" aan dat Kamiljoen weet waar hy die gedig verloor het en só dien die skryf van poësie as 'n terugvind van die verlore vers.5 Verlies moet omgekeer word deur te besit. Opheffing van verlies is deur middel van vers-maak, maar ook die herinnering aan die verlore teks én die verwoording van die verlies in versvorm. Die digter (landskappe, 4) verwoord hierdie prosesse soos volg:

En ek het 'n droom: om hoog genoeg te loop
om jou teë te kom,
dat jy uit my struikeling
van woorde gespel sal word in 'n land waar ek
met jou mag praat: ek nood niemand
om hart, hand, droom, gebroke geheue aan na te laat,
en die kontoere van my barensland

Die gebrokenheid of leemtes roep heelmaking op sodat die woordstruikeling deur nalatenskappe opgehef sal word. 'n Besondere wyse van heelmaking is deur die skryfproses sodat die leemtes / gebreke / afwesighede gevul sal word of soos die spreker in "die dood in die gedig" (landskappe, 7) formuleer: "jy sal 'n gedig moet skrywe soos 'n spieël". Spieëlskrif is in die lig van die artikelonderwerp 'n wyse om vergelykingsrelasies tot stand te bring, want die as-spilkonstruksie is 'n spieëling van die subjek - dus die verhouding tussen wees en weerkaats. Die gestalte/subjek is 'n afspieëling/ representasie van die self; die ek is as Kamiljoen / die gedig, want:

[...] Kamiljoen (kyk) in die spieëlruit
en sien die skaduwees van al sy gelate

En in Soos die so (9) gestel word: "(bestaan) die spieël alleen wanneer iemand daar inkyk, ook dan slegs met die inkykende verwysing na daardie iemandjie". Die in-kyk in die bundel nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde word op ikoniese wyse vergestalt deur die proloog- (landskappe, 3) en epilooggedigte (landskappe, 190). Die leser word deur die gedig "inleiding" tot inleidende kyk gerig en wat voltooi word wanneer die "portret van die landskapskilder" sigbaar is aan die einde van die "reis":

en jy getooi in huid en vlees en haar en muid
loop tot teen die algehele spieël
om opeens te sien daar is geen glansbeeld meer.

Die leegheid in die spieëlbeeld noop die kyker om deur die bundel 'n reis te onderneem om langsamerhand die gestalte van die spreker in die spieël te eien. Aan die einde van die bundel (landskappe, 190) is die spreker voor die spieël en is die voorgrond gevul deur die buitelyn van 'n man:

voorgrond: omvat deur buitelyn 'n man
met sy lewe dik dooie gewig, ontwortelde nek,
verskreeuende gesig, tong soos 'n kuiken versuip in eiwit
uitgedop uit die mond, die voete raak nooit weer grond,
in die hand 'n verbeeldinglose dorre tekenkwas -
en hierdie landskap in die dowe oog weer spieël -

Wanneer die leser aan die einde van die bundel die landskapskilder se portret bekyk, is die figuur se buitelyn sigbaar. Die omkering van 'n spieël waarin daar geen glansbeeld sigbaar is aan die begin van die bundel nie, is ná die landskapsreise gevul met sy buitelyn. Die samehang / verband tussen die sigloosheid en eindelik die buitelynaanwesigheid van die landskapskilder se portret (in die spieël) bevestig die voltooiing van sy soeke deurdat die land- en woordskappe versoen is. Die waarheid het "in die gate tussen mensveverhoudings" en "mymering rondom bewussyn binne taal as omgewing" (landskappe, 119) geval. Die gestaltevermeerdering het eindelik gelei tot die aanwesigheid van "selfportrette en ander voorvaders" (landskappe, 119) sodat die erflating gedeel, dus vermeerder is:

(tog, nie met 'n maal-simbool
maar met die deel-teken
word poesie tot vers versool)

Bogenoemde erflating word deur Viljoen (1998: 280) soos volg insigryk opgesom: "In Breytenbach se poësie is die aanskoulike abstraksie 'n verbete poging om die afstand tussen taal en werklikheid, tussen belewenis en formulering, te oorbrug; kortom, om ikonisiteit te bereik. Dit word veral gedoen deur taalpatrone met opset te vervorm of te vervang, te anormaliseer; dit is die kreatiewe kant van woorde, van taal."

Die voltooiing van die leegtes en leemtes is verwoord in die gedigfragment "self-portrette en ander voorvaders" (landskappe, 119), want sê die spreker: "die waarheid val in die gate". Die leser word opgeroep tot aktiewe voltooier van die weglatings. Vergelyk byvoorbeeld die afwesigheid van die deelteken op "poesie" wat eers betekenisvoltooiing bereik wanneer die gedig poësie word met die deel van die teken(s) sodat die reisiger deur die nege landskappe sy reis kan versool6 / verseël. Die uitruiling of deel van simbool en tekens tot versvolmaaktheid is die voorwaarde aan die erfgenaam. Slegs wanneer die aanhoor van sinne in die oor gefluister (landskappe, 118) en die "afwesige gesig van god" (landskappe, 122) deur die pieke gespieël word, is die landskapskilder se portret voltooi en is die gefragmenteerde teksbuiteliggaam ge(re)konstrueer. Die leser het deur die leesproses die gestalte in die spieël gevind. Die landskapskilder kan aan die einde van die bundel sy buitelyn op die voorgrond uitmaak. Die portret van die landskapskilder en landskapskilder se portret word deur 'n lang reistog deur poëtiese landskap voltooi in 'n poging om landskappe na te laat, maar ook om daardeur bewaar te word deur die geliefde / leser. Die portretskilder is ook landskapskilder, maar aan die einde van die bundel is die gestalte van die skilder in portretvorm vasgelê en dien hierdie handeling as in-kyk in die spieël en gestalte.

Deur hierdie handeling van pen en penseel wat mekaar ontmoet, is die verset teen verse deurbreek, want volgens die eerste versreël van "versetverse" (landskappe, 36) is herkenning moontlik:

daar skuil 'n kode agter alle leef, sodat jy lees
en weet: gedig: en herken wat jy nooit ontmoet het nie

Betekenis vind dus plaas deurdat daar 'n herkenning / vergelyking tussen subjek en objek tot stand kom. Die vergelykings wat op die sintagmatiese as tot stand kom,7 word in hierdie bundel van Breytenbach gegenereer wanneer die duisterheid van kodes verhelder raak en lees en leef in uitruilbare vergelyking, mekaar ontmoet. Só baan Breytenbach die weg vir die opeenhoping van gedigte wat rondom die asspilkonstruksie geskryf is.

Die herhalingsfrekwensie van die "gedig as"-frase word teen die agtergrond van die bundeltitel as 'n spesifieke soort bemakingsobjek aan die ontvanger / leser verwoord. Soos Gouws (1993: 6) in sy resensie van nege landskappe bemaak aan 'n beminde saamvat, "word (dit) uiteindelik die testamentiese spesifikasies van die digkuns (digter) [...] Die gedig as dit, die gedig as dat, word hier 'n ars poetica van voorskriftelikheid in die uitdeel ook veral die uitléés) van die landskappe" (oorspronklike kursivering).

Die landskapsgedigte is vir Breytenbach genererend van lewe. In Woordwerk (21) verduidelik hy dat poësieskryf vir hom 'n soeke is "na bybetekenis of onbetekenis8 of dat daar in die leemtes tussen "woordmakery / woordbrekery" lewe en betekenis skuil:

Om "digter" te wil wees, is vanaf die begin 'n verlore saak [...] Sodra jy besef dat jy te doen het met 'n onverbiddelike paradoks, 'n teenwoord - dat om die onbetrapbare te probeer lok en vaslê met en in die karige min-of-meer van woordhuisies nooit kan slaag nie, dat jy streef na verbysteek terwyl jy gedwonge bly vassteek in die bry en die bredie - begin jy krakies soek. Jy moet jouself begogel en glo dat die skyn kan oorgaan in werklikheid. Jy soek derèglement. Hierdie dood in die siel (want eintlik wéét jy dis wanhopig) wat omseil moet word, kan op verskillende maniere uitdrukking kry. [...] In my geval is dit 'n gespartel met woordmakery / woordbrekery - op soek na bybetekenis of onbetekenis. Hierdie ek-skresies het dalk die asem van lewe.

Saambestáán van dispariteite is in Breytenbach se oeuvre deel van die, soos Strydom (1998: 5) aanvoer, "verandering en vormverwisseling" - dus transformasie van die liggaam, maar ook van die gedig. Lewe en dood is deel van dieselfde taallandskapsreis vir Breytenbach. Brink (1979: 27) het duidelik gewys op die eenheidsvorming in Breytenbach se oeuvre. Hy verduidelik dat dit "'n voortdurende soek(e) na ewewig binne, 'n groeiende ruimte, 'n uitgebreide kosmos" is. Breytenbach (Boek, 16) meen dat situasies 'n omhullende werklikheid genereer, lewe en dood word in die gedig saamgesnoer: "daar is geen werklikheid nie, slegs situasies. Met ander woorde, iedere situasie is volkome werklikheid. Droom en nie-droom is vir my aspekte van één omhullende werklikheid..." Die omhullende werklikheid verwys ook na die digter se gebruik van parenteses, of die asspilpunt. In die ruimte tussen die hakies (iets wat 'n volgehoue procédé in Breytenbach se oeuvre is) plant hy 'n vlag vir die leser om betekenis te dekodeer. Hierdie "omhullende werklikheid" ("soos grafte vol woorde", (windvanger, 18)) is voorts 'n heenwysing na die betekenis en waarhede tussen die bundelbuiteblaaie. Op dieselfde wyse dien die proloog- en epilooggedigte in nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde (3, 190) as omhulsels vir die gedigte in hierdie "woordhuisie" (Woordwerk, 21).

 

Die as-spilpunttekste in Breytenbach se nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde

Die volgende gedigte is 'n opsomming van die as-spilpunttekste uit die bundel. My argument sluit méér tekste in as bloot 'n titel met die gedig "as" dit of "as" dat. Gedigte waarin die suggestie van 'n vergelyking (of metaforiese konstruksie) daargestel word, word by my argument ingesluit aangesien hulle funksioneer as spiltekste: tekste met 'n dominante funksie binne die bundelopset.

 

 

Die samehang tussen poësie waar die "as"-spil vergelykingswoord beteken, veronderstel in die Breytenbach-oeuvre vermeerdering, transformasie en selfs uitruiling. Viljoen (1998: 280) praat hiervan as "'n ars combinatoria: 'n kuns van woorde en letters kombineer, omruil en herrangskik."11 Uit die genoemde lys as-spiltekste is daar 'n verdere samehang waarneembaar, naamlik dié tekste met vergelykingsskakels tussen "vers" en subjek/vehicle. Die gedigte in hierdie patroon is:

77 gedig as vryvers
86 gedig as poësie
118 gedig as vergewissing van verlore verse

Die gedigte hang dus saam vanweë die "as"-vergelykingsrelasie, maar ook modaliteitspartikel, dus as spieëlings van nagelate woordskappe, taal, tekeninge, reise, verliese en herinneringe. Met die gedig "die dood in die gedig" (landskappe, 7-8), bevestig Breytenbach dat die samehang tussen tekste soos die in-kyk in 'n spieël is: "jy sal 'n gedig moet skrywe soos 'n spieël".Meer nog: hy bevestig met die spieëlmetaforiek juis die vergelykingsrelasie tussen elemente in die gedig-as-konstruksie. Aangesien die metafore in hierdie verhouding die uitruilbaarheid van elemente veronderstel, is die transformasie soos 'n samehangsverband tussen die weerkaatsing van die objek in die spieël. In "die gedig as vryvers" (landskappe, 77) is die opdrag aan die leser onomwonde: "spel speel spieël". Transformasie lê dus nie alleen geleë in die fonologiese spel wat die spreker met die leser speel nie, vergelyk veral die klankvermeerdering van "ooi". Met hierdie vermeerdering skep Breytenbach die agtergrond vir die asspilkonstruksie wat meervoudig in hierdie bundel voorkom en sodoende 'n bemakingsvermeerdering (die nege landskappe vir die geliefde / leser) suggereer. Die gedig(te) vermeerder of groei aan rondom die as-spilpunt in nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde. Soos die digter in Boek (25) argumenteer, beskik die organisme (gedig) oor "oopwaaiende moontlikheide".

 

Vermeerderingspel: "spel speel spieël!"

In die volgende gedig, "gedig as vryvers" (landskappe, 77) is dit opvallend hoe die digter ter wille van rym ("genooi", "gooi", "vlooi" en "slooi") die woordvorm verander om 'n onvoltooidheid of hiaat te genereer. Die leser word tot die voltooier van die afwesige klanke opgeroep "soos betekenis uitgevul kom ..." (landskappe, 172). Voltooiing word verder gevoer deur die spieëlspel in strofe 4. Die vermeerdering van lettergrepe in die kursiefgedrukte versreël het dus nie alleen 'n sintaktiese vooropstelling tot gevolg nie, maar ook 'n definitiewe betekenisimplikasie. Om die gedig te verstaan, word die leser opgeroep om 'n "spel" te "speel" deur die waarheid (of betekenis) in die spieël te eien. Breytenbach se opmerking in Woordwerk (128) oor Vidal wat Abimael Guzman vasgetrek het, geld in dié verband om speurder na betekenis te wees: "Die speurder, die jagter, die geduldige en (na gesê word) deemoedige ontsyferaar van nietige leidrade..."

watter ot het ooit
'n ooi genooi
vir 'n potjie skaak?

wie het homself brak-lag vermaak
deur die nonna
in die kooi te gooi?

en wie het gegil
toe die vlooi
haar in die naakte plooitjie snoer?

spel speel spieël

dis hy-die! dis die knoeier!
slag af die vark
en stoot hom in die slooi!

Soos die gedigte in nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde deur die asspilpunt sintakties en metafories verbandhou, én deur vermeerdering in bundelverband gemerk is, eggo Breytenbach deur die spieëlvervorming die opstapeling van / uitwaaiering van personasies / gestaltes. Tereg is Viljoen (1998: 284) van mening dat "die ek self nie 'n vaste punt (is) nie [...] nie 'n punt van waarheid nie, maar 'n maaksel of masker - meestal ook 'n masker saamgestel uit herinnering en verbeelding. Dit is een rede waarom spieël so 'n belangrike rol in Breytenbach se werk speel: die spieëlbeeld is een van die sentrale maskers van die self". Die ware gesig / gedig / betekenis is omhul deur 'n masker.

Breytenbach (landskappe, 7-8) het homself in "die dood in die gedig" gemaan om 'n gedig te skryf soos 'n spieël. Hierdie opdrag roep vir die leser die metaforiese verbande op tussen die raaiselagtige beeld in die weerkaatsing asook die verband tussen, soos Viljoen (1995: 39) in sy hoofstuk oor "Postmodernisme en representasie" aanvoer, "duplisering of vermenigvuldiging". In besonder is dit die oproep van die afwesige of die uitlees van die nie-bestaande wat singewend is in Breytenbach se bundel nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde. As toepassing van my argument sal ek stipstaar in / na die gedigte 1 en 2 van "versetverse" (landskappe, 36). Juis teen dié agtergrond gelees van die frekwente voorkoms van die gedigte met 'n duidelike as-spil, ontbreek hierdie gedig se "as"-vergelykingswoord. Die interpretasie van die versweë metafoor is belangrik. Die leser herskryf dus, volgens die digter se opdrag aan die leser, die titel na: verse as verset en verset as verse. Die leser moet ook verset (versit) of verstellings aanbring in die raaiselagtige gedigbeeld wat soms met hiate, weglatings, verskrywings of duisterhede (a-normaliserings) geënkodeer is.

Gedig 1 as sonnet-op-sy kop gedraai, open talle nuwe leesmoontlikhede. Deurdat die gedig se openingskoeplet eintlik die slotkoeplet volgens tradisionele vereistes moes wees/lees, is die omkering daarvan deur Breytenbach 'n gemerkte werkwyse. Hierin skep hy die voorwaarde aan die leser om vervangend te lees (Cloete 1982: 33- 48). Teen die agtergrond van my argument van hierdie artikel is die gedigvorm óók 'n spieëling van sigself: die gedig is derhalwe 'n weerkaatsing waarbinne die slotkoeplet die as, vlag of ankerspil van die gedig vorm vanweë die omgekeerdheid in tradisionele vorm. Die gedig lyk só (landskappe, 36):12

versetverse
(vir Rutger Kopland)

daar skuil 'n kode agter alle leef sodat jy lees
en weet: gedig: en herken wat jy nooit ontmoet het nie;

ek sien so swaar, het swere aan die oog
om seë in te vul sonder water,
om 'n trein te laat rook na geen bestemming
en wortels te laat kronkel verdiep in die brein;

my hande is vol swart afwesigheid,
in die tuin rus die engel se stoflike oorskot,
twee polse lê daar eindeloos geknak,
in die winter is die vure geblus;

jy moet lewe dat die dood kan voortbestaan,
alles is relatief behalwe dit wat absoluut skryf,
skommel daardie woorde en gooi hul ánders in die kuil -
dis tog hoe mens die gaatjies in die vers versit.

2. (in gesprek met Pablo Neruda)

dit moet donker wees waar jy nou gaan lê
met die duisternis van harde reën

hoe?

nee, ook hierdie stad slaap en buite die vensters
is een dig-verblindende swart sneeustorm,
slegs die spieëls smeul,
iéts moet mos brand

wat sê jy?

ons het hiernatoe gekom met geharnaste stemme,
ons het spore aan ons tonge probeer bind,
ons het gepoog om van die pyn te vertel,
die rook, het ons gereken, sal damp uit ons woorde,
dáár het ons gestaan met die monde vol stokkies
en kletterende tande en fletterende foneme
het af oor die papier gebiggel
en die boodskap uitgewis

ekskuus?

ja, ons is die gehoor en ons is die gesien ons
is die sê en die alles verstaan,
ons, die soetwater revolusionêre

die reg, die ape is wel op die maan,
die aasvoëls klap hande

hoe sê jy nou?

ek wou die vlae tussen die woorde hang om te wys
hoe dringend die seine is

asseblief?

jy het my om lig kom vra en al wat ek kan opsteek is 'n gedig?13

asseblief?

dit moet duister wees in daardie kis
met die klipharde donkerte van reën

'n Ooglopende rede waarom hierdie gedig as belangrik beskou kan word in die paradigma van die as-spilkonstruksies is die opmerking waar Breytenbach (landskappe, 37) sy ars poëtica soos volg (gedig 2) opsom:

ek wou vlae tussen die woorde hang om te wys
hoe dringend die seine is

Die dringende seine waarop die digter in hierdie gedigreeks wil wys, berus onder andere in die gedigtitel. Om die gedigtitel te lees as: "verset as verse" of "verse as verset" word nie alleen die dringendheid van die vlag as sein ('n verdere metafoor / vergelyking) bedoel nie, maar ook die omgekeerde wesensaard van die sonnet - hy verse/(i)t óók die gedigvorm. In versreël 7 staan immers dat die spreker se "hande vol swart afwesigheid is". Dit wat in die hiaat geskryf moet word as betekenis is o.a. die "as"-woord om só die metaforiese verband tussen "verset" en "verse" te rekonstrueer. Om die sonnet teen hierdie raamwerk op sy kop te draai, beteken op praktiese vlak dat die verset 'n verset is teen die oersonnetvorm. Die lesing wat gesuggereer word aan die leser behels dus dat die verset in die versvorm gestalte kry.

Die insiggewende spel wat die spreker in hierdie teks met die leser speel, berus in die vervangings- óf die versetlees waarop ons bedag gemaak word in die koeplet. Aangesien die koeplet in die getransformeerde gedigvorm aangebied word, is die vooropstelling daarvan soveel meer benadruk. In hierdie twee versreëls word die leser aangeraai om die skuilgaande enkodering van betekenis te dekodeer. Wat die leser raak moet lees deur die woordbetekenis te verset / versit, is onder andere: daar skuil 'n kode agter alle lees sodat jy leef. Verder is die spreker se leestekengebruik belangrik om, volgens die vlagmetafoor van die tweede gedig (landskappe, 37) in die reeks, te besef dat die woordvlag (dus die gedig as vlag)14 tússen die woorde betekenis dra: "en weet: gedig: en herken wat jy nooit ontmoet het nie". Verset berus veral in die poëtika van Breytenbach by die betrokke-maak van die leser by die herkonstruering van die vers soos dit in die laaste strofe as opdrag verwoord is:

skommel daardie woorde en gooi hul ánders in die kuil -
dis tog hoe mens die gaatjies in die vers versit.

Die leegtes, die hiate,15 die versweë, die "geheime vrug" (windvanger, 23) die vang van die wind, is Breytenbach se eis aan die leser.16 In die middel van die leegte of die "kakgat [...] van die sel" (windvanger, 178) is méér as ekskresie te vind, maar betekenis.

 

"die stink kakgat in die middel van die sel"

Breytenbach se jongste bundel, die windvanger (2007), verwoord dieselfde beginsel van die onwaarskynlike / die afwesige wat roep om voltooiing (vergelyk Beukes (2006: 225-38). Die leegte, gat, holte, hiaat, word die merker vir sy verse. Die leser word in hierdie bundel gelei om die leegte(s) in te vul: om soos hy dit verwoord in "'n flentervers" (windvanger, 61) "die soet murg uit die holte te krap". Die leegte, die afwesige of die stilte is wat die spilpunt van betekenis in die windvanger vorm. Hierdie beginsel het Breytenbach met die credo-gedig reeds verwoord. Met "daar is geen tyd" (windvanger, 11) suggereer hy reeds die afwesige of die tydstilte. 'n Paar opvallende aspekte maak hierdie gedig die spilteks van die bundel. Die feit dat daar geen motto by die afdeling voorkom soos in die geval van die ander 8 afdelings nie, beklemtoon die aanwesigheid van die afwesige. In elkeen van die agt volgende afdelings maak Breytenbach van sintaktiese parenteses gebruik om 'n versreëlfragment uit hierdie gedig te "vang" soos die wind of betekenis waai. In die lig van my argument kan dus geformuleer word dat hierdie gedig die spilpunt van sy ars poetica is. Die sterwensruimte, die graf van woorde wat gemerk is deur die swye van die motto's in die inhoudsopgawe (óók gemerk aangesien dit aan die éínde van die bundel geplaas is) "sal die dood (laat) aanhou ritsel in die papier" (windvanger, 57).

Die leegte / afwesige roep in Breytenbach se verse vir voltooiingslees deur die leser. Hy merk tereg op in Boek (99):

Indien iemand my sou vra watter aspek van my werk ondersoek "regverdig" sou ek sê: die fragmentariese daarvan, die versnippering en versnipperde, die gapings asook die collage-agtige - op alle terreine, woordgebruik, beeld, gedagte; en in alle eenhede - die enkele vers, die reeks, die bundel, die kasarm. Kortom: die Afwesige Struktuur.

Voorafgaande is beginsels wat in die gedig "isis (i)" (('YK'), 155-7) deur Beukes (2006) uitgewys is. In hierdie tweetal gedigte word die geliefde / leser opgeroep om die stiltes of die afwesige verwysings in te vul. Die afwesige is dus in die lig van my argument die "as", die onwaarskynlike en stilte wat gesoek moet word om die "skaamspleet na die dood" sinvol te vul soos die digter dit verwoord in gedig 2 van "lappesait" (windvanger, 44):

net die opskryfhand bly klou aan papier
wil alles weg kan laat
sodat slegs die onsigbare
gedig bly hand
gekleef aan die eie gewig
van 'n wind woorde

 

Slot

Die opskryfhand én die simbiose met die leser se semantiese, morfologiese en sintaktiese (re)konstruksies moet in die Breytenbach-verse die leegte of afwesige ruimtes, dus die "as"' soek en invul, aangesien die "as" die spilpunt of die anker van Breytenbach se ars poetica vorm "omdat ons geanker is aan die groot vergeet" (windvanger, 29). Die leser se rol is verbind met dié van die digter soos Gouws (1988: 164) geargumenteer het: "Die 'verwoording' (of eerder 'verdigting') van die afwesige dwing die digter (én die leser) tot aan die uiterste grense van die sêbaarheid van taal..." Die "as" moet realiteit word, die leegtes gevul word of die wind moet gevang word om Breytenbach se stiltes en swye te verstaan én die afwesige tot bestáán daar te stel.

 

Aantekeninge

1. Verkorte titels van Breytenbach se werk word in hierdie artikel gebruik.

2. Hiermee het Breytenbach die saadjie geplant vir die titel van die windvanger.

3. Ek sal vir die doel van hierdie artikel hoofsaaklik fokus op die bundel nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde, maar kortliks wys op die ooreenkomste met die windvanger.

4. In die lig van die windvanger (177) wil die spreker die dood troef, want hy sê: "En wat sal ek sê het ek geleer, behalwe om met woorde te speel tot aan die uur van my dood?"

5. Of soos Beukes (2006: 225-37) in 'n artikel met die titel: "Isis as teksherkonstrueerder van liggaamsverbrokkeling: Breyten Breytenbach en Tom Gouws as eksemplaardigters" aangetoon het dat die leser die versfragmente of brokstukke opspoor om die gedigliggaam saam te voeg.

6. Hierdie werkwoord suggereer beweging; dus die reis van die leser deur die woordlandskap.

7. Hiermee bedoel ek die gedig as dit of as dat: dus 'n vergelykingrelasie wat tot stand kom.

8. M.i. die leegte of hiaat wat sodoende ontstaan en aandring op die spreker en leser se voltooiing van betekenis of die brokstukke van die legkaart.

9. Die gedig dus as spieël.

10. Die parentesegebruik deur die hakies dien nie alleen as beklemtoning van die semantiese inhoud nie, maar dit is ook die visuele beklemtoning daarvan. Lewe is in die lig van die hakie-inhoud opgesluit (sic) in die "snytjie tussen die bene / soos die proegang / tot 'n geheime vrug" (windvanger, 23).

11. Is dit vergesog om "'n ars combinatoria" te lees in die vervangingskonstruksie van "as combinatoria", aangesien "ars" of anus sinonieme is? Breytenbach (landskappe, 154) formuleer hierdie kreatiewe ruimte op soortegelyke wyse as: "die paradys se inkruipgat aar immers deur die grond".

12. Ek haal hier slegs die eerste 2 gedigte van 4 aan om my argument te steun.

13. Sterwe is nie vir Breytenbach (landskappe, 173) finaal nie, want: "op elke graf dryf 'n vlampit in olie". Die graf se inhoud besit derhalwe transformerende potensiaal - iets wat Breytenbach (ysterkoei, 28) in "brief van hulle vakansie" reeds verwoord het.

14. Of soos Breytenbach in Lotus (76) verklaar: "Truth lies in-between".

15. Gouws (1988) het indringend die aspek van hiaat, haplografie en transkripsie in Breytenbach se oeuvre ondersoek.

16. Vergelyk in die verband Breytenbach (('YK'), 155-7) se opdrag aan die leser / die beminde volgens die gedig "Isis".

 

Bronnelys

Beukes, M. P. 2006. Isis as teksherkonstrueerder van liggaamsverbrokkeling: Breyten Breytenbach en Tom Gouws as eksemplaardigters. Tydskrif vir taalonderrig, 40 (1): 225 -37.         [ Links ]

Breytenbach, B. 1964. die ysterkoei moet sweet. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

______. 1979. Lotus. Emmarentia: Taurus.         [ Links ]

______. 1983. ('YK'). Emmarentia: Taurus.         [ Links ]

______. 1987. Boek (deel 1): dryfpunt. Emmarentia: Taurus.         [ Links ]

______. 1993. nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde. Groenkloof: Hond / Intaka.         [ Links ]

______. 1990. Soos die so. Bramley: Taurus.         [ Links ]

______. 1999. Woordwerk. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

______. 2007. die windvanger. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brink, A. P. 1979. Die poësie van Breyten Breytenbach. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Cloete, T. T. 1982. Die "met ander woorde" in Breytenbach se gedigte. Beeld van waarheid. Kaapstad: Human en Rousseau.         [ Links ]

Coetzee, A. 2003. Ook die stiltes praat: 'n Baken in Afrikaans. Vrye Weekblad, 7 Julie, 42.         [ Links ]

Gouws, T. 1988. Die transskriptuele lees: hiaat, haplografie en transkripsie in die poësie van Breytenbach, Krog en Cloete - 'n logolinguale lesing. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Gouws, T. 1993. Dis 'n triomf vir Afrikaans. Beeld, 7 Junie, 6.         [ Links ]

Strydom, A. D. 1998. 'n Metableties-topologiese lesing van nege landskappe van ons tye bemaak aan 'n beminde van Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Mmabatho: Universiteit van Noordwes.         [ Links ]

Van Zuidam, S. W. 1993. Breyten se bundel grootse toevoeging. Beeld, 6 Desember, 6.         [ Links ]

Viljoen, H. 1995. "Spieël, kamer van spieëls - oor Postmodernisme en representasie." In H. Viljoen (red.). Metodologie en representasie. Pretoria: Die RGN-Uitgewers, 393- 416.         [ Links ]

Viljoen, H. 1998. Breyten Breytenbach (1939-). In H. P. van Coller (red.) Perspektief en profiel. Pretoria: Van Schaik, 274-93.         [ Links ]

 

 

Marthinus Beukes is senior lektor aan die Universiteit van Johannesburg. Sy navorsingsbelangstelling is veral die Afrikaanse poësie met klem op Antjie Krog, T. T. Cloete, Tom Gouws,Johann de Lange en Cas Vos. E-pos: mbeukes@uj.ac.za