SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.46 no.1 Pretoria  2009

 

RESENSIE-ARTIKEL

 

Waarom sou Prinsloo relevant wees vir 'n jonger geslag?

 

 

Neil Cochrane

 

 

Koos Prinsloo verhale

Koos Prinsloo. Kaapstad: Human & Rousseau. 2008. 384 pp. ISBN: 13 978-0-7981-4940-2.

Koos Prinsloo (1957-1994) was weens verskeie redes 'n omstrede figuur wat 'n aantal literêre grense verskuif het. Hy was 'n Afrikaanse kortverhaalskrywer van eerstes - die eerste om die skeidslyn tussen feit en fiksie radikaal te ondermyn, die eerste om etiese kodes rakende privaatheid, vriendskap en kollegialiteit in sy werk te verontagsaam, die eerste om die donker en brutale kant van homoseksuele identiteit oop te vlek, die eerste om in al sy vorme te wys "... hoe hard die liefde tussen mans moet wees", die eerste om raak verbande tussen patriargale mag, politieke geweld en seksualiteit te lê en die eerste om vigs as tema in sy werk te ontgin. Oor hierdie en ander vernuwende aspekte in sy werk is reeds in enkele navorsingstudies berig waarvan die belangrikste seker Riana Scheepers se Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes (1998) is.

Dit is verblydend dat Human & Rousseau besluit het om Prinsloo se vier kortverhaalbundels, Jonkmanskas (1982), Die hemel help ons (1987), Slagplaas (1992) en Weifeling (1993) in een band onder die titel Koos Prinsloo verhale (2008) uit te gee. Hierdie publikasie sluit aan by 'n hernieude belangstelling in Prinsloo se werk soos gesien kan word in die onlangse seminaar oor sy skrywerskap op Litnet en Gerrit Olivier se Aantekeninge by Koos Prinsloo (2008). Laasgenoemde dien as aanvullende bron tot die 41 saamgebundelde kortverhale opgeneem in Koos Prinsloo verhale.

Daar is 'n aantal redes waarom die vars bemoeienis met Prinsloo se werk belangrik is. Eerstens verstewig dit Prinsloo se posisie binne die Afrikaanse literêre kanon, tweedens kan dit jonger navorsers aanspoor tot verdere navorsing oor sy werk en derdens word sy tekste opnuut vir 'n jonger geslag lesers beskikbaar gestel om na waarde te skat.

Die doel met hierdie bespreking is nie om literêr-kritiese kommentaar oor individuele tekste in Koos Prinsloo verhale te lewer nie, maar om 'n bepaalde (en noodwendig subjektiewe) perspektief te bied op die relevansie van Prinsloo se werk vir 'n nuwe en jonger generasie lesers en/of navorsers. Daarom gaan ek grootliks duiwelsadvokaat (hopelik 'n regverdige een) speel en my perspektiewe sal noodwendig hipoteties, selfgeobsedeerd en spekulatief van aard wees, maar eerstens is 'n paar konteksskeppende aantekeninge nodig.

Ek was 'n vyftienjarige hoërskoolseun toe Prinsloo in 1994 weens vigsverwante oorsake oorlede is. Ek het sy verhale eers vier jaar later as negentienjarige eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria ontdek. Vir my het hierdie ontdekking grootliks saamgeval met die erkenning, ontdekking en belewing (hoe absurd en naïef dit ook met tye was) van my eie seksualiteit. Prinsloo, Danie Botha en Johan de Lange se werk het sekere aspekte van die gaybestaan vir my oopgemaak, dit het my insig gegee in die literêre verwerking van die homoseksuele kondisie en vir my as 'n soort verwysingspunt gedien. Dit was bevrydend om hul werk na klastyd te lees en te besef dat dit oukei is om oor gayervarings te skryf, dat dit oukei is om daarmee te identifiseer, maar ook om jouself daarvan te distansieer.

My hoërskooljare (1992-1996) was 'n tyd van ingrypende politieke transformasie in Suid-Afrika - die eerste swart meerderheidsregering het aan bewind gekom, swart kinders het saam met my begin skoolgaan, ek het geen oproepinstruksies in standerd 9 ontvang nie, veldskool en kadette is summier afgeskaf, selfone, e-pos en ander tegnologiese wonders het my wêreld begin oorneem, 'n liberale grondwet ter beskerming van menseregte is aangeneem, gayregte is formeel juridies bekragtig met gevolg dat gays vir die eerste keer uit hul gate gekruip het, ensovoort. Weens sy vroegtydige afsterwe in 1994 het Prinsloo nie een van hierdie dinge meegemaak nie.

Dit is nou veertien jaar later. Dit is die jaar 2008 en ek is 29 jaar oud. Intussen is Prinsloo se Sogenaamde Vriend Die Pop Ster ook oorlede. Die afsterwe van die Skrywer en sy Geskryfdes lei tot noodwendige relativering. Daarbenewens ken lesers en navorsers van om en by my ouderdom die beste en die slegste van beide die ou en nuwe bedeling.

Ons laerskooljare het gestrek van 1985-1991 - hierdie was noodtoestandjare, ons kan onthou van hoe jy onder jou skoolbank moes induik as daar drie kort klokke gelui word, ons onthou plakkate (in elke liewe klaskamer) wat elke denkbare soort bom of landmyn vertoon het, ons onthou hoe geel Casspirs die laerskoolterrein op elkeen van sy vier hoeke bewaak het en ons onthou flou grappies wat ons vir mekaar tydens pouses vertel het, grappies soos: Waarom hou swartes so baie van Matabelapap? Omdat dit verryk is met vitamiene A en C. Baie van ons het ouer broers of nefies gehad wat trots vir jou 'n ratpack van die army gebring het, vir 'n agtjarige seuntjie was só 'n gebaar, 'n heldedaad in die kleine.

Ons as die jongste en laaste tusseningenerasie kan vandag waardering hê vir die grensverskuiwende bydrae wat Prinsloo gelewer het, omdat ons wel iets van die wêrelde begryp wat hy in sy verhale aan ons voorhou, maar dit stel ons ook in staat om meer krities en selfs afstandelik teenoor sy werk te staan, want Prinsloo se kwessies is grootliks nie meer ons kwessies nie. Ons is dié generasie wat swaar dra aan die erfporsie wat die ou ooms uit 'n ander era aan ons bemaak het. Sommige van ons reis na Londen, Doebai, Toronto en godweet waarheen nog op soek na 'n werkie in die son, sommige van ons verlang na Wielie Walie, ander staan op aandag op die maat van "De la Rey", ander bid saam met oom Angus en sy leërskare op Loftus, sommige van ons kruip weg in ons sekuriteitskomplekse, terwyl die aanslae van buite woed en ander wil net uitgelos word om te doen wat hulle moet, om hulle bydrae op dinamiese en innoverende wyse in 'n uiters komplekse en paradoksale Suid-Afrika te maak.

My generasie (ook binne 'n gaykonteks) is vandag meer bevry as wat Prinsloo en sy tydgenote was. Dit is nog meer waar van die generasie na my. Vandag se negentienjarige outjies en meisies (gay en straight) flankeer openlik met hul ontwerpersklere, MP3-spelers en iPods, hulle flankeer in wêreldwye kletskamers en in nagklubs binne die openbare oog. Hulle is seksueel geëmansipeerd, androgeen en wys middelvinger vir dié wat 'n probleem daarmee het. Hulle is moeg om te wroeg, hulle is moeg vir die donker, hulle is moeg vir bagasie. Vandag bestaan daar keuses, anders as in Prinsloo se tyd toe dit grootliks nie die geval was nie.

Die eksperimentele spel tussen feit en fiksie, metatekstualiteit en dokumentêre realisme is aspekte waarvoor Prinsloo bekend is. Binne die konteks van die elektroniese era word die onderskeid tussen feit en fiksie binne virtuele gemeenskappe totaal opgehef, hiperrealisme is die norm, reëls aangaande outeurskap, oorspronklikheid, privaatheid en ander etiese oorwegings word daagliks hersien, anonimiteit word in sy geheel geherdefinieer en hiperteksualiteit is 'n aanvaarbare lees- en skryfstrategie. 'n Jonger skrywer kan vandag van allerlei dinamiese tegnieke en metodes gebruik maak om op 'n ingrypende wyse Prinsloo af te lê en te parodieer as 'n skrywer behorende tot 'n ouer tradisie. Dat dieselfde met hom kon gebeur, is iets waarmee Prinsloo waarskynlik nie rekening gehou het in sy ontmaskering van Hennie Aucamp in "A Portrait of the Artist" nie. Waarom sal 'n jonger generasie skrywers en lesers hoegenaamd nog Prinsloo se werk as voorbeeld van literêre vernuwing gebruik? Waarom sou hul hulself beroep op Prinsloo se eksperimentele ondermyning van die grense tussen feit en fiksie, as hulself daagliks virtuele lewens lééf?

Wat sou jong en ge-ontsensiteerde lesers vandag met 'n verhaal soos"Slagplaas" maak? Sou hulle hoegenaamd geskok wees? Sou hulle hierdie uitlewing van seksualiteit hoegenaamd begryp? Of sou hulle dink: waarom al die selfdestruktiwiteit? Is seks nie veronderstel om fun én safe te wees nie? Hoe sou jong manlike lesers verhale soos "Grensverhaal" en "Die hemel help ons" interpreteer? Die meeste van hulle het nie 'n idee wat woorde soos "burgermageenheid", "oproepinstruksies" en die "Wet op Amptelike Geheime, 1956" beteken nie.

Beteken dit alles dat Prinsloo sy relevansie vir 'n jonger geslag verloor het? Beteken dit dat ek sy bydrae wil ontken? Hoegenaamd nie, dit sou 'n kwade dag wees as dit sou gebeur, maar dit is myns insiens nodig om sy bydrae te herdefinieer. Waarom sou Prinsloo steeds relevant kon wees vir 'n jonger geslag? Prinsloo het op onthutsende en brutaal eerlike wyse die skadukant van menswees ten opsigte van familieverhoudings, seksuele verhoudings en magsverhoudings blootgelê. Die skadukant van die menslike kondisie en magsmisbruik is nie tot 'n bepaalde tyd of plek beperk nie. Al wat verander, is die gesig en nie die essensie daarvan nie. Prinsloo se werk bied belangrike insigte in die sosiopolitiese en literêre landskap van die 1970's en 1980's. Prinsloo is seker een van die belangrike eksponente van literêre vernuwing gedurende die 1980s. Hierdie aspek van sy werk kan jonger lesers belangrike insigte gee in die aard van eksperimentele prosa in Afrikaans veral as dit met voorafgaande en huidige tradisies vergelyk word.

Vir my bly Prinsloo se kompromislose en rebelse aard (betreffende sy persoonlike lewe en skryfwerk) sy uitstaande en blywende bydrae. Sy verhale besit 'n eerlikheid en persoonlike integriteit wat min skrywers hom kan nadoen. Jonger lesers, skrywers en navorsers kan sy werk as aanknopingspunt gebruik om vir 'n slag uit hul virtuele gemaksones geruk te word.

 

 

Neil Cochrane is verbonde aan die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid, Universiteit van Pretoria, Pretoria. E-pos: nielcoc@mweb.co.za

 


 

Nag op 'n kaal plein

Dolf van Niekerk. 2006. Kaapstad: Human & Rousseau. 32 pp. ISBN: 978-0-7981-4713-2.

Vir die meeste lesers is Dolf van Niekerk waarskynlik as prosaskrywer bekend: studente van die Afrikaanse letterkunde verbind hom heel moontlik met die novelle Die son struikel (1961), terwyl skoolkinders dalk eerder vertroud is met Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Van Niekerk is egter ook die skrywer van drie digbundels: Karoosange (1975), Dubbelster (1996) en Nag op 'n kaal plein (2006). Laasgenoemde bundel is 'n poëtiese verwerking van die skrywer se jeugjare op Edenburg in die Vrystaat en het ontstaan toe die skrywer na baie jare weer sy tuisdorp besoek het. Oor sy inspirasie vir die bundel sê Van Niekerk self: "[D]aardie nag toe ek op die kaal plein onder die maan staan, begin dit rondom my lewe, is dit asof almal wat lankal dood en weg is, na my toe terugkom". Nag op 'n kaal plein is inderdaad 'n woordgalery van gestorwenes én sterwendes: bekommerde boere, bedroefde geliefdes; 'n kleremaker, winkelier, skoolmeester, orrelis, kunstenaar, predikant en skrywer. Anders as die outobiografiese vertellings in Die aarde waarop ek loop (2003), het die meeste van dié "portrette" hulle egter in digvorm aan Van Niekerk opgedwing.

Nag op 'n kaal plein bestaan uit 26 genommerde verse wat tot só 'n mate tematies by mekaar aansluit en met mekaar oorvleuel, dat hulle ook aaneenlopend gelees kan word as 'n enkele gedig met 26 ongeveer ewe lang afdelings. Die "(k)aal plein onder die maan" van die eerste gedig word byvoorbeeld in gedig 2 'n plein wat "wemel van kinders". In gedig 4 soek die vrou in die lang wit rok - "is dit haar trourok of haar doodsgewaad?" - juis "tussen dié malende kinders rond". Die verdriet van die 'blommevrou' wat nie weet waar "haar byna-man se beendere lê" nie en tot aan "die einde [...] Marlene Dietrich se blommelied" hoor (gedig 5), vind 'n weerklank in dodemars wat die orrelis vir haar gestorwe beminde in gedig 6 speel. Gedig 11 eindig met "[...] Maar sy plek / is leeg en sy vrou is leeg en uiteindelik / is almal se skoene uitgetrek". By wyse van 'n semanties vernuftige variasie begin gedig 12 met: "Voor 'n voet 'n nuwe spoor kan laat...". In gedig 13 sowel as in gedig 14 word 'n hunkering na die ontwykende (ge)liefde eers uit 'n vroulike en dan uit 'n manlike perspektief verwoord. Die predikant ["die groot voël uit die pastorie"] wat in gedig 23 met 'n uil in verband gebring word, se gebed word in gedig 24 verbatim weergegee. In gedig 25 word die versugting uitgespreek dat woorde "liggaam kry" en die digter "[...] van alle dwang / en wil tot skryf bevry", terwyl "hierdie woorde" in gedig 26 (die slotgedig) juis die "vlerke" (dus die liggaam) van die spreker se gedagtes en gees word.

Die bundel is gestruktureer rondom 'n aantal binêre opposisies wat in 'n toestand van spanning eerder as konfrontasie met mekaar verkeer, byvoorbeeld donker - lig; dag - nag; oud - jonk; lewe - dood; teenwoordigheid - afwesigheid. Vanweë hierdie bifokale visie is die meeste verse gestroop van die hinderlike patos en sentimentaliteit wat poëtiese memoirs soos dié dikwels kortwiek. Meeste verse is vloeiend en word oorheers deur 'n elegiese inslag. Verlies, onopgeloste verdriet, verganklikheid, liggaamlike agteruitgang, ontnugtering en eensaamheid staan voorop. Cloete (2006: 17) noem dit tereg "verganklikheidsverse" aan die hand waarvan daar teruggekyk word "in die gestolde wêreld van 'n jeug" (5) met die doel om juis aan die hand van dié jeugervarings weer vooruit te kyk na die naderende dood. Só buig die kinderlyfies wat op die plein bondeltjie maak "soos skape in 'n reën" grafwaarts [...] / na die rus van onskuld en vergetelheid" (gedig 2) (my kursivering); die draers van die kleremaker se klere (gedig 3) is nie meer net "ouderlinge en diakens, / fyn vroue en boere, soldate en menere" nie, maar almal wat "wag om geklee te word vir die nag wat kom" (7); die soekende vrou in gedig 4 se trourok word 'n "doodsgewaad" (8); die skoenmaker wat in gedig 11 sy ysterlees, hamers, vingerhoed en houtvoete soek, besef opeens met 'n skok: "[...] sy plek / is leeg en sy vrou is leeg en uiteindelik / is almal se skoene uitgeskop" (15); terwyl die minnaars in gedig 16 se hande en arms uiteindelik stil raak, "weerloos teen die weerloosheid" (20) Die bundel is dus beide 'n bestekopname van 'n lewe en 'n voorbereiding op die einde; 'n afskeid waarin die grens tussen lewe en dood toenemend wasig raak:

 

26

[...] ek het nie vergeet;
ek twis nog met die skielikheid,
die stompheid van jou gaan - die afwesigheid
wat groet en woorde half verbied [...] (30)

Die skielike en onbevredigende afskeid wat die spreker van sy geliefde moet neem, word geëggo deur talle skimmige gestaltes wat ook worstel om afskeid te neem of om hulle by die dood van dierbares te berus: 'n ongehude moeder wat vrugteloos tussen die kinders na haar seuntjie soek; die blommevrou wat "verniet soos elke dag / met blomme in haar hand" op haar byna-man se tuiskoms wag; die orrelis se dodemars vir haar beminde; die man wat by sy vrou se graf vra "wat hy moet maak / met hul dogter wat ryp en elke maand / al rusteloser in haar klere raak"; en die vrou wat op haar wittebrood haar man in 'n treinongeluk verloor:

 

21

[...] Dit was nog wittebrood, God -
op watter van die duisend plekke
kan ek dié blom vir hom neerlê, waar kan ek rou?
Of moet ek al die sewejaartjies eenmaal
hier kom strooi dat ek net elke sewe jaar
sal sterf soos nou? (25)

Dié bewustheid van die mens se nietigheid in die aangesig van die dood, blyk ook duidelik uit talle gedigte waarin daar besin word oor die ligaamlike broos- en uitgelewerdheid van die mens. In gedig 3 word die kleremaker byvoorbeeld 'n slagoffer van sy lewenstaak:

[...]
Want kryt verpoeier mettertyd
en saam met lapstof pak dit in die borskas saam;
die longe droog langsaam uit,
die lyf teer op homself
en as die laaste lugsel verhard,
die asem vlak in die lugpyp lê,
gee die brein 'n teken vir die hart. (7)

In gedig 10 spreek 'n terminaal verswakte boer die versugting uit om nog een jaar lank die skeiding van seisoene en die oorgange in die natuur te bestudeer, want

[...]
as hy dié oomblikke soos skape
in 'n kraal kan jaag - elke antwoord
soos sy skape ken - sal hy dalk verstaan
hoe die groeisel in sy ingewande vreet,
sy lyf so kwaad kon word
dat hy hom teen homself kon keer
en die lewe stelselmatig sel vir sel verteer. (14)

En in gedig 18 hardloop 'n ontstelde seun kaalvoet deur die klipperige stofstrate, weg van sy ouerhuis

[...] waar sy babasuster
stil en gloeiend in haar koorsbed lê -
tot sy voete die ritme van sy gedagtes vind:
[...] "Jesus min my,
praat tog met die dokter, God;
Jesus min my salig lot." (22)

Die oorheersende gedagte is dikwels dié van eensaamheid. Die insig van die boerseun wat in gedig 20 na sy pa se beeste soek - "[...] daar is nie raaisel / of begin of einde nie maar alles loop aaneen / en in die die lewe en die dood / is elkeen uiteindelik alleen" (24) (my kursivering) - dien as inspirasie vir van die mooiste gedigte (en hier verraai ek my persoonlike voorkeur) in die bundel, soos byvoorbeeld die gedig waarin 'n jong wewenaar die graf van sy vrou besoek vir raad met hul onrustige tienerdogter:

 

9

[...] Met sy hoed
in die hand vra hy wat hy moet maak
met hul dogter wat ryp en elke maand
al rusteloser in haar klere raak;
soek antwoorde in die vyelaan
langs die watervoor en tussen sy skaap
in die gannavlei waar hy en sy
tien jaar lank gelê en bid het
om 'n kind te kry. (13)

Dan is daar ook die vers waarin 'n bejaarde vrou haar werf, haar "strokie sand", met besem en hark en vee voordat sy haar huis binnegaan:

 

12

[...]
Sy sluit haar deur, kom tuis in die
skemerstilte wat nooit deur kind of kraai
verbreek is nie; omring van haar geskiedenis
en die jare van haar tyd
wat sy met hekelnaald en gare
in stringetjies en ogies vang
tot patrone van genoegsaamheid. (16)

In 'n sekere sin is dit ook wat Dolf van Niekerk in dié bundel doen: hy temper die verlies, verdriet en verganklikheid deur dit in (woord)stringetjies en ogies te vang "tot patrone van genoegsaamheid".

In Nag op 'n kaal plein word daar nie net teruggedink aan die verlede en vooruitgedink aan die dood nie, daar word ook indringend nagedink oor die aard en rol van die geheue. Die (bejaarde/ouerwordende) ekspreker - vergelyk veral gedig 2 en 26 - wend verskeie pogings aan om die wêreld van sy jeug in die geheue, maar ook in tyd en in taal, vas te vang. Aan die een kant is dit byna asof hy suggereer dat die verlede in die tyd gestol is en gevolglik letterlik iewers bestaan - 'n wêreld wat nie uitgelewer is aan die verbygaan van tyd nie, daarom dat "selfs verganklikheid vergaan" (5). Tog laat hy blyk dat toegang tot hierdie jeugwêreld problematies is:

 

1

[...] bleek lig skyn by skrefies in,
dit lewe 'n oomblik en sak
in die duister terug. Donker is al lig
in dié gestolde wêreld van 'n jeug [...] (5)

 

2

[...] hy gly
deur al die krake van die nag
maar keer met leë hande terug [...] (6)

Aan die ander kant is hy hom pynlik daarvan bewus dat "dié gestolde wêreld van 'n jeug" slegs in die geheue bestaan. Dat dit herinneringe aan verbygegane dinge is: "Die plein wemel van kinders, / almal is grys, deursigtig tot in / hul verlede..." (6); "daar is niks wat pas vir skouer en heup en been / van lywe wat maar skimme was" (7) en "Ou orrelklanke syfer uit die kerkgebou, / rookgeskrewe tekens van psalms en gesange / wat verstrengel raak met die stof / van herinneringe" (10) (my kursivering).

Enersyds is daar dus die poging om iets van die verlede te verewig: "Hy wou vir oulaas weer probeer / om die oomblik vas te vang:" (14). Andersyds die bewustheid dat niks vasgevang of verewig kan word nie, maar dat die tyd onverbiddelik en onomkeerbaar verbygaan. Dat alles uiteindelik maar "stof" (en dan boonop die "stof van herinneringe") is:

 

1

[...] Die nag is stof,
die vlerkklap van vlermuise
jaag dit op, die maan word goud
in 'n werwelwind; die stof sif
neer in die vorm van gestorwenes. (5)

Tog het die digter-spreker slegs taal om gestalte te gee aan die wêreld van sy jeug en aan die figure wat hierdie wêreld bewoon het. Maar taal is onvolledig en ontoereikend, omdat dit ervarings wat buite taal lê, in woorde (dus in taal) probeer vasvat. In gedig 15 wil die kunstenaar 'n spesifieke vrou se wese in houtskool vaslê, maar wonder huiwerend:

Hoe vang hy die inhoud van haar oë vas,
die lyne van haar mond wat
opwaarts in die hoeke vou?
Want tussen kyk en woord
sal hy haar wese vind, lê die waarheid
van haar siel [...]" (19) (my kursivering)

Van Niekerk is duidelik bewus van die onmag van taal om "die [...] wêreld van 'n jeug" op papier te laat stol. Op bedrewe wyse maak hy juis van dié onvermoë treffende poësie:

 

25

Hy weet nie meer hoe lank die vel papier so blanko voor hom lê; die woorde in sy kop kry nie vorm nie en die brein se boodskap aan sy hand bly uit.

[...]
Hy draai die bladsy om -
los woorde gly op die tafelblad;
hy keer hulle aan, rangskik lukraak
maar als bly sinloos; hy vervloek die onmag
van sy verbeelding en verstand:
waar moet hy soek na die gestalte
van sy liefde, die omtrek van sy smart;
waarmee teken hy sy soeke na God,
sy vrees vir die nag van niks? [...] (29)

Die bekoring van Nag op 'n kaal plein is veral geleë in die bedrieglike eenvoud van die taal en beelding in dié kort bundel. As aangrypende besinning oor "die misterie van die lewe / en die wonder van die dood", verteenwoordig dit 'n hoogtepunt in Van Niekerk se oeuvre.

Thys Human
Universiteit van Johannesburg,
Johannesburg

 


 

Geskrifte van 'n vermiste digter

Henk Rall. Pretoria: Protea Boekhuis. 2008. 156 pp. ISBN: 978-1-86919-187-0.

Henk Rall, een van die minder bekende Sestigers, het tussen 1966 en 1982 vyf digbundels die lig laat sien. Met sy kortverhale, waaronder die meermaals gebloemleeste "Omba muungu", het hy groter bekendheid verwerf. Twee romans uit sy pen het ook al verskyn.

Rall het 'n gebeurtenisryke lewe gelei as jagter, reisiger en mediese navorser, sodat hy lang tye buite Suid-Afrika woonagtig was. Anders as in sy vorige bundels vind relatief min hiervan neerslag in Geskrifte van 'n vermiste digter (voortaan tot Geskrifte afgekort). Met hierdie bundel keer hy, na 'n digterlike swye van 'n kwarteeu, as 't ware eerder terug na die kontrei van sy vorming as mens, naamlik die Noord-Kaap.

Dit gebeur veral in die openingsafdeling, "Onthou", en in die vierde afdeling, waarvan "Uitsê" die titel is en waarin veral sosiaal-polities betrokke en religieuse verse voorkom. In laasgenoemde afdeling klink (fasette van) Noordwestelike Afrikaans, ook al breedweg as Oranjerivier-Afrikans bestempel, meer opvallend op, sodat die outentiekheid en intimiteit van die segging vergroot word.

'n Kennelike liefde vir die bepaalde kontrei, sy gestroopte aard, sy menstipes en hul kenmerkende tongval, is iets wat Rall deel met onder meer die Van Wyk Louw van Nuwe verse, met S. J. Pretorius en Boerneef, en uit meer onlangse tye met Donald Riekert en George Weideman - selfs ook met Hans du Plessis, Thomas Deacon en Euodia Engels, hoewel hy nie laasgenoemde drie se ver gevoerde nabootsings van Griekwa-Afrikaans benut nie. 'n Gedig soos "Skawagters" herinner voorts aan D. J. Opperman se gewilde "Kersliedjie".

Daar is ook nog afdelings waarin oor kuns, die kreatiewe proses en digterskap besin word (afdeling 2, "Skep"), waarin die liefde en die erotiek as temas oorheers (afdeling 3, "Liefhê") en, ten slotte, waarin gekyk word "'op 'n leeftyd en die doderyk' en na geloof teen die agtergrond van wetenskaplike kennis" (soos in die uitgewersbrief oor die afdeling "Besin" verduidelik word).

'n Ekologiese bewustheid, asook 'n nietigheidsbesef wat in sowel kosmiese en ewolusionistiese as religieuse terme beleef word, val voorts op in die slotafdeling:

Meteoriet

Onder 'n kranslip
in 'n dro' pan se kring,
tussen klip
en brosdoring;

op 'n plek
waar stiltes dúúr
en 'n sonvlek
die middaguur

besit; in fel,
geskokte lig
het eens hel
uit die lug

geval (vuur-
van-klip gebrand
met suur-
stof) ín glasige sand

in - waar na miljarde
eeue iemand
in sy later jare
self met vure brand.

Verreweg die opvallendste faset van Geskrifte is egter die vormgewing van die gedigte, soos al uit die aangehaalde vers behoort te blyk. Anders as wat meestal die geval was in Rall se vorige bundels, is dit naamlik vaste(r) vorme, soos die sonnet en gedigte in paarrymende distigons en in (veral kruisrymende) kwatryne, wat oorheers.

In verse oor die karige omgewing van die droë Noordweste dra sulke vaste vorme by om die strakheid van daardie wêreld te suggereer - en word die suggestie nog sterker gemaak deurdat die versreëllengtes meestal kort gehou word en deurdat die strofes selde die kwatrynlengte oorskry, soos in die gedig hierbo. Soms verswyg die digter ook nog die "ek" as subjek van die sin om die indruk van onpersoonlike gestrooptheid te versterk. Vergelyk in hierdie verband die volgende gedig:

Verbeelding

Op 'n middag
op my rug

die lug
besigtig

waar beelde
en figure

soos in 'n droom
verbystroom

in 'n stoet
magiese speelgoed

met bokant
alles in die cirrus

'n aartsengel se
veerwolkvlerke.

Waar die (Noordwestelike) spreektaal opvallend gemaak word, of woordspel op die voorgrond tree, bereik dit in samehang met die vormvastheid meermale 'n speelse en vernuftige kwaliteit wat aantreklik is. Gedigte soos "Coq au vin" en "Noag" is voorbeelde hiervan.

In die meeste gedigte in Geskrifte skep Rall egter 'n haglike tipografiese spanning deur die opmerklike wyses waarop hy enersyds eindrympatrone handhaaf (selfs, soos hierbo gesien kan word, deur woordsamestellings te ontheg), andersyds juis daardie patrone laat vervaag deur half- of swakryme (waar byvoorbeeld beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe rym) te benut. Dié spanning is ook sterk voelbaar in die wyse waarop sekere vastighede van byvoorbeeld die Italiaanse sonnet volgehou, maar ander klassieke kenmerke van dié vorm, byvoorbeeld metriese en versboureëlmatighede, in die wind geslaan word.

Soms is daar 'n goeie saak uit te maak dat derglike tipografiese spanningskepping funksioneel is (byvoorbeeld as medesuggestief van die "stil, verhewe lig" wat terselfdertyd "vervlietend sypel" in "Monet"; of van die "steierende stoei" en "heup-ontwrigte worsteling" in "Gauguin"; of van die "skoongewerkte marmer" na die "droom se end" toe in "Camille Claudel"). In te veel gevalle lyk dit egter na rym ter wille van die rym en na vorm ter wille van die vorm. Rym- en vormdwang dus.

Na my mening werk die vorm(oor)bewustheid dikwels stremmend in met betrekking tot die emosionele en hartstogtelike meegesleurdheid waarvan getuig word in die gedigte van die afdeling "Liefhê". Die vormdwang vererger ook die effense komieklikheid van sekere beelde en uitdrukkings in liefdesverse soos "Liedesroos", "Portret" ("hoe mooi / jou intrige-in-rooi"), "Sirkusperd" ("om my oorstelpte hart / jou liefdesles te leer van ry-my-hard") "Misére" en "Somerster".

Daar is trouens so 'n opvallende neiging na half- en swakeindryme in baie van die gedigte dat 'n mens wonder waarom die digter dan die versbou (soms ook die sinsbou) op daardie en ander plekke wil "dwing" om tog die rympatroon te gehoorsaam.

Tog, in 'n gedig soos "Hemingway" dra die spanning tussen rymdwang en rymstruikeling weer substansieel by om die Amerikaanse skrywer se berugte "geswaaidheid" te suggereer!

In Havana
se Floridita

het Hemingway,
al goed geswaai,

verontwaardig gesê
hy kén geleerde

woorde
wat vir letterkunde

nie geskik
is, of onvoorwaardelik

prosa sou laat
leef in die maat

waartoe syne
sou nie, wat met klein

woorde gemaak is -
en toe daiquiri's

vir almal
bestel.

'n Keer of wat wou die vooropgeplaaste tipografiese spel, wat in die frekwente benutting van woordafkappings aan ortografiese eksperimentering grens, my verlangs aan die Amerikaner e.e. cummings se werk herinner. Ek bemerk egter nie in Geskrifte tekens van 'n soortgelyke radikale uitdaging van die verskunstradisie op stilistiese en vormlike vlak soos by cummings nie. Trouens, die indruk wat ek oorhou, is eerder van 'n ietwat angsvallige en dikwels onhandige poging om aansluiting daarby te soek - om die "fragile woven gold" te vind waarvan die titel van die bandskildery (uit die hand van Lynette ten Krooden) gewag maak. Of sou 'n mens by wat Rall doen moet dink aan minimalistiese verskuns? Daarvoor kom die minimalistiese tekens egter te toevallig en inkonsekwent voor, en getuig die beeldspraak in Geskrifte byvoorbeeld nie van die geometriese vormbewustheid van die minimaliste nie.

Op die keper beskou is Rall se sesde digbundel, hoewel nie sonder mankemente nie, 'n nogal boeiende een. Die mooi bandontwerp getuig van die geneentheid jeens dié lank "vermiste" digter by die uitgewer - 'n geneentheid wat ook spreek uit die ongewoonheid dat twee gedigte deur die uitgewer self die bundel open en sluit. 'n Mens het waardering vir die wyse waarop 'n minder bekende veteraan van die Afrikaanse digkuns op hierdie wyse gehuldig én sy oeuvre versterk word.

Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat,
Bloemfontein

 


 

Ander lewens. 'n Roman in drie dele

André P. Brink. 2007. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau. 264 pp. ISBN: 978-0-7981-4958-9.

André P. Brink se nuwe roman, Ander Lewens: 'n Roman in drie dele, kan met die eerste lees by die leser die gevoel laat van een lang cliché: 'n herhaling van sy vorige verhale, karakters, temas, eksplisiete seks, begeertes, politieke verset en die belangrikheid van stories. By die tweede lees begin 'n mens anders reageer.

Die verhaalgegewe in die drie verhale of novelles sluit al drie aan by ander, parallelle wêrelde, selfs onwaarskynlike droomwêrelde wat naas 'n werklikheid in die teks geplaas word sodat karakters kan voel hulle is in "'n ander, alternatiewe dimensie, waar jy nooit weer by jou vertroude wêreld kan uitkom nie" (193). Die drie mansvertellers is al drie kunstenaars: skilder, argitek en pianis. David, in die eerste teks: "Die blou deur", ervaar die onwerklike, alternatiewe nuwe bestaan saam met 'n vreemde vrou (Sarah), 'n bruin vrou, en twee kinders agter die blou deur teenoor die werklikheid van sy "vroeëre" bestaan met Embeth, ook 'n bruin vrou met wie hy nie kans gesien het om te trou nie, en Lydia. Hy kan egter die woonstel waarin hy en Lydia woon nie weer vind nie en niemand anders weet skynbaar van die bestaan daarvan nie. Daar is, terloops, interessante ooreenkomste tussen hierdie woonstel 1313 (79), die verteller en woonstel 13A en 13B in Brink se kortverhaal "Dertien". Hy moet aan die einde terugkeer na 'n bestaan in die "nuwe" huis agter die blou deur, wat teen die einde van die verhaal geel geverf is. Binne is egter wel 'n hele versameling foto's wat onder andere persone uit sy verlede en hede uitstal. Asof in 'n droom het hy sy werklikhied verloor en asof in 'n droom moet hy soos 'n vreemdeling 'n nuwe werklikheid binnestap.

In die tweede verhaal, "Spieël", moet Steve, die argitek, een oggend in die spieël ontdek dat hy skielik swart is. Behalwe vir sy eie ontsteltenis word die ervaring verder vervreemdend omdat slegs buitestanders soos die bergies en die au pair, Silke, hom as swart beleef, terwyl sy eie gesin en kollegas niks vreemds aan hom opmerk nie. Teenoor die melancholiese stemming van 'n verlore wêreld in die eerste verhaal, is hierdie teks egter besonder driftig en aggressief in die beskrywing en uitbeelding van die karakter se woede en frustrasie. Dit word verwoord teenoor sy kollegas, die bergies en ook op sy uiterste in die sekstoneel met Silke. Soos die eerste verhaal word hierdie man ook 'n vreemdeling vir homself, maar hy staan spesifiek uitgesonder as die Ander vir albei groepe in die restaurant tydens die rooftoneel. Die werklikheid wat hom aan die einde konfronteer is dié van 'n gebreekte spieël (identiteit?): "Ek dink daar lê vir ons 'n paar jaar van teëspoed voor."

Die derde verhaal, "Appasionata", het Derek, die pianis as verteller. Soos by die ander twee mans het ook hy die begeerte na meer as een seksuele ervaring, maar dié keer loop hy hom vas in 'n medekunstenaar, die wêreldberoemde sangeres Nina Rousseau, wat nie op daardie gebied met haar begeleier wil saamspeel nie. Die verhaal met onheilspellende vooruitwysings na geweld, moord en spoke stuur onvermydelik af op 'n tragiese en dramatiese einde in 'n ou familiehuis naby Tulbagh.

Hierdie drieledige roman vra egter 'n noukeuriger lees, soos om die komplementering van die een verhaal deur die ander na te gaan, mét die herhaling van clichés want die geheim is "om al die regte clichés te leer gebruik" en die índruk van 'n goeie drama wat sleg opgevoer is te skep of 'n film wat oor en oor speel, maar nie 'n goeie film is nie (93, 117, 175). Dit is alles deel van 'n teks wat inspeel op homself, soos Opperman se "blik op blik op blik": 'n mise en abyme met 'n verskeidenheid spieëlbeelde en -verwysings wat skynbaar geen eindpunt het of wil hê nie. Maar dan moet die leser al die belangrike verwysings opvolg, anders kan jy "'n baie wesenlike leidraad kwyt wees" (152).

Die ek-vertellers, die drie mans as skilder, argitek en pianis (en ook die vroue as kunstenaars in eie reg), verteenwoordig nie slegs die wêreld van die kuns nie, maar ook die mens se soeke na identiteit. In hierdie soektog is die oorwinning van meer as begeerlike vrouens op die oog af vir die mans-vertellers baie belangrik, maar die seksuele vervulling word ook 'n onvoltooide soektog wat soms na desillusie en selfs die dood lei. Lesers sou self kon nagaan hoe hierdie gegewe aansluit by Calvino se metatekstuele roman: If on a Winter's Night a Traveler, en Brink se bespreking daarvan as uitbreiding oor die posisie en stryd van manlike en vroulike lesers van tekste in The Novel. Daar is genoeg intertekstuele en metatekstuele verwysings in hierdie roman om so 'n ondersoek te regverdig.

Die tema van die interpretasie van 'n teks en tekste word myns insiens die duidelikste aangedui in die eerste verhaal se verwysing na die fotogalery (67-71) waar hy elke keer wanneer hy die gallery besoek ander foto's tussen die bekendes raaksien, ander detail daarin opmerk en sekere foto's vermis, waar baie van hierdie foto's meer as een kant van 'n komposisie beklemtoon en tog 'n eenheid skep.

Die vraag na identiteit is veral in die eerste twee verhale opvallend: David wat oënskynlik sy lewe met 'n vreemde vrou en kinders moet voortsit en Steve wat sy lewe as swart man moet herontdek en -interpreteer.

Sentraal in die roman is die spieël en spieëlbeelde en daarmee gepaardgaande die parallelle gebeure, karakters en tematiese verwysings wat in al drie verhale voorkom. So word 'n netwerk van interne intertekstuele verwysings geskep, wat mekaar vooruit en retrospektief weerspieël. Die vervaging van grense tussen werklikheid en droom, groeperinge in die samelewing, ruimtes en gebeure lei tot 'n kringloop van onvoltooidheid, die een deur wat na die ander lei, 'n doolhof-ervaring by die fokalisators en soms ook die leser. Die onderlinge skakels tussen die drie verhale maak interessante leesstof, maar kan ook lei tot 'n herinterpretasie van die teks en intrige. 'n Herbesinnning oor die verband tussen fiksie en werklikheid word geïmpliseer en die teks ondermyn voortdurend tradisionele sieninge oor die roman met 'n veelvoud van strategieë om 'n roman as "tromp-l'oeil" (113) en mise en abyme te skep.

Ander Lewens is 'n Brink-roman wat vlot lees met kenmerkende hebbelikhede soos enumerasies en parentetiese afwykings, maar ook humor. Die roman ewenaar beslis nie stilisties die gehalte van vorige romans soos Bidsprinkaan en Duiwelskloof nie. Die losser styl en stereotipiese Brink-karakters dra by tot die aanvanklike reaksie van 'n teks vol ou kennisse, maar daar is tog genoeg om oor te wonder en in te delf vir die nuuskierige leser.

Johan Anker
Kaapse Skiereiland Universiteit vir
Tegnologie, Wellington

 


 

Jasmyn

Pieter Fourie. 2008. Pretoria: Protea Boekhuis. 67 pp. ISBN 978-1-86919-260-0.

Pieter Fourie, wat onder andere met die Hertzogprys vir Drama in 2003 bekroon is, se jongste gepubliseerde drama Jasmyn (2008) sit 'n opvallende tema in dié oeuvre voort, maar herskryf dit ook. Dit is die voorstelling van vroue wat in lewensituasies verkeer waarin hulle teenoor 'n patriarg of 'n vorm van patriargale magsuitoefening te staan kom. Waarskynlik die bekendste voorbeelde van hierdie magsverhouding is Fourie se voorstelling van 'n epileptiese Anna in Ek, Anna van Wyk (1986), of Anna Cronjé in Die koggelaar (1988). Anna van Wyk word deur haar skoonvader, Senior, die kerk en die gemeenskap tot ongewensde huweliksmaat en "teeldier" gereduseer, met die gevolg dat haar plek deur 'n "geskikte" plaasvervanger ingeneem word. Anna Cronjé moet vir haar man, Boet, 'n nageslag verseker en daarom word sy in die veld gelaat sodat haar liggaam die geskikte temperatuur kan bereik om Boet se wens waar te maak.

Dat die hoofkarakter, Beulah, in Jasmyn (2008) nie by dieselfde magsverhoudings as sommige vrouekarakters in Fourie se vroeëre dramas betrokke is nie, word gou uit die handelingsverloop duidelik. Anders as in die geval van die twee Anna's is Beulah aanvanklik vol selfvertroue en handhaaf, selfs domineer, sy haarself teenoor haar een-en-sewentigjarige persoonlike stilis, Dennis. Dit geld ook van haar nuwe persoonlike assistent, Jerome, wie se posbetiteling Dennis "wyslik interpreteer as chauffeur, gourmet chef, lyfkneg en katelknaap" (8). Selfs baron Carlos, 'n vorige minnaar, word in die vorm van 'n skildery tot stomme voyeur gereduseer, al erf sy van hom veertig miljoen rand.

Beulah se voorstelling sluit by voorstellings aan van karakters in Fourie se dramas wat breedweg na 2000 gepubliseer is. 'n Voorbeeld is Koggelmanderman (2003), waarin 'n twee-en-sestigjarige boer met 'n uitgetrede ballerina trou wat op die buurplaas kom boer het. Die stuk begin met 'n konfrontasie tussen boer en koggelmander, maar dit word, soos in Jasmyn, gou duidelik dat die koggelmander die boer se libido in 'n verhulde, seksuele sin verteenwoordig (Van Rensburg 2003: 11). Daarenteen is daar in Jasmyn eksplisiet van libido in 'n seksuele betekenis sprake. Waar die klem in Koggelmanderman op die manlike ervaring van libido val, val die klem in Jasmyn op die vroulike ervaring daarvan, soos wat dit onder andere uit die vroulike register in die dialoog blyk. Vergelyk byvoorbeeld Beulah se kritiek op Jerome se "slap boudjies en daai linkerhangskouertjie" (10), of die slotgedeelte van die eerste bedryf waarin sy hom doelbewus verlei (28-41). Hierdie verleiding is haar nakoming van die baron se voorwaarde wat haar in staat stel om haar erflating te ontvang. Haar triomfantelike uitroep aan die einde van die bedryf, "Eureka!" (41), is 'n aanduiding dat sy aan die voorwaarde voldoen het.

Sy is egter soos die boer, Karel, in Koggelmanderman, 'n "has been", "'n vervalle ou skoonheidsikoon" (vergelyk die flapteks), en baron Carlos se erflating is slegs die motoriese moment wat tot hierdie gevolgtrekking lei. Sy ontvang die geld op voorwaarde dat sy 'n minnaar werf wat minstens twintig jaar jonger as sy is en dat sy 'n verjongingsprogram voltooi wat plastiese chirurgie, sielkundige berading, hormoonbehandeling en identiteitsmanipulasie, of die skep van ikoonstatus, insluit. Die skep van ikoonstatus moes saamhang met die internasionale vrystelling van 'n skoonheidseep wat na haar vernoem sou word, naamlik Beulah Jasmine.

Beulah se insig in haar has been-status en haar situasie breek slegs momenteel in die slot deur in haar erkenning teenoor Dennis dat sy al vir drie maande lank blomme aan haarself stuur asof dit van beroemde glansmense kom. Dit lei Dennis daartoe om op te merk: "Tyd is 'n bloedhond. Altyd op jou spoor. Niemand ontsnap hom nie." (63) Omdat sy die produk van identiteitsmanipulasie is, met ander woorde soos die jasmynblommetjie van diamante, sonder enige geur (6667), wat sy in die slot wil laat maak, kan sy, soos Lorca se karakter, Yerma, nie uit haar tragiese, geïsoleerde lewensituasie ontsnap nie. Daar word onder andere op die slotbladsy na Lorca as interteks verwys.

Die dramateks se motto vang iets van hierdie tragiese eensaamheid vas. Dié woorde kom uit die tweede deel ("Putting It Together") van F. Scott Fitzgerald se opstelreeks getitel The Crack-Up wat in Maart 1936 in die Amerikaanse tydskrif Esquire verskyn het (Fitzgerald 2008). Soos in die geval van Lorca se karakter, val die ooreenkomste tussen Fitzgerald en Fourie se karakter Beulah op. Die motto lui soos volg - die gedeelte wat in die gepubliseerde teks opgeneem is, word met behulp van skuinsdruk aangedui:

But at three o'clock in the morning, a forgotten package has the same tragic importance as a death sentence, and the cure doesn't work - and in a real dark night of the soul it is always three o'clock in the morning, day after day. At that hour the tendency is to refuse to face things as long as possible by retiring into an infantile dream - but one is continually startled out of this by various contacts with the world. One meets these occasions as quickly and carelessly as possible and retires once more back into the dream, hoping that things will adjust themselves by some great material or spiritual bonanza.

Beulah droom van ewige skoonheid; tewens, sy dink sy verteenwóórdig skoonheid. Haar medespelers (Matrone en Dennis) wys haar op die onmoontlikheid van haar droom, maar haar hubris is so groot dat sy geen teenstand duld nie. Aan Matrone sê sy: "Jammer? Kyk na my. Sien jy iets wat jou jammer laat voel? Kyk na my!" (67)

Juis die wyse waarop die klem in die handeling op skoonheid en die kyk-of sien-motief val, kan as 'n vorm van kommentaar op skoonheid en roem of as metateoretiese kommentaar op die aard van die teks beskou word. Die "persone" wat aan Beulah blomme "stuur", bestaan in haar herinneringe en was dus verganklik - 'n ironiese verganklikheid, want sy probeer hulle tot lewe roep deur die blomme aan haarself te stuur asof dit van hulle af kom (63). Ook die gebruik van maskers in die teks (onder andere van Nefertiti) staan in diens van twee werklikhede: om die ou, vyf-en-sestigjarige Beulah se gesig voor en onmiddellik na haar operasie te versteek en, soos die voorstelling van 'n handeling op 'n verhoog, die skoonheid van die toekomstige Beulah in die vooruitsig te stel. Ook die verdubbeling van karaktername (Jerome/ Danie, Beulah/Jasmine) dra tot 'n metateoretiese interpretasie van twee werklikhede in teks en opvoering by.

So beskou, sluit Pieter Fourie se voorstelling van Beulah werklikheid en voorstelling, belewenis en droom, in alles gegarneer met die waarskynlikheid van momentele selfinsig by die hoofkarakter wanneer sy erken dat sy die blomme aan haarself gestuur het. Daardeur skep sy self die tragedie van 'n lewe van skoonheid, maar 'n lewe wat soos 'n jasmynblommetjie van diamant ewig, hard en reukloos is.

Johan Coetser
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria

 

Verwysings

Fitzgerald, F. Scott. 2008 [1936]. "Putting it together", tweede deel van The Crack-Up. Esquire, Maart. Aanlyn: <http://www.esquire.com/features/the-crack-up-2>. Toegang 11 Oktober 2008.

Van Rensburg, Cas. 2003. Drama koggel Akademie: 'Koggelmanderman' bevestig prysdilemma. Burger, 29 September:11.

 


 

Byna liefde

Izak de Vries. 2008. Kaapstad: Tafelberg. 285 pp. ISBN: 978-0-624-04684-4.

Soos die titel van hierdie bundel kortverhale aandui, is die deurlopende tema daarvan die liefde, veral die seksueel-erotiese manifestasies daarvan.

Reeds die eerste verhaal, "Die engelman", fokus op die mens as liggaam, maar ook op sy behoefte aan geestelik-intellektuele kommunikasie.

"Haar verlange", wat nie veel meer as 'n intrige-verhaal is nie, herinner vaagweg aan Koos Kombuis se Raka - die roman. Daar is die twyfelende dominee en die seksuele losbandigheid, in De Vries se verhaal ook van die leraarsvrou.

"Naakstudies in Hogsback" fokus op roerende wyse op die menslike liggaam as bron van sowel plesier as pyn en hartseer. Vir die karakters is seks sonder die betrokkenheid van die "siel" uiteindelik onbevredigend.

"Ek het hom liefgehad" fokus op boeiende wyse op die spanning wat kan bestaan tussen 'n dogmatiese siening van wat God se wil is enersyds en die eg-menslike behoeftes van die hart andersyds.

In "Ondergoed" wil die vrou die man ter wille wees op godsdienstig-teologiese wyse, terwyl sy hom terselfdertyd ook wil tevrede stel: 'n verhaal vol humor en fyn ironie.

"Ars Poetica" is die eerste van 'n reeks postmodernistiese tekste, waarin daar kommunikasie plaasvind tussen 'n skrywer en sy karakters. Dit handel dan ook oor die spanning tussen "geskiedenis" en "storie".

Uiteindelik is die liefde die universele tema van uiteenlopende soorte verhale. "Die sagkant van 'n vrou" het 'n skrywer as sentrale karakter. Dit fokus o. a. op die vrou as 'n soort "handelsartikel" binne 'n liefdelose huwelik. En tog, binne die erotiek as suiwer "spel" ervaar die verteller ook verliefdheid en vriendskap.

"Los kruit" is 'n eietydse manifestasie van die kortkortverhaal. Dit handel oor 'n kunstenaar wat betrokke is by 'n onbevredigende liefdes-(seksuele) verhouding. Die liefde laat hom dit egter verduur, en hy kompenseer via 'n kunswerk vir sy gevoel van onvervuldheid en van 'n gebrek aan identiteit.

Ook "Na aanleiding van 'n soen vir Twombly" is 'n kortkortverhaal. In hierdie uitstekende kunsteoretiese teks word vervreemding teengestel aan outomatisering of gewenning. Die vanselfsprekende word ongewoon (en daardeur soveel insigteliker) gemaak.

"'n Poelpetaterpastei" fokus op die postmodernistiese beskouing van die problematiese daarvan om die geskiedenis te kan ken. Ons kry hier 'n boeiende spel met die verhouding tussen "feit" en "fiksie". Die motief van die onselfsugtige liefde word verteenwoordig deur Jotie se meisie en Mariet se stiefpa.

"Om 'n sekretarisvoël lief te kry" - 'n soort eietydse Afrika-sprokie - handel oor die vrou as gevangene binne 'n tradisionele opset. Die sekretarisvoël, wysgeer van die liefde, groei uit tot 'n toonbeeld van opregte liefde.

"Diepblou" is 'n bietjies te veel geskryf in die toonaard van die populêre tydskrifverhaal. Die intrige daarvan berus op die ironiese situasie van twee karakters wat albei in 'n onbevredigende huweliksverhouding vasgevang is se seksuele aangetrokkenheid tot mekaar.

"Die Ilda Haupt" het "Ek het hom liefgehad" as interteks. Die leser leer die binnewêreld ken van 'n karakter wat in die interteks slegs van buite gesien word. Die spitsvondige wyse waarop die ingenieursmetafoor ontgin word en die verrassende slot is van die goeie strukturele eienskappe van hierdie verhaal.

"Die groot skoenlapper" is 'n uitstekend geskrewe kortkortverhaal oor die spanning tussen droom en werklikheid en die tegnologie as bron van sublieme skoonheid.

"G5" is 'n hartverwarmende verhaal oor menslike versoening. Die bosoorlog word herspeel met swart en wit aan dieselfde kant. Ook blanke opponente van die verlede "veg" nou saam. So word die konkurrent uiteindelik as medemens gesien.

"Daai een met die tieties" is 'n monologiese verhaal oor vrouebevryding. Dit handel oor vroue wat hulle liggame moet verkoop binne 'n manlik-chauvinistiese opset. Fyn humor word geskep deur die spanning tussen die toonaard van die verhaal en die inhoud.

In "Transgressie" voer die "skrywer" van die verhale in byna liefde op postmodernistiese wyse 'n gesprek met van die karakters oor die maak van 'n fliek met sommige van die ander karakters daarin. Dit fokus op die seksuele verhouding tussen 'n manlike karakter en sy voormalige vriend wat 'n geslagsverandering ondergaan het.

In "Die selibaatdokter" word 'n spirituele gegewe gejukstaponeer met die erotiese. Xolani se opregte, nederige Christenliefde transendeer uiteindelik die erotiese.

"Once threw a party" opereer ook met 'n boeiende oorgang tussen verskillende bestaansdimensies. Binne die verhaalruimte word die mees vergesogte droom bewaarheid. Dit handel basies oor 'n homoseksuele verhouding tussen 'n onderwyser van die moordenaarskaroo en 'n karakter wat as Elvis Presley poseer.

In "Bernard moet leer dans" ontmoet ons 'n Afrikanergesin waarvan die gay eggenote en die heteroseksuele eggenoot elkeen 'n minnares het, alles tot groot plesier van die egpaar se tienerdogter. Ook hier kry ons die motief van seks sonder "siel" as iets vernederends.

Ook "Mylpale" is 'n kortkortverhaal. Die verteller "ontsnap" uit 'n erotiese strik wat 'n vyftienjarige meisie vir hom stel. Ons vind hier 'n toekeer tot die "outydse" gesinsverhoudinge van eggenoot en vader.

Die slotverhaal, "Byna liefde", handel oor 'n byeenkoms van sommige van die karakters met die skrywer. Die karakters dui aan dat die bundel oor die liefde in "soveel fassette" handel. Vishanti voel dat daar nie aan 'n afgehandelde storie gepeuter moet word nie. Debbie voel afgejak deur die skrywer se hantering van die erotiese wisselwerking. Omdat sy 'n gevangene is binne die staat van onbevredigde seksualiteit moet die verhale agter die stories dus voortgaan. 'n Boeiende metafiksionele teks.

Hierdie veelfasettige bundel is die moeite werd om te lees.

M. J. Prins
Professor-emeritus
Universiteit van Fort Hare, Alice

 


 

Die dag toe ek my hare losgemaak het

Willemien Brümmer. 2008. Kaapstad: Human & Rousseau. 144 pp. ISBN: 978-0-7981-4980-8.

Die gesoute joernalis Willemien Brümmer se prosadebuut is 'n unieke en boeiende versameling kortverhale. Eerder as 'n losse groepering van tekste, is dié 'n deurgekomponeerde bundel waar elke verhaal dieselfde hoofkarakter het - Mia Ragel Albertyn - wat in verskillende lewensfases haar verskyning maak. Gevolglik kan die bundel byna as 'n soort "mini-roman" gelees word, veral omdat die verhale chronologies op mekaar volg, beginnende by Mia se twaalfde verjaardag. Tog bly dit 'n kortverhaalbundel en die verhale staan ook beslis op hul eie. Elke verhaal vorm 'n afsonderlike eenheid, maar die verhale bou ook op mekaar voort en elke verhaal verkry bykomende betekenis deur die verhale waardeur dit omring word.

In die titelverhaal, byvoorbeeld, speel die ruimte van die Karooplaas - 'n belangrike faset van Mia se kinderjare - kragtig in op die hede en haar verhouding met Mario, die fo-tograaf. "Toe ek klein was, het ek gedroom van 'n dogtertjie wat deur 'n jakkals beetgekry is. Haar hare het nooit weer teruggegroei nie. Haar kop was kaal en bleek, haar oë sonder kleur. [...] Soggens het sy opgegooi." In die verhaal "Free-range whole bird" is Mia die een wat elke oggend moet opgooi. Die verhaal is dus 'n saamtrekking van verskillende temas en motiewe in die bundel, asook van verskillende distansiëringstegnieke waardeur Mia haarself verken. Die karooplaas is die setel van haar kleintydvrese vir jakkalse, maar ook die plek van haar eerste seksuele bewuswording (vergelyk die verhaal "Het jou!"). Ook die titelverhaal handel uiteindelik oor 'n tipe seksuele oorgangsrite wat aanvanklik skrikwekkend maar uiteindelik bemagtigend is.

Nie al die verhale is so diggeweef soos "Die dag toe ek my hare losgemaak het" nie, maar veral "Het jou!", "Free-range whole bird", "Kunstenaars" en "Skerwe" maak 'n sterk indruk. In laasgenoemde verhaal weerklink die ontstellende vraag wat 'n minnaar, Philip, in "Die dag toe Toorvoet stil geword het" aan Mia stel: "Was jou hele familie versteurd?" (82) Dit is die vraag wat Mia in "Skerwe", wat 'n keerpunt in die bundel vorm, op kliniese wyse moet konfronteer. In die slotverhaal van die bundel word die tema van oorerwing uiteindelik in 'n positiewe lig geplaas met die aanhaling uit Goethe se Faust: "Wat jy van jou vadere geërf het: verdien dit self om dit te besit" (138). Waar dit op 'n stadium in die bundel lyk of Mia verder en verder spiraal in die onkeerbare oorsaak-en-gevolg van familieen gesinslede se persoonlikhede en probleme, en eie traumatiese kindertydervarings (vergelyk die voorlaaste verhaal, "The persistence of memory"), gee hierdie laaste verhaal aan haar die mag om lewegewende besluite oor haarself en haar eie kind te maak.

Daar is 'n donker kant aan Mia se soektog na selfkennis en -begrip, 'n soektog wat voortdurend uitspeel in haar konfrontasie met haar voorouers - dié wat al lankal oorlede is, soos die ouma wie se naam sy dra - maar ook veral haar ma en pa. Baie van die ontdekkings wat sy maak, is nie aangenaam nie, net soos wat haar selfontdekking dikwels pynlik is. Hierdie aspek verhef die kortverhale tot meer as anekdotes en gee aan hulle 'n oortuigende en aantreklike "edge". Tog behou die verhale veel van die alledaagse rituele van menswees en kos is onder andere 'n belangrike en interessante tema. Feitlik elke verhaal sentreer rondom 'n maaltyd van die een of ander aard. Daar is etes wat misluk, etes wat in ontsteltenis eindig, etes wat versoening probeer bewerkstellig. So word hulle draers van die spanninge waarvan Mia se verhoudings aanmekaarsit, of juis 'n oplossing van daardie spanninge. Onder andere sinjaleer die verskillende maaltye in die bundel die verskillende fases van Mia se volwassewordingsproses - die vernaamste tema van die bundel.

Dit is duidelik dat baie tyd aan die sorgvuldige afwerking van Brümmer se bundel bestee is. Die voorbladontwerp vat die essensie van die bundel op treffende wyse saam. 'n Mens is hoopvol dat sy in toekomstige werke die belofte wat hierdie debuut skep, sal vervul met tekste wat dieselfde fyn uitmekaarhaal van individuele psiges en kollektiewe emosies en dieselfde gawe vir understatement vertoon, maar ook dat daar groter vryheid in styl en verskeidenheid in toon en tema sal ontwikkel.

Die bundel sou waarskynlik nog 'n positiewer indruk gemaak het as daar nie die ewige behoefte by baie skrywers was om sorgvuldig dank en skatpligtigheid (in die "Erkennings") uit te spreek nie. Miskien is dit bloot 'n persoonlike hebbelikheid, maar dit lyk of die vrees vir plagiaataantygings tot so 'n mate die oorhand van Afrikaanse skrywers begin kry dat die erkenning van bronne en invloede soms aan die belaglike grens. Dit is tog heeltemal onnodig om The Glass Menagerie (Tennessee Williams) in die erkennings te vermeld as die teks op bladsy 14 eksplisiet genoem word, om nie te praat van die oorbodigheid van die titels van alombekende sprokies soos "Rooikappie en die Wolf" of Die Bybel nie. Dit is een ding om jouself te vrywaar, maar Die dag toe ek my hare losgemaak het is immers Brümmer se debuut - nie die eerste kontemporêre boek wat haar lesers optel nie. Hierdie milde irritasie ten spyt is die bundel beslis die lees werd.

Jacomien van Niekerk
Universiteit van Pretoria, Pretoria

 


 

Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu

J. C. Steyn. Tafelberg: Kaapstad. 2008. 408 pp. ISBN: 978-0-624-04648-6.

Stories oor 'n verbygegane tyd, maar waarsonder ons onsself nie kan begryp nie. Miskien is dit die rede dat die jongste outobiografiese boek van J. C. Steyn my so aangegryp het. Die treffende titel van die boek en die foto van die jong knaap met die deurdringende afstandelike kyk verklaar die krag van hierdie lewensverhaal.

Dit titel verwys na daardie so tipiese klein Suid-Afrikaanse reptiel, die gordelakkedis, ook bekend as skurwejantjie. Dit is natuurlik nie om dowe neute nie, want Steyn vertel regdeur vanuit die perspektief van die plaasjapie wat hom steeds effe vreemd voel op die dorp en in die stad - as ander later werk toe ry met hul motors, stap of fiets hy steeds; hooguit neem hy soms die bus of trein en as hy later wel 'n motor aanskaf, moet hy Saterdae 'n ent gaan ry om te verhoed dat die battery afloop. By Abrahamskraal draai hulle dan om. Hierdie ritte het in sigself geen eindpunt nie, want met sy moeder word dit tot 'n taal- en landskapspel getransformeer: "'Al Abrahamskraal?' of: 'Abrahamtal', of 'Abrahamsput' of 'Izaksput'. Tot dit later 'Dis Abrahamsverdwyn!' word.

Soos die skugter diertjie daar op die platklip in die son, dra hy 'n hele prehistorie met hom saam as hy 'n kultuurlewe om hom fyn registreer en verhaal. Maar soos die ouvolk, bly hy skugter afstandelik - sober; en tog kan hy die warmte van die klipplaat wat hom koester nie ontbeer nie. In hierdie oënskynlike teenstrydigheid lê die fassinerende van Steyn se verhaal. Soos die vinjette aan die begin van elke hoofstuk word sý verhaal ook die verhaal van 'n gesin, 'n familie, 'n vriendekring en 'n volk en gemeenskap.

Steyn knoop sy verhaal aan dié van M. E. R. as hy haar in sy motto voorin aanhaal: "As ek nou terugkyk op my eie lewe en op wat ek van die voorgeslagte weet, dan sien ek dit kon nie anders nie: dit is 'n kwessie van selfbehoud, van dood en lewe." Ook sy verhaal begin op Swellendam - die bakermat van die Afrikaner se pioniersbestaan in Afrika. Sy oupagrootjie was agterkleinseun van Hermanus Steyn wat in 1795 met die opstand van Swellendamse burgers teen die vreemde dwingelandy van die Vereenigde Oost-Indische Compagne in opstand gekom het en tot "praesident" van die nuwe nasionale vergadering verkies is. In die voorgeslagte was daar ook nog 'n kwaksalwer, 'n "tweedeklasrebel" en 'n bittereinder.

Daar is reeds op gewys dat 'n persoonlike geskiedenis uitgroei tot volks- en gemeenskapsgeskiedenis. Taferele van 'n hele eeu tot en met die afsluiting van 'n era en die aanvang van die nuwe tyd word voor die gees geroep - die lewende en die dode, die goeie en die bose. Treffend is die skynbaar onskuldige anekdote oor die simboliese Ossewatrek van 1938. Die trek, gereël deur die ATKV, begin met onmin en 'n gebrek aan belangstelling. Die belangelose wilskrag van 'n oom Tienie van Schoor het die wiele aan die rol gekry, maar toe die wiele eenmaal rol, is hy oor die hoof gesien en in sy plek het H. J. Klopper hoofleier geword! Ontluisterend, maar al té waar! Ook apartheid kom onder die loep: "[d]ie 'nalatenskap van apartheid': is dit slegs negatiewe dinge soos armoede en leed ...?"

Vir hierdie resensent was veral die gedeelte "Eindes en beginne" insiggewend en fassinerend. Hierin word vertel van F. W. de Klerk se aankondiging op 2 Februarie 1990 en die "eienaardige burgeroorlog (wat) onder Afrikaanstaliges begin (het)." 'n Felle taalstryd rondom Afrikaans vlam op. Die name van diegene wat alles feil had vir Afrikaans en dié wat gemeen het dat Afrikaans, om welke rede dan ook, hom skaars moes hou, kom met doek en tafel voor die dag.

Ook die ondertitel van die boek "Afrikaner in die verkeerde eeu" konfronteer die leser: Was daar dan 'n regte tyd? Vir wie is die tyd nóú reg? Lê die goeie tyd nog voor die deur? Hieroor laat Steyn nie veel los nie; hy registreer gewoon die trillinge (sidderinge?) in die samelewing en daag die leser uit om self te beslis, of minstens daaroor na te dink.

Die boek is in 'n elegiese toonaard geskrywe, maar verval geensins in melancholie nie. 'n Vir goed agterhaalde era met sy wel en sy wee word nugter in herinnering geroep en treffend tot voleinding gebring met die oorlye van die skrywer se moeder. Hy dink aan haar terug en onthou hoe sy altyd graag geneurie of hardop gesing het as sy dag dat niemand haar hoor nie: "altyd met 'n blye hart" en hoe sy steeds bly hoop het dat iedereen tog die radiopreek kon hoor waarna sy eens op 'n Sondag ingeluister het: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad van Suid-Afrika nie. Van Wyk Louw spreek die slotwoorde van hierdie outobiografiese vertelling: "Miskien sal [n]iemand later / [tog] mooi dinge van ons weet."

H. P. Grebe
Universiteit van Pretoria, Pretoria

 


 

Versindaba 2008

Marlise Joubert (samesteller). Pretoria: Protea Boekhuis. 2008. 98 pp. ISBN: 978-1-86919-267-9.

2008 was reeds die vierde jaar waarin, telkens oor die eerste Septembernaweek, 'n "Versindaba" op Stellenbosch aangebied is. Dit het gegroei tot 'n jaarlikse bestekopname én viering van die hedendaagse Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld deur die enigste prys eksklusief vir Afrikaanse poësie toe te ken. Breyten Breytenbach was vanjaar die wenner van dié Proteaprys, naamlik vir sy reeds herhaaldelik bekroonde bundel uit 2007, Die windvanger.

Die resep is nou al 'n beproefde een. Sowel gevestigde as "opkomende" digters word betrek. Die genooide gevestigdes is hoofsaaklik digters van wie in daardie of die voorafgaande jaar nuwe bundels verskyn het. Vanjaar is die kollig bowendien spesifiek op digters gewerp wat ook as beeldende kunstenaars aktief is: Andries Bezuidenhout, Trienke Laurie, Ilse van Staden, Rosa Smit, Carina Stander, en so meer. Onder die opkomendes tel digters wat in daardie of die vorige jaar solodebute die lig laat sien het (Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais onder die 2008groep), maar ook jong belowendes wat nog net in tydskrifte, bloemlesings of op webblaaie van hulle kon laat hoor.

Daarby word 'n bundel saamgestel uit 'n keuse van gedigte van die digters wat aan die geleentheid deelgeneem het, om sodoende "'n momentopname van die Afrikaanse poësie" van die betrokke jaar te bied (luidens Nicol Stassen in die voorwoord tot Versindaba 2008). Gehalte bly die eerste maatstaf vir opname, maar daar word ook gestreef om 'n beeld te gee van die verskeidenheid digwerk wat binne daardie tydbestek gelewer is.

Verse van sewentien gevestigde digters verskyn in Versindaba 2008. Dis inderdaad 'n "plesier" (soos in die uitgewersbrief voorspel word) om die uiteenlopende verskeidenheid werk van oorwegend hoë gehalte deur hierdie geslypte woordkunstenaars te lees. Ek het bykomende vreugde daaruit geput om die stemme te verneem van mense van wie relatief lanklaas op poësiegebied gehoor is: Johann de Lange, Johan Myburg, Rosa Smit en Marlene van Niekerk, byvoorbeeld.

Wat opval van 2008 se debutante of belowendes is dat 7 uit die 8 van hulle nog in hulle twintigerjare staan, en dat net soveel van hulle produkte van die Universiteit van Stellenbosch is. Laasgenoemde word verstaanbaar as die moontlike koste-implikasies daarvan om jonges van elders na Stellenbosch te lok vir die indaba, in ag geneem word. Tog hou so 'n toedrag van sake die gevaar in dat die Versindaba nie heeltemal die oogmerk van verteenwoordigendheid sal bereik nie.

Miskien moet ander universitêre sentra in die land, in samewerking met die organiseerders van die indaba, 'n plan maak om hulle eie belowende "produkte" finansieel te steun sodat hulle aan dié besonderse geleentheid op die literêre kalender kan deelneem?

Versindaba 2008 verskaf nogtans 'n positiewe beeld van die Afrikaanse poësie. Die vrugte word gepluk van onder meer die moedige insette van Protea Boekhuis sedert 9 gelede toe publikasiegeleenthede vir Afrikaanse digters byna opgedroog het. Stassen, baas van Protea Boekhuis, gee in die voorwoord van die onderhawige bundel 'n idee van hoe gesond die toestand huidig is. Gedurende 2007 het 16 nuwe Afrikaanse digbundels verskyn: sewe by Protea Boekhuis, vier by NB-uitgewers, twee by Genugtig! en een elk by Lapa, Bent en Praag. Trouens, in 'n onlangs gepubliseerde artikel op LitNet Akademies kon Leti Kleyn selfs konstateer dat die poësie op die oomblik as die bevoorregte genre van die Afrikaanse letterkunde beskou kan word.

Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat,
Bloemfontein

 


 

Noudat slapende honde

Ronelda Kamfer. Kaapstad: Kwela Boeke. 2008. 48 pp. ISBN: 978-0-7957-0273-0.

Die gedigte in Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde is hoofsaaklik sosiale figuurstudies, en dan wel van die soekende mens. "ek soek 'n goue sterretjie" is 'n goed tiperende titel van een van die gedigte. Sy soek met name 'n staanplek in die samelewing. In die openingsgedig, "Waar ek staan", sê sy: "êrens diep binne my / weet ek waar ek staan," en die slotvers van die slotgedig lui: "ek staan nog steeds". Hierdie twee gedigte staan albei in opvallende plekke in die bundel. Tog weerspreek die meeste gedigte hierdie sekerheid, en dit is belangrik om daarop te let dat die soekende, onsekere mens voorop staan in 'n derde gedig wat self 'n opvallende plek in die bundel inneem, naamlik die titelgedig: "Noudat ek Afrikaans praat / [...] soek die verlede my nog steeds in die reën". Die "ek" van hierdie gedigte is 'n ontwortelde mens in 'n nuwe wêreld. Dis 'n nuwe mens wat die self nog nie goed deurgrond het nie en dit gee aan die hele bundel 'n tragiese ondertoon.

Die gedigte praat van allerlei voornemens om 'n nuwe mens te wees ("Dame in progress"), maar dit word nie 'n werklikheid nie: "vandag is alles wat mooi is, lelik / en alles wat lelik is, ek" ("bipolarhoney"). Ons het hier te make met 'n wêreld van stukkende drome wat lê "oppie vlaktes" van die Kaap, weggooidrome. Daar is 'n verlede wat jou agtervolg soos 'n skadu, 'n inslaap net om weer ontnugter wakker te word.

Die gedigte weerspreek mekaar, in die gunstige sin van die woord. Daar is "'n foto van myself / op 6 jaar oud / besig in die tuin / om geheime te begrawe," ("dood in die familie"), maar aan die ander kant tog weer kry sy die verlede nie afgeskud nie en leef sy in 'n wêreld van "haat en onthou" ("Daar is sekere dinge"); sy "sukkel / om uit die toue los te kom" ("wees"). Dis gedigte van stukkende menslike verhoudings, familie- en gesinsverhoudings, veral van die verhoudings ma/pa/ kind. Sy is "niemand se kind nie" ("wees"). "Pick n Pa" het 'n ironiese titel (met 'n toespeling op Pick and Pay?), want nie een van die baie keuses vir 'n pa is 'n gelukkige keuse nie, en die slot is pynlik. Sy praat van "die gemors van familiewees" ("dood in die familie"). Daar is ook stukkende verhoudings in die vriendekring: "kliek van sewe" vertel van 'n roekelose lewe wat eindig in verdrinking van die hooffiguur. Lolla was kunssinnig maar sy het 'n ellendige bestaan gevoer en 'n ellendige einde beleef. Iets dergeliks lees mens ook in ander gedigte ("Die storie van Klonkies" of "'n gewone blou Maandagoggend").

En daar is stukkende liefdesverhoudings soos in "To all the boys I loved before". Sy het keuses gehad onder die boys wat sy liefgehad het maar sy het nie een van hulle gekry het nie. Daar is so baie keuses wat die jongmens gehad het, wat op pyn uitgeloop het. Sy is uiteindelik "liefdeleeg".

Hoe ironies dan dat sy die mooie en goeie wat sy self nie het nie aan 'n ander toewens ("Nag"). Alles is nie grou nie, daar is ook liefde, of die behoefte aan liefde ("Ek wil").

Die bundel is vol portrette, veral selfportrette, of 'n mens kan dit tegelyk minatuurbiografieë noem. Sy is 'n "Tweeling", 'n persoon in haarself verdeel. Veral dink ek aan "en as ek klaar my verhaal vir jou vertel het", waar "ek myself sien sit [...] ek gaan staan en vir myself kyk [...] ek gaan myself haat". Maar daar is ook volop portrette van ander figure, soos "die huisvrou" en van baie ander mense. Kamfer het 'n skerp oog. Sy kan iemand met 'n enkele penneveeg teken, soos Uncle Jonny: "sy ore het beweeg wanneer hy sy kos kou" ("wees"). Kamfer weet ook genoeg hoe om van triviale en banale dinge gedigte te maak.

Hierdie bundel wys vir ons 'n aandoenlike wêreld, so aangrypend dat die digter nie al die lyflike taal nodig het waarmee sy die leser wil wakker skok nie. Haar vers steun ook nog te veel op die aandoenlike van die onderwerp self en is daarom dikwels nog onvolgroeid en fragmentaries. Maar desnieteenstaande bly dit 'n pakkende bundel gedigte.

Ondanks sekere tekortkominge of nog 'n sekere onvolgroeidheid weet Kamfer tóg soos sy in die openingsgedig sê baie goed waar sy staan.

T. T. Cloete
Professor-emeritus
Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

 


 

Vlamsalmander

Hennie Aucamp. Pretoria: Protea Boekhuis 2008. 115 pp. ISBN: 978-1- 86919-246-4.

Op dieselfde tyd wat Hennie Aucamp se digbundel Vlamsalmander by Protea verskyn, publiseer J. C. Steyn 'n soort outobiografiesecum-historiese teks, Sonkyker, 'n Vrystaatse salmander. Dit is dan ook metafoor vir die alleenstaander, die eenspaaier en by Aucamp staan die vlamsalmander vir die poëtiese woord en besinning oor die kuns. In hierdie Aucamp-bundel met 'n foto van 'n boom wat soos 'n salmander lyk deur Mark van Coller, word verskeie tipies Aucamp-temas onder die loep geneem. (Dis glo 'n witgatwortelboom en pas in by die digter se reeks kwatryne oor bome.) Die leser is altyd bewus van die kunstenaar / skrywer se blik op die werklikheid, soos onder andere, interpretasies by skilderye van Rembrandt, kommentaar by sewe litografieë van Picasso, 'n gedig oor / vir Ingrid Jonker. 'n Sub-titel by 'n skildery van Lucas Cranach, staan onderaan 'n gedig. Dit tipeer dan 'n soort stylsoort, 'n kommentaar op die kuns, die nagebootste wêreld, die simulacrum.

Uiteraard is hierdie soort portret-vers terselfdertyd 'n dubbelspraak, of kan as sodanig getipeer word: die digter lewer kommen-taar op Piet Mondrian of Irma Stern en op 'n implisiete wyse slaan dit terug op die skrywer se siening van die liefde. Die drieluik oor Stern is knap.

In die Kongo en elders

Sy het fel, verbete, laat Romanties,
haar primitiewe self gaan soek
en stel in weelderige prosa
haar binnereis ten boek.

By die gedig oor Mondrian vind ons die woord "tinteldronk" wanneer die kunstenaar sy kuns soos jazz op seildoek uitstal. Aucamp is 'n vormvaste digter. Dit weet ons uit sy beoefening van die Shakesperiaanse sonnet in Dryfhout (Tafelberg, 2006), sy verskeie kwatryne wat hy skryf, sy hantering van die haikoe. Sy gedigte erken die belang van metriese patrone en ons vind dan die haikoes hier wat by Strijdom van der Merwe se uitstalling gebruik is en kwatryne by die wyn. So klink 'n lekker wyn-kwatryn:

Ars poetica

Trap die korrels in die vat
dat dop en sap baldadig spat:
Van liewerlee word vroeë pyn
verdig tot onbetrokke pyn.

In vele van die gedigte is daar dan 'n besinning oor die verhouding tussen kuns en ek / persona. Moet die digter wegskryf van die self of kan die self-bemoeienis eweneens tot kuns lei? In hierdie opsig is die Rembrandtgedigte openbarend juis omdat hierdie skilder hom besig gehou het met hierdie komplekse problematiek.

Die aangrypende "Rembrandt-selfportret, 1669" vra dan die belangrike vraag oor hoe die ek lyk wat deur ondervinding verslyt is?

In "Beurtrym", 'n distigon, kan 'n mens 'n antwoord lees op Eybers se "Wespark". Hier lees ons:

'n Man het aan sy hart beswyk
terwyl hy worstel met sy steak.

'n Ander ou sterf op die troon:
Sy drukwerk is fataal beloon.

En nog 'n man dood op die jop:
Sy kom en gaan was sonder stop.
[...]

Die gedigte het soms 'n boodskap, 'n moraal, soos "Die neefs" of in die genoemde "Beurtrym" waarin daar 'n wysheid oor die mens se lot uitgewys word. Die digter dig met "stipte aandag", vormvas en die leser is deeglik bewus van 'n fyn woordkunstenaar.

Die gesprekke is daar, soos "Herfs" wat inspeel op Van Wyk Louw se "Vroegherfs": Dié dae is reeds heilig en vra om geen gebed -

Aucamp se bekende ondersoek van die seksuele is hier te vind (ja, die lul en ballas) en sy aktivering van ou woorde soos "nurks", "portiek", o.a.

Die portretverse oor Marjorie Wallace, Battiss, Piet Mondrian, Rembrandt, Irma Stern, Picasso, Rodin, e.a. gee 'n duidelike bemoeiens met die kuns weer.

Persoonlik is Aucamp vir my op sy beste wanneer hy 'n puntdig, haikoe of kwatryn skryf. Hy het 'n besondere gawe om met 'n klein kwashaal 'n besondere gedig te lewer.

In die langer vers, soos in "Prototipe", vind 'n mens 'n amper-retoriese segging met 'n uitroep en al. Dalk bedoelde parodie, maar dit oortuig nie heeltemal nie.

In "Porno lounge" wil die digter klaarblyklik soos in sy kabarettekste opstuur en sosiale kommentaar lewer:

O mens, ná sinsverrukking
wag altyd weer die niet:
Klank- en beeldorgieë
kan slegs verposing bied.

Dieselfde geld "Liefde in vier bedrywe" en "Drie verse oor die liefde" met sy moraliserende slot:

Naskrif

Wag tot jy jou jare kry
voor jy liefdesverse lees
en pleeg, want laggende ontdek jy
l'amour was net 'n skim gewees.

Uit die gevormde kuns is daar beslis kuns te maak: dit bewys "Cyril redivivus", "Ja, das Meer ist blau, so blau" bewys. Ek is absoluut van mening dat die korter vers Aucamp se métier is en dat die langer vers soms oorwoeker word deur die moralistiese toon of deur metriese patroon wat dreunerig opslaan.

Daar is eweneens kabarettekste opgeneem soos "Die wederkoms: variasies op temas in Raka" wat met die vorige Prins Raka dans.

'n Moet vir die Aucamp-liefhebber.

Aucamp het belangrike werk gelewer as beoefenaar van die kortkuns, dramaturg, dagboekskrywer, bloemleser en as skrywer van kabarettekste. As digter moet sy bydrae nie ontken word nie. Hierdie bundel, soos Dryfhout (Tafelberg, 2006), is vir die mentor van jong digterstudente van onskatbare waarde, omdat die digter Aucamp vorme verruklik beoefen. Soos byvoorbeeld die Shakespeariaanse sonnet. Of die distigon.

Miskien het die Afrikaanse letterkunde nog nie genoegsaam aandag gegee aan sy digkuns nie, omdat ons dikwels genre-bevange is en skepties is oor 'n skrywer wat van een genre na 'n ander beweeg.

Die roemer, die wyn, die karaf
(by 'n sewentiende eeuse stillewe)
Uit watter stofbedekte bottel
is dié karaf gevul?
Karaf staan buikig langs 'n skottel:
sy oesjaar ewiglik verhul.

Dié gedig uit Dryfhout is 'n klein juweel.

Uit die gevormde kuns is daar inderdaad kuns te maak!

Joan Hambidge
Universiteit van Kaapstad,
Kaapstad