SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.46 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.46 n.1 Pretoria Jan. 2009

 

REDAKSIONEEL

 

Die Kongo in die literatuur

 

 

Luc Renders; Henriette Roos

 

 

In 2008 was dit presies 100 jaar gelede dat koning Leopold II van België onder groot internasionale druk verplig was om sy kroondomein op die ewenaar aan die Belgiese staat oor te dra. In België het die honderdste herdenking van hierdie oorname feitlik geen aandag gekry nie. Dit is dalk begryplik, want België was in 1908 in die koloniale situasie ingedwing. Die verbintenis met Afrika het egter reeds in 1885 begin toe op die konferensie van Berlyn die Kongo as privaatbesit aan Leopold II toegeken is. Die Kongo Vrystaat is gebore en Leopold II was tot 1908 die alleenheerser daar. Toe die onmenslike behandeling van die inheemse bevolking aan die lig gekom het, veral as gevolg van die volgehoue pogings van Edmund Dene Morel, 'n Britse aktivis en Roger Casement, die Britse Konsul, was Leopold II uiteindelik genoodsaak om op 15 November 1908 die Kongo aan die Belgiese staat oor te dra. Die Kongo Vrystaat het die Belgiese Kongo geword.

Tot 30 Junie 1960 is die Kongo bestuur as 'n Belgiese kolonie. Na die aanvanklike skeptisisme het entoesiasme geleidelik onder die Belgiese bevolking vir hierdie koloniale projek in die hart van Afrika toegeneem. Die infrastruktuur is stelselmatig uitgebou en die Kongolese bevolking is in die koloniale stelsel opgeneem.

Kort na die verkryging van onafhanklikheid en die moord op Patrice Lumumba het 'n tydperk van geweld en politieke onstabiliteit gevolg, waarna Mobutu Seso Seku die bewind in die Kongo oorgeneem het. Hy het die land tot in 1997 regeer, dit as 'n persoonlike besitting uitgebuit en daardeur die Kongo tot op die rand van 'n totale ekonomiese ineenstorting gedryf. Sy regering is deur Laurent-Désiré Kabila omvergewerp, wat daarna self in 'n mislukte staatsgreep om die lewe gebring is. Kabila is deur sy seun Joseph opgevolg wat nog steeds die bewind voer. Na die volksmoord in Rwanda in 1994 het die toestand in veral die ooste van die Kongo versleg, en dit was die plaaslike bevolking wat die meeste onder die voortdurende gewapende konflik gely het.

Die geskiedenis van die Kongo sedert die begin van die kolonisasie is 'n uiters tragiese een. Die natuurlike rykdomme van die land is blykbaar eerder 'n vloek as 'n seën; buitelandse en neokoloniale magte poog sonder ophou om 'n aandeel in die winste te kry. Die gevegte wat bly opvlam, soos wat tans weer in die Oos-Kongo gebeur, veroorsaak dat die land in 2008, net soos dit 'n eeu gelede die geval was, steeds om die verkeerde redes in die nuus bly.

Die honderdste herdenking van die oorname van die Kongo deur België het die geskikte geleentheid gebied om bestek op te neem van die literêre produksie van en oor die Kongo. Die kongres "Congo in literature / in de literatuur / dans la littérature" is daarom van 14 tot 18 Julie 2008 by die Universiteit Hasselt in België aangebied met die bedoeling om die literatuur oor en van die Kongo onder die soeklig te plaas.

Vanuit 'n Vlaamse en Waalse invalshoek is Kongo-literatuur tot dusver weinig bekend en nog minder bestudeer. Die akademiese belangstelling in Nederlandstalige en Franstalige literêre werke wat oor die Kongo verskyn het, is gering. Die Kongo het egter so 'n belangrike rol gespeel in die Belgiese geskiedenis van die twintigste eeu, dat 'n groter kennis van die Kongo-literatuur die moontlikheid bring van 'n herontdekking asook 'n herondersoek van die verlede. 'n Kritiese analise van die koloniale aanwesigheid van België in die Kongo is vanuit 'n post-koloniale invalshoek meer as noodsaaklik. Ook vanuit 'n suiwer literêr-historiese perspektief is dit tyd vir 'n herwaardering van die Vlaamse en Waalse Kongo-literatuur. Veral daardie werke wat krities staan teenoor die kolonisasie lewer deur hul outentisiteit en oortuigingskrag 'n belangrike bydrae tot hierdie nuwe blik op die verlede.

Daarnaas is daar natuurlik die literatuur van die Kongo self. Dis nie net mondeling oorgedra of geskryf in die verskillende inheemse tale van die Kongo nie, maar is ook in Frans gepubliseer. Frans was vanaf die begin van die kolonisasie die onderwystaal van die Kongo en is steeds by uitstek die literêre medium van die Kongolese skrywers, ook as hulle, soos deesdae dikwels die geval is, vanuit die diaspora skryf. Die teenstrydige perspektiewe wat waargeneem kan word by Kongolese skrywers wat òf van binne òf van buite die land skryf, is uiters boeiend en ook noodsaaklik vir 'n beter begrip van die kompleksiteit van die Kongo-literatuur.

Maar die Kongo-literatuur is ook en miskien veral 'n internasionale literatuur. Skrywers wat verskillende lande en tale verteenwoordig, word lank reeds deur die Kongo geboei. Joseph Conrad se Heart of Darkness het 'n literêre tradisie binne, maar ook veel verder as die Engelstalige wêreld gevestig. Heart of Darkness word nog steeds intertekstueel ontgin, ook in die Afrikaanse letterkunde. Die somber toekomsbeeld van Suid-Afrika wat Eben Venter in sy roman Horrelpoot oproep, kry 'n bykomende apokaliptiese dimensie deur die verwysings na Heart of Darkness. Ook die roman Equatoria van Tom Dreyer is skatpligtig aan Conrad en aan die Kongo.

Dit was een van die doelstellings van die "Congo in literature / in de literatuur / dans la littérature" kongres om taalgrense te oorbrug deur kennis te neem van die wye taalspektrum van Kongo-literatuur. Navorsers word dikwels tot ondersoek in hulle eie taalgebied beperk en Kongo-literatuur vra juis om 'n meer komparatiewe benadering. Dat hierdeur 'n intensiewe gedagtewisseling moontlik word wat tot nuwe insigte kan lei, kon die deelnemers aan die kongres ervaar.

Die seleksie van referate wat in hierdie Kongo-temanommer van Tydskrif vir Letterkunde opgeneem is, gee 'n beeld van die verskeidenheid van onderwerpe wat op die kongres aangebied is. Wat by die lees van die artikels opval, is hoe daar eggo's van gelyksoortige boeke, skrywers, motiewe en temas in die verskillende beskrywings opklink. So ontstaan 'n hegte netwerk van relasies waardeur die artikels 'n sluitende geheel vorm. Dit toon aan hoe verrykend 'n komparatiewe benadering tot die Kongoliteratuur kan wees en hoeveel ruimte daar nog vir verdere navorsing is.

15 November 2008

 

 

Luc Renders is Professor in die Tale Departement van Hasselt Universiteit in België en navorsingsgenoot aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Port Elizabeth. E-pos: luc.renders@uhasselt.be
Henriette Roos is Professor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. E-pos: rooshm@unisa.ac.za