SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 número1"Who is speaking here?" The role of the adapter in adapting a novel into a youth theatre production that includes cultural and geographical translocationsTranslation and adaptation as interpretation and strategy: My Seuns by Christo Davids against the background of All My Sons by Arthur Miller índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 no.1 Pretoria Mar. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n1a9 

VERTALING

 

Wat is Verligting?

 

 

Hercules BoshoffI; Piet BoshoffII

IFilosofie, Fakulteit Geesteswetenskappe. Akademia, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: hercules@akademia.co.za
IISenior Navorser, Departement Ou Testamentiese Studies. Universiteit van Pretoria, Pretoria. Suid-Afrika

 

 

1. Die Verligting is die bevryding van die mens uit sy selfopgelegde onmondigheid. Onmondigheid is die onvermoë om die verstand sonder die begeleiding van ander te gebruik. Self-opgelê is die onmondigheid wanneer die oorsaak daarvan nie by die tekortkoming van die verstand self lê nie, maar by onvoldoende vasberadenheid en moedigheid; om die verstand sonder begeleiding van ander te gebruik. Sapere aude! Hou moed, en laat jou van jou verstand bedien, is die leuse van die Verligting.

2. Luiheid en lafhartigheid is die oorsaak waarom so 'n groot deel van die mensdom ná hulle deur die natuur van vreemde leiding vrygemaak is (naturaliter maiorennes), lewenslank nog onmondig bly, en waarom dit vir ander so eenvoudig is om hulle as voogde voor te doen. Dit is werklik só maklik om onmondig te wees. Het ek tog maar 'n boek gehad wat namens my verstandig is, óf 'n sielesorger wat namens my my gewete dra, óf 'n dokter wat vir my 'n dieet uitwerk, ensovoorts, het ek nie nodig om myself te bemoei nie. Ek het nie nodig om te dink solank ek net kan betaal nie; ander kan dié lastige taak oorneem. Die meerderheid mense (daaronder tel die hele skoner geslag) reken dat die stap tot mondigheid, afgesien daarvan dat dit moeilik is, ook gevaarlik is - daarvoor het die voogde gesorg wat die oppertoesig oor daardie mense ewe goedgunstiglik op hulle geneem het.

Nadat hulle die huisvee eers dom gemaak en verhoed het dat die bedeesde skepsels geen trap buite die gareel waaraan hulle gebind is, kan betree nie, wys hulle op die gevaar wat dreig wanneer daar gewaag word om op jou eie te gaan. Hierdie gevaar is nou eenmaal nie só groot nie, want net deur soms te val, word daar uiteindelik geleer om te loop. Hierdie neerslaan word egter gebruik as 'n afskrikmiddel teen verdere probeerslae.

3. Dit is boonop moeilik vir iedere mens om hom uit die amperse natuurlik geworde onmondigheid los te wikkel. Hy het selfs daarvan begin hou, en is nog nie daartoe in staat om hom van sy eie verstand te bedien nie, omdat dit nooit van hom vereis is nie. Leerstellings en formules, hierdie meganiese werktuie van sy rede, of eerder, 'n misbruik van sy natuurlike talente, is die voetboeie van 'n volgehoue onmondigheid. Wie daaruit losbreek, sou slegs met onsekerheid oor selfs 'n klein sloot spring omrede hy nie gewoond is aan vrye beweging nie. Daarom is daar min mense wat daarin slaag om hulself met die inspanning van hul eie geesteskrag uit die onmondigheid los te wikkel, én daarbenewens nog 'n koersvaste weg in te slaan.

4. Dat die gemeenskap hulself egter kan verlig, is wel moontlik indien 'n mens hulle net die vryheid gun; dan is dit byna onafwendbaar. So word onder die voogde enkele selfdenkendes gevind, mense wat nadat hulle die juk van onmondigheid self afgegooi het, die gees bedien met 'n redelike inskatting van hul eiewaarde gepaardgaande met die roeping van elke mens om self te dink en dit om hulle heen te versprei.

Merkwaardig is dit ook dat 'n gemeenskap wat vantevore onder die juk gehou is, hulself dwing om daaronder te bly wanneer voogde - wat self nie tot enige verligting in staat is nie - hulle daartoe aanpor. Dit is skadelik om sodanige vooroordele te kweek omrede dié vooroordele hulle ook op hul kwekers sal wreek. Daarom kan 'n gemeenskap net langsaam tot verligting kom. Deur middel van 'n rewolusie word die oorhand straks oor 'n persoon-like despotisme, gewin of heerssugtige verdrukking verkry, maar 'n ware hervorming van denke kom nooit tot stand nie; eerder nuwe vooroordele wat, soos die oues, die leibande van die ondenkende massa opneem.

5. In hierdie langsame verligting word niks anders as die vryheid vereis nie, en wel die onskadelikste vorm van alles wat onder vryheid verstaan kan word - die aanmoediging om openlik van sy rede op alle terreine gebruik te maak. Nou hoor ek die kreet van alle kante af: Moenie redeneer nie! Die offisier sê: Moenie redeneer nie, voer uit! Die raad van finansies: Moenie redeneer nie, maar betaal! Die geestelike: Redeneer nie, maar glo! (Net een enkele heerser in die wêreld sê: Redeneer soveel jy wil en waaroor jy wil, maar gehoorsaam!) Hierdie is alles voorbeelde van die inperking van vryheid. Watter beperking is vir die Verligting hinderlik en watter nie, maar wil sy belange steeds bevorder? My antwoord is: Die openbare gebruik van rede moet vry wees, en daardeur alleen kan die Verligting onder mense teweeggebring word terwyl die privaat gebruik dikwels eng en beperk blyk te wees; sonder dat dit die openbare gebruik van die rede hoef te verhinder. Ek verstaan onder die openbare gebruik van die eie rede, die gebruik daarvan deur 'n kundige voor die ganse leserspubliek. Die privaat gebruik, daarenteen, is volgens my dit wat aan ons toevertrou word in burgerlike poste of ampte waar iedereen van sy rede gebruik kan maak ooreenkomstig sy gewete. Nou is dit noodwendig so dat ten opsigte van aangeleenthede waarby die belang van die gemenebes betrokke is, 'n gewetensmeganisme ingespan word waardeur sekere lede van die gemeenskap passief gehou moet word ten einde deur kunsmatige eenstemmigheid die regering tot die verrigting van openbare take te rig, of dit minstens te weerhou van die sabotering van hierdie take. In soverre dié deel van die masjien hom egter as deel van die gemenebes ag, en selfs van wêreldburgerskap, kan hulle as geleerdes hul menings opper in die openbare sfeer, én kan dergelike geleerdes steeds redeneer sonder om die saak skade te berokken waarvoor hulle op passiewe wyse aangestel is.

Sodoende is dit betreurenswaardig wanneer 'n offisier - wat deur sy opperste beveel is om 'n taak uit te voer - hom luidrugtig uitlaat oor die doel of nuttigheid van sy taak tydens die uitvoering daarvan; hy moet eenvoudig gehoorsaam. Hy kan egter nie verkwalik word as hy hom as geleerde oor die foute in die diensplig uitspreek en sy insigte voorlê aan die publiek vir beoordeling nie. Eweso kan die burgerlike ook nie weier om die belastings wat aan hom opgelê is, te betaal nie. Indien hy op sy eie 'n eiewyse kritiek sou lewer, sou dit selfs as 'n skandaal - wat algemene verset kan aanmoedig - bestraf word.

Daarteenoor ondermyn hy egter nie sy plig as burger wanneer hy as geleerde die ongeskiktheid of selfs ongeregtigheid van sulke belastings openlik blootlê nie. Eweso is die geestelike leier daartoe verbind om sy kategiste en gemeente dienooreenkomstig met die simbool van die Kerk wat hy dien, te onderrig, want volgens hierdie verordeninge is hy aangestel. As geleerde het hy egter die volle vryheid, ja, selfs die geroepenheid daartoe, om ál sy sorgvuldig beproefde en goedbedoelde gedagtes oor die foute in elke simbool en voorstelle wat tot die verbetering van die godsdienstige en kerklike aangeleenthede lei, met die publiek te deel. Hierin kan niks gevind word waaroor die gewete beswaard hoef te wees nie, want as ampsdraer van die Kerk stel hy die leer as gesaghebbend voor aangesien hy nie vrye teuels het om na eie goeddunke te onderrig nie, maar volgens voorskrif in die naam van 'n ander aangestel is. Hy sê: Ons Kerk leer dit of dat, en hierdie is die bewysgronde waarop dit bou. Hy bied dan alle praktiese nut vir sy gemeente aan as stellings wat hy self nie met volle oortuiging onderskryf nie; trouens, hy volhard daarmee omrede dit nie totaal onmoontlik is dat waarheid wel daarin verborge lê nie - in elk geval weinig of niks wat die innerlike krag van die religie weerspreek nie. Sou hy weerspreking daarin vind, beoefen hy nie sy amp met integriteit nie, en moet hy dit neerlê.

Die gebruik van die rede waarmee die aangestelde leraar sy kerk bedien, is bloot privaat aangesien dit altyd 'n plaaslike gemeente is, hoe groot ook al. Ten aansien hiervan is hy as priester nie vry nie en durf dit ook nie wees nie, omdat hy 'n opdrag van ander uitvoer.

Daarenteen geniet hy as geleerde wat deur geskrifte tot die eintlike samelewing - of anders gestel, die wêreld - spreek, 'n onbeperkte vryheid as geestelike in die openbare gebruik van sy rede, aangesien hy hom van sy eie rede kan bedien en as sy eie persoon spreek. Dat die voogde van die volk (in geestelike aangeleenthede) self weer onmondig kan wees, is 'n absurditeit, wat nimmereindigende absurditeite tot gevolg het.

6. Sou die geselskap van geleerdes, soos 'n kerkraad of eerwaardige klassici (soos dit onder die Hollanders bekend staan) egter daarop geregtig wees om mekaar onder eed tot 'n bepaalde onveranderlike simbool te verbind en sodoende onbehoorlike voogskap oor elkeen van sy gelykes te kry en deur hulle die volk te lei - en boonop dié voogskap permanent vestig? Ek sê: Dit is gans onmoontlik! 'n Kontrak van dié aard wat vanuit die verhindering van alle verdere verligting van mense gesluit word, is nikswerd; selfs al sou dit ook deur die opperste geweld, deur ryksdae en die vrolikste vryheidsverdrae gerugsteun word. 'n Tydperk kan nie daartoe verbind wees en sweer om die volgende in 'n toestand te plaas waarin dit vir hom onmoontlik word, om - veral wanneer dit van belang is - sy kennis uit te brei, van foute te suiwer en met die Verligting verder te gaan nie. Dit kom neer op 'n verbreking met die menslike natuur wat oorspronklik juis op sodanige vooruitgang bestem is. Die nakomeling is volkome daarop geregtig om dergelike besluite onvanpas te verklaar en te verwerp. Die toetssteen van alles wat as wet oor 'n volk kan geld, hang af van die beantwoording van die vraag of 'n volk sodanige wet wel op homself kan afdwing.

Nou is dit eenmaal, in afwagting op verbetering, moontlik om binne die bestek van 'n bepaalde kort tyd 'n voorlopige verordening deur te voer waarin 'n mens dit van elke burger, veral die geestelikes in hul kapasiteit as geleerdes, verwag om aan die hand van geskrifte vry en openlik te kan interpreteer, en oor die foutlyne van die gevestigde inrigtings aanmerkings te maak. Die voorlopige verordeninge geld totdat die insig in die aard van die sake só wyd bekend raak, en aanvaar word, dat die verenigde stemme - al is dit nie van almal nie - voorspraak by die troon kan maak vir beskerming van dergelike organisasies in ooreenstemming met die nuwe insigte wat hulle volgens die beter insigte tot 'n veranderde godsdiens rig sonder om diegene wat hulle by die ouer vorme skaar, daarvan te ontsê.

Dit is nietemin ongeoorloof om 'n mens met slegs een onbetwyfelbare leerstelling te vereenselwig, selfs ook nie in 'n enkele mens se lewensduur nie, omrede daarmee saam die vooruitgang van die mens tot verbetering tegelykertyd vernietig en vrugteloos word vir die nageslag. Een mens kan weliswaar vir sy persoon, en ook net op 'n gegewe tydstip, die Verligting ten opsigte van wat hy moet weet, uitstel; indien hy daarvan afsien in sy eie persoon, daarmee saam nog meer vir die nakomelinge, kom dit neer op die skending en vertrapping van die mensdom se kosbare reg. Wat 'n volk nie oor sigself mag besluit nie, durf nog minder deur 'n monarg besluit te word, want sy wetgewende aansien berus daarop dat hy die gesamentlike volkswil saamsnoer in homself. Indien hy toesien dat alle ware of vermeende verbeterings met die burgerlike orde saamval, kan hy sy onderdane uiteindelik laat uitvoer wat hulle vir hul eie sieleheil nodig ag en wat hom nie aangaan nie. Hy moet egter verhoed dat die een die ander met geweld verhinder om aan die bevordering van sy eie vermoë te werk ten einde sy bestemming te bereik.

Dit doen afbreuk aan sy majesteit indien hy hom inmeng in die geskrifte waarin sy onderdane hulle uitdruk, en dit plaas onder die toesig van sy regering. Wanneer hy só optree vanuit die verhewenheid van sy posisie, stel hy hom bloot aan die verwyt: Caesar non est supra Grammaticos (die keiser het geen outoriteit bo die geleerdes nie); des te meer wanneer hy sy oppergesag ondermyn deurdat hy geestelike despotisme van enkele tiranne in sy staat teenoor sy onderdane ondersteun.

7. Wanneer daar dan gevra word: Lewe ons nou in 'n verligte tydsgewrig, is die antwoord: Nee, maar ons lewe wel in 'n tyd van Verligting. Soos sake tans daar uitsien, in die geheel beskou, skiet ons nog tekort aan die vereiste dat mense daartoe in staat kan wees, óf begelei kan word, om in godsdienstige aangeleenthede hulle van hul eie verstand sonder begeleiding van 'n ander te bedien. Dat vir hulle die veld geopen word om met vrymoedigheid in dié rigting te beweeg, én dat die hindernisse teen die algehele Verligting of die uitbreek uit hul selfverskuldigde onmondigheid geleidelik afneem - daarvan het ons tóg duidelike tekens. So beskou, is dit wel die tydperk van die Verligting, oftewel die eeu van Friedrich (die Grote).

8. 'n Vors wat dit nie onwaardig vind om te beklemtoon dat hy dit as plig voorop stel om niks in godsdienstige aangeleenthede aan mense voor te skryf nie, maar hulle daarin volle vryheid gun, en ook die hoogmoedige beskrywing van toleransie afkeur, is self verlig en verdien om in dankbaarheid deur die wêreld en nageslagte aangeprys te word as die eerste regeerder om die menslike geslag los te maak van sy onmondigheid en elkeen vry te laat om alles wat die gewete aangaan, deur die verstand te benader. Onder hom mag eerwaardige geestelike leiers, ongeag hul ampsplig, as geleerdes vry en openbaar die aangenome simbool blootstel aan afgeweegde oordele en insigte, en dié beproewings aan die wêreld voorlê; des te meer word die beperkende rol van die amp omgekeer. Hierdie gees van vryheid brei ook uiterlik uit, selfs daar waar dit omring word met regerings wat 'n wan-begrip van hul eie funksie koester. Dit word belig deur die feit dat die regering nie in die minste besorgd hoef te wees daaroor dat vryheid 'n bedreiging teen eenheid van die gemenebes en vredeliewendheid inhou nie. Die mense werk hulle vanuit hulself uit die barbarisme, mits daar nie met opset probeer word om hulle kunsmatig daarin te hou nie.

9. Ek het die hoofpunt van die Verligting, die uittrede van die mens uit sy selfopgelegde onmondigheid - vernaamlik deur die godsdiensaangeleenthede - gelees, aangesien ons heersers in die kuns en wetenskappe geen behae daarin het om voog oor hul onderdane te speel nie; ook omdat onmondigheid in godsdiensaangeleenthede die skadelikste en mees onterende van almal is.

Die denkwyse van die staatshoof wat die godsdiens begunstig, gaan selfs nog 'n stap verder en sien in dat daar selfs in sy wetgewing geen gevaar bestaan om sy onderdane toe te laat om hul eie rede openlik te gebruik en hul denke toe te spits op 'n beter bewoording daarvan nie. Ons het 'n glansryke voorbeeld van 'n eerwaardige monarg wat deur geen ander voorgegaan word in die opsig dat hy vrymoedige kritiek toelaat, ook teen dit wat reeds gegee word.

10. Slegs só 'n verligte heerser wat nie skaduwees vrees nie, en tegelykertyd in bevel staan van 'n gedissiplineerde, talryke leër wat openbare orde kan handhaaf, kan sê wat 'n republiek nie waag om te sê nie: Redeneer so veel julle wil en waaroor julle wil, maar gehoorsaam! Hiervolgens blyk 'n vreemde, onverwagte gang van menslike sake wat byna alles weerlê soos dit ook soms is wanneer 'n mens dit in geheel betrag. 'n Groter graad van burgerlike vryheid blyk vir die geestesvryheid van die volk voordelig te wees, maar stel aan hulle tog onoorkombare grense; hierteenoor verskaf 'n aks minder daarvan ruimte om hulle tot die verwesenliking van hul vermoëns aan te moedig. Wanneer die natuur dan van onder die harde omhulsel van die kiem waarna hy sorgsaam omsien - naamlik die behoefte aan en beroep op vrye denke - gewikkel het, werk dit geleidelik terug na die inbors van die volk waardeur dit vaardiger word om in vryheid te Handel, en uiteindelik ook op die grondbeginsels van die regering wat dit voordelig ag om die mense wat nou meer as masjiene is, na waarde te hanteer.

Königsberg, Pruise, 30 September 1784. (Beantwortung der Frage: Was ist Aufklärung? Verskyn oorspronklik in 1784 in die Desemberuitgawe van die Berlinische Monatsschrift.)

Kant, I. 1968. Kant Werke: Band 9. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft

 

 

 

Hercules Boshoff is 'n dosent in filosofie aan Akademia, asook buitengewone navorser in die Skool vir Filosofie, aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. Hy was tot 2021 'n post-doktorale navorser by die Noordwes-Universiteit. Hy het sy PhD getiteld Ekonomie en Subjektiwiteit (2019) aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi, en sy MA (2015), aan die Universiteit van Pretoria. Met beide hierdie projekte het hy onder van Nederland se mees vooraanstaande filosowe gewerk. Sy publikasies dek die filosofie van ekonomie, tegniek, taal, Duitse Idealisme, en die geskiedenis van filosofie.
Hercules Boshoff is a lecturer in philosophy at Akademia, and an extraordinary researcher in the School of Philosophy at North West University in Potchefstroom. He was a postdoctoral researcher at North West University from 2019-2021. He completed his PHD entitled Economics and Subjectivity (2019) at the University of the Free State, and his MA (2015) at the University of Pretoria. During both these projects he worked under some of the most distinguished philosophers in the Netherlands. His publications cover philosophy of technics, language, German Idealism, and the history of philosophy

 

 

Piet Boshoff is 'n navorser aan die Universiteit van Pretoria, Departement van Outestamentiese studies. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria, die Kirchliche Hochschule, Berlyn en die Evangelisch-Theologische Fakultät van die Rheinische Friedrich-Wilhelms-Universität, Bonn. In 2023 publiseer Akademia Uitgewery Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates: Eutuphro, Die Verdediging van Sokrates en Krito uit die Grieks vertaal deur Piet Boshoff.
Piet Boshoff is affiliated with the Department of Old Testament studies at the University of Pretoria. He studied at the university of Pretoria, the Kirchliche Hochschule, Berlin and the Evangelisch-Theologische Fakultät of the Rheinische Friedrich-Wilhelms-Universität, Bonn. In 2023 the following translations from Greek into Afrikaans were published by Akademia: Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates: Eutuphro, Die Verdediging van Sokrates en Krito.
1 Kant se essay - Was ist Aufklärung? - is een van die bekendste filosofie-essays van alle tye. Die vertaling van hierdie seminale teks in Afrikaans, wat op 'n unieke wyse in Duits geformuleer is, bied nou aan die Afrikaanstalige filosofiestudent of -liefhebber betekenisvolle toegang tot Kant se denke.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons