SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 número1Oskar en die Pienk Tannie: The journey of an improbable pair from a French to an Afrikaans stage"Who is speaking here?" The role of the adapter in adapting a novel into a youth theatre production that includes cultural and geographical translocations índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.64 no.1 Pretoria Mar. 2024

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n1a7 

TAALRUBRIEK

 

Weer 'n slag die AWS

 

 

As ek die slag in Engels móét werk, besef ek opnuut dat die Spelling-Kommissie en die Woordelijs-Kommissie wat die eerste AWS in 1917 die lig laat sien het, 'n baie stewige grondslag vir die vestiging en ontwikkeling van die Standaardafrikaanse spelling gelê het. Ons spellingstelsel is seker so na aan konsekwent as wat 'n mens kan verwag, wel wetende dat niks wat met taal te doen het, ooit volkome konsekwent is nie en dat die standaardisering van die Engelse en die Afrikaanse spellingstelsel langs verskillende weë ontwikkel het.

Vir my werk moet ek noodwendig die skryfkonvensies van Standaardafrikaans ken en kan toepas, en dit beïnvloed gewis die manier waarop ek na 'n Engelse teks kyk. Dit is nie soseer die spelling van Engelse woorde wat die probleem is nie; mens kan dit immers maklik genoeg in 'n woordeboek naslaan, as jou speltoetser dit nie sommer virjou doen nie. Dis ander skryfkonvensies wat my soms pootjie. Ons taalpraktisyns moet ook deeglik na punte en kommas en sulke "kleinighede" oplet. Dalk is iets soos 'n koppelteken 'n eenvoudige saak vir Engelse taalpraktisyns, maar vir my is dit dikwels 'n probleem. Kyk byvoorbeeld na die hantering van enkele verbindings met semi- vooraan in verskillende Engelse woordeboeke (kolomme volgens die nommers):

(1) Shorter Oxford English Dictionary (6th ed.); (2) Concise Oxford Dictionary (9th ed.); (3) Oxford Advanced Learner's Dictionary (5th ed.); (4) Collins Cobuild English Dictionary for Advanced Learners (3rd ed.); (5) Collins English Dictionary (1999); (6) Webster's 3rd International (New ed. 1961)

Of Engelse taalpraktisyns of uitgewers weet wanneer semi- gekoppel en wanneer dit vas geskryf moet of kan word, en of hulle elk hul eie stelsel het, weet ek nie. Daarenteen is die Afrikaanse patroon eenvoudig: Voorvoegsels soos semi- (voorvoegsels van Klassieke herkoms: Grieks en Latyn) word vas geskryf aan die woord wat hulle bepaal, behalwe wanneer daar op die verbindingspunt dan 'n vokaalkombinasie ontstaan wat 'n ander klank verteenwoordig, byvoorbeeld e + i, of o + e. Dan kan die skrywer óf 'n deelteken gebruik (die voorkeurvorm), óf 'n koppelteken: sosioëkonomies of sosio-ekonomies; reïnkarnasie of re-inkarnasie. Dit word in reëls 5.6 en 12.2 van die AWS volledig uiteengesit en geïllustreer.

Een van die spellingbeginsels wat in die 1917-AWS vasgelê is en steeds geld, is dat samestellings "vas" geskryf word: as een woord. Die hele kwessie is in twee paragrawe bereël. Die eerste een lui eenvoudig so:

Wanneer die een of ander woordsoort - behalwe 'n bijvoeglike naamwoord - 'n selfstandige naamwoord nader bepaal, word die twee aaneengeskrijwe: noordpool, seewater, môreson, uitspanplek. Dikwels word die twee met 'n koppelteken verbind: Unie-parlement, Voor-Indië. Waar die bjivoeglike naamwoord so nouw met die selfstandige naamwoord verbind is dat die twee een begrip vorm. daar word hul aanmekaar geskrijwe: Nuwejaar, Oujaar, hoëpriester. (Le Roux, TH, Malherbe, DF & Smith, JJ [samestt.]. 1917. Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls. Bloemfontein: "Het Volksblad"-Drukkerij, p. xiv)

Die tweede paragraaf oor die kwessie verskyn onder "Aanvullinge bij die Spelreëls" en lui soos volg:

6. Waar dit nodig is om duidelikheidshalwe die tweelettergrepigheid aan te duie bij samengestelde woorde, daar word deeltekens geskrijwe als die samestelling reeds als 'n eenheid beskouw word; anders skrijf ons die koppelteken: drieënig, meeëet: maar see-eend. Die koppelteken word ook geskrijwe bij jong samestellinge, waarvan die dele nog duidelik als afsonderlik gevoel word: Unie-Regering. (op. cit. : xviii)

Ná uniewording in 1910 was Engels en "Hollands" aanvanklik die amptelike tale van die pas gestigte Unie, maar in 1925 is 'n wet aangeneem waarby Afrikaans by Hollands inbegryp is. Daarna het die gebruik en behoeftes van skriftelike Standaardafrikaans skerp toegeneem, en dit het weer daartoe gelei dat die spelreëls al hoe meer verfyn en uitgebrei moes word.

Elke nuwe uitgawe van die AWS was groter as die vorige, nie net wat die Woordelysgedeelte betref nie, maar ook die Spelreëls. Die 2017-AWS wy 'n hele hoofstuk van 24 bladsye en 37 reels aan die koppelteken alleen, afgesien van 'n hele paar plekke in ander reëls waarin die koppelteken ook ter sprake kom, byvoorbeeld reëls 5.5 en 5.6, wat bepaal wanneer daar 'n deelteken óf 'n koppelteken gebruik kan word, afhangende van die woordboukundige eienskappe van die betrokke woord. Deur te bepaal presies in watter omstandighede die koppelteken gebruik moet of kan word, word die subjektiewe oordeel van 'n skrywer wat moet bepaal of die samestelling "als 'n eenheid beskouw word" of "als afsonderlik gevoel word" so ver moontlik uitgeskakel.

Indien 'n samestelling met 'n koppelteken geskryf word, geld dit as 'n vorm van vas skryf. 'n Mens moet dus nie sommer 'n koppelteken gebruik as jy onseker is of 'n bepaalde kombinasie van woorde vas of los geskryf moet word nie.

Maar as 'n sekere kombinasie dan as 'n samestelling vas geskryf moet word, waarom is 'n koppelteken dan hoegenaamd nodig? Die belangrikste redes is die volgende:

(i) Samestelling word nie altyd met lede gevorm wat buite die samestelling selfstandige woorde is nie. Dit kan byvoorbeeld 'n syfer en/of 'n simbool neem, soos V8-enjin, graad 1-klas/gr. 1-klas of 6 dm-spyker. Iets soos *V8enjin of *6dmspyker deug nie in gewone omstandighede nie.

(ii) 'n Koppelteken word gebruik wanneer die dele (buite die samestelling selfstandige woorde) 'n klinkerkombinasie oplewer wat uitspraak- of leesprobleme meebring, soos "(Veldm. Rommel se) *Noord-Afrikaaanvalle" waar die koppelteken voor die laaste element ingevoeg moet word: "Noord-Afrika-aanvalle", of die ou bekende "see-eend" - nie *"seeeend" nie.

(iii) Soms is die eerste lid van die samestelling 'n woordgroep, dikwels byvoorbeeld Latyn, soos in "ex ofîcio-verteenwoordiging", "pro forma-fakuıur" of "ex gratia-betaling". (Dit is nie nodig om so 'n vreemdtalige woordgroep te kursiveer nie, maar ek verkies om dit te doen om die eenheid én vreemdtaligheid daarvan aan te dui. 'n Franse uitdrukking soos note verbale kan dalk as Afrikaans of Engels gelees word.)

(iv) In die meeste gevalle is die een lid 'n bepaler by die ander (in bv. koekblik is koek- die bepaler van -blik: dit sê watter soort blik dit is of waarvoor die blik gebruik word). Soms is die twee lede egter gelyke vennote, en dan word hulle met 'n koppelteken vas geskryf, bv. "Breyten Breytenbach is 'n digter-skilder" of "Tant Sofie is die gemeente se skriba-kassier".

Daar is nog spesiale gebruike van die koppelteken, maar daaroor by 'n ander geleentheid.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons