SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4Problems with and after the direct translation índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria Dez. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a15 

TAALRUBRIEK

 

Aangaande my (en hopelik my huis)

 

 

Iewers het ek eendag raakgelees "man ist seine Geschichte": 'n mens is jou geskiedenis. Die tyd waarin 'n mens leef, beïnvloed noodwendig die manier waarop jy na die wêreld om jou kyk en wat jy glo en dink - miskien nie almal in dieselfde mate nie, maar tog.

Ek het opgegroei en skoolgegaan in die tyd van die hoogbloei van Standaardafrikaans. Dit was 'n tyd toe Afrikaanse leerlinge op skool nog Afrikaans geléér is. Ons moes Afrikaanse grammatika leer en moes ordentlike sinne maak. Ons moes verskillende soorte briewe leer skryf - vriendskaplike briewe en briewe vir oupa en ouma, sakebriewe, briewe vir die pers, en so meer. Ek vervies my nog steeds as ek 'n brief of e-pos of 'n telefoonoproep kry van 'n instansie waarmee ek bloot 'n sakeverhouding het, en dié my op my voornaam aanspreek asof ons al jare lank maters is. Het hulle dan nooit van sakebriewe geleer nie? vra ek my af.

Op skool moes ons woordsoorte leer en was ons veronderstel om darem goed soos selfstandige naamwoorde, werkwoorde, byvoeglike naamwoorde, voorsetsels, bywoorde, voegwoorde en so meer van mekaar te kan onderskei. Ons handboeke het lyste korrekte voorsetsels in vaste verbindings of lyste idiome en vaste uitdrukkings met hulle betekenisse bevat, en dié moes ons leer.

Daar was dikwels ook lyste "anglisismes" wat ons moes kon uitken en moes weet wat die goeie, idiomatiese Afrikaans was: 'n Mens het nie *uit petrol gehardloop nie - jou petrol het opgeraak. 'n Mens dra nie *brille as jy lees nie; jy dra een bril op 'n slag. Dinge was op die ou end sus of so, nie *op die einde van die dag nie. In die vakansie kon 'n mens 'n bietjie laat slaap, nie *inlê nie. Inlê was iets wat Ma of Ouma in die kombuis met vrugte of kerrievis gedoen het. 'n Mens was miskien spyt as jy iets gemis of misgeloop het; jy was nie spyt dat jy skatologies daarop uitgemis het nie.

Daar is wel dikwels ook oordrewe jag op anglisismes gemaak, en wat sommige van dié Anglofobiese snuffelhonde soms as Engelse invloed uitgeruik het, laat 'n mens jou hande saamslaan.

En tog, en tog ...

Dié soort geskiedenis het my help vorm; ek kan dit net so min help as mense wat in 'n tyd grootword waarin opvoedkundige oortuigings anders is en waarin die status van Standaardafrikaans vinnig taan, kan help dat hulle blootstelling anders as myne was.

Ek is ook nie so dwaas as om te dink dat tale mekaar nie beïnvloed nie, veral nie as twee tale baie nou naas mekaar bestaan en gebruik word nie en as een boonop die dominante taal is nie.

Dit is my al herhaaldelik verkwalik dat ek met anglisismes behep is en met die hedendaagse invloed van Engels op Afrikaans. Almiskie, maar ek het 'n hekel daaraan dat Afrikaansspreken-des dink dis Afrikaans as hulle Engels eenvoudig woord vir woord vertaal. Enkele gevalle het ek (weer) hier bo genoem, maar ek kom soortgelykes byna daagliks teë - soos die volgende onlangse gevalle in die hoofstroompers:

 

 

Die hartseer hiervan is dat die plegers daarvan waarskynlik nie besef dat dit onidiomatiese Afrikaans is nie - dis dan goeie Afrikaanse woorde. Hulle besef waarskynlik nie dat woord-vir-woord-vertalings van idiomatiese uitdrukkings 'n mens in die sop kan laat beland nie. Deesdae sê mense byvoorbeeld so maklik dat wanneer 'n paartjie hulle verhouding beëindig het, hulle "opgebreek" het. Gewone idiomatiese Afrikaans sou wees dat hulle "uitgemaak" het. As diegene wat die Engelse "break up" so maklik "opbreek" in Afrikaans maak, daarenteen "uitmaak" op dieselfde wyse "make out" in Engels sou maak, sê hulle immers iets heeltemal anders.

Hulle het eenvoudig nooit geleer wat die idiomatiese Afrikaans is nie, en waarskynlik nog minder dat 'n goeie vertalende woordeboek goud werd is - as 'n mens dit net gebruik. Of gee ons net nie meer om nie?

Ek sal my teen hierdie onnodige en steurende Engelse invloed bly verset, wat mense my ook al daaroor toevoeg, want ek wil tog nie hê dat iemand eendag die lied wat die formidabele Mimi Coertse so pragtig sing, se woorde moet aanpas tot " O moedertaal, o rooiste taal, jy is gepeper met Engels" nie.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons