SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4Language change in the Afrikaans translations of the Gospel of MarkProblems with and after the direct translation índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria Dez. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a13 

MENINGSARTIKEL

 

Versoening in die Afrikaanse gemeenskap: Tower-staf of keuse?

 

Reconciliation in the Afrikaans community: Magic wand or choice?

 

 

WAM Carstens

Buitengewone professor, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: wannie.carstens@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Versoening as term word maklik gebruik, maar mense verstaan nie altyd wat dit inhou nie. Juis omdat versoening die resultaat van 'n besondere proses is, is dit nodig om tog te begryp wat dit inhou indien 'n mens betrokke wou raak by so 'n proses. In hierdie oorsigartikel word dit kortliks gedoen en dan toegelig met die agtergrond tot die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad, 'n liggaam wat in 2008 gestig is na afloop van 'n versoeningsproses in die Afrikaanse taalgemeenskap. Versoening behels te alle tye 'n bestuurde proses wat tot 'n produk moet lei.


ABSTRACT

Reconciliation is an easily used term, but people don't always understand what it actually entails. This is precisely because reconciliation is the result of a particular process; it is necessary to understand what it involves if you want to follow this route. In this overview article, this will be done briefly and then illuminated with the background to the establishment of the Afrikaanse Taalraad, a body founded in 2008 following a reconciliation process in the Afrikaans language community. Reconciliation always involves a managed process that should lead to a product.


 

 

1. Inleidend: Versoening as konsep

Die woord versoening word los en vas (veral in die media en die algemene omgang) gebruik asof dit 'n gewone, alledaagse woord is. Dit is egter nié die geval nie. Veral nie in 'n komplekse Suid-Afrika nie. Dit is naamlik 'n woord met 'n gelade betekenis, 'n betekenis wat sedert 1994 nuwe inhoud in Afrikaans begin kry het. Want dit is 'n woord wat getuig van 'n pad of roete (wat die gevolg is van 'n proses) wat gevolg moet word om 'n nuwe bestemming te bereik. Die pad wat gevolg moet word, is nie maklik nie. Dit verg aktiewe deelname deur mense aan die twee kante van die proses, want so 'n proses word juis gekenmerk deur twee opponerende kante, een waarin elke party iets moet prysgee, iets moet verloor om op die langer termyn iets te kan wen.

In die Suid-Afrikaanse konteks verg dit nog heelwat meer as ons die pad vorentoe met sukses wil loop. As ons daarom (in ons geval) 'n beter Suid-Afrika wil bou omdat daar in die verlede gebeure plaasgevind het wat versoening nodig het om hanteer te word, moet ons goed weet daar is nie kortpaaie nie. Versoening kan daarom nie ryp gedruk word om mense se (politieke?) agendas te pas nie, want volgens dr. Chris Jones (2015) van die Eenheid vir Morele Leierskap, Fakulteit Teologie aan US, vra "(w)are versoening, genesing en herstel ... geduld, insig en tyd". Dit is belangrik om dit vooraf te weet.

Daar moet dus nie onredelike verwagtinge wees oor die spoed waarteen versoening moet verloop nie, want dit is 'n proses wat sy eie tempo het: soms een tree vorentoe, dan twee terug om later weer twee vorentoe te kan neem. Geduld is die wagwoord, of soos gesê word: Haas jou langsaam. Die rede vir die pyn tussen mense verdwyn nie sommer net nie, maar dit kan jare neem om te prosesseer. Pyn wat in 1950 veroorsaak is, sal daarom nie noodwendig al in 2000 (of 2023) verdwyn het nie. Derhalwe is dit belangrik om te begryp "(d)ie pad na ware versoening, vergifnis en genesing is nie 'n maklike kortpad nie. Dit is wel die fondament waarop 'n beter Suid-Afrika gebou sal word" aldus dr. Isak Burger, oudpresident van die AGS (2016). Daar moet naamlik saam gebou word aan 'n nuwe pad. Wat die presiese aard van die (lang)pad inhou, is nie onmiddellik duidelik nie, want dit is iets wat saam ontwerp moet word.

Omdat mense nie altyd mooi verstaan wat versoening inhou nie, word dit dikwels gebruik sonder dat daar erns is daarmee of dit word lukraak ingespan as stopfrase of gepaste nagedagte in politieke kontekste, juis daar waar soveel sake skeefgeloop het. Die oudpolitikus en oud-MRK-kommissaris dr Leon Wessels (2012) sê duidelik dat ons goed moet weet "(v)ersoening is 'n duur woord. Dit word goedkoop gemaak wanneer dit as politiek korrekte woord oor ons lippe rol. Indien dit nie gepaard gaan met 'n begrip (of ten minste 'n ernstige poging om te begryp) van die pyn wat die verlede veroorsaak het nie, rol versoening soos water van 'n eend se rug." Versoening is dus 'n maklike woord, "maar meestal só moeilik om in die praktyk toe te pas" kwalifiseer die joernalis dr Leopold Scholtz (2014) dit. Wat nodig is om hierby betrokke te raak, is begrip (kennis) van wat versoening behels sodat geweet kan word wat (hier: pyn van die verlede) herstel moet word en ook (welke stappe geneem moet word oor) hoe dit herstel moet word.

Wat beteken die woorde versoen en versoening derhalwe volgens die woordeboeke? Die bekende HAT (6de uitgawe 2015) sê dit hou die volgende in:

"bymekaarbring", "vyandskap tot 'n einde bring; die vrede herstel; weer tot vriendskap bring", "jou nie meer teen iets verset nie, jou neerlê by; iets aanvaar"; "herstel van vrede/ vriendskap; vredemaking".

Hierdie woorde dui op dit wat ter sake is om versoening te bewerkstellig: vrede, herstel, verset, aanvaar, vyandskap, vriendskap, bymekaarbring. Ten einde sover te kom, moet "iets" gebeur, moet daar 'n proses aan die gang kom, moet daar iemand wees wat verontreg is en iemand wat vrede wil verkry sodat die vroeëre gebreekte bande (wat tot vyandskap gelei het) herstel kan word. Dit moet lei tot vriendskap wat deur die betrokkenes aanvaar (moet) word. Dit geld alle verhoudings wat gebreek is en reggemaak moet word.

Twee Nederlandse bronne bevestig hierdie aspekte. In https://www.woordenboeken.nu/betekenis/nl/verzoening word versoening beskryf as "hernieuwde vrede; het verbroederen, verzoenen; vrede", en volgens https://nl.wikipedia.org/wiki/Verzoening behels "(v)erzoening ... dat de vriendschap in een relatie hersteld wordt, nadat er een breuk is opgetreden. Deze relatie kan zijn tussen twee of meer personen of tussen andere rechtspersonen, zoals landen; in het laatste geval gaat het vaak gepaard met een vredesverdrag." Dit bring 'n verdere dimensie ter sprake: dat daar hernude vrede moet kom, dat verhoudinge (vriendskap) herstel moet word; dus dat waar daar vroeër vrede en vreugde was dit opnuut bevestig moet word sodat die verhoudinge tussen mense (verbroedering) weer kan wees waar dit in die verlede was.

Dit is derhalwe belangrik om duidelikheid te hê oor wat die term versoening inhou alvorens jy op daardie pad begin loop.

Vervolgens twee verdere aspekte wat hiermee verband hou: wat die presiese aard van versoening is en die proses wat gevolg moet word om dit mee te bring. Ter illustrasie hiervan sal daarna 'n kort uiteensetting gegee word van 'n poging wat sedert 2003 in Afrikaanse geledere aan die gang is om onder taalgenote versoening te verkry. Ware versoening is inderdaad haalbaar, maar dit geskied nie outomaties nie, is die kern van die betoog. Dit verg naamlik harde en toegewyde werk.

 

2. Die aard van versoening

Uit navorsing wat gedoen is vir die boek Die storie van Afrikaans, deel 2 (2019)1 - waarin Afrikaans se Afrikageskiedenis bespreek word - het dit duidelik geword dat versoening nie met 'n towerstaf (wat geswaai word deur 'n denkbeeldige feetjie) verkry kan word nie.2 Maar in die afwesigheid van iets beter, is die versoeningsproses steeds die beste manier van doen. Dit verg naamlik heelwat werk, opoffering, inspanning en beplanning om dit suksesvol te bereik. 'n Towerstaf neem nie dit weg nie. Inteendeel.

Die vraag is nou: wat is die aard van versoening? Wat moet dit tot gevolg hê? Wat moet gebeur om mense anders te laat kyk na ou gebeure sodat daar 'n bereidheid ontstaan om deel te neem aan die proses wat gevolg moet word? Wat wil mense uit so 'n proses hê?

Uit die navorsing het die onderstaande aspekte na vore gekom. Dit is uiteraard nie 'n volledige prentjie nie, maar dit skets reeds dit wat hier op die spel is, naamlik dat daar 'n manier gevind moet word hoe 'n klimaat geskep kan word sodat mense na mekaar kan uitreik. Om so 'n manier te vind, vra denke en optrede. Dit moet egter nie beskou word as 'n templaat vir alle gebeure wat versoening verg nie. Dit is wat ter sprake was toe bepaal wou word wat nodig is om die Afrikaanse gemeenskap met mekaar te versoen, dit wil sê hoe om brüe te bou wat die verlede weens die invoer van apartheid as politieke filosofie afgebreek het. Wat hou dit in?

Dit hou eksplisiet die volgende in: Een party (A) voel of is verontreg deur 'n ander party (B). Dit lei tot wrewel, erge woede, opstand, vyandskap onder party A om die wrewel, ens. uit te druk, te verwoord. Party B het vir 'n lang tyd die voordeel getrek van die onreg wat aan party A gedoen is. Met die verloop van tyd kom lede (selde die hele party) van party B tot die besef dat dit wat met party A gebeur het, nie op morele, etiese, politieke en menswaardigheidsredes geregverdig kan word nie. Daar vind dan 'n uitnodiging van hierdie lede plaas na lede van party A ten einde 'n middegrond te vind vanwaar daar na mekaar uitgereik kan word, sodat vyandskap kan oorgaan in vriendskap. Dit neem egter 'n lang tyd omdat die pyn (impak van die onreg) wat lede van party A aangedoen is, eers verwerk (insig kry in waarom dit gedoen is) moet word voordat daar 'n bereidheid ontwikkel om met lede van party B in gesprek te tree.

Die agterdog en wantroue wat onder lede van party A heers oor waarom dit nodig is om met lede van party B te praat, moet ook eers uit die weg geruim word. Dit is selde maklik omdat die wrewel op die agtergrond bly broei. Mettertyd word tog 'n klimaat opgebou waarin lede van party A bereidheid aandui om wel met lede van party B in gesprek te tree. Met die verloop van tyd kan lede van partye A en B mekaar sodanig begin vertrou dat daar 'n ontvanklike klimaat vir gesprek ontstaan. Eers dán begin die proses in alle erns. Dit verg besondere doelbewuste stappe van beide partye om te kan vorder tot op hierdie vlak en hierna verder.

Dus: die aard van versoening behels (a) die erken van 'n probleem deur twee partye en (b) die poging van een kant om aktief reg te maak wat verkeerd geloop het (herstel verhoudinge) met die ander party. Dit verg geduld (om die proses te laat deurloop), wysheid (wat die regte stappe is om te volg), insig (besef dat wat verkeerd geloop het, wel herstel kan word; die wete dat die proses vertraag kan word of kan platval), tyd (haas jou langsaam, baie langsaam), leierskap (persone wat bereid is om voor te loop), en ook die bereidheid van beide kante (maar veral die verontregte kant) om saam 'n afgebreekte brug te herstel.

In hierdie verband moet die volgende in ag geneem word:

Besef dat dit wat (gaan of moet) gebeur 'n keuse is, op persoonlike maar ook op gemeenskaplike vlak.3

Besef dat dit wat gaan gebeur gevolge gaan hê en dat jy bereid moet wees om die uitkoms te aanvaar.

Besef dat dit wat gaan gebeur jou uit jou gemaksone gaan haal.

Eerlikheid aan beide kante is 'n gegewe, maar tegelykertyd ook 'n verpligting.

Elkeen wat deelneem aan die proses het 'n bydrae te lewer.

Daar moet 'n wil wees om te versoen.4 Daarsonder is geen uitkoms moontlik nie.

Versoening op sigself is 'n wedersydse visie wat gedeel moet word.

Daar moet nie getwyfel word oor die versoeningsvisie nie. Bly daarop gefokus, as iets wat gedoen moet word.

Dit help nie om te dink dat dinge vanself sal regkom nie. Daar sal dan niks van die proses kom nie.

Wees bewus daarvan dat die verlede nie sal weggaan as jy dit ignoreer nie, want dit kom spook later weer by jou.

Dit help nie om die verlede te begrawe nie. Werk daarmee, verwerk dit.5

Ons is mense en het foute gemaak - aan albei kante van die spektrum. Wees deeglik bewus daarvan.

Wees bereid om jou aandeel in die totstandkoming en/of instandhouding van die onreg te erken, selfs al was jy nie direk daarby betrokke nie.

Om skaam te wees oor ongeregtighede van die verlede is nie 'n fout nie, want skaam wees beweeg 'n mens tot 'n reaksie - wat positief en uitreikend kan wees.

Bereidheid om skuld of aandeel te erken en bereidheid om te vergewe is belangrike komponente van die proses.

Bou 'n nuwe geskiedenis, een waarin die regstelling weerspieël word.

Hierdie lysie is nie uitgeput nie en daar kan beslis nog baie hierby gevoeg word. Verskeie publikasies (boeke, artikels, verhandelinge, proefskrifte) oor versoening as tema is beskikbaar vir verdere insae. Vir wat met hierdie kort bydrae beoog word, is dit egter voldoende omdat ek wil uitlig dat versoening iets verg om te kan slaag.

 

3. Die proses van versoening

Hier bo is kortliks enkele aspekte uitgelig wat 'n mens help om beter te begryp wat ter sake is as versoening plaasvind en veral wat dit in die praktyk inhou: dat daar naamlik besliste optrede en fokus nodig is om dit wel te bereik.

Maar watter stappe moet geneem word? Weer eens enkele doendinge wat uit die navorsing vir Die storie van Afrikaans, deel 2 na vore gekom het. Hiervolgens gaan dit om proses (hoe iets verloop) en produk (uitkoms van die proses). Die een is afhanklik van die ander. Versoening moet tot herstel lei en dit geskied nie sommer net so nie. Versoening as proses durf nie misluk nie, en daarom is voorafkennis en insig nodig om die proses te bestuur en te stuur. Die onderstaande aspekte kan in hierdie verband van nut wees.

Wees bewus daarvan dat 'n bepaalde proses nodig is om die ongeregtighede van die verlede te heel. Niks gebeur vanself nie.

Die proses moet 'n beplande uitkoms (korreksie) hê. Daar moet dus 'nproduk wees.

Hierdie proses móét plaasvind - dit kan nie geïgnoreer word nie. En daar kan ook nie gewag word dat dit sonder aanpor sal begin nie.

As die proses nie plaasvind nie, gaan dit tot nuwe wrywing en stryd onder die betrokke partye lei.

Gebruik dieselfde gebeure (in hierdie geval iets soos apartheid) as vertrekpunt sodat daar 'n gemeenskaplike vertrekpunt is. Gemeenskaplike geskiedenisbelewing is derhalwe nodig.

Die proses vra samewerking (aktiewe deelname) van twee kante af.

As net een kant wil deelneem en die ander party nie, moet die proses gestaak word en eers hervat word as daar 'n behoefte daarvoor is. Onwillige vennote is die doodskoot vir enige proses. Maak daarom vooraf seker almal wil deelneem en is bereid om na mekaar te luister.

Moenie toelaat dat haat en bitterheid die proses se verloop vertraag nie. Haat en bitterheid kan vertroetel word en dit lei tot 'n breuk in die proses nog voordat dit eens begin het.

Versoening behels dialoog (praat en praat en ...) en ook 'n gewilligheid om deel van die dialoog te wees.6

Mense moet met mekaar praat en veral na mekaar luister. Dit help om onderlinge begrip vir mekaar se agtergronde, behoeftes, vrese, oorsaak van woede en drome vir die toekoms te vestig.7

Praat met mekaar oor die verlede en oor elkeen se aandeel daarin.8

Wees openlik, eerlik en opreg met mekaar en wees bereid om uit die verlede te leer.9

Soms is swyg ook belangrik om die proses te laat deurloop veral as dit blyk dat die proses op 'n doodloopstraat kan uitloop weens onderlinge verskille.

Versoening moet tot bemagtiging van die lydende party lei. Die verontregte persoon moet beter af wees as wat dit vroeër die geval was.

Restitusie (selfs finansieel) kan deel van die uitkoms van die proses wees. Dit gaan hier dus om herstellende geregtigheid en nie om uitgestelde geregtigheid nie. Dit moet gou gebeur en nie die "een of ander tyd" nie.

Aanspreeklikheid of verantwoordelikheid vir die oortreding moet aanvaar word.10Die spreekwoord "truth sets you free" is hier die resep.

Hierdie proses gaan tyd neem (moontlik twee/drie generasies).

Hierdie proses vra geduld.

Versoening vra dat stories gedeel word sodat mense meer van mekaar kan leer.11

Raak betrokke by inisiatiewe om die proses aan te help.

Moenie wag op instansies om die leiding te neem nie, maar reik self uit om dit waar te maak.

Wees bereid om te vergewe sodat sáám gebou kan word aan 'n toekoms.

Vergifnis beteken egter nié dat vergeet word nie. Dit mag nooit die geval wees nie. 'n Mens kan nie "maar net aangaan en vergeet van die verlede nie".

Vergifnis kan traumaties wees omdat dit tot persoonlike keuses en optredes lei, maar dit is dan deel van 'n proses om vrede te maak met die verlede.

Besef dat hieruit 'n gesamentlike nuwe verhaal geskryf moet word.

Ware versoening kan lei tot 'n beter en inniger verhouding tussen persone as in die verlede.

As daar 'n afname in versoeningsinisiatiewe is, moet dit heraktiveer word.

As dit blyk dat die gaping tussen die partye te groot is, kry iemand wat as fasiliteerder in die gesprek oor die verlede kan optree, want soms het 'n proses 'n middelman nodig om te kan vorder.

Versoening en regstellende geregtigheid is meestal 'n kwessie van geloof, 'n reis wat saam met ander aangepak moet word.

Die oudkoerantman en tans hoof van aktuele sake van kykNet, Tim du Plessis,12 waarsku wel dat versoening te ver gevoer kan word. Dit kan dus te veel na die een kant toe oorhel en sodoende die proses tot stilstand bring. As daar aangehou word om mense te verwyt en te blameer vir foute sonder om die gewilligheid te toon om te luister, word die klimaat vir versoening al hoe moeiliker. Dit kan tot 'n breekspul lei, wat dan baie werk, energie en entoesiasme ongedaan kan maak en mense die vrymoedigheid kan ontneem om weer aan so 'n proses deel te neem. Om weer daar te kom, gaan baie tyd en geduld verg. Daarom moet die geleenthede wat opduik, wel benut word.

Daar is derhalwe 'n fyn balans nodig tussen blameer en oordeel aan die een kant en oormatige fyngevoeligheid en skuldgevoelens aan die ander kant. Die middelgrond moet die vertrekpunt asook die mikpunt wees, en dit moet ook van die begin af wees waar 'n mens wil uitkom. Dit is moontlik as daar 'n gewilligheid is om tog te luister na mekaar, want sonder luister (hoor wat die ander persoon sê) en hoor (verstaan wat die ander persoon sê) is geen uitkoms moontlik nie. Hoor en luister moet dan tot optrede lei, soos deur verantwoordelikheid te aanvaar vir gebeure, en dit moet tot berou kan lei. Die onderstaande aanhaling vat dit mooi saam (toepaslike woorde vir hierdie artikel word gekursiveer):

Om werklik versoening te kan hê, moet daar verantwoordelikheid vir (die) oortreding geneem word en dus opregte berou ook wees. ... Daar kan nooit vergifnis wees sonder die neem van verantwoordelikheid nie. Indien ek teen my broer sondig en vergifnis wil hê, moet ek eers opreg jammer wees oor wat ek gedoen het, en dan teenoor hom bely dat ek hom te na gekom het en vergifnis wil hê. Daarna kan hy my van harte vergewe en kan daar ware versoening tussen ons wees. Nadat versoening plaasgevind het, is die verhouding tussen twee partye nie net herstel nie, maar in baie gevalle baie inniger en opreg.13

Dit is ook belangrik om te aanvaar dat as daar versoening is alle probleme in die land of in 'n gemeenskap nie eensklaps en outomaties opgelos is of sal ophou nie. Soos reeds hier bo genoem, is versoening hoegenaamd nie as gevolg van die swaai van 'n mitiese towerstaf nie, maar van harde en toegewyde werk, heel dikwels "agter die skerms". Dit is egter 'n manier om geregtigheid te herstel, om mense sover te kry om deel te neem aan die proses van versoening sodat daar 'n wedersydse uitreik na mekaar kan plaasvind. As resultaat kan dit vreedsame saambestaan in 'n verskeurde land of gemeenskap oplewer.

 

4. Versoening in die Afrikaanse taalgemeenskap

"Die Diensplig-generasie en die 16 Junie-generasie moet versoen." (P Steyn, 2016b:1)

Die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR) op Saterdag 24 Mei 2008 in Wellington in die Wes-Kaap was die resultaat van 'n proses wat sedert Maart 2003 aan die gang was. Hierdie proses illustreer baie goed hoe versoening in die praktyk kan verloop.

Let wel: Dit is belangrik om hier te meld dat versoening nog geensins volledig in die Afrikaanse taalgemeenskap gevestig geraak het as gevolg van die ATR-proses nie, maar dit wat reeds uit die proses na vore gevloei het, is belangrike bakens op 'n versoeningspad. Daar lê wel nog baie werk voor vir alle betrokkenes voordat 'n mens sou kon sê daar is ware versoening.

Die gebeure rakende hierdie proses (wat geduur het van 2003 tot 2008) is in verskeie publikasies al goed beskryf, onder meer in die artikel "Op pad van 'n verdeelde na 'n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening" van Carstens (2013) asook in die boek Die storie van Afrikaans, deel 2 (2019; hoofstuk 22) deur Carstens en Raidt en daar word daarom nie verder op detail ingegaan nie.14Lesers word daarheen verwys vir meer besonderhede oor stappe, fases, uitkomste, ens. omdat ruimte nie toelaat dat dit volledig hier beskryf word nie.

Die vraag mag nou wees hoekom die ATR so 'n belangrike rol speel? Die antwoord is betreklik maklik: Die ATR, en veral die proses wat gelei het tot die stigting van die ATR, het as doel gehad die geleidelike herstel van vertroue in mekaar as mense - dus onderlinge mense-verhoudinge - en om dan aan die hand daarvan 'n gerigte versoeningsproses aan die gang te sit. Dit is naamlik mense wat na mekaar moet uitreik sodat daar stadigaan die basis gevorm kan word vir saamwerk met die oog op 'n gemeenskaplike doelwit: 'n inklusiewe Afrikaanse gemeenskap, 'n gemeenskap wat niemand meer uitsluit nie. So 'nproses neem tyd en die feit dat dit in net meer as vyf jaar kon gebeur, is reeds 'n aanduiding van die behoefte wat in die sprekersgemeenskap bestaan het om nader aan mekaar te beweeg. Dat dit kon gebeur het in die lig van gebeure in die land bly steeds 'n enorme deurbraak en ook prestasie, gegewe die negatiewe agtergrond waarteen alles afgespeel het.

Waarom was dit nodig om die gebroke bande in die Afrikaanse gemeenskap te herstel? Weer eens is die antwoord betreklik eenvoudig. Weens die omvang en impak van apartheid in die land het daar 'n groot gaping in verhoudinge tussen die wit, bruin en swart sprekersgemeenskap van Afrikaans ontstaan.15 Dit is iets wat nie in 'n kort tyd herstel kan word nie. Daar moes dus 'n atmosfeer/klimaat geskep word waar die geleentheid tot gesprekke, tot praat, hoor en luister, benut kon word om ten minste te probeer om erge wantroue uit die weg te ruim. Dit was ondenkbaar dat die gemiddelde bruin spreker van Afrikaans die gemiddelde wit spreker van Afrikaans sou vertrou wat so 'n proses sou wou inisieer. Wat doen 'n mens dan?

Daar was 'n probleem (apartheid) wat skeiding tussen (wit en bruin) sprekers van Afrikaans gebring het. Op 'n stadium was daar 'n behoefte onder wit sprekers van Afrikaans om uit te reik na bruin sprekers van Afrikaans met as doel die herstel van menseverhoudinge onder sprekers van dieselfde taal. Die vyandskap teenoor wit sprekers was tasbaar en die uitreik van wit sprekers na hulle is met wantroue en agterdog bejeën. Die verwyt was duidelik: "Noudat Afrikaans in die moeilikheid is [ná 1994], is ons skielik goed genoeg om mee te praat." Woede oor die pyn van apartheid was voelbaar.

Dit maak nie eintlik saak hoe ons dit stel of selfs wil ontken nie, die feit is dat apartheid soos 'n berg tussen wit, bruin en swart gelê het en dat wit sprekers van Afrikaans gediskrimineer het (doelbewus of onbewus) teen bruin en swart sprekers van Afrikaans, bloot op grond van die verskil van die kleur van hulle vel.16 Wit is gereken as die meerdere en bruin/swart as die mindere. Die tragedie hiervan was dat daar aan beide kante van die spektrum sprekers van Afrikaans was en dat velkleur hulle verdeel het. Dat dit groot hartseer, lyding en enorme skade aan menseverhoudings meegebring het, is nie te betwyfel nie. Die klimaat vir gesprekke was dus nie positief nie.

In elke proses is daar egter voorlopers, mense wat bereid is om die verkennings- en aan-voorwerk te doen om met so 'n proses te begin.17 Leierskap is dus van groot belang, met ander woorde mense (wat organisasies kan verteenwoordig) wat die moed het om na mekaar uit te reik ten einde 'n proses kans te gee om te begin. Iemand uit een party nader 'n leier uit die ander party en tussen hulle ontstaan 'n dinamika wat die konteks skep waarbinne gesprekke kan begin. Aan beide kante moet daar persone geïdentifiseer en betrek word wat die kerngroepe kan vorm vir die proses. In die geval van Afrikaans was daar gelukkig leiersfigure uit die bruin en wit gemeenskappe wat hulle bereidwilligheid getoon het om die proses ten minste 'n kans te gee nadat 'n soortgelyke proses in 1998 misluk het.18

Daarna begin 'n fase van konsultasie met belanghebbendes, gesprekke met persone asook organisasies wat moontlik betrokke sou kon raak, talle opvolggesprekke, vergaderings, berade (in die geval van die ATR was daar etlike gefokuste nasionale berade tussen 2004 en 2007), konferensies, opvolgberade en -konferensies, die aanwys van 'n kerngroep (tussentydse bestuur) uit beide partye om die proses vorentoe te neem. Met verloop van tyd ontstaan daar wedersydse vertroue tussen die betrokkenes en ook organisasies en dit skep dan die klimaat en ruimte vir voortgesette gesprekke en dit wat daaruit voortspruit.

Die ATR is deur al hierdie fases via minstens drie tussentydse leiersgroepe ('n voortsettings-komitee, 'n Nasionale Forum vir Afrikaans, en 'n kernleiersgroep wat aangewys is deur belanghebbende organisasies) totdat uiteindelik op 24 Mei 2008 gesamentlik besluit is om die ATR tot stand te bring. Dit was slegs moontlik omdat daar verskeie konkrete stappe (dinge wat gedoen is) geneem is om tot op daardie punt te kom. Dus: praat, konsulteer, beplan en doen. Dat die leuse van die ATR "bemagtig, bevorder, beskerm" is, is derhalwe nie vreemd nie omdat dit die doel van die ATR is om deur hierdie aksies (doenstappe) saam te bou aan 'n gesamentlike en gemeenskaplike toekoms vir die Afrikaanse gemeenskap.19 En sodoende word 'n inklusiewe prentjie van Afrikaans gevorm - en dit is dan gebou deur die mense sélf, niemand anders nie.

Die ATR (wat meer as 35 organisasies verteenwoordig)20 en sy lidorganisasies doen steeds goeie werk in hierdie verband deur voortdurend die klimaat te skep - en in stand te hou waar nodig - vir die plaasvind van die proses as sodanig, maar die bydraes van individue bly te alle tye van kernbelang. Dit durf nie 'n geval te wees nie van "hulle" (bedoelende organisasies) doen dit so goed dat "ek" nie ook iets hoef te doen nie. Allermins. Elke individuele klein treetjie op die versoeningspad dra steeds by tot onderlinge versoening op die lang termyn. En op hierdie wyse word 'n nuwe inklusiewe verhaal vertel en geskep.21

Die voorstel van wyle Conrad Sidego (2016), oudambassadeur, -koerantman en -politikus, in hierdie verband maak derhalwe sin, naamlik dat daar 'n "behoefte aan 'n 12de amptelike taal, die taal van versoening" is, een wat konstant deur almal "gepraat" moet word.22 Dit is 'n geval van "Kö laat ons sing" in die gevleuelde woorde van wyle prof. Adam Small, maar dan in die besonder met die aanpassing "Ko laat ons almal sáám sing en dans". Slegs dan is daar ware versoening in Afrikaans bereik, want dit gaan 'n "grootsheid" van alle Afrikaansspreken-des verg om oor dit wat ons geskei het na mekaar uit te reik.23

 

5. Ten slotte

Versoening mag nie net 'n mooiklinkende woord wees nie. Dit moet ook konkreet gemaak word. En dit geskied wanneer mense mekaar leer ken en vertrou sodat daardeur afgebreekte brúe herbou kan word. Om tot op hierdie punt te kom, verg toewyding aan die ideaal van herstel, regstel en uitreik na mekaar. Dit bly steeds 'n keuse of mense hierdie roete wil neem, maar as mense nie wil deelneem aan die moeisame en veeleisende reis nie, is die alternatief moeilik om in woorde uit te druk. As 'n mens egter nie 'n verhaal vir jou gemeenskap het wat hoop gee nie, moet daar self een geskryf word en moet daar nie gewag word dat iemand anders dit vir jou doen nie omdat daar nie eienaarskap van die uitkoms geneem word nie.24 Dit is wat sedert 2003 in die Afrikaanse gemeenskap gebeur het. Sodoende het die versoeningsverhaal van die ATR se opkoms en ontstaan vir die Afrikaanse gemeenskap 'n storie van hoop en positiwiteit geword. En dit is iets waarop gebou kan word.

Let Wel: Die bydrae hier bo is nie bedoel as bloudruk nie. Dit is eerder die beskryf van 'n proses wat wat deurloop is om tot 'n bepaalde uitkoms te kan kom, een wat geslaag het en daartoe gelei het dat 'n inklusiewe en verteenwoordigende Afrikaanse liggaam tot stand gekom het. In hierdie opsig is dit 'n suksesverhaal van versoening en daarom word dit hier gedeel.

 

BIBLIOGRAFIE25

Burger, I. 2016. Geen kortpad na ware versoening. Beeld, 22 Junie 2016, bl. 21.         [ Links ]

Carstens, WAM. 2012. Versoening in Afrikaans - Is dit haalbaar? DF Malherbe-gedenklesing 31. Bloemfontein, Universiteit van die Vrystaat, 28 Mei 2012. Acta Varia.         [ Links ]

Carstens, WAM. 2013. Op pad van 'n verdeelde na 'n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening. LitNet Akademies, 10(1):447-483.         [ Links ]

Carstens, WAM & M le Cordeur (reds.). 2016, 2019 (2de uitgawe). Ons kom van vêr. Kaapstad: Naledi Online.         [ Links ]

Carstens, WAM & EH Raidt. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van 'n taal. Deel 2: Die Afrikageskiedenis van Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Cilliers, S. 2011. Een van daardie "wow"-oomblikke. Afrikaanse organisasies deel nou hulle kennis. Beeld, 3 Feb. 2011, bl. 11.         [ Links ]

Cilliers, S. 2014. Apartheid: mens kan lyding nie gou vergeet. Beeld, 10 Maart 2014, bl. 2.         [ Links ]

De Freitas, M. 2012. Modelle se berou eggo deur nasie. Die Burger, 16 Mei, bl. 10.         [ Links ]

Du Plessis, T. 2013. Afskeid van versoening. Weekliks, Rapport, 14 Jul. 2013, bl. 2.         [ Links ]

Hanekom, B. 2016a. Die 5 V's agter die groot R. Rapport Weekliks, 31 Jan. 2016, bl. 5.         [ Links ]

Hanekom, B. 2016b. Restitusie is ten diepste 'n geloofsaak. Geplaas 16 Nov. 2016. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/restitusie-is-ten-diepsten-geloofsaak-20161115#.         [ Links ]

Harris, V. 2017. What Happened To The Reconcilation Project? Geplaas 27 Sept. 2017. http://www.huffingtonpost.co.za/verne-harris/what-happened-to-the-reconcilation-project_a_23223150/?utm_hp_ref=za-voices.         [ Links ]

James, W 2012. We so easily talk past each other. The Star, 14 Jul. 2012, bl. 14.         [ Links ]

Jones, C. 2013. Versoening: g'n kortpad. Die Burger, 28 Des. 2013, bl. 15.         [ Links ]

Jordaan, W. 2013. Kennis van gister nodig vir beter toekoms. Die Burger, 17 Des. 2013, bl. 18.         [ Links ]

Kok, K. 2017. Verhale van hoop nou nodig. By, Beeld, 18 Feb. 2017, bl. 18.         [ Links ]

Kuyler, D. 2016. Moenie dat verlede jou agterhaal. Geplaas 16 Sept. 2016. http://www.netwerk24.com/Stemme/Sielsgoed/dawid-kuyler-moenie-dat-verlede-jou-agterhaal-20160916        [ Links ]

Lotter, GA. 1996. Forgiveness in Post-Apartheid South Africa. Acta Theologica, 16(2):120-132.         [ Links ]

Lotter, GA. 2000. Versoening en moontlike versoeningsimbole in die hedendaagse Suid-Afrika. Koers, 65(2): 223-235.         [ Links ]

Luther, J, F Pheiffer & RH Gouws (reds.). 2015 (6de, hersiene uitgawe). Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Nel, R. 2016. Vergifnis is 'n keuse wat 'n mens uitoefen. Beeld, 16 Maart 2016, bl. 11.         [ Links ]

Nel, R. 2017. Versoening is pad na nuwe bestemming. Beeld, 10 Mei 2017, bl. 19.         [ Links ]

Prinsloo, KP (red.). 2006a. Op pad na 'n Taalstrategie vir Afrikaans. Verslag gereproduseer deur Content Solutions en versprei deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Maart 2006.         [ Links ]

Prinsloo, KP. 2006b. Towards a language strategy for Afrikaans: the process before, during and after the Afrikaans Language Indaba of 2004 in Stellenbosch. In Webb, VN & LT du Plessis (eds). 2006. The politics of language in South Africa. Pretoria: J.L. van Schaik.         [ Links ]

Prinsloo, KP (red.). 2008a. Die Afrikaanse "ons'' en die nodigheid van 'n Afrikaanse Taalraad. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, April 2008.         [ Links ]

Prinsloo, KP. (red.). 2008b. Die Afrikaanse Taalraad kom tot stand. Verslag gereproduseer deur CRINK en versprei deur die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns, Nov. 2008.         [ Links ]

Rademeyer, A . 2014. 'Inklusiwiteit sal Afrikaans almal se taal maak.' Beeld, 18 Jan. 2014, bl. 6.         [ Links ]

Rooi, J. 2015a. Eerder kake wat swaai as appels. Rapport Weekliks, 14 Jun. 2015, bl. 6.         [ Links ]

Rooi, J. 2015b. Óns moet versoen, nie die regering, sê Vlok. Rapport, 20 Des. 2015, bl. 6.         [ Links ]

Rooi, J. 2015c. '76-opstande se twee kante ontmoet. Rapport, 20 Des. 2015, bl. 6.         [ Links ]

Rooi, J. 2015d. 'SA se mense weet te min van mekaar'. Rapport Weekliks, 12 Des. 2015, bl. 3.         [ Links ]

Salzwedel, I. 2012. Onvertelde stories van Afrikaans. Pretoria: LAPA.         [ Links ]

Scholtz, L. 2014. Laat ons net verder vorder. Die Burger, 13 Jun. 2014.         [ Links ]

Scholtz, L. 2015. Vat nou hande oor Afrikaans. Die Burger, 3 Des. 2015, bl. 16.         [ Links ]

Sidego, C. 2016. Ons benodig 'n '12de' amptelike taal. Rapport Weekliks, 10 Julie 2016, bl. 7.         [ Links ]

Steyn, JC. 1998. Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van 'n 'Afrikaanse Oorlegplatform'. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 38(4):253-264.         [ Links ]

Steyn, P. 2016. Kerke vat oud-troepe na Soweto. Beeld, 3 Mei 2016, bl. 1.         [ Links ]

Titus, D. 2016. Sleutel tot oorlewing. Beeld, 4 Mei 2016, bl. 23.         [ Links ]

Van Rooi, L. 2017. Stories kan ons bymekaar bring. Rapport Weekliks, 5 Maart 2017, bl. 4-5.         [ Links ]

Van Wyk, P. 2014. 'Dán bly jou se hart ANC'. Beeld, 8 Mei 2014, bl. 5.         [ Links ]

Wessels, L. 2012. My voete loop na Worcester, waar versoening lewe kry. By, Beeld, 20 Okt., bl. 4-5.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-05-16
Goedgekeur: 2023-10-15
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

Wannie Carstens het aan die einde van 2017 as professor in Afrikaanse taalkunde aan die NWU, Potchefstroomkampus, afgetree. Hy is egter steeds 'n buitengewone professor in die navorsingsfokusarea 'Tale en Letterkunde in die Suid-Afrikaanse Konteks' aan die NWU. Hy is 'n NNS-gegradeerde navorser (C1) wat skrywer of medeskrywer is van ses boeke oor die Afrikaanse taalkunde, soos Norme vir Afrikaans (2018, 6de uitg.) en Die storie van Afrikaans (2017, 2019). Hy was ook mederedakteur van vyf standaard-boeke oor die Afrikaanse taalkunde, soos Kontem-porêre Afrikaanse Taalkunde (2014, 2017), en die nuutste Toegepaste taalkunde in Afrikaans (2022). Hy is (reeds twee keer) 'n ontvanger van die gesogte CJ Langenhoven-toekenning vir Afrikaanse taalkunde.
Wannie Carstens retired as professor of Afrikaans linguistics at the North West University (NWU), Potchefstroom Campus, at the end of 2017. He however still is an extraordinary professor in the research focus area on 'Languages and Literature in the South African Context' at the NWU. He is a NRF rated researcher (C1) who is author or co-author of six books on Afrikaans linguistics, such as Norme vir Afrikaans (2018, 6th ed.) and Die storie van Afrikaans (2017, 2019). He also co-edited five standard books on Afrikaans linguistics, such as Kontemporêre Taalkunde (2014, 2017), and the recently published Toegepaste taalkunde in Afrikaans (2022). To date, he has been a recipient of the prestigious CJ Langenhoven award for Afrikaans linguistics on two occasions.
1 Carstens, WAM & EH Raidt 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van 'n taal. Deel 2: Die Afrikageskiedenis van Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
2 Aangesien die primêre navorsing oor die onderwerp vir die bogenoemde boek gedoen is, is daar waar dit ter sake is met vrymoedigheid gebruik gemaak van die materiaal in die boek om hierdie artikel saam te stel.
3 "Ons almal kan besluit oor ons toekoms en die toekoms van ander, selfs oortreders, oënskynlike vyande, slagoffers. Dit is 'n keuse vir vergifnis, versoening en heling - 'n keuse vir die goeie." (Nel, 2016:11) (Eie kursivering.)
4 "I worry that we lack the will and interest to learn about each other in a manner that will foster reconciliation, the main quality necessary for lasting stability, prosperity and national unity." (James, 2012) (Eie kursivering.)
5 "Ons almal weet wat verkeerd gegaan het, wit en swart. Ons moet eerlik wees en weet om wat vorentoe te vermy." (Scholtz, 2014) (Eie kursivering.)
6 "Suid-Afrika het ... nog altyd gewerk as mense met mekaar gepraat het - veral as daar ook geluister én gedoen is. (...) Daar kan egter nie opgehou word om te praat nie. Op die voorwaarde dat die magshebbers dit nie misbruik nie, luister en dat dit uiteindelik uitloop op praktiese oplossings vir dit wat pla." (Rooi, 2015:6) (Eie kursivering.)
7 "We need knowledge of each other. We need insight into one another's circumstances. We need understanding. We need empathy. We need to be able to see the world through each other's eyes. It will not be easy. It will take time. It requires hard work. It requires commitment and real investment. We need to take an interest in the histories, languages, experiences and cultures of the people around us [...]. To achieve reconciliation's objectives, why not ask your neighbour to tell their stories so that everyone can begin to give a damn about one another's welfare." (James, 2012) (Eie kursivering.)
8 "Natuurlik is dit belangrik dat jy toegang tot jou verlede vol mislukkings, skandes, teleurstellings en verflenterde drome het. Maar net so dat die kennis van gister jou met groter insig en sterker daadkrag betrokke maak by 'n toekoms; 'n geskiedenis wat nog deur jou geskryf moet word." (Jordaan, 2013:28) (Eie kursivering.)
9 "Dit gaan ... ten diepste oor die openheid om met mekaar te soek na ons nuwe bestemming anderkant die pyn, magteloosheid en die bitter verlede. (...) Maar dit moet nie bloot op nasionale vlak tussen politieke leiers gebeur nie. 'n Pad saam moet ook begelei word in ander instellings soos op ons kampusse, op die skoolterrein, in die huis, kerk, moskee, tempel, op ons sportvelde, in ons briewekolomme, op sosiale media. Dis in die oop ruimtes en ruigtes waar die pad van genesing vir ons ontvou. Kom ons val in die pad." (Nel, 2017:19) (Eie kursivering.)
10 "Elke Suid-Afrikaner dra 'n verantwoordelikheid om ons nuwe nasie te bou; om alle Suid-Afrikaners te versoen en te verenig; om mekaar te verstaan, veral mense uit 'n ander gemeenskap (as ons eie)." (De Freitas, 2012) (Eie kursivering.)
11 Vgl. Van Rooi (2017) asook die boek Ons kom van vêr van Carstens & Le Cordeur (reds.) (2016, 2019) waarin van hierdie stories gedeel word. Ook in Salzwedel se boek Onvertelde stories van Afrikaans (2012) kom van hierdie lank versweë stories na vore. Onbekend is onbemind lui die spreekwoord.
12 Oudredakteur van Beeld en Rapport.
13 www.dievryburger.co.za/2013/12/wat-is-versoening/
14 Sien wel ook verder Prinsloo (2006a, 2006b, 2008a, 2008b) vir meer oor die proses en die uitkoms.
15 "... 'n stelsel soos apartheid veroorsaak erge sielkundige trauma en (...) mense (ontwikkel) 'n 'aangeleerde hulpeloosheid' (...) wanneer hulle generasies lank as minderwaardig behandel word. ... Die gevolge van apartheid word egter steeds gevoel. 7 miljoen mense is gedwing om te verskuif, gesinne het versplinter weens die trekarbeidstelsel, swart leiers is uitgesluit en daar was veront-mensliking. Baie swart mense het trauma hieroor... Die psigososiale gevolge hiervan is magte-loosheid, bestaansangs, woede, gebrekkige verdraagsaamheid, toename in misdadigheid en morele verval. (Prof. P. Joubert, aangehaal in Cilliers, 2014:2) (Eie kursivering.)
16 "As jy een van daai is wat dompaste gedra het, 'n permit moes loep vra as jy wou gaan kuier en in die straat [deur wit mense] rondgestamp is oorlat jy swart is, dan bly jou se hart ANC tot jy jou kop loep neerlê vir oulaas. ... Ons het die wit kinders grootgemaak, to the detriment of our own. Daarom, my kind, oor daai lang pad, het ek vanoggend ANC gestem. Die geskiedenis is belangrik." (Naniwe Hartlief van Eldoradopark, in 'n onderhoud in Van Wyk, 2014:5) (Eie kursivering.)
17 Vgl. Cilliers, S. 2011. Een van daardie "wow"-oomblikke. Afrikaanse organisasies deel nou hulle kennis. Beeld, 3 Feb. 2011, bl. 11.
18 Vgl. Steyn, JC. 1998. Nuwe aktiwiteite rondom Afrikaans: die totstandkoming van 'n 'Afrikaanse Oorlegplatform'. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 38(4):253-264.
19 "... die tyd het aangebreek dat die wit, bruin en swart Afrikaanssprekers regtig hande vat. Ons sal sekerlik nie altyd oor alles saamstem nie, en ons sal verskillende invalshoeke hê. ... Solank ons besef ons het dieselfde moeder. En haar naam is Afrikaans (in al haar variante)." (Scholtz, 2015) (Eie kursivering.)
20 Vgl. https://www.afrikaansetaalraad.co.za/lidorganisasies/
21 "Afrikaners en hul geskiedenis is een ding. Afrikaanssprekendes, bruin mense, swart African-mense, Moslem-mense, Indiër-mense, wit mense en deesdae African-buitelanders en hulle belewenisse as Afrikaanse taalsprekers is 'n ander" (Titus, 2016:23) (Eie kursivering.)
22 "Om onse Afrikaans te red, het ons 'n behoefte aan 'n 12de amptelike taal, die taal van versoening. 'n Versoening wat 'n grootsheid van ons almal sal verg. Groter as die oordadigheid waarteen die jeug 40 jaar gelede betoog het en sommige met hulle lewe geboet het. 'n Gees van vergifnis en kwytskelding. 'n Vergewensgesindheid van die voorheen verdruktes en 'n verootmoediging van die voorheen bevoordeeldes." (Sidego, 2016:7) (Eie kursivering.)
23 "Afrikaans was die taal van die onderdrukker, maar berge is versit om dit 'n versoeningstaal te maak. Die stigma dat dit 'n witmanstaal is, is ook die nek ingeslaan." (Dr. M. le Cordeur, soos aangehaal in Rademeyer, 2014:6) (Eie kursivering.)
24 "Die krisis van die Afrikaanssprekende gemeenskap is dat ons tans nie 'n positiewe samehangende verhaal het om te beskryf wie ons is nie. So, wat doen 'n mens as jy nie 'n verhaal het wat jou hoop gee nie?" (Kok, 2017:18) (Eie kursivering.)
25 Heelwat van die bronverwysings is na populêre artikels in koerante en webblaaie (waar resente gebeure gerapporteer word) waarin die dinamiese (vinnig ontwikkelende) aard van die versoeningsproses goed weerspieël word. Tradisionale akademiese bronne (boeke, akademiese artikels, verhandelinge, proefskrifte) neem langer om te verskyn.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons