SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue4Literary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translationAuthority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.4 Pretoria Dec. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a12 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Etiek van leeshandelinge: 'n Suid-Afrikaanse geval*

 

The ethics of reading: A South African case

 

 

JS Wessels

Departement Publieke Administrasie en Bestuur Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria Suid-Afrika. E-pos: wessejs@unisa.ac.za; Orchid ID: http://orcid.org/0000-0002-5472-7921

 

 


OPSOMMING

Skrywers skryf oor wat hulle sien, hoor, lees en ervaar. Mense lees dit en lewer kommentaar daarop. Die uiteenlopende response op dieselfde teks weerspieël hoe die lees van 'n teks kan verskil. Die diskoers wat gevolg het op 'n rubriek deur Hennie van Coller in Mei 2022 dien as voorbeeld en opper vrae oor hoe geskryf en gelees word, maar ook hoe geskryf en gelees behoort te word. Die soeke na antwoorde begin deur bepaalde vertrekpunte te openbaar in 'n oorsig van die diskoers, gevolg deur 'n besinning oor die fundamentele vertrekpunte. 'n Ontleding van geselekteerde lesinge van die Van Coller-rubriek, asook response op dergelike lesinge, volg aan die hand van 'n model van interafhanklike leesmodaliteite ten einde 'n oorwoë antwoord op bogenoemde vrae te kan gee. Dit blyk uit die lees van die geselekteerde lesings van die rubriek dat sommige mank gaan aan respek vir die letter van die rubriek se teks. Die eintlike bedoeling van die Van Coller-teks is meesal genegeer ter wille van die lees van 'n alternatiewe teks (dit wat ook uit die teks afgelei kon word). Gevolglik slaag weinig lesings daarin om daarvan sin te maak binne die konteks wat die outeur beskryf. Argumente in die aanvanklike response, sowel as latere reaksies in die verloop van die diskoers, is meesal in 'n uitsluitende trant met eenduidige logikas gevoer. Die idioom en konteks waarin die diskoers ontvou het, was dus oorwegend vyandig, aggressief en etosvreemd. Hierdie diskoers maak mens opnuut bewus van die noodsaaklikheid van 'n oop en omvattende gesprek oor sake van belang vir ons land, ons taal Afrikaans, en die toekoms van kinder- en jeugliteratuur. Só 'n gesprek is slegs moontlik binne 'n milieu van etosverwesenliking waarin almal tuis kan wees.

Trefwoorde: dekonstruktiewe lees; etiek van lees; etos; etosverwesenliking; euretiese lees; hermeneutiese lees; ideologie-kritiese lees; lees; reproduktiewe lees; Van Coller-diskoers


ABSTRACT

We are exposed to what readers think and want on a daily basis. Journalists write about what they read, see, hear, and experience. People read newspapers, magazines, articles, books, letters, and so on. Many people provide written feedback on what they read. Metaphysical considerations, ideological convictions, religious beliefs, historical circumstances, political drivers, and all kinds of personal preferences and prejudices determine how texts are handled. Publishers decide what can and should be read and therefore published, especially based on what will sell and even what should sell. Media houses also have their own prescriptions and guidelines on what to write and read, as the newspaper of your choice expects. These prescriptions are often driven by a spirit of political correctness as an issue of the day that easily becomes normative. In line with this, expectations, policies, and prescriptions regarding writing and reading are determined by institutions such as universities, government departments, and their research initiatives. These prescriptions often lead to the abdication of ethical responsibility concerning the act of writing and reading. The diverse nature of responses to the same text is a reflection of this. The discourse that followed after an opinion column by Hennie van Coller in May, 2022 serves as a good example. This piece of writing dealt with the subject matter currently featuring in Afrikaans language children's books. This discourse raises questions about how to write and read, but also about how to write and read appropriately. Even though education at all levels accepts writing and reading as a given, it is likely that the instilling of these two acts receive the least attention. How to write and read appropriately simply means that good writing and reading should be done. In the wake of this discourse, the following question arises: How was the Van Coller opinion column read, and was such reading, as well as the various resultant responses to different opinions, ethical? To answer this question, I start by revealing my own position and points of departure on the matter. An overview of the discourse is provided, followed by a reflection on the fundamental points of departure. The selected readings of the Van Coller column are then analysed using a model of interdependent reading modalities to provide a considered answer to the questions posed above. It appears from the reading of the selected responses to the column that some readings lack respect for the written text of the column. Given the sensitive issues raised about, for example, typical or "ordinary" households, or the characters portrayed in children's literature, it would appear that the true intention of the Van Coller text is mostly ignored in favour of reading an alternative text (that which could be inferred). Consequently, few readings of the text, including responses to said readings, have succeeded in making sense of the real issues raised in the Van Coller piece within the context described by the author. Attempts to identify and expose prejudices and hidden dogmas have also been hindered using an alternative text, as well as by the readers' own hidden dogmas, distorted communication, and ostensible misunderstandings. From a deconstructive perspective, several readings of the column raised and contextualised implied meanings in the text. Thus, connections between diverse starting points and different universes, "ours", "theirs", and norms from the text have been revealed. From the alternative text, the author of the column is, among other things, compared to the violent actions of an American actor, and alleged prejudices and emotions (hurt and threatened) are identified. The different ethical readings of the text succeed to some extent in finding new paths in, through, and beyond the text towards ethical realisation: being at home in Afrikaans. Arguments in response to readings are mostly conducted in an exclusive manner with unambiguous logic. The idiom and context in which the discourse, i.e. the original piece, responses to it, as well as counter responses by readers reacting to first readers of the text unfolded as either differing from or supporting the original piece, were predominantly hostile, aggressive, and ethically foreign. It was difficult to feel at home in this discourse.

Keywords: deconstructive reading; ethics of reading; ethos; ethos realisation, euretic reading; hermeneutic reading; ideology critical reading; reading; reproductive reading; Van Coller discourse


 

 

The worst readers are those who behave like plundering troops: they take away a few things they can use, dirty and confound the remainder, and revile the whole.

Nietzsche (1879: 60)

 

1. Inleiding

Ons word daagliks blootgestel aan wat lesers dink en wil hê. Joernaliste skryf oor wat hulle lees, sien, hoor en ervaar. Mense lees koerante, tydskrifte, artikels, boeke, briewe, ensovoorts. Baie mense lewer skriftelike kommentaar op wat hulle lees. Metafisiese oorwegings, ideologiese oortuigings, religieuse opvattings, historiese omstandighede, politieke dryfvere en allerlei persoonlike voorkeure en vooroordele bepaal hoe tekste hanteer word. Uitgewers besluit wat gelees kan en behoort te word en wat dus gepubliseer kan word, veral op grond van wat sal verkoop en selfs wat behoort te verkoop. Só het mediamaatskappye ook riglyne en voorskrifte oor wat om te skryf en te lees. Hierdie voorskrifte word dikwels gedryf deur 'n gees van politieke korrektheid as 'n saak van die dag wat maklik normatief kan raak. (Die tydsgees as algemeen geldende norm.) Gedienstigheid in al hierdie verbande is volgens die skeppers daarvan ononderhandelbaar.

Hoewel skryf- en leeswerk klaarblyklik op alle vlakke van onderwys as vanselfsprekend aanvaar word, word waarskynlik te min aandag gegee aan hoe dit behoort te gebeur. Hoe geskryf en gelees behoort te word, beteken gewoonweg dat daar goed geskryf en gelees moet word.

Die leeshandeling in 'n samelewing van geletterdes gaan gebuk onder verskillende belemmeringe - berekende belemmeringe wat beleidsake in verskeie kontekste insluit. Hierdie belemmeringe gaan ten diepste oor institusionele beleide en etiese voorskrifte vir die leeshandeling. Hier ter sprake is beleide en voorskrifte deur uitgewers, redaksionele besluite van die nuusmedia, die voorskrifte van 'n bepaalde wetenskaplike model en institusionele verwagtinge.

Voorts bepaal die geldende wetenskaplike model hoe gelees en geskryf moet word. Wetenskapsbefondsing is afhanklik van evaluering volgens voorgeskrewe riglyne. Aansluitend hierby, is daar die verwagtinge, beleide en voorskrifte met betrekking tot skryf en lees deur instellings soos universiteite, staatsdepartemente, en hul navorsingsinisiatiewe. Die risiko bestaan dat dergelike voorskrifte kan lei tot die abdikasie van etiese verantwoordelikheid vir die skryf- en leeshandeling. Die uiteenlopende aard van response op dieselfde teks is 'n weerspieëling van al hierdie uiteenlopende sake.

Die vraag na norme kom in hierdie verband duidelik na vore. Dit wil voorkom asof alle skrywers en lesers presies weet hoe om te skryf en te lees. Is die handelinge hoegenaamd so vanselfsprekend? Weet almal hoe daar geskryf en gelees behoort te word? Die drie woorde behoort, goed en moet het in werklikheid etiese implikasies; dit is woorde wat binne etiese verband sterk funksioneer en kern- en kragtige betekenisse het. Soos alle menslike handelinge etiese implikasies het, is dit veral ook die geval met skryf- en leeshandelinge. Albei hierdie handelinge veronderstel op 'n baie spesifieke wyse die ander of die gemeenskap wat geraak of geaffekteer word of vir wie dit spesifiek bedoel is. Wat vir ander bedoel is, behoort met die ander volledig rekening te hou.

Die diskoers wat gevolg het op 'n rubriek deur Hennie van Coller (2022a,b) in Mei 2022 is 'n goeie voorbeeld van lesinge van wat geskryf is, en opper die vraag oor norme: vrae oor hoe daar geskryf en gelees word, maar ook hoe hierdie handelinge behoort te geskied. Hillis Miller se vrae soos vervat in sy werk, The ethics of reading (1987), is veral van toepassing op die Van Coller-diskoers wat handel oor kinder- en jeugliteratuur vir Afrikaanstaliges.

Die vraag is dus: hoe is die rubriek deur die verskillende lesers gelees, en was dit eties? Om hierdie vraag te beantwoord, word begin deur my eie posisie en vertrekpunte tot die saak te openbaar. Dit begin met 'n oorsig van die diskoers, gevolg deur 'n besinning oor fundamentele vertrekpunte. Voorts ontleed ek die geselekteerde lesinge van die Van Coller-rubriek aan die hand van 'n model van interafhanklike leesmodaliteite ten einde 'n oorwoë antwoord op die vraag hier bo te kan gee. Vervolgens, die rede vir hierdie artikel: Die Van Coller-diskoers.

 

2. Die Van Coller-diskoers

'n Besinning oor die etiek van die leeshandelinge word noodwendig geraak deur die situasies van onderskeidelik die skrywer van die teks wat gelees is, die tipe publikasie, die teks as sodanig, en die lesers daarvan. Die skrywer van die rubriek (soos gepubliseer op 3 en 7 Mei 2022) is Hennie van Coller, emeritus professor en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat (Litnet, 2023). Hy is eindredakteur van die gesaghebbende drieledige Perspektief en Profiel waarvan die tweede uitgawe in 2015 en 2016 in gedrukte en e-formaat uitgegee is. Hy publiseer onder meer oor literatuurgeskiedenis wat insluit, Verbintenis en venster: Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede - 'n literatuurgeskiedenis in Afrikaans en 'n hoofstuk in The Cambridge history of South African literature (Litnet, 2023). Ten tyde van die skryf van die rubriek was hy ook voorsitter van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat kort vantevore vergader het om onder meer kinder- en jeugboeke te beoordeel. Soos later berig is (Malan, Julie 2022) het drie lede van die kommissie in 'n skrywe aan die Akademievoorsitter beswaar aangeteken teen die rubriek, aangesien hulle verskil het van die menings oor (bekroonde) kinder- en jeugboeke wat in die rubriek uitgespreek is. Van Coller se voorsitterskap van die Letterkundekommissie is onteenseglik 'n belangrike kontekstuele faktor by die beoordeling van die lesinge van die rubriek.

Die tweede kontekstuele dimensie wat in ag geneem moet word, is die plek van publikasie. In hierdie geval is dit eerstens Volksblad, 'n koerant wat slegs as 'n e-publikasie aanlyn op Netwerk24 beskikbaar is. Tweedens is dit gepubliseer in By, 'n bylaag tot die Saterdag-uitgawe van Beeld wat beskikbaar is in gedrukte formaat asook as e-publikasie op die aanlyn platform Netwerk24. Derdens is die weergawes van die artikel in sowel Volksblad as Beeld op dieselfde dag van die koerantpublikasie ook in digitale formaat op Netwerk24 geplaas.

Die verskillende tye en plekke van publikasie verklaar waarom daar na tekste in die meervoud verwys word. Dit bring ons by die derde kontekstuele dimensie, naamlik die tekste. Die twee primêre tekste is inderwaarheid een teks wat binne die bestek van vyf dae met twee verskillende opskrifte in onderskeidelik Volksblad ("Jy kry hulle nie meer in boeke en op TV nie") en Beeld ("'Gewone mense' word al hoe meer randfigure") en op Netwerk24 gepubliseer is (Van Coller, 2022a,b). Die publikasie in Volksblad is een van gereelde rubrieke deur Van Coller in dié koerant waarin die skrywer sy beskouing oor sy persoonlike ervaring van 'n aktuele saak met sy lesers deel. Gedagtig daaraan dat die individuele besoeke aan die Netwerk24-platform gemiddeld 2 minute en 35 sekondes duur (adspace24, 2023), kan aanvaar word dat die bewoording van opskrifte 'n belangrike rol speel om lesers vir 'n berig of 'n rubriek te trek. Trouens, verskeie studies bevestig die waarde van opskrifte om nie alleen lesers vir 'n berig te trek nie, maar ook om lesers se inhoudsinterpretasies te rig (Kronrod & Engel, 2001; Dor, 2003; Ifantidou, 2009; Ecker, Lewandowsky, Chang & Pillai, 2014; Kuiken, Scuth, Spitters & Marx, 2017; Azeem, Hunter & Ruffman, 2019). Gedagtig hieraan, behoort daar sekerlik oorweging geskenk te word aan die moontlike uitwerking van die verandering van opskrif vir dieselfde rubriek op die reaksie wat die publikasie onder die opskrif "'Gewone mense' word al hoe meer randfigure" ontlok het. Dieselfde geld sekerlik vir die opskrifte van die lesinge wat vir die doel van hierdie studie ontleed is.

Die vierde kontekstuele dimensie vra die volgende: Wie is die lesers van die rubriek en hoe lyk hul situasies of kontekste? Die web-blaaier van Netwerk24 lok daagliks meer as 1,7 miljoen unieke besoekers, waarvan 63% vroue, 71% getroud en 52% 'n maandelikse inkomste van minder as R20 000 verdien (adspace24, 2023). Die rubriek is dus gepubliseer op 'n platform wat nie op 'n spesialis- of nismark gemik is nie, maar op die breë Afrikaanse leserspubliek.

Vir die doel van hierdie artikel word gefokus op spesifieke lesinge wat tot en met 21 Augustus 2022 op Netwerk24 geplaas is in die vorm van rubrieke, meningsartikels of briewe deur Elsabé Brits (14 Mei 2022), Lindie Koorts (21 Mei 2022), SJ Naudé (22 Julie 2022), Sonja Loots (24 Julie 2022), Willie Burger (31 Julie 2022), Koos Kombuis (1 Augustus 2022),

Heilna du Plooy (7 Augustus 2022), Tom McLachlan (14 Augustus 2022), Neels Jackson (21 Augustus 2022) en Johann Rossouw (21 Augustus 2022). Reaksies op die rubriek wat later of op ander digitale platforms verskyn het, is nie vir hierdie ontleding oorweeg nie. Die situasies van hierdie lesers is divers, soos blyk uit hul werksomgewings asook hul direkte of indirekte gesitueerdheid in die Afrikaanse literêre gemeenskap: akademici (Koorts, Loots, Du Plooy, Burger en Rossouw), taalspesialis (McLachlan), skrywers (Koos Kombuis en Naudé) en joernaliste (Brits en Jackson).

Ekself staan buite die literêre gemeenskap en het die rubriek en die onderskeie lesinge daarvan as algemene koerantleser en nieliterêre akademikus gelees. Daar kan aanvaar word dat elkeen van hierdie lesers, bykomend tot hul voormelde relatief generiese werksomgewings, ook hul unieke, persoonlike gesitueerdheid in hierdie wêreld het wat hul individuele lees van die betrokke teks kon beïnvloed het. Die verskillende lesinge van die betrokke rubriek word vervolgens aan die hand van die voormelde leesmodaliteite ontleed.

 

3. Faktore wat die etiese koers van 'n leeshandeling kan bepaal

In die besinning oor hoe die Van Coller-rubriek deur die verskillende lesers gelees is, en of al die lesinge, met inbegrip van enkele reaksies daarop, eties was, is verskeie faktore wat bepalend kan wees vir die koers wat mense se leeshandeling inslaan, oorweeg. Die vermoede is dat hierdie faktore nie net die koers van 'n leeshandeling bepaal nie, maar ook 'n werklik produktiewe, bevredigende en opwindende proses van die leeshandeling kan bevorder. Die doel met hierdie artikel is om na aanleiding van die diskoers te besin oor die etiek van die leeshandeling, wat nie iets nuuts is nie, soos blyk uit die omvangryke literatuur oor hierdie onderwerp (Attridge, 2021; De Beer, 2016, 2017; Dey & Steyaert, 2007; Eagleton, 2009; Gadamer, 1972, 2013; Miller, 1987; O'Sullivan, 2006; Pauw, 2015; Peters, 2019; Scarry, 2014).

Die sentrale vertrekpunt van hierdie besinning is "etos" as kern van die etiese.

3.1 Etos as kern van die etiese

Hoe behoort die leeshandeling dan te wees om behoorlik eties te wees? Die geskiedenis van die denke oor etiek gee vir ons 'n paar rigtingwysers, soos die volgende: Aristoteles (1955) - deugsaamheid; Spinoza (1979) - passievolle liefde; Kant (1790) - respek; Levinas (1987) - opregtheid; en Morin (1997) - goeie denke.

Die hoofgedagte is dat etiek afkomstig is van die oorspronklike Griekse woord "etos". Kortweg beteken dit om tuis te wees, tuiste te skep in die wêreld en tuis te wees of te raak in die wêreld. Vergelyk Stiegler (2013) en Liu (2004) se bondige besprekings hiervan. Stiegler (2013) wys byvoorbeeld hoe die geestelike ellende waarin mense in psigies en sosiaal gedisaffekteerde samelewings lewe hul geestelik ruïneer en hul affektiewe kapasiteite aantas, en veroorsaak dat hulle hul sin vir plek en etos verloor. Vir hom is die etiese "the knowledge of the abode [séjour = verblyf of blyplek (dwelling)] ... that which gives me my place within the circuit of affects [and] also what weaves that process of transmission linking together the succession of generations" (Stiegler, 2013:7-8). Dus, kennis van en waarskynlik ook respek vir die woning wat verskillende generasies saambind.

Liu (2004:72) se weergawe van etos is nog meer omvattend as dié van Stiegler. Vir hom gaan dit steeds om woon, tuiste en tuiswees, maar meer omvattend beskryf in terme van wat die tuiste karakteriseer (Liu, 2004:72):

It can be related to "the structure of feeling" (Williams), "habitus" [ge-woon-te] (Bourdieu), "life-world" (Habermas), and "culture of critical discourse" (Gouldner). These concepts vary in their emphasis but it is precisely such variance that I mean ethos to designate because the concept is best understood dynamically.

Wanneer die verskillende etieke sorgvuldig gelees word, word dit duidelik dat min of meer almal ten laaste daarop uit is om enersyds etos (tuiste) te verwesenlik of te skep, en andersyds om die verminking van die etosmatige te herstel. Die skepping van 'n gunstige milieu vir etosverwesenliking is dus nodig. Die kernterme van die reeds genoemde etici dra beslis baie betekenisvol hiertoe by.

'n Kernoorweging is dus die skep ofbestaan van 'n gunstige milieu vir etosverwesenliking (tuisteskepping) tydens die leeshandeling en om positief te werk aan die veranderinge van gesindhede aan alle kante en by alle partye.

So 'n milieu moet noodwendig rekening hou met die milieu-dimensie van taal en werk-likheid, van meervoudige logikas en van lees as kommunikatiewe handeling. Poësie, mite en lewende metafoor is die beste voorbeelde wat hieraan uitdrukking gee. Ter ondersteuning en benutting hiervan kan gesiene denkers en wetenskaplikes as voorbeelde genoem word: Atlan (1994), Bohm (2009), Deleuze (1981), Guattari (2012), Henry (2012), Liu (2004), Midgley (2006) en Prigogine (1997). Daar is veel meer.

Henri Atlan (1994:440-442 & flapteks) is 'n goeie voorbeeld van 'n wetenskaplike wat al hierdie sake raaksien en wil bevorder. Hy wys daarop dat wetenskap, mite, mistiese diskoers en metafisika soveel vorme van kennis in isolasie van mekaar verskillende en onverstaanbare rasionaliteite verteenwoordig wat nogtans getuig van gemeenskaplike soeke na die waarheid. Teenoor hierdie steriele en ewigdurende konfrontasie tussen wetenskap en mite, en tussen dogmatismes van allerlei orde stel Atlan voor dat dit vervang word deur 'n permanente dialoog en die ernstige humor van die meervoudige kennisspele. De Beer (2018:429) verwys na hierdie "verskillende vorme van gedifferensieerde logika" as 'n "noölogika". Hierdie sake verleen momentum aan menslik uitsonderlike kapasiteite soos verbeelding, fantasma, dromery en geloof wat triomfeer wanneer behoorlik geskryf en gelees word. Hiersonder sal menslik geestelike vernuftigheid nie die mas opkom binne die ryke en weelderige werklikheid waarvan mense deel is nie. Om nie hiermee rekening te hou, daarvoor gevoelig te wees en insig daarin te verkry nie, beteken om nóg skryf-, nóg leeshandelinge ernstig op te neem en beteken gewoonweg om oneties, dus oneerbiedig, disrespekvol, onopreg en onverantwoordelik te lees en te skryf, en dus ook te dink.

In aansluiting by Atlan se gedagte van 'n permanente dialoog moet die aandag gevestig word op die lees- en skryfhandelinge as kommunikatiewe handelinge by uitstek wat veral binne die raamwerk van taal-, werklikheid-, en logikaopvattings etosverwesenliking as tuisteskepping tussen mense kan aanhelp. Die vraag wat vanselfsprekend na vore kom, is in watter mate 'n algemeen geldige of universele leeshandeling teen so 'n ryk verskeidenheid agtergronde hoegenaamd geldig is of kan wees. Anders gestel: Kan etosverwesenliking so 'n norm wees?

3.2 Universeel geldige leeshandeling

Vir die doel van hierdie artikel word veral aangesluit by die werk van Miller (1987) deur die volgende te vra: Gaan dit oor 'n etiese handeling wat gegenereer word deur die leeshandeling, of gaan dit oor 'n etiek wat intrinsiek is tot die leeshandeling self, of gaan dit oor albei? Kan of behoort die leeshandeling in sigself eties te wees, of kan dit van etiese belang wees? Of liewer, is die leeshandeling nie primêr 'n kognitiewe saak wat slegs wil verstaan wat geskryf is nie waarna sekere etiese bruikbaarhede van so 'n leeshandeling geïdentifiseer kan word nie?

Miller verwys in hierdie verband na die moontlikheid dat die leeshandeling as sodanig 'n moment kan wees wat nie kognitief, polities, sosiaal, of tussenpersoonlik is nie, maar wat wesenlik en onafhanklik eties van aard is. Hy gaan voort deur die volgende te vra: "My question is whether ethical decision or responsibility is in any way necessarily involved in that situation and act of reading, and if so, how and of what kind, responsibility to whom and to what, decision to do what?" (Miller, 1987: 4).

Dit is moeilik en kompleks om die etiek van die leeshandeling reg te kry. Miller (1987) vertrek van die aanvaarding dat die leser ondergeskik is aan 'n universele wet van die etiek van die leeshandeling en vind bevestiging daarvoor in sy lees van verskeie denkers en skrywers wat hulle eie werk lees. Hy sluit sy boek af met die volgende (Miller, 1987:127):

I still stand before the law of the ethics of reading subject to it, compelled by it, persuaded of its existence and sovereignty by what happens in me when I read.... I remain eager to obey the law of reading but without direct access to it. I am unable to write it down or to cite it as 'a written unascertainable law'. I am only able to tell stories about it. I am unable, finally, to know whether in this experience I am subject to a linguistic necessity or an ontological one.

By die besinning oor die etiek van die leeshandeling is dit nodig om bewus te wees van die onderskeid tussen die universele en die partikuliere norme. Die partikuliere is relatief tot tye, groepe, kulture, ensovoorts. Vergelyk in hierdie verband Paul Ricoeur (1991) oor mites wat geld vir almal en mites wat geld vir sekeres. Die sekeres wil dikwels die partikuliere verhef tot die universele - selfs met geweld. Skryf- en leeshandelinge moet hiermee rekening hou om verantwoordelik (eties) te wees. Daarteenoor is die universele norme wat oor eeue strek en vir almal geld dit wat van alle mense "mense" maak; die partikuliere is norme wat van geslag tot geslag of oor tyd heen verander. Die universele geld altyd vir almal en is verabsoluteerbaar.

Wat veral by die universele belangrik is, is om sekere algemeen geldige kernsake deeglik te bedink: denke, waarheid, sin, werklikheid, lewe, etos, kennis, rede, wysheid en affeksie. Opvoedkundig bly die sake van kernbelang. Dit behels 'n groepering van begrippe wat mekaar oor en weer impliseer, aanvul, versterk en verryk. Wie toegerus is met insig en blywende nadenke oor hierdie sake, beskik oor die mondering wat nodig is om die wêreld om te keer en 'n ander beter wêreld tot stand te bring. Institusionele werk van allerlei aard en akademici, denkers en wetenskaplikes bevestig dit, onder andere Bohm (2009), Midgley (2006), Rees (2003) en Stengers (2013, 2018). Vandaar die gretigheid om besinning hieroor aan te beveel.

Die gedagte van universeel geldige opvattinge wil ek graag uitbrei na die hele reeks terme wat geïdentifiseer is as van wesenlike belang in die lewe van indiwidue, samelewings, hoër onderwys, onderrig en opvoeding. Ek het reeds verwys na wysheid as so 'n voorbeeld behalwe vir die gedagte van etos en waarheid wat ook reeds genoem is. Daar moet dus in die leesproses voortdurend gelet word op die genoemde universele temas waarvan wysheid een is. Wysheid is by uitstek die kapasiteit tot etosverwesenliking. Dit oorskry grense en maak besondere verbintenisse wat herinner aan die meervoudig interkonnektiewe intelleksie van Serres (kyk De Beer (2015) en die paralogiese van Lyotard wat goed deur Kent (1993:3) beskryf is as 'n weerstand teen die redusering van taal tot 'n gekodifiseerde proses of 'n stelsel van logiese verhoudinge). Die implikasie van 'n universeel geldige leeshandeling is dat die leeshandeling hierdie sake sal omhels en tot uitvoer bring in die belang van etosverwesenliking. Vir hierdie doel is die identifisering van interafhanklike leesmodaliteite noodsaaklik.

3.3 Interafhanklike leesmodaliteite

Die vertrekpunt hier is die aanvaarding van die moontlikheid van die bestaan van verskillende interafhanklike leesmodaliteite (De Beer, 2016:126-148), wat saamgelees en bedink behoort te word om uitdrukking te gee aan wat hier beskou word as die kern van die etiese, naamlik etosverwesenliking. Hierdie interafhanklike leesmodaliteite herberg dus die etiek van die leeshandeling. Om 'n enkele een te verabsoluteer, beteken om die etiese dimensie te ignoreer en selfs te verwring. Die etiese leeshandeling vereis gevolglik die verwesenliking van hierdie komplekse interafhanklikheid en die respons daarop.

Op sy eenvoudigste gestel sal elke/enige intelligente, verantwoordelike leser die volgende wil bereik:

Om getrou te wees aan die teks en die letter van die teks sonder om die konteks uit die oog te verloor, word die reproduktiewe leesmodaliteit genoem (De Beer, 1993a; 2014). Dit word gekenmerk deur 'n soeke na betekenisvolle kennis deur 'n klem op eenduidige en kontroleerbare betekenis van die teks. Pauw (2015) onderskei in hierdie verband tussen dit wat geskryfis teenoor dit wat nie geskryf is nie. Feitelike korrektheid is noodsaaklik vir sover feite bo alle twyfel bepaal kan word. Die opregte drif moet wees om reg te laat geskied aan die ware inhoud en gees van 'n geskrif. Die teks kan nie maar bloot beteken wat die leser dit wil laat beteken nie.

Respekvolle lees is om sonder afwyking te lees wat die teks sê. Die letter van die teks moet ernstig opgeneem word, waar letter beteken dat aandag gegee moet word aan die volle teks: die woorde, tussen die woorde, tussen lyne en selfs in kantlyne. Veronderstellinge, vooroordele, ideologieë, voorkeure en nog meer kan hier ongeskrewe verskuil lê. Interessant genoeg: nie alleen deur die skrywer nie, maar beslis ook deur die leser.

Daar kan wan-lesing wees waar nie behoorlik gelees word nie, op hoorsê gewerk word of clichés ingespan word. Gevolglik is dit nodig om waaksaam te wees om nie die ideologie van die wetenskap (verobjektivering van dinge - ook teks en taal), eenduidige logika, verskraalde metodes en paradigmatiese voorkeure, eensydige kritiese denke (met die blinde intelligensie wat daarmee verband hou), die tydsgees, persoonlike voorkeure en vooroordele in te span vir en af te dwing op die leeshandeling nie.

Om sin te maak uit 'n teks, sinloosheid te vermy en rekening te bly hou met die oneindige van die ongesegde in tekste. Die vertrekpunt van die hermeneutiese lees van 'n teks is dat die betekenis van dit wat geskryf is nie onveranderlik vas is nie, maar dat verskillende kontekste moontlik 'n verskeidenheid betekenisse aan die teks kan gee (De Beer, 1993a; 2014). Gadamer (1972; 2013) verwys in hierdie verband na die oormaat van betekenisse wat selfs die outeur van die teks kan oorskry.

Om kritiek te lewer op 'n teks deur vooroordele, persoonlike voorkeure te identifiseer en uit te wys sonder om voorkeur daaraan te gee. Kritiek op 'n teks impliseer nie geweld en venyn ten opsigte daarvan of die outeur nie. Hierdie leesmodaliteit, die ideologie-kritiese, is nou verwant aan die hermeneutiese. Soos wat die hermeneutiek nie 'n kritieklose aktiwiteit is nie, so is die ideologie-kritiek ook nie hermeneutiekloos nie (De Beer, 1993a). Die ideologie-kritiese leesmodaliteit behels onder meer die ontmaskering van verskuilde dogmatismes, misvorming van intersubjektiwiteit van ooreenkomste, spore van verdraaide kommunikasie, en toevallige misverstande (De Beer, 1993a; 2014).

Om die spore wat 'n teks laat en uitnooi na alle kante te volg: om al lesende te dink. Hierdie leesmodaliteit, die dekonstruktiewe, behels die bevraagtekening van alles wat as vanselfsprekend aanvaar word (De Beer, 1993b; 2014). Hierdie leesmodaliteit behels 'n blootlegging van die verskillende betekenisse van die teks, die grense en verbande daartussen asook dié van die magseffekte wat diskoerse, betekenisse en veral ook tussentekstuele verbintenisse beheer.

Om uiteindelik 'n eie pad te vind in, deur en verby die teks. Die euretiese leesmodaliteit is een waarbinne inventiwiteit kan gedy (De Beer, 1993b; 2014; 2016). Die euretiese hou verband met die term "eureka!" - ek het dit gevind! Dit is dus sinoniem met denke as invensie teenoor denke as repetisie, interpretasie of kritiek. Invensie mag ingebed lê in enige teks sonder om noodwendig deur die teks berekend gesuggereer of geïnisieer te word. Dit is die leser se inisiatief met kapasiteite soos verbeelding, dromery, fantasma en geloof. Dit gebeur nie vanselfsprekend nie. As sodanig beteken dit 'n radikale wegbreking van al die vorige leesbenaderings deur vernuftige, vindingryke skeppingsmoontlikhede aan die leser te bied. Dit kom neer op die invensie van sinvolle wêrelde en leefruimtes.

Gesamentlik gesien kulmineer hierdie leesmodaliteite, of behoort dit te kulmineer, in etosverwesenliking. Hierdie leeshandelinge hou ten nouste verband met die norme van 'n universeel geldige leeshandeling.

 

4. Die lesinge van die Van Coller-rubriek

Die lesing van die onderskeie tekste is gerig deur die onderstaande vrae. In watter mate het die lesinge daarin geslaag om

getrou te bly aan die teks en die letter van die teks?

sin te maak van die teks en rekening te hou met die oneindigheid van die ongesegde van die teks?

kritiek te lewer op die teks sonder om geweld en venyn ten opsigte van die teks of die outeur van die teks te openbaar?

die spore wat die teks gelaat het na alle kante te volg?

'n eie pad in, deur en verby die teks te vind?

4.1 Reproduktiewe lees: Getrouheid aan die teks en die letter van die teks

Die reproduktiewe lees van 'n teks wil die volgende weet: In watter mate het die lesinge van die geselekteerde lesers daarin geslaag om getrou te bly aan die teks en dit wat in die teks geskryf staan? Anders gestel, waaroor gaan die Van Coller-rubriek volgens die lesers daarvan? Of, gedagtig aan die verwysing na Pauw hier bo, wat staan volgens die lesinge geskryf? Al hierdie vrae raak ten diepste die kwessies van waarheid en sin. Dus, lewensinvolheid en etosverwesenliking.

Geoordeel volgens die rubriek soos wat dit geskryf staan, spruit Van Coller se rubriek (Mei, 2023) voort uit 'n onlangse ervaring waartydens hy as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie "'n hele gerf kinder- en jeugverhale" vir bepaalde letterkundige pryse moes beoordeel. Hy verwys dan na die wye verskeidenheid temas, waardeur maatskaplike of persoonlike probleme, soos "molestering, verkragting, owerspel, siekte, dood, geestesprobleme, die verlies van ledemate of sintuie, homoseksualiteit, rasseprobleme en derglike" deur die boeke onder oë geneem word. Daar is egter ook ander temas waarvan weggeskram word, soos "plaasaanvalle, korrupsie, die verval van dienslewering, beurtkrag, staatskorrupsie, gewelddadige (en misdadige) openbare optrede van bepaalde groepe, regstellende aksie en die kwotastelsel". Die teenstelling tussen enersyds temas wat wél teenoor ander wat juis nié in die beoordeelde boeke behandel word nie, het tot gevolg dat "die meerderheid boeke bietjie na wereldvreemde tekste [voel] wat onder die hande van 'n sensor deurgeloop het". Hierdie toedrag van sake word toegeskryf aan uitgewers se implisiete of eksplisiete opdragte oor wat in tekste hoort of vermy moet word. Hy argumenteer voorts dat geen "regdenkende mens ... beswaar [kan] maak teen die representasie van die genoemde maatskaplike of persoonlike probleme nie; wel teen die feit dat dit só oorheersend raak dat die vraag met reg geopper kan word of daar êrens dalk nog funksionele gesinne bestaan" (Van Coller, 2022a,b). Gedagtig aan sy voorsitterskap van die kommissie wat kort voor die skryf van die rubriek kinder- en jeugboeke beoordeel het, is sy primêre fokus met die rubriek klaarblyklik nie die wye leserspubliek van Netwerk24 nie, maar 'n bepaalde literatuurgroep.

Sommige van die lesinge reageer direk op dit wat in die rubriek geskryf staan. Vir hulle handel die rubriek "oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur" (Rossouw, 2022), "die kwessie van omstrede onderwerpe in kinder- en jeugliteratuur" (Du Plooy, 2022), dat "politieke korrektheid deesdae dikwels 'n belangrike rol in sulke boeke speel" (McLachlan, 2022), en die uitkoms wat kinderboeke moet lewer (Koorts, 2022). Dus, verskillende aksente op wat in die teks geskryf staan.

Binne die konteks van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur besin Rossouw (2022) - meer as drie maande ná die verskyning van die Van Coller-rubriek - oor die uiters relevante tema van inklusiwiteit. Rossouw problematiseer inklusiwiteit as norm vir die inhoud van kinder- en jeugliteratuur op 'n omsigtige wyse deur onder meer te verwys na skrywers (Breyten Breytenbach, Elsa Joubert, ensovoorts) wat ten opsigte van die apartheidsbedeling deur hulle skryfwerk daarop gewys het "hoe vernietigend dit vir die sowel ingeslote self as die uitgeslote ander is om hardhandig uit te sluit". Terselfdertyd wys hy daarop dat inklusiwiteit as sodanig nie probleemloos is nie, want "selfs wie inklusiwiteit tot die primêre norm verhef, [kan] sélf soms onverdraagsaam en uitsluitend wees So ook wys Du Plooy (2022) op "hoe algemeen die problematiek [omstrede onderwerpe in kinder- en jeugliteratuur] is wat Van Coller in sy rubriek aantoon", en dat dit aansluit "by baie ou en nuwe debatte in die literêre wêreld, op kongresse, hier en internasionaal".

In oënskynlik dieselfde trant lees Naudé, ontvanger van die Hertzogprys in Julie 2023, die rubriek as synde te handel "op die oppervlak oor die beoordeling van Afrikaanse kinderboeke vir 'n bepaalde prys, en die skrywer spreek dan spyt daaroor uit dat daar te veel oor bepaalde maatskaplike kwessies geskryf sou word in sulke boeke en te min aandag gegee word aan sogenaamde 'gewone' gesinne" (Naude, 2022). Hoewel hy vir Afrikaans en vir inklusiwiteit pleit, ignoreer hy Van Coller se argument vir die tematiese insluiting van sowel "maatskaplike of persoonlike probleme" as die wel en weë van "gewone mense" as karakters in kinderliteratuur. Die kernargument van die rubriek, naamlik 'n pleidooi teen politiek korrekte voorskrifte vir kinderboeke, word dus misgekyk. Naudé (2022) skets egter op voortreflike wyse hoe 'n samelewing behoort te lyk met oorweegbare alternatiewe vir sy eie voorstelling van Van Coller se standpunt as synde tekenend van "onthutsende vooroordele en wanopvat-tings" in die rubriek.

Die titel van Koorts (2022) se bydrae ("Watter uitkoms moet kinderboeke lewer?") is 'n uitnemende samevatting van waaroor die rubriek handel. Dit is duidelik dat Koorts (2022) die Van Coller-teks met aandag gelees het. Haar opsomming is dat Van Coller, nadat "hy en sy letterkundige kollegas 'n gerf kinder- en jeugboeke vir letterkundepryse beoordeel het, [tot die] gevolgtrekking [kom] dat daar van 'funksionele gesinne' min sprake is en dat vele kinderboeke eerder om persoonlike en maatskaplike probleme wentel" (Koorts, 2022). Sy is egter "verbyster" deur so 'n waarneming, want haar "belewenis" is dat "gewone" gesinne ook sterk figureer in kinderboeke en dat daardie gesinne se hedendaagse werklikheid weerspieël word. Volgens haar is dit dus 'n "growwe oorvereenvoudiging" om die kinderboek-landskap te tipeer as 'n plek waar randfigure die norm is. Hoewel sy Van Coller aanhaal waar hy uitwys dat daar "dikwels teruggeskram [word] van plaasaanvalle, korrupsie, die verval van diens-lewering, beurtkrag, staatskorrupsie, gewelddadige (en misdadige) optrede van bepaalde groepe, regstellende aksie en die kwotastelsel", ignoreer sy nietemin die implikasie daarvan vir omvattende inklusiwiteit.

Waar Koorts (2022) aanvanklik byna verbatim gehou het by wat in die rubriek geskryf staan, lees sy ook dit wat nie geskryf is nie, naamlik dat ras- en geslagsverhoudings "politieke korrektheid" weerspieël - alles in "opdrag" van uitgewers, wat besluit watter tekste "hoort" (Koorts, 2022). Die oorspronklike teks verwys egter na "rasseprobleme" as een van die maatskaplike of persoonlike probleme, sonder om dit saam met geslagsverhoudinge (wat nie eksplisiet so in die teks genoem word nie) uit te lig as voorskriftelike politieke korrektheid. Die verandering in bewoording verander dus die betekenis van die oorspronklike teks wat gevolglik die deugsaamheid (Aristoteles, 1955), goeie denke (Morin, 1997), respek (Spinoza, 1979) en opregtheid (Levinas, 1987) waarmee die betrokke leeshandeling plaasgevind het, onder verdenking plaas.

Willie Burger (Julie, 2022) - soos ook Johann Rossouw (Augustus, 2022) en Heilna du Plooy (Augustus, 2022) - takseer die uitwerking van die Van Coller-rubriek (Mei 2022) retrospektief:

Die reaksie op Hennie van Coller se ondeurdagte rubriek en die bohaai wat gevolg het op sy aggressiewe verdediging daarvan het die aandag weer gevestig op die uitspreek van oordele oor literêre tekste.

Sodanige retrospektiewe oordeel sou gelees kon word as juis nie tekenend van 'n gees van respek en eerbied (sien hier ook Spinoza, 1979) vir wat geskryf staan in die betrokke rubriek nie. Die verwysing na laasgenoemde as "ondeurdag" het egter te make met die tydsberekening daarvan so kort (die oorspronklike rubriek noem dit "onlangs") ná die sitting van die Letterkundekommissie waarvan Van Coller op daardie tydstip die voorsitter was. Die verwysing na Van Coller (2022d,c) se "aggressiewe verdediging" van die rubriek het onder meer te make met sy uitspraak dat Brits (Mei, 2022) "vrot" lees - 'n pejoratiewe stelling wat eweneens gesien sou kon word as nie tekenend van respek en eerbied vir (Brits se) teks nie (Spinoza, 1979).

Indien dit so is dat etiese beoordeling altyd etiese selfbeoordeling insluit, geld dit seker in gelyke mate vir Burger se gebruik van afwysende etikette soos "ondeurdag" en "aggressief en Van Coller se oordeel dat iemand "vrot" sou lees.

In plaas van etosverwesenliking vind daar eerder 'n erg veroordelende aanval op die persoon van die outeur plaas met verwysing na sy "growwe homofobie" en ook op die institusie waaraan hy verbonde is (of was) wat "die skok, pyn, woede en kommer wat Naudé so treffend verwoord ongesê gelaat het" (Loots, 2022). Sodanige uitspraak veronderstel bekendheid met Naudé (Julie, 2022) se lesing van die rubriek (soos verwoord in sy aanvaardingstoespraak vir die Hertzogprys), waarin hy onder meer aanvoer dat "... homoseksualiteit opgestel [word] as die teenoorgestelde van gewoonheid, maar by implikasie eintlik normaliteit, wat dan gedefinieer word as, ... 'funksionele gesinne (...) met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot (...) hul bes doen om eties en sinvol te lewe'". In aansluiting hierby, lees ook Brits (Mei, 2022) klaarblyklik iets in die teks wat nie geskryf is nie, naamlik dat die outeur "gekwets [voel] dat minderhede ook uiteindelik verteenwoordig word in kinder- en jeugboeke". Die letter van die teks (dit wat geskryf staan) kry nie genoegsaam aandag nie. Enkele woorde word selfs ingelees en dit verwring beide die betekenis en die oordeelsvermoë van Brits se teks. "Normaal" en "gewoon" is nie wisselvorme nie, soos in afdeling 4.3.2 hier onder verder beredeneer word. Haar introduksie van "normaal", 'n woord wat Van Coller nooit gebruik het nie, word as grofgeskut op hom gerig sonder substansie.

Dit bring my by Brits (2022) se alternatiewe teks: dit wat nie deur Van Coller geskryf is nie. Die alternatiewe teks sluit onder meer die volgende verwysings in:

Of moet hulle patriargale helde hê waar die wit mans weer baas is?

Van Coller lees ook nooit van enige van die sterk, mansfigure (lees: wit) nie en sowaar, is daar nie één TV-program van dié soort nie.

Wit mans is duidelik die teiken van haar alternatiewe teks en die oorsaak van al die bestaande ellende. Hoe wit mans uit sy teks verskyn as paternaliste asook mense met vooroordele wat hul aanmatig om te besluit wie normaal en korrek is en wie nie, is onbegryplik en laat vrae ontstaan indien slegs na die letter van die teks gekyk word. Wel is dit so dat die alternatief wat deur Van Coller self voorgestel word iemand is wat "vir 'n verandering nie versukkeld, gekweld of paranoïes is nie" (Van Coller, Mei 2020). Brits se opsomming is klaarblyklik nie getrou aan die teks wat geskryf staan nie, maar eerder 'n spesifieke interpretasie van haar eie konstruksie van die ongeskrewe teks, naamlik dat mans wat nie die bogenoemde persoonlikheidsprobleme openbaar nie, juis wit (paternalistiese) mans is.

Die reproduktiewe lees van 'n teks bring dus 'n belangrike element in die etiese beoordeling van die leeshandeling na vore, naamlik die vertrekpunt van dit wat geskryf is. Dit blyk uit die voorafgaande dat nie al die lesinge van die betrokke rubriek respek toon (kyk weer na Kant, 1790) vir die letter van die teks nie. Gedagtig aan die kernvraag oor wat in Van Coller se teks geskryf staan en of die lesers hulle daarby gehou het, blyk dit dat nie alle lesers by die woorde van die teks gehou het nie. Trouens, heelwat aandag is gegee aan 'n alternatiewe teks, naamlik dit wat nie geskryf is nie. Daardie lesinge het klaarblyklik buite 'n milieu vir etosverwesenliking geskied, sonder enige intensie om met goeie denke deugsaam, opreg, en respekvol te redeneer om gesindhede te verander. Die tweede leesmodaliteit, die hermeneutiese, kom nou ter sprake.

4.2 Hermeneutiese lees: Sinmaking en die oneindigheid van die ongesegde van die teks

Waar die reproduktiewe lees begaan is oor wat in die teks geskryf staan, gaan die hermeneutiese lees oor die betekenis van dit wat geskryf staan. In watter mate het die verskillende lesinge sin gemaak van die teks en rekening gehou met die oneindigheid van die ongesegde van die teks?

My eie lesing van die rubriek is dat dit handel oor kinder- enjeugliteratuur vir Afrikaans-taliges met die versoek dat die behoeftes en eiesoortighede van alle lede van die Afrikaanstalige samelewing raakgesien word en ewe veel erkenning verkry. Ek lees in die rubriek van 'n ervaringswêreld van voorskriftelikheid oor wat in tekste hoort wat dikwels tot "wereldvreemde tekste" lei, van 'n hunkering na 'n omvattende representasie met insluiting van 'n erkenning van die belangrikheid van hardwerkende, etiese en singedrewe familieverhoudings. Dus, van 'n pleidooi vir omvattende verteenwoordiging teenoor geselekteerde politiek korrekte voor-skrifte. Hoe het die ander lesinge van die rubriek probeer sin maak?

Waar Van Coller argumenteer vir 'n omvattende representasie van die samelewing in kinderboeke (teenoor 'n geselekteerde politieke korrektheid), fokus Brits (2022) op onder meer Van Coller se gebruik van die frase "funksionele gesinne" en plaas die betekenis daarvan teenoor daardie gesinne wat gekenmerk word deur die voorkoms van maatskaplike of persoonlike probleme. Wanneer Van Coller funksionele gesinne beskryf as gesinne met onder meer "hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot ... hulle bes doen om eties en sinvol te lewe", vra Brits (2022): "lewe die ander mense nie sinvol en eties nie?" Die implikasie van haar lesing is dat Van Coller twee onderling uitsluitende klasse gesinne veronderstel, diegene wat sinvol en eties lewe en die wat dit nie doen nie. Ook Naudé (Julie, 2022) lees 'n soortgelyke teenstelling raak in die Van Coller-teks as hy opmerk:

Die rubriekskrywer se soort klassifikasie sluit 'n gesin soos myne, en duisende soortgelyke gesinne, wat gebuk gaan onder die "probleem" van homoseksualiteit, kategories uit die sfeer van normaliteit uit.

Die vraag is of dit die enigste logiese implikasie van Van Coller se argument is en of dit slegs een van vele implikasies van sy argument kan wees (sien die verwysing na verskillende logikas)? Het Brits se (gekwetste en venynige) lesing en skrifting daarin geslaag om sin te maak van die kernargument in Van Coller se rubriek, naamlik die inhoud van kinder- en jeugliteratuur en waarheen dit behoort te lei?

Loots (2022) ignoreer nie net die kernargument in sy rubriek nie, sy vervang dit met 'n die volgende redenasie - Premis 1: Verkragting is onaanvaarbaar; Premis 2: Van Coller klassifiseer homoseksualiteit en verkragting saam as maatskaplike probleme; Gevolgtrekking: homoseksualiteit en verkragting is dus ewe onaanvaarbaar - om aan te toon dat hy homofobies1is. Die sinsoeke en sinvinding bly klaarblyklik in die slag in haar lees van die teks. Hoewel Burger (2022) min sin aan Van Coller se teks gee, maak hy 'n sterk punt oor die singewing en die aard van singewing in 'n debat en in leeshandelinge. Sy bydrae tot die eintlike tema, naamlik die inhoud van kinderliteratuur, is ongelukkig beperk. Du Plooy (2022) verruim die betekenis van die oorspronklike teks met haar bydrae oor die probleme van kinderliteratuur wat 'n hele lang geskiedenis het. Ook haar oorweging van die ander tekste (bv. 'n 1975-studie van Rooikappie deur Holtrop asook deur Anne Provoost se nadenke oor gepaste tematiek van kinder- en jeugboeke) wat by die rubriek aansluit, verruim die betekenis van die teks op 'n insiggewende en rigtinggewende wyse.

Waar Van Coller (2022a,b) voorbeelde lys van persoonlike of maatskaplike probleme as temas (temas is hier ongesê) wat deur "boeke onder oë geneem word", lees Naudé (2022) die teks, en spesifiek die lys van voorbeelde, as eienskappe van diegene wat nie "normaal" is nie. Waar Van Coller nie die woord "normaal" gebruik nie, kan met reg gevra word of dit 'n geldige afleiding is dat die ongesegde woorde van die teks impliseer dat hierdie voorbeelde nie slegs na temas van boeke verwys nie, maar ook as kenmerke van 'n bepaalde kategorie van gesinne gesien kan word. Hierdie interpretasie van die teks deur Naudé (2022) word egter waarskynlik versterk deur Van Coller se verwysing na "funksionele gesinne" as klaarblyklike teenpool van gesinne wat deur die gemelde persoonlike en maatskaplike probleme gekenmerk word. Waar Naudé fokus op 'n gesin met twee pa's, wys Brits (2022) op die realiteit van talle hedendaagse Suid-Afrikaanse gesinne:

'n Vyfde van kinders in die land bly nie by enige van hul twee ouers nie. 60% het afwesige pa's en 40% word grootgemaak deur enkelma's.

Brits wys verder daarop - soos Naudé aanvoer ten opsigte van sy eie gesin - dat "... kinders wat grootword by hul ma's, tannies en oumas ... in funksionele, liefdevolle gesinne [bly], ten spyte van die afwesige pa's. Hulle lewe ook sinvol en eties". Waar Brits self dan egter weer veroordelend raak, is in haar siniese lesing van sogenaamde "funksionele" gesinne:

Wys my tog wat is 'n sogenaamde funksionele gesin en hoe kwalifiseer 'n mens daarvoor? Is dit die mense wat altyd so glimlag tydens Kersfees op foto's en onderling baklei?

Wanneer die teks en die onderskeie lesinge binne die Suid-Afrikaanse konteks beoordeel word, kan met reg gevra word of Van Coller 'n eksposisie van kategorieë van gesinne wou gee, en of hy 'n argument oor temas van kinderboeke wou voer en met voorbeelde toelig. 'n Verdere vraag is natuurlik of hierdie twee moontlike lesings wedersyds uitsluitend is. In die paragraaf wat volg op sy voorbeelde van maatskaplike of persoonlike probleme, verwys hy na voorbeelde van temas waarvan weggeskram word, omdat daardie temas klaarblyklik buite uitgewers se raamwerk van politiek korrekte temas val (Van Coller, 2022a,b). Naudé (2022) lees hierdie lysie probleme (waarvan weggeskram word) nie as persoonlike of maatskaplike probleme nie, maar as politieke probleme. Hy argumenteer verder dat die logiese verband tussen laasge-noemde "politieke probleme" en die teenwoordigheid van "normafwykende karakters" nie duidelik is nie. Die rede hiervoor is waarskynlik omdat hy die "persoonlike of maatskaplike probleme" as eienskappe van karakters in boeke interpreteer, terwyl hy die "politieke probleme" as 'n onverwante kategorie beskou. Sou die teks egter gelees word as dat die "persoonlike of maatskaplike probleme" en "politieke probleme" beide kontekstuele temas vir kinderboeke kan wees, waarvan een kategorie bevorder en die ander van weggeskram word, kon die logiese verband dalk duideliker wees. Van Coller se rubriek kan dus op meer as een manier gelees en verstaan word. Hyself erken tydens sy bedanking as voorsitter van die akademie se Letterkundekommissie dat by "'n herlees van my rubriek besef ek egter dat van my stelwyses vir verskillende interpretasies vatbaar was" (Opperman, 2022).

Dit blyk uit die voorgaande dat die lesinge van die teks in wisselende mate daarin geslaag het om sin te maak van die kernargument van die rubriek binne die konteks van kinder- en jeugliteratuur. Ondanks Van Coller se erkenning dat van sy stelwyses vir verskillende interpretasies vatbaar is, is die bestaan van 'n oormaat aan betekenisse (sien Gadamer, 2013) en begrip vir dit wat geskryf staan, myns insiens nietemin meesal geïgnoreer ten gunste van 'n uitsluitende leeshandeling van veroordeling (sien Morin, 1997).

4.3 Ideologie-kritiese lees van die teks

In watter mate het die verskillende lesinge van die teks daarin geslaag om kritiek te lewer op die teks deur verskuilde dogmas en toevallige misverstande te ontmasker sonder geweld en venyn ten opsigte van die teks of die outeur van die teks? Burger (2022) se rubriek bevestig die belangrikheid van kritiek, krities lees en om oor kritiek self ook gesond te oordeel. Hy wy egter min uit oor hoe kinderliteratuur behoort te lyk en waarby dit ons hoort uit te bring. Verskeie lesers het wel spore van verskuilde betekenisse raakgelees en gekritiseer, soos dié van mags- of geslagsdominasie en die stigmatisering van homoseksualiteit.

4.3.1 Mags- of geslagsdominasie

Van die moontlik verskuilde vooroordele, persoonlike voorkeure, en dogmas van die outeur wat deur van die lesinge geïdentifiseer word, is dié van ouderdom, geslag, historiese bestaan en institusionele betrokkenheid. Waar Van Coller sy rubriek afsluit met 'n verwysing na 'n versugting van 'n fiktiewe kollega na "Tarzan of Rooi Jan", "vir 'n verandering 'n man wat nie versukkeld, gekweld of paranoïes is nie", lees Brits (2022) dat hy eintlik sê dat seuns en meisies verhale van "sterk manne" móét lees. Van Coller (2022c) verklaar self hierdie verwysing as "Nostalgiese terughunkering na die twee karakters...[as] bloot 'n viering van heldhaftigheid en manlikheid; nie kragdadige chauvinisme of machismo nie".

Voorts lees Brits (2022) 'n rasse-ondertoon raak in die versugting na sterk (wit) mansfigure wat, soos Rooi Jan, mense "red uit die greep van inboorlinge". Gevolglik word die outeur van die rubriek (waarskynlik bekend as 'n ouerige witman van 'n bepaalde groep) in die skerpste moontlike taal en terme aangeval vir 'n ideologie waarvoor hy nooit betoog het nie. Van Coller se verwysing na "randfigure" word voorts deur Brits (2022) onthul as "nie vreemdelinge nie", maar binne die ideologie van mags- of geslagsdominasie as "mense wat net stilgemaak is deur onderdrukkers". Van Coller verklaar self sy gebruik van die woord "randfigure" in 'n opvolg-rubriek met 'n woordeboekdefinisie van "eksentrieke persone; uitgeworpenes of uitgeslotenes" (Van Coller, 2022c). Dus, wat hom betref, "eintlik 'n heel deernisvolle beskrywing" (Van Coller, 2022c) en nie as minderwaardig nie.2 'n Interpretasie van veral die tipering "uitgeworpenes of uitgeslotenes" is egter moeilik te versoen met 'n kwalifikasie soos "deernisvol". Nietemin moet gevra word of ons in Brits se lesing te doen het met 'n geldige ontmaskering van 'n verskuilde ideologie van mags- of geslagsdominasie, of dalk die insluip van 'n parallelle diskoers deur die spesifieke lesing ter bevordering van haar eie voorkeur-ideologieë? Indien laasgenoemde die geval is, kan daar met reg gevra word waarom sy Van Coller se teks so gelees het. Was dit dalk gedryf deur haar spesifieke lewenswêreld, habitus, of kultuur van kritiese diskoersvoering? Hier was oënskynlik geen sprake van 'n respekvolle en opregte dialoog binne 'n milieu van etosverwesenliking nie.

4.3.2 Stigmatisering van homoseksualiteit

'n Tweede moontlik verskuilde betekenis, tema of ideologie wat raakgelees is, is die stigmatisering van homoseksualiteit. So lees Naudé (2022) die teks binne die konteks van sy eie gesin: "Ek het 'n man as eggenoot en ons het 'n vierjarige seun". Vanuit daardie perspektief onthul hy 'n paar "onthutsende" vooroordele en wanopvattinge in Van Coller (2022a,b) se rubriek. Hy lees gevolglik dat homoseksualiteit saam met verkragting en molestering, 'n "maatskaplike of persoonlike probleem" is - dít amper 50 jaar ná die verwydering van homoseksualiteit as geestesongesteldheid uit die Diagnostic and Statistical Manual in die VSA (Naude, Julie 2022).

Voorts gebruik Naude (2022) begrippe soos "normaal" (wat nie in Van Coller se teks voorkom nie), "geestesgesondheid" en "versukkeld" asof die rubriek daarmee homoseksualiteit stigmatiseer. Gevolglik lees hy dat "onder andere homoseksualiteit opgestel [is] as die teenoorgestelde van gewoonheid". Hy stel dan die betekenis van "gewoonheid" gelyk aan die betekenis van "normaliteit" (twee begrippe wat verskillend in die WAT omskryf word) en maak dan die gevolgtrekking dat Van Coller 'n "normaliteit" definieer as "funksionele gesinne (...) met hardwerkende, liefdevolle ouers wat bloot (...) hul bes doen om eties en sinvol te lewe". In 'n klaarblyklike poging om stigmatisering van homoseksualiteit in die Van Coller-rubriek te ontbloot, konstrueer Naude (2022) 'n vergelyking tussen die "verskyning van 'n selfde-geslag egpaar en bruin en swart karakters in 'n bepaalde boek" en "die opwagting van - en ek haal met huiwering aan -'n gestremde Chinees en 'n tweeslagtige Oekraïense vlugteling'" (Naude, 2022). Ek oordeel hier dat Van Coller (2022a,b) se verwysing deel vorm van sy betoog dat randfigure, in teenstelling tot gewone mense, by voorkeur in kinder- en jeuglektuur voorkom.

Op sy beurt argumenteer Jackson (2022) ook dat die rubriek bydra tot die stigmatisering van homoseksualiteit en gay mense. Jackson (2022) beklemtoon: "Dít is 'n geweldige probleem. Dit verwoes lewens." 'n Mens sou kon aanvoer dat hierdie werklikheid (die verwoesting van lewens as gevolg van die stigmatisering van homoseksualiteit) as 'n regverdiging kon dien vir Van Coller se insluiting van homoseksualiteit in 'n lys van moontlike maatskaplike of persoonlike probleme. Terselfdertyd sal so 'n lesing egter rekening moet hou met die gewraakte versugting wat teen die einde van die rubriek uitgespreek word na karakters wat nie "versukkeld, gekweld of paranoïes" is nie.

Die vraag kan dus gestel word of daar afdoende spore in die Van Coller-teks gevind kan word om verskuilde ideologiese voorkeure van mags- en geslagsdominasie asook stigmatisering van homoseksualiteit aan die teks en outeur toe te dig. In sy ope brief aan Naudé ná laasgenoemde se aanvaardingstoespraak vir die Hertzogprys, ontken Van Coller ten sterkste dat hy van homofobie beskuldig sou kon word. Hy herinner Naudé tereg daaraan dat hy (Van Coller) 'n leidende rol gespeel het in die toekenning van 'n vorige en die huidige Hertzogprys aan Naudé. In sy bedankingsbrief aan die Akademie, waar hy nie net as voorsitter van die letterkundekommissie nie maar ook as raadslid bedank, stel Van Coller (soos gerapporteer deur Opperman, Julie 2022) sy bedoeling met die rubriek onomwonde:

In die betrokke rubriek het ek probeer om sekere kwessies onder die aandag van lesers te bring. Onder meer dat bepaalde temas té veelvuldig voorkom in kinder- enjeugliteratuur en dat ander ontbreek. My grootste literêre beswaar was egter dat daar 'n sekere politiekkorrekte voorskriftelikheid is wat kinder- en jeugliteratuur betref en dat dit lei tot resepmatige boeke.

Van die voorafgaande neem ek geen afstand nie. By 'n herlees van my rubriek besef ek egter dat van my stelwyses vir verskillende interpretasies vatbaar was. Daarom wil ek graag ongekwalifiseerd verskoning aanbied as ek deur my woordkeuses enige persoon (of groepering) te na gekom het óf onsensitief oorgekom het. Dit was werklik nie my bedoeling nie. Veral is ek jammer omdat my eie persoonlike opinies herlei is tot my posisie as voorsitter van die Letterkundekommissie en raadslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Volgens Van Coller se eie "herlees" van sy rubriek, wil dit voorkom asof lesinge van stigmatisering van homoseksualiteit wel geregverdig sou wees. Hoe dit ook al sy, die meesal sterk afwysende en selfs venynige response het klaarblyklik buite 'n milieu van etosver-wesenliking geskied.

4.4 Spore deur die teks gelaat (dekonstruksie)

Die dekonstruktiewe lees van 'n teks is 'n leeshandeling wat betekenisse waarvan die skrywer self nie eens bewus is nie, na vore kan bring. In watter mate het die lesinge daarin geslaag om die spore wat die Van Coller-rubriek gelaat het na alle kante te volg?

Du Plooy (Augustus, 2022) wys in haar lees van die Van Coller-teks en die verskeie reaksies daarop op die gevaar van "ondermynende lees" as deel van die dekonstruktiewe leeshandeling. Haar bydrae is in hierdie verband opvallend gepas en ook dienooreenkomstig skeppend en verhelderend. Verskeie sake wat sy noem, is besonder toepaslik op die hele diskoers soos die oopbreek vanuit 'n teks. Dit wys ook op die gevaarlike ruimte wat so geskep word. Dit vra vir bedagsame en deeglik denkende lesers van tekste. Dit is veeleisende leeswerk om met metafisiese en ideologiese vooroordele rekening te hou.

Die verwysingsraamwerk van 'n teks blyk 'n belangrike vertrekpunt vir die leeshandeling te wees. Dit kontekstualiseer en konstitueer betekenisse. So wys Du Plooy (2022) op die verbande tussen die betrokke teks en die "baie ou en nuwe debatte in die literêre wêreld" en ook dat die problematiek wat Van Coller aantoon, "niks nuuts is nie, maar steeds relevant". So ook maak Burger (Julie, 2022) 'n konstruktiewe bydrae oor die gronde van literêre kritiek en oordeel. McLachlan (2022) se lesing van die rubriek asook van die lesinge daarvan gee onder meer 'n destruksie van vooroordele, sonder om venynig teenoor die betrokkenes te wees.

Op sy beurt wys Koos Kombuis (Augustus, 2022) op 'n verband tussen Van Coller se teks en dié van James W Sire se The universe next door. Binne hierdie verband lees hy dat die teks ook daarop wys dat mense nie slegs verskillende sienswyses oor sake het nie, maar dat hul "diverse vertrekpunte veroorsaak dat hulle as 't ware in verskillende heelalle leef' (Kombuis, 2022).

Rossouw (Augustus, 2022) se lees sluit hierby aan wanneer hy daarop wys dat die betrokke rubriek "sterk standpunte oor norme stel". Hy wys voorts op die belangrikheid van norme vir mense om hulself te kan oriënteer en dus sin te maak van die lewe. Gedagtig daaraan dat die rubriek ontstaan het uit die persoonlike ervaring van die outeur, wys Rossouw (2022) daarop dat ons norme "per definisie gebore is uit ons persoonlike ervaring". Gevolglik waarsku hy teen 'n wêreld van "onse" en "hulles" en toenemende onverdraagsaamheid. Dit sluit aan by die vertrekpunte van 'n universeel geldige en 'n insluitende leeshandeling. Hy lei ons tot die volgende vraag: In watter mate het die verskillende lesinge van die teks daarin geslaag om die spore wat die teks gelaat het verdraagsaam na alle kante te volg? Ons kyk vervolgens na Brits (Mei, 2022), Koorts (Mei, 2022), Naudé (Julie, 2022) en Loots (Julie, 2022) se oënskynlik dekonstruktiewe lesinge van die teks.

Vier begrippe kom na vore in Brits (2022) se lesing van die teks: gekwets, bedreig, vooroordele en slagoffer. Vir Brits (2022) dui die rubriek daarop dat die outeur gekwets en bedreig voel omdat "minderhede ook uiteindelik verteenwoordig word in kinder- enjeugboeke". Voorts ontbloot sy 'n "aanmatiging" by mense "wat diep vooroordele het en nog al die jare daarmee weggekom het" en hulself nou as slagoffers sien (Brits, 2022). Die byvoeglike naamwoorde wat sy gebruik het min met die teks te doen en stellig meer met die persoon van die skrywer agter die teks ('n wit man met vanselfsprekende vooroordele). Die kritiek is dus gerig op die persoon van die outeur en nie noodwendig op sy bedoelinge met sy rubriek nie. Gedagtig daaraan dat dekonstruksie ten doel het om te konstrueer en iets sinvols na vore te bring nadat die de- van dekonstruksie afgehandel is, is dit jammer dat die konstruksiedeel afwesig is in haar leeshandeling. Waardevol in haar teks is wel die eksplisiet maak van die groot getal kinders (soos ook McLachlan aantoon) watjuis nié in funksionele gesinne grootword nie. Haar kritiek teen die teks strek dus wyer as slegs stigmatisering van homoseksualiteit.

Koorts (Mei, 2022) en Naudé (Julie, 2022) lê 'n verskuilde kategorisering van mense bloot, naamlik dat die outeur bepaalde groepe en hul lede met onreg assosieer. Gevolglik beskou hulle só 'n assosiasie as enersyds 'n oorvereenvoudiging van die werklikheid wat in kinder- enjeugliteratuur weerspiëel word (Koorts, 2022) en andersyds as 'n soort klassifikasie wat "'n gesin soos myne, en duisende soortgelyke gesinne" uitsluit uit die sfeer van normaliteit (Naudé, 2022). Word hierdie klassifikasie voldoende gesteun deur wat in die rubriek geskryf staan, of spruit Naudé se lesing voort vanuit sy eie lewenservaring, vooroordele en norme? Naudé is nietemin besonder konstruktief oor wat hy wil sien as nodig en geldig vir 'n gesonde samelewing en maak daarmee 'n spesiale pad oop, so glo ek, vir 'n euretiese oefening.

Loots (Julie, 2022) se rubriek verskyn ná die aanvaardingstoespraak van Naudé, maar voor Van Coller se bedanking as beide voorsitter van die Letterkundekommissie en raadslid van die Akademie. Terugskouend, en met inagneming van die outeur se reaksies op sy rubriek, lees sy die teks as synde dat die "representasie van sodanige 'maatskaplike en persoonlike probleme' in jeug- en kinderboeke vir die outeur oorheersend is ten koste van die uitbeelding van 'funksionele gesinne'" (Loots, 2022). Sy vergelyk die teks en die outeur daarvan met die optrede van die Amerikaanse akteur Will Smith tydens die 2022 Oscar-geleentheid wat deur die Academy of Motion Pictures and Sciences as "onaanvaarbaar" en "skadelik" bevind is (Loots, 2022). Gevolglik tipeer sy die teks as "vieslik" en die produk van "onaanvaarbare en skadelike gedrag" (Loots, 2022). 'n Tipering wat, volgens haar, implikasies het vir Van Coller se lidmaatskap van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook vir sy geskiktheid vir die NP van Wyk Louw-prys wat hy reeds ontvang het. Haar lees van die teks dra die tekens van 'n onverdraagsame en finale oordeel: sy rubriek is onaanvaarbaar en verdien om gestraf te word.

'n Vraag wat na vore kom, is die volgende: Is Loots se gebruik van die Will Smith-insident tydens die 2022 Oscar-geleentheid, 'n geldige vergelyking? Sonder om op die besonderhede van die insident in te gaan, vergelyk Loots die Van Coller-rubriek met die (vieslike?) klap wat Smith uitgedeel het. 'n Teenoorgestelde vergelyking is ook moontlik. Sy rubriek kan ook met die optrede van Chris Rock vergelyk word. In 'n poging tot komedie het Rock 'n (vieslike?) grap gemaak oor Pinkett Smith se kaalgeskeerde kop (wat na bewering deur 'n mediese toestand veroorsaak is). Smith se reaksie op wat hy as onsensitief ervaar het, was om die aanbieder deur die gesig te klap. Gevolglik die sanksie teen Smith deur die Academy, met die implikasie dat, al was Rock se opmerking hoe onsensitief, openbare geweld nie 'n geregverdigde reaksie is nie. Die volgende kan dus gevra word: Was sommige reaksies op sy rubriek, hoe onaanvaarbaar dit ook al vir sommige lesers mag wees, nie dalk (vieslike) klappe in Van Coller se gesig nie?

Hoe eties is Loots se lesing van die teks? In haar dekonstruksie van die teks gebruik sy dit wat nie deur die outeur geskryf is nie as vertrekpunt vir haar tipering van die outeur se argument as vieslik en strafbaar, dus haar eie rekonstruksie van sy teks. Dit wil dus voorkom asof Loots nie verskuilde betekenisse van die teks probeer blootlê nie, maar eerder betekenisse aan die teks toedig. Loots se lesing blyk dié te wees van 'n onverdraagsame sensor en selfaangestelde aanklaer en regter wat willekeurig en vrymoedig skuldenaars uitwys en vonnisse vel. Is dit 'n etiese lees van die teks?

Die dekonstruktiewe lesinge van die rubriek het wel talle versweë betekenisse na vore gebring en gekontekstualiseer. So is verbande tussen diverse vertrekpunte en verskillende heelalle, "onse", "hulles" en norme vanuit die teks blootgelê. Vrae oor die gepastheid binne die konteks van die rubriek van terme soos "randfigure", "gekwets" en "bedreig", en temas soos die Oekraïense en Chinese verwysing het na vore gekom: Is die verband wat gelê word tussen hierdie terme en temas en die res van die teks geldig of is dit skeefgetrek?

4.5 'n Eie pad in, deur en verby die teks (eureties)

In watter mate het die verskillende lesinge van die teks daarin geslaag om 'n eie pad in, deur en verby die teks te vind in die rigting van etosverwesenliking?

Ek begin met my eie lesing van die Van Coller-rubriek. Indien aanvaar word dat lees- en skryfhandelinge 'n beter samelewing, 'n meer etosgerigte samelewing behoort te bevorder of dit minstens te suggereer, is daar in hierdie rubriek heelwat stof tot nadenke. Hardwerkende, etiese en singedrewe gerigtheid klop met die etosverwesenliking waarna verwys is. 'n Kom-plekse samelewing soos ons s'n moet spesiale aandag gee aan die etosgedrewe tuismaking van alle lede van die samelewing en nie slegs van sekere groepe of kategorieë nie. Wie almal wil betrek, en nie net sekeres nie, moet seker maak dat almal se behoeftes en eiesoortighede ewe veel erkenning kry. Die erkenning van onregte teenoor sekeres is geheel en al in orde en is noodsaaklik en verdien aandag, terwyl die regstelling van hierdie onregte geensins nuwe onregte behoort te skep nie. In sodanige gevalle word niks reggestel nie en almal word teleurgestel. Só 'n uitsluiting sou neerkom op vergelding en nie regstelling nie. Sou Van Coller se rubriek op vergelding of regstelling ingestel wees?

Beide Koorts en Naudé se lees is gesitueerd binne hul gesinslewe. So lees Koorts (2022) die rubriek vanuit haar situasie as moeder en besin oor die grootmaak van haar kind sodat "hy eendag 'n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer en 'n vervulde lewe kan lei". Sy sluit haar bydrae af met 'n baie belangrike vraag: Vir watter uitkoms maak ons ons kinders groot? Ten spyte van haar ontoepaslike verwysing na die gulpaftrekkende student, maak sy binne die konteks van die besinning pragtige opmerkings oor wat sy haar kind toewens. Haar antwoord is geleë in empatie en medemenslikheid. Wat kan gedoen word om hierdie ideale te bevorder? Hoe kry ons skrywers van kinderboeke om hieraan te voldoen?

Naudé (2022), ook vanuit sy eie gesinsituasie, wonder hoe sy kind "as die telg van twee pa's, kon floreer in sy ontwikkeling as hy deur 'n kultuurwêreld sou moes beweeg waarin sulke soort sentimente sy gesinstruktuur stigmatiseer?" Vir hom, "selfs as Afrikaanse skrywer", is die pad vanuit die teks een van huiwering of siddering oor 'n toekomstige besluit "om jou kind in 'n Afrikaanse skool te sit" (Naude, 2022). Naudé skryf "Politieke korrektheid is wat meeste mense sou sien as basiese respek, 'n oopheid in taal vir wie iemand anders is". Vir hom gaan politieke korrektheid uiteindelik oor verdraagsaamheid, insluiting, omarming, en ja, selfs liefde met die uiteindelike doel dat "soveel as moontlik mense ... volledig tuis voel in en rondom Afrikaans en Afrikaanssprekendes" (Naudé, 2022).

Die uitdaging vir etosverwesenliking lê klaarblyklik in 'n oop ingesteldheid van wedersydse respek, begrip en voortdurende pogings om jou in 'n ander se posisie in te verbeel. Dus, 'n universele norm wat vir alle tale behoort te geld. Gedagtig aan die titel van Naudé (2022) se bydrae dat liefdeloosheid Afrikaans laat leegloop, oordeel ek dat die omgekeerde daarvan veel meer sin sou maak, naamlik Liefdevolheid laat 'n taal floreer! So 'n tema kon hom verlos van sy "onbenydenswaardige taak" om Van Coller op sy plek te sit!

Wat die bydrae van Burger (2022) betref, sou mens graag uit sy ervaring meer wou lees oor wat werklik ter sake behoort te wees in hedendaagse kinderliteratuur ten einde kinders voor te berei vir die vreemde wêreld wat op hulle wag. Kinders word verwek in 'n betreklik ongure wêreld. Hoe behoort hulle uit wat hulle lees georiënteer te word vir wat hulle te wagte kan wees? Sekerlik uit die wye verskeidenheid temas en karakters en tipes wat hulle self mag wees of wat hulle mag teëkom.

Hierteenoor het Du Plooy (2022) duidelike gedagtes uitgespel oor wat in hierdie konteks gedoen behoort te word. Haar lesing is toekomsgerig met 'n versugting dat "daar weer ligter tye [kom] waarin Afrikaanstalige mense nie met sulke probleembelaste oë na hulself en alles wat van hulle is, sal kyk nie". Sy neem duidelike standpunte in en opper teenargumente, deurgaans opbouend en sonder venyn. So 'n benadering kan 'n debat laat vorder en die pad open na etosverwesenliking wat duidelik almal se begeerte is sonder om in terme van styl en benadering daarin te slaag om dit te verwesenlik maar eerder te verongeluk.

Koos Kombuis (2022) lees en vertrek in sy lesing vanuit 'n gedeelde "gevoel van verlies" waarin hy en sy leser "met 'n rouproses" besig is. Hy lanseer inventief die leser uit die "heelal" van 'n spesifieke teks met 'n blik op toekomstige gerwe manuskripte met die uitlig van 'n deurslaggewende kriterium, naamlik dat 'n skrywer 'n storie moet vertel "soos 'n storie vertel moet word". As dit gebeur, "maak dit rêrig nie meer saak in watter heelal ons is nie" en "hoef ons mos nie te worry oor ons kinders nie".

Rossouw (2022) help ons om by die kern van sake uit te kom: die aanwys van sondebokke wat die hele gedagte van etosverwesenliking kelder. 'n Norm is nodig om die weg aan te wys. Om norme te bepaal, is nie maklik nie en het hul eie probleme. Die norm van inklusiwiteit loop deurgaans die gevaar om self uitsluitend en dus teenproduktief en uiteindelik onoortuigend te wees. Die inklusiewes wil nie die sondebokke wat hulle graag identifiseer, insluit nie. So word inklusiwiteit 'n bogstorie. Norme as natuurlike gegewens en norme as blote veranderlike sosiale konstrukte is albei betreklik fragiel. Dit skep 'n wêreld waarin die "onse" en die "hulles" al hoe meer word, die verskille al hoe heftiger, die onverdraagsaamheid al hoe meer - en die middelgrond al hoe kleiner. En dit is die wêreld waarin ons nou lewe. Ongelukkig is dít nie ver van die waarheid af nie.

Die vraag bly egter: Is dit nie nodig om alles in die stryd te werp om hierdie wêreld te probeer verander nie, om 'n ander wêreld te inventeer nie. So baie smag daarna. Is dit hoegenaamd moontlik? Baie dink nie so nie; baie hoop weer daarvoor en glo in die moontlikheid. Laat ons 'n droom maak! Kan ons by universeel geldige norme uitkom soos waarheid, sin en wysheid? Miller (1987) vra daarna. Ricoeur (1991) bely dat dit moontlik is. Badiou (2007) voeg sy stem daarby. Die oop gesprek waarna van die tekste verwys, byvoorbeeld dié van Naudé en veral Du Plooy, skep 'n moontlikheid. Ivan Illich (1974:11), na wie Rossouw ook verwys, skets in sy werk Tools for conviviality, inderdaad so 'n moontlikheid: "consider conviviality to be individual freedom realized in personal interdependence and, as such, an intrinsic ethical value".

Die verskillende lesinge van die teks het klaarblyklik in wisselende mate daarin geslaag om vindingryk 'n eie pad in, deur en verby die teks te vind in die rigting van etosverwesenliking: tuiswees in Afrikaans.

 

5. Beoordeling en slotsom

Die sneller vir die besinning oor die etiek van die leeshandeling en hierdie artikel was die Van Coller-diskoers gedurende 2022. Hierdie diskoers het vrae na vore gebring oor hoe die leeshandeling behoorlik eties kan wees, hoe die betrokke rubriek deur die verskillende lesers gelees is, en of dit eties was.

Die kern van die etiese lê opgesluit in die begrip "etos" wat beteken om tuis te wees. Die implikasie van hierdie begrip vir die leeshandeling is dat 'n teks gelees word in 'n milieu waarin al die lesers (en die skrywer van die teks) tuis sal wees. Om tuis te wees veronderstel sekerlik dat al die betrokkenes 'n gedeelde respek vir sekere norme sal hê, daarvolgens sal handel en hulle in mekaar se posisies sal indink. Hierdie norme kan enersyds partikulier wees en van geslag tot geslag en van tyd tot tyd verander, of universeel wees en die grense van tyd en plek oorskry.

Was dit die geval met die skryf van die rubriek? In Van Coller (2022d) se bedankingsbrief as voorsitter van die Letterkundekommissie erken hy dat van sy formulerings dalk tuiswees vir andere binne die gedeelde woning kon bemoeilik het. So-ook, kon sy gebruik van die frase "vrot" lees ook as kras beskou word. Bowendien het hierdie diskoers sy ontstaan gehad kort nadat die Letterkundekommissie, onder Van Coller se voorsitterskap, kinder- en jeugliteratuur beoordeel het. Soos later onthul is (Malan, Julie 2022), het drie lede van die kommissie kort ná die verskyning van die rubriek 'n beswaarskrif aan die Akademievoorsitter gerig, waarop Van Coller gereageer het om met regsaksie teen hulle te begin, tensy die betrokke komiteelede hom om verskoning sou vra - iets waaraan hulle onder druk van die dreigende regsaksie gehoor gegee het, gevolg deur die bedanking van twee van hulle (Visagie en Crous) uit die Letterkundekommissie. Gedagtig aan 'n waarneming met betrekking tot Agatha Christie se Murder in Mesopotamia dat die sleutel tot die oplossing van die moord op mev. Leidner "lies in her character" (Makinen, 2006: 171) asook aan die klap deur die gesig wat Chris Rock ontvang het, kan sekerlik gevra word: Het Van Coller dalk, soos mev. Leidner en Chris Rock, verdien wat hy gekry het?

Al het sy rubriek dalk op sommige lesers se tone getrap, het hy stellig nie 'n openbare karaktermoord of klappe deur die gesig van sy tuisgenote verdien nie. Gedagtig aan die faktore wat die etiese koers van die leeshandeling kan bepaal, verdien sy teks om binne die tuiste van Afrikaans en spesifiek die Afrikaanse literatuurgemeenskap, deeglik, respekvol, opreg en met goeie denke gelees en beoordeel te word.

Dit blyk uit die ontleding van die onderskeie lesinge van die rubriek dat, op enkele uitsonderings na, die rubriek nie binne 'n milieu vir etosverwesenliking gelees is nie. Dit is oorwegend gelees binne 'n milieu van uitsluitende en konfronterende wêrelde waarin die outeur geëtiketteer is met beskrywings soos ondeurdag, bevooroordeeld, gekwets, liefdeloos, homofobies en vieslik. Binne só 'n milieu is tuiswees kwalik moontlik. Voorts blyk dit dat nie al die lesinge van die rubriek die teks, soos dit geskryf staan, respekteer nie. Trouens, heelwat aandag is eerder aan self-gekonstrueerde alternatiewe tekste (dit wat nie geskryf is nie) gegee wat dikwels tot erg veroordelende aanvalle op die persoon van die outeur gelei het. Nietemin het dergelike lesings die aandag gevestig op, en groter begrip geëis vir, sensitiewe hedendaagse samelewings- en persoonlike probleme.

Waar ek, as gewone koerantleser maar ook as akademikus wat tekste ernstig opneem, die rubriek gelees het as handelende oor kinder- en jeugliteratuur vir Afrikaanstaliges met die versoek dat al hulle behoeftes raakgesien behoort te word, is hierdie tema, op enkele uitsonderings na, negeer. Pogings om sin te maak van die teks, het meesal die moontlikheid van 'n oormaat aan betekenisse van die teks geïgnoreer ten gunste van 'n eenduidige, uitsluitende en veroordelende betekenis. Verskeie lesinge het wel spore van verskuilde betekenisse raakgelees en gekritiseer, soos dié van mags- of geslagsdominasie en die stigmatisering van homoseksualiteit. Sommige het ook verbande tussen diverse vertrekpunte en verskillende heelalle, "onse", "hulles" en norme vanuit die teks blootgelê, terwyl andere daarin geslaag het om vindingryk 'n eie pad in, deur en verby die teks te vind in die rigting van etosverwesenliking: tuiswees in Afrikaans.

Die sensitiewe aard van die kwessies wat deur die Van Coller-diskoers na vore gebring is, het sekerlik tot die soms aggressiewe toonaard van die debat bygedra. Dit het my opnuut bewus gemaak van die noodsaaklikheid van 'n oop en omvattende gesprek oor sake van belang vir ons land, ons taal Afrikaans, en die toekoms van kinder- en jeugliteratuur. 'n Oop gesprek is moontlik wanneer al die gespreksgenote as deel van die tuiste aanvaar word en daarin tuis voel, ongeag die verskillende perspektiewe en rasionaliteite waarmee hul lees en skryf. Voorts is dit nodig om konfrontasie te vervang met, in die woorde van Henri Atlan (1994:flapteks) "'n permanente gesprek, 'n soort oneindige gesprek, wat die ernstige humor van meervoudige kennisspele insluit" (Vertaling deur Fanie de Beer). Só 'n gesprek is slegs moontlik binne 'n milieu van etosverwesenliking waarin ons almal veilig en tuis kan wees terwyl ons mekaar se tekste en argumente, hoe uiteenlopend ook van aard en perspektief, kan lees en beoordeel. Binne só 'n milieu mag ons ons nie soos plunderende soldate gedra deur slegs enkele aspekte wat nuttig is vir ons eie argumente te buit, die res te bevuil en ruïneer, en die teks in sy geheel te onteer nie (met erkenning aan Nietzche, 1879).

 

BIBLIOGRAFIE

Adspace24. 2023. Netwerk24 Digital Reach. 25 Julie 2023. Beskikbaar by: https://www.adspace24.co.za/pdf/brand-pdf/netwerk24-brand-sheet.pdf.         [ Links ]

Aristotle. 1976 (hersiene uitgawe). The ethics of Aristotle: the Nicomachean ethics, translated by JAK Thomson. Harmondsworth: Penguin Classics.         [ Links ]

Atlan, H. 1994. A tort et a raison. Intercritique de la science et du myth. Paris: Seuil.         [ Links ]

Attridge, D. 2021. JM Coetzee and the ethics of reading: literature in the event. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Azeem, AA, Hunter, JA & Ruffman, T. 2019. News headlines or ideological beliefs: What affects readers' interpretations of news stories about immigration, killing in the name of religion and other topical issues? A cross-cultural analysis. New Zealand Journal of Psychology, 48(1):56-61.         [ Links ]

Badiou, A. 2007. Being and event. New York: Continuum.         [ Links ]

Bohm, D. 2009. On creativity. New York: Routledge Classics.         [ Links ]

Brits, E. 2022. So nou is mense met diep vooroordele slagoffers? Netwerk24. 14 Mei.         [ Links ]

Burger, W. 2022. Om krities te lees is om jou oordeel te laat grootword. Rapport (Johannesburg). 31 Julie. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/willie-burger-om-krities-te-lees-is-om-jou-oordeel-te-laat-grootword-20220731. [Internettoegang op 3 Maart 2023].         [ Links ]

De Beer, CS. 1993a. Dokumentnavorsing: Van reproduktiewe na 'n ideologie-kritiese leesmodaliteit. SAIPA Tydskrif vir Publieke Administrasie, 28(2):75-93.         [ Links ]

De Beer, CS. 1993b. Dokumentnavorsing: Die dekonstruktiewe en euretiese of inventiewe leesmodaliteit, of, om te lees wat nie geskrywe is nie. SAIPA Tydskrif vir Publieke Administrasie, 28(3):211-231.         [ Links ]

De Beer, CS. 2014. Reading: The understanding and invention of meaning. In Wessels, JS, Pauw, JC & Thani, XC (Eds). Reflective public administration: Context, knowledge and methods. Pretoria: University of South Africa Press, pp. 207-223.         [ Links ]

De Beer, CS. 2015. Multiple, connective intellection: The condition for invention. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 11(2):122-140.         [ Links ]

De Beer, CS. 2016. The inventive act of reading. Pretoria: Malan Media.         [ Links ]

De Beer, F. 2017. Die etos van die hedendaagse kenniswerker. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-2):481-500. doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-2a1.         [ Links ]

De Beer, F. 2018. Profesie, mite en delirium: Die dringende vraag na ware kennis in die eeu van informasionalisme en kennisaftakeling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):411-432. doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n2a13.         [ Links ]

Deleuze, G. 1981. Spinoza: Philosophie pratique. Paris: Minuit.         [ Links ]

Dey, P & Steyaert, C. 2007. The troubadours of knowledge: Passion and invention in management education. Organization, 14(3):437-461. doi.org/10.1177/1350508407076153.         [ Links ]

Dor, D. 2003. On newspaper headlines as relevance optimizers. Journal of Pragmatics. 35(5):695-721. DOI: 10.1016/S0378-2166(02)00134-0.         [ Links ]

Du Plooy, H. 2022. Van Coller-debat: Eens het wolf vir Rooikappie geëet. Rapport Weekliks (Johannesburg). 7 Augustus: 11. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/van-coller-debat-eens-het-wolf-vir-rooikappie-geeet-20220807.         [ Links ]

Eagleton, T. 2009. Trouble with strangers: A study of ethics. V. 285. West Sussex: Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Ecker, UKH, Lewandowsky, S, Chang, EP & Pillai, R. 2014. The effects of subtle misinformation in news headlines. Journal of Experimental Psychology: Applied. 20(4):323-335. DOI: 10.1037/xap0000028.         [ Links ]

Fortin, R. 2013. Penser avec Edgar Morin: Lire la méthode. Laval: Les Presses de L'Université Laval.         [ Links ]

Gadamer, H-G. 1972. Warheit und Methode. Tubingen: J.C.B Mohr (Paul Siebeck).         [ Links ]

Gadamer, H-G. 2013. Truth and method (Translation revised by Joel Weinsheimer and Donald G. Marshall). London: Bloomsbury.         [ Links ]

Guattari, F. 2012. Three ecologies. London: Continuum.         [ Links ]

Hampshire, S. 1981. Spinoza. Harmondsworth: Penguin Books.         [ Links ]

Henry, M. 2012. Barbarism. London: Continuum.         [ Links ]

Ifantidou, E. 2009. Newspaper headlines and relevance: Ad hoc concepts in ad hoc contexts. Journal of Pragmatics, 41(4):699-720. DOI: 10.1016/j.pragma.2008.10.016.         [ Links ]

Illich, I. 1974. Tools for conviviality. London: Coldar & Boyars Ltd.         [ Links ]

Jackson, N. 2022. Van Coller-debat: As jy só praat, help jy lewens verwoes. Rapport Weekliks (Johannesburg). 21 Augustus: 12.         [ Links ]

Jaspers, K. 1974. Spinoza. New York: A Harvest/HBJ Book.         [ Links ]

Kant, I. 1987 (1790). The critique of judgement. Translated by Werner Plurar. Indianapolis: Hackett.         [ Links ]

Kent, T. 1993. A theory of communicative interaction. Lewisburg: Bucknell University Press.         [ Links ]

Kombuis, K. 2022. Boekevat: 'n Nuwe 'Trompie' is nodig vir ons kinders. Netwerk24. 1 Augustus.         [ Links ]

Koorts, L. 2022. Watter uitkoms moet kinderboeke lewer? Netwerk24. 21 Mei.         [ Links ]

Kronrod, A & Engel, O. 2001. Accessibility theory and referring expressions in newspaper headlines. Journal of Pragmatics, 33(5):683-699. DOI: 10.1016/S0378-2166(00)00013-8.         [ Links ]

Kuiken, J, Schuth, A, Spitters, M & Marx, M. 2017. Effective Headlines of Newspaper Articles in a Digital Environment. Digital Journalism, 5(10):1300-1314. DOI: 10.1080/21670811.2017.1279978.         [ Links ]

Lecercle, J-J. 1985. Philosophy through the looking glass: Language, nonsense, desire. London: Hutchinson.         [ Links ]

Levinas, E. 1987. Ethisch en oneindig. Kampen: Uitgeverij Kok Agora.         [ Links ]

Litnet. 2023. Hennie van Coller. Besikikbaar by: http://www.litnet.co.za [7 Mei 2023].         [ Links ]

Liu, A. 2004. The laws of cool: Knowledge work and the culture of information. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Loots, S. 2022. Van Coller skaad Afrikaans met sy homofobie. Rapport Weekliks (Johannesburg). 24 Julie: 2. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/sonja-loots-van-coller-skaad-afrikaans-met-sy-homofobie-20220724.         [ Links ]

Makinen, M. 2006. Agatha Christie: Investigating Femininity. New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Malan, P. 2022. Akademie: Prof dreig met lastereis ná homofobie-herrie. Rapport Weekliks (Johannesburg). 24 Julie.         [ Links ]

McLachlan, T. 2022. Van Coller-debat: Verdien hy dit regtig om só gekielhaal te word? Rapport Weekliks (Johannesburg). 14 Augustus: 14.         [ Links ]

Midgley, M. 2006. Science and poetry. London: Routledge.         [ Links ]

Miller, JH. 1987. The ethics of reading. New York: Colombia University Press.         [ Links ]

Morin, E. 1997. Amour, poésie, sagesse. Paris: Editions du Seuil.         [ Links ]

Morin, E. 2004. La méthode 6: Éthique. Paris: Seuil.         [ Links ]

Naudé, SJ. 2022. Liefdeloosheid kan Afrikaans laat leegloop. Netwerk24. 22 Julie. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/liefdeloosheid-kan-afrikaans-laat-leegloop-20220722.         [ Links ]

Nietzsche, F. 1879. Human, all too human II and unpublished fragments from the period of Human, all too human II (Spring 1878 - Fall 1870). Stanford, CA: Stanford University Press.         [ Links ]

Opperman, AJ. 2022. Van Coller bedank as voorsitter van die Letterkundekommissie. Netwerk24. 25 Julie.         [ Links ]

O'Sullivan, M. 2006. Michel Henry: Incarnation, barbarism and belief. Oxford: Peter Lang.         [ Links ]

Pauw, JC. 2015. Oplettende na die letter ... Oftewel: Die vermoë om aan 'n stuk papier gehoorsaam te wees. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 55(4):618-631. doi.org/10.17159/2224-7912/2015/v55n4a8.         [ Links ]

Peters, MA. 2019. The ethics of reading Wittgenstein. Educational Philosophy and Theory, 51:6. doi.org/10.1080/00131857.2018.1455394.         [ Links ]

Prigogine, I. 1997. The end of certainty. New York: The Free Press.         [ Links ]

Rees, M. 2003. Our final hour: A scientist's warning: how terror, error, and environmental disaster threaten humankind's future in this century: on earth and beyond. New York: Basic Books.         [ Links ]

Ricoeur, P. 1991. Myth as bearer of possible worlds. In Valdes, MJ (ed.). A Ricoeur Reader: reflection and imagination. Toronto: University of Toronto Press.         [ Links ]

Rossouw, J. 2022. Wat gee 'ons' prys om meer inklusief te wees? Rapport Weekliks (Johannesburg). 21 Augustus:7.         [ Links ]

Scarry, E. 2014. Poetry, injury, and the ethics of reading. In Brooks, P & Jewell, H (eds). The humanities and public life. New York: Fordham University Press, pp. 41-48.         [ Links ]

Spinoza, B. 1979. Ethics. London: Everyman's Library.         [ Links ]

Stengers, I. 2013. Une autre science est possible! Paris: La Découverte.         [ Links ]

Stengers, I. 2018. Another science is possible: A manifesto for Slow Science. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Stiegler, B. 2013. Disbelief and discredit, vol. 2: Uncontrollable societies of disaffected individuals. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Van Coller, H. 2022a. 'Gewone mense' word al hoe meer randfigure. By in Beeld. 7 Mei: 4. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/gewone-mense-word-al-hoe-meer-randfigure-20220506. [Internettoegang op 3 Maart 2023].         [ Links ]

Van Coller, H. 2022b. Jy kry hulle nie meer in boeke en op TV nie. Volksblad (Bloemfontein). 3 Mei: 9. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/hennie-van-coller-jy-kry-hulle-nie-meer-in-boeke-en-op-tv-nie-20220503. [Internettoegang op 3 Maart 2023].         [ Links ]

Van Coller, H. 2022c. Versugting dat meerderheid gesinne wel funksioneel is. Beeld (Johannesburg). 18 Mei.         [ Links ]

Van Coller, H. 2022d. Hennie van Coller se ope brief aan S.J. Naudé. Netwerk24 (Johannesburg). 22 July. Beskikbaar by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/hennie-van-coller-se-ope-brief-aan-sj-naude-20220722 [Internettoegang op 3 Maart 2023].         [ Links ]

WAT. n.d. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Beskikbaar by: https://www.woordeboek.co.za/?qi=91930 [Internettoegang op 31 Julie 2023].         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-05-08
Goedgekeur: 2023-08-21
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

JS (Kobus) Wessels (DPhil, Universiteit van Pretoria) is 'n professor in Publieke Administrasie aan Unisa en 'n NRF-gegradeerde navorser. Sy navorsing fokus op betekenisvolle kennis oor publieke administrasie. Hy is mederedakteur van en bydraer tot verskeie vakkundige boeke, outeur en mede-outeur van meer as 55 portuurbeoordeelde publikasies, asook verskeie ander bydraes en verslae.
JS (Kobus) Wessels (DPhil, University of Pretoria) is a professor of Public Administration at Unisa and a NRF rated researcher. His research focuses on meaningful knowledge in Public Administration. He is co-editor of and contributor to several scholarly books, and has authored and co-authored more than 55 peer-reviewed publications as well as several other contributions and reports.
* Die gedagte aan hierdie artikel het ontstaan tydens 'n gesprek oor die Van Coller-diskoers met professor CS (Fanie) de Beer. Hierdie eerste gesprek het gelei tot vele e-poswisselings, telefoonop-roepe en omvattende gesprekke oor middagetes met die keur van ons land se wyne. Fanie het my bekend gestel aan en ingewy in 'n rykdom van literatuur en insigte wat vroeër buite my onmid-dellike verwysingsveld geval het. Hoewel ek finale verantwoordelijkheid vir hierdie teks aanvaar, adem dit die gees, woorde, frases en insigte van 'n onbaatsugtige en wyse mentor, Fanie de Beer.
1 Volgens die aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT): Irrasionele, chroniese vrees vir en afkeer van homoseksualiteit en gays.
2 Die WAT gee twee verklarings vir 'randfiguur', naamlik "Iem. wat nie deel van 'n groep vorm nie of nie ten volle daarin tuis is nie, wat afsydig of onbetrokke is of nie aktief aan bep. aktiwiteite deelneem nie, wat nie 'n belangrike rol speel i.d. ontstaan, ontwikkeling of verloop van iets nie, of wat as onbeduidend of onbelangrik beskou word" asook "Ondergeskikte figuur in 'n roman, toneelstuk, rolprent, of derglike" (WAT).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License