SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4The source text for the 2020 Afrikaans translation of the New TestamentTranslation difficulties posed by the Deuterocanonical Books: Jesus Ben Sira as a case study índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria dic. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a7 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die potensiaal van Afrikaanse betrokke poësie om 'n sensitiwiteit vir taalvariasie en -ideologie by voorgraadse studente te kweek

 

The potential of Afrikaans engaged poetry to foster sensitivity for language variation and language ideology among undergraduate students

 

 

Janien LindeI; Johanita KirstenII

IAfrikaanse en Nederlandse letterkunde, Noordwes-üniversiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Janien.Linde@nwu.ac.za
IIUPSET Navorsingsfokusarea, Noordwes-üniversiteit, Vanderbijlpark, Suid-Afrika. E-pos: Johanita.Kirsten@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die potensiaal van betrokke poësie om 'n sensitiwiteit vir taalideologie en -variasie by voorgraadse studente te kweek. Vir hierdie doel word data ondersoek wat verkry is uit die antwoorde van eerstejaars op 'n opdrag wat handel oor drie spesifieke gedigte wat as betrokke poësie aangebied word. Die volgende teoretiese uitgangspunte is vir hierdie artikel van belang: betrokke poësie (o.a. littérature engagée), selfgerigte leer en lees, en taalideologie. Die data wat ingesamel is, is met behulp van kritiese diskoersanalise geanaliseer deur 'n aantal taalideologiese kodes te identifiseer: essensialisme, taalpurisme, standaardtaalideologie, taalnasionalisme, hiërargie van tale of variëteite, moeder-taalideologie, chauvinisme en ontlaering. Die kode "ontlaering" is gebruik om aan te dui waar en in welke mate studente tog, na aanleiding van die opdrag oor betrokke poësie, krities bewus geraak het van hul eie taalideologieë. Ons gevolgtrekking is dat 'n opdrag waarin die aard en funksionering van betrokke poësie as't ware prakties vir die studente gedemonstreer word, wel tot 'n mate daarin slaag om hulle bewus te maak van taalideologie en die invloed daarvan op individue se idees oor taal. Ons dui egter aan dat die opdrag wel bepaalde tekortkominge het, en meen daarom dat verdere toeligting, spesifiek vanuit 'n taalkundeperspektief, die proses wat hierdie letterkundige opdrag begin het om sensitiwiteit rondom taal by studente aan te wakker, moet voortsit en akademies verstewig.

Trefwoorde: betrokke poësie; letterkundeonderrig; taalvariasie; taalideologie; Jan Lion Cachet; Willa Boezak; Diana Ferrus; selfgerigte lees; taalaktivisme


ABSTRACT

The main topic of this article is the concept of the unlaagering ("ontlaering") of Afrikaans - creating a more inclusive and representative teaching and learning framework, and deliberately moving away from the traditional, conservative associations with Afrikaans and the link between Afrikaans and Afrikanerdom to the exclusion of other speakers of Afrikaans. In this article, we investigate the potential of engaged poetry to stimulate sensitivity towards language ideology and language variation in undergraduate, specifically first year, students of Afrikaans and Dutch. To this end, data was collected in the form of an assignment about three specific poems which are presented as engaged poetry. The topic of engaged poetry was discussed in a class preceding the assignment, where the concept and the theory were discussed. The students were not introduced to the topic of unlaagering prior to the assignment, or to the specific poems forming part of the assignment.
The following theoretical starting points are relevant to this article: engaged poetry (littérature engagée), self-directed reading and learning, and language ideology. Engaged literature is aimed at challenging the beliefs of readers, and encouraging them to rethink and reconsider certain difficult situations or issues. Self-directed learning refers to the ability of an individual to gain knowledge, improve skills, set goals, and develop themselves. Language ideology concerns the beliefs people have about language, and the cultural systems of ideas, feelings and values that influence those beliefs.
Data was collected in the form of student assignments. Students who had enrolled for the particular module were asked to provide or withhold permission to use their assignments for research purposes, and 33 students provided permission. The student answers in the assignments were analysed using critical discourse analysis methods, where codes were identified from both the literature as well as inductively from the assignments themselves. The analysis was performed using the software ATLAS.ti, and extensively revised after quality control measures had been implemented. The following codes were used: essentialism, language purism, standard language ideology, linguistic nationalism, hierarchy of languages / varieties, mother tongue ideology, chauvinism, and unlaagering.
Essentialism refers to the belief that an object has an inherent essence which determines its character. Related to this, language purism is the belief that each language has an inherent character, and should be kept "pure" from influences of other languages. This further links to standard language ideology, according to which the standard variety of a language is the only correct version of that language. Linguistic nationalism also comes into play, with an inherent link between a specific language and a specific nation. This enforces the belief in the hierarchy of languages or varieties, according to which a standard language is at the top and other varieties are inferior to it. The belief in "one true mother tongue" is also ideologically loaded, aligning with the previous codes. Finally, chauvinism refers to the belief that something, in this case a language, is good because it is ours, and that one should take pride in it.
The "unlaagering" code was specifically used to indicate instances where a student demonstrates critical awareness of the language ideologies in their own views, and/or when they express views in their answers that align with the principles of unlaagering.
The conclusion of the article is that an assignment in which the nature and workings of engaged poetry are being practically demonstrated to students can succeed in creating at least some level of awareness of language ideology and how it can influence people's ideas about language. However, we argue that the assignment has certain shortcomings. To overcome the shortcomings of this specific assignment, we suggest that it can be viewed as a good starting point, but that the process of fostering sensitivity regarding language and ideology, especially from a linguistic perspective, should be continued and strengthened in the foreseeable future.

Keywords: engaged poetry; literature teaching; language variation; language ideology; Jan Lion Cachet; Willa Boezak; Diana Ferrus; self-directed reading; language activism


 

 

1. Inleiding

Hierdie artikel word gesitueer op die kruispunt tussen pedagogiek, betrokke letterkunde en taalideologie. As pedagoë en taal- en letterkundenavorsers stel ons belang in die potensiaal van betrokke poësie om 'n sensitiwiteit vir taalvariasie en -ideologie by voorgraadse studente te kweek. Die navorsingsvraag wat ons geïdentifiseer het, is die volgende: tot hoe 'n mate kan 'n opdrag waarin taalaktivisme en taalidentiteit as element van betrokke poësie ondersoek word, daarin slaag om studente te begelei om 'n sensitiwiteit vir taalideologie en -variasie te ontwikkel? Vir hierdie doel het ons 'n groep eerstejaarstudente se antwoorde op 'n opdrag wat handel oor betrokke poësie, bestudeer.1

Vir die doel van hierdie artikel word die opdrag eerstens uiteengesit en gekontekstualiseer. Daarna volg gedeeltes wat die teoretiese uitgangspunte van die navorsingsprojek uiteensit, naamlik oor die aard en doel van betrokke poësie, pedagogiek, en taalideologie. Die metodologie wat ons gevolg het, kom dan aan die beurt. Daarna gee ons 'n uiteensetting van die resultate na aanleiding van die data wat ingesamel is. Laastens word die bevindinge van die navorsingsprojek uiteengesit.

 

2. Kontekstualisering / agtergrond

2.1 Die opdrag

Die opdrag oor betrokke poësie wat in die module AFLL121 aan die eerstejaarstudente van die Noordwes-Universiteit (NWU) gegee is, betrek drie gedigte waarin verskillende perspektiewe op taalidentiteit en taalaktivisme geïdentifiseer kan word. Die eerste is "Di Afrikaanse taal" van Jan Lion Cachet wat in die 1800's verskyn het (Brink, 2009:15). Hierdie gedig is geskryf in 'n verouderde vorm van Afrikaans en handel oor die digter se hoofsaaklik Eurosentriese interpretasie van die oorsprong van Afrikaans. Die volgende twee gedigte is "Ons Afrikaanse kind" deur Willa Boezak (2007) en "Afrikaans, 'n versoeningstaal" deur Diana Ferrus (2004), albei uit die vorige dekade van die huidige eeu.2 Boezak en Ferrus se gedigte vertoon elemente van taalaktivisme aangesien beide uitsprake maak oor die oorsprong van Afrikaans asook die invloed en potensiaal daarvan in die moderne Suid-Afrika. Hierdie twee gedigte verskil egter in 'n groot mate van Lion Cachet s'n aangesien albei Afrikaans se oorsprong nie hoofsaaklik na Europa terugspoor nie, maar aanvoer dat Afrikaans in die eerste plek 'n inheemse Suid-Afrikaanse taal is wat hier op eie bodem ontwikkel het te midde van 'n wye verskeidenheid talige invloede. Daar is dus 'n duidelike verskil in die tipe taalideologiese en -aktivistiese uitgangspunte van die drie gedigte te sien. Meer inligting met betrekking tot die taalpolitieke en -aktivistiese konteks waarbinne die drie gedigte geskryf is, word later in die artikel verskaf.

Die opdrag is só opgestel dat dit die studente lei om die drie gedigte te lees as betrokke gedigte wat verskillende standpunte uiter oor:

1. die oorsprong van Afrikaans;

2. wie die (oorspronklike en huidige) sprekers van Afrikaans is;

3. en hoe die taalstryd van verskillende sprekers van Afrikaans uit verskillende tydperke van mekaar verskil (het).

Die doel van die opdrag is tweërlei: in die eerste plek dien dit as 'n praktiese illustrasie van hoe betrokke letterkunde werk; en in die tweede plek is dit 'n poging om aan studente duidelik te maak waarom dit nodig is om sensitief te wees vir taalidentiteit en taalideologie.

Die opdrag vra die studente in die eerste plek om die drie gedigte aandagtig deur te lees. Lion Cachet se gedig is in die voorgeskrewe teks vir AFLL121, die Groot Verseboek Deel 1 te vind, en die twee gedigte van Boezak en Ferrus is aan die studente verskaf. Daar is sekere tegniese vereistes vir die uitvoer en inhandiging van die opdrag gegee, en daar is ook genoem dat die studente wel gebruik mag maak van betroubare internetbronne om lig te werp op die vrae in die opdrag. Die volgende stukkie teks is saam met die opdragteks verskaf met die doel om die opdrag en die gedigte te kontekstualiseer en die studente in die regte rigting te lei:

Die drie gedigte "Di Afrikaanse taal" van J. Lion Cachet, "Afrikaans 'n versoeningstaal" van Diana Ferrus en "Ons Afrikaanse kind" van Willa Boezak gaan al drie oor Afrikaans, maar dit is uit drie verskillende perspektiewe geskryf. J. Lion Cachet het ook in 'n heel ander tyd geleef as Ferrus en Boezak. Al drie gedigte handel oor taalaktivisme: elkeen van die drie digters is besig met 'n eie pleidooi vir Afrikaans. Dit beteken dat die gedigte gelees kan word as betrokke poësie.

Daarna moes die studente die volgende nege vrae oor die drie gedigte beantwoord:

1.1 Wanneer het elkeen van hierdie drie gedigte min of meer verskyn?

1.2 Wat is elkeen van die drie digters se herkoms (wie was hulle voorouers)?

1.3 Watter invloed dink jy kan die antwoorde op 1.1. en 1.2. hê op die manier waarop die kwessie van Afrikaans as taal in die onderskeie gedigte benader word? Met ander woorde hoe verskil die "taalstryd" wat elkeen van hierdie digters voer?

2. Vergelyk die titels van die drie gedigte. Wat kan jy daaruit aflei? Watter verwagtinge skep elkeen van die titels by jou as leser?

3. Hoe verskil die drie gedigte wat taalgebruik betref? Is daar vreemde woorde in die gedigte? Wat kan jy aflei oor die verband tussen die taalgebruik en die inhoud van die gedigte?

4. In elkeen van die gedigte word die herkoms van Afrikaans verduidelik. Hoe verskil dit tussen die drie gedigte?

5. Lewer kommentaar op die styl van die gedigte. Hoe lyk die tipografie? Is daar sprake van ritme en rym in die gedigte? Watter afleidings kan jy hieroor maak?

6. Noem 'n voorbeeld van 'n metafoor uit elke gedig en verduidelik hoekom dit relevant is vir die gedig.

7. Het hierdie drie gedigte jou anders laat dink oor Afrikaans as taal en die invloed van betrokke Afrikaanse poësie? Hoekom of hoekom nie?

Die opdrag word voorafgegaan deur 'n klaslesing oor betrokke literatuur en betrokke poësie. Die volgende aspekte van betrokke poësie word onder die studente se aandag gebring:

Die verbande tussen kuns en sosiale geregtigheid.

Die kunstenaar se verhouding met en verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap/ samelewing (al dan nie).

Literatuurteoretiese agtergrondinligting oor littérature engagée (n.a.v. Jean-Paul Sartre).

Die verbande tussen letterkunde en die strewe na (verskillende soorte) vryheid.

Die appèl wat betrokke letterkunde (bv. 'n gedig) op die leser maak om anders na die werklikheid te kyk.

Die volgende vraag word ook tydens die lesing aan die klas gevra en oopgestel vir bespreking: Kan (en behoort) 'n kunswerk (soos 'n gedig) die leser anders (te) laat kyk na die werklikheid? Hoe? Daar word dus nie spesifiek aandag geskenk aan taalkundige verskynsels soos taalpolitiek en taalideologie nie, maar die opdrag is só opgestel dat dit die student lei om wel uiteindelik oor hierdie sake na te dink. Die idee is dat die gedigte, as voorbeelde van betrokke poësie, die studente-as-lesers laat nadink oor hul eie vooropgestelde idees oor Afrikaans as taal.

2.2 Oor betrokke poësie

Betrokke poësie moet verstaan word binne die groter (en komplekse) konteks van betrokke literatuur en die Franse eksistensialis Jean-Paul Sartre se idees oor littérature engagée. Betrokke literatuur is gemoeid met die maniere waarop skrywers, digters en dramaturge letterkunde skep wat daarop gemik is om 'n leser aan te moedig om anders te kyk na sekere uitdagende situasies of kwessies. Die doel van betrokke letterkunde is om 'n leser te lei om moontlik "'n bepaalde houdingsverandering" te ondergaan (Jacobs, 2018:2). Dit is amper 'n gemeenplaas om te sê dat letterkunde in verhouding staan tot die samelewing (vgl. Degenaar, Rabie, Rive en Van Zyl Slabbert se argumente hieroor tydens die Simposium oor die Sestigers (Polley, 1973)). Skrywers interpreteer naamlik - en maak ook afleidings oor - die sosiale werklikheid. Skrywers hou dikwels met hul skryfwerk 'n spieël op waarin die leser gekonfronteer word met ongemaklike realiteite en so aangemoedig word om selfondersoek te doen (Jacobs, 2018:1).

Volgens Jacobs (2018:2) het betrokke letterkunde hoofsaaklik drie hoofoogmerke: om vryheid en geregtigheid te verdedig; om die leser op te roep tot sterker verantwoordelikheid; en om die leser te lei om sy/haar ingesteldheid rondom 'n sekere saak te verander. Dit is uiteraard so dat lesers soms weerstand kan bied teen tekste wat só funksioneer, aangesien selfondersoek en 'n verandering van ingesteldheid ongemak tot gevolg kan hê. Dit is egter belangrik om raak te sien dat die grondslag van betrokke letterkunde nie propaganda is nie (alhoewel dit ook daarvoor aangewend kan word), maar eerder moraliteit (Jacobs, 2018:12). Jacobs (2018:12) verduidelik dat die vaders van betrokke letterkunde, Albert Camus en Jean-Paul Sartre, littérature engagée beskryf het as 'n subgenre van letterkunde wat gerig is op die bevordering van "die vryheid van die leser en die samelewing asook die verwerwing van die waarheid". Wanneer "waarheid" genoem word, volg die aanname dat daar dus sprake is van een of ander "leuen". 'n Stuk betrokke letterkunde rig 'n subtiele appèl aan die leser om bewus te raak van so 'n moontlike "leuen" wat in die werklikheid bestaan. In vandag se postwaarheid-era raak dit toenemend moeilik om te bepaal wanneer iets waar of leuenagtig is, en die perspektief van die beskouer het dikwels 'n baie sterk invloed op hoe waarhede en leuens geïnterpreteer word. 'n Stuk betrokke letterkunde (soos 'n gedig) kan binne hierdie konteks beskou word as 'n tipe retoriese proses waartydens 'n argument gevoer word om een of ander ongeregtigheid (die veronderstelde "leuen") onder die leser se aandag te bring. Sulke ongeregtighede (soos die onderdrukking van universele waarhede soos vryheid, geregtigheid, regverdigheid, (mede)menslikheid en demokratiese beginsels) het gewoonlik een of ander krisis tot gevolg, redeneer Brink (1967:109). In so 'n krisistyd moet dinge op nuwe maniere belig en uitgedruk word om die belang daarvan onder mense se aandag te bring. 'n Stuk letterkunde kan moontlik 'n rol speel in hierdie opsig: omdat literêre taal inherent kreatief is en sterk emosie kan ontlok, het dit die vermoë om dinge op nuwe maniere te verwoord wat lesers op nuwe maniere kan tref. Littérature engagée daag die leser uit om nie fundamentalisties te lees nie, maar eerder met nuwe en vars perspektiewe na tekste te kyk (Graff, 1979:193).

Sartre se beskouing van betrokkenheid in letterkunde plaas egter sterk klem op die gewilligheid van die leser om self te besluit om deur die stuk letterkunde beïnvloed te word en moontlik gevolglik sy of haar perspektief op 'n sekere saak aan te pas en daarby betrokke te raak (Brink, 2010; Hattingh, 1990). Daar is dus nie sprake van dwang nie, maar eerder 'n proses van bewusmaking en inspirasie. Dit eindig egter nie by inspirasie nie. Brink (2010) verduidelik dat Sartre betrokke letterkunde beskou het as 'n geleentheid vir die leser om 'n medeskepper van die literêre werk te word. Die leser word 'n kreatiewe deelnemer, eerder as 'n passiewe verbruiker van die teks. Op hierdie manier fokus betrokke letterkunde op die verhouding en interaksie tussen die teks (die gedig) en die leser.

Wat die opdrag oor betrokke poësie in die AFLL121-module betref, word die studente gelei om die werking van betrokke poësie eerstehands te ervaar. Die studente lees naamlik die gedigte wat spesifiek handel oor aktivisme ten opsigte van die taal Afrikaans, wat vir die meerderheid studente in die klas 'n moedertaal is, en wat ook deurlopend 'n emosionele saak op universiteitskampusse is. Die drie gedigte het egter in verskillende kontekste ontstaan, en het daarom verskillende sienings oor hoe daar oor Afrikaans en die oorsprong daarvan gedink moet word.

2.3 Die taalpolitieke en -aktivistiese konteks van die drie gedigte

Jan Lion Cachet se gedig "Di Afrikaanse taal" (Brink, 2009:15) het verskyn in die tyd wat die Eerste Afrikaanse Beweging aan die gang was, naamlik in die laaste kwart van die negentiende eeu (Dekker, 1935:6;28). Die Eerste Afrikaanse Beweging was meer as slegs 'n taalbeweging. Dit was ook 'n ekonomiese en politieke beweging vanuit Afrikanergeledere aangesien Afrikaanssprekendes in hierdie tyd geen politieke mag in Suid-Afrika gehad het nie (Dekker, 1935:7). Nadat die Kaap 'n Britse kolonie geword het, het Lord Charles Somerset Engels tot die enigste amptelike taal verklaar. Selfs Nederlands is op daardie stadium uit regeringsake verban. Afrikaans is op daardie stadium beskou as 'n "plat omgangstaal, ongeskik vir meer verhewe doeleindes" (Dekker, 1935:6).

In 1875 word die Genootskap vir Regte Afrikaners gestig, aanvanklik om die saak vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling te bepleit (Dekker, 1935:12). Dit is egter duidelik dat die GRA ook sterk nasionalistiese oogmerke gehad het. Hulle wou die Afrikaner ophef tot 'n nasie met 'n eie amptelike taal. Dit het onder andere behels dat 'n taalstryd teen die oorheersing van Engels (en ook tot 'n mate Nederlands) gevoer moes word, en dat Afrikaans ontwikkel word tot "volwaardige taal". Publikasies (soos Die Patriot en Ons Klyntji) was noodsaaklik in hierdie opsig omdat dit Afrikaans se status as taal met eie talige kenmerke sou bevorder.

Dit is binne hierdie groter politieke, taalpolitieke en taalontwikkelingskonteks wat "Di Afrikaanse Taal" van Jan Lion Cachet in 1896 in Ons Klyntji gepubliseer is. Alhoewel hy nie lid was van die GRA nie, het Lion Cachet wel sy steun daaraan gegee (Dekker, 1935:29). Soos reeds genoem, is hierdie gedig geskryf in 'n verouderde of archaïese vorm van Afrikaans en handel oor die digter se hoofsaaklik Eurosentriese interpretasie van die oorsprong van Afrikaans, en spesifiek watter Europese tale 'n invloed daarop gehad het. 'n Sterk nasionalistiese en taalideologiese element is teenwoordig aangesien die digter duidelike taaltrots in die gedig uitspreek. Daar word naamlik verwys na 'n digter-vryer wat die moedertaal Afrikaans se hand moet vat sodat hulle saam die land kan inspireer om hulle na te volg en koning en koningin van "heel Suid-Afrika" te word (Brink, 2009:15). Dit is ook duidelik dat die digter van mening is dat Afrikaanssprekendes aan die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu moes stry vir die reg om Afrikaans te praat, en ook dat daar neergesien is op Afrikaans binne die sosiopolitieke konteks van Suid-Afrika voordat Afrikaans gestandaardiseer en as amptelike landstaal erken is. Alhoewel betrokke literatuur as verskynsel eers ná die tweede wereldoorlog bestudeer is, kan 'n mens wel 'n argument daarvoor uitmaak dat "Di Afrikaanse Taal" binne die konteks van taalideologie en taalpolitiek gelees kan word as 'n betrokke gedig omdat dit die Afrikaanse leser van die tyd sou aanmoedig om Afrikaans as taal aan te gryp en te beoefen. Die gevolg sou wees dat die oorheersing van (die koloniale) Engels as enigste amptelike landstaal teengestaan is, en daarmee saam algemene Britse oorheersing.

Boezak se gedig "Ons Afrikaanse kind" en Ferrus se "Afrikaans, 'n versoeningstaal" het beide in die tweede dekade van die huidige eeu verskyn. Dit was 'n tyd van spanning tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans, 'n spanning wat oor dekades opgebou het. Tydens die Afrikaanse Taalindaba in Stellenbosch in 2004 vind samesprekinge plaas om 'n nasionale taalliggaam vir Afrikaans saam te stel (Van der Waal, 2012:546). Tydens die samesprekinge word dit duidelik dat die bruin (en swart) Afrikaanse taalkundiges wat teenwoordig was, die wit Afrikaans taalaktiviste se bedoelinge wantrou. Van der Waal voer aan dat, alhoewel die bruin Afrikaanssprekendes se bydraes broodnodig is binne die Afrikaanse taalpolitieke landskap, hulle gereeld daarvan beskuldig is dat hulle nie taalaktivisties genoeg is nie. Gepaardgaande daarmee word Kaaps (steeds) gereeld deur wit Afrikaanssprekers beskou as "onsuiwer" en daarom 'n bedreiging vir "goeie en suiwer" "Standaardafrikaans". Dit is noemenswaardig dat daar in September 2009 'n akademiese kongres en kultuurfees met die naam "Roots" by die Universiteit van Weskaapland plaasgevind het (Van der Waal, 2012:457). Tydens hierdie kongres en fees word uiting gegee aan "coloured Afrikaans-speakers" (Van der Waal, 2012:457) se ervaring van Afrikaans as 'n kreoolse taal met verskeie inheemse en uitheemse invloede.

Die konteks van Boezak en Ferrus se gedigte moet egter verder teruggevoer word na die gesprekke rondom Afrikaans voor en in die nuwe demokratiese bestel. Vandat die Nasionale Party in die 1940's aan bewind gekom het, is Afrikaans gebruik om die wit sprekers daarvan polities te bevoordeel, in 'n proses wat Neville Alexander (2004:115) beskryf as "language engineering". Die doel was om met behulp van strategieë soos enkelmediumonderrig Afrikaans op te hef tot ten minste gelyk aan Engels wat die meeste sosiale en amptelike funksies betref. Willemse (2003:9) argumenteer dat ook die Afrikaanse letterkunde gebruik is om 'n bepaalde Afrikaner-nasionalisme op grond van etnisiteit daar te stel. Die vorm van Afrikaans wat vir hierdie projek ingespan is, is die vernederlandsde vorm wat tot so onlangs as 2009 nog nie voldoende erkenning gegee het aan die invloede van inheemse en slawetale op die ontwikkeling van die taal nie (Van Rensburg, 2017; 2019). Van Rensburg (2013:3) verduidelik dat alhoewel vroeg reeds waargeneem is dat nie-Nederlandssprekers se tale 'n groot invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad het, die besonderhede daarvan vir lank onontgin gelaat is. In hierdie verband noem hy byvoorbeeld die invloed van die tale van die Afro-Asiatiese slawe, die Portugese seevaarders en die Khoi. Akademici soos Neville Alexander (2004), Achmat Davids (1990) en Hein Willemse (2013) voer lank reeds soortgelyke argumente waarin alternatiewe narratiewe met betrekking tot die ontwikkeling van Afrikaans beredeneer en die argumente rondom die Europese (hoofsaaklik Nederlandse) wortels van Afrikaans bevraagteken word. Beide "Ons Afrikaanse kind" deur Boezak en "Afrikaans, 'n versoeningstaal" deur Ferrus maak melding van die verskeidenheid talige invloede van Afrikaans. Boezak se gedig beskryf naamlik hoe Afrikaans langs die kus van Suid-Afrika "hortend sukkelend" gebore is "tussendeur gebare met vreemde kaaseters, wyndrinkers en speserysoekers" en hoe dit later beïnvloed is deur die tale van "vreemdes in kettings". In "Afrikaans, 'n versoeningstaal" word verduidelik dat "hulle" gesê het dat Afrikaans "uit die mond van Europa" kom, maar dat dit eintlik "uit die buik van Afrika" kom, "uit die monde van slawe, Europeërs en inheemse volke".

Die gevolg daarvan dat die talige invloede van (onder andere) die voorouers van bruin sprekers van Afrikaans nie erken is nie, is dat moderne bruin sprekers aangevoel het dat dit nodig is om 'n eie taalstryd te voer teen die oorheersing van 'n enkele, wit verhaal oor die ontstaan van Afrikaans. Dit maak sin om Boezak en Ferrus se gedigte in hierdie konteks te beskou. Beide Willa Boezak en Diana Ferrus is bedrywige taalmense wat bekend is vir hulle aktivisme, spesifiek wat die regte van gemarginaliseerde taalgemeenskappe betref (Anon, 2023 en üWC Institutional Advancement, 2023). Boezak en Ferrus se gedigte vertoon elemente van taalaktivisme aangesien beide uitsprake maak oor die oorsprong van Afrikaans. Die gedigte beklemtoon verder die invloed en versoeningspotensiaal wat Afrikaans in die moderne Suid-Afrika kan hê. Hierdie twee gedigte verskil in 'n groot mate van Lion Cachet s'n aangesien beide Afrikaans se oorsprong nie hoofsaaklik na Europa terugspoor nie, maar aanvoer dat Afrikaans in die eerste plek 'n inheemse Suid-Afrikaanse taal is wat hier op eie bodem ontwikkel het te midde van 'n wye verskeidenheid talige invloede.

Alhoewel daar dus duidelike verskille te sien is in die tipe taalaktivistiese uitgangspunte van die drie gedigte, is dit spesifiek gekies omdat dit duidelik verskillende ideologiese uitgangspunte oor Afrikaans vertoon. Lion Cachet se gedig fokus naamlik op beperkende taalideologiese verskynsels soos essensialisme, taalnasionalisme, die verheffing van die idee van 'n "moedertaal" en taalchauvinisme, waaraan later aandag geskenk sal word. Ferrus en Boezak se gedigte, daarteenoor, staan 'n meer demokratiese en inklusiewe beskouing van Afrikaans voor. Die uiteindelike oogmerk van die opdrag is dat die studente hierdie verskil in breë trekke moet raaksien. Die veronderstelling is dan dat hierdie twee uiteenlopende beskouings oor Afrikaans die studente daartoe sal lei om moontlike eie beperkende ideologieë in verband met taal raak te sien en krities te beskou.

2.4 Pedagogiese oorwegings

Die taal- en letterkundeklaskamer bied 'n produktiewe ruimte om die maniere waarop studente vooropgestelde idees en aannames reproduseer en uitdaag te bestudeer. Sharma (2021:8) voer aan dat om studente se reaksies te assesseer en te bestudeer die potensiaal het om konvensionele maniere van dink en doen uit te daag en te transformeer. Die studente in Sharma se studie het 'n teks gelees wat deur 'n transgender persoon geskryf is en is toe aan die hand van 'n aantal vrae gevra om op die narratief te reageer. Hul reaksies is daarna aan die hand van kritiese diskoersanalise bestudeer om hul persoonlike kennis en oortuigings oor die onderwerp te bepaal. Die ideaal is uiteindelik dat die blootstelling aan hierdie spesifieke teks hulle sou lei om hul eie vooropgestelde idees rondom die ervarings van transgender persone te bevraagteken en aan te pas. 'n Soortgelyke proses is gevolg wat die opdrag oor betrokke poësie betref. Aangesien daar na die outeurs se wete nie enige soortgelyke navorsing binne die Suid-Afrikaanse tersiêre onderrigkonteks gedoen is nie, lewer ons navorsing en artikel 'n belangrike bydrae.

Om die uitwerking van studente se interaksie met betrokke poësie te belig, en vas te stel of die verwagte leer wel plaasgevind het, kan kursoriese insigte in verband met die leerproses wat as "selfgerigte leef' (vgl. Knowles, 1975; Gibbons, 2002) bekend staan, nuttig wees. Leer wat geheel en al, of tot 'n mate, deur die leerder/student self gerig word, dui op 'n verskuiwing vanaf leer wat alleenlik deur 'n onderwyser/dosent gerig word. Selfgerigte leer verwys na die individu se vermoë om self kennis te vermeerder, vaardighede te verbeter, doelwitte te stel en persoonlik te ontwikkel (Vos & Van Oort, 2018:934). Vos en Van Oort (2018) voer met verwysing na Fuglei (2018) aan dat selfgerigte lees 'n integrale deel van selfgerigte leer is. Hulle argumenteer dat 'n leser se individuele kennismaking met 'n teks aan die hand van 'n voorsiene raamwerk (of leidrade) "selfontdekking, selfverantwoordelikheid, eie menings en selfstandige besluitneming" tot gevolg kan hê (Vos & van Oort, 2018:935). Die maniere waarop betrokke poësie funksioneer, eggo die doeleindes van selfgerigte lees omdat dit lesers aanspoor om hulle eie idees en opinies oor die werklikheid ondersoekend te ontdek en om besluite te neem oor hoe die inligting in die betrokke gedig dan hul werklikheidsbeeld gaan beïnvloed, al dan nie.

Vos en Van Oort (2018) se artikel is 'n illustrasie van hoe 'n onderwyser of dosent sekere tekstuele elemente as leidrade vir studente kan uitlig om hulle by te staan met die proses van selfgerigte lees. Dit is duidelik dat daar wat die AFLL121-opdrag oor betrokke poësie betref, nie totale selfgerigte leer plaasgevind het nie. Dit is egter waar dat 'n mate van selfgerigte leer aan die hand van selfgerigte lees wel plaasvind. In die eerste plek is dit die eerste keer wat die studente die drie gedigte wat in die opdrag ter sprake is, binne die klaskonteks sien. Die gedigte word nie in die klas gelees of behandel nie. In hierdie opsig maak die studente dus gebruik van selfgerigte lees. Die opdrag word voorafgegaan deur 'n lesing oor betrokke poësie. Die gedigte word ook in die meegaande inligtingstuk getipeer as betrokke poësie omdat dit handel oor taalaktivisme aangesien elkeen van die drie digters in hul gedigte besig is met 'n eie pleidooi vir Afrikaans. Die studente word dus van genoeg leidrade voorsien om die opdrag binne die konteks van die leeronderwerp van betrokke poësie te benader.

Die vrae in die opdrag is ook só opgestel en volg volgens 'n spesifieke manier op mekaar sodat dit die studente lei om, wanneer hulle by die laaste vraag kom, krities te kan besin oor eie taalideologiese standpunte. Die eerste vraag (1.1.) handel oor wanneer elkeen van die gedigte min of meer verskyn het. Die doel hiermee is om die studente attent te maak daarop dat die drie gedigte uit twee verskillende historiese eras spruit. Deur waar te neem dat Lion Cachet se gedig uit die negentiende eeu dateer en Boezak en Ferrus s'n uit die een-en-twintigste eeu, behoort die studente tot die besef te kom dat die kontekste waarin die digters oor Afrikaans gedig het, ingrypend verskil. Op soortgelyke wyse behoort vrae 1.2. en 1.3. oor die digters se herkoms en hul moontlike voorouers, die student te laat besef dat die perspektiewe waaruit die drie digters skryf, ook heeltemal verskil en dat dit 'n groot invloed sal hê op hoe elkeen oor Afrikaans as taal voel. Elkeen se "taalstryd" sal dus verskil. Vrae 2 en 3 handel oor die titels en taalgebruik van die gedigte. Die student word met hierdie vrae gelei om raak te sien dat Lion Cachet se gedig in 'n verouderde vorm van Afrikaans geskryf is aangesien die titel asook die res van die gedig vreemde, verouderde skryfstyl en spelling bevat, terwyl Ferrus en Boezak se taalgebruik herkenbaar is en meer lyk op algemene Afrikaans (Pilon, 2023). Die titels van die drie gedigte dui ook op verskillende ingesteldhede ten opsigte van Afrikaans. Waar Lion Cachet s'n die Afrikaanse taal as verskynsel (met 'n bepaalde lidwoord, "Di") sterk voorop stel, wys die titel van Boezak se gedig op die beskouing dat Afrikaans maar nog 'n kind is; 'n geliefde een wel ("ons"), maar een wat maar nog in sy kinderskoene is. Ferrus se gedigtitel plaas weer die fokus op Afrikaans se potensiaal om 'n rol te speel met betrekking tot versoening in Suid-Afrika.

Die student sal waarskynlik nie op hierdie stadium al ten volle besef dat die titels reeds verskillende taalideologiese uitgangspunte verteenwoordig nie. Vraag 4 rig die student se aandag spesifiek op hoe verskillend daar in die drie gedigte gepraat word oor Afrikaans se herkoms: Cachet (2009:15) se gedig stel dit duidelik dat Afrikaans "van 'n hoog geslag" afkomstig is (Holland, Frankryk), en dat die feit dat die taal uitgeskel word "vir Hotnotsmeid" ongeoorloof is. Die invloed van die inheemse en Oosterse tale word dus sterk ontken. Daarmee saam word die menswaardigheid van baie van die sprekers van hierdie tale ook ontken soos gesien kan word in die inherente rassisme in die term "hotnotsmeid", en die feit dat Cachet se Afrikaans nie daarmee geassosieer moes word nie. Ferrus en Boezak se gedigte voer egter 'n duidelike argument dat Afrikaans as "onse reënboogkind" "hortend / sukkelend" al "by die kuste langs" (Boezak, 2007) gebore is, dat dit "uit die buik van Afrika" en "uit die monde van slawe, Europeërs en inheemse volke" (Ferrus, 2004) kom. Op hierdie punt is die veronderstelling dat die student die verskil in uitgangspunt tussen die gedigte sal kan raaksien. Vraag 5 en 6 handel oor poëtiese elemente in die gedigte: dinge soos tipografie, rym, ritme, metrum, stylfigure en beeldspraak. Die doel van vraag 5 is om aan te dui dat Cachet se gedig meer tradisioneel en vormvas is wat bou betref, waar Boezak en Ferrus s'n informeel in vryeversvorm geskryf is. Die styl dra dus ook betekenis oor: die vormvaste styl dui op 'n "outydse" en tradisionele ingesteldheid wat waarde heg aan reëls en vaste strukture, waar die vrye vers 'n gemakliker en meer toegeeflike gevoel skep. Vraag 6 moedig die student aan om op figuurlike vlak te gaan soek na metafore wat hierdie uiteenlopende ingesteldhede illustreer.

Al die vrae in die opdrag vloei uiteindelik byeen in Vraag 7: Laat die drie gedigte jou anders dink oor Afrikaans en die invloed van betrokke Afrikaanse poësie? Hoekom of hoekom nie? Omdat die student reeds 'n lesing gehad het oor betrokke poësie en die invloed daarvan (al dan nie) op 'n leser, en omdat die vrae in die opdrag die student lei om die drie gedigte pertinent as betrokke poësie te lees wat oor taalideologie handel, behoort die student hierdie vraag met insig te kan lees. Die veronderstelling is dat die studente hul eie taalideologiese ingesteldhede moet raaksien en krities ondersoek. Die data wat ons ingesamel en geanaliseer het wat later in die artikel bespreek word, dui aan dat die opdrag in hierdie opsig wel tot 'n mate geslaagd was, maar dat dit nog maar 'n eerste stap in die proses is. Verdere akademiese voorligting rondom taalideologie en -variasie, spesifiek vanuit 'n taalkundige perspektief, behoort voort te bou op hierdie letterkundige opdrag.

Alhoewel die veronderstelde leerproses nie as volledig selfgerig beskryf kan word nie, dui die daad van selfgerigte lees, die insluiting van spesifieke vrae, en die feit dat die studente hul eie ervaring van die betrokke poësie moet evalueer, wel daarop dat selfstandige leer plaasvind. Daar is naamlik sprake van selfontdekking, selfverantwoordelikheid en eie meningsvorming aan die hand van 'n voorsiene raamwerk. Die konteks wat aan die begin van die opdrag verskaf word, sowel as die manier waarop die vrae gestel word, het ten doel om die studente te lei om self by sekere gevolgtrekkings oor die inhoude en betrokke aard van die gedigte te kom. Die ervaring van die teks bly egter steeds belangrik, veral omdat dit gaan oor 'n persoonlike en moontlik emosionele saak soos taal. Daar kan ook uit die antwoorde van sommige studente afgelei word dat die taalideologieë wat hulle handhaaf hulle interpretasie van die gedigte beïnvloed. Taalideologie kan daartoe lei dat sommige studente bewustelik of onbewustelik weerstand bied teen die betrokke invloed van die gedigte, wat 'n beperkende invloed op die potensiaal van selfstandige lees kan hê.

2.5 Taalideologie

Ideologie verwys na 'n stelsel van idees en houdings oor een of ander aspek van realiteit, wat as fundamenteel en "voor die hand liggend" gesien word, en as normatief hanteer word (Weber & Horner, 2011:16). Wat taalideologie betref, gaan dit oor die manier waarop mense oor taal dink, en veral die kulturele sisteme van idees, gevoelens, norme en waardes wat daardie denke bepaal. Daar is verskillende tipes taalideologie wat gewoonlik 'n ineenverweefde netwerk van idees vorm wat mense oor ('n) taal handhaaf.

Essensialisme is die idee dat objekte 'n essensie bevat wat dit inherent maak wat dit is en daaraan 'n eie karakter gee. Wanneer taal essensialisties beskou word, gaan dit daaroor dat elke taal 'n unieke karakter het, en dat dit diskrete, begrensde objekte is wat duidelik van ander tale onderskei kan word. Verder is 'n essensialistiese skakel tussen die taal en 'n spesifieke kultuur en/of etnisiteit tipies deel van hierdie ideologie - 'n persoon en die groter groep eien die taal vir hulle toe, en verwys daarna as 'n besitting. Milroy (2001:538) dui aan dat mense dikwels 'n taal as 'n waardevolle kulturele besitting konseptualiseer, met 'n lang geskiedenis en historiese skakels met gerespekteerde voorouers. Dit is ook belangrik dat die taal so suiwer en onvermeng as moontlik sal wees.

Taalpurisme betrek essensialistiese aannames oor die aard of karakter van 'n taal, met 'n sterk fokus op die "eie" in en van 'n taal. Daarmee saam gaan tipies sterk oordele oor "goeie" of "behoorlike" taalgebruik. 'n Noodsaaklike idee wat taalpurisme onderlê, is dat 'n taal beskadig kan word - hetsy deur die nalatigheid van sprekers, of eksterne invloede soos taalkontak (Langer & Nesse, 2012:608). Aangesien daar strenggesproke nie iets bestaan soos taalsuiwerheid of 'n suiwer taal nie (Langer & Nesse, 2012:610), blyk dit dat puriste se bekommernis eerder handel oor die agteruitgang van die standaarde van die hedendaagse samelewing - in terme van taal, van waardes, en van opvoeding (Langer & Nesse, 2012:611).

Bogenoemde skakel direk met standaardtaalideologie, oftewel die voorhou van die standaardvariëteit as "die taal", en die maatstaf vir "korrekte" taalgebruik. Die standaardvariëteit van 'n taal kan baie nuttig wees om kommunikasie tussen sprekers van verskillende streke of sosiale groepe te bewerkstellig, maar in standaardtaalideologie gaan dit oor veel meer as effektiewe kommunikasie. In hierdie ideologie het sprekers oor die algemeen 'n bewustheid van "korrekte" taalgebruik (Milroy, 2001:535), en enige afwykings van hierdie voorgeskrewe norme merk 'n spreker as sosiaal minderwaardig (Langer & Nesse, 2012:612).

Die standaardvariëteit is verder die taalvorm waaraan 'n spesifieke groep - gewoonlik gekonseptualiseer as 'n volk - hulle verbind. In hierdie tipe taalnasionalisme word "die taal" gesien as die besitting van "die volk", met 'n inherente band tussen volk en taal (en dikwels gebied) wat deur die geskiedenis bevestig word.

Uit die taalnasionalisme en standaardtaalideologie word dit duidelik dat alle tale (en variëteite) nie gelyk is nie. Die standaardvariëteit verteenwoordig "die taal", en is nie "net 'n dialek" nie (Milroy, 2001:543). 'n Spreektaal word "verhef tot 'n standaardtaal met amptelike erkenning - 'n volwaardige taal. Aan die ander kant is die ander variëteite van 'n taal "substandaard", en word nie as belangrik of waardevol geag buite die spesifieke spraak-gemeenskap nie.

'n Verdere belangrike ideologie is dié van die moedertaal. Eerder as om 'n taal as huistaal te beskryf op grond van waar dit aangeleer en gebruik word, of eerste taal op grond van die volgorde van aanleer of die vlak van vaardigheid, word daar dikwels eerder na 'n spreker se moedertaal verwys. Daar is 'n egtheid en morele waarde verbonde aan die moedertaal as die eerste en daarom werklike taal van 'n spreker, diep verbind met die ware self (Woolard, 1998:18).

Uit die bogenoemde ideologieë spruit daar soms 'n chauvinisme - waar sprekers die taal voorhou as mooi en goed omdat dit "ons s'n" is. Daar is sprake van byvoorbeeld "taaltrots" wat sprekers behoort te hê, en dié wat die taal as bloot 'n gebruiksmiddel sien en hanteer, word as "volksverraaiers" beskou, veral in ouer tekste soos byvoorbeeld Botha en Van Aardt (1987:29).

In Afrikaanse geskiedskrywing is hierdie ideologieë duidelik te sien (Kotzé & Kirsten, 2016). Roberge (1990:131) noem dat Afrikaners "inordinately proud" is op die "survival and development of their once despised 'barbarious patois' into a culture language". Die verheffing van die spreektaal was en is vir baie Afrikaners 'n bron van trots, mite en rituele viering (Roberge, 1990:131).

Dit is vandag steeds teenwoordig in algemene idees oor Afrikaans. Van der Waal (2012:447) verduidelik hoe die essensialistiese idees oor taalsuiwerheid gebruik word om die grense van Standaardafrikaans te beskerm en te verdedig teen Engels. Die ander variëteite, wat veral deur bruin sprekers gebruik word, is dan "substandaard" en "onsuiwer" (Van der Waal, 2012:449).

Een van die doelwitte van ontlaering is om Afrikaans los te maak van hierdie ideologieë en die eksklusiewe laermentaliteit af te breek. In die redakteursbrief vir die spesiale Ontlaeringuitgawe van Tydskrifvir Letterkunde, skryf Smit, Burger en Linde (2022:1) dat die woord "ontlaering" bedink is na aanleiding van "die historiese konsep van die ossewalaer, en die metaforiese gebruik van hierdie konsep wanneer daar (in die sogenaamde 'volksmond') gepraat word van 'Afrikaners' wat neig om laer te trek - wit Afrikaanssprekendes wat saam skaar en buitestanders vermy". Hulle voer ook met verwysing na Kostopoulos, een van die sprekers tydens die 2018 Ontlaeringkongres, se verstaan van die woord "laer" aan dat 'n laer (wat bestaan uit die letterlike ossewaens, maar ook die figuurlike verstaan daarvan) iets is wat verskuif kan en behoort te word. Dit is in hierdie konteks dat ons die woord "ontlaering" betrek om te probeer bepaal of en tot welke mate 'n opdrag waarin die aard en funksionering van betrokke poësie as't ware prakties vir die studente gedemonstreer word, daarin slaag om hulle bewus te maak van taalideologie en die invloed daarvan op individue se idees oor taal. Die vraag is dus of die taalaktivistiese gedigte lei tot 'n tipe "ontlaering" van die studente se denke rondom taal, of nie.

 

3. Metode van ondersoek

3.1 Kritiese diskoersanalise

Kritiese diskoersanalise is 'n kwalitatiewe metode wat gebruik kan word om, onder meer, tekens van ideologie in taalgebruik en woordkeuse te ondersoek (Sharma, 2021:10). Gee (2011a:28-29) beskryf kritiese diskoersanalise as 'n funksionele makro-analitise bo-na-onder-metode om onderliggende politieke en ideologiese nuanses in diskoers te identifiseer. Ideologie en taal het 'n noue band, omdat taalgebruik so 'n algemene vorm van sosiale gedrag is, en steun op gedeelde aannames en konvensies (Fairclough, 2001:2). Ideologie kan deur middel van kritiese diskoersanalise ondersoek word omdat dit deel vorm van hoe tekste saamgestel word, en allerhande aannames op skrywers en lesers afdwing sonder dat hulle noodwendig daarvan bewus is (Fairclough, 2001:69). Kritiese diskoersanalise kan dan gebruik word om te probeer vasstel wat skrywers bedoel én wat hulle (wetend of onwetend) impliseer (Gee, 2011b:x).

Die kritiese analise van taal-in-gebruik is belangrik omdat taal altyd in 'n spesifieke konteks gebruik word, en 'n spesifieke aksie uitvoer (Gee, 2011b:44). Om iets te "sê" skakel direk met om iets te "doen" en te "wees" (Gee, 2011a:5), so dit wat 'n mens sê, kan nie losge-maak word van wat 'n mens andersins doen, of wie 'n mens is nie.

'n Belangrike beginsel wat in hierdie analise gevolg word, is dat die analis werk met die teks soos dit daar uitsien, met die konteks wat in die teks self gegee word. Die verskuilde betekenisse en ideologieë word gevind deur 'n noukeurige analise van die taalgebruik in die teks, sonder om verdere bedoelings aan die outeur(s) toe te skryf wat nie duidelik uit die konteks blyk nie. 'n Voorbeeld hiervan is die gebruik van besitsvorme saam met "taal", soos "ons taal", "sy taal" of "ons almal se taal" - ongeag hoe algemeen die gebruik is, dit dui 'n besitsverhouding aan wat 'n spesifieke konseptualisering van taal verg om sin te maak.

3.2 Brontekste en analisemetode

Die tekste wat as data vir die kritiese diskoersanalise gebruik is, is die ingehandigde opdragte van al die studente wat vir ons toestemming gegee het om hulle opdragte te gebruik (die etieknommer van die projek is NWU-00717-21-A7). Die ongemerkte opdragte is afgelaai, en herbenoem met nommers - 1 tot 33. Daarna is dit in ATLAS.ti gevoer vir tematiese analise.

Die eerste fase van die analise het behels dat die tekste eers deeglik deurgelees is vir 'n begrip van die inhoud. Daarna is die tekste weer gelees om temas te identifiseer aan die hand van die literatuur oor taalideologie, maar ook om enige verdere moontlike temas wat uit die tekste voortkom, vas te stel (bv. chauvinisme). Nadat die temas voorlopig gefinaliseer is, is elke opdrag weer gelees en die relevante gedeeltes is gemerk en gekodeer in ATLAS.ti. (Sien onder andere die studie van Chikuni et al., 2021:9 vir 'n soortgelyke metode.)

Op grond van die literatuur (Kirsten, 2017; Weber & Horner, 2011) en 'n deeglike lees van 'n aantal opdragte, is die volgende ideologiese temas geïdentifiseer (soos hier bo bespreek) wat as kodes in die analise gebruik is:

essensialisme

taalpurisme

standaardtaalideologie

taalnasionalisme

hiërargie van tale / variëteite

moedertaalideologie

chauvinisme

Uiteraard is ontlaering as kode ook gebruik om aan te dui waar studente wys dat hulle denke verder strek as tradisionele Afrikanernasionalisme en die bagasie wat dikwels daarmee saamgaan.

Nadat een navorser al die opdragte deurgewerk en gekodeer het, het die ander navorser die analises nagegaan en terugvoer gegee. Op grond daarvan is die analises deeglik hersien, voordat die finale resultate onttrek is uit ATLAS.ti.

 

4. Resultate en bespreking3

4.1 Oorsigtelike bevindinge

Daar is altesaam 294 kodes in die 33 dokumente (sien Tabel 1), wat aan 250 gedeeltes toegeken is. Daar is dus 44 gedeeltes waaraan daar twee kodes toegeken is. Tabel 2 wys hoeveel van watter kodes saam voorkom.

 

 

 

 

Wat die opdragte self betref, is daar 'n kontinuum - van een opdrag met slegs een kode by een gedeelte, tot een opdrag met 24 kodes wat aan 19 gedeeltes toegeken is. Aangesien die fokus wel minder op individuele studente is, en meer op die groep as geheel, gaan daar meer aandag gegee word aan die gebruik van die kodes oor opdragte heen as om op spesifieke opdragte in te gaan.

4.2 Essensialisme

Van die tradisioneel ideologiese kodes is essensialisme die een met die hoogste frekwensie. Dit is nie onverwags nie, aangesien essensialistiese beginsels heelwat van die ander kodes onderlê. Dit blyk ook uit die hoeveelheid kere wat essensialisme saam met ander kodes voorkom - veral chauvinisme, maar ook taalnasionalisme en hiërargie van tale. Dit kom ook 'n hele paar keer saam met ontlaering voor, wat aandui dat dit 'n diepgewortelde konseptualisering is, soms selfs wanneer studente hulle standpunte heroorweeg.

Een van die essensialistiese konsepte wat herhaaldelik voorkom, is dat Afrikaans as taal 'n "aard" of "karakter" het wat die "kern" van die taal is (voorbeeld 1 tot 3).

1. "... 'n verhaal wat eg Afrikaans is..." (1:6) [Cachet]4

2. "Skep 'n tipiese Afrikaanse prentjie." (3:2) [Cachet]

3. "... woorde gebruik wat eie is aan Afrikaans..." (10:5) [Boezak]

'n Verdere essensialistiese konsep wat voorkom, is dat 'n taal nie net gereïfiseer word as 'n objek nie, maar dat daar selfs agentskap en dade aan die taal toegeken word, soos aangedui in voorbeeld 4 tot 6.

4. "... hoe die taal dit bewerkstellig het..." (7:3) [Ferrus]

5. "En dat Afrikaans afgeskeep word en die Engelse sisteem dit probeer onderdruk." (19:16) [Boezak]

6. "... die taal homself geskep het." (30:1) [Ferrus]

Die taal Afrikaans word ook gereeld as 'n besitting (voorbeeld 7) en as 'n eienskap van 'n persoon (voorbeeld 8) hanteer.

7. "... die ritme van ons taal Afrikaans." (2:4) [Cachet]

8. "... 'n kind wat Afrikaans is..." (8:2) [Boezak]

Die kode essensialisme kom in 25 van die 33 tekste voor, wat beteken dat dit nie net diep gevestig is, soos vroeër genoem nie, maar ook wyd verspreid.

4.3 Taalpurisme

Daar is nie baie gevalle van eksplisiete taalpurisme in die opdragte nie - dit kom slegs 10 keer in totaal, versprei oor sewe opdragte voor. Wanneer puristiese idees voorkom, is dit gefokus op "vreemde woorde" (9), iets wat "vermeng" of "gemeng" is (10), met enkele verwysings na "suiwerheid" (11).

9. "Die digter wou nie veel ander vreemde woorde gebruik of weglatings nie, want dit sou haar punt nie getsaaf [sic] het oor Afrikaans se uniekheid nie." (1:10) [Ferrus]

10. "... dat Afrikaans vermeng is..." (11:4) [Boezak]

11. "... die taalgebruik is duidelik nie die suiwer Afrikaans wat ons ken nie." (28:3) [Cachet]

Verder kom taalpurisme twee keer saam met chauvinisme voor, een keer saam met taalnasionalisme, en een keer saam met ontlaering.

4.4 Standaardtaalideologie

'n Belangrike deel van standaardtaalideologie is dat mense baie sterk oortuigings het in terme van "korrektheid". So byvoorbeeld verwys een student na Boezak se taalgebruik in die gedig in terme van:

12. "... verkeerde spelling..." (14:3) [Cachet]

Die status van Standaardafrikaans word dan ook uitgelig (13 en 14), en ander variëteite word in direkte kontras daarmee geplaas (15).

13. "... meer ernstig en elegant wat dus ook by die standaardheid van Afrikaans pas." (19:4) [Ferrus]

14. "Die sinne is geskryf met hoofletters en punte aan die einde van die sin. Dis 'n taal wat bevorder het, van vroegs af en baie plekke." (28:4) [Ferrus]

15. "... die Kapenaars wat 'n 'plat' vorm van Afrikaans praat." (13:1) [Boezak]

Hierdie kode het die laagste frekwensie met slegs 9 gevalle, in 8 opdragte. Dit is dus nie besonder prominent onder hierdie groep nie. Die enkele kere wat dit saam met ander kodes voorkom is saam met taalnasionalisme en hiërargie van tale, wat sin maak aangesien die konsepte nou met mekaar verband hou.

4.5 Taalnasionalisme

Die mees tipiese manifestasie van taalnasionalisme is wanneer dit direk verbind word met Afrikanerskap en Afrikanernasionalisme, soos in voorbeeld 16 en 17 hier onder. Daar word ook van "volke" of "nasies" gepraat in terme van spraakgemeenskappe (18), wat onderliggende nasionalisme aandui. Op grond van die een gedig se gebruik van die term basterkind word dit deur 'n paar van die studente ook gebruik, maar in (19) word daar eksplisiet na "haar eie mense" verwys, wat 'n nasionalistiese aanslag het.

16. "Die mees realistiese groepe mense wat Afrikaans praat, is die Afrikaners..." (5:4) [Cachet]

17. "Hierdie gedig is geskryf in die taal wat ons as Afrikaners vandag ken." (28:4) [Ferrus]

18. "Dit kan eintlik soveel bewusmaking vir 'n nasie skep." (23:4) [Algemene bespreking]

19. "Dit gaan oor 'n basterkind wat groot gemaak word deur wit mense en dan weer terugkeer na haar eie mense." (26:4) [Boezak]

Hierdie kode kom 33 keer voor, versprei oor 17 opdragte - dit is net oor die helfte van die opdragte. Dit is dus redelik versprei. Verder is dit ook die enigste kode wat saam met elkeen van die ander kodes voorkom. Dit dui aan dat die konsep van taalnasionalisme, hoewel dit nie op sigself 'n baie hoë frekwensie het nie, vervleg is met die ander tradisioneel ideologiese konsepte wat hier geanaliseer word.

4.6 Hiërargie

Die kode hiërargie van tale / variëteite verwys daarna dat sekere tale en variëteite as meerderwaardig gereken word teenoor ander. Die kode se frekwensie is redelik laag in die datastel, met 14 gedeeltes oor 12 opdragte versprei. Woordkeuses wat daarmee verbind word sluit in "volwaardig" (20), "bevorder" (21) en "behoorlik" (22), wat in die konteks dui op 'n verhoging van status en rangorde.

20. "... 'n volwaardige taal..." (5:3) [Boezak]

21. "... daar is nog tyd vir Afrikaans om nog meer te bevordered [sic]..." (16:3) [Algemene bespreking]

22. "... het Afrikaans behoorlik ontstaan in ons land." (32:7) [Cachet]

Hierdie kode kom voor in kombinasie met taalnasionalisme, essensialisme en standaardtaalideologie. Die verbintenis met taalnasionalisme en standaardtaalideologie is voor die hand liggend, en essensialisme het 'n hoë frekwensie, so hierdie patroon is nie onverwags nie.

4.7 Moedertaalideologie

Die konsep moedertaal word wyd gebruik in verskillende kringe, maar dit neem nie die ideologiese onderbou daarvan weg nie. Terwyl daar ander toepaslike terme is om te gebruik, byvoorbeeld "huistaal" of "eerste taal", dui die keuse van "moedertaal" 'n spesifieke invalshoek aan. Dit skakel met die idee dat 'n moedertaal diep en innig met 'n spreker verbind is, en van spesiale waarde vir die spreker is. Buiten vir gewoon die woordkeuse, word daar in die opdragte ook addisionele idees by stellings oor die moedertaal gevoeg (23-26).

23. "... omdat taal as die moeder van die land beskou word, jy praat van jou land as jou vaderland maar jou taal is jou moedertaal..." (2:6) [Cachet]

24. "Dit skep 'n verwagting van Afrikaans as moedertong wat by kinders aangekweek word op 'n vroeër ouderdom." (9:3) [Ferrus]

25. "Almal is lief vir die 'Moedertaal'." (18:4) [Algemene bespreking]

26. ". die feit dat Afrikaans ook die moedertaal vir baie nie-blankes was en steeds is." (27:1) [Ferrus]

Die kode moedertaalideologie kom 15 keer in die datastel voor, versprei oor 9 opdragte. Dit kom enkele kere saam met chauvinisme en taalnasionalisme voor, maar vier keer saam met ontlaering. Hierdie patroon kan beteken dat moedertaalideologie nie maklik gesien word as 'n ideologie nie, en daarom nie teenstrydig is met die idee van ontlaering nie.

Chauvinisme

Soos vroeër genoem, skakel chauvinisme tot 'n mate met al die voorafgaande konsepte, aangesien al daardie konsepte as oortuigings kan lei tot oordrewe trots en bewondering vir die eie, bloot omdat dit die eie is. Afrikaans word verskeie kere, deur verskeie studente, beskryf as "uniek" (27), en 'n hele aantal ander positiewe (maar subjektiewe) adjektiewe word gebruik om Afrikaans te beskryf (28-31). Daar word in voorbeeld 32 eksplisiet beweer dat Afrikaans "soveel meer" as net 'n taal is, en die sentiment word deur enkele ander studente ook beskryf.

27. "Ons taal is uniek, het 'n unieke herkoms en geskiedenis." (1:17) [Algemene bespreking]

28. "... wat Afrikaans so 'n merkwaardige taal maak." (4:19) [Algemene bespreking]

29. "... watter wonderlike taal Afrikaans eintlik is." (7:12) [Algemene bespreking]

30. ". die mooi van Afrikaans." (17:2) [Ferrus]

31. "... die pragtige taal wat ek so maklik praat..." (21:8) [Algemene bespreking]

32. "Afrikaans is eintlik soveel meer [as] net 'n taal." (23:2) [Algemene bespreking]'

Die kode chauvinisme kom in 19 opdragte voor, in totaal 31 keer. Dit word ook saam met vyf van die sewe ander kodes gebruik, wat wys dat die skakel maklik gemaak word.

4.8 Ontlaering

Ten slotte kyk ons na voorbeelde van ontlaering. Die kode kom 115 keer voor, in al die opdragte behalwe drie. Dit wys dus dat, ten spyte van die hoë frekwensie van die tradisionele ideologiese kodes, die meeste van die studente een of ander idee van ontlaering by hulle opdragte insluit. Daar word verwys na onder meer inklusiwiteit (33), ras (34), verskeidenheid (35), diversiteit (36), verskeie etniese en kulturele groepe (38), veelsydigheid (39), en kreolisering (40). Een student stel ook pertinent dat Afrikaans nie aan 'n enkele identiteit gebonde is nie (37).

33. "... 'n taal wat almal insluit." (1:4) [Ferrus]

34. ". dat dit nie net 'n wit taal [is] nie." (3:1) [Ferrus, Boezak]

35. "Dit sluit aan by die tema dat Afrikaans 'n taal van verskeidenheid is." (4:4) [Boezak]

36. "... dit wys diversiteit van die taal Afrikaans." (6:5) [Ferrus]

37. "Afrikaans is nie gebonde aan 'n enkele identiteit nie." (10:1) [Ferrus]

38. ". dat verskeie etniese groepe en kulture Afrikaans praat." (21:5) [Boezak]

39. ". Afrikaans se veelsydige herkoms." (27:2) [Boezak]

40. "... 'Hollands' het dus ontwikkel tot 'Afrikaans' weens die invloede, kreolisering ens." (33:4) [Boezak]

Die hoë frekwensie van ontlaering, en die verspreiding oor opdragte heen, is tekens daarvan dat die studente in beginsel bereid is om hulle denke uit te daag wanneer hulle met ander perspektiewe gekonfronteer word, en dat betrokke poësie 'n sinvolle manier is om dit te bewerkstellig.

4.9 Samevatting van bevindinge

In Tabel 3 word aangedui hoeveel van elke kode gebruik is met verwysing na elkeen van die gedigte, en in die meer algemene besprekings. Daar is enkele kere na twee gedigte verwys by spesifieke kodes, in welke geval dit by albei digters aangedui word.

'n Paar tendense kom uit die tabel na vore. Een opvallende patroon is dat die besprekings van Cachet se gedig relatief min kodes betrek, en veral baie min gevalle van ontlaering. Dit is te verstane, aangesien dit juis die meer konserwatiewe posisie verteenwoordig waarvandaan ontlaering wegbeweeg. Die gedigte van Boezak en Ferrus, daarenteen, bevat besonder baie gevalle van ontlaering in hulle besprekings, wat deel van die doelwitte van die opdrag is. Verder kom daar heelwat gevalle van chauvinisme voor in die algemene besprekings waar studente oor hulle standpunte reflekteer - die uniekheid en skoonheid, of een of ander soort spesiale eienskap van Afrikaans, is in talle van die opdragte besing. Slegs die laaste vraag in die opdrag nooi studente eksplisiet uit om oor die (moontlik ontlaerende) effek van die gedigte op hulle denke en idees te reflekteer. Tog kom die kode ontlaering meer voor wanneer die spesifieke gedigte bespreek word - dit dui aan die een kant aan dat daardie gedigte studente lei in die rigting van ontlaering, maar aan die ander kant is dit nie heeltemal so duidelik wanneer hulle oor hulle eie posisie skryf nie.

 

5. Gevolgtrekking

Uit die analise van die studente se opdragte blyk dit dat tekens van ontlaering in die meeste studente se opdragte teenwoordig is. Dit kom egter dikwels saam met ander ideologiese stellings voor, wat oënskynlik teenstrydig is.

In hulle antwoorde op vraag 7 van die opdrag, wat vra of die gedigte hulle anders laat dink oor Afrikaans en betrokke poësie, antwoord 28 uit die 33 studente "ja". Slegs 17 van die studente se uitbreidings op die antwoord bevat egter duidelike tekens van ontlaering, en agt van hierdie studente se antwoorde op daardie spesifieke vraag bevat ook stellings wat teenstrydige ideologieë toon. Geen van die opdragte is sonder aanduidings van die bogenoemde ideologieë nie.

Wat hierdie resultate illustreer, is dat betrokke poësie op eerstejaarsvlak aangewend kan word om studente bloot te stel aan die konsep van ontlaering, en hulle te lei om hulle idees en denke te begin bevraagteken. Dit bly egter net 'n begin. 'n Opdrag waarin die aard en funksionering van betrokke poësie as't ware prakties vir die studente gedemonstreer word, kan wel tot 'n mate daarin slaag om hulle bewus te maak van taalideologie en die invloed daarvan op individue se idees oor taal. Die opdrag het wel bepaalde tekortkominge, spesifiek met betrekking tot meer en duideliker taalkundige toeligting rondom taalideologie, -variasie, en -politiek. Die ideaal sal wees as hierdie tipe kwessies gelyklopend in taalkundelesings aan bod kom sodat die letterkundeopdrag kan dien as 'n uitbreiding en praktiese illustrasie. So kan sensitiwiteit rondom taal by studente op meer akademiese vlakke aangewakker word.

Die studie het wel tekortkominge, en lesse vir die pad vorentoe. Waar die kode ontlaering hier as 'n sambreelterm gebruik is, kan toekomstige studies dit met meer nuanse benader. Die voorbeeldsinne in 4.8 dui byvoorbeeld inklusiwiteit, diversiteit en veelsydigheid as moontlike subtemas aan. Verder sal beter data verkry word indien gelyke hoeveelhede gedigte wat beide kante van die saak stel, by die opdrag ingesluit word. Dit sal dus goed wees om 'n taalaktivistiese gedig in te sluit van 'n tydgenoot van Cachet, soos byvoorbeeld C.P. Hoogenhout. Dit sal ook sinvol wees om in verdere studies op meer gevorderde studente te fokus. In hierdie studie was die fokus op eerstejaarstudente, en om 'n begin te maak met die ontlaeringsproses. Eerstejaars benodig wel nog heelwat leiding, soos ook blyk uit die vereistes vir NKR-vlak 5 (SAQA 2012). 'n Studie wat op meer senior studente fokus sal beter geposisioneer wees om hulle eie sienings en idees te beoordeel sonder dat hulle deur 'n opdrag in 'n spesifieke rigting gelei word.

 

BIBLIOGRAFIE

Alexander, N. 2004. The politics of language planning in post-apartheid South Africa. Language Problems & Language Planning, 28(2):113-130.         [ Links ]

Anon. 2023. Outeur: Willa Boezak. LitNet, https://www.litnet.co.za/author/willa-boezak/ [15 Junie 2023].         [ Links ]

Botha, JP & Van Aardt, JMH. 1987. Afrikaans vir die praktyk. 3de uitg. Johannesburg: Lexicon.         [ Links ]

Brink, AP. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Brink, AP. 2009. Groot Verseboek. Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brink, AP. 2010. Betrokke literatuur. Literêre Terme & Teorieë, http://www.literaryterminology.com/index.php/9-b/21-betrokkeliteratuur [15 April 2023].         [ Links ]

Boezak, W. 2007. Só glo ons! Die Khoesan van Suid-Afrika. LightSpeed Digital Media.         [ Links ]

Chikuni, PR, Makwambeni, B & Chigona, W. 2021. Dominant discourses informing e-learning policies in Higher Education Institutions in South Africa. International Journal of Education and Development using Information and Communication Technology, 17(4):5-21.         [ Links ]

Davids, A. 1990. The coloured image of Afrikaans in nineteenth century Cape Town. Kronos: Journal of Cape History, 17(1):36-47.         [ Links ]

Dekker, G. 1935. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasionale Pers Bpk.         [ Links ]

Fairclough, N. 2001 . Language and Power. 2nd ed. Harlow: Pearson Education.         [ Links ]

Ferrus, D. 2006. Ons Komvandaan. Kaapstad: Diana Ferrus Uitgewery.         [ Links ]

Gee, JP. 2011a. An Introduction to Discourse Analysis. Theory and method. 3d ed. New York / London: Routledge.         [ Links ]

Gee, JP. 2011b. How to do Discourse Analysis. A Toolkit. New York / London: Routledge.         [ Links ]

Gibbons, M. 2002. The self-directed learning handbook: Challenging adolescent students to excel. San Francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Graff, G. 1979. Literature against itself: literary ideas in modern society. Chicago, IL: University of Chicago Press.         [ Links ]

Hattingh, J. 1990. Kuns en moraliteit: 'n studie van die wysgerige problematiek in verband met die verhouding tussen artistieke skepping en sedelike insig. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Jacobs, J. 2018. Perspektiewe op die aanwending van retoriese strategieë in die littérature engagée van die 1970's en die vroeë 21ste eeu - 'n vergelykende studie. Ongepubliseerde MA-verhandeling. NWU, Potchefstroomkampus.         [ Links ]

Kirsten, J. 2017. What is in a language: Essentialism in macro-sociolinguistic research on Afrikaans. International Journal of the Sociology of Language, 248:159-195.         [ Links ]

Knowles, M. 1975. Self-directed learning: A guide for learners and teachers. New York: Association Press.         [ Links ]

Kotzé, I & Kirsten, J. 2016. The heritage of a language: Discourses of purism in Afrikaans historical linguistics. Language Matters, 47(3):349-371.         [ Links ]

Langer, N & Nesse, A. 2012. Linguistic Purism. In Hernández-Campoy, JM & Conde-Silvestre, JC. (eds). The Handbook of Historical Sociolinguistics. Chichester: Wiley-Blackwell, pp. 607-625.         [ Links ]

Milroy, J. 2001. Language ideologies and the consequences of standardization. Journal of Sociolinguistics, 5(4):530-555.         [ Links ]

Pilon, S. 2023. Van Standaardafrikaans na algemene Afrikaans. SA Akademie vir Weternskap en Kuns, https://www.akademie.co.za/gesprekspunt/van-standaardafrikaans-na-algemene-afrikaans [20 Junie 2023].         [ Links ]

Polley, J. 1973. Verslag oor die Simposium oor Die Sestigers. Kaapstad: Human&Rousseau.         [ Links ]

Roberge, PT. 1990. The ideological profile of Afrikaans historical linguistics. Joseph, JE & Taylor, TJ. (eds). Ideologies of language. London: Routledge, pp. 131-149.         [ Links ]

SAQA (South African Qualifications Authority). 2012. Level Descriptors for the South African National Qualifications Framework. https://www.saqa.org.za/level-descriptors-for-the-south-african-national-qualifications-framework/ [18 Oktober 2023].         [ Links ]

Sharma, S. 2021. Students' Responses to a Transgender Person's Narrative: A Discourse Analysis. The IUP Journal of English Studies, 16(3):7-19.         [ Links ]

Smit, M, Burger, B, & Linde, J. 2022. Transnasionale ontlaering / Transnational unlaagering. Tydskrif vir Letterkunde, 59(1):1-6.         [ Links ]

UWC Institutional Advancement. 2023. Diana Ferrus - Cultural treasure at the University of the Western Cape. University of the Western Cape, https://www.uwc.ac.za/news-and-announcements/news/i-am-uwc-diana-ferrus-poetry-that-makes-a-difference-920 [15 June 2023].         [ Links ]

Van der Waal, CS. 2012. Creolisation and Purity: Afrikaans Language Politics in Post-Apartheid Times. African Studies, 71(3):446-463.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2013. 'n Perspektief op 'n periode van kontak tussen die Khoi en Afrikaans. Literator, 34(2):1-11.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2017. Ná honderd jaar: Die Afrikaans van die eerste taalkommissie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):249-270.         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2019. The First Afrikaans. Critical Arts, 33(4-5):10-19.         [ Links ]

Vos, E & Van Oort, R. 2018. 'n Selfgerigte-lees-proses: traumabelewing en -verwerking in die jeugroman Blou is nie 'n kleur nie deur Carin Krahtz. LitNet Akademies 15(3):926-962.         [ Links ]

Weber, Jean-Jacques & Kristine Horner. 2011. Introducing Multilingualism. A social approach. Abingdon, Oxon: Routledge.         [ Links ]

Willemse, H. 2003. Om ruim in Afrika te leef. Tydskrif vir Letterkunde, 40(1):8-22.         [ Links ]

Willemse, H. 2013. "Om weer mens te word": identiteit, onreg, skuld en restitusie in die RSG-vertelreeks Almal het 'n storie. Tydskrif vir Letterkunde, 50(3):173-186.         [ Links ]

Woolard, KA. 1998. Introduction. Language Ideology as a Field of Inquiry. In Schieffelin, BB, Woolard, KA & Kroskrity, PV. (eds). Language Ideologies. Practice and Theory. New York / Oxford: Oxford University Press, pp.3-47.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-09-30
Goedgekeur: 2023-10-24
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

Janien Linde is 'n senior lektor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Noordwes-üniversiteit. Sy was voorheen verbonde aan die universiteit van Johannesburg. Sy het 'n PhD in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap (2018) wat handel oor metamodernisme, performatiwiteit en relasionaliteit in die oeuvre van Marlene van Niekerk. Linde tree tans op as die projekleier vir die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse letterkunde (DBAL), asook as sekretaris van die Afrikaanse Letterkundevereniging. Sy is verder medeleier van die navorsingsprojek, Narrative Identity and Performance (NWü).
Haar navorsingsbelangstellings sluit onder andere die volgende in: Afrikaanse en Nederlandse prosa en poësie, literatuurwetenskap, posthumanisme, relasionaliteit en postkritiese leesstrate-gieë.
Janien Linde is a senior lecturer of Afrikaans and Dutch literature at the North-West üniversity. She previously lectured in the Department of Afrikaans at the university of Johannesburg. She holds a PhD (2018) in Linguistics and Literary Theory, focussing on metamodernism, performativity and relationality in the oeuvre of Marlene van Niekerk. Linde currently is responsible for the Digital Bibliography of Afrikaans Literature and she also holds the position of secretary of the ALV (the Afrikaans Literary Association). In addition, she is co-leader of the research project, Narrative Identity and Performance (NWü). Her research interests include, inter alia: Afrikaans and Dutch poetry and prose, literary theory, comparative literature, post-postmodernism, posthumanism and postcritical reading strategies.

 

 

Johanita Kirsten is 'n voltydse navorser en die subprogramleier vir Linguistiek in die navorsingsfokusarea Understanding and Processing Language in Complex Settings aan die Noordwes-üniversiteit. Sy is ook die hoofredakteur van die vaktydskrif Southern African Linguistics and Applied Language Studies. Sy het tans twee hoofnavorsingsbelangstellings. Haar boek Written Afrikaans since Standardization: A Century of Change (2019) en ander publikasies beskryf onlangse en voortdurende verandering in Afrikaans aan die hand van korpuslinguistiese metodes, en argumenteer vir 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde teorie van taalverandering. Andersins fokus haar werk veral op taalsosiologie, en meer spesifiek taalideologie en hoe dit manifesteer in taalgebruik en metafore, met behulp van kritiese diskoersanalise.
Johanita Kirsten is a full-time researcher and coordinator ofthe sub-programme for Linguistics in the research focus area ünderstanding and Processing Language in Complex Settings at the North-West üniversity. She is also the editor-in-chief of the journal Southern African Linguistics and Applied Language Studies. Currently she is interested in two areas of research. Her book Written Afrikaans since Standardization: A Century of Change (2019) and other publications describe recent and ongoing change in Afrikaans using corpus linguistic methods, arguing for a cognitive usage-based theory of language change. In addition, she focuses on the sociology of language, and more specifically language ideology, and how it manifests in language use and metaphors, using critical discourse analysis.
1 Dit is belangrik om te noem dat die opdrag nie gekonseptualiseer is met navorsing, en spesifiek hierdie artikel, in gedagte nie. Wat ons gesien het in die studente se antwoorde op 'n vorige jaar se opdrag, het ons belangstelling geprikkel. Dit het daartoe gelei dat die bogenoemde navor-singsvraag geïdentifiseer is. Aangesien die opdrag al vir meer as een jaar aan verskillende groepe studente gegee word, kon ons betyds die studente se toestemming vra om hulle anonieme antwoorde as data te gebruik. Die strekking van die opdrag is egter geensins aangepas met die oog op hierdie stuk navorsing nie. Dit is iets wat vir verdere navorsing oorweeg sal word.
2 Afdrukke van al drie gedigte verskyn in die Bylae.
3 Tydens die proses om die data te verwerk, het ons besef dat die feit dat die opdrag twee "nuwer" gedigte, maar slegs een "ouer" gedig insluit, die data tot 'n mate kan beïnvloed. Die studentereaksies wat dui op 'n ontlaering-impuls sal dus waarskynlik meer wees as ander reaksies aangesien daar dubbeld soveel gedigte is wat die saak aanvoor. Dit is dus 'n beperking van die studie.
4 Die naam aan die einde van elke voorbeeld dui aan watter digter se gedig op daardie punt in die opdrag bespreek word, of wanneer dit deel vorm van 'n algemene bespreking.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons