SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número4Another translation of the Bible in Afrikaans: What makes it different?The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issues índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.4 Pretoria dic. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Patrone van onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse politieke omgewing - 'n tendens-ekstrapolasie

 

Patterns of instability in the South African political environment - a tendency extrapolation

 

 

André Duvenhage

Politieke Wetenskap, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Andre.Duvenhage@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie navorsing is 'n politieke omgewingsverkenning wat toegespits is op kernveranderlikes in die Suid-Afrikaanse samelewing, politiek en ekonomie, en watter uitwerking dit op die korter termyn kan hê op politieke stabiliteit/onstabiliteit in Suid-Afrika. Die sentrale uitgangspunt van hierdie studie is dat die Suid-Afrikaanse politiek 'n kantelpunt bereik het, en dat talle veranderinge tans plaasvind met verreikende implikasies vir politieke, ekonomiese en maatskaplike orde, struktuur en algemene stabiliteit. Op grond van 'n kort konseptualisering van staat, staatsverswakking, politieke stelsel en stelselstabiliteit is 'n analitiese raamwerk gebruik om kernfaktore binne die domeine van die politiek, ekonomie, samelewing en internasionale omgewing te identifiseer, en die uitwerking en moontlike uitwerking daarvan op stabiliteit/onstabiliteit aan te dui. Met hierdie teoretiese, analitiese raamwerk as algemene uitgangspunt, en die uitgebreide gebruik van feitelike besonderhede (asook data, syfers en empiriese materiaal), om aannames en uitgangspunte te verifieer, is die kernbevinding van hierdie navorsing (die ekstrapolasie van die tendens) dat 'n periode van ernstige politieke onstabiliteit op die korter en medium termyne vir Suid-Afrika voorlê, wat nie sonder meer geïgnoreer kan word nie. Fundamentele hervorming blyk dringend noodsaaklik te wees binne hierdie geïdentifiseerde omstandighede om toekomstige patrone van politieke onstabiliteit en institusionele verval af te weer.

Trefwoorde: Suid-Afrikaanse politiek; politieke omgewingsverkenning; politieke kantelpunt; tendensekstrapolasie; stelselstabiliteit; politieke onstabiliteit; patrimonialisme; verkiesings; meningspeilings


ABSTRACT

This research entails an investigation of the political environment aimed at key variables in the South African society, politics and economy, and the short-term impact thereof on political stability/instability in South Africa. The central point of departure of this study is that politics in South Africa has reached a tipping point and that many changes are currently taking place, with far-reaching implications for the political, economic and social order, structure and general stability. In terms of a brief conceptualisation of state, weakening of the state, political system and system stability, an analytical framework is used to identify key factors in the political, economic, societal and international environments, as well as to indicate the impact and possible impact thereof on stability/instability. With this theoretical, analytical framework as general point of departure, and the extensive use of factual details (as well as data, figures and empirical material) to verify assumptions and points of departure, the core conclusion of this research (the trend extrapolation) is that a period of serious political instability stares South Africa in the face on the shorter and medium term, that cannot merely be ignored. Given such dire circumstances it should be evident that fundamental reform is imperative in order to prevent future patterns of political instability and institutional degeneration.

Keywords: South African politics; political environment investigation; political tipping point; tendency extrapolation; system stability; political instability; patrimonialism; elections; opinion polls


 

 

1. Inleiding

Die Soweto-opstand van 1976 het skokgolwe deur die politieke establishment van daardie tyd gestuur. Die boodskap was dat alles nie is soos dit veronderstel was om te wees nie - ondanks 'n sterk staat, weermag en polisie. Dit was die begin van verandering. Die Driekamerparlement, onderhandelinge, die Nasionale Akkoord en uiteindelik die 1996-Grondwet het gevolg. In 2023, sowat 36 jaar later, is die staat as instelling ernstig verswak, die ekonomie verkeer in krisis, en maatskaplike uitdagings neem toe. Die voltooide verslag van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hou verreikende implikasies in vir invloedryke individue en lede van die politieke elite - veral die ANC-elites, kaders, asook die bestaande veiligheidsorde.1Staatskaping is 'n beslissende faktor rakende ons konstitusionele demokrasie, soos vergestalt in die 1996-Grondwet; die beginsel van verantwoordbare regering en aanspreeklikheid, asook die oppergesag van die reg - maar veral vir die ANC-regering en die weifelende leierskap van Cyril Ramaphosa se sogenaamde "long game". Myns insiens raak dit heelwat meer as 'n onbekwame en ondoeltreffende regering en onbekwame owerheid (regime), maar die staat as staat wat in krisissituasie verkeer.

Tydens 9-17 Julie 2021 (kort ná die arrestasie van Jacob Zuma weens minagting van die Zondo-kommissie), beleef Suid-Afrika die mees gewelddadige episode van politieke geweld, plundery en xenofobie in die geskiedenis van die nuwe demokrasie (Vhumbunu, 2021:1-10). Sowat 3 407 mense is in hegtenis geneem; 337 is gedood (tot en met 22 Julie 2021), en 'n reënboognasie was aan skerwe, soos veral geblyk het uit die konflik tussen Indiërs en swartmense en in mindere mate tussen swart en wit. Hierdie bedeling het sy kantelpunt bereik en ernstige vrae word gevra oor Suid-Afrika se toekoms, in besonder oor die volhoubaarheid van die nuwe grondwetlike bedeling as uitkoms van die 1996-Grondwet.2 Soos in 1976, word die boodskap oorgedra dat daar ernstig fout is, dat verandering onafwendbaar is, en dat 'n baie onsekere toekoms talle Suid-Afrikaners in die gesig staar.

Hierdie onsekerheid is verder beklemtoon toe die ANC as dominante party (sedert 1994 en in al die daaropvolgende verkiesings), tydens die 2021- plaaslike verkiesings vir die eerste keer nie 'n volstrekte meerderheid behaal het nie. Met sowat 47,5% steun neig die trajek van die ANC steeds afwaarts; die steun in metropole het 'n laagtepunt bereik waar die ANC telkens beheer verloor het en politieke onstabiliteit eskaleer, soos die situasie in onder meer die stad Tshwane tans beklemtoon. In sowat 66 munisipale rade sonder volstrekte meerderhede definieer koalisiepolitiek nuwe politieke spelreëls (vergelyk Mashinini, 2021:1-3). Koalisiepolitiek as uitkoms van die voorafgaande lei dikwels tot moeiliker besluitnemingsprosesse, selfs besluitloosheid. Die Suid-Afrikaanse samelewing, politiek en ekonomiese orde word toenemend blootgestel aan patrone van ongekende onstabiliteit met verreikende implikasies. Dit raak nie net die grondwetlike bestel nie, maar ook die staat as instelling wat waardes en skaars middele gesaghebbend moet toewys ingevolge die aanvaarde soewereiniteitsbeginsel soos op state van toepassing. In omstandighede van staatsverswakking en staatkundige verval verloor die staat hierdie vermoë en ander rolspelers vervul hierdie funksie namens, en dikwels in mededinging met die staat.

Hierdie navorsing beoog om 'n bestekopname (politieke omgewingsverkenning) te maak van die huidige situasie in Suid-Afrika (waarna ook verwys word as die post-kantelpunt politiek), en wat moontlik vir Suid-Afrikaners voorlê ingevolge politieke stabiliteit/onstabiliteit oor die korter en medium termyn, inaggenome die opkomende 2024-verkiesing as net een belangrike aspek. Die fokuspunt van die politieke omgewingsverkenning is die ekstrapolasie van die patroonmatigheid van politieke onstabiliteit binne die Suid-Afrikaanse politiek, in besonder wat in die toekoms in hierdie verband verwag kan word. Hipoteties word geredeneer dat talle faktore binne die politieke, ekonomiese, maatskaplike en internasionale omgewings bydraend is tot eskalerendepolitieke onstabiliteit in Suid-Afrika oor beide die korter en medium termyne. Verandering, selfs fundamentele verandering, blyk in die omstandighede onafwendbaar te wees. Die segswyse dat daar geen stilstand is nie; dit is óf vooruitgang óf agteruitgang, blyk hier geldig te wees. Die vertrekpunt van die studie (ook voorgehou as 'n hipotese) is derhalwe dat die volgende 18 maande tot twee jaar (en selfs die daaropvolgende periode) belangrik en bepalend kan wees, nie net vir demokratiese en konstitusionele praktyke nie, maar vir orde, stabiliteit en sekerheid, en daarom ook die funksionering van die staat as staat en wat daardeur veronderstel word. In die lig van verdere en selfs eskalerende politieke onstabiliteit (en die wete dat politieke stabiliteit 'n belangrike voorwaarde is vir 'n funksio-nerende demokrasie) kan die vraag met reg gevra word: Is Suid-Afrika, soos Hongarye, Pole en Indië, teen die agtergrond van eskalerende politieke onstabiliteit 'n mislukte grondwetlike eksperiment? (Vergelyk Balthazar, 2022:1-3).

In aansluiting by bostaande argumente het die HUB van Pick & Pay, Gareth Ackerman, onlangs gewaarsku dat Suid-Afrika 'n voedselkrisis in die gesig kan staar wat tot geweld en onstabiliteit kan lei (Daily Investor, 2023). Op sy beurt het Iain Williamson (HUB van Old Mutual) in 'n toespraak voor die Bloomberg Future of Finance Conference (Junie, 2023) gewys op die risiko's van eskalerende sosiale onrus, nievolhoubare dienslewering, en selfs moontlike internasionale sanksies vir politieke stabiliteit in Suid-Afrika. Price-Waterhouse-Coopers (PWC) het in 'n onlangse verslag verwys na wat genoem word "social unhappiness boiling over", en beklemtoon verskeie faktore wat onstabiliteit in Suid-Afrika kan bevorder (PWC, 2023). Daar is ook in onlangse jare telkens verwys na 'n "Suid-Afrikaanse Lente" wat onderweg is (Jacobs, 2023). Gumede (2021) se perspektief "we are going the Mexican way" moet ook in hierdie verband beoordeel word.

Hierdie artikel is toegespits op 'n ontleding van strategiese faktore binne die Suid-Afrikaanse politiek op die korter en medium termyne deur van 'n politieke omgewingsverken-ning as vertrekpunt tot tendens-identifisering en -ekstrapolasie (politieke stabiliteit/onstabiliteit) gebruik te maak. Hierdie is nie 'n poging om alternatiewe scenario's oor Suid-Afrika se politieke toekoms te ontwikkel nie, maar om net 'n projeksie (of prognose) te maak ten opsigte van die vooruitsigte op politieke stabiliteit in Suid-Afrika, en wat oor die korter en medium termyne in dié verband verwag kan word.

Uitgaande van 'n politieke omgewingsverkenning sal onlangse data en perspektiewe gebruik word om die vooruitsigte rakende veranderende politieke stabiliteitspatrone te identifiseer en te beoordeel. Hedendaagse data, inligting en mediaberigte wat bou op 'n anali-tiese en teoretiese raamwerk en konseptualiserings sal vir hierdie doel gebruik word. Tendens-ekstrapolasie verwys in hierdie opsig na die identifisering van 'n bepaalde patroon of tendens op grond van historiese en huidige omstandighede, waarvandaan projeksies van 'n bepaalde aspek of onderwerp (in hierdie geval politieke stabiliteit/onstabiliteit) gemaak kan word en die implikasies daarvan beoordeel kan word.3

Fokuspunte van die aanbieding is:

Kontekstualisering van die huidige situasie;

Konseptualiserings en teoretiese vertrekpunte;

Kernveranderlikes in die huidige konteks (polities, ekonomies, maatskaplik en internasionaal), en

Gevolgtrekkings en beoordeling van die huidige stand van sake.

 

2. Post-kantelpuntpolitiek - die huidige situasie in konteks

'n Kantelpunt ("tipping point") verwys na 'n kleiner krag (of gebeurtenis) wat 'n reeds gedeeltelik onstabiele situasie verby 'n bepaalde drempelpunt dwing, met verreikende implikasies vir die stabiliteit van 'n bepaalde orde of stelsel - in hierdie geval polities van aard. In 'n artikel getiteld Foreseeing the unforeseeable (2013:20-25), wys Andrew Nathan daarop dat die gebeurtenis wat 'n kantelpunt veroorsaak meestal baie moeilik vooraf bepaalbaar is. Verskeie moontlike oorsake, byvoorbeeld 'n natuurramp, opstand, ekonomiese krisis asook sosiaal-maatskaplike omstandighede kan dien as snellermeganismes om die kantelpunt te bepaal. Die dood van Mohamed Bouazizi op 17 Desember 2010 word allerweë beskou as die sneller wat dieArabiese Lente, 'n kantelpunt, veroorsaak het, met verreikende implikasies vir politieke en regime-stabiliteit in die Midde-Oosterse streek (Cronje, 2017:13).

Deur vandag se tegnologies gevorderde kommunikasie (sosiale media ensovoorts), kan bepaalde beelde (soms blote persepsies) geskep word wat snelle verandering in die hand kan werk. Die gewelddadige konflik tussen Rusland en die Oekraïne asook die huidige konflik in die Midde-Ooste is voorbeelde hiervan. Laasgenoemde impliseer waarskynlike kantelpunte vir Europese, Asiatiese, Midde-Oosterse en moontlik selfs die wereldpolitiek. Indien die genoemde oorloë verder sou eskaleer, wat 'n groot moontlikheid is, kan dit een van die groter kantelpunte in die onlangse geskiedenis wees en selfs geboorte gee aan 'n algehele nuwe wereldorde. Nathan (2013:20-27) beskryf hierdie tendens soos volg: "... (a) tipping point belongs to a paradoxical class of events which are inevitable but not predictable. Other examples are bank runs, currency inflations, strikes, migrations, riots and revolutions".4

In 'n artikel Suid-Afrika by 'n kantelpunt - 'n slegte-saak scenario (Duvenhage, 2020:128) is geargumenteer dat Suid-Afrika voor 'n kantelpunt staan vanweë kombinasies van politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede; dat hierdie kantelpunt onomkeerbaar is, en dat die mees waarskynlike scenario 'n slegte-saak scenario gaan wees. Selfs 'n vorm van verdeelde soewereiniteit (verbrokkeling van die Suid-Afrikaanse staat) word op die langer termyn binne hierdie scenario in die vooruitsig gestel (2020:20). In 'n daaropvolgende artikel, Die Suid-Afrikaanse politieke bestel: krisis, oorlewing (?) en die toekoms (2021), is geredeneer dat hierdie krisis veel groter is as wat algemeen erken en aanvaar word, veral in die media; dat die kantelpunt nie net bereik is nie, maar dat die dieptepunt van hierdie krisis nog onderweg is. RW Johnson (2021) beskryf hierdie toedrag van sake as: "almost everything is going wrong ... And things are out of control". Die gebeure van 9-17 Julie 2021, asook die huidige onstabiliteit in die land, die Phala Phala-episode inbegrepe (met die doel om president Cyril Ramaphosa van die politieke toneel te verwyder), het hierdie perspektief bevestig en verdien nadere ondersoek.5

Hoewel allermins onverwags, en ondanks waarskuwings vanuit verskeie geledere, waaronder die Radikale Ekonomiese Transformasiegroep (RET-groep) binne die ANC, leiers binne die EFF, asook akademici en besorgdes, is die regering onkant betrap deur wat tussen 9-17 Julie 2021 gebeur het. Teen 'n agtergrond van eskalerende politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings (vergelyk bostaande artikels), asook die impak van die COVID-19-pandemie, het die inhegtenisneming van Jacob Zuma en die oplegging van gevangenisstraf as sneller gedien vir ten minste die ergste vorm van politieke geweld sedert 1994 (Vergelyk Cotterill, 2021:1-6; Harding, 2021:1-13). Volgens Siswe Zikalala (leier van die ANC in KZN ten tyde van die geweld): "It was deliberately started and orchestrated ... and had an element of undermining the state - an insurrection". Die president van Suid-Afrika en die regerende ANC het onlangs voor sakeleiers die strategie beskryf as: "to cripple the economy, cause social instability and severely weaken - or even dislodge, the democratic state" (Cotterill, 2021:3). In die geweld wat KZN en dele van Gauteng ontwrig en geskok het, is meer as 300 mense gedood en 3 470 in hegtenis geneem - talle verhoorafwagtend. Tesame met geweld wat polities aan die gang gesit is, waarin massa-mobilisasie tot geweld, plundery en die vernietiging van infrastruktuur gelei het, was ook rassegeweld aan die orde van die dag. 'n Indiër gemeenskapsleier, Marvin Govender, het die situasie in dele van KZN soos volg beskryf: "It was like a war zone. It was something orchestrated. Something sinister. These were highly trained guys. They were trying actually to cause civil war in this country. It was a direct attack - on the Indian community" (Harding, 2021:4). Die menseregte-spesialis Mary de Haas (wat baie vertroud was met die situasie in KZN) beskryf die patroon as: "... to whip people up, go in and start the process, be it a mall or a shopping centre, and withdraw when the looting begins" (Thamm, 2021:2). Die hand van die staatsveiligheidsagentskap en senior rolspelers (meestal met 'n lojaliteit en verbintenis teenoor Jacob Zuma), word deur sommige aan hierdie geweld verbind (Matlala, 2021).

Die Indiër gemeenskap in dele van KZN het hulself op waaksame wyse georganiseer en sowat 38 mense gedood in Phoenix, Inanda en Verulam (gerugte van 'n massa-slagting van swartmense waarin 350-500 gedood sou wees, het ook die rondte gedoen, wat rassespanning verder laat eskaleer het (Erasmus & Hlangu, 2021:1-3). Hoewel daar samewerking tussen gemeenskappe was om veiligheid te verseker, was weinig sigbaar van die sogenaamde reënboognasie en het rassespanning die hoogte ingeskiet.

Die ekonomiese en finansiële skade (rieel en perseptueel) was astronomies, bykomend tot 'n reeds verswakkende ekonomie (lae groeikoers, hoë werkloosheid en die COVID-19-implikasies). Die gebeure van Julie 2021 oortref enige patroon van politieke geweld sedert 1994 - moontlik selfs sedert 1910 tydens die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse staat. Syfers wissel oor die omvang van die skade, maar die aanvanklike R12 miljard het tot R20 miljard en later selfs R50 miljard gegroei (vergelyk Hanley, 2021;1-7; Moneyweb, 2021; Van Zyl, 2021). In KZN is 161 groot inkopiesentrums, 11 pakhuise, 8 fabrieke, meer as 200 winkelsentrums, 161 drankwinkels, 300 banke en poskantore, 1 400 OTM's, 90 apteke, 40 000 besighede en 50 000 handelaars geaffekteer deur verliese en/of plundering en vernietiging. Volgens berekening is tot 150 000 werksgeleenthede in KZN alleen hierdeur in gevaar gestel (Van Zyl, 2021; Cotterill, 2021:3; Harding, 2021:4, en Thamm, 2021:2). Daily Maverick (2022:1) verwys na sowat 2 miljoen werksgeleenthede wat in die slag kon bly as gevolg van die geweld. In Gauteng het die skade sowat R3,5 miljard beloop, 14 500 werksgeleenthede het in die slag gebly, en 30 winkelsentrums is geplunder.

Teen die agtergrond van die geweld het die plaaslike verkiesings in 2021 plaasgevind. Hoewel betreklik vry en regverdig (slegs kleiner insidente het voorgekom) was die volgende kenmerkend van die verkiesing:

Die ANC verloor nasionaal gesproke die eerste keer sedert 1994 sy volstrekte meerderheid en behaal landswyd sowat 47,5% steun.

Toonaangewende ANC-figure waaronder Kgalema Motlhante en Thabo Mbeki, en akademici soos Roger Southall (2022), Theuns Eloff (2022) en andere, wys op die politieke risiko's vir die ANC; selfs die moontlikheid van verlies van mag tydens die komende verkiesing van 2024.

Tussen 66 en 70 munisipale rade sonder volstrekte meerderhede na afloop van die 2021- plaaslike verkiesing dui aan dat koalisie-politiek 'n werklikheid is, met nuwe spelreëls en politieke dinamika wat groot uitdagings vir volhoubare politieke stabiliteit en effektiewe besluitneming inhou.

Die DA het steun verloor, maar nietemin beter gevaar as wat algemeen verwag is.

Kleiner partye met identiteitsbasisse, byvoorbeeld die IVP, VF Plus, Patriotic Alliance en EFF, het goed en/of selfs beter as in die verlede gevaar.

Waar staan ons vandag, hoe lyk die pad vorentoe ten opsigte van die uitkoms en afloop van die ANC se nasionale konferensie; die 2024-verkiesing, en die waarskynlike afloop daarvan? Die volgende moet myns insiens as uitgangspunt geneem word (volgens vroeëre toepaslike navorsing):

Die politieke kantelpunt is reeds bereik en die herskikking wat volg is besig om plaas te vind in 'n omgewing van onsekerheid en selfs eskalerende onstabiliteit.

Cyril Ramaphosa se leierskapsrol (of moontlike gebrek daaraan), en die impak daarvan op die ANC-politiek enersyds en nasionale politiek andersyds, kan die politieke toneel help herdefinieer.

Die post-kantelpunt politieke proses kan moontlik selfs op gewelddadige wyse geboorte skenk aan 'n nuwe bedeling, met groot onsekerhede op talle vlakke van die groter staat, owerheid en regering.

Die polities-staatkundige orde is in sy huidige formaat nie volhoubaar nie; groterwordende sosiale en maatskaplike uitdagings kan kontinuïteit en stabiliteit ernstig bedreig.

Die politieke herskikking wat op hande is, is die grootste sedert 1994 en hou verreikende implikasies in vir die demokratiese en konstitusionele orde asook ondersteunende instellings van die huidige politieke bestel in Suid-Afrika (selfs die staat as staat word hierdeur geïmpliseer).

Die breë kerk van die ANC huisves die kern van die politieke herskikking wat besig is om op gewelddadige wyse (soms krimineel van aard) uitmekaar te skeur, met gevolglike bedreiging vir politieke en staatkundige stabiliteit.

Die gebrek aan sterk leierskap van binne die regering asook die opposisie is opvallend in die huidige periode (vergelyk Duvenhage, 2020:1-28).

Dit is opvallend dat die Phala Phala-episode (Julie 2022), wat Cyril Ramaphosa impliseer in geldverduistering, geldwassery, korrupsie en ontvoering, op 'n kritieke tydstip in die magstryd binne die ANC in die openbaar oopgevlek is.6 Die politieke spel as uitvloeisel hiervan betrek die RET en ander radikale groepe met die spesifieke doel om Cyril Ramaphosa as politieke leier van die ANC en die regering te ontsetel - 'n proses wat tot dusver onsuksesvol was, soos die uitkoms van die Nasionale Konferensie van die ANC bewys het.7

Hierdie en ander tendense hang ook saam met eskalerende patrone van onstabiliteit in die land, onder meer aanvalle op buitelanders (Duduma en ander xenofobiese inisiatiewe), ontwrigting van padvervoernetwerke, misdaad en sabotasie. Aanduidings hiervan, ondersteun deur toenemende insidente van misdaad, kriminaliteit, die ontwrigting van wet en orde, soos "national shutdowns" en mafia-agtige sabotasie (soos onlangs deur André de Ruyter by ESKOM en TRANSNET uitgewys is), beklemtoon die omvattende aard van die problematiek waarmee ons te make het.8

Met bogenoemde kenmerkend van die post-kantelpunt politiek, is die vraag: Wat lê vir Suid-Afrikaners in die volgende 18-24 maande voor? Gaan die status quo gehandhaaf word (ingevolge stabiliteit of onstabiliteit); kan dit verbeter, of sal dit verder versleg? Voordat tendensidentifisering en -ekstrapolasie kan plaasvind, moet enkele konseptuele en teoretiese uitklarings eers omskryf word.

 

3. Konseptualiserings en teoretiese uitgangspunte

Drie begrippe is sentraal met die oog op hierdie ontleding, naamlik staat, politieke stelsel en stelselstabiliteit. Enkele ander verbandhoudende of beskrywend uitbouende begrippe sal ook aangeraak word. Die aandag word nou gevestig op die teoretiese onderbou van hierdie navorsingsperspektief.

3.1 Die staat

'n Staat word gekenmerk deur 'n vaste geografiese territorium, 'n permanente owerheid of politieke stelsel (regime); die aanwesigheid van soewereiniteit, en gevolglik die vermoë om afdwingbare besluite en reëls vir die betrokke samelewing te kan formuleer. Op grond van die Weberiaanse (1964:154) uitgangspunt van 'n sterk staat (effektief en doelmatig) word 'n staat voorgehou as: "... a human community that successfully claims the monopoly of the legitimate use of physical force within a territory". Verswakkende state, soos die huidige Suid-Afrikaanse staat, dui op verlies aan beheer oor die territorium; gebrekkige institusionalisering (swak regeerkundige, bestuurs- en administratiewe praktyke); onvermoë om veiligheid en sekuriteit te handhaaf; beperkte ontwikkelingsgerigtheid, asook die aanwesigheid van korrupsie en nepotisme (vergelyk Geldenhuys, 1999:38-46; Migdal, 1988:214-216; Zartman, 1995:1-8; Mazrui, 1995). Verswakkende state word geassosieer met groter onstabiliteit en ook wanfunk-sionaliteit; tans kenmerkend van die staatkundige bestel in Suid-Afrika. Om 'n beter begrip van die politieke dinamika binne die Suid-Afrikaanse staat oor die volgende 18 maande tot twee jaar te verkry, is 'n meer gedetailleerde ontleding van die begrip stelsel (of regime) noodsaaklik.

3.2 Gekompliseerde stelsels en stelseldinamika

'n Politieke stelsel kan beskryf word as: "... a network of relationships through which government generates outputs (policies) in response to inputs (demands or support) from the general public" (Heywood, 2002:429). Easton (1965), die vader van die stelselanalise, soek antwoorde op die vraag hoe stelsels kan bly voortbestaan te midde van veranderinge, soms fundamenteel, binne sy omgewing? Hy (1965:15,17,21) definieer 'n stelsel as: "die interaksie of wisselwerking van talle veranderlikes (insette, omskakeling en uitsette) binne 'n dinamiese omgewing afgesien van die graad van interaksie wat tussen komponente hiervan mag bestaan ". Easton (1965:21) verwys na politiek in stelselverband as: "... those interactions through which values are authoritatively allocated for society".

Op grond van die Eastoniaanse stelsel-uitgangspunt (gekombineer met Huntington, 1968:1-8 se beskouing van politieke institusionalisering), word politiek vir hierdie navorsing gedefinieer as: die vermoë om steun te mobiliseer en te organiseer binne 'n bepaalde samelewingsverband, met as doel die verkryging en/of konsolidasie van 'n politieke magsbasis (meestal institusioneel gefundeer), waardeur bindende besluite (toedeling van waardes en skaars middele), met betrekking tot die samelewing of dele van die samelewing kan plaasvind, of wat mededingende en selfs vyandige magsbasisse vreedsaam of nie-vreedsaam kan inhibeer (en selfs verhoed) om hul besluite of waardes op die samelewing of onderdele van die samelewing af te dwing. (Vergelyk Duvenhage, 1998:2-3 vir 'n meer volledige konseptualisering.)

Met hierdie navorsing in gedagte, word die Suid-Afrikaanse politieke bedeling as 'n ingewikkelde stelsel voorgehou, bestaande uit netwerke (soms substelsels) wat in dinamiese en selfs asimmetriese wisselwerking met mekaar verkeer (binne 'n uiters gekompliseerde omgewing), en waarin die opskorting of verbrokkeling van sodanige stelsel 'n moontlike uitkoms kan wees (vergelyk Cronje, 2017:29-30).9 Volgens kenmerke van hierdie tipe stelsel, soos van toepassing op die politiek, voldoen bogenoemde konseptualiserings aan die volgende omskrywings:

'n Stelsel met 'n gekompliseerde samestelling en die asimmetriese wisselwerking van talle veranderlikes voorgestel as 'n kompleksiteit binne 'n groter samehangende en teenstrydige geheel (polities-staatkundig).

Substelsels of onderdele van die groter politieke stelsel neem die vorm aan van netwerke met eiesoortige kompleksiteite en dinamika.

Patrimoniale en neopatrimoniale netwerke wat die vorm aanneem van alternatiewe stelsels wat in direkte botsing is met die waardes en norme van die groter stelsel binne 'n Suid-Afrikaanse konteks, en bydraend is tot korrupsie, endemiese korrupsie en selfs staatskaping.10

Wanneer bogenoemde netwerke militariseer, soos in moordbendes, transito-rooftogte, georganiseerde sluipmoordsindikate, samma sammas, ensovoorts, baan dit die weg vir krygshere, wat soms ideologies gesproke krygsheerisme ("warlordism") genoem word.

Die oneweredigheid (nie liniêr nie) van insette (verwagtinge en ondersteuning) versus uitsette (beleid en beleidsuitvoering en toepassing).

'n Stelseldinamika wat as ontluikend beskryf kan word, met kenmerke soos onsekerheid; aanpasbaarheid, en herskepping waar stelselmislukking na vore kan kom.

'n Stelsel wat sensitief is vir sy eie geskiedenis en ontwikkeling en daarom kenmerke van 'n leerorganisasie toon (stelselgebreke kan konstruktief hervorm word). (Vergelyk Cronje, 2017:29-33; Duvenhage, 2020: 5-9.)

Omgewingsfaktore kan stelselstabiliteit (al dan nie) bepaal en verdien meer indringende aandag met die oog op 'n beter verstaan van die Suid-Afrikaanse problematiek en dinamika.

3.3 Stelselstabiliteit

Politieke stabiliteit met die stelsel as fokus word deur Claude Ake (1975:273) voorgehou as:

... the regularity of the flow of political exchanges. The more regular the flow of political exchanges, the more stability. Alternatively, we might say that there is political stability to the extent that members of society restrict themselves to the behaviour patterns that fall within the limit imposed by political role expectations. Any act that deviates from these limits is an instance of political instability.11

Uitgaande van 'n bepaalde beskouing van staat en politiek (soos omskrywe), toegepas op die politieke stelsel as begrip, en in navolging van Ake (1975:271-283), word politieke stabiliteit in hierdie studie voorgehou as die politieke gedrag van rolspelers (hoe ook al gedefinieer) wat betrokke magstelsels (owerheid en regering binne 'n betrokke staatsverband) stabiliseer deur die aanwesigheid van ordelike en reëlmatige prosesse, konsekwent toegepas en waarin die gedrag van rolspelers meestal voorspelbaar is. Politieke onstabiliteit daarenteen beteken dat die optrede van rolspelers destabiliserend en ondermynend vir die stelsel en stelselprosesse kan wees (negatiewe politieke terugvoer); en dat gebrekkige orde en reëlmaat aanwesig is, asook inkonsekwentheid in die optrede en rolspel van politieke akteurs wat uitkomste in die algemeen moeiliker voorspelbaar maak.

Begrippe soos chaotiese stelsels ('n wanordelike stelsel met onvoorspelbare gedragspa-trone, onreëlmatighede en inkonsekwenthede); stelselentropie (wisselvalligheid en onreël-matigheid); stelselinploffing ('n stelsel wat in duie stort); asook stelselontploffing (revolusie en patrone van onstabiliteit), moet binne die breër begrip van stelsel-onstabiliteit verstaan word. Dit is 'n uitbouing van kategorieë van onstabiliteit (voorgestel in stelselterme) wat besondere betekenis en waarde inhou vir die bepaling van tendense ten opsigte van politieke stabiliteit/onstabiliteit binne die Suid-Afrikaanse konteks (vergelyk Duvenhage, 2020: 5-9).

Met as breë verwysing die Suid-Afrikaanse staat, in besonder die Suid-Afrikaanse politieke stelsel (voorgestel as 'n gekompliseerde stelsel), sal gevolgtrekkings en toekomsperspektiewe ontwikkel word ten opsigte van die tendense rakende stabiliteit /onstabiliteit en die ekstrapolasie van sodanige tendense.12 Tendens-ekstrapolasie behels hiervolgens 'n metode waarvolgens patroonmatighede (tendens/e) geïdentifiseer word en dan in die toekoms geprojekteer word. Ten opsigte van hierdie studie word patrone en tendense ingevolge 'n politieke omgewings-verkenning geïdentifiseer en geprojekteer. Die fokus in hierdie geval is kontekste soos polities, ekonomies, maatskaplik en internasionaal, en veranderlikes binne die onderskeie kontekste. Tendense en patrone binne die raamwerk van die omgewingsverkenning word as parameters gebruik om patrone van politieke stabiliteit/onstabiliteit (soos hier bo gedefinieer) te projekteer in die toekoms (kort en medium termyn) en ook as potensiële risiko te beoordeel.

Met bogenoemde as uitgangspunt is hierdie navorsing 'n poging om orde te skep uit gekompliseerde patrone en tendense (letterlik 'n smeltkroes van verandering) en dit dan te herlei tot 'n kort- en mediumtermynperspektief ten opsigte van die toekoms rakende patrone van politieke stabiliteit/onstabiliteit binne die huidige en toekomstige Suid-Afrikaanse konteks.

 

4. 'n Smeltkroes van verandering - konteks en patroonmatigheid

Volgens die perspektief dat Suid-Afrika as gevolg van 'n kombinasie van faktore (polities, ekonomies en maatskaplik) 'n kantelpunt bereik het (Duvenhage, 2020; 2020A: 137-162), is die vraag hoe die situasie in die volgende sowat twee jaar of meer daar gaan uitsien in soverre dit politieke stabiliteit/onstabiliteit betref. Bestaande navorsing as motivering vir die bereiking van die kantelpunt (die grondslag waarvandaan patrone van onstabiliteit momentum ontvang) het die volgende aspekte beklemtoon:

1. 'n Kombinasie van politieke/ekonomiese en maatskaplike faktore (en die waarskynlike uitspeel daarvan in die toekoms) maak dat die huidige status quo nie volhoubaar is nie en verandering (stabiel of onstabiel) onafwendbaar.

2. 'n Politieke kantelpunt is bereik en politieke onsekerheid en herskikking is tans aan die orde.

3. Die regerende ANC is tans ernstig verswak (soos deur verskeie meningspeilings bevestig), en telkens nie in staat om moeilike en noodsaaklike besluite te neem en suksesvol af te dwing nie.

4. Die gaping tussen die de jure staat (die norm of ideaal) en die empiriese staat (die harde werklikheid) is besig om al verder uit mekaar te dryf, wat bydra tot ontevredenheid en selfs die mobilisasie van protes en verset.

5. Verslegtende ekonomiese en maatskaplike aanduiders en projeksies beklemtoon die nie-volhoubaarheid van die status quo en die werklikheid van verandering.

6. Staatsverswakking is 'n werklikheid wat meer waarskynlik gaan voortduur en selfs versleg, met 'n mislukte staat wat op die mediumtermynhorison wink, gepaardgaande met eskalerende patrone van politieke onstabiliteit.

7. In die derde dekade van demokrasie gaan gegewe patrone van politieke onstabiliteit bepalend wees vir die suksesvolle konsolidasie van demokratiese praktyke in Suid-Afrika.

8. 'n Onstabiele internasionale omgewing, onder meer as gevolg van die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne, kan in eie reg tot stelselonstabiliteit lei, veral as die ANC-regering hulself aan die kant van Rusland skaar, soos skynbaar die geval is. Die huidige eskalerende konflik in die Midde-Ooste is verdere olie op die vure van 'n reeds onstabiele internasionale omgewing.13

Die doel van hierdie navorsing is nie 'n herhaling van bogenoemde ontleding en die bevestiging van bogenoemde gevolgtrekkings nie, maar om te bepaal hoe kernfaktore die toekoms van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing in die volgende sowat twee jaar kan bepaal en watter uitkomste verwag kan word. Hoofsaaklik handel dit oor die mate van politieke stabiliteit/ onstabiliteit wat verwag kan word, soos gemeet aan die kriteria hier bo uiteengesit en die uitspeel daarvan binne die raamwerk van Suid-Afrika voorgehou as 'n gekompliseerde politieke stelsel. Die analitiese raamwerk onderliggend aan die beplande navorsing kan soos volg voorgestel word:

 

 

Kernveranderlikes sal geselekteer word vir verdere ontleding met die oog op die identifisering van patrone van politieke stabiliteit/onstabiliteit en die onderliggende drywers van die verskynsel.

4.1 Die ANC-dinamika

Waarskynlik meer as enige van bogenoemde faktore (bereken as gewigte wat die toekoms kan bepaal), is dít wat binne die ANC en die groter familie van organisasies gaan gebeur bepalend vir stabiliteit in Suid-Afrika. Dit is nie vergesog nie om te redeneer dat 'n verlies van politieke mag of in 'n uiterste geval die disintegrasie van die organisasie (op een of ander wyse) die stabiliteit van die politieke stelsel en selfs die groter staat ernstig kan bedreig. Anders gestel, is 'n stabiele ANC tans bykans gelyk aan 'n stabiele politieke en staatkundige bestel. Hoewel laasgenoemde geensins 'n ideale scenario is nie, soos gemeet aan demokratiese kriteria, moet aanvaar word dat die ANC nie 'n regering is wat net uitgestem kan word nie, maar eerder 'n regime (politieke stelsel) wat nie so maklik van hul mag afstand sal doen nie.14

Tans is daar talle faktore (soms tendense) wat daarop dui dat die ANC besig is om die wind van voor te kry. Die belangrikste sake word kortliks hier beskou:

4.1.1 ANC as regering

As regerende party is die ANC se bestuur en regering ernstig onder skoot. Nie net word politieke elites beskuldig van staatskaping nie, maar korrupsie is endemies, en weinige strukture binne die groter owerheid is steeds funksioneel. Voorbeelde sluit in die krisis in plaaslike regering (80-90% van die instellings ervaar vorme van wanfunksionaliteit); die krisis in semistaatsinstellings soos ESKOM, TRANSNET, die Poskantoor, DENEL en die Landbank; die verval van wet en orde soos gemeet aan misdaadstatistiek asook die opkoms van privaat veiligheidsinstellings; krisisse ten opsigte van onderwys, gesondheid en algemene dienslewering - te veel om op te noem. (Vergelyk Johnson, 2015; 2019; 2020a; 2020b; 2020c; 2021d; Jordaan, 2021; Duvenhage, 2020a; 2021.) Die huidige ESKOM-krisis en die uitsprake van endemiese korrupsie, die bestaan en funksionering van mafia-agtige organisasies met senior politici wat verantwoordbaar is, beklemtoon die erns van die situasie. Hierdie konteks sluit aan by die patrimoniale en neo-patrimoniale netwerke waarna vroeër verwys is. Johnson (2020c) se perspektief op bogenoemde samehang van uitdagings is: "This government will have to steer South Africa through an unprecedented fierce storm, a test it seems certain to fail. The government may well disintegrate, the state may fail." Die wortel van hierdie problematiek is historiese, etniese en persoonlike gevegte, oftewel faksiegevegte, wat besig is om die organisasie van meer as honderd jaar oud van binne te vernietig. Soos vroeër beklemtoon, is dit 'n drywer vir eskalerende patrone van onstabiliteit, ook politieke onstabiliteit - 'n reeds gevestigde patroon/tendens wat in huidige omstandighede besig is om te versleg.

4.1.2 Faksiegevegte

Hoewel faksiegevegte binne die ANC en groter familie niks nuuts is nie, was die opbou en afloop van die 2017-konferensie waarin Cyril Ramaphosa vir Nkosazana Dlamini-Zuma verslaan het, 'n waterskeidingsmoment vir die organisasie (Rostron, 2021:1-5; Cotterill, 2021:1-12; Duvenhage, 2020:151-153). Die wyse waarop Ramaphosa geseëvier het (beweerde koop van stemme van onder meer David Mabuza), en die daaropvolgende teenkorrupsie-inisiatief met verwysing na onder meer die werk van die Zondo-kommissie, die optrede teen staatskapers en korruptes (lees Jacob Zuma, Ace Magashule, Julius Malema en Floyd Shivambo), het die konflik binne die ANC na nuwe hoogtes gevoer. Die onstabiliteit van Julie 2021 kan ongetwyfeld onder meer herlei word na interne spanning en faksiegevegte binne die ANC, veral tussen die Radical Economic Transformation Group (RET) en die Ramaphosalojaliste. Die wegbreek van Ace Magashule en die stigting van die African Congress for Transformation is simptomaties van hierdie faksiegevegte. Sodanige faksiegevegte verlam nie net die ANC as party nie, maar ook die regering en die groter owerheid, met as belangrike uitkoms die onvermoë om besluite te neem te midde van eskalerende uitdagings en krisisse binne die groter samelewing, politiek en staatkundige orde.15

Die onlangse Nasionale Konferensie van die ANC in 2022 het, ondanks die Phala Phala-saga, Ramaphosa se steun as leier herbevestig, maar faksiegevegte duur steeds sluimerend voort. Die onthullings van André de Ruyter ten opsigte van die ESKOM-situasie en die implikasies daarvan vir senior politici (die Adjunk-President het reeds bedank en 'n Ramaphosalojalis, Gwede Mantashe, word geïmpliseer), kompliseer die interne konflik verder. 'n Magsbasis wat om Paul Mashatile ontwikkel (mededingend met dié van Cyril Ramaphosa), blyk een van die uitkomste van die nasionale konferensie te wees. Met die Phala Phala-albatros om sy nek en die mislukte appèl teen die bevindinge van die kommissie van ondersoek, asook ernstige regeerkundige en bestuursuitdagings en dalende steunvlakke vir die regerende party, is dit 'n uiters moeilike pad wat vir die regerende ANC voorlê.

Die bevindinge van die Zondo-kommissie en moontlike optrede in dié verband; die verbrokkeling van die breë kerk van die ANC, en die moontlikheid dat byvoorbeeld die SAKP op sy eie aan die verkiesing kan deelneem; verlaagde steunvlakke soos aangedui in meningspeilings, met gepaardgaande moontlike verlies van politieke beheer; die werklikhede van koalisiepolitiek; asook nuutverkose leierskap (waarin veral Paul Mashatile 'n belangrike rol kan speel), maak die ANC 'n moeilik voorspelbare organisasie. Dit is ongetwyfeld 'n belangrike faktor wat patrone van politieke stabiliteit/onstabiliteit vorentoe kan en gaan bepaal.

4.1.3 Bestuursprobleme

Reeds vir 'n geruime tyd is daar berigte en gerugte van ernstige bestuurs- en finansiële uitdagings vir die ANC as organisasie. Skuldeisers word nie betaal nie en selfs nie salarisse van amptenare in Luthuli-huis en strukture op laer vlakke in die organisasie nie, wat werknemers tot arbeidsoptrede teen die ANC aangespoor het. Die totale skuldlas word bereken op sowat R400 miljoen, waarvan meer as R100 miljoen aan die SAID verskuldig is (Omarjee & Maeko, 2021:1). Die skuldlas teenoor die SAID het sedert 2010 toegeneem en teen 2017 reeds R100 miljoen beloop.

4.1.4 Dalende steunbasisse

Sedert die 2004-verkiesing het die steunbasis van die ANC voortdurend gedaal. Tydens die nasionale en provinsiale verkiesings in 2019 het die steun van die ANC tot 57,5% gedaal, en met die plaaslike verkiesings in 2021 tot slegs 47,5%. Projeksies vir die nasionale en provinsiale verkiesings in 2024 wissel van net minder as 50% tot so laag as 37% (vergelyk Boonzaaier, 2022:1; Haffajee, 2022; 2022A & Mwareya, 2022). Die mees onlangse meningspeiling van die Brenthurst Foundation beklemtoon dat die steun van die ANC tussen November 2022 en Oktober 2023 vanaf 48% tot 'n skrale 41% gedaal het. Die nasionale steunprofiel van president Ramaphosa het ook vergelykenderwys met dieselfde persentasiepunte gedaal (Mills & Harley, 2023).16 Tussenverkiesings wat op plaaslike vlak deur die ANC verloor is, beklemtoon bogenoemde tendens nog verder.17 In die noorde van KZN is daar beduidende verliese teen veral die IVP (Bapela, 2023). Hierdie tendens as gevolg van talle faktore wek groot kommer en onsekerheid by die ANC en versterk die dryfkrag om meer populisties te wees - wat in moeilike tye nie ekonomies bekostig kan word nie.

4.1.5 Gevolgtrekking

Die ANC beleef sy grootste krisis sedert sy bewindsoorname in 1994. Verlammende faksiegevegte; dalende steunbasisse; bestuurs- en administratiewe wanfunksionaliteit; finansiële uitdagings, en gebrekkige leierskap samehangend met ideologiese konflikte laat ons inderdaad met 'n slegte-saak scenario en 'n vooruitsig op groter onstabiliteit. Hierdie slegte-saak scenario raak nie net die toekoms van die ANC as organisasie nie, maar ook die ANC as regering, owerheidsinstellings en selfs die staat as staat met groterwordende bedreigings vir staatkundige stabiliteit in die algemeen en regeringstabiliteit in besonder.

Die ANC-konferensie het weliswaar redelik goed afgeloop vir die Ramaphosa-groep, maar talle konflikte en uitdagings bly steeds onopgelos. Die Phala Phala-swaard wat oor Ramaphosa se kop hang, dalende steunbasisse, nuwe leierskap en magsbasisse; endemiese korrupsie en moontlike nuwe magsbasisse wat kan ontwikkel, skets 'n donker prentjie vir die oudste bevrydingsbeweging op die kontinent, wat 'n onvermoë openbaar om suksesvol aan te pas by veranderende politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede. Die verswakkende posisie van die ANC hang nou saam met verswakkende staat- en owerheid-strukture.

4.2 Verswakkende staat- en owerheidstrukture18

Die politieke en ekonomiese ontledingsgroep Eunomics: Business & Economics (2020:5-6) voorspel tot die onsteltenis van talle analiste dat Suid-Afrika teen 2030 (soos Nigerië, die Ivoorkus en Bangladesj), 'n mislukte staat gaan wees. Kriteria soos lewensgehalte en lewen-standaard, ekonomiese groei, regeerkundige en politieke bestuurspraktyke, en die moontlikheid om te verbrokkel het tot hierdie gevolgtrekking gelei. Sake soos Suid-Afrika se verslegtende veiligheidsituasie (gemeet deur Global Peace Index-2018); eskalerende misdaadsyfers; die inploffing van die strafregstelsel; wanfunksionele owerheidstrukture, waaronder plaaslike regering; semi-staatsinstellings (ESKOM; Transnet; die Poskantoor; die Landbank en DENEL); 'n verswakkende ekonomie en krimpende belastingsbasis; hoë en stygende vlakke van werkloosheid en ongelykheid, asook eskalerende vlakke van armoede, bevestig die geldigheid van bogenoemde perspektief. Trouens, gegewe die huidige trajek van die meeste veranderlikes, is Suid-Afrika se voorland 'n mislukte staat indien daar nie drasties gehandel word nie. Die aard van verswakking word op 'n aantal vlakke weerspieël, naamlik:

regeerkundig (interne konflik; swak besluitneming; omstrede wetgewing soos die wysiging van artikel 25 van die grondwet, PEPUDA-wetgewing; die beoogde wysiging aan die vuurwapenwet, en die uitvoering van ander klousules soos aanvaar by die Nasionale Konferensie van 2017);

owerheidsvlak (wanfunksionele strukture en onvermoë om ooreenkomstig die grondwet en toepaslike wetgewing te funksioneer), asook

staatkundig (gebrek aan veiligheid en sekuriteit; deurdringbare grense; gebroke soewereiniteit). (Vergelyk Duvenhage, 2021:1-5; Malan, 2019:2.)

Volgens die trajek van die huidige patroon van staatsverswakking wat bly voortduur, is die scenario van 'n volledige mislukte staat (gebroke soewereiniteit) ook nie op die langer termyn heeltemal van die baan nie. Johnson (2015: 242) het reeds gewaarsku dat: "... under the ANC ... the survival of South Africa as a unitary state cannot be taken for granted".

Die aard van die verswakkende staat kan ook gemeet word aan die eskalering van georganiseerde misdaad ten tyde van die demokratiese oorgang en daarna (Mothibi, Roelofse & Maluleke, 2015:1-8). In 'n navorsingsdokument van Global Initiative, getiteld Strategic Organized crime risk assessment: South Africa (2022;1-216), word die omvang, diepte en implikasies van verskeie vorme van georganiseerde misdaad ontleed deur daarna te verwys as: "... a dark web: a criminal ecosystem". Daar word beklemtoon dat:

Organized crime is an existential threat to South Africa's democratic institutions, economy and people ... The recent mass shootings in taverns across the country or the horrific gang rapes in an illegal mining community on the West Rand; continual outbreaks of violence at taxi ranks; shop owners threatened at gunpoint; the assassinations of whistle-blowers; ... are not as random as they may first appear ... (2022:1)

Wat misdadigheid betref, toon die verslag dat Suid-Afrika nou in die kategorie val van Italië, Mexiko, Somalië en Libië (Haffajee, 2022B:1-3).

Die Global Initiative-verslag (2022) skryf die verslegtende tendens veral toe aan die samehang van drie patrone: die groei in georganiseerde misdaad; die groei in elite korrupsie (lees staatskaping); en die erosie van staatstrukture, oftewel die verswakkende staat. Dit is interessant dat Suid-Afrika nie uitstaan ten opsigte van 'n spesifieke misdaad nie. Haffajee (2022B: 10) interpreteer hierdie toedrag van sake op grond van die 15 terreine van georganiseerde misdaad: "... few host so many illicit markets across such a broad spectrum of criminal activity ..." as juis Suid-Afrika. Laasgenoemde laat reg geskied aan die begrip kriminele (mafia) staat wat gereeld ten opsigte van Suid-Afrika gebruik word.19 Die onlangse bekendmaking van die funksionering van misdaadsindikate binne ESKOM, wat ook TRANSNET impliseer (bekendgemaak deur die uittredende bestuurshoof van ESKOM, André de Ruyter), is 'n verdere bevestiging van die omvang van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika en hang nou saam met wat vroeër as neo-patrimoniale tendense met kriminele en mafia-agtige leierskap en optrede beskryf is.

Die voorafgaande dui noodwendig op vorme van die inploffing van die strafregstelsel in Suid-Afrika. 'n Onlangse misdaadverslag van Afriforum het daarop gewys dat van die 1 402 plaasaanvalle en plaasmoordinsidente tussen 2019 en 2022 daar slegs 66 skuldigbevindings was, en dat 95% van alle sake nie opgelos is nie (Afriforum, 2023). Nog meer kommerwekkend is dat bogenoemde syfers nie uniek is aan hierdie tipe misdaad en waar dit voorkom nie, maar dat dit deel vorm van 'n meer algemene patroon ten opsigte van die SAPD. Dit blyk dat die strafregstelsel ernstige gebreke het en in sommige opsigte besig is om in duie te stort. Wanoptrede en gebrekkige professionaliteit van die SAPD (soos aangedui in die 2022/3-Jaar-verslag van die instelling) beteken dat R108 miljard se siviele eise teen die SAPD tans hangende is. Dit is meer as die totale jaarlikse begroting van die SAPD (Strydom, 2023).

Met 'n polisiemag wat dikwels wanfunksioneel is (1 polisiebeampte vir elke 450 000 mense), en die Nasionale Vervolgingsgesag, vroeër gekaap en tans heeltemal oneffektief, verklaar Curlewis (2022:12): "Over the last 10 years or more the NPA has become better known for its failure to successfully prosecute than for doing its core job, particularly regarding high-profile criminal cases of corruption involving corporations, state officials and politicians." Dit laat ernstige vrae oor die onafhanklikheid, integriteit en effektiwiteit van die regstelsel in Suid-Afrika, in besonder die strafregstelsel.20

Pogings tot vorme van selfbeskikking of selfbestuur, selfs die afskeiding van die Wes-Kaap; asook uitsprake van die Zoeloe-bevolking rakende die Inkwavuma-trust, ondersteun tendense wat met die verswakkende staat verband hou. Dit is nietemin eerder moontlikhede op die langer termyn as gebeure wat oor die volgende 18-24 maande kan plaasvind. Wat in die volgende maande en jare gebeur, kan die toekoms en die uitkoms van pogings tot groter selfbeskikking rigtinggewend beïnvloed.

4.2.1 Gevolgtrekking

Staatsverswakking, en die reaksie daarop (konflik, geweld, misdaad en/of selfbestuur/-beskikking), kan bepalend inwerk op die stabiliteit van die groter owerheid en staat. Die suksesvolle konsolidasie van ons demokratiese bestel (al dan nie), tesame met die geloofwaardigheid van die grondwet (soos toegepas), word ook regstreeks deur staatsverswakking geraak. Teen die agtergrond van georganiseerde misdaad en die inploffing van die strafregstelsel is die werk van Malan, There is no Supreme Constitution (2021:2-3), beskrywend en betekenisvol as hy verwys na die feit dat: "... (the) supremacy of the constitution is in fact very tenuous, if not entirely groundless: the so-called supreme Constitution is subject to forces that often by far exceed the assumed potency of the supreme Constitution".

'n Onlangse peiling deur Afrobarometer toon aan dat Suid-Afrikaners, ongeag die vervanging van Jacob Zuma met Cyril Ramaphosa, steeds ernstige legitimiteitsprobleme ten opsigte van owerheid en regering ervaar. Logan en Nkomo (2021:2-5) interpreteer hierdie verslag soos volg:

... (T)hese results suggest Zuma's troubled tenure either so undermined public confidence in government or so entrenched corrupt behaviour that a change of leadership has not been enough to restore public confidence ... After a modest dip in the first post-Zuma survey, perceptions of extensive corruption in the office of the presidency now go beyond even those recorded during the Zuma years.

Die onlangse skerp kritiek van oud-presidente Mbeki, Motlanthe en Zuma op die huidige president vul die voorafgaande perspektief aan en is betekenisvol. Verswakkende staatstendense word direk geassosieer met patrone van konflik en selfs geweld, wat onderliggend is aan patrone van politieke onstabiliteit. Die owerheid se onvermoë om 'n openbare regsorde in algemene belang te handhaaf kan as 'n grondliggende oorsaak aangedui word.

4.3 Die plaaslike verkiesingsuitslag, die komende 2024-verkiesing en die werklikheid van politieke herskikking

Verkiesings het te make met die moontlikheid dat die regerende politieke elite (nie die owerheid of regime nie) moontlik vervang kan word. Dit laat die politieke stelsel soos vroeër beskryf kwesbaar, met 'n potensiaal vir patrone van politieke onstabiliteit. In die aanloop tot die 2021-plaaslike verkiesings het meningspeilings korrek voorspel dat (nasionaal gesproke) die ANC nie 'n volstrekte meerderheid sou behaal nie. Hierdie patroonmatigheid van steunverliese het reeds sedert 1999 na vore begin kom. Die ANC het nasionaal gesproke geëindig op 47,52% (8,13% laer as die vorige verkiesing); die DA op 19,84% (5,27% laer); die EFF op 10,54% (2,23% hoër); die IVP op 6,27% (1,54% hoër), en die VF Plus 2,32% (1,5% hoër) (Mashanini, 2021). Vir die ANC wat 61,95% behaal het in die 2011-verkiesing en slegs 53,91% in die 2016-verkiesing, was dit 'n reuseskok. Nuwe politieke partye soos die Patriotic Alliance (PA op 0,87%), en veral Action South Africa (ASA op 1,8%), met gekonsentreerde steun in die metropole, het die herskikking van die politieke spektrum onderskryf. Belangrike kenmerke van die 2021- plaaslike verkiesing het ingesluit:

'n Groot aantal partye wat deelneem ('n pluralistiese veelpartystelsel aldus Sartori (1976), wat die verdeeldheid van die samelewing weerspieël), met net enkele partye wat uiteindelik verteenwoordiging kon bewerkstellig;

Die ANC wat sy absolute meerderheid verloor en die amptelike opposisie (DA) wat ook steun verloor;

'n Verskuiwing in steun na kleiner partye wat die aanwesigheid van identiteitspolitiek beklemtoon;

Met sowat 70 munisipale rade sonder volstrekte meerderhede ("hangrade") na afloop van die verkiesing word koalisiepolitiek 'n werklikheid - veral, maar nie uitsluitlik nie, in die metropolitaanse gebiede;

Partye soos ASA, die IVP, die PA en die VF Plus met gekonsentreerde steunbasisse, wat meer setels lewer;

Diepliggende verskille op ideologiese, kulturele en rassevlak, wat volgens verkiesings-uitslae geopenbaar is.

Hierdie verkiesingsuitslag (soos in 'n mindere mate in die 2019-verkiesing), beklemtoon die kantelpunt wat bereik is, die noodwendigheid van koalisiepolitiek wat die politieke speelveld drasties verander, asook die diepverdeelde aard van die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing.

Ten opsigte van die 2024-verkiesing wys peilings daarop dat die ANC sy volstrekte meerderheid, soos in die plaaslike verkiesings nasionaal gesproke, kwyt kan wees. 'n Interne ANC-peiling het onlangs getoon dat die steun van die party tot onder 40% kan daal. Die ANC loop gevaar om hul magsbasis in ses provinsies (KZN inbegrepe) te verloor (Boonzaaier, 2022:1). IPSOS-Markinor plaas daarenteen die steun van die ANC tans op 42%, met die DA op 11% en die EFF op 9% (Haffajee, 2022; Mwareya, 2022). Ander peilings beklemtoon weer die onvermoë van opposisiepartye om munt te slaan uit die situasie waarin die ANC en die groter alliansie hulself bevind, maar wys tog op die moontlikheid dat die ANC steeds 50% steun kan behaal (Businesstech, 2022; Haffajee, 2022a). Die mees onlangse peiling van die Brenthurst Foundation (waarna reeds verwys is) plaas die ANC se steun op net 41% (7 persentasiepunte laer as 'n jaar gelede). (Vergelyk Mills & Harley, 2023.)

4.3.1 Gevolgtrekking

Ongeag die korrektheid van meningspeilings (verwysend na die wisselende syfers), beklemtoon bogenoemde die post-kantelpuntsituasie van 'n veranderende politieke spektrum, nuwe akteurs wat na vore tree, en koalisiepolitiek as 'n belangrike deel van die veranderende politieke speelveld, gepaardgaande met nuwe politieke spelreëls, uitdagings, onsekerheid en onstabiliteit. Die afloop hiervan (as scenario vir provinsiale en nasionale vlakke na die 2024-verkiesing) blyk duidelik uit patrone van politieke onstabiliteit ten opsigte van plaaslike regering in die meerderheid metropole asook kleiner plaaslike regerings, waar koalisies onstabiel raak en besluitneming soms heeltemal disintegreer. Meningspeilings beklemtoon dat die patroon ook kan geld ten opsigte van die nasionale vlak en sekere provinsiale vlakke. Politieke herskikking beklemtoon die werklikheid van post-kantelpuntpolitiek en die gepaardgaande onsekerheid, wat in sekere opsigte as die begin van 'n nuwe bedeling beskryf kan word. 'n Agenda wat talle politieke kommentators en landsburgers tot kommer strek, is die moontlikheid van groter politieke samewerking tussen die ANC en die EFF indien eersgenoemde nie 'n volstrekte meerheid sou behaal nie. In Gauteng, onder die leiding van Panyaza Lesufi en Paul Mashatile, neem 'n patroon reeds vorm aan - inderdaad 'n kommerwekkende perspektief ten opsigte van politieke stabiliteit in Suid-Afrika.

4.4 Ekonomiese en finansiële volhoubaarheid

'n Kernfaktor vir stelselstabiliteit is die ekonomiese en finansiële volhoubaarheid van die stelsel. In hierdie opsig het Suid-Afrika met reuse-uitdagings te make, wat oor die afgelope dekade of langer selfs toegeneem het. 'n Skuldkrisis is voorspel deur Schüssler, Roodt, Heystek, die politieke ekonoom en historikus RW Johnson (reeds in 2015), en talle ander. Daar bestaan 'n onvermoë om die situasie te verbeter, ongeag die post-2017-Ramaphoria. Kenmerke van 'n verswakkende staat blyk duidelik en dra by tot pessimisme ten opsigte van die afwesige leierskap van Cyril Ramaphosa. Trouens, dit is uiters kommerwekkend dat die situasie besig is om verder te versleg, en Cyril Ramaphosa kom toenemend onder skoot van binne sy party en ook die groter politieke bestel. Terselfdertyd is internasionale investering besig om te kwyn.

EUNOMICS se hoof- uitvoerende beampte, Claude de Baissac, beklemtoon dat die baie swak ekonomiese groeipatroon (hy voorspel tussen 0,2% en 0,4% vir 2022), in samehang met die vlug van breinkrag en kapitale disinvestering die swakstaatverskynsel gaan versterk. Swak beleidstoepassing sal binne twee jaar 'n onhanteerbare en onafwendbare skuldkrisis veroorsaak (Daily Investor, 2022). Talle syfers beklemtoon hierdie verslegende situasie en enkele kernsake word kortliks beskou.

4.4.1 Ekonomiese groeivooruitsigte

Die goeie ekonomiese groei en ontwikkeling (kenmerkend van die Mandela- en Mbeki-tydperk), het in die Zuma-periode verlangsaam. Stagnasie en selfs negatiewe groei het die nuwe patroon geword. Werkskepping veronderstel 'n groeikoers van bykans 4%, maar in die baie onlangse mediumtermynbegroting is die groeikoers van 2,1% na 1,9% verlaag, met 'n vooruitsig van 1,6% oor die volgende 3 jaar (Horne, 2022:2). In sy monetêre beleidsoorsig van 2019 het die Reserwebank hom soos volg uitgespreek: "(The) potential growth has slumped to around 1% in the context of supply constraints (especially electricity shortages) and depressed business future" (SA Reserwebank, 2019:1).21 Bereken in reële terme per capita van die BBP was die syfer tydens 2013 R80 191, maar teen 2020 'n verminderde R71 912 (Rossouw, 2022:3). Inaggenome die inflasiekoers is die gemiddelde Suid-Afrikaner derhalwe besig om drasties armer te raak. Die World Economic Outlook (2022; soos aangehaal in Rossouw, 2022), identi-fiseer Suid-Afrika (naas Nigerië en Egipte) as slegs die derde grootste ekonomie op die Afrika-vasteland, hoewel Suid-Afrika dekades lank die grootste en mees gevorderde ekonomie op die vasteland was. Suid-Afrika se ekonomiese krisis word verder beklemtoon deurdat die sakesiklus sedert Desember 2013 in 'n daalfase verkeer (SA Reserwebank, 2022:163). Rossouw (2022:3) wys daarop dat hierdie die langste daalfase is sedert die Tweede Wêreldoorlog; langer as 8 jaar, terwyl die afwaartse fase van Maart 1989 tot Mei 1993 net sowat 55 maande geduur het.

4.4.2 Beperkte belastingbasis

In 'n studie deur Solidariteit se Navorsingsinstituut het Paul Joubert (2013) reeds in 2011/12 aangetoon dat 3,3 miljoen mense sowat 99,9% van persoonlike belasting betaal; 2,3 miljoen 93%, en slegs 1,5 miljoen sowat 84%. Bykans 'n dekade later, met 'n bevolking van nou meer as 60 miljoen, het die belastingbasis toenemend ontoereikend geraak. Steenkamp (2019:3) het in haar navorsing bevind dat die werklike getal belastingbetalers van sowat 5,99 miljoen in 2013/4 tot 4,89 miljoen in 2016/17 gedaal het - 'n vermindering van 18,2%! Verder het die gemiddelde jaarlikse belastinglas per belastingbetaler in dieselfde tydperk (2013/4-2016/7) toegeneem van gemiddeld R45 702 tot R65 601 (Steenkamp, 2019: 3). Die begroting vir 2022/3 toon aan dat van die 7,4 miljoen mense wat tans persoonlike belasting betaal, sowat 8% (608 000 belastingbetalers met 'n inkomste van meer as R750 000), 50,6% van alle persoonlike belasting betaal. Dit beloop sowat 20% van die totale inkomste van die fiskus (Rossouw, 2022:4). Die situasie het gevolglik nie verbeter nie en die risiko's is tans selfs groter as in die verlede. Hierdie aspek beklemtoon die uiterste kwesbaarheid van die Suid-Afrikaanse ekonomie vanweë 'n baie klein belastingsbasis en steeds groeiende eise ten opsigte van die staatskas.22

4.4.3 Die fiskale afgrond

Die afgelope aantal jare waarsku ekonome reeds oor die moontlikheid van 'n soewereine skuldkrisis (Parsons, 2020:1). 'n Fiskale afgrond word bereik wanneer staatsdiensvergoeding, maatskaplike toelaes en rente op staatskuld alle staatsinkomste oortref (Rossouw, 2022:4). In die 2007/8 fiskale jaar het bogenoemde kategorieë sowat 55% van regeringsinkomste beloop. Tydens die 2022/23 fiskale jaar sal die persentasie verhoog tot 74,4% (Rossouw, 2022:4). Dit is vanweë beperkte tot selfs negatiewe ekonomiese groei; salarisverhoging vir staatsamptenare dikwels bokant die inflasiedrempel; meer uitgebreide en verhoogde sosiale toelaes; die COVID-19-pandemie; die finansiële krisis van die meeste semi-staatsinstellings waaronder ESKOM; die ineenstorting van owerheidstrukture met gepaardgaande infrastrukturele uitdagings, en 'n verswakkende wêreld-ekonomie. Populistiese beleidsrigtings om ondersteuningsbasisse tevrede te hou, megaprojekte afhanklik van staatsbesteding en kapasiteit (makro sosio-manipulasie) is gedoem tot mislukking en bevorder 'n bose kringloop, met politieke onstabiliteit as uitkoms. Rossouw (2022:4) beklemtoon dat: "Die beplanning van 'n nasionale stelsel van gesondheids-versekering wat deur die fiskus befonds word, of oproepe vir groter, meer of meer omvattende inkomstetoelaes is dus misplaas." Die profetiese woorde van RW Johnson (2019:1), as hy verwys na: "South Africa's slow motion momentum towards a financial train crash has begun to speed up", blyk waar te wees teen hierdie agtergrond.

4.4.4 Vlug van kapitaal en deïndustrialisering

Die vlug van kapitaal beteken die uitvloei van kapitale en finansiële bates weens redes wat verband hou met politieke, ekonomiese en maatskaplike omstandighede soos aangedui. In die 18 maande tot en met einde 2017 het daar na berekening R350 miljard die land verlaat (Soobramoney, 2017:1), terwyl Heystek (soos aangehaal in Cameron, 2019) beklemtoon dat R500 miljard van die Johannesburgse effektebeurs Suid-Afrika sedert 2015 verlaat het. Redes hiervoor sluit in 'n negatiewe ideologie, beleidsomgewing en transformatiewe praktyke wat onder meer BBBEE-wetgewing insluit; die oorregulering van die ekonomie; verswakkende staat en infrastruktuur; veiligheidsrisiko's, groeiende misdaad en diensleweringsprobleme. Die onlangse hoë fases beurtkrag wat Suid-Afrika tydens 2022 en veral 2023 (tot op hede) geraak het, het bygedra tot 'n verdere vlug van kapitaal asook disinvestering. Standard & Poors asook Global, internasionale ekonomiese graderingsmaatskappye, het Suid-Afrika se status weer eens afwaarts aangepas gegewe die verslegtende beurtkrag-situasie (Du Plessis, 2023:1-4). Suid-Afrika se plasing op die gryslys as gevolg van onreëlmatighede soos geld-wassery en ondersteuning vir terroristegroepe is ook uiters negatief vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

'n Patroon wat hiermee saamhang is deïndustrialisering, wat verwys na die verwydering of vermindering van die industriële vermoë van 'n staat of selfs net 'n streek, met spesifieke verwysing na die industriële en die vervaardigingsektore (Turton, 2019; Strachan, 2017).23

4.4.5 Gevolgtrekking

Uit die voorafgaande blyk dit duidelik dat die ekonomiese stelsel en die finansiële stelsel wat daarop ingebed is, nie volhoubaar is nie, en dat wanfunksionaliteit ten grondslag lê van nie-volhoubaarheid; patrone van onstabiliteit word beklemtoon. Redes hiervoor is uiteenlopend en verbandhoudend met sake soos transformasie as 'n wanfunksionele rasgedrewe politieke ideologie; die afwesigheid van 'n politieke wil om werklike strukturele ekonomiese verande-ringe in te stel; oorregulering as gevolg van 'n te ingewikkelde beleidsomgewing; beperkte groei versus oordrewe en onrealistiese verwagtinge; die konteks van 'n verswakkende staat, swak dienslewering en 'n infrastruktuur wat besig is om te disintegreer. Soos die mislukking van makro-transformatiefgerigte planne soos die RDP, GEAR en ASGISA, wys Rossouw (2022:3) op ook die mislukking van die NOP. Van die gestelde ideale in die genoemde planne het weinig tereggekom, soos blyk uit die maatskaplike uitdagings waarmee die land tans worstel.

4.5 Sosiale en maatskaplike vraagstukke

Sosiale en maatskaplike toestande in die groter samelewing weerspieël dikwels die heersende politieke en ekonomiese omstandighede in die betrokke staat. Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Dit kan direk of indirek die stabiliteit van die politieke stelsel bedreig, soos byvoorbeeld die omstandighede wat tot die Arabiese Lente bygedra het, inderdaad beklemtoon. Die vernaamste kenmerke van die Suid-Afrikaanse samelewing sluit in hoë vlakke van sosiale onstabiliteit, misdaad en armoede; 'n toenemende kultuur van protes; identiteitskonflikte en gebrekkige sosiale samehorigheid - faktore wat inderdaad 'n uitwerking kan en sal hê op die stabiliteit/onstabiliteit van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. Enkele van hierdie aspekte word verder toegelig.

Sowat 13,8 miljoen uit die meer as 60 miljoen mense in Suid-Afrika lewe tans in armoede.24Wat veral kommerwekkend is, is dat armoede met sowat 13% toegeneem het in die jaartydperk Augustus 2021/2022. As gevolg van armoede raak burgers toenemend afhanklik van staatstoelaes. Sosiale toelaes het oor die afgelope twee dekades sodanig toegeneem dat sowat 18 miljoen mense teen 2019 toelaes ontvang het - bykans een derde van die totale bevolking (Statista, 2022:1-4). Die toename en afhanklikheid van die staat het toegeneem van 3,01 miljoen mense (7% van die bevolking in 1996/7) tot 18,29 miljoen (31% van die bevolking in 2019/20). Van die 18 miljoen was meer as 16 miljoen swart, 1,47 miljoen bruin, 213 000 Indiërs en 324 000 witmense (Statista, 2022:3). Sedert die COVID-19-pandemie is spesiale toelaes toegeken wat onlangs tot en met April 2024 verleng is, ongeag beperkte tot negatiewe ekonomiese groei en 'n staatskas wat toenemend in die moeilikheid raak.

Daar bestaan geen twyfel nie dat die stelsel van sosiale toelaes deur die regerende ANC gebruik word om patronaatskappe te vestig ten einde politieke mag te bekom en te behou. Die uitgebreide korrupsie waarby SASSA in die ondersoek van die Zondo-kommissie geïmpliseer word, bevestig hierdie aanname, asook die korrupsie waarby ANC-elites rakende stemkopery geïmpliseer word. In die onlangse staatsrede van die president is die voortsetting en uitbreiding van staatstoelaes beklemtoon, wat deur opposisiepartye beskou word as 'n poging om stemme vir die beplande 2024-verkiesing te koop - 'n verkiesing waarin meningspeilings daarop dui dat die ANC nie 'n volstrekte meerderheid gaan behaal nie.

Die sosiaal-maatskaplike situasie in Suid-Afrika is te gekompliseerd om hier volledig te beskryf. Daar is reeds na verskeie sosiaal-maatskaplike en sosiaal-ekonomiese aspekte verwys. Ter afsluiting van hierdie afdeling word enkele uitstaande syfers uitgelig wat die aard van onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing onderlê of beskryf:

1) Bykans 'n halfmiljoen mense is tussen 1994 en 2017 in Suid-Afrika vermoor. 58,4 mense word gemiddeld daagliks vermoor en 115,8 verkragtings vind gemiddeld in dieselfde tydperk plaas. Van die moorde vind sowat 40 per maand in die taxi-bedryf plaas (Cronje, 2017:58; Baxter, 2020). Hierdie oorhoofse syfers is hoër as dié in samelewings waar aktiewe burgeroorloë tans aan die gang is!

2) Geweld neem verskeie vorme aan, is dikwels eskalerend van aard, en sluit in xenofobie; taxi-geweld; kulturele en rasgebaseerde geweld; vigilantisme, en politieke sluipmoorde (Duvenhage, 2021:713-737).

3) Cronje (2017:39-61) beskryf die toedrag van sake as 'n "breakdown of South African family life". Van die 19 miljoen kinders in 2017 het 7,5 miljoen enkelouers gehad en 6,5 miljoen moes sonder enige ouers funksioneer!

4) Tot 80% van alle skole in Suid-Afrika word as wanfunksioneel beskou (Duvenhage, 2021A:154-156).

5) Tot 10% van al Suid-Afrika se inwoners word as immigrante sonder wettige dokumente gereken (Owusu-Sekyere, 2022:3).

6) Daar is sowat 13 miljoen mense in Suid-Afrika wat werkloos is en die getal neem drasties toe (Owusu-Sekyere, 2022:1-14).

7) Die ineenstorting van instellings soos ESKOM, TRANSNET, die Poskantoor en ander dienslewerende instellings (waaronder plaaslike regerings) verswak die lewensgehalte van die meeste burgers in Suid-Afrika.

4.5.1 Gevolgtrekking

Sosiale en maatskaplike toestande in Suid-Afrika is baie negatief vir stelselstabiliteit in die land en kan tesame met ekonomiese faktore tot patrone van politieke onstabiliteit bydra. Hierdie omgewing was 'n kernomgewing waarbinne kombinasies van faktore tot die kantelpunt bygedra het. Omstandighede soos geskets, dra nie by tot die konsolidasie van demokratiese bedelings en grondwetlike waardes soos (onder meer) in ons grondwet vervat is nie.

Daar word vlugtig na die huidige toenemende politieke onstabiliteit in die wêreld-politiek en die implikasies daarvan verwys met die oog op hierdie omgewingsverkenning.

4.6 'n Onstabiele Internasionale omgewing25

In 'n kleinerwordende wêreld, soms voorgestel as 'n global village, is Suid-Afrika nie gedistansieer van wat wêreldwyd gebeur nie. Die volgende is belangrik ten opsigte van stelselstabiliteit in Suid-Afrika:

1) Sedert die val van die Berlynse muur (1991) en veral sedert die begin van 'n eskalerende oorlog tussen Rusland en die Oekraïne in 2022 (wat kan lei tot 'n Derde Wereldoorlog), is internasionale verhoudinge baie onstabiel en risiko's het eksponensieel toegeneem. Die Suid-Afrikaanse (lees ANC-)regering skaar hom duidelik by Rusland, met verreikende implikasies vir ekonomiese investering, wat noodsaaklik is vir broodnodige ekonomiese groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Suid-Afrika se grootste handelsvennote en bron van finansiële ondersteuning is juis die Weste, en die VSA oorweeg reeds optrede teen Suid-Afrika. (Suid-Afrika se onlangse militêre oefening saam met China en Rusland naby Richardsbaai is uiters negatief deur die Weste ontvang.)

2) Die huidige konflik tussen Israel en Hamas het nie net die potensiaal om die Midde-Ooste te destabiliseer nie, maar ook ander dele van die wêreld. Benewens die gekompliseerdheid van die situasie vir Suid-Afrika internasionaal, is dit ook besig om Suid-Afrika intern te verdeel met die potensiaal vir onstabiliteit soos die optog na die Joodse ambassade in Suid-Afrika onlangs bewys het.

3) Suid-Afrika is onlangs op die sogenaamde gryslys geplaas vanweë die voorkoms van geldwassery en betrokkenheid by, en/of ondersteuning van terreurorganisasies (Burger, 2023:1-3). Dit strem ekonomiese investering in Suid-Afrika en beperk of reguleer strenger toegang tot die internasionale finansiële wêreld. Dit is baie nadelig vir 'n reeds verswakte Suid-Afrikaanse ekonomie wat dringend ekonomiese groei benodig om maatskaplike vraagstukke, waaronder werkloosheid en armoede, doelmatig te kan aanpak;

4) Internasionaal word Suid-Afrika beskou as ooreenstemmend met state wat 'n swak menseregterekord het, waaronder Rusland, China, Iran, Noord-Korea en Kuba. Vermoedelike betrokkenheid by terreurorganisasies benadeel Suid-Afrika internasionaal, daarom is Suid-Afrika op die sogenaamde gryslys geplaas;

5) Toestande in die Suider-Afrikaanse subkontinent is ook nie bydraend tot stabiliteit ten opsigte van die Suid-Afrikaanse staatkundige en politieke bestel nie. Die ineenstorting van Zimbabwe se ekonomie en die instroming van Zimbabwiërs na Suid-Afrika; die ISIS-bedreiging;26 kriminele sindikate wat in Suider-Afrika werk-saam is (veral in Mosambiek en Eswatini), asook die groot getal onwettige immigrante wat na Suid-Afrika stroom, beklemtoon die vlakke van potensiële onstabiliteit. Vreemdelingehaat (xenofobie) kom algemeen voor en beraamde syfers oor die getal onwettige immigrante is reeds genoem.

4.6.1 Gevolgtrekking

Hierdie lys faktore kan verder uitgebrei word. Dit is 'n feit dat kombinasies van faktore die internasionale omgewing destabiliseer en argumentering is gegrond dat die internasionale orde tans meer onstabiel is as ooit sedert die Koue Oorlogfase, wat in 1991 met die val van die Sowjet Unie geëindig het. Met 'n gekompliseerde en vae buitelandse beleid, politieke en diplomatieke bande met van die uitgeworpe state van die wêreld, asook pragmatisme en opportunisme in die toepassing van buitelandse beleidsrigtings, kan verkeerde keuses Suid-Afrika baie duur te staan kom. Die reeds gekompliseerde binnelandse situasie kan verder gekompliseer word, en reeds bestaande patrone van politieke onstabiliteit vererger. Dit is nietemin ook my oortuiging dat die korrekte strategiese plasing van Suid-Afrika binne hierdie veranderende omgewing (rakende sake soos voedselsekerheid en die voorsiening van minerale) tot ekonomiese groei en voorspoed kan lei.

Gegewe die huidige omstandighede in die Suid-Afrikaanse politiek, ekonomie en samelewing wat ontleed is, klink die wekroep (soos in die laat tagtigerjare met die grondwetlike krisis van daardie tyd) weer eens op. Daar is 'n noodsaak vir radikale hervorming en vernuwing van die bestaande politieke bestel - die raamwerk wat die spelreëls moet bepaal.

 

5. Evaluasie en gevolgtrekkings

'n Breë politieke omgewingsverkenning met die beklemtoning van kernfaktore, patrone en tendense, beklemtoon dat die huidige vlakke van onstabiliteit op die kort termyn kan verhoog. Skematies kan die toedrag van sake voorgestel en gemotiveer word soos reeds aangedui in die Figuur in Afdeling 4 hier bo.

In 'n omgewing van politieke onstabiliteit word die gedrag van rolspelers (meestal polities of in ander opsigte verpolitiseer) moeiliker voorspelbaar; ongeskrewe spelreëls van die groter samelewing word nie konsekwent gehandhaaf nie; reëltoepassing is dikwels inkonsekwent en in bepaalde omstandighede soms heeltemal afwesig; gemobiliseerde ekonomiese verwagtinge word nie verwesenlik nie, wat lei tot konflik en selfs geweld; maatskaplike uitdagings neem toe en demonstreer die onvermoë van die staat om laasgenoemde suksesvol aan te pak.

Toenemende patrone van onstabiliteit lei tot die verval van wet en orde teen die agtergrond van wat telkens as 'n verswakkende staat in die studie voorgehou is. Waar staatstrukture wanfunksioneel raak (selfs verval), vind stelseluitwyking plaas en strukture kom tot stand wat naas die staat kernfunksies van instellings begin oorneem. Hierdie beskrywing pas die huidige situasie in Suid-Afrika, met stelseluitwyking wat voorkom rakende die handhawing van wet en orde ('n kernfunksie van die staat); dienslewering op talle vlakke; onderwys; gesondheid; selfs die voorsiening van water en elektrisiteit. Die uittredende Hoof- Uitvoerende Beampte van ESKOM, André De Ruyter, se ontleding van wat tans binne die organisasie aan die gang is, beklemtoon bogenoemde toedrag van sake. Dieselfde ontleding (moontlik kontekstueel verskillend) is ook van toepassing op TRANSNET, die SABC, Poskantoor en Landbank. Die situasie van formele staatstrukture, byvoorbeeld die toestand van plaaslike regering (en wanfunksionaliteite op ander vlakke van die staat), het onmiskenbaar deel van ons staatkundige werklikheid geword; 'n werklikheid wat gedy in 'n omgewing van endemiese korrupsie, oftewel staatskaping.

Faktore (soms deurslaggewend) binne die geïdentifiseerde post-kantelpunt-omgewing (polities, ekonomies, maatskaplik en in sekere opsigte internasionaal) beklemtoon dat die huidige politieke stelsel moeilik volhoubaar gaan wees - selfs op die korter termyn. Dramatiese fundamentele hervorming (polities, ekonomies en maatskaplik) is dringend nodig indien die ideale verbonde aan 'n demokratiese bestel (onder meer soos in die 1996-Grondwet vervat) gehandhaaf en verwesenlik wil word. Die problematiek in Suid-Afrika handel oor meer as die president en die ANC-regering of selfs die groter owerheidsbestel. Dit spreek tot die hart van die Suid-Afrikaanse staat en antwoorde sal op hierdie makrovlak gesoek moet word. Die waarskuwing van RW Johnson (2015:238) is duidelik: "What is now clear, just 20 odd years later and beyond reasonable doubt, is that 'liberation' has failed, that the regime it has produced is quite incapable of governing South Africa as a free, democratic and functioning country."

Nou, bykans 10 jaar later, bevestig hierdie omgewingsverkenning die geldigheid van die stelling, soos ook beklemtoon deur ander ontleders na wie verwys is.

Die kernbevindings van hierdie oorsigtelike politieke verkenning, met verreikende implikasies op die korter termyn, kan soos volg saamgevat word:

1) Die grootste enkele, oorkoepelende probleem is tans die verval van die staatkundige bedeling (staat as staat; meer as net owerheid of regering), met verreikende implikasies vir orde, stabiliteit en sekuriteit op korter en langer termyne;

2) Die eskalerende regeerkundige en bestuurskrisis binne die ANC (ook ANC in regering en verteenwoordig binne owerheidsinstellings), die verlies aan mag en gesag (legitieme mag), en versnelde patrone van politieke onstabiliteit op die korter termyn;

3) Herskikking van die politieke spektrum (soos bewys in die 2021- plaaslike verkiesing). wat die ANC nasionaal sonder 'n volstrekte meerderheid kan laat; provinsies onder beheer van opposisiepartye (koalisies) kan plaas, en die belang van politieke kaders binne owerheidstrukture kan bedreig. Dit is potensieel 'n baie onstabiele situasie, veral indien maghebbers (regering en owerheid) nie van mag (vergelyk Zimbabwe) sal wil afstand doen nie;

4) Koalisiepolitiek, 'n groot waarskynlikheid, veronderstel nuwe spelreëls wat die Suid-Afrikaanse politiek nog nie bemeester het nie. Dit sal in 'n omgewing waar wet en orde in duie stort en reëltoepassing soms afwesig of selektief is, tot onstabiliteit bydra (soos tans in Tshwane en Ekurhuleni);

5) Gebrekkige ekonomiese groei en negatiewe finansiële vooruitsigte belemmer die uitvoer en toepassing van ekstreme populistiese beleidsrigtings soos deur die regerende ANC aanvaar. Gemobiliseerde verwagtinge (waaraan nie voldoen word nie - veral beloftes in die aanloop tot verkiesings), indien onuitgevoer, sal onteenseglik tot konflik, geweld en onstabiliteit lei;

6) Die bedryf van rasgebaseerde politiek deur radikale groeperinge (ANC, EFF en andere), sal gebrekkige sosiale samehangendheid bevorder wat tot konflik en geweld kan lei;

7) Die regering en owerheidsinstellings se onvermoë om maatskaplike vraagstukke (armoede, ongelykheid, werkloosheid), asook dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en instandhouding van infrastruktuur te verseker, sal 'n kultuur van konflik en geweld (reeds endemies) verder bevorder;

8) Die voortgesette verswakking van die staat bevorder die totstandkoming van nuwe rolspelers met eiesoortige magsbasisse wat in konflik met die staat (lees grondwet en ander wetgewing), eie waardes en skaars middele selektief toewys. Indien hierdie magsbasisse militariseer, soos telkens voorkom deur gebruikmaking van gewapende geweld deur onder meer georganiseerde misdaadsindikate, word 'n omgewing geskep waar krygshere aktief kan funksioneer. Dit is in direkte botsing met die soewereiniteits-beginsel van die staat en kom deesdae meer gereeld voor;

9) Die inploffing van die strafregstelsel, die platval van die Zondo-kommissie (soos die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapenskandaal), en gebrekkige politieke wil en afwesige politieke leierskap in 'n omgewing van endemiese en eskalerende korrupsie en misdaad (staatskaping), waarby veral die ANC en regerende elites geïm-pliseer word, word op die korter termyn verwag;

10) Die ontwikkeling van parallelle strukture om veral sosiale sekuriteit te verseker, waaronder veiligheid, gesondheid, onderwys, dienslewering en infrastrukturele ontwikkeling, gaan vorentoe nog meer prominent word. Vorme van 'n hibriede, selfs parallelle staat kan oor die langer termyn ontwikkel. Dit hang saam met "privatisering" as skuiwergat, namate die staatskrisis en 'n onvermoë om sy mandaat uit te voer, toeneem;

11) Die groter polities-ekonomiese bedeling gaan nie finansieel volhoubaar wees nie, vanweë finansiële bronne wat uitgeput en misbruik is. Toegang tot internasionale finansiering (vanweë veral ideologiese en regeerkundige/bestuurswerklikhede), sal onmoontlik raak;

12) Aansluitend by die voorafgaande kan verkeerde internasionale politieke keuses Suid-Afrika polities en ekonomies isoleer en disinvestering tot gevolg hê, met verdere implikasies vir die vermoë om maatskaplike vraagstukke soos armoedeverligting en werkskepping daadwerklik te kan aanpak.

Suid-Afrika sal, in ooreenstemming met die ontleding van die geïdentifiseerde kriteria en die implikasies daarvan (soos geïnterpreteer), op die korter en waarskynlik ook die medium en langer termyne meer onstabiel raak in 'n omgewing waar politieke wil en strategiese leierskap grootliks afwesig is.

In wese sal toekomsstrategieë gerig moet wees op die heropbou van die Suid-Afrikaanse staat, die strukture wat dit veronderstel, die normatief-etiese regeerkundige grondslae waarvolgens 'n staat bestuur moet word, en bowenal die herstel van orde, reëlmaat en struktuur (politieke stabiliteit). Talle leiers en belangegroepe het hulle reeds uitgespreek ten gunste van 'n nuwe nasionale gesprek of KODESA ten einde die uitdagings daadwerklik aan te pak. Selfs 'n opvolgskikking word 'n moontlikheid binne hierdie omstandighede. Sonder laasgenoemde kan Suid-Afrika in die toekoms ontwikkel as nog 'n voorbeeld van 'n mislukte demokrasie op die Afrika-vasteland. Fundamentele hervorming ten opsigte van die staat (veral die werking van die staat), die ekonomie en die groter samelewing is dringend nodig. Hiervoor word leierskap benodig, waarna soms verwys word as transformatiewe leierskap, wat tans grootliks ontbreek binne die regerende ANC.

Die verkiesing geskeduleer vir 2024 mag 'n waterskeidingsmoment vir die ANC wees. Meningspeilings dui daarop dat die ANC moontlik hul volstrekte meerderheid kwyt kan wees. Koalisiepolitiek wat baie wankelrig vertoon, dui op 'n vooruitsig van eskalerende patrone van politieke onstabiliteit. Hierdie faktor, tesame met ander faktore (determinante) uit die ekonomiese en maatskaplike omgewing, beklemtoon die werklikheid van eskalerende politieke onstabiliteit op die korter en selfs medium termyn met, soos in die periode ná 1976, 'n wekroep vir drastiese en fundamentele verandering.

 

BIBLIOGRAFIE

Afriforum. 2023. Meer as 95% van alle plaasaanvalle en -moordinsidente steeds onopgelos. https://afriforum.co.za/meer-as-95-van-alle-plaasaanvalle-en-moordinsidente_steeds-onopgelos/ (24 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Ake, C. 1975. A definition of political stability. Comparative Politics, 7(2):271-283.         [ Links ]

ANC. 2017. ANC National Policy Conference: Strategy and tactics of the African National Congress. Discussion document, 2017. https://www.sahistory.org.za/archive/2017-ANC-national-policy-conference-strategy-and-tactics-of-the-african-national-congress-discussion-document (26 Januarie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Anon. 2019a. South Africa is one of the least safe countries in the world. 24 November. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of- (15 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

_____________________. 2019b. Tax. Businesstech. 24 December. Businesstech.co.za (13 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Balthazar. 2022. South Africa may soon join Hungary, Poland and India as a failed constitutional experiment. https://www.dailymaverick.co.za/opionista/2022-11-27-south-africa-may-soon-join-hungary-poland-and-india-as-a-failed-constitutional-experiment (27 November 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Bapela, K. 2023.Candidates contesting municipal elections. https://www.gov.za/speeches/candidates-contesting-municipal-elections (12 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Baxter, J. 2020. Latest crime statistics for South Africa - increases in murder rate. SA People News, 31 Julie. https://www.sapeople.com/eish-south-african-stuff/latest-crime-statistics-for-south-africa-increase-in-murder-rate/ (5 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Bloomberg. 2020. Advisory group puts a date to South Africa's collapse. Businesstech, 10 September. https://businesstech.co.za/news/business/432504/advisory-group-puts-a-date-to-south-africas-collapse/ (20 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Bogdanor, V. 1986. Representatives of the people? Parliamentarians and constituents in Western democracies. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Boonzaaier, D. 2022. ANC val onder 40%. Rapport. 14 Augustus:1        [ Links ]

Booysen, S. 2015. Causes and impact of party alliances and coalitions on the party system and national cohesion in South Africa. African Studies, 13(1):66-93.         [ Links ]

Booysen, S. 2021 Disunited we stand: Coalition politics in South Africa is jinxed when politicians behave badly in pursuit of power. Daily Maverick, 7 Julie. https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2021-07-07-disunited-we-stand-coalition-politics-in-south-africa-is-jinxed-when-politicians-behave-badly-in-pursuit-of-power/ (7 Julie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Bratton, M & Van der Walle, N. 1997. Democratic experiments in Africa: Regime transitions in comparative perspective. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Burger, P. 2023. South Africa has been grey listed for not stopping money laundering and terrorism funding. What it means. https://theconversation.com/south-africa-has-been-grey-listed-for-not-stopping-money-laundering-and-terrorism-funding-what-it-means (7 Maart 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Businesstech. 2021. Around 23 000 tax residents leave South Africa each year and government to tighten the numbers. 5 March 2021. Businesstech.co.za.         [ Links ]

Businesstech. 2022. Poll data reveals ANC could get 50% in next elections. Businesstech 28 Augustus 2022.         [ Links ]

Businesstech. 2023. GDP shock for South Africa as load shedding crushes the economy. https://businesstech.co.za/news/finance/670947/gdp-shock-for-south-africa-as-load-shedding-crushes-the-economy (14 Maart 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Buys, F. 2020. "Revolusie" van rykes. 22 Oktober 2020. MaroelaMedia.co.za.         [ Links ]

Cameron, J. 2020A. Magnus Heystek: Horrific chart with nowhere for the JSE to hide. BIZNews. 27 Desember 2020. https://www.biznews.com/wealth-advisors/2020/12/27/magnus-heystek-horrific-jse-chart (22 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Cameron, J. 2020. Flash briefing: SA heads for financial crisis; Denel. Land Bank needs funds, gold mines, COVID19. Biznews.com/entrepreneur/2020/10/11_financial_crises (12 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

CEIC-Data. 2020. South African Debt: % of GDP. Quarterly CEIC-Data: September 2020. https://www.ceicdata.com/en/indicator/south-africa-debt-of-nominal-gdp (8 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Center for Civic Education. 2022. Constitutional Democracy: Essential elements.https://civiced.org/        [ Links ]

Chikane, F. 2021. It is past time for South Africans to join ranks to remove corrupt leaders. City Press. https://www.news24.com/citypres/voices/frank-chicane-it-is-past-time-for-south-africans-to-remove-corrupt-leadership (28 Junie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Chipkin, I & Swilling, M. 2018. Shadow State: The politics of state capture. Johannnesburg: Wits University, 176pp.         [ Links ]

COGTA. 2019. Presentation about the status of Municipalities in the Northwest Province - MEC Rosho: 13 May 2019. Unpublished.         [ Links ]

Comins, l. 2023. SAPS bungle farm cases as much as other investigations. https://mg.co.za/thoughtleader/analysis/2023-09-18-saps-bungle-cases-as-much-as-other-investigations/ (geraadpleeg 24 Oktober 2023).         [ Links ]

Corruption Watch. 2020. South Africa's COVID-19 has exposed greed and spurred long needed action against corruption. Corruption Watch, 4 September 2020 (8 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Cotterill, J. 2021. South Africa counts the cost of its worst unrest since apartheid.https://www.ft.com/content/1b0badcd-2f81-42c8-ae09-796475540cc.         [ Links ]

Cronjé, F. 2017. A traveller's guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Curlewis, L. 2022. The South African Criminal Justice System: Under Siege. Pretoria: Referaat gelewer te Universiteit van Pretoria ter afskeid van Prof Koos Malan op 19 Augustus 2022.         [ Links ]

Dahl, RA. 1971. Polyarchy: participation and opposition. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

Daily Investor, 2022. South Africa on the verge of collapse - economist. https://dailyinvestor.com/south-africa/5825/south-africa-on-the-verge-of-collapse-economist/.         [ Links ]

Daily Investor, 2023. South African social unrest warning. https://dailyinvestor.com/business/16321/south-african-social-unrest-warning/ (27 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Democratic Alliance, 2023. Track the consequences of Zondo's State Capture reports. https://www.da.org.za/statecaptureconsequences (17 Januarie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

De Wet, P. 2016. SA Justice System is battling. https://mg.co.za/article/2016-09-16-00-sas-justice-system-is-battling/ (4/03/2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Duane, EC. 2017. Corruption and state capture under two regimes in Guyana (PDF). Research Gate. University of the West Indies (23 Mei 2017 geraadpleeg).         [ Links ]

Du Plessis, M. 2023. Investors flooding out of South Africa https://dailyinvestor.com/investing/35007/investors-flooding-out-of-south-africa/ (15 Maart 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Duvenhage, A. 2007. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: 'n Strategiese ontleding en scenario-analise. NWU (Potchefstroom): Professorale intreerede.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2020. Suid-Afrika by 'n kantelpunt: 'n slegte-saak scenario? Litnet-Akademies https://www.litnet.co.za/suid-afrika-by-n-kantelpunt-n-slegte-saak-scenario/ (14 September 2020 ontsluit).         [ Links ]

Duvenhage, A. 2020A. Suid-Afrika in 'n smeltkroes van verandering: eietydse en toekomsperspektiewe. Tydskrif vir Christelike Wetenskap 2020 (vierde kwartaal); 137-162.         [ Links ]

Duvenhage, A. 2021. Politieke transformasie in Suid-Afrika: Implikasies vir die staat,die ekonomie en samelewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 61(3):713-737.         [ Links ]

Easton, D. 1965. A systems analysis of political life. New York: John Wiley& Sons.         [ Links ]

Eloff, T. 2022. Die ANC kan in sy huidige vorm verdwynhttps://www.afrikanerbond.co.za/die-anc-kan-in-sy-huidige-vorm-verdwyn---mei-2022 (26 September 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Erasmus, D & Hlangu, L. 2021. Phoenix massacre: What really happened in the deadly collision of brutalized communities. https://www-daily-maverick.co.za/article/2021-07-28-phoenix-massacre-what-really-happened-in-the-deeadly-collision-of-brutalized-communities. (26 September 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Eunomix. 2020. South Africa heading towards a failed state https://www.bloomberg.com/news/articles/2020-09-10/south-africa-heading-toward-becoming-a-failed-state-group-says#xj4y7vzkg (10 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Geldenhuys, D. 1999. Staatsverval. Politeia, 18(2):37-56.         [ Links ]

Heywood, A. 2002. Politics (second edition). New York: Palgrave Foundations.         [ Links ]

Giliomee, H & Schlemmer, L.1994. Can a SouthAfrican democracy become consolidated? In Giliomee, H & Schlemmer, L. Eds. The Bold experiment. Cape Town: Southern Books, p. 202.         [ Links ]

Gladwell, M. 2000. The tipping point: How little things can make a big difference. New York: Little Brown.         [ Links ]

Global Initiative. 2022. Strategic organized crime risk assessment South Africa. Global Initiative against transitional crime. September 2022. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://globalinitiative.net/wp-content/uploads/2022/09/GI-TOC-Strategic-Organized-Crime-Risk-Assessment-South-Africa.pdf (6 November 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Global Peace Index. 2018. SouthAfrica is one of the least safe countries in the world. https://businesstech.co.za/news/lifestyle/355519/south-africa-is-one-of-the-least-safe-countries-in-the-world/ (16 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Greffrath, WN. 2015. State dysfunction: The concept and its application to South Africa. Potchefstroom. PhD thesis: NWU.         [ Links ]

Grondwet. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 108 van 1996. https://www.gov.za/sites/default/files/images/a108-96.pdf. (15 Julie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Grootes, S. 2020. After meeting KZN veterans, Ace Magashule responds to Fikile Mbalula. Daily Maverick. https://www.dailymaverick.co.za/article/2020-10-13-after-meeting-kzn-veterans-ace-magashule-responds-to-fikile-mbalula-sort-of/ (13 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Grootes, S. 2021. All together now: the re-emergence of Thabo Mbeki adds a new dimension to the ANC's internal war. Daily Maverick. https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-06-28-all-together-now-the-re-emergence-of-thabo-mbeki-adds-a-new-dimension-to-the-ancs-internal-war/ (29 Junie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Gumede, W. 2021. We are going down, the Mexican way. Sunday Times. 21 Februarie 2021:24.         [ Links ]

Gumede, W. 2021A, Mirror, mirror on the wall, who is the real leader of us all? Sunday Times Opinion & Analysis. 17 Maart 2021.         [ Links ]

Haffajee, F. 2022. Road to 2024 elections: ANC collapse as South Africa's majority party is foretold in new pole. Daily Maverick: 14 Augustus 2022.         [ Links ]

Haffajee, F. 2022A. If a general election were held tomorrow and turnout was good the ANC would clear 50%. https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-09-01-if-a-general-election-were-held-tomorrow-and-turnout-was-good-the-anc-would-clear-50-inclusive-society-institute/ (9 September 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Haffajee, F. 2022B. South Africa's organized crime climbs to Italy's level, racing past Mexico, Somali and Libya. https://dailymaverick.co.za/article/2022-09-21-south-africas-organised-crime-climbs-to-italys-levels-racing-past-mexico-somalia-and-libya/ (2 November 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Hanlon, J. 2020. "Southern Africa: Mozambique Asks EU for military Help". https://allafrica.com/stories/202009290483.html.allAfrica.com.         [ Links ]

Harding, A. 2021. South Africa riots: The inside story of Durban's week of anarchy.https://www.bbc.com/news/world-africa-57996373 (4 April 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Heystek, M. 2019. RSA titanic is in groot k#k - don't let those patriotic swimsuits fool you. Biznews. com. 24 Desember.         [ Links ]

Heywood, A. 2002. Politics (second edition). New York: Palgrave Foundations. https://www.iol.co.za/business-report/capital-outflow-r350billion (18 Februarie 2020 geraadpleeg). https://www.politicsweb.co.za/opinion/who-can-lead-us-to-the-promised-land (29/03/2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Heywood, A. 2002. Politics (second edition). New York: Palgrave Foundations.         [ Links ]

Horne, W. 2022. Staal jou wys begroting: "Moeilike tye kom". Beeld. 27 Oktober 2022 p. 2.         [ Links ]

Huntington, SP. 1968. Political order in changing societies. London: Yale University Press.         [ Links ]

Huntington, SP. The third wave: democratization in the late 20th century. Oklahoma: University of Oklahoma Press.         [ Links ]

Jackson, R. 1993. Quasi-States: Sovereignty, International relations and the Third World. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Jacobs, S. 2023. Social unrest risk from high interest rates. https://dailyinvestor.com/south-africa/21853/social-unrest-risk-from-high-interest-rates/ (26 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Jonas, S. 2021. ANC's hegemony is over: a new era has begun. CentreforRiskAnalysis. Johannesburg. CRA-SA.com.         [ Links ]

Johnson, RW. 2015. How long will South Africa survive? - the looming crisis. Cape Town: Jonathan Ball.         [ Links ]

Johnson, RW. 2019. Our coming train crash. Politicsweb. 1 Augustus (20 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Johnson, RW. 2020a. Ineenstorting wag op ANC. Rapport Weekliks. 27September 2020:7.         [ Links ]

Johnson, RW. 2020b. How the end will come(ii). https://www.politicsweb.co.za/opinion/how-the-end-will-come-ii (29/03/21 geraadpleeg).         [ Links ]

Johnson, RW. 2020c. Who can lead us to the promised land?        [ Links ]

Johnson, RW. 2021. Ramaphosa's losing strategy. 6 March2021. Politicsweb https://www.politicsweb.co.za/opinion/ramaphosas-losing-strategy (8 Maart2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Johnson, RW. 2021d. Face up to ANC failure https://www.politicsweb.co.za/opinion/face-up-to-anc-failure (29/03/21 geraadpleeg).         [ Links ]

Jordaan, J. 2021. Is die skrif aan die muur? Beeld: 13 Desember 2021:p.12.         [ Links ]

Kadima, D. 2006. The study of party coalitions in Africa: Importance, scope, theory and research methodology In D. Kadema [ed.]. The Politics of Party Coalitions in Africa. Johannesburg: Konrad Adenhauer Stiftung and EISA.         [ Links ]

Kekana, M. 2019. Financial state of municipalities has worsened - Auditor General. Mail and Guardian. 26 Junie. https://mg.co.za/article/2019-06-26-financial-state-of-municipalities (19 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Kinnaird, BA. The Criminal Justice System is broken and can't be fixed. https://www.psycology.com/za/blog/the-hero-in-you/2001812/the-criminal-justice-system-is-broken-and-can't-be-fixed (4 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Ledger, J & Rampedi, M. 2019. Mind the gap: section 139 interventions in theory and practice. https://pan.org.za.mind-the-gap-in-theory-and-practice (15 Julie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Logan, C & Nkomo, S. 2021. South Africa's turmoil is about more than Jacob Zuma. https://www.afrobarometer.org/articles/south-africas-turnoil-about-more-than-jacob-zuma (31 Maart 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Malala, J. 2021. Justice Malala: Actually South Africa has a KZN problem. https://www.businesslive.co.za/fm/opinion/home-and-abroad/2021-07-29-justice-malala-actually-sa-has-a-kzn-problem/ (26 September 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Malan, K. 2019. There is no Supreme Constitution - a critique of Statist-individualist Constitutionalism. Pretoria: African Sun Press.         [ Links ]

Malan, K. 2023. "Suid-Afrika" se bewindsveranderings - vervangende regerings in 'n ontbindende orde. https://www.litnet.co.za/suid-afrika-se-bewindsveranderings-vervangende-regerings-in-n-ontbindende-orde/ (24 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Mashanini. G. 2021. Headperson Glen Mashanini: Final results of the municipal elections. https://gov.za/speeches/glen-mashanini-final-results-municipal-elections. (4/5/2022 gelees).         [ Links ]

Mazrui, A. 1995. The blood of experience: the failed state and political collapse in Africa. World Policy Journal: 12(1):28-34.         [ Links ]

Merten, M. 2019. State Capture wipes out third of SA's R4,9 trillion GDP - never mind lost trust, confidence, opportunity. 1 Maart 2019. https://www.dailymaverick.co.za/article/2019-03-01-state-capture-wipes-out-third-of-sas-r4-9-trillion-gdp-never-mind-lost-trust-confidence-opportunity/ (18 Maart 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Migdal, JS. 1988. Strong societies and weak states: State-society relations and state capabilities in the third world. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Mills, G & Harley, SR. 2023. Fresh poll shows ANC dropping to 41% and a path to victory for Multi-Party Charter. https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-10-22-fresh-poll-shows-anc-dropping-to-41-and-a-path-to-victory-for-multi-party-charter/ (24 Oktober 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Mokgoro, J. 2018. North West Provincial Overview on section 139 (ii) intervention. PEC discussion. 22 Augustus 2018:1-3.         [ Links ]

Mothibi, KA, Roelofse, CJ & Maluleke, AH. 2015. Organized crime in South Africa since transition to democracy. Sociology and Anthropology, 3(12):1-8.         [ Links ]

Mwareya, R. 2022. South Africa: Shock poll shows ANC heading towards 2024 coalition. The Africa report: 26 Augustus 2022. areport.com.         [ Links ]

Myburg, PL. 2019. Gangster state - Unravelling Ace Magashule's web of capture. Kaapstad: Penguin.         [ Links ]

Nathan, A. China at a tipping point? Foreseeing the unforseeable. Journal of Democracy, 24(1):20-25.         [ Links ]

Nelson, C. 2014. Die Suid-Afrikaanse regstaat na twintig jaar: gekonsolideer of besig om in outoritorisme te verval? LITNET-Akademies 11(3):628-665.         [ Links ]

Omarjee, H & Maeko, T. 2021. ANC chokes on R200m debt and disorder of polls. https://www.businesslive.co.za/bd/politics/2021-09-01-anc-chokes-on-r200m-debt-and-disorder-ahead-of-polls/ (31 Maart 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Owusu-Seyere, E. 2022. Undocumented migrants-The myths, realities,and what we know and don't know. https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-03-23-undocumented-migrants-the-myths-realities-and-what-we-know-and-dont-know/ (18 April 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Parsons, R. 2020. Note of comment - immediate press release. NWU Besigheidskool (Potchefstroom).         [ Links ]

Pauw, J. 2017. The President's Keeper - those keeping Zuma in power and out of prison. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

PWC, 2023. South Africa Economic outlook. June 2023. https://www.pwc.co.za/en/press-room/south-africa-outlook-june-2023.html. (29 Julie 2023 geraadpleeg).         [ Links ]

Romano, S. 1947. The legal order. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

Rossouw, J. 2022. Besprekingsdokument: Kwelpunte in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Bondsraad van die AB: 16 September 2022.         [ Links ]

Rotberg, R. 2002. The new state of nation-state failure. The Washington Quarterly, 25(3):85-96.         [ Links ]

Rustow, DA. 1970. Transitions to democracy-toward a dynamic mode. Comparative Politics, 2(April):337-373.         [ Links ]

SA Reserwebank. 2019. Monetary Policy Review. October 2019:1. SA Reserwebank. 2022. Quarterly Bulletin. Maart 2022:5-163.         [ Links ]

Sartori, G. 1976. Parties and party systems -a framework for analysis. New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Schüssler, M. 2020. Staat op snelweg na mislukking. Netwerk 24. 21 September 2022.         [ Links ]

SouthAfrican Business Confidence. 2020. SouthAfrican business confidence -1975-2020-data/2021- 2022 forecast. https://tradingeconomics.com/south_african_business_confidence (10 Oktober 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Southall, R. 2022. The end is nigh for ANC - former South African president predicts. https://www.theelephant.info/op-eds/2022/05/06/the-end-is-nigh-for-anc-former-south-african-president-predicts/ ( 6 Mei 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Statista. 2022. Social grant recipients in South Africa 2019, by population group. https://www.statista.com/statistics/1116080/population-receiving-social-grants-in-south-africa-by-population-group/ (2 November 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Steenkamp, L. 2019. South African taxpayers will bear the brunt of National Health Insurance. The Conversation. 29 Augustus. https://theconversation.com/south-african-taxpayers-will-bear-the-brunt-of-national-health-insurance-122409 (17 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Stern, K. 1984. Das Staatsrecht der Bundesrepublik Deutschland. München. ISBN 3-406-09372-.         [ Links ]

Strachan, G. 2021. South Africa continues on the path of deindustrialization. Engineering News 5 October. https://www.engineeringnews.co.za/article/south-africa-continues-on-path-of-deindustrialisation-2017-10-05 (19 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Strategy and tactics. 2012. Strategy and tactics of the ANC. https://www.sahistory.org.za/sites/default/files/strategy_and_tactics_of_the_ANC_by_ANC_December_2012_and_53rd.conference.pdf (15 Julie 2021 geraadpleeg).         [ Links ]

Strydom, N. 2023. Siviele eise teen polisie méér as sy hele begroting https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/siviele-eise-teen-polisie-meer-as-sy-hele-begroting/ (24 Oktober 2024 geraadpleeg).         [ Links ]

Turton, A. 2019. Going backwards -the deindustrialization of the South African economy (oorspronklike bron en gesprek is in besit van die skrywer).         [ Links ]

Versluis, JM & De Lange, J. 2019. How law enforcement in SA has all but collapsed. News24, 21 Oktober. 21/102019. https://www.news24.com/citypress/news/rising-crime-low-prosecution-rates-how-law-enforcement-in-sa-has-all-but-collapsed-20191021 (20 Februarie 2020 geraadpleeg).         [ Links ]

Vhumbunu, CH. 2021. The July 2021 Protests and socio-political unrest in South Africa. https://www.accord.org.za/conflict-trends/the-july-2021-protests-and-socio-political-unrest-in-south-africa/ (12 September 2022 geraadpleeg).         [ Links ]

Von Holdt, K. 2013. South Africa: the transition to violent democracy. Review of African Political Economy, pp. 589-604.         [ Links ]

Weber, M. 1964. The theory of social and economic organization. New York. Free Press.         [ Links ]

Zartman, W. (ed). 1995. Collapsed states: the disintegration and restoration of legitimate authority. Boulder: Lynne Reiner Publishers.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-04-17
Goedgekeur: 2023-10-16
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

André Duvenhage is 'n navorsingsprofessor aan die NWU; 'n politieke wetenskaplike, en spesialiseer in die veld van politieke verandering met as toepassing die Suid-Afrikaanse verband. Hy is 'n bekende in media- en joernalistieke kringe en word dikwels as politieke kommentator gehoor. Hy is reeds meer as 35 jaar verbonde aan akademiese instellings soos die UFS en die NWU. Sy groot belangstelling is die toekoms en hy werk ook in die veld van scenario-ontledings.
André Duvenhage is a Research Professor at the NWU; a political scientist, and specialises in the field of political change as applied to the South African context. He is well-known in media and journalistic circles, and is often heard as polit ical commentator. He has already been attached longer than 35 years to academic institutions like the UFS and the NWU. His major interest is the future and he also works in the field of scenario analysis.
1 Die omvang van staatskaping word uitgebreid in verskeie werke en bydraes hanteer waaronder Johnson (2015); Pauw (2017); Swilling & Chipson (2018), en Myburg (2019).
2 Rakende die omvang van die geweld in KZN en Gauteng raadpleeg Cotterill (2021:3); Harding (2021:4) en Thamm (2021:2).
3 Die uitkomste/gevolgtrekkings van die artikel beoog nie die ontwikkeling van scenario's nie, maar slegs tendens-identifisering rakende die toekoms van politieke stabiliteit in Suid-Afrika op die korter en medium termyne. Tendens-ekstrapolering impliseer hier die keuse van parameters binne die bepaalde politieke omgewing as vertrekpunt; 'n breë verkenning van hierdie faktore (in die geval 'n omgewingsverkenning); die identifisering van tendense of patrone in hierdie verband; die seleksie van beredenering van eskalerende en de-eskalerende faktore ten opsigte van politieke stabiliteit binne 'n bepaalde tydraamwerk; en die ekstrapolering van die tendens op grond van 'n bepaalde tydraamwerk, asook die beoordeling daarvan.
4 Die werk van Malcolm Gladwell, The tipping point: How little things can make a big difference (2000), het die teoretiese grondslag vir die kantelpuntperspektief gevestig.
5 'n Ondersoekkomitee wat aan die parlement verslag gedoen het, het einde verlede jaar bevind dat daar wel 'n prima facie saak bestaan en dat 'n spreekwoordelike politieke swaard oor Cyril Ramaphosa se kop hang. Ramaphosa se appèl by die konstitusionele hof om die bevindinge van die verslag ter syde te stel, het onlangs misluk. Die waarnemende Openbare Beskermer asook die SAID het president Ramaphosa egter op sekere klagtes onskuldig bevind!
6 Arthur Fraser (voormalige hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, die SSA, en later Direkteur Generaal van Korrektiewe Dienste), met steun van groeperings binne die ANC, het die saak teen die president aanhangig gemaak. Fraser was ook die persoon wat Jacob Zuma se "onregmatige" mediese parool goedgekeur het.
7 Myns insiens is pogings om Ramaphosa te ontsetel steeds aan die gang en handel dit primêr oor die bevindinge van die Zondo-kommissie, veral die implementering daarvan, wat verreikende implikasies inhou vir geïdentifiseerde politieke elites. In onlangse tye het Paul Mashatile as sy grootste opponent binne die ANC-konteks na vore getree.
8 'n Nasionale "shutdown" was vir 20 Maart 2023 beplan, met die doel om die land nasionaal gesproke tot stilstand te bring. Die poging was net in 'n beperkte mate suksesvol.
9 Ander voorbeelde van gekompliseerde stelsels sluit in ekostelsels, vervoerstelsels, weerstelsels en kommunikasiestelsels as vergelykende voorbeelde.
10 Patrimonialisme beklemtoon die mag van individue as leiers met magsbasisse wat afsonderlik soms in konflik funksioneer met die politieke mag van die stelsel. Leiers wys hiervolgens waardes (regte/voorregte/kunste) aan hulle kliënte toe (ondersteuners of patronate) in ruil vir politieke steun. Neo-patrimonialisme verwys na 'n hibriede stelsel waar magsbasisse vanuit beide die patrimoniale omgewing sowel as die formele stelsel gekonsolideer word (Bratton & van der Walle, 1997:62).
11 Vir volledige besonderhede oor die akademiese argumentasie onderliggend aan hierdie konseptualisering en sy inwerkingstelling, raadpleeg Ake (1975:271-283). Terme soos politieke gedrag, rolspel, voorspelbaarheid, orde en struktuur, asook die samehang daarvan is belangrik.
12 Die beperkte omvang van hierdie artikel maak slegs tendensbepaling en -ekstrapolasie moontlik, nie die ontwikkeling van alternatiewe scenario's nie.
13 Vergelyk Duvenhage (2020; 2020A), se artikel-ontledings, Johnson (2015; 2019; 2020), en verskeie ander ondersteunende werke wat as grondslag gedien het vir bogenoemde gevolgtrekkings.
14 Die verkiesings wat ZANU-PF in Zimbabwe verloor het, waarna die party steeds in regering gebly het, kan hier as belangrike rigtingwyser dien! Die ondermyning van nie-ANC-gedomineerde koalisieregering op plaaslike vlak (byvoorbeeld in die stad Tshwane en ander metropole) sedert die 2021- plaaslike verkiesings beklemtoon hierdie perspektief verder.
15 Die Zondo-kommissie van ondersoek het sowat 3 171 dagvaardings beteken, 300 getuienisse aangehoor, en 8 655 530 bladsye dokumentasie en getuienis hanteer voordat die finale verslag in Junie 2022 gefinaliseer is. Die verslag het 1 438 persone (talle senior en invloedryke politici en/ of medewerkers geïmpliseer, en uiters endemiese korrupsie blootgelê (Demokratiese Alliansie, 2022:2).
16 Dieselfde meningspeiling wys dat die EFF se steun van 11% tot 17% gestyg het en dié van die IVP van 4% tot 7%. Die peiling wys ook op die moontlikheid dat die ANC-beheer van beide KZN en Gauteng op 'n einde kan wees indien koalisiepolitiek suksesvol teen ANC-beheer gekonsolideer kan word. Dit laat die moontlikheid vir elite-konflik daar aangesien dit histories bewese is dat ANC-leierskap moeilik van hul magsbasisse afstand doen.
17 Verskeie tussenverkiesings in wyke op plaaslike vlak is sedert die 2021-verkiesing ook verloor. Hieronder tel wyke in Sol Plaatjie (Kimberley); Msukaligwa (Breyton in Mpumalanga); Maquassi Hills (Noordwes) en talle wyke in die noorde van KZN, asook dele van Limpopo.
18 Skrywers, openbare meningsvormers en politici verskil oor hoe ernstig die graad van staatkundige verval is en ook tot watter mate dit herstel kan word. Malan (2023) verwys selfs na die huidige regering en regime se abdikasie van mag as gevolg van óf 'n onvermoë tot uitvoering óf onwilligheid (gerieflikheid) om nie verantwoording te doen nie. Die tekens van 'n verswakkende staatstendens (ongeag ander sentimente en perspektiewe in hierdie verband) blyk onteenseglik te wees.
19 Vergelyk die verslag (2022:1-210) vir die omvang van misdaad ten opsigte van dwelmhandel; onwettige handel in wapens; omgewingsverwante misdade; georganiseerde roof en geweld; kubermisdade; afpersing; mensehandel; ekonomiese en finansiële misdade; ontvoering, en onwettige mynbedrywighede om die belangrikstes te noem. Korrupsie en staatskaping word as 'n aparte misdaad in die dokument hanteer.
20 Vergelyk in hierdie verband Curlewis (2022), vir 'n gedetailleerde ontleding van die stand van die regstelsel in Suid-Afrika.
21 Hierdie syfer is onlangs verder afwaarts aangepas. Die nuutste syfers toon -1,3% negatiewe groei in die BNP van Suid-Afrika, soos gemeet tydens die vierde kwartaal van 2022. Dit is heelwat laer as die -0,4% negatiewe groeikoers wat verwag is. Sektore wat negatief geraak is, sluit in die mynbedryf, landbou, finansiële sektor en handel (Businesstech, 2023:1-6).
22 Die eskalerende en groeiende aantal sosiale toelaes is veral hier ter sprake. Die spesiale COVID-19-toelaag is onlangs tydens die mediumtermynbegroting van 2022 tot Maart 2024 verleng, ondanks die uiterste kwesbaarheid van die fiskus, soos Rossouw (2022) uitgewys het. Daar bestaan tans sterk aanduidings (uitsprake van leidende politici) dat die toelaes vorentoe eerder verhoog en/of vermeerder gaan word, veral soos daar nader beweeg word na die volgende verkiesing. Dit blyk die toedrag van sake te wees ongeag ekonomiese en finansiële implikasies daarvan.
23 Vergelyk Turton (2019) se artikel getiteld Going backwards - the deindustrialisation of the South African economy vir besonderhede oor die aard en omvang van hierdie patroon in Suid-Afrika.
24 Volgens die April 2021-maatstaf bereken, is dit mense wat minder as R1335, 00 per jaar verdien. Algemene inflasie was in dieselfde tyd 7,8% en voedselinflasie 10,1%.
25 Hierdie aspek is 'n studieveld op sy eie en daar word net kripties en baie kortliks na enkele belangrike sake verwys.
26 Vergelyk Hanlon (2020) vir meer besonderhede oor die aard en omvang van die ISIS-bedreiging in die noorde van Mosambiek.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons