SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue4New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslationThe Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in Afrikaans author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.4 Pretoria Dec. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n4a3 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

 

Die Afrikaner-Broederbond en die totstandkoming van 'n onderhandelde skikking: 'n Histories en polities strategiese perspektief*

 

The Afrikaner-Broederbond and the establishment of a negotiated settlement: An historic and politically strategic perspective

 

 

Jan BosmanI; André DuvenhageII

INagraads, Politieke Studies, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: janbosman@abond.co.za
IINavorsingsprofessor, Departement Politieke, Wetenskap, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: andre.duvenhage@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die beëindiging van apartheid deur 'n onderhandelde skikking tussen politieke rolspelers, wat gelei het tot die nuwe Suid-Afrikaanse politieke bedeling, word allerweë as merkwaardig beskou. Die proses het nietemin nie in 'n vakuum plaasgevind nie. Ander rolspelers buite die politieke omgewing het 'n pertinente rol gespeel in die verandering in denke in die Afrikaner-establishment om 'n klimaat te skep waarbinne staatkundige hervormings kon plaasvind. Een van die rolspelers was die Afrikaner-Broederbond (AB). Hierdie studie lig die rol van die Afrikaner-Broederbond uit by wyse van 'n historiese stelselanalitiese perspektief as teoretiese model vir die navorsing.
Die Afrikaner-Broederbond was vanaf 1948 tot in die vroeë 1990's 'n integrale deel van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. 'n Politieke stelsel word vir die doeleindes van hierdie artikel gedefinieer as die interaksie waardeur waardes gesaghebbend aan 'n gemeenskap toebedeel word. Deur die direkte en indirekte ondersteuning van die Nasionale Party tot in die vroeë 1990's het die Afrikaner-Broederbond as 'n Afrikanerbelange-organisasie en dinkskrum aan die insetkant tot die stelsel 'n pertinente rol gespeel.

Trefwoorde: Afrikaner; Afrikaner-Broederbond; Afrikanerbelange; skikking; basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner; belangegroep; dinkskrum; onderhandelinge; referendum; stelselanalise; onderhandelde skikking


ABSTRACT

The end of apartheid, coinciding with a negotiated settlement between political role players in the process of establishing the new South African political dispensation after 1994, is still widely regarded as a remarkable achievement. However, this process did not take place in a vacuum; other role players outside the political environment played a pertinent role in changing mindsets within the Afrikaner establishment, thereby ensuring a climate within which political reforms could take place. One of these role players was the Afrikaner-Broederbond (AB). The study highlights the role of this organisation from a historic perspective and is based on a systems-analytical model.
Since its establishment, the Afrikaner-Broederbond has been part of the political arena at various junctures. Initially established as a cultural organisation representing Afrikaner interests, it increasingly functioned as an Afrikaner think-tank for the National Party and, after the 1948 election, also for the National Party in government. By the 1980s and early 1990s, the organisation was, in fact, an integral part of the South African political system.
A political system is defined as the interaction through which values are authoritatively allocated to a community. Sometimes the demands on a system are of such a nature that they threaten the stability of the system, which was certainly the case in the 1980s.
When it became evident in 1985 that the National Party's reform process was stagnating, the Afrikaner-Broederbond took the lead in influencing the Afrikaner mindset, thereby creating an environment within which the nature and extent of reform could gain momentum. During this period various policy documents were circulated. One of the more important, if not the most important, being the Afrikaner-Broederbond's contribution titled Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner / Basic Political Conditions for the Continued Survival of the Afrikaner, which was distributed to branches in November 1986. This document undoubtedly signalled a division in ways of thinking about the political direction. With this, the Rubicon was crossed.
The Afrikaner-Broederbond perceived a formal role for itself in the political processes that constituted the journey towards a negotiated settlement. However, this role, as pointed out in the study, did not materialise, and the Afrikaner-Broederbond was in fact marginalised by the National Party and excluded from the settlement as well as the processes preceding it. For the purposes of this study, the Afrikaner-Broederbond's formal participation, which started in 1986, finally came to an end with its support of the 1992 referendum. This support was conditional, however, and the research shows that there were expectations from businesses as well as from significant segments of especially Afrikaans voters involving a follow-up referendum with a view to testing the white population's support for, and opinion of, a new constitutional dispensation resulting from the negotiated settlement.
The research findings also indicate that the Afrikaner-Broederbond simply helped to create a more conducive climate for the Afrikaner establishment to dispose with apartheid by means of comprehensive political proposals. These proposals and preceding interactions with the ANC also helped to create a more encompassing political climate within which a negotiated settlement could be achieved. However, the Afrikaner-Broederbond, while helping to develop proposals to ensure certain conditions pertaining to the Afrikaner, was not itself officially involved in the negotiations and therefore had to depend on the National Party to represent Afrikaner interests. The research points out that some of the conditions for safeguarding specific Afrikaner interests, as proposed in 1986, were also abandoned during the negotiations. For a long time, there had been a particularly close relationship between the National Party and the Afrikaner-Broederbond. During the critical period of negotiations, the National Party, however, preferred to take sole responsibility for the negotiation process, refraining from officially involving expert role players from the Afrikaner establishment, or interest groups such as the Afrikaner-Broederbond. The respective leaderships of the AB and the political parties that represented mostly Afrikaner sentiments (including the NP), apparently in the end had come to prioritise different values and principles in their respective attempts to protect and promote Afrikaner interests as perceived by them.
For the purposes of this study, access to internal documents, including minutes and other discussion documents, as well as interviews with role players both within and outside the organisation at the time, resulted in valuable insights and perspectives about such issues.

Keywords: Afrikaner; Afrikaner-Broederbond; Afrikaner interests; settlement; basic political conditions for the continued survival of the Afrikaner; interest group; think-tank; negotiations; referendum; system analysis; negotiated settlement


 

 

Toe dit in 1985 blyk dat die Nasionale Party-regering se hervormingspogings stagneer, het die Afrikaner-Broederbond die leiding geneem om Afrikanerdenke te begin beïnvloed en sodoende 'n omgewing te skep waarbinne hervormings momentum kon kry. Tydens hierdie tydperk is verskeie besprekingsdokumente versprei. Een van die belangrikste, indien nie die belangrikste nie, afkomstig van die Afrikaner-Broederbond, was die "Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner (BSV)," wat teen November 1986 aan afdelings gestuur is. Dit het ongetwyfeld 'n verandering in denkwyse oor die politieke rigting verteenwoordig. Hiermee is die Rubicon oorgesteek.

Die bevindinge in die navorsing dui ook daarop dat die Afrikaner-Broederbond behulp-saam was om 'n klimaat te help bevorder vir die Afrikaner-establishment om apartheid te beëindig deur omvattende politieke voorstelle te ontwikkel. Hierdie voorstelle, sowel as die voorafgaande interaksies met die ANC, het ook gehelp om 'n algemene politieke klimaat te skep waarbinne 'n onderhandelde skikking tot stand kon kom. Daar was lank 'n besonder hegte verhouding tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Alhoewel die AB meegehelp het om spesifieke voorstelle te ontwikkel om bepaalde bestaansvoorwaardes vir die Afrikaner te verseker, was hulle egter nie amptelik betrokke by die onderhandelings nie en was hulle derhalwe op die Nasionale Party aangewese om hul belange te verteenwoordig. Die navorsing dui aan dat sommige van die voorgestelde bestaansvoorwaardes vir die Afrikaner (BSV, 1986) nie gerealiseer het in die onderhandelinge nie.

In die kritieke periode van onderhandelinge het die Nasionale Party verkies om die pad van onderhandeling alleen te stap en nie kundige rolspelers uit die Afrikaner-establishment of belangegroepe soos die Afrikaner-Broederbond te betrek nie. Die onderskeie leiersgroepe van die Afrikaner-Broederbond en die politieke partye wat oorwegend Afrikanerbelange behartig het (insluitende die NP), het uiteindelik verskillende waardes en beginsels geprioritiseer wat vanuit hulle perspektief Afrikanerbelange moes beskerm en bevorder.

Vir die doeleindes van hierdie navorsing het toegang tot interne dokumente, insluitende notules en ander besprekingsdokumente, sowel as onderhoude met rolspelers binne en buite die organisasie op daardie tydstip, bygedra tot waardevolle insigte en perspektiewe.

 

Inleiding

Die Afrikaner-Broederbond, as 'n Afrikaner-belangegroep, het deur verskeie besprekings-dokumente, leierskapstandpunte en aksies in die 1980's 'n deurslaggewende rol gespeel in die vorming van Afrikaners se politieke denke. Hierdeur is Afrikaners en verskillende groepe Afrikaners, veral die Nasionale Party (NP) en NP-ondersteuners in die regering, sodanig beïnvloed dat hulle die politieke hervormings wat op 2 Februarie 1990 aangekondig is, in beginsel aanvaar het (Afrikanerbond, 1997:20-21).

Reeds in die sestigerjare, maar duideliker in die sewentiger- en tagtigerjare, het dit geblyk dat apartheid onder die beleid van afsonderlike ontwikkeling onbedoelde negatiewe gevolge vir swartmense gehad het. Dit het gelei tot 'n onstabiele stelsel met swart weerstand in die binneland en isolasie en sanksies vanuit die buiteland. 'n Nuwe politieke of staatkundige oplossing moes gesoek word wat meer aanvaarbaar sou wees vir swartmense. Dit is binne hierdie konteks dat invloedryke leiersfigure binne die Afrikaner-Broederbond reeds vanaf die einde van die 1970's en met versnelde tempo in die 1980's die bestaande politieke beleid in Suid-Afrika begin bevraagteken het. Hierdie verandering in denke binne die Afrikaner-Broederbond het beslis nie eenparig plaasgevind nie en het mettertyd gepaardgegaan met redelike ernstige meningsverskille en onderlinge interne konflikte. Hierdeur is egter 'n interne ideologiese veranderingsproses in denke begin om deur gesprek en beïnvloeding die denke van Afrikaners, wat die oorheersende kulturele groep in die Nasionale Party en die regering was, te beïnvloed. Dit is deur mnr. FW De Klerk, voormalige president, bevestig tydens 'n toespraak by die Bondsraad van die Afrikanerbond in 2015, toe hy gesê het: "die AB - onder leiding van veral prof. De Lange - het gehelp om die weg te baan vir 'n onderhandelde oplossing - 'n oplossing wat die regte en vryhede van alle Suid-Afrikaners kan beskerm" (De Klerk, 2015:1). Dit is hierdie standpunt wat verder in die navorsing bespreek word.

Die toenemende politieke ongerustheid en onbestendigheid in die politieke bestel in die 1970's en 1980's het die Afrikaner-Broederbond genoop om indringende aandag te begin gee aan die beëindiging van apartheid en 'n soeke na en ontwikkeling van 'n beter bedeling. Dit het 'n sneeubaleffek in veranderende denke onder Afrikaners tot gevolg gehad, wat herlei moet word na die ingrypende dokument Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner (Afrikaner-Broederbond, 1986), wat sedert Julie 1986 vir bespreking onder lede versprei is. Die inhoud van dié dokument, en die direkte beïnvloeding van sy lede daardeur, het baie daartoe bygedra om die nuwe staatsbestel binne 'n grondwetlike demokrasie meer aanvaarbaar te maak vir Afrikaners. Alhoewel die outeurs nie in die dokument self genoem word nie, is dit opgestel deur prof. Ig Rautenbach, in oorleg met die DG van Staatkundige Ontwikkeling, prof. Andreas van Wyk, beide senior lede van die Afrikaner-Broederbond, wat toe net uit hulle regeringsposte bedank het (Stals, 2021:588, voetnota 248). Insette is ook verkry van ander kundiges, insluitende prof. Rassie Malherbe, toe nog senior staatkundige beplanner. Die dokument behels 'n verwerking en uitbreiding van regeringstandpunte asook vertroulike regeringsdokumente. Die doel daarvan was om Afrikanerkiesers te begin voorberei op en gerus te stel dat 'n nuwe bedeling hulle politieke selfbeskikking sou beskerm. Dit het egter nie heeltemal so uitgewerk nie (Cloete, 2023).

Die spesifieke rol wat die Afrikaner-Broederbond in die 1980's en 1990's gespeel het word ondersoek vanuit 'n historiese perspektief, binne 'n stelselanalitiese teoretiese perspektief.

In 1986 het die Afrikaner-Broederbond se Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner 'n aantal vereistes gestel vir 'n toekomstige staatkundige bedeling. Die voorwaardes, wat verder aan meer volledig bespreek word, het ten doel gehad om Afrikaners se grondige vrese te besweer en die voorstelle sou veral fokus op die beskerming van Afrikanerbelange in 'n stelsel van magsdeling.

Met dié voorwaardes as uitgangspunt is gepoog om die volgende vrae te beantwoord

Voldoen die grondwetlike bedeling wat onderhandel is, aan die basiese staatkundige voorwaardes en voorstelle vir die voortbestaan van die Afrikaner, soos deur die Afrikaner-Broederbond gestel? en

Wat was die rol van die Afrikaner-Broederbond in die NP se onderhandelinge en in die belangrike oorgangsjare tydens onderhandeling?

Die staatkundige voorstelle van die Afrikaner-Broederbond sedert 1986 was die gevolg van deeglike besinning oor die hoogs vloeibare en onvolhoubare polities staatkundige omgewing. Die voorstelle moet veral geëvalueer word in die lig van die histories noue verhouding tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Dit is trouens bekend dat die meeste eerste ministers en lede van die kabinet ook lede van die Afrikaner-Broederbond was. Vir baie jare het die AB as 'n dinkskrum opgetree vir die Nasionale Party. Die vraag moet derhalwe gevra word of die Nasionale Party nie die Afrikaner-Broederbond beter as 'n dinkskrum moes gebruik het in die kritieke fases van onderhandeling nie, veral toe Afrikanerbelange ter sprake was? Die onderbenutting van die Afrikaner-Broederbond as rolspeler in latere beleidsprosesse en onderhandelinge het nadelige gevolge gehad vir Afrikanerbelange. Die politieke en staatkundige omgewing en die historiese rol van die Afrikaner-Broederbond word geëvalueer vanuit 'n stelselanalitiese perspektief.

 

Die stelselanalitiese benadering

Die mees toepaslike teoretiese onderbou vir die studie is gevind in die stelselanalise wat deur Easton ontwikkel is en in die politieke wetenskap toegepas word. Easton (1965:21) omskryf 'n politieke stelsel as die interaksie waardeur waardes gesaghebbend en met inbegrip van skaars middele, aan 'n samelewing toebedeel word. Die model is daarop gerig om die omvattende politieke stelsel, en die interaksies van die rolspelers in die stelsel wat binne 'n spesifieke omgewing funksioneer, te verklaar. 'n Stelsel, volgens Heywood (2013:20), is 'n georganiseerde of gekompliseerde geheel, met onderling verwante en interafhanklike dele wat 'n kollektiewe entiteit vorm. Gevolglik word die stelselanalise van Easton in hierdie studie op die Suid-Afrikaanse politieke stelsel toegepas.

Die interaksie in die stelselanalise word verder deur Easton (1965:25-27) beskryf op grond van die konstante verbindings (inset- en uitset-veranderlikes en kernveranderlikes). Dit is die vermoë van die politieke stelsel om bindende besluite te neem en dit min of meer konsekwent af te dwing. Al hierdie veranderlikes in die stelsel word deur middel van kommunikasie- en terugkoppelingsnetwerke aanmekaar gehou (Kriek, 1984:556).

'n Politieke stelsel reageer op die eise wat deur rolspelers binne die stelsel gestel word; deur besluite en beleide wat vir die rolspelers waarde het (Cronje, 2013:53). Die noodsaak van waardes word verder deur Easton (1965:24) beklemtoon in sy gevolgtrekking dat alle politieke stelsels wat volhoubaar voortbestaan op twee pilare berus: 1) dat hulle waardes aan 'n samelewing kan toeken, en 2) dat die meeste lede in die samelewing oorreed kan word om hierdie toekenning van waardes as bindend te aanvaar, ten minste vir die meeste van die tyd.

Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing word gekenmerk deur politieke partye, en 'n omgewing wat invloed uitoefen op, en gereeld eise stel aan die politieke stelsel. Dit is veral van toepassing op die polities staatkundige omgewing van die 1980's.

Deur die toepassing van die stelselanalise word gepoog om antwoorde te vind op die vraag hoe politieke stelsels kan bly voortbestaan te midde van veranderinge; soms radikale veranderinge. Dit kan verstaan word as 'n omgewingsverkenning wat binne die totale omgewing gedoen is, waarvan die politieke stelsel deel is. Van verdere belang is dat die stelselanalise volledig en wetenskaplik aangewend kan word om stabiliteit en onstabiliteit binne die stelsel te verstaan. In die Suid-Afrikaanse konteks word later geargumenteer dat die rolspelers in die stelsel ook die proses van 'n stelselverandering kon help fasiliteer het om stelselstabiliteit te verseker.

In figuur 1 word die stelselanalise toegepas op die Suid-Afrikaanse staatkundige bedeling waarin die Nasionale Party, as regerende party, ten nouste betrek is. Die Afrikaner-Broederbond was 'n direkte rolspeler in die stelsel en het 'n kernrol vervul met insette tot die Nasionale Party as regerende party deur beïnvloeding, wedersydse interaksie en ook direkte ondersteuning. Veral die rol as dinkskrum is van belang, want Afrikaner-akademici en -leiers in die gemeenskap was ook in die meeste gevalle NP-ondersteuners en kiesers. Hierdeur kon die Nasionale Party deurlopend aan die uitsetkant terugvoer oor beleid kry. Uitgaande van die stelselanalitiese perspektief word die Afrikaner-Broederbond se historiese rol teenoor, en met spesifieke verwysing na die Nasionale Party en regering, metodologies ontwikkel en teoreties verklaar in hierdie artikel.

 

 

Daar word vervolgens enkele begrippe bespreek, wat vir die doeleindes van die artikel verder verklaar en omskryf word.

 

Konseptualisering van relevante begrippe

Die staat: In Verloren van Themaat en Wiechers (1985:7) word 'n staat soos volg omskryf: "As 'n regspersoon bestaande uit 'n gemeenskap van mense wat op 'n bepaalde grondgebied onder 'n bepaalde gesag en volgens gemeenskaplike regsreëls lewe." Benewens die bostaande basiese vereistes vir staatskap, voeg Geldenhuys (2022) by dat staatspraktyke bewys het dat drie verdere verwante maatstawwe geld, te wete soewereiniteit, onafhanklikheid en interna-sionale erkenning. In hierdie artikel word aanvaar dat Suid-Afrika binne die tydperk van die 1980's en 1990's as staat aan die basiese vereistes vir staatskap voldoen het, naamlik 'n vasgestelde en gedefinieerde grondgebied, 'n permanente bevolking, 'n effektiewe regering en die vermoë om betrekkinge met ander state aan te gaan. Daar word vervolgens gefokus op die werkinge van politiek en 'n politieke party.

Politiek en politieke partye: Politiek bestaan uit die idees, instellings en aktiwiteite wat aanleiding gee tot, en/of deel vorm van die proses waarin reëls op 'n gesagvolle wyse vir 'n bepaalde samelewing neergelê en afgedwing word (Kotzé & Van Wyk, 1986:130). Dit word soortgelyk deur Plano (1976:291-294) omskryf as menslike aktiwiteite wat verband hou met die neem en implementering van besluite wat met die gesag van die gemeenskap vir wie die besluite geneem word, beklee is.

Politiek word dus verbind met die uitoefening van invloed; 'n stryd om mag waarin politieke partye hul bestaansreg vind. Dit vorm die basis vir Easton (1965:21) se waardevolle interpretasie van 'n politieke stelsel as die interaksie waardeur waardes gesaghebbend en met inbegrip van skaars middele aan 'n samelewing toebedeel word.

Interpretasies van staatsmag hou vervolgens vir Heywood (2013:221) duidelike implika-sies in vir die verwagte rol, verantwoordelikhede en funksies van die staat teenoor die rol van private individue. Die interpretasie en uitvoering van hierdie kwessies wentel veral om die politiek, verkiesings en mededinging tussen politieke partye.

Volgens die bostaande konseptualisering van die begrip politieke party voldoen die Nasionale Party onses insiens aan die gestelde rol en doelwit daarvan. As die regerende party het die NP beleid bepaal binne die politieke omgewing wat die stelselanalise daarstel. In die hoedanigheid van dinkskrum het die Afrikaner-Broederbond bepaalde insette tot die stelsel gelewer.

Druk- en belangegroepe: Bepaalde druk- of belangegroepe se werkswyse word deel van die politieke speelveld met die bevordering van eiesoortige belange. Politieke partye poog soms om die belange direk of indirek aan te pak of te verteenwoordig. Volgens Heywood (2013:247) is daar 'n direkte verband tussen belangegroepe en die politiek, met direkte koppeling (linkage) tussen die regering en diegene wat regeer word. Hy omskryf 'n belangegroep meer spesifiek as 'n georganiseerde assosiasie of vereniging wat ten doel het om die beleid of aksies van 'n regering te beïnvloed. Dit lei daartoe dat die regeringsprosesse sodanig beïnvloed word om 'n gewenste beleid en/of uitkoms te verseker.

Roskin (1991:192) omskryf daarenteen 'n belangegroep as 'n groep wat gemeenskaplike ingesteldhede deel, as 'n: "shared-attitude group that makes certain claims upon other groups in society by acting through the institutions of government". Volgens hom is sommige belangegroepe meer tydelik of kortstondig van aard terwyl ander meer permanent van aard is.

Kriek (1984:568) bring Heywood en Roskin se omskrywings bymekaar deurdat hy die aktiwiteite van owerheidsinstellings, drukgroepe, verkiesings, politieke partye en sosiale groepe met mekaar in verband bring. Volgens hom is almal deur interaksie met mekaar verbonde en word sodoende deel van die politieke proses. 'n Belangegroep vorm daarom deur sy werkwyse en die aard van sy aktiwiteite deel van die politieke stelsel; deur insette om beleid te beïnvloed en daardeur deel van die stelselanalise te word, soos later omskryf word. Volgens Cloete (2021) het belange- en drukgroepe en/of -netwerke die potensiaal om verandering en beïnvloeding in beleidsverandering teweeg te bring.

In die navorsing wat gedoen is en in hierdie artikel word die Afrikaner-Broederbond as 'n Afrikaner-belangegroep omskryf wat vanweë sy noue verhouding met die Nasionale Party ook as dinkskrum opgetree het.

Afrikaner en Afrikanerskap: Dié begrip hou die grootste potensiaal in vir onduidelike of omstrede vertolking, aangesien dit soms verskillend geïnterpreteer word. Daar sal gepoog word om met die oog op die doel en aard van die inhoud van die verdere onderafdelings 'n eenvoudige begrip daar te stel wat geëvalueer en gemeet moet word aan die tydperk ter sprake, naamlik die 1960's tot 1980's.

Die Afrikaner-Broederbond se eie eng omskrywing van 'n Afrikaner in die 1980's is as vertrekpunt vir die navorsing gebruik en word in die artikel soos volg gestel: "Die Afrikaner is 'n blanke wat Afrikaans praat en 'n Christelike lewensbeskouing het, soos in die Calvinisme na vore kom" (Afrikaner-Broederbond, 1985d).

Hierdie omskrywing word verder deur De Klerk (1999:14) bespreek:1

i) Die Afrikanerroeping om die evangelie en beskawing in Afrika te versprei; gevolglik is geglo dat hulle deur God aan die Suidpunt van Afrika geplant is.

ii) Die Afrikaner is uitsluitlik 'n blanke (wit) ras en wie nie wit is nie, word uitgesluit.

iii) Die Afrikaner is Christelik, meer spesifiek Calvinisties-Christelik (die grondmotief van Calvinisme is dat die hele werklikheid op alle lewensvlakke moet buig voor die gesag van Bybelse beginsels).

iv) Die Afrikaner dra in sy kultuur die erfenisse van sy Europese stamlande.

Onderhandeling as wyse om konflik te besleg: Konflik kan op die volgende wyses besleg word: litigasie; resolusie; bemiddeling; fasilitering; versoening; arbitrasie, en onderhandeling. Dit dien as algemeen geldende wyses van konflikhantering en kan net so in die politieke omgewing van toepassing gemaak word op grond van dieselfde wyses waarvolgens 'n skikking tussen die strydende partye verkry word. (Shonk, 2021:1) Volgens Zartman (1987:7-18) se beskouing is onderhandeling nie 'n statiese gebeurtenis nie. Hy identifiseer gevolglik vier komponente in 'n onderhandelingsproses: 1) Dit behels die deelname van partye as rolspelers, en verskillende interaksies tussen hulle. 2) Dit behels waardes, belange of eise wat partye aan die ander partye stel met die doel om kollektiewe keuses te maak. 3) Die uitkoms van onderhandelinge: Zartman beklemtoon dat alle onderhandelinge 'n uitkoms het, selfs al word dit as onsuksesvol beskou. 4) Onderhandeling dui op wedersydse beweging van posisies, en alleen indien daar beweging vanaf aanvanklike posisies plaasgevind het, het onderhandeling plaasgevind (Zartman, 1987:7-18).

 

Die Afrikaner-Broederbond - 'n kernrolspeler in politieke verandering

Hierdie navorsing het ten doel om die Afrikaner-Broederbond se rol in die onderhandelde politieke skikking in Suid-Afrika gedurende die begin van die 1990's uit te lig. Dit word gedoen binne die polities wetenskaplike toepassing van 'n stelselanalitiese perspektief waarvolgens die Afrikaner-Broederbond veral in die hoedanigheid van vertroulike dinkskrum van die Nasionale Party opgetree het. Hierdie rol word uitgelig aan die insetkant van die stelsel soos hier bo aangedui (Figuur 1).

In die bespreking hierna word die volgende kernmomente uitgelig:

Historiese oorsig oor die Afrikaner-Broederbond

Die noue verhouding met die Nasionale Party en apartheid

Bevraagtekening van apartheid

Staatkundige leiding deur die Afrikaner-Broederbond

Die staatkundige aankondigings van 2 Februarie 1990

Evaluerende perspektiewe op die Afrikaner-Broederbond se rol ter voorbereiding van en gedurende die staatkundige onderhandelingsproses.

Historiese oorsig oor die Afrikaner-Broederbond

Die omstandighede van Afrikaners in die tydperk toe die Afrikaner-Broederbond in 1918 gestig is, moet onder andere beoordeel word binne die omvattende maatskaplik-ekonomiese geheel van die verarmde platteland waarbinne Afrikaners hulself bevind het: "Ons was die armes en die armblankes, die boeredom sonder markte en sonder kapitaal, die laagsbesoldigde ongeskoolde werkers in die myne en die fabrieke" (Meyer, 1968:5). Volgens Pelzer (1979:56) het verskeie vergaderings plaasgevind waarby onder andere HW van der Merwe, Henning Klopper, ds. JF Naudé, en Danie du Plessis betrokke was. Gevolglik is daar op 5 Junie 1918 in Malvern oorgegaan tot die stigting van 'n organisasie tussen die 14 aanwesige lede. 'n Aantal doelwitte is geformuleer vir die nuwe organisasie, waaronder groter samewerking alhoewel opinies verskil, die opheffing van Afrikaners, opleiding van Afrikaners, opwekking van die Afrikanersefbewussyn, wat insluit 'n liefde vir taal, geskiedenis en tradisies (Pelzer, 1979:7; Stals, 2021:9). Die organisasie het eers tydens die tweede vergadering op 2 Julie 1918 die naam Afrikaner-Broederbond gekry (Pelzer, 1979:6-7). Oor die vertroulike werkwyse wat die Afrikaner-Broederbond soms in groot omstredenheid gehul het, skryf Pelzer (1979:16) dat dié bepaling op 20 Februarie 1932, veertien jaar ná stigting eers aanvaar is. Die redes vir vertroulikheid gedurende die vorige dekades is volgens die Afrikanerbond (1997:4) daarin geleë dat lede se eie openbare belange nie vooropgestel word nie; dat openhartige en onbevange deelname en gesprekvoering kon plaasvind; en veral van belang was dat die stigters van die organisasie in die openbare sektor werksaam was. Hulle wou deur vertroulike lidmaatskap viktimisasie verhoed.

Met betrekking tot die tydperk ter sprake kan bloot oorsigtelik op die AfrikanerBroederbond se besondere rol en bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaner gelet word.

Die Afrikaner-Broederbond het oor dekades heen Afrikaners se mag (kultureel, ekonomies en polities) gekonsolideer. Die vernaamste hiervan was eerstens die totstandkoming van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) in 1929. Dit was in die dekades daarna die openbare gesig van die Afrikaner-Broederbond (Giliomee, 2004:353).

Tweedens was, volgens Welsh (2009:14), die besondere vermoë wat die Afrikaner-Broederbond ontwikkel het om die dienste en kundigheid van die room van die Afrikaner-intellektuele te benut. Oor hierdie spesifieke rol sê dr. Gerrit Viljoen2 (soos aangehaal deur De Klerk, 1997:193), dat dit 'n: "dinkskrum-organisasie is wat mense slyp tot intelligente benaderinge oor sake van die dag. Die kernfokus moet wees om te beïnvloed".

In die Afrikaner-Broederbond se historiese oorsig oor die eerste 50 jaar van sy bestaan (Afrikaner-Broederbond, 1968:6-7) word onder meer die volgende kernmomente uitgelig:

In die eerste aktiewe fase is die samehorigheidsgevoel onder Afrikaners versterk met die uitbouing van die Nasionale Party, die amptelike erkenning van Afrikaans en die stigting van die FAK.

In die tweede fase wat strek vanaf 1929 tot 1939, het die klem geval op die ekonomiese, maatskaplike en politieke knelpunte waarin die Afrikaner homself bevind het.

In die derde fase tot ongeveer 1948, wat gekenmerk is deur die Tweede Wereldoorlog, het die Afrikaner-Broederbond sy taak gesien as instrument om die bande tussen verskillende groepe te heel.

Die vierde fase ná 1948 het nuwe betekenis aan die Afrikaner-Broederbond gegee. Ná die Nasionale Party se oorwinning het die Afrikaner-Broederbond meer aandag aan die formulering van 'n republikeinse beleid en praktiese stappe tot republiek-wording gewy. In die tydperk ter sprake ontwikkel die Afrikaner-Broederbond ook heelwat studiestukke met temas oor rasseverhoudinge. Hiermee het die fokus op politieke beïnvloeding dus sterker begin word.

In die volgende fase vanaf 1961, met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika, het die Afrikaner-Broederbond hom al meer met die politieke omgewing bemoei en hom toenemend op die terrein van die staat bevind. (Afrikaner-Broederbond, 1968:6-7). Die oorvleuelende lidmaatskap van veral senior NP- politieke leiers en amptenare asook senior Afrikaanse kerkleiers, en die vertroulike aard van die lidmaatskap en aktiwiteite van die Afrikaner-Broederbond het die hibriede besluitnemingskarakter van die organisasie baie versterk. As voorbeeld van 'n hibriede rol of funksie kan verwys word na LJ du Plessis wat vanaf 1930 tot 1932 voorsitter van die Afrikaner-Broederbond en in 1934 die voorsitter van die Nasionale Party in Transvaal was (Stals, 2021:90).

Die aard van lidmaatskap van die organisasie is reeds in die organisasie se ontstaansgrondwet van 1918 uitgespel. Stals (2021:30) bevestig dat daar onder andere bepaal is dat alleen 'n "blanke manspersoon van 18 jaar of ouer lid kon word". Hieroor sê die Afrikaner-Broederbond dat dit 'n organisasie vir mans was, omdat mans "op daardie tydstip die oorheersende rol in ekonomiese, politieke en openbare sake gespeel het" (Afrikanerbond, 1997). Eers in November 1993 is die lidmaatskapsvereistes verander en is die naam van die organisasie na die Afrikanerbond verander.

Die noue verhouding met die Nasionale Party en apartheid

Die leierskap van die Afrikaner-Broederbond het soms selfs die organisasie se eie vereistes en beperkinge oor politieke deelname geïgnoreer. Dat die Afrikaner-Broederbond beskou is as die burgerlike vennoot van die Nasionale Party en selfs die sogenaamde "politieke-mag-agter-die-troon", word bevestig deur die volgende stelling deur dr. Piet Meyer, Voorsitter van die Afrikaner-Broederbond tydens 'n Bondsraad in 1963: "... [ons] moet ... die huidige regering onder leiding van dr. H.F. Verwoerd met al ons kragte steun en so lank moontlik aan bewind hou" (Meyer, 1963:6).

Dit was oor baie jare heen die gebruik in die Afrikaner-Broederbond om noue kontak te behou met lede van die Afrikaner-Broederbond wat in die regering gedien het of op enige wyse as besluitnemers opgetree het, asook om sulke persone doelbewus te werf as lede. Hierdeur het die gebruik ontstaan om in gesprek of in korrespondensie te verwys na "broers of vriende in verantwoordelike kringe ". Hierdie "broers in verantwoordelike kringe " het ook dikwels as sprekers by verskillende byeenkomste van die Afrikaner-Broederbond opgetree (Afrikaner-Broederbond, 1996:3).

Die grondslag van die Nasionale Party se siening en toepassing van apartheid moet beoordeel word teen die agtergrond van diepgaande besprekings en standpunte wat in die Afrikaner-Broederbond verreken is. Afrikanerbemagtiging in 'n wit land was die ideaal. Reeds in 1933 het die Afrikaner-Broederbond 'n besprekingsdokument geformuleer wat in wese die grondslag gelê het vir die latere ontwikkeling van apartheid, wat ná 1948 deur die Nasionale Party toegepas sou word (Afrikaner-Broederbond, 1968:12-13). Die beleidsdokument van 1933 wat opgestel is deur LJ du Plessis moet ook saamgelees word met die roepingsbewustheid wat die Afrikaner-Broederbond vir Afrikaners gevisualiseer het. In die dokument Die grondslag en oogmerke van ons strewe, wat in 1953 opgestel is, is verklaar dat die Afrikaanse volk deur God aan die suidpunt van Afrika in die lewe geroep is, "met 'n eie bestemming tot eer van sy Naam" (soos aangehaal deur Stals, 2021:470).

In Maart 1948 het die Nasionale Party vir die eerste keer die breë trekke van apartheid in 'n verslag getiteld Kleurvraagstuk-Kommissie van die Herenigde Nasionale Party, die sogenaamde Sauer-Verslag van 1948, uiteengesit (Stals, 2021:203). Hiervolgens het die ideologie van apartheid op drie pilare berus. Die eerste pilaar verwys na gebiedskeiding op elke vlak van die samelewing, wat insluit afsonderlike state vir elke volksgroep, en skeiding van rasse in gemeenskappe in woonbuurte, skole en elke ander vorm van menslike handeling (groot apartheid). Die tweede pilaar was die wetgewende program, wat die toepassing van apartheid deur wetgewing bewerkstellig het (klein apartheid). Die derde pilaar was die saambinding van al die afsonderlike tuislande en groepe deur strukture van konsultasie (De Klerk, 1991:63-65).

Die bevraagtekening van apartheid

Die demografiese realiteit begin reeds vroeg by die Afrikaner-Broederbond posvat.

Volgens De Lange (soos aangehaal deur Du Preez, 2012:xxviii) het die Afrikaner-Broederbond in die laat 1970's bedenkinge oor apartheid gehad. Die demografiese realiteite van Suid-Afrika is in 'n besprekingsdokument van die Afrikaner-Broederbond in 1977 soos volg uitgelig: "terwyl ekonomiese ontwikkeling in die tuislande en van grensgebiede bevorder word, moet aanvaar word dat daar onvermydelik 'n uitbreiding van Swartmense in die Blanke gebied gaan wees". Veral wat betref die Witwatersrand word gesê: "Met 45% van alle swart werkers word hier 'n onvermydelike verdere swart groei aanvaar wat nie deur bevolkings-verskuiwingsplanne weggedink kan word nie." Daar is reeds gedink aan oplossings binne die huidige status quo en 'n wegbeweeg van vroeëre denke word as oplossing voorgestel: "'n Politieke raamwerk vir Soweto en moontlik ander soortgelyke konsentrasies as uitsondering-situasies - moet oorweeg word" (Afrikaner-Broederbond, 1977).

Oor apartheid en die toepassing daarvan sê prof. Pieter de Lange in 1993 in sy voorsittersrede by 'n Bondsraad:

In die besef dat die magsmonopolie nie onbepaald deur die blanke gehandhaaf kon word nie, het die Afrikaner gedurende die eerste fase van sy 45-jarige bewind gepoog om aparte state, dus aparte vryhede en magsterreine, polities en administratief, te skep. Dit het misluk. Enersyds het die vinnig groeiende mensegetalle steeds die ekonomie se groei voorgebly en het ons ekonomies al meer verweef geraak. Andersyds het die kunsmatige skeidingspogings soveel misstande begin skep dat ons dit nie met ons gewetes kon versoennie. (De Lange, 1993:1)

Dat die werklikhede van die onstabiele staatsomgewing reeds deeglik deur die Afrikaner-Broederbond in die 1970's verreken is, word bevestig in 'n toespraak deur dr. Viljoen by 'n Bondsraad3 in 1976. Benewens die militêre en buitelandse bedreiging wat Viljoen in die toespraak uiteensit, tesame met die situasie in Suid-Afrika se buurlande, is die binnelandse onstabiliteit met gepaardgaande onrus en die groepe deur wie onrus aangevuur is, ook breedvoerig aangedui. Twee jaar later brei Viljoen verder hierop uit in sy Bondsraadsrede en skets die interne problematiek van Suid-Afrika se veelvolkigheid. Hy erken voorts dat die tuislandbeleid nie suksesvol is nie, aangesien hulle nie onafhanklikheid wil aanvaar nie. Die problematiek word duideliker as hy verwys na swart verstedeliking en die politieke verwagtinge en strewes van die verstedelikte swartmense. Dit verg 'n nuwe beleidsraamwerk wat nuwe denke na vore moet bring. Hy is krities oor die paternalistiese styl wat deur die regering voorgehou word en vra of ander groepe nie ook self besluite moet neem oor kulturele, morele en politieke beskermingsmaatreëls nie (Viljoen, 1980:4-6). Viljoen het egter self reeds in 1971 by herhaling die identifisering van 'n tuisland vir bruinmense gepropageer in direkte opposisie tot die eerste minister John Vorster se beginselverwerping daarvan (Cloete, 2021:1274).

In 'n gesprek met die Uitvoerende Raad (UR) van die Afrikaner-Broederbond en president PW Botha op 19 Februarie 1985 oor die verstedeliking van die swartman, is Botha van mening dat die Nasionale Party versigtig moes optree: "Die gees van revolusie in stede is 'n les wat ons moet leer. As ons nie van die situasie werk maak nie, gaan die verstedelikte swartman in die revolusie op" (Notas van gesprek as bylaag tot Afrikaner-Broederbond, 1985c). By 'n UR-vergadering op 2-3 Augustus 1985 dien 'n verslag van die Afrikaner-Broederbond se Komitee i.v.m. die staatkundige ontwikkeling van die swartman, met die volgende uitgangspunt: "'n Staatkundige model moet gevind word waarin politieke magsdeling met swartmense gerealiseer kan word op so 'n wyse dat dit oorheersing van een groep deur die ander uitskakel, en wat die verdere konflik tussen swart en wit vermy" (Bylaag tot Afrikaner-Broederbond, 1985b).

Enkele maande ná die Rubicon-toespraak en teen die agtergrond van die besondere openbare kritiek wat uitgespreek is teenoor president PW Botha en die Nasionale Party se huiwering tot verdere hervorming, sowel as die verslegtende binnelandse en buitelandse situasie, hou die Afrikaner-Broederbond weer op 11 Oktober 1985 'n Bondsraad. Prof. Pieter de Lange sê by dié geleentheid, met verwysing na die onstabiele binnelandse situasie en swart onrus: "Die Afrikaner-Broederbond, die regering, die blanke kan hierdie kragte nie teëhou met maginot-linies nie, dit wil sê verouderde strategieë" (De Lange, 1985:7). Hy het vervolgens gepleit dat, terwyl Afrikaners nog die inisiatief kon neem en terwyl Afrikaners nog die mag gehad het, daar na oplossings gesoek moes word. Die oplossing sou wees om te onderhandel. Daarin het hy vir die Afrikaner-Broederbond 'n taak gesien in die soeke na vryheid en geregtigheid vir almal, met behoud van geregtigheid vir Afrikaners: "Dit is vanselfsprekend 'n saak vol risiko's, maar laat ons daarop bedag wees dat die grootste risiko is om geen risiko's te neem nie" (De Lange, 1985:8).

Op 30 en 31 Mei 1986 (sommige bronne verwys na Junie 1986), ontmoet prof. Pieter de Lange, toe voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, vir Thabo Mbeki4 van die ANC by 'n konferensie in New York. Die konferensie is gefasiliteer deur die Ford Stigting (Sparks, 1995:72-73; Waldmeir, 1997:63; Welsh, 2009:200-201). Dit was op daardie tydstip en gegewe die omstandighede binne Suid-Afrika 'n ongekende en ongehoorde ontmoeting. Hieroor skryf Waldmeir (1997:63): "In coming to New York both sides had violated the chief political commandment of the day, that the ANC should meet the Afrikaner only on the field of battle."

Mbeki wou, volgens Gevisser (2009:193), tydens die lang gesprekke wat gevolg het, by De Lange verneem wat die Afrikaners se minimum vereiste sou wees. Tydens die gesprek het De Lange verduidelik dat Afrikaners angstiger was oor die verlies van hulle kulturele identiteit as om die ekonomiese en politieke mag in 'n demokratiese Suid-Afrika te verloor. De Lange het aan Mbeki gesê dat fundamentele veranderinge in Suid-Afrika onderweg is. Hiervoor moes die wit bevolking voorberei word. Die veranderinge sou deur werklike onderhandelinge plaasvind, maar Afrikaners sou volgens De Lange (soos aangehaal deur Du Preez, 2012:xxx), aandring op die bewaring en beskerming van hulle kulturele identiteit.

Die grondwerk en aanvoorwerk vir die belangrike besprekingsdokument Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner (BSV) is gedoen by die Bondsraad op 11 en 12 Oktober 1985, waartydens staatkundige ontwikkelinge bespreek is. Daar moet in gedagte gehou word dat die Bondsraad gehou is twee maande ná die rampspoedige Rubicon-toespraak van PW Botha. Na aanleiding van insette en besprekings by die Bondsraad dat die Afrikaner die inisiatief moet behou om 'n nuwe staatkundige bedeling uit te werk, word die volgende besluit genotuleer: "Die Bondsraad besluit dat die UR versoek word om deur middel van deurlopende studie en gepaardgaande optrede aandag aan die ontwikkeling van die nuwe staatkundige bedeling te gee en inligting en leiding in verband daarmee aan afdelings te verstrek" (Afrikaner-Broederbond, 1985a:3). Daar moet aanvaar word dat die Bondsraad hiermee stukrag aan die hervormingsgesinde komponente van die Nasionale Party sowel as senior amptenare verleen het.

In 'n ongewone stap vergader die Uitvoerende Raad se dagbestuur direk ná afloop van die Bondsraad op 12 Oktober 1985, en word daar, ná besprekinge oor die staatkundige ontwikkelinge, onder andere besluit:

Ons sal moet bepaal wat die basiese vertrekpunte in verband met die voortbestaan van die blanke en die Afrikaner in die RSA is.

Die RSA bevind hom staatkundig in 'n oorgangsfase. Die uiteindelike model wat bereik word, kan alleen deur middel van kundige besinning bereik word.

Die Afrikaner-Broederbond moet 'n metode vind om sy mening oor die staatkundige ontwikkeling aan Broers in die owerheid voor te lê. (Afrikaner-Broederbond, 1985e:2)

Die BSV-dokument was 'n ernstige en opregte poging vanuit die Afrikaner-Broederbond om 'n demokratiese bestel daar te stel waarbinne daar politieke deelname van alle Suid-Afrikaners in die stelsel kon wees. 'n Balans moes ook gevind word om Afrikanerbelange te beskerm in 'n stelsel van magsdeling (Afrikaner-Broederbond, 1986:1-7).

Die BSV-dokument het hoofsaaklik breë doelstellings binne 'n menseregtekultuur gestel, met basiese regte soos die erkenning en beskerming van vryheid van geloof, onafhanklikheid van die regbank; menswaardigheid, lewe, vryheid en eiendomsreg; selfbeskikking van bevolkingsgroepe en volke wat bevorder, eerbiedig en beskerm moet word; erkenning en beskerming van taal- en kultuurregte. Die vereiste word egter gestel dat: "kultuurgebonde moedertaalonderrig in eie skole met 'n Christelike karakter vir die Afrikaner 'n voorwaarde vir sinvolle voortbestaan is".

Onder Spesifieke Staatkundige Voorwaardes word die verskeidenheid van groepe en gemeenskappe binne die grense van die RSA erken; die uitsluiting van swart deelname in staatkundige prosesse word beskou as 'n bedreiging vir wit (blanke) voortbestaan; daar moet deelname op alle vlakke van besluitneming wees; magsdeling moet nie groepsoorheersing insluit nie, gevolglik moet dit wit of swart verskanste regering en dominansie uitskakel. Die dokument verwys ook verder na verskillende modelle waarbinne bogenoemde bereik kan word, soos desentralisasie van mag of besluitneming, streeks- of stateregerings, of segmentele of eie sake. Die dokument vereis ten slotte:

Dat: Afrikaners se skeppingskrag aangewend word om onderhandelde strukture tot stand te bring; indien dit nie gebeur nie "is dit onvermydelik dat strukture op hom afgedwing sal word waarin hy geen medeseggenskap sal hê nie."

Dat: "verteenwoordigers van verskeie magsgroeperinge aan die opstel van 'n nuwe grondwet deelneem."

Laastens: " die aanvaarbaarheid van so 'n nuwe bestel vir die meerderheid van die landsburgers, en uiteraard ook vir die meerderheid van Afrikaners, is een van die belangrikste voorwaardes vir sy voortbestaan" (Afrikaner-Broederbond, 1986:1-7).

Die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad het ook die BSV-dokument met senior lede van die NP-regering bespreek, waaronder PW Botha en FW de Klerk. Daar was volgens De Lange gemengde geesdrif, maar dit is in die breë onder die aandag van die denkende en bewuste Afrikaners se aandag vir bespreking gebring. De Lange se indruk was: "as mense eers die goed bespreek, dan kom hulle tot die oortuiging, dit is so of 'n bloedbad" (De Lange, 2006:4).

Vanuit die Afrikaner-Broederbond as dinkskrum het daar derhalwe konkrete voorstelle vir 'n nuwe staatkundige bedeling na vore gekom. Hiermee is daar opnuut aansluiting gevind by hervormingsinisiatiewe wat reeds aansluiting gevind het by die 1983-driekamerparlement en politieke modelle om die swart bevolking te akkommodeer. As inset tot die stelsel het die Afrikaner-Broederbond egter as 'n invloedryke belangegroep en rolspeler wel die rol van addisionele dinkskrum binne die NP vervul.

Die BSV-dokument wat gesirkuleer is, is deur die Afrikaner-Broederbond opgevolg met 'n staatkunde-dinkskrum wat op 7 Februarie 1987 plaasgevind het. Deelnemers aan die dinkskrum wat oorwegend lede van die Afrikaner-Broederbond was, het regeringslede, lede van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, universiteitsrektore en akademici, lede van die parlement, lede van die Presidentsraad, lede van die media, verteenwoordigers uit die tuislande, senior staatsamptenare, lede vanuit die veiligheid- en sekerheidstrukture, sakelui, kultuurorganisasies, nyweraars, onderwys- en landboukundiges, provinsiale en plaaslike bestuurslede ingesluit. Temas vir bespreking het die evaluering van die 1983-grondwet; identifisering en omskrywing van minderheidsgroepe; evaluering van die beleid van afsonderlike ontwikkeling; evaluering van staatkundige modelle, en 'n onderhandelde skikking en praktiese stappe om dit te bereik, ingesluit (Bylaag D by die Notule Afrikaner-Broederbond, 1987).

Dit is in 1989 en 1990 opgevolg met die besprekingsdokument Konsepriglyne vir die Staatkundige Gesprek, wat ten doel gehad het om voortbouend op die beleidsdokument Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner, en met inagneming van die voortgaande gesprek, bepaalde grondwetlike riglyne in konsepvorm uit te werk (Afrikaner-Broederbond, 1989:1).

Die staatkundige aankondigings van 2 Februarie 1990

Voortstuwende massa-aksie, toenemende terreur en binnelandse onrus, en die ekonomiese knyptang het die NP-regering gedwing om die internasionale vensters van geleenthede aan te gryp, naamlik:

Die val van kommunisme, en

die val van die Berlynse muur.

Ses dae ná die belangwekkende aankondigings van president FW de Klerk word informele gespreksaantekeninge ingebind by die UR van die Afrikaner-Broederbond se notule van 8 Februarie 1990, en word onder andere die volgende belangrike kwessies aangeteken:

Die UR is nie vooraf ingelig oor die 2 Februarie 1990-aankondigings deur De Klerk nie.

Dat daar by Afrikaners onsekerheid en twyfel en selfs vrees bestaan oor die toekoms. Dié kommer sou in 'n vergadering met president De Klerk, wat op 10 Februarie sou plaasvind, bespreek word (Afrikaner-Broederbond, 1990e:1).

Volgens die notule blyk dit dat die Afrikaner-Broederbond se leierskap die volgende reeds as van groot belang geag het as reaksie op die aankondigings:

Tydens toekomstige onderhandelinge sal: "die probleem wees om minderheidsregte en groepe in die Grondwet in te skryf".

Dat die proses van staatkundige hervormings met die aankondigings van 2 Februarie 1990 reeds aan die gang was. Gevolglik het die Afrikaner-Broederbond 'n gulde geleentheid misgeloop. (Afrikaner-Broederbond, 1990e:1). Hiermee het die regering opnuut die inisiatief geneem.

Daar word ook in die notule bevestig dat daar later die middag van 10 Februarie 1990 'n informele ontmoeting was met senior kabinetslede, waaronder De Klerk (Afrikaner-Broederbond, 1990d:2-3). In aantekeninge vir die gesprek met De Klerk en andere wat op 10 Februarie 1990 sou plaasvind, word aangeteken dat die volgende punt van belang bespreek moes word: "Die oorweging van minderheidsregte, groepsregte en verwante sake ten opsigte van toekomstige staatkundige ontwikkeling" (Afrikaner-Broederbond, 1990c:1).

Uit die voorafgaande blyk dit dus duidelik dat die Afrikaner-Broederbond reeds direk ná De Klerk se aankondigings van 2 Februarie 1990, bepaalde voorbehoude gehad het. Van besondere belang was die wyse waarop Afrikaner-identiteit en -belange in die nuwe bedeling geakkommodeer sou word. Dit is opvallend dat die Afrikaner-Broederbond ook reeds besorg was oor die samestelling van die afvaardigings by die onderhandelinge.

Tydens die Bondsraad op 10 Oktober 1990, enkele maande ná die Februarie 1990-aan-kondigings, sê prof. De Lange in sy voorsittersrede dat daar wegbeweeg moes word van 'n onvolhoubare situasie van magsmonopolie wat eties onhoudbaar was. Hy waarsku: "Maar ewe onhoudbaar sou 'n situasie van magsabdikasie wees. Daar moet sterk seine uitgaan dat ons nie van plan is om ons in magteloosheid in te onderhandel nie." Hy definieer die Afrikaner-Broederbond se rol soos volg: "Ons moet ons invloed gebruik en op ons terrein daaraan help werk sodat stabiliteit, sekuriteit en ekonomiese groei die proses van oorgang van omvorming, steun" (De Lange, 1990:7).

Oor die kwessie van die verteenwoordiging en beskerming van Afrikanerbelange by die onderhandelinge wat moes volg, het die Uitvoerende Raad op 18 Mei 1990 uitvoerig besin:

Dit is belangrik om te bepaal wie namens die Afrikaner sitting om die onderhandelingstafel gaan inneem. Iemand sal die Afrikaner se belange moet behartig, sy taal, ekonomie, die regstelsel, onderwys, die menseregte ens. As 'n politieke party oor die regte en voorregte van blankes gaan praat, kan die Afrikaner die verloorder wees. (Afrikaner-Broederbond, 1990b:5)

Dit moet egter beklemtoon word dat alhoewel 'n politieke proses hier voorsien is, die Afrikaner-Broederbond ook as Afrikanerbelange-organisasie opgetree het. Bepaalde voorbehoude en kommer was dus vanselfsprekend maar dit het ook gedui op 'n groeiende spanning tussen die Afrikaner-Broederbond en die Nasionale Party. Die kwessie is op 23 Oktober 1990 weer by die UR se Dagbestuur opgehaal en 'n aanbeveling is aan die UR gemaak: "Om 'n geskikte persoon te benoem om vir 'n tyd lank voltyds namens die organisasie en in belang van die Afrikanersaak op te tree" (Afrikaner-Broederbond, 1990a:7). Dat die persoon moontlik De Lange sou wees, het bepaalde verwagtinge geskep en is informeel aanvaar.

Daar is deurlopend kommer uitgespreek oor Afrikanerbelange, en die Uitvoerende Raad spreek tydens 'n vergadering van 1 en 2 November 1991 weer sy besorgdheid uit oor die saak van die Afrikaner by die onderhandelinge. Daar moes aandag gegee word aan: "wie namens die Afrikaner by die onderhandelingstafel moet optree". Die Nasionale Party was op die tydstip nie meer net 'n party vir Afrikaners nie. Die vereistes rondom taal en onderwys wat die Afrikaner-Broederbond reeds in 1986 geïdentifiseer het, kon dus nouliks bevorder word deur die Nasionale Party. Kommer is ook tydens die vergadering uitgespreek oor die afwesigheid van Afrikaans in amptelike en ook onderhandelingsgesprekke (Afrikaner-Broederbond, 1991a:3).

Dat die regering ander planne gehad het met die onderhandelinge en verteenwoordiging by onderhandelinge, het op hierdie tydstip in die hervormingsproses al duideliker begin blyk. Volgens Stals (2021:619) was daar op 3 September 1990 'n ontmoeting met lede van die Uitvoerende Raad en president FW de Klerk, en hy maan dat die organisasie hom eerder met kultuur moet besig hou en moet waak teen die drang om deel van die regering te word. Dit word later duidelik dat die Afrikaner-Broederbond van die begin af nie deel van die proses sou wees nie, en dié mening is deur De Klerk (1998:190) gestel: "Ek was van mening dat wanneer die tyd ryp is, die regering, - en niemand anders van ons kant nie - die tydsberekening en rigting van die proses moes bepaal. Ons was bekommerd dat goed bedoelde pogings van sakelui en akademici net sake sou vertroebel en die regering se taak bemoeilik."

Die Afrikaner-Broederbond, wat wesenlike voorstelle gemaak het en intens betrokke was by die proses om Afrikaners se ingesteldheid te verander en 'n omgewing te vestig waarin Afrikaners die leiding kon neem, moes sy saak aan die Nasionale Party toevertrou. Volgens Stals (2021:620) was dit vir prof. Pieter de Lange, wat so intens betrokke was by voorbereidende gesprekke, "'n teleurstellende gewaarwording". De Lange was: "onrustig gestem deur die geweldige onsekerheid oor die toekoms wat by Afrikaners posgevat het".

Hoe die NP en die Afrikaner-Broederbond se simbiotiese verhouding tot 'n einde gekom het, word finaal bevestig deur 'n buitengewone vergadering van die Uitvoerende Raad op 25 Februarie 1992. President FW de Klerk het ná die Nasionale Party se nederlaag by die stembus in 'n tussenverkiesing in Potchefstroom op 19 Februarie 1992, 'n dag later 'n blanke referendum aangekondig. Die UR se vergadering het spesifiek oor die referendum gehandel, en watter aanbeveling vir lede gemaak moes word. Tydens die vergadering is bedenkinge uitgespreek oor hoe die proses in die regering sedert 1990 verloop het en hoe onderhandelinge gevoer sou word (Afrikaner-Broederbond, 1992b:1).

Van pertinente belang is twee aspekte wat die verhouding met die NP-regering in die toekoms sou rig. Eerstens word tydens die vergadering gewys op die moontlikheid van ernstige verdeeldheid in die Afrikaner-Broederbond indien die referendum ondersteun sou word. Daar word gewys op hoe die aanbeveling na lede gemaak word, wat "verdere verdeeldheid en moontlik skeuring in die organisasie tot gevolg (kan) hê" (Afrikaner-Broederbond, 1992b:1).

Tweedens word die konteks waarbinne die bespreking gevoer sou word, deur die voorsitter, prof. De Lange, gestel naamlik: "die vertrouensbreuk tussen regering en kieser, die regerende party en die organisasie" (Afrikaner-Broederbond, 1992b:1).

Die volgende belangrike punt wat tydens die vergadering na vore kom, is die verwysing na die feit dat 'n onderneming gegee is dat nog 'n wit referendum gehou sou word om die finale grondwet goed te keur. Dit sou gebeur indien daar van die NP se voorstelle afgewyk word (Afrikaner-Broederbond, 1992b:2). Voortspruitend uit die byeenkoms het De Lange gevolglik in 'n brief aan lede op die belangrikheid en deurslaggewende betekenis van die referendum gewys en daarmee lede by implikasie aanbeveel om 'n "Ja"-stem in die referendum uit te bring (Afrikaner-Broederbond, 1992b:3). Die Ja-stem is wel by implikasie bevorder maar daar was, volgens Theron (2021:2), beslis nie eenstemmigheid daaroor in die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond nie.

Tydens 'n vergadering van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond op 27 en 28 Maart 1992 is die uitslag van die referendum en die implikasies daarvan ook indringend bespreek. Ten slotte is genotuleer dat die onduidelikheid oor 'n verdere referendum met FW de Klerk opgeneem moes word (Afrikaner-Broederbond, 1992a:5).

Dat die Afrikaner-Broederbond in April 1991 reeds bedenkinge gehad het oor die verloop van onderhandelinge, word bevestig in 'n besprekingsdokument:

Dit is opmerklik dat, sedert 2 Februarie 1990, die leiers van die regering en die ANC goed met mekaar oor die weg kom, terwyl die onderskeie steungroepe steeds ver van mekaar verwyderd is! 'n Elite-skikking kan voorts daartoe lei dat die grondwet om die persoon van bepaalde leiers gebou word en dat die vervanging van leiers tot 'n grondwetlike krisis aanleiding gee. Dit is gevolglik noodsaaklik dat die proses van onderhandelinge na haarwortelvlak uitgebrei word. (Afrikaner-Broederbond, 1991b:33)

Daar is in die voorafgaande aangetoon dat die aankondigings van 2 Februarie 1990 deur FW de Klerk die Afrikaner-Broederbond onverhoeds betrap het. Die onafwendbare proses wat daarna gevolg het, het 'n momentum geskep wat die NP nie kon beheer nie, en nog minder die Afrikaner-Broederbond. Dit sou moontlik verhoed kon gewees het deur 'n deeglike strategiese raamwerk vir onderhandelinge, waarin die Afrikaner-Broederbond 'n rol kon speel; 'n ooreengekome uitkoms tussen Afrikaners kon volg, waarvolgens Afrikanerbelange bevorder kon word. De Lange se standpunt in die Uitvoerende Raad kort voor die referendum van 17 Maart 1992, dat daar 'n vertrouensbreuk tussen die Afrikaner-Broederbond en die Nasionale Party ontwikkel het, is aanduidend van die groot kloof wat tussen hierdie oorvleuelende organisasies ontstaan het.

Vervolgens kan enkele evaluerende perspektiewe beklemtoon word.

 

Gevolgtrekkings

Met die stelselteorie van Easton as breë raamwerk toegepas op die Suid-Afrikaanse konteks vanaf 1976 tot 1992, is daar uitgelig watter rol die Afrikaner-Broederbond as 'n vertroulike Afrikanerbelangegroep gespeel het deur middel van insette tot die politieke besluitnemings-proses, meer spesifiek van die regering en die Nasionale Party. Die stelselanalise wat as teoretiese raamwerk dien vir die navorsing tot hierdie artikel plaas die Afrikaner-Broederbond volledig binne die politieke stelsel as 'n akteur. Die Afrikaner-Broederbond het deur insette wel beleid beïnvloed en in die terugvoerproses uit die stelsel is kiesers ingelig en beïnvloed. Die noue interaksie van die Afrikaner-Broederbond as 'n dinkskrum van die Nasionale Party bevestig die koppeling binne die stelselanalise. Die insette en eise tot die stelsel het enorme druk daarop geplaas met gevolglike stelselonstabiliteit in die 1980's deur sanksies, isolasie en binnelandse terreur en massa-aksie en het gelei tot 'n staatkundige krisis. Deur die interaksie met die regering is beleid aan die uitsetkant van die stelsel beïnvloed. In die stelsel is terugvoer gegee aan lede, wat oorwegend die kiesers van die Nasionale Party was.

As rolspeler in die stelsel kon die Afrikaner-Broederbond ook krities konstruktief meewerk aan verandering. Die toepassing van apartheid is deur al meer mense en instansies binne die politieke stelsel, waaronder die Afrikaner-Broederbond, gekritiseer, beide van regs en van links. Apartheid is vanuit die volgende perspektiewe bevraagteken:

Die internasionale druk wat deur sanksies en isolasie teweeggebring is.

Die ekonomiese onvolhoubaarheid van apartheid.

Die demografie en verstedeliking wat die teenoorgestelde effek gehad het as wat met

die tuislandbeleid beoog is.

Die ANC se toenemende internasionale invloed en ondersteuning en die morele hoë grond wat hulle daardeur beklee het.

Binnelandse opstande en toenemende onstabiliteit om die land onregeerbaar te maak.

Al meer druk vanuit wit en Afrikanergeledere, waaronder die Afrikaner-Broederbond en ander intellektuele uit Afrikanergeledere.

'n Toenemende besef dat die apartheidstelsel met onreg en onmenslikheid gepaard gegaan het.

Al hierdie faktore is deur die Afrikaner-Broederbond sowel as die NP en regering oorweeg. Staatkundige hervormings was gevolglik onafwendbaar. Prof. Pieter de Lange se evaluering van die toepassing van apartheid was dat:

"Die immoraliteit van apartheid het teen die hemele geskreeu."

"Ons (Suid-Afrika) was besig om in bankrotskap te gaan, en teen die einde van die 1990's sal als in duie gestort het."

"Ons sal mekaar in die strate begin doodmaak het". (De Lange, 2006:2-6)

Die 2 Februarie 1990-aankondigings deur president FW de Klerk was uiteindelik onafwendbaar. Dit is gedoen binne die vensters van geleentheid wat daangestel is, naamlik die val van kommunisme, en die val van die Berlynse muur.

Die uiteindelike proses wat gevolg het en wat in die navorsing uitgelig is, dui op die volgende:

Die 2 Februarie 1990-aankondigings moet beskou word teen die agtergrond van onstabiliteit en die venster van geleentheid vir hervorming. De Klerk kon vir 'n wyle deur sy beleidsverandering-aankondigings die morele hoë grond betree deur leiding te neem met verreikende hervormings.

Die Afrikaner-Broederbond het deur sy aanvoorwerk en insette gehelp om die klimaat in die Afrikaner-establishment te vestig wat sou lei tot die beëindiging van die ideologie en toepassing van apartheid.

Die Afrikaner-Broederbond het homself gevestig as 'n Afrikanerbelangegroep en dinkskrum aanvanklik grootliks binne of baie naby aan die NP, wat belangrike insette kon lewer tot die politieke omgewing en stelsel waarbinne die organisasie gefunksioneer het.

Aangesien die skikking en bedeling wat daarop gevolg het, alle lewensfere sou raak, kon dit nie bloot 'n politieke skikking of elite-skikking wees, soos dit uiteindelik was nie. Ander rolspelers wat bepaalde belange kon behartig en bevorder tydens onder-handelinge, kon moontlik gehelp het met bepaalde taal- en kultuuraangeleenthede.

Afrikanerbelange soos duidelik gedefinieer in die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner van 1986 het bepaalde veronderstellings gehad. Die Afrikanerbelange sou deur die Nasionale Party en ander partye bevorder word, maar in die proses van skikking en onderhandelinge het die belange verwater geraak en is dit later op 'n syspoor gerangeer. Die druk van onderhandelinge het die proses beïnvloed om later, ter wille van enige skikking en teen elke prys, wel 'n skikking te bereik. Die implikasies hiervan is vandag nog waarneembaar.

Die Afrikaner-Broederbond het deurgaans sy kommer uitgespreek oor Afrikanerbelange wat binne 'n duidelike omskrywing van groepsregte met wigte en teenwigte in 'n grondwet gestalte en beskerming moes kry.

Daar was oorweldigende steun deur wit kiesers vir 'n Ja-stem in die 17 Maart 1992-referendum om die beginsels onderliggend aan 'n onderhandelde politieke skikking goed te keur. Die Afrikaner-Broederbond het die Ja-stem by implikasie bevorder, maar dit was op grond van die veronderstelling van 'n opvolgreferendum om die finale voorstelle vir die grondwet by die wit bevolking te toets. Die tweede referendum het egter nooit plaasgevind nie.

Die Afrikaner-Broederbond het 'n prys betaal vir sy noue verhouding met die NP. Die Afrikaner-Broederbond het reeds voor 1985 ten minste twee direkte skeurings van soortgelyke aard as die NP-skeurings beleef. Deur sy nougesette optrede sedert 1985 wou die Afrikaner-Broederbond deurentyd kulturele skeidings of skeurings vermy. Dit het egter ook in die Afrikaner-Broederbond gelei tot versigtigheid oor verskil en kritiek met nuwe inisiatiewe.

Die voorafgaande het aangetoon dat die Afrikaner-Broederbond lojaal betrokke was binne die stelsel, en die Nasionale Party oor dekades heen ondersteun het. Die marginalisering en uitsluiting van die Afrikaner-Broederbond as rolspeler in latere beleidsprosesse en onder-handelinge het nadelige gevolge vir Afrikanerbelange gehad.

Die vraag of die grondwetlike bedeling wat onderhandel is, vandag voldoen aan die basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner, bly 'n ope vraag. Die politieke mag is afgestaan en deur diskriminerende wetgewing word ekonomiese mag ook ingeperk. Die groot uitdaging vir Afrikaners is om nou self hulle kulturele identiteit te beskerm en te bevorder.

Die Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner-Broederbond het bepaalde vereistes gestel vir 'n nuwe staatkundige bedeling wat aan Afrikaners se vrese moes voldoen. Aan die een kant was dit duidelik dat die verwagting daargestel is dat Afrikaners die leiding moes neem met onderhandelinge om bepaalde Afrikanerbelange te beskerm, maar tot so 'n mate dat dit aanvaarbaar moes wees vir die meerderheid.

Die vereistes moet in die tydsgees van 1986 geëvalueer word. Daar was 'n noodsaak aan staatkundige hervorminge wat die swart bevolking moes akkommodeer. As kultuurgroep kon Afrikaners deur hulle organisasies en politieke partye bepaalde verwagtinge koester wat nie altyd realisties was nie.

Die navorsing asook die uitkomste van die nuwe staatkundige bedeling het aangetoon dat die bestaansvoorwaardes ernstige leemtes of tekortkominge het vir onderhandelinge. Met die perspektiewe wat ons vandag oor die staatkundige bedeling het, in teenstelling met die verwagtinge wat in 1986 in die vooruitsig gestel is, kon sake anders verloop het.

Daar is in die voorafgaande bevestig dat die Nasionale Party en De Klerk die internasionale venster van geleentheid benut het. 'n Verdere huiwering tot staatkundige inisiatiewe kon die situasie binnelands en internasionaal net vererger het. Tesame hiermee moet die moontlikheid ook in ag geneem word dat die Nasionale Party op enige tydstip as gevolg van groeiende ongeduld oor veranderinge, steun na die linkerkant kon verloor het, maar dat ongelukkigheid en spanning oor hervormings terselfdertyd steun na die regterkant kon laat groei het. Die vraag is daarom nie of die Nasionale Party en De Klerk met staatkundige veranderinge en hervorming moes voortgaan nie. Suid-Afrika was teen die einde van die 1980's op 'n kantelpunt en onstabiliteit sou groter en bloedige gevolge vir die stelsel kon inhou.

Daarom moes 2 Februarie 1990 en die hervormings wat aangekondig is, wel plaasvind. Veel belangriker is egter die evaluerende perspektief oor die wyse waarop dit gebeur het en hoe dit bestuur is. Daar is duidelike tekens dat die aankondigings gemaak is met inagneming van 'n klein binnekring wat oor die raamwerk ingelig is. Selfs nie eers die sekuriteitsinstellings is vooraf daaroor ingelig of geraadpleeg nie. Ook die Afrikaner-Broederbond, wat as die Nasionale Party se dinkskrum opgetree het, is onverhoeds betrap. Cloete (2023) is van mening dat die Machiavelliaanse strategie ingespan is juis omdat baie Afrikaners 'n onrealistiese verwagting gehad het dat hulle selfbeskikking grootliks onveranderd behou kon word.

Die geskiedenis toon dat die NP self onkant betrap is deur die momentum wat op die 2 Februarie 1990-aankondigings gevolg het. Gevolglik dui alles daarop dat die momentum van die proses van onderhandelinge die NP ingehaal het. Oplaas en in die drukgang van onderhandelinge was dit 'n politieke en elite-skikking. Soveel belangegroepe wat insette tot onderhandelinge kon lewer, is uiteindelik nie optimaal betrek by voorbereidings vir en die proses van onderhandeling nie. As gevolg van tydsdruk het sake soos groepsregte, taalregte, amnestie en ander morele kwessies op die kantlyn beland. Daar was uiteindelik ook net te veel benaderings en uiteenlopende perspektiewe, wat ook in die Afrikaner-Broederbond teenwoordig was. Dit het sake moontlik vererger.

Die uiteindelike ironie is dat die NP, wat Afrikanerbelange sou bevorder, in die nuwe bedeling in die ANC opgeneem is - 'n tragiese einde vir die Nasionale Party en die staatkundige prosesse wat die party deurlopend moes evalueer en monitor. Met dié inploffing het die NP sy verantwoordelikheid in die nuwe staatkundige bedeling teenoor sy ondersteuners, veral Afrikaners, versaak.

Afrikaners se uiteenlopende politieke verdelingspatrone van die verlede gaan steeds voort. Vandag bevind Afrikaners hulself steeds, soos in die verlede, in verskillende politieke partye met wyd uiteenlopende ideologiese oortuigings. Dit sluit nietemin nie uit dat Afrikaners vanuit verskillende agtergronde openhartig met mekaar kan en moet praat oor 'n kollektiewe staatkundige toekoms indien dit vir hulle belangrik is nie. Afrikaners moet leer uit die lesse van die verlede. Dit verg 'n balans in optrede oor sake wat Afrikaner-spesifiek is en sake wat elke Suid-Afrikaner, ook Afrikaners, raak.

 

BIBLIOGRAFIE

Afrikaner-Broederbond. 1968. 'n Historiese oorsig: Die Afrikaner-Broederbond (50 jaar) 1 Oktober 1968. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1977. Meesterplan vir afsonderlike ontwikkeling met die oog op 'n blanke toekoms, veral met betrekking tot die Bantoe Unie 1977. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1985a. Notule: Bondsraad 11 en 12 Oktober 1985 Hartbeesjeugterrein. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg:        [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1985b. Notule: Uitvoerende Raad 2 en 3 Augustus 1985. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1985c. Notule: Uitvoerende Raad 18 en 19 Februarie 1985. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1985d. Notule: Uitvoerende Raad 17-19 Januarie 1985. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1985e. Notule: Dagbestuur Uitvoerende Raad 12 Oktober 1985. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1986. Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner. (BSV) , November 1986. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1987. Notule: Uitvoerende Raad (Bylaag D Resultate van Dinkskrum Staatkundige ontwikkeling), 3 April 1987. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg:        [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1989. Konsep-riglyne vir die Staatkundige Gesprek, 1989. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1990a. Notule: Uitvoerende Raad Dagbestuur, 23 Oktober 1990. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1990b. Notule: Uitvoerende Raad Dagbestuur, 18 Mei 1990. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1990c. Notule: Uitvoerende Raad Notas vir gesprek met De Klerk, Viljoen en ander lede van kabinet, 10 Februarie 1990. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1990d. Notule: Uitvoerende Raad, 9 Februarie 1990. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg:        [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1990e. Notule: Uitvoerende Raad Informele notas in reaksie op die 2 Februarie 1990 aankondigings, 8 Februarie 1990. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg:        [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1991a. Notule: Uitvoerende Raad, 1 en 2 November 1991. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1991b. Stand van Grondwetlike Hervorming in Suid-Afrika, April 1991. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1992a. Notule: Uitvoerende Raad, 27 en 28 Maart 1992. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1992b. Notule: Uitvoerende Raad (Buitengewone vergadering), 25 Februarie 1992. AB Argiewe, Erfenisstigting. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikaner-Broederbond. 1996. Die AB se rol in die hervormingsproses dokumentebundel - 1 (Prof de Lange dokumentel). AB Hoofkantoor. Johannesburg: Afrikaner-Broederbond.         [ Links ]

Afrikanerbond. 1997. Draer van 'n Ideaal. AB Hoofkantoor. Johannesburg: Die Afrikanerbond.         [ Links ]

Cloete, F. 2021. Beleidsdiskriminasie, -verandering en entrepreneurskap: Beperkte politieke regte vir "Kleurlinge" in Suid-Afrika tot 1979. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 61(4-2):1-27. http://www.scielo.org.za/pdf/tvg/v61n4-2/03.pdf.         [ Links ]

Cloete, F. 2023. Die Nasionale Party se Machiavelliaanse strategieë vir demokratisering in die 1980's en 1990's in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 63(2):262-284. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a6.         [ Links ]

Cronje, F. 2013. Beyond the High Road: A scenario analysis of the prospects for political stability or instability in South Africa over the period to 2024. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

De Klerk, FW. 1998. Die outobiografie: Die laaste trek, 'n nuwe begin. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

De Klerk, FW. 2015. Ons toekoms is in ons eie hande. AB Hoofkantoor. Voortrekkermonument, Pretoria: Afrikanerbond.         [ Links ]

De Klerk, W. 1991. FW De Klerk : Die man en sy tyd. Kaapstad:Tafelberg.         [ Links ]

De Klerk, W. 1997. Gerrit Viljoen se leierskap van die Afrikaner-Broederbond. In: Louw, Bernhard & Van Rensburg, F. reds. Bestendige binnevuur: perspektiewe op Gerrit Viljoen by geleentheid van sy een en sewentigste verjaardag op 11 September 1997. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

De Klerk, W. 1999. Afrikaners, Kroes, kras, kordaat. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

De Lange, P. 1985. AB se take en doelwitte vir die Afrikaner in diejare tagtig, 11 Oktober 1985. Referaat gelewer by geleentheid van die Afrikaner-Broederbond Bondsraad, Hartbeesjeugterrein, 11 Oktober 1985.         [ Links ]

De Lange, P. 1990. Die AB in die negentiger jare. Referaat gelewer by die Afrikaner-Broederbond Bondsraad, Hartbeesjeugterrein, 10 Oktober 1990.         [ Links ]

De Lange, P. 1993. Die omvorming van die AB. Referaat gelewer by die Afrikaner-Broederbond Bondsraad, Hartbeesjeugterrein, 25 September 1993.         [ Links ]

De Lange, P. 2006. Onderhoud met Pieter de Lange deur Max Du Preez [Persoonlike onderhoud]. 2006. Ongepubliseerd. AB Hoofkantoor, Randburg.         [ Links ]

Du Preez, M. 2012. Intruduction to the 2012 Edition. In: Wilkins, I. & Strydom, H. eds. The Super-Afrikaners Inside the Afrikaner Broederbond. Jeppestown: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Easton, D. 1965. A Systems Analysis of political life. New York: John Wiley & Sons, Inc.         [ Links ]

Geldenhuys, D. 2022. Betwiste staatskap: Die TBVC-state in vergelykende internasionale perspektief. (LitNet Akademies. Geesteswetenskappe). https://www.litnet.co.za/betwiste-staatskap-die-tbvc-state-in-vergelykende-internasionale-perspektief/ [Toegang: 24 Maart 2022].         [ Links ]

Gevisser, M. 2009. Thabo Mbeki : the dream deferred. Jeppestown: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners : 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Heywood, A. 2013. Politics. Fourth Edition. Hampshire: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Kotzé, H & Van Wyk, K. 1986. Politieke konsepte. Johannesburg: Lex Patria - Perskor.         [ Links ]

Kriek, D. 1984. Easton. In: Faure, AK, DJ, reds. Die moderne politieke teorie. Durban/Pretoria: Butterworth, pp. 537-578.         [ Links ]

Meyer, P. 1963. Ons taak vorentoe. Referaat gelewer by die Bondsraad van die Afrikaner-Broederbond, Tweefontein, Bapsfontein, 21 Mei 1963.         [ Links ]

Meyer, P. 1968. Die geskiedenis van die AB en die AB in die hede. Referaat gelewer by die Bondsraad (Afrikaner-Broederbond), Tweefontein in Bapsfontein, 1 Oktober 1968.         [ Links ]

Pelzer, A. 1979. Die Afrikaner-Broederbond: Eerste 50 Jaar. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Plano, JC. 1976. Political science dictionary. Hinsdale, Ill: Dryden P.         [ Links ]

Roskin, MGCRLMJA. 1991. Political science : an introduction. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.         [ Links ]

Shonk, K. 2021. What is Conflict Resolution, and How Does It Work? https://www.pon.harvard.edu/daily/conflict-resolution/what-is-conflict-resolution-and-how-does-it-work/ Toegang: 22 Maart 2022.         [ Links ]

Sparks, A. 1995. Tomorrow is another country : the inside story of South Africa's negotiated revolution. Sandton: Struik.         [ Links ]

Stals, ELP. 2021. Die Broederbond: Die Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond, 1918-1994. Johannesburg: Die Afrikanerbond.         [ Links ]

Theron, P. 2021. Onderhoud met Prof. Piérre Theron [Persoonlike onderhoud]. 15 Desember 2021, Ongepubliseerd: Navorsingsonderhoud in Groot-Brakrivier, deur Jan Bosman. AB Hoofkantoor, Randburg.         [ Links ]

Verloren van Themaat, J & Wiechers, M. 1985. Staatsreg. Durban: Butterworth.         [ Links ]

Viljoen, G. 1980. Die balans tussen ideaal en werklikheid. Referaat gelewer by die Afrikaner-Broederbond Bondsraad, Hartbeesjeugterrein, 2 September 1980.         [ Links ]

Waldmeir, P. 1997. Anatomy of a miracle : the end of Apartheid and the birth of a new nation. London: VIKING.         [ Links ]

Welsh, D. 2009. The rise and fall of apartheid. Johannesburg; Cape Town: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Zartman, I. 1987. The 50% solution: How to bargain successfully with hijackers, strikers, bosses, oil magnates, Arabs, Russians, and other worthy opponents in this modern world. New Haven & London: Yale University Press.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-05-09
Goedgekeur: 2023-10-23
Gepubliseer: Desember 2023

 

 

 

Jan Bosman verwerf 'n Magister Artium in Politieke Studies aan die Noordwes-Universiteit. Vir die verhandeling wat in 2022 voltooi is, het hy navorsing gedoen oor die rol van die Afrikaner-Broederbond in die totstandkoming van 'n onderhandelde skikking. Omdat die verhouding tussen die Afrikaner-Broederbond en die Nasionale Party so nou verweef was in daardie tyd, was die persepsie dat die Afrikaner-Broederbond onvoorwaardelik die onderhandelinge en die uitkomste aanvaar het. Die doel van die navorsing was om die spesifieke rol wat die AfrikanerBroederbond binne die historiese verband van die 1980's en 1990's gespeel het, vanuit 'n historiese en stelselanalitiese perspektief, verder te ondersoek en te omskryf. Die navorsing is kwalitatief van aard en het primêr berus op 'n omvattende literatuurstudie en verskeie bronne in die argief van die Afrikaner-Broederbond is geraadpleeg. Jan Bosman is die hoofsekretaris van die Afrikanerbond.
Jan Bosman obtained a master's degree in Political Studies at the North-West University. For the thesis completed in 2022, he researched the role of the Afrikaner-Broederbond in the establishment of a negotiated settlement. Because the relationship between the Afrikaner-Broederbond and the National Party was so closely entwined during that period, it was generally assumed that the Afrikaner-Broederbond had accepted the negotiations and outcomes unconditionally. The aim of the research was to further investigate and describe the specific role played by the Afrikaner-Broederbond from a historical context and system-analytical perspective. The research is of a qualitative nature and based primarily upon an extensive literature study and various sources in the archives of the Afrikaner-Broederbond were consulted. Jan Bosman is the chief secretary of the Afrikanerbond.

 

 

André Duvenhage is 'n Navorsingsprofessor aan die NWU; 'n politieke wetenskaplike, en hy spesialiseer in die veld van politieke verandering, toegepas op die Suid-Afrikaanse verband. Hy is 'n bekende in media- en joernalistieke kringe en word dikwels as politieke kommentator gehoor. Hy is reeds meer as 35 jaar verbonde aan akade-miese instellings, soos die UVS en die NWU. Sy groot belangstelling is die toekoms en hy werk ook in die veld van scenario-ontledings.
André Duvenhage is a Research Professor at the NWU; a political scientist, and he specialises in the field of political change as applied to the South African context. He is well-known in media and journalistic circles, and is often heard as political commentator. He has been attached for more than 35 years to academic institutions like the UFS and the NWU. His major interest is the future and he also works in the field of scenario analysis.
* Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns word opreg bedank vir die beskikbaarstel-ling van 'n beurs wat die navorser in staat gestel het om die navorsing te onderneem. Die Afrikanerbond word ook bedank vir die ruim bydrae tot studiegelde en wat tyd en argief beskikbaar gestel het vir navorsing.
1 Daar moet vermeld word dat dr. Willem de Klerk lid van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad was.
2 Dr. Gerrit Viljoen was voorsitter van die Afrikaner-Broederbond (1974-1980) en ook NP-kabinetslid - vanaf 1980 as Minister van Onderwys en vanaf 1989 tot 1992 as Minister van Staatkundige Ontwikkeling.
3 Die Bondsraad was die hoogste gesagsliggaam van die Afrikaner-Broederbond.
4 Mbeki was toe die ANC se direkteur van inligting en Secretary for Presidential Affairs. (Welsh, 2009:200).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License