SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3Taboo language use as a key element in the construction of a zef identity'n Lofrede vir taal índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a16 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

JHWH - Koning, Kryger (en Herder) in Sefanja 3:14-20

 

YHWH - King, Warrior (and Shepherd) in Zephaniah 3:14-20

 

 

SD (Fanie) Snyman

Departement Ou en Nuwe Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: snymansd@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die probleem wat aan die orde gestel word, is die vraag na die teologiese seggingskrag van Sefanja 3:14-20. Om die vraagstelling te beantwoord word daar gefokus op die metafore waarmee JHWH beskryf word. In verse 14-17 word die metafore van koning en kryger in terme van JHWH gebruik, terwyl verse 18-20 die herder-metafoor suggereer. Metafore word gebruik binne 'n literêre konteks en daarom word daar aandag gegee aan die literêre opbou van die teks of perikoop. Noodsaaklikerwys word die teks dan ook binne ' n historiese raamwerk geplaas om verder lig te werp op die betekenis van die teks. Hierdie proses stel die eksegeet in staat om ' n teologiese interpretasie van die teks te konstrueer. Die literêre opbou van die gedeelte toon die prominente voorkoms van chiasme as literêre tegniek aan. Die perikoop word beskou as 'n slottoevoeging tot die boek Sefanja. Dit is waarskynlik tydens die Babiloniese ballingskap bygevoeg. Die koning-metafoor dui op JHWH as die Een wat die magteloses onder die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos en onderdrukkers verpletter. Met JHWH as kryger word JHWH geteken as die teenwoordige God wat veral reddend optree ten behoewe van die volk. Die herder-metafoor kommunikeer die idee van JHWH as die Een wat versorgend, bewarend, voedend, beskermend teenoor sy volk optree wat kwesbaar, afhanklik en van hulp afhanklik is. Ten slotte word riglyne vir die prediking van die gedeelte voorgestel.

Trefwoorde: metafoor; literêre opbou; chiasme; koning; kryger; herder; Gods-beskouings; heilsprofesie; teologiese interpretasie; prediking


ABSTRACT

The problem addressed in this contribution is the question concerning the theological message of Zephaniah 3:14-20. Ultimately, the main reason for reading the Bible whether by lay people or professional theologians and pastors, is to determine a theological message of a passage, a chapter and even a book in the Bible. The methodological approach followed to answer this problem statement is to focus on the metaphors used to describe YHWH. Zephaniah is a book known for its use of metaphors in a productive and innovative way. To determine the theological intent of this passage via an investigation into the metaphors used in terms of YHWH seems to be an appropriate way to arrive at valid answers to the question posed. The passage of Zephaniah 3:14-20 can be divided into two parts, verses 14-17 and 18-20 respectively. Verses 14-17 make use of two metaphors, YHWH as king and YHWH as warrior. In verses 18-20 the metaphor used is that of YHWH as shepherd. The metaphors occur within a literary text and consequently attention has to be paid to the literary structure of the passage. In both parts of the passage (verses 14-17; 18-20) the literary device of chiasm is used. The historical situation of the passage is also investigated, and it has been established that the closing verses of the book of Zephaniah most probably represent an editorial addition sometime during the Babylonian exile. The metaphor ofking denotes the idea of YHWH as the One who is concerned about the rights of the powerless and to rescue them from oppressors. The metaphor of YHWH as warrior is related to the metaphor of king and conveys the idea of YHWH as a mighty saviour, present in the midst of his people to accomplish the salvation of his people. The third metaphor used is that of YHWH as shepherd. The metaphor of shepherd is also closely related to the metaphor ofking. Kings are often seen as shepherds to their people. YHWH as shepherd is the One who cares for his people, feed them and guard them against possible enemies. In this passage YHWH shepherding his people will ultimately lead to their restoration as a people. The restoration will consist of rescuing the lame and the gathering of those who have been exiled. It is promised to them that they will once again receive honour and praise among the other nations of the earth. The people are addressed as "daughter of Zion" and "daughter of Jerusalem" emphasising weakness and vulnerability, in contrast to the metaphors of king, warrior and shepherd suggesting the might of JHWH and his ability to rescue his people. Finally, some guidelines are provided to aid preachers to deliver a sermon based on this passage. It is suggested that YHWH is presented to the people as king, warrior, and shepherd. In response to this message people are called upon in four imperatives to sing, shout, rejoice and be hopeful even in spite of the dire situation of the exile. They are also encouraged not to fear and not to "let their hands hang limp" meaning that they should act in a brave way. Current times demand that believers keep focusing on JHWH as king, hero, and shepherd. Consequently, they will adhere to the call to sing and rejoice irrespective of the difficult times believers have to endure. When God is confessed as king there is also no need to fear earthly rulers. Finally, in a time where there is a danger of losing courage and will power, believers are urged to live courageously despite the circumstances because JHWH is in their midst and He assures them of his love.

Keywords: metaphor; literary structure; chiasm; king; warrior; shepherd; beliefs about God; prophecy of salvation; theological interpretation; preaching


 

 

1. Inleiding, probleemstelling en metodologiese opmerkings

Lesers van die Bybel in die algemeen, en predikante, teoloë en Bybelwetenskaplikes in die besonder, lees die Bybel met die oog op 'n beter verstaan daarvan. Kortom, uiteindelik is dit die teologiese betekenis of boodskap van 'n teks, perikoop, hoofstuk en selfs 'n Bybelboek as geheel wat gepeil moet word. Om Bybeltekste te verstaan word ' n al groter uitdaging namate die historiese en sosio-kulturele afstand tussen huidige lesers van die Bybel en die teks van die Bybel self, groter en groter word. Strawn (2017) toon aan dat die Ou Testament ' n vreemde en onverstaanbare boek geword het. In 'n resente publikasie (Kerk-Net, 6 Maart 2023) word die volgende standpunt gestel: "Uit onderzoek blijkt dat heel wat mensen die de Bijbel lezen, het moeilijk vinden om de tekst te verbinden met de eigen tijd". Die resultate van hierdie ondersoek wat onder Rooms-Katolieke Bybellesers in Europa gedoen is, geld waarskynlik ook vir Bybellesers in Suid-Afrika. Selfs net 'n ietwat meer noukeurige lees van 'n teks uit die Bybel lewer probleme op wat die aanvanklike naïewe interpretasie en toepassing van die teks bevraagteken.

Die laaste perikoop in die boek Sefanja (Sef 3:14-20) is geen uitsondering wat die problematiese aard van tekste uit die Bybel betref nie. Die vertaling van vers 17 is 'n voorbeeld van die problematiek verbonde aan die perikoop. 'n Vergelyking tussen die 1933/53-, 1983- en 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans wys die problematiek van die perikoop duidelik uit. Volgens die 1933/53-vertaling word die een versreël vertaal met "Hy swyg in sy liefde". Die 1983-vertaling lees "Hy is stil-tevrede in sy liefde" terwyl die 2020-vertaling die versreël vertaal met "Hy maak jou stil met sy liefde". Volgens die 1933/53-vertaling is JHWH stil (swygend) in sy liefde. Volgens die 1983-vertaling is dit ook JHWH wat stil is in sy liefde vir sy volk, maar volgens die 2020-vertaling is dit Israel as volk van die Here wat stil gemaak is met die liefde van JHWH. Die probleem word gekompliseer deur Engelse vertalings met mekaar te vergelyk. Die bekende New International Version (NIV) vertaal die teks as "He will quiet you with his love" terwyl die ewe bekende New Revised Standard Version (NRSV) die versreël vertaal as "he will renew you in his love". Die ooglopende verskille in die vertaling vra na opklaring. Die laaste versreël van vers 17 sê dat JHWH sal jubel/juig oor sy volk. Wat moet verstaan word met die uitdrukking is problematies, aangesien dit gewoonlik mense is wat opgeroep word om oor JHWH te jubel en te juig terwyl dit hier handel oor JHWH wat jubel/juig oor sy volk. Vers 18 stel ook groot uitdagings aan die eksegeet van die gedeelte. Soos later aangetoon word, beskou heelwat uitleggers die teks as haas onverstaanbaar.

Om die vraag na die teologiese seggingskrag van die gedeelte te peil, word daar in die ondersoek gefokus op die beelde of metafore waarmee JHWH beskryf word. JHWH word in verse 14-17 beskryf as Koning en Kryger (held). Hoe moet die metafore vir JHWH verstaan word? Word daar in die daaropvolgende verse (18-20) 'n skuif gemaak na 'n ander metafoor as beskrywing van JHWH? Hierdie vrae illustreer die probleme wat die teks oproep in die soeke na ' n beter verstaan van die teks.

Om die teologiese betekenis van die perikoop enigsins te peil, word daar in die ondersoek gefokus op hoe JHWH beskryf word. Dat daar spesifiek op JHWH gefokus word, word doelbewus gedoen. Alreeds in 2001 het Schneiders (2001:71) die opmerking gemaak dat die belangrike vraag in die 21ste eeu, die vraag na God gaan wees. JHWH word met twee prominente metafore beskryf in verse 14-17 terwyl daar in verse 18-20 'n verdere metafoor vir JHWH gebruik word. Nel (2006:20) toon aan hoedat Sefanja veral die stylfiguur van metafoor en vergelyking produktief ontgin. Dit is dus gepas om die metafore wat vir JHWH gebruik word in die gedeelte van naderby te ondersoek. JHWH is beide koning (vers 15) en kryger (vers 17). Beide hierdie metafore is vir hedendaagse lesers problematies. Die idee van ' n koning (' n monargie) wat regeer, is vreemd in hedendaagse demokrasieë. Koningshuise het vandag hoogstens simboliese betekenis wat ver verwyderd is van die absolute heersersrol wat konings in die Ou Nabye Ooste gespeel het in Ou Testamentiese tye. Die metafoor van JHWH as ' n held (volgens die Afrikaanse vertalings van die teks) of kryger is selfs nog vreemder. JHWH as kryger roep ' n beeld op van ' n God wat met geweld sy mag uitoefen.

Dempsey (2021:96) maak die opmerking dat metafore wat in die profetiese literatuur van die Ou Testament vir God gebruik word, nie geskei kan word van die globale wêreld waarin lesers van die Bybel leef nie. Die wêreld waarin profetiese en ander tekste in die Bybel gelees word moet ook in ag geneem word wanneer tekste uitgelê en metafore geïnterpreteer word. Wanneer dit wat die perikoop via metafore oor JHWH sê, gepeil is, sal die teologiese seggingskrag van die teks hopelik duideliker word. Watter betekenis sou die teologiese seggingskrag van metafore in die profetiese literatuur hê vir huidige lesers van die profetiese literatuur, is ' n verdere vraag wat ook aangespreek word. Metodologies word die teks dus literêr gelees met ' n fokus op die interpretasie van die metafore wat vir JHWH gebruik word.

Taal skep werklikheid en metafore in besonder is ' n sentrale aspek van die manier waarop Israel oor God praat (Brueggemann, 1997:70). Eintlik kan daar nie anders oor God gepraat word as met gebruikmaking van metafore nie. Konsepte oor God lê ingebed in metafore in die Boek van die Twaalf (Nogalski, 2021:109). Trouens, metafore bepaal mense se verhouding met God (Dempsey, 2021:87). Die verskeidenheid van metafore in terme waarvan oor God gepraat word, beklemtoon die rykdom, diversiteit en verskeidenheid van maniere waarop en waardeur JHWH bekend gemaak word. Metafore skep op 'n kreatiewe manier verband tussen die konkrete en abstrakte konsepte sodat die abstrakte konsepte beter verstaanbaar word. Dit is by uitnemendheid van toepassing op 'n versameling godsdienstige geskrifte soos die Ou Testament/Hebreeuse Bybel. Wanneer God beskryf word as herder, vader, skepper, verlosser, regter, rots, lig ensovoorts word die onkenbare God, via konkrete sake meer verstaanbaar, kenbaar en toeganklik. Taal tipies aan en behorende tot die mens en sy/haar omgewing word gebruik en toegepas op God (Brettler, 1989). Vir Wren (1988:300-302) is metafore in terme van God geopenbaarde misterie en op dié manier beïnvloed dit mense se denke oor en verstaan van God. Metafore wat gebruik word, word gebruik binne ' n literêre konteks en daarom word daar aandag gegee aan die literêre opbou van die teks of perikoop. Noodsaaklikerwys word die teks dan ook binne ' n historiese raamwerk geplaas om verder lig te werp op die betekenis van die teks. Hierdie proses stel die eksegeet in staat om 'n teologiese interpretasie van die teks te konstrueer. Ten slotte word daar ook enkele homiletiese riglyne gegee vir diegene wat daaruit wil preek.

 

2. Teks en vertaling van Sefanja 3:14-20

2.1 1933/53- Afrikaanse vertaling

14 Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem!

15 Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie.

16 In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie!

17 Die HERE jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.

18 Die wat bedroef is, ver van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou, die smaad druk swaar op hulle.

19 Kyk, in dié tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.

20 In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot 'n roem en tot 'n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE.

2.2 1983- Afrikaanse vertaling

14 Sing, Sion! Juig, Israel!

Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!

15 Die Here het 'n einde gemaak aan jou straf,

Hy het jou vyande laat padgee.

Die Koning van Israel, die Here is by jou;

Jy hoef geen ramp meer te vrees nie.

16 Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word:

Moenie bang wees nie, Sion,

Moenie jou hande moedeloos laat hang nie!

17 Die Here jou God is by jou,

Hy, die krygsman wat red.

Hy is vol vreugde oor jou,

Hy is stil-tevrede in sy liefde.

Hy jubel en juig oor jou.

18 Ek maak dié bymekaar wat treur,

ver van die feestelikheid af,

dié wat uit jou uit kom

en ter wille van jou die smaad gedra het.

19 Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,

Ek gaan die kreupeles help,

Die verstrooides bymekaarmaak

en die vernedering wat hulle moes ondergaan,

in eer verander,

in roem oor die hele aarde.

20 Wanneer die tyd daar is,

laat Ek julle kom,

maak Ek julle bymekaar

en gee aan julle roem en eer

onder al die volke op aarde;

dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,

julle sal dit met julle eie oë sien,

sê die Here.

2.3 2020- Afrikaanse vertaling

14 Jubel van vreugde,

dogter van Sion,

roep dit uit, Israel!

Verbly en verheug jou

met jou hele hart,

dogter van Jerusalem!

15 Die Here het die oordele oor jou afgewend,

jou vyande uit die weg geruim.

Die Koning van Israel, die HERE, is in jou midde;

Jy sal geen onheil meer vrees nie.

16 Op daardie dag sal vir Jerusalem gesê word:

"Moenie vrees nie, Sion;

Moenie dat jou moed jou begewe nie.

17 Die HERE jou God is in jou midde, 'n held wat verlos.

Hy verheug Hom met blydskap oor jou,

Hy maak jou stil met sy liefde.

Hy sal oor jou juig met jubelkrete".

18 "Die getreur by die fees sal Ek van jou wegneem,

dit is ' n las op jou, ' n skande.

19 Kyk, Ek sal dan afreken

Met almal wat jou in daardie tyd verdruk het.

Ek sal die verlamdes verlos,

en hulle wat uitmekaar gejaag is, bymekaar maak.

Ek sal hulle roem en aansien gee

in elke land waar hulle verneder is.

20 In daardie tyd sal Ek julle laat kom,

terselfdertyd sal ek julle bymekaarmaak.

Ja, Ek sal vir julle onder al die nasies op aarde aansien en roem gee

wanneer Ek julle lot voor julle oë verander", sê die HERE.

 

3. Die literêre opbou en historiese situasie van Sefanja 3:14-20

3.1 Die makro-struktuur van die boek Sefanja

Geleerdes verdeel gewoonlik die boek hoofsaaklik in die volgende dele: Naas die opskrif van die boek in Sefanja 1:1 volg Sefanja 1:2-2:3 wat bestaan uit oordeelsuitsprake wat universele implikasies het (1:2-3) maar wat dan fokus op uitsprake teen Juda en Jerusalem (1:4-2:3), Sefanja 2:4-15 wat oordeelsuitsprake bevat teen ander nasies en stede soos Gasa, Askelon, Asdod, Ekron, Kretense, Moab, Ammon en Assirië. Die derde deel bestaan uit Sefanja 3:1-8 met nog 'n oordeel oor Jerusalem gevolg deur die slot van die boek (3:9-20) wat die herstel van die nasies en Juda verkondig (Quine, 2021:500). Sefanja 3:9-20 kan verder verdeel word in 3:9-13 en 3:14-20 (Snyman, 2020:101; Renz, 2021:431).

3.2 Die literêre opbou van Sefanja 3:14-20

Sefanja 3:14-20 vorm die laaste perikoop van die boek. Sefanja 3:14 open met 'n reeks van imperatiewe (jubel, roep uit, verbly, verheug) wat die gedeelte onderskei van die voorafgaande perikoop (3:9-13). Die perikoop kan verdeel word in twee kleiner eenhede wat bestaan uit Sef. 3:14-17 en 3:18-20. Die onderskeid tussen 3:14-17 en 3:18-20 lê in die feit dat verse 1417 'n uitspraak van die profeet bevat wat handel oor dit wat JHWH (gaan) doen terwyl in 3:18-20 JHWH self aan die woord (vgl. die eerste persoon enkelvoudsvorme) is met 'n heilstoesegging en wat afgesluit word met "sê die HERE" in vers 20. Die opvallende verskil in woordeskat tussen die twee gedeeltes bevestig die onderskeid tussen 3:14-17 en 3:18-20 verder.

Tekskrities is dit veral vers 17 wat ' n crux interpretum is. Soos reeds in die inleiding genoem, is dit 'n vraag hoe die frase "Hy sal stil wees in sy liefde" (letterlik vertaal) verstaan moet word. Die bedoeling is waarskynlik dat JHWH sal stil wees oor die oortredings van die volk juis op grond van sy liefde vir die volk. Terwyl JHWH dus stil is betreffende sy oordeel oor die volk op grond van sy liefde vir die volk, juig Hy saam met sy volk. Geleerdes (Clark & Hatton, 1989:200) het uitgewys dat die uitdrukking dat JHWH stil sal wees in spanning verkeer met die uitsprake dat JHWH soos die volk sal jubel en juig. Verder is dit ook nie duidelik wat bedoel word as die frase vertaal word met "Hy sal stil wees in sy liefde" nie. Inderdaad lees die Septuagint en die Peshitta hier anders dat JHWH "sal hernu in sy liefde" met die bedoeling dat Hy die verhouding met sy volk sal hernu deur sy liefde. Hierdie alternatiewe lesing berus daarop dat 'n ander werkwoord gebruik sou word () in plaas van die Masoretiese Teks se lesing ()). Die argument is dat die Hebreeuse letters 'dalet' ()) en 'resh' ()) baie na mekaar lyk en dat die lesing van die Masoretiese Teks aan 'n skryffout toegeskryf kan word (Ben-Zvi, 1991:249-250; Dietrich, 2016:240; Renz, 2021:622). Die gedagte van ' n hernude verhouding met die volk, wys ook in die rigting van ' n eksiliese datering van die perikoop omdat die oordeel van die ballingskap nou iets van die verlede is en daar ' n nuwe verhouding tussen JHWH en sy volk begin. Beide die lesings het meriete en dit is moeilik om 'n finale keuse te maak tussen die twee. Die konteks van 'n oproep tot jubeling van JHWH wil die skaal aan die een kant laat kantel in die rigting van die lesing van die Septuagint en die Peshitta. Tegelykertyd moet opgemerk word dat die alternatiewe lesing berus op 'n konjunktuur gemaak op grond van twee vertalings van die Hebreeuse teks. In die lig van hierdie tekskritiese argument word 'n versigtige voorkeur uitgespreek om die moeiliker lesing van die die Masoretiese Teks te behou. In sy liefde hernu JHWH sy verhouding met sy volk. Parallel hiermee juig JHWH met blydskap en jubelkrete.

Die eerste deel van die perikoop (3:14-17) vertoon 'n interessante en kunstige opbou. Daar is kommentare wat weinig of geen belangstelling toon in die spesifieke opbou van 3:1417 nie (Van der Woude, 1978:135-139; Szeles, 1987:110-113; House, 1988:60-61; Clark & Hatton, 1989:196-200; Roberts, 1991:219-223; Vlaardingerbroek, 1993:200-211; Kirkpatrick, 1993:146; Floyd, 2000:243; Udoekpo, 2010:161-165). Dit was die resultate van Ball (1972) se ondersoek wat die aandag gevestig het op die opbou van 3:14-17 as 'n afsonderlike gedeelte onafhanklik en los van die daaropvolgende verse 18-20. Volgens Ball (1972:270) vertoon 3:14-17 'n kombinasie van beide parallelisme en chiasme. Volgens Ball (1972:263) moet 3:14-17 verdeel word in twee kolomme. Kolom I bevat verse 14-15 en Kolom II bevat verse 16-17. Elk van die twee kolomme kan dan weer verdeel word in twee gedeeltes: Kolom I bestaande uit vers 14 (A) en vers 15 (B) met Kolom II bestaande uit vers 16 (A') en vers 17 (B'). So gesien vorm die gedeelte 'n onmiskenbare parallelisme. Tegelykertyd is daar ook 'n drievoudige "motief chiasme" (Ball, 1972:270 se term) te bespeur: die aktiwiteit van JHWH in vers 15ab (A), die titel van JHWH in vers 15c (B), die teenwoordigheid van JHWH in vers 15d (C) en die respons van die volk in vers 15e (D). In verse 16-17 word die volgorde presies omgekeer om dan ' n chiasme te vorm: die respons van die volk in vers 16 (D), die teenwoordigheid van JHWH in vers 17a (C), die titel van JHWH in vers 17b (B) en die aktiwiteit van JHWH in die res van vers 17 (A).

Motyer (1998:956) het ook 'n chiastiese struktuur in verse 14-17 opgemerk: (A) Die vreugde van Sion oor JHWH (vers 14); (B) JHWH tree op ten behoewe van sy volk (vers 15a); (C) die Koning JHWH is by jou (vers 15b); (D) Vrees nie, Sion (vers15c-16); (C') JHWH is by jou (vers 17a); (B') JHWH red sy volk (vers 17b); (A') JHWH se blydskap oor sy volk (vers 17c).

Nogalski (2011:748) merk 'n chiastiese opbou in verse 14-17 op: (A) Sing Sion (verse 14-15a); (B) Die Koning JHWH is by jou (vers 3:15b); (C) Vrees nie (3:15c); (C') Vrees nie Sion (vers 3:16); (B') JHWH die Kryger is by jou (vers 17a); (A') JHWH is bly oorjou (3:17b).

Dietrich (2016:241-242) het ook 'n linguistiese chiasme opgemerk in verse 14-17: (A) Sing (vers 14a), (B) Juig (vers 14b), (C) in jou midde (vers 15ba), (D) Vrees nie (vers 15bb), (D') Vrees nie (vers 16), (C') in jou midde (vers 17a), (B') Met vreugde (vers 17ba), (A') met gejubel (vers 17bb).

Renz (2021:627) het wat hy noem "'n palistrofiese hergebruik van sleutelwoorde opgemerk wat neerkom op 'n chiastiese opbou van verse 14-17: "Laat klink" in vers 14a (A), "wees bly" in vers 14b (B), "in jou midde" in vers 15a (C), "vrees nie" in vers 15b (D), "vrees nie" in vers 16a (D), "injou midde" in vers 17a (C), "met blydskap" in vers 17b (B) en "laat weerklink" in vers 17c (A).

Die voorstel wat hier gemaak word (anders as die resultate van vorige ondersoeke hier bo vermeld) is dat verse 14-17 ' n dubbele chiasme vorm. Dit is opmerklik dat vers 14 begin met 'n oproep aan Sion/Jerusalem om te sing (). Die eerste woord van die perikoop is dan ook die laaste woord in vers 17 maar hierdie keer is dit JHWH wat sal sing (). So gesien, vorm verse 14-17 ' n afgeronde eenheid wat onderskei moet word van die daaropvolgende verse 18-20. Vers 14 roep Sion/Israel ook op om haar te verheug () terwyl vers 17 dieselfde werkwoord () gebruik maar hier word dit in terme van JHWH gebruik as die een wat Hom moet verheug. So gelees, word 'n chiasme gevorm: (A) Sing Sion/Jerusalem (), (B) Verheug jou Sion/Jerusalem (), (B1) JHWH moet Hom verheug (), (A1) JHWH moet sing (). Daar is ook 'n tweede chiasme in verse 14-17: (A) JHWH is in die midde van Israel () (vers 15), (B) Israel sal geen onheil meer vrees nie () (vers 15), (B1) Vrees nie, Sion () (vers 16), (A1) JHWH, jou God, is in jou midde van () (vers 17). Die chiastiese opbou van die gedeelte word verder versterk deur te let op die volgorde waarin Sion en Jerusalem voorkom: Sion (vers 14), Jerusalem (vers 14), Jerusalem (vers 16), Sion (vers 16) en wat dus ook 'n AB-BA-patroon volg. Dit is opvallend dat die twee prominente metafore van koning en kryger vir JHWH deel is van die tweede chiasme. JHWH is teenwoordig by sy volk as die Koning van Israel en Hy is tegelykertyd teenwoordig by sy volk as die Kryger wat red. Die komplekse en kunstige chiastiese struktuur is ' n belangrike oorweging ten gunste van die verdeling van verse 14-17 en verse 18-20 in twee afsonderlike eenhede.

Verse 18-20 vorm 'n sub-eenheid wat duidelik te onderskei is van verse 14-17 soos reeds hier bo aangetoon. Inhoudelik handel verse 14-17 meer oor JHWH se optrede teenoor sy volk en die interne gevolge van sy optrede. Verse 18-20 het 'n wyer blik. Hier word JHWH se optrede teenoor sy volk uitgespel. Hulle roem en eer gaan oor die hele aarde (vers 19) herstel word, en dit sal onder al die volke van die aarde bekend (vers 20) word. Vers 18 is 'n moeilike vers om sinvol te vertaal (House, 1988:133; Ben-Zvi, 1991:252; Mendecki, 1991:27; Motyer, 1998:960; Hadjiev, 2012:416-420; Snyman, 2020:137; Renz, 2021:635).Nel (2006:84) maak byvoorbeeld die opmerking dat die "vers feitlik onverstaanbaar is en in geen manuskrip of vertaling word dieselfde lesing aangetref nie". Die algemene gedagtegang van die vers is dat daar nie plek is vir treur by ' n geleentheid waar daar fees gevier word nie. In die lig van die hernude en herstelde verhouding met JHWH is daar nou rede vir feestelikheid eerder as vir treur. Motyer (1998:961) het 'n chiastiese opbou in vers 19 opgemerk: (A) geen onderdrukkers meer nie (vers 19ab); (B) die persoonlik hulpeloses gered (vers 19c); (B1) die persoonlik verworpenes bymekaar gemaak (vers 19d); (A1) geen skaamte meer nie, slegs universele lof (vers 19cf). Vers 19 kan ook gesien word as 'n dubbele chiasme. Aan die een kant is vers 19 as ' n antitetiese chiasme gestruktureer: (A) JHWH gaan optree teen onderdrukkers; (B) verlamdes gaan verlos word; (B1) verstrooides gaan bymekaar gemaak word; (A1) die wat verneder is, sal lof en aansien geniet.

Die rolle word dus omgekeer: JHWH gaan optree teen die wat die volk onderdruk het, terwyl die volk tot 'n eer en roem herstel gaan word. Teenoor 'n ervaring van verdrukking staan die lof en roem wat vir die volk voorlê. Vers 19c vorm ook 'n chiasme: (A) Ek gaan verlos (B) die verlamdes (B1) en die wat uitmekaar gejaag is (A1) gaan Ek bymekaar maak. Die uitdrukking "aansien en roem" () is ook in 'n ABBA-patroon gestruktureer in verse 19 en 20.

Vers 20 is tot 'n groot mate 'n herhaling en dus bevestiging wat in vers 19 reeds gesê is. Die herhaling kan gesien word in die bykans woordelikse herhaling van frases wat in vers 19 gebruik word en dan weer in vers 20 herhaal word: "in daardie tyd" (); bymekaar maak (); lof en roem (); "hele aarde" (). Verse 19-20 bind dus nouer met mekaar as met vers 18.

 

4. Die historiese situasie van Sefanja 3:14-20

Volgens Sefanja 1:1 bevat die boek "die woord van die HERE aan Sefanja" gedurende die tyd van "Josia, seun van Amon, koning van Juda". Dit plaas die historiese konteks van die boek ongeveer in jare 639-609vC (II Konings 22-23; II Kronieke 34:1-35:19). Daar is egter goeie rede om die slot van Sefanja in 3:14-20 te beskou as twee (3:14-17; 18-20) redaksionele byvoegings tot die boek wat in die tyd van die Babiloniese ballingskap (587-539vC) gemaak is (Mendecki, 1991:27-32; Werse, 2018:580). Die beklemtoning van JHWH as koning sonder enige verwysing na die Dawidiese koningshuis dui op ' n tyd toe die Dawidiese koningshuis tot ' n einde gekom het wat inderdaad gebeur het met die val van Jerusalem en die tempel gedurende die jare rondom 587vC. Die ballingskap is gesien as JHWH se straf op die volk se sonde maar "die HERE het die oordele oor jou afgewend" (vers 15). Die volk "wat uitmekaar gejaag is" (vers 19) met die ballingskap sal die HERE weer "bymekaar maak" (vers 19). Vers 20 stel dit selfs nog duideliker: "In daardie tyd sal Ek julle laat kom, terselfdertyd sal Ek julle bymekaar maak". Die ballingskap gaan dus tot 'n einde kom en die volk kan weet dat hulle klaar gestraf is vir die oortredinge wat hulle begaan het. Die woorde van die gedeelte pas dus goed in die konteks van die Babiloniese ballingskap. Al is die tempel (die simbool van JHWH se teenwoordigheid) verwoes, is en bly JHWH tog in hulle midde en is Hy dus nog steeds teenwoordig. Al het die Dawidiese koningshuis tot 'n einde gekom, is JHWH die Koning van sy volk. Al is die volk in ballingskap sal JHWH soos 'n herder sy verstrooide volk weer bymekaarmaak en hulle aansien en roem onder die nasies herstel (vers 20). Dit is interessant dat Brueggemann (1997:260) die opmerking maak dat die herder-metafoor juis en veral prominent in die tyd van die ballingskap voorkom.

 

5. Metafore vir JHWH in Sefanja 3:14-20

5.1 JHWH is Koning

Metafore bring eienskappe van een domein in verband met 'n ander domein. In die geval word die domein van ' n koning in die Israelitiese/Judese samelewing in verband met God gebring. Vir Brueggemann (1997:238) is die metafoor van koning 'n manier om van JHWH se werk te getuig. Hy het die skepping so georden dat dit 'n leefbare en betroubare plek vir alle lewendes is. Die metafoor van JHWH as koning het, aldus Brueggemann (1997:239-240), veral twee funksies gehad. Eerstens het die koningskap van JHWH alle ander vorme van regering gede-absoluteer en selfs gedelegitimeer. Nie die farao van Egipte of Nebukadneser van Babilonië het absolute koninklike mag nie. Tweedens het JHWH se koningskap te doen met JHWH se ruimhartige en empatiese versorging van diegene wat in nood is soos weduwees, weeskinders en vreemdelinge (Deut 10:18). Dit is insiggewend dat die twee vereistes vir 'n Israelitiese koning wat in Deuteronomium 17:14-20 gegee word, nie fokus op die heersersfunksie van die koning nie, maar eerder op sy gehoorsaamheid aan die Torah van JHWH. Psalm 72 wat as ' n gebed vir ' n koning gelees kan word, is ook ' n relevante verwysingspunt. Die koning is die een wat met geregtigheid oordeel (Ps 72:2). JHWH se koningskap het ook te doen met die herstel van die indiwiduele Israeliet en die volk as geheel. Volgens Psalm 72:3 is JHWH die Een wat die magteloses onder die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, en onderdrukkers verpletter. God is vir sy volk wat ' n koning in Israel/Juda moet wees. Dit is vir Juda goed en voordelig om JHWH as koning te hê. As die koning wat teenwoordig is, is JHWH die Een wat sekerheid, vrede, vrugbaarheid en veiligheid van vyande waarborg (Moore, 2009:147). Kortom, JHWH as koning is daar tot die voordeel van die volk.

Gegee die konteks van ' n oproep om te jubel, die oordeel wat nie meer geld nie, met vyande wat nie meer ' n bedreiging is nie, en die versekering van JHWH se teenwoordigheid, is die gedeelte ' n viering van JHWH se koningskap. Die metafoor van JHWH se koningskap is die dominante metafoor en nie die een van regter of bruidegom soos wat Szeles (1987:111112) beweer nie. Soos reeds hier bo aangetoon, is deel van die koning se verpligting die verantwoordelikheid om reg te laat geskied aan die weerloses in die gemeenskap. Die ballingskap was ' n periode van weerloosheid vir die volk en daarom is die aanwending van die metafoor van die koning gepas.

5.2 JHWH is kryger

JHWH as kryger staan in verband met die metafoor van JHWH as koning soos wat die chiastiese konstruksies dit ook aantoon. JHWH word in Eksodus 15:3 beskryf as 'n kryger wat die Egip-tiese farao beslissend oorwin het. JHWH as kryger tree dus op in 'n gewelddadige konflik met die doel om ' n toekoms vir sy volk Israel te bewerk waar hulle vry van enige vorm van onder-dukking 'n ruimte kan hê in die vorm van die land om in te lewe (Brueggemann, 1997:242). Die militêre en selfs gewelddadige agtergrond van die metafoor kan nie ontken word nie.

Die woord (gibbor) word hier weergegee as 'kryger' (of krygsman volgens die 1983-Afrikaanse vertaling, maar dit kan ook verstaan word as 'n besondere sterk of magtige persoon (Vlaaderingenbroek, 1993:207) en daarom selfs 'held' (2020- Afrikaanse vertaling). Hier in vers 19 is JHWH as kryger/held die een wat magtig is om te red. Om te red is ietwat verwyderd van 'n militêre agtergrond wat die metafoor van kryger oproep. Ben-Zvi (1991:248) merk in dié verband dat (gibbor) hier verstaan moet word as 'n held wat red. Die klem val dus op die redding wat gebeur as gevolg van die mag van JHWH wat soos ' n krygsheld optree met die bedoeling om die volk te red van vyande. JHWH het vroeër in die boek (1:14) soos 'n krygsman teen Jerusalm opgetree, maar nou tree Hy as die teenwoordige God, reddend op ten behoewe van die volk. Brueggemann (1997:244) merk op dat JHWH se uitoefening van mag as ' n kryger/held daarop gemik is om die wat magteloos is te verdedig en om lewe aan hulle te gee. Ook op ander plekke in die Ou Testament (Jes 42:13; Jer 20:11) tree JHWH as kryger/held op met die bedoeling om die volk in nood te help. JHWH is die magtige God wat sy volk red en herstel (Udoekpo, 2010:180). Dit word gedoen met die gebruikmaking van die metafoor van JHWH as kryger/held. Soos in die geval van die koning-metafoor is die teenwoordigheid van JHWH belangrik.

5.3 JHWH is Herder

In vers 19 word die herder-metafoor aangewend. Die volk word word vergelyk met 'n trop diere (skape) wat kreupel/lam gelaat is en wat as trop verstrooi geraak het. JHWH as die herder gaan die volk dus weer versorg en versamel uit die toestand van verstrooidheid. Die metafoor van ' n herder pas doelbewus aan by die koning-metafoor van die voorafgaande verse 14-17 aangesien die beeld van 'n herder "ook 'n algemene beeld vir 'n goeie koning is wat omsien na sy onderdane" (Nel, 2006:88). Die herder-metafoor was 'n gewilde metafoor om die rol van 'n koning te beskryf in die Ou Nabye Ooste (Roberts, 1991:223). Konings was gesien as die herders van die gemeenskap wat versorgend, bewarend, voedend, beskermend teenoor sy volk optree wat kwesbaar, afhanklik en van hulp afhanklik is (Brueggemann, 1997:259). In vers 20 word die herder-metafoor voortgesit. JHWH gaan soos 'n herder vir sy volk wees deur hulle te "laat kom" met die doel om hulle bymekaar te maak. Die resultaat hiervan sal die herstel van die volk wees sodat hulle weer "aansien en roem" sal geniet "onder al die nasies van die aarde" (vers 20).

 

6. Teologiese implikasies van JHWH as koning, kryger en herder

Die perikoop skets twee partye wat teenoor mekaar te staan kom. Aan die een kant word daar 'n beeld van JHWH geskets en aan die ander kant word daar 'n beeld van die volk geskets.

In die afwesigheid van ' n Dawidiese koning in die tyd van die Babiloniese ballingskap word die volk attent gemaak op JHWH as hulle koning. In 'n tyd waar dit moeilik geword het om God as koning te eien in ' n omstandigheid waar daar min van God se heerskappy as koning gesien kon word, is die oproep relevant en bemoedigend. Die metafoor van God as koning word voortgesit in die Nuwe Testament. Een van die sentrale motiewe in Jesus se prediking is die koninkryk van God wat nou met sy menswording naby gekom het (Markus 1:15; vergelyk ook I Korintiërs 2:6ev; Romeine 8:37-39).

Dieselfde geld vir die belofte van God se teenwoordigheid. Die verwoeste tempel (simbool van God se teenwoordigheid) beteken nie die afwesigheid van JHWH nie. Hoe God as koning teenwoordig is, is belangrik. God is teenwoordig nie om te oordeel nie, maar eerder om te red (vers 17) soos wat 'n held dit sal doen. Wanneer 'n lewensredder iemand uit die see red, is die lewensredder 'n held. Wanneer 'n brandweerman iemand red uit 'n gebou wat besig is om af te brand, word so ' n persoon eweneens ' n held genoem. Jesus se missie het te doen met die redding van mense en in die opsig pas die metafoor van die kryger of held wat die volk red ook op Jesus. Die ballingskap beteken nie die onherroepelike tot niet maak van God se verhouding met sy volk nie. Inteendeel, God verheug hom oor sy volk, Hy is stil in sy liefde vir sy volk. Die uitspraak oor God se liefde vir sy volk is opmerklik. Die Boek van die Twaalf bevat net drie eksplisiete uitsprake oor God se liefde vir sy volk. Dit word gedoen aan die begin van die versameling in die boek Hosea (Hosea 3:1; 11:1) en dan weer aan die einde van die versameling in Maleagi (Maleagi 1:2). Die derde uitspraak word hier in Sefanja 3:17 gevind (Tuell, 2016:136).

Die Here is bly oor sy volk soveel so dat die teks die haas ongehoorde uitspraak maak deur te sê dat God oor sy volk juig met jubelkrete. Die onmiddellike teenwoordigheid van JHWH by sy volk is ook opmerklik. JHWH is teenwoordig in die midde van sy volk sonder die tussenkoms van 'n koning, priesters of profete. In die Nuwe Testament is die konsep van God se teenwoordigheid belangrik. Jesus is Immanuel aan die begin van die evangelie van Matteus en in die laaste vers van die evangelie beloof Jesus sy teenwoordigheid aan die kerk (Matteus 28:20).

Sy teenwoordigheid beteken ook die bymekaarbring van die volk met die koning JHWH wat ook herder is vir sy verstrooide volk. Die begrip herder word ook gebruik as metafoor vir 'n koning. 'n Koning tree op soos wat 'n herder maak met die kudde wat hy versorg. Wanneer JHWH sy volk weer bymekaarbring, sal hulle eer en roem herstel word onder die nasies in teenstelling tot die vernedering van die ballingskap. Die herdermetafoor word ook voortgesit in die Nuwe Testament. Jesus se gelykenisse vertel van die goeie herder (Lukas 15:3-7). Vir Jesus is die mense aan wie Hy die evangelie verkondig soos skape sonder ' n herder (Markus 6:34) wat herinner aan die kreupel/lam skape wat verstrooid geraak het in Sefanja 3:19-20. Jesus is dan ook self die goeie herder wat sy skape by die naam ken (Johannes 10:3).

Dit is ook opvallend dat die heilstoesegging van JHWH aan sy volk gemaak word sonder enige voorwaarde wat aan hulle gestel word. Daar word geen bekering, boetedoening, offers, ondernemings of belydenisse van die volk verwag op grond waarvan die Here hom oor hulle sal ontferm as koning, kryger en herder nie. Dit is ook opvallend dat daar geen teenprestasie van die volk in die vooruitsig gestel word nie. God se heilshandeling ten behoewe van sy volk is dus volledig onvoorwaardelik.

Hierdie verkondiging is ' n oproep aan die volk. Teenoor die sterk manlike metafore vir JHWH word die volk van God geskets met oorwegend vroulike metafore soos 'dogter van Sion' en 'dogter van Jerusalem'. Word die metafore gebruik juis in kontras met die manlike metafore vir JHWH? Indien wel, is dit goed moontlik dat die gebruik van die vroulike metafore dui op die swakheid, broosheid, kwesbaarheid, weerloosheid en magteloosheid van die volk?

Hulle word onder moeilike omstandighede opgeroep om te jubel van vreugde, om hulle te verbly en te verheug. Met nie minder nie as vier werkwoorde word die volk opgeroep om te jubel, te juig, hulle te verbly en te verheug. In ' n historiese omstandigheid waar daar min rede was om te jubel of te juig, word die volk opgeroep om hulle te verbly en te verheug. Te midde van die werklikheid van ' n vyandelike mag wat die beheer van die land oorgeneem het en Juda gereduseer het tot ' n onderdeel van die Babiloniese Ryk, word die volk opgeroep om vreesloos te lewe. Juda het met die ervaring van die verlies van die land, die verwoesting van die tempel en die ondergang van die Dawidiese koningshuis rede gehad om "hulle hande te laat slap hang" in 'n uitsiglose moedeloosheid. Die profesie roep hulle op om ten spyte van moeilike omstandighede moed te hou. Die volk kan uitsien na 'n tyd waar JHWH as Herder sal optree deur sy volk bymekaar te maak en hulle aansien en roem te herstel (vers 19). Hulle word bemoedig om nie moed te verloor nie juis omdat die profeet ' n visie op wie God is en wat Hy doen vir hulle te open.

 

7. Preekriglyne

Die tema van 'n preek uit die gedeelte kan geformuleer word as: Die Here is teenwoordig as Heerser, Held en Herder, gelowiges leef daarom blymoedig, vreesloos en bly moedig. Gelowiges kry deur die woorde van die profesie ' n visie op God. Hy is die teenwoordige God wat koning, kryger en herder is vir sy volk omdat Hy hulle liefhet. Hierdie visie wat Sefanja wys van wie God is en wat Hy doen, is ook van hulp vir hedendaagse gelowiges. Gelowiges is mense wat God bly raaksien as heerser, held en herder in donker en intens onseker tye. Gelowiges word opgeroep om te juig en te jubel juis terwyl hulle nie juig en jubel nie. Die gelowiges word opgeroep om nie bang te wees juis terwyl hulle bang is. Hulle word opgeroep om nie die hande te laat slap hang en dus moed te verloor nie terwyl hulle op die punt is waar hulle moed wil verloor. Hierdie visie op God laat gelowiges hulle vrees oorkom en kry hulle krag om moed te hou te midde van gebeure wat hulle moed wil breek. Suid-Afrikaners ly aan 'n soort van kollektiewe neerslagtigheid wat grens aan 'n moedeloosheid en selfs hooploosheid. Te veel dinge is besig om tegelykertyd verkeerd te loop en selfs in duie te stort.

Waar daar soveel verkeerd loop in ' n samelewing soos wat tans aan die gebeur is in die Suid-Afrikaanse samelewing is daar min te sien van God se teenwoordigheid. Tog is dit juis waarmee die profeet die volk van destyds bemoedig. In tye van spanning en (politieke) onsekerheid herinner die boek Sefanja se laaste verse gelowiges daaraan dat hulle onder 'n ander heerskappy staan, dat die Here en nie 'n president of politieke party hulle heerser is nie. Gelowiges het God as Koning en dit relativeer politieke mag. Dietrich (2016:250-251) maak die opmerking dat Sefanja 3:15 nie alleen die einde van die koningshuis van Juda in die oog het nie, maar dat elke aardse koninkryk verklaar word as eintlik irrelevant, onnodig en futiel. Die geloofsvisie laat hulle sonder vrees lewe al leef hulle in tye wat mense bang maak. Suid-Afrika het vreeslose gelowiges nodig in hierdie turbulente tye waarin Suid-Afrikaners hulleself bevind. Die geloofsvisie laat gelowiges met moed lewe al dreig die omstandighede mense om moedeloos en selfs hooploos te word. Die geloofsvisie laat gelowiges met ' n blymoedigheid lewe ten spyte van slegte omstandighede. Die teks inspireer gelowiges om hoopvol te lewe. Die toekoms gaan beter wees as die hede. Gelowiges in Suid-Afrika het nou nodig om geïnspireer deur 'n visie van wie God is en wat Hy doen, sonder vrees moedig en blymoedig te lewe.

 

8. Slot

Die boek Sefanja is ryk aan metaforiese taal. Om die teologiese seggingskrag van die perikoop wat ondersoek is te peil, is dit lonend om die metafore wat vir God gebruik word te ontgin en te interpreteer. Die seggingskrag van metafore kan meer doeltreffend gepeil word as die literêre en historiese konteks van die tekste waar die metafore gebruik word ook ondersoek word.

 

BIBLIOGRAFIE

Ball, IJ. 1972. A Rhetorical study of Zephaniah. Michigan: University Microfilms.         [ Links ]

Ben-Zvi, E. 1991. A Historical-Critical study of the Book of Zephaniah. Berlin: de Gruyter. (BZAW 198).         [ Links ]

Brettler, MZ. 1989. God is King: Understand an Israelite metaphor. Sheffield: SheffieldAcademic Press.         [ Links ]

Brueggemann, W. 1997. Theology of the Old Testament - Testimony, Dispute, Advocacy. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Clark, DJ & Hatton, HA. 1989. A Handbook on the Books of Nahum, Habakkuk, and Zephaniah. New York: United Bible Societies (UBS Handbook Series).         [ Links ]

Dempsey, CJ. 2021. Metaphor in the Minor Prophets, in O'Brien, JM. (ed.). 2021. The Oxford Handbook of the Minor Prophets. Oxford: Oxford University Press, pp. 85-102.         [ Links ]

Dietrich, W. 2016. Nahum, Habakkuk, Zephaniah. Stuttgart: Kohlhammer. (IECOT).         [ Links ]

Floyd, MH. 2000, Minor Prophets. Grand Rapids: Eerdmans (FOTL 22.2).         [ Links ]

Hadjiev, TS. 2012. The Translation problems of Zephaniah 3,18. ZAW 124:416-420.         [ Links ]

House, PR. (1988) Zephaniah - A Prophetic Drama. Sheffield: Almond. (JSOT SS 69).         [ Links ]

Kerk-Net (6 Maart 2023). God en wetenschap: nieuwe bijbeluitgave gaat in dialoog, 1-2.         [ Links ]

Kirkpatrick, JD. 1993. Eskatologie in die boek Sefanja. DD-proefskrif, Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Mendecki, N. 1991. Deuteronomistische Redaktion von Zef 3,18-20? Biblische Notizien 60:27-31.         [ Links ]

Moore, A. 2009. Moving beyond symbol and myth. Understanding the Kingship of God of the Hebrew through metaphor. New York: Peter Lang. (Studies in Biblical Literature, vol. 99.         [ Links ])

Motyer, JA. 1998. Zephaniah, in McComiskey, TE. (ed.). The Minor Prophets - An exegetical and expository commentary. Grand Rapids, MI: Baker Books.         [ Links ]

Nel, PJ. 2006. Die boek Sefanja. Wellington: NG Kerk-Uitgewers. (Skrifuitleg vir Bybelstudent en Gemeente).         [ Links ]

Nogalski, JD. 2011. The Book of the Twelve: Micah-Malachi. Macon: Smyth & Helwys. (SHBC).         [ Links ]

Nogalski, JD. 2021. God in the Book of the Twelve, in O'Brien, JM. (ed.). 2021. The Oxford Handbook of the Minor Prophets. Oxford: Oxford University Press, pp. 103-116.         [ Links ]

Quine, C. 2021. Zephaniah, in O'Brien, JM. (ed.). 2021. The Oxford Handbook of the Minor Prophets. Oxford: Oxford University Press, pp. 499-510.         [ Links ]

Renz, T. 2021. The Books of Nahum, Habakuk and Zephaniah. Grand Rapids, MI: Wm B. Eerdmans. (NICOT).         [ Links ]

Roberts, JJM. 1991. Nahum, Habakkuk and Zephaniah. Louisville, KY: Westminster/John Knox. (OTL).         [ Links ]

Schneiders, SM. 2001. God is the question and God is the answer, in Snyder, MH. (ed.). Spiritual questions for the Twenty-first century. New York: Orbis Books, pp. 69-74.         [ Links ]

Snyman, SD. 2020. Nahum, Habakkuk and Zephaniah. London: Inter-Varsity Press. (Tyndale Old Testament Commentaries, vol. 27.         [ Links ])

Strawn, BA. 2017. The Old Testament is dying. A Diagnosis and recommended treatment. Grand Rapids MI: Baker Academic.         [ Links ]

Szeles, MA. 1987. Wrath and Mercy. A Commentary on the Books of Habakkuk and Zephaniah. Grand Rapids: Eerdmans. (ITC).         [ Links ]

Tuell, S. 2016. Reading Nahum-Malachi. A Literary and Theological Commentary. Macon GA: Smyth & Helwys.         [ Links ]

Udoekpo, MU. 2010. Re-thinking the Day of YHWH and Restoration of Fortunes in the prophet Zephaniah: An Exegetical and Theological Study of 1:14-18; 3:14-20. Bern: Peter Lang. (An Outline of an Old Testament Dialogue, 2).         [ Links ]

Van der Woude, AS. 1978. Habakuk, Zefanja. Nijkerk: Callenbach. (POT).         [ Links ]

Vlaardingerbroek, J. 1993. Sefanja. Kok: Kampen. (COT).         [ Links ]

Werse, NR. 2018. Reconsidering the problematic tripartite structure of Zephaniah. ZAW 130(4):571-585.         [ Links ]

Wren, B. 1988. What language shall I borrow? Brethern Life and Thought 33(4):299-308.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-03-13
Goedgekeur: 2023-08-30
Gepubliseer: September 2023

 

 

 

Fanie (SD) Snyman studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria. Ná die voltooiing van sy studies word hy 'n predikant in die NG Kerk Nelspruit-Suid in 1981. Hy word aangestel as senior lektor in Ou Testament aan die Universiteit van die Vrystaat aan die begin van 1984. In 1985 behaal hy die DD-graad aan die Universiteit van Pretoria. Hy word eventueel bevorder tot professor en dien as dekaan van die fakulteit Teologie & Religie aan die Universiteit van die Vrystaat van 2013-2019. Hy is outeur van talle artikels wat in akademiese joernale plaaslik sowel as internasionaal gepubliseer word. Hy is bekend vir sy navorsing op veral die Boek van die Twaalf en wat inter alia uitgeloop het op die publikasie van 'n kommentaar op Maleagi (2015) en die boeke Nahum, Habakuk en Sefanja (2020).
Fanie (SD) Snyman studied theology at the University of Pretoria and after completing his theological studies entered the ministry to become a minister in the Dutch Reformed Church Nelspruit-South in 1981. He was appointed as senior lecturer in Old Testament at the University of the Free State at the beginning of 1984. He obtained the DD-degree from the University of Pretoria in 1985. He was eventually promoted to professor and served from 2013-2019 as dean of the faculty of Theology & Religion at the University of the Free State. He authored numerous articles in academic journals both locally and abroad. He is known for his research on especially the Book of the Twelve that resulted inter alia in a commentary of the book of Malachi (2015) and on the books of Nahum, Habakkuk and Zephaniah (2020).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons