SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3Environmental identity in the Age of Man: New perspectives on Toorbos. Part 1Person-oriented citizenship education in public secondary education índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a10 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

'n Empiriese vergelyking van die potensiële aanstootl ikheid van enkele skelnaampare in Afrikaans

 

An empirical comparison of the potential offensiveness of some epithet pairs in Afrikaans

 

 

Gerhard B van Huyssteen; Simoné Koekemoer

Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT), Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: gerhard.vanhuyssteen@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In Afrikaans en ander Germaanse tale is daar 'n subkategorie van eksosentriese komposita wat evaluatief as persoonsname gebruik kan word. Die fokus van hierdie artikel is op sulke komposita wat pejoratief as skel- of spotname gebruik word (d.i. epitetiese eksosentriese komposita (EEK's)), en nog meer spesifiek op EEK's wat op een van twee konseptuele metonimieë berus: liggaamsdeel vir persoon (byvoorbeeld skinder / bek) en (deel van) kledingstuk vir persoon (byvoorbeeld slaap / kous). Die artikel ondersoek die potensiële aanstootlikheid van EEK's empiries. In 'n aanlyn vraelys met nege vrae moes respondente telkens die items (woorde) van mins aanstootlike tot mees aanstootlike rangskik. op grond van 'n aantal statistiese berekeninge kan tot die gevolgtrekking gekom word dat metonimiese EEK's (byvoorbeeld dwaas / kop) nie statisties beduidend meer of minder aanstootlik as semanties ekwivalente non-EEK's (byvoorbeeld dwaas) is nie. Ook kan aangetoon word dat suffiksoïede wat na liggaamsdele verwys (byvoorbeeld / gat en / neus) nie statisties beduidend meer of minder aanstootlik is as suffiksoïede wat na kledingstukke verwys (byvoorbeeld / sak en / broek) nie. Die ondersoekte suffiksoïede kan wel op 'n spektrum van potensiële aanstootlikheid geplaas word, te wete: / neus ~ / broek < / sak < / gat.

Trefwoorde: Afrikaans, aanstootlikheid, affiksoïed, eksosentriese kompositum, empiries, epitetiese eksosentriese komposita, epiteton, evaluatiewe taal, kompositum, konseptuele metonimie, pejoratief, persoonsnaam, skelnaam, spotnaam, suffiksoïed


ABSTRACT

In Afrikaans and other Germanic languages there is a subcategory of exocentric compounds that can be used evaluatively as personal names. The focus of this article is on such exocentric compounds that are used pejoratively as epithets (i.e., epithetic exocentric compounds (EECs)), and even more specifically on EECs that are based on one of two conceptual metonymies: BODY PART FOR PERSON (for example, skinder / bek gossip / mouth 'gossiper ') and (PART OF) GARMENT FOR PERSON (for example, slaap / kous sleep / sock 'sleepy head'). These kinds of metonymic exocentric compounds are also sometimes referred to in the literature as bahuvrihi or possessive compounds (Booij, 2020).
The article empirically examines the potential offensiveness of EECs. An online questionnaire with nine questions was filled out by 98 respondents, of which 92 respondents ' responses were usable. In this questionnaire, respondents had to rank the items (words) from least offensive to most offensive. For each of the nine questions, the rankings were converted to numerical values, so that the median per word could be quantified as a relative offensiveness value. Next, a Friedman test was performed for each question, which showed that there were indeed statistically significant (p < 0.05) differences between the items in each question. To determine where exactly the differences lie (i.e., which word pairs 'medians differ statistically significantly), Wilcoxon's signed-rank test was used, and the p-values were adjusted with the Bonferroni method (for adjusted *p-values). This information could then be used to accept or reject the null hypotheses.
The first research question was: "Are metonymic EECs more or less offensive than semantically equivalent non-EECs?" The null hypothesis, which stated that there is no distinction to be made between the potential offensiveness of EECs and semantically equivalent non-EECs, could be rejected in a few cases (for example, that vet / gat (fat / hole 'fatso'), and dik / gat (thick / hole 'fatso') are more offensive than seekoei ('hippopotamus') and vark ('pig') (question 1 ), as well as dik / sak (thick / sack 'fatso') andvet / sak (fat / sack 'fatso'), versus dikk-erd (thick-NMLZ 'fatso') and vett-ie (fat-DiM 'fatso') (question 5). Nevertheless, there was not enough convincing evidence to be able to say with the necessary certainty that non-EECs are less offensive than EECs. One of the possible reasons for this is that non-EECs such as dwaas ('fool') and ghwar ('fool') also have other, additional, negative meaning elements than their EEC counterparts (dwaas/kop foolish / head 'fool', anddorm-kop stupid / head 'fool'). Our conclusion is therefore that non-EECs ~ EECs.
The second research question was: "Are suffixoids that are references to body parts more or less offensive than suffixoids referring to articles of clothing?" To compare the potential
offensiveness value of suffixoids, it was stated as a null hypothesis that there is no distinction to be made between suffixoids referring to body parts versus suffixoids referring to articles of clothing. Although we could here too not simply reject the null hypothesis, we could still order the investigated suffixoids on a spectrum of potential offensiveness, namely: / nose ~ / trousers / H-sack / H-hole.

Keywords: Afrikaans, affixoid, compound, conceptual metonymy, empirically, epithet, epithetic exocentric compound, evaluative language, exocentric compound, mock name, nickname, offensiveness, pejorative, personal name, suffixoid


 

 

1. Inleiding

Baie tale in die wêreld, waaronder Afrikaans, gebruik eksosentriese komposita om persoonsname te vorm. Vergelyk van die volgende voorbeelde uit Stekauer, Valera en Körtvélyessy (2012:79-88):1

 

 

In Afrikaans en ander Germaanse tale is daar 'n subkategorie van hierdie soort komposita wat evaluatief as persoonsname2 gebruik kan word. Wanneer dit melioratief as hipokoristikons/ troetelname (byvoorbeeld werk+esel) gebruik word, noem ons dit hipokoristiese eksosentriese komposita (HEK's); wanneer dit pejoratief as epitetons / skel- of spotname (byvoorbeeld geld+wolf) gebruik word, noem ons dit epitetiese eksosentriese komposita (EEK's). Twee subkategorieë van laasgenoemde is die fokus van hierdie artikel, te wete EEK's wat op een van twee konseptuele metonimieë berus: liggaamsdeel vir persoon (vergelyk die voorbeelde in (4) hier onder) en (deel van) kledingstuk vir persoon (kyk die voorbeelde in 5). Hierdie soort metonimiese eksosentriese komposita staan ook soms in die literatuur bekend as bahuvrihi- of possessiewe komposita (Booij, 2020).

 

 

 

 

Die doel van hierdie navorsing is om te bepaal tot watter mate sulke metonimiese EEK's taboe is; die volgende vrae stuur die navorsing:

1. Is metonimiese EEK's meer of minder aanstootlik as semanties ekwivalente non-EEK's, soos simplekse (byvoorbeeld ghwar en mamparra) en geaffigeerde woorde (byvoorbeeld vettie en dikkerd)?

2. Is suffiksoïede (d.i. die regterkantste dele in EEK's) wat na liggaamsdele (byvoorbeeld / bek of +neus) verwys meer of minder aanstootlik as suffiksoïede wat na kledingstukke (byvoorbeeld / kous of / sak) verwys?

Hoewel die doel van hierdie artikel nie is om EEK's omvattend te beskryf nie, word daar in afdeling 2 'n kort omskrywing verskaf, hoofsaaklik met die doel om terme te definieer en die omvang van die navorsing in te perk. Die vergelykende ondersoek na die taboewaarde van EEK's kom in afdeling 3 aan bod: eers met 'n bespreking van die metodologie (afdeling 3.1), gevolg deur die resultate (afdeling 3.2). Die artikel sluit af met 'n bespreking en interpretasie van die resultate (afdeling 4).

 

2. Wat is epitetiese eksosentriese komposita?

Epitetiese eksosentriese komposita (EEK's) kan gedefinieer word as morfologiese bousels (d.i. komposita) waarvan die semantiese kern nie in die woord ingesluit is nie (d.i. eksosentries) en wat as pejoratiewe persoonsname (d.i. epitetons, of skel- en spotname) gebruik word. Gesien

hierdie driedelige karakterisering, staan die volgende verbandhoudende tipes woorde teenoor EEK's:

epitetiese nonkomposita, soos simplekse (byvoorbeeld ghwar en mamparra) en geaffigeerde woorde (byvoorbeeld vettie en dikkerd);

epitetiese endosentriese komposita waarvan die semantiese kern in die woord inge-sluit is (byvoorbeeld bed+pisser en hoer+kind); en

hipokoristiese eksosentriese komposita (HEK's) wat melioratief gebruik word (byvoorbeeld pop+lap en waag+hals).

Aangesien Van Niekerk (2002; 2006) uitgebreide beskrywings van allerlei tipes Afrikaanse eksosentriese komposita het, en aangesien Van Huyssteen (2023a) 'n taalvergelykende beskry-wing van EEK's verskaf het, en aangesien Trollip (2022) 'n uitgebreide korpusondersoek oor die produktiwiteit van sommige EEK's gedoen het, word hier volstaan met oorsigtelike karakteriserings en formaliserings van prototipiese gevalle vanuit 'n konstruksiemorfologiese raamwerk. In die hieropvolgende subafdelings word EEK's op grond van morfosintaktiese vorm (afdeling 2.1), morfosintaktiese funksie (afdeling 2.2) en betekenis (afdeling 2.3) gekarakteriseer. vir besonderhede met betrekking tot konstruksiemorfologieteorie en die formalisme wat hier gebruik word, kyk Van Huyssteen (2023c).

2.1 Morfosintaktiese vorm

Met betrekking tot morfosintaktiese vorm, kan die twee prototipiese EEK's soos in (8) en (9) as basiskomposita ("ground compounds" - kyk Van Huyssteen (2023b)) geformaliseer word.

 

 

Een van die belangrikste verskille tussen hierdie twee soorte is dat (8) 'n samestelling van twee stamme en (9) 'n samestelling van 'n stam en 'n suffiksoïed is. Booij en Hüning (2014:77) definieer affiksoïede as komponente in komposita wat soos affikse optree. Hiermee word bedoel dat sekere kompositumkomponente 'n spesialisbetekenis kry wanneer dit produktief in sekere komposita voorkom. So gesien is affiksoïede dus nóg stamme (want hulle kan nie met daardie spesifieke spesialisbetekenis onafhanklik gebruik word nie), nóg affikse (want hulle kan wel onafhanklik gebruik word, dan wel met 'n gespesialiseerde betekenis). 'n Voorbeeld van 'n prefiksoïed is hond / in hond / warm, hond / siek, hond / lelik en hond / zef (Trollip (2022:54) e.v.): Hier beteken hond nie meer 'soort dier' (soos in hond+mak of honds+getrou) nie, maar wel 'baie'. 'n Suffiksoïed soos / kous in kla / kous, drentehkous en skinder / kous verwys metonimies na 'persoon' en nie meer na 'kledingstuk (vir voet of been)' nie. Dieselfde geld ook gevalle waar die affiksoïed op 'n algemene eienaam berus, soos geldhpiet of plaas / japie. Hier verwys die eienaam (Piet, Japie) nie meer na 'n spesifieke, unieke persoon nie, maar eerder na 'n individu wat so generies (en dus onindividueel) is soos iemand in 'n groep mense met 'n baie algemene, frekwente naam.

Hoewel sulke tipe komposita reeds in Nederlands se voorgeskiedenis voorkom (Van der Sijs (2019:36)), is dit veral in Vroegnieunederlands waar samestelling met 'n selfstandige naamwoord wat 'n liggaamsdeel of kledingstuk aandui, 'n produktiewe morfologiese proses word. Van der Sijs (2019:36) wys op voorbeelde soos brekebeen ('persoon wat onhandig is'), dikzak ('persoon wat korpulent is'), domkop en domoor ('persoon met beperkte verstandelike vermoëns'), kletskous ('persoon wat baie kan praat (en skinder)'), kniesoor ('persoon wat knaend verdrietig is'), lachebek ('persoon wat maklik en baie lag'), huilebalk ('o.a. persoon, veral kind, wat voortdurend huil', waar balk < balg 'buik, maag; liggaam' - (AtotZ (1980)), en jokkebrok ('persoon, veral kind, wat baie leuens vertel'). Gegewe hierdie diachroniese ontwikkeling, is dit nie verbasend dat die twee komponente van Afrikaanse EEK's byna deurgaans uit die Germaanse stratum kom nie.

Met betrekking tot Nederlandse EEK's merk De Haas en Trommelen (1993:412) dat hulle gekenmerk word deur bondigheid (wat hulle dus besonder geskik maak as epitetons). EEK's bestaan byna altyd uit slegs twee monosillabiese stamme met die klem op die eerste sillabe (byvoorbeeld slááp+kous of drónk+lap). Indien die stam bisillabies is, bevat die tweede, onbeklemtoonde lettergreep gewoonlik 'n schwa (byvoorbeeld kriewel+kous of ydel+tuit). Uitsonderings op dié patroon is natuurlik nie onmoontlik nie - vergelyk potjie+rol of poes+gesig, waar potjie en gesig beide uit twee lettergrepe bestaan, maar die tweede lettergreep is onbeklemtoon en bevat nie 'n schwa nie ([ 'poi.ki]), of bevat wel 'n schwa, maar is beklemtoon ([xa'sax]). Ander uitsonderings sluit onder andere plaas / japie, piet+snot, bel+hamel, harmans+drup, harde+koejawel, voël+verskrikker, vergeet+al, flap+uit, vergeet+kous en dreun+ribbetjie in (voorbeelde uit die indeks van Van Niekerk (2002)).

Anders as in die geval van Nederlands (De Haas & Trommelen (1993:413)), neem EEK's in Afrikaans nie interfikse nie. In gevalle soos harde+kwas, harde+koejawel en blinde+mol, is die e nie 'n interfiks nie, maar die attributiewe suffiks wat by die adjektief hoort.

2.2 Morfosintaktiese funksie

EEK's se regterlid is meestal (op enkele, individuele uitsonderings na) naamwoorde, terwyl die linkerlid 'n selfstandige naamwoord, adjektief, werkwoord of telwoord kan wees, net soos in Nederlands (De Haas & Trommelen (1993:412)). Hierdie patrone word in (10) geformaliseer.

 

 

Uitsonderings op hierdie skema sluit onder andere in by+slaap ('seksmaat; seksdaad' -PREP+V), flap+uit ('iemand wat alles uitblaker' - V+PREP) en bemoei+al ('iemand wat hulle ongevraagd met ander mense se sake besig hou' - V+NUM). Geen van hierdie gevalle verteenwoordig egter produktiewe skemas nie.

2.3 Betekenis

Met betrekking tot alle eksosentriese komposita is dit oorbekend dat "... die betekenis van 'n eksosentriese samestelling ... nie herlei [kan] word na die betekenis van sy samestellende dele of konstituente nie" (Van Niekerk (2002:21)). Eksosentriese komposita is dus semanties ondeursigtig en "is dus in werklikheid idiomatiese of metaforiese samestellings, met 'n figuurlike betekenis" (Van Niekerk (2002:23)). Spesifiek met betrekking tot EEK's is dit nie slegs metaforiese betekenisse nie, maar veral ook metonimiese betekenisse wat belangrik is. Ons onderskei dusdanig vyf hoofbetekeniskategorieë van prototipiese EEK's: twee metaforiese kategorieë, en drie metonimiese kategorieë.

 

 

EEK's soos geld+wolf, voël+verskrikker en harde+koejawel kan redelik maklik geparafraseer word soos in (13) a tot c. Dit is nie altyd moontlik om te bepaal of gevalle soos dié werklik eksosentries is (dus gevorm/saamgestel sonder 'n sigbare kern in die kompositum) en of dit maar gewoon endosentriese komposita is wat dan metafories gebruik word nie. So byvoorbeeld is voël+verskrikker 'n doodgewone endosentriese onderskikkende kompositum ('verskrikker van voëls'), wat dan metafories gebruik word op dieselfde manier as wat gogga metafories gebruik word om na 'iemand wat onaansienlik is' te verwys. Dit is om dié rede dat hierdie tipe komposita ook soms nie as eksosentries beskou word nie, maar slegs as metaforiese interpretasies van endosentriese komposita (kyk veral Bauer (2017:68-71) vir 'n oorsig; en kyk De Haas & Trommelen (1993:413) met betrekking tot Nederlands).

 

 

Gevalle soos geld / piet, plaas / japie en flenter / saartjie is eweneens metafories, soos geparafraseer kan word in (14) a tot c. Kyk die spreking in 2.1 vir 'n motivering vir die gebruik van eiename in hierdie soort konstruksies. Ander suffiksoïede wat in hierdie konstruksies voorkom, sluit in / floors (flenter / floors), / hans (lieg / hans) / jan (byvoorbeeld bang / jan) en / klaas (flenter / klaas, jan / klaas) (uit onder andere Van Niekerk (2002); Van Niekerk (2006)).

 

 

Soos blyk uit die parafrases in (15) a tot c, word hierdie tipe EEK's gekenmerk deur 'n [MET]-of [HET]-verhouding; hulle word daarom ook in Engels gewoonlik "possessive compounds" of "bahuvrihi compounds" genoem (Bauer, Lieber & Plag (2013:478)). Let daarop dat die morfologiese kern van hierdie komposita (d.i. kop, bek en neus) wel daardie liggaamsdeel wat kenmerkend (d.i. onderskeidelik rooi, skinderagtig, en skerp en reguit) van die persoon is, benoem. Dit staan teenoor die gevalle in (16) en (17) waar die morfologiese kern van die komposita (gat en kous) hoegenaamd nie kenmerkend van die referent is nie: Bang / gat kan nie omskryf word as *'hy het 'n gat wat bang is' of *'persoon met bang gat' nie, net soos wat neuhkous nie geparafraseer kan word as *'sy het 'n kous wat neul' of *'persoon met kous wat neul' nie. In hierdie gevalle is gat en kous dus duidelik suffiksoïede wat 'n gespesialiseerde betekenis (d.i. [PERSOON]) binne EEK's as morfologiese konstruksies gekry het. Van Niekerk (2002:26-27) merk in dié verband op: "Die samestellings wat nou met hierdie stam gevorm word, kan dan eintlik beskou word as endosentries van aard, solank as wat die alternatiewe betekenis van kous in gedagte gehou word. En deur die betekenis van kous nou net effens te wysig, kan nog verdere eksosentriese samestellings daarmee gevorm word ...".

 

 

Ander suffiksoïede wat in hierdie konstruksies voorkom, sluit in met liggaamsdele / asem (blou / asem), / baard (kwyhbaard), / bakkies (bobbejaan / bakkies), / balie (tjank / balie), hbalk (blaas / balk), / been (bottel / been), / bek (dik / bek), / bors (gans / bors), / boud (bak / boud), / dye (donder / dye), / gesig (poes / gesig), / gevreet (puisie / gevreet), / haar (tak / haar), / hakskeen (doring / hakskeen), / hals (guls / hals), / hand (hot / hand), / hol (poep / hhol), / kop (aap / kop), / kuit (harde / kuit), / lip (drie / lip), / maag (dik / maag), / mond (groot / mond), / nek (skeef / nek), / neus (judas / neus), / oog (bruin / oog), / oor (domkoor), hpens (dikhpens), / piel (sout / piel), / poot (bont / poot), / pootjie (stout / pootjie), / ribbetjie (dreun / ribbetjie), - / snoet (jap / snoet), - / stert (wip / stert), Hone (rosyntjieHone), Hong (adder / tong), Hoon (wol / ftoon), / vel (vrot / vel), / vingers (botter / vingers); en met kledingstukke: Hbaadjie (blouHbaadjie), / broek (bang / broek), / hemp (bruin / hemp), / hoed (harde / hoed), / jas (blou / jas), / knoop (blou / knoop), / lap ( dronkelap), / rok (blou / nok), / sak (dik / sak), Huit (ydelHuit) (uit onder andere Van Niekerk (2002); Van Niekerk (2006)). Ons volstaan met Trollip se gevolgtrekking oor die produktiwiteit van persoonsvormende suffiksoïede soos dié:

Die persoonsvormende suffiksoïede wat die meeste in Afrikaans aangetref word, blyk / gat, / kop en / kous te wees. Die ander suffiksoïede, soos / balie en / broek, kom slegs sporadies voor ... Die geleentheid wat hierdie tipe suffiksoïede, met spesifieke verwysing na / kop en / neus, vir gebruikers bied om skeldname te vorm, is volgens die data 'n produktiewe gebruiksmoontlikheid. (Trollip, 2022:121)

EEK's van twee tipes in (16) en (17) is die fokus in die res van hierdie artikel. Wanneer daar dus vervolgens na EEK's verwys word, bedoel ons spesifiek EEK's gebaseer op LIGGAAMSDEEL/KLEDINGSTUK VIR PERSOON-metonimieë.

 

3. Aanstootlikheid van EEK's

3.1 Metodologie

3.3.1 Navorsingsvrae en hipoteses

'n Kwantitatiewe navorsingsmetode is gebruik om die volgende navorsingsvrae te beantwoord en hipoteses te toets:

1. Is metonimiese EEK's meer of minder aanstootlik as semanties ekwivalente non-EEK's?3

a. H0 (nulhipotese): Daar is geen onderskeid te tref tussen die potensiële aanstootlikheid van EEK's en semanties ekwivalente non-EEK's nie.

b. HA (alternatiewe hipotese): Daar is 'n onderskeid te tref tussen die potensiële aanstootlikheid van EEK's en semanties ekwivalente non-EEK's.

2. Is suffiksoïede wat na liggaamsdele verwys meer of minder aanstootlik as suffiksoïede wat na kledingstukke verwys?

a. H0: Daar is geen onderskeid te tref tussen die potensiële aanstootlikheid van EEK's met suffiksoïede wat na liggaamsdele en kledingstukke verwys nie.

b. HA: Daar is 'n onderskeid te tref tussen die potensiële aanstootlikheid van EEK's met suffiksoïede wat na liggaamsdele en kledingstukke verwys.

3.3.2 Data-insameling

Data is ingesamel deur gebruik te maak van 'n aanlyn vraelys wat vanaf 2021-06-14 tot 202108-23 op die webwerf vloek.co.za gepubliseer en daarna periodiek via sosialemediaplatforms bekendgestel is. 98 respondente het die vraelys voltooi, waarvan 92 se response bruikbaar was; alle respondente het ingeligte toestemming voor voltooiing van die vraelys verskaf.

Die steekproefmetode was respondentgedrewe (Heckathorn (1997)), wat die voordeel inhou dat dit toegang tot sogenaamde "verborge populasies" bied, d.i. respondente wat andersins nie bereid sou wees om aan navorsing oor vloek deel te neem nie. Die aard van hierdie metode is noneksperimenteel en daarop gerig om 'n deursneeperspektief op 'n bepaalde tydstip (dus in Junie tot Augustus 2021) te kry. Aangesien die oogmerk van die navorsing nie sosiolinguisties is nie, is die vraelys primêr as 'n enkelsteekproefbeskrywing ontwerp; twee demografiese vrae - een oor geslag en een oor ouderdomsgroep - is nie as veranderlikes ingesluit nie, maar bloot om 'n generiese profiel van die tipiese respondent te hê. Die groep bestaan uit 34% mans en 66% vroue, terwyl 92% van die respondente jonger as 60 is (49% is tussen 18 en 39, en 43% tussen 40 en 59). 'n Mens sou dus kon sê dat die resultate 'n aanduiding van die tipiese persep-sies van Afrikaanse vroue jonger as 60 sou kon wees.

Deurdat ons van beskikbaarheidsteekproefneming (as 'n tipe geriefsteekproefneming) gebruik maak, moet die metode as 'n niewaarskynlikheidsprosedure beskou word. Statistiese verteenwoordigendheid - en dus aktiewe stratifikasie van die respondentgroep - was nie belangrik nie, aangesien hierdie ondersoek 'n eerste, verkennende ondersoek is, sonder 'n doel om na die algemene bevolking te ekstrapoleer. Niewaarskynlikheidsbenaderings tot steek-proefneming van respondente is daarom in orde, soos wat sulke geleentheid-/geriefsteekproewe ook algemeen in soortgelyke taalkundige navorsing gebruik word (Rasinger (2008)).

3.3.3 Instrument

Die vraelys het altesaam nege vrae bevat wat só saamgestel is dat respondente deur middel van die rangskikking van verskeie epitetons kon aandui watter hul as meer of minder taboe beskou; Figuur 1 illustreer 'n tipiese vraag.

 

 

Vrae 1 tot 8 het elk vier epitetons bevat, terwyl vraag 9 tien bevat het. Elke vraag poog om verskillende tipe epitetons (items) te vergelyk en teen mekaar te toets, soos uiteengesit word in Tabel 1. Die items in elke vraag is telkens vir elke respondent lukraak georden.

 

 

2.2.4 Dataverwerking en -analise

Numeriese waardes van 1 (mins aanstootlike) tot 4 (mees aanstootlike) is by vrae 1 tot 8 aan die rangorde (d.i. posisies) waarin respondente die epitetons geplaas het, toegeken; by vraag 9 is 1 (mins aanstootlike) tot 10 (mees aanstootlike) gebruik. Op dié wyse kon die mediaan van die gerangskikte posisies van epitetons as relatiewe aanstootlikheidswaardes (RAW's) gekwantifiseer word. Hoe hoër die gemiddelde RAW van 'n epiteton is, hoe laer is dit relatief tot ander epitetons in daardie vraag deur die respondente geskuif (kyk Figuur 1). Byvoorbeeld, indien 100 respondente 'n epiteton in posisie 4 sou plaas en nog 50 respondente sou dieselfde epiteton in posisie 3 plaas, sou die RAW (met ander woorde mediaan) bereken kon word as:

 

 

Tydens die statistiese analise van data word nulhipotesetoetse gedoen om te bepaal of sekere gevolgtrekkings uit die data gemaak kan word. Indien 'n nulhipotese waar blyk te wees, beteken dit dikwels dat 'n mens nie voorspellings wat beter as kansvoorspellings is uit die data kan maak nie. Indien die dataspreiding egter wél statisties beduidende resultate oplewer, kan die nulhipotese verwerp word en kan geldige gevolgtrekkings op grond van die data gemaak word. 'n Mens moet egter versigtig wees in die interpretasie van die resultate, aangesien daar altyd nog 'n moontlikheid bestaan dat statisties onbeduidende resultate verkeerdelik as beduidend kan vertoon (Bland & Altman (1995)). Die gevalle in Tabel 2 dien as voorbeeld, waar die items in volgorde van aanstootlikheid relatief tot mekaar gerangskik is: van die vier woorde is seekoei (RAW = 1.90) die mins aanstootlike en vetgat (RAW = 2.92) die mees aanstootlike. N sal vir alle vrae 92 wees, aangesien 92 respondente se response vir die hele vraelys bruikbaar was. Die standaardafwyking (SA) word in die laaste kolom aangedui.

 

 

As 'n mens wil bepaal hoe betroubaar die rangvolgorde van twee woorde (sê nou maar dikgat en seekoei) is, kan ons sê die nulhipotese is dat die spreiding van response nie beter as 'n kansspreiding sal wees nie. As 'n mens byvoorbeeld vir twee ander groepe mense die vraag sou vra, sal een groep sê dat dikgat aanstootliker as seekoei is, en die ander groep sal sê seekoei is aanstootliker as dikgat. Die nulhipotese is dus dat daar nie 'n verskil in die mediane van die twee woorde sal wees nie (en dat daar geen statisties beduidende onderskeid te tref is tussen die aanstootlikheid van dikgat en seekoei nie). Die alternatiewe hipotese is dat daar wél 'n statisties beduidende verskil in die mediane van die twee woorde sal wees en dat daar dus wel 'n onderskeid te tref is tussen die aanstootlikheid van dikgat en seekoei. As die vraelys vir twee ander groepe gegee sou word, is daar byvoorbeeld 'n 95% kans (d.i. vertrouensinterval, as die betekenispeil se drempelwaarde 5%, oftewel p < 0.05 is) dat dikgat weer as aanstootliker as seekoei gekies sal word. Ons kan nou ons nul- en alternatiewe hipotese formaliseer:

 

 

Om telkens te bepaal of die verskille tussen die vier (of tien by vraag 9) epitetons statisties beduidend is, is 'n Friedman-toets (Laerd Statistics (2018); Steyn, Smit, Du Toit & Strasheim (1998:607)) vir elke vraag gedoen. Die paarsgewyse vergelykings by al die vrae het aangetoon dat daar wel statisties beduidende (p < 0.05) verskille tussen die woorde is (kyk resultate by elk van die tabelle hier onder). Vervolgens is Wilcoxon se betekenderangtoets (ook simmetrietoets of rangtekentoets - Steyn e.a. (1998:589)) gebruik om te bepaal waar presies die verskille lê (d.i. watter pare se mediane verskil statisties beduidend).

Vergelyk Tabel 3, waar z die resultaat van Wilcoxon se betekenderangtoets is (en wat gebruik word om vir beduidendheid te toets; Statisties Solutions (s.a.)), p die oorspronklike p-waarde van asimptotiese beduidendheid (tweekantige toetsing) en *p die aangepaste p-waardes volgens die Bonferroni-metode. Van belang vir ons is p en veral *p. As die p-waardes minder as 0.05 (d.i. p < 0.05) is, beteken dit dat indien die nulhipotese waar is, dan is die kans minder as 1 uit 20 dat die mediaanverskil so groot is soos wat dit is. In so 'n geval kan ons dan sê dat die verskil statisties beduidend is en kan ons H0 verwerp en HA ondersteun word. As die p-waarde egter groter as 0.05 (d.i. p > 0.05) is, is daar nie genoeg bewys om te sê dat die mediaanverskil statisties beduidend verskillend van 0 is nie - H0 kan nie verwerp word nie en HA kan dus nie ondersteun word nie. Gebaseer op die data in Tabel 3 kan ons nou sê dat 'n Wilcoxon-betekenderangtoets uitgewys het dat daar wel 'n statisties beduidende mediaanverskil is in die aanstootlikheidsrangorde tussen seekoei (1.90) en dikgat (2.87), z = -3.930, p < 0.0005;4 H0 kan dus verwerp word.

 

 

Wanneer daar egter veelvuldige, onafhanklike nulhipoteses getoets word, bestaan daar 'n kans dat ten minste een van die hipoteses verkeerdelik as beduidend kan voorkom. Dié waarskynlikheid word bereken deur:

waar m die aantal toetse verteenwoordig (Bland & Altman (1995); Jafari & Ansari-Pour (2019)). As daar byvoorbeeld 20 of 50 toetse gedoen word, is daar onderskeidelik 'n 64% en 92% kans dat 'n vals beduidende resultaat verkry kan word, want:

Wanneer dié twee antwoorde met mekaar vergelyk word, is dit duidelik dat hoe meer toetse gedoen word op dieselfde data, hoe groter word die kans dat beduidende resultate verkeerdelik verkry kan word. In vrae 1 tot 8 gebruik ons telkens dieselfde data in ses toetse (m = 6) en is amulti = 0.26; vir vraag 9 is m = 45 en is amulti = 0.90.

Die Bonferroni-metode poog om die waarskynlikheid om 'n Tipe I-fout te begaan te beperk (d.i. om vals beduidende waardes te verhoed) deur die p-waardes van nulhipotesetoetse te vergroot, sodat dit moeiliker kleiner as die 5%-drempel sal wees (Bland & Altman (1995)). Dit is 'n manier om te verhoed dat data verkeerdelik as beduidend beskou word wanneer veelvoudige toetse daarop gedoen word.

Die Bonferroni-waarde (d.i. die aangepaste p-waarde, kortweg *p) word met die 5%-drempel vergelyk om te bepaal of die hipotese se resultaat statisties beduidend en dus bruikbaar vir navorsing is (Bland & Altman (1995)). As *p < 0.05 is, word die nulhipotese verwerp: Die verskil is statisties beduidend en geldige gevolgtrekkings kan uit die data gemaak word (Diez, Cetinkaya-Rundel & Barr (2019:189)). As *p > 0.05 is, beteken dit dat die nulhipotese nie verwerp word nie, en dat gevolgtrekkings uit die data nie statisties beduidend is nie.

In Tabel 3 word die Bonferroni-waardes in die laaste kolom aangebied. Die vetgedrukte *p-waardes is almal kleiner as 0.05 en kan daarom in die ondersoek gebruik word. Wanneer dikgat dus met seekoei vergelyk word (eerste ry), is *p = 0.001 (teenoor die oorspronklike p = 0.000), wat vir die navorser beteken dat hulle maar kan vertrou dat daar in 95% van die gevalle 'n beduidende verskil is; die implikasie is dat die resultaat gebruik kan word om gevolgtrekkings mee te trek. Net so kan vetgat met seekoei vergelyk word, vark met seekoei, en so meer. In vier pare se geval is *p < 0.05 en dus van waarde vir die ondersoek; die vier pare is in grys blokkies aangedui.

3.4 Resultate

Die beskrywende statistiek en rangorde waarin die epitetons volgens die RAW's per vraag gerangskik is, word in die volgende tabelle verskaf:

Tabel 4: Vrae 1, 2, 5 en 7 word naas mekaar gestel om EEK's met non-EEK's te vergelyk. Ons sien dat die EEK's telkens meer aanstootlik is (vet / gat, dwaas / kop, vet / sak), met die uitsondering van ghwar. Die onderlinge verskille tussen items is egter nie noodwendig statisties beduidend nie en word hier onder verder ondersoek; dit geld ook die volgende twee tabelle.

Tabel 5: Vrae 3, 4, 6 en 8 word saam gegroepeer om verskillende suffiksoïede naas mekaar op te stel. Dit is opvallend dat EEK's met die suffiksoïed / gat telkens meer aanstootlik is. By vraag 3 se resultate kan 'n mens sien dat vet / gat meer aanstootlik as dik / gat is, maar hier onder sal aangetoon word dat dié verskil nie statisties beduidend is nie (*p = 0.087).

 

 

 

 

Tabel 6 : Vraag 9, waarin al die woorde vir [PERSOON WAT KORPULENT IS] met mekaar vergelyk is, se resultate word hier weergegee. Aan beide uiterstes van die kontinuum is EEK's: / gat blyk die mees aanstootlike suffiksoïed te wees, terwyl / neus en / broek die minste aanstootlik is. EEK's met / sak lê ongeveer in die middel, sodat ons voorlopig 'n kontinuum van EEK's kan postuleer: / neus < / broek < / sak < / gat.

 

 

In Tabel 7 tot Tabel 15 word die resultate van die paarsgewyse vergelykings met Wilcoxon se betekenderangtoets, asook die Bonferroni- aangepaste *p-waardes aangebied. Die epitetonpaar van statisties beduidende gevalle (waar *p < 0,05), word met grys blokkies gemerk. Die resultate van die vrae word weer soos hier bo gegroepeer: eers vraag 1, 2, 5 en 7; dan vraag 3, 4, 6 en 8; en ten slotte vraag 9. Kortheidshalwe word slegs die statisties beduidende gevalle vir vraag 9 in Tabel 15 weergegee.

 

 

Die relatiewe rangorde - van minder aanstootlik tot meer aanstootlik - van die items uit vraag 1 was seekoei < vark < dik / gat < vet / gat (kyk Tabel 4). In Tabel 7 kan dit gesien word dat die EEK's dik / gat en vet / gat beide beduidend meer aanstootlik is as seekoei en vark as voorbeelde van non-EEK's met diere as referent. Daar kan egter nie met sekerheid 'n onderskeid

tussen dik / gat en vet / gat, en tussen seekoei en vark getref word nie. Ons moet dus die spektrum vir die relatiewe rangorde soos volg aanpas: seekoei ~ vark < dik / gat ~ vet / gat.

By vraag 2 was die relatiewe rangordepampoen < pampoen / kop < dwaas < dwaas / kop. Die items is só gekies dat elke EEK (byvoorbeeld dwaas / kop) 'n semanties ekwivalente ([PERSOON MET BEPERKTE VERSTANDELIKE VERMOËNS]) non-EEK wat identiek aan die linkerkantste konstituent van die EEK is (byvoorbeeld dwaas), as teenhanger het. As ons veronderstel dat suffiksoïede evaluerend en intensiverend is, en dat die konseptuele metonimie MEER VORM VIR MEER BETEKENIS ook geskrewe taal geld (Trollip (2022)), dan kan ons hipotetiseer dat die EEK's telkens meer aanstootlik (d.i. intensiverend) as die non-EEK's sal wees. In Tabel 8 kan daar gesien word dat dit inderdaad die geval is vir die epitetonpaar pampoen - pampoen / kop, maar nie vir dwaas - dwaas / kop nie. Ons moet dus die spektrum vir die relatiewe rangorde soos volg aanpas: pampoen < pampoen+kop ~ dwaas ~ dwaas / kop.

 

 

Vraag 5 is soortgelyk aan vraag 2 in die sin dat elke EEK 'n non-EEK met dieselfde stam het. By vraag 5 is dit egter nie net die stam soos in vraag 2 nie, maar 'n geaffigeerde weergawe van die stam. Die metonimie MEER VORM VIR MEER BETEKENIS behoort dus nie hier te geld nie, en 'n mens behoort duideliker die verskil tussen EEK's en non-EEK's te sien. Dit is dan ook inderdaad die geval: Die resultate in Tabel 9 toon dat beide epitetons met / sak meer aanstootlik as beide die non-EEK-teenhangers is in die relatiewe volgorde: dikkerd~ vettie < dik / sak ~ vet / sak. Hoewel 'n mens in die verleiding sou wees om te dink dat die stam dik minder aanstootlik as vet is, kan dié afleiding egter nie met genoeg sekerheid uit die data gemaak word nie.

 

 

Die laaste vraag in hierdie groep vrae waar EEK's met non-EEK's vergelyk is, is vraag 7. Twee nie-Germaanse non-EEK's (ghwar en mamparra) is teenoor twee Germaanse EEK's gestel. Dit het egter nie werklik tot enige insiggewende resultate gelei nie, want die relatiewe rangorde was: mamparra < klip / kop < dom / kop < ghwar. Die paarsgewyse vergelykings se resultate in Tabel 10 toon ook slegs dat ghwar beduidend meer aanstootlik as mamparra en klip / kop is. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat ghwar ook betekeniselemente van [ONGEMANIERD] en [ONBESKAAFD] het, eerder as wat dit met die stratum te make het. Streng gesproke moet die spektrum dus soos volg aangepas word: mamparra ~ klip / kop ~ dom / kop ~ ghwar.

 

 

Die twee groepe vrae bevat slegs EEK's, en die doel van hierdie vrae was om verskillende suffiksoïede met mekaar te vergelyk. Die items in vraag 3 se relatiewe rangorde was: dik / sak < vet / sak < dik / gat < vet / gat. Daar kan uit die resultate in Tabel 11 gesien word dat epitetons wat eindig op / gat as meer aanstootlik gesien word as dié wat op / sak eindig, behalwe vet / sak en dik / gat wat in die middel lê. Dié spektrum kan dus só aangepas word: dik / sak < vet / sak ~ dik / gat < vet / gat.

 

 

In vraag 4, 6 en 8 is die linkerlid van die EEK telkens dieselfde gehou (onderskeidelik bang, dronk en dik) ten einde te probeer om die effek van die verskillende suffiksoïede te toets. Om die resultate te valideer, is die suffiksoïede by vraag 4 en 8 boonop identies (onderskeidelik / neus, / broek, / sak en / gat). Met die uitsondering van die epitetonpaar bang / sak- bang / broek (Tabel 12), was die verskil tussen al die ander pare statisties beduidend, en ons kan dus met 'n hoë graad van sekerheid die volgende volgordes uit dié data aflei:

 

 

 

 

 

 

 

 

Tot slot, in vraag 9 het ons eweneens binne dieselfde verwysingsdomein gebly ([PERSOON WAT KORPULENT IS]), maar nou nie net met verskillende linkerkantste dele (dik en vet) en suffiksoïede ( / neus, / broek, / sak en / gat) nie, maar ook met non-EEK's (dikkerd, vettie, seekoei en vark). Die doel was onder andere om ook die resultate van die ander vrae te valideer, spesifiek om te sien of die volgende relatiewe volgordes soos uit die vorige vrae geblyk het, staande bly wanneer meer as net vier verskillende woorde betrek word:

non-EEK's < EEK's (seekoei ~ vark < dik / gat ~ vet / gat; en dikkerd < vettie < dik / sak < vet / sak in onderskeidelik vraag 1 en 5)

+neus < / broek < / sak < / gat (dik / sak < vet / sak < dik / gat < vet / gat; naas bang / neus < bang / broek < bang / sak < bang / gat; en dronk / neus < dronk / broek < dronk / sak < dronk / gat in onderskeidelik vraag 3, 4 en 8)

Die relatiewe rangorde was: dik / neus < dik / broek < dikkerd < vettie < seekoei < dik / sak < vet / sak < vark < dik / gat < vet / gat (Tabel 6). Gegewe die data in Tabel 15, waar die statistiese beduidende data gegroepeer en gerangskik is volgens hierdie relatiewe rangorde, kan ons enkele gevolgtrekkings maak:

Nie alle epitetonpare wat in vrae 1 tot 8 as statisties beduidend aangedui is, is hier statisties beduidend nie. Dit het te make met amulti, soos verduidelik in afdeling 3.3.4.

Daar is geen statisties beduidende verskil tussen die vyf items aan die minder aanstootlike kant van die spektrum (dik / neus, dik / broek, dikkerd, vettie en seekoei) nie. Selfs die verskil tussen seekoei en dik / sak, vet / sak aan die minder aanstootlike kant, en vark aan die aanstootliker kant, is nie beduidend nie. Ons bevinding met betrekking tot non-EEK's < EEK's word dus in hierdie vraag nóg ondersteun, nóg verwerp en ons pas dit dus aan as non-EEK's * EEK's.

Waarom vark nie saam met die ander non-EEK's staan nie, kan waarskynlik op dieselfde manier as wat die geval by ghwar was, verklaar word: Vark het ook betekeniselemente soos [ONGEMANIERD], [ONBESKAAFD], [VUIL] en selfs [DISRESPEKVOL TEENOOR VROUE], wat beteken dat dit as aanstootliker deur die respondente aangevoel word.

Die twee EEK's aan die aanstootliker kant van die spektrum (dik / gat en vet / gat) is inderdaad meer aanstootlik as al die ander woorde - selfs ook as hulle naaste buurman, vark (gebaseer op positiewe rangordes). Soos dit die geval was met die data in Tabel 9, is daar ook hier geen statisties beduidende bewyse dat dik / gat minder aanstootlik as vet / gat is nie; ons moet dus aanvaar dat hulle pragmaties (d.i. met betrekking tot aanstootlikheid) gesien, ekwivalent is.

Dieselfde geld ook die ander kant van die spektrum met betrekking tot / neus en / broek: Daar is geen statisties beduidende verskil tussen hulle nie (soos ook die geval was in Tabel 14), en hulle kan dus ook as pragmaties ekwivalent beskou word.

Die spektrum / neus < / broek < / sak < / gat kan dus aangepas word na / neus ~ / broek < / sak < / gat.

 

 

4. Samevatting en gevolgtrekkings

Ter samevatting kan die navorsingsvrae en hipoteses weer oorweeg word. 'n Aanlyn vraelys met nege vrae is deur 98 respondente ingevul, waarvan 92 se response bruikbaar was. In dié vraelys moes respondente telkens die items (woorde) van mins aanstootlike tot mees aanstootlike rangskik. Vir elk van die nege vrae is die rangordes na numeriese waardes omgeskakel, sodat die mediaan per woord as relatiewe aanstootlikheidswaarde gekwantifiseer kon word. Vervolgens is 'n Friedman-toets vir elke vraag gedoen, wat aangetoon het dat daar wel in elke vraag statisties beduidende (p < 0.05) verskille tussen die items was. Om te bepaal waar presies die verskille lê (d.i. watter woordpare se mediane statisties beduidend verskil), is Wilcoxon se betekenderangtoets gebruik en is die p-waarde aangepas met die Bonferroni-metode (vir 'n aangepaste *p-waarde). Dié inligting kon toe gebruik word om die nulhipoteses te aanvaar of verwerp.

1. Is metonimiese EEK's meer of minder aanstootlik as semanties ekwivalente non-EEK's?

Die nulhipotese, dat daar geen onderskeid te tref is tussen die potensiële aanstootlik-heid van EEK's en semanties ekwivalente non-EEK's nie, kon in enkele gevalle verwerp word (byvoorbeeld dat dik / gat en vet / gat meer aanstootlik as seekoei en vark is (vraag 1), soos ook dik / sak en vet / sak teenoor dikkerd en vettie (vraag 5). Desnieteenstaande was daar nie genoegsame oortuigende bewyse om met die nodige sekerheid te kan sê dat non-EEK's minder aanstootlik as EEK's is nie. Een van die moontlike redes hiervoor is dat non-EEK's soos dwaas en ghwar ook ander, addisionele, negatiewe betekeniselemente as hulle EEK-teenhangers (dwaas / kop en dom / kop) bevat. Ons gevolgtrekking is dus dat non-EEK's * EEK's.

2. Is suffiksoïede wat na liggaamsdele verwys meer of minder aanstootlik as suffiksoïede wat na kledingstukke verwys?

Om die potensiële aanstootlikheidswaarde van suffiksoïede te vergelyk, is dit as nulhipotese gestel dat daar geen onderskeid te tref is tussen suffiksoïede wat na liggaamsdele teenoor suffiksoïede wat na kledingstukke verwys nie. Hoewel ons ook hier nie die nulhipotese sonder meer kon verwerp nie, kon ons tog die ondersoekte suffiksoïede op 'n spektrum van potensiële aanstootlikheid plaas, te wete: / neus ~ / broek < / sak < / gat.

 

Erkenning

Finansiële ondersteuning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns maak hierdie navorsing ten dele moontlik. Die in natura-bydraes van BlueTek Computers, WatKykJy. co.za, Afrikaans.com en Maroela Media word ook hiermee met dank erken. Dank ook aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit wat materiaal uit hulle onderskeie databasisse met ons gedeel het.

Verskeie medewerkers en studente werk aan verskeie aspekte van die projek en hierdie navorsing spesifiek; hulle name verskyn by https://vloek.co.za/oor-ons.

 

Belangeverklaring

Ten einde die navorsing ten beste te operasionaliseer, is daar in oorleg met die Noordwes-Universiteit besluit dat 'n onafhanklike projekwebblad vir die projek opgerig en onderhou word. Dié webblad, vloek.co.za, is ontwikkel en word besit deur Viridevert NPC (2016/411799/08), 'n maatskappy sonder winsbejag wat by die SAID geregistreer is as 'n opvoedkundige openbare weldaadsorganisasie (OWO) met belastingvrystelling ('n sogenaamde "artikel 18(a)-maatskappy") en met 'n eie bankrekening by FNB.

 

Etiekklaring

Die projek se oorhoofse etiekklaring is op 21 Mei 2019 by die Noordwes-Universiteit se Language Matters Ethics Committee geregistreer; die registrasienommer is NWU-00632-19-A7.

 

BIBLIOGRAFIE

AtotZ: Schroder, PH. (red.). 1980. Van Aalmoes tot Zwijntjesjager. Baarn: Erven Thomas Rap.         [ Links ]

Bauer, L. 2017. Compounds and compounding. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Bauer, L, Lieber, R & Plag, I. 2013. The Oxford reference guide to English morphology. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Bland, JM & Altman, DG. 1995. Multiple significance tests: the Bonferroni method. BMJ, 310(6973):170.         [ Links ]

Booij, G. 2020. Exocentric compounds. Taalportaal. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-13998813295820079 [18 June 2023.         [ Links ]

Booij, G & Hüning, M. 2014. Affixoids and constructional idioms. In Boogaart, R, Colleman, T & Rutten, G. (reds.). Extending the Scope of Construction Grammar. Berlin: Mouton de Gruyter, pp. 77-106.         [ Links ]

De Haas, W & Trommelen, M. 1993. Morfologisch handboek van het Nederlands. Een overzicht van de woordvorming. 's-Gravenhage: SDU Uitgeverij.         [ Links ]

Diez, D, Cetinkaya-Rundel, M & Barr, C. 2019. Openintro Statistics. 4e uitgawe. dBooks.org: DBooks.         [ Links ]

Heckathorn, DD. 1997. Respondent-Driven Sampling: A New Approach to the Study of Hidden Populations. Social Problems, 44(2):174-199.         [ Links ]

Jafari, M & Ansari-Pour, N. 2019. Why, When and How to Adjust Your P Values? Cell Journal, 20(4):604-607.         [ Links ]

Laerd Statistics. 2018. Statistical tutorials and software guides. https://statistics.laerd.com/.         [ Links ]

Rasinger, SM. 2008. Quantitative research in linguistics. London: Continuum.         [ Links ]

Statistics Solutions. s.a. How to Conduct the Wilcoxon Sign Test. Complete Dissertation: Expert Guidance Every Step of the Way. https://www.statisticssolutions.com/free-resources/directory-of-statistical-analyses/how-to-conduct-the-wilcox-sign-test/ [29 July 2023].         [ Links ]

Stekauer, P, Valera, S & Körtvélyessy, L. 2012. Word-Formation in the World 'sLanguages: A Typological Survey. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Steyn, AGW, Smit, CF, Du Toit, SHC & Strasheim, C. 1998. Moderne statistiek vir diepraktyk. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Trollip, EB. 2022. Morfologiese evalueringskonstruksies in Afrikaans [Morphological evaluation constructions in Afrikaans]. Ongepubliseerde PhD-tesis, North-West University.         [ Links ]

Van der Sijs, N. 2019. 15 eeuwen Nederlandse taal. Gorredijk: Sterck & De Vreese.         [ Links ]

Van Huyssteen, GB. 2023a. Afrikaans epithetical exocentric compounds. 4th International Afrikaans Grammar Workshop, 27-28 November. (Aanvaar vir publikasie)        [ Links ]

Van Huyssteen, GB. 2023b. Morfologie [Morphology]. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde [Contemporary Afrikaans Linguistics]. Derde uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.(Aanvaar vir publikasie)        [ Links ]

Van Huyssteen, GB. 2023c. The morphology of Afrikaans. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). Contemporary Afrikaans Linguistics. Pretoria: Van Schaik. (Aanvaar vir publikasie)        [ Links ]

Van Niekerk, L. 2002. 'n Korpusanalise van Afrikaanse eksosentriese komposita. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling-tesis, Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Van Niekerk, L. 2006. Funksionele aspekte van Afrikaanse eksosentriese komposita. Ongepubliseerde DLitt et Phil-tesis, Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-07-31
Goedgekeur: 2023-08-11
Gepubliseer: September 2023

 

 

 

Gerhard van Huyssteen is professor in Afrikaanse taalkunde en taaltegnologie aan die Noordwes-Universiteit. Hy dien van 2005-2021 op die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was voor-sitter van dié liggaam van 2013 tot 2021. Vanaf 2009 tot 2014 dien hy ook op die paneel van mensetaaltegnologiekundiges van die Departement Kuns en Kultuur. Hy is onder andere ontvanger van die Elizabeth Eybers-beurs, die CL Engelbrecht-prys vir taalkundenavorsing vir sy aandeel in die publikasie van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, en die Stalsprys vir multi-en interdissiplinêre spanwerk. Van Huyssteen is veral bekend vir sy bydrae as taalkundige/ morfoloog in die ontwikkeling van tekstegnologietoepassings en verskeie elektroniese hulp-bronne vir Afrikaans. Hy hou hom die afgelope paar jaar ook besig met multidissiplinêre navorsing oor taaltaboes, spesifiek in Afrikaans en ander tale in Afrikaans se ekosisteem.
Gerhard van Huyssteen is professor of Afrikaans linguistics and computer linguistics at the North-West University. He served on the Language Commission of the South African Academy for Science and the Arts from 2005 to 2021, and was elected chair for the period 20132021 From 2009 to 2014 he served on the panel of human language technology experts of the Department of Arts and Culture. He is the recipient of the Elizabeth Eybers Scholarship, the CL Engelbrecht Prize for Linguistic Research for his contribution to the publication of the tenth edition of the Afrikaanse woordelys en spelreëls, and the recipient of the Stals Prize for inter- and multidisciplinary research. Van Huyssteen is best known for his contribution as a linguist in the development of text technology applications and various electronic resources for Afrikaans. Over the past couple ofyears, he has also been involved especially in research on language taboos, specifically in Afrikaans and other languages in its ecosystem.

 

 

Simone Izette Koekemoer studeer vanaf 2019 tot 2021 BA Tale, met onder andere Suid-Afrikaanse Gebaretaal, aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus. Tydens haar studies ontvang sy die DSAC-beurs (in 2020 en 2021), asook 'n merietebeurs van die NWU. Sy word ook in 2020 na Golden Key uitgenooi. In 2022 ontvang Simoné haar hon-neursgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.
Simoné Izette Koekemoer studied BA Languages, including South African Sign Language, at the North-West University's (NWU) Potchefstroom Campus from 2019 to 2021. During her studies, she received the DSAC scholarship (in 2020 and 2021), as well as a merit scholarship from the NWU. She was also invited to Golden Key in 2020. Simoné received her honours degree in Afrikaans at the University of Pretoria in 2022.
1 In morfologiese analises word die middelpunt (
) gebruik as aanduider van affiksgrense, die gedeeldeurteken (/) as aanduider van affiksoïedgrense en die plusteken (+) as aanduider van woordgrense in komposita. 'n Lys van afkortings wat gebruik word, is beskikbaar in Van Huyssteen (2023c); ooreenkomstig konvensies met betrekking tot die gebruik van glosse in die beskrywende taalkunde, word die afkortings nie vertaal nie.
2 Persoonsname (soos bibliotekaris, inwoner of lummel) staan naas/teenoor persoonlike name soos voorname (byvoorbeeld Jan), byname (Rooijan, Klein Jan, Jan Ore), toename (Jan die Breker, Jan junior) en vanne (Jansen).
3 In die res van hierdie afdeling verwys epitetons na die versameling EEK's en epitetiese nonkomposita wat in die vraelys gebruik is.
4 Indien hierdie p-waarde "0.000" is, beteken dit dat p < 0.0005 (Laerd Statistics (2018)).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons