SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3An assessment of perceptions concerning digital transformation at a South African commercial bank - a case of Anthropocene denial for the economy?Parenting approaches of hearing mothers and fathers to children with hearing loss índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a9 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

Afrikaanse visserstaal

 

Afrikaans Fisher language

 

 

Jadé Fouché (Née Blume)I; Annél OttoII

IDepartement Opvoedkunde, Nelson Mandela Universiteit, Gqeberha, Suid-Afrika. E-pos: jade.blume@mandela.ac.za
IIDepartement Tale en Letterkunde, Nelson Mandela Universiteit, Gqeberha, Suid-Afrika. E-pos: anna.otto@mandela.ac.za

 

 


OPSOMMING

Afrikaanse visserstaal is deur verskillende tale beïnvloed, waaronder veral Nederlands, Portugees, Maleis en Engels en word as variëteit onderskei op grond van heelwat unieke woorde en uitdrukkings. Daar is min geografiese differensiasie tussen Oos-Kaapse en Wes-Kaapse visserstaal as gevolg van die dialekkontinuum (Blume, 2023).
Woorde in Afrikaanse visserstaal verskil ten opsigte van gestandaardiseerdheid deurdat sommige woorde ook in die algemene woordeskat voorkom, soos in die nuutste HAT aangedui. Sommige woorde is nie gestandaardiseer nie aangesien hulle Engelse woorde is, byvoorbeeld shad, of 'n hibridiese vorm van Engels en Afrikaans is, byvoorbeeld raggie. Ander woorde en uitdrukkings is nie in die HAT opgeneem nie, waarskynlik omdat hulle nie so bekend/gebruiklik is in die algemene leksikon nie, byvoorbeeld bonnie/bonnietjie in plaas van die standaardwoord bonito. Stylvlakverskille kom voor by die Standaardafrikaanse woord stompneus teenoorflatty (informeel). Laasgenoemde word eerder onder die vissers gebruik. Dit geld ook vir die gebruik van visserman teenoor visterman. Enkele woorde in HAT6 bevat nie die visserstaal-betekenisonderskeiding nie, byvoorbeeld bakkie en mas as werkwoord.

Trefwoorde: Afrikaanse visserstaal; dialektologie; leksikon; semantiek; sosio-linguistiek; variëteit; sosiolek; register; standaardvariëteit; formaliteit


ABSTRACT

Since no recent study has been done about Afrikaans Fisher language the aim of this article is to give an updated linguistic description of this variety.1 Heiberg (1957) conducted a previous study. Varieties change all the time (D'Arcy, 2015:484) and Afrikaans Fisher language is no exception.
Due to Covid-19 the researchers were unable to focus exclusively on subsistence fisher communities. Covid anxiousness led to the fact that many fishers did not want to take part in this qualitative study, in which, inter alia, questionnaires and interviews were used (Blume, 2023:35).
All fishers indicating their willingness to participate were chosen as respondents if they were between 18 and 75 years of age. The sample of forty fishers is therefore small but is supplemented by various other sources. The areas covered were the coastal areas of the Eastern, Southwestern and Western Cape (Blume, 2023:35).
Afrikaans Fisher language has been influenced by different languages, especially Dutch, Portuguese, Malay and English and is recognised as a variety due to several unique words and expressions. Stell, Luffin and Rakiep (2008:293) indicate that the initial Malay and Creole Portuguese of the 20th century led to the development of Muslim Afrikaans. Heiberg (1957:96) explains that the names of certain types offish have an Eastern origin and that they most probably show Malay or Portuguese influence, for example: daeraad: Portuguese, dorado, English dageraad (Blume, 2023:80).
Dutch words like dòòdstròòm, kabbelau, omweer/onweer, platvisch (to mention a few) show remarkable similarities with Afrikaans (see Overdiep, 1940; Blume, 2023:108).
The list below indicates examples of English influence:
bait: something to lure the fish with
bait caster: somebody who uses live bait to catch fish
beaut: (noun) - a big or pretty fish
beautiful: to describe a fish that is big or pretty
bottom feeders: Amongst others steenbras, kapenaars, Rooi Roman, Miss Lucy, etcetera
cast: fishing method using a hook, line, sinker and bait
catch and release: catch fish and throw them back into the water
chum, chumming: use bait to get a lot of fish in one place
coffee grinder: a type of pulley
drag, smooth drag: the breaks on the pulley - "die drag is smooth".
dropshot: hook made of steel with a built-in sinker and bait which is used to catch fish
edge - "daai edge gee": have a better chance of a catch
happy days: exclamation of joy
hook-up, double hook-up: when fish bite or when more than one fish is caught on one hook
live bait: bait that is alive
pink prawn: type of sand or mud prawn
popper: artificial bait in the form of small fish
pull: when you can see that a fish bites because of the movement of the line
rocket: used to describe a fast fish - "Hy swem soos 'n rocket."
run: when thefish bit but try to swim away with the hook and bait. The Afrikaans equivalents loop and hardloop are also used.
single: when only one hook is used size: when a fish is legally big enough
spinner: type of bait made of metal which turns around in the water tentacle: a type of bait, specifically octopus tentacle tooth wire: strong line used to catch fish trawl: method of pulling bait behind a boat
trigger: "hongerkliertjie trigger": stimulation of the glands on certain types offish, usually
when the chum method is used
try wind: used instead of probeer inkatrol
unbelievable: emotional exclamation
wangle: manipulate tools to function as they should
Hybrid (English and Afrikaans) forms are frequently used:
The following English fish names are used:
banded galjoen: also known as bastard galjoen, demba. belman: other names are baardman, belvis, tasselfish.
bronze bream: alternative names are hottentot, das, Jan Bruin, John Brown, fat fish, copper bream, Nyizala, butterfish, etcetera. bronzy: variant of bronze bream. cob: kabeljou
flatty: frequently used in the Eastern Cape instead of Kaapse stompneus.
garrick: also called leervis, leerfish
grunter: instead of knorhaan
gruntertjie: instead of knorhaan
Miss Lucy: instead of rooistompneus
pig/pig nose: instead of witneussteenbras
pyltail (stingray): instead of pylstert, skerpneuspylstert, blou pylstert, vlinderrog raggie: from ragged toothed shark instead of yellow shark, brown shark shad: (Afrikaans: elf)
swart musselcracker: (Afrikaans: poenskop). This fish is also known as black biskop, witbek, black steenbras, saqomolo, swartbiskop. Most fishers use either musselcracker or poenskop.
tiger: instead of tiger shark
wit musselcracker: Also known as brusher, mussel crusher, silver steenbras, white biskop. Most fishers use musselcracker instead of biskop. yellowtail: Seriola lalandi (Blume, 2023:155-157).
Fisher language differs in terms of degrees of standardisation as certain words also occur in the general vocabulary, as indicated in the latest Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). Some words are not standardised as they are English words, for example shad (instead of elf) or they consist of hybrid forms, containing English and Afrikaans elements, like raggie for a specific type of shark. Other words and expressions are not included in the HAT, probably as they are not so well-known or frequently used in the general lexicon, for example bonnie/ bonnietjie instead of bonito.
Stylistic variation is evident in the usage of the frequently used informal word flattie instead of stompneus.
The degree of education can also lead to variation, as in skuide for skuite and kiewe for kieue.
Certain meaning distinctions relating to Fisher language do not occur in the HAT, for example mas used as a verb and the meaning distinction "small boat" at the lemma bakkie.

Keywords: Afrikaans Fisher language; dialectology; lexicon; semantics; socio-linguistics; variety; sociolect; register; standard variety; formality


 

 

1. Inleiding

Die opmerklikste verskille tussen Afrikaanse visserstaal en ander variëteite word binne die leksikon aangetref. Die doel van hierdie artikel is om 'n bygewerkte linguistiese beskrywing van Afrikaanse visserstaal te gee.

Die afgelope sestig jaar is geen nuwe navorsing oor Afrikaanse visserstaal onderneem nie, veral nie langs die Suid-Afrikaanse kusgebied nie. Die vorige studie is deur Heiberg (1957) gedoen.

Die kernwoorde (vergelyk ook Blume, 2023:21-23) word eers verklaar voordat die metodologie beskryf sal word.

Die teoretiese raamwerk vir hierdie studie is die sosiolinguistiek, hoewel dialektologie en semantiek ook betrek word. Die kernterme sal vervolgens eers bespreek word, voordat die metodologie aan bod kom.

Afrikaanse visserstaal verwys na 'n tipe taal wat deur vissers en vissersgemeenskappe gepraat word, wat in kusgebiede woon en wat vir 'n lewe of vir ontspanning visvang. In hierdie studie is die fokusarea vir navorsing die Oos-Kaap, Suidwestelike en Westelike kusgebiede van Suid-Afrika.

'n Variëteit is 'n patroonmatige sisteem van linguistiese variante wat met 'n bepaalde groep mense geassosieer word (Du Plessis, 1987:9).

Standaardvariëteit verwys na die algemene woorde en uitdrukkings wat as vergelykings-basis dien wanneer ander variëteite beskryf word (Otto in Carstens & Bosman, 2017:371).

Coulmas (2005:10) dui aan dat die sentrale tema van die sosiolinguistiek variasie is. Sosiolinguistiek fokus onder andere op die sosiale variasie wat in gemeenskappe voorkom (Yule, 2017:286; Nagy in Bayley, Cameron & Lucas, 2015:427). Meyerhoff (2011:1-2) verdui-delik dat sosiolinguiste sekere metodes gebruik om patrone in taalgebruik en houdings ten opsigte van taal en taalgebruik te analiseer (Blume, 2023:22).

Semantiek hou verband met die studie en beskrywing van betekenis, wat in hierdie artikel gebruik sal word om die betekenis van Afrikaanse visserstaalwoorde aan te dui.

Die leksikon is die versameling woorde en frases wat in 'n betrokke taal of variëteit voorkom. Hierdie leksikon is nie 'n vaste getal woorde en frases nie, want dit mag konstant deur die jare heen verander, byvoorbeeld as gevolg van nuutskepping.

Sosiolek is 'n term wat na die taalgebruik van 'n sekere sosiale groep verwys in plaas van 'n geografiese groep, waar verskillende sosiale faktore die daaglikse taalgebruik van die sosiale groepe beïnvloed. Stockwell (2007:9) dui aan dat 'n sosiolek van 'n register verskil omdat 'n sosiolek eerder op die sosiale aspek van taal fokus en nie bloot na die spesifieke taalgebruik tydens verskillende aktiwiteite verwys nie. Tradisioneel word Afrikaanse visserstaal as 'n register beskou (vergelyk onder andere Webb in Botha (1989:430) en Carstens & Raidt (2019:560)), maar binne digte sosiale netwerke kan subgroepe ook as sosiolekte beskryf word deurdat daar nie net op die woordeskat gefokus word wat met die aktiwiteit van visvang verband hou nie. Sprekers se identiteit en solidariteit binne 'n gemeenskap bepaal in 'n groot mate hulle taalgebruik (Wardhaugh, 2010:7-8). Die terme register en sosiolek kan dus in bepaalde gevalle oorvleuel, byvoorbeeld by Kaapse Moesliem-vissers.

Dialektologie verwys na die studie van geografiese dialekte en hoe hierdie geolekte met mekaar 'n verbintenis toon (Coulmas, 2005:21). Dialekte kan as subafdelings van 'n spesifieke taal gesien word, byvoorbeeld die Lancashire-dialek van Engels, die Munster-dialek van Ierland en Namakwalands van Afrikaans (Chambers & Trudgill, 1980:3; Yule, 2017:270).

Formaliteit speel in hierdie artikel 'n belangrike rol, aangesien die omgangstaal/spreektaal oor die algemeen informeler as die geskrewe vorm van Afrikaanse visserstaal is. Bepaalde skrywers se skryfstyl wissel nietemin ook. Pieter Pieterse skryf byvoorbeeld in 'n informeler styl as die ander geskrewe bronne.

 

2. Metodologie

Hierdie artikel word binne die kwalitatiewe (hermeneutiese) raamwerk gedoen (Hennink, Huttar & Baily, 2020; Sutton, 1993; Creswell, 2009). Daar is gebruik gemaak van vraelyste, onderhoude, direkte waarneming en 'n literatuurstudie. Die vraelys en 'n voorbeeld van 'n onderhoud word in die bylaes opgeneem (Blume, 2023).

Die navorsers kon weens Covid-beperkings nie Afrikaanse visserstaal baseer op spesifieke vissersgemeenskappe wat visvang vir 'n lewe nie. Enige gewillige visser moes betrek word ten einde genoeg data te kon kry: vissers wat visvang vir 'n lewe sowel as vissers wat visvang vir ontspanning. Die demografie van die vissers wat ondersoek is, is soos volg: persone tussen die ouderdomme van 18 en 75, wat vir 'n lewe of vir ontspanning hengel (Blume, 2023:35).

Daar sal vervolgens gekyk word na die herkoms van Afrikaanse visserstaalwoorde deur te let op die invloed van verskillende tale. Dialektologiese verskille sal ook aangedui word. Sommige leksikale items kom byvoorbeeld slegs in een streek voor, terwyl sekere visbenamings ook slegs in een streek voorkom. Hierdie geografiese verskille bevestig die stelling deur Whibley en Garratt (1992) wat aandui dat die vissers meer as een benaming vir dieselfde vis gegee het. Dit is vandag nog waar omdat vissers in verskillende geografiese areas soms visse op ander name noem.

Die linguistiese beskrywings word meestal in tabelvorm aangedui, met woordsoortaanduiding, 'n kort betekenisomskrywing, 'n illustrasie en ten minste een bronverwysing. Hierdie tabelle is gebaseer op die volgende bronne: onderhoude wat met die vissers gevoer is, vraelyste wat in die Oos- en Wes-Kaap voltooi is, data wat deur direkte waarneming van vissers bekom is, seisoene 3 tot 20 van die program Hier Gaan Ons Alweer (sic), wat in 2022 op KykNet en Showmax vertoon is, verskeie YouTube-video's (vergelyk die bibliografie), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Prinsloo (2009) se werk - Annerlike Afrikaans, Louwrens (2001) -Aas is die Geheim: Seehengelgids, Engelbrecht se werk - Varswaterhengel in Suid-Afrika van 1982 (1973), Whibley en Garratt se boek van 1992, naamlik Die Suid-Afrikaanse Hengelaar, tekste van Pieter Pieterse, Ina Paarman se teksgedeelte Weskus-sêgoed en byname, Jana Luther se artikel Ken jy die see, Meneer? en enkele ander bronne, byvoorbeeld tydskrifartikels.

Die jongste HAT word betrek om na te gaan watter van die Afrikaanse visserstaalitems ooreenstem met die standaardvariëteit.

2.1 Etiese klaring

Etiese klaring is van die Nelson Mandela Universiteit verkry, en die nommer is: H/20/ART/ ALS-001.

 

3. Die herkoms van Afrikaanse visserstaal

Afrikaanse visserstaal is deur verskillende tale beïnvloed, waaronder veral Nederlands, Portugees, Maleis en Engels en word as variëteit onderskei op grond van heelwat unieke woorde en uitdrukkings (Blume, 2023:80). Heiberg (1957) dui aan dat Maleis 'n sterk invloed het op die taalgebruik van die vissers. Dit is waarskynlik omdat Moesliems dekades al visvang (Heiberg, 1957:102). Stell, Luffin en Rakiep (2008:293) verduidelik dat die aanvanklike Maleise en Kreoolse Portugees van die 20ste eeu gelei het tot die ontstaan van 'n variëteit van Afrikaans, wat heel moontlik die oorsprong van Moesliemafrikaans kan wees:

The disappearance of both Malay and Creole Portuguese by the turn of the twentieth century confirms that the components forming the Cape Muslim community may have merged into an ethnically all-inclusive 'Cape Malay' group of which a certain variant of Cape Dutch/Afrikaans was the most natural linguistic attribute.

(Stell, Luffin & Rakiep, 2008:293)

Volgens Heiberg (1957:90-102) beteken para "om 'n skuit te laat dryf" en tjappa "om stadig te roei". Hierdie (en 'n paar ander woorde) vertoon Maleise of Portugese invloed. Heiberg (1957:96) verduidelik dat die benaming van sekere vissoorte 'n Oosterse herkoms het, en dat hierdie herkoms heel waarskynlik van Maleis of Portugees kom, byvoorbeeld daeraad: Portugees, Dorado.

Nederlandse woorde soos dòòdstròòm, kabbelau, omweer/onweer, platvisch (om enkeles te noem) toon merkwaardige ooreenkomste met Afrikaans. Daar kan geargumenteer word dat die Nederlandse invloed op Afrikaans sterk teenwoordig in die huidige taalskat is (vergelyk Overdiep, 1940; Blume, 2023:108).

Daar is ook heelwat Engelse invloed op Afrikaanse visserstaal, soos uit die onderstaande lys sal blyk:

bait: Engelse woord vir lokaas.

bait caster: iemand wat met lewende aas gooi om vis te vang.

beautiful: byvoeglike naamword gebruik om te verwys na die grootte van die vis. Minder gebruiklik: byvoeglike naamwoord vir 'n mooi vis.

beaut/beauty: Beaut is baie gebruiklik onder die vissers in die Oos-Kaap.

bottom feeders: ook bekend as bodemwoners; vissoorte wat aan die bodem gevind word, byvoorbeeld steenbras, kapenaars, rooi roman, Miss Lucy, en nog meer.

cast: metode wat deur vissers gebruik word om die vislyn in die water te gooi (met die hoek, sinker en lokaas reeds vas aan die lyn) om te kan hengel.

catch and release : hengelmetode waartydens die vissers die visse vang bloot om die mates te neem en dan weer terug te sit sonder dat die visse seerkry op enige manier. Dié metode kan ook verwys na hengelaars wat visse vang om hulle te merk vir wetenskaplike navorsingsdoeleindes.

chum, chumming: metode van lokaas gebruik wat baie visse op een plek lok. Die metode behels gewoonlik bloederige lokaas wat oor die water gestrooi word. cob: kabeljou, Argyrosomus japonicus.

coffee grinder: 'n tipe katrol wat vas is.

drag, smooth drag: die brieke op die katrol ("die drag is smooth"). dropshot: staal-tipe hoek met 'n ingeboude sinker en kunslokaas wat gebruik word om mee te vang; dié metode is 'n herhalingsmetode van cast (gooi) en inkatrol, oor en oor totdat die vis gevang word.

edge - "daai edge gee": die vissers gebruik hierdie term om te verwys na hulle gerei of aas, gewoonlik op 'n positiewe wyse om te sê dat hulle (die vissers) nou meer van 'n kans staan om die vis te kry as gevolg van die gerei/aas wat hulle tans gebruik. happy days: tipe uitroep wanneer die vissers meer vang as gewoonlik, wanneer hulle 'n lekker tyd het of wanneer hulle bloot gelukkig voel in daardie betrokke oomblik. hook-up, double hook-up: wanneer die vis byt of wanneer daar meer as een vis aan een hoek gevang word.

livebait: lewende aas.

Miss Lucy: die Engelse benaming word oor die algemeen gebruik om na 'n rooistompneus te verwys.

pink prawn: tipe sand- of modderkrewel wat gebruik word as lokaas; kan met 'n krewelpomp gevind word tydens laagwater.

popper: kunsaas in die vorm van vissies.

prawn: aassoort; verwys na die modderkrewels. Hibriede vorms word ook gereeld gebruik, byvoorbeeld pienk prawns.

pull: wanneer die vis(se) byt aan die lyn en dit met die beweging van die lyn gesien kan word.

rocket: word gebruik om 'n vinnige vis te beskryf - "Hy swem soos 'n rocket."

run: wanneer die vis reeds gebyt het, maar met die hoek en lokaas probeer wegswem.

Daar is ook 'n Afrikaanse ekwivalent wat algemeen gebruik word, naamlik loop en hardloop.

singles: wanneer slegs een hoek gebruik word.

size: die vissers verwys na die visse as "size" wanneer die visse die wettige grootte is om te hou.

spinner: tipe kunsmatige lokaas wat van 'n tipe metaal gemaak word; dit draai rond in die water en lok visse met die beweging daarvan.

tentacle: dit verwys na aas, spesifiek seekatpoot.

toothwire: tipe sterk lyn waarmee vis gevang word.

trawl: metode van lokaas agter 'n boot trek.

trigger ("hongerkliertjie trigger"): stimulasie van die kliere op sekere vissoorte, gewoonlik

gepaard met die chum-metode.

try wind: inkatrol (vergelyk Blume, 2023:154-155).

unbelievable: emosionele uitroep.

wangle: die manier van iets, veral gereedskap, manipuleer totdat dit werk soos wat die visser wil hê dit moet.

Een van die opvallende verskynsels van Afrikaanse visserstaal is die voorkoms van kombinasies van Engelse en Afrikaanse woorde waartydens die sprekers Engelse woorde met Afrikaanse stamme of affikse verbind. Die voorbeelde wat aangetref is, is soos volg:

bait castertjie, baitjie, ball bearinkie, carbon leadertjie, cobbie, drop-offie, dropshothengel, dropshotjie, gecast, geretrieve, getrawl, ingeforce, leases, poppertjies, prawnpomp/ prawnpompe, swiveltjie, trawlnette (vergelyk Blume, 2023:154-155).

Die volgende leksikale items met Engelse invloed by visbenamings wat in Afrikaanse visserstaal opgemerk is, kom algemeen voor:

banded galjoen: Coracinus multifasciatus; ook bekend as bastard galjoen, demba. Hierdie vissoort lyk baie soos die gewone galjoen.

belman: Umbrina canariensis; ander name is baardman, belvis, tasselfish.

bronze bream: Pachymetopon grande. Hierdie vissoort het baie alternatiewe benamings, waaronder hottentot, das, Jan Bruin, John Brown, fatfish, copper bream, Nyizala, butterfish, en so meer.

bronzy: variant vir bronze bream.

cob: kabeljou, Argyrosomus japonicus

flatty: Hierdie leksikale variant, wat na die Kaapse Stompneus verwys, is veral algemeen in die Oos-Kaap.

garrick: Lichia amia. Hierdie bekende vis is deel van die koningvissoorte. Ander benamings is leervis of leerfish. Dié vis kom algemeen voor in die Oos-Kaap en in die Suid-Kaap, maar aangesien hierdie vis in riviermondings en in riviere voorkom, kan dit al langs die kus gevang word.

grunter: Pomadasys commersonnii. Hierdie vissoort word aan sy snorkgeluid herken; knorhaan.

gruntertjie: Pomadasys commersonnii, knorhaan.

Miss Lucy: Die Engelse benaming word meestal gebruik en verwys na 'n rooistompneus.

pig/pig nose: Lithognathus lithognathus; witneussteenbras.

pyltail (stingray): Dasyatidae. Dit word ook pylstert, skerpneuspylstert, blou pylstert en vlinderrog genoem. Hierdie plat vissoort kom aan die hele kus van Suid-Afrika, tot by die Namibiese kus, voor.

raggie: Carcharias taurus. Dit kom van die Engelse benaming ragged toothed shark, wat verwys na 'n soort haai wat deur sy skerp, skewe tande gekenmerk word. Ander benamings is yellow shark en brown shark. Hierdie haaisoort kom algemeen voor en word gereeld deur strandhengelaars gevang en teruggegooi.

shad: Pomatomus saltatrix. (Afrikaans: elf). Dit is een van die gesogste vissoorte in Suid-Afrika en kom aan die hele kus voor. Shad word meer algemeen gebruik vanaf Natal tot in die Oos-Kaap, terwyl elf of elwe meestal van die Oos-Kaap tot by die Weskus gebruik word. Daar word wel soms gewissel deur die Engelse benaming shad te gebruik.

swart musselcracker: Cymatoceps nasutus (poenskop). Hierdie vis staan ook bekend as die black biskop, witbek, blacksteenbras, saqomolo, swartbiskop. Die meerderheid vissers praat van musselcracker en poenskop; daar word dus gereeld tussen die twee woorde gewissel.

tiger: Galeocerdo cuvier; tipe haaisoort. Dit is 'n verkorting van tiger shark, wat herken kan word aan sy tieragtige strepe.

wit musselcracker: Sparodon durbanensis (witbiskop). Dit is ook bekend as brusher, mussel crusher, silver steenbras en white biskop. Hierdie vissoort is baie gewild in die Oos-Kaap sowel as die Suid-Kaap se kusgebied. Die meerderheid vissers praat in die meeste gevalle van musselcracker in plaas van biskop.

yellowtail: Seriola lalandi. Ander benamings is albacore en halfkoord, en die Afrikaanse ekwivalent is geelstert (vergelyk Blume, 2023:155-157).

 

4. Redes vir variasie

Variasie in Afrikaanse visserstaal kom voor as gevolg van kontak met ander tale, minder gebruiklike vorme, stylvlakverskille en opleidingsverskille. 'n Groot mate van Engelse invloed kom voor, byvoorbeeld grunter, of 'n hibridiese vorm soos flattie. Hierdie Engelse woorde word veral in informele kontekste gebruik. Minder gebruiklike vorme, veral in die verkleiningsvorm, word ook soms gebruik, byvoorbeeld bonnie/bonnietjie in plaas van die standaardwoord bonito. Baie visserstaalwoorde is reeds in standaardwoordeboeke, byvoorbeeld die HA T opgeneem. Enkele woorde in HA T6 bevat nie die visserstaal-betekenisonderskeiding nie, byvoorbeeld bakkie en mas as werkwoord (vergelyk Blume, 2023 se finale tabel). Verder kan die mate van opleiding 'n rol speel by die uitspraak van kieue as kiewe.

Daar is min geografiese differensiasie tussen Oos-Kaapse en Wes-Kaapse visserstaal as gevolg van die dialekkontinuum (Blume, 2023).

 

5. Oorvleueling met die algemene gestandaardiseerde woordeskat

'n Groot mate van oorvleueling met algemene standaardwoorde kom wel voor, soos sal blyk uit die volgende kategorieë:

Visbenamings: alikreukel, alikruk, ansjovis, baardman, baber, bankbloue, basterleervis, beenbek, biskop, blaasop/blaasoppie, blinklyf, blousteenbras, bloustompkop, bodemvis, boerkabeljou, bonito, bontrok, bythaai, dassie/kolstert, dikkop, doppie, elf, galjoen, galjoen-snoek, garnaal, geelbek, geelbekhaai, geelhaai, geelvis, gor-gor, haai, karp, katonkel, knorhaan, ensovoorts.

Woorde wat met aas verband hou: aas, bloedwurm, doilie, kunsaas.

Seetoestandwoorde en -uitdrukkings is onder andere: die r-maande, dol-spring, donkermaanspring, die see is dood, dooiewater, dooigety, droëbek, droëbeksee, ertjiesopwater, galjoentyd, gemmerbierwater, gety, ensovoorts.

Die volgende woorde hou verband met seevaartuie en mense op die seevaartuie: bakkie, ballas, bootsman, bo-sim, dobber, dof/dofte, dolboord, dolpenne, dolstroppe, ensovoorts.

Woorde wat met visvanggerei en -metodes verband hou, is die volgende: gooi teenoor cast; fuik, net.

Naas reeds genoemde woorde wat algemeen genoeg gebruik word om ook in die nuutste (gedrukte) HAT6 voor te kom, is daar baie hengelspesifieke woorde en -uitdrukkings wat nie algemeen gebruik word nie.

 

6. Visserstaalwoorde wat nie algemeen in die standaardvariëteit gebruik word nie

Visbenamings wat nie algemeen in die standaardvariëteit gebruik word nie, vertoon meestal Engelse invloed, byvoorbeeldflattie vir stompneus en shad naas elf. Vir bonito word bonnie en bonnietjie gebruik en vir ansjovis anchovie (Hier gaan ons alweer, seisoen 4, episode 41). Dan is daar ook gewoon niealgemene visbenamings, byvoorbeeld armadillo (Blume, 2023).

Verder is daar heelwat sinonieme, byvoorbeeld klipmossel enperdekuil (Pieterse, 1985) en boeties vir steenbras (Gansbaai - vgl. Prinsloo, 2009:30).

Wat sinonieme betref, hou die gebruik daarvan dikwels met geografiese omgewing verband. 'n Janbruin word byvoorbeeld in die Transkei en KwaZulu-Natal damkokker genoem, terwyl 'n wildeperd by Knysna bontrok genoem word (Prinsloo, 2009:31). Groter silwervissies word in die Strand doppies genoem, rooitjies by Knysna, karp by Gqeberha en kapenaar van Oos-Londen tot by KwaZulu-Natal (Blume, 2023).

Die volgende woorde en uitdrukkings word hoofsaaklik deur vissers gebruik:

Elke visser moet aan die eienaar van 'n skuit bakspart ('n tipe kommissie) betaal (Luther, 2019).

Verskillende tipes aas kan gebruik word, waaronder bandjies - die gevlegte rooi en blou of geel en groen vlegseltjies, wat kunsaas is wat gebruik word om snoek te lok (Luther, 2019). Doilies kan ook gebruik word om snoek mee te lok en hierdie woord is by Dwarskersbos opgeteken (Prinsloo, 2009:45) en bloeties of bloedies word naas die standaardwoord, bloedwurm, gebruik (Blume, 2023).

Die vissers word ook geïrriteer deur voëls wat die aas afpik. Hierdie voëls word aaspikkertjies of aasvretertjies genoem:

 

 

Sekere woorde hou direk of indirek verband met die verkoop van vis, hetsy in terme van die grootte van die vis, die benaming vir smouse, 'n aanduiding van of die vis afsonderlik of in groepies verkoop word, ensovoorts. Eentel of koptel verwys na 'n kabeljou wat groot genoeg is om afsonderlik verkoop te word. Hierteenoor verwys melkkabeljoutjies of kortholletjies na die kleinste kabeljoutjies met sappige vleis wat in bossies (kwatjies genoem) ingesnoer word. Die woord kortholletjie kom volksetimologies van die Engelse "short haul" (Luther, 2019). Nog 'n klein vissie, die silwervis, word 'n pil genoem en het nog nie die grootte vir wettige vangs bereik nie (Luther, 2019). Kwagga verwys na 'n kabeljou van middelslaggrootte (Luther, 2019). Langanas of langane word gebruik om na vishandelaars te verwys, soos wat Luther (2019) aandui: "Dan krioel die kaai van 'langane' (of 'langanas'), vissmouse, vishandelaars, wat dikwels die hele vangs net daar van die visser koop."

Sommige woorde dui aan wanneer of hoe lank daar vis gevang word:

 

 

Vis kan natuurlik op verskillende maniere gevang word en die volgende woorde en die emosies wat met visvangs verband hou, word vervolgens aangedui:

 

 

Die wind, getye en bepaalde maande van die jaar het 'n invloed op seetoestande en kan visvangs beïnvloed:

 

 

In Kotze (2023) se jongste roman word verdere woorde in verband met onder andere visvanggerei gebruik, byvoorbeeld binnebuik, bolyn, kragblok, onderlyn, simsteek, timmels en timmeltoue.

 

7. Samevatting

Afrikaanse visserstaal is deur verskillende tale beïnvloed, waaronder veral Nederlands, Portugees, Maleis en Engels en word as variëteit onderskei op grond van heelwat unieke woorde en uitdrukkings. Daar is min geografiese differensiasie tussen Oos-Kaapse en Wes-Kaapse visserstaal as gevolg van die dialekkontinuum.

Woorde in Afrikaanse visserstaal verskil ten opsigte van gestandaardiseerdheid deurdat sommige woorde ook in die algemene woordeskat voorkom, soos in die nuutste HAT aangedui. Sommige woorde is nie gestandaardiseer nie aangesien hulle Engelse woorde is, byvoorbeeld shad, of 'n hibridiese vorm van Engels en Afrikaans is, byvoorbeeld raggie. Ander woorde en uitdrukkings is nie in die HAT opgeneem nie, waarskynlik omdat hulle nie so bekend/gebruiklik is in die algemene leksikon nie, byvoorbeeld bonnie/bonnietjie in plaas van die standaardwoord bonito. Stylvlakverskille kom voor by die Standaardafrikaanse woord stompneus teenoorflatty (informeel). Laasgenoemde word eerder onder die vissers gebruik. Dit geld ook vir die gebruik van visserman teenoor visterman. Enkele woorde in HAT6 bevat nie die visserstaal-betekenisonderskeiding nie, byvoorbeeld bakkie as selfstandige naamwoord en mas as werkwoord.

 

BIBLIOGRAFIE

A: WOORDEBOEKE

Luther, J. et. al. (reds.). 2015. HAT Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Prinsloo, AF. 2009. Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Aanlyn WAT). 2019-2022. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

B: ANDER BRONNE

Blume, J. 2023. Afrikaanse Visserstaal. Doktorale tesis. Gqeberha: Nelson Mandela Universiteit.         [ Links ]

Carstens, WAM & Raidt, E. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika - Biografie van 'n taal. Deel 1. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Chambers, JK & Trudgill, P. 1980. Dialectology. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Coulmas, F. 2005. Sociolinguistics: The study of speakers 'choices. Cape Town: Cambridge University Press.         [ Links ]

Creswell, JW. 2009. Research Design: Qualitative, Quantitative, and Mixed Methods Approaches. Los Angeles: SAGE.         [ Links ]

D'Arcy, A. 2015. Variation and Change. In Bayley, R, Cameron, R & Lucas, C. (eds). Oxford Handbook of Sociolinguistics. New York: Oxford University Press, pp. 484-502.         [ Links ]

Du Plessis, H. 1987. Variasietaalkunde. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Engelbrecht, BJ. 1973. VarswaterhengelinSuid-Afrika. 3de uitg. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.         [ Links ]

Heiberg, LR. 1957. Afrikaanse Visserstaal. Doktorale tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Hennink, M, Huttar, I & Bailey, A. (eds). 2020. Qualitative Research Methods. London: SAGE.         [ Links ]

Kotze, E. 2023. Hulle noem haar Carminda. Kaapstad: Kwela Boeke.         [ Links ]

KykNet en Showmax. 2022. Hier Gaan Ons Alweer. Reeks 3-19. (Datums van vervaardiging onbeskikbaar). Suid-Afrika: Showmax.         [ Links ]

Louwrens, N. 2001. Aas is die Geheim: Seehengelgids. George: George Printing.         [ Links ]

Luther, J. 2019. "Ken jy die see, Meneer?" Virtuele Instituut vir Afrikaans, https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/464-visserstaal [21 November 2022].         [ Links ]

Mesthrie, R. (red.). 2011. The Cambridge Handbook of Sociolinguistics. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Meyerhoff, M. 2011. Introducing Sociolinguistics. 2nd ed New York: Routledge.         [ Links ]

Nagy, N. 2015. Phonology and sociolinguistics. In Bayley, R, Cameron, R & Lucas, C. (eds). The Oxford Handbook of Sociolinguistics. New York: Oxford University Press, pp. 425-444.         [ Links ]

Otto, A. 2017. Sosiolinguistiek. In Carstens, WAM & Bosman, N. (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik, pp. 365-401.         [ Links ]

Overdiep, GS. 1940. De volkstaal van Katwijk aan Zee. De Nieuwe Taalgids (36).         [ Links ]

Paarman, I. (red.). 2014. Weskuskos: Bergrivier Vissersvrouevereniging. Kaapstad: SCM Struik.         [ Links ]

Pieterse, P. 1985. Tietiesbaai: 'n Werfjoernaal. Pretoria: HAUM Literêr.         [ Links ]

Pieterse, P. 1987. Baai baai Tietiesbaai. Pretoria: HAUM Literêr.         [ Links ]

Pieterse, P. 1988. Skedelkuskos. Pretoria: HAUM Literêr.         [ Links ]

Rieckert, R. 2022. Lentetyd is vir seker hengeltyd. In Kruger, EC. (red.). Stywe Lyne/Tight Lines. Kemptonpark: All Lion Enterprises, pp. 61-63.         [ Links ]

Stell, G, Luffin, X & Rakiep, M. 2008. Religious and Secular Cape Malay Afrikaans: Literary Varieties used by Shaykh HanifEdwards (1906-1958). Bijdragen tot de Taal-, Land- en Volkenkunde, 163(2/3): 289-325.         [ Links ]

Stockwell, P. 2007. Sociolinguistics: A resource book for students. New York: Routledge.         [ Links ]

Sutton, B. 1993. The Rationale for Qualitative Research: A Review of Principles and Theoretical Foundations. The Library Quarterly: Information, Community, Policy, 63(4):411-430.         [ Links ]

Viaene, B. 2017. 'n Stukkie hemel. In Hugo, E. (red.). 2017. Vrouekeur. Howard Place: Caxton, pp. 36-39.         [ Links ]

Wardhaugh, R. 2010. An Introduction to Sociolinguistics. New York: Wiley-Blackwell.         [ Links ]

Woordeboek van die Afrikaanse Taal. www.woordeboek.co.za. [28 Augustus 2018].         [ Links ]

Webb, VN. 1989. Die Afrikaanse variasietaalkunde. In Botha, TJR. (hoofred.). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria, Kaapstad: Academia, pp. 412-435.         [ Links ]

Whibley, I & Garratt, P. 1992. Die Suid-Afrikaanse Hengelaar. Kaapstad: Struik Timmins. YouTube: https://youtube.com        [ Links ]

Yule, G. 2017. The Study of Language. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

VIDEO'S

Videotitel: Snoek Safari. https://www.youtube.com/watch?v=q5rKypweUfo. [28 Augustus 2018].

Videotitel: Snoek safari 2. https://www.youtube.com/watch?v=gBUbtNTzqPc. [28 Augustus 2018].

Videotitel: Commercial snoek fishing. https://www.youtube.com/watch?v=VkTs73arlM8. [29 Augustus 2018].

Videotitel: Gansbaai op Mooiloop, SABC 2, (deel 1 van 5): https://www.youtube.com/watch?v=-KATFgB8qnA . [29 Augustus 2018].

Videotitel: Gansbaai op Mooiloop, SABC 2, (deel 2 van 5): https://www.youtube.com/watch?v=LvXpm6PInQI. [29 Augustus 2018].

Videotitel: Gansbaai op Mooiloop, SABC 2, (deel 3 van 5). https://www.youtube.com/watch?v=6A5261lcv2U. [29 Augustus 2018].

Videotitel: Gansbaai op Mooiloop, SABC 2, (deel 4 van 5). https://www.youtube.com/watch?v=_kqrEP1GoRQ. [ 29 Augustus 2018].

Videotitel: Gansbaai op Mooiloop, SABC 2, (deel 5 van 5). https://www.youtube.com/watch?v=3f2yy6Y3R3g. [ 29 Augustus 2018].

Videotitel: Mooiloop 3 - Episode 20: Paternoster. https://www.youtube.com/watch?v=ifwXPI-Ki9M. [29 Augustus 2018].

Videotitel: Mooiloop 3 - Episode 21: Paternoster Cont. https://www.youtube.com/watch?v=mteWnW2e888. [29 Augustus 2018].

Videotitel: WCL West Coast Living Episode 1 Kreef | Hottentot | Weskus Hamburgers. 7 Julie 2019. https://www.youtube.com/watch?v=p5g6gk1zDj4. [22 Januarie 2022].

 

 

Ontvang: 2023-06-14
Goedgekeur: 2023-07-29
Gepubliseer: September 2023

 

 

 

Anna Nel (Annél) Otto doseer Afrikaanse taalkunde aan die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha. Sy spits haar veral toe op die sosiolinguistiek en leksikografie. In hierdie verband het sy onder andere 'n hoofstuk oor die sosiolinguistiek geskryf in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014 en 2017) met Wannie Carstens en Nerina Bosman as redakteurs. Sy het al haar grade aan die US verwerf en haar doktorale proefskrif handel oor die kriteria vir 'n Afrikaanse aanleerderwoordeboek. Sy skryf gereeld artikels oor 'n verskeidenheid leksikografiese onderwerpe, byvoorbeeld die hantering van kollokasies, vaste uitdrukkings, voegwoorde, antonieme, ensovoorts in woordeboeke. Sy dien op die redaksiekomitee van Lexikos en was voorheen 'n Taalkommissielid.
Anna Nel (Annél) Otto lectures Afrikaans linguistics at the Nelson Mandela University in Gqeberha. She focuses especially on socioling-uistics and lexicography. In this regard she wrote, amongst others, a chapter on sociolinguistics in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014 and 2017), with Wannie Carstens and Nerina Bosman as editors. She received all her degrees at the US and her doctoral thesis deals with the criteria for an Afrikaans learner's dictionary. She regularly writes articles on a variety of lexicographical topics, for example the treatment of collocations, fixed expressions, conjunctions, antonyms, etcetera in dictionaries. She serves in the editorial committee of Lexikos and was previously a member of the Taalkommissie.

 

 

Jadé Fouché (Née Blume) se akademiese loopbaan begin aan die Nelson Mandela Universiteit waar sy haar meestersgraad in 2017 in die leksikografie voltooi. Daarna publiseer sy, in samewerking met professor Annél Otto, 'n artikel getiteld "Die behandeling van die funksie dekodering in verskillende tipes woordeboeke". Sy doseer sedert 2018 verskeie Afrikaanse modules op kontrakbasis vir die Fakulteit Opvoedkunde by die Nelson Mandela Universiteit. Sy voltooi haar doktorsgraad in 2023, getiteld Afrikaanse Visserstaal, wat die eerste navorsing oor hierdie variëteit van Afrikaans sedert 1957 is.
Jadé Fouché (Née Blume) started her academic career at the Nelson Mandela University, where she completed a Masters degree in lexicography, whereafter she co-authored an article with Professor Annél Otto, titled "Die behandeling van die funksie dekodering in verskillende tipes woordeboeke." Since 2018 she has been responsible for various Afrikaans modules for the Faculty of Education at the Nelson Mandela University on a contract basis. She completed her doctorate in 2023, titled Afrikaanse Visserstaal, which represents the first research on this variety of Afrikaans since 1957.
1 Hierdie studie is gebaseer op 'n ongepubliseerde DLitt-tesis (Blume, 2023).

 

 

BYLAAG A: ONDERHOUDTRANSKRIPSIE

Hier onder word 'n uittreksel uit 'n onderhoud ortografies getranskribeer as voorbeeld. Visser: Manlik, Kalkbaai, Wes-Kaap

"[Weet jy, Oom, ek het so gepraat met 'n paar vissers in Houtbaai en hulle het gesê die trawlers maak groot probleme.]

Ja, ja nou soos in, man (raak emosioneel) is is is is mos nou 'n ding wat ek nie kan keer -ie. My hand is te klein om -it te keer. Gat ek try om dit te stop dan kry ek 'n bullet teen my kop.

[Sjoe, so hulle is aggressief dan? Hulle is aggressiewe mense?]

Kyk kyk kyk ek vertel jou. Elke jaar dan het ek nou hie gewerk. En soes jy nou lateran ytbrei en jou jou jou kennis raak al mere, dan kan jy nou gan na 'n ander baai toe. Ons hetgewoenlik altyd hie vandan gegan - Houtbaai. Dis wat hy nog kleiner was. En dan dan dan kan ek presies onthou Augustusmaand dan het ons baie snoeke gevang by Houtbaai.

[Maar nou nie meer nie?]

Uh-uh.

[My hemel.]

As ek moet vi jou sê wanner laas ons snoek gevang het in Houtbaai, dan moet ek lieg.

[Regtig?]

Yes.

[Maar die ander oom het nou weer gesê die snoek is nou weer hierso. Is dit reg?]

Hy is nou hie. Dan dan 'n paar jaa was hy nie hie nie.

[Iets van sewe jaar? Of wat het hy gesê?]

(onduidelike uiting) Nou nou nou skielik is daa 'n paar snoeke en ammal die bote is hie-so en is amper soes die mense baklei hie-so. Baklei nou vi die vis.

[So dis amper soos 'n first come, first serve?]

Ja ja ja dis reg ja. Dis dan jou tjennis (kennis) wat jy het en met watte boot jy is as die skipper nou tjennis het van dit dan gat jy nou iets gain daa-uit.

[Nou oom aan wie verkoop julle die vis? Verkoop julle die vis of hou julle dit?]

Ons ons bring dit mos nou hie-na.

[Na die mark toe?]

Dan dan dan die mannetjie wat nou vi jou (onduidelik) hulle is die mense wat bring dit van die boot af en verkoep dit wee an die mense.

[Wat is die gewildste vis wat die mense koop?]

Elkeen het 'n keuse. Ja. As jy nou wee te veel snoek kom koep 'an sê die mense vi jou: is daa wéé snoek? (visser lag)

[Die mense is ook nie tevrede nie. Die mense is nie tevrede met die snoek nie?]

'Alwéé snoek! Vangjulle nie iets annes nie?'

[Haai jinne foeitog, so mens kan nie wen nie?]

Nou nou nou wiet jy? Daa waa, soes ek gesê het, sekere vissoorte kom nie mee nie. En as as as daa kom, dan issit ok maa net 'n ou paarsies een boot wat 'n paar van daai (onduidelik).

[Dan is dit soos 'n vloekskoot dat julle gekry het?]

Dis amper soes 'n miracle nou so so en so vis vang. Ja! Nou nou nou kan ek vi jou sê nou kyk die snoek het nou 'n goeie paar jaar weggebly. Die geelbek dieselle. Die kabeldjou net 'n enkel ou paar kabeldjoutjies wat hierlangs. Makriele was ees soe volop hie in die baai hy het in die hawe gekom.

[Wat? Jinne.]

Ja. (onduidelik) dan vang jy hulle innie hawe. Ja! Toe 't makriel - ah is no more.

[Niks nie? Maar hoe maak julle dan met aas?]

Ons moet ma anne uitweg maak! Ons moet nou -ie anne soorte vissie vang en dan moet ons hom nou skoonmaak en afsny en gebruik om -ie anne soorte te vang.

[So julle moet 'n ander plan maak nou?]

Nee nee ons moet 'n anne plan maak nou! Dan -is haa mos nou mense wat wat soes sardyn kry - wiet nie waa-vandaan kry hulle -it nie maa hulle sit dit in bokse en dan vra hulle vi jou só baie geld daa-voor en dan nou nou nou 't djy die boks sardyn gekoep en djy 't niks gevang haa mee nie maa jy't betaal vi dit.

[So dis klaar 'n verlies?]

En nou maak jy no profit. Jy moet jou geld weggooi nou.

[Nee dis baie swaar. Is dit moeilik? Is dit 'n moeilike lewe?]

Is 'n swáár affêre. Is 'n swaar affêre. Kyk ons het nou gister het ons op die een boot drie uur se pad hier vandaan af het ons gegan.

[Drie ure?]

Ja. Drie uur soontoe en drie uur t'rug.

[En al daardrie brandstof wat gebruik moet word op die bote...]

Ja. Ons het ons het nie 'n sent towards daai geverdien nie.

[Oom, hoe doen julle dit elke dag?]

Is is is swaar. Ek weet-ie, is pynlik. Plek plek (onduidelik) met hengel djy wil opgie, maa iets trek jou mar net wee t'rug.

[Dis 'n noodsaaklike deel van die ekonomie en -]

Jy's 'n man met 'n familie.

[Presies.]

En jy het nou niks verdien nie. En ammal het nou gekyk wanner kom pa nou met iets.

[Dis soos hulle sê in Houtbaai: daai regulasies wat hulle gemaak het nou dat hulle net 'n sekere hoeveelheid vis mag uithaal. Dit dit kelder die vissers.]

Dis reg, dis reg! Nou kyk nou as jy nou kyk hie in die Kalkbaai: daai groot bote daarso jy sien daarso dis nou kreef en dan party is nou trawl?

[Ja?]

Is hulle. En dan sien jou nou die kant hie-so? Daai daai daa-so (onduidelik) en een is hie langsaan is twie. Nou die hele habour, wat ek beginne visvang het hie, toe was hie vier-en-vyftig lynvisbote.

[O, so dit was anders?]

Vier-en-vyftig lynvisbote was hie-so. Hie is nou net daai twie wat daa is. En nou nou die bote wat ek op werk is daa aan die een kant daa-so. Hulle hy 't -ie papiere gekry nie.

[Nie?]

Elke djaar sukkel ons om papiere te kry! Ons (onduidelik) wat is hulle riede? Hulle 't elke keer 'n different riede en ek wiet nie wat als nie en dan kan 'n ou glad nie mee by hulle uitkom nie.

[Ag nee, so dit maak dit net nog moeiliker?]

Presies hulle waste net jou tyd. Because elke keer die man wat werk met dit hie-so vandag moet maa weer kom haal het.

[...]

[Die ding is Oom, dis 'n ernstige bewusmaking wat moet plaasvind in terme van, nie net van die taalgebruik nie, maar van die ekonomiese krisis wat ons vissers deurgaan. Die vissers dra baie by tot die land se ekonomie.]

(raak baie emosioneel) Ek kyk kyk die ding is ons kry ons gat nou hie uit innie boot, en dan is daar klomp vis, en ons bring dit hie. En hie-vandaan gaan dit na die mense toe. En -ie mense het kos op hulle tafel.

[Ja, dit is nie dat dit net verskyn het op die tafel nie.]

Nee! Dit was 'n proses.

[Ek wou nogal gevra het, met COVID, het dit enigsins 'n impak gehad met die verkoop van visse?]

Nee, dit het 'n gróót impak gehad, of course! (onduidelik) van A tot Z het dit geimpak op ons mense. Because ons moet sonop moet ons daa by die vis wies. Maa ons kan nie gaan lê in die nag...

[Julle kan nie, ja, want die beperkings!]

Kyk, ek moet my manne gan optel. Waarever hulle is en dan bring because en mieste van die tyd is daa nie treine vi daai manne om te kom tot hie nie soe ek moet hulle persoonlik gat optel by huise so ek moet nou in daai COVID-tye wat toe is nou ry en dan keer die polisie my voor. So ek moet papier het vir elke man. [Vir elke persoon?]

Ja vir elke persoon wat in die bakkie is moet ek 'n papier het. En wie's daai? Daai een moet jy (onduidelik).

[Dit moes 'n helse impak gehad het, veral daai in die begin met die harde lockdown.]

Dit was terrible terrible djy was gestop gewies: draai om.

[Was daar enige hulp vanaf die government?]

Absolutely niks! Absolutely niks! Djy wiet, kyk as as jy weet nothing. Die ding is hie-so jy gat nou wie uit see toe. Jy vang vis en soes jy sê jy bring -it en versprei in die land it. Die mense eet dit. Right? Die visterman, hy kry so swaar om papiere te kry. Hier is bote hier sonder papiere." (Anoniem, 2023).

****

 

BYLAAG B: VRAELYS

Beste deelnemers

Baie dankie vir julle bereidwilligheid om deel te neem. Die vraelys is deel van 'n doktorsgraadstudie oor Afrikaanse visserstaal. Die doel met die vraelys is om soveel inligting as moontlik oor 'n verskeidenheid tipies Afrikaanse visserstaalwoorde en -uitdrukkings in te samel.** Alle antwoorde op die vraelys is anoniem en vertroulik. Daarom sal geen name gebruik word wanneer die resultate bekend gemaak word nie. Dit behoort nie meer as sowat 15 minute te neem om die vraelys te voltooi nie en daar is geen verkeerde antwoorde nie.

**Let wel: Indien jy nie minstens 18 jaar of ouer is nie, moet jy asseblief nie hierdie vraelys voltooi nie.

Merk asseblief die veelvuldigekeusevrae met 'n X en gebruik asseblief slegs swart of blou inkpenne.

 

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons