SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue3Diamond jubilee of decimalisation: 60 years of South African rand and centAn assessment of perceptions concerning digital transformation at a South African commercial bank - a case of Anthropocene denial for the economy? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.3 Pretoria Sep. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a7 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

'n Beoordeling van tekskritiese voetnote in die boek Esegiël in die 2020-vertaling van die Bybel1

 

An evaluation of the text-critical footnotes in the Book of Ezekiel in the 2020 Afrikaans translation of the Bible

 

 

Herrie van Rooy

Skool vir Antieke Tale, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: herrie.vanrooy@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans is 'n direkte vertaling wat bronteksgeoriënteerd is. Die vertalers het 'n spesifieke bronteks gebruik, maar soms was daar onduidelikhede in die bronteks wat deur die toepassing van tekskritiese beginsels opgelos kon word en in voetnote verduidelik is. Hierdie bydrae bespreek die boek Esegiël as voorbeeld. Die bespreking gee kortliks aandag aan die aard van die 2020-vertaling en bespreek die tekskritiese benadering wat in die vertaling van die Ou Testament gevolg is. Hierna kom die teksgeskiedenis van Esegiël aan die orde, gevolg deur 'n kort bespreking van die bronne wat vir die tekskritiese beoordeling van die teks van die boek gebruik is. Ná 'n oorsig oor die tekskritiese voetnote in die vertaling volg 'n bespreking van 'n verteenwoordigende aantal voorbeelde. Daar is 144 sulke voetnote in die boek. Die voetnote word bespreek in sewe groepe wat verband hou met veral die gebruik van die antieke vertalings van die Septuagint, die Targum, die Vulgaat en die Pesjitta om probleme op te los. Die voetnote in die boek Esegiël dui ook op die wisselende aard van die problematiek. Probleme hou dikwels verband met onbekende woordeskat, maar ook met probleme wat gedurende die teksoorlewering ingesluip het. In sommige gevalle bied die teksgetuies 'n duidelike oplossing, terwyl daar in ander gevalle meerdere moontlikhede bestaan. Die benadering van die 2020-vertaling tot tekskritiese probleme is om so ver moontlik by die Masoretiese teks te bly. Die voetnote getuig van 'n verantwoordelike hantering van tekskritiese probleme.

Trefwoorde: 2020-vertaling; antieke vertalings; Bybelvertaling; direkte vertaling; Esegiël; Masoretiese teks; Ou Grieks; Pesjitta; Septuagint; Targum; tekskritiek; tekskritiese benadering; vertaalvoetnote; Vulgaat


ABSTRACT

The 2020 translation of the Bible in Afrikaans is a direct translation that focuses on the source text in order to retain in the translation as much as possible of the source text, including stylistic features. The translation is based on a specific source text, the Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS). This text contains words or phrases that posed problems that had to be solved by applying text-critical principles. The choices made are explained in footnotes to the translation. The footnotes in the Book of Ezekiel are evaluated in this article. First, the nature of the 2020 translation is discussed, after which the text-critical approach followed in this translation of the Old Testament is considered. The text history of Ezekiel is then described. Of special importance is the relationship between the Masoretic text and the Septuagint (that is, the Old-Greek translation of the Hebrew). The Old Greek is shorter than the Masoretic text in most instances, with relatively few additions. It also represents an older version of the book. The footnotes are based on the BHS, other Hebrew manuscripts, and the four important ancient translations (the Old Greek, the Peshitta, the Targum and the Vulgate). The 144 or so text-critical footnotes in the book are divided into seven groups. These groups are: (i) instances where the footnote only states that there is a problem in the text (without a detailed description); (ii) instances where the ancient translations provide solutions to a particular problem in the text; (iii) instances where solutions in the ancient versions are discussed, but not applied; (iv) instances where the ancient versions disagree with the Masoretic text and have been followed; (v) instances where the ancient versions have not been followed, but are mentioned in the footnotes; (vi) instances where conjectures were accepted; and (vii) one example of a tiqqun soferim. A representative sample of the footnotes is discussed, but all examples are listed in the different groups. The footnotes refer to the different kinds of problem the translators encountered in the Book of Ezekiel. Some problems concern words with an uncertain meaning. Others indicate problems arising from the transmission of the text, such as haplography or dittography. In some instances the various textual witnesses offer a solution to a particular problem, while in other instances more than one solution is possible. The approach of the 2020 translation was to translate the Masoretic text whenever possible. When it was not possible, solutions suggested by the textual witnesses were considered and evaluated. The footnotes provide, in most instances, a justification for the choices made, as well as other possible solutions. In some instances the footnotes could have provided more information, and sometimes the translation deviates from the principle of closely following the Masoretic text and avoiding conjectures. In spite of some points of criticism, the footnotes testify to a principled approach to the text-critical problems encountered in the Book. In many instances the footnotes followed the consensus of opinion in various commentaries and translations. Where there was no clear consensus, the majority opinion was usually followed, although in a few cases the translators constructed their own solution.

Keywords: 2020 Afrikaans translation; ancient translations; Bible translation; direct translation; Ezekiel; Masoretic text; Old Greek; Peshitta; Septuagint; Targum; text-critical approach; textual criticism; translation footnotes; Vulgate


 

 

1. Inleiding

Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans is 'n direkte vertaling wat bronteksgeoriënteerd is. Een van die kenmerke van hierdie soort vertaling is die gebruik van voetnote om verskillende sake toe te lig of te motiveer. Die vertalers het 'n spesifieke bronteks gebruik, maar soms was daar onduidelikhede in daardie bronteks wat alleen deur die toepassing van tekskritiese beginsels opgelos kon word. Voetnote is gebruik om die keuses wat gemaak is, te belig en te motiveer. In hierdie artikel word die boek Esegiël as voorbeeld bespreek in die lig van die besondere problematiek van die teksgeskiedenis van die boek. Die aard van die 2020-vertaling kom kortliks aan die orde, gevolg deur 'n bespreking van die tekskritiese benadering wat in die vertaling van die Ou Testament gevolg is. Dan volg 'n bespreking van die teksgeskiedenis van Esegiël, waarna die bronne wat vir die tekskritiese beoordeling van die teks van die boek gebruik is, kortliks bespreek word. Ná 'n oorsig oor die tekskritiese voetnote in die vertaling word 'n verteenwoordigende aantal voorbeelde bespreek. Daar is altesaam 144 sulke voetnote in die boek waaruit 'n seleksie van belangrike voorbeelde gemaak is.

 

2. Die aard van die 2020-vertaling

Die Voorwoord by die 2020-vertaling2 tipeer die vertaling as 'n direkte vertaling. Die vertaalopdrag word in die Voorwoord soos volg gestel:

Skep 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.

Vir 'n bespreking van die aard van hierdie vertaling word die leser na vier bronne verwys, naamlik die Verantwoording in die 2020-vertaling (Die Bybel, 2020:325-327NT), Van der Merwe (2012 en 2020) en Naudé (2020).

Die Verantwoording (Die Bybel, 2020:325NT) gee 'n kort uiteensetting van die geskiedenis van hierdie vertaling, wat die Bybelgenootskap onderneem het ná intensiewe samesprekings met kerke wat Afrikaans in hulle bediening gebruik. Die vertaalproses het in vyf fases verloop voordat die vertaling in 2019 goedgekeur is en in 2020 gepubliseer is (Die Bybel, 2020:325-326NT).

In 2012, vier jaar nadat die vertalingsprojek van stapel gestuur is, het Christo van der Merwe 'n uiteensetting gegee van die proses wat op die formulering van die vertaalopdrag vir hierdie vertaling uitgeloop het, en van die model wat vir die vertaling gevolg is. Hy meld dat die funksionalistiese model van Nord gevolg is, maar dat die onderskeid wat Gutt tussen 'n direkte en 'n indirekte vertaling maak, ook gevolg is (Van der Merwe, 2012:3). Nord se model dui aan watter faktore in 'n vertaling in ag geneem moet word en dat dit belangrik is om die funksie van 'n vertaling te bepaal, soos wat duidelik gestel word in die vertaalopdrag wat vir hierdie vertaling geformuleer is. Wat ook uit die model blyk, is die gebruik van aanvullende inligting by so 'n vertaling (Van der Merwe, 2012:4). Dit het gelei tot die gebruik van voetnote in die 2020-vertaling om aanvullende inligting te gee. Die Voorwoord van die 2020-vertaling meld dat sosiokulturele inligting in voetnote verstrek word, maar ook besonderhede oor vertaalkeuses en ander vertaalmoontlikhede. 'n Direkte vertaling poog om so na moontlik aan die bronteks te bly deur die kommunikatiewe leidrade in die oorspronklike teks te volg (Van der Merwe, 2012:5). In hierdie proses kry woordorde, partikels en vaste uitdrukkings in die bronteks besondere aandag. Die 2020-vertaling bied 'n groot hoeveelheid aanvullende inligting in voetnote aan, om so die leser te help om nader aan die milieu van die bron te kom (Van Der Merwe, 2012:7). In sy 2020-artikel bespreek Van der Merwe weer die teoretiese model, maar dan as die 2020-vertaling reeds voltooi is. In daardie artikel wys hy aanvullend op die rol wat die kognitiewe taalkunde in die vertaalproses gespeel het. Wat veral hieruit blyk, is dat die vertaling van 'n antieke teks, soos die Bybel, nie net transkulturele kommunikasie is nie, maar ook sekondêre kommunikasie. Die Bybel in die oorspronklike tale (Hebreeus, Aramees en Grieks) is die primêre kommunikasie. In die benadering wat vir die 2020-vertaling gevolg is, was spanwerk baie belangrik. Dit het in sekere sin uitgeloop op onderhandelinge tussen brontaalkenners en doeltaalkenners om die betekenis van die bronteks in hedendaagse taal te verwoord (Van der Merwe, 2020:900). Juis in hierdie opsig speel voetnote 'n belangrike rol om die moderne leser in die wêreld van die bronteks in te lei.

Die artikel van Naudé (2020) bied 'n belangrike oorsig oor Bybelvertalings in Afrikaans, asook die beginsels en benaderings wat vir die 2020-vertaling gegeld het. Hy wys daarop dat die 2020-vertaling 'n komplekse vertaling is waarin betekenis en kultuur aandag kry (Naudé, 2020:879). Hy toon aan dat hierdie soort vertaling ruim van voetnote gebruik moet maak. Die voetnote bevat inligting oor onder meer bronteksgedeeltes wat verskillend vertaal kan word, sosiokulturele inligting en inligting oor vertaalkeuses en ander vertaalmoontlikhede (Naudé, 2020:883-884). Hoewel tekskritiese sake in die genoemde bronne ter sprake kom, word dit nie omvattend bespreek nie, soos in die volgende afdeling aangedui word.

 

3. Die tekskritiese benadering van die vertaling van die Ou Testament

Würthwein en Fischer (2014:165-169) bied 'n goeie oorsig oor verskillende definisies vir die wetenskaplike benadering wat bekendstaan as die tekskritiek van die Ou Testament. Ouer benaderings het gepoog om die oorspronklike teks van die boeke van die Ou Testament vas te stel. Jonger benaderings dui aan dat dit 'n onhaalbare doelstelling is. Sommige nuwer benaderings poog om die oudste haalbare teks vas te stel, terwyl ander bloot probeer om foute in die oorlewering van die teks vas te stel en te korrigeer. Würthwein en Fischer (2014:168169) sê dat tekskritiek te doen het met die geskiedenis van die oorlewering van die teks van die Ou Testament. Dit poog om foute en doelbewuste veranderings in die teks op te spoor en om die oorsprong daarvan te verklaar. Die doel is om ' n betroubare en verantwoorde wetenskaplike teks te rekonstrueer, wat dan probeer om so na as moontlik aan ' n (moontlike) oorspronklike teks uit te kom.

Tekskritiese voetnote was deel van die beplanning vir die 2020-vertaling. Die Verantwoording (Die Bybel, 2020:326NT) bevat 'n kort opmerking daaroor. Wanneer daar probleme in die bronteks is, is die antieke vertalings (Grieks, Latyn, Siries en Aramees) geraadpleeg, asook Hebreeuse manuskripte soos die Dooie See-rolle. Die bronteks wat gebruik is, die Biblia Hebraica Stuttgartensia, het voetnote wat onder andere sulke variante lesings aandui. Die Redaksionele Komitee vir die Ou Testament het egter waar nodig die belangrikste uitgawes van die vier antieke vertalings geraadpleeg, omdat die bronteks nie alle relevante inligting gee nie. Die bronne wat in die vorige afdeling bespreek is, bied nie uitvoerige besprekings van die beginsels wat in die beoordeling van die tekskritiese probleme gegeld het nie. Van der Merwe (2012:7) noem tekskritiese probleme wel een van die belangrikste probleme waarmee die vertalers van die 2020-vertaling moes worstel. Alhoewel die Redaksionele Komitee vir die Ou Testament nie beginsels uitgestippel het nie, kan daar tog afleidings gemaak word oor die werkwyse wanneer die voetnote beoordeel word.

In drie publikasies het ek aandag gegee aan die tekskritiese benadering van die 2020-vertaling, twee voor die verskyning van die 2020-vertaling (Van Rooy, 2017 en 2019) en een by die verskyning daarvan (Van Rooy, 2020). Dit is dus nie nodig om al die besonderhede te herhaal nie; daar kan volstaan word met enkele opmerkings.

Nadat verskillende sake rakende die tekskritiek bespreek is, gee Van Rooy (2017:11-12) 'n uiteensetting van belangrike beginsels vir die hantering van tekskritiese probleme in gevalle waar die Masoretiese teks as die bronteks gekies is. Die vertrekpunt van die beginsels is basies konserwatief, naamlik om nie te maklik van die Hebreeuse teks af te wyk nie. Dit beteken dat as die Hebreeuse teks onproblematies is, die teks so vertaal moet word. In party uitgawes van die Hebreeuse Ou Testament en in sommige kommentare word soms lesings voorgestel wat geen tekskritiese ondersteuning geniet nie. Sulke voorstelle is nie maklik in 'n vertaling soos die 2020-vertaling aanvaar nie. Indien die ander teksgetuies, soos Hebreeuse manuskripte of die antieke vertalings, van die Masoretiese teks verskil en daardie verskille verteenwoordig geldige alternatiewe, sal die Masoretiese teks behou word, met moontlik 'n voetnoot wat die ander moontlikheid of moontlikhede aandui. Wanneer daar in die Masoretiese teks 'n ernstige probleem is, word moontlikhede in ander manuskripte of die antieke vertalings beoordeel. Indien lesings afkomstig van die ander getuies aanvaar word, behoort 'n voetnoot dit te verduidelik, met, indien moontlik, 'n vertaling van die Masoretiese teks. Konjekture, dit wil sê voorstelle sonder enige ondersteuning uit die antieke vertalings of Hebreeuse manuskripte, is die laaste uitweg. Van Rooy (2017 en 2019) maak enkele voorstelle oor die hantering van sulke gevalle in Esegiël. Die gevalle sal aan die orde kom in die bespreking van die voetnote van die finale 2020-vertaling. Van Rooy (2020) dui aan dat die 2020-vertaling nie 'n slaafse vertaling van die Masoretiese teks is nie, maar 'n eklektiese vertaling op grond van die relatief baie gevalle waar die vertaling nie die Masoretiese teks volg nie. In sulke gevalle is tekskritiese voetnote noodsaaklik om die leser insig te gee in die probleme wat die vertaling van 'n antieke teks kan meebring. Die 2020-vertaling kan dus beskou word as 'n vertaling wat die Masoretiese teks so ver moontlik volg, maar wat in gevalle waar dit daarvan afwyk, die afwyking in voetnote motiveer. Die bespreking en beoordeling van hierdie voetnote in Esegiël kan dit duidelik maak of daar in hierdie opsig konsekwent en verantwoordelik opgetree is.

 

4. Enkele opmerkings oor die teksgeskiedenis van Esegiël

Dit is onmoontlik om hier 'n volledige oorsig oor die teksgeskiedenis van Esegiël te gee. Vier belangrike bydraes in 'n bundel wat in 2017 verskyn het, gee 'n oorsig oor die geskiedenis van die Hebreeuse teks en ook van die belangrikste antieke vertalings (Lange, 2017; Tooman 2017a en b; Lust, 2017).

Wat die Septuagint betref, toon Lilly oortuigend aan dat Papirus 967 en die Masoretiese teks twee verskillende literêre uitgawes verteenwoordig. Papirus 967 verteenwoordig 'n korter Hebreeuse teks en is 'n getroue weergawe van daardie bronteks. Die Masoretiese teks verteenwoordig 'n verdere ontwikkeling van die Hebreeuse teks as dié wat onderliggend aan die Ou Grieks is (Lilly, 2012:301-303).3 Tooman (2017a:566) onderskryf ook hierdie standpunt, maar oordeel dat die twee tradisies berus op 'n oorspronklike Hebreeuse teks wat óf dieselfde óf feitlik dieselfde was. Hierdie standpunt word ook deur Lust (2017) ondersteun. Alhoewel dit waarskynlik is dat die Hebreeuse teks onderliggend aan die Ou Grieks ouer is as die teks agter die Masoretiese teks, is die 2020-vertaling egter 'n vertaling van die Masoretiese teks. Waar die Griekse en Hebreeuse tekste beide geloofwaardig is, sal die Masoretiese teks gewoonlik die voorkeur geniet.

Joyce (2009:44-48) bied 'n goeie oorsig oor die verhouding tussen die twee tradisies van Esegiël. Wat die ander drie antieke vertalings betref, benewens die Ou Grieks, gee hy ook 'n goeie uiteensetting (2009:48-49). Die Aramese Targum, die Pesjitta en die Vulgaat is al drie vertaal uit 'n Hebreeuse teks of tekste in die Masoretiese tradisie. Die Targum is dikwels nie 'n direkte vertaling nie, maar 'n parafrase van die Hebreeuse teks in Aramees. Die Vulgaat en Pesjitta is relatief letterlike vertalings. Alhoewel die drie vertalings van minder waarde is as die Ou Grieks, moet hulle wel in elke geval oorweeg word, veral in die gevalle waar hulle, vergeleke met die Masoretiese teks, met die Ou Grieks ooreenstem.

Vir die 2020-vertaling is die uitgawe van Elliger en Rudolph (1987) gebruik.4 Wat die vier antieke vertalings betref, is die uitgawe van Ziegler (2006) vir die Grieks, die uitgawe van Weber en Gryson (1969) vir die Vulgaat en die uitgawe van Mulder (1985) vir die Pesjitta gebruik. Vir die Targum Jonathan is die uitgawe van Speiser gebruik, soos gevind in die Logos-uitgawe (Comprehensive Aramaic Lexicon, 2005).

 

5. 'n Oorsig oor die tekskritiese voetnote

In die boek Esegiël word 144 voetnote met tekskritiese aantekeninge aangetref. Hulle kan ingedeel word in groepe wat soos volg beskryf word:

Voetnote is ingevoeg -

A. wanneer daar onsekerheid oor die betekenis van die bronteks bestaan; geen verdere voorstelle of inligting word egter in die voetnoot verstrek nie;

B. wanneer die betekenis van die bronteks onseker is en ander teksgetuies, soos die Ou Grieks, 'n moontlike oplossing bied;

C. wanneer daar onsekerheid oor die betekenis van die bronteks is en ander moontlikhede op grond van ander teksgetuies in die voetnoot vermeld word, maar die alternatiewe lesing(s) nie gevolg word nie;

D. wanneer die ander teksgetuies van die bronteks verskil en die ander lesings gevolg word;

E. wanneer die vertaling die bronteks volg, maar ander teksgetuies en moderne vertalings daarvan verskil en daardie verskil dan in 'n voetnoot vermeld word;

F. wanneer die vertaling op 'n konjektuur berus; en

G. by 'n tiqqun soferim

Die tabel hier onder dui aan watter tekste waarby voetnote in die boek Esegiël gevoeg is, by watter voetnootgroep ingedeel is. Wanneer daar meer as een tekskritiese voetnoot by 'n spesifieke vers voorkom, word hulle onderskei deur 'n syfer tussen hakies ná die versaanduiding.

 

 

In die tabel hier onder word die verspreiding van die voetnote oor vier dele van die boek gegee. Die boek Esegiël word dikwels in drie dele verdeel, naamlik hoofstukke 1-24 (profesieë uitgespreek voor die val van Jerusalem), 25-32 (profesieë teen die nasies) en 33-48 (profesieë uitgespreek ná die val van Jerusalem). In die tabel word die derde gedeelte egter in twee verdeel. Die doel daarvan is om 'n duidelike beeld te kry van die aantal voetnote in die visioen van die tempel in hoofstukke 40-48. Dié gedeelte het 'n unieke karakter, met dikwels moeilike of onverstaanbare woorde en beelde. In hierdie nege hoofstukke kom meer voetnote voor as in elk van die ander drie gedeeltes van die boek.

Wat die verskillende groepe betref, kom amper die helfte van die voetnote voor by gevalle waar daar van die Masoretiese teks afgewyk is en lesings van een of meer van die ander teksgetuies gevolg is. Daar is 71 voetnote in hierdie groep, waarvan 40 in die visioen is wat in hoofstukke 40-48 vervat is. Die tweede grootste groep behels die gevalle waar die voetnoot bloot aandui dat die betekenis van die bronteks onseker is. Volgens die inhoud van hierdie voetnote is daar nie gegewens in ander teksgetuies wat help om die betrokke probleem op te los nie. Dit is dus 'n vraag of die voetnote wel tekskrities van aard is.

 

 

6. Bespreking en beoordeling van die voetnote

Dit is nie moontlik om in alle gevalle waar tekskritiese opmerkings gemaak sou kon word, voetnote daarvoor in 'n vertaling te plaas nie. Die aantal tekskritiese notas in Esegiël 1 in die BHS kan vergelyk word met die aantal tekskritiese voetnote in die 2020-vertaling. In Esegiël 1 het die 2020-vertaling tekskritiese voetnote by drie verse (4, 14 en 20), terwyl daar meer as 60 tekskritiese voetnote in dieselfde hoofstuk in die BHS is. In die drie artikels van Van Rooy (2017, 2019 en 2020) word 20 voorbeelde uit Esegiël bespreek. Slegs by 1:11 bevat die 2020-vertaling nie 'n voetnoot nie.

In 1:11 (sien Van Rooy, 2017:11) kom daar in die Hebreeus aan die begin van die vers 'n woord voor (vertaal as "en hulle gesigte") wat nie goed in die konteks pas nie, aangesien die res van die vers handel oor die lewende wesens se vlerke. Die woord kom nie in die Ou Grieks voor nie. Die 2020-vertaling vertaal dit op 'n manier wat die woord koppel aan vers 10, wat oor die wesens se gesigte handel ("So was hulle gesigte"). Alhoewel die woord deur die ander drie antieke vertalings ondersteun word, word dit in heelparty vertalings weggelaat (Luther, 1984 en die 1933/53- en die 1983-vertaling).6 'n Voetnoot sou wel hier gepas wees, omdat die 1933/53- en die 1983-vertaling die woord uitlaat.

In die voetnote in die 2020-vertaling is sewe groepe onderskei. Die voorbeelde wat gekies is, kom in die verskillende groepe aan die orde. Die beskrywing van die groepe word in die bewoording hier bo aangebied.

A. Wanneer daar onsekerheid oor die bronteks bestaan; geen verdere voorstelle of inligting word egter in die voetnoot verstrek nie

Daar is 31 voorbeelde in hierdie groep.

5:7 (1) is 'n tipiese voorbeeld. Die voetnoot noem dat daar onsekerheid oor die betrokke woord is en dat dit verskillend vertaal word. Die woord wat in die 2020-vertaling met "in verset was" vertaal is, kom slegs hier in die Ou Testament voor. Die 2020-vertaling volg die tekswysiging wat die BHS voorstel, sonder enige teksgetuienis. Hierdie wysiging word ondersteun deur Zimmerli (1979:151), terwyl hierdie en ander moontlikhede bespreek word deur Block (1997:199) en Allen (1994:52). Indien daar meer inligting in die voetnoot gegee is, sou dit kon dien as 'n voorbeeld van 'n konjektuur. Die antieke vertalings het dit almal verskillend vertaal, wat 'n teken is daarvan dat hulle nie die woord se betekenis geken het nie. Dit sou ook moontlik gewees het om by die verskillende vertaalmoontlikhede na die 1933/53- en die 1983-vertaling te verwys, wat dit ook verskillend vertaal het (onderskeidelik "opstandiger is" en "te kere gegaan"). 'n Soortgelyke geval kom in 7:11 voor, waar die woord ook slegs hier voorkom (vgl. Van Rooy, 2019:266-267). Die 1933/53-vertaling ("heerliks") en die 2020-vertaling ("voortrefliks") is naby aan mekaar, terwyl 1983 se "klag" die woord verbind aan 'n bekende woord vir 'n klag, soos in Klaagliedere. Hiermee stem die NKJV7 ooreen, terwyl die NRSV weer nader aan die 2020-vertaling is. Hierdie twee moontlikhede sou wel in die voetnoot vermeld kon gewees het.

By 7:7 kom vier voetnote voor, waarvan twee bloot noem dat daar onsekerheid oor die betekenis van die betrokke Hebreeuse woorde is. Hierdie twee woorde is inderdaad baie problematies, soos eintlik ook die hele vers. Die Ou Grieks laat byvoorbeeld die gedeelte weg waarin die eerste woord voorkom. 'n Mens sou dalk by beide voetnote kon byvoeg dat die antieke vertalings die hele vers verskillend vertaal. Block (1997:251) bied 'n volledige bespreking van die gedeelte, spesifiek ook van die betrokke twee woorde. In 'n geval soos hierdie het die vertalers wel 'n geldige probleem gehad weens die kompleksiteit van die bronteks, wat dit inderdaad moeilik maak om meer besonderhede in die voetnoot te bied.

By 27:17 word twee voetnote aangedui. Die eerste een gaan oor die pleknaam Minnit. In hierdie geval sê die voetnoot dat die betekenis onseker is, maar voeg dan by dat sommige dit vertaal met "rys". Hierby word 'n verwysing na die pleknaam in Rigters 11:33 gegee. Die NBV8 vertaal dit met "rys", maar sonder 'n voetnoot. Zimmerli (1983:48) wys daarop dat die antieke vertalings dit almal verskillend vertaal. Hierdie geval is 'n goeie voorbeeld van hoe die voetnoot meer inligting bied as om bloot aan te dui dat die betekenis van die oorspronklike onseker is. Soortgelyke voorbeelde kom by 16:36, 19:5 en 21:10 voor.

Alle gevalle kan nie hier bespreek word nie, maar daar is heelwat voorbeelde van voetnote wat net meld dat daar onsekerheid is oor hoe die teks verstaan moet word, soms met 'n aanmerking by dat die teks verskillend vertaal word: 1:14 (3)9, 12:10, 14:4, 23:42; 24:12, 26:17, 17:32, 30:5 (1 en 2), 39:2, 40:15, 43:7, 8 (waar die voetnoot op 'n bouterm wys waarvan die betekenis onseker is), 15 (ook 'n bouterm), 16 (1 en 2 ook bouterme), 25 (ook 'n bouterm), 43:7 (1) en 44:30.

By 28:12 sê die voetnoot dat daar onsekerheid oor die betekenis van die bronteks is. Die betrokke frase word vertaal as "die toonbeeld van voortreflikheid". 'n Letterlike vertaling van die bronteks word in die voetnoot gegee ("die een wat volmaaktheid verseël"). Die 2020-vertaling volg een van die talle moontlikhede wat deur Koehler en Baumgartner (1999:17341735) vir die tweede woord in die Hebreeus aangegee word, terwyl een vokaalverandering by die eerste woord aanvaar word. Zimmerli (1983:81) en Block (1998:99) gee 'n volledige bespreking van wat die antieke vertalings gedoen het en watter teksveranderings voorgestel word. Die 2020-vertaling bied 'n verantwoorde vertaling en die voetnoot gee net genoeg inligting om die leser iets van die probleem te laat besef. Die NBV vertaal "een toonbeeld van perfectie", dus ongeveer soos die 2020-vertaling. By 41:12 voeg die voetnoot by dat die woord dalk na 'n gebied verwys waarheen ongewyde persone nie mag gaan nie.

Die voetnote in hierdie afdeling volg nie almal dieselfde patroon nie. Soms word net genoem dat daar 'n probleem is met hoe die bronteks verstaan moet word, terwyl in ander gevalle meer toeligting verskaf word. Die tweede moontlikheid is verkieslik, omdat die eerste eintlik niksseggend is.

B. Wanneer die betekenis van die bronteks onseker is en ander teksgetuies, soos onder meer die Ou Grieks, 'n moontlike oplossing bied

By 1:14 het die 2020-vertaling 'n voetnoot wat drie verskillende opmerkings maak, wat elkeen by 'n ander groep ingedeel kan word. Een het betrekking op die groep hier bo en 'n ander op die groep hier onder. Die middelste deel van die voetnoot handel oor die woord , wat slegs hier in die Ou Testament voorkom. Die BHS stel voor dat die woord verander moet word na , in aansluiting by die lesing van die Vulgaat se ibant ( 'n imperfektum 3 manlik meervoud van die werkwoord eo [om te gaan]) Hierdie wysiging het 'n bekende uitdrukking tot gevolg, wat deur die 2020-vertaling idiomaties weergegee word ("heen en weer beweeg"). Dié voorstel word deur baie vertalings en kommentatore op die voetspoor van Zimmerli (1979:84) gevolg. Dit is inderdaad 'n goeie voorbeeld van 'n probleem wat opgelos kan word deur een of meer van die antieke vertalings te volg.

Esegiël 19:7 is 'n baie interessante voorbeeld, soos gesien kan word uit die verskillende vertalings van die eerste helfte van die vers hier onder:

1933/53-vertaling: Hy het hulle weduwees beken en hulle stede verwoes.

1983-vertaling: Hy het hulle weduwees vir hom gevat en hulle stede verwoes.

2020-vertaling: Hy het hulle vestings verwoes, hulle dorpe in puin gelê.

NBV: Hij verwoestte hun paleise, legde elke stad in puin.

NRSV: And he ravaged their strongholds, and laid waste their towns.

NIV: He broke down their strongholds and devastated their towns,

NKJV: He knew their desolate places, and laid waste their cities.

ASV: And he knew their palaces, and laid waste their cities.

ESV: and (he) seized their widows. He laid waste their cities.

Luther 1984: Er zerstörte ihre Burgen und verwüstete ihre Stadte.

Wat hierdie gedeelte betref, is daar klaarblyklik probleme met twee Hebreeuse woorde in die sin. Die werkwoord word soms vertaal met "ken" of iets dergeliks en soms met "verwoes" of iets dergeliks. Die selfstandige naamwoord word óf vertaal met "weduwees" óf met "vestings", "paleise" of iets dergeliks. Die tweede sin in die reël handel oor stede wat in puin gelê word, duidelik 'n parallel met die vertalings wat handel oor die verwoestings van vestings of paleise. Die ken van weduwees is nie parallel met die tweede gedeelte nie, en 'n mens sou in so 'n digterlike gedeelte 'n parallel verwag. Begg (1989) bied 'n omvattende bespreking van die verskillende voorstelle wat al gemaak is. Veral die eerste twee moontlikhede wat hy noem, is belangrik vir die verdeling van vertalings in verskillende groepe. Die tradisionalistiese benadering behou die Masoretiese teks en vertaal met "ken" en "weduwees" (Begg, 1989:370372). Die 1933/53-vertaling, die 1983-vertaling en die ESV volg hierdie benadering. Die tweede moontlikheid sluit by veral die Targum aan (Begg, 1989:372-374). Dit is die benadering van die 2020-vertaling, die NBV, NRSV en NIV. Die ASV en NKJV behou die werkwoord van die Masoretiese teks, maar volg die Targum (of gee 'n ander verklaring as 'weduwees') by die naamwoord. Begg se eie voorstel (1989:377-380) behou die Masoretiese teks, maar dink dat die onderwerp van die werkwoord en die voornaamwoordelike suffiks by die naamwoord op twee verskillende persone betrekking het, naamlik Jojakim wat Joas (Jehoagas in die 2020-vertaling), sy voorganger, se harem oorgeneem het. Die voorstel volg die tradisionalistiese benadering, maar gee 'n nuwe historiese verklaring. Sommige van die vertalings gee 'n voetnoot by die eerste sin. Die 2020-vertaling se voetnoot hieroor is uitgebreid en lui soos volg:

Hy ... verwoes: Die Targum word hier gedeeltelik gevolg, en daar word aanvaar dat een konsonant verkeerd oorgeskryf is. Uit die vroeë vertalings is dit duidelik dat die betekenis van die bronteks onseker is; dit lui (vertaal) "Hy het met sy weduwees omgang gehad."

Die NBV se voetnoot bevat dieselfde inhoud, maar verwys net na sommige ou vertalings. Die werkwoord wat dikwels met "ken" vertaal word, dui soms op seksuele omgang, soos in die 1933/53-vertaling se "beken".

Die NKJV verwys in 'n voetnoot na drie van die antieke vertalings. Die Septuagint vertaal die gedeelte met "He stood in insolence", die Targum met "He destroyed its palaces", en die Vulgaat met "He learned to make widows". Die 2020-vertaling volg die Targum, terwyl sommige, soos die Vulgaat, probeer om die bronteks te vertaal, soos aangedui in die 2020-vertaling se voetnoot. Die NKJV verwys nie na die Pesjitta se weergawe nie. Dit kan soos volg vertaal word: "Toe het hy in sy krag gegaan."10 Die oorsprong van die vertalings van die Ou Grieks en die Pesjitta is moeilik bepaalbaar. Soos die voetnoot van die 2020-vertaling aandui, sluit sommige vertalings by die Targum aan. Die NIV se voetnoot verwys na die Targum wat die werkwoord betref, maar nie die selfstandige naamwoord nie.

Die bronteks lui soos volg: . Die voetnote van die BHS stel voor dat veranderings by albei die woorde aangebring word. By die voorgestelde werkwoord () word net een konsonant verander (d na r), maar die vokalisasie word ook verander na die normale lesing van die voorgestelde werkwoord. By die voorgestelde naamwoord () word daar in die basiese woord ook een konsonant verander ( l na r). Verder word ook voorgestel dat die pronominale suffiks verander word van die derde persoon manlik enkelvoud (sy) na derde persoon manlik meervoud (hulle), wat beter in die konteks pas. In hierdie geval volg die 2020-vertaling die voorstelle van die BHS, en volg die Targum gedeeltelik, in die sin dat die Targum die derde persoon manlik enkelvoud suffiks behou het. Die voetnoot verwys na een konsonant wat verander moet word, maar daar is eintlik een in elk van die twee Hebreeuse woorde. Zimmerli (1979:389) volg die Targumistiese benadering (wel met enkele voorbe-houde). Greenberg (2008:348, 351-352) en Block (1997:596) behou die Masoretiese teks.

In die lig van die problematiek van die eerste gedeelte van die vers is die 2020-vertaling se voetnoot in ooreenstemming met die verskillende benaderings wat gevolg word. Dit steun gedeeltelik op die Targum. Die verwysing na een letter wat verander word, is nie volledig nie, omdat die vertaling die verandering van twee konsonante en die aanpassing van die voornaam-woordelike suffiks by die naamwoord veronderstel.

In baie gevalle volg die 2020-vertaling voorstelle wat deur die BHS gemaak word, dikwels met 'n verwysing na die Ou Grieks en ondersteun deur ander vertalings en kommentare. Die voetnote verwys ook dikwels na die bronteks indien die betekenis onseker is. Sulke gevalle word nie bespreek nie: 1:4, 8:2,11 19:19, 21:15 (1; vers 20 in die Masoretiese teks), 21:16 (1), 23:24, 26:20, 28:14 (1 en 2), 28:16, 29:7 (waar die Pesjitta gevolg word), en 31:10 (1 en 2).

In die meeste gevalle is daar onsekerheid oor die betekenis van die bronteks, maar bied die antieke vertalings goeie oplossings. Die Ou Grieks word meestal gevolg, maar daar is enkele gevalle waar die Targum of Pesjitta gevolg word.

C. Wanneer daar onsekerheid oor die betekenis van die bronteks is en ander moontlikhede op grond van ander teksgetuies in die voetnoot vermeld word, maar die alternatiewe lesing(s) nie gevolg word nie

In 1:14 (1) is daar nie soseer onsekerheid oor die betekenis van die bronteks nie. Die voetnoot meld wel tereg dat die hele vers deur die Septuagint uitgelaat is. Die Vulgaat en Pesjitta stem hier ooreen met die bronteks, en die weglating van die vers in die Ou Grieks is dus net een van verskeie plekke waar die Ou Grieks 'n korter teks as die Masoretiese teks het. Soortgelyke gevalle kom voor in 16:16 en 24, 23:43, 32:5 en 27, 36:15, 40:14 en 30, en 41:17. Die gevalle hier bo is onproblematies omdat die 2020-vertaling daar die basiese uitgangspunt volg dat die Masoretiese teks so ver moontlik gevolg word.

D. Wanneer die ander teksgetuies van die bronteks verskil en die ander lesings gevolg word

Van al die groepe het hierdie een die meeste voorbeelde: amper die helfte van al die tekskritiese voetnote in die 2020-vertaling van Esegiël. Meer as die helfte van die voetnote in die groep kom in Esegiël hoofstukke 40 tot 48 voor. Dit hou verband met die kompleksiteit van die visioen in daardie hoofstukke, waar daar dikwels onbekende argitektoniese woorde voorkom. Die bespreking begin met voorbeelde wat behandel is in die outeur se drie bydraes waarna in hierdie artikel verwys word.

Die voetnoot by 1:20 noem bloot die weglating van 'n frase wat waarskynlik 'n onnodige herhaling in die bronteks is. Die frase is 'n voorbeeld van dittografie: 'n foutiewe herhaling (sien Van Rooy, 1997:12). Die voetnoot sê dat die Pesjitta gevolg word, wat nie die herhaling het nie. Die Ou Grieks het nie die volle herhaling nie, maar vervang dit deur 'n verwysing na die lewende wesens. Dit maak goed sin en berus waarskynlik op so 'n lesing in die Ou Grieks se Hebreeuse bronteks. Wat die voetnoot van die BHS nie meld nie, is dat die Vulgaat ook nie die herhaling het nie. Dit maak die aanvaarding van die weglating van die herhaling in die bronteks makliker. Die weglating van die herhaling kom algemeen in vertalings (1983-vertaling, ESV, NRSV, NIV) voor en ook in kommentare (Zimmerli, 1979:20-21; Block, 1997:99-100; Allen, 1994:7). Die 2020-vertaling se voetnoot kon wel die Vulgaat ook genoem het. Daar is waarskynlik net van die gegewens in die BHS se voetnoot gebruik gemaak, en die Vulgaat self is nie nagegaan nie.

Die tweede voetnoot by 5:7 handel oor die vraag of daar aan die einde van die vers 'n negatiewe partikel moet wees of nie. Die 2020-vertaling lui aan die einde van die vers dat die volk die gebruike van die nasies gevolg het. Die voetnoot noem dan dat die bronteks 'n negatiewe partikel het. Die 1933/53-vertaling het dit ook so vertaal ("nie gehandel het nie"). Die 1983-vertaling behou ook die negatief. Die voetnoot lui dat die 2020-vertaling talle Hebreeuse manuskripte en uitgawes van die Ou Testament volg. Die enigste van die antieke vertalings wat nie die negatief het nie, is die Pesjitta. In die bespreking van hierdie voorbeeld wys Van Rooy (2019:273) daarop dat die meeste vertalings en kommentare die negatiewe partikel behou. Die 2020-vertaling gaan in teen hierdie byna algemene standpunt. Sommige van die vertalings wat die negatief behou, voeg wel 'n kwalifisering in (1933/53-vertaling: "selfs ... nie"; 1983-vertaling: "nie eens"; NIV: "not even"; NKJV: "nor even"; Luther "nicht einmal"; NBV: "evenmin"). Die NRSV laat die negativering weg, maar sonder 'n voetnoot. Sulke kwalifiserings dui wel op 'n ongemak om die bronteks gewoon met 'n negativerings-partikel te vertaal. Van Rooy (2019:273) het geoordeel dat dit die beste sou wees om die bronteks te vertaal, maar met 'n voetnoot wat wys op die weglating van die partikel in sommige bronne. Die 2020-vertaling het in hierdie geval nie die bronteks direk vertaal nie, maar van die meerderheidstandpunt afgewyk, in teenstelling met die normale hantering van sulke gevalle.

In baie gevalle het die 2020-vertaling die antieke vertaling(s) gevolg, maar op 'n gemotiveerde manier. Sulke voorbeelde kom voor in 6:14; 7:13; 10:9 en 19; 11:7; 12:12; 13:11 en 18; 14:8; 16:7, 45 en 53; 18:17; 21:16 (2) en 28; 22:25; 24:10; 27:16 en 17(2); 31:14; 32:9 en 26; 40:9, 19, 37, 44 (1 en 2) en 48; 41:1, 3, 9, 21 en 22 (1 en 2); 42:4, 10 (1 en 2) en 16 (1 en 2); 43:3 (1 en 2), 7 (2) en 13; 44:19; 45:1, 5 en 15; 46:10, 16, 17 en 22 (1 en 2); 47:9, 13 (1 en 2), 18 (1 en 2) en 19; 48:9 en 34.

By 6:6 kon die voetnoot bygevoeg het dat die verskillende lesings te doen het met die weglating van een konsonant in die bronteks, terwyl die voetnoot by 7:20 kon bygevoeg het dat die verandering in die bronteks net een vokaal raak. In 37:23 is die vertaling van Symmachus tereg gevolg. Die voetnoot sou wel ook kon aandui dat die lesing die omruiling van twee konsonante in die Hebreeus behels (sien Van Rooy, 2019:276). By 40:49 volg die vertaling die Ou Grieks ("Met tien trappe kon 'n mens daarheen opklim"). Dit behels dat die relatiewe partikel ("wat") vervang word deur die telwoord "tien". Zimmerli (1983:466), Block (1998:539) en Allen (1990:277) aanvaar ook die voorstel. Die 1983-vertaling het dit wel aanvaar, maar die 1933/53-vertaling nie. Die voetnoot in die 2020-vertaling is egter onvolledig omdat dit nie duidelik maak dat die bronteks die relatiewe partikel "wat" ("trappe wat") het nie. By 17:21 sou die voetnoot wel kon noem dat die verandering die omruiling van twee konsonante in die bronteks behels. By 27:19 se eerste voetnoot sou bygevoeg kon word dat die lesing wat die vertalers aanvaar het, die verandering van een konsonant inhou, omdat die betrokke twee konsonante dikwels verwar word. By 37:8 kon die voetnoot uitgebrei word sodat dit noem dat die lesing wat aanvaar is, op die voorstel van die BHS op verandering van vokale berus.

Die voetnoot by 6:14 is 'n goeie voorbeeld van een wat 'n omvattende verduideliking gee, soos by die gevalle genoem in die vorige paragraaf gedoen kon gewees het.

In hierdie groep voetnote het die 2020-vertaling in die meeste gevalle op goeie gronde van die bronteks afgewyk. In enkele gevalle sou die vertaling ook die bronteks kon gevolg het, met voorstel(le) wat op grond van die antieke vertalings berus, in die voetnote. In enkele gevalle sou die voetnoot wel vollediger kon wees, byvoorbeeld deur daarop te wys dat konso-nante moontlik omgeruil is of dat een konsonant vervang is deur een waarmee dit dikwels verwar word.

E. Wanneer die vertaling die bronteks volg, maar ander teksgetuies en moderne vertalings daarvan verskil

Daar is net ses voorbeelde in hierdie groep. Alhoewel die redaksie geoordeel het dat die ander getuies se lesing belangrik is, het hulle dit nie gevolg nie. Dit is in ooreenstemming met die beginselbesluit om so ver moontlik by die Masoretiese teks te bly.

'n Goeie voorbeeld van hierdie groep kom by 11:13 voor. Die 2020-vertaling het die betrokke gedeelte van vers 13 soos volg vertaal: "'Ag, Here, my Heer! Volslae vernietiging, dit is wat U doen aan dié wat oorgebly het van Israel!'" Die voetnoot sê dat die Septuagint (Ou Grieks) en talle vertalings dit met 'n vraag weergee, in aansluiting by 9:8. Die voetnoot het heeltemal gelyk. Die talle vertalings sluit die 1933/53- en die 1983-vertaling in, asook die ESV, NKJV, NRSV; Luther (1984), ASV, NBV en die NIV. Die vraagpartikel in Hebreeus is die letter h, gevolg deur 'n vokaal. Die eerste gedeelte van die sin is in die Hebreeus soos volg: ni|ty nns h1» niir yis . Zimmerli (1979:229) meen dat die vraagpartikel voor die woord vir volslae vernietiging (h1») deur haplografie uitgeval het. Die vorige woord eindig met 'n h. Hy ondersteun dus die gedagte van 'n vraag. Allen (1990:128) meen dat die stelling sin maak, ook as bevestiging van die vraag in 9:8 (sien ook Block, 1997:338-339). Die 2020-vertaling het besluit om die Masoretiese teks te volg, maar die voetnoot wys op die alternatief. Die voetnoot is belangrik omdat die 1933/53- en die 1983-vertaling die gedeelte as 'n vraag vertaal het, anders as wat die 2020-vertaling gedoen het.

In 16:6 behou die 2020-vertaling die herhaling aan die einde van die vers, maar die voetnoot noem dat die Ou Grieks, die Pesjitta en sommige Hebreeuse manuskripte dit uitlaat. Nog gevalle waarin die voetnote ander moontlikhede noem, maar die vertaling dit nie volg nie, kom voor in 16:57, 24:17, 34:3 en 36:15.

In al hierdie gevalle bly die vertaling by die basiese beginsel om by die Masoretiese teks te hou. Die alternatiewe word in die voetnote gemeld omdat sommige van die antieke vertalings en/of moderne vertalings wel die alternatief het. Dit is veral belangrik in die gevalle waar die 1933/53- en die 1983-vertaling wel voorstelle gemaak op grond van lesings in die antieke vertalings, aanvaar het. Omdat die twee vertalings nie voetnote in sulke gevalle het nie, is daar dus geen motivering hiervoor gegee nie.

F. Wanneer die vertaling op 'n konjektuur berus.

Die 2020-vertaling het probeer om so min moontlik van konjekture gebruik te maak. Daar is dus ook min voorbeelde hiervan.12 In die verskillende voorbeelde neem 3:12 'n besondere plek in. Die 2020-vertaling lui soos volg:

'n Gees het my opgelig, en ek het agter my die geluid van 'n harde dreuning gehoor toe die heerlikheid van die Here van sy plek af opstyg.

Die 1933/53-vertaling klink heel anders:

Toe het die Gees my opgeneem, en ek het agter my die geluid van 'n groot gedreun gehoor wat sê: Geloofd sy die heerlikheid van die Here uit sy woonplek!

Die 2020-vertaling het hierby 'n lang voetnoot, wat met die 1933/53-vertaling se inhoud ooreenstem:

heerlikheid ... opstyg: Hierdie lesing volg sommige moderne vertalings wat veronderstel dat een konsonant in die bronteks verkeerd oorgeskryf is. Die bronteks lui (vertaal) "die heerlikheid van die HERE moet geprys word uit sy plek".

Die vertaling van die 2020-vertaling berus op 'n konjektuur, wat in die Hebreeus 'n k deur 'n m vervang. Die twee letters kan in die Ou Hebreeuse skrif maklik verwar word, soos Block (1998:135) aandui. Al die ou vertalings stem met die Masoretiese teks saam, wat dus impliseer dat die fout baie vroeg in die oorlewering van die teks plaasgevind het, voordat die Jode die ou Hebreeuse skrif deur die Aramese kwadraatskrif vervang het. Zimmerli (1979:94), Allen (1990:13) en Block (1998:134-135) aanvaar almal hierdie voorstel, soos ook die NRSV en Luther (1984). Ander vertalings, soos die NIV en NBV, bly egter by die Masoretiese teks. Dit is dus duidelik dat verskillende vertalings verskillende keuses gemaak het. Die 2020-vertaling het hier wegbeweeg van die beginsel om by die Masoretiese teks te bly. Block (1998:134-135) gee goeie redes hoekom die voorstel aanvaarbaar is. Al bestaan daar meningsverskil oor wat die beste vertaling is, volg die 2020-vertaling 'n voorstel wat wyd aanvaar word.

In 14:14 en 28:3 verwys die 2020-vertaling na Noag, Danel en Job. Die Masoretiese Teks lui egter Daniël. Die weglating van die i in die Hebreeus word in die voetnoot verduidelik. Job en Noag is figure uit die verre verlede, terwyl die Daniël nog in die tyd van Esegiël 'n jong seun sou gewees het. Die voetnoot verwys tereg na 'n figuur wat uit die tekste van Ugarit bekend is as 'n wyse man uit die verre verlede (vgl. Zimmerli, 1979:314-315). Aangesien hierdie verandering net op die weglating van een vokaal berus en niks aan die konsonantiese teks verander nie, is dit 'n goeie verandering.

Ander verantwoordbare voorbeelde kom voor in 21:15 (vers 20 in die Masoretiese teks), 32:25, 40:16 (3), 41:16 en 47:16. Dis duidelik dat die 2020-vertaling by die beginsel gehou het om so min moontlik met konjunkture te werk.

G. By 'n tiqqun soferim

Die uitdrukking tiqqun soferim dui op 'n korreksie deur die oorskrywers. Sulke korreksies is variante wat nie in die Masoretiese teks aangebring is nie, maar wat wys op veranderinge wat in die teks aangebring is wanneer die oorspronklike lesing volgens die oorskrywers se mening vir God aanstootlik sou wees. Die getal wissel tussen 8 en 16 in verskillende bronne. Die meeste van die veranderinge het te doen met een of twee konsonante, en dikwels gaan dit oor voornaamwoordelike suffikse (vgl. Tov, 2012:59-61). In Esegiël 8:17 kom 'n voorbeeld hiervan voor. Die Masoretiese teks is soos volg:

Die 1933/53-vertaling het dit letterlik vertaal: "En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou!" Die NIV se vertaling is ongeveer dieselfde: "Look at them putting the branch to their nose!" Die 1983-vertaling het ook "hulle neuse". Die 2020-vertaling is egter anders: "Kyk, hulle steek 'n wingerdrank uit na my neus." Hierdie vertaling volg die voorstel van die oorskrywers dat "hulle" na "my" verander. Die verandering behels bloot dat daar by die voornaamwoordelike suffiks in die Hebreeus 'ny gelees word in plaas van 'n m en daarmee saam die verandering van die vokaal om by die konsonantiese teks te pas. Die voetnoot van die 2020-vertaling stel dit duidelik:

steek ... neus: Dit was 'n spottende gebaar. Die bronteks lui (vertaal) "hulle neus". Die teks het oorspronklik (vertaal) gelui "my neus", maar is doelbewus verander deur die oorskrywers van die teks.

Die voetnoot kon wel uitgebrei gewees het om aan te dui dat die oorskrywers nie 'n spottende gebaar op God gerig in die teks wou behou nie. Dié gedeelte word in verskillende vertalings verskillend weergegee, afhangende daarvan of hulle die voorstel volg of nie. Die ESV bly by die Masoretiese teks, maar verwys in 'n voetnoot na die alternatief. Die NKJV, ASV, NIV en NRSV bly by die Masoretiese teks, maar sonder 'n voetnoot. Die NBV vertaal vry in ooreenstemming met die tiqqun, maar sonder 'n voetnoot ("zie hoe schaamteloos ze mij bespotten"). Zimmerli (1979:221-222) en Block (1997:297) aanvaar die voorstel, maar Allen (1994:121-121) aanvaar dit nie. Greenberg (2008:155 en 172) behou die "hulle neus" in sy vertaling, maar verwys in 'n voetnoot en in sy bespreking na die Joodse tradisie in hierdie verband. Hoewel die 2020-vertaling een van die min vertalings is wat nie hierdie voorstel aanvaar nie, bied hy wel 'n geldige vertaling wat goed in die voetnoot verantwoord word.

 

7. Gevolgtrekkings

Die boek Esegiël het 'n komplekse teksgeskiedenis. Dit is dus nie verbasend dat 'n vertaler van die boek besondere aandag aan tekskritiese probleme moet gee nie. Omdat die 2020-vertaling 'n bronteksgeoriënteerde en direkte vertaling is, is die verstaan van die bronteks fundamenteel belangrik. Die problematiek van die boek hou ten dele verband met die bestaan van twee tekstradisies: 'n langer teks, verteenwoordig deur die Masoretiese teks, en 'n kortere, verteenwoordig deur die Ou Grieks. Uit die bespreking hier bo is dit ook duidelik dat baie van die tekskritiese probleme voorkom in Esegiël 40-48. Hierdie finale visioen in die boek bevat baie onbekende of vreemde woorde, dikwels van argitektoniese aard. Die vertalers van die 2020-vertaling het baie aandag aan hierdie probleme bestee. Op baie plekke moes hulle keuses maak om die probleme op te los. Hierin het die antieke vertalings 'n besondere plek ingeneem. Veral die Ou Grieks was hierin belangrik, maar ook die Vulgaat en Pesjitta. Omdat die Targum 'n parafraserende vertaling is, was sy rol kleiner, maar tog was dit in sekere gevalle deurslag-gewend.

Die 144 tekskritiese voetnote in die boek dui ook op die wisselende aard van die problematiek. Probleme hou dikwels verband met onbekende woorde, maar ook met probleme wat gedurende die teksoorlewering ingesluip het. In sommige gevalle bied die teksgetuies 'n duidelike oplossing, terwyl daar in ander gevalle meerdere moontlikhede bestaan. Die benadering van die 2020-vertaling tot tekskritiese probleme is basies konserwatief, naamlik om so ver moontlik by die Masoretiese teks te bly. Die grootste enkele groep voetnote is dié waaruit blyk dat die antieke vertalings, in die besonder die Ou Grieks, van nut was. Dit geld deurlopend, maar by uitstek in Esegiël 40-48. Die voetnote lig die keuses van die vertalers toe. In verreweg die meeste gevalle is die voetnote goed geformuleer, en maak hulle die probleme en die aard van die oplossings duidelik. In sommige gevalle sou meer inligting egter gegee kon word om die motivering sterker en duideliker te maak. Tog verteenwoordig die voetnote as geheel 'n verantwoordelike omgang met die tekskritiese problematiek.

 

BIBLIOGRAFIE

Allen, LC. 1994. Ezekiel 1-19. WBC 28. Dallas: Word.         [ Links ]

Begg, CT. 1989. The reading in Ezekiel 19,7a. Ephemerides Theologiae Lovanienses 65/4:370-380.         [ Links ]

Block, DI. 1997. The Book of Ezekiel: Chapters 1-24. NICOT. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Block, DI. 1998. The Book of Ezekiel: Chapters 25-48. NICOT. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

De Bijbel. 2004. De Nieuwe Bijbelvertaling. Heerenveen: Nederlands Bijbelgenootschap.         [ Links ]

Die Bybel. 2020. Die Bybel (metDeuterokanonieke boeke), 2020-vertaling. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Comprehensive Aramaic Lexicon. 2005. Targum Jonathan. Logos edition.         [ Links ]

Die Bybel. 1933/53. Die Bybel. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.         [ Links ]

Die Bybel. 1983. Die Bybel: Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Elliger, K & Rudolph, W. 1987. Biblia Hebraica Stuttgartensia. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

Greenberg, M. 2008. Ezekiel 1-20: A new translation with introduction and commentary (Vol. 22). New Haven, Connecticut, & London: Yale University Press.         [ Links ]

Joyce, PM. 2009. Ezekiel: A commentary. Library of Hebrew Bible/Old Testament Studies 482. New York & London: T & T Clark.         [ Links ]

Koehler, L. & Baumgartner, W. 1999. The Hebrew and Aramaic lexicon of the Old Testament. Volume 4. Leiden: Brill.         [ Links ]

Lange, A. 2017. 8.2.1 Ancient manuscript evidence. In Lange, A & Tov, E (eds). Textual history of the Bible: The Hebrew Bible. Volume 1B. Pentateuch, former and latter prophets, Leiden: Brill, pp. 570572.         [ Links ]

Lilly, IE. 2012. Two books of Ezekiel. Papyrus 967 and the Masoretic Text as variant literary editions. VTS 150. Leiden: Brill.         [ Links ]

Lust, J. 2017. 8.3 Septuagint. In Lange, A & Tov, E (eds). Textual history of the Bible: The Hebrew Bible: Volume 1B. Pentateuch, former and latter prophets, Leiden: Brill, pp. 581-585.         [ Links ]

Luther, M. 1984. Die Bibel nach der ÜbersetzungMartin Luthers. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

Mulder, M. 1985. Ezekiel. The Old Testament in Syriac III, 3. Leiden: Brill.         [ Links ]

Naudé, JA. 2020. Nuwe en ou skatte: Die 2020- Afrikaanse vertaling van die Bybel as 'n hervertaling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):869-891.         [ Links ]

Tooman, WA. 2017a. 8.1.1 Relevant witnesses and text editions. In Lange, A & Tov, E (eds). Textual history of the Bible: The Hebrew Bible. Volume 1B. Pentateuch, former and latter prophets, Leiden: Brill, pp. 559-569.         [ Links ]

Tooman, WA. 2017b. 8.2.2 Masoretic texts and ancient texts close to MT. In Lange, A & Tov, E (eds). Textual History of the Bible: The Hebrew Bible. Volume 1B. Pentateuch, former and latter prophets, Leiden: Brill, pp. 572-575.         [ Links ]

Tov, E. 2012. Textual criticism of the Hebrew Bible (3rd ed, revised and expanded). Minneapolis: Fortress.         [ Links ]

Van der Merwe, CHJ. 2012. The Bible in Afrikaans: A direct translation - A new type of church Bible. HTS Teologiese Studies/ Theological Studies, 68(1), Art. #1204, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v68i1.1204.         [ Links ]

Van der Merwe, CHJ. 2020. Nog 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans: Wat maak dit anders? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):892-911.         [ Links ]

Van Rooy, HF. 2017. The text of the Old Testament and textual criticism. In Vorster N & Van der Walt, S. Reformed theology today: Biblical and systematic theological perspectives. Durbanville: Aosis, pp. 1-14.         [ Links ]

Van Rooy, HF. 2019. A direct translation and paratext: Hapax legomena and text-critical notes. In Kotzé, GR, Locatell, CS & Messara, JA (eds). Ancient texts and modern readers: Studies in ancient Hebrew linguistics and Bible translation. Studia Semitica Neerlandica 71. Leiden: Brill, pp. 263-279.         [ Links ]

Van Rooy, HF. 2020. Die Hebreeuse grondteks en die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60/4-1:912-928.         [ Links ]

Weber, R & Gryson, R. 1969. Biblia sacra iuxta vulgatam versionem (5 Ausgabe). Stuttgart: Deutsche Bibelgeschellschaft.         [ Links ]

Würthwein, E & Fischer, AA. 2014. The Text ofthe Old Testament: An Introduction to the Biblia Hebraica Third Edition. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Ziegler, J. 2006. Ezechiel, Vetus Testamentum Graecum XVI, 1. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

Zimmerli, W. 1979. Ezekiel 1: A commentary on the Book of the Prophet Ezekiel Chapters 1-24. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

Zimmerli, W. 1983. Ezekiel 1: A commentary on the Book of the Prophet Ezekiel Chapters 25-48. Philadelphia: Fortress Press.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2023-05-30
Goedgekeur: 2023-06-22
Gepubliseer: September 2023

 

 

 

Herrie van Rooy is emeritus professor in Ou Testament en Semitiese Tale aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Suid-Afrika. Hy het sy PhD in 1977 verwerf en het Semitiese Tale en Ou Testament aan sy alma mater gedoseer in die tydperk 1980-2014. Hy het gedien in die bestuur van die Ou Testamentiese Vereniging van Suid-Afrika (1992-2004; voorsitter 1998-2004) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse Studie (1988-2000; voorsitter 19962000). Hy dien in die redaksionele raad van Oudtestamentische Studiën sedert 1999. Hy was 'n lid van die Begeleidingskomitee en die Redak-sionele Komitee vir die Ou Testament van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. Sy publikasies sluit in Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) en The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). Vir sy by-drae tot Bybelvertaling en die Afrikaanse Psalm-omdigting het hy die ds Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is tans 'n B-gegradeerde navorser by die NNS.
Herrie van Rooy is emeritus professor of Old Testament and Semitics at the North-West University (Potchefstroom Campus), South Africa. He received his PhD in 1977 and taught Semitics and Old Testament at his alma mater during 1980-2014. He served on the executive committees of the Old Testament Society (19922004; chair 1998-2004) and the South African Society of Near Eastern Studies (1988-2000; chair 1996-2000). He has served on the editorial board of Old Testament Studies since 1999. He was a member of the steering committee and the Old Testament editorial committee of the 2020 Afrikaans translation of the Bible. His publications include Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) and The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). For his work on Bible translation and the metrical version of the Psalms in Afrikaans, he received the Pieter van Drimmelen Medal from the South African Academy for Science and Arts. He is currently a B-rated scholar at the NRF.
1 Dit is 'n voorreg om hierdie artikel op te dra aan my vriend en kollega Ernst Kotzé. Ons het vir meer as tien jaar saamgewerk op die Begeleidingskomitee en die Redaksionele Komitee vir die Ou Testamant van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. Ernst het 'n groot bydrae gelewer tot die goeie, verstaanbare Afrikaans wat 'n besondere eienskap van hierdie vertaling is.
2 Met "2020-vertaling" word in die teks van hierdie artikel altyd die volgende bedoel: Die Bybel. 2020. Die Bybel (met Deuterokanonieke boeke), 2020-vertaling. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
3 Met "Ou Grieks" word hier bedoel die oudste Griekse teks van die Septuagint wat gerekonstrueer kan word. Vir praktiese doeleindes is dit, wat Esegiël betref, ongeveer die teks soos deur Ziegler (2006) gepubliseer.
4 Hierdie uitgawe word telkens die BHS genoem, die standaardafkorting daarvoor.
5 Die getalle in hakies verwys na die hoeveelheid kere wat die voorbeelde in die groep in vier dele van die boek voorkom: 1-24, 25-32, 33-39 en 40-40.
6 "1933/53-vertaling" verwys altyd na: Die Bybel. 1933/53. Kaapstad: Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. "1983-vertaling" verwys altyd na: Die Bybel: Nuwe vertaling. 1983. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
7 Vir die Engelse vertalings van die Bybel word die standaardafkortings gebruik sonder om volledige bibliografiese inligting te gee: NRSV - New Revised Standard Version; NKJV - New King James Version; ASV - American Standard Version; ESV - English Standard Version.
8 De Bijbel. 2004. De Nieuwe Bijbelvertaling. Heerenveen: Nederlands Bijbelgenootschap.
9 Sien Van Rooy (2019:265-266) vir 'n bespreking van hierdie geval, en die voorstel daar gemaak. Dit betref die woord, wat slegs hier in die Ou Testament voorkom.
10 Eie vertaling.
11 In 1:4 en 8:2 gaan dit oor dieselfde woord waarvan die betekenis onseker is en die vertaling van die Ou Grieks gevolg word.
12 Gevalle wat bloot op verskillende interpretasies van die bronteks berus, soos in 9:9 en 18:22, word nie hierby ingesluit nie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License